Quantcast
Channel: WOORDE WAT WEEG
Viewing all 819 articles
Browse latest View live

Fiksie | Die geskenk | 2020

$
0
0

No such thing as a free lunch 

My vriendin in 'n kusdorpie is die eienaar van 'n gastehuis. 

"Ek kan al 'n boek skryf oor mense en hul gedragspatrone. Die grypsugtigheid. Die vermetelhede ..." Sy bly stil. Sy laat haar selde emosioneel sterk uit oor mense.

"Die ergste keer was daardie mense wat 'n naweek as geskenk ontvang het. Man en vrou. Skaars gegroet met die aankoms en vertrek sonder om te groet. Die muesli-bak geplunder en al die vrugte in die eetkamer saamgeneem."

 

Wat is die onderliggende en dus onsigbare geskenk tussen gee en ontvang?

Gee sonder om iets terug te verwag?

 

So neem ek jou - as gas - om jou te bedank vir alles na 'n 5-ster-hotel op dieselfde kusdorpie.

 

Van meet af aan was alles verkeerd volgens jou. Die kamer verkeerd gedekoreer. Die vloere ongelyk in die kamer. Die TV-kas vibreer wanneer 'n mens verby stap, mor jy. Ook die kos kritiseer jy. As goeie sjef laat ek jou begaan.

 

Net die wyn was nie gekurk nie. Wel buitensporig duur volgens jou.

 

Die aand is ons bed toe. Jy keer jou rug op my nadat jy Visi gelees het.

 

Die volgende oggend met brekfis knor jy oor die koue harde botter.

 

Toe ek die rekening vereffen, loer jy skelm om te sien wat die geskenk gekos het.  Miskien omdat jy as man voel 'n vrou kan nie vir jou betaal nie?

 

Net ás jy vir terapie betaal, werk dit. 'n Ou standpunt toegedig aan Freud.

 

Dieselfde geld geskenke. Het ek en die eienaar van die gastehuis iets anders verwag?

 

Dalk 'n onsigbare koepon van erkenning? Respek?

 

Tans wemel die stad van haweloses en bedelaars wat iets verwag.

 

"Waar is die skoene?", eis die bedelaar toe 'n vrou vir hom brood gee.

 

Altyd is daar 'n korrektief op 'n aanname. 'n Hawelose het vir hom 'n tentjie langs die park in Tamboerskloof opgeslaan. Reg oorkant my venster waar ek skryf. Bedags slaan hy die tentjie op en plaas dit in rolle teen die draad. Hy het 'n ou fietswieletjie as 'n soort tempeltjie opgerig en smiddae vee hy die straat skoon.

 

Soggens praat hy in tale. Volgens 'n taxi-bestuurder is hy 'n bietjie mallerig.

 

Toe ek hom vra wat hy hier maak, bely hy dat hierdie stad 'n geskenk van God is. 

En dat hy elke oggend tweekeer bid om genade. Dat hy soveel genade beleef ver van die Kongo.

 

En ek dink aan my ou vader wat ook die gewoonte had om tweekeer dankie gesê het in gebed:

 

My pa sluit die deur tweekeer

 

Tweekeer altyd

tjekkereer my pa

die voordeur voor

ons na iewers vertrek.

 

Presies tweekeer:

my pa tjekkereer

die slot van die deur

voor ons uitjek.

 

Geen bose magte betree

ons huis omdat my vader

presies ja presies tweekeer

praat met sy hemelse Vader.

 

So verstaan ek geskenke beter nadat ek hierdie geskenk uit die hawelose se hand ontvang het.

 

 

© Joan Hambidge

 


Gedig | Joan Hambidge - Bethlehem-ster | 2020

$
0
0

As die drie wyse manne vandag

uit die Ooste sou aankom,

sal hulle maskers dra;

 

nes Maria en Josef

in die stal aangetref

met die Jesus-kind.

 

Nie goud, wierook

of mirre sal hulle bring

hierdie keer nie.

 

Saam met geloof, hoop

en liefde waarskynlik

'n antidoot

 

téén die kroon van siektes

wat alle sekerhede

nou óntmasker.


Resensie | Johann Lodewyk Marais – Veldboek. Imprimatur | 2020

$
0
0

Johann Lodewyk Marais – Veldboek. Imprimatur, 2020. ISBN 978-0-620-90396-7 

Resensent: Joan Hambidge  

 

Die mens moet die aarde bewoon:

die helder, onbekende hier.

 

I

 

Johann Lodewyk Marais se gedigte moet gelees word asof die digter werk aan een groot oeuvre. 'n Mens dink hier aan T.T. Cloete se opmerking met Allotroop dat hy 'n katedraal bou en selfs mindere gedigte word binne die katedraalwêreld belangrik.

 

Telkens is daar temas – soos oor insekte byvoorbeeld of oor die ekologie – waarby hy stilstaan. Hy is bekroonde digter, reisbeskrywer, historiese navorser en samesteller: Groen: Gedigte oor die omgewing (1990), Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing (1997, medesamesteller Ad Zuiderent) en Honderd jaar later: Ter viering van die publikasie van Eugène N. Marais se “Winternag” op 23 Junie 1905 (2006).

 

Sy gedigte is ondersoekend en fenomenologies. Hy staan stil by die "dinge" soos J.H. van den Berg, die metabletikus. Hy is terselfdertyd nostalgies en intellektueel-besinnend. Hy kyk térug na sy plaasagtergrond as 'n ouer, gedistansieerde persoon. 

 

Sy verse werk dikwels met die litotes, dus met die eenvoud of enkelvoudigheid van die understatement.  Vormbeheer is hier (soos "Bobbejaanoor") en sy vers oor Diego Maradona bly 'n wenner. [1]

 

Sy gedigte word gekenmerk deur spaars, min woorde. Soms is dit dalk te min, maar wanneer hy die gedig laat balanseer tussen suggestie en uitvoering, is die gedig 'n klein meesterstuk soos:

 

Atlasseder

Cedrus atlantica

 

In die Atlasberge van Marokko 

het die sade in goeie grond geval

en uit die molm onder die ruigte

verskyn dan klein, stekelige boompies.

Penwortels wat diep in die berg indring,

anker die seders aan die donker eeue

wat in die ewige lewe verskiet.

 

Hoe sou 'n mens sy digkuns opsom? 'n Moderne Leipoldt? 'n Voortsetting van Opperman se Afrika-bemoeienis?

 

Een van die vreugdes van die afgelope semester was om weer Leipoldt te doseer saam met Opperman. Hoe digters by mekaar aansluit en mekaar "voltooi", bly vir hierdie leser 'n invalshoek. Ons dink hier aan Opperman se "Mukene" (uit Dolosse van 1963) met sy slot:

 

Stiltes stippel in dié land

klippe tot voormalige verband.

 

Die metaforiese sintese in hierdie gedig (om Henning Snyman aan te haal uit Mirakel en muse, 107) is eweneens aanwesig in Marais se werkswyse.

 

Ons vind dan by Marais die verkenning van verskillende Afrika-ruimtes via bome o.a. soos hierdie vers oor Namibië:

 

Witgat

Boscia albitrunca

 

Die lokale en gemoedelike 

tussen die verknotte witgatbome

wat vroegaand oor hulle skaduwees hurk,

word versteur wanneer die trop slagbokke

tussen die skewe stamme deur beweeg,

na die laaste blare en takkies reik

en gedwee verby die hekpale tou. 

 

Okahandja, Namibië

 

Die ikonisiteit van die gedig is vernuftig: die vorm van die gedig stel die beweging van die bokke verby die hekpale voor.

 

Die wetenskaplike naam en die volksnaam van die boom bring 'n verdere spanning na vore en die digter verskies ook in sy vers noemname vir bome.

 

Die vader het o.a. 'n peul uit 'n ander landskap, die ou Suidwes, saamgebring en nou is hierdie boom besig om die koue van die Vrystaat in eensaamheid te trotseer:

 

Kameeldoring

Vachellia erioloba 

 

My pa het ’n peul soos ’n bok se oor

uit die kameelveld saamgebring en tuis

oopgebreek om die pitte uit te skud.

Nou trotseer hierdie reus van ou Suidwes

met sy plat kroon en harde, rooibruin hout

en kleure van die diere van dié land

die Vrystaatse winters alleen en koud. 

 

Dikwels is daar personifikasie en in die hand van 'n mindere digter sou dit steurend kon wees, maar die ou reus trotseer die koue winters soos 'n mens.

 

Wanneer Marais dan oor hierdie landskap skryf, tree hy in gesprek met Kobus Lombard en Hendrik J. Botha wat in hul gedigte hierdie wêreld verken. 

 

Landskapdigters skryf uiteraard meer as oor landskap. Dikwels word dit personifikasie of 'n spieël van die innerlike van die digter wat identifiseer met die wêreld om hom.

 

Die hele kwessie van migrasie en die huidige politieke kwessies rondom mense wat nie meer geborge in 'n hul wêreld voel nie, vind ons hier:

 

Peulmahonie

Afzelia quanzensis

 

’n Onwettige immigrant 

van Mosambiek bring die sade

van ’n mahonie oor die grens,

voel met sy vingers in ’n sak

die gladde, blink omhulsels

en gewaar met die terugkyk

in ’n blik deur die taxi-ruit

agter hom op die horison

die dik rook van ’n houtskoolvuur. 

 

Verder is daar verse oor Gaboen en ander onbekende Afrika-streke voorheen nog nie besoek in ons digkuns nie.

 

 

II

 

Hierdie beeldvers oor Pierneef is betowerend mooi.

 

J.H. Pierneef

1886–1957

 

In Afrikakuns ontdek hy 

lyn, sirkel, driehoek en vierkant

en herhaal twee of drie kleure

ritmies in suiwer samehang.

 

Hy teken bome oor en oor: 

getuie van die lewenskrag 

tussen hemel en aarde

net soos die natuur dit beskik.

 

Stroop bome van hulle blare, 

skep soetdoring en maroela

teen die aandrooi spel van wolke

geëts bo die hart van die land.

 

Blaai vinnig na sy ex libris

en sien ’n monnikefiguur

staan by ’n hoë, steil esel

teen ’n duistere kremetart.

 

 

III

 

Dit is 'n boeiende bundel wat bekoor, ontroer en die leser imponeer met navorsing wat oënskynlik moeiteloos tot gedigte getransformeer is.

 

Die vierde afdeling heet dan Geestelike eskarp en 'n mens vind hierdie digter 'n soeke na spirituele sin.

 

Marais is 'n tydgenoot – soos Johann de Lange – en hul verse bly vir hierdie leser en digter 'n belangrike verslag van hoe ontwikkeling plaasgevind het. [2] Die gesprek met Willem Boshoff registreer ook iets hiervan in die slotvers "Verklaring". 

 

Jeugherinneringe, grondhervorming, Afrika-belewenisse, die migrasieroetes van mense en plante (as peule saamgeneem word) en 'n uitgebrande boom, en die gedig  as 'n totem, vind ons hier. Die ouer digter kyk telkens terug na sy ongeskonde plaasbestaan en met helderheid kan hy nou daardie mense en sy wêreld verstaan. Die plante en bome en swamme en grasse  en ligene aktiveer dus meer as net die natuur. Neil Cochrane noem dit tereg op die agterplat "digterlike botanie". Hierom dan 'n vers oor Thomas Pakenham soos ander botaniste en navorsers.

 

Die digter as nomaad, maar geborge in sy jeugervarings (bykans 'n idille).  'n Gedig soos "Inkblom" is dan ook 'n ars poetica en "Rooi-ivoor" is beeldend mooi:

 

Rooi-ivoor

Berchemia zeyheri

 

Rooi-ivoor, ek skryf by die lig 

van ’n lampstaander uit jou hout 

gedraai deur ’n kundige hand 

en soek woorde om jou te eer.

 

Rooi-ivoor, ’n naakte byl het 

jou gevel, wolframversterkte

saagtande deur jou bas geklief

en ’n beitel jou afgesplyt.

 

Rooi-ivoor, ná die ritseling 

van jou blink, geskulpte blare

stil geword het, klink jou naam op

in ivoordraers se donker bloed.


