Quantcast
Channel: WOORDE WAT WEEG
Viewing all 819 articles
Browse latest View live

Resensie | Magmoed Darwiesj – Die vlug van ‘n vreemdeling | Naledi, 2021

$
0
0

Magmoed Darwiesj: Die vlug van ‘n vreemdeling (Vertaal deur Bester Meyer). Naledi, 2021.  ISBN 978 928 530 206 

Resensent: Joan Hambidge



Ek is jou metafoor, en ver van die roete van my lotsbestemming

 

I

In 2009 verskyn Breyten Breytenbach se bundel oor Magmoed Darwiesj – oorblyfsel / voice over  – wat hierdie Palenstynse digter aan ‘n Afrikaanse en Engelse leserspubliek bekend gestel het. Die voice-over in die filmkuns is wanneer ‘n verteller, dikwels vanuit ‘n agternaperspektief, die verhaal situeer en verduidelik. In hierdie bundel is dit ‘n vriend getref deur die dood van ‘n kameraad wat deur sy gedigte iets van homself en van politieke onreg probeer begryp. 

 

Sopas verskyn Bester Meyer se Die vlug van ‘n vreemdeling, sy Afrikaanse vertalings van Darwiesj met inleidende refleksies deur Breytenbach en ‘n nawoord deur Shahd Abusalama.

 

Die digter Magmoed Darwiesj (1941 – 2008) se werk het trefkrag en hy word tereg gesien as een van die belangrikste digters in die Arabiese taal. 

 

Die gedigte is roerend mooi veral róndom die vreemdelingskap. Die digter bevind hom van jongs af in ‘n geweldgeteisterde omgewing en in gedig VII (74, 75) skryf hy:

 

O Dood, wees ‘n seën vir die vreemdeling

wat die ongesiene 

duideliker sien as ‘n realiteit wat nie meer werklik is nie. 

 

Hierdie gedig is deel van die reeks “Elf planete oor Andalusië” waarin hy Lorca aanspreek, en identifiseer met die gewelddadige dood van hierdie digter:

 

Ek is ‘n Adam van twee Edens –

Ek het die paradys twee keer verloor.

Verdryf my daarom stadig,

En vermoor my stadig,

– onder ‘n olyfboom –

 saam met Lorca.

 

Dit herinner dan ook aan Pablo Neruda se beroemde Ode aan Lorca. [1]

 

Die vers “O water, wees ‘n snaar vir my kitaar” (gedig VIII in hierdie reeks) werk met ‘n refrein. Water as ‘n spieël moet die herinneringe terugbring voor die ballingskap. Dit sluit met ‘n pynlike wete dat die veroweraars gekom en gegaan het en dat politieke onreg herhaal word. Die beste deel van die digter is agtergelaat: die verlede.

 

Die musikaliteit van die verse is opvallend soos ons sien (en hoor) in “XI Viole”. Dog met die pynlike wete:

 

Viole is die anargie van harte wat gek gemaak word

deur die wind van dansvoete. (82)

 

Uit Ek sien wat ek wil sien (1993)  gee die digter erkenning aan Munir Akash en Carolyn Forché met verwysing na Fady Joudah se vertaling. Nou onlangs het ek verwys na die vergelykings wat George L. Kline maak.  Tien Engelse en tien Amerikaanse vertalings van Anna Akmatova word onder die loep geneem en met die oorspronklike gedig vergelyk. In die formele digkuns moet die metriese patrone en rymskemas gevolg word, meen hy tereg. Hy praat van die sogenaamde “verse integrity” (Seven by Ten/ An Examination of Seven Pairs of Translations from Akhmatova by Ten English and American | Besoek 23 Junie 2021).

 

En dis juis hierdie vergelykings wat ‘n vertaler moet raadpleeg om sy eie weergawe te “toets” teen ander vertalings of herdigtings.

 

In die gedig “Poëtiese regulasies” (132) word die digter se werkswyse veral treffend onthul. Die gedig as selfrefleksie, as iets wat jou kortstondig in die eg verbind; maar die gedig verlaat ook die spreker:

 

Die gedig is in my hande –

ek kan stories deur haar vingers laat vloei.

Máár vandat ek die gedig aangryp

is ek ‘n verkwister van my siel,

en vra dus:

Wie ís ek?   Wie ís ek?

 

Die ambivalente verhouding met die gedig en die skryfproses, word voortreflik in hierdie gedig beskryf. Hierom versoek hy in “Ons loop op die brug” (150) dat hy die ware land wil beleef; nie die metafoor nie. Hierdie meta-poëtiese besinnings (met die gedig as ‘n toestand van afwesigheid) is ‘n belangrike aspek van sy digkuns. Die wete dat skryf in ‘n tyd van ongeregtigheid ‘n eggo op ‘n eggo word. Hierom die verafge-leën-tyd van taal (“Jou nag is ligpers”, 153).

 

Die gedig as vervreemding – die vreemdeling wat sigself raakloop ín die vreemdeling – word briljant beskryf in die gelyknamige gedig (154). Nie alleen Lorca, wat in 1936 deur die militia vermoor is, word aangespreek nie, maar ook Celan wat selfmoord gepleeg het in Parys in 1970.  Hierdie mede-digters se werk word in gedigte geaktiveer soos in “’n Wolk van Sodom” (156).

 

Die Nakha (ramp of katastrofe) word eweneens beskryf – en watter elende die Palestyne in vlugtelingkampe woon – word skrynend opgeroep in “Die muurskildery” (188) met die digter as pleitbesorger weergegee met die slot:

 

En my naam, alhoewel ek dit verkeerd

oor die doodskis uitgespreek het, is myne.

Wat my aan betref,

gevul met elke rede om te gaan:

ek is nie myne nie

ek is nie myne nie

ek is nie myne nie. (229)

 

Die gedigte word ook gekenmerk deur paradokse deur die persoonlike wat nie persoonlik is nie, omdat hy namens ander praat (214):

 

Maar ‘n wond op die gegewe oomblik

skend die kwynende niksheid

en beweeg verby die tydelike dood om denke te word.  

 

II

Bester Meyer se vertalings is aangrypend-mooi. In die “Notas, Woordelys en Erkennings” neem hy die leser telkens na belangrike kwessies rondom die vertaling en die verstaan van die gedigte. Hy wys op die dubbelsinnigheid van Nahawund wat sowel verwys na klassieke Arabiese musikale modusse as ook die naam van ‘n gebied in Iran. Hudhud vertaal hy as hoep-hoep. Misr kan stedelike lewe en Egipte beteken. Alles belangrike punte vir die lees van die bundel en wat bewys dat die vertaler sy werk ernstig opgeneem het.

 

Die opstel deur Shahd Abusalama gee vir die leser ‘n onthutsende beeld van die ellende wat die Palestyne verduur het en steeds verduur. Breytenbach se beeld van hierdie digter is eweneens tersaaklik wanneer hy skryf dat hy nie sal vervaag nie. Die herhaling van die “nie” beklemtoon juis dat hy sal bly leef:

 

Hy sal nie vervaag nie. Nie die silhoeët in sy netjies, ouderwetse klere en gepoleerde skoene nie. Nie die intelligente oëagter die dik lense nie. Nie die geterg, of die nuuskierigheid oor die wêreld en die intimiteit van sy uitreik na dié naby hom nie …

Nie die gasvryheid om nooit sy pyn jou op te lê nie… (3)

 

“Ons was sonder ‘n hede” (144) bely die digter in ballingskap, beroof van lewensgenot. 

 

Die gedigte verklap met elke herlees iets nuuts en vir die Westerse leser veel te lere! Oor die digter Al-Ma’arri en die Muwashah, ‘n Andalusiese digsoort wat opgesê en gesing word.

 

Die leser hoor die digter se stem: verwytend, pleitend en as swerwer:

 

Ek het die metafoor van ‘n swaeltjie geword

om bo my oorblyfsels te hang

in die herfs en in die lente …

 

Dit is ‘n belangrike publikasie. Een wat vra vir herlees en herbesoek saam met Johan Steyn se aangrypende vertalings uit die Hebreeus, saam met die Joodse digter Israel Ben-Yosef: Olyfwoestyn (1987).

 

Die bundel beslaan 300 bladsye en is werklik die moeite werd om sy verlore Eden te besoek.

Hierdie resensie het op Versindaba verskyn: Versindaba » Blog Archive Resensie/ Die vlug van 'n vreemdeling (Magmoed Darwiesj.


 

Endnote:

 1. “Ode to Federico Garcia Lorca” deur Pablo Neruda – in Afrikaans vertaal deur Uys Krige – klink so in Engels:

 

Ode to Federico Garcia Lorca

Pablo Neruda

 

If I could cry out of fear in a lonely house,

if I could take out my eyes and eat them,

I would do it for your mournful orange tree voice

and for your poetry that comes out screaming.

 

Because for you they paint the hospitals blue,

and the schools and seaside barrios swell

and are populated with the feathers of injured angels

and are covered with the scales of bridal fish,

and the sea urchins are taking to the sky:

for you the tailor’s shops with their black membranes

filled with blood and spoons,

and they swallow torn ribbons, and they murder with kisses,

and they dress in white.

 

When you fly away dressed as a peach,

when you laugh the laugh of hurricane-thrown rice,

when you sing you make teeth and arteries tremble,

throat and fingers,

I would die for the dulcet thing that you are,

I would die for the red lakes

where you live in the middle of autumn

with a fallen steed and a blood-soaked God,

I would die for the cemeteries

that pass by like ashen rivers

with water and tombs,

at night, amongst muffled bells:

rivers thick as bedrooms

of ill soldiers, who suddenly swell

toward death in rivers with marble numbers

and decaying garlands, and funeral oils:

I could die from seeing you at night

gazing past the piled-high crosses,

standing crying,

because before the river of death you cry

abandonedly, injuredly,

you cry crying, with eyes full

of tears, of tears, of tears. 

 

If I could at night, hopelessly alone,

amass oblivion and shadow and smoke

above railroads and steamboats,

with a black funnel,

chewing the ashes,

I would make the tree in which you grow,

the nests of golden water that you gather,

and the vine that covers your bones

communicating the secret of the night.

 

Cities that smell of wet onion

wait for you to pass by singing hoarsely,

and silent ships of semen pursue you,

and green swallows nest in your hair,

and seashells and weekdays, too,

furled masts and cherries

definitively spin when

your pale head of fifteen eyes

and your mouth immersed in blood appear.

 

If I could fill the city halls with soot,

and, sobbing, tear down clocks,

I would be there to see when summer comes

at your house with broken lips,

here comes a crowd of people in death suits,

here come regions of sad splendor,

here come plowed dead poppies,

here come gravediggers and riders,

here come planets and maps with blood,

here come divers covered with ash,

here come masked men dragging maidens

held against large knives,

here come roots, veins, hospitals,

springs, ants,

here comes the night with the bed where

a solitary hussar is dying among the spider lamps,

here comes a rose of hatred and pins,

here comes a yellowish embarkation,

here comes a windy day with a child,

here I come with Oliverio, Norah,

Vicente Aleixandre, Delia,

Maruca, Malva Marina, María Luisa and Larco,

la Rubia, Rafael Ugarte,

Cotapos, Rafael Alberti,

Carlos, Bebé, Manuel Altolaguirre,

Molinari,

Rosales, Concha Méndez,

and others I’m forgetting.

They see that you are crowned, young man of health

and butterfly, pure young man

like a black flash of lightning perpetually free,

conversing among us,

now, when no one is between the rocks,

let’s simply talk about how you and I are:

what do verses serve if not the dew?

 

What do verses serve if not for this night

in which a bitter dagger finds us, for this day,

for this twilight, for this broken corner

where the battered heart of man prepares to die?

 

Especially at night,

at night there are many stars,

all within a river

like a ribbon next to the windows

of the houses full of poor people.

 

Someone has been killed, perhaps

they have lost their jobs in the offices,

in the hospitals, in the elevators,

in the mines,

the stubbornly wounded beings suffer,

and there is purpose and weeping everywhere:

while the stars run in an endless river

there is profuse weeping in the windows,

the doorsteps are worn from the weeping,

the bedrooms are wet from the weeping

that comes in form of a wave to eat away the carpets.

 

Federico,

you see the world, the streets,

the vinegar,

the farewells at the stations

when the smoke raises its decisive wheels

toward where there is nothing but some

separations, stones, tracks.

 

There are so many people asking questions

everywhere.

There is the bleeding blind man, and the irate, and

the downhearted,

and the miserable, the tree of fingernails,

the bandit with envy on his back. 

 

Thus it is life, Federico, here you have

the things that my friendship can offer you

from a melancholic, manly man.

Already you know many things for yourself.

And you will know others slowly.



(eNOTHING - Poems, Poets, and Poetry made easy.../ Poem of the Day – "Ode to Federico Garcia Lorca". Besoek 5 Julie 2021).



(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Versindaba)


Resensie | Meyer van Rensburg – Heenkoms | Imprimatur, 2021

$
0
0

Meyer van Rensburg – Heenkoms. Imprimatur, 2021. ISBN 978-0-620-92969-1

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Heenkoms is die tweede bundel van die digter Meyer van Rensburg. In 1983 verskyn Klankmanwoordboom (Human & Rousseau) wat die betekenis van klank in ‘n gedig ondersoek en ontgin. Nou, 38 jaar later, is daar Heenkoms. Heenkome, tuiskoms, afkoms, heengaan en al die ander versluierde betekenisse word deur hierdie titel opgeroep.


In die afdelings Uittrek, Uitbeeld, Uitspraak navigeer hierdie digter die impak van vertrek uit jou land en aankoms in ‘n vreemde ruimte. Die “gekopuleerde klinkers van my klankbord” waarsku die programgedig, wat telkens die afskeid (en vertrek) uit die moederland (en moedertaal) ondersoek in verskillende verse. Pynlik, maar sober. En klank is hierdie digter se métier, ‘n voormalige klankingenieur by die SAUK en liedjieskrywer vir musiekkunstenaars.


So dig hy dan:

 

Beeldkontroleur

 

voeg visie by die woorde

laat klank substansie kry

beligte klankakkoorde

crescendo vol verby

tot lampelegkaart vierkant pas

’n prentjiemooi geheel

en niks word dan weer bygelas

dis woordwys fyn gereël

profeties klaar

gekontroleer

deur woordbeeldregisseur

(41)


En:

 

Klankmanie

 

Ek wil, soos mikrofone,

woorde in my net vasvang:

die instrument se nootpatrone,

weer, berigte, klanknuanses

klodder teen my aan

terwyl ek met my gospel-goggles

die lewe gadeslaan.

Ek wil my klinkers so verstel

dat ek klankgetroue goeie nuus vertel:

die manie gaan nie dood nie,

al doof hy allengs uit.

(43)

 

Ons het hier ‘n woordvaste digter wat uit ‘n vreemde landskap terugkyk na Van Wyk Louw en Opperman. Hoe dan anders? Die digter karteer sy verlange na sy herkoms en in ‘n nostalgiese vers soos “Ganspan” (23) onthou hy die “suikersagte sand”.

 

II

Behalwe vir die migrasieverse en verse wat die klankmatige van die gedig ondersoek, is hier ook teologiese besinnings. In die slotvers “Die laaste vertrek” (93) word daar verwys na die “lyflike Egipte”  … en die gedig eindig met “Eksodus!”.


