Quantcast
Channel: WOORDE WAT WEEG
Viewing all 819 articles
Browse latest View live

Amanda Botha gesels met Joan Hambidge: Op 60 kyk sy al skrywend terug

$
0
0
11 September 2016

Vandag – 11 September –  vier die digter en literator Joan Hambidge haar 60ste verjaardag en ook word haar 25ste bundel, Indeks, vandeesmaand bekend gestel. Amanda Botha het haar oor haar werk uitgevra.

Joan Hambidge: “ ’n Mens skryf verse in die donker ure 
wanneer die krag van inspirasie af is.” Foto: Philip de Vos

Sedert haar debuutbundel, Hartskrif, in 1985 verskyn het, het sy dikwels in een jaar twee titels gepubliseer en twee jaar agtereenvolgend – 1989 en 1990 – elke jaar drie bundels die lig laat sien. Sy het in Afrikaans ’n ongeëwenaarde publikasierekord. In dieselfde tyd het sy ook ses romans uitgegee en twee literêre werke.

In 1986 ontvang sy die Eugène Maraisprys vir haar bundel Bitterlemoeneen in 2012 die ATKV-Poësieprys vir haar bundel Visums by verstek. Die Litera-prys vir ’n gedig oor Eugène Marais in Lykdigte is ook aan haar toegeken.

Indeks het pas verskyn en bied ’n geleentheid vir terugskoue en bestekopname van jou lewe en digterskap. Wat is vir jou spesiaal aan die mylpaal-verjaardag en ’n 25ste digbundel?

Dat ek kon aanhou dig en die voorreg kon hê om gepubliseer te word met soveel kundige raadgewers en uitgewers! Henning Snyman (as leser), dan mense soos Etienne Bloemhof, Martjie Bosman, ­Charles Fryer, Connie Nel, Hettie Scholtz, Marietjie Coetzee, Frederik de Jager, Hester Carstens, Ampie van Straten, onder andere, in onalfabetiese volgorde!, dog elkeen op ’n unieke manier, fyn lesers.

En dan kritiese verslae van A. P. Grové en T. T. Cloete of Heilna du Plooy – literatore wat kundig inspeel op ’n teks.

En ja, resensente wat meen jy skryf te veel (haha Merwe Scholtz) of dink jy banaliseer die liefde (hoho tydgenote).

Terugskouend het jy verskillende temas oor die jare verken. Brei uit oor die temas wat jy meen jou digterskap voed?

Verlies, familieskap, reis, portretverse, ekfrastiese verse, die parodie, religieuse verse . . . Nee, genugtig, vra ’n kritikus eerder.

Jy is losweg die produktiefste digter in Afrikaans. Wat laat jou steeds dig? En indien wel, hoe beplan jy ’n bundel?

Wat laat ’n mens dig? Komplekse vraag. Indien ek presies sou weet, sou ek waarskynlik nou ophou. Ek beplan ’n bundel rondom ’n reis of ’n aflegging: in my jeug ’n verhouding; nou die inkyk op die herinnering aan soveel ervarings, mense, bestemmings . . .

Foto: Philip de Vos 

My paspoort

Noodgewonge in ’n landing site beland
Argentina teenoor Republika Hrvatska,
Nam Phi neffens Beijing se groot muur-visum.
My boekie propvol en net op één blad staan jy,
skeef gestempel, my paspoort na oraldeur.
Nee, ek lieg, dis twee: Zanzibar en Egipte.
Stone Town blakerend en stinkend;
Kaïro se piramides en kamele en gidse.
Op al die plekke sonder jou, daar was jy:
Tokio, Los Angeles, Santiago de Chile,
onsigbaar, ongesiens, ongehoord
in die omtes van my reisende hart
van kontinent tot kontinent in nood,
in al die o-klanke van aftrek en optel.

En hierdie gedig, uit Astrak, sal ek later verander in ’n propperse sonnet.

Sou jy uit jou oeuvre ’n bundel kan uitsonder wat vir jou besonder spesiaal is?

Dad. Die bundel oor my vader – my ou Dad wat my deur die jare aangemoedig het. Ook Hartskrif. My eersteling. En Verdraaide raaisels wat my eerste kennismaking met Suid-Amerika registreer – wat nou, in Indeks, saamgesnoer is. Sedert 1989 het ek hierdie landskap vyf keer besoek. In Argentinië was ek twee jaar terug; Chili verlede jaar oor Desember en Januarie. Met die Andes as die simbool wat ’n skeidslyn is tussen die mens wat ek was en nou is.

In “Ars poetica”, die eerste gedig in Indeks, bely jy dat daar ’n tyd was dat ’n versreël of inval “sonder slag of stoot” hom kon aanmeld en dat daar dalk nou ’n “beurtkrag met die digterlike proses” is. Sal jy dalk meer toeligting bied?

Die ouer digter is waarskynlik meer tegnies bedrewe. Jy kan ’n gedig ten spyte van jouself of ellendes “skep”. ’n Gedig spring nie meer uit jou uit nie. Maar jy kan dit tegnies laat werk . . .

Die politieke en ekonomiese troebelhede (van ons land) speel saam, nie waar nie?

’n Mens skryf verse in die donker ure wanneer die krag van inspirasie af is.

Jy bied ’n afdeling aan as ’n inventaris van verdriet/verlies. Jy hou in digreëls herinneringsmomente van ’n lewe vas. Wil jy uitbrei oor die verrekening van verlies in jou werk?

Verlies is die voedingsbron van my digkuns. Die dood van geliefdes (my vader, geliefdes). Ek is waarskynlik ’n romantikus. Ek word so maklik teleurgestel, maar terselfdertyd bly ek voortbeweeg. Driftig, enersyds dromend; andersyds krities, gedistansieerd.

Foto: Philip de Vos

As jy bestek opneem wie teken jy aan as invloede of deur wie sou jy digterlik gevoed word?

Ek word digterlik gevoed deur verskillende digters, maar my vriendskap met Johann de Lange moet ek uitsonder as ’n digterlike voedingsbron. Hy is ’n besondere digter en iemand wat my verse lees, objektief en altyd met belangrike aanwysings.

Jy het al genoem dat jou studente in kreatiewe skryfwerk onder jou leiding ’n eie stem moet vind – jy duld nie epigone nie.

’n Mens moet wanneer jy skryfskole aanbied jong digters begelei om hul eie stem te vind en nie blote naskrywers te word nie. Hulle moet hulself ook in ’n stadium ontheg en losmaak van my as mentor en voortbeweeg. Hopelik dan al die raad onthou en dit toepas. Soos: lees soveel moontlik, kyk of jou beelde klop, kan jy iets bydra . . .

Jy’s reeds weer aan die werk. Soos jyself sê jou telling is “sixty-love”. ’n Roman en nog ’n bundel aan die kom?

’n Nuwe bundel, Astrak, is in wording en ’n roman, Begeerte, wat afspeel in Wene. Freud, Klimt, The Third Man, Sabina Spielrein en die Riesenrad is die intertekste. Opvallend ook dat mense vergeet dat ek ook romans skryf.

Hambidge se bundel Indeks word op Donderdag 22 September om 18:00 by die Book Lounge in Kaapstad bekend gestel.

(Hierdie onderhoud word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)




Filmresensie. Chocolat (2016)

$
0
0
Hierdie film deur Roschdy Zem vertel die verhaal van Chocolat (eintlik Rafael Padilla) wat in 1886 die eerste swart nar geword het. Omar Sy is skitterend in die hoofrol en James Thiérrée vertolk die rol van sy wit narre maat.

Die film lewer kommentaar op rasvooroordeel (ja, haal jou Fanon uit) en die impak van 'n pynlike jeug op jou identiteit (lees gerus maar Alice Miller se The drama of being a child).

Waarvoor lag mense? Vir stereotipes, rasvooroordeel, vir dit wat jy vrees en moet kleiner maak sodat jy in beheer bly (hier sal Freud help).

Die film begin uistekend: ons sien hoe mense in sirkusse verniel en mishandel word. Hoe die baas-klaas-stelsel werk op die Franse platteland.

Dan kom die deurbraak vir die swart nar, Chocolat, sonder papiere en identiteit, dus. Hy kry skielik agentskap wanneer 'n swart intellektueel hom aanpraat oor hoe hy verniel word in optredes.

Die Paryse gedeelte lyk soos 'n opera-verhoog. Gekunsteld. Toulouse Lautrec is ’n interteks. Ons kyk die film met die wete van die huidige migrasie-krisis in Parys en hoe chauvinisties die Franse is (en was).

Die spel is uitmuntend. Beide mans het die kuns van die nar goed onder die knie. Die verhaal is op die werklikheid gebaseer (aan die einde is daar ’n dokkie) en dit is gebaseer op Chocolat, clown nègre. L'histoire oubliée du premier artiste noir de la scène française deur Gérard Noiriel.

Soos alle boodskap-films begin die preek deurslaan hier teen die einde se kant, verloor dit krag. Die film is dan gewoon te lank en dit eindig verby die natuurlike slot. Uiteraard is die probleem dat dit gebaseer is op 'n werklike verhaal, maar 110 minute is ver te veel. Met die musiek van Gabriel Yared wat te dramaties help saamvertel.

Wanneer dit suggestieryk is (soos aan die begin) en die toertjies uitgestal word, imponeer die film. Die twee hoofakteurs is uitstekend. Liggaamsbeheer en gesigsuitdrukkings wat jou bybly.

As 'n mens die dieper boodskap uithaal en die lot van Chocolat analiseer wat met 'n vertolking van Othello skitter, maar die wind van voor kry en uiteindelik ellendig sterf, word jy skoon bedruk oor rasspanninge. Het ons in die jaar 2016 al losgekom van die wit/swart-spanninge? Of is ons altyd besig met 'n ons/julle-gesprek?

En kyk wat lees die jong Chocolat snags in sy tentwoning.

Footit (James Thiérrée), Chocolat (Omar Sy) & Roschdy Zem

© Joan Hambidge


Henning Snyman - Twee digters in gesprek – die fyn, fyn net van die woord

$
0
0
1. Indeksvan Joan Hambidge en ‘n Hunkering se grein van Johann de Lange is twee bundels wat wêrelde van mekaar verskil, maar tog met mekaar in gesprek is – blatant én subtiel, veral subtiel. Albei bundels is pragtig uitgegee, en albei het ‘n blou agtergrond op die omslagontwerp. Die font waarin De Lange se bundel geset is, is keurig en kleinerig, dié van Hambidge effens guller, meer spraaksaam en uitnodigend vir die leser. Johann se bundel het ‘n omslag gebaseer op ‘n skildery van Judith Mason, Joan s'n is gebaseer op haar eie foto van ‘n kustoneel in Santiago. Die een dus meer ingestel op die kunsbeeld, die ander op die persoonlike. Wat hulle direk gemeen het met mekaar, is die uitstekende verse in albei.

Hambidge se verse handel primêr oor die gedig as sodanig, of eerder oor die digkuns. Sy haal Neruda aan dat daar nie digters is nie, net die digkuns. Uit haar hele oeuvre is dit duidelik. Haar bundels oor die jare moet saamgelees word as die steeds ontplooiende verhaal van ‘n digkuns, as’t ware ‘n verkenning van die ars poetica. Soms is die digter sentraal in ‘n gedig, ander kere staan die digter opsy en kyk ironiserend, ook self-ironiserend, na die gedig. Die inleidingsgedig is inderdaad “Ars poetica” (bl 12). Allereers is hierdie gedig ‘n soort bestekopname van die digter se vroeëre bundels. Ook die onvermydelike oorgang van die vinnig geïnspireerde digter, na die hedendaagse en meer besadigde digter waar dit “beurtkrag is met die digterlike proses”, is skerp afgeteken. Die digter sien uit dat haar beelde weer eendag helder skyn, maar tog “soos ‘n wolk van gevlerkte slange”. Die digter karteer in ‘n sekere sin die bruising van ‘n paar bundels wat met mekaar ‘n gesprek voer. Meer as dit, dui dit op ‘n bepaalde manier van soek na die aard van die gedig, die innerlike en inherente kern van die gedig en digkuns. Hierdie kritikus onderskei drie periodes sover in die digter se werk: van die begin tot by Verdraaide raaisels, daarna van Die somber muse tot by Interne verhuising wat ek as ‘n keerpunt sien, en vervolgens die bundels sedert Ewebeeld tot die jongste. Die sentrale temas wat oral deurspeel, is afskeid, verlies en reis. Hierdie temas vorm die parameters met die gedig self as die saambindende krag. Soos enige digter en romanskrywer is elke werk deel van die ontwikkelingslyn en bring elke nuwe werk nuwe insigte in die aard van die digterlike ondersoek. Lesers wat hierdie interne samehang en samesyn nie begryp nie, kla wederregtelik oor herhaling van temas. By Hambidge is dit noodsaaklik dat haar werk gelees word as die openbaring van “poësie puur”. Dit dui nie daarop dat hierdie digter poësie skryf ter wille van die poësie self nie, geensins kuns-om-die-kuns nie, maar almal bakens op die groot reis in die poësie in. Nie net die verkenning van taal en vers nie, maar veral is dit die verkenning en dikwels herkenning van die mens as die gestalte binne die gedig.

Daar is die soeke na die minnares, die verlore liefde, en deur geografiese reis word die gedig telkens ‘n ander plek gegee, oral “ken die hart sy verdriet”. Ook die verlore liefde word, deur die pyn heen, uiteindelik simbool. Die rusteloosheid van die digterlike gemoed wil steeds nuwe vergesigte bereik, nuwe wêrelddele ondersoek, en ‘n digterlike gesprek voer, met digters, maar ook die mens in sy weerloosheid. Soos ook reeds uit hierdie inleidingsgedig blyk, is die humor en die satire en die ironie basiese bestanddele. Faust is steeds aanwesig, “der Geist der stets verneint”.

By de Lange is daar nie soseer ‘n inleidingsgedig nie, maar die aanvangsgedig in die bundel het heelwat te sê. N. P. van Wyk Louw het sinies opgemerk toe hy by geleentheid daaroor gevra is, dat die eerste gedig in ‘n bundel bloot die een is wat uitgeval het toe die vorige bundel lank genoeg was! Sekerlik was dit nie waar by Louw se bundels nie, en ook nie in Hunkering nie. Die bundel open met “ ‘n Murmurasie van spreeus” waar ‘n bekende klein natuurtoneel ‘n nuwe betekenis oopmaak. ‘n Toneel van ‘n klomp spreeus wat gereed maak om teen dusketyd te gaan slaap in die bome, is bekend aan almal wat die natuur dophou. De Lange se gedig oor die swiepende en dalende, raserige spreeus is in die vorm van ‘n Italiaanse sonnet. In die drie kwatryne word hulle bewegings voorgestel: uitgelate, wisselend van een vorm in ‘n ander, of soos ‘n gaasdoek in die wind, ‘n dans met die gekwetter soos onwesenlike musiek ter begeleiding. En dan in die slotkoeplet:

& dan meteens in swart sneeuvalle
op ‘n groepie nagbome neerstryk. (bl 7)

In die eerste plek ‘n mooi klein aandtoneel. Tog is dit duidelik dat die bewegings van die lawaaierige spreeus ook wisselende beelde bied van aardse en gewone lewe, maar ook inspeel op die wêreld van die digter, die kunstenaar. Hierdie toneel word as’t ware geraam, veral deur die vormgewing van die gedig. Die uitbundige vryheid van die drie kwatryne word hok geslaan deur die slotkoeplet waar die spreeus in swart sneeuvalle op die bome neersak. Die beskrywing van die bewegende voëls in ‘n verskeidenheid van bewegings, word skielik tot ‘n slot gebring as die aandskemer die spreeus insluk. Die rol van die wwe is belangrik. Dit veronderstel volkome vryheid, maar die slot bring beperking. Die sneeu is swart, onheilspellend. Die vers is ‘n vloeiende beweging van metafore wat in hulle baldadigheid tot vorm gestuit word. Die inleidingsvers van Hunkeringdui ook op tematiese en vormlike aspekte wat die bundel subtiel sal kenmerk, en die gebruik van die Boerneef-woord “dusketyd” dui op gesprek met ander skrywers. Die soepelheid van woord, die rol van betekenis in variante van woordkeuse, die gemaklikheid van metafoor en die onderliggende nostalgie, word wegwysers vir die lees van die bundel.

2. Albei digters se werk word gekenmerk deur ‘n fyn spel met die woord en sy betekenis. Elke nuanse van betekenis word verreken, en beeld en sintaksis vloei gemaklik ooreen. By hierdie twee digters is duidelik die fynlees vaan die woord kenmerkend. Die invloed van Van Wyk Louw en Opperman speel dwarsdeur die bundels. Die twee gedigte oor Marilyn Monroe is goeie materiaal om die taaindeks van albei digters te onderskei. In “Marilyn Monroe” (Indeks,71) word hierdie beeldskone , maar weerlose vrou geteken in haar ongelukkige jeug, haar persoon, en hoe “sy haar eie dood vooruitspeel”. Sy is die middelpunt van skinderrubrieke, in Chicago staan sy in sement, “op heterdaad betrap met ‘n wapperende rok”. Sy stal haar uit, ontevrede oor die beeld van die dom blondine lees sy Dostojewski en praat sy oor die jongste literatuur. Sy word ‘n beeld van wulpsheid, maar behou haar humorsin, Die beeld van Monroe wat die leser hieruit aflei, is ‘n verdigte siening van die beeld wat sy van haarself gedurig moes aanskou – die dom blondine en sekssimbool sonder inagneming van haar intellek, uiterlike skoonheid sonder erkenning van haar gees en haar menswees. Haar eensaamheid moes besweer word deur minnaars wat haar maar weer verraai. Sy soek liefde, maar vind die betroubare minnaar in die kamera. Blootstelling – die vyand en die enigste vriend. En die slotstrofe wat gevolg word deur ‘n “glamarous” foto:

Afgemete wag sy vir die sluiter
toe die dood
haar soos ‘n kwinkslag
tref, bloot én oop.

Die foto aan die einde van die vers beklemtoon die paradoks van Monroe. Enersyds die wulpse skoonheid, andersyds is dit die skoonheid en begeerte daarna wat haar gees aftakel. Die skoonheid en seksuakiteit is in ‘n sekere sin haar beroep en haar verslawing, maar ook haar meedoënlose blootstelling, haar innigste droefheid en eensaamheid.

