Quantcast
Channel: WOORDE WAT WEEG
Viewing all 819 articles
Browse latest View live

Ilse van Staden - Waar die oog van stil word (2016)

$
0
0

Ilse van Staden - Waar die oog van stil word. Protea Boekhuis, 2016. ISBN 9781485306054
Resensent:Joan Hambidge

Ilse van Staden se digbundel Waar die oog van stil word is daardie soort bundel wat lank ná die lees bly nawerk in die leser se gemoed. Die gedigte lyk oënskynlik eenvoudig, maar met elke herlees, aktiveer dit die woord karapaks wat die digter gebruik.

Hierdie woord beteken skulp (soos by ’n skilpad), maar volgens die tesourus dui dit ook op abnormaliteite soos geskep deur trauma, infeksies, tremore, en so meer. Daar was al ’n digkunstydskrif met hierdie titel. Gaan kyk gerus in L.G. de Stadler se Groot tesourus van Afrikaanswatter woordassosiasies daarmee verbind word.

Die digter sinspeel op albei begrippe. Die gedig wat toegesluit is agter ander gedigte of die gedig geskep uit menslike ontsteltenisse of onrustigheid.

Eersgenoemde soort gedig vind ons in haar antwoord op Wallace Stevens se beroemde werk “Thirteen ways of looking at a blackbird” wat sy “Dertien kraaie” noem:

1.
’n noot op die dwarsbalk van bome
’n enkele kras en krakende
kraai

2.
twee kraaikuikens
uit ’n boom
gewaai
ewe dood

Hierdie palinodie (of teenstem) is egter in die minderheid. Die meeste gedigte in die bundel is liries en eenvoudig.

Bloekoms
die bloekoms ontklee van bo af
skil uit hul skedes
skilferend
bietjies-bietjies blaai hul uit die bas
en keer satyngeskilderde lywe
skaam teen die wind.

Die bekoring van hierdie oënskynlik eenvoudige vers kan nie genoeg vermeld word nie. ’n Mens sal nooit weer na bloekoms kan kyk sonder om te onthou hoe sy dit beskryf nie. Die skede, die karapaks wat oopgemaak en afgehaal word, is deel van die digterlike proses. Party noem dit die dromende denke; ander praat van die akwarelle van die dors. Vir sommige is dit weer ’n hipnoties betowerende proses. Vir ander dinkwerk.

Die een is nie beter as die ander nie. Dit is om in dáárdie manier van dig, jou merk te maak. Jy kan nie ’n alt met ’n sopraan vergelyk nie. Of ’n tenoor met ’n bas nie. Maar wel soprane met mekaar. In die liriese digkuns het ons uitstaande digters soos Olga Kirsch en die onderskatte Annette Snyman. G.A. Watermeyer.

Hierdie Ilse van Staden kelk ook die sonlig in haar keel.

Soms moet sy ’n winterbaadjie aantrek (soos in “woestuin”) om haar teen pyn te beskerm. Die digkuns kan beskerm, maar die digter ervaar ook soms die pekel van haar woorde (“opgedis”).
Daar is uiteraard dan ook verwysings na ’n slak, die selakant (wat ’n beeld word vir die digterlike proses en slim inspeel op Antjie Krog se gebruik van visbeelde in Lady Anne, 1989). Verder dan: gerugte van eenhorings, fenikse en selakant / drake en dinosourusse, basilisk en narwaltand (“bou jou skip”).

Hier is ’n skerp blik op die oorlewingstryd as mens. Die digter het verhuis na die buiteland (Australië) en hiermee word sy dan deel van ’n ekspatgenerasie. Daardie digters wat van buite na binne gekyk het (soos Elisabeth Eybers, Olga Kirsch, Barend J. Toerien, Julian de Wette, Casper Schmidt, onder andere) verstaan die “patrone van stilte” anders as die digters wat té na aan mekaar skuur in die tuisland.

Kort ná haar verdienstelike roman Goeie dood wat saggies byt, is dié mooie bundel met ons. Oog en stilte. Die digter wat kyk en patrone waarneem. Verliese karteer. En gekonfronteer word met ’n stil gevriesde stilte. Dis hoe ’n mens hierdie bundel kan opsom. Haar vorige bundel is deur ’n resensent verniel. Met hierdie bundel maak sy daardie besware ongedaan.



Reisjoernaal: Lost in translation (ICLA Kongres, Wenen 2016)

$
0
0


Dag 1
Die jaarlikse ICLA-kongres vind in Wenen plaas. Ek besluit om ’n referaat aan te bied oor die simboliek van blomme in die digkuns van Emily Dickinson. “Lost in translation” noem ek dit én hoe enige vertaling uit ’n ander letterkundige sisteem in gebreke bly om haar “korrek” te vertaal.

Vertaling as verraad. Vertaling as ’n soeke na die “cross over”. Vertaling as appropriasie. Vertaling as sin maak, toe-eien.

Die referaatvoorstel word aanvaar en ’n week voor die kongres oor Komparatisme reis ek via Parys na Wenen. Premier Economic Class op Air France is uitstekend. Goeie diens en heerlike wyn met ’n sjarmante Fransman (uit Marokko) langs my.

Ek lees ’n speurverhaal. Die Franse lugwaardinne is beeldskoon en behulpsaam.

Die reis is uitputtend. Op sowel Charles de Gaulle as die Weense lughawe – beide nuut – moet ’n mens vir lang ente stap. In Parys selfs ’n treintjie om by ’n ander gebou uit te kom.

Dag 2

Na vier-en-twintig uur en vier minute is ek in Wenen. Die reisigers (na orals en nêrens) stamp jou uit die pad. (Is hierdie kulturele kode korrek? Ons sal sien.)

Wissel geld om. Ontdek so by my kool $50 van vorige reis in my rugsak!

Die hotel se taxi kom my afhaal. Hier staan ’n ongeskikte man (op sy sel) en begin stap. Sonder om te groet.

“Hoi. Hanou. Hokaai ounooi se pêre, waar gaan ons heen?”
“Na buite ... dis vier minute se stap.”
“Ek wag hier vir jou. Gaan haal asseblief jou motor.” My rugsak (met blomme op, gedenk ED) is swaar. ’n Ekstra sak met vars klere en boeke knor ook. Na ’n lang reis en stap deur lughawens gaan ek nie nou buite ook verder stap nie.
Ek wag. Hy ry verby. Ek wuif. Hy draai om.
Ek klim in die swart Mercedes. Hy begin skel.
“Ek het nie geweet jy moes hier wag nie ...”
Hy bliksem my tas in die kattebak.


Nou dink ek aan Coco Chanel se beroemde woorde: “Ek gee nie om wat jy van my dink nie; ek dink nie eens aan jou nie.”
Terwyl hy skel en knor en blaf, ignoreer ek hom.
Die selfoon in die motor lui. Hy gil op die vrou aan die ander kant.
Die swye word agter in die motor bewaar. Ek gedra my soos ’n adellike.
“Waar kom u vandaan?”, vra ek, omdat hy bepaald nie Oostenryks lyk nie.

“Van Egipte.” En dit breek die ys toe ek vertel van my reise deur Egipte en hoeveel ek van Luxor hou.

“Ja, maar dis nou gevaarlik.” Ek dink hoe ek en my voormalige geliefde in die suide van Egipte na Israel per bus gereis het – ’n jaar later, op dieselfde roete is buitelanders doodgeskiet.


Ons stop voor die hotel naby die universiteit: Hotel Rathauspark.

Klein en sjarmant.

Die kamer is perfek. Die ekstensies werk.

Ek is moeg. Na ’n dag se reis is my lyf gedaan.

’n Mens vergeet hoe reis alles uit jou haal en hoe erg die poorte van oorgang is: van lughawens na bestemming. Oomblikke van liminaliteit en geen sekerhede om aan vas te hou nie.

Jy is ontset. Van koers af. Jy het eintlik al vergeet watter harde werk reis is. Jou tas gluur jou verwytend aan oor die jongste beproewinge. Jy skil die pastiekomhulsel af. Alles lyk goed in die tas. Net die waspoeier het sneeumerke in jou sak gelaat.

Jy besluit om te gaan dut.

Die slaap op die vliegtuie was rusteloos. Vele kere waarskuwings dat die sitplekgordels vas moet bly.

’n Paar uur later skrik jy wakker. Verfris.

Jy pak jou klere uit.


Plaas boeke op die tafeltjie. Stort. Stap na die ontvangs, drink koffie en bespreek ’n reis vir die Saterdagaand: Wenen-in-die-nag. Jy moet die stad nou betree en die stad verken.

Ek stap om die hoek na die Einstein-kafee. Eet kaas Frankfurters met tjips.

Reis het bepaald nie ’n maklike formule nie, glo my.  E=m2 geld nie nou nie.

Wenen in die aand. ’n Reis per bus om die belangrikste bakens te sien. Ek maak notas. Die bus het net 8 mense wat deelneem aan hierdie reis oor die Donou, die paleise, standbeelde.

Beethoven se huise. As rustelose siel het hy dikwels verhuis. Die Strauss-huise. Hier het Mozart Don Giovanni die eerste keer opgevoer. Daar het Strauss nie gedans nie. Hier het Beethoven tot laatnag getimmer aan Fidelio. Daar kan jy ’n boottrip meemaak oor die Donou.


Orals speels Strauss-walse.

Daar is warempel ’n ambulans vir katte in Wenen. En orals veeartse wat net in katte spesialiseer!

’n Restaurant heet Lumen. Hoe gepas.

Die hoogtepunt van die aand is die Wiener Riesenrad.

Ons sit in ’n aparte karretjie. Voor ons is daar mense wat eet by ’n spesiaal gedekte tafel. Twee lovers sit alleen. Reg voor my ’n ma met twee jong kinders. Ek wuif vir hulle en toe ons stilstaan neem ek ’n foto van hulle en hulle lag. Hulle neem weer ’n foto van my.


Daar was oorspronklik 30 gondolas – soos dit heet – en tydens WOII is die Riesenrad beskadig; nou is daar net 15 waentjies oor.

Ek kyk af op die pretpark. Daar is jillende jongelinge op ’n figuur-8 tuimeltrein (roller coaster). Twee figure draai gillend vasgeklem in ’n masjien wat op en af beweeg. Ek onthou hoe ek en Johann de Lange in ons jeug by die Pretoria-skou op die ratelende big dipper ons adrenalien-vlakke beproef het. Vreesloos dit bestyg het. Wel Johann, nie ek nie.

(WienerRiesenrad - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 17 Julie 2016)


Hierdie ikoniese groot wiel (Wiener Riesenrad) sien ons natuurlik in The third man (1949) en in die James Bond-film The living daylights(1987).

Rondom die vervaardiging van The third man is daar ’n toer ontwerp waar jy selfs in die stad se tonnels kan inbeweeg.

Carol Reed se beroemde film met Orson Welles in die hoofrol, en draaiboek deur Graham Greene, bly bepaald ’n klassiek.

Met die Harry Lime-tema. Anton Karas se lied word ook in ’n restaurant gespeel. Orson Wells het die stank in die ondergrondse tonnels oordadig gevind en ’n waagarties moes namens hom optree.

(ViennaWalking Tour/ In the Footsteps of TheThird Man - Vienna | Viator. Besoek 17 Julie 2016).


Na die bustoer gaan ons na ’n wynlandgoed. ’n Aandjie van wyn. Twee manne op ’n viool en trekklavier speel Weense gunstelinge.

Toeriste van oralsoor klap en sing met die Radetsky-mars.

Net ’n eerste kennismaking met die stad.

Die wyn is jonk, maar goed. ’n Heute wyn.

Dag 3

Dis Sondag. Ek eet ’n brekfis in die hotel. Begin dan afstap (sowat drie blokke) na Freud se museum op die Berggasse. Dis kos tien euro.


Freud se studeerkamer

Die museum is in 1971 gestig deur Anna Freud met die hulp van die stad, Wenen en word beskou as een van die belangrikste intellektuele argiewe. In dieselfde tyd was Mozart aan die komponeer.

’n Mens moet wag weens te veel besoekers, maar ’n gawe egpaar laat my toe om eerste deur die bruin deure te stap. Hier het mense vir terapie gekom, totdat Freud na Londen moes vlug toe die Nazi's die stad beset het. Vir ongeveer 200 00 euro's kon hy vlug en sy beroemde sofa saam neem.  Hieroor het ek gedig in my bundel Meditasies:


43Freud se sofa

Waar id is, sal ego wees.

Op hierdie sofa,
ikonies uitgestal in ’n museum
met totems daarneffens,
het Sigmund Freud die onbewuste
glo ontdek:
om te praat, te droom, grappe te vertel,
deur raaisels veral,
verraai ons glo iets
van ons ware aard.
Om jou tong uit te sny,
jou stil te maak,
iets wat die digter vrees?
Ek lê my neer
op Papa Freud
se beroemde sofa,
virtueel beskikbaar,
die reisende sofa as u wil.
Maar eers die sofa met sy donker kleure,
opgepofte kussings,
tapytbedekking of kelim.
Hier is beswaardes lêgemaak,
aangehoor: ont-vang, ont-knoop,
ont-boesem ten aanhore van die analis,
streng en dogmaties,
soekend na die verdringde redes
wars van religie.
Waak teen identifikasie met die onbewuste
sou sy kroonprins waarsku:
in ’n soele droom
presies in drie afdelings verdeel
waai die wind twee verse weg,
en later soekend
in die liasseerkabinet van my komputer
is die verse ónopspoorbaar.
In onrus vertrek ek;
nog dieper in die droom in
stap ’n vrouedigter en haar gewese man
se nou-reeds-oorlede vrou
saam-saam die trappe af
met my as toeskouer.
Nog verder in die droom
– as ek reg onthou –
verskyn Sheila Cussons,
daardie amper-heilige
met ’n fotokopie
waarop skeef afgedruk staan:
“Freud se sofa”.