Hierdie gedig verwys terug na die vers “Eksodus 4:10” (13) waar die digter homself tipeer as “swaar van mond en tong”. Tog uit hierdie selfironiese opmerking sien ons dan verse oor klank en musiek en ‘n spreker wat hom meet aan Louw en Opperman. Tog skuil daar in hierdie gedig ‘n belangrike spel met sy “prullerige gestotter” wat uiteindelik uitstekend verwoord word. Ook die spel tipografie sien (en hoor) ons in “Wandelende Jood” (33) met sy dubbelsinnige slot. Die tuinier is hier ook die digter wat snoei en kap.


In “redigering” (42) gebruik hy die begrip anastomoseer wat netwerke en verbintenisse impliseer, maar vir hierdie leser ook die begrip anastrofe oproep. En hoe verruklik is “’n Simpel liedjie” (48) nie. “Soho: Diane Schuur” (79) is ‘n uitsonderlike huldeblyk.  Hy verwys na die “dinamies perfek getoonde woorde” en “helder kaskades” met ‘n slot wat aan die keel ruk.


Eweneens is daar beeldverse soos oor Winston Churchill en Jan Smuts wat ‘n bepaalde politieke diskoers aktiveer in hierdie dae van beeldverwydering.


Die verskille in toonaard is opmerklik: van die ernstige, wufte, frivole, satiriese tot selfspot. Die gedig sit vol ironie en dubbelspraak, die kentekens van ervare digters.


Ons vind ook ars poeticas – netjies opgebou róndom klankspel en assosiasies – wat die poësie “tradisieklas” via Van Wyk Louw, Opperman, Peter Blum en Lina Spies aktiveer.


Die migrasie na Engeland plaas die digter binne ‘n vreemde (taal)landskap met ‘n nostalgiese verlange na sy mense.


Ons tref vele Bybelse verwysings en toespelings regdeur die bundel. Die digter is opgelei in die teologie en het boeke hieroor gepubliseer en in “Teoloog” (28) soos in “Religie: sistematies opgedis” (26) word die plek van godsdiens ondersoek.


Ouderdom, liefde, familieskap, die dood en die natuur maak van hierdie bundel ‘n ryk geskakeerde werk wat elke herlees sy geheime stadig prysgee. Iets hiervan sien ons in die voorblad (“Island refuge”). In “Ou skilder” (92) som die digter sy lewensfilosofie op:

 

Ou skilder

 

En nou, voor die laaste dae kom,

wil ek nog een verfkwas laat blom:

oor seildoek strepe trek wat wys

hoe ek natuurwonders kan prys

in diep karmosyn,

chartreusegroen of amber

en teen ’n lasuur of kobalt lug

nes note in ’n koloratuurgesang

sneeuvlokwolke los laat dryf:

dan, as my doek die vrye kleurevlug

vasvang,

het my siel vir eers genoeg gelyf.

(92)

 

III

Die pragtige omslag is na ‘n skildery van die digter sélf wat ook onderlê is in die teologie. Hy het sewe boeke gepubliseer oor teologiese onderwerpe. Die gedigte verval egter nie in die abstrakte nie, omdat hy telkens die worstelende vrae konkretiseer.


In hierdie bundel word geworstel met die sin van die lewe en die ouderdom. En ‘n fan van Sinatra se “foutlose frasering” is ‘n digter so na my hart.


Daar is wat hierdie leser betref nie een swak vers in die bundel nie. Welkom terug, Meyer van Rensburg!


Dit is ‘n loflike publikasie en dank aan Imprimatur wat dit gepubliseer het. Die resensie het oorspronklik op die Versindaba verskyn (Versindaba » Blog Archive Resensie. Heenkoms (Meyer van Rensburg).

 

Naskrif:

Kyk hoe mooi het wyle Gisela Ullyatt oor die eerste bundel geskryf wat ek vir haar present gegee het (Versindaba » Blog Archive Gisela Ullyatt. 'Ek wil weer jou rooikors breek'/ ontworteling in KlankmanwoordboomBesoek 14 Junie 2021).

 

Resensie | N.P. van Wyk Louw - Raka (vertaal deur Iván Kovács) | Naledi, 2021

$
0
0

N.P. van Wyk Louw - Raka (vertaal deur Iván Kovács). Naledi, 2021. ISBN 9781928518938


Resensent: Joan Hambidge

 

I


Oor vertalings is die afgelope tyd geweldig baie geskryf. Van ‘n vertaler wat beweer hy vertaal sonder om presies te weet wat hy vertaal tot ‘n vertaler wat elke besluit verduidelik.


Wanneer een digter ‘n ander digter vertaal, verwag die leser nie noodwendig ‘n stuk teorie nie, maar ten minste ‘n besinning oor watter keuses gemaak is. Is daar uit die oorspronklike taal vertaal (Spaans, Frans, Duits, Russies …) of het die digter gewoon gekyk na ander vertalings in Engels. Die bronteks moet egter altyd ten minste geraadpleeg word. Nie dat dit noodwendig ‘n goeie vertaling waarborg nie. 


D.M. Thomas het Anna Akmatova uit die Russies vertaal na Engels en daar is al vergelykings gedoen oor verskillende vertalings van hierdie digter. George L. Kline se belangrike studie vergelyk tien Engelse en tien Amerikaanse vertalings. In die formele digkuns moet die metriese patrone en rymskemas gevolg word, meen hy tereg. Hy praat van die sogenaamde “verse integrity”.


Dus wil dit lyk asof die geslaagde vertaling eis dat die vertaler ook iets van die oorspronklike digter se ratwerk (en hartwerk) moet begryp. 


Uys Krige se vertalings van Spaanse digters oorrompel die leser, omdat hy die oorspronklike Spaans bemeester het en meesterlik kon oordra na Afrikaans. So het Neruda die eerste keer hier by ons aangekom. Met die coplas. Hierna was dit De Waal Venter se beurt met Vandag is boordensvol, 2019 (Resensie | De Waal Venter – Vandag is boordensvol, 2019Besoek 22 Junie 2021). 

 

II


N.P. van Wyk Louw se Raka is ‘n klassieke teks. En enige vertaling is tersaaklik, omdat dit ‘n digter laat reis na ‘n ander bestemming. Maar reis, dit weet ons almal, is nie sonder beslommernis of probleme nie.


Jy behoef ‘n visum na die vreemde land (met ander woorde, is jou taalvaardigheid goed); genoeg kapitaal (en hier kom dit simboliese aspek ter sprake: het jy die “currency” om die digter se teniek soos ryme, klank, metriese patrone oor te dra); het jy al die medikasie geneem (met ander woorde het jy ander se vertalings of oorsigte oor die werk gelees); het jy blyplek (is die regte uitgewershuis en kenners gekies) en is jou vlug terug bespreek?


En so kan ons aanhou.


III

 

So word die bundel bemark deur Naledi:

 

New translation by Iván Kovács

• N. P. van Wyk Louw’s Raka is probably his best-known and most beautiful poetic creation. It has inspired musical compositions, radio plays as well as a ballet. It has also been widely distributed as a prescribed work for high school and university students who study Afrikaans. Raka has previously been translated into English, German, Zulu, Sotho and Xhosa.


• 2020 was the year which commemorated the 50th anniversary of N. P. van Wyk Louw’s death. It was celebrated countrywide with various talks and shows, often with special references to Raka, and how this South African epic could be reinterpreted by contemporary readers and critics.


• Raka is the story of an African tribe which is threatened by the appearance of Raka “the ape-man”, he “who cannot think” and who is “more than animal, but less than human”. He is both feared and admired by the people of the tribe, because of his physical allure and strength. It is only Koki, the young prince, “he (who) would always be alone among them with his fear for precious things” who realizes the threat that Raka poses to the culture and survival of his tribe. Sadly, his appeal to his people to kill Raka falls on deaf ears.


• The responsibility to remove the threat clearly becomes no one else’s task but Koki’s. So, Koki meticulously prepares himself to meet his foe, but when he sets out in search for Raka, it is not the war song of his tribe that he sings, but its death song. This is a clear indication to the reader that a great tragedy is about to play out.


• Raka’s enduring appeal lies above all in Van Wyk Louw’s exquisite and evocative description of the African landscape, the daily activities and rich cultural heritage of the tribe, and the tragic existential confrontation between Koki and Raka and the world views and values that they each represent.


Cover painting by internationally renowned artist Schalk van der Merwe (www.svdmstudio.com)

 

IV


Inderdaad, maar gee asseblief die name van die vertalers in die ander tale. En wanneer het hierdie gedig verskyn? Dis immers belangrik! (En al hierdie besware word voor die deur van die uitgewershuis gelê wat hierdie kwessies moes aanspreek.


Hierdie epos het in 1941 verskyn en problematiseer die verhouding tussen geestelike en dierlike.

Verder is dit ook belangrik om te kyk na hierdie datum en die betekenis van 1941. Ek het driejaar terug hierdie epos behandel (saam met Opperman se Joernaal van Jorik) met ‘n derdejaarklas en hul reaksie op die gedig was openbarend. Wit en bruin het dit as uitmuntend en pakkend ervaar weens die groot stryd bekend aan die epos; maar veral om die tegniese beheer van Louw.


As jong kind het ons die gekuiste skooluitgawe as voorgeskrewe werk behandel in 1974, maar ieder en elk het presies geweet waar en hoekom dit gesny is, met ‘n blosende juffrou vars uit die RAU, wat stotter juis omdat die skoliere alles snap.


In Mattheus 5:22 – in die ou vertaling - word Raka gesien as ‘n kragwoord waarteen Jesus waarsku. In Grieks en Aramees is dit ‘n idioot of domkop. So word dit vandag vertaal:

 

MATTEUS 5:22 AFR83

Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir 'n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir 'n idioot, is strafbaar met die helse vuur.


Brother without a cause shall be in danger of the judgment: and whosoever shall say to his brother, Raca, shall be in danger of the council: but whosoever shall say, Thou fool, shall be in danger of hell fire.


Hierdie ryk geskakeerde teks is al vasgemaak aan die politiek van die dag (Die WO II met Hitler; die Raka as die Kommunisme; die apartheidstryd en die rooi gevaar; vandag word Raka selfs ingespan om alle onsekerhede of gevare te verteenwoordig.) My Juffrou het gemeen dat Raka alles simboliseer wat kultuur ontken of ondermyn. Sy was immers ‘n student van F.I.J. van Rensburg, besef ek vandag.

 

Gaan kyk ook wat Danie Langner van die FAK alles raaksien: Wie is Raka? | Maroela Media. Besoek 5 Julie 2021.

 

V

 

In die bekende glossarium van literêre terme word Raka dan vergelyk met Jorik as ‘n anti-held. Koki triomfeer eerder metafisies as fisies word daar tereg aangetoon. Raka sluit by die tradisionele e-pos aan, terwyl Opperman se Joernaal van Jorik bepaald moderner in aanbod is.

 

Die stichiese versvorm is iets wat verdere ondersoek behoef, met Louw se besondere hantering van die rym en metrum.


Raka is dan ‘n argetipiese verhaal wat wys op die ewige spanning tussen die goeie en die bose. Die grootsheid van die teks lê nie alleen opgesluit in die allamagtige digterlike beheer nie, maar ook in die feit dat die teks op soveel verskillende maniere gelees en geïnterpreteer kan word.


Tereg lees Kovács die teks in die inleiding as Jungiaans met Raka as Koki se skadu; of Freudiaans as die Id. 


Hy open nuwe interpretasies vir die psigoanalitiese en spirituele leser róndom die kwessie van die mistisisme en stilte. Dus meer as die konvensionele Afrika-opposisies waaroor die ouer Afrikaanse letterkundiges geskryf het.


Daar is spaars verwysings na antieke filosofie waarop die vertaler miskien vérder kon uitgebrei het. Maar hy het bepaald ‘n deur oop gemaak …

 

VI

 

In  Lawrence Venuti se terme word hierdie vertaling wéggestuur, eerder as huis toe gebring. 


Die vertaler gee vir ons ‘n goeie vertaling van die gedig, maar hy bly in gebreke om die tegniese vorm te ewenaar soos die rympatrone en metrum. Venuti onderskei in The translator’s invisibility: A history of translation (1995) tussen die vertaling huis toe bring of wegstuur.


Hierdie vertaling stuur dan eerder wég sodat lesers wat nie Afrikaans magtig is nie, dit sal kan waardeer. Die kenner van die oerteks bekyk egter die volgende:


“en moeitevol getorring aan die taai knoop van sy gedagtes” 

word

“as he tried laboriously to unravel the tight knot of his thoughts” (11, 12)

 

“versinsels’

word

“fabrications” (27, 28)

 

“Oor ‘n groen poel wat stil en dik / was van die bronslaai en die warm slik”

word

“In the tepid forenoon, Raka crouched / over a green pool, still and thick” (33,34)

 

Kanette word reeds (37, 38)

Skater word howled (41, 42)


Die vertaling van "‘n ander koors deur die wilde bloed" word lomp vertaal. (53, 54)


Waar die digterlike implikasie nie werk nie, is veral met “Raka met sy apespring” (55) wat “with an apelike leap” en waar die metaforiese konstruksie ontken word.


Ons almal ken die pakkende slot wat nou so klink:

 

But no one dared to shut the narrow gate

And refuse him entry ever again.

 

Iván Kovács is ‘n Hongaar en die enorme harde werk van hierdie transportering moet vermeld word. Dit is ‘n letterlike vertaling wat ongelukkig nie die poëtiese vuur van die oorspronklike teks opvang nie. Maar dan: wie sou dit kon vermag?


Onderhoud | Met Dominique Botha | 2021

$
0
0

Die retoer van die verlede

is nooit op die brosjures uitgewys nie


1. Hoe het dit gekom dat jy in ‘n bundel sowel in Afrikaans as Engels publiseer onder die titels Donkerberg / Bloodwood uitgegee deur Anton Kannemeyer? Het dit iets te make met jou bestaan as hibried: Afrikaanse, Vrystaatse kind wat skoolgaan in Engels? Vertel ons iets van hierdie verskuiwing. 

Die wêreld waarin ek grootgeword het was meer wit en swart, meer óf Afrikaans óf Engels as vandag. My ouers wou ons graag ‘n breër ervaring van die wêreld bied en ‘n wegkomkans uit die eng politieke siening van Christelike Nasionale Onderwys. Na laerskooljare in ‘n Afrikaanse staatskool op die Vrystaatse platteland is ek na ‘n Engelse privaatskool vir meisies in Natal.

 

Ek was die enigste Afrikaner in die skool. You are not like other Afrikaners….more like us….haha, die Engelse meerderwaardigheid is kostelik. Interessant hoe ‘n nuwe taal jou mond kan moeg maak. Jy gebruik jou tong op ‘n verskillende maniere na gelang van die klanke van die taal.  Dit is natuurlik ‘n belangrike fisiologiese tyd vir taalverwerwing, as jong tiener is jy in ‘n oorgangsfase waar jou vlotheid van spraak vasgelê word en die veerkragtigheid van jou aanleervermoë taan. Ek het myself dus tussen tale bevind, en hulle is jaloers op mekaar. Taalsloping is ‘n dinamiese en konstante gegewe omdat die tale baklei vir heerskappy. Die een wil die ander een van kant maak, of omvorm. Om beide tale gelukkig te hou moet jy vir albei blomme aandra. 

 

Ek het my roman Valsrivier in Engels geskryf, maar die slot het uitgeloop in ‘n treurvers roudig wat spontaan in Afrikaans ontstaan het. Ek vermoed poësie word neergelê lank voor jy nog jou eerste woorde uiter. Die klanke, geure en kleure van jou grootwordjare is die gietvorm van die verbeelding. 