Die figuur oor wie die gedig handel, word ook die openingswoorde van die teks. Dit word in verband gebring met haar dood in die tweede reël:

Marilyn Monroe
speel haar dood vooruit
met elke afbeelding

Onmiddellik word Monroe simbool. Interessant genoeg simbool van haarself, maar simbool van “die vrou”, la femme, ook die simbool van weerloosheid en eensaamheid, ook van sterflikheid. Teen sterflikheid is geen skoonheid of allure bestand nie. Dit is enemale die ewige reis. Sy is simbool van die vindbare-onvindbare, vir ander, maar veral vir haarself. Sy word die stof vir poësie en sodoende word sy, ironies, ‘n simbool wat voortduur, vasgevang in ‘n vlietende oomblik in sement met ‘n wapperende rok. Sy word ook nog ‘n simbool van suggestie. Uiteindelik is sy egter die gewone vrou, die gewone mens vir wie daar selgs blootstelling en geen verskansing was nie. Haar verhaal word in eie reg ‘n ars poetica, en sy ‘n muse.

Hambidge konstrueer haar vers met die sprankelende Monroe as begin, deur haar menswees tot by haar finale blootstelling. In hierdie kringloop word die geweld en die finaliteit van die dood gehuisves.
Vir digters word sy ‘n vreemde en gevoelige tema:

Wrokkig oor die rol van die dom blondine
aan haar toegedig, word sy vir digters
‘n voleindige plesier in die gluipe
van die woord-en-wonder, terugspoelend.
Van dit alles wis sy presies
die semantiese verskille
tussen kyk, bekyk word, én terúgkyk.

Nou word Monroe nie net stof vir ‘n vers nie, maar sy word die gedig self. Die elemente wat Monroe se wêreld bepaal het, is ook die domein van die gedig. Binne die Hambidge-oeuvre is sy muse, gedig, simbool, weerlose mens en die verlore geliefde.

De Lange se gedig het die kriptiese titel “MM”. Sy word gereduseer tot twee letters, maar ook is sy so bekend dat haar voorletters die mens aandui. In De Lange se vers word ook verwys na die begeerlikheid wat sy inhou, maar hoe sy dus net oorbly met

Los praatjie, briewe, minnaars wat vals
ontboeseminge verkwansel, drie keer voor die kansel

Uit twee filmgrepe onlangs opgediep vir advertensie-doeleindes word sy weer die simbool van sensualiteit. Die taaltegnieke in hierdie vers verskil van Hambidge se Monroe. De Lange werk meer met die reduseer van Monroe, die mens, tot ‘n metafoor van verval. In hierdie teks lê die klem op wat die publieke beeld van Monroe was teenoor haar doodsbeeld. Hier is sy geen simbool nie, ook nie enige beeld van poësie nie, slegs die blootgestelde mens. Haar weerloosheid is nie hier van kardinale belang nie, wel haar aftakeling. Sy word hier ‘n patetiese mens, haar roem en openbare beeld vervaag vroeg in die gedig. Sy is mens soos nog ‘n mens, sy word die mens wat roem en bekendheid ten spyt, in die dood net nog ‘n liggaam word. In haar dagboek verklap sy haar geheime en smeek sy om erkenning as mens. Sy wil haar menslike en rou leed aan ander oordra. Die slotreëls omvat die kern van diegedig:

Die outopsiefoto's aan die pers gelek,
stroop haar, vlekkig en indiskreet.

Hier is geen “glamour” nie, maar vlekke op die liggaam. Hier is geen sentiment en die vroulikheid van Monroe nie, want sy is bloot liggaam. Veel meer nog, haar liggaam word forensies ondersoek. Haar skoonheid tel nie, bestaan nie. Waar daar altyd ‘n soort misterie aan Monroe gekleef het, word sy indiskreet blootgestel vir ‘n lykskouing. Hierdie foto's is die allerwreedste ontmaskering van die diskresie wat aan ‘n lewe grens. Alle aspekte van haar menswees en bekoring word deur die disseksie-mes vernietig. In die Hambidge-vers is daar die deernis met haar blootstelling aan verraad; by De Lange is haar blootstelling aan die ergste aandag, dié van ‘n outopsie in naaktheid. Hambidge ontwikkel die Monroe-fenomeen tot ‘n komplekse en ryk simboliek; De Lange ontwikkel die mens Monroe as metafoor van die gang van alle menselewens.

Die vlug van Ikarus © Gabriel Picart

3. Die legende van Icarus en sy gedoemde vlug as die son die was van sy vlerke laat smelt en hy neerstort in die Egeïese see, vind neerslag in albei bundels. Die Hambidge-gedig bring Ikarus in verband met die dood van ‘n jong seun in Hermanus. Die titel is “Icarus” met ‘n onderskrif wat wesenlik deel uitmaak van die gedig:

About suffering they were never wrong,
The Old Masters: how well they understood
Its human position:
 W. H. Auden

Vroegdag in ‘n gastehuis langs die see,
Auberge Burgundy te Hermanus,
luister ek van Vers en Klank
met verse vir die digter
van die jukstaposisie
en eiesoortige idiolek.
Teen die muur ‘n skildery
so reg uit Miró, na links ‘n skynsel
uit ‘n modieuse lamp. Jy vra my, leser,
of ek die see kan hoor?
Bo die oseaan, magtig en onmeetlik
met buite sig klink die kreet op
van ‘n jong seun wat gly en
val. Het enigeen gehoor?
Sy naam word dalk verewig op ‘n plaket.
Die voordragstem verduidelik wat ‘n troop
behels in die donker nag. Gedigte stap
vir hierdie digter jambies deur die vertrek,
vir hom van die baie ryk ure en allotroop,
enkele weke voor sy dood.
‘n Ongeleefde lewe, onvervuld
laat onvermydelik ‘n merk.
Hierdie gedig ‘n letsel, yk
van diegene wat ongevraag,
te vroeg vertrek en net deur slapeloses
aan die vergetelheid ontruk kan word.
Ook vir hulle wat daardie dag
die “forsaken cry” moes aanhoor.
Onvertaalbaar hierdie ellende.
Ek beroep my in onmag op Auden.

“Ikarus” is ‘n aangrypende vers, ‘n gedig met deernis en ‘n bewuswees van lyding en pyn, ook van die mens se onvermoë om deur te dring tot ander se pyn. Die betrokke ongeluk toe ‘n jong seun, ook ‘n knap en belowende voordragkunstenaar, by die muurtjie by die Ou Hawe van Hermanus afgeval het toe hy op ‘n baie smal klipstrook geloop, balans verloor en in die see verdrink het, het wye mediadekking gehad. Daar word genoeg sleutels in die teks voorsien sonder dat die leser hierdie kennis hoef te hê. Die digter is tuis in ‘n luukse gastehuis met ‘n bra pretensieue Franse naam. Langs hierdie luuksheid is die ruwe wêreld van die oseaan. Die digter luister na ‘n uitsending van verse vir T. T. Cloete. Jukstaposisie is die titel van een van hierdie digter se bundels. So ook Allotroop. Die gedig word bevolk deur die spreker, ‘n digter, T. T. Cloete, en die jong seun met sy drama-talent. Saam met die gastehuis as verblyfplek, met sy kunswerke en elegansie, vorm hierdie hierdie drie persone ‘n kokon van beskaafde en poëtiese lewe.

Buite hierdie “salon-wêreld” is die die woeste oseaan wat druis in sy stuwing teen die hawemuur. Binne hierdie geweld van die see klink ‘n kreet op, hoorbaar bloot deur die andersheid van die geluid. Oor die program praat die voordragstem oor ‘n allotroop, ‘n wending in ‘n gedig. Drie stemme praat saam: die stem uit die domein van die letterkunde, die kreet wat angs en skok registreer, die oorweldigende en primordiale geluid van die oseaan. Al hierdie gegewens word verwerk tot gedig. Die verhaal van die seun word herlei tot die stort in die see van die legendariese Ikarus, ook ‘n jongman. Albei reik na bo, sy dit in vlugaksie of in toneeltalent. Albei vind hulle einde in die dieptes van die see. Die kontraste wat in die gedig gestel word, dui op die normale bestaan teenoor die primordiale, die oerbron van chaos; dit open ook ‘n ander mitologiese en simboliese waarde van die see, te wete dat dit enersyds dui op ondergang en andersyds op herlewing; ook dat die see die vormlose voorstel terwyl die gedig orde skep. Die verdrinking gebeur in die vroegdag, in die gang van lewe, en die see in sy woestheid is paradoksaal pragtig om na te kyk. Die opkoms en ondergang van die son, draer van lig, dui simbolies op sterf met sonsondergang, en nuwe lewe met sonsopkoms. Die lewe is ‘n kringloop, ook dié van die mens. Jeug is by uitstek beeld van lewe en verwagting. Daarom word hierdie seun se lewe in die teks beskryf as “ ‘n Ongeleefde lewe, onvervuld”. Die see is ook beeld van konstante beweging, gedurige wendinge, allotrope.

Die gedig sluit egter nie in die jambiese metrum nie, maar ontsnap uit die samehang van taal, simbool en ritme tot die gevoelslewe van die mens. Die taalmiddele maak die teks oop vir elegie en deernis. Die deurvoelde smart van die seun se dood bind wrede lewe en die gedig tot simbiose. Teen die agtergrond van die letterlike gebeure lyk die gedig na ‘n “letsel”, ‘n “yk” van die tragedie van dood en die mense daarby betrokke. Tog, juis die gedig bring die dooie terug na die lewe van herinnering, yk inderdaad die tragiese gebeure en ontruk dit aan die vergetelheid. Die gedig bly ‘n prik van die herinnering, dit stol die jeugdigheid van die seun binne die grense van die woord en beeld. Die ellende is helaas onvertaalbaar, die pyn kan nie deur die gedig genees word nie, maar dit bring perspektief, dit stel ruwe werklikheid binne die tydloosheid van die woord, die kuns.Auden se woorde bied die troos en die sluitstuk vir die vers – een gedig vind voltooiing in ‘n ander. Ikarus en die seun op Hermanus word geskei deur totaal verskillende ruimtes en tye, ook deur legende en werklikheid, maar hulle word verenig in die dood, in die samesyn in die primordiale waters.

Hambidge slaag in hierdie vers uitstekend daarin om die pyn van die realitiet te versoen met die gedig, ‘n medium wat so toeganklik is vir die pyn.

De Lange se Ikarus-gedig dra ‘n ander tema:

Erta Ale vulkaan, Ethiopië © Joel Santos

Ikarus Redux

Erta Ale, Ethiopië

Die helikopter met kameraman
& ander lede van die span
sweefhang bo die krater:
‘n gloeiende vurige pan
halfvol pruttende klip
wat ópklots teen die lip,
& geel rookpluime
wat uit skeure sis.

Dan stol die rotor & kantel –
die vliegmasjien stort neer
op die vloeiende vulkaanvloer.
Die staalblink naaldekoker
smelt weg sonder ‘n klank,
terug na sy elementale moer.

‘n Bekende en dramatiese ongeluk word hier verhaal. ‘n Span wetenskaplikes en ‘n kameraman hang oor ‘n vulkaan vir navorsing en insigte in hierdie natuurverskynsel, dié van ‘n vuurspuwende berg en die krater ná die uitbarsting. Wat hulle waarneem, is ‘n soort helse toneel: pruttende klip en sissende rookpluime. Die menslike tegnologiese vernuf maak dit vir hulle moontlik om van naby hierdie toneel van vuur en ondergrondse aktiwiteite waar te neem. Die sentrale woorde in die eerste strofe vorm ‘n fassinerende patroon: helikopter, krater, klip (lawa), vuur. Die mense in die gedig is die span wetenskaplikes in die verbygaan genoem, en die kameraman wat alles moet vaslê in prent, in fotobeeld. Die gegewens oor die vulkaanvloer oorheers hierdie strofe volkome. Krater dui op gat in die aarde, die binnekant van die aarde; klip is die vastigheid van die aarde teenoor sand; vuur is die oer-element wat verwoesting en ook suiwering voorstel. Die krater hef die vloer, die soliditeit van die aarde op. Die lawa wat soos die branders van die see opklots teen die lip van die krater en die rookpluime wat sis dui beweging in die aardse elemente aan. Aarde(klip), vuur en die beweging van die lawa, soos die see, dui op drie van die vier oer-elemente van die skepping. Die wind ontbreek, maar sal in die tweede strofe ondervang word. Die mense is op die kantlyn en verdwyn letterlik en figuurlik in die tweede strofe. Die helikopter is ‘n veilige hawe vir sy insittendes wat die wrede en primordiale aarde uit ‘n staalhouer betrag. Die klip is reeds gesmelt tot lawa en word beweeglik. Alles is in ‘n prekêre toestand, ook onsekerheid. Hierdie toneel uit die binnekant van die aarde is star, angswekkend en ver verwyder van die beskaafde wêreld en sy kennis. Dit is eintlik ‘n omgekeerde beeld van die paradys.

Die tweede strofe bring ‘n radikale ommekeer, ‘n volkome inversie, of jukstaposisie. Die sentrale woorde hier is stol, kantel, neerstort, naaldekoker. Hoofsaaklik werkwoorde wat enersyds dui op stilstand en andersyds op beweging, weliswaar vernietigende beweging. Al die wwe funksioneer negatief. Die rotor van die helikopter stol, en die vliegmasjien sort neer, in teenstelling met sy normale funksie om in die lug te vlieg of te hang. Die eerste reël van die strofe het ‘n toon van absolute onverbiddelikheid. Die sterk kontras tussen die vloeiende klip op die vulkaanvloer teenoor die neerstort van die gestolde helikopter, beklemtoon die tragedie van die toneel. In die sissende lawa smelt die staalstruktuur van die helikopter weg sonder enge geluid. Die mens en sy tegnologie word deel van sy elementale moer. Met die val van die helikopter word die vierde oer-element bygebring, die val word soos die beweging van wind. Die hele toneel word intens primordiaal. Die effekte van hierdie gedig word opgebou deur die vorming van paradigmas: elemente van verwoesting, elemente van teenstellings tussen die primordiale en die tegnologie. Die gedig kan dan op verskillende vlakke gelees word. Dit kan verwys na menslike hubris, na die onmag van die mens teenoor die gewelddadigheid van die natuur, dit kan ook dui op die weerloosheid en die nietigheid van die mens.

Daar is een faktor wat aan die gedig ‘n ander nuanse kan gee, en dit is die metafoor van die naaldekoker. Die gedig is reeds baie sterk sonder om die naaldekoker in die prentjie te bring. Maar die naaldekoker wat bo die water hang, maar dan skielik weer kantel en weg skiet, vergestalt die helikopter in die eerste plek. Binne die toneel van ‘n vulkaan en die magte van die gevaarlike natuur, is die helikopter maar klein, en binne dieselfde milieu is die naaldekoker totaal niks. Die naaldekoker is metafories die helikopter, maar waar die helikopter neerstorrt en smelt, is die naaldekoker steeds vry. Die naaldekoker bring ‘n element van gewoonheid in hierdie afgryslike toneel, ook ‘n element van skoonheid. Alhoewel ‘n klein en bra onbeduidende faktor in die geheel van die natuur, skep dit hier die kontras van woede teenoor sagtheid, selfs romantiek. Met hierdie ingreep in die vers, kom ook die diep gevoelde nietigheid van die mens binne die fokus van deernis. Die feitlik kliniese terme skep die ganse struktuur waarbinne die tragiese gebeurtenis feitelik en oënskynlik onbetrokke weergegee word. En dan word die gedig menslik, gevoelig en gevul met weemoed en ‘n diepe droefheid. Ook die jongman Icarus roep dieselfde emosies op. Te na aan die son, te na aan die skeppingskrag van die son, smelt sy mensgemaakte vlerke weg. Hy stort ook in ‘n primordiale diepte. Soos die helikopter deel word van die oer-elemente, so ook Icarus. Die metafoor bring die skeidingsvlakke in die gedig na vore. ‘n Uitstekende gedig, wat ook lyding en weerloosheid in die realiteit laat stol in ‘n vers.

Boerneef handskrif

4. Intertekstualiteit is op verskillende maniere spontaan deel van albei bundels. Soveel digters wandel deur die bundels. By Hambidge is daar ‘n konstante gesprek met die digters en skrywers van Suid-Amerika. Sentraal is die figuur van Neruda aan wie ‘n hele siklus gewy word. Dit is ‘n verruklike stel gedigte wat ‘n eenheid vorm tussen taal en teks, ongeag waar die taal figureer, heel interkontinentaal. By De Lange is dit veral Boerneef en Hennie Aucamp wat die gesprek binne die bundel stimuleer. By Hambidge, soos ook die voorblad aandui, is die “digterlike landskap” Suid-Amerika,veral Buenos Aires en Chili, ook die Andes wat ‘n simboolword van die digter en sy uitdagings. De Lange se landskap is sterk gerig op Afrika, meer spesifiek Suid-Afrika. Die aardsheid van Suid-Afrika is op sy beurt ‘n simbool van fundamentele lewe. Deur gesprekke met soveel gespreksgenote open albei bundels ‘n woordwêreld van dinamiese omvang.

As ‘n mens parodie nie net in die burleske konteks sien nie, maar as die eerste beginsel van alle poësie, is die intertekstuele gesprekbroodnodig om ‘n gedig se volle potensiaal te verreken. Dit open wye verwysingswêrelde, aansluitings en ‘n universele benadering tot gedig en mens, die twee sentrale beginels van poësie. Die burleske parodie ontbreek hoegenaamd nie, genadiglik so. Albei die digters se sin vir humor is moeilik te verberg. En die klassieke parodie van D. J. Opperman oor die twee honde wat saam wandel met die weduwee Viljee, kry in albei bundels ‘n heel ruim plekkie. Hambidge se teks heet “Met groot apologie: ‘n Dubbeldoor” en sluit heelwat jonger digters in, saam met van die oueres. Dit is ‘n uiters slim siening van die digter en die strikke waarin hy/sy so maklik val. Nie alleen parodieer die teks die werk van die digters en hulle mannerismes nie, maar ook hulle persoonlike gedrewenheid. Deurgaans is die humor die versagtende komponent, al klink die teks kras. Oor Johann de Lange lui dit:

Op ‘n Sondagmiddag so tevree
met my twee katte hooggeteel,
voel ek newelig en momenteel,
die weerlig van meneer Viljee.