Imprimatur het met hierdie bundel 'n belangrike digter, sowel tematies as tegnies, vir ons gegee. 'n Mens kan net die hoop uitspreek dat ander boetiekuitgewers hierby kan leer met betrekking tot versorging en gehalte.

 

 

Nawoord:

 

[1].  Die vers oor Diego Maradona speel met die idee van die vlugvoetigste ... hy wat met passie die nommer 10 dra. Ons vind dieselfde passie en vlugvoetigheid in hierdie bundel.

 

[2]. Hierdie bundel het die volgense vers geïnspireer:

 

Geestelike eskarp 


vir Johann Lodewyk Marais

 

Die landskap 

van my jeug:

'n aalwyn,

bloekoms, wilgers.

 

Aalwyne oorleef,

bloekoms ruik verdrietig,

wilgers treur

in 'n waterspieël.

 

Onvermeld:

die sipresse

langs ons huis

posmeesters van die dood.

 

 

Bibliografie

 

Snyman, Henning. 1983. Mirakel en muse. Johannesburg: Perskor.

 

Gedig | Die man van God versus die hand van God | 2021

$
0
0


Pous Franciskus loof Diego Maradona 

as grootse digter van die sokkerveld. 


Triolet, distigon of villanelle?, sou u vra. 

Van flenterlappie-bal tot oor die wye veld. 

 

'n Weerlose, brose man, glo verslaaf 

aan dwelms en applous, as ek sou raai.. 

 

In watter vorm giet ons vir hom 'n lykdig? 

'n Reëlbreker selde tog gesalfde of heilige. 

 

A nee a. Die pous se woord is altyd wet. 

Chiasmus, apostroof of prolepsis vir fyn-fyn let. 


© Joan Hambidge

Gedig | Enallage | 2021

$
0
0

vir Leon Strydom 

Vir die groot geleentheid, die dood 

repeteer ons daagliks in Covid-tyd, 

met 'n heil die leser of bottoms up! 

 

'n Preludium, program of voorspel: 

lewe soos 'n digbundel 

"a disguised pronunciamento". 

 

Dalk speel John Williams nou 

vir jou in daardie plek sonder tyd of nood? 

Navorsers vra oor "musing the obscure". 

 

Op 'n foto sit jy met Dirk-der-duisende: 

nou 'n blote verwisseling van vorme 

van hier tot vérby gradatio. 


© Joan Hambidge

Profiel | Tennessee Williams | 2021

$
0
0

Deel I

 

I

 

Die dramaturg Tennessee Williams is die meester van die ver-beelding én uitbeelding van die onvervulde droom en selfbedrog. Ons dink aan Blanche Dubois in A streetcar named desire waar haar brose psige getakel word deur die brutale Stanley Kowalski. In Elia Kazan se uitmuntende produksie (met Marlon Brandon en Vivien Leigh) word spieëls gebruik om die spel tussen waarheid en leuen oor te dra. Dit word eweneens 'n troop in Sweet bird of youth waar Geraldine Page, die  alkoholiese aktrise, skitterend vertolk teenoor die manipulerende antagonis, gespeel deur Paul Newman. Die gigolo wil haar posisie gebruik om 'n Hollywood-akteur te word, maar word gekonfronteer met sy jeugliefde (en verlede). Sy moes weens sy seksuele gedrag 'n histerektomie ondergaan; iets waarvoor haar gesiene en politiek ambisieuse familie hom nie kan vergewe nie. Die waarheid rondom sy dogter se operasie word ontmasker in 'n slordige toneel.

 

Die aktrise "herstel" en keer terug na films en die jong man - na 'n aanrandingstoneel - loop met sy jeugliefde weg. Ten spyte van die aktrise se selftwyfels, was haar voorskou tog 'n sukses. 



II

 

Suddenly, last summer is waarskynlik 'n mindere Williams-film. Maar die intrige rondom die film se produksie het 'n gedig geïnspireer. Die brose Montgomery Clift as die dokter wat die "mal" Elizabeth Taylor in beheer moet hou met 'n lobotomie, het Katherine Hepburn daadkragtig laat optree. Clift was reeds op die afdraande-pad weens drank- en dwelmmisbruik en Hepburn het beskermend oor hom gevoel. Toe die produksie klaar was, het sy in die regisseur se gesig gespoeg.

 

Cabeza de Lobo


In nog 'n slapelose nag

sonder jou, draal Suddenly, last summer 

op die dvd-speler.

 

In nog 'n troebel nag

sonder jou sien ons Katherine Hepburn

as die ontkennende matriarg.

 

In nog 'n droomlose nag

sonder jou word die seun

vermoor oor sy homo-aard.

 

Elizabeth Taylor glo kon 

met method acting die trane aandraai 

na die dood van haar man, Michael Wilding.

 

Katherine Hepburn spoeg 

in die regisseur se gesig,

toe hy Montgomery Clifft wou vervang.

 

Alkohol en dwelms en intriges

agter die scenes met Mankiewicz

deur Gore Vidal en Tennessee Williams

 

gekritiseer oor 'n ploertige einde.

In hierdie slapelose nag

wonder ek oor óns einde?

 

Die stiltes tussen ons verkieslik

bó 'n slordige herontmoeting:

eerder alles bewimpel en toehou.  

 


III

 

Vir my tans is die allerhoogtepunt van Williams se werk The night of the iguana met John Huston as regisseur. Ook hier was daar drama agter die skerms. Liz Taylor het saamgekom met Burton en boonop was Williams ook daar. Die pers het dit alles uitgeblaker.

 

Om al die gemoedere in toom te hou, het elkeen 'n speelgoedrewolwer gekry om mekaar te skiet indien dinge hand uit ruk. 'n Speelse grap om die gemoedere te kalmeer; veral met twee vroulike sterre aan boord.

 

Die film met Burton as die "defrocked priest" werk met etlike opposisies: geloof en twyfel; seksualiteit en kilheid; kreatiwiteit en gebrek aan inspirasie.

 

Die priester word verban uit die kerk weens 'n seksuele oortreding. Hy word 'n reisgids vir Blake Tours en op 'n toer na Puerto Vallarta, Mexiko is die hatige oujongnooi, Miss Judith Fellowes (Grayson Hall), sy antagonis wat hom beskuldig dat hy haar sestienjarige niggie Charlotte Goodall verlei het, vertolk deur Sue Lyon (wat natuurlik Lolita was in die film Lolita)

 

Dit is egter nie die geval nie. Sý is die nimfet wat later met die butch busbestuurder wegloop. Voor dit gebeur probeer Miss Fellowes - wie se broer 'n regter is - hom aankla by Blake Tours. Boonop is Shannon op probasie en sy toekoms by Blake Tours hang in die weegskaal. Een misstap, en hy is weg. 

 

Shannon probeer haar fnuik sodat sy nie sy baas kan bel nie en stuur die bus na 'n ander hotel in Mismaloya in die hoop dat sy vriend Fred hom sal beskerm. Fred helaas is twee weke terug oorlede. Die hotel het ongelukkig 'n foon gekry en Maxine Faulk (Ava Gardner) help Shannon om die humorlose vrou te pypkan. Wanneer die gesprek met die baas wel plaasvind, is Richard Burton op sy stukke in sy monoloog wanneer hy die baas beledig.

 

Teenoor die  sexy Maxine wat pollefink met die jongetjies in die see, vind ons Hannah Jelkes (Deborah Kerr) van Nantucket saam met haar grootvader, die digter (Cyril Delevanti). Hy lees gedigte voor en sy skilder gaste om vir hul verblyf te betaal. Dis Shannon wat Maxine oorreed om hulle in te neem.

 

Die wending in die film gebeur wanneer Shannon dronk raak en probeer selfmoord pleeg. Die cabana seuns maak hom vas in 'n hangmat. Die twee vroue kalmeer hom - in die agtergrond is die iguana (vasgemaak) 'n simbool van primordialiteit. Wanneer hy losgesny word, kom alles los. Elkeen word as't ware met sy of haar ware aard gekonfronteer.  (Vroeër in die film hardloop die jong mans agter 'n iguana aan; die nimfet stap verby die iguana.)

 

Die oupa voltooi sy groot gedig en sterf. (Hier is wel satire wanneer ons sy gedigte aanhoor.)

 

En in 'n konfrontasie met Shannon word die oujongnooi se seksuele voorkeure ontmasker. Sy is verlief op haar niggie. Dié verdwyn egter ten slotte met die busbestuurder. Wanneer sy vertrek, urineer Shannon op haar tas en sy word deur Maxine gedwing om te betaal vir die ekstras.

 

Shannon en Hannah bely elkeen hul verledes. Hannah se liefdeservarings was maar skraps (o.a. 'n aanraking in 'n filmhuis met 'n klag van molestering wat wel opgehef word, en as 'n volwasse vrou in Hong Kong 'n blote aangee van onderklere na 'n vet, masturberende man). Shannon op sy beurt vertel presies hoe dit gebeur het dat hy uit die kerk geskop is weens 'n seksuele misstap.

 

En Maxine bied aan hulle die geleentheid om die hotel te bestuur.

 

Hannah wys dit van die hand en verlaat Maxine en Shannon wat waarskynlik in 'n gelukkige verhouding sal wees.

 

 

IV

 

Die insigte in mense en die dialoog is voortreflik. Hannah wys daarop dat elke mens in iets of iemand moet glo. Die hele film werk met die spel tussen die fantasie en realistiese vlak. Die hangmat-toneel word verbind met die kruisigingstoneel. Wanneer die nimfet Shannon se kamer laatnag besoek, breek hy per ongeluk 'n glas waaroor hy loop. Pyniging? Self-flagellasie om by die waarheid uit te kom?

 

Shannon gee ten slotte sy kruis aan Hannah wat dit vir geld kan verpand. Daar is verwysings na "spooks" wat uitgedryf word (die fantasie-vlak) en die verlede wat mense agtervolg. Die priester word teen die Baptiste-toeriste geplaas wat vrolike en simpel liedjies op die bus sing en niks begryp van hul reis nie. Wanneer hulle mense sien klere was in 'n rivier word daar gepraat oor wasmasjiene tuis. Maagaandoenings en onvermoë om die hitte te hanteer kom onder die soeklig. 'n Pap band en Shannon wat die bus wederregtelik bestuur en die enjin tydelik buite aksie maak, omdat hy 'n onderdeel saamneem.

 

Die nimfet dans met die jong viriele manne en swem saam met Shannon - sy is die enigste een wat die reis geniet. 

 

"Chastity is a worse lunacy", hoor ons.

 

"Don't rob me of my small accomplishments", pleit Shannon wanneer Maxine vir hom in die bresse tree.

 

En oor 'n lae emosionele bankbalans wat maak dat Shannon nie meer 'n tjek kan uitskryf nie, is nog 'n wonderlike oomblik.

 

Maxine gee vir Shannon Fred se skoene wanneer hy aankom by haar hotel. 'n Vooruitwysing dat sy dink hy sal haar visvanger-man se skoene kan volstaan. Op haar beurt is sy oënskynlik losbandig, maar met 'n insig in mense en hul behoeftes.

 

Die spel van Richard Burton en Ava Gardner is voortreflik. Williams verbeeld dikwels mense op 'n afgrond wat stadig ineenstort of hulself regruk. Hierom was die onlangse produksie in grendeltyd in Londen en New York te luid en over the top. 

 

 

© Joan Hambidge

 

Tekste en films:

•          The Glass Menagerie (1950)

•          A Streetcar Named Desire (1951)

•          The Rose Tattoo (1955)

•          Baby Doll (1956)

•          Cat on a Hot Tin Roof (1958)

•          Suddenly, Last Summer (1959)

•          The Fugitive Kind (1959)

•          The Night of the Iguana (1961 / 1964)

•          Ten Blocks on the Camino Real (1966)

•          Boom! (1968)

•          Stopped Rocking and Other Screenplays (1984)

•          The Loss of a Teardrop Diamond (2009; oorspronklik 1957)

Profiel | Tennessee Williams (Deel II) | 2021

$
0
0

Deel II

I

 

In die kort dokumentêr aan die einde van Sweet bird of youth (1964), Richard Brooks se uiters suksesvolle film, word die kyker daarop attent gemaak dat Paul Newman met hierdie film sy kompetisie met Brando kon afskud. Hier kom hy tot sy reg as die emosieswendelaar met drome om 'n Hollywood-ster te word. 