 

‘n Poolse skrywer het gesê: “Om jou moedertaal te verlaat is om haar nog inniger lief te hê.” Ek was bekoor deur die herontdekking. 

 

 

2. Jou buiteblaaie – uitstaande mooi! – aktiveer Pierneef. Wat is die betekenis hiervan? 

Pierneef vir my is die skilder van stilte …

 

En vir my is Pierneef die digter van landskap, van hierdie landskap wat ek nog meer en inniger liefhet soos ek ouer word. In ‘n onderhoud het die skrywer John Berger hierdie fenomeen so verwoord:

We talk about about how it is possible to love a landscape like a familiar face. For Berger, that face is the Haute-Savoie. “This landscape was part of my energy, my body, my satisfaction and discomfort. I loved it not because it was a view – but because I participated in it.”

Die leuse ‘Dig where you stand’ as rigsnoer vir skryf en lewe anker jou in ‘n plek en ‘n tydvak. Weens die dubbeldooromslag moes ek twee buiteblaaie kies. Ek het in ‘n kamer ingestap en heel terloops die twee Pierneef kunswerke langs mekaar gesien. Daar word gesê “When the student is ready the master will appear”. In hierdie geval het die buiteblaaie hulself onthul toe die bundel gereed was.

 

Donkerberg gee ‘n vroeë landskap van Pierneef weer, olie op bord, terwyl die Engelse omslag Bloodwood inteleskopeer op ‘n pasteltekening van ‘n treurwilg langs ‘n rivier, so tekenend van die Vrystaatse platteland.

 

Die Afrikaanse titel Donkerberg word ontleen uit die gedig voorbode. Daar is in werklikheid ‘n donker berg agter my huis. Die titel is dus gesetel in die konkrete, maar metafories ontplooi in die gedig en dan visueel vergestalt in die skildery. En in die donker donker huis is ‘n donker donker kamer… Die titel, buiteblad en inhoud kan gesien word as ‘n skilpop met lae van betekenis. Op ‘n soortgelyke manier dien die treurwilg as leimotief vir die elegiese verse. 

 

Onder leiding van Anton Kannemeyer en Sean Robertson is die verskeie lae van vormgewing bymekaar gebring in ‘n esteties bevredigende objek – indien dit nie te aanmatigend klink om saam te stem dat die buiteblaaie uitstaande mooi is nie, maar darem nie deur my toedoen nie.    

 

 

3. Hoe verskil die skryfproses van die digkuns met die skryf van ‘n roman?

 

Die roman moet aan sekere verwagtinge van die leser voldoen. ‘n Roman moet ‘n begin, middel en einde hê, natuurlik nie noodwendig in daardie volgorde nie. Stories spruit uit gedeelde ervarings in ‘n soeke na sin, en moet ‘n aantal gegewens ontplooi wat reeds gedeelde begrippe is. In prosa het jy ook die kadens van narratiewe beskrywing en dialoog. Laasgenoemde versnel die intenstiteit van die vertelling, terwyl beskrywing dit verlangsaam. Die onderbou van die roman hoef nie waar te wees nie maar wel geloofwaardig, ongeag die konteks, of dit nou in die buitenste ruimte of in ‘n hallusinasie afspeel.

 

Poësie werk met vervreemding. Dit raak aan die onnoembare, die misterie wat buite die omvang van woorde vibreer. Elke woord in ‘n gedig moet juis wees. En elke woord dra ‘n lading van assosiasies en veelstemmigheid. Dit is wat gedigte so dig maak, en so uitdagend om te vertaal. 

 

Die groot verskil in die skryfproses tussen gedigte en prosa is sekerlik die lengte. ‘n Roman het karakters, dinge gebeur, maar gedigte kan ook karakters en ‘n storielyn hê, beide maak gebruik van die musikaliteit van woorde. ‘Iets’ moet gebeur in ‘n roman, ’niks’ kan net in ‘n  gedig gebeur, en jy moet ‘n uitstekende digter wees om ‘die niet’ treffend en betekenisvol weer te gee. 

 

Die bekende kortverhaal “For sale. Baby shoes. Never worn.” word toegedig aan Hemingway. Dis ‘n gedig, ‘n kortstorie en ‘n roman. Enige stuk skryfwerk is onvoldoende ingekleur. Mens moet nooit vergeet dat die leser die skrywer voltooi nie. 

 

 

4. Vertel iets van die elegiese gedigte. By jou is dit treurverse – wat die Engelse voorblad so aangrypend vergestalt. Pierneef vir my is die skilder van stilte …

 

Ek veronderstel dat die aanvangsreël die heersende toonaard van die bundel bepaal.  Ek reis met die witduif van my oë terug na die mooiweer en warm koninkryk. Met die intrapslag dus ‘n elegiese reis, die mooiweer en warm koninkryk ‘n verwysing na die verlore jeug, die witduif van die oë wat vredig terugkyk.

 

Daar is treurgesange oor die dood van familie, van ‘n vermoorde buurvrou; ’n lyksang vir  ‘n jong meisie in die fleur van haar jeug. Klaagliedere oor die gevreesde vooruitsig van die dood van die ouers. Die verlies aan ‘n droom vir ‘n beter toekoms vir almal. En uiteindelik die dood van die broer wat herbesoek word baie jare later in die afdeling van ‘die kind wat geen perke geken het nie’. Hier weereens, word die skrywe gerig aan die oorlede persoon,  soos die slotgedig uit Valsrivier wat ook in die bundel opgeneem is. 

 

Jy is nou ‘n rooigrasvlakte

In die sterfland

Waar laatmiddae aan jou wei

 

 

5. Ou Boerewoorde kom in jou gedigte voor – wat is die betekenis hiervan:

 

hartjiesgras  

douwurm 

skroefbors 

Nooienshaar 

Dis amper asof jy hierdie woorde in ‘n museum wil bewaar.

 

Dis eerder ‘steel’ uit die museum as ‘n impuls tot bewaring. Baie ou boerewoorde bestaan nog as kontreitaal, ‘n skatkis van woorde wat veral opgesluit lê in sekere ambagte en maniere van doen.

 

Hartjiesgras is byvoorbeeld die Afrikaanse naam vir eragrostis capensis wat algemeen voorkom op die hoëveld. As kinders het ons deur die veld geloop en die saadhuisies oftewel hartjies met die hand gestroop. 

 

Ek dink kinders is baie ingestel op die ligaamlike. Omlope, veldsere, koorsblare, luise, skurwe elmboë, al die gruwels waarmee oor en weer geterg is. Douwurm is ‘n omloop, of roosagtige kruipseer op die vel soos beskryf in die woordeboek. 

 

FA Venter se Kambro-kind is een van my gunsteling boeke. Ek het daar gelees van iemand wat sterf weens skroefbors. ‘n Baie treffende beskrywing van ‘n doodsangs of roggel of beklemming, al is die eintlike betekenis duister en nie elders te vinde nie.

 

En laastens verwys nooienshaar na ‘n endemiese plant wat in die Kaap voorkom en soos ‘n wilde bos hare verstrengeld oor ander plante groei. 

 

 

6. “Voorbode” vertel iets van die verhouding met die vaderfiguur. Hoe sien jy die ouers wat telkens in jou gedigte na vore kom. Of is hulle blote argetipes?

 

‘n Ouer vriendin het my vertel dat mens ‘n blywende behoefte het om nader aan jou ouers te kom, selfs baie jare na hul dood, en tegelykertyd so ver moontlik te probeer wegkom. 

Ouers is tog die oorspronklike mitologiese figure met voete van klei, en wanneer jy self later ‘n ouer word begin jy kleitrap met al jou eie onopgeloste verwyte en selfverontskuldigings. Jy is nie net in gesprek met jouself en jou ouers nie, maar ook met die generasies wat voorafgegaan het. Of is jy eintlik maar net in gesprek met jouself en die projeksie van jou skadu op ander?

Ek skryf baie oor die Pa, my pa. Ek sou hom nie as ‘n muse beskryf nie, maar eerder as ‘n karakter. Ek misbruik hom gereeld as ‘n stylfiguur. Die spesifieke kort gedig “Voorbode”  is eintlik ‘n vooruitskaduing van die vader se naderede dood.  

 

my pa word al hoe kleiner 

wanneer hy uitstap om my die maanlig

 op die werf te wys 

 

soos ’n grys ster bo donkerberg 

krimp hy tot
’n tuindwerg ongeverf
tussen die kannas op die werf 

 

My oorlede broer het ‘n tuindwerg gesteel iewers op ‘n reis na nêrens, en dit vir my ma teruggebring plaas toe as ‘n geskenk. Die verlore seun is met ‘n gemeste kalf van gemengde gevoelens ontvang. Sy was ontroer deur die gebaar, maar ook afkeurend oor sy gedrag. In my persoonlike diereriem van simbole is die belaglike tuindwerg verbind met ambivalente gevoelens teenoor die broer. In teenstelling met Percy Bysshe Shelley se Ozymandias met sy “two vast and trunkless legs of stone” en die inskripsie “Look on me ye mighty and despair”, is die tuindwerg ‘n ietwat komieklike gedenksteen, maar met dieselfde gevolgtrekking: Alles gaan tot niet. Alles is hubris.

 

 

7. Jy skryf soel, ruige verse – wie beïnvloed jou? Watter digters het jy (ge)lees?

jou grafsteen het geswel /

soos ‘n brood uit die sooie …

==

metafoor is die plofstof van skrywe /

en die lendene die lont

 

Ek lees The Big Five in Afrikaans, asook the little five en baie van die ander. Ted Hughes, Miroslav Holub, The Encyclopedia of World Poetry, Pablo Neruda natuurlik, Gabriel García Márquez se memoir is een lang gedig. Pasolini. Ferenc Juhazh. Afrikaanse name vir blomme en voëls. 

 

Ek hou van verse wat ek kan ruik, soos om in ‘n vertrek in te stap vol geurige tuberose (soetemaling?). Elke keer as ek ‘n nuwe boek lees wil ek soos daardie skrywer skryf. Woorde is aansteeklik. Musiek inspireer my, van Bach tot Bob Marley. Ek is egter lui.

 

 

8. Vertel iets van die politieke gedigte in jou digkuns. Jy laat jou uit oor Afrikaans en die politiek wat tans rondom alles insypel. (Bladsy 61) Daar is ook verwysings na die boereoorlog. Werkers wat aanwesiges / toeskouers is soos in ‘n Griekse tragedie …

Kommentaar.

 

Afrikaans is gemaak deur al die mense wat dit praat en gepraat het. ‘n Taal is ‘n gemeenskaplike sintuig. Dit behoort nie aan die Nasionale Party nie of die verlede nie. Die sogenaamde taaldebat is ‘n verskreeuing. Dit wil voorkom asof ideologie en modder rondgeslinger word eerder as ‘n oop gesprek waarin die kompleksiteite van die kwessie op ‘n genuanseerde wyse benader kan word.  Mense kan of wil mekaar nie hoor of verstaan nie, al praat hulle dieselfde taal. 

 

Indien Afrikaans op tersiêre vlak kwyn, sal ‘n hele ekosisteem tot niet gaan. Dit is die hoë boom waaronder uitgewers, koerante, literators, radiostasies, skrywers, digters, kunstefeeste, skole en veel meer floreer. Dit dra by tot die ekonomie en dit neem niks weg nie. Meertaligheid is ‘n nasionale bate.

 

My pa se oupa het die Groot Trek meegemaak; hy was ‘n jong seun in die 1850’s. My pa onthou nog hoe sy oupa vertel het van hoe lekker die trek was. Daar is gejag, uitgespan, musiek gemaak, en om die vuur gesit. Die Boereoorlog is ook nog deel van my generasie se verwysingswêreld. My oumagrootjie was in die kampe en ek het haar geken. Ouma Miemie. Bittereinders en hênsoppers is (meestal goedgesind) in ‘n tergende luim onder mekaar uitgewys. Hierdie vertellings is aangegee deur ‘n mondelingse tradisie wat besig is om uit te sterf. Daar is soveel nuwe dinge om van te vergeet. 

 

Ek sou sê die plaaswerkers en ons lewens was heeltemal vervleg alhoewel ons lewenservarings en vooruitsigte so uiteenlopend was. En ons kom deur generasies, gebind tot en deur ‘n stuk aarde en ‘n stuk gedeelde tyd.  Dis mense vir wie ek lief is.  

 

 

9. Hoekom is Eugène Marais so belangrik vir jou?

 

Omdat hy so mooi was? Geweet het hy is van hier? Hy was adel, hy was aards. ‘n Genie en ‘n mislukking. ‘n Prins en ‘n bywoner. ‘n Dwelmslaaf en die vader van sosiobiologie. Hy het Afrikaans staangemaak. Ek is maar een van vele wat geswig het voor sy onweerstaanbare teenstrydighede.

 

 

10. Jou broer loop reg deur jou digkuns. Is daar heling in die skryfproses? Of is dit ‘n illusie?

Jung het uitgewys dat ‘n mens by herhaling terugkeer na iets totdat jy dit ten volle begryp. Gaan jy akkoord?

 

Valsrivier het beslis heling gebring. Die skep van iets om te vergoed vir ‘n leemte – om te skep waar daar afwesigheid is – ek glo dit is die katarsis van skryf– en wanneer die persoonlike omvorm word in iets wat universeel aanklank vind, dan word dit literatuur. 

My broer is altyd naby. Sedert sy dood het hy geweldig baie vir my beteken. Ek het ‘n ‘siener’ geraadpleeg net na sy dood toe ek amper verswelg was deur smart, en sy woorde aan my, so aangegee deur die siener, was: Ek gaan nou baie beter kan omsien na jou as wat ek gedoen het terwyl ek gelewe het. 

 

Ek het vasgegryp aan daardie illusie en dit het my deur diep waters gedra. Natuurlik is daar altyd nuwe geleenthede vir verwonding.  Kuns is ‘nimmereindige katarsis’. Nietzsche het mos gesê: We possess art lest we perish of the truth.


 

11. Jy skryf ook reisverse, liefdesgedigte en ‘n selfs ‘n kaalbas-ars poetica. Kommentaar.

 

Om op reis te gaan is om van jouself ontslae te raak, al is dit net tydelik, want ‘jouself’ daag altyd weer op…’n Nuwe omgewing verskerp jou sintuie, jy sien en hoor soos ‘n kind, in verwondering of afgryse. Jy verstaan nie noodwendig die nuwe milieu nie. Om ‘n vreemdeling te wees is ‘n ondervinding verwant aan die vervreemding en vernuwing wat deel is van die skryf en die aard van poësie.

 

Mens reis ook natuurlik na binne, en na die verlede. En die liefde, soos die dood, is ‘n diep bron van inspirasie, waaruit baie slegte en soms goeie gedigte geskep word.  Daar word gesê dat die enigste werklike onderwerp in literatuur die liefde en die dood is. My kaalbas-ars poetica is maar net ‘n speelse variasie op ‘n oeroue tema:

 

metafoor is die plofstof van skrywe

en die lendene die lont

 

En in daardie slotreël lê die uitdaging van vertaling opgesluit, want die sinspeling, geimpliseer deur die versluierde rymwoord, is die sleutel tot die betekenis.( In hierdie geval vlak eerder as diep, kru eerder as verfynd.) 