De Lange is bekend vir sy twee katte met hulle hoë herkoms, en hy is meer gepla met die weerlig van wyle meneer Viljee. Hambidge beweeg weg van die weduwee met haar kolliehonde, en as Johann de Lange haar plek inneem, is hy gedagtig aan meneer Viljee. Goedige geskerts, maar deur hierdie inhoudelike inversie speel sy met die beheptheid van gender. In ‘n parodie word spot gou erns, en deur die bronteks van Opperman so ingrypend te verander, open sy ‘n diskoers oor gender en tradisie, ook poëtiese tradisie. Haar parodie op Antjie Krog weer, is meer gerig op die persoonlike as oor die poëtiese gewoontetjies:

Twee honde? Een weduwee?
Aggenee?
Gee een vir die armes
een vir Miesies Viljee
laat ons rykdom verdeel:
Een weduwee plus twee honde
is gewoon uit-byt-ing.

Duidelik ‘n spel op Krog se betrokkenheid by en uitsprake oor die politiek. Tog ook weer ‘n gesprek oor die letterkunde en die politieke dimensies. Hierdie patroon volg sy by verskeie ander digters soos Breyten Breytenbach, Wilma Stockenström en T.T. Cloete. By laasgenoemde speel sy weer met die tematiek van sy gedigte:

Die honde en die weduwee
in jukstaposisie
met die see

twee honde een weduwee
die hoek van my oog in presisie
‘n wiskundige boog.

Uiters tiperend van die digterlike denkwyse van Cloete. Hier is die persoonlike nie primêr nie, maar digterlike styl. Maar Hambidge korreleer hierdie twee uitgangspunte met gemak. Uiters geslaagd is die parodie op Marlene van Niekerk en haar gebruik van onbekende woorde, ook ou woorde, vir digterlike effek:

O plaas my op ‘n kaar
met twee stoetse, troue
kaniene diere
waar ek op my stontol
speel en die stratus
‘n stralekrans vorm
om my stootblok.

Trek die woordeboek nader en begin naslaan. Die boeiende aspek van hierdie vers is hoe goed Hambidge die tegniek van Van Niekerk begryp. Sy speel met die woord op so ‘n kwistige manier dat dit weer haar eie beheer oor die taal uitstekend demonstreer.

 By De Lange is daar ook ‘n weduwee Viljee-parodie, maar dit wyk geheel en al af van die meer tradisionele weergawes. Dit word nostalgiese sowel as spottende verse oor oor manlike seks by Graaff se Poel en oor die latente seksuele begeertes by die weduwee en haar drie kolliehonde.. Alhoewel die triptiek oor T T Cloete ‘n weemoedige ondertoon het, het dit ook parodiërende elemente. ‘n Sterk self-parodiërende vers is deel II van die “Twee vryverse vir Joan op 60”. Die titel van die afdeling is “Men of a certain age” en die digter is die eintlike karakter in die gedig. Hy het die “jare van die eerste dood gehaal” waar jong moffies en kelners jou nie meer raaksien nie. Sy ervaring op hierdie ouderdom van die middeljarigheid waar geil gedrag by klub of kroegnie langer behoorlik is nie, dui op ‘n beperkingvan die uitleef van jeugdige vreugdes. Dit is die agtergrond waarbinne die self-parodie ontwikkel word.

Wat gebeur as hy wel uitgaan na ‘n braai? In sy korset van manlike middeljarigheid gaan hy gestewel in swart geklee – ‘n toegewing aan twee wêrelde, twee “geslagte”. Die drif en die begeerte is nog dieselfde, maar die jare van sy leeftyd dring aan op decorum. Soos dit betaam, loop hy die ronde van bekendstel en groet, en word hy voorgestel as Johann-die-digter, en plegtig skud hy hande. As Johann-die-digter-van-die-erotiek word hy steeds begeer, en bring sy blote teenwoordigheid seks in die braaigangers se gemoedere. Maar hierdie Johann wil eerder met twee ander groot naamgenote apart wees. Soos Johann(es) die Doper wil hy tegelyk afstand hê, maar in sy digkuns die woorde van die vlees voortbring. Soos hierdie Bybelse figuur wil hy in die woestyn van eensaamheid en wilde drome verkeer. Hy begeer nie die ruwe seksuele blootstelling aan Salome nie, maar die eensaamheid en gesprekskrag van die woord. Soos Johann(es) op Patmos soek hy die volslae vereenselwiging met die eensaamheid op die klipperige eiland Patmos. Daar kan hy sy digterlike en profetiese woord ontwikkel en aan ‘n diep verlange woorde gee. Nader tuis wil jy Johann de Lange wees wat porno's kyk, hy wil nie afgeneem word in ‘n rok en die verwyfde partytjiegangers vermaak nie. Hy is tevrede daarmee dat talle seuns sy boeke gelees het agter ‘n toe deur, en gretig was om weg te kom van die manlike (?) aktiwiteit van rugbyspeel vir die lyflike vreugdes. Heel middeljarig, maar in ‘n skielike oomblik luister hy verstom hoe losbandig vandag se jongmense is. Die skelm plesiertjies en verkenning was tog eintlik onskuldig, eintlik verkenning. By sulke geleenthede dink hy aan die dood wat die grond oopskeur en lees en vlees van mekaar skei. As hy te vroeg vertrek, wonder hy of daar die verwagting was by van die gaste van ‘n blow job agter ‘n struik. Hy breek met die wêreld van vleeslike genot en verwagting. Hy ry terug , die wind het gaan lê, die kole smeul tot as. Onder die lamppale wonder hy hoekom hy nog skryf!

Die vers is nie net parodie op die self nie, dit word parodie wat vrae stel: waarom en wat is die seksuele drang, waarom dit vaslê in taal en gedig, waarom dit toelaat om die mens gevange te hou? Die middeljarige digter tussen die jagse en seksbehepte jongmense in hulle sinlose en ewig-herhalende spel word hok geslaan deur die groter magte van tyd, permanensie en geestelike kalmte. Dit is dan tog nie net selfparodie nie, maar parodie op die mens, feitlik lagwekkend, vasgevang in sy intuïtiewe drange wat hom vashou wanneer die ruim gees die liggaam wil ontsnap.

N. P. van Wyk Louw

5. Hierdie twee tydgenootlike bundels regverdig ‘n hele verhandeling daaroor. ‘n Artikel, soos ‘n resensie, wys slegs die belangrikste tendense uit. Indeks en ‘n Hunkering se grein speel in op mekaar, maar beklemtoon ook ruim verskille in benadering, literêre metodiek en in tema. Saam egter word hulle feitlik ‘n tweeluik en opgawe van die poësie van ons tyd, van 2016. Twee denklyne wat dwarsdeur albei loop. is die elegiese en die metafisiese. Hoe aards gerig poësie ook al is, ‘n goeie teks en bundel kan nie hierdie twee tendense nalaat nie. In ‘n sekere sin maak dit, saam met al wat taal verteenwoordig, die gedig, die poësie. Daar is pragtige elegiese verse (lykdigte in Hambidge se bekende formulering) in Indeks, vergelyk onder meer “Inge Lotz”, “Charles Fryer”, “Hennie Aucamp” en die verruklike “In teen die groot vergeet: T.T.Coete”. Binne hierdie subkategorie het Hambidge beswaarlik ' mededinger in die Afrikaanse digkuns.

Die metafisika, dit wat as't ware “loop in jou spoor soos ‘n goeie hond”, word voortreflik ontgin deur Hambidge, veral sedert die bundel Ewebeeld. Die metafisika, soos die woord self aandui, gaan oor die fisika, die meetbare en bewysbare. Dit word taal, verder as wat logiese taal verwagting aandui. Dit benut betekenis ruimer as wat tradisionele betekenis veronderstel. Streng gesproke is die eerste vlak van betekenis dit wat die woordeboek as definisie gee. Eintlik is dit bedrieglik, want woordeboeke verduidelik die voorwerp waarna die woord verwys, die funksie en die vorm van ‘n woord, nie die ware betekenis nie. Betekenis is en bly abstrak en tot op ‘n punt is betekenis die metafisika van die woord. Van Wyk Louw in sy Metafisiese Voorspele in Nuwe Verse gee hieraan gestalte:

My oë tas die wêreld af
en hou ‘n wondere glans gevang
in so ‘n web van dink en wens
dat Wese na die Skyn verlang:

die meeu vlieg soos ‘n laaste woord;
die wit seewater soos dit wieg
is sonder woord of antwoord skoon,
en alle Diepte moet bedrieg.

Die ware skoonheid, die wese van iets, kan nie presies vasgevang word in ‘n woord nie, ook nie in ‘n antwoord, weerwoord, nie. As my oë die wêreld aftas, word sintuie van voel en sien tot sintese gebring. ‘n Klein seetoneel word beeld van die kosmiese woordwêreld. Betekenis is die abstrakte en immer ontwykende skimwêreld van die woord. Die woord kan uit sy bekende lemma geneem word en ‘n nuwe betekenis oproep wat geensins hoef te korreleer met die beperkte rol van ‘n woordeboek nie. Dan word dit metafisika, metawoord, ook metafoor. Een van die sterkste en mees in- en aangrypende gedigte in Indeks is:

 Metafisiese indeks

Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het? Gee te kenne as jy insig het.
Job 38:4

O goedheid Gods hier nooit volprese,
my eerste mantra roepend, ‘n hert in dorre streke,
versies soos braille in ‘n blou onderstreepteBybel:
ek het jou by die naam geroep, jy's myne ..

In Jerusalem hoor ek: aanbid die Seun van God.

Verloor my geloof tog later.
Sartre en Camus, die Eksistensialisme,
“God is dood”, “die hel is ander mense”,
geleer as jong student in die filosofie.

In Pamukkale weet ek wees eerder koud as lou.

Net soms, net soms laat Hy van hom hoor:
skryf met ‘n penstreep teen die lug oraloor,
stuur ‘n teleks per aardbewing (woedend en koud)
of praat woordeloos in ‘n magiese oerwoud.

In Manaus verkies ek God bó niks.

Van Wes na Oos alleen vertrek:
Die Bybel, Ateïsme, Boeddhisme verken,
Die krag van meditasie of stil gebed
nie langer deur my ontken.

In Nepal word ek eindelik één met God.

In Jerusalem, Pamukkale, Manaus en Nepal
verbind ek die onsigbare,
daardie Iets, daardie Onverwoordbare krag, genaamd die Metafisika. (bl 79)

Die gedig is ‘n indeks, in hierdie geval van die belewenisse van religieuse ervarings of stadiums. Die hele aard van geloof is abstrak, want die sienlike lei tot wete, die onsienlike tot geloof. Die tema is dadelik gesitueer in die domein van die metafisiese. Bekende Liedere en Bybeltekste open die reis in hierdie metafisiese domein. Soos kinders dikwels geleer word in die Sondagskool, moet sekere tekste ondersreep word. Die bekende aanhaling uit Jeremia dat God jou voorgeboortelik ken, sluit die indeks van kinderlike geloofservaring. ‘n Meer gevorderde geloofsinsig word gekoppel aan Jerusalem. Dit is waar Jesus, die Seun van God, geleef en gekruisig is. Van Sondagskool tot hierdie diepste openbaring in die Bybel verteenwoordig ‘n sprong tussen kinderlike naïwiteit tot volwasse denke. Die reis in die metafisika het tot ‘n geloofseindpunt gekom. Dit sê soveel van die puik struktuur van hierdie gedig dat die geetelike reis parallel loop met geografiese reis. Reis word dus hier ‘n simbool wat twee denklynde en -ervarings verbind.

Studie in die filosofie, ‘n dissipline van denke en die ordening van denke, lê die klem op ‘n logiese benadering wat, alhoewel self abstrak, ander wette volg. Daarvolgens is God afwesig en is Bybelse paradigmas soos hemel en hel nie ruimtelik nie, maar is dit deel van menslike verhoudings en ervarings met mense. Die filosofie kan hierdie soort digotomieë nie onderdak bring nie. Filosofie betwyfel, dit vestig nie waarhede nie. Ironies so, want filosofie is die opgaaf van individue se sienings en denke. Daarteenoor is die metafisika die soeke na die waarheid van die woord en probeer dit aan klanke betekenis gee. ‘n Gedig is ook eerstens klank, en met fyn klankspel en subtiele ritme skep Hambidge juis die stramien van betekenis. In ‘n nuwe ruimte, Pamukkale, weet sy dat die metafisika eerder kil en afstandig is as lou, as twyfelagtig en onseker. Die verhouding met God, die groot metafisikus en semantikus, word al hoe meer afstandig, heeltemal periferaal en feitlik nie-bestaande. Maar tog, soms laat Hy van Hom hoor. ‘n Slim skuif in die teks is dat hierdie strofe in kursief gedruk is. God se teenwoordigheid is nie “in the face” nie, dit is verskans. Toe Hy aan Moses en ook aan Elia verskyn het, was Hy slegs ‘n skim. Hy skryf oraloor in die lug, Hy laat sy woede geld in natuurgeweld of Hy praat woordeloos in ‘n oerwoud, in die stilte en sagte geruis van bome, ‘n primordiale ruimte waar tyd ‘n illusie is.

In die soektog na die metafisika bring Manaus ‘n nuwe wending: bo niks, bo nihilisme, is God te verkies. Niks is nie voelbaar, hoorbaar of kenbaar nie. Dit is on- en ontmenslik. God laat Hom wel hoor, en voel. Die fisieke reis het gevorder van Oos na Wes, vanwaar die son opkom tot waar hy ondergaan, vanwaar die nag eindig en die dag begin, tot waar die dag eindig en die nag begin – ‘n reis en soektog binne ruimtes en tye. In soveel vorme het die metafisika homself aangemeld: die Bybel, verslag van God en sy dade en denke; die Ateïsme, die ontkenning van metafisiese belewing; die Bhoeddisme, ‘n metafisika binnr ‘n mitiese ervaring en ritueel. Deur hierdie reis van die gees het meditasie en gbed nie meer ontkenningswaarde nie, die realiteit van die abstrakte en onsienlike het sy beslag gekry. En in Nepal word die ek één met God. Die reis het sy bestemming bereik. Soos in die pragtige Cussons-vers waar sy op soek was na die huis van die timmerman (“Klein ballade”) en omdraai voor sy klop omdat hy dalk tuis is, draai sy tog terug en vind verstom dat sy voor haar eie deur gekom het. Toe ken sy die huis van die timmerman en Maria, die Onbevlekte. Ook die spreker in die Hambidge-vers leer om die Onsigbare te verbind met daardie Iets, die Onverwoordbare krag, die Metafisika – in Jerusalem, Pamukkale, Manaus en Nepal.

Die elegiese vers by De Lange is net so gevoelig soos dié van Hambidge, maar vormlik is daar heelwat verskille. Pragtige in memoriam-verse is een oor Michael jackson, oor T. T. Cloete, oor Adam Small en veral oor Hennie Aucamp. Hier is die metafisika nie in die middelpunt nie, maar die waarde aard van die elegie. Die groot, eintlik grootse vers oor Nelson Mandela is tegelyk nabetragting en elegie, en ‘n weeklag oor die onmenslikheid van politieke bedelings. Aangrypend is die vers oor die verworde mens Michael Jackson:


Michael Jackson (1958-2009)

Sienderoë metaforiseer die jongman tot chimera,
geneties ‘n spookwit gestalte, ‘n man-vrou,
‘n Mowtown Teiresias.

Agter slot en grendel in Neverland, lewe hy flikker-
end op TV-skerms, persona gereduseer tot ‘n formule
van gebare & passies, ‘n ontliggaamde silwer handskoen.

Die ster het verskyn & met ‘n kreun, ‘n keelsnik,
‘n kopknik, & ‘n gulpgryp
ge-moonwalk & astraal geskyn,

hoed laag oor die oë getol
& soos ‘n towernaar in ‘n rookwolk gehul
in die duister om die ligkol verdwyn. (bl 88)

Jackson se tragiese en vreemde lewensverhaal is ‘n beeld van hubris sowel as patos. Die aantreklike popkunstenaar het, onder meer deur plastiese chirurgie, van jeugdige skoonheid ontwikkel tot “chimera”, hier duidelik in die betekenis van amper skrikwekkend. Hy het ‘n soort spookgestalte geword, en in sy hermafroditiese voorkoms ‘n Amerikaans Teiresias, die blinde god wat sowel manlik as vroulik was. Hy ontwikkel tot metafoor van en vir homself, trek hom terug in sy landgoed en leef slegs nog op TV-skerms. Ook word hy dus letterlik ‘n parodie van homself.Van die histeriese bewondering van popgeesdriftiges verloop hy tot ‘n blote gestalte van gebare en passies. Michael Jackson bestaan nie meer nie, net sy verwronge beeld. Op die verhoog was hy reeds getipeer en geyk, maar sy bewegings en wulpsheid het die skare op hol gehad. Geleidelik word hy astraal, deursigtig, nie meer mens nie, maar gestalte. Sy menswees verdwyn, soos ‘n towernaar verdwyn hy uit die kigkol – die ligkol op die verhoog, ook die ligkol van lewe. Die elegiese toon van hierdie vers word verkry in die teenstelling van jeugdige skoonheid tot verwronge skimgestalte. Dit verkry ‘n tragiese inhoud deur die aftakeling en roem wat tot die patetiese lei. Onderliggend is die beklangrikste aspek van die elegie hier geleë in die deernis met patos. Kundige opbou van beelde verkry die resultaat, asook die vervagende beelde van ‘n persona.

Die aangrypende tweedelige gedig “Twee blaaie geskeur uit Groot Verseboek” (bl 108) is ‘n pragtige elegie oor Hennie Aucamp. Die eerste deel is ‘n gevoelige parodie op Boerneef se “Die berggans het ‘n veer laat val”, die tweede deel ‘n ewe mooi parodie op V W Louw se “Jy't weggegaan en bewoon ‘n silwer herberg in die sneeu”. In die geheel word die vers nie net ‘n elegie vir Aucamp nie, maar ook vir Louw en Boerneef.

Berggans

1

Die trilpoplier het ‘n blaar laat val
van die hoogste tak bo jou balkon,
die wysters van die dag het stil gaan staan.
Ek hou vir my dié trilpoplier se blaar,
mits dese wil ek vir jou sê
hoe hoog & laag my liefde vir jou lê.

Dié Boerneefteks het al feitlik legendariese status in Arikaans verkry. Die boom en sy blaar verkry metaforiese betekenis as beeld van mens en gedig. Die woonstelbalkon van Aucamp het nie die romantiek van die hoogste berg by Boerneef nie, maar dit verskuif die teks van die romantiese tot by die wrede realiteit van die dood. Die blaar word nie gestuur nie, want daar is nie meer iemand om die blaar na te stuur nie. Die wysters het gaan staan, die dood beëindig die tyd, die beweging van lewe is gestuit. Met die direkte aanhaling van die Boerneef-reël “mits dese wil ek vir jou së”, word verlede en hede verbind, Boerneef en Aucamp in hulle bestaan in ‘n ander dimensie, en die digter geskei van en vreemd teenoor hierdie onbekende domein. Die blaar is herinnering as simbool dat soos jaargetye wissel, so wissel ook lewe en dood. Anders as die berggans het die boom, veral die populier, die simboolwaarde van dood en herlewing. By De Lange lê die liefde nie diep nie, maar hoog en laag. Hoog vanweë die agting van die lewe en werk van ‘n skrywer, laag vaweë die diepte van droefheid.