 

Al die karakters verteenwoordig aspekte van Tennessee Williams se karakter: die versugting na roem en veral die vrees vir mislukking, meen 'n kritikus. (Die youtube-onderhoude het hierdie kyker eers na die films gekyk. Williams ondermyn sy posisie as uitstaande dramaturg met teatrale opmerkings. Dalk maar senuwees ...)

 

Wat wel tersaaklik is vir ons is dat die teaterproduksie gesensureer is in die film: die kastrasie in die slot word bloot 'n neus wat gebreek word. (Ofskoon die kyker dit simbolies kan vertolk) en die aborsie-toneel word in die teaterproduksie duideliker uitgespeel. Dus twee "reggemaakte diere", soos wat Boss Finley waarsku, verlaat die dorp en vind geluk. Die film is skitterproduksie met veral Geraldine Page as die histrioniese aktrise, Alexandra Del Lago en Heavenly (vertolk deur Shirley Knight) kom in opstand teen die vaderfiguur, die brutale en ambisieuse Tom Boss Finley, wat almal probeer beheer. Die jong lover, Chance Wayne (Paul Newman), kry 'n kaartjie uit die dorp en die dogter word op 'n Europese reis gestuur.

 

Later gebruik hy sy seun om Alexandra Del Lago te intimideer om die hotel te verlaat, omdat hy weet sy is daar saam met Chance.

 

 

II

 

Die film gee 'n siniese interpretasie van Hollywood en kitsroem wat ooreenstem met poitieke oppurtunisme. Die film verwys na die begin van die Koreaanse oorlog en Truman se optrede. Nou onlangs het ek weer The killing fields gesien ...

 

"Vandag is jy 'n niemand; more is jy 'n iemand. Dink groot", blaf Boss Finley. 

 

Sy minnares, Miss Lucy, word aangerand wanneer sy hom beswadder as 'n swak minnaar. Haar vinger word toegeklap in 'n duur paaseier. Sy noem hom Daddy-Doll.

 

"I like you. You are a nice monster", bely Chance sy "liefde" aan Alexandra. Verhoudings word gebruik om iewers te kom of te manipuleer en werklike liefde is verloeder deur generiese siekte. Verder manipuleer Chance die ouer aktrise. Hy pers haar selfs af met 'n bandopnemer waarin sy haar verslawing aan dwelms bely.

 

Hollywood - wat gesien word as iets waarna jy behoort te streef as akteur - is eweneens 'n skynwêreld; sinies beskryf as Successville.

 

Jy het geen plek om af te tree as ou aktrise nie, meen Alexandra. Almal vergeet van jou en jou voorland is om ander op te lei of skinderkolomme te bedryf.

 

Later beskryf Heavenly Hollywood as 'n "phony dream" en 'n "wooden horse" op 'n mallemeule.

 

 

III

 

Hier is eweneens spieëls aanwesig. Die kamera is die grootste een van almal en die close up is jou vyand. Chance dwing Alexandra om te sien hoe oud sy is deur in die spieël te kyk.

 

 

IV

 

Die dialoog is puik.

 

"You are having a wake, not a ball."

"I am not part of your luggage."

"Each of us have our own private hell to go to."

"You are a floppola."

"Failure is a highly contagious disease."

 

 

V

 

Die politiek, Hollywood en die kerk word gebruik as magsbasisse waarteen die karakters hul behoeftes, begeertes en verydelde drome uitspeel. Chance neem blomme vir sy afgestorwe moeder reg voor die kerk. En by die paasdiens ontdek Chance die volle waarheid oor sy geliefde en wat hy haar aangedoen het. Nie toevallig nie meegedeel deur die naam-van-die-vader, Boss Finley.  Hy moet uiteindelik die gevolge dra vir sy dogter se onvrugbaarheid en die omkopery van die dokter, ene Scudder aan wie hy ook sy dogter wil afsmeer.

 

Die aktrise word egter opgebel. Ten spyte van haar onsekerheid en paranoia meen haar agent die film is puik en sy word teruggelok Hollywood toe. Met Lucy aan haar sy wat deel was van die kampanje om haar eks-mnnaar, Boss Finley as 'n verneuker aan die kaak te stel. Hy staar vervolging in die gesig.

 

'n Samespel tussen die verbeelde, simboliese en Reële ordes. Lacan het by geleentheid geskryf:

 

"Die opgestelde misterie van die Heilige Drie-Eenheid gee 'n beeld van wat in ons bestaan; dit illustreer ten beste paranoïese kennis ..." (Turkle, 236).

 

En veral die ou aktrise is erg paranoïes - háár kerk is Hollywood waar sy aanbid en gestraf word en telkemale weer terugkeer vir vergifnis.

 

 

VI

 

"Mense skram weg van die waarheid," bely Tennessee Williams in 'n onderhoud. In sy films ontmasker hy leuens, illusies en waansin. En soos Chance bely, staan hy altyd buite aanvaarding. Die name is eweneens belangike kodes: Chance, Heavenly, Boss Finley, Miss Lucy , dr Scudder ...

 

Die titel is ironies. Sweet bird of youth en hoe jeug (en aanloklikheid) soos sukses. Vervlietend. Tydelik. En iets wat jy net begryp wanneer dit verlore is.

 

 

© Joan Hambidge

  

Bronne:

 

  https://www.youtube.com/watch?v=FScWlr5qZUY Besoek 10 Januarie 2020

 

  https://www.youtube.com/watch?v=oXhvmBE-2jI    Besoek 10 Januarie 2020

 

Turkle, Sherry. 1978. Psychoanalytic politics. Freud's French revolution. Londen: Burnett Books.

 

Profiel | Tennessee Williams (Deel III) | 2021

$
0
0

Deel III

 

I

 

In 'n dokumentêr oor die lewe van Tennessee Williams wat heet Wounded genius kry die kyker 'n binneblik op hierdie komplekse man (Besoek 14 Januarie 2021).

 

Die moeilike jeugjare met 'n afwesige en nydige vader en dominerende moeder word beskou. En hoe die geestesongesteldheid van sy suster Rose in The glass menagerie (1944) die onderwerp van die drama is. Sy hele lewe lank vrees hy sélf kranksinnigheid.

 

Maar die grootste ellende was waarskynlikheid dat hy as besonder jong dramaturg op ouderdom 33 die aandag trek en in die spervuur beland van kritici wat elke keer nog 'n hoogtepunt verwag. Dwelm- en alkoholverslawing eis die tol en hy sterf waarskynlik aan verstikking. 'n Medisynebotteltjie het in sy keel vasgesit, ofskoon sy broer glo dat hy vermoor is.

 

Williams is 'n skrywer uit die suide van Amerika en saam met Eugene O'Neill en Arthur Miller word hy beskou as die grootste dramaturg van die twintigste eeu.

 

Gebore as Thomas Lanier Williams III (Maart 26, 1911 – Februarie 25, 1983), maar later verander hy sy naam  na Tennessee om die suidelike invloed te erken.

 

Hy skryf ook elke dag op sy tikmasjien en ten spyte van 'n liefdesverhouding wat hom aanvanklik in beheer hou, speel die traumatiese jeug en bestaan van onsekerheid in op sy psigiese welstand. St. Louis, Missouri word 'n onbestendige tuiste waar sy vader werk by 'n skoenfabriek. Die vader, 'n alkoholis, is negatief oor sy seun wat volgens hom nie manklik genoeg is nie. Boonop ly hy aan difteria wat hom vir meer as 'n jaar huisgebonde hou.

 

Hy studeer aan die Universiteite van Missouri in die Joernalistiek, maar eindig sy studies weens verveling. Daar word ook beweer dat sy vader sy studies beeïndig het en hom gedwing het om in 'n skoenfabriek te gaan werk. Sy brose suster en sy lewe as 'n werker in 'n fabriek vind neerslag in sy dramas.

 

Williams skryf ook gedigte en essays en was werksaam as teksskrywer in die filmbedryf vir Metro-Goldwyn-Mayer wat hom skielik ryk maak.

 

Hierna vertrek hy New York toe waar sy dramas sukses behaal op Broadway en tussen 1948 en 1959 is daar sewe van sy dramas te siene. Teen 1959 het hy twee Pulitzer-pryse verower; 3 New YorkDrama Critics' Circle-toekennings; 3 Donaldson-toekennings en 'n Tony.

 

II

 

John Lahr se biografie oor Williams Mad pilgrimage of the flesh (Bloomsbury, 2014) wys daarop dat hy cruising gebruik het om te ontsnap van die benepe wêreld van sy jeug. Hy was ook 'n histeriese persoonlikheid wat in 'n soort “Faustian bargain” met homself geleef het. Skryf (en later verslawing) word dan 'n spel met die spel.

 

“There was a theatre in himself”, meen Lahr. Alles wat hy as kind beleef het, sou hy later uitspeel in sy tekste.

 

As mens was sy verhoudings ingewikkeld. Lahr beskryf hom as 'n emosionele terroris wat sy kreatiwiteit voorop gestel het (Theater Talk/ Tennessee Williams/ Mad Pilgrimage of The Flesh - Bing video. Besoek 14 Januarie 2021).

 

Sy tekste handel oor eensaamheid, verlies ten spyte van mense wat om jou mag bestaan.

 

“Happiness”, het Williams glo op 'n keer gesê, “is insensitivity.”

 

Sy tekste het 'n bepaalde ritme, omdat hy ook digter was. Die kyker besef dit is net 'n bedrewe digter wat só 'n ou digter kan voorstel in The night of the iguana.

 

En in 'n onderhoud met akteurs wat sy karakters al vertolk het, wys Jessica Lang op die musikaliteit van sy dialoog.

 

Jy moet elke woord reg verstaan. Elke punt, komma beteken iets. En Mevrou Sam Shepard verduidelik hoe dit verskil van 'n Shepard-drama (Interpreting Tennessee Williams (Working In The Theatre #331) - YouTube. Besoek 15 Januarie 2021).

 

James Grissom is eweneens relevant oor Williams en praat oor sy boek Follies of God: TennesseeWilliams and the women of the fog (Penguin, 2016) en hoe hy Williams ervaar het.

 

Die speelse verwysings en die vroue wat hy al vanaf sy jeug in drome gesien het, word bespreek in hierdie onderhoud.

 

Veral Williams se neuroses aan die einde toe hy nie meer kon skep nie, word bespreek. Ook goeie vriende het hom begin vermy weens sy gekerm oor sy onvermoë om te skryf (Theater Talk/ James Grissom on Tennessee Williams - YouTube. Besoek 15 Januarie 2021).


Hoe het Williams nou weer opgemerk teenoor Tom in The glass menagerie?

 

“I give you truth in the pleasant disguise of illusion.”

 

Elke oggend het hy 'n wit papier in sy tikmasjien as “pale judgment” gesien.

 

En hier is 'n paar wonderlike juwele van Tennessee Williams:

  

”If I got rid of my demons, I’d lose my angels.” 

 

*

 

“Nobody sees anybody truly but all through the flaws of their own egos. That is the way we all see... each other in life. Vanity, fear, desire, competition – all such distortions within our own egos – condition our vision of those in relation to us. Add to those distortions to our own egos the corresponding distortions in the egos of others, and you see how cloudy the glass must become through which we look at each other. That's how it is in all living relationships except when there is that rare case of two people who love intensely enough to burn through all those layers of opacity and see each other's naked hearts.” 

 

*

 

“I don't want realism. I want magic! Yes, yes, magic! I try to give that to people. I misrepresent things to them. I don't tell the truth, I tell what ought to be the truth. And if that's sinful, then let me be damned for it!” (uit: A streetcar named desire) (Tennessee Williams Quotes (Author of A Streetcar Named Desire. Besoek 16 Januarie 2021)


Die komplekse verhouding tussen lewe en dramatekste sal verder ondersoek word.