Die vers het in 2013 ontstaan.

’n Mens kry ’n gehoorapparaat waarmee jy die verskillende kamers kan besoek. Tans is daar ’n spesiale uitstalling: This is the stronger sex. Women in psychoanalysis.


Korset (ca 1850-1900). Foto, Oliver Ottenschlaeger

Lou-Andreas Salomé, Marie Bonaparte, Helene Deutsch, Anna Freud en Sabina Spielrein met Anna Eckstein word hier vereer ten einde die sogenaamde “talking cure” te begryp. Party van hulle was van Freud se pasiënte; Anna Freud en Deutsch het onder hom opleiding ontvang. En so het psigoanalise begin in 1896, en versprei na ander lande: deur Salomé na Duitsland; met Bonaparte na Frankryk; Deutsch na Duitsland, terwyl Anna Freud in Engeland dit gevestig het. Spielrein het weer die Russiese vertolker geword.


Anna Freud

Daar is ook ’n klein “tuisfilm”, soos Anna Freud dit noem, waar die gesinslede van Freud uitgebeeld word. Sy liefde vir honde (o.a. twee Sjinese keeshonde en ’n pekinees) sien ons met balletjies speel. Sy liefde vir sy kinders en kleinkinders: o.a. filmmateriaal van Lucian Freud wat later die beroemde skilder sou word, onder andere van windhonde!

(Terwyl verskeie mense die film beskou, is daar ’n lastige kind wat hard praat. Ek gee vir die ouers een van my beroemde humba-blikke en goddank, tot almal se verligting is hulle uit by die deur.)

Ons sien sy suster wat in ’n konsentrasiekamp gesterf het en beelde van sy moeder, sy vrou en Ernst Jones.

Freud het dit gehaat om afgeneem te word. Hy was baie lief vir reis en dikwels kon die gesin in somertye in beroemde spas of in Tirool bly waar hy onder andere Totem and taboo geskryf het.


Die gawe opsigter laat my toe om te skryf in die psigoanalise biblioteek, langs ’n beeld van Freud wat ’n streng blik op my werp. Amper asof hy wil sê: reis bring altyd nuwe insigte na vore. Dis hoekom ek altyd na Egipte en omstreke gereis het.

(Sigmund Freud Museum. Besoek 17 Julie 2016)

Freud het ook straf gerook terwyl hy geskryf het. Toe hy ernstig siek geraak het en nie meer kon rook nie, weens mondkanker, het hy al hoe moeiliker geskryf. Hier in die museum sien ons hoe Anna Eckstein die verminderde rol van vroue aangespreek het. Sy had ’n lelike neus en na ’n operasie, was die neus nog meer ontwrig.

Die besoeker word vertel hoe Freud sy kollega Breuer se idee van katarsis in terapie verder gevoer het met vrye assosiasie.

Anna Freud het haar vader se werk uitgebou. Sy is bekroon met ’n doktorsgraad aan Yale en in 1967 het Elizabeth II haar met die ‘Commander of the Order of the British Empire’ vereer.


Ludwig Wittgenstein

Wenen is ’n oorrompelende stad. Dit bekoor, maar jy is voortdurend bewus dat jy hier in ’n stad van kruispunte beweeg: die Nazi-besetting in die WOII; Beethoven, Mozart, Freud, Wittgenstein, Klimt.

Bad Timing van Nicolas Roeg met Art Garfunkel as die psigoanalis en Roeg se eggenoot, die verleidelike Theresa Russell bly ’n besondere film wat in hierdie stad afspeel.

Volgens die psigoanalis handel dit oor wie kyk, en wie afkyk. Die storie van Alex en Milena met Harvey Keitel as die speurder wat van Garfunkel wil weet: hoe laat het jy vir ’n ambulans gebel?

’n Film oor verkragting en obsessie.

Skokkende footage.

Rondom die tyd wat die film gemaak is, het Roeg verlief geraak op Russell, en Art Garfunkel se geliefde, Laurie Bird, het selfdood gepleeg.

Wat sou Freud nie van hierdie sake gemaak het nie? Dat kuns die lewe naboots? Dat die onbewuste sterker is as wat ons besef?


(Laurie Bird – Biography– IMDb. Besoek 17 Julie 2016) 



© Joan Hambidge

S. Shah & M. Brenzinger - Ouma Geelmeid ke kx’u ǁxaǁxa Nǀuu (2016)

$
0
0

S. Shah & M. Brenzinger - Ouma Geelmeid ke kx’u ǁxaǁxa Nǀuu. CALDi, University of Cape Town, 2016. ISBN 978-0-620-67157-6

Resensent: Joan Hambidge

Sheena Shah & Matthias Brenzinger met Katrina Esau, Claudia du Plessis en Mary­Ann Prins Vyf mense, waarvan drie susters, is die enigste mense wat nog die N|uu-taal kan praat en ’n groep akademici het hulle gehelp om ’n ortografie vir hulle taal te skep. So sal hulle taal en die geskiedenis bewaar bly.

CALDi aan die Universiteit van Kaapstad, ’n sentrum vir Afrikatale, het hierdie projek aangepak.

Hanna Koper, Griet Seekoei en Katrina Esau kan nog hierdie taal praat, maar kommunikeer eerder met mekaar in Afrikaans.

Die hele kwessie van taal wat aan die uitsterf is, kom dikwels na vore, ook in polemieke rondom Afrikaans se toekoms en die bedreiging van ’n taal se hoër funksies.

2 000 tale word op ons kontinent gepraat deur klein gemeenskappe en wanneer hierdie tale beskerm en opgeteken word deur kundiges, is dit ’n belangrike gebeurtenis.

Katrina Esau, ’n persoon wat haar taal op Upington beskerm, het in 2014 ’n prys ontvang vir haar werk. Hoewel sy nie kan lees nie, het sy hierdie tradisie aan ’n jonger geslag oorgedra. En CALDi is hier ter sake met hul skep van ’n ortografie wat vir ’n jonger geslag toeganklik is.

112 klanke (waarvan 45 klieke) maak hierdie taal as’t ware lewendig vir ’n jong geslag wat op hierdie wyse kan aansluit by hul tradisie.

Die hele Afrika-kontinent staan in die teken van meertaligheid en multikulturalisme; daarom word meer as ’n derde van alle tale op aarde in Afrika aangetref. Klein gemeenskappe praat tale wat net deur ’n handvol sprekers begryp word.

Dat dié ’n uiters belangrike studie is, spreek vanself.

Die leser word aan prente met suigklanke voorgestel en daar is ’n handige glossarium of woordelys in sowel Afrikaans as Engels.

Moderne woorde soos gordel is byvoorbeeld beltsi; of foto is fotusi (enkelvoud). Dit dui daarop dat die taal getransformeer het om aan te pas by die moderne wêreld waaraan die sprekers blootgestel is.

’n Mens word baie geleer in hierdie studie soos dat N|uu se bilabiale klieke as “soenklieke” bekend staan.

N|uu is dan een van die min oorlewende “nie-Bantoe-kliektale” wat voorheen as deel van die Khoisantale geklassifiseer is.

Hierdie kenners wys egter daarop dat hierdie taalfamilie nie werklik bestaan nie.

Moderne nie-Bantoe kliektale behoort aan ’n verskeidenheid van onverwante taalfamilies.

|Xam is in die 1870’s deur Bleek en Lloyd opgeteken en het alreeds in die 1920’s uitgesterf. Stephen Watson het dit verewig in Return of the Moon: Versions from the /Xam, wat later ook ’n dramateks geword het.

Sedert ons demokratiese vrywording in 1994 verskyn |Xam op ons landswapen en op note en munte wat op ’n andersoortige bewaring dui.

N|uu is die enigste van die !Uitale wat oorleef het en die geskiedenis van Europese setlaars en die impak op hierdie mense se lewe, is bekend.

’n Mens word baie geleer in hierdie onderhoudende studie soos dat N|uu se bilabiale klieke ook as “soenklieke” bekendstaan. Dit maak dit een van drie tale (die ander is Taa en =Hoan) wat hierdie soort kliekfoneem bevat.

Die bedoeling van hierdie boek is om die gemeenskap te leer om hul taal te lees en skryf, maar ook te praat. Die gedrukte eksemplare is dan ook hoofsaaklik gemik op die gemeenskap.

Vir my was dit ’n persoonlike genot om hierdie boek te lees.


Die boek kan gratis aanlyn afgelaai word by: http://bit.ly/29SdQjM, of by https://open.uct.ac.za/handle/11427/17432?show=full

Reisjoernaal: Stad van Musiek / Stad van drome

$
0
0


Dag 4

Vroegoggend brekfis ek. Lees e-posse. Die moderne akademikus kan eenvoudig nie die aanslag van e-posse pypkan nie. Wel, jy kan probeer; net om te ontdek dat ’n datum verbygeglip het of ’n aankondiging van ’n kongres in jou vakgebied is weg. Hier in Wenen sit ek reg oorkant die universiteit en beantwoord ’n tsoenami van e-posse. 

UCT/UK kampus

Beursaansoeke (wat nou geteken moet word); klastye en -toelatings wat nie kan wag nie; beangste studente wat tesisse wil inhandig. So iewers op jou reis knyp jy ’n paar ure af en laat weet ’n kursus is geskrap of ja, dit mag ...

Dan is daar weer die HoHo busse (hop on/hop off) wat jou jou deur die stad neem. Jy stop vir ’n vinnige koffie, mis die volgende bus, koop ’n aandenking en wag.

Jy beloer die plattegrond van die stad. Sekere areas begin nou al bekend raak. Soos die Freud-park naby jou hotel.

Jy verbeel jou hoe Freud en sy hond hier gewandel het. Met Paula, die huishulp.
Sigmund Freud Park

Meer as 3.7 miljoen mense besoek hierdie stad jaarliks wat naas Melbourne as die mees leefbare en genietbare stad beskou word.

Op straat vra ek vir aanwysings en ’n jong meisie vertel vir my hoe haar woonstel langs ’n park haar afsluit van stadsgeraas. Helaas, kan ons nie dieselfde in Kaapstad sê nie, waar jongeliede tot laatnag op stoepe drink (en lawaai) met bergies wat hul eie stadsmusiek het.

Wenen se Romeinse en Keltiese geskiedenis is herkenbaar; ons sien klassieke mure in die ou gedeeltes van die stad.

Van Wenen na Venesië

Neffens die Tsjeggiese Republiek, Slovakië en Hongarye kan jy selfs daguitstappies maak na die omliggende buurlande; mits jy ’n visum het.

Wenen (Vien) beteken bergstroom (Vedunia).

Ook geroep Dunaj.

In 1938 (met die Anschluss) beset Hitler Oostenryk.

Eers in 1955 is Wenen verlos uit die kloue van Nazi-Duitsland.

In 1945 het die Sowjet-Unie die stad beset tot in 1955.

Hierdie stad was ook vasgevang deur Duitsland en die Sowjet-Unie, bykans soos ’n kind wat in ’n egskeidingdebakel ’n twispunt tussen die ouers word.

Hitler se geboortehuis word oorweeg vir sloping

Onder die Nazi-regime is ongeveer 65 000 Jode gedeporteer en vermoor in konsentrasiekampe. 130 000 mense het gelukkig op vlug kon slaan, onder andere Freud en sy gesin wat genoeg geld gehad het. Vandag is die Joodse buurt amper on-Joods. ’n Mens wonder hoe het dit toe gelyk voor hierdie geweldige aanslag?

Hoe ironies dat Hitler gebore is in Oostenryk.

Voorblad van die Akte van die Weense Kongres

Uit al die na-oorlogse spanninge kon Graham Greene The third man skryf. Dit het behels dat die VSA, Sowjet-Unie, Frankryk en Engeland Wenen beheer het in die sogenaamde "Four-Power Vienna". 

(Vienna - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 18 Julie 2016). 

Die klimaat is sub-tropies; so tussen 22 grade en meer tans.

Vandag na ’n busrit, draai ek my rug op die stad om asem te skep.

Dis soos wanneer ’n mens ’n uitgebreide maal aandurf. Jy moet rus tussen die voorgereg, hoofgereg en nagereg.

Ons is nog net by die voorgereg in die stad.

Nog net geproe-proe.

Dus ’n dag van sleepvoet. In skoolterme: ek het vandag stokkies gedraai! Net ’n klein busroete meegemaak en bietjie gestap verby die universiteit.

More is ’n lang dag.

Ek kyk na die plattegrond.

Na links die Dieretuin, na regs die Donou waarop ek more gaan vaar.

Die Natuur- en Kunsmuseum is ’n enorme baken. Nes die Prater of die Groot Wiel waarvandaan jy die stad kan bespeid.

Die Belvedere Paleis. MUSA-museum.

Een van die bakens naby my hotel is die Votivkirche. En die universiteit.

Van ver kan ek die kerk se toring sien. Dit is ’n neo-Gotiese kerk geleë op die Ringstrasse. In 1853 was daar ’n aanslag op die lewe van Keiser Franz Joseph. En omdat sy lewe gered is, het sy broer Ferdinand Maximillian geld ingesamel om God te dank omdat sy broer se lewe gered is. Vandag stap hier mense met honde rond en die kerk word tans aan die voorkant gerestoureer.


Tydens die Tweede Wêreldoorlog is van die vensters beskadig.

Ek kyk na die ongelooflike argitektuur en na die sogenaamde "flying buttresses". Watter enorme geduld en harde werk het nie gekos om so ’n gebou van sandsteen te konstrueer en te bou nie?