11

Jy't weggedros & jy plak nou
in die murasie op Rust-mijn-ziel,
die vensters gaap nog elke nag
oor die leë werf & in die niet

die werf is tolbos en sand & wind
& peperboom & sand
& wintermiddags voer niemand meer die woord
woorde is maar sterre in ‘n swart wind verskiet.

Die elegiese ritme van die N. P. van Wyk Louw-vers waarvan hierdie gedig ‘n parodie is, word behou. Die Louw-teks is ‘n vers van intense verlies, liefdesverlies. Die Louw-vers skep ‘n romantiese toneel:

Jy't weggegaan en jy bewoon
‘n silwer herberg in die sneeu
Jou vensters kyk nog elke nag
met drie blink oë na die plein

Hier ‘n beeld van verlange en eensaamheid en romantisering. Die vensters wat blink in die lig vertel enersyds van leegheid, andersyds van verwagting. Die De Lange-vers toon geen romantiek en geen toekomsverwagting nie. Die gestorwene woon in geen silwer herberg nie,maar in ‘n murasie, ‘n gebou wat ook reeds gesterf het. Die murasie staan op die familieplaas van Hennie Aucamp wat bekend geword het deur die skrywer se kortverhale. Rust-mijn-ziel, die naam van die plaas het ‘n soort grafskrif-konnotasie. Dit word ‘n doodswens en ‘n grafskrif. Die vensters van die murasie blink nie, maar is leë gate. Die Europese plein word vervang met die ruheid van ‘n plaaswerf in Suid-Afrika. In die uitgestrektheid van die Karoo strek hierdie werf tot in die niet. Die verlange en liefdesweemoed by Louw word hier ‘n feitlik brutale ruheid van die doodswerf. Die hele eerste strofe spreek van weemoed en ingrypende hartseer, byna verset, oor die onherroeplikheid van die dood.

In die klankryke Louw-vers klink dit so:

die plein is boom en wind en boom
en wind en wind
en wintermiddag voer daar iemand
die meeue krummels teen die wind 

Op Rust-mijn-ziel is

 die werf tolbos en sand & wind
& peperboom & sand

Die harde natuurelemente van die Karoo speel hier in. Hier is ook wind, maar die boom maak plek vir die tolbos, ‘n kleurryke struikie as hy blom, maar daarna ‘n bondel verdroogdheid wat deur die wind willoos rondgewaai word. Dit is metafoor vir troosteloosheid en verdriet. Die wind in die Karoo is dwarrelwinde en troostelose winde. In die Karoo is die wind droefgeestig. Die peperboom is ‘n standaarboom in die Karoo, feitlik ‘n beeld van die groeikrag te midde van droogte, ‘n taai boom wat wind en die meedoënlose natuurelemente kan weerstaan. Hierdie beeld van wilde en volhardende natuur is beeld van fundamentele lewe. Ook die dood is fundamenteel. Binne hierdie felle natuur en sy werf is daar nou niemand meer wat die woord aan die gedig en verhaal kan voer nie. Dit is ‘n doodswerf. Woorde verskiet maar soos sterre in die wind; soos die verskiete ster leef sy glans nog soveel ligjare voort. In die geheel ‘n skrynende vers van droefheid, ook ‘n hoogs oorspronlike gekonstrueerde parodie in elegiese konteks en vorm.

Indeks en Hunkering is twee uitstekende nuwe bundels, en ‘n besliste verryking van die (moderne) Afrikaanse digkuns. Dit is egter ‘n plek werd in die groter kanon as ‘n verryking van die Afrikaanse poësie. Dit is volwasse bundels en ‘n belangrike toevoeging tot die leser se boekrak en lewe, maar ook twee bundels wat ‘n volkome sintese skep tussen die gedig en die weerloosheid en patos van die mens. Vir Afrikaans is dit ‘n beduidende bydrae.


© Henning Snyman

Studenteopstande en Lacan

$
0
0

Met verlede jaar se studenteopstande het ek verwys na Jacques Lacan. 'n Paar grimmige respondente op Facebook het gevra: wat het Lacan te make met studenteopstande?

Verder is dit ook skokkend dat een van die respondente 'n dosent in Sielkunde is.

Lacan se siening van die Paryse opstande in 1968 is op verskillende maniere tersaaklik vir wat ons nou beleef in Suid-Afrika. Dit was toe én nou 'n tyd "wat die klippe geloop het" en volgens Lacan was die afbreek van hiërargiese strukture beduidend vir die hele poststrukturalistiese beweging in die sosiale wetenskappe en literatuurteorie.

Literatuurteorie verklap altyd 'n tydsgees. Kyk onder andere na die aantal distopiese romans wat tans in Afrikaans gepubliseer word, soos Lien Botha se Wonderboom.

John Searle se seminale studie The Campus War - A sympathetic Look at the University in Agony (Penguin, 1972) verraai dieselfde simptome as wat ons tans beleef. En het Lacan nie iewers opgemerk dat 'n mens 'n simptoom net in die toekoms kan beleef nie?

Beduidend is dit om te vermeld dat Lacan tydens die 1968-opstande, wat sowel studente as werkers opgesweep het, vier diskoerse geanaliseer het, te wete die diskoers van die meester; die diskoers van histerie; die Universiteit en die analis.

Lacan het ook ontmoetings gehad met Daniel Cohn-Bendit, net soos ons owerhede in gesprek tree met studente. Werklike rewolusies begin met idees, maar spoel altyd oor na die werklikheid. In Frankryk het die étudiants en travailleurs saamgesnoer. Net soos tans waar die werkers bondgenote van die studente word, en andersom.

Lacan se ondersteuning van die studenteopstande het gelei tot skerp reaksie. Sy beroemde seminare is gekanselleer en hy moes dit na ander ruimtes verskuif om sy studente en gespreksgenote (soos Julia Kristeva en Phillipe Sollers) te akkommodeer. Dit is verskuif van die Geesteswetenskappe na die Regsfakulteit by die Place de Panthéon.

Tans word klasse opgeskort. Sommige dosente sien studente in ander ruimtes en probeer met die werklading voortgaan. Die meeste dosente is egter despondent en onseker oor waarheen alles sal lei. #Fees must fallis meer as 'n universiteitsprobleem, ofskoon dit alles afspeel op kampusse waar lesings verlede week onderbreek is in die A.C. Jordan-gebou (Arts Block) met loeiende brandsirenes.

Ironies genoeg het my lesing die oggend gehandel oor Louw se "Klipwerk" en die soeke na 'n leesstrategie vir hierdie volksverse.

Die belofte dat daar geen verhoging van klasgelde sou wees nie, is ook deur die meeste studente gesien as 'n belofte daar geenklasgelde betaal gaan word nie.

Politici maak onverantwoordelike stellings soos sluit die universiteite vir ses maande, vergetend dat universiteite alleen subsidies ontvang op die getalle wat in 'n jaar voltooi is. Die minister van onderwys het die warm patat teruggegooi na universiteite wat alreeds sukkel om die boeke te laat klop met die sogenaamde "austerity measures" en die aanbod van pakkette aan diegene wat bereid is om vroeg af te tree.

Volgens die jongste ranglyste van universiteite staan die UK (UCT) op 148 (wat beteken ons het met 28 plekke gesak) en die US is in die groep 401-500 teenoor die 301-350. Wits het wel gestyg na 182. Ons weet hierdie ranglyste is nie in klip gebeitel nie, maar dit is wel só dat die persepsie van buite nie goed lyk vir ons universiteite nie.

Kollegas is ook genoop om 'n of/of-posisie in te neem en kollegiale verhoudings is tans stroef. Die owerhede sit vasgevang tussen duiwel en die diep blou see. As hulle enigsins verwys na die polisie of sekuriteitsbeamptes van buite die universiteit, voel sekere dosente dat dit die struggle-jare en traumas van daardie tyd "trigger".

Wat gemaak met 'n dreigement dat daar alleen geluister sal word as UCT brand? Of 'n biblioteek in vlamme opgaan?

Kunswerke is reeds verlede jaar "toegemaak", omdat sekere mense dit as aanstootlik en kolonisties ervaar het. Diane Victor en Breyten Breytenbach se kunswerke is hierby ingesleep, ofskoon dit meesterdiskoerse dekonstrueer en bevraagteken.

Be realistic, demand the impossible, was in 1968 met spuitverf op brûe aangebring. En tans is die eise van geen klasgelde eweneens 'n onrealistiese eis. De Gaulle is net met Zuma vervang.

Watter name vervang Rudi Dutschke, Alain Krivine, Jacques Sauvageot en Daniel Cohn-Bendit?

Wanneer word 'n studenteopstand onaanvaarbaar in die plundering van eiendom en die ontkenning van mede-studente se reg om wel klas te loop en biblioteke te besoek?

Miskien is dit gewens om terug te keer na 'n meesterdiskoers en om diegene wat hulself bevind in histerie daarop attent te maak dat ons soos die toekoms van hierdie land onberekenbare skade berokken met hierdie optrede.

Laat ons eerder buite blokkies van ras en bevoorregting (of gewaande bevoorregting) dink aan 'n manier om saam 'n oplossing te vind en opofferings te maak.

Slagspreuke gaan ons nêrens bring nie. Rhodes is verwyder. Die universiteit moet gedekoloniseer word.

Laat ons eerder nadink oor die vier diskoerse en hoe dit saamhang.

 © Joan Hambidge


Barbara/Marié en Balzac/Barthes: 'n Nota

$
0
0
I
Barbara Johnson se seminale essay, "The critical difference: Balzac's Sarrasine and Barthes's S/Z"  in Robert Young (red.) se Untying the text - a post-structuralist reader het in 1981 by Routledge & Kegan verskyn. Hierin lees sy die beroemde verhaal van Balzac "Sarrasine" as 'n opposisie tussen BartheS en BalZac.

Roland Barthes se S/Z het in 1970 (1974) verskyn by Hill and Wang (New York) en is vertaal deur Richard Miller. Hierin gebruik hy vyf kodes om te verhaal te lees:

Die hermeneutiese kode; proaieritiese kode of empiriese stem; die semiese kode of die stem van die persoon; die simboliese kode en die sogenaamde referensiële kode of die stem van die wetenskap.

Sarrasine(1830) is die verhaal van die castrato, Zambinella. Sarrasine is 'n beeldhouer (en student van Bouchardon) wat 'n kompetisie wen, Rome toe gaan en een aand by 'n teateropvoering Zambinella sien. Hy raak verlief op haar, maak 'n kleibeeld van sy geliefde en een aand by 'n party, probeer hy haar verlei. Dit gebeur egter nie en die verteller suggereer 'n sekere element van gevaar wanneer Zambinella hom afwys. 

Sarrasine beraam 'n plan om haar te ontvoer van 'n party by die Franse Ambassade. La Zambinella is aangetrek soos 'n man en die kardinaal, haar beskermheer, bely teenoor Sarrasine dat sy eintlik 'n castrato is. Sarrasine glo hom nie en neem haar na sy ateljee waar sy erken dat sy wél 'n castrato is. Hy is so ontsteld dat hy haar wil doodmaak, maar die kardinaal se volgelinge keer dit en maak Sarrasine dood.

Die verhaal word egter vertel vanuit 'n agterna-perspektief deur 'n verteller by 'n bal van Monsieur de Lanty, waar daar 'n onbekende man aanwesig is. Hy sit langs die verteller se gas, ene Beatrix Rochefide (die toehoorder) van die vertelling. Die verteller bely dat hy die volgende aand sal vertel wie die persoon is. Die ou man is Zambinella en die verhaal van die castrato ontstel Mme de Rochefide.

Dit is 'n raamvertelling oftewel 'n verhaal-binne-'n-verhaal. My opsomming is kursories; daar is ook ander belangrike karakters wat die storie dra, soos die beeldskone Marianina en haar broer Filippo.

Die verhaal werk met opposisies tussen manlik/vroulik; realisme/fantasie; Italië/Frankryk; verteller/toehoorder.

Barthes breek die verhaal op in lexias en gebruik die vyf genoemde kodes om die teks oop te maak. As operakenner is die castrato en dus kastrasie vir hom die sentrale punt van die teks.



II
Marié Heese se Maestro het sopas verskyn by Human & Rousseau. Dit is 'n komplekse verhaal oor die lewe van die beroemde beeldhouer Gian Lorenzo Bernini in die vorm van 'n Bildungsroman. Om hierdie roman ten volle te begryp - dit speel immers in die sewentiende eeu af - word die leser eweneens met verskillende kodes gekonfronteer.

Daar is besinnings oor die kosmologie; die beeldhoukuns (en hoe dit in daardie tyd bedryf is); Petrarca, die liefdesdigter gebore in 1304, is hier neffens godsdiens, oorlog, die liefde (en straf wanneer daar buite-egtelike verhoudings is); die Spirituele Oefeninge van sint Ignatius van Loyola; die rol van die pous; die funksie van die castrato; Galileo Galilei; die impak van Michelangelo en hoe Bernini se rol in sy tyd uitgespeel is.

Die Barokkuns is opgevolg deur die Neo-Klassisisme en Bernini word in hierdie roman herwaardeer, net soos die verteller in Sarrasine lig werp op die lot van die castrato. Heese se roman gebruik die referensiële kodes (wat die geskiedenis getrou weergee), maar sy gebruik ook fantasie om haar teks verder uit te bou.

Dit is 'n uitstekende roman wat getuig van enorme navorsing, maar dit word nooit 'n belemmering vir die speurende leser nie.

In beide tekste is die semiese kode (die stem van die verteller) van belang. By Balzac is dit die verteller wat alles "raam"; by Heese 'n ouktoriale verteller wat manipuleer, en in 'n nawoord bely waar sy verander of ingetree het.

© Joan Hambidge


Marilyn Monroe 90: Huldeblyk

$
0
0



What does she allow us to see and not to see? Monroe herself knew the difference between seeing and looking.
‘Men do not see me,’ she said, ‘they just lay their eyes on me.’ — Marilyn Monroe


I

Marilyn Monroe sou vajaar 90 jaar oud geword het. Die pers onthul foto’s, bekend en onbekend, om hierdie ikoon te vereer. (MarilynMonroe’s 90th birthday sees rare photos released as tribute | Daily Mail Online. Besoek 1 Oktober 2016)

Die figuur Marilyn Monroe word binne die Afrikaanse digkuns deur velerlei digters beskryf: T.T. Cloete, Peter Louw, Lina Spies, Tom Gouws, Lucas Malan, Joan Hambidge, en Johann de Lange. De Lange skryf ook in sy blog (Kaapse paragrawe/Marilyn Monroe: met ‘n omweg kan bysake die aandagtrek op hoofsake. Besoek 1 Oktober 2016) oor die verskillende Monroe-gedigte in Afrikaans.

Dit is bekend - volgens die psigoanalis Jacqueline Rose — dat sy dit verpes het om die rol van die dom blondine te speel. Enige gek, het sy beweer, kan tog sien Tony Curtis en Jack Lemmon is twee mans geklee in vroueklere en nou moet sy saamspeel asof sy dit nie weet nie! (“A rumbling of things unknown” deurJacqueline Rose. Besoek 1 Oktober 2010).

II

Marilyn Monroe

‘Men do not see me,’ she said, ‘they just lay their eyes on me.’

Marilyn Monroe
speel haar dood vooruit
met elke afbeelding,
foto of skinderrubriek.
In Chicago staan sy groter
as lewensgroot
in sement, op heterdaad betrap
met ‘n wapperende rok
en opgeswelde mond.
Daar sal nooit weer iemand soos sy
wees nie, die arme weeskind
met haar moeder in ‘n malhuis,
flap die pers uit in oneindige aflewerings.
Op soek na liefde stal sy haarself uit
vir die betroubare minnaar, die kamera.
Kliek-kliek kom sy glo tot lewe.
Altyd lesend aan Dostojefski
of geselsend oor ‘n nuwe boek
soos Sister Carrie wat sy sopas begin het.
Wrokkig oor die rol van die dom blondine
aan haar toegedig, word sy vir digters
‘n voleindige plesier in die gluipe
van die woord-en-wonder, terugspoelend.
Van dit alles wis sy presies
die semantiese verskille
tussen kyk, bekyk én terugstaar.
Toe sy geroskam word oor ‘n naakfoto korswel
sy: “It’s not true I had nothing on, I had the radio on”.
Afgemete wag sy vir die sluiter
toe die dood
haar soos ‘n kwinkslag
tref, bloot én oop.

(Indeks. Human & Rousseau, 2016)

III

Some like it hot, met Tony Curtis, Marilyn Monroe en Jack Lemmon

Daar is reeds soveel geskryf oor haar filmrolle, onder andere in Some like it Hot (1959) wat ‘n allergunsteling bly oor gender en crossing dressing. Die 1953-rolprent Gentlemen Prefer Blondes, gebaseer op Anita Loos se gelyknamige roman, met die sub-titel: The Intimate Diary of a Professional lady (1925). Hierdie roman, word daar vertel, het indertyd T. S. Eliot uitbundig laat lag toe hy dit as uitgewer gelees het vir die eerste keer. (Loos se opvolgroman heet dan ook: But Gentlemen Marry Brunettes).

Gentlemen Prefer Blondes is ‘n komedie en musiekblyspel.

Ek het weer na die aanskoulike, speelse film gekyk op DVD. Dit vertel die verhaal van twee Amerikaanse show girls, Lorelei Lee (Monroe) en Dorothy Shaw (Jane Russell).

Blond en brunet. Beeldskoon en beste vriendinne. Twee opposisies in die plot, dus. Eersgenoemde is lief vir diamante; die ander hou van fórsgeboude manne. Lorelei (ag hoor die simboliese, mitiese naam) is verloof aan die Gus Esmond, ‘n regte Japie, wat enigiets sal doen sy geliefde ontwille. Die troue sal plaasvind in Frankryk en hierom dan die skeepsreis waar daar ‘n jagse span Olimpiese atlete aan boord is. Voilà. The scene is set ...

Lolerei se onkunde oor Europa word uitgestal. Sy is die dom blondine.