 

 

© Joan Hambidge

 


Profiel | Tennessee Williams (Deel IV) | 2021

$
0
0

Deel IV

 

I

 

The glass menagerie (1944) is die drama wat Tennessee Williams gevestig het as besondere en gevierde dramaturg. So begin Tom, die verteller, se monoloog:

 

"Yes, I have tricks in my pocket, I have things up my sleeve. But I am the opposite of a stage magician. He gives you an illusion that has the appearance of truth. I give you truth in the pleasant disguise of illusion."

 

'n Broer, 'n suster, 'n ma - en 'n afwesige vader. En 'n "gentleman caller". In St. Louis in die 1930's.

 

Dit word tipeer as 'n "memory play" - Tom vertel die storie vir die gehoor soos wat dit gebeur het.

 

Laura, die suster, loop mank en is sielkundig versteurd. Sy het haar van die buite-lewe geïsoleer en haar versameling glasfiguurtjies aktiveer die titel. Die moeder, Amanda Wingfield, is wrewelig oor die opset waarin sy die kinders moet versorg, omdat die vader hulle versaak het. Ons sien hom nooit nie; maar in sy afwesigheid is hy sterk aanwesig.

 

Tom werk in 'n skoenfabriek en voel verantwoordelik vir sy familie, dog is terselfdertyd onrustig omdat hy nie kan ontsnap nie. Hy gaan dikwels fliek toe om te probeer wegkom weens die verdrukkende omstandighede tuis. Hy aspireer om digter te word, maar sukkel om te skryf.

 

Die vader, Mr. Winfield, werk vir 'n telefoonmaatskappy en in die gevleuelde woorde "fell in love with long-distance".

 

Dan is daar Jim O'Connor, 'n eens suksesvolle atleet en akteur tydens hul skooljare aan Soldan High. Hy werk by dieselfde fabriek as Tom en hoop om sy indertydse sukses weer te herwin.

 

Alles word vertel vanuit Tom se herinnering en is dus sý perspektief, word die gehoor telkens gemaan.

 

Die dramatiese oomblik is  die besoek van die "gentleman caller", Jim, wat deur Tom genooi word. Laura berei 'n ete voor en wanneer Jim opdaag, is sy eers in die kamer, omdat sy vreesbevange is. Sy en Jim is aanvanklik na ete alleen. Hulle dans en hy breek per ongeluk 'n glas-eenhoring (unicorn). Daar is nie ligte nie, omdat Tom nie die rekening betaal het nie;  'n vooruitwysing dat hy sy familie gaan verlaat.

 

Wanneer Laura ontdek dat Jim verloof is, raak sy woedend vir Tom. Tom dink egter - soos die gehoor - dat Jim dit versin het, omdat hy besef het wat in die mou gevoer word.

 

Die drama eindig wanneer Tom vertrek met die bekende woorde:

 

Blow out your candles, Laura ...

 

 

II

 

Sally Field, Jessica Lange, Amanda Plummer, Natasha Richarsdson ... en ja, Katherine Hepburn en selfs Joanne Woodward het al uitstaande vertolkings gegee van hierdie tydlose drama. In 2017 is dit op Westend opgevoer.

 

Die drama speel in op Williams se jeugjare en sy deernis met sy geskonde suster en 'n lobotomie wat op haar gedoen is tydens sy afwesigheid. Vir sommige kritici is Rose (Laura) dalk Williams self, maar in hierdie drama kan 'n mens die spanninge inlees van 'n kreatiewe persoon wat sy jeuglike omstandighede met skuldgevoelens versaak het. Regdeur sy lewe het hy sy suster finansieel en emosioneel ondersteun.

 

In Suddenly, last summer wys hy hoe families lobotomies misbruik het uit selfsug.

 

Uiteraard werk alle skrywers met 'n outobiografiese impuls, maar min skrywers kon sy persoonlike drama só manjifiek telkemale her-besoek soos Williams.

 

Hier is 'n 1987-produksie met John Malkovich en Joanne Woordward. Met Paul Newman as die regisseur in 'n besondere weergawe (The Glass Menagerie | 1987 | John Molvokovich. Besoek 18 Januarie 2021).


In die komende dae gaan ek na Katherine Hepburn se vertolking kyk teenoor Sam Waterston as Tom. Joanna Miles is Laura en Jim word gespeel deur Michael Moriarty met Anthony Harvey as regisseur. Al vier akteurs in hierdie 1973-produksie is vir Emmy's genomineer met Miles en Moriarty as wenners. 

 

 

III 

 

Williams se lewe en drama het hierdie kreatiewe reaksie tot gevolg:

 

Blow out your candles, Laura

 

In die Hotel Elysée, speels verander

na die Hotel-Easy-Lay, tob jy

 

oor jou lewe: jou suster, Rose veral

tot die dood toe beskerm toe ander

 

haar uitlag oor onsigbare krankemente;

jou moeder dominerend en jou pa

 

'n nurkse bliksem wat jou nie kon verduur

oor jou dromende en brose aard.

 

Die waarheid toegedraai in draag-

like illusies, skryf jy veel-veel later.

 

Vriende versaak jou toe sukses kantel

en die papier in jou tikmasjien vashaak.

 

Blanche of Laura? Na wié het jy geroep

toe jy verstik het aan 'n bottel se prop?

 

Of moes jy swaar sluk aan jou eie dictum:

die goedertierenheid van vreemdes?

 

 

© Joan Hambidge

Profiel | Tennessee Williams (Deel V) | 2021

$
0
0

Deel V

 

I

 

The glass menagerie met Katherine Hepburn is 'n kragtoer. Teenoor Sam Waterston as Tom, Joanna Miles as Laura en Jim word gespeel deur Michael Moriarty met Anthony Harvey as regisseur. Al vier hierdie spelers is genomineer vir Emmy's, maar die wenners was Miles en Moriarty.

 

Dit is egter ensemble-spel uit die boonste rakke. Elke akteur is ragfyn verbind aan die ander. Die moeder wat dink haar dogter sal geluk vind as sy trou, ofskoon sy self in 'n ongelukkige huwelik vasgevang was. En Tom is die dromer en digter, wat wil ontvlug. Enersyds voel hy skuldig oor die lot van sy suster, die brose Laura; andersyds wil hy sy eie lewe lei buite die verstikkende opset van sy dominerende ma wat hom steeds kritiseer oor sy tafelmaniere en hoe hy sit wanneer hy skryf.

 

Tom kan nooit ontsnap nie. Hy is, soos sy suster Laura, geskend deur sy moeder en in sy weergawe van sy familie-verbintenisse beklemtoon dit. 

 

 

II

 

The Roman spring of Mrs Stone is 'n Britse film gebaseer (1961) op Williams se novelle met die gelyknamige titel. Vivien Leigh teenoor Warren Beatty met Lotte Lenya as die manipulerende vrou in José Quintero se film is vintage-Tennessee Williams. 'n Middeljarige Amerikaanse aktrise (Vivien Leigh) se ryk man sterf op hul vlug na Rome. Sy besef dat sy uitgebrand is aktrise en sien hierdie reis as 'n ontvlugting.

 

Haar laaste rol as Rosalind in As you like it was 'n klaaglike mislukking, omdat sy te oud is om die rol te vertolk.

 

In die dokumentêr, wat die film begelei, word die hele aspek van kuns-wat-lewe-versus lewe-wat-kuns-naboots behandel. Vivien Leigh beleef 'n pynlike egskeiding van haar werklike man, Lawrence Olivier en Warren Beatty, die gigolo, was toe 'n sukkelende akteur.

 

In 'n konfrontasie tussen Contessa Magda Terribili-Gonzales (Lotte Lenya) wys Mrs. Stone (Leigh) haar tereg daarop dat Amerikaners nie so sentimenteel is as wat hulle in films uitgebeeld word nie.

 

Die Contessa is 'n emosieswendelaar en gebruik Paulo (Beattie) vir haar eie doeleindes. Laat Paulo dink dat Mrs Stone nie haar eensaamheid kan hanteer nie en sý, op haar beurt, glo dat hy haar werklik liefhet. Dit is egter 'n verhouding van mishandeling waarin Paulo vir haar sê dat jy net iemand seermaak wat jy liefhet.

 

Die film ondersoek die impak van roem op 'n mens se lewe. Mrs Stone dra 'n sonbril, die paparazzi agtervolg haar en neem foto's van haar in 'n nagklub met die jong gigolo wat ook ambisies het om akteur te word, nes die manlike karakter in Sweet bird of youth.

 

Hoe die verveelde rykes mekaar beskinder en alles van mekaar weet, is 'n verdere tema in die film. Meg, 'n politieke joernalis uit New York,  maan haar vriendin om Rome te verlaat. 

 

Paulo probeer haar intimideer met 'n verhaal oor 'n ryk vrou wat vermoor is op die Franse Rivieradeur 'n optelman. Hierop reageer sy met die volgende woorde:

 

“All I need is three or four years. After that, a cut throat would be a convenience.”

 

Sy luister nie, gooi haar sleutel na 'n onbekende man op straat nadat Paulo haar verlaat het en die kyker vermoed 'n tragiese einde. Of dalk nie. Miskien word hy haar versorger.

 

Dis 'n oop slot met die kamera wat alles uitdoof en jy as kyker moet self besluit.

 

 

III

 

Die film werk met die motief van swaels wat aankom en wanneer die winter aanbreek, weer vertrek. Paulo meen ons is almal "drifters", nomades, soos die sterre ...

 

Mrs Jones skop 'n voëlhok om in 'n agterstraat waar sy haar sonbril verloor. 'n Duidelike waarskuwing van wat gaan kom. Die Contessa betig Paulo dat hy besig is om nie vordering te maak met die verleidingspel nie waarvoor sy vergoeding vra.

 

"You are feathering your nest."

 

 'n Ander belangrike motief is Karen Stone se vuis waarop Paulo haar attent maak. Is sy bang om vrygewig te wees en haar oor te gee aan die lewe.

 

Paulo sonbaai en bely:"I don't like the cold sun." Met hierdie opmerking word sy hele sibaritiese lewensbeskouing opgesom.

 

 

IV

 

Ook hierdie film word deur kritici beskou as 'n representasie van Williams se eie eensaamheid en vrees vir kritiese mislukking.  

 

Is Mrs Stone eintlik maar Williams self, 'n gay-man, uitgelewer aan cruising en die manipulasie van jong narsiste? Ja en nee.

 

Uiteraard lees kritici sy komplekse lewe in wanneer films geanaliseer word. Tog is die vertolking van Vivien Leigh as Blanche en Mrs Jones 'n unieke vroulike vertolking van 'n vrou wat sélf in haar eie lewe op 'n afgrond gestaan het. Dit is bekend dat Leigh die rol van Blanche so goed kon vertolk weens haar eie stryd teen bipolariteit. En belangrik tog om (by nabaat) te weet dat sy die vervreemde, dobberende, eensame Mrs Stone só oortuigend kon vertolk, omdat sy in hierdie stadium besig was met 'n pynlike egskeiding van die groot akteur Lawrence Olivier.

 

Vivien Leigh het telkemale opgemerk dat die rol van Blanche haar lewe verander het.

 

https://www.harpersbazaar.com/celebrity/latest/a12809242/vivien-leigh-laurence-olivier-relationship/  Besoek 21 Januarie 2021

 

En Lotte Lenya is natuurlik Mevrou Kurt Weill en in From Russia with love speel sy die giftige agent wat die jong geheime agent moet oplei; met lesbiese ondertone. Uiteindelik word James Bond gered deur 'n vrou teen die giftige skopper, Rosa Kleb. Die James Bond is vervaardig in 1963 en teer duidelik op haar persona in hierdie film as 'n gewetenlose vrou en 'n akteur met 'n aksent. In 1956 het sy Mack the Knife met Louis Armstrong gesing.

 

Vir haar rol as die Contessa het sy die Golden Globe gewen as beste ondersteunende aktrise. Sy word eweneens beskryf as diseuse en hierdie Weens gebore aktrise kan jy nooit miskyk nie. 

 

Dit is uiteraard onmoontlik om "skoon" lesing van Tennessee Williams te maak, omdat daar soveel interpretasies en sieninge is oor sy karakters en dramas. Maar selfs al weet jy niks van hom nie, bly elke film en dramateks belangrik.