 

 

12. Gee ‘n gunsteling in Afrikaans en Engels, asb.

 

die kind wat geen perke geken het nie 

 

jou broertjies en susters was so hartseer 

soos speenkallers in die reën
nat snoete in die ysterdrukgang
van bloerige naelstring tot slagpaal 

pa het in sy bakkie gesit en rook 

ma het die goedkoopste kis gekies 

om die volkies te wys
mens mors nie geld op dooies nie 

 

jou kis het woekery weerspreek
sonder die donker viool van jou hart
die polsende klok van jou heroïe
se vreugdes 

onder verhewe kruissteek van spreeukloue gestil 

op ’n katafalk van planke
was jou vel groen soos jong piesangs
wat ons by die kruidenier
van madeira fruits gekoop het
hy’t nooit engels kon leer nie
wat het ons geweet van die leivore
wingerde en kantwerk van sy vaderland?
met ons skurwe hakskene, veldsere en douwurm 

het ons gelag vir die porra 

 

die ure het saffraan gesprinkel oor
die gebarste appels van jou oe
̈
ons midas van die alledaagse
deur jou gesien het alles mooi geword 

die kere toe ma soms gelukkig was
haar stem ’n geskeurde blom van sy
in die kombuis waarheen ons gewals het 

met ’n mandje vol eiers en vere en skyt 

om meel deur die sif te mors 

 

niemand woon meer daar nie 

die vlei fluister deur die gange 

uile staan wag op niks 

 

jou grafsteen het geswel
soos ’n brood uit die sooie
die vryheid waarna jy gesmag het
andries en sandra se oudste mooiste slimste 

was ’n skag in leemte gedolwe
en ’n skuiling teen somer 

 

ons het boxertwak gerol
om ’n pappery van nagte te blus

en dronk op jou graf gedans 

 

’n kooltjie brand nog soms in pa se oog
fyn linte rook uit die sprokkelhout van katarakte 

wanneer hy tastend deur rammelende laaie
vir zambuc, veters, kaart en transport,
die god in hom laat huil 

 

ons strydros wat stotterend 

weerligkettings
roggelend oor die aarde sleep 

 


 

northern orange free state 

paul botha, july 1987 

 

come with me
to the bareback veld 

 

along numb horizons the wind has 

blown for days blown
blackening the trees between 

emptying mielie fields geese are 

breaking white beating 

a laboured flight
into the wind the blue the thin skeletal sing 

of distant telephone wires
across chill blue horizons
rest the wind sculpted thighs
neck palms of cloud
encupping a shy christfire
the once icebright sun smoothed
in the subtle wash of the wind
the wind will always draw
the substance from the sky slow flowing 

erode the landscape into obscurity numbing 

horizons as it combs the sand
across my huddled landscape: 

 

come
come with me
to the bareback veld 

where the wind will distilling, blow 

 

you into me 

me into you 

 

 

Geluk met ‘n besonderse bundel.

 


© Joan Hambidge

 

 

Resensie | Ena Jansen - Immigrant: ‘n Keuse uit die gedigte van Elisabeth Eybers | H&R, 2021

$
0
0

Immigrant: ‘n Keuse uit die gedigte van Elisabeth Eybers. H&R, 2021. ISBN 978 0 7981 8203 4

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Meester van die prosodie en posodinie

 

Die enorme posisie wat Elisabeth Eybers (1915 – 2007) inneem binne die Afrikaanse én Nederlandse kanon kan nie verminder of ontken word nie. As ons eerste gepubliseerde vrouedigter het sy alreeds ikoniese status verwerf sowel hier te lande as in die buiteland. Sy verlaat Johannesburg in 1961 op ouderdom 46.

 

Geen kursus oor vrouedigters kan sonder haar nie en Hélène Cixous en Julia Kristeva laat haar oopwaaier vir jong studente wat haar gedigte besielend en slim vind.

 

Die pragversameling gedigte is deur ‘n kundige leser Ena Jansen gemaak wat ons op die belangrikste aspekte van Eybers se digkuns attent gemaak het soos die sogenaamde “tussentaal” waarin sy dig. Die verhouding tussen moederland en aangenome land word deur hierdie skerp intellek ondersoek. Jansen noem haar tereg die literêre dubbelganger met ‘n dubbele poëtisiteit. Inderdaad skryf sy in Amsterdam haar beste verse en sy takel die tabelleland sodat (en totdat) dit haar nuwe tuiste word.

 

Afstand en verbintenis (1996) heet Jansen se studie oor ‘n digter wat die “voelhorings van ironie” ken en die paradoks by uitnemendheid bedryf. Lina Spies het al op die merkwaardige ooreenkoms tussen haar en Emily Dickinson gewys in Die enkel taak (1995).

 

Die volledige vrouwees word in haar digkuns opgeteken. Ons verneem van siektes (griep, ‘n besoek aan die arts), beserings na ‘n val, sonde met die bure en ‘n gesprek met ‘n kleinkind. Sy lewer egter ook kommentaar op die digproses – soms ironies met 'n gedig wat "Rymdwang" heet. Sy is beheer van die prosodie en weet wat posodinie behels (die vermoë om pyn te kan hanteer). Gedigte word selfs gedroom; sy skryf oor haar ouers met heimwee terug na haar tuisland wat altyd binne-in haar bly.

 

Sy is ook ‘n uitstekende vertaler (o.a. uit Frans) en haar selfvertalings gee baie om oor na te dink. Jy sien hoe sy assosiatief ‘n gedig transporteer van een taal na ‘n ander sonder om ooit vorm in die slag te laat bly.

 

Eybers is al deur verskeie digters geparodieer en aangespreek: Antjie Krog, Lina Spies, Johann de Lange, Daniel Hugo, Dolf van Niekerk, Eveleen Castelyn, I.L. de Villiers, o.a. Haar verbluffende vormbeheer het min gelyke. Die distigon, sonnet, ballade en kwatryn, beheer sy behendig. Sy is ironies; ander kere satiries soos in “Wespark”; dan weer nostalgies en in latere jare selfs (self)verminderend. 

 

En selfs ‘n bietjie stuitig in “Die ouderdom is nie noodwendig saai” met die dubbelsinnige slot.

 

Daar is gedigte wat elke digkuns-liefhebber met sig saamdra soos “Orkaan”, wat selfs ‘n pendant vind in ‘n gedig van die Suid-Afrikaans gebore Jonty Driver in Still further (2021). Ander klassiekes vir my is "Taalles" en "Navrae":

 

Navrae

 

Die aard van angs is dat dit tydelik kwel.

Verdriet, volgens 'n ou ballade, duur

twaalf maande en 'n dag, tot op die uur.

Die ritueel van rou is vasgestel.

 

Vreemd, van berou word nie so veel vertel.

Waar vind 'n mens 'n betroubare gedig

om jou oor die vervaldag in te lig

van daardie individueler hel?

 

'n Sentrale vers in hierdie versameling is die "Voetjie vir voetjie", omdat gedigte róndom migrasie en aanskoms nuwe betekenisse en implikasies genereer.

 

Voetjie vir voetjie

 

Voetjie vir voetjie word mens immigrant ...

Toevallig uit, toevallig tuis, gestrand

op hierdie teennatuurlike terras

sonder om ooit onloënbaar aan te land.

 

Die latere Eybers spreek veral tot hierdie leser waar sy ironies kyk na die "hardvogtige selfbejag" van die digproses ("Voortplantingsrym" uit Winter-surplus, 1999).  Die “beproefde patologie van poësie”, soos sy hierdie proses in "Verklaring" uit Verbruikersverse (1997) tipeer, neem ons na haar vreeslose laatwerk. Sy het getransformeer van die “vroulike aanvulling tot Dertig” tot ‘n skildery deur die internasionaal-bekroonde Marlene Dumas.

 

Daar is 'n handige indeks met eerste reëls van gedigte en verwysings waar gedigte staan. Om die tema van immigrasie / migrasie vind ons 'n sinryke versameling oor teenstellings en die soeke na balans. ‘n Groot versoek: plaas asseblief die samesteller se essay [1] in die boek. Skutblaaie raak allengs verlore.

 

Daardie grensgebied tussen liggaam en gees verwoord sy, soos Jansen uitwys. Eybers se idiolek is noteer, agteloos, tintel, allengs, sintels, respyt, gewrogte, bedolwe, om ‘n paar uit te sonder.

 

Hierdie is 'n keuse vir elke poësieliefhebber en met die boeiende tematiese keuses kry gedigte  langs mekaar geplaas nuwe betekenisse. Hierdie leser was opnuut so onder die indruk van ‘n digkuns wat stadig geheime prysgee; dikwels weifelend tussen implikasie en ‘n hartwankelingsdroom. As ‘n Röntgen-foto. Sy kyk deur die “tralies van tyd” met die wete:

 

Afbeelding oortref weer die werklike ding (“Weerkaatsing”).

 

Op ‘n koue wintersoggend lees ek gedigte uit hierdie bloemlesing voor vir my buurman en hy knik instemmend sy kop oor hoe goed “Taalles” is en hoe sy selfs in ‘n klein kwatryn jou ontroer:

 

Vir Bert

 

Noudat jy swyg is daar niks meer

vir my ooit nog te begeer

buiten die tydstip waarop ek

dieselfde stilte mag betrek.

 

Die digkuns as noodluik én onderdak. As kruis of munt. Met elke herbesoek van hierdie bloemlesing vind die leser nuwe aspekte van hierdie meester(es) van implikasie. Immigrant én Emigrant. Hier en daar. En al die genderopposisies waaroor Cixous skryf in Sorties (Uitgange) kan jy aflees in haar gedigte …

 

‘n Groot dank aan Ena Jansen se goeie oes.

 

Vir Eybers dan:

 

Elisabeth Eybers: Pegasus

Joan Hambidge

 

Gespierde hings, my teuelgreep tem jou trots,

boetseer die ritme van jou vaart ...

Elisabeth Eybers: Amasone

 

Die aard van dig is dat dit immer bly dikteer; 

dit wis jy met afstand én ironie in selfbevestiging. 

In die verte tot woordimmigrant gepromoveer, 

ry jy perd in die vleuels van jou verbeelding. 

Uitermate of uitgedien word hierdie digterlike verweer,

'n antwoord op jou, niks meer as selfverloëning?



















Elisabeth Eybers op Prins. In ‘Rit voor die storm’ en ‘Tuiskoms in Junie’ 

skryf sy oor haar perd.


[1] Ena Jansen, Afstand en verbintenis. Elisabeth Eybers in Amsterdam · dbnl


 

Resensie | Francois Smith – Die getuienis | Tafelberg, 2021

$
0
0

Francois Smith – Die getuienis. Tafelberg, 2021. ISBN 978-06240-92360

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Van die eerste oomblik wat hierdie leser begin het om Die getuienis van Francois Smith te lees, was sy onder die indruk van die vaart en drif van hierdie roman. 

 

Dit het die tweede plek in die groot romanwedstryd verower.

 

Dit word bemark as ‘n egpaar se verslag van ‘n reis. ‘n Verslag van drome en visioene, van wonderwerke en vloeke, van bloedverwantskappe en sluimerende woede. Aldus die agterplat.

 

Die motto is ‘n aanwysing: Toe sê Hy: Neem jou seun, jou enigste wat jy liefhet, Isak, en gaan na die land Moría en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys.” Génesis 22:2.

 

Rondom geloof en simboliese offergawe – met ‘n uitkoms wat die leser kan voorspel – word twee karakters, Retha en Gerbrand “Valkie” Killian, se binnespraak vir ons weergegee. Hulle geloof en hoe dit alles bepaal is die ondergrond van hierdie pakkende roman.

 

Twee karakters se binnespraak word teenoor mekaar geplaas.

 

Hulle reis na Ventershoop en die teks kan as ‘n peregrinasieverhaal beskou word. Reis beteken immers ‘n verplasing van een ruimte na ‘n volgende een. Hier is dan ‘n terugkeer na die verlede en die ruimte Ventershoop, waar Gerbrand groot geword het, is bepalend. Naboomspruit en Nylstroom is eweneens hier.

 

Twee figure, ‘n man en vrou, se verbintenis word ondersoek. Bedrog van die vrou, maar alles word deur die geloof “reggemaak”. Ons beleef hul bewussynstroom en verskillende interpretasies op ‘n lewensreis. Sy kom uit die Ooste van Pretoria; sy vestig haar saam met die man in Pretoria-Wes, hy werksaam by Makro. Daar is twee seuns. En ‘n vele teenspelers wat hul “happy clappy”-geloof bevestig. Retha se vader was bang dat Gerbrand (“bokka”) ‘n “evil spirit” is. Daar is orals verwysings na die mag van Satan.

 

Haar bedrog en misbruik van sy kredietkaart lei tot ellende. Die balju is voor die deur. 


Op ‘n fassinerende wyse word Bybeltekste vervleg deur hierdie teks (“Nogtans sal ek jubel”, Habakuk 3:18) en ‘n verwysing na Pilatus se vrou se droom wat waarsku oor die verkeerde besluit oor die kruisiging van Jesus.

 

Ruan, die seun sien in ‘n droom ‘n G wat verwys na Gerbrand, gebed en getuienis. Die droom word ‘n vooruitwysing vir die simboliese offergawe. Teenoor die Bybelse verwysings is daar Vicki Leandros se liedjie oor drome (Dreams are good friends - Vicky Leandros - YoutubeBesoek 8 September 2021).

 

Tydens die lees van hierdie teks kyk ek weer na The Exorcist van William Friedkin (1973), daardie film oor demoniese besetting van Regan, die twaalfjaaroue kind. In ‘n analise van die film (‘n ekstra tot die DVD) erken Friedkin die mag van spiritualiteit en dat die Goeie die Bose oorwin in hierdie film.

 

In Katinka Heyns se rolprent Paljas (1997) vertolk Marthinus Basson die rol van die predikant wat die gemeenskap moet beskerm teen die bose. Hoe die kerk teen mense wat anders of buitestaanders is optree word knap weergegee. Met Marius Weyers as die stasiemeester wat beproef word deur sy huislike omstandighede (‘n stom kind en die aankoms van ‘n sirkus). Die paljas en towerkunsies bevry sy kind van stomheid. En die gemeenskap se onvermoë om buite die voorspelbare indoktrinasie te kan dink en optree, word skitterend ontleed.

 

En In Die getuienis word hierdie selfde onkritiese oorname van God se Woord ondersoek. Die dorpie in Paljas is Toorwater; in Die getuienis is dit Ventershoop. 

 

By Friedkin is die demoniese ‘n werklikheid en die priester Lankerster Merrin (Max von Sydow) met sy kennis van die argeologie bevind hom in Hatra (Irak) en sien ‘n beeld wat lyk soos Pazuzu, ‘n demoon. In hierdie ruimte sien hy ‘n beeld wat hom waarsku dat die bose gaan toeslaan. Hy is dan een van die priesters wat die jong kind moet eksorseer in Georgetown, VSA. Met die hulp van Vader Karras (Jason Miller), ‘n priester wat sy geloof verloor het, word die kind van haar demone bevry, ofskoon albei die priesters sterf tydens die proses. Die film analiseer die verskille tussen geloof en sielkunde. Vele besoeke aan dokters en sielkundiges kan helaas nie die kind van demoniese besetting bevry nie. Geloof en rites alleen kry dit reg.

 

In hierdie roman moet die leser self besluit of die Goeie die Bose troef. Dwaal ons dalk vra ‘n karakter, omdat ons nie die Skrifte ken nie en die krag van God misken, aldus Matthéüs 22 vers 29? Aldrie hierdie uiteenlopende tekste ondersoek immers dat jy aan die bestaan van Iets moet glo alvorens dit ‘n impak het? Of nie?