Lorelei kry ‘n kredietbrief van haar verloofde, Esmond, om in Frankryk te kan rinkink sonder hom, want Pappa dink sy is sleg vir sy seun. Hy sal haar later daar ontmoet. Maar Papa het ‘n privaatspeurder, Ernie Malone (Elliot Reid), gehuur om agter die kap van die (ou) byl te kom. Lolerei word gewaarsku om haarself te gedra, anders is die huwelik verby. Esmond daarenteen hoef en gaan hom nie te gedra nie, blyk dit uit ‘n klein vinjet. ‘n Subtiele genderanalise van die tyd: vrouens moet in hul spoor trap; mans mag maak wat hulle wil.

Die film en boek intimeer egter dat showgirls alreeds vroue van losse sedes is, maar doen dit met humor.

Wending?

Die speurder raak verlief op Dorothy, nie op Lorelei nie. Dorothy het ‘n enorme libido en dit word dramaties vergestalt deur haar flankeerdery met die Olimpiese span wat allerlei toertjies uithaal. Die moderne kyker sien ook ‘n gay-spanning: gestel Dorothy was ‘n gay-man ... (Of is dit die regisseur wat hier intree?)

Sir Piggy Beekman (Charles Coburn) raak dol verlief op Lorelei en hy is die eienaar van ‘n diamantmyn. Lorelei flirteer met die Oubaas tot irritasie van sy vrou (Norma Varden).

Die Sugar Daddy-motief versus die openlike hoer word speels hanteer. Lolerei nooi die Oubaas na haar kabine (met die ronde vensters waaroor sy so verbaas was!). Hy vertel haar van sy reise na Afrika en demonstreer hoe ‘n luislang ‘n bok opvreet. (Lagwekkende en skreeusnaakse simboliek!)

Sy sal inderdaad soos ‘n bok doodgedruk word.

Die speurder neem steelfoto’s van die “oortreding”.

Dorothy waarsku vir Lolerei (o haar reputasie!) en hulle maak Malone dronk en vind die foto’s in sy broeksak.

Die foto’s word aan die oubaas teruggegee en Lolerei behoef sy vrou se tiara vir hierdie vonds.

Malone was egter slimmer as hulle. Daar was ‘n meeluisterapparaat wat bewys dat Lolerei net agter geld aan is!

Leuens, bedrog, spanning. Dorothy bely sy is verlief op die speurder (en dus die vyand).

Met Lolerei wat volhou met haar mantra: waarom trou met ‘n arm man as jy ‘n ryk man kan kry?

Dan kom hulle in Frankryk aan. Natuurlik is die kredietnota gestop (suspension of disbelief is hier groot, maar dis snaaks, jy vergewe almal). Hulle word uit die hotel gesit danksy die speurder wat vir Pappa (Esmond snr.) vertel het van al die manewales. Lolerei sing dan by hulle show “Diamonds are a Girl’s Best Friend”!

Nog is het einde niet.

Die tiara word as gesteel aangemeld en dan ontdek die twee vriendinne dit is weg uit die juweleboks. Og ja, Piggy het dit natuurlik teruggesteel.

In die hof verskyn Dorothy met ‘n blonde pruik as Lolerei en sy boots MM perfek na.

Jane Russell as Dorothy Shaw

Esmond snr. en Lolerei sit in die nagklub, en Lolerei meen dat sy, as sy die rykman se dogter was, en nie sy seun nie, hy net die beste vir haar sou wou hê.

Weer ‘n speelse, dog skerp analise van gendervoorskrifte van die tyd.

Alles eindig goed. Die spanning word opgelos: daar is ‘n dubbel-troue vir die twee vroue. Elkeen kry haar man (die een met geld / die een met libido).


IV

Toe ek in 2016 weer na hierdie film kyk, kan mens duidelik sien hoe Monroe met haar persona speel, met die eponieme dom blondine. Hoe ironies die verwysing na foto’s en ‘n meeluisterapparaat in hierdie film. Want haar hele lewe lank — selfs ná haar dood — word sy afgeneem en afgeluister. Deurgefluister, soos TT Cloete geskryf het.

© Joan Hambidge


Marié Heese - Maestro (2016)

$
0
0

Marié Heese - MaestroHuman & Rousseau, 2016. ISBN 978 0 7981 7391 9

Resensent: Joan Hambidge

Marié Heese beklee binne die Suid-Afrikaanse letterkunde ‘n besondere posisie. As skrywer van Die uurwerk kantel (1976) tot historiese romans soos The Double Crown (2009), The Colour of Power (2011) en A Triple-headed Serpent (2012) waarmee sy buite die landsgrense beweeg en ‘n groter leesgehoor verower het. Met haar roman Vuurklip (2014) het sy die argeologiese roman aangepak, eweneens met sukses.

Heese is ook essayis, digter en jeug/kinderboekskrywer. Daar is ook ‘n reisverhaal met resepte: Die honger reisiger (2010).

Haar jongste roman Maestro– besonder mooi uitgegee – handel oor die vormingsjare van Gianlorenzo Bernini, die beroemde Italiaanse beeldhouer en argitek. Die roman se sub-titel aktiveer dan die Bildungsroman waarin die hoofkarakter se vormingsjare en dikwels moeilike lewe uitgebeeld word. Die leser ervaar dan die oorwinning, dikwels op spirituele of op ‘n kunstenaarsvlak. Miskien sal ander lesers dit as 'n Entwicklungsroman benader.

In ‘n nawoord (En toe?) vra die werklike outeur die vrae wat die leser vra by die lees van die historiografiese roman. Hier wys Heese met welke drif sy die geskiedenis besoek het, maar ook haar verbeelding gebruik het by die skryf van hierdie roman. Die roman bevat ‘n handige bibliografie vir die speurende leser.

Daar is vooraf ‘n dramatis personae – met ‘n asterisk waar die karakter fiktief is – om die leser te help navigeer deur hierdie komplekse, dog aangrypende roman.

Die eg-Italiaanse milieu word geskep deur die binnespraak van die verteller wat ‘n Italiaanse woord gebruik met die onmiddellike Afrikaanse vertaling ingebed in die teks – soos bozzetto (kleimodelletjie), ensomeer. Of as die leser kan aflei wat die woord beteken (fabricca), word dit net so weergegee.

Die verskillende hofies werk opsommend en is bekend aan die Bildungsroman. Daar is ‘n inhoudsopgawe wat die gang van sy lewensverhaal rig: Deel I: Onthoofde engeltjie; Deel II : ‘n Lewenslange stryd; Deel III: Die mens is soos gras; Deel IV: Meester van die wêreld.  Die Dramatis personae en En toe?-gedeelte wys op ‘n ouktoriale verteller wat in beheer is van die gegewe. Boonop is daar afdrukke van kunswerke.

Die sterk filmiese kwaliteit van die roman is opvallend. Die leser sien en ruik die omkopery, die diefstal – jy sien die kaaswiele, trosse fisante, duifeiers, en wat nog (102).

In hierdie dae van kitskos-romans, is die werk van Marié Heese en Dan Sleigh belangrike gebeurtenisse.  As jy belangstel in die sewentiende-eeuse geskiedenis behoort jy onverwyld hierdie roman te lees.

Die leser kan op enige plek die roman oopmaak en dit lees soos wat Roland Barthes aangetoon het in S/Z(1970/1974) wanneer hy vyf kodes gebruik om 'n Balzac-verhaal oop te maak. Al die kodes wat hy gebruik, is hier van toepassing: die spel tussen die referensiële kodes en die stem van die karakter. Ons vind in hierdie teks ernstige besinnings oor die kosmologie; die beeldhoukuns (en hoe dit in daardie tyd uitgevoer is); Petrarca, die liefdesdigter gebore 1304, is hier neffens godsdiens, oorlog, die liefde (en straf wanneer daar buite-egtelike verhoudings is); die Spirituele Oefeninge van sint Ignatius Loyola; die rol van die pous; die funksie van die castrato; die impak van Michelangelo ...

Innocentius X wat geswig het en Bernini ook opdragte gegee het; spanninge tussen kunstenaars, nydigheid, ensomeer. Kyk wat word oor die Dawid-beeld gesê en die fout in die komposisie.

Ook die kunstenaar as kulkunstenaar word behandel. Die impak van jeugtraumas wat hom in alle waarskynlikheid geïnspireer het om 'n kunstenaar te word, beskryf sy dwingend. Die mens wat tydelik is en tussen tertia en nona kan verdwyn, is 'n draad in die vertelling (68); nes die innerlike demone wat die kunstenaar voortdryf (463).

En die begryp van die choleriese persoonlikheid of aard (463).

Barthes se Sarrasine-lesing was van besondere nut om hierdie teks oop te maak: die oortreding van taboes (simboliese kode) en die hermeneutiese kodes (waar die 'waarheid' vertel moet word). (Die vyf kodes is: hermeneutiese kode; proaieritiese kode of empiriese stem; die Semiese kode of die stem van die persoon; die simboliese kode en die sogenaamde referensiële kode of die stem van die wetenskap).

Die kunstenaar se enorme ontwikkeling van die Barokstyl (saam met tydgenote soos die argitek Borromini en die skilder en argitek Pietro da Cortona). Maar die tyd het ook verander met die opkoms van die Neo-Klassisme. Veral die kunsgeskiedkundige Howard Hibbard  onder andere  het geweldig baie gedoen om sy bydrae opnuut onder die loep te neem. 

Hierdie roman neem die leser na soveel aspekte van kunsdebatte dat dit uiters frustrerend was om hierdie boek te resenseer, omdat 'n mens nog veel sou wou benadruk! Die veranderde rol van pouse, soms erkenning, ander kere afwysend. Die studies van James Fenton, Giovanni Caresi, Sarah McPhee, e.a. het die roman gerig.

Die toneel van 'n kind wat doodgery word deur 'n koets en die hartelose hantering hiervan is iets wat hierdie leser altyd sal bybly. Met 'n wasvrou wat die scudi ontvang  al was dit nie haar kind nie  en hartelose mans se hantering hiervan, en die jonge Bernini wat dit aanskou het en daardeur ontsteld was.

'n Mens sou meer wou skryf oor Galilei wat ook hier betrek word. 'n Egte Renaissance mens wat kon skilder, die luit bespeel het en boonop gestraf is vir sy wetenskaplike sieninge. Die pous was uiters magtig toe. Kettery en godslastering word ook hier ondersoek.

Maestro is ‘n hoogtepunt in Marié Heese se oeuvre. Sy versoen haar historiese belangstelling met ‘n besondere kreatiewe drif.  En sy lewer kommentaar op al die fasette van 'n samelewing met die skrywer wat 'n ander kunstenaar vereer.

Soos iewers geskryf word: beslis 'n okkasie vir 'n staande ovasie!

Marié Heese

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)


Die struktuur van die religieuse vers

$
0
0
Freda Plekker (1923 - 1973)
I

In Afrikaans is daar vele uitsonderlike religieuse digters. Om enkele name te noem: Totius, gebede-verse by Van Wyk Louw en W.E.G. Louw, Opperman, Sheila Cussons en I.L. de Villiers. Nou onlangs het Marga Stoffer aangekondig dat NB-uitgewers 'n nuwe bundel met religieuse verse beoog. 'n Opvolg dus van die Nienabers se Die braambos brand - 'n keur van godsdienstige gedigte (1987).

As die liefdesgedig 'n spanning tussen die geliefde en die digter aktiveer - dikwels in 'n toestand van verlies en afskeid - is die religieuse vers 'n boeiende verslag van die verhouding tussen mens en God, wat verskillende aspekte of godsdiensoortuigings kan aanspreek. 'n Mens dink aan Robert Pinsky se gedig oor die jeug van die Jesus-gedig, opgeneem in die apokriewe boeke en boonop geskryf deur 'n Jood. [1]

II

Daar is 'n besondere pakkende vers [2] van Freda Plekker wat so lui:

Gesprek met ’n olyfboom

Jerusalem 1966

In wasgoedtaal gesels die wind
oor balkonne
blind
en wimperloos
wat oor die Negev staar
en twintig eeue ween en klae
deur smal skagte
oor die mea culpa mea culpa
wat hulle dra
kringvormig
’n viëtnamese sirkeldig
bid Chagall se brandglasvensters
die gryswit stad
uit gryswit steen
tot feller lig
bondels olywe groet my
met ’n shabat shalom
een
met ’n duisend jare
om haar hoof
soos ’n duisend blare
het my in gedempte groen gevra
wat in die albasterkruike
van my oë was
ek antwoord:
dis die wêreld wat ek dra
dis mea culpa mea culpa maxima.

Hierdie gedig aktiveer alreeds die omliggende landskap van Turkye en die Derwiese dansers (WOORDE WAT WEEG/ Reisjoernaal/ Derwiese dansers. Besoek 5 Oktober 2016).

In 1967 word daar as volg geskryf:

In a statement at the Western Wall, Minister of Defense Moshe Dayan indicated Israel’s peaceful intent and pledged to preserve religious freedom for all faiths in Jerusalem:
To our Arab neighbors we extend, especially at this hour, the hand of peace. To members of the other religions, Christians and Muslims, I hereby promise faithfully that their full freedom and all their religious rights will be preserved. We did not come to Jerusalem to conquer the Holy Places of others.
(1967/ Reunification of Jerusalem. Besoek 5 Oktober 2016.)

Met hierdie agtergrondskennis wil die gedig dus daardie religieuse vrede sien gebeur. In 1967 word Jerusalem teruggegee met die simboliese Westerse Muur. By 'n besoek aan hierdie stad het ek oor die via dolorosa geskryf. [3] Die spreker kyk uit oor die Negev (ook genoem Negeb) is 'n woestyn in die suide van Israel, 'n landskap waarin olyfbome gedy. Die (Bybelse) geskiedenis van oorlog en ellende word deur hierdie landskap vergestalt met sy dorheid. Die beeld van verdere troosteloosheid word deur die wasgoed in die wind uitgedra.

In die tweede strofe word daar verwys na Chagall, die Joodse kunstenaar se glasvensters wat alombekend is vir die spirituele simboliek. Maar die spreker aktiveer ook die Luc bat-digvorm, wat letterlik in Sino-Viëtnamees 6/8 beteken. Hierdie populistiese gedig begin met ses sillabes en eindig met agt sillabes. (Lụcbát - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 5 Oktober 2016).

Probeer haar gedig die oorlog van daardie land aktiveer, naamlik die universaliteit van oorlog? Of probeer sy die sirkelvorm van hierdie vers naboots? Of probeer sy die religieuse verskille tussen verskillende godsdienste gelykmaak? Dat oorlog/versoening/spiritualiteit in sirkels beweeg?

Die derde strofe aktiveer immers die geskiedenis van Jesus Christus. Die wekroep of groet hier is om te rus op die sabbat soos die Torah versoek. 'n Ou vrou wat metafories "bondels olywe" is, dra die geskiedenis van hierdie land óm haar hoof soos wat Jesus 'n doringkroon om sy hoof gedra het. Die duisend jare om haar hoof is myns insiens 'n positiewe beeld. Sy aanvaar haar lewenslot.

het my in gedempte groen gevra
wat in die albasterkruike
van my oë was
ek antwoord:
dis die wêreld wat ek dra
dis mea culpa mea culpa maxima.

Die vrede van hierdie persoon dra die spreker in die "albasterkruike / van my oë" en sy word eensgesind in die dra van die religieuse geskiedenis van hierdie streek en die mens wat in sondig is en hierom moet boete doen.

Die albasterkruike verwys letterlik na die kruike van hierdie landskap, maar dit aktiveer ook "the breaking of the vessels" van die Kabbala, waaroor Harold Bloom so indringend geskryf het: die Shevirat ha-Kelim. [4]

In die Lurianiese Kabbala dui hierdie proses op 'n nuwe begin, veral op die soeke na 'n nuwe spirituele begin. En dit is wat hierdie gedig van Plekker so uitstekend verwoord. (Breaking of the Vessels, Shevirat ha-Kelim. Besoek 5 Oktober 2016)


Endnote:

1. From the Childhood of Jesus
by Robert Pinsky

One Saturday morning he went to the river to play.
He molded twelve sparrows out of the river clay

And scooped a clear pond, with a dam of twigs and mud.
Around the pond he set the birds he had made,

Evenly as the hours. Jesus was five. He smiled,
As a child would who had made a little world

Of clear still water and clay beside a river.
But a certain Jew came by, a friend of his father,

And he scolded the child and ran at once to Joseph,
Saying, “Come see how your child has profaned the Sabbath,

Making images at the river on the Day of Rest.”
So Joseph came to the place and took his wrist

And told him, “Child, you have offended the Word.”
Then Jesus freed the hand that Joseph held

And clapped his hands and shouted to the birds
To go away. They raised their beaks at his words

And breathed and stirred their feathers and flew away.
The people were frightened. Meanwhile, another boy,

The son of Annas the scribe, had idly taken
A branch of driftwood and leaning against it had broken

The dam and muddied the little pond and scattered
The twigs and stones. Then Jesus was angry and shouted,

“Unrighteous, impious, ignorant, what did the water
Do to harm you? Now you are going to wither

The way a tree does, you shall bear no fruit
And no leaves, you shall wither down to the root.”

At once, the boy was all withered. His parents moaned,
The Jews gasped, Jesus began to leave, then turned

And prophesied, his child’s face wet with tears:
“Twelve times twelve times twelve thousands of years

Before these heavens and this earth were made,
The Creator set a jewel in the throne of God

With Hell on the left and Heaven to the right,
The Sanctuary in front, and behind, an endless night

Endlessly fleeing a Torah written in flame.
And on that jewel in the throne, God wrote my name.”

Then Jesus left and went into Joseph’s house.
The family of the withered one also left the place,

Carrying him home. The Sabbath was nearly over.
By dusk, the Jews were all gone from the river.

Small creatures came from the undergrowth to drink
And foraged in the shadows along the bank.

Alone in his cot in Joseph’s house, the Son
Of Man was crying himself to sleep. The moon

Rose higher, the Jews put out their lights and slept,
And all was calm and as it had been, except

In the agitated household of the scribe Annas,
And high in the dark, where unknown even to Jesus

The twelve new sparrows flew aimlessly through the night,
Not blinking or resting, as if never to alight.

(from: The Want Bone, 1990), and reprinted in The Figured Wheel, 1996)


2. En M. M. Walters se reeks Poësie uit Verre Lande (reeks). Johannesburg: Perskor, 1991 waar die gedigte oor die Midde-Ooste saamgestel is deur Johan Steyn met die olyfboom as 'n belangrike simbool.