 

En hoe Tennessee Williams vroue beskryf - bepaald met insig en simpatie - sal verder ontleed word.

 

In navolging van Stanley Fish se studie Is there a text in this class? mag 'n mens vra: is daar 'n film sonder 'n interteks of buiteteks?

 

 

© Joan Hambidge

 

Profiel | Tennessee Williams (Deel VI) | 2021

$
0
0

Deel VI

Portret, Tennessee Williams, deur Jared French

I

 

Die vroue van Tennessee Williams is vroue in eie reg. Sterk en eerlik beskryf.

 

By Williams is daar geen misogonisme te bespeur nie. In 'n vorige inskrywing is daar uitgewys dat dit onmoontlik is om 'n onbevange of "skoon" lesing van 'n film te maak. Akteurs beweeg van verskillende films en weens sosiale media (onderhoude) word 'n rol bepaal deur buite-inligting.

 

In die film-kommentaar op Dr Zhivago, David Lean se briljante epiese film van 1965 (gebaseer op Boris Pasternak se roman), maak Rod Steiger as Komarovsky die volgende belangrike stelling in die dokumentêr, wat as 'n ekstra te siene is: toneelspel is soos terapie. Hy verwys ook na Freud en wáárom Lara nie kan wegkom van hierdie man, haar moeder se minnaar, wat haar emosioneel en seksueel verrinneweer het nie. Steiger wys egter daarop dat hy haar ook lewenswaarhede leer: bly weg van die naïewe, emosionele Pasha.

 

As dit van toneelspel gesê kan word, is dit waarskynlik tersaaklik vir die dramas van Tennessee Williams. Hy keer telkens terug - in verskillende gedaantes - na sy ouerhuis met 'n afwesige vader, 'n manipulerende moeder én geknakte suster.

 

In The glass menagerie (1944) kyk Tom terug na sy Freudiaanse familieromanse net soos Williams telkemale in al sy dramas iewers blyke gee van hierdie disfunksionele ruimte wat hom gemaak het as skrywer, maar verwond het as mensBattle of angels (1940) is 'n titel van een drama, en Something Cloudy, Something Clear (1981) is 'n memorie-stuk oor sy herinneringe aan die veertigerjare.



II

 

My mentor, wyle professor HJ Snyman, skrywer van Mirakel en muse, het by herhaling opgemerk dat Williams, nie Arthur Miller of Eugene O'Neill nie, die grootste dramaturg uit die Amerikaanse tydvak is.

 

Destyds kon ek dit nie begryp nie, maar met elke herbesoek - soos die jare aanstap - van Williams is Long day's journey into night  (O'Neill) en Death of a salesman (Miller) uitstekende dramas - maar die werklike meervlakkige insig in die menslike psige teen die agtergrond van die politieke en sosiale werklikheid, kon Williams met een sin ontsluit. Hierom is elke woord belangrik. As die gehoor lag en die dialoog versmoor, herhaal jy dit, want dit is 'n belangrike opmerking wat later gaan reverbereer in 'n slot of aksie. Aldus Christian Slater in gesprek met Jessica Lange en Natasha Richardson oor Williams (Interpreting Tennessee Williams (Working In The Theatre #331) - YouTube. Besoek 15 Januarie 2021).



III

 

Williams se karakters is mense. Ambivalent soos Lara wat aangetrokke voel tot haar ouer minnaar en hom wil doodskiet en later teenoor Zhivago bely sy wens sy het hom nooit ontmoet nie.

 

Daar bestaan terloops 'n weergawe van A streetcar named desire (1951) waar Blanche wegloop met Stanley. 'n Moontlikheid ja, want sy voel aangetrokke tot hierdie laerklas brutale man wat haar uiteindelik verkrag.

 

Williams kon egter nooit 'n werklik openlike gay karakter skep in sy dramas nie.


Wel is daar toespelings op lesbiese vrouens: Night of the iguana (1961) waar die onderwyseres kennelik 'n oog het op die jonger meisie vir wie sy oppasser speel.

 

In 1979 word Williams vereer in die American Theater Hall of Fame. En vandag nog word hy opgevoer in veral Londen en New York.

 

Spieëls loop regdeur al die films, en die invloed van Williams op die Coen-broers se Barton Fink(1991) is onmiskenbaar daar. Die twyfelende skrywer wat New York verlaat en in Hollywood beland, en die soektog na die ware suidelike skrywer.


© Joan Hambidge


 

Profiel | Tennessee Williams (Deel VII) | 2021

$
0
0

Deel VII

 

I

 

Waarom kon Tennessee Williams nie 'n openlike gay-karakter skep nie? In Cat on a Hot Tin Roof is dit tog duidelik dat Brick, 'n eertyds voetbalheld, gay is en betrokke was by sy vriend, Skipper. Hierom is sy vrou Margaret verbitterd oor hul sekslose huwelik. Sy weet immers hoekom hy nie by haar slaap nie,  en Big Daddy is in volledige ontkenning dat hy sterwend is aan kanker. Hy word egter met die feite gekonfronteer. (Nogal ironies dat Big Daddy rondgeruk word en die waarheid vertel word.)

 

Die filmweergawe van 1958 is gesensureer en Paul Newman was erg ontsteld oor hierdie toedrag van sake. Newman - teenoor Elizabeth Taylor - se vertolkings is genuanseerd. Hollywood was egter baas. Opvallend dat Newman as regisseur optree vir The glass menagerie met sy werklike vrou en 'n jong John Malkovich.

 

En Blanche Dubois se jong lover was gay. Maar ook dit is in die Elia Kazan-weergawe van A streetcar named desire liggies hanteer.

 

 

II

 

Newman tree dan later sterk na vore in die Coen-broers (uitgespreek Cohen) se hilariese send-up The Hudsucker Proxy van 1994, wat  'n kultusfilm geword het. Dalk lê die antwoord in Playing the game: the Homosexual Novel in America van Roger Austen (1935-1984). Ofskoon Austen se studie in 1977 verskyn het, bly dit steeds relevant vir die belangrike sosiale analises wat gemaak word.

 

Hierdie studie is indertyd aanbeveel deur Hennie Aucamp. Nie alleen was Aucamp 'n verstommende kortverhaalskrywer nie, maar eweneens teoretikus van gay-sensibiliteite. Johann de Lange se keuse uit sy verhale Die laaste wals (2017) gee 'n belangrike verslag van die die ontwikkeling van die gay-sensibiliteit binne die Afrikaanse kortverhaal; later verder ontwikkel deur Koos Prinsloo en De Lange self, o.a.

 

Waar ons by Williams repressie en skuld ervaar, is daar by Aucamp 'n vreeslose óópskryf van gay-wees, uiteraard verder geneem deur jonger skrywers.

 

 

III

 

Austen wys op Williams se invloed op die romankuns. Hy wys op Williams se invloed op City of night en Williams "whose rhythmic qualities of distracted digressions and breathless exclamations are echoed in some of the gay characters' speeches" (Austen: 1977, 206).

 

Dit is daardie versoening tussen digter en dramaturg wat Williams se teskte so besonders maak.

 

Dieselfde geld Aucamp se tekste. "Vir vier stemme" [1] (oorspronklik uit Volmink van 1986) smeek om 'n verhoog- of filmteks.

 

Die verhaal verskyn ook in Wisselstroomdie eerste volwaardige literêre bloemlesing van die gay-verhaal in Afrikaans wat in 1990 verskyn.

 

 

IV

 

Die mores van die tyd het Williams ingeperk. Maar die briljante Pedro Almodóvar haal Williams letterlik uit die kas met sy weergawe van A streetcar named desire in Albout my mother.

 

 

Endnoot:

 

1. "Vir vier stemme" is 'n elegiese verhaal wat vanuit vier perspektiewe aangebied word. Aucamp aktiveer die konvensionele siening van die transvestiet of "moffie", naamlik dat dit as 'n grap of meer spesifiek 'n boeregrap uitgespeel word. 

 

Die verteller, oom Toon Lourens, is waarskynlik 'n Herman Bosman-agtige Oom Schalk Lourens: 'n verteller wat die mores en kodes van die gemeenskap ken en interpreteer namens ander karakters. Die naam aktiveer ook Toon Prens, 'n grootlieg-volkskarakter in Minnie Postma-verhale. Hiermee posisioneer Aucamp homself alreeds binne die boeretradisie.

 

Die verhaal het vier onderskrifte:

 

'n Grap is 'n grap;

Aan alles moet 'n einde kom;

En hadde de liefde I;

En hadde de liefde II.

 

Volgens 'n persoonlike mededeling aan my, het Aucamp vier weergawes geskryf omdat hy in gebreke gebly het om die komplekse verhaal in een storie te kon vertel. Hierom die sonate-struktuur. Of moontlik kan die verskillende verhale gelees word as 'n jazz-weergawe van die eerste vertelling.

 

Die verhaal handel oor Toon Lourens en sy vriende, Oom Frik, tant Das en hul dogter Let, wat vir Beimen Botes, 'n jongman in die distrik, 'n poets bak. Beimen word om die bos gelei wanneer daar gemaak word asof Freddy, 'n Skotsman wat in Die Hoek herstel van 'n longkwaal, 'n besoekende niggie, ene "Fifi" is.

 

Omrede Let 'n onooglike meisie met 'n geboortevlek is, stel Beimen nie in haar belang nie en word Fifi ingespan om die rol van die vrou te vertolk. Freddy werk in die poskantoor en wanneer dit blyk dat die twee mans werklik op mekaar verlief raak, word briewe geskryf en foto's geneem ten einde die spel te laat voortduur. Freddy pleeg egter selfmoord - 'n onthutsende slot wat wrange kommentaar lewer op 'n konserwatiewe gemeenskap se onverdraagsaamheid jeens homoseksualiteit. Slegs wanneer Freddy speel asof hy 'n vrou is, word dit aanvaar deur die boeregemeenskap. En, meer nog: slegs wanneer Freddy "Fifi" word, kan Beimen sy eie aard erken en uitleef.

 

Hambidge, Joan: 2000. Gender-konstruksies in die Afrikaanse letterkunde: 'n Ondersoek in kultuurstudies, literêre teorie en kreatiewe skryfwerkUniversiteit van Kaapstad, PhD (71 - 78).

 

© Joan Hambidge

 

Resensie | Antjie Krog – Met die oog op môre | Protea: 2019

$
0
0

Antjie Krog – Met die oog op môre. Protea Boekehuis, 2019. ISBN 148531125X

Resensent: Joan Hambidge

 

 

Met die oog op môre is 'n versdrama van die digter Antjie Krog. Hierdie ervare digter het alreeds haar hand gewaag aan die herdigting van Tom Lanoye se tekste, en veral haar verwerking van Koningin Lear in 2019 (met Marthinus Basson as regisseur) was as teaterervaring, en is as  leesteks vir hierdie kritikus 'n hoogtepunt.

 

Met haar versdrama word die woorde A re shweleng fatshe la rona (Laat ons sterf, die grond is ons s'n) die subteks, wat 'n verbeelde interaksie tussen twee figure weergee. Hierdie mito-poëtiese gesprek waaier uit na ons huidige situasie.

 

Die skering en inslag van hierdie teks is sowel poëties as feitelik. Hier is baie woordhandeling, soos kenners van die versdrama dit beskryf.

 

Die twee hoofspelers is Moshoeshoe 1 en Eugène Casalis, 'n Franse sendeling in 1837 - 1855 in Basoetoeland. 'n Swart koning word geplaas  teenoor 'n wit sendeling. In hul poging om saam te werk word die spanninge en verskille tussen hulle uitgewerk. Die koning van prysliedere teenoor die man van God.

 

Grondbesit is die ondergrond van die drama en hoé wit trekkers hulself as superieur ervaar. Aan wie behoort die grond? Die drama ondersoek eweneens die hele problematiese kwessie van die sendeling wat "heidene" wil kersten en dink hy het die waarheid in pag. Met die koning wat priemende vrae stel oor die heilige Drie-eenheid en die betekenis van Jesus Christus.

 

Is hy nie maar net 'n voorvadergees wat intree nie? 