Die kerk het twee klone: een in Speyer en een in Oostende.

Tydens slopende tye het hierdie kerk vertroosting gebied aan soldate. En vir moderne reisigers.

Dag 5

Nou begin die reis inskop. Na drie dae, so vertel dokters, verander jou metabolisme. Ek besluit: vandag gaan ons op die blou Donou vaar wat (sover ek weet) eintlik bruin is.

’n Laat-ontbyt met organiese koffie. Dan vertrek ons op ’n bustoer deur die stad. "All is an illusion" staan daar op ’n venster. Dit kaats terug na Lumen ’n paar aande terug ...

Hundertwasser museum

Ons ry deur die stad en ek begin  al sekere bakens herken. Daar is die Hundertwasser museum, ’n kunstenaar beroemd vir sy uitspraak dat hy bome liewer het as mense.

Ons sou kon raai hy was ’n misantroop.

Die Joodse area wat tydens die Kristallnacht vernietig is, spook by my. Hoe moes dit nie gevoel het om Joods hier te wees nie?

Fred Astaire moes sy naam verander; soos Heddy Lamarr.

Ons ry verby die Groot Wiel wat in 1897 voltooi is. Daar naby staan ’n Riesenrad bar waar mense nadink oor die tarot en die Wiel van Geluk wat hulle afgegooi het.

Vele bakens flits verby: Beethoven se huis, Dvorak se plek, unsw.

Dan tot in Grinzing waar ons nou die aand heurigen Wein gedrink: jonk, maar lekker. Of, klein maar getrein.

In Grinzing staan Nicky Lauda se huise en daar is selfs ’n monument vir Lady Di. Ook ’n park vir meditasie.

Die bootvaart is aangenaam, maar ietwat van ’n teleurstelling. My voorstellings van die Donou was anders ...

Ons weet mos hoe die Burgemeester van Wenen op sy dag ’n watertjie uit die Donou moes drink om te wys hoe skoon dit is. Dit was op televisie gebeeldsend, maar die urban legend loop dat hy eintlik met ’n glas konjak in die hand gestaan het.

Na die bootvaart verby is, vra ek die gids: waar is die bus om terug te keer na die hotel.

Daar is geen bus nie.

Ek staan in die middel van die stad. Ek besluit om ’n trem te neem terug hotel toe en danksy al die busritte, weet ek watter kant toe om te beweeg.

Neem nommer 1, verduidelik ’n man.

Nou is ek op die trem. Maar helaas. Jy kan geen kaartjie koop op die trem nie.

Ek weet in watter sop jy kan beland as jy nie ’n kaartjie het nie. Ek spring by die volgende stop af en weer help ’n Samaritaan my om ’n kaartjie te koop teen 2 euro's. Ek herken die bakens. Die trem tol vinnig om draaie.

Daar is die universiteit en ja die Kerk. Met sy gargoyles - om die bose af te weer.

Gargoyles. Besoek 20 Julie 2016). 

Ek gesels met ’n jongeling. "Wat noem julle dit hier?"

"Demone. Om die bose af te weer."

Inderdaad. Hy ken nie die woord gargoyle nie; van die Frans gargouille, wat letterlik keel beteken. Miskien omdat daar soveel dinge is wat ons deesdae aan die keel gryp. More begin my kongres. Ek begin al van die kongresgangers herken. Daardie een laas in Parys gesien; daardie een Rio de Janeiro.

Orals hoor jy dieselfde gesprekke: die onrus wat regoor die wêreld aan die broei is.



 © Joan Hambidge

Reisjoernaal: Wenen, ICLA-kongres

$
0
0



So open die kongres dan op die Donderdag. Wonderlik om bekende gesigte te sien van vorige internasionale kongresse in Rio de Janeiro (op die stoep van die Hotel Regina sien ek weer vir Dorothy) of in Parys (hier staan David).

Marina Warner

Ons ontvang ’n program wat so dik soos ’n telefoongids is met 388 bladsye. Alles kan jy nie beluister nie, maar ek volg altyd my intuïsie. Die program word geopen deur die beroemde Marina Warner ("Magical Writing: Oracles, Curses, & Further Preventive Measures") wat praat oor ons "collective utterances" en "magical writing" wat sy via die Bybel (en natuurlik via Frank Kermode se The sense of anending vir haar luisteraars verduidelik. Hoe die toekoms al wink deur die "cuts" van die oomblik. En letterkunde grense oorsteek en kan voorspel. Julian Barnes se History of the world in 10 1/2 chapters (1989) wat eindig met die korrekte voorspelling van wie die sokker in Engeland gaan wen. Gewone lesers het hom op sy woord geneem.

Klytemnestra vermoor Kassandra

Dit is ’n skitterende lesing (wat my diep tref), omdat sy na beroemde mitologiese en Bybelse figure soos Jeremia, Klytemnestra, Kassandra, o.a. verwys. Ook King Lear kom aan bod. Dit is by uitstek ’n lesing wat primordialiteit aanspreek: soos die nette wat die dooies gevange hou in die Boek van die Dood. Moderne Britse teater kom ook aan bod in die hervertolking en interpretasie van onder andere die Oresteia. In hierdie ryk geskakeerde lesing (via Auerbach, Said, Kermode, e.a.) word ’n mens weer bewus van hoe die grense van literatuurteorie voortdurend verskuif. Ons begin waarskynlik weer terugkeer na die argetipiese of primordiale benadering wat vir etlike dekades uit literatuurteorie verban is.

Die soeke na die lesinglokale in die Universität Wien is moeilik. Lesinglokale word op ’n kaart aangedui, maar jy vind dit nie sommer nie. Die gebou is soos ’n Escher-skildery.

Ek stap by ’n lesing in (onbespreek) en hoor wel iets relevants oor die representasie van Godot in komiekstrips.

Ek ontdek ’n gender-seksie wat fassinerend is. Hemingway se vreemde verhouding met Gertrude Stein wat die spreker sien as ’n verplaaste gay-dimensie. Ek wys haar daarop dat hy salig onbewus was van die verhouding tussen haar en Alice B. Toklas. Hy het eers eendag toe hy voor hul huis in die Rue de Fleuris gestaan het, gehoor hoe die twee rusie maak ...

Die gender-sessies is fassinerend: gender en genre; gender en taal; genderkonstruksies wat grense bevraagteken, afbreek en herdefinieer, soos in die Algeryns-Franse letterkunde waar gay-tekste geheime kodes het wat nie ingeligte leser begryp.

Soos poisson (vis) wat ook ’n soen tussen twee mans beteken ...

En dan ’n hoogtepunt ... aan’t verdwaal in die UniVie se oordonderende geboue, kom ek af op ’n sessie: “The metaphor and Languages of the Diseases, the Healing and the Medicine since the 20th Century. Al Berto and the writing of Fear en Torture and Consumption. Insatiable Appetite in Kim Je-woon's I Saw the devil (2001).

Al Berto wat skryf uit ’n posisie van gepynig wees en siekte wat hom voortdryf en anders maak blyk die dinamo vir sy kreatiwiteit te wees. Hierteenoor ’n lesing oor ’n reeksmoordenaar as ’n marginale persoon en wat in I saw the devilbehandel word. (I Saw the Devil - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 23 Julie 2016).

Fassinerend hoe hierdie twee referate van waarde is vir my werk oor Johann de Lange en o.a. sy hantering van die marginale persoon en die reeksmoordernaar (soos Jeffrey Dahmer) wat ’n troop word van onvervulling en die abjekte.

Veral lesings oor vertaling (en die sogenaamde "untranslatable") word in vele sessies bespreek.

Daar is ’n paneelbespreking rondom minderheidstale: uit Indië en Afrika. En hoe hierdie tale "bewaar" moet word. Ja, noem die een respondent dit. Daar is ’n selfs ’n woordeboek in ’n Afrikataal met ’n X begin wat hy nie kan uitspreek nie. Xhosa, help ons hom. En maak ook die gehoor daarop attent dat daar selfs ’n Zoeloe/Engels/Afrikaanse woordeboek bestaan. (isiZulu.net – Zulu-English online dictionary. Besoek 24 Julie 2016)

Selfs Amerikaanse komparatiste verdedig minderheidstale en hoe ons moet bly veg vir minderheidstale, diversiteit en verskillende kulture. Dit is immers waarmee Komparatisme besig is - en eerder die parallelle teks as die een verswelgende Engelse teks is die antwoord.

Is daar iets soos World Literature? Of is dit ’n blote kanonisering van Groot Name, geskep deur maghebbers, wat die kleiner, randletterkundes verdring? Emily Apter en David Damrosch is hier in debat. (David Damrosch | Department of ComparativeLiterature. Besoek 24 Julie 2016)

Emily Apter is die skrywer van die bekende studie: On The Politics of Untranslatability (2013).

Sekere konsepte in die filosofie word hervertaal, weer vertaal, en in wese bly dit on-vertaalbaar. (Emily Apter | Department of Comparative Literature | NYU. Besoek 24 Julie 2016)

By elke lesing hoor hierdie kongresganger presies dit wat universiteite aan Suid-Afrikaanse universiteite tans ontken: die ontkenning van diversiteit, meertaligheid en die erkenning van multi-kulturalisme.

Om van buite - op selfs subliminale maniere - bevestiging te kry dat meertaligheid belangrik is, maak van hierdie kongres ’n opwindende en tersaaklike ervaring.

Daardie telefoongids neem ek huis toe. Daar sal ek ander relevante lesings kan aflaai en herbesoek.

Vandag is Sondag. ’n Klein respyt want more begin die lesings weer in aller yl.

Migrasie, grense, klein tale, minderheidsposisies ...



© Joan Hambidge


Reisjoernaal. Wenen. ICLA-kongres (Deel II)

$
0
0

“Daar is ’n punt wat ek wil huiswaarts keer,” sê ’n kollega.
Ek dink aan Dolf van Niekerk se Skrik kom huistoe. Inderdaad.

Vanoggend ontvang ek ’n e-pos van Air France: staking ...

Ek voorwaarts die e-pos vir my reisagent en versoek ’n ander roete.

Maar oor sokke sake (soos my Ouma sou seg) is ek gewoon Zen. Go with the flow. Dit is soos dit is.
Erich Fried

It is nonsense
says reason
It is what it is
says love

It is calamity
says calculation
It is nothing but pain
says fear
It is hopeless
says insight
It is what it is
says love

It is ludicrous
says pride
It is foolish
says caution
It is impossible
says experience
It is what it is
says love

(Vertaal deur Anna Kallio)

Ek beluister lesings by die ICLA off the beaten track. Ek kyk altyd na groeperinge wat buite my vakgebied of navorsing val. So word ’n mens bekoor. ’n Man uit Ierland praat oor diereregte en comics (en Derrida): die animauxversus die animot. Hoe ons aanneem dat diere nie emosies het nie en hoe Grant Morrison dit “herskryf”.

Grant Morrison

In die komiekstrip is daar altyd ’n protagonis en antagonis en die twee opposisies benodig mekaar. Die komiekstrip as genre is ’n hibriede vorm: dit verwys na ernstige tekste, maar heraktiveer dit op toeganklike wyse. Dit is ook transnasionaal (een van die nuwe buzz woorde) wat politieke kommentaar op ’n indirekte wyse lewer. Dikwels word die historiese en die mitologiese saamgesnoer in ’n nuwe vorm.

Die “performative character” van gender word vanuit alle kante belig. ’n Briljante lesing oor S&M analiseer die kodes in hierdie verbintenis. So leer ons dan dat die beroemde Robbe-Grillet se vrou, Catherine, ’n dominatrix was. Foucault, Pasolini, Deleuze word toegepas om die magsbasisse van hierdie diskoers te ontbloot waar wedersydse respek en toestemming die basis vorm van die “kontrak”.

In ’n paneel oor Jiddisj sien ons hoe Jiddsij ook die taal van ontwapening word. Deur hierdie minderheidstaal word daar in tekste gesubverteer en in kodes gepraat.

Lili Elbe

Transgressing translation / translating transgression: Tom Hooper se The Danish girl, die beroemde film oor Lili Ilse Elvenes, beter bekend as Lili Elbe, word die posisie van die transseksueel ondersoek. En wat is ’n liggaam?, vra ’n ander spreker. Kan jy iemand verkrag op Facebook? Is daar iets soos “online violence”? Is mense “transphobic” wanneer hulle so ’n persoon op die internet gewaar en dan kommentaar lewer?

Eddie Redmayne in The Danish Girl

Inderdaad het die virtuele ruimte ons hele siening van self, taal, morele posisies verander.  

Tussendeur skryf ek twee verhale vir ’n boek oor liefdesverhale met ’n twist. Nommer een: “Die ongedanste dans” en “Stad van drome”. In albei verhale is Freud die subteks vir my verhale. My hotel is klipgooi van sy huis.

Freud standbeeld in Hampstead, VK

Smiddae sit jy met kollegas, out en nuut, en gesels oor die lesings wat jy gehoor het.

En jy sit by een van die mooiste universiteite ter wêreld met ’n borsbeeld van Sigmund Freud op die binneplein.

Flemming Rose by die kantore van Jyllands-Posten, Denemarke

Jy verneem via e-pos dat die TB Davie Memorial-lesing aan UCT gekanselleer is. ’n lesing oor vryheid van spraak word on-vryheid van spraak.

Kollega Benatar maak geldige punte oor die kansellering van Flemming Rose van die Jyllands-Posten. (UCT/ A blow to academic freedom - Opinion |Politicsweb. Besoek 27 Julie 2016) 

Die cartoons van Mohammed sou glo aanstootlik wees en aanleiding gee tot geweld. Maar deesdae kan enigiets aanleiding gee tot geweld. Selfs kunswerke is toegedoek, omdat dit aanstootlik sou wees.