 

Regan se hele lyf skud immers weens die poltergeeste wat haar oorgeneem het. By Smith word skisofrenie beskou as een van die ergste en duidelikste tekens van die bestaan van Satan (95). En daardie Satan, meen die naïewe belyer, kan by ‘n klein gaatjie inkom, al is dit so klein soos ‘n koeëlgaatjie.

 

Die otchitka word steeds in die Rooms-Katolieke kerk beoefen. ‘n Gebed deur die priester wat water sprinkel oor die persoon moet die duiwel(s) verdryf. Trouens, die priester verduidelik dit vir die moeder in The Exorcist.

 

Francois Smith teken hierdie tafereel helder.  Hy is nie satiries oor sy karakters nie. Jy is oortuig van sy karakters se lewensfilosofie: van Junior wat uitgelewer is aan ‘n jesebelgees; van gedagtes wat soos vlermuise vlieg; van God se post-traumatiese stres, omdat sy Seun lank voor hom gesterf het … (155).

 

By Smith handel dit oor Bevrydingsgodsdiens en lekeprediker; In Paljas sien ons die NG Kerk in aksie en in The Exorcisten die Rooms-Katolisisme wat demone kan eksorseer.

 

Elke teks reageer uniek op die Bose met die geloof dat die Goeie in die Onsienbare dimensie sal oorwin. (KYK WEER/ Francois Smith gesels oor sy verslag van drome en visioene | Netwerk24Besoek 6 September 2021).

 

Harold Bloom se boek Angels in America (2005) ondersoek eweneens die impak van hierdie soort geloof. Daar is ook The American Religion: The Emergence of the Post-Christian Nation (1992). 

 

‘n Roman wat baie goed werk met implikasie, subteks en verwysings. Hierdie mense bestaan wel. Hulle eet Doredo pizzas, kry aalmoese van ander en jare terug het so ‘n lekeprediker teenoor my opgemerk dat depressies van die duiwel is. As Harold Bloom die impak van hierdie soort geloof op die gemeenskap analiseer, dan weet ons dat ons moet kennis neem.

Gedig | Vertigo | 2021

$
0
0

Vertigo

Joan Hambidge 


Drome is ook metafore

soos Scottie 

deur ‘n opening

vol blomme in ‘n floristewinkel

Podesta Baldocchi kyk

op 224 Grant Avenue

na die geliefde

poserend as die verdwene een;


dan verander die staf in ‘n slang

toe ek nademaal

jou afskryf

in hierdie droom.


My hand nie melaats

toe ek ontdek

my vriende

hou ruggespraak

oor ons.


Nou val iemand na benede

uit ‘n klooster

soos ek toekyk

hoe al die vroue


één word: Carlotta Valdes, 

Madeleine Elster, Judy

in ‘n lang galery

van verraderlike impersonasies.


Scottie oorkom  

akrofobia

soos die digter

die hoogtevrese

van herkenning:

die digkuns 

se uitkenningsparade

troef soos ‘n Hitchcock.


Scottie tweekeer

verloën verlaat;

die digter meerduidig

verraai geostraseer.



Resensie | Eddy van Vliet – Na die wette van Afskeid en Herfs | Protea, 2021

$
0
0

Eddy van Vliet – Na die wette van afskeid en herfs (Vertaal deur Daniel Hugo). Protea, 2021. ISBN: 978-1-4853-1179-9

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Eddy van Vliet se bundels De binnenplaats (1987) en De toekomstige dief (1991) is hoogtepunte in sy oeuvre. Saam vorm hulle ‘n tweeluik van opbou en afbreek, van orde en chaos, van herinner en vergeet. So staan dit opgeteken op die buiteblad van hierdie verruklike, hartgrypende, lieflike versameling vertaal deur Daniel Hugo en uitgegee deur Protea uitgewers.

 

Dis helder, glashelder gedigte en oënskynlik eenvoudig. ‘n Dieper lees, wys op die parlando-styl en hoe vernuftig beelde sluit. Met ‘n slot wat jou in die maag tref.

 

Die digter se verse is outobiografies en van sy beste verse handel oor die versaking van die werklike vader wat die spreker probeer terugwen en begryp in die neerskryf van gedigte. Abandonment / versaking is immers die basis van Freudiaanse denke. Dit is weer herleibaar na die verhaal van Oedipus met vaderversaking en -dood.

 

Die vaderfiguur in hierdie teks word deur die gedigte opgeroep, aangekla en begrawe. En die spreker gaan in die herinnering terug na die oomblik van hierdie abandonment soos in die gedig “Pa” (17). En helaas is die mes verroes en dit is hierdie gevoel van magteloosheid om die vader te konfronteer en oorrompel wat enorme psigiese pyn veroorsaak, maar ook die drif (libido) word vir die kragtige verse. 

 

In die gedig “Die stad” (83) gebruik hy die ont- (negatief): ontneem, ontloop, ontkom en herhaal ontneem. Dit herinner aan Eybers se gebruik van die negatief soos briljant deur Hein Viljoen uitgewys in sy artikel “Die poëtiese krag van negativering by Elisabeth Eybers” (Literator | ‘Die choreografie van ontwyking’: Die poëtiese krag van negativering by Elisabeth Eybers. Besoek 20 September 2021).


By Van Vliet word die ont- egter omgekeer en die gedig herstel die orde van dit wat die “jy” hom ontneem het. Die digter is ‘n meester van verlies en die ingehoue aanklag wat daarmee saamgaan.

 

Die dood word direk aangespreek (“Dood”, 89) en uitgenooi om binne te kom:

 

Vee jou voete af en wees welkom.

 

Uit die bundel Glazen (1979) word genoeglike verse opgeneem wat elke liefhebber van whisky en konjak sal geniet. En jenewerdrinkers word ook vermaak.  Die konjakglas word ‘n heer met ‘n ronde pens vir wie Napoleon groete stuur met die slot:

 

Dit is die ware lewe

armoede is ‘n rooi leuen. (33)

 

Dit is my soort digkuns, moet ek openlik bely: outobiografies sonder dat jy hoef te gaan koekeloer in die kaste van die digter om die donker geheime na vore te bring. Die gedig word daardie donker kis vol familiegeheime, maar word ook méér as outobiografie. Die ware digkuns moet immers altyd verby die outobiografiese of konfessionele beweeg in die domein van die primordiale. Daarom is Anne Sexton se gedigte so treffend. Bloedskande en skandale staan opgeteken, maar die gedigte word meer as ‘n bandelose skinderkolom.

 

Hier is ‘n pragvers:

 

Vakansie

 

Dit was warm. Dit was Spanje waar ek vir briewe wag

en telegramme wegstuur. My suster wat nie ’n suster is nie

van verdrinking red. ’n Pa wat my verfilm, te lank in beeld

volgens haar wat hom van my vervreem het.

 

Dit was Spanje waar ek die haat verduur

soos brandnetelvuur ná ’n woeste gespeel in die veld,

die rykdom ervaar soos ’n bediende

die skittering van die silwerservies.

 

Dit was met my rug op Franco se portret gedraai

dat ek in my gedagtes die volmaakte moord kon pleeg.

 


En hier is nóg een van sy verse, in die oorspronklike taal
:
 

Afscheid van mijn vader [1]

 

Ik wil alleen maar zeggen dat ik het niet weet.

Dat ik het allemaal niet zo duidelijk zag,

zoals gebleken achteraf.

 

Het tuinhek diende plotseling gesmeerd.

De lege plekken op de muur bedekt en vlug

vlug de geur van scheerzeep weg.

 

De kalende die Homerus declameerde. De maïsvretende.

De charmante die uit Frankrijk parfum meebracht. Hadden zij

ook hun koffers gepakt, de huisvrienden van de vrije dag?

 

Ik schreef het reeds meer. Die morgen

liep hij van de keuken naar de straatdeur

en kwam niet weer.


Uit: Jaren na maart, 1983.


Eddy van Vliet (1942-2002) sorg vir vele leesplesiere.



[1] Gedichten | Afskeid van mijn vader, Eddy van Vliet | Gedichten.nlBesoek 21 September 2021

  

[2] Sien ook: Woorde wat weeg | Eddy van Vliet - ’n Pleidooi vir die poësie (Vertaal deur Heilna du Plooy) (1998) | Besoek 21 September 2021



Rubriek | Inenting 2021

$
0
0

Op laerskool het daar so elke paar jaar ‘n skoolsuster jou ondersoek.

Jy staan net in jou swart skoolbroekie sonder jou wit hempie aan of skoene. In ‘n ry.


Jou keel word oopgetrek, ‘n versoete suikerpil vir polio in jou mondjie gesit met ‘n vinnige inenting teen witseerkeel en masels. Die spuitnaald flink gepiets en daarna net die reuk van ontsmetting. 

 

Hierna was jy allergies vir bysteek en weekliks het jy medikasie ontvang by ‘n kliniek in Pretoria. Alte lekker was dit want jy kon met die bus ry van pa se werk in die middestad op Paul Krugerplein tot in Sunnyside. Hier sou jy by die OK ‘n koeldrank drink en ‘n worsrolletjie eet. Te lekker om nie ma se verpligte groente te eet nie.

 

Toe begin jy na verre plekke te reis. En beduidend intens was die geelkoors-inspuiting wat jy moes kry vir ‘n reis na Indië. Jou arm pyn die aand. Dit lyk soos ‘n gholfbal soos jou arm swel. Jy is koorsig. Oor drie weke vertrek jy na Nepal en dan sal jy Indië deur Varanasi binnegaan.

 

Gelukkig gaan die olikheid gou oor. En op die reis deur Indië besef jy hoe gelukkig jy is om beskut te wees teen die aanslae en oorweldigende uitskot van hierdie land.


Deur die woestyn reis jy. Eet neute en gevaarlike kerrie. Slaap in die woestyn. Drink water uit ‘n kan.

 

Maar kom niks oor nie. In hierdie land bly jy intens bewus van die dood.

 

Daardie man wat stap in Jodhpoer

 

Daardie man wat stap in Jodhpoer,

nuus wag hom in vanaand:

soos hy stadig stap deur die stofstrate

met bedelaars en handelaars

– as getuies dat hy hier gewandel
het op die laaste dag van die week 

sal hy moontlik‘n koerant koop,

dalk aan kasjoeneute peusel,

water afslaan teen die stad se blou muur,

verder wonder wat hy vir aandete gaan kry,

nuus kyk en môre gewoonweg aangaan,

sy lewe sonder voorval noemenswaardig

of inmenging van die noodlot. Tot op hierdie punt.

Tot hy verneem sy vrou, sy toeverlaat,

het vandag skielik aan ‘n hartaanval beswyk.

Môre sal hy anders deur die strate van Jodhpoer stap.

Vir oulaas ‘n blom koop vir die klein, eenvoudige begrafnis,

die stoet deur die strate volg. En wag op sý laaste nag

wanneer sy stoet hom inwag.

Om agter die oomblik in te sien,

dit op te vang of kundalini te vind,

so ja so, is die skryf van hierdie gedig.

 

Hierna reis jy weer na Macchu Picchu en ontdek jy het jou geelkaart tuis vergeet. Die dokter by die kliniek wat beloof het hy sal jou van hulp kan wees tydens enige gebeurlikheid, is helaas nie lus om jou dokument deur te faks nie. Missing in action.

 

‘n Dokter in die dorpie gee vir jou ‘n tydelike geelkaart (natuurlik na ‘n paar dollars hande verwissel) en jy reis na Sao Paulo. O gedoente. Die geelkaart het nie internasionale status nie en wat nou? Die doenebeampte is hulpvaardig en wys na die kliniek op die lughawe. Jou vlug vertrek oor ‘n halfuur. Daar is lang toue. Jy onthou Indië en die slangsjarmeerder …

 

 

Slangsjarmeerder

 

Die slang dans op die maat van die eenstemfluit,

wriemelend, grillig, spiralend uit sy grasmandjie uit.

Soos ‘n toneelspeler wat wag op ‘n streng regisseur,

sak hy terug op die smak van die sussssende fluitspeler.

 

Gelukkig word geen toneelspel behoef nie. Die vrouedokter begryp jou dilemma en kyk na die paspoort en sê: Jy was in Indië en jy het dus ‘n geelkaart gehad. Hier is ‘n nuwe een vir jou.” Sy tjap die kaart en die lang reis terug huis toe word begin. 


Goedskiks ‘n dekade later maak jy ‘n bestekopname van inentings. ‘n Pandemie se grootste impak is onsekerheid en konflikterende boodskappe. Menings wat paradeer as wetenskap.

 

Onrus wat gesaai word.

 

Jy onthou die skoolsuster, die medikasie teen bysteek, die geelkoorsinspuiting en registreer vir jou inenting via die internet.

 

‘n Sms flits ‘n paar dae later vir afspraak in ‘n stadsaal. Bring jou mediese kaart saam en hier is jou verwysingsnommer.

 

Jy staan weer in ‘n ry. Genadiglik hierdie keer met klere aan.

 

© Joan Hambidge

 

 

Die gedigte is uit: Vuurwiel. Human & Rousseau, 2009.

 

Resensie | Nicole Jaekel Strauss - Om alleen te gaan | Queillerie, 2021

$
0
0

Nicole Jaekel Strauss - Om alleen te gaanQueillerie, 2021. ISBN: 978 0795 801648

Resensent: Joan Hambidge

 

Nicole Jaekel Strauss het veral bekendheid verwerf as bekroonde kortverhaalskrywer en bloemleser van die genoeglike Kosblik (2013). Kos, eet en voedsel is ‘n belangrike onderbou van hierdie skrywer se werk soos in Maal (2010) en As in die mond (2017). In haar debuutroman is daar verwysings na kos soos kosheri, Fattah, fuul, kahk, ensomeer. Die leesaksie as ‘n spyskaart (J. Hillis Miller) impliseer ‘n bepaalde orde. 

 

Wyle Hennie Aucamp het altyd gemeen die kortverhaal is nie ‘n mindere sub-genre of oefenplek vir die skrywer wat ‘n roman beoog nie. Tog kan kortverhaalskrywers oortuigende romanskrywers wees net soos digters dramaturge kan word.

 

Van die eerste oomblik sluk hierdie roman jou heelhuids in op ‘n reistog deur Egipte. Wat dikwels blote “travelogue” kan bly of te na aan die herkenbare beweeg (vraisemblance) is Om alleen te gaan dit gelukkig nie. Die roman ondersoek reis (die transportering van die bekende na die onbekende ruimte), die gevare hieraan verbonde, die psigiese verandering of transformasie en uiteraard die komplekse emosies opgesluit in transportasie.

 

Die titel (met ‘n knipoog na Fanie Olivier se digbundel Om alleen te reis uit 1973) dui op ‘n soloreis.

 

Die Rooikappie-verhaal is ook ‘n soort reisverhaal: die beweging van een punt na ‘n ander, die ag slaan op raad of die ignorering daarvan. En in hierdie Rooikappie se mandjie is daar mitologiese gidse.

 

En wat uiteindelik gebeur wanneer jy buite die bekende of gebaande weë beweeg, word in hierdie teks ondersoek.

 

Die roman word kort en kragtig bemark:

Cato ontmoet Da’oud, ’n jong Egiptenaar, tydens ’n bootvaart op die Nyl. Sy familie is intens geraak deur sosio-politieke onrus en ongeregtigheid, met 2011 se onlus op die Tahrir-plein as laagtepunt. Op hul bootvaart ontmoet dié twee ’n bonte verskeidenheid soekers en swerwers, wat almal afleggings en tot-rus-kom moet deurmaak – elkeen alleen. 