 

Krog se opposisies tussen wit/swart, man/vrou, Afrika/Engeland, hede/verlede word kompleks uitgewerk. Sy wys op die ideologiese verskille en maak van haar karakters werklike mense met foute en mistastinge. So vermy sy die maklike slaggat wat die drama eentonig of enkellynig sou maak. Sy aktiveer 'n gender- en rasdiskoerse wat volgens moderne teoretici beide as konstruksies benader moet word. Die rol van vroue as teenspelers en hier 'n gewete, soos verbeeld in Mevrou Casalis en haar dogter wat oorneem by die vader, word 'n teenpool.

 

Die metriese eise van die versdrama kom die digter na. Sy speel met die jambiese versmaat en maak alles dramaties vir die leser-as-kyker. Name word genoem sodat die teaterganger 'n karakter sal herken. Daar is ook toordokters, 'n profetes en 'n koor. "Die draaiende bal van vuur met 'n arend se glurende oë wat niks ontgaan nie",  teenoor koning Salomo se wysheid word 'n verdere spanning in die teks. Primordialiteit, argetipes en Die Bybel word ingespan in hierdie teks van grootse opset.

 

Aan wie behoort wat? Waar word die grense getrek? Dit is 'n teks van liminaliteite en grense wat oorgesteek word.

 

Ook die geskiedenis word betrek met die rol van Cathcart en Brittanje se hantering van protektorate. Koningin Victoria en Prins Albert is in die agtergrond aanwesig. 'n Luiperdvel as geskenk aan Koningin Victoria begrond alles verder.

 

Die ellendes van misverstand: Basotho's sit opmekaargedruk soos paddavisse in 'n skepkalbas (85). Krog se beeldende vermoë is hier oortuigend in aksie en in haar digkuns het sy deur die jare verskeie koorsange in bundels geskryf, bykans as voorlopers of oefeninge vir hierdie teks.

 

Die leser word van 'n uitgebreide leeslys voorsien vir verdere navorsing. 

 

Een punt van kritiek: die p-woord val vir my buite die toonaard van die koning se manier van praat en sy denke.

 

Krog se Met die oog op môre moet teen die volgende tekste geplaas word, omdat die leser al hierdie intertekste saamdra. Dalk is dit haar antwoord op Louw se Germanicus (1956), daardie uitsonderlike epiese drama? Gaan lees Jo-Marie Claassen, 'n klassikus, se voortreflike analise van hierdie drama op Litnet. Wat histories onwaarskynlik mag wees, is wel dramaties regverdigbaar, sowel by Louw as in Krog se versdrama.

 

Die epos het in Afrikaans hoogtepunte beleef met Van Wyk Louw se Raka (1941) en Opperman se Joernaal van Jorik(1949) en hierdie teks praat implisiet met hierdie twee klassieke werke. 

 

Hierna was daar Lucas Malan se Hongergrond (1994) en meer onlangs Hein Viljoen se Brisant (2019), al beskryf as 'n postmodernistiese epiese gedig, met verskillende betekenislae, wat besondere eise aan die leser stel. 

 

Jolyn Phillips se Bientang'n !naugedig (2020) werk met "stofpadgedigte" van die geskiedenis sowel binnelands as buitelands róndom die figuur Bientang met verskillende metriese patrone.

 

Nogal 'n ryk skat in Afrikaans van 'n besondere moeilike digvorm wat gehoor moet gee aan die eise van die digkuns én die luisteraar moet bevredig indien dit uitgesaai word. En die opvoering eis weer iets anders want hier het jy kyker én toehoorder.

 

Hoeveel weergawes het Raka nie al met sukses beleef nie. Raka is selfs al as 'n ballet verwerk. Die grootsheid van 'n teks word aan sy antwoorde of parodieë herken.


Dink maar aan Tennessee Williams se A streetcar named desire  van 1947 wat Almodóvar so voortreflik ingeweef het in sy film All about my mother (1999). En Williams was ook digter; hierom is die musikaliteit van sy dramas tersaaklik. Elke punt en aandagstreep moet nagekom word.

 

In hierdie dae waar teaters in beleg is en opvoerings tans onmoontlik geword het, sal RSG se vindingryke Kobus Burger hopelik die uitdaging sien om hierdie teks vir die radio aan te bied. Anders is my geld op Marthinus Basson sodra die teaters weer volskaals funksioneer.

 

© Joan Hambidge

Rubriek | Die nuwe inperking | 2021

$
0
0

Salisbury katedraal

Toe ons kinders was, het my moeder altyd gemaan: “Stadig eet. Jy het nie 'n trein om te vang na Nagasaki nie!”

Met die jongste inperking, dink ek opnuut aan haar gevleuelde woorde. 


2020 was 'n moeilike jaar. Tyd van besinning. Aanlyn-klasse wat ons gedwing het om ons vakgebied nuut te verpak op 'n slimfoon se opnemer en dan te laai op die intranet van die universiteit. In die eerste inperking het ek die groot boek deurgewerk, klassieke boeke en films stadig her-besoek en die lewe anders benader. Minder uitgegaan. Tuis gekook.

 

Inmiddels is een van my gunsteling-restaurante Nelson's eye gesluit weens die nuwe maatreëls.

 

Die ergste vir my was die einde van oorsese reise. Hierdie tyd was ek altyd in Suid-Amerika: op die spoor van Borges of Neruda of Márquez. Argentinië, Chili of Colombië lê ver agter my; gelukkig opgeteken op my blog en in gedigte.

 

Nou blaai ek deur die onthouboek van my reise. Katedrale, tempels, ruïnes neergepen in my eiesoortige geskiedskrywing. Reisdokumente en -pamflette word nou deurgewerk en opgeteken in Sanctum.

 

Ons andersoortige virale oorlog het nog nie tempels of katedrale vernietig soos tydens die Tweede Wêreldoorlog nie. En ten spyte van ons beproewinge het ons nog lank nie beleef wat die Russe, o.a. deurgemaak het nie;  soos verbeeld in die film Come and see, van Klimov (1985). Hierdie film, uit die perspektief van 'n jong seun wat die oorlog wil meemaak, wys op die werklike lyding wanneer die Nazi's Belarus betree. Teen die einde van die  film staan die seun, wat nou 'n verwonde man geword het, en skiet na Hitler se foto wat in die water lê. In stadige, agteruit-beweging sien ons die aftakeling van Europa. Van die volwasse Hitler tot 'n die jong, onskuldige kind wat op sy moeder se skoot sit.

 

Die brutale uitwerking van die oorlog tot die stil geweld van ons virale oorlog.

 

Helen en Richard Leacroft se pragtige boek Churches and cathedrals (Londen, 1972) wys op die bouwerk van groot katedrale.

 

'n Sobere studie om nou te bestudeer tydens die inperking. In my geheueboek onthou ek verskillende tempels: Bangkok en Saigon. Vroegopstaan om die lykverbranding in Varanasi mee te maak; 'n andersoortige ritueel wat met 'n besoek aan 'n spirituele ruimte afgesluit word.

 

Of 'n sonsopkoms op Machu Picchu in die tagtigerjare voordat dit 'n toeristiese mekka geword het met toetelende busse.

 

In die Leacrofts se boek vang my oog dadelik 'n gargoyle (24). Is hulle simbole van vervloekte siele wat uit die kerk verban is? 

 

Hierom is die lelike figure of diere in steen opgevang? Boonop kom die woord van die Frans gargouille wat keel beteken.

 

En hoe trek ons almal se kele nie tans toe nie ...

 

En dit speel in op die legende van La Gargouille, 'n draak, wat 600 VC, die mense van Rouen geteister het todat Romanus tot hul redding gekom het. Die draak is verbrand en die simbool van die gargoyle word dan gesien as 'n manier om die bose af te weer. Uiteraard konkrete simbole vir ongeletterde mense, terwyl ons in moderne tye - dikwels tot ons nadeel - konkrete simbole minag, soos C.G. Jung uitgewys het in Man and his symbols (Dell, 1964).

 

*

 

Totem

 

Ek is my tempels

my katedrale ruïnes

versugtinge 

verbeelde reise -

 

Ek is my onthoue

verliese verdriete

verraad (soos)

versmade verse -

 

Ek is my vrese

verlatings om en by

die wortel van dié kwaad:

opgehoopte kwellings -

 

Ek is my aandagstrepe

tersydes en aanhalings

konfessies en vermanings 

in gedoemde ellipse -

 

Net die allergroot verhouding

met die groot aktiewe woord

daardie tempel staangemaak in Tristia

maak nog sin tot die dood

ons skei -  leser, jy of u.

 

*

 

'n Tyd van interne verhuising? Om alles stadig - in slow motion - te herbeleef.

 

En klein brokkies genade te (her)waardeer. Daar is nie nou 'n trein na Nagasaki nie.

 

© Joan Hambidge

Gedig | Die gedig as oorskiet | 2021

$
0
0

Vanoggend skarrel

ek in die kombuis 

warm oorskietkos op 

en dink aan Eybers wat skryf 

aan die digter van Gunsfontein: 

moeilik om poësie te skryf 

(v)oor panne en potte. 

 

Arthur Miller 

meen in 1935 was Amerika 

far beyond the reach of prayer  

                                                as a collapsed bridge. 

 

Watter brug had hy in gedagte? 

 

Nie die Brooklynbrug nie, 

die eerste staalkonstruksie 

voltooi in 1883 met 20 werkers 

wat sterf aan caisson-siekte. 

 

Daardie brug staangemaak 

in vele gedigte oorleef 

dekompressie en in my skryfsel 

dink ek aan hierdie harp en altaar 

soos Hart Crane dit besing. 

 

Daar is nog tyd en plek vir gebed en dig 

terwyl ek, met oorskietkos uitgeskep, 

aanpaksels van my pot wegskuur: 

 

oor daardie brug heen-en-weer gereis 

ooggetuie van 'n tyd voor-en-na  

9/11, hierdie pandemie tot 

'n vervloekte slot ópgehef. 


© Joan Hambidge


Resensie | Tomas Tranströmer – Alles keer om (Vertaal deur De Waal Venter | Akademie vir Wetenskap en Kuns, 2020

$
0
0

Tomas Tranströmer – Alles keer om (Vertaal deur De Waal Venter. Akademie vir Wetenskap en Kuns, 2020. ISBN 978 0 620 905022 2

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Die skoonheid van wondere is gevind

 

I

De Waal Venter het met sy Pablo Neruda-vertalings Vandag is boordensvol (2019) die gesogte Akademieprys gewen.

http://joanhambidge.blogspot.com/2019/08/resensie-de-waal-venter-vandag-is.htmlBesoek 24 Desember 2020

Alles keer om is sy vertalings van Tomas Tranströmer se verse wat in 2011 met die Nobelprys vir letterkunde bekroon is. Gebore 1931 en oorlede in 2015 was Tranströmer digter, vertaler en sielkundige.

 

Modernisme, ekspressionisme, surrealisme – so is hierdie gedigte al tipeer. Hierdie digter – soos vele modernistiese digters – is beskuldig van ‘n a-politiese aanslag.

 

Met die lees van hierdie pragtige antologie het hierdie leser weer teruggekeer na die verse van Wallace Stevens, in lewe ‘n baas van ‘n assuransie-maatskappy in Connecticut en volgens homself glo ‘n Sondagdigter, gebore in 1879 en oorlede in 1955.

 

Opperman was ‘n groot bewonderaar van Stevens se poësie.

 

In “An Ordinary Evening in New Haven” (1950) skryf hy:

 

The poem of pure reality, untouched

By trope or deviation, straight to the word,

Straight to the transfixing object, to the object 

At the exactest point at which it is itself,

Transfixed by being purely what it is.

A view of New Haven, say, through the certain eye,

The eye made clear of uncertainty, with the sight

Of simple seeing, without reflection. We seek

Nothing beyond reality.