3. Via dolorosa

Die lydensweg
stap ek moeisaam
met my kamera op my rug;
verloor my groep
tussen stasie vyf en ses.
Ek dink my in
hoe U hierdie weg nou
sou sien:
“I got stoned in Jerusalem”
blaker ’n T-hemp en verderaan
staan twee Jode en korswel
oor ’n sokkertelling ’n dag terug.
Veronika sou waarskynlik vandag
’n wet-wipe aanbied en ek meen
iemand sou dink aan ’n Red Bull
of dalk iets sterkers vir dié pad.
Iemand sou meen U doringkroon
is cool soos ’n tatoe.
’n Nonnetjie stap uiloog verby,
terwyl ’n Ortodokse Jood selfoon
in die linkerhand
en sigaret in sy skewebek,
bewend boekevat.
En ek?
Ek kyk uit oor Jerusalem
op ’n Sondag vér van huis en haard,
sluit my oë, tel ’n klip op
digby Golgotha
en wens
ek kon hierdie steurnisse
uitwis soos ’n raam
op my digitaal.

Jerusalem

Visums by verstek. Human & Rousseau. 2011.

In reaksie op 'n sms wat ek op die via dolorosa vir hom gestuur het, skryf Johann de Lange “Google Golgota” (Judasoog: ‘n Keur uit die gedigte van Johann de Lange. Human & Rousseau, 2010.  ISBN 978 0 7981 5149 8).

4. By die dood van I. L. de Villiers het ek hierdie gedig geskryf:

Shevirat ha-Kelim
vir Izak

So vra jy my op ’n keer oor die Kabbala,
oor die kruik wat in ligtende stukke breek,
oor vorms wat sig in nuwe vorms wreek.
Jy is glo in jou vroeë slaap weg
- soos ’n potlood wat onverwags breek –
maar glo my, alles word nóú besleg.
In ons Blou Bybel lê jy tussen
D. Sleigh en P.H. Roodt se wit boom,
koerantman, prediker, digter: ondertussen,
onderweg, terwyl ons, blote afdrukke
van hoër waardes, probeer takseer:
was jy meer Mensch of blote droom?
Dalk, dalk is dit reeds geskryf:
die digter moet uiteindelik verdwyn,
sodat ons nou, by nabaat, weet:
as niks meer heilig is, sal ’n vers steeds
uitwaaier soos skerwe, na God se lig.

Matriks. Human & Rousseau. 2015.


© Joan Hambidge

Bus Stop, Marilyn Monroe: 'n Ander invalshoek

$
0
0

Marilyn Monroe, in Bus Stop© Milton Greene, 1956
I

Met 'n herbesoek aan Marilyn Monroe in die film Bus Stop (1956) word Monroe meteens 'n interpretasie-probleem. Jacques Derrida se Il n'ya pas de hors-texte (daar is geen buite-teks) beteken daar is 'n oneindige aantal tekste wat inspeel op die teks voor jou.

Die verhaal is eenvoudig. Dit is 'n liefdesverhaal met 'n cowboy (en rodeo-ryer) wat verlief raak op die meisie. Hy heet Beau (Don Murray); sy Chérie. Hy spreek haar naam verkeerd uit as Cherry. Op pad na 'n rodeo-wedstryd sien hy sy donna angelicata ...

Die naïewe plaasjapie verstaan nie hoe verkeersligte werk nie. Nog minder begryp hy dat die mooi engel wat hy sien nie 'n engel is nie. Sy is immers 'n danseres en bied mans drankies aan. (Ons as kykers weet wat hier aangaan.)

Hy sien haar, raak dolverlief en neem nie nee vir 'n antwoord nie. Sy vlug op die bus waarop hy en sy maat ook is. Die busbestuurder het sy hande vol en uiteindelik wanneer hulle aankom by Grace se busstop is daar 'n woeste vuisgeveg tussen die busbestuurder en Beau. Met Beau wat in die sneeu byt.

Hy vra verskoning die volgende dag en die jong vrou, Chérie, gee dan vir hom in. Haar aanvanklike renons, gaan oor in ambivalensie en uiteindelik oorgawe. (Nie 'n goeie beeld van die vrou wat uiteindelik maar ingee nie ... of het ons hier iets van Jacques Lacan se sydelingse opmerking dat 'n vrou (en seksuele fantasie) maar net die simptoom is vir die man? Hy merk dit op in sy Seminaargelewer op 21 Januarie 1975.)

Die gesprek tussen Beau (die onskuldige man) en Chérie (die ingewyde) was waarskynlik in die tyd as komedie bedoel; nou is dit skrynend.

II

Die kyker ervaar ook twee oomblikke wanneer die film buite die grense van die film beweeg.

By die rodeo-wedstryd - waar Beau kaatjie van die baan is - is daar twee Life Magazine-fotograwe wat die beeldskone Chérie afneem. Maar hulle neem eintlik vir MM af.

Op die bus, vlugtend van die lastige Beau, bely Chérie aan 'n jong meisie dat sy eintlik net wil trou en kinders hê. 'n Gesprek wat 'n mens teruglei na die biografiese studies oor Monroe waarin sy telkemale die behoefte uitgespreek het om binne die veilige hawe van die huwelik te wees. En 'n moeder te wees. Dit is egter iets wat haar nie beskore was nie, weens haar sterstatus.

III

Die bus beweeg van Montana tot in Arizona. Ons beleef die lieflike landskap waar die jonge Beau op pad is na sy rodeo-wedstryd en in 'n ander stryd gewikkel geraak, naamlik die liefde.

Chérie, die talentlose sangeres, begeer aanvanklik om 'n Hollywood-ster te word. (In hierdie stadium weet die kyker dat Monroe dit reeds is.) Haar vertolking van "That Old Black Magic" bekoor Beau in so 'n mate dat hy dadelik met haar wil trou. (Monroe, terloops sing wél hier.)

Hy "ontvoer" haar dan later, maar by Grace se busstop, gee sy in vir hom. Sy maat, Virgil (simboliese naam), bly agter.

IV

"There is no fabric without a weave," (Mitchell en Rose, 163) is hier ter sake. Ons kan vandag nie meer op 'n "onskuldige" manier na Marilyn Monroe kyk nie. Sy is die simptoom van ons begeerte en ons ervaring van 'n simbool.

God and the Jouissance of The Woman. A Love Letter. Die vrou bestaan nie; sy is net 'n simptoom van ons fantasie.

En die diskordante onbewuste ervaar jouissance as dit wat plesierig en vreesaanjaend is.


Bronne:

Feminine Sexuality: Jacques Lacan and the école friedienne. redd. Juliet Mitchell en Jacqueline Rose. W.W. Norton and Pantheon Books, 1985.

Marilyn. Norman Mailer. Alskog Inc., 1967.

Vir inligting oor Bus Stop is IMDb - Movies, TV and Celebritiesgeraadpleeg.

© Joan Hambidge


Anna Enquist - Arsenaal van klank (2016)

$
0
0

Anna Enquist - Arsenaal van klank. (Vertaal deur Zandra Bezuidenhout). Protea Boekhuis, 2016.  ISBN:  978-1-4853-0604-7

Resensent: Joan Hambidge

Ofskoon Nederlands of Vlaams na aan Afrikaans lê, is dit vir die meeste lesers moeilik om te begryp.

In Afrikaans het Daniel Hugo, Lina Spies en Zandra Bezuidenhout, om ’n paar name te noem, geweldig belangrike werk gelewer om tekste in hierdie tale vir die gewone leser oop te maak. En dan is daar Alfred Schaffer wat weer Afrikaans na Nederlands transporteer.

Anna Enquist se Arsenaal van klank, vertaal deur Zandra Bezuidenhout, bevat benewens die Afrikaanse vertaling ook die oorspronklike Nederlands.

Die leser kan dus vergelykend lees of gewoon net die Afrikaanse weergawes ­geniet. Vertaalde gedigte moet immers op hul eie terme getakseer word.

En as dit gewoon as Afrikaanse gedigte getakseer en beoordeel word, is dit ’n wonderlike bundel. Kom ons val met die deur in die huis.

So dig Anna Enquist in “Habanera”:

Die verse is so woes uit die bodem
getrek dat hulle nog lank na-gekraak het.
Toe het die letters soos as in die sneeu ­gelê
en nie meer beweeg nie. As iemand hulle
aanblaas het hulle effens opgevlam: ou vuur.
Daar was ’n kind. Met haar het ek
deur die kamer gedans, ons het van hoek
tot kant galop, ons het luidkeels ’n lied gesing.
Sy het ’n warm gesig gehad. Sy was my dogter.
As ek asemhaal, vonk sy na in die gedig.

Onmiddellik is die leser binne die ruimte van die gedig wat verlies navigeer.

Die dood van haar dogter in ’n motorongeluk is algemeen bekend, ofskoon die gedigte uiteraard ook ander verliese aanroer.

Anna Enquist is die skrywersnaam van die Nederlandse digter en prosaskrywer Christa Widlund-Broer, opgelei in sowel die psigoanalise as die musiek.

Haar gedigte het ’n nugterheid wat herinner aan die gedigte van Elisabeth Eybers.

Wanneer die leser begin torring aan spesifieke woorde in die gedigte en sinonieme of antonieme soek, word die gedig met nuwe betekenisse gelaai.

So klink die eerste strofe van “Smaak”:

Die gedig wat spreek van goeie smaak
kies woorde met ’n dubbele bodem,
beskeie binnerym, beeldspraak
binne perke. Maak hom groot
op ’n regime van stylfiguur
en stukrag, dan groei hy
met oorleg, slank van bestek.
Dan skryf sy verder:
My gedig vreet hom vol
aan rommel. Moenie, sê ek,
daardie bitter oorskiet, daardie armsalige
rantsoen verorber nie. Maar die vers
bars uit die stywe gordel
van die reëls en smyt hom
op die bladsy, voor my oë.

Hierdie ironiese spel met die reëls van die digkuns maak die verse besonder interessant vir hierdie leser. Die digter dekonstrueer daardie voorskrifte en die regime van stylvoorskrifte, maar uiteraard is haar verse nooit onbehendig of bereik dit rommelstatus nie. Inteendeel.

Alles word netjies saamgevoeg en bymekaargehou, soos dit van hierdie dubbelspel vereis word.

En daar is inderdaad ’n “arsenaal van klanke” wat die vertaler goed oordig na Afrikaans.

En hierdie “dubbelspel” is so bekend in Eybers. En die stiltemotief loop soos ’n swart draad deur veral vrouedigters se werk: ’n Mens dink aan Heilna du Plooy wat probeer om daardie stilte op te skort.

Klank en stilte. ’n Mens kan deurgaans hierdie opposisie raaksien in hierdie bundel wat met ’n besondere balans tussen emosie en suggestie voor jou op die bladspieël afspeel.

Die digter is ’n fyn waarnemer van die huwelik, van vrouwees en skete.

Soms is sy ’n pretbederwer soos sy in “Sprokie” dig:

Ek, pretbederwer, pessimis, vreemdeling,
skryf snags met my geheime ink:
storms dryf my voort, die pad loop dood.

Ook gendersake en die spanninge tussen man/vrouwees, word uitstekend verwoord.

Boonop is daar lieflike beelde in hierdie bundel (“Mis vly neer soos ’n laken / die frambose is so groot soos kabouterkoppies”).

’n Arsenaal – soos ’n wapenopslagplek – word hier gebruik op ’n interessante manier. Taal en klank as iets waarmee jy jou verset, stelling- of standpuntinname teen pyn, desillusie, veroudering . . .

In “Julie” word hierdie subtiele spel met o- en y-klanke uitgespeel; met die spreker wat in ’n ysvlakte vasgevang is.

Dank aan Protea wat telkens ’n belang­rike vertaling aan die Afrikaanse leser ­bekendstel.


Dit is ’n bundel wat op elke digkunsliefhebber se rak hoort.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Universiteite 2016: Nie voor dooiemansdeur nie

$
0
0
I

Te midde van die slopende stakings aan die Universiteit van Kaapstad, besef ek meteens dat die krisis met universiteite vergelyk kan word met 'n slot wat verander is in die nag en die ou, geroeste sleutel werk nie meer nie.

Hoe nou gemaak? Jy kan nie die deur oopkry nie.

Sedert #RhodesMustFall het die nuwe beweging #FeesMustFall universiteite lamgelê en deure is gesluit. Biblioteke onder andere is eweneens op slot en grendel. Behalwe dat studente en personeel nie boeke kan uitneem nie, is jong studente wat werksaam is in die biblioteek, eweneens van 'n ekstra inkomste ontneem. Werkers en sekretaresses is vreesbevange en vertrek vroeg huis toe. Ek het die afgelope tyd studente in koffiewinkels ontmoet en selfs onder 'n boom klasgegee – soos 'n Sokrates van ouds – toe die Baxter gesluit was.

Verder versend ek e-posse met leeswerk en ontvang my studente se opstelle elektronies. Per e-pos laat weet 'n jong student dat hy nie kan klas toe kom nie; sy vader het hom verbied om die trein van Mitchell's Plain te neem uit vrees vir sy veiligheid. Daar was immers petrolbomme op die kampus gegooi.

II

Die afgelope vier weke was uiters spannend vir almal. Die onsekerheid is waarskynlik die ergste. Gaan ons eksamen skryf of nie? Gaan ons die jaar eindig of nie? Is daar nuwe datums?

Internasionale studente se visas verval en hulle moet binnekort terugkeer huis toe. Mense het planne gemaak vir oorsese navorsingsbesoeke. Die gradeplegtigheid is uitgestel tot volgende jaar.

Hoe antwoord 'n mens op 'n nagraadse aansoek? Op elke kampus is daar verskillende gebeurtenisse, soos die absurde sebra-verhaal aan NMMU in Port Elizabeth of ‘n student wat speel asof hy Adam Habib is aan Wits.

‘n Senaatsvergadering aan die UK bewys opnuut hoe mense verskil.

 III

Om te dink in 'n ander sleutel of met 'n ander sleutel.

Ek dink wel die mantra (vir sekere mense 'n slagspreuk) van dekoloniseer die universiteit is 'n simbool van iets anders. Miskien het universiteite troglodiete geword wat nie voldoen aan die behoeftes van jong mense nie. Wat bied ons in die Geesteswetenskappe vir 'n jong mens? Hoe rus ons hulle toe om die uitdagings van 'n veranderde samelewing die hoof te bied?

Uiteraard moet jy as dosent steeds die klassieke tekste voorskryf en behandel, maar dalk op 'n nuwe manier. Doseer Hamlet eerder met 'n DVD waarin Ethan Hawke 'n moderne wroegende Hamlet in New York is. Of bekyk die gesprek tussen 'n klassieke gedig soos "Winternag" en al die reaksies hierop. Bekyk die kanon van agter na voor.

Danie Marais het nou onlangs in 'n debat oor kanonisering tereg verwys na Tony Hoagland se 20 poems that could save America and other essays (2014) waarin hy beweer dat 'n mens eerder moet begin by die moderne gedigte as wat jy studente vervreem met die ou vosse. Van nuut na oud.

Wat weet ons van jong mense se behoeftes? Kennelik is dit 'n WhatsApp/Facebook-generasie. Die me-generation het plek gemaak vir die now-generation. En dit is nie hulle skuld nie. Die moderne tegnologie het hulle so verander. Kyk hoe loop hulle oor die kampus met 'n selfoon al lesende aan 'n dringende boodskap. Of dalk ontvlug hulle?

En hierdie sogenaamde Born Frees het groot geword in huise waar hulle ouers se onverwerkte woedes op hulle afgesmeer het. Dit is Freudiaanse "return of the repressed". Die ouers het geen stem gehad nie en hierdie jong generasie is stemhebbend. Onthou hoe anekdotes oor die Anglo-Boereoorlog vir dekades na dit gebeur het op Sondae tot vervelens toe vertel is om die spanninge oor die Engelse lewend te hou aan't huise van Afrikanergesinne.

Hoeveel dosente besef dat 'n jong kind se moeder tot laatnag werk in 'n restaurant, 'n taxi terugneem en eers twee ure later by die huis aankom en waarskynlik net die kinders oor 'n naweek sien?

Hoeveel dosente neem kennis van hul studente se geldelike nood? Van 'n wit kind wie se ouers weens rentrenchment 'n werk verloor het en net kan studeer op die genade van beurse en 'n dosent se gewilligheid om geld saam te help soek? Die Dagbreek Trust het onder andere vir my nagraadse studente 'n stewige stipendium gegee en daar word erkenning gegee hieraan in die gepubliseerde digbundel. Sowel wit as swart studente sukkel om finansieel die mas op te kom.

By Michaelis is daar 'n eetprogram gestig vir behoeftige studente wat koepons kry om kos te kan koop. En dit is transformasie, om te besef mense se ouers kan nie bybly met die enorme fooie wat hulle moet betaal nie. Hoe kan jy studeer as jy honger is?

IV

'n Mens hoor dikwels dat om te studeer 'n voorreg is en nie 'n reg nie. Dit is so. Maar die moderne Suid-Afrikaanse universiteit kan nie meer 'n ivoortoring wees nie. Dit moet sterker kennis neem van die demografiese probleme (soos Flip Smit, voormalige rektor aan UP,  by herhaling aantoon), van armoede as 'n oorrompelende krisis, van leeragterstande en leë beloftes soos gratis onderwys wat ons universiteite getref het.

Tensy ons alle deure wil sluit, sal ons op 'n nuwe manier hierdie krisis moet aanspreek. Verby is die dae van die professor in sy of haar studeerkamer wat knorrig opkyk en skouerophalend reageer op 'n student se probleme.

Daar is dosente wat steeds studente se vrae beantwoord tydens hierdie krisis en selfs bereid is om studente te sien in ander ruimtes. En dit is transformasie.


V

Die grootste ellende van hierdie tyd is 'n spanning tussen ons en julle. Studente word oor een kam  geskeer asof almal wil plunder en afbreek. Op 14 Oktober stap ek na die AC Jordan-gebou om 'n werkswinkel vir nagraadse studente aan te bied. Die gebou is stil. Daar is ongeveer drie mense in die gebou. Die vorige nag is 'n bakkie uitgebrand voor die Geologie-gebou. Later die middag sal die rektor geslaan word nadat sy huis in die week omsingel is deur betogers.

Ek sit onder 'n boom en wag op my studente. Skielik gewaar ek ongeveer sewe studente by my motor met vlae. Rooi, blou, geel, groen ...

Wie is hulle? Is ek veilig? Gaan hulle my motor uitbrand?