Akademiese vryheid in die knyp

Soos Benatar dit klinkend stel:

"It is unsurprising that Mr. Rose’s unrepentant publication of the Mohammed illustrations makes him a controversial figure. However, it is precisely such a person who is a barometer of how much freedom of expression we enjoy. Everybody is willing to tolerate some speech. The real test of freedom of expression occurs when people are asked to tolerate the speech of those whose ideas they do not like. On that test, the University of Cape Town has shown that it does not have the robust commitment to freedom of expression that it says it has."

Derek Jarman

In ’n lesing oor Shakespeare in ’n moderne era (Derek Jarman se The tempest  uit 1979 versus Paul Mazursky se The tempest uit 1982) lewer kommentaar, sydelings, op vryheid-van-spraak en hoe regisseurs met oertekste werk. En Jarman dekonstrueer Shakespeare as gay man. Toyah Wilcox, die beroemde sanger, maak ook ’n kameeverskyning in hierdie film. (Toyah Willcox - Wikipedia, the freeencyclopedia.)

Gender en Shakespeare. Mans in die moderne film wat met mekaar dans.

Neo-sensuur (die SAUK-slagting) en die on-intellektualisering van ons universiteite lyk van vanuit die Weense perspektief ontstellend. Net soos die dalende rand jou knyptang.

Maar ag: nou gaan ek luister na ’n lesing oor die eudaimoniese (“human flourishing”) wat in ons moderne lewe so afwesig raak.

Niks is meer soos dit was nie ...


© Joan Hambidge

Reisjoernaal. Wenen | Terugkeer: Lost in translation

$
0
0

Oostenrykse Nasionale biblioteek © Ken Kaminesky

Die reis vanaf Wenen tot in Kaapstad is 27 uur as jy al die oplaai en aflaai met pendeldienste by tel.

Vir oulaas reis ons deur Wenen en ek versoek die man om stadig te ry sodat ek vir oulaas die skoon, oorrompelende stad kan besigtig. Mooi geboue. Gaan die vlug vertrek of nie? Die Air France-staking maak alles onseker. Daar is ’n e-pos van my reisagent wat troos dat dat daar ’n 90% kans is dat ons wel op tyd sal vertrek. Die eerste vlug is met 20 minute vertraag, maar ek hou moed.

Die groot tas is ingelaai. Deurgestuur tot in Johannesburg.

In Parys is dit weer lang ente stap, maar gelukkig na al die trappe klim in Wenen, kom ek gou by die bestemming. Vir oulaas rook in die rookhokkie.

“Kom rook saam met die stoutes,” nooi ’n man gul. Die sigarette-bak lyk soos ’n Dali-kunswerk.

Ek kyk na die kaart van Wenen en trek met ’n swart pen strepies. Hier was ek; daar sou ek nog wou wees.

Die Innere Stadt was hoofsaaklik die vertoefplek met oopbus-toere na die omstreke. Maar die kongres was eerste prioriteit. ’n Opwindende, leersame kongres.

Uiteindelik stap ons in. Die gewone veiligheidsmaatreëls in die vorm van ’n speelse video met dansende jong meisies volg. ’n Parodie van die ernstige aanwysings.

Dan die stem van die kaptein: “Welkom aan boord. Weens die stakings, het ons min personeel aan diens en dus sal die diens minder flink wees. Ons het ook beperkte ...”

Nou ja. Dan volg ’n toebroodjie en ’n kerrieslaai. (Brekfis is ’n kaasbroodjie en joghurt en ’n appelmoes.) Wyn en bier is daar. Maar dit vorder alles stadig. Stakings is stakings. En van die puik kos op Air France is daar nie nou sprake nie. Ek kla nie. Bly in Zen-modus.

Ek kyk na Youthmet Michael Caine en Harvey Keitel. ’n Parodie van hoe ’n film gemaak word en die ellendes van oudword, liefdesverraad, en ja: dat jeug vermors word op die jeug. Paul Dano is skitterend as die akteur wat vies is oor mense hom herken vir die verkeerde rol as ’n robot en wanneer hy dan Hitler “speel”, besef ’n mens opnuut hoe skitterend hierdie man is, wat ek laas in War and peacegesien het. 

Die ouer aktrise herken ek nie; genugtig! Jane Fonda stuur haarself so hemelhoog op dat ’n mens net kan bewonder. Dan kyk ek ’n dokumentêr oor Peggy Guggenheim: Peggy. Sy het Jackson Pollock ontdek, onderhou en binne die moderne kunswêreld van New York gepromoveer toe niemand in hom geglo het nie. Haar verhouding met mans, haar jeug, haar neusoperasie wat misluk het, haar huwelik met Max Ernst word eerlik vertel op bande wat ontdek is. Daaromheen is daar onderhoude met gesiene kunskenners wat die modernisme verduidelik. Haar gewoonte om haar tong uit te stoot soos ’n akkedissie word in enkele kameraskote weergegee. Haar huis in Venesië het ek besoek en vanselfsprekend is die Guggenheim in NY ’n gunsteling-plek. Edmund White praat uitstekend oor haar werk en hoe sy agter die skerms kunstenaars raakgesien het.

Ons eie Pretty Yende is in Air France-tydskrif. Ek onthou hoe ek haar die eerste keer as ’n jong student aan die UK hoor sing het by Angelo Gobbato se afskeid en toe het hy voorspel dat sy nog ’n groot ster sal word.

“Asem is alles wanneer jy sing,” verklap sy. “Jou asem lei jou. Dit is wat jy moet beheer.” Ook waar van die digkuns, dink ek.

Dis drie vm. Ek drink ’n glasie melk en presies 9.10 land ons. Deur paspoortkontrole. Hoe lekker om in Afrika te wees.

“Was your trip good, Mama?”
“Very, very good.”
Hy tjap my paspoort.
’n Gawe swart man help my om die doodskis op te laai, in te tjekkereer en nous dit Kaap toe.

Weer deur die kontroles. Laptop uit, sak deur, baadjie deur, selfoon deur ...

Oor ’n driekwartuur vertrek ons. Die pad is lank en swaar.
Ek wag geduldig. Besluit om koffie te drink en raak verdwaal in e-posse. ’n Jong swart man klop my op die skouer.
“Kom, ons gaan nou vertrek.”

Die vlug is halfleeg en SAL maak op vir die stroewe kos op Air France met ’n heerlike vislunch wat ek verorber met ’n glasie water.

Die pendeldiens gooi my af en omtrent halfvier stap ek in my koue appartement in. Sms die geliefdes en gaan slaap. Na Wenen se 32 grade is die koue Kaapstad ’n bietjie wreed op die sinne. Ek sorg dat ek dadelik in die bed klim. Gooi ’n stapel klere in die wasmasjien en droom van Wenen.

Skrik wakker. Gooi nog ’n duvet oor die bed. Sekere stede verlaat ’n mens bepaald moeiliker as ander.

Afskeid

Daar is sekere stede (soos geliefdes) wat mens moeilik verlaat.
Deur hulle word mens geteister deur ’n vlugvertraging
van herinnering of verlies aan jou enigste paspoort
tot nuwe ervarings liefde of ’n belangrike afspraak.

Daar is sekere stede (soos geliefdes) wat mens swaar verlaat.
Oor hulle draai die vliegtuig vir oulaas te lank
vir ’n panoramiese blik of keer selfs terug weens die weer
van hul veranderende emosies – net om mens wéér in die steek te laat.

Daar is sekere stede (soos geliefdes) wat mens nooit verlaat
weens willoosheid, herinneringe of ’n onverwagse coup d’etat.

Montevideo

(Verdraaide raaisels. H&R. 1990).

Hierdie stad en kongres sal lank in die gemoed bly draal. In die nag laai ek foto's af van die kongres met kollegas.

Die lekker brekfis in die Rathauspark hotel, die etes in San Giovanni ’n blok van die hotel, die Votivkerk en die Freudpark - dit alles sal ek mis.


En die Freud-museum.


© Joan Hambidge

Martjie Bosman - Vloeibare middelpunt (2016)

$
0
0

Martjie Bosman - Vloeibare middelpunt. Protea Boekhuis, 2016. ISBN 978-1-4853-0584-2

Resensent: Joan Hambidge

In 2003 debuteer Martjie Bosman met die bundel Landelik(2003) waarvoor sy die Ingrid Jonker-prys ontvang het. Die tweede was Toevallige tekens (2010). Haar derde bundel, Vloeibare middelpunt, het sopas verskyn.

Die tweede bundel is altyd ‘n gevreesde hekkie binne enige digterlike bestaan. Hieroor het die digter moeiteloos geseil en met ‘n derde komplekse bundel, wat handel oor musiek, die liefde, dood, reis en landskappe, bevestig sy haar besondere posisie. Dit is ‘n bundel wat gelees moet word as ‘n argief-van-die-bestaan en die “vloeibare middelpunt”:

Barðarbunga

Bo en onder is sonder betekenis
vir riviere van magma vliedend
uit die bal se vloeibare middelpunt,
soekend na ’n bres in die brose kors,
wat gloeiend sal verskyn voor verskrikte oë:
Ontsaglik magtig is die Skeppingswoord.

(uit die gedig “Wordende landskap”, 73).

"Things fall apart; the centre cannot hold", hoor ons dus. Die digter as argivaris, maar ook as ekoloog in navolging van Yeats.

Die titel het ook ‘n mitologiese lading, soos ons opmerk in die volgende gedig:

Þingvellir
Mitologiekongres, Háskóli Íslands

Þat mon verða satt, es vér slítum í sundr lögin, at vér monum slíta ok friðinn
(Dit sal bewys word dat as ons die wet verdeel, ons ook die vrede sal verbreek.)

Die breukvlak van die plate waarop twee vastelande rus
dryf jaarliks met elke skudding verder uit mekaar
asof Þor, die ou geweldenaar, net ’n aks te hard getik het
met sy wonderlike hamer, en verbaas moes toesien
hoe die planeet begin te skeur
en wou-wou wegsink
in ’n vlak groen meer…
(70)

Ons vind dan hier ‘n digter wat op ‘n intelligente wyse besig is met ‘n bestekopname en in vreemde landskappe haar eie digterlike woorde plaas teen ‘n groter "backdrop". Ook die liggaam word blootgestel wanneer indrukke of ervarings deur haar "metafore bars". Maar die maak van kuns en gedigte word ook gesatiriseer in “Openbare kuns” (72). Dis is alles nie loodsware erns nie, want die tantes wat in ‘n winkel sit in brei lyk na die langwol-Yslandskaap.

‘n Hoogtepunt is dan die vers “Reykjavik” met die speelse sub-titel: Ash happens (Yslandse T-hemp).

In Reykjavik praat die goedige mense
’n isolerende taal grinterig soos lawaklip (69)

en dis hierdie oor wat oop is vir vreemde tale en ‘n oog wat baie stip kyk na ‘n vreemde landskap, wat die verse so gelade maak. Alles in hierdie bundel het dan met ‘n mitologiese proses van transformasie te make; van metamorfose en vervreemding.

Ook die Britse en Skotse landskap word onder die loep geneem: Edinburgh, Oxford, Cambridge.

Boerneef

En Peter Blum skuil in ‘n lieflike verse (“brewwe ligmoment”) in ‘n gedig oor King’s College. Is dit nie opvallend hoe daardie twee kragte, Peter Blum en Boerneef, nou skielik weer terugkeer in ons digkuns nie? Selfs met Duitse vertalings van laasgenoemde.

Die buitelandse ervarings word ook met die bekende Suid-Afrikaanse landskap vergelyk: Turner teenoor Oerder. Daar is uitstekende beeldverse (o.a. oor Maria Stuart, Onegin, Schubert) en ‘n hartverskeurende liefdesgedig (“ Die verbode vraag”, 43).

Moderne ervarings (stadsverkeer, ‘n stadservaring) se ondergrond word geplaas teenoor die mitologie en argetipes van die menslike bestaan. Hierom is die programgedig een oor Oedipus en ook Achilles maak hier ‘n draai. Die “knooppunt van die paaie”, die oorgange tussen sekerhede, die prosesse van liminaliteit, word in hierdie bundel ondersoek. Freud het immers die verhaal van Oedipus her-interpreteer en vir die psigoanalitiese leser is hier baie sleutels na die onbewuste op sowel persoonlike as historiese vlak. ‘n Gedig soos “Vlermuis” (21) vra vir baie her-lees en nadink oor die skemertye van die jeug.

Die politiek van die dag (straatname wat verander), ongelykhede en die sensitiewe spreker wat hierop reageer, kom aan bod. Digterlik woon die mens inderdaad op hierdie aarde, soos die motto van Friedrich Hölderlin aantoon.

Soos die digter self skryf: die sublieme is subliminaal en mites (mitologie), die metafisika hou dikwels skuil ondergronds, maar die sensitiewe en intelligente persoon kan dit aanvoel en verwoord.

Sole survivor
Ets 15/15, Jahni Wasserfall

’n Skrikslag – ’n ruit, die deur, die dak?
Maar langs die klavier lê die ets
langs swart merke op die vloer
onder twee gate in die muur.
Iets prik my duim waar ek skerwe
van die swart raam saamskraap:
Sal ek nou soos in ’n sprokie
’n honderd jaar moet slaap;
millennia lank versteen bly swyg
tot ’n etser uit klip weer lewe wek?
Maar kyk, die glas is steeds intak,
die rooi montering ongedeerd
en in die gapende hoeke glim
vlymskerp spykers soos tande
in ’n swart muishondbek.
Onversaag oorleef die mammoetboom. (58)

Die ekologiese dimensie is ‘n ander belangrike kode in hierdie bundel wat die leser weer neem na die bloemlesing Ons klein en silwerige planeet van Johann Lodewyk Marais en A.D. Zuiderent wat in 1997 verskyn het. Hierdie bundel bevat egter nie ekologies-politiek gedrewe of “groen” verse nie; dit is eerder gedigte wat die mens se weerloosheid openbaar teenoor die groter drif van die natuur se “skadupatrone” wat soos “grys brokke in ‘n kaleidoskoop” voorkom.