Egipte het hierdie leser driekeer beleef (in verskillende tye) en die Nylvaart tweekeer meegemaak van Aswan tot Luxor. En weer van Luxor tot Aswan. Museums besoek. Die piramides bestyg en die mitologie bestudeer. Die spanning tussen Egipte en ‘n besoeker word uitgewerk róndom oorlog en konflik in hierdie vertelling. Neith die godin van oorlog teenoor die opstand teen Moebarak. 

 

Cato se vader was eweneens betrokke by die oorlog in El Alamein met vertellings oor grusame ervaringe in die woestyn. 

 

Maar daardie stories blyk vaag te wees, want Cato kan nie onthou wanneer haar vader uit Mombasa vertrek het nie.

 

Die roman neem ons na ervarings op die Nyl, besoeke aan museums en uiteraard die Vallei van Konings. Catarina van Staden (Cato), onderwyseres, lewer kommentaar op die gode Nut en Geb, Hatsjepsoet, onder andere. Haar fyn waarneming word dus ingegee deur haar werk as pedagoog. Sy registreer ook verlies (56) en haar reis word een van selfkonfrontasie. Wat het sy haar kinders aangedoen, wonder sy, deur die gesin op te breek? (150)

 

Isis en Osiris (en Horus), die Bybel (Prediker), Anna Karenina en Tsjekof word netjies ingeweef om die verhaal vérder te dra met ‘n ondersoek na oordeel en haat, twee belangrike aspekte van menswees. Rondom die dood van ‘n kind en die rouproses vind ons ‘n besonder emosionele beskrywing van die uitwerking op ‘n huwelik in die afdeling Taweret (die godin van geboorte en fertiliteit). Liefdesontrou – netjies voorberei rondom Hatsjepsoet lei tot skeiding en ‘n alleenreis. Met ‘n onthulling oor komplekse keuses rondom genderidentiteite.

 

Die verhaal word geraam rondom ‘n mitologiese figuur in elke hoofstuk, ‘n vernuftige truuk om nou teenoor die dieper argetipiese laag te plaas. Nefertiti is simbolies aanwesig. Haar amulet is ‘n skilpad. ‘n Simbool van spiritualiteit en verbind op verskillende vlakke met ‘n geliefde en die dieper mitologie. Kos, soos begin het, speel ‘n beduidende rol in hierdie roman. Jan Rabie se “Drie kaalkoppe eet tesame” word in die verhaal ingebed om iets van die hoofkarakter se siening van taal en kos te verklap.

 

En hierdie boek – met ‘n handige gids agterin – neem die leser op ‘n buite- en binnereis. Dis nie ‘n roman wat nie haar leser kielhaal nie, maar eerder verskillende aspekte van menswees saamsnoer met die besef: daar is niks nuuts onder die son nie. Cato erken ook hoe sy deur ander se lense kyk na Egipte, ‘n besondere erkenning van hoe ons deur die mitologie, films en Die Bybel beïnvloed is om na hierdie landskap te kyk. En die filmweergawe van Agatha Christie se Death on the Nile is eweneens hier ‘n sleutel. En die kwessie met die skilpadjie word ‘n Christie-krimi-in-die-kleine. Met ‘n kopknik na die Katarak. En Agatha Christie-bewonderaars sal plesier hê aan bepaalde bakens.

 

Die navorsing staan egter nooit in die pad van die storie(s) nie.

 

Shukran, Nicole Jaekel Strauss!


Nicole Jaekel Strauss

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Resensie | Zandra Bezuidenhout - Derde gety | H&R, 2021

$
0
0

Zandra Bezuidenhout – Derde gety. H&R, 2001. ISBN 798 0 7981 8170 9 

Resensent: Joan Hambidge

 

‘n Soeke na die staning in die self

 

Zandra Bezuidenhout het haarself al onderskei as 'n uitnemende vertaler van Alfred Schaffer en Anna Enquist se poësie. Haar jongste bundel heet Derde gety.

 

Bezuidenhout is verteenwoordig in Karen de Wet se Vers & vrou (2020) waarin 258 vrouedigters saam-groepeer word róndom al die aspekte van vrouwees. Ons vind hier haar gedig "Falliese vrou" wat inspeel op Clarissa Pinkola Estés se Women who run with the wolves. Contacting the power of the wild woman wat in 1992 verskyn het. Hierdie Jungiaanse cantadora (oftwel storieverteller) analiseer die krag van die vrygeworde vrou.

 

In De Wet se antologie word die leser deur die verskillende aspekte van vrouwees geneem. Lankal nie meer is sy die "vroulike aanvulling" of die tweede seks nie. Vroue binne die Afrikaanse digkuns het agentskap. The empire writes back. Tegnies bedrewe (soos Elisabeth Eybers) of liries-besinnend (soos Antjie Krog). Trouens, dit sou 'n hele studie kon word om te kyk hoé vrouedigters oor die vaderfiguur skryf: wetend dat hy 'n mens met gebreke was en dikwels nie 'n man van staal nie (Marlise Joubert). Of liefdevol-teer (soos Olga Kirsch). 

 

Vroue moes deur die manlike orde van goedkeuring beweeg en bloemlesings, saamgestel deur vroue, se klem word anders geplaas soos in Lina Spies se Sy sien webbe roer (1999) en die reeds genoemde een van Karen de Wet. Die skokkende of transgressiewe word eweneens verteenwoordig: die vrou as hoer, die one night stand, lesbiese seks, die woman-identified woman, die vrou as Amasone of huisvrou, die verliefde of versaakte vrou; menstruasie en swangerskap.  Die zipless fuck en verslawings. Swangerskap en aborsie.

 

Van Julia Kristeva, Hélène Cixous (White ink, 2008) tot by Luce Iragaray en Elaine Showalter word die vroulike begeerte, fantasie en kreatiwiteit beskryf waarmee die leser hierdie tekste kan oopmaak. Elke gedig skep en vra vir haar eie teoretiese benadering of leesmodel.

 

In die jongste bundel van Bezuidenhout word daar 'n blik gegee op verskillende aspekte van vrouwees: die dogter teenoor die moeder; die kind wat probeer vredemaak met die vader (met die wete dat sy soos hy is); die vrou as moeder verbind aan bloedgenote verbeeld in "Donker raam" (71).

 

By Bezuidenhout is daar 'n meer konvensionele vrou aan die woord en hierom is dit tersaaklik dat sy aanklank vind by Eybers soos in die aangrypende "In memoriam Eybers" (91) waar sy hulde bring aan die "elegante hand" (letterlik en figuurlik) van ons eerste gekanoniseerde vrouedigter. Hier word verwys na  "… die ligval deur haar raam" wat Eybers vir ons in ‘n portret plaas.

 

Stilte in hierdie gedig dui op die dood, maar dit is 'n belangrike kode in vrouepoësie, al word hulle 'n "ongehoorde soort" later. Die mooi voorblad van Andries Gouws heet Stoel in ateljee, Molyvos, Lesbos, Griekeland wat verdere stilte en verlatenheid impliseer.

 

Die eb/vloed van die lewe word in die derde gety ondersoek met 'n verwysing dalk na die derde golf van die feminisme waar vroueregte ook krities ondersoek word en denkfoute uitgewys word?

 

In hierdie bundel word daar besin oor die kwessie van herdoping van name binne die postkoloniale tydvak en in “Perspektief” word daar krities gekyk na die einde van die orde van bevoorregting. Genderissues word betrek en in “Dubbelvisie” gekyk na die “transgender Kaapse suster / is soos die oorstewind ‘n heer” (27) waarin Bezuidenhout tereg begryp dat die begrip transgender dui op die versamelterm van verskillende genderdwarshede; en nie net na geslagsverandering nie.

 

Daar is herinneringsverse, reisgedigte en ‘n beeldvers vir Marlene Dumas wat “Intiem” (45) heet. In hierdie gedig word ‘n hele feministiese diskoers rondom intimiteit (en skaamte) met ‘n ferm digterlike hand oopgemaak en ons lees ook verwysings raak na Antjie Krog.

 

Daar is ars poëtiese besinnings (soos in “Ongenooide gaste”, 82) waar ‘n spel met woorde-as-gaste verbeeld word:

 

Slegs genooides kry toegang

tot die knap woonruimte van ‘n gedig (82).

 

En in “Repliek op kritiek” (83) aktiveer sy Eybers se skerp siening van die dagbladkritikus en hoe modes en smake soos die seisoene wissel. Die ewige onsekerhede waarmee elke digter worstel oor die weegskaal wat implisiet of eksplisiet ter sprake is.

 

Die verskillende afdelings (Kontreie, Sinneryk, Vrou-beeldig, Dinkgoed, Die makers, Lament) gee ‘n aanduiding van die digter se besinning oor die lewe van ‘n woordmaker wat nostalgies terugkyk en die vreugde van digtersfeeste besing.

 

En daardie walvis het baie simboliese lae binne die letterkunde. Die seekalender het sy eie tyd en in hierdie bundel word daar baie keer na tyd gekyk. Letterlike tyd, herinneringstyd en die sterreskrif wat dui op verdwene tyd.

 

 

Met hierdie bundel vind ons ‘n belangrike aansluiting by die groot aantal “vroulike aanvullings” wat oor alle fasette van vrouwees skryf sonder skroom. Nie net oor die potte of panne nie, maar oor die einders en reise, verlos van die wasgoedbalie. Al is dit net tydelik. Die vrou is nie langer voorbeeldig nie, maar vrou-beeldig.

 

Zandra Bezuidenhout


 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld) 

 

 

Rubriek | Film: No time to die | 2021

$
0
0

Die naam is Bond. James Bond. James Bond, 007 het ‘n “licence to kill”. Die 25ste film in hierdie aanskoulike reeks heet No time to die, ‘n dubbel-sinnige titel.

Die hoof van M16 word vertolk deur ‘n ouerwordende, bykans blesgeworde Ralph Fiennes, na Judi Dench se wonderlike, strenge teenwoordigheid. Met ‘n bietjie guitigheid soos wanneer sy vir Bond ‘n whizza aanbied op die agtersitplek en hom enersyds van misogonisme beskuldig en andersyds opdrag gee om die boef se vrou te “pump for information”, siende dat sy ‘n eksminnares is. Jonathan Pryce in Tomorrow never dies (1997) as die media-mogul Elliot Carver is die booswig.

 

Bond-films het deur die jare die genderveranderinge in ons samelewing geregistreer van Sean Connery wat ‘n vrou speels op die sitvlak klap en met name soos Pussy Galore en Ms Goodnight tot die polities-korrekte aanwesigheid van M, vertolk deur Judi Dench. Daar was Roger Moore. Pierce Brosnan. Timothy Dalton …

 

In die verhouding wat Bond met Miss Moneypenny het, word die veranderde seksuele mores geregistreer. Die oujongnooi wat wag op die man teenoor die wulpse Bond-meisies, altyd diensbaar en gewillig. Goeie meisies teenoor die slette.

 

Deur die jare gebruik ek James Bond-films in ‘n genderkursus oor populêre tekste. Alles wat nie mag gebeur nie in die liefdesverhaal met sy streng voorskrifte en uitgestelde begeerte, word ervaar in die thriller en meer spesifiek, in die Bond-verhale. Toelaatbaar teenoor ontoelaatbaar. Wyle Cecilia Britz in haar Perskor-voorskrifte het die volgende eise gestel vir die hygroman:

'n Gelukkige einde met 'n stadig ontwikkelende, maar volgehoue liefdesverhouding tussen held en heldin; 'n bietjie détail oor hoofkarakters nadat hulle bymekaar uitgekom het en liefdestonele met 'n sekere mate van eksplisiete seksuele beskrywing.

'n Ongelukkige einde, fisieke mishandeling of verkragting, sado-masochisme, gang-bangs, masturbasie en gay-seks is verdere taboes, meen sy.


Dit spreek vanself dat al hierdie voorskrifte en kodes in die Bond-verhale op sy kop gekeer (op sy rug?) word. 

 

Daniel Craig het my nog nooit oortuig as Bond nie. Hy te fisies na my sin, te gedrewe, te lyflik, te soutloos.

 

‘n Mens mis die intellektuele (en ironiese) spel van die ware James Bond wat aan Cambridge gestudeer het en Oosterse tale bestudeer het. In die romans van Fleming het hy later ook studeer aan die Universiteit van Geneve en leer ski in Kitzbühel. Dit verklaar waarom Bond dikwels in die Ooste opponente kan fnuik. In die ouer films is die onderhoud met die vervaardigers Albert R Broccoli en sy vrou Barbara insiggewend saam met Harry Saltzman se insette. Ook heerlik om te kyk na die hakkelende Fleming in klein film-opnames. Hulde aan Connery en Roger Moore!

 

As ‘n aksierolprent is die jongste Bond vol in die kol. Jaagtonele (dankie, die Aston Martin is terug), baie geraas, agterdog en angsvlakke.

 

Dis egter nie ware Bond nie. James Bond is hier sentimenteel. Daar is ‘n kind. ‘n Vrou. Trane. Ware liefde. En natuurlik ‘n terugspeel op On her Majesty’s Secret Service uit 1969 met George Lazenby en Diana Rigg, Bond se vrou wat sterf. Die interteks word hier via musiek ingevoer wanneer "We Have All the Time in the World" gesing word deur Louis Armstrong. Wanneer ‘n akteur moeg raak vir ‘n rol, word hy dikwels in ‘n film of sepie doodgemaak in ‘n send off.  Dit is spektakulêr uitgevoer in Dallas

 

In die coulisse wag ‘n swart, vroulike Bond. Nou ja, gelees as films wat ons Zeitgeist vertolk en weergee, mag dit seker. Die ware Bond-films bly Casino RoyaleDr No en die voortréflike From Russia with love wat die voorskrifte van Fleming se boeke volg.

 

‘n Jungiaanse analise van die argetipes in James Bond-films is beslis ‘n ondersoek werd; en nie Freudiaanse argetipes soos ‘n resensent nou onlangs beweer het nie (Dekonstruksie as gebundelde terrorisme | Netwerk24. Besoek 10 Oktober 2021). 

 

Dalk is Cary Joji Fukunag, die regisseur, ingesluk deur die polities-korrekte dimensies van ons tyd? Miskien is die hewigheid van alles nou so geregistreer?

 

Kyk o.a. na Q se gay-genderidentiteit as ‘n gay man, en die nuwe 007 wat ‘n swart vrou gaan wees. Uitstekend vertolk deur Lashana Lynch.

 

Daar is baie geraas, ‘n virus, jaagtonele, spanning met Rami Malek as Lyutsifer Safin, die geskonde wraaksugtige boef wat himself veral wil wreek op Bond se liefling, Madeleine Swann (vertolk deur Léa Sedou), ‘n psigiater. Miskien kon sy nog nie haar lesbiese rol afskud om hier te oortuig nie? (Blue is the warmest colour; La Vie d’Adèle  van Abdellatif Kechiche in 2013.)


Uitstekende aksierolprent, maar James Bond?

I was not shaken or stirred.

 

© Joan  Hambidge

 

Resensie | Koos Kombuis - Help! My dorp hou ‘n kunstefees! | Naledi, 2021

$
0
0

Koos Kombuis - Help! My dorp hou ‘n kunstefees! Naledi, 2021. ISBN 978 1 928530 64 0

Resensent: Joan Hambidge

 

Hierdie boek word bemark as ‘n crazy komedie en glo my, dis presies wat dit is. Van die komiekstrip voorblad tot die uitstal van karakters (uiteraard stereotiep) lag ‘n mens luid en lank. Koos Kombuis het nou maar eenmaal ‘n oog vir die absurde. Kunstefeeste en boekklubs. Afrikaanse sangers. Dominees en ‘n karakter met die naam Cassandra D’Ole bevolk hierdie roman.