Ek stap nader en begin met hulle gesels. Hulle ontwapen my. Hulle is 'n spirituele groep wat hulle vlae swaai om 'n nuwe positiewe, energie op die kampus te bewerkstellig. Ons gesels oor die simboliek van die vlae en hoe ek in Turkye op Paulus se pad gestap het. En hoe 'n mens in daardie ruimte skielik die Bybelse simbole begryp.

Later in die middag hoor ons hulle sing. 'n Positiewe energie, inderdaad.

Dit is sulke jong mense wat hier studeer wat die deure weer kan laat oopgaan.


© Joan Hambidge


'n Moderne Madame Bovary

$
0
0

I

Die filmweergawe Gemma Bovery(2014: regisseur Anne Fontaine) is ‘n boeiende toespeling op Flaubert se klassieke roman Madame Bovary (1856), ‘n teks wat ek hartgrondelik ken en beskou as ‘n baken oor hoe dit wat jy lees, jou lewe kan verander (of verwoes). Dieselfde geld Tolstoi se Anna Karenina (1878). Beide vroue lees liefdesverhale wat hulle laat verlang na ‘n liefde wat net in boeke bestaan.

Gemma Bovery is die filmweergawe van Posy Simmonds se gewilde roman (1999).

Uiteraard word ‘n mens bewus van die toespelings op Flaubert se klassieke teks: ‘n vrou wat betrokke raak by ‘n liefdesverhouding wat haar lewe vernietig.

Claude Chabrol

‘n Mens kyk ook na hierdie moderne film met Claude Chabrol se verwerking van die teks in 1991 met die ónootroffe, weergalose Isabelle Huppert in die hoofrol. Met ‘n kameraskoot waar sy van die trap afstap en jy sien die swart skaduwee teen die muur as 'n waarskuwing van dit wat gaan gebeur.

Die moderne (G)emma is tragi-komies. Met seksueel-uitbundige tonele, ‘n voormalige Parysenaar en nou bakker van die dorp en twee jongmense wat mekaar “vind”. Sy is getroud (en voorheen gelos); hy is jong student en welvarend. Haar man is ‘n restoureerder en sy hou van die reuk van sy klere nadat hy ‘n daglank aan die saag en werskaf was. Haar voormalige geliefde is ‘n koskritikus. Sy was 'n illustreerder van boeke.

Sou ‘n eks-Parysenaar in ‘n dorpie die bakker word en boonop belangstel in sy bure se doen en late? Sou die jong student se moeder aan wie ‘n gesogte kunswerk behoort, dit later as gesteel aanmeld en ‘n prokureursbrief skryf aan die buurvrou? Is hulle gelykklinkende name Gemma en Charlie (Jason Flemyng) genoeg om sy Flaubert-fantasie aan die gang te sit? Wil hierdie oordrywings ‘n soort satire word, of is dit blote ‘vehicles’ wat die plot laat voortstu?

Dalk aweregse kommentaar op die verveelde rykmanslewe? Want verveling in die oorspronklike Flaubert-teks was immers die sneller vir Emma se ellende.

II
Madame Bovary, The Kiss

‘n Belangrike punt is dat hierdie film – wat Madame Bovary aan die vergetelheid ontruk – bewys hoe sterk die oorspronklike teks is. Selfs Chabrol, ‘n gedugte filmmaker, moes worstel met die oerteks wat oor sy teks hang.

Hierom waarskynlik die ironiese slot: ‘n wurgdood aan brood. Asof die nuwe film wurg aan die ouer tekste.

III

In D. C. Muecke se Irony and the ironic (1970) maak hy ‘n belangrike punt dat ironie nie net beteken om iets te sê en die teenoorgestelde te bedoel nie. Ironie is eerder om iets op so ‘n manier te doen, te skryf, te verfilm sodat ‘n eindelose reeks van subversiewe interpretasies daardeur geaktiveer word (31).

So beskou verironiseer hierdie film die idee van tragiese liefde en selfdood. Dit word gewoon ‘n belaglikheid.

Gemma Arterton is Gemma Bovery

Boonop is die slot van die film 'n verdere ironie. Die bakker se seun kondig aan dat die bure se van Karenin is. Die kyker weet natuurlik wat mag kom. Dit blyk 'n grap te wees, maar aanvanklik dink jy hier kom 'n verdere wending.

Dit neem jou terug na die voorlaaste toneel waar die jong vrou se man, die bakker en haar eks-minnaar almal aandadig voel aan haar dood. As haar man nie gedink het sy het seks met die eks nie (hy was immers net besig om haar te probeer red van 'n stikdood met die Heimlich-maneuver) en as die bakker net nie daardie brief aan haar geskryf het asof dit die student was nie, het alles goed afgeloop. Maar dit is nie so nie. Gemma is immers self, soos Madame Bovary, verveeld en eiesinnig. Sý is die skepper van haar eie drama, haar fata.

Dan is daar ook die spel met gif. Aanvanklik meen ons sy is vergiftig (sy het immers 'n ding oor die veldmuise), maar dis net die oorspronklike teks wat hier inspeel. Die bakker wat koekeloer in die dagboeke werk nie so goed in 'n film as wat dit in die romankuns werk nie.

Fabrice Luchini as die aantreklike grootoog-bakker en Gemma Arterton is die gelyknamige hoofkarakter.

Dit speel af in 'n fiktiewe Normandiese village. Die oorspronklike teks speel af in Rouen. In die Flaubert-teks trou Charles met Emma na die dood van sy vrou. In die moderne film was Charlie voorheen getroud en Gemma se voormalige geliefde ontrou aan haar. Hy keer natuurlik later terug as trooster. Hy heet Patrick en is natuurlik Léon, die geliefde na wie Emma terugkeer na Rodolphe haar verlaat.

Madame Bovary - Ezra Miller & Mia Wasikowska

Madame Bovary het 'n kind; Gemma het 'n mopshondjie. Emma is verlief op Rodolphe, haar tweede minnaar, en skryf indiskrete briewe aan hom. Hy beëindig die verhouding met 'n brief wat hy in 'n appelkoosmandjie laat. Gemma hou 'n dagboek waarin sy haar emosies en gevoelens uitstort. (En hieruit lees die bakker uiteraard vanuit 'n agterna-perspektief.)

Emma se aankoop van luukses is 'n poging om te herstel van liefdesverraad en ongelukkigheid. Wanneer die skuldeisers kom, is beide minnaars onbetrokke, maar haar eggenoot help haar uit die verknorsing. Dit is egter so dat hy uiters ontsteld is wanneer hy afkom op hul liefdesbriewe. Gemma is ook in die skuld na Charlie se vertrek. Sy sterf egter nie aan 'n arseen-oordosis nie, maar aan brood wat die bakker vir haar gelos het. Charles in Madame Bovary sterf aan 'n gebroke hart, maar Charlie keer terug na Londen.

En daar is natuurlik ook die besoek aan die opera in Madame Bovary. En opera, weet ons, simboliseer hewige emosies en drama.

IV

Vladimir Nabokof

Vladimir Nabokof se beroemde Cornell lectures was 'n belangrike baken om klassieke romans oop te skroef en elke besonderheid na te gaan. Met 'n inleiding deur John Updike. Elke teks is so deeglik gelees met aantekeninge in die kantlyn wat die leser bewus maak van Nabokof die leser. (Woorde Wat Weeg / Vladimir Nabokof - Deel I (2006)Besoek 19 Oktober 2016).


© Joan Hambidge

Joan Hambidge - Sweisbril [Gedig]

$
0
0
Jaco Botha © Gérard Rudolf

Aanvanklik nie oog tot oog
gesien nie, jy en ek. Toe later
jou leer peil met jou tien
persent sig, jou teenaan staan
om 'n woord of klank te verstaan.
Eers onrusstoker, later vredemaker
wanneer vriende knaks raak met elkander.
Nou kyk ek terug na jou, ons eie Carver,
lees 'n e-pos versend twee weke gelede
en wis toé nie hoe daardie riviere
waaroor jy skryf, jou sou insluk:
Acheron, rivier van pyn, na Cocytus,
die rivier van blinde lamentasie.
Uiteindelik tot by Lethe,
die rivier van die groot-groot vergeet.
Maar hier sal ek bly onthou
van daardie man met die sweisbril,
wat inkyk tot by die Onsienlike in.

Café Society: Woody Allen

$
0
0
Woody Allen
I
Ek is 'n Woody Allen-aanhanger en selfs Allen se "swakste" rolprente maak belangrike stellings oor die filmkuns. Sy jongste - met 'n louwarm ontvangs - heet Café Society en stal die bekende Allen-hebbelikhede uit: sy Joodse agtergrond, sy kritiese blik op Hollywood, die gebruik van die film noir (soos ook in Matchpoint) om die verhaal verder uit te dra en grappige one-liners. In die genoemde Matchpointword die liefdesintrige tot 'n dramatiese moord uitgebou met die moordenaar wat wegkom weens 'n gelukskoot. 'n Dief word gevang met die ring van die vermoorde buurvrou wat hy in die Teems probeer gooi het. Dit het egter teruggebons (soos 'n tennisbal) en die dief wat dit optel en inbreek word dan "geframe" vir Chris se moord op sy beeldskone minnares.

In die jongste is daar weer 'n liefdesdriehoek: Bobby Dorfman (Jesse Eisenberg) en sy oom Phil (Steve Carell) is verlief op dieselfde meisie. Hy werk vir sy oom, 'n talentontwikkelaar in die filmbedryf. (Dit speel af in die dertigerjare.) Veronica (Vonnie), vertolk deur Kristen Stewart maak Bobby touwys en hy ontdek dat sy ook die minnares is van sy oom. Uiteindelik na 'n bietjie werklike tou-wysery tussen Bobby en Vonnie, val sy egter vir die ryker, ouer man. Daar is selfs 'n brief as geskenk van Vonnie aan Phil, geskryf deur Rudolph Valentino. Dit is dan die ontdekking van hierdie brief wat Bobby laat besef sy geliefde is éintlik sy oom se minnares.

Hartgebroke keer hy terug na NY, waar hy 'n nagklub-eienaar word. Sy gangsterbroer Ben (Corey Stoll) verskaf die geld en hy doen die harde werk. Hier ontmoet hy 'n beeldskone, geskeide Veronica (Blake Lively) wat dieselfde naam het as sy eerste meisie. Opsetlik? Bepaald. Allen wil kennelik hier 'n kanttekening maak oor liefdesobsessies en waarskynlik hoe sy verhale altyd maar dieselfde storie vertel. Hy trou met sy tweede Veronica, word 'n vader. Todat die eerste Vonnie weer opgedaag in die nagklub vir rykes. Hulle gaan wandel in Central Park met haar (waarskynlik net 'n verskoning vir Allen om sy liefdesverhouding met NY weer uit te stal).

Dat Allen besig is met 'n satire op die Amerikaanse samelewing se obsessie met geld, sukses en kitsrykdom, is duidelik. Ben se donker dade word aan die kaak gestel en hy word skuldig bevind aan moord. Die elektriese stoel is sy voorland. (Sy hulp aan sy familie gaan nie ongestraf verby nie en hier lewer Allen lieflike kommentaar op die Marxistiese intellektueel van die tyd en die Rosenberg-geval.) Weens die omstredenheid van sy broer se einde word die nagklub net gewilder. (Verdere siniese kommentaar van Allen.)

Die een se dood is die ander se brood. Bobby word alleeneienaar, vertrek na LA om 'n Hollywood-weergawe te begin van sy suksesvolle NY-nagklub. Hy sien weer vir Vonnie die eerste (sy vrou droom dat hy haar verneuk) en sy bely dat sy en Phil eersdaags NY sal besoek.

Beide besef dat dit beter is om mekaar liefs nie weer te sien nie.

Op nuwejaarsaand is Vonnie by 'n Hollywood-party; Bobby in NY in sy nagklub.

Albei alleen te midde van ander mense. 'n Film sonder closure en wat jou as kyker laat nadink: 'n oop slot wat dalk 'n ander rolprent gaan inspireer? (Woorde Wat Weeg/ Woody Allen. Besoek 23 Oktober 2016).

II

Ek het sopas ook gekyk na Hitchcock/Truffaut(2015) - regisseur Kent Jones - oor Truffaut se beroemde boek oor Hitchcock toe hy hom in 1962 oor 'n periode van agt dae besoek en uitgevra het oor hoe hy films maak. Hierdie uiters belangrike dokumentêr waarin ander filmmaker soos James Gray, Martin Scorsese, Paul Schrader, Wes Anderson, David Fincher, Arnaud Desplechin en Olivier Assayas kommentaar lewer, is ook op Allen van toepassing. (Hitchcock/Truffaut (film) – Wikipedia. Besoek 23 Oktober 2016).

Hitchcock se opleiding as ingenieur het hom ten goede gekom. Hierom is sy films so matematies-presies uitgewerk. En hy het verskillende modelle gebruik vir die storttoneel in Psycho om nie alles te onthul nie.

Soos Hitch en Truffaut, is daar 'n obsessie met die filmkuns. Soms nostalgies, soms self-refleksief. Ons leer uit die gesprek met Hitch en Francois: ons wil dikwels te gou na die bekendstelling van 'n film 'n kritiese uitspraak daaroor maak. Dikwels neem dit tyd om 'n film reg in te skat. Veral waar daar ook 'n outeur-filmmaker aan die werk is.

© Joan Hambidge

Helize van Vuuren - A Necklace of Springbok Ears – /Xam Orality and South African Literature (2016)

$
0
0


Helize van Vuuren: A Necklace of Springbok Ears – /Xam Orality and South African Literature. SUN MeDIA Stellenbosch under the SUN PRESS imprint, 2016. ISBN 978-1-920689-89-6 | ISBN 978-1-920689-90-2 (e-boek)

Resensent: Joan Hambidge

A Necklace of Springbok Ears is 'n belangwekkende studie geskryf deur Helize van Vuuren. Sy dra dit op aan Hennie Aucamp, Francois Pauw (vriend en mede-bergklimmer) en aan Barend J Toerien, ook kenner van hierdie tradisie. Al drie vriende wat oorlede is.

Die verhale, mites en digkuns van die /Xam en ander Boesmans word ondersoek en veral die ideologiese dimensies van die tekste word ontsluit.

Dis onmoontlik om op al die komplekse aspekte van hierdie studie klem te lê, maar waarskynlik is die belangrikste afdeling die Watson/Krog-debat.

Die verskillende hoofstukke word netjies saamgeweef soos 'n halssnoer van springbokoortjies. Trouens, elke hoofstuk speel in op die daaropvolgende. Wanneer ‘n mens onder andere die hoofstuk lees “Cultural appropriation: Antjie Krog, Stephen Watson, and Eugène Marais” besef jy hoe die kulturele tradisie geminag en ontken is deur Watson. Hy, op sy beurt, is weer indertyd met die publikasie van Return of the Moon beskuldig dat hy die gegewe gebruik het asof hy ‘n trofeejagter is. Hy het eweneens nou saamgewerk met Pippa Skotnes.

Kulturele transplantasie eerder as plagiaat was dit en sy wys op die verskillende figure wat al met hierdie tekste gewerk het.

En waar negatiewe aantygings gemaak word in hierdie verband wanneer tekste gebaseer is op mondelinge tekste, word die gegewe uiters kompleks, aldus van Vuuren (158).

Aanklagte – en sy betrek Tristia wat met verhulde tekste funksioneer – het myns insiens waarskynlik te make met ‘n tydsgees wat verander. (Post)moderne digters verskaf deesdae endnote vir lesers, vermeendelik om aanklagte te systap. Maar tereg is die debat tussen Krog/Watson eerder ‘n komplekse debat oor oraliteit wat be-skryf word.

Van Vuuren maak ‘n geldige punt in haar studie dat alle skrywers van hierdie oertekste meer erkenning moet gee aan die oorspronklike in hul teensange. En dat hulle name meer prominent op die voorblaaie van bundels of bloemlesings behoort te staan.

Hoewel sy uiters krities staan oor Watson se aanklagte en die “long, distasteful and unnecessary controversy”, maak sy ‘n geldige punt: “… it is also evident that the stature of an established poet is enhanced when drawing from this vital source. In the end material from oral traditions are invariably ‘tapped’ for their vitality by living writers. And the dead cannot speak …” (179).

Haar ekskursies deur al die tekste maak die tersaaklike punt dat hierdie tekste ‘n interdissiplinêre benadering opeis ten einde die oertekste ten volle te begryp (109). Gaan kyk onder andere hoe sy ‘n misinterpretasie van die “uintjie”-lied begrond en hoeveel digters in Afrikaans het al gedigte oor Boesmankuns geskryf: Ernst van Heerden, Boerneef, Barend J. Toerien, Lucas Malan, Johan van Wyk en Hennie Aucamp. (Die gedigte is uitstekend vertaal o.a. deur Douglas Reid Skinner wat die dit vir die buitelandse leser toeganklik maak.) Die uintjie-gegewe speel in op ‘n Toerien-gedig.

Die werk van die romanskrywer Piet van Rooyen word uitstekend onder die loep geneem weens sy besondere gesprek met die Boesmankultuur. Sy was tereg daarop dat kritici (onder andere met Gif) in gebreke gebly het om die identifisering met die Boesmankultuur raak te sien. Die verskillende karakters representeer verskillende fases van kulturele en tegnologiese ontwikkeling: die primitiewe teenoor die Westerse ontwikkeling; gewone, koloniale waarnemers wat geplaas word teen ‘n manlike protagonis wat identifiseer met die kultuur en ‘n “Boesman” word (147). Hierdie waardevolle ontleding is van nut vir die leser wat na dieper insigte soek.

Van Vuuren kan die opposisies – bykans soos ‘n moderne Vladimir Propp – uitwys, omdat sy die kodes ken. ‘n Paar jaar gelede het ek ‘n kursus oor die verskillende dierefigure in Marais se Dwaalstories aangebied rondom die bestaande Afrika-tarot.

Primordialiteit en sjamanisme is belangrike kwessies wat in hierdie kursus bespreek is.

Die generiese term “San” – wat politiek-korrektes gebruik – is ‘n negatiewe woord wat “vabond” of “tramp” beteken in Khoi. Die woord Boesman is tans meer aanvaarbaar en Robert J. Gordon en andere wil die begrip weer “rehabiliteer” (155).

Soos altyd die geval met hierdie soort studie is die bronnelys en endnote van onskatbare waarde vir die speurende leser. Byvoorbeeld, die herinnering aan Rialette Wiehahn se artikel oor al die verskillende interpretasies van Wilma Stockenström se “Die eland”. Verder is daar belangrike kodes wat elke navorser sal inspireer vir verdere leeswerk.