‘n Goeie gedig word uiteindelik méér as die boodskap; vra vir verskillende maniere van lees en taksering, soos Vloeibare middelpuntbewys.

Dis ‘n ryk bundel – vir herlees, nadink en weer besoek. Veral die reis- en landskapverse maak ‘n unieke bydrae tot hierdie sub-genres.

Die voorblad van Ryan Loubser, "Spookhuis in die reën", is werklik besonders.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Die Burger)



Irna van Zyl – Moordvis (2016)

$
0
0

Irna van Zyl – Moordvis. Penguin, 2016. ISBN 978 1 41520 720 9

Resensent: Joan Hambidge

I
Irna van Zyl se debuutroman Moordvisaktiveer die uitvis na ‘n oplossing. Die verhaal van Storm van der Merwe lees vlot. Dit handel oor die grieselige (in die boek lees dit grieselrige) ontdekking van die lyk van ‘n jong vroulike joernalis, sonder haar arm.

Dit speel af in die fiktiewe dorpie Grootbaai, ‘n kusdorpie, met ‘n haaiduikbedryf wat geknou kan word deur so ‘n moord. Die dorpie is iewers naby Hermanus, as 'n mens die kodes getrou volg.

Die roman word op die buiteblad aangeprys deur Marita van der Vyver (“Die spanningslyn gaan jou inkatrol, die storie gaan jou meesleur”) en Karin Brynard wat met groot stelligheid beweer:”’n dawerende nuwe stem in die Suid-Afrikaanse misdaadfiksie”.

Ek het die roman met genoegdoening begin lees op ‘n lang vlug na Wenen. Dis vlot en leesbaar geskryf. Al die bestanddele van ‘n goeie misdaadverhaal is hier: die gekniehalterde Storm (wat ingeperk is tot kantoorwerk); sy ry ‘n Volla en ‘n man met sy insleepwa ry in haar vas. Haar ondersoek word gesinkopeer met dié van haar oudkollega, Andreas Moerdyk, wat die dood van ‘n springbokstut ondersoek wat op die N1 ook deur ‘n trok getref is.

Local is hier bepaald nie lekker nie.

‘n Haai, lyke, perlemoenstropery, botsings …

Met hierdie roman plaas Van Zyl haarself binne-in die genre van vroue-misdaadfiksie: Ruth Rendell, Patricia Cornwall en klassieke speurskrywers soos Agatha Christie en P.D. James. Vele skrywers in Afrikaans is tans aangetrokke tot hierdie sub-genre – waarskynlik weens Deon Meyer se enorme sukses.  Selfs ernstige skrywers soos Etienne van Heerden (Klimtol) en Ingrid Winterbach (Vlakwater) gebruik elemente van die who-dunnit in hul romans.

Die roman geniet wye aandag in die media en een van die onderhoudvoerders, Karen Zoid, word in die roman via ‘n liedjie aangetref. Vraisemblance? Die werklikheid wat inbeweeg en uitbeweeg na die bekendstelling van die roman wat afspeel in ‘n akwarium.

Daar is geweldig baie navorsing gedoen oor die withaai as ‘n mens die erkennings lees en die boek verskyn in sowel Afrikaans as Engels terselfdertyd. Dead in the water, heet die Engels.

II

Die doodsteek van die speurverhaal (verskoon die pun) is natuurlik die wending. Van Zyl se roman behoort tot die orde van die lisible teks (Roland Barthes) eerder as die scriptible of meer komplekse teks. Min speurverhaalskrywers kry dit reg om die leser onkant te betrap of ‘n haas uit die hoed te ruk. Agatha Christie kon wel; Deon Meyer soms.

Die Belgiese speurskrywer, Georges Simenon skryf ‘n soort speurverhaal waar die “geheim” nie die speurverhaal voortstu nie; dit handel eerder oor die verbintenisse tussen  mense wat fokus op die fiksionele speurder Jules Maigret se verhouding met sy vrou en sy uitsprake oor die lewe.
Hier is dit die verhouding met die moeder en 'n geheim wat openbaar moet word.

By die meer populistiese roman is die ontknoping of geheim (in navolging van Edgar Allen Poe se The purloined letter) dít wat die leser najaag. Van Zyl se roman wil neig na ‘n meer komplekse verhaal weens die subtiele sosiale kommentaar. Ook die ekologie word aangespreek (die lot van die grootwithaai, natuurbewaring en perlemoenstroping).

Storm het  deelgeneem aan 'n optog teen die doodmaak van gestrande walvisse. En sy lei honde op.

Daar word ook erkenning gegee aan Maria Phalime se Postmortem: The Doctor Who Walked Away (Tafelberg, 2014). Webblaaie is besoek vir verdere inligting. Die ywerige joernalis of letterkundige speurder sal al hierdie ingebedde kodes kon natrek en die storie ágter die storie kon volg. Teenoor die see wat die bewysstukke verwoes (234).

Met haaibote as ‘n front vir perlemoenstopery (ek wil nie storiebederwer speel nie); maar iets skuil agter iets anders …

Kitskoffie is 'n vals bodem.


III

Ramot, Sigarette, drank. Plastieksakke om mense se koppe wat verniel word. Uniforms vir die polisie. Dit alles dui op ‘n werklikheidsgetroue weergawe van hierdie sub-genre. Selfone speel ook ‘n rol. Die identiteit van Storm (hier ook 'n spoiler) aktiveer 'n ander dimensie.

Die naamgewing is interessant: Storm, Spyker, Moerdyk ... en Purdey. Gaan kyk maar net na naamgewing by James Bond en hoe 'n naam 'n karakter opsom: Jaws, Pussy Galore ...

Witvoet het struggle credentials(20).

Musiek help vertel aan die storie: Aretha Franklin, o.a.

Mans met borselkoppe, die spesifieke taal van gewone mense, Gmf, ensomeer maak dit populisties. Ook die opposisie tussen goeie en bose karakters (en goeies wat agterna booswigte blyk te wees). Gaan kyk maar Jerry Palmer oor thrillers (Thrillers - Genesis and structure of a popular genre.Edward Arnold, Londen. 1978.)

Fassinerende inligting oor haaie is daar ook.

Daar is 'n taaipou op bladsy 20: luisterrke.

Deborah Steinmair som dit korrek op as 'n populistiese roman wat 'n mens nie lank sal onthou nie (Lesers behoort dié hoek te byt | Netwerk24. Besoek 3 Augustus 2016).

Van 'n withaai-speurverhaal is hier helaas nie sprake nie. Miskien wou die skrywer te veel stellings oor die ekologie maak en te veel inpak wat die storie se dénouement in die wiele ry. Boonop is daar deesdae, veral via die BBC, pakkende speur- en misdaadverhale wat kompeteer.

(Die volgende James Bond mag dalk 'n vrou wees.)

Dat dit wel eietydse kwessies aanspreek, is 'n pluspunt.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)


Sixty Love: Op reis met Joan Hambidge

$
0
0
Joan Hambidge

’n Produksie wat aan die lewe en werk van die Afrikaanse digter Joan Hambidge gewy word, gaan op die Tuin van Digters op Wellington en die Aardklop-kunstefees op Potchefstroom te sien wees.

Babette Viljoen en Olga Leonard (BO-produksies), wat bekend is om hul verhoogverwerkings en toonsettings van Afrikaanse digters soos T. T. Cloete, Elisabeth Eybers en Totius, behartig ook hierdie produksie.

Leonard sê hulle het vir Hambidge ontmoet op die Vrystaat-kunstefees verlede jaar met die opvoering van hul produksie Eeu van Eybers.

“Ons het in ’n koue sweet uitgeslaan toe ons haar in die gehoor sien, maar sy het ons produksie gekomplimenteer en selfs ’n CD gekoop. Daarna het ons weer gesels toe ons ’n gesamentlike huldeblyk aan T. T. Cloete gedoen het op die Tuin van Digters op Wellington in September 2015.

“Hy sou self opgetree het by die ­geleentheid, maar ná sy dood in Julie 2015 het ons met toonsettings en ­voor­lesings deur Hambidge aan hom hulde gebring.”

Leonard sê hulle het dit goedgedink om Hambidge se 60ste verjaardag te vier met ’n produksie. “Tydens ’n koffie-afspraak het ons gesels oor die woord ‘60’ en gespeel met ‘six-love’, soos in tennis en sy het baie ­gehou van die idee om dit ‘sixty-love’ te noem. Die titel Sixty Love: Op reis met Joan Hambidge verwys na ’n oorwinning en terugblik oor ’n lewe en reis deur 60 jaar.”

Om ’n beeld van meer as 20 bundels weer te gee het bepaalde uit­dagings aan hulle gestel, het Viljoen gesê. “Sy het al meer as 600 gedigte gepubliseer. Joan het sekere gedigte uitgelig, en die reis-tema staan baie sterk in haar werk. Ons het besluit om hierop te fokus, en sodoende ’n ­tipe reis deur haar lewe te onderneem, aan die hand van reisgedigte, asook liefdesgedigte, gedigte oor ­familieskap, ouers, eensaamheid en die dood.

“Daar is uittreksels uit haar blog wat deurlopend deur die produksie gevleg word en die reis-tema met ­ander werke bind.”

“Die teks is in oorleg met haar ­geskryf,” het Leonard gesê.

Viljoen en Leonard hanteer die konseptualisering en produksie­bestuur en doen die toonsettings.

Lize Beekman is die musiekregisseur, Pierre Andre Viviers die regisseur en verhoogontwerper en Alanka Craffert gaan die voorlesing en vertellings doen. Viljoen, Leonard en Craffert gaan die verhoog deel.

- Willem de Vries


*Sixty Love: Op reis met Joan Hambidge sal op 18 September op die Tuin van Digters op Wellington op die verhoog wees en van 4 tot 7 Oktober op Aardklopkunstefees op Potchefstroom.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Die Burger)

Elsabé Brits - Emily Hobhouse. Geliefde verraaier (2016)

$
0
0


Elsabé Brits - Emily Hobhouse. Geliefde verraaier. Tafelberg, 2016. ISBN 978 0 624 07574 5

Resensent: Joan Hambidge


Enkele kanttekeninge

I

Elke jaar doseer ek ‘n kursus oor die representasie van die ABO in die gedigte van ons ouer digters: Marais, Totius en Leipoldt. Marais se ambivalensie oor die oorlog, versus Totius se intense betrokkenheid (“Vergewe en vergeet”) teenoor die ironiese distansie van Leipoldt wat vanuit die buiteland na die oorlog kyk. Hieroor skryf H. J. Snyman insigryk in Merwe Scholtz se huldigingsbundel vir hierdie digter: Leipoldt 100 wat in 1980 by Tafelberg verskyn het. Snyman se essay heet: “Leipoldt se deuntjie: ironie of nostalgie?”

Die ironiese sintese, soos hierdie teoretikus dit noem, betrek Leipoldt se kragtige “’n Nuwe liedjie op ‘n ou deuntjie”. As mediese student was hy veral in die lyding van jong kinders geïnteresseerd en die stryd van die Transvaalse en Vrystaatse republieke was uiteraard buite sy ervaringsgebied. ( “In die konsentrasiekamp” maak hy terloops ‘n toespeling, myns insiens, op Totius se “Vergewe en vergeet”.)

Snyman wys op die disjunksie tussen betekenis en bedoeling, die kenmerk van ironie (127). Irony and the Ironic (Methuen, 1970) van D.C. Muecke laat die leser ook verskillende moontlikhede van ironie en toepassings daarvan.

Elsabé Brits @ Liza van Deventer

Sopas verskyn daar ‘n boek oor Emily Hobhouse met nuwe bronne wat Elsabé Brits in ‘n trommel ontdek het in Kanada.

Brits se eerste ontdekking was natuurlik via Rykie van Reenen se Heldin uit die vreemde en danksy die korrespondensie met Jennifer Hobhouse Balme, kon sy nuwe lig werp op hierdie fassinerende geskiedenis. Van Vancouver-eiland terug in die lewe van hierdie uitsonderlike vrou: held of skurk of verraaier?


II
Hierdie leser het ‘n paar jaar gelede twee verse oor Hobhouse geskryf – by die aftrede van Hans du Plessis het dit in ‘n Festschrift verskyn. Hierdie figuur het my nog altyd gefassineer.

Emily Hobhouse in ‘n ongeposte brief aan Tibbie Steyn:

Ek dank jou
vir jou warm brief
uit die Verre Vrystaat

met biltong,
ingelegde vrugte,
flertsies groen kweper,
‘n klein karmenaadjie
my toegesend.

Ek proe my
aangenome land
in ‘n toegetrekte keel:
sien vroue
wat weef en spin
in ‘n verre Phillipolis…

O Tibbie,
hier is ek ‘n rebel,
‘n leuenaar,
‘n vyand van my mense…

Maar ek weet:
eendag sal my gees
weer sweef
oor die wye velde
van my Troue Land.

Hoe graag sou ek nie
by die monument 
wou klaag?
My dank vir die voordrag,
die lees van my brief:
vir die wonde wat jy, Tibbie,
só selfloos,
ón-stoets,
namens my dra.


Emily Hobhouse, ‘n selfgesprek:

Heer Kitchener, Heer Milner,
weet u hoe die oorlog ruik?
Mag ek u vertel, meedeel
van die ellendes daagliks uitgedeel
soos stinkende kospakkies? Hoe ‘n vader sonder
steun sy kind se uitvaart moet aanskou?