Speels en satiries sonder erge gif, navigeer die skrywer, ‘n volksikoon, die karakters en absurde situasies. 


Sekere situasies is herkenbaar. Tyd is relatief. Ons leef immers sedert grendeltyd in die Ewige Nou. Anna M. Louw is die motto uit Die koms van die komeet. En die onherroeplike het nou met die aardbol gebeur.


Vredelus met Sanet Watermeyer-Grové. Terblanche Tuisnywerheid, hoofsanger van die groep Donker Gedagtes laat jou verder skater. ‘n Kunstefees wat die dorp op sy kop keer.


Die goeie word oënskynlik teenoor die bose geplaas: die prediker wat sy geloof verloor het en as jongeling gemasturbeer het met Scope en skuldgevoelens ervaar oor sy gelukkige jeug. Heino Declerque, die beroepsfilmmaker met ‘n filosofiese gees. Die dominee het slegte gedagtes, terwyl die filmmaker nadink oor simboliek. Almal is hier: die herkenbare politieke partye, gender- en raskwessies, protesoptogte, leuens … Met tussendeur komiekstrips van Koos Kombuis.


Bekend aan Koos Kombuis word hy self ‘n karakter in sy eie roman. Metafiksie dus met selfspot en (speelse) stekies wat uitgedeel word na ander skrywers en herkenbare mense. Die roman lees teen ‘n dolle vaart. 


Linda Hutcheon in haar studie Theory of parody. The Teachings of Twentieth-century Art Forms (1985) wys op die verskille tussen parodie, pastiche, persiflage, ensomeer.   In ons postmoderne en nou metamoderne leefwêreld teer tekste openlik én verhuld op ander tekste. Selfs in die modernisme (ek dink hier aan T.S. Eliot) is hierdie weefwerk aantoonbaar. Die parodie (send-up) en satire is twee verwante stylfigure. Hier vind ons eerder satire en dalk ‘n skeutjie self-parodie, omdat Koos Kombuis al van hierdie tegnieke aangewend het in vorige tekste. Vir my is sy hoogtepunte Somer II (as André Letoit van 1985) en natuurlik Suidpunt-Jazz (André Letoit uit 1989) en Raka die roman (2005). En Sushi with Hitler uit 2020.


Die postmodernistiese teks teer op ander tekste en uiteraard mag dit ook op eie tekste inspeel. Hier is metafiksie met Koos as ‘n herkenbare karakter (89). Daar word gespot met die postmodernisme (“Wat het van die postmodernisme geword?”) en niemand daag op vir die paneelbespreking nie.


Humor word afgewissel met pynlike insidente en kwessies: Vytjie se swangerskap op sestienjarige ouderdom, verkragting en gedaante-verwisselinge soos dié van Madelief van Biljon.

Die spot word gedryf met boekklubs en ‘n leeskultuur waar lesers nie boeke lees nie. Die biblioteek aan die einde van die wêreld word geteiken.


Byname wys op stereotipes (“Ou Pille”, Dok Olewage, byvoorbeeld). Die verskillende hofies wys op die manipulasie van die werklike outeur wat begin met ‘n Idee en eindig met Armageddon en ‘n epiloog.’n Ouktoriële roman dus soos by Dickens wat self in Oliver Twist “aanwesig” is.


Daar word eweneens kritiek uitgespreek teen godsdiens en lekepredikers. Bybelse tekste is aanwesig.


Daar is juwele: My Oupa se Skelmpie se Boetie se Kombi se Mekenniek se Selfoon se Charger en die beskrywing van gastehuise se dekor op die platteland. Pop-up restaurant en die pretensie rondom kos kom in die visier. Beurtkrag, pedofilie, sosiale media word geteiken. Die abjekte is hier en ‘n raspejoratief word toegedek. Inderdaad ‘n Bakhtiniaanse gedoente met sy siening van die karnivaleske. Jean Meiring verwys tereg hierna in sy resensie op Litnet: Help! My dorp hou ’n kunstefees! deur Koos Kombuis: ’n resensie | Litnet. Besoek 16 Oktober 2021.


In sy The Dialogic Imagination (1975) wys Bakhtin op die betekenis van die polifoniese teks en sy studie oor Rabelais is hier ter sake: Rabelais and His World (1975).


Nie om dowe neute nie word daar uit ‘n gedig van Kleinboer aangehaal:”’n bom wat stadig bars.” 

Alles op Vredelys is inderdaad crazy. ‘n Lewenslusfees?


Meer gif en afstand sou die roman sterker kon maak. Die grappe vergoed wel!


Ironie en spotspraak is hier. Skerp satire helaas nie. Bykans soos Faulty Towers?


Die roman is vir Koos Kombuis-aanhangers.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio

 

 

 

 

 

 

 

Resensie | Azille Coetzee – Die teenoorgestelde is net so waar | 2021

$
0
0

Azille Coetzee – Die teenoorgestelde is net so waar. H&R, 2021. ISBN 978 0 7981 8235 5

Resensent: Joan Hambidge



Drie jong vroue: Lien, Katryn en Charlotte. ‘n Vriendskap tussen drie uiteenlopende vroue en die impak van Lien se bruilof op hul lewens word ondersoek. ‘n Troue in die Karoo. Die ander vriendinne is strooimeisies.

 

Inderdaad ‘n moderne Jane Austen-verhaal waar die spanning tussen Lien en Katryn opvlam.

 

Iets soos ‘n herinnering aan Sliding doors met Gwyneth Paltrow in die hoofrol in Peter Howitt se 1998 film met die vraag wat-as en wat miskien ook Krzysztof Kieślowski's se 1987 film Blind Chance oproep.

 

Ons lees ook in die roman van ‘n reeks kamera-reg oomblikke wat naatloos opmekaar volg met toneelstukke en opvoerings (60)

 

By Jane Austen is daar ‘n dans en alles beweeg vorentoe; hier is daar ‘n troue en alles draai vorentoe en agtertoe. Bruidstydskrifte word van jongsaf bestudeer; naels is gemanikuur. Konflik broei.

 

Hierdie roman – drieledig opgebou – werk met hede, verlede en toekoms en soos in die Lacaniaanse teorie rondom begeerte, werk alles in sirkels. Die knope in die psige waaraan ons verbind bly. Jungiaans gelees, kan dit argetipies benader word. Die drie vroue is waarskynlik ook verskillende aspekte van die vertellende instansie: die onvoorspelbare teenoor die intuïtiewe en die rasionele dimensie. Eros / pathos / logos.

 

Wanneer Katryn terug is in die Kaap, speel sy in ‘n Suid-Afrikaanse weergawe van Tsjekof se Drie susters. Charlotte gee vir haar ‘n rok present en Katryn hou nie van die rok wat sy in die toneelstuk moet dra nie. Maar het sy werklik ‘n trourok nodig vir hierdie produksie en waarom kry sy Lien se rok?

 

Met die aftrek Kaap toe, laat Katryn klere agter vir Lerato, haar buurvrou en joga-guru. Klere, soos ons weet uit Alison Lurie se 1981 studie, The language of clothes (Heinemann, Londen) gee bepalende sleutels tot karakters in ‘n roman en hul binnespraak. Marjorie Garber se Bisexualities (2000) is eweneens handig.

 

Wat mense eet, drink en dra is deel van die leefwyse en verduidelik optredes. Kulinêre eetgewoontes en die sogenaamde gustatory is ook hier as ‘n kode.

 

Die steelfoto by die troue word ‘n ikoniese voorstelling van rykdom en kommentaar op die eet van vleis en middelklaswaardes wat ondersoek word (101). Afrikaner-mitologie (gelaai met ironie, want die dag toe Tiaan gebore is, het vyf van die skape gelam met ‘n koperkapel in Ouma Esther se wasbak, 30) teenoor patriargale geweld (aangekondig met die dood van ‘n jakkals). Hierteenoor die vader wat ‘n gesin uitwis en die underbelly van die idilliese plaasbestaan impliseer altyd armoede en uitbuiting van ander. 

 

Die wit apartheidsbestaan word skerp geteken: vibracrete, snorre, perms …

 

Honde speel ‘n belangrike rol en die boerboel as kunsobjek is mitologies gelade (en gevaarlik). Cerberus (driekoppig) word so geaktiveer, daardie bewaker van Hades wat verhoed dat die dooies kan ontsnap. (Wat is dood? Manlike oorheersing? Die verlede?)

 

Regina die huishulp sien alles afspeel.

 

Agter die storie skuil baie feministiese vraagstukke oor aborsie, moederskap, woman-identified-woman en of ‘n vrou werklik bevryd kan wees in ‘n patriargale gemeenskap. Eetstoornisse en perfekte lywe. Prokureur, kunstenaar teenoor aktrise. The Bacherolette is hier as ‘n vingerwysing aanwesig. Jenna se kameerol verklap iets verders.

 

Daar word eweneens kommentaar gelewer op Instagram, narcisme, selfbeheptheid en hoe die private openbaar geword het. Veral Katryn se karakter verteenwoordig hierdie dimensie. Sy word immers die verwyt gemaak dat ander mense net bykarakters is in haar storie.

 

‘n TV-reeks met die titel Siembamba is ‘n verdere ingebedde ironie. Feministiese wit vroue teenoor vermoorde swart vroue sonder agentskap. Die mans soos Tiaan en Hendrik is gedugte teenspelers. ‘n Manlike professor word die objek van die jong vrou se begeerte. Daar blyk twee soorte mans te wees: dié wat gedigte stuur en die manne wat dit nie doen nie. Binariteite word deurgaans bevraagteken.

 

Die roman ondersoek die subtiele verhoudings tussen vroue wat alreeds in Afrikaans uitsonderlik deur Rita Gillfillan beskryf is in veral Die vrank smaak van frambose in 1993.


Dit is ‘n vlot vertelling met baie implikasie oor hoe jong mense leef. Kundalini en chakras netjies ingebed in ‘n roman oor indiwiduasie. Hierom eindig die slot met ‘n ring wat oorhandig word. ‘n Ring met ‘n gevaarlike geskiedenis.

 

En ook ‘n teks oor die implikasie van Begeerte (en die oneindige sirkulasie daarvan) wat deur die media geskep word en wat ons (dalk) manipuleer? Die vreemde droom op bladsy 137 illustreer dit.

 

Met In my vel (2019) het Azille Coetzee ‘n beduidende memoir gelewer (Youtube | Video: Kaapstad-bekendstelling van In my vel deur Azille Coetzee. Besoek 24 Oktober 2021).


Hierdie kaleidoskopiese roman bevestig haar talent met kommentaar op Eva wat sowel Cixous as Gallop se studies na vore bring. Die Uitgange teenoor die dogter se seduksie.


Luami Calitz se voorblad Witches is treffend en openbarend.

 

 

Bronne:

 

Chetwynd, Tom: A dictionary of symbols. Paladin Grafton Books, Londen. 1982.

 

Cixous, Hélène: Die Unendliche Zirkulation des Begehrens. Merve Verlag, Berlyn. 1977.

 

Cixous, Hélène: "Castration or Decapitation?" in Robert Con Davis & Ronald Schleifer(redd.) se Contemporary literary criticism - Literary and cultural studies. Longman, New York. 1989. 

 

                               Sorties. opgeneem in David Lodge (red.): Modern criticism and theory - A Reader. Longman, New York, 1988.

 

Gallop, Jane: Feminist accused of sexual harassment. Duke University Press, Durham. 1997.

                         

                        The daughter's seduction - feminism and psychoanalysis. Cornell University Press, Ithaca. 1982.

 

                        "Why Does Freud Giggle When the Women Leave the Room?". Lesing gelewer in die Women and humour section - NEMLA-kongres, Hartford, Connecticut. Maart 1979. 

 

Garber, Marjorie: Bisexuality & the eroticism of everyday life. Routledge, New York. 2000.

 

                        Vested interests - cross-dressing & cultural anxiety. Routledge, Londen. 1992.

 

Rubriek | Restaurant etiket | 2021

$
0
0

Voor Covid was restau-rante dikwels bestuur deur bestuurders wat uit magsbeheptheid ‘n besoeker sou dissiplineer met lawwe reëls soos ons maak eers 12.30 oop. Of nee, die kombuis is reeds gesluit.

As besoeker aan etlike restaurante hier te lande en elders het die impak van Covid sy tande gewys. Na die inperking het dieselfde stafsersant vriendelik begin optree. Jou met ope arms verwelkom.

Nou met alles wat weer begin “normaliseer”, tree daar ‘n subtiele verandering in by sekere restaurante. Hoflikheidstrategieë begin vervaag en ‘n diepe irritasie begin weer sy tande wys. 

The customer is always right? Ek dink nie so nie, maar indien die besoeker oor die vingers getik word, moet dit met beskaafdheid hanteer word.

 

Me pay, me say? Bepaald binne die grense van aanvaarbaarheid soos jy vra dat die kos asseblief nie gebrand moet wees nie en dat die vis nie op stapels groente moet staan nie. Wie het hierdie kulinênere kaplaksheid uitgevind? Kabeljou wat in ‘n tweede dood op 'n baar groente en aartappels geoffer word?

 

Serve on the left, remove on the right? Hiervan kom daar dikwels dadels met kelners wat bo-oor jou leun om iemand daar doer onder se bord te verwyder, so naby dat jy sy naambordjie kan lees!

 

Die restaurateur/restauratrice (hierdie woord(e) kom van die Latyn vir restorer”)  mag uiteraard sy/haar etende gaste aanpraat. Dis egter die hoe wat tersaaklik is.

 

Tips? Inderdaad belangrik. 20% indien jy die kelner ken en die diens goed was. Andersins ‘n aanbaarbare 10%.

 

Jare gelede het ‘n kelnerin ‘n man wat 20c agtergelaat het, agterna gesit, hom ingehaal, en die geld voor sy voete neergegooi met ‘n verwyt:  “Hou dit, asseblief. Jy het dit bepaald nodiger as ek.”

 

Ambiance? Dis bykans die allerbelangrikste aspek van die restaurant behalwe vir kos. As daar druisende, harde musiek speel, kan dit die aand bederf. Musiek moet gewoon net gesprekke neutraliseer sodat jy nie hoor wat die man langs jou praat nie. Kinders wat op die vloer speel, is nie net steurend nie, maar kan dalk in die hospitaal land sou iemand oor hulle val. Wat ook in die hospitaal kan beland.


Who is the payee? Gaste behoort die geldkwessie voor die tyd uit te sorteer oor wie gaan betaal. En as dit ‘n gedeelde rekening is, moet die rekening ter wille van orde net gelykop verdeel te word in stede van "ek had dit / jy had dat".

 

Chatty waiter? Dit mag wanneer jy ‘n local-yokel is en die mense ken jou.

 

Vriendelikheid kos niks nie! En gesels met gaste is aan, indien hulle daarvan hou. So het ek op ‘n keer ‘n Spaanse man en vrou gewaarsku om nie die kabeljou (kabeljulle?) van die dag te bestel nie.


So ontdek ek hy is die Spaanse filmmaker, Almodóvar, se broer, Augustín.

 

Kunswerke in restaurante? Hoe nou gemaak met breekbare borde teen mure of beelde op uitstalling? Mag jy dit bewonder of aan die beeld raak?