 

Stevens is duister, verwikkeld, maar soms ook liries. Soos Tranströmer, waar die lees van sy gedigte ‘n bykans hipnotiese effek het op die leser. Die voorblad gee vir ons ‘n ómgekeerde beeld van ‘n idilliese Sweedse huis met bome …

 

Helaas is alles nie pluis hier nie. Ons verneem van ‘n onstelde meditasie en daar is elegiese verse. Telkens word ‘n mens bewus van ‘n dubbele keuse en tyd is ‘n gevange insek:

 

                                               My polshorlosie

gloei hardkoppig met die tyd se gevange insek. (39)


Daar is grimmige ondertone in hierdie verse soos die verwysings na Georges Simenon, die bekende Belgiese speurskrywer en die Bockstenman wie se lyk in 1936 ontdek is in ‘n bog – deurboor & vasgepen met twee houtpenne…

 

Simenon se lewe was ook vol onstuimighede ten spyte van speurder Maigret se beheer oor alles. En Tranströmer skryf oor stilte – nes sy meesterlike landgenoot Ingmar Bergman dit weer op sy beurt uitstekend vertolk in films. Autumn sonata (1978) en The silence(1963) bly gewoon hoogtepunte in die verbeelding van ‘n versmorende stilte wat sy digterkollega eweneens aanspreek.

 

“In klein bleek telegramme van die wêreld” (51, “Lamento”) is die pynlike geskiedenis van die Afrikaanse digter D.P.M. Botes opgesluit.

 

Soos Stevens werk Tranströmer met verwysings, selfs soms met ‘n voetnoot; ander kere moet die leser self die verwysing ontsluit.

 

II

“Oggendvoëls” (65) is betowerend mooi en hierdie ekster gesels met Opperman se narokkong. Die ekster is die hel se voël; by Opperman is die narokkong, via Sangiro se Koors, die draer van slegte nuus. Opperman se “Koggelbos” (Komas uit ‘n bamboesstok)gebruik die narokkong met sy grieselige, eentonige en rou geroep, soos Snyman uitwys in Mirakel en muse (129).

 

Stilte. Eensaamheid. Isolasie. Die soeke na sin en betekenis navigeer hierdie besondere verse vérder. Grimmige humor vind ons ook soos in “Oklahoma” (73) waar die Sweedse besoeker na ‘n Indiaanbyl kyk …

 

In ‘n lewenskets van Grieg (“‘n Kunstenaar in die Noorde”, 79) is die vleuelklavier so beknop ingepas as ‘n swael onder ‘n teëldak. My eksemplaar sit vol uitroepe waar ek so bekoor is deur ‘n mooi beeld.

 

Daar is verse wat kort en kragtig is; selfs ook ‘n villanelle, prosaverse – telkens bly die leser bekoor deur ‘n vers wat jou inkatrol en onkant betrap.

 

Die posseël se vlieënde tapyt

die adres se steierende letters

plus my verseëlde waarheid

swewend nou oor die oseaan. (“Lugpos”, 169)

 

Die digter betrek die geskiedenis, die skilderkuns (o.a. Turner), musiek, en daar is selfs ‘n verwysing na die Transvaal.  Shangai en uit ‘n Afrika-dagboek staan hier.

 

Daar is soos by Wallace Stevens ‘n soeke na die woord wat die regte emosionele lading moet weergee. Soos by Opperman.

 

III

‘n Groot geskenk in hierdie troebel dae hierdie vertalings van De Waal Venter. Hierdie leser ken nie Sweeds nie, maar via die Engelse vertalings imponeer De Waal Venter s’n bepaald.

https://www.poetryfoundation.org/poems/51016/the-indoors-is-endless  Besoek 24 Desember 2020

 

Hy het in Venuti se terme die gedigte huis toe gebring.  In ‘n nawoord gee De Waal Venter redes vir sy keuses en verwys na verskillende vertaalteoretici se sieninge oor vertaling. Sonder vertalings sou ons ervaring van ander letterkundes nie bestaan het nie.

 

Ek is geborge in my skadu

soos ‘n viool

in sy swart kas … (“April en stilte”, 171) 

 

is ‘n melancholiese strofe wat hierdie leser al lankal met haar saamdra, danksy De Waal Venter se bekendstelling van hierdie digter aan ons en een wat ek met sy toestemming as ‘n motto wil gebruik.

 

“Droomseminaar” (148) is ‘n gedig wat sterk resoneer met die tyd waarbinne ons leef …

Die onlogiese, die primitiewe, die droom, stiltes en spiritualiteit word saamgesnoer in wonderbaarlike gedigte met worstelstelsels wat ondergronds práát met ander digters in die “oop en geslote ruimtes” van die digkuns.

 

Daar is soos Neruda mos gewaarsku het: geen digters nie; net een groot digkuns.

 

Bronne:

Shumaker, Wayne. 1965. An approach to poetry. Londen: Prentice Hall.

Snyman, Henning. 1983. Mirakel en muse. Johannesburg: Perskor.

 

 

Lys van bundels:

  • 17 Poems (17 dikter), Bonniers, 1954.
  • Secrets on the Way (Hemligheter på vägen), Bonnier, 1958.
  • The Half-Finished Heaven (Den halvfärdiga himlen), Bonnier, 1962.
  • Bells and Tracks (Klanger och spår), Bonnier, 1966.
  • Seeing in the Dark (Mörkerseende), Författarförlaget, 1970.
  • Paths (Stigar), Författarförlaget, 1973.
  • Baltics (Östersjöar), Bonnier, 1974.
  • The Truthbarrier (Sanningsbarriären), Bonnier, 1978.
  • The Wild Market Square (Det vilda torget) Bonnier, 1983.
  • For the Living and the Dead (För levande och döda), Bonnier, 1989.
  • The Sorrow Gondola (Sorgegondolen), Bonnier, 1996.
  • Prison (Fängelse), Edition Edda, 2001 (from 1959).
  • The Great Enigma (Den stora gåtan), Bonnier, 2004.

 

 (Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Versindaba)

Resensie | S.J. Naudé – Dol heuning | Umuzi, 2021

$
0
0

S.J. Naudé – Dol heuning. Umuzi, 2021. ISBN 9781415210796

 

Resensent: Joan Hambidge

 

In hierdie uitdagende kortverhaalbundel staan daar die volgende woorde opgeteken: "Toe hy ’n slag opkyk, bemerk hy in een van die mure se houtpanele ’n deur. ’n Soort ge­heime opening waarvan die oppervlak die reliëf voortsit, en sonder ’n hand­vatsel. Hy gaan druk daarteen en dit klik oop."  En dit is presies wát van die leser verwag word in 'n boek met vele verwysings en toespelings. Jy moet fyn kyk agter die geheime openinge in. In een verhaal is daar 'n verwysing na die camera obscura.

 

Verhale speel in op mekaar met uiteenlopende temas soos rykdom, die soeke na identiteit, die korporatiewe lewe, begeerte, teisterende herinneringe, mense wat verdwyn op ski-vakansies, verskillende kulture wat mekaar nie begryp nie en hoe rykdom jou inperk, eerder as bevry. Verder word verhale gelaai met subteks en interteks. In 'n liefdesverhaal "Die wonderwerk" bly 'n man in 'n ryk apartment in New York waar Julia Roberts vertoef. So aktiveer hy die film Pretty woman (1990) en natuurlik ook La Traviata. Die leser weet die einde gaan sleg afloop; tog tref die ónafwendbaarheid van alles jou steeds in die maag.

 

C.G. Jung se Memories. Dreams, Reflections (versorg deur Aniela Jaffé) het in 1961 verskyn by Random House. In hierdie besinnings oor die lewe (en dood) word die leser teruggeneem na prosesse wat hier verbeeld word: die psigiese parallellismes én die konneksie tussen ervarings, tussen toe en nou; die sogenaamde hierosgamos. By Naudé kry karakters bykans 'n mitologiese status, soos die moeder-kind-verhouding (skitterend vertolk in "Twee libretto's") of  Lev wat die bose word. Die Maria-beeld word geplaas teenoor 'n sterk, aardse moeder in Namibië met die twyfelende Thomas, die seun as waarnemer.

 

Daar is 'n verwysing na die liggaam van Ötzi, ’n man van 3 300 of wat voor Christus, in die vroeë 1990’s in die ys gevind is. Iewers tus­sen Italië en Duitsland dateer Ötzi uit die Kopertydperk, maar hy het merkwaar­dig behoue gebly (181). Dit is 'n bundel van grense en liminaliteite, oorgange van lewe na dood.  Ervarings kry telkens simboliese betekenis. Sand wat waai van die Sahara oor na Griekeland en Turkye. Wat deur die atmosfeer opgesuig word en oor die Alpe neersak elke vier, vyf jaar ...

 

So bely die verteller in 'n bykans poëtiese binnespraak die volgende: "Haar drome, raai hy, is van die blinde, abstrakte soort. Visioene van silwerwit lugleegtes, van halfdeurskynende wande, van helder skeure lig, van ’n duisend yskeëls teen die son."


Die boek is simmetries en elke verhaal werk met fyn toespelings en motiewe wat in 'n slot saamgetrek word. 'n Soektog na die self wat dikwels faal: die binne-reis wat eensaamheid en teleurstelling inhou, word in somber verhaal na donker verhaal opgeteken. Die abjekte word gekoppel aan die dood met verwysings na La Faune des tom­beaux en La Faune des cadavres van Jean-Pierre Mégnin en hoe insekte gebruik word om die geskiedenis van kadawers te interpreteer. Belangrike kunswerke is eweneens sleutels soos Caravaggio wat droë vuurvlieë fyngemaal en met sy verf gemeng het.


Jeff Koons, Louise Bourgeois, Berlinde De Bruyckere, Ryan McGinley ("The Pied Piper of the Downtown Art World") en  Herman Nitsch se ritualistiese kuns laai die tekste verder met implikasies. Grond, ondergronds, bo-grond, agtergrond, barre grond en droogte is woorde wat die leser telkens raaklees. Jy word hier gedwing om telkemale terug te keer en weer na 'n subtiele, bykans weggesteekte motief te kyk. Onder draai die duiwels  bepaald rond.

 

Klere verraai ook karakters se ingesteldheid: mans in speedo's teenoor vroue in joekatas. Ontwerpersklere word 'n snelskrif om 'n karakter te verstaan. 'n Man met grys hare het geen liggaamshare nie. Waarom?

 

Jong kinders se argwaan met hul ouers word eweneens goed vertolk. 

 

In "Fawzi al-Junaidi" word ras- en genderdiskoerse geplaas teen die wye doek van politieke ongeregtighede met skuldgevoelens wat soos bamboese groei. Twee mans het 'n seun en die ervaring van hierdie pa's (in 'n eenderse geslag-verhouding) word uitgespeel teenoor 'n swart huiswerker en háár seun wat die omgekeerde van wit bevoorregting ervaar. Naamlose, ouerlose seuns kan net in 'n fantasie versorg en beskerm word.

 

In "Dol heuning" word misverstande en kultuurstereotipes op hul kop gedraai en in "Wonderwerk" kan jy die hele plattegrond van New York voor jou oë sien tot by Tribeca. Hierdie dramatiese verhaal werk soos installasiekuns; selfs met 'n motor wat in 'n swembad land.

 

In "die dal van doodskaduwee" word die moderne paranoïese bestaan in Johannesburg met keeltoetrekkende vaart vertel. Geweld met sambokke word later 'n s&m-geweld binne 'n gesofistikeerde omgewing. "Warm kompos" is waarskynlik my gunsteling met sy beelde van ondergrondse vuur wat alles verwoes gekoppel aan sieninge oor die heilige gees en spiritualiteit. "Landskappe met figure" is onvergeetlik ryk geskakeer met 'n verhaal wat soos 'n mini-opera werk.

 

Soos Valerie Shaw uitwys in haar analise van Tsjekof in The short story - a critical introduction (Longman, 1983) vermy die Rus melodrama in sy distansie. Tog is hy nie onbetrokke as verteller nie. Dieselfde geld Naudé in hierdie verhale met sy artistieke distansie én stilistiese beheer.

 

Naudé is kortverhaalskrywer en romansier. Die derde spoel was 'n uitdagende leeservaring oor verdwene films uit die dertigerjare en Walter Benjamin. Sy debuut Alfabet van die voëls, 'n kortverhaalbundel, was eweneens goed en het sy transkontinentale aanslag ingelui.