Heer Kitchener, Heer Milner,
weet u hoe die oorlog klink?
Hoe ‘n moeder vir dae sonder trane
‘n lyk op haar skoot hou,
‘n woordelose wiegelied?
Op Springfontein word ‘n jong vrou
in ‘n grys sak ter aarde beklink.

Heer Kitchener, Heer Milner,
weet u hoe die oorlog proe?
Die rens melk, die vleis vrot,
skifsels meel langs vlieë en luise,
luise en vlieë, en vlieë, en nogmaals vlieë,
digby grafte soos gapende wonde.

Heer Kitchener, Heer Milner,
vandag het ‘n baba van drie maande gesterf.
En op hierdie dag, die hereweet,
nog twee ander…
Vir die vaders, vegtend tot die bitterend,
‘n swart-en-wit-kiekie
die enigste nalatenskap…

Heer Kitchener, Heer Milner,
ek sien die wit blom
in die hand
van ‘n kind, stóm.

Heer Kitchener, Heer Milner,
hoor my, hoor my aan.


III
Emily Hobhouse

Brits se boek lewer belangrike addenda tot die reeds vertelde verhaal. Die uitleg van die boek is vir hierdie leser ongelukkig te “besig”. Ek sou ‘n soberder boek verkies het. Daar is te veel spatsels en vlekke vir my smaak.

Dit is 'n relevante teks vir alle lesers wat belangstel in hierdie figuur, indertyd voortreflik weergegee deur Wilna Snyman in 'n eenvrouvertoning in Dear Mrs Steyn.

“Al ons ellende spruit uit ons onvermoë om alleen te wees” (190) – een van daardie sub-tekste wat die leser by die lees van hierdie boek bybly.

Daar is vir die belangstellende leser – soos die uwe – geweldig baie tersaaklike inligting. Die plattegrond op bladsy 150 gee ‘n konkrete voorstelling van Emily se reis deur die verskroeide aarde ná die Anglo-Boereoorlog, 1903.

Ook haar belangrike brief aan Jannie Smuts ontruk die ellende aan die vergetelheid:

“You think it is bad to be an Afrikander at this moment – believe me it is far worse to be an English person. Your defeat is material, ours is moral” (152).

Die foto van Petronella van Heerden (afgeneem in 1915 in Londen nadat Emily haar in Amesterdam besoek het, 237) is lieflik.

Lizzie van Zyl, uitgeteer en siek met ingewandskoors
Die Britse siening versus die Suid-Afrikaanse siening van die skending van menseregte (uitstekend weergegee in Herman Binge se Verskroeide aarde) is iets wat ‘n mens se lesing bepaal. Hierdie leser het dit nog altyd as ‘n skreiende onreg ervaar en historici wat vandag probeer beweer dat die boerevroue onhigiënies was en daarom in die kampe gesterf het, begryp nie hoé haglik die omstandighede in die kampe was nie. En hoe aansteeklike siektes werk neffens vuil water ensomeer nie.

Die ikoniese foto van Hobhouse – geneem toe sy reeds in haar sestigs was op bladsy 289 – vra om ‘n gedig. Nes die foto van Rachel Isabella (Tibbie) op bladsy 291.


IV

Hobhouse se stryd vir vroueregte en stemreg en haar teenkanting teen onreg, is alombekend. Die plakkaat op bladsy 84 vertel alles: as sy nie die onreg aan die groot klok gehang het nie en ‘n sogenaamde “distress fund” help stig het nie, wat sou gebeur het?

Ongeveer tien jaar gelede het ek deur Verenigde Koninkryk gereis en haar huis besoek in St Ives in Cornwall.

Ons onthou immers haar woorde:


"Truth for ever on the scaffold. Wrong for ever on the throne!"

TUIN VAN DIGTERS: 16-18 SEPTEMBER 2016

Bekendstelling: INDEKS deur Joan Hambidge

TUIN VAN DIGTERS 2016 - Digters & mentors

Johann de Lange - ’n Hunkering se grein (2016)

$
0
0

Johann de Lange - ’n Hunkering se grein. Human & Rousseau, 2016. ISBN 978 0 7981 72 99 8

Resensent : Joan Hambidge

I

Johann de Lange se jongste bundel heet ‘n Hunkeringse grein, ‘n titel ontleen aan Sheila Cussons, een van die sterkste digterlike stemme aantoonbaar in sy digkuns, naas Van Wyk Louw.

In hierdie bundel wat inspeel op Roland Barthes se “le grain de la voix”, oftewel die grein van die stem, die wonderbaarlike versameling essays van die Franse teoretikus, klink die stem van De Lange helder en duidelik op. Hy skuil nie agter die maskers van ander nie en selfs wanneer hy met ander se beelde werk, soos in die eerste afdeling wat inspeel op Boerneef, is dit De Lange wat aan die woord is.

Uiteraard het enige digter sekere temas of sekere obsessies.

‘n Mens tref die bekende temas aan in hierdie bundel: die gesprek met ander digters, die vaderfiguur (nou sterk gefokus op Hennie Aucamp, lykdigte, beeldverse, natuurgedigte, die bemoeienis met seksualiteit, en meer spesifiek, gay-seksualiteit, eensaamheid, die dood …

By De Lange is die gay-tematiek steeds aanwesig, maar nou met ironiese distansie soos in “Twee vryverse vir Joan op 60” met die eerste een wat heet: “Die lywe van woorde” met die veelseggende motto van Stanley Kunitz: “Words are so erotic, they never tire of their coupling”. Dit neem ons uiteraard na Barthes se ander beroemde teks, Le plaisir du texte (1973/1975) waarin hy die leesaksie met lyflike plesier vergelyk. Die teks wat plesier gee teenoor die teks van jouissance wat buite woorde beweeg. De Lange se tekste is woordgerig; hy dwing die leser om elke woord semanties te ontleed en hierom is sy gedigte eerder ‘n teks van plesier.

Die bundel word opgedra aan die gesiene semantikus Henning Snyman, ‘n teoretikus wat met sy nougesette lesings van tekste die verskillende aspekte van die gedig oopmaak, soos implikasie-verskynsels. In sy studie Mirakel en muse (Perskor, 1983) verwys hy na die “geknoopte toue”, oftewel die vlegwerk van implikasie. Die hele kwessie van implikasie word besonder goed deur Snyman behandel waar hy die verskil tussen primêre implikasie (d.w.s. dubbelsinnigheid, vormspel, nie-sigbare betekenisoorgange) en sekondêre implikasie (d.w.s. ironie, metafoor en hul meelopers) vir die leser verduidelik.

Uiteraard beklemtoon Snyman die magiese attribuut van die gedig (33).

Die goeie digter is immers die een wat met fyn toespelings en “vlegwerk” steeds die gedig se spanninge en paradokse uitlig (pp. 32, 33).


II
“At the still point, there the dance is” van T.S. Eliot aktiveer nie alleen die semantiese kwessies van die stilte tussen woorde nie, maar die bundel Stil punt van die aarde uit 2004. Die digter vra dus met so ‘n verwysing ‘n teruggryp na vorige tekste, wat uiteraard ‘n gegewe is by die ouer digter wat temas “hersien” en “verfyn”. Daar is trouens ‘n herbesoek onder andere aan Van Gogh.

Die eerste afdeling bevat natuurgedigte wat werk met klankontginning soos by Ina Rousseau. Die gedig word op sigself “’n energie wat dink & weef” (“’n Murmurasie van spreeus”, 9).

Die eerste afdeling heet “Die berggans het ‘n veer laat val”.

In die tweede afdeling “Pallisander” – en hoor ons Boerneef verder saampraat – word die liefde in al sy wisselvorme beskryf.

In hierdie afdeling vind ons die sterk “Die mafia-wywe” (26) waarin die digter die “growwe trekke van ‘n tawwe lewe” karteer. Plig word teenoor die soeke na liefde en toegeneentheid uitgewerk. In kort sekwense – ‘n andersoortige weerlig van die (on)geloof) – word liggaamlikheid en vervlietende plesier uitgewerk. Dis nou seks met al die ligte af, want die ouer man ervaar ‘n liggaamlike buitestaanderskap in die wêreld van die gay-bestaan. In latere afdelings word dit verder uitgewerk (“Die digter as ronkedoor”, o.a.). “Blomme van die kwaad” (31) aktiveer Baudelaire binne ‘n bestaan van verlies en ontrouheid. “Tristia met dagbreek” (34) dra die hele Van Wyk Louw-sisteem na hierdie bundel. In hierdie klein gedig skuil soveel groot gedigte uit Louw se bundel, werp dit lig op die mineurtoon in hierdie bundel.

Tristia met dagbreek

Deur die blindings val skag op skag
lig wat my Tristia ophelder, & die lyf
se warm terracotta; & die nag
se triestige wintergedagtes verdryf.

Teenoor die vroeër verse waar die spreker sonder skroom homself ontkllee voor die leser, is dit nou agter blindings en verskuild:

Blindings

’n Nuwe dagbreek val deur die hortjies in dun repe.
Op die bedkassie jou nota: Ek het uitgetrek.
Oplaas is die waansin oor & ons, als inbegrepe,
beter af. Twee keer is ek deur drie woorde gewek.

(37)

Die “vlesige samekoms van ‘n driftong” (41) is nou in die herinnering van die spreker wat in “I. Die lywe van woorde” (39) ‘n bestekopname maak van sy voormalige seksuele bestaan wat nou in die testament van die gedig staan. In hierdie gedig se pendant (II. Men of a certain age) word Barthes letterlik betrek:

Wat om te sê? Dat dit my plesier gee
om te weet dat my woorde plesier gee

Hierdie siniese dog vermaaklike vers word ‘n analise van die digter-as-trofee. Die besoek aan ‘n party word ‘n opsomming van gesprekke wat die digter altyd te wagte is en hoe partygangers nie die digterlike persona los van die werklike mens kan lees nie. Hierom moet hy aanhoor hoeveel die gedigte vir ‘n persoon beteken het en verwag die partygangers ten minste grensoorskrydende gedrag van die digter. Die uitroep – in navolging van Reve – beklemtoon dat die spreker geen erg het meer aan openbare blootstelling nie en terselfdertyd bewus is van die prys wat elke digter betaal wat openlike gedigte skryf.  Die verse uit Nagsweet (1991) veral word so in die gemoed van die spreker herbesoek en die leser beweeg saam met die spreker van “kollig” tot “kollig”.

Hierom is die mise-en-abyme (III. Vals bodems) ‘n noodwendigheid waarop die gedigte afstuur.

Woorde word die vertroosting en oplossing uit die pynlike bestaan. Roland Barthes se siening dat taal ‘n vel is wat jy teen ‘n ander vryf,  word betrek. “My taal sidder van begeerte”, skryf Barthes verder en in sy outobiografiese-biografie Roland Barthes (1975), bely Barthes dat hy in hierdie teks homself tot taalobjek verklaar. Ook  by De Lange vind hierdie genadelose disseksie plaas. Die geliefde is nou net ‘n woord, ‘n portmanteau (“Lippediens”, 56) en”Om mani padme hum” (62) word die grieselskilderye van Goya en Cussons saamgesnoer …

Immers ‘n hunkering se grein …

Die grein van begeerte, die grein van skryf; beswerend teen ondergang, die dood.

Die reeds genoemde “Die digter as ronkedoor” (63) praat met Eybers se “Digteres as huisvrou” – en al die parodieë en antwoorde wat hierdie gedig al aangestig het. Dit is ‘n pynlike analise van eensaamheid: ‘n slaaf van sy aptyte …

“Vincent van Gogh, twee stoele” (65) tree in gesprek met ‘n vorige Van Gogh-vers (“Die aartappeleters” uit Waterwoestyn,1984). Die ekfrastiese vers word nou ‘n analise van sy eensame bestaan waar die twee stoele dui op afwagting dat die toestand verlig sal word …

Die gedig vir TT Cloete “Plaasmiddag, Vredesfort-distrik” (67) aktiveer ‘n gesprek met hierdie digter – onlangs oorlede – en die afdeling sluit af met ‘n gedig “Boerneef Redux’ (68) waarin die digter treur oor die digter Boerneef wat eers na sy dood na waarde geskat is. (In die vierde afdeling word die kwatryne vir TT ‘n gesprek met die digter nadoods.)

In die afdeling “IV. Aansterflik” word die titel uit Cussons direk betrek, nes die motto uit Opperman  se “Vigiti Magna”:

… wie klippe in Sy mure pas
ken die rustelose borrel in die waterpas

Dit aktiveer eweneens Boerneef se beroemde gedig oor die twee Tafelberge wat hy ken; die jeug se Tafelberg was waterpasreg, terwyl ou man se ervaring daar anders uitsien …

Van al my land se Tafelberge
is daar vir my maar twee
dis die Tafelberg by Boplaas
en sy Ouboet by die see
by Boplaas se berg was ek ‘n kind
met ‘n kind se huil en lag
by sy Ouboet word ek rebelserig oud
met ‘n ou man se dink en wag
die begin op die Plaas was waterpasreg
maar hoe rym jy die ouderdom weg
met ‘n ou man se pieker en wag

 (Palissandryne, 1964)

Omdat die digter hier in die ruimte van die liminale beweeg en die pleroma ondersoek, is die ontginning van die droom eweneens tersaaklik, soos in die gedig “Allen Ginsberg se boeke” (77).

Die droom as ‘n modus van vrees, word hier via Ginsberg vergestalt dat die digter vrees dat ook sy boeke in vreemde hande sal beland en waarskynlik verkeerd vertolk mag word.