“Man as fire beast” is gebaseer op haar uitstekende D. J. Opperman-huldigingslesing ‘n paar jaar gelede te Stellenbosch. Opperman se “Vuurbees” word uitstekend gelees via onder andere Changeaux se jongste navorsing dat kreatiwiteit sterk interne reëls volg (186).

Op ‘n persoonlike vlak het hierdie leser die stuk oor die lewe en werk van G. R. von Wieligh ontroerend gevind. Die ou verroeste trommel as ‘n metafoor vir sy ellendes: huweliksprobleme, finansiële nood, swak sig, ‘n enkelkamer by sy broer in sy laaste jare …

Die sentrale elemente van sy lewe was: taal, die bestudering van verskillende kulture en reis (40). Die einde van sy loopbaan, in 1895, was in konflik gehul toe hy beskuldig was van sogenaamde wanadministrasie as landmeter. Maar daar kon ook politieke motiewe gewees het. Daar was aanvalle teen Kruger en sy manier van doen in die Transvaal. Van Vuuren plaas briewe van Von Wieligh, selfs ‘n telegram op 13 Oktober 1895 waar hy desperaat is vir werk.

Ongeveer 1898 nadat sy vrou en kinders hom versaak en na die Kaapkolonie vertrek het, verbrand al sy dokumente en daarmee is die soektog na die verlore /Xam-dagboeke verby.

Helize van Vuuren

A Necklace of Springbok Ears is ‘n boek geskryf deur ‘n kundige wat jarelange navorsing vir die leser saamsnoer. Helize van Vuuren het met hierdie boek ‘n kleim afgesteek. Niemand sal ooit weer kan skryf oor enige aspek van Boesman-letterkunde sonder ‘n verwysing na hierdie teks nie. Op dieselfde wyse as wat sy ‘n onbetwisbare outoriteit is oor Van Wyk Louw en Breyten Breytenbach.

Agt hoofstukke wat ‘n mens op enige plek kan begin lees. Elke hoofstuk is inderdaad ‘n oortjie in die enkelsnoer soos die pragtige voorbladfoto - Percival R. Kirby se Bushmen ankle-rattles made from springbok ears - reeds aandui.

Dit is gepubliseer deur SUN MeDIA.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)



Joan Hambidge - Enumerasie [Gedig]

$
0
0

Die kamiljoen se tong kan tot een-en-half keer
vérby die lengte van sy lyf strek;
Die tuatura hou asem vir 'n uur lank op;
Die vlieënde draak-akkedis kan tot nege meters ver sweef;
Die netvormige luislang strek hom 'n brandweerwa;
Krokodille, weet hulle te vertel, kan boomklim;
Groen basilisk akkedisse ski ver oor water;
Varswaterskilpaaie vang vis met die tong;
Titanoboa, 'n dinosorus van slang,
weeg 'n ton, selfs meer.
So min of wat: al hierdie reptiele
was lank voor ons al hier,
op die Galapagos het Darwin hul bekyk,
opgeskryf in Oor die oorsprong van spesies;
bepaald toe nie geweet
dat 'n brandweerwa
nou
nie
betyds
'n klavier
uit puin
kan red.

© Joan Hambidge

Bob Dylan en die Nobelprys 2016

$
0
0

The times they are a-changin'

Die Nobelprys is dikwels 'n omstrede prys en 'n mens kan 'n lys saamstel van groot skrywers wat dit nog nooit ontvang het nie. Waarskynlik was niemand meer verbaas as Bob Dylan toe hy die prys ontvang het nie. BY (30 deser) plaas tereg 'n onderstebo-foto van die sanger.

Wat is verkeerd met hierdie toekenning? Wel, soos Nadine Gordimer jare gelede opgemerk het toe hy op die kortlys was, hy is in die eerste instansie 'n sanger en nie 'n gepubliseerde skrywer nie. En die benoeming as daar 'n werklik gevestigde skrywer soos Philip Roth met 'n "body of work" is? 'n Skrywer wat bepaald kon aanspraak maak, omdat sy tekste nie alleen goeie letterkundige werk is nie, maar terselfdertyd sosiale kommentaar lewer. En al sou 'n vroulike kritikus van Doer Onder hom wil afboender van die Booker glo omdat sy werk te misogonisties is, kan sy kennelik nie die verskil tussen die verteller (of implisiete outeur) en die werklike outeur raaksien nie.

Hier te lande probeer kritici tereg om Breytenbach benoem te kry.

Jurie Wessels verduidelik in By van 30 deser oor waarom Dylan moes wen. Die tyd is ryp daarvoor. Absoluut: die tsoenami van anti-intellektualisme wat die wêreld getref het, word hierdeur bevestig, myns insiens. Maar Dylan 'n oerdigter?

Danie Marais, 'n uiters kundige musiekkritikus, meen dat Dylan wél bekroon kon word. (Oor Bob Dylan en sy Nobelprys vir letterkunde | LitNet. Besoek 30 Oktober 2016.

Hy noem hom 'n groot sanger-liedskrywer. Groot sanger? Nou ja, mens hoef net te kyk na Karen Zoid se program om te weet hoe misleidend die term "groot sanger" kan wees. Ek kyk na die program en skud dikwels net die kop.

"Snobisme is tog niks anders as ’n houding gebaseer op halwe waarhede en onkunde nie", meen Marais. Oor populêre musiek - dit weet ons almal - kan niemand hom troef nie. Maar oor letterkundige kwessies, is daar wel ander menings. Soos oor kanonisering, onder andere. Die kanon kan byvoorbeeld nie "verdwyn" nie; ons kan net her-kanoniseer of de-kanoniseer. En die toekenning aan Dylan as liriekskrywer is ook nie bo kritiek verhewe nie.

"Dis die uitsonderlike skryfwerk in sy liedtekste wat die saak in sy guns beklink het", meen Marais wat eweneens Harold Bloom gebruik om sy argument te staaf:

“All canonical writing possesses the quality of making you feel strangeness at home,” skryf hy in sy The Western Canon: The books and schools of the ages (1994).

As hy na Leonard Cohen verwys as 'n goeie liriekskrywer of Bertolt Brecht, seg ek amen. Die Brecht/Weill-duo (veral wanneer Anne Sofie von Otter dit vertolk) aanvaar ek.

Is dit 'n groot liriek?

Look out kid
Don't matter what you did
Walk on your tip toes
Don’t tie no bows

Better stay away from those
That carry around a fire hose
Keep a clean nose
Wash the plain clothes
You don’t need a weather man

To know which way the wind blows.

Die "visions" van hierdie Johanna is bepaald nie op dieselfde "song page" as Jurie Wessels en Danie Marais nie.

Maar ek wil nie hul ikoon belaster nie. Maar geniet en waardeer dit vir wat dit is. Dis werklik nie hoogstaande letterkunde nie.

Ek lees eerder Saul Bellow of Frank Bidart. Gaan lees "Ellen West":


Callas is my favorite singer, but I’ve only   
seen her once—;

I’ve never forgotten that night ...

—It was in Tosca, she had long before
lost weight, her voice
had been, for years,
                               deteriorating, half itself ...

When her career began, of course, she was fat,

enormous—; in the early photographs,   

sometimes I almost don’t recognize her ...

The voice too then was enormous—
healthy; robust; subtle; but capable of   
crude effects, even vulgar,
                                          almost out of   
high spirits, too much health ...

But soon she felt that she must lose weight,—
that all she was trying to express

was obliterated by her body,
buried in flesh—;
                           abruptly, within
four months, she lost at least sixty pounds ...

—The gossip in Milan was that Callas   
had swallowed a tapeworm.

But of course she hadn’t.


                                       The tapeworm
was her soul ... 



© Joan Hambidge

Tom Dreyer – Dorado (2016)

$
0
0

Tom Dreyer – Dorado. Penguin, 2016. ISBN 9781415208984

Resensent: Joan Hambidge

Water, son en sigarette

I
Tom Dreyer is die skrywer van Erdvarkfontein, Stinkafrikaners, Equatoria en het in Nuwe Stemme 1 gedebuteer as ‘n digter om dop te hou. Daar het ook kortverhale uit sy pen verskyn en hy het kreatiewe skryfwerk onder Etienne van Heerden aan die UK gevolg en aan die Universiteit van Iowa die skrywersprogram gevolg. Hy is bekroon met die Eugène Maraisprys.

Deur die jare het ek gereeld op sy tekste gereageer – met entoesiasme. (WoordeWat Weeg | Tom Dreyer. Besoek 30 Oktober 2016).

Die roman Dorado, uitgegee deur Penguin, word as ‘n magiese roman bemark: “so tergend en onpeilbaar soos die sterrehemel van die Karoo”. Op die buiteblad word dit deur Willem Anker bemark as ‘n ontmoeting tussen David Lynch en Wim Wenders sou hierdie twee filmmakers ooit ‘n road movie hier kom skiet. Hy skryf: “Tom Dreyer ken die taal wat teerpad praat.”

Die verwysing na hierdie twee filmmakers is in die kol. Lynch se verwringing van die werklikheid wat dikwels ‘n nuwe realiteit open en Wenders se keiharde analise van verbrokkelde drome (Kings of the road in 1976) en verlooptheid soos in Paris, Texas (1984) word dus geaktiveer deur die omslagwoorde as ‘n soort subliminale aanwysing.

Die mahi-mahi

Dorado (dolfynvis / mahi-mahi) is ‘n vis wat van kleur verander buite die water. Dit is ‘n pragtige vis en ook bekend daarvoor dat dit ontsettend vinnig groei. Die vis word ook geassosieer met Hemingway se The old man and the sea. (Wikipedia | Mahi-mahi. Besoek 2 November 2016).


II
Gilbert du Toit verwerk die dood van sy pa. Hy probeer tot rus kom in Kuilsriver, PE en in die Karoo. Sy waarneming word aangetas deur sy medikasie: “Snellerien is vir Gilbert net ‘n woord; hy weet nie dat dokter Menkowitz se pille deurspek is daarvan nie, ook nie na dat dit, na gelang van die dosis, óf euforie óf stuiptrekkings kan veroorsaak nie. Hy weet net dat hy verrassend goed voel toe hy ‘n paar ure later by die Springbok bar insweef …”(20).

Die roman speel ‘n besondere spel met die leser rondom waarneming. Wat is waar? Wat is verbeel(d)? Waarskynlik is die kode van die Dorado hier van belang wat van kleur verander.

Gilbert is in outydse romanterme, ‘n onbetroubare verteller. Oor die sogenaamde storyteller-as-liar is daar al baie geteoretiseer, en die Lynch- en Wenders-kodes aktiveer eweneens ‘n spel hiermee. By Lynch is selfs die kamera nie te vertrou nie, soos ons weet uit Žiżek se analises in The pervert’s guide to the cinema. ‘n Meisie sing op die verhoog; maar dis nie sy nie; dis ‘n geblikte stem.

Woonstelblokke is met opset verkeerd genommer.

Gilbert dink aan die kartonknipsels uit sy jeug waardeur ‘n mens jou kop steek om in iets anders te verander (34). Die helioskoop word betrek (35) en telkens moet die leser uit die inligting oor visse en fossiele en parke kophou om die verhaal te navigeer. Hierom word daar verwys na ‘n teodoliet. (En ‘n semantiese studie van H. J. Snyman gebruik die teodoliet as metafoor.)

Die verbintenisse tussen dinge (J. H. H. van den Berg se metabletika) en Blunt se Fossil Reptiles of the Karoo, die Boereoorlog en die spel tussen klein menslike geskiedenisse en die groter historiese werklikhede, maak van hierdie roman iets besonders.

Wie kyk? En bestaan dít wat ons sien? Of is Gilbert se obsessie met visse en reptiele tersaaklik?

Die leser ervaar ‘n oorrompelende spanning tussen werklikheid en fantasie by die Groot-Karoo Musiekfees. En daar is die Howlers.

Gilbert is getraumatiseer (What is eating Gilbert Grape?) na die dood van sy vader en sy houvas op die realiteit is ietwat prekêr. Die roman het ‘n sterk filmiese kwaliteit. (Die roman spruit voort uit die teks Polaroidlees ons in die nawoord, en Dreyer se gebruik van die kamera en foto is dus bekend.)

Ook die ervaring van musiek op die hoofkarakter se psige word puik beskryf (88). Dit gaan dus telkens om ‘n primordiale geroer en die soek na patrone in hierdie roman.

III
Die eerste afdeling “El Dorado lê ver” word opgevolg met “Fortuna”. Dan is daar “Op besoek vanaf ‘n verre rif” (wat die visbeelde aktiveer).

Fortuna op Latyn is die godin van geluk: goeie of slegte geluk.

Natuurlik stuur hierdie roman op laasgenoemde af. Ek wil nou nie hier spoilers gee nie, maar ‘n ongeluk – briljant beskryf – aktiveer ‘n jeugtrauma (107 – 111).

Dit lewer uitstekende kommentaar op die binnespraak van die apofeniese persoon wat in sy hallusinasies boodskappe raaksien.

En die impak van medikasie op waarneming.

Filmies, helder, aangrypend. En so slim gekonstrueer: visse en verwysings; hallusinasies en die Ichtus-beeld. Dis ‘n boek oor ‘n verslingerde reis in die herinnering; een van verglyding en verwoesting. As die roman ooit verfilm word, moet Johnny Depp beslis Gilbert vertolk!

‘n Aangrypende, uitstekende roman geskryf in poëtiese prosa. 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Hester Kruger - Een nag en 'n bietjie (2016)

$
0
0


Hester Kruger - Een nag en 'n bietjie. Human & Rousseau, 2016. ISBN: 9780798174152

Resensent: Joan Hambidge

Die subtitel van hierdie teks is “gebaseer op ‘n ware verhaal” en hierdie leser het bewus geraak van ‘n televisie-onderhoud met die skrywer en een laat nag ‘n ontroerende onderhoud gelees. Dit is ‘n teks wat handel oor die werklikheid wat almal al eerstehands beleef het, of op hoorsê ervarings berus: die aanval of moord of ontvoering of rooftog van ‘n vriend of familielid. Almal van ons ken iemand wat al gewelddadig aangerand is. Of vermoor is.

Een nag en ‘n bietjie handel oor Margaretha se vertelling van haar en haar man se belewing van ‘n ‘n rooftog en ontvoering op ‘n plaaswoning tussen Middelburg en Groblersdal. Hulle oorleef dit – en hierdie boek moet dan gelees word binne die kader van trauma-letterkunde. Op die agterblad word dit aangeprys deur Antjie Krog wat dit ‘n “buitengewoon meesleurende leeservaring” noem en Elmari Rautenbach wat duidelik emosioneel op die boek gereageer het.

Mike Cruywagen se omslag van ‘n plaaswoning is presies soos dit lyk in daardie wêreld: strak, sober, sonder fieterjasies. Die natuur soos die mense is sterk.

Dis ‘n dun boekie, maar die implikasies van hierdie teks het ‘n enorme reikwydte.

Die aanval word gesinkopeer met jeugherinneringe en vriendskappe met swartmense. Die jeug was ras-loos en daar was goeie verhoudings met swart mense. Die verteller aktiveer die vrees vir verkragting deur ‘n terugspel met ‘n jeugdige seksuele ervarings met ‘n swart seun. Telkens tydens die aanval, is daar die vrees vir verkragting – wat simbolies beskryf word: “Sy en die bed is uitgespaar” (50).

Die terugflitse gebeur assosiatief en die leser kan telkens die tydspronge hanteer, bykans soos met die montage-tegniek in ‘n film waar terugflitse die hede verduidelik soos in Nicolas Roeg se film Bad timing(1980) waar die letterlike oopsny van Milena se keel na haar selfdoodpoging saamspeel met die herinnering van haar minnaar, Alex se aandadigheid.

In hierdie roman is ons binne-in die kop van die verteller en haar binnespraak is die fokus vir alles wat met haar en haar man gebeur het. En altyd sal voortbroei in die herinnering en gemoed.

Die vrou in die verhaal weier om 'n eensydig-rassistiese interpretasie te maak van die gegewe. Ten spyte van uitkenningsparades en kontak met ander mense, wat deur dieselfde hel gegaan het, bly sy positief. Waarskynlik haar jeugervarings met Lerato en Mpho? Die redes vir haar manier van verwerking is gebou op 'n bepaalde lewenssiening.

Dit moet uiteraard saamgelees word met Antjie Krog se Relaas van 'n moord (1995), 'n teks wat eweneens aanspraak maak op die werklikheid, maar die gegewe fiksionaliseer.

Veral twee klassieke tekste doem voor die geestesoog op en is in hierdie vertelling ingebed: Disgrace (1999) van J.M. Coetzee en Robert Pirsig se Zen and the Art of Motorcycle Maintenance (1974).

Elke stukkende onderdeel in haar gemoed is dus metodies uitgehaal en met 'n nuwe een vervang.

Ook Jostein Gaarder se The Ringmaster's Daughter (2001) wat as motto en dus as vertrekpunt sig aanmeld.

Rekolleksie, herinnering, onthou - dit word 'n relaas van oorlewing. Die boek word opgedra aan Mpho Mokwena (1942 - 1961) en Lerato Maponyane (1946 - 2014).

"Is daar dan iets soos dooier as dood?" (57).

Dit is 'n boek van oorlewing. Daar is dan ook iets lewendiger as die lewe, self: 'n boek wat aan ander mense se pyn woorde en vertroosting bied.

Pirsig se verhaal is 'n "quest"-roman. Hierdie teks is 'n psigiese een.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Joan Hambidge - Chirografie [Gedig]

$
0
0

“Dear friend, A Letter always feels to me like immortality because it is the mind alone without corporeal friend.”
Emily Dickinson aan T. W. Higginson, Junie 1869

In haar lewe publiseer Emily D.
glo net sewe, aanvaarbare verse,
versend aan haar kritiese mentor,
ene Thomas Wentworth Higginson.
Nadoods word die dubbelspraak,
haar ragfyn binnespraak, ontrafel.
Die ryke tapisserie van haar lewe
lok ooreenkomste uit, merkwaardig,
ook met haar, wat op die Stadionkade
mymer oor die digkuns as 'n valreep.
'n Ander Thomas stel hom aan,
in 'n ander tyd en ruimte, as preseptor.
Sy holruggeryde argumente oor
veelheid, vormvit en byltjies slyp,
neem my terug na Emily D. en Elisabeth E.
Waarom dié onheilige Thomas,
'n blote tentmaker van die woord,
glo bó hulle in 'n durende akkoord?
Viewing all 819 articles
Browse latest View live