 Naudé is bekroon deur die Akademie vir sy debuut en 2014 het hy die Jan Rabie / Marjorie Wallace-toekenning ontvang. Tereg is Die derde spoel met die Hertzogprys bekroon. 


Hierdie bundel bewys hoe verkeerd diegene is wat dink die kortverhaal se tyd is verby. Ons lees immers steeds Tsjekof, Alice Munro en Hennie Aucamp. En wonder  oor hierdie kortetjie van Hemingway: 

For sale: baby shoes, never worn.

Verruklik, uitdagend, melancholies; 'n leeservaring wat jou ontstem én begeester. Dis 'n boek wat die verborge verbande saamsnoer en die fabels van toe en nou interpreteer oor rituele vernederings en bestaanswoede.

 

Sublieme ambag.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Boekbekendstelling | Konfessies, kaarte en konterfeitsels | Imprimatur 2021

Resensie | P.P. Fourie – 'n Hart is so groot soos ’n vuis | NB-Uitgewers 2021

$
0
0

P.P. Fourie – 'n Hart is so groot soos ’n vuisNB-Uitgewers, 2021. ISBN 978 079571 0018

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

 

Hierdie roman word aangeprys op die skutblad deur S.J. Naudé wat sopas 'n besonderse teks gelewer het. 

 

In 'n Hart is so groot soos ’n vuis deur P.P. Fourie vind die leser 'n ontstellende en meedoënlose terugblik op 'n pynlike jeug. Die vader, alkoholis en skrywer, se impak op sy familie word in hierdie roman beskryf wat kennelik semi-outobiografies is. Die verteller - 'n akademikus - se lang reis tot selfontdekking as gay-man word oortuigend weergegee.

 

Die gefiksionaliseerde outeur, optekenaar, dagboekhouer, scriba gee stem aan al die ander stemloses op sy lewensreis. Die moeder wat psigies en fisies aangerand is; die grootouers wat stilswyend is; Evelina wat kortstondig redder word en die jonger halfbroer Ben wat 'n sprituele uitweg soek.

 

Die leser word in klein hoofstukke of skerwe vertel watter impak hierdie vader op die gesin se lewe had. Die verteller sweer die vader af en ontdek later tot sy skok dat hy tog wil kontak maak met die vader wat kontak verbreek het met hom. 

 

Dit is dan 'n teks van ambivalensie en onsekerheid. Daar word oor kinderdepressie (en die psige wat tot stilstand kom) ontroerend geskryf, nes die selfdood van 'n buitestaander-kind.

 

Uiteraard is daar herhalings, want die leser beleef die sirkelgang van onthou en terugkeer na die bloedige jeug. 'n Jong kind se eensaamheid word pynlik-eerlik beskryf via Oscar Wilde se Die klein prins. Ons vind vele ingebedde tekste wat die vertelling amplifiseer: verwysings na psigoanalise, vertelling-as-heling en Truman Capote se Breakfast at Tiffany's.


Tolstoi oor geluk/ongeluk in gesinne. Arvo Pärt is hier met verwysings na ander musiek, films en skilderye. En Flaubert teenoor Julian Barnes. Hoe lyk eindes in moderne tekste teenoor klassieke romans? Is daar ooit closure?

 

Die boek is 'n mosaïek en 'n tessera. Maar tessera beteken ook voltooiing en antitese, soos Harold Bloom dit beskryf in The anxiety of influence (1973). Paul se identiteit is juis bepaal deur die gewelddadige vader wat tot gevolg gehad het dat hy en sy moeder op die vlug moes slaan. En die verraad van die vader wanneer hy betrokke raak by sý vriendin wys op die psigiese afhanklikheid tussen vader en seun. Oedipus en Laius dus nuut beskou.

 

Tessera bedui ook fragmentering. Verskillende fragmente vertel die storie: van 'n kind wat met 'n kettie vensters probeer uitskiet tot die verteller wat bely hy is dissosiatief. (In die inhoudsopgawe lees ons: tesserae). 'n Mosaïek dan ook en ons sien dit van ver en van naby soos wanneer 'n mens 'n moskee binnegaan.

 

In hierdie dae is dit veral vroueskrywers wat die vader in die beskuldigdebank plaas vir die onsigbare letsels hul aangedoen en met hierdie teks word die dikwels ónverhulde ellendes van mans beseer deur toksiese manlikheid openbaar gemaak. Dit word 'n aanklag oor hoe kinders geen agentskap het nie en verniel word deur afwesige ouers. Want abuse is júis om dit te weerhou wat behoef word.

 

Alles speel af teen die wyer doek van die Noodtoestand, wit manlike beheer, rassistiese grootouers en 'n political unconscious, soos Fredric Jameson dit tipeer. Mense word immers gekodeer deur politieke (on)sigbaarhede. 

 

II

 

By die lees van hierdie pakkende roman vind hierdie leser 'n (onbewuste) gesprek met Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan, daardie besonderse belydenisroman uit 1937. Maria teenoor Marié met Anna as die aangesprokene. In die konstruksie van Smit se boek is dit presies in die middel van die boek wat die hele verhaal oopwaaier. In Fourie se teks is dit skerwe waarheen jy terugkeer soos die kind wat 'n skat in die tuin begrawe en dit nie kan vind nie. Die titel word verklaar op bladsy 99: "Die kompartement is so groot soos 'n menslike hart, wat ook so groot is soos 'n vuis."

 

Kompartemente en laaie word oopgemaak. Regdeur die teks word die hartsimboliek uitgewerk. Die kindergemoed word goed weergegee met in "Die plek waar die wêreld eindig".

 

Treasure Island (1938) is hierom tersaaklik net soos J.M. Coetzee se romans oor sy jeug en die beskrywing van die alkoholis-vader in Boyhood van 1997. Dominique Botha se Valsrivier (2013) waar die suster die skriba word vir die gestorwe broer.

 

Toe word teenoor nou geplaas en die invloed van tyd op ons lewens geanaliseer. Die verlede is vir my sterker beskryf as die ouer, analiserende gedeeltes. 

 

 

III

 

Die tesserae plaas die teks binne die mistieke en die Kabbalisme. Die halfbroer is egter meer geïnteresseerd in die Boeddhisme as die verteller. Maar nou moet ons onderskei tussen die verteller/fokalisator en die implied author wat kennelik agter die konstruksie van hierdie diggeweefde teks staan. Hierom word die leser bewus van twee belangrike argetipes in die teks, te wete die afdaal in die Hades en die ritueel van hergeboorte. 

 

Soos Tom Chetwynd dan opmerk in sy studie van 1982, A dictionary of symbols, gee die psige weer wat in die wêreld gebeur, maar dit verander en boetseer ook die Umwelt. Die verlies aan mites (soos wat die jong kind ervaar waar alle strukture ineenstort) is uiteraard katastrofies. 

 

Die vader geen raad oor skryf. Hy word 'n bloedige mentor, 'n precursor in Bloom se terme. Die seun (ephebe) neem sy kreatiewe energie oor en word dan die skrywer. 

 

IV

 

 

Dit is 'n boek wat boei en ontstig. 'n Mens lees in verbystering en ontsteltenis oor hoé die vertellende instansie die skerwe optel en saamvoeg om tot insig te kom.

 

Dit maak nie saak of dit werklik gebeur het met die outeur nie. Wat saak maak is dat dit gebeur het met die verteller wat ons saamneem op sy reis. 

 

Et cu fut tout? Besluit self.

 

Die roman is vertaal deur Marius Swart.


 

Bron:

 

Chetwynd, Tom. 1982.  A dictionary of symbols. Londen: Paladin.

 

Rubriek | Greyhound 2021

$
0
0

Die sluiting van die Greyhound-busdiens het my onkant betrap. 

Die Greyhound het die groot, wye landskap van die VSA vir my oopgemaak en elke keer wanneer ek 'n film sien met 'n Greyhound, raak ek erg nostalgies. En diegene wat neersien op 'n busrit, weet nie wat hulle misloop nie.

 

Hier te lande het ek al male sonder tal die bus geneem van Kaapstad tot in Johannesburg; of van Kimberley tot in Pretoria. Of van Pretoria na Durban.

 

Om die landskap deur 'n bus se venster waar te neem, is wonderbaarlik. Net 'n treinrit troef dit. 'n Mens sien en ervaar die ryk geskakeerde landskap. Jy ontdek hoé kompleks ons land (en ander lande) se mense is. So het die buswaardin 'n dronk man by Beaufort-Wes afgegooi, omdat hy die ander passasiers gepla het. Hy wou nog sit, toe loop hy al!

 

'n Down-sindroom-kindjie in Kimberley klim op die bus en groet my met 'n môre-tannie.

 

Sy is heel vrolik op pad na haar Tante in Pretoria. Toe ontdek sy haar R50 is weg.

 

Ontroosbaar huil sy en beskuldig een van haar maats in die tehuis van die diefstal. Uiteindelik gee ons op die bus vir haar weer geld en sy is rustig.

 

Hoe wonderlik was dit nie om deur Turkye met sy laaaaaaaaaaaaang paaie te ry van Istanboel in 'n sirkel terug tot in Istanboel nie. Met die gids wat paai: "Ons is amper daar!". Amper daar was elke keer nog drie ure weg.

 

En 'n knorrige man uit Sydney wie se tas in Plymouth gegaps is en vir twee weke deur die Britse kolonies woedend is oor hy geen klere het nie en hy sal die toergids gaan aangee bla-bla-bla en ons weet nie hoe wha-wha-wha ons almal is nie.

 

Selfs die buskollekte vir 'n nuwe broek, hemp en tandeborsel kon hom geen plesier gee nie.

 

En die moderne Greyhound met sy skerm waarop films gewys word. Hier te lande Leon Schuster wat in 'n rasdiverse bus almal laat skaterlag. Ten spyte van politiek-korrektes se gemor dat sy films aanstootlik is. Maar nou ja, selfs satire durf nie eens meer 'n bier-advertensie en min wetend julle beswaarmakers: daardie rooikop, Johann Vermaak, het 'n MA-verhandeling onder my leiding geskryf oor satire!

 

Nog iets wat vir altyd verby is in die tyd van korona.

 

Slow-mo, kan 'n mens 'n busrit noem. Dis werklik reis. Jou liggaam en gees kom tegelykertyd aan by jou bestemming. Anders met 'n vlug waar dit dae neem voordat alles weer sinchroniseer. 

 

As Roland Barthes maar net kon weet hoe die Greyhound hier 'n simbool is, sou dit neffens die "The 'Nautilus' and the drunken boat" opgeneem kon word in Mythologies (1957 / 1972).

 

'n Boot se "bliss of closure", 'n afgeslote eenheid, is eweneens van toepassing op 'n busrit. Die "unbroken inwardness", want elke busrit is uniek met sy mense en landskappe en intriges. 

 

Las Vegas, Nevada 

 

Hier staan dobbelhuise neffens kerke 

hul plek vol en sy ry met ’n Greyhound, 

geleerbaadjie en gerugsak, die Sondestad binne. 

Met ’n achy breaky heart word die woestyn 

die perfekte back drop vir ’n down town-motel, 

waar reisigers en hoere kortsondig vertoef. 

Fear and loathing in Las Vegas. Agter haar lê 

die Stad van Engele en vóór haar Miami. Nou, 

in die oomblik, beleef sy die Mojave-woestyn, 

nageboots in restaurante dwarsoor die wêreld, 

met kaktus en klip kompleet. Vir haar is dit hel, 

hierdie flikkerstad met sy gebedekrale van $-tekens. 

La$ Vegas. Lush Vegas. Leaving Las Vegas. 

In die Liberace-museum verpand broer George 

handtekeninge namens die virtuose vertolker. 

’n Boekwinkel stal Barthes se Mythologies uit. 

Saam met die semioloog vertolk sy die xeriscapes, 

nabootsings, afbeeldings, flikkerligte: dollar a fuck. 

Sy verkas uit Vegas, op pad na Dallas, op soek 

na die American Dream, the greening of America: 

na dit wat soos ’n mirage in die woestyn glimmer. 

 

(Visums by verstek. Human & Rousseau, 2011).

 

© Joan Hambidge 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van BY)

Viewing all 819 articles
Browse latest View live