Die moderne mens is egter uigelewer aan die kuberruimte en virtuele geskenke (“Kuberkrismis”, 79) wat die eensaamheid net verder bevestig. Inderdaad maak TV van die wêreld ‘n kleiner plek (“Telstar”, 81).

De Lange se besondere hantering van die beelddig word in die afdeling “V. Die swaartekrag van as” beklemtoon. Lady Di se “dubbelbestaan” neem ons terug na die afdeling wat waarsku: vals bodems. En dit is dan Snyman se idee van vlegwerk wat hier tersaaklik raak. Gedigte wys heen na gedigte in ander afdelings en die leser word gedwing en om heen-en-terug te lees. By MM is dit die minnaars wat “vals  / ontboesemings verkwansel” (86). Die aangrypende vers oor Michael Jackson is meer as ‘n beelddig; dit word ‘n ars poetica waarin die digter hierdie figuur as metafoor gebruik vir die digkuns as sodanig:

metaforiseer / reduseer / towenaar

Alles kodes vir die digterlike proses. Die Mandela-vers bewys die behendigheid van die digter-as-vormvas, as een wat soos Opperman die engel uit die klip kan verlos. Om oor so ‘n ikoon ‘n geslaagde gedig te skryf, wil gedoen wees.

In “VI. Rust-mijn-ziel: ‘n hartseerwals” (alreeds voorberei deur die ouderwetse kwatryn op bladsy 76 en in ‘n vorige afdeling dus) word die impak van die figuur Aucamp op De Lange se psige verdiskonteer.

In Vreemder as fiksie (1996) is die gesprek begin; hier is dit nou vermetaforiseer waar die leser bewus gemaak word van Aucamp se impak op die digter se lewe. Meer nog, hy gebruik Boerneef ook hier (mits dese wil ek vir jou sê …) om hierdie gesprek te voltooi. Maar ook Leipoldt praat hier saam, die Slampamperman.

En die slampamperliedjie impliseer tog die aanspreek van die ander, die Boetie – met die wete dat ons harte vol is van pyn en gemors.

Ook die afskeid van Adam Small tref. Die digkuns bly net sprokkelwoorde.


III

Die vlegwerk van hierdie bundel bevestig hoe deurgekomponeer dit is. Van Wyk Louw en Cussons is steeds aanwesig, maar dit is veral Boerneef en Aucamp waarop die lig val.

Die stem van die digter, die grein van die stem, klink hier helder op in ‘n bundel waarin die digter met soberheid sy lewe en sy posisie binne die digkuns in oënskou neem.

Hy plaas homself telkens teen ander digters, maar sonder dat sy unieke stem vals opklink.

En ‘n lywige een is dit. ‘n Mens wil waak teen die gebruik van die woord “laatwerk”, maar dit is ‘n bundel geskryf teen latenstyd, maar nog met soveel drif en lewe. En wat hierdie digter se statuur bevestig. 

Onderhoud: Joan Hambidge, Johann de Lange oor skrywerskap

$
0
0
Joan Hambidge aan Johann de Lange

Joan Hambidge

Jy verwys na Roland Barthes se werk A lover’s discourse in jou bundel soos volg: “Language is a skin: I rub my language against that of the other. It is as if I had words instead of fingers, or fingers at the tip of my words. My language trembles with desire . . .” Die titel roep weer The grain of the voice(Le grain de la voix) op. Hoe moet die leser die idee van ’n hunkering se “grein” verstaan?
Vir my het die poësie net een onderwerp en dis taal sélf. Die “herinneringe” van die titel gaan nie net oor ’n terugblik op die verlede nie, maar ook ’n terugreis deur jou eie skryfwerk. Taal sélf het ’n tekstuur. Wanneer jy ander skrywers lees, is dit daar, onverwoordbaar, maar voelbaar. En wanneer jy skryf, werk jy met verskillende registers, verskillende teksture, en as jy suksesvol is, voel jou leser die grein van jou taal, van jou unieke stem. En vir my, ná ’n leeftyd van eroties skryf (eerder as erotiek skryf), is ek bewus daarvan dat taal léwend is, dat praat ’n lyflike ervaring is, en dat woorde en klanke by my ’n lyflike dimensie by skryf bring.

Watter invloed het Van Wyk Louw op jou digkuns gehad en meer in die besonder by die skryf van hierdie bundel?

Tristia met dagbreek

Deur die blindings val skag op skag
lig wat my Tristia ophelder, & die lyf
se warm terracotta; & die nag
se triestige wintergedagtes verdryf.

Soos ’n mens begin lees, gaan skrywers vir jou in verskillende stadiums van jou ontwikkeling oop. Louw was nie een van die digters wat vroeg reeds met my gepraat het nie. En hy het mý gekies, nie ek vir hom nie. Hy het my só vasgevat, en ’n gesprek begin wat nou al meer as 30 jaar duur. By hom het ek akkuraat leer skryf. Hy het my veral geleer wat die uitdrukkingsmoontlikhede van Afrikaans is. Hy is die Poolster, hy rig my, en hy bly immer onbereikbaar.

Die gesprek met Hennie Aucamp verdien vermelding. Lykdigte, besinnings, en die volgende mooi in memoriam. Watter invloed had hy op jou lewe en digkuns?

In memoriam: Slampamperman

Vir vriende & vreemdes was jy ’n gewer,
van raad, geskenke, ’n toespraak met jenewer.
Die jare bly van gewers vat, tot einde-
lik die gewer niks meer het om te gee
as ’n handvol gruis & gedroogde blare,
waboom-blare, ghnarrabos-blare, reg
om te strooi na jou Hantam onderweg.

Ek het Hennie Aucamp ontmoet vóór my debuut, en ek het geen idee gehad hoe ’n belangrike rol hy in my lewe sou speel, hoe hy dit sou verryk, of dat ons vriendskap tot en met sy dood sou duur nie. Hy was ’n mentorsfiguur, ’n vriend, ’n geesgenoot, ’n besadigde balans by my meer heethoofdige natuur. Hy het my aan sóveel nuwe dinge bekend gestel. Hy het ’n groot verwysingsraamwerk gehad, wat dit heerlik gemaak het om met hom te gesels. Die ganse taalregister is bestryk, en níks was taboe nie. Hy het by my ’n liefde vir ou woorde en uitdrukkings gestig.

Hennie het my, nes Louw, geleer dat helder denke in die eerste plek jou styl moet rig. As jy helder dink, sal wat jy skryf helder wees. As daar ’n fout is met ’n gedig moet jy dit gaan soek in die dinkwerk daaragter, en/of in die taal.

Dit was ’n vreugde om in die laaste 15 jaar van sy lewe sy ontwikkeling as digter te kon meemaak. Dit het ’n verdieping in ons vriendskap gebring. Vir ’n Hunkering se grein het ek gehoop om minstens één gedig te kon skryf om hulde te bring. Wat gevolg het, was ’n stortvloed van gedigte oor hom en vir hom. Uiteindelik kon ek ’n hele afdeling in die bundel aan hom wy, en só weer die gesprek met hom hervat.


*


Johann de Lange aan Joan Hambidge

Johann de Lange (Foto: Edrea Cloete)

Ons is almal bekend met die gedagte dat jy ’n leeftyd eintlik aan een boek of een vers bestee, dat jy jou met een tema bemoei. Maar daar is ook laat in ’n mens se lewe ’n terugkeer in die tyd, ’n bestekopname. Jou laaste twee bundels (Meditasies en Matriks) nooi trouens so ’n lesing uit. Hoe beskou jy jou nuwe bundel, Indeks?
In die sin dat ek ’n oorgang beleef: sestig is waarskynlik ’n tydvak van bestekopname. ’n Mens kyk terug na die mens wat jy was en jy ervaar (sowel as mens as digter) ’n gevoel van verspeelde kanse en dalk dat jy tyd verspil het op temas (soos die liefde). Terselfdertyd is hierdie ondergrond ook dit wat die proses paradoksaal bly voortstu.

Jy gee kreatiewe skryfwerk. Hoe verhoed jy dat jy jou skryfstyl op jou studente afdruk? Wat kan geleer word en wat nie? En met wat tans op kampusse gebeur, wat is die toekoms van kreatieweskryfskole op kampusse?
Ek leer my studente tegnieke van dig, die tradisie van skryf en ek leer hulle om ’n eie stem te ontdek. Die studente wat deur my begelei is, het elk ’n beduidende “eie stem”. Jy kan net iemand leer om beter te skryf, nader aan die eie identiteit te kom. Ek laat nie pastiches van my toe nie en wanneer ek dit optel, wys ek dit uit. Die proses werk soos psigoanalise: daar is ’n kontrak tussen mentor en mentee. Alles is vertroulik in hierdie slypskole en ek skep ’n veilige ruimte vir selfontdekking. Die toekoms van skryfskole is deel van die geesteswetenskappe se toekoms. Niemand weet hoe dinge vorentoe sal lyk nie.

Benewens lees, is reis die ander groot stukrag in jou lewe. Albei voed jou skryfwerk. Kyk maar na die voedende krag daarvan by D. J. Opperman en N. P. van Wyk Louw. Maar dan is daar ’n figuur soos Emily Dickinson wat binne die klein bestek van haar leefruimte ’n heelal oopgeskryf het. Is reis onontbeerlik? Of moet ’n mens eerder leer om in die oomblik te leef en fyn waar te neem en te dink?
Reis is lewensbloed. Ek gaan haal my gedigte ver, soos TT Cloete eenkeer opgemerk het. Ek is altyd in die oomblik, maar reis maak jou nog meer bewus van wie jy is, waar jy vandaan kom, omdat jy niks het om aan vas te hou nie. My gedigte is “visums by verstek”. Ek het baie gelees oor Neruda en die besoeke aan sy huise het bevestig wat ek waarskynlik reeds geweet het. Maar ek kon my gedigte fyner instel, beter kalibreer.

Human & Rousseau gee Indeks en ’n Hunkering se grein uit.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Die Burger)

Bemarking of bevarking?

$
0
0


Gestel ek skryf ’n jagroman Jou doppie is geklink en skuur skouers met die Groot Vyf in hierdie sub-genre. Dit is my debuut. Ek huur die Kruger Wildtuin vir ’n langnaweek. Teen ’n aansienlike bedraggie. Nooi al my vrinne en die media. (In my geval is die een die ander).

Sjampanje en krokodil-soesji vir ontbyt.

Vuurwerke in die nag. Olifanttemmers.

In nag ’n boottrip; ek vreesloos afgeneem op ’n krokodil se rug.

Helikopters vlieg in met twintig kaste Black Label toe die slordige gaste die hele voorraad opslurp die eerste aand.

Braaivleis in die lapa. Perderuiters wat polo speel met ’n sokkerbal.

Ek voer ’n onderhoud met Karlien van Jaarsveld wat ’n nuwe lied spesiaal net vir my en die gaste gekomponeer het.

Ek teken my boekie (bemark deur twee gesiene skrywers met shouts wat gil “Hier het ons 'n nuwe dawerende stem: iets soos ’n kanonskoot om twaalf in Kaapstad”; “Net eenkeer in jou lewe kom die jagboek so weergaloos” ...). ’n Tweede druk na die eerste oplaag van ’n 100 binne ’n ommesientjie.

Ek verskyn op die voorblad van Weg afgeneem met my mak tier. Op Kwelalag ek skalks vir die kamera. My safari-pak en kam in die kous ’n berekende kenteken.

Boek van die maand jubel Sarie. RooiRose bemark my roman in tien aflewerings. Visi neem my af op my plasie. My huis se ruwe bakstene word ’n nuwe modegier.

“Styl is alles,” koer ek. “Ek was al immers ’n karakter in Die vark in die paden ek glo die lewe skuld jou geen verskoning nie; jý is die vertoning in jou lewe waar kuns altyd die lewe moet naboots.”

Ek is op die voorblad van Perspektief & Profiel waarin ’n jong literator my beskou as “larger than life”. My eerste boekie Die slangvanger het net-net nie die skoolvoorskryfmark gehaal nie en die tweede Soos ’n paal bo water is deur Huisgenootopgeraap.

Die resensies van Jou doppie is geklink begin die dagbladpers haal. Wie het daardie vuige resensie geskryf? Og, het ons vergeet om hom te nooi na die paartie? Gmf, natuurlik jaloers op my Crocodile Dundee-styl waar elke-woord-tel. Sub-teks is alles, man.

Kom ons stop die satire vir eers.

Umberto Eco in sy Faith in Fakes(essays), gepubliseer in 1986, (dit het al twee herdrukke beleef) skryf oor die moderne gemeenskap se "Travels in Hyperreality". Die afdruk word so belangrik dat dit die oorspronklike verdring en die kyker het nie meer ’n behoefte daaraan nie.

Wat hy skryf oor die sogenaamde Fortress of Solitude van Lyndon B. Johnson opgerig (deur homself) in Austin, Texas is op oor-reklame van toepassing. Soeweniers, die reproduksie van my sy kantoor, die swaard wat hy as geskenk ontvang het van die Koning van Tailand, doilies met die Amerikaanse vlag as embleem.

In Eco se woorde: “The ‘completely real’ becomes identified with the ‘completely fake’. Absolute unreality is offered as real presence” (7).

En dit is van toepassing op boekbemarking. As ’n oordrewe reklamering van ’n boek nie deur die boek se intrinsieke gehalte ondersteun of bevestig word nie, skep dit eerder weerstand.

Dan neem dit ons terug na die ou spreekwoord: “Skoonheid vergaan, maar deug bly staan.” En boeke bly op rakke lank nadat die media-lawaai verby is.


© Joan Hambidge

Isobel Dixon – Bearings (2016)

$
0
0

Isobel Dixon – Bearings. Modjaji Books, 2016. ISBN 978 1 928215 29 5
Resensent: Joan Hambidge

Met Weather Eye, A Fold in the Map en The Tempest Prognosticator het Isobel Dixon haar gevestig as ‘n gerekende digter waaroor hierdie leser al uiters positiewe resensies geskryf het. Haar vierde solo-bundel Bearings is eweneens uitstekend. Dit is ‘n bundel waarin veral die blik van buite en die blik van binne op ‘n uiters oorrompelende wyse saamgedig word. Die digter is woonagtig in Engeland, reis dikwels na verre streke, maar keer ook terug na Suid-Afrika.

Alles in die bundel werk op twee vlakke: die hier versus die nou; onthou teenoor vergeet; lewe en dood – met die digter as dubbelganger, soos beskryf in die sentrale gedig “Doppelgänger” (70) met die motto: “I have doomed to such a dreadful shipwreck: that man is not truly one, but truly two”. Die digter as Jekyll en as Hyde dus. In hierdie besonderse gedig is daar ‘n verwysing na Werner Herzog, die magistrale filmmaker, wat op sy beurt hierdie proses uitstekend verwoord het in sy verbintenis met Klaus Kinski: My Best Fiend.

Die bundel sny vele temas aan soos jeugherinneringe, die dood van ‘n geliefde vader, die reis na Japan of Egipte, en sterk politieke verse soos "Trade Matters" (34) en  "Late Knowledge" waarin die geskiedenis wat ons op skool geleer het, ontluister word (27). "Pickings" (32) verduidelik die titel; ten spyte van al ons grense en drade is die voëls vry ...

"Nouns" (54) skop jou in die maag met sy woordekonomie oor die waansin van oorlog. 'n Stad se brûe sien sy as "twisted synapses"!

Gedigte het sterk mitologiese ladings ("Finsong", 11) en in "Dream Song for John" (13) word hierdie ikoniese digter besing. "A part of Me is Gone" (14) is 'n lykdig, waarin die geliefde vader 'n teenspeler word vir die dogter. 'n Ring wat verloor word in die see in "Treasure" (18) speel in op die Faraos wat dit mag vind! "Pinball Electra" (15) neem standpunt in teen die manlike orde wat vrouens hul stem misgun. Ons vind dan ook skerp beelde in gedigte oor stilte ("don't give me your Easter Island stare", 17). Cleopatra word 'n simbool en teenvoeter vir mans se siening van vroue as onderdanig. In die kort reeks wys die digter op die argetipes van ons lewens waar dominansie so 'n gegewe word dat mense in patrone bly dink en optree. Hierom die toespeling op Gilbert & Gubar se The Madwoman in the Attic (24). Die digter probeer om die gesigslose vrou te word; die gedigte maak egter deure oop vir haar.

In hierdie ryk geskakeerde bundel gee sy kodes waarmee ons die bundel kan ontsluit. Een so 'n leeskode is die trompe l'oeil om die "wondrous and absurd" van die lewe te ontsluit (22).

Die reisgedigte is iets besonders: Egipte, Dubai, Seville, Japan, Jerusalem, Gaza ...

Die bundel bevat ook endnote wat verse met nuwe en sterker implikasies laai soos die gedig “Beyond the fragile geometry” (61) wat verwys na Nicholas Roeg se film Don’t look now (gebaseer op Daphne du Maurier se verhaal). Teks wat skuilhou agter ander tekste. Dixon het ook al meegedoen aan ‘n projek waarin Hitchcock se Psychosaam met mede-digters digterlik verwoord word. Hierdie multi-media-projek heet Psycho Poetica.

In 2013 het sy saamgewerk met die Italiaanse komponis Roberto Rusconi aan Doppelgänger, wat deur  Schubert se Der Doppelgängergeïnspireer is en aan Dark Mattersvir De Materia Nigra et Obscura. In 2014 het sy met die komponis Stephen Montague The Brewdog Howls geskep. Dit is tersaaklik vir die lees van hierdie bundel waar gedigte met teenstemme geplaas word in kursief.

J. M. Coetzee en Kylie Thomas (van Open Stellenbosch-faam) prys die bundel aan. Dit is twee verdere asse waarop ons die bundel kan benader: enersyds digterlike beheer; andersyds as sosiale en politieke kommentaar.

'n Digbundel wat in my geheue 'n soort opera word met stemme en teenstemme.

'n Mens ontdek met elke herlees 'n ander dimensie!

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

'n Nota by Dan Sleigh se roman: 1795

$
0
0


My taal is kuns én gereedskap: my tjello, my palet, al my fyn beiteltjies, ek word bang wanneer dom mense daarmee speel …
Geskiedenis bewaar die herinneringe van hoë dade, is getuie van die verlede, ‘n voorbeeld vir die hede en ‘n waarskuwing oor die toekoms...

I

Tydens die lees van Dan Sleigh se lywige en uitgebreide roman 1795, wat verlede jaar die groot romanprys verower het, dink ‘n mens ook terug aan die roman Eilande(wat in 2002) verskyn het. Afstande het in 2010 die lig gesien. Hierna was daar Wals met Matilda in 2011. 1795 is eers genoem: Die laaste goeie man.

Sleigh is ‘n historiese romanskrywer. Sy tekste lewer o.a. kommentaar op krygskunde, seevaart, die Kompanjie-jare, en selfs verder terug in die tyd, die gebeure vier eeue VC.

Sleigh is ook digter en ‘n vinnige goegeloer het egter niks hiervan verklap nie. Duif oor water het in 1971 verskyn.

Daar is twee kwessies wat hierdie leser wil opper by die lees van Sleigh se jongste roman. Waarom vergeet ons dat hy ook digter is (was)? Is dit omdat die Afrikaanse letterkunde genre-beperkend lees?

En: by die lees van hierdie roman, kom ek af op Jay Corwin se fassinerende studie oor die Colombiaanse romanskrywer Gabriel García Márques (MacMillan Education/Palgrave, 2016).

Corwin wys op die hantering van die historiese gegewe in die roman The General and His labyrinth en die toespeling op Simón Bolivar. Ook in Of Love and other Demons is daar ‘n portret van Cartagena de Indias (Cartagena, Colombia - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 31 Augustus 2016).

Soos Dan Sleigh is daar by Gabriel García Márques ‘n besondere kennis van die geskiedenis wat tot fiksie verwerk word. Laasgenoemde skrywer ken die Renaissance Spaanse letterkunde en die Yoruba godsdiens (Yoruba religion - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 31 Augustus 2016).


II
Dan Sleigh © Michael Hammond

Sleigh se roman word bemark as ‘n roman waarin William van de Reede van Oudtshoorn, ‘n goewerneur se seun met ‘n belangrike plek in die Kaapse regering. Hy is woonagtig op Saasveld. Sy lewe is ordelik. Die see bring vir hom ‘n vrou en in die winter van 1795 vind daar ‘n politieke omwenteling plaas.

Rondom die twee asse, die liefde en die politiek, word hierdie roman gekonstrueer.

Maar daar is ook die sensuur van die kerk en ‘n verbod op trou in enige Kaapse kerk. Sleigh verwys ook na iets wat verdere speurwerk vir hierdie leser gekos het: die roubord wat nooit teen die muur gehang sal word nie (444).

Op die internet vind ons die volgende: Sy roubord en wapen hang nog vandag in die kerk van Oudtshoorn, Nederland (Willem Ferdinand van Reede van Oudtshoorn (1755-1822) | WikiTree/ The FREE Family Tree. Besoek 31 Augustus 2016).

In hierdie verwysing is daar ‘n naam van die dosent wat destyds hierdie geskiedenis aan my gedoseer het aan die Universiteit van Stellenbosch, toe meneer Bergh, en ons vind ook die testament:
Testator(s): William Ferdinand van Reede van Oudtshoorn 4 Maij 1822 Inventaris van alle zodanige goederen en effecten, als er op Zondag den agt en twintigsten dag der maand April, s avonds de klokke omtrend tien uuren, in den jaare onzes Heeren een duyzend acht honderd twee en twintig, metter dood zyn ontruymd ende nagelaten, door den hoog welgeboorene heer William Ferdinand van Reede van Oudtshoorn.Hebbende de heer overledene, by beslootene testamentaire dispositie in dato 10 September 1819 opgerigt, en waarvan de superscriptie ten zelfden dage voor den notaris publicq m:r Jacobus Petrus de Wet en getuigen is gepasseerd, na alvoorens, zoo wel by dat testament, als by onderscheidene actens denzelven testamente g’annexeerd differente dispositien te hebben gemaakt, voorts tot zyne eenige en universele erfgenaamen genomineerd ende g’institueeerd de kinderen by zyne overledene echtgenoten in echt werwekt, als ….
Daar is al dikwels verwys na Sleigh se skryfvermoë. Die toneel waar William voor die kerkraad gedaag word, is so helder geskryf dat ‘n mens die hele Sanhedrin se reaksie kan sien. Dit is ook gelaai met sub-teks.

Elke goeie herder word beskou as ‘n koopman (of opperkoopman).


III

Die sogenaamde historiografiese roman is ‘n uiters belangrike deel van enige letterkunde. Die kluif boeke oor die Anglo-Boereoorlog o.a., of Dan Sleigh se falanks belangrike tekse, maak vir belangrike en stewige leeservarings.

In die hande van ‘n mindere skrywer sou die gaapkurwe hoog gewees het, maar Sleigh laai die gegewe met drama. Die romanwedstryd se eerste prys in 2015 was welverdiend.

Dieselfde geld die Nobelpryswenner, García Márques. Gerald Martin se biografie van die skrywer is ‘n belangrike teks, maar dit is veral Jay Corwin wat my met sy gesaghebbende studie weer laat nadink oor die belangrikheid van historiografiese fiksie: die waarheid gelieg / die leuen in die waarheid.

In Chronicle of a Death Foretold word ‘n historiese wending gefiksionaliseer, ‘n insident wat in Colombië afspeel in 1951. ‘n Insident wat afspeel rondom die lot van ‘n sondebok. Hoe ver hierdie skrywer sy tyd vooruit was, word beklemtoon deur Corwin. Die skrywer ontgin Latyns-Amerikaanse Oriëntalisme wat later in ons postkoloniale tyd – post-Said – ‘n gonswoord geword het (100).

Miskien is dit die hoogste tyd vir ‘n jong student om ‘n studie te onderneem oor hierdie twee belangrike skrywers!

En nou inspireer dit my so dat ek weer Borges lees in Sheila Cussons se verruklike vertaling: Die vorm van die swaard en ander verhale, wat in 1981 by Tafelberg verskyn het. Van al hierdie verhale is “Die evangelie volgens Markus” ‘n kragtige her-skrywing van die kruisigingsverhaal geplaas in Suid-Amerika.

Borges had nie ooghare vir Neruda nie en onse Gabriel het op ‘n keer vir Llosa gebliksem oor ‘n vrou. Maar wat maak dit alles saak? Elkeen is briljante skrywers in eie reg.


Die vorm van die swaard bepaal immers die litteken!

© Joan Hambidge

Onderhoud: 5 vrae aan Joan Hambidge, deur Marchelle van Zyl

$
0
0
Die digter Joan Hambidge vier môre haar 60ste verjaardag en haar nuutste bundel, Indeks, is van vandeesmaand te koop. Marchelle van Zyl het met haar gesels.

Joan Hambidge
Foto: Edrea Cloete

1. As jy oor die ses dekades terugkyk, wat wil jy vier en wat sal jy anders doen?
’n Lewe waarin ek telkens die vermoë gehad het om sowel teenstand as geluk kreatief te verwerk. Hiermee dan iets wat die hier-en-nou en die ek oorstyg, omdat ’n boek ook iets vir iemand anders beteken.

By nabaat sou ek miskien losser wou staan van die Afrikaanse letterkunde met sy spelers en hul agendas. Ek dink ’n skrywer moet haar eie interne GPS vertrou.

Luister na jouself en ten minste een goeie leser (of twee) wat nie oneerlik is nie.


2. As jy ’n resensie van jou lewe moet skryf, wat sal jy sê?
Dit is ’n pikareske roman. Daar is reise en uitdagings, en die aweregse, dwarse hoofkarakter gee stem aan gay vroue, raak betrokke by polemieke en is dikwels betrokke by die taalstryd. Dalk windmeulens.

Te midde van al die polemieke en stryde skryf sy voortdurend gedigte oor stilte. Sy is wars van oneerlike mense en het onlangs ’n joernalis met ’n retrohaarstyl in sy dinges gestuur oor hy ’n leuen versprei het.

’n Lojale, driftige persoonlikheid, wat nie tyd vir dubbelpratery het nie. “Kom tot die punt” is haar motto. Weeg jou woorde. Hierom heet die blog Woorde wat weeg.


3. Wat is die topboeke wat jy glo almal in hul leeftyd moet lees?
Saul Bellow se Herzog. Die versamelde gedigte van Pablo Neruda, D.J. Opperman, Elisabeth Eybers en N.P. van Wyk Louw. Die laaste romans van Karel Schoeman.

Ek is ’n poësieleser en die werk van Emily Dickinson bly ’n hoogtepunt.


4. Waarna kan ons uitsien in jou nuwe bundel?
Indeks karteer twee landskappe: die Argentynse en Chileense wêreld. Die bundel werk met die Andes as ’n broeiende simbool. Daar is verse oor afskeid, bestekopnames en tergery: Ek speel met die ou weduwee Viljee . . . En daar is ’n reeks oor Neruda.


5. Wat maak jou gelukkig?

Wanneer ek ’n gedig voltooi het en ek voel dat ek iets nuuts kon sê.

(Hierdie onderhoud word geplaas met vriendelike vergunning van Die Burger)
Viewing all 819 articles
Browse latest View live