Lewensgrootte Fernando Pessoa standbeeld voor die A Brasileira do Chiado restaurant in Garret straat, Lissabon, Portugal.


In die Kronenhalle, Z
ürich (geopen in 1924 Hulda Zumsteg) het Coco Chanel, Albert Einstein en Sigmund Freud besoek afgelê. James Joyce het glo by tafel nommer 17 Ulysses geskryf. ‘n Portret vereer hom. Dieselfde verering vind ‘n mens in Buenos Aires met ‘n lewensgrootte Borges neffens Lorca in die Café Tortini.


Ek het ‘n foto waar ek neffens die manne sit. En jy mag raak aan hierdie beelde vat, anders as in ‘n restaurant in die Hemel-en-Aarde vallei waar ‘n kelner op besoekers gegil het wat aan ‘n beeld vat.


Eisj. Sit dan die aanwysing duideliker sodat die maagdelike beeld nie versteur word nie.

 

En maak ‘n bespreking vir 31 Februarie volgende jaar om te wys hoe jy hulle waardeer. (7 restaurants with incredible art collections. Besoek 1 November 2021)

 

Dit moet nooit whining & crying word nie, maar dining & flying.


© Joan Hambidge



Onderhoud | met Azille Coetzee | 2021

$
0
0

1 Die teenoorgestelde is net so waar is jou debuut as romanskrywer.

Dit volg na jou memoir In my velJou debuut word bemark as nie-fiksie: dit is iewers tussen 'n outobiografie, verslag en reisbeskrywing. Nou skryf jy fiksie. Hoe ervaar jy die verskille in die skryfproses?

Met In my vel moes ek baie tyd in my eie geheue en psige spandeer, om dinge te probeer onthou en weer te gee presies soos dit gebeur het en gevoel het. Met Die teenoorgestelde daarenteen het dit amper gevoel of my eie buitelyne oplos. Ek dink om karakters te skryf wat nie jouself is nie verg van ’n mens om poreus te word op ’n manier, jouself oop stel vir dit wat buite jouself is. Die skryf van albei boeke was interessant en terapeuties, maar die skryf van die roman was bevrydend en verruimend op onverwagse maniere wat verskriklik lekker was.


2 Jou boek handel oor vriendskappe tussen drie vroue. Hoe sien jy vriendskappe en verbintenisse? Is vriende ‘n mens se geheue, jou gewete of blote spieëlbeelde van jou en ander?

Ja, ek dink vriendskappe vervul al daardie funksies. En ek is presies geïnteresseerd in daardie veelvuldigheid van vroulike vriendskappe – hoe dit soveel dinge gelyk vir ’n mens kan wees, hoe dit verander met tyd, hoe dit kan aanpas, hoe daar plek is vir allerhande soorte vriendskappe in mens se lewe  – hoe dit dus op ’n manier baie meer hibried en veerkragtig en vloeibaar is as meeste monogame romantiese verhoudings.


3 Jy lewer kommentaar op die private wat openbaar geword het soos Instagram en Facebook. Hoe het dit, volgens jou, vriendskappe verander? Ek dink hier aan die steelfoto by ‘n bruilof wat dan uitgestal word met implikasies vir almal.

Ek dink dis maar nog iets wat ’n mens onderhandel in jou vriendskappe. Ek gebruik nie sosiale media op ’n verskriklik persoonlike manier nie, so vir my is dit maar net nog ’n gerieflike platform om met my vriendinne te engage. Maar ek dink dis dalk ’n luxury wat ek het omdat ek nie met sosiale media grootgeword het nie. Ek kan my net indink hoe ingewikkeld hoërskool moet wees as jy dit ook op TikTok moet navigeer!


Jou karakters se seksualiteit is meer vloeiend – ek dink hier aan die verhouding tussen Lien en Katryn wat later na ‘n mislukte huwelik van eersgenoemde, weer hervat word.

Is die ou binariteite in genderkonstruksies nie meer geldig nie?

Dit is so ’n interessante vraag, en een wat Kabous Meiring ook aan my gestel het by die bekendstelling van die boek. Ek dink gevestigde genderkonstruksies gebaseer op ’n meer binêre verstaan van gender (hier dink ek byvoorbeeld aan die lesbiër) is absoluut nog geldig, en sal waarskynlik vir altyd bestaan, dit is hoe baie mense identifiseer. Maar ek dink dat ons vandag gelukkig genoeg is (te danke aan die aktivisme van vorige generasies) dat daar ook plek is vir ’n meer terloopse omgang met seksuele oriëntasie en gender identiteit. Ek dink my generasie het dus meer vryheid om nie altyd hul genderidentiteit in kategoriese terme hoef uit te druk of te moet beskerm nie. Natuurlik is alles nog glad nie gewonne nie, maar ek dink wel dat ons dit makliker het as wat vorige generasies dit gehad het.


5 Jy verwys na Tsjekof se Drie susters. Is dit toevallig of wou jy die teks hier met meer implikasie laai? Dis immers ‘n teks oor verspeelde kanse en verlore drome …

Dalk die ewige konflik tussen droom en werklikheid?

Verlaat Katryn die droom of nie?

Ek hou van wat jy sien hier! Ek het gedink aan Drie Susters omdat dit bekend staan as ’n toneelstuk waarin daar nie veel gebeur nie (meeste van die aksie is weg van die verhoog af) maar waar dit gaan oor die innerlike drama wat mense ervaar te midde van hul gewone doen en late en alledaagse roetines. Ek het ook gedink aan hoe die toneelstuk op ’n manier gaan oor uitgediende waardes, en die soeke na nuwe maniere van leef. Maar ek dink jou interpretasie is baie interessanter as wat ek gesien het!


Sliding doors met Gwyneth Paltrow ondersoek ook die teenoorgestelde wat ook kon wees. Het jy hierdie film doelbewus / onbewus gebruik as interteks?

Nee, maar ek is weer mal oor die konneksie wat jy maak! Ek het baie aan Gwyneth Paltrow en Goop gedink terwyl ek die boek geskryf het, die maniere waarop feminisme en verbruikerskultuur verweef geraak het. 


In my vel se sub-titel lui: 'n reis. Jy spreek hier kwessies van ras en gender en klas aan wat identiteit bepaal. Jy maak dikwels uitsprake oor ras-ongelykhede en dat die Afrikaanse letterkunde nog baie hieraan moet doen. Dink jy nie die Afrikaanse letterkunde het wel die afgelope tyd geweldig baie bruin en swart tekste gelewer nie?


Ja ek dink jy is heeltemal reg, dinge is beslis besig om te verander. Maar ek dink histories gesproke is dit ’n letterkunde wat die wit man sentraal stel as literêre stem en ek dink dit gaan nog tyd en werk kos om dinge genoegsaam te verskuif (Die verhaal van drie vroue ‘n bruilof en ‘n boerboel | Netwerk24).



8 In jou artikel in Covid Diaries: Women’s Experience of the Pandemic – met Amanda Gouws & Olivia Ezeobi as redakteurs – verwys jy tereg na Hannah Arendt. Watter invloed het sy op jou denke gehad as politieke filosoof, feminis, vrydenker? 

Ek het akademies gesproke nog nie soveel met haar gewerk nie, maar op ’n persoonlike vlak is sy ’n rolmodel vir my – as vrou, as filosoof, feminis en vrydenker. Ek versamel vroulike figure by wie ek kan leer hoe om te lewe en sy is beslis een van hulle.


9 Hoe sien jy “die banaliteit van boosheid”?

Ek dink nogal baie daaraan deesdae – die idee dat mens nie inherent boos hoef te wees om bose dinge te doen nie, dat boosheid dikwels die resultaat is van onnadenkendheid, van ons versuim om aandag te gee. Dit is vir my baie relevant in ons wêreld vandag waar daar soveel verskriklike swaarkry oral rondom ons is en waar ons ekonomiese stelsels so vernietigend is. En hoe ons onsself so aandadig maak daaraan omdat dit gerieflik is en omdat dit is wat ons gesê word om te doen. Ek weet haar konsep is baie meer genuanseerd as dit, maar dis hoe dit deesdae baie by my opkom.


10 Hoe sou haar filosofie gelyk het, as jy kon raai, indien sy nie met Heidegger bevriend geraak het aan die Universiteit van Marburg nie?

 

Sjoe, ek wonder! Ek weet nie! En dalk is dit ’n vraag wat ’n mens kan stel ten opsigte van die Westerse filosofie as geheel – hoe sou ons denke ontwikkel het as problematiese mans soos Heidegger nie so ’n groot impak daarop gehad het nie. Maar die verhouding met Heidegger is nog ’n aspek wat Arendt se lewe vir my so fassinerend maak. 

 


11 Die konsep “natality” (Natalität) en “amor mundi” (liefde vir die wêreld) is twee van haar belangrikste konsepte. (Lg. uit haar 1929 doktorale tesis oor Augustinus). Jy betrek dit in jou artikel “Everything is Cake: Reflections on Natality and the New World Order”. Kommentaar.

 

Ag ek dink ek voel sommige dae so moedeloos oor die wêreld en waarheen als oppad is en dan bied Arendt se filosofie ’n bietjie hoop. Die idee dat daar altyd die moontlikheid is vir nuwe begin en dat elke mens daardie moontlikheid dra en dat ek self die wêreld kan betree op nuwe maniere. En dan ook weer die idee om hierdie wêreld te kies (al is dit so dikwels vreemd en vervreemdend), om daarvoor te sorg, om met aandag deur die lewe te gaan, eerder as om dit te probeer ontsnap. Ek weet ek vereenvoudig haar nou gruwelik, maar dis hoe Arendt my op ’n alledaagse manier deur die lewe help!

 


12 Waaroor het jou doktorale studie gehandel?

Ek het die Belgiese feministiese filosoof Luce Irigaray in dialoog gestel met die Nigeriese feministiese denker Oyèrónké Oyĕwùmí om te kyk wat hulle by mekaar kan leer en hoe die Afrika feminisme ons kan help om Westerse- en Afrika-filosofie te dekoloniseer.


13 Jy is werk in filosofie, jy skryf ’n roman en ’n memoir. Waar lê jou hart?

 

Ek hoop nie ek hoef ooit te kies nie! Ek vind dat die verskillende registers of maniere van skryf mekaar aanvul en verdiep.

Joan Hambidge

Resensie | Jan Wagner – Wat ek van klippe weet (Vertaal deur Robert Schall) | Naledi, 2021

$
0
0

 

Jan Wagner – Wat ek van klippe weet (Vertaal deur Robert Schall). Naledi, 2021. ISBN: 9781928530633 | Prys: R260.00

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Hierdie bundel wat sopas by Naledi verskyn het en vertaal is deur Robert Schall is een van die hoogtepunte van my leeservaring hierdie jaar. Die antologie is keurig uitgegee en die afwerking prima. Jan Wagner, gebore in 1971, word beskou as een van die gewildste digters tans werksaam in Duitsland. Hy is veelbekroonde digter en hierdie leser verstaan presies waarom.

 

Onder andere Zhongkun Internasionale Digtersprys van die Universiteit van Peking en die gesogte Georg Büchner-prys.

 

Die digter is self vertaler en essayis.

 

Die gedigte is essensieel in die trefkrag, eenvoudig (oënskynlik) met verwysings na geskiedkundige oomblikke wat die digter ontgin vir sy verse. Per voetnoot word dit oopgemaak (“störtebeker”, 61) en die mitologie word ook in verse ingevoer. Vreemde landskappe word ook bekyk: Huntsville, Texas, Australië

 

Tegnies bedrewe met die beoefening van o.a. die sonnet, kwatryngedig, Sapfiese strofe, sestina, tersine, villanelle, haikoe en rondeel, maar ook die vrye vers én prosagedig. Ongewone rymvorme wat verdere vernuf demonstreer is soos die skuinsrym, pararym (al die konsonante pas by mekaar (telltallen anagramrym gee verdere blyke van ‘n digter wat sy passies ken. Rym, soos wat digkuns-lesers alte goed weet, kan die onervare digter liederlik pootjie. Elisabeth Eybers kies dan tereg ‘n ironiese bundeltitel as Rymdwang.

 

Die leser kan telkens vergelykend lees met die oorspronklike vers links afgedruk en die vertaler se teks na regs. Ons lees verder dat die vertaler hierdie projek voltooi het as deel van ’n Meestersgraad in Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat. En veelvuldige applous aan die mentors en aan die uitgewer wat hierdie bloemlesing vir ons gee.

 

Die vertaler Robert Schall is bekend aan die lesers van Versindaba en Stilet, gebore in Duitsland en tot met sy aftrede Professor in Wiskundige Statistiek aan die Universiteit van die Vrystaat. GR von Wielligh se Boesmanstories is uit Duits vertaal as Die Sterne sind glühende Kohlen und Asche, gepubliseer in 2005.

Henning Pieterse se Rilke vertalings is eweneens ‘n hoogtepunt en kon as leermeester raad bedien.

 

Schall het Jan Wagner se gedigte vertaal as deel van ’n Meestersgraad in Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat onder leiding van Henning Pieterse en Francois Smith.

 

II

Wat ek van klippe weet aktiveer al die gesprekke met klippe in Afrikaans. Ons dink hier aan Van Wyk Louw se “Klipwerk”-reeks, Opperman en Wilma Stockenström. 

 

By Opperman die bekende “Te klip om te boom”:

 

Klip kan net klip,

sy teel is onderverdeel

tot stomme klippertjies

duinend rondmeel.

 

Boom kan net boom

word langer en ook swanger

tot singende boompies

voël óm die voorsanger.

 

Maar voorwaar:

voor boom kan boom

moet klip eers klip,

en klip teel swaar

- glo miljoene jaar.

 

Ina Rousseau, Johann de Lange, Antjie Krog het eweneens oor klippe gedig, soos die digter Ilse van Staden, Hendrik J Botha, Pieter Fourie.

 

En in die literatuurteorie herinner die Russiese Formalis Sklovskij ons aan digterlike taal wat die klip klipperiger moet maak. Die gedig moet die essensie so oordra dat die ding-likheid jou tref.

 

Ons dink aan die mitologie róndom klippe wat in elke landskap iets van daardie wêreld representeer. Die klippe in Japan wat anders lyk en voel as die klipformasies in Peru of die ronde spoelklippe in Turkye.

 

In my besit ‘n Tarotstel met die klipformasies van Macchu Picchu.

 

III

Dit gebeur nie elke dag dat ‘n resensent dit moeilik vind om ‘n keuse te maak uit die bestes in ‘n bundel nie. ‘n Mens sou die volledige bundel moes afdruk vir die leser.

Daar is reeds gewys op die uitbuiting van tegniek en die ontginning van verskillende digvorme. Die vertaler beklemtoon dat die gebruik van kleinletters dubbelsinnigheid tot gevolg het, omdat dit afwyk van die Duitse spelreëls. Dubbelsinnigheid en homonieme is hierdie digter se handtekening nes die ontginning van ryme. Die vertaler wys ook op die gebruik van “brutale enjambemente” wat die leser opnuut bewus maak van die musikaliteit van sy verse (238). Hiervan is die gedig “die études” (205) ‘n bewys:

 

…: die onverbiddelike maat-

slag van die metronoom

 

waar die klavier, soos by Robert Pinsky se gedig oor ‘n klavier in Jersy rain, ‘n hele lewe opsom en ‘n vreemde of onverwagse ars poetica word.

 

Dieselfde geld “geitjie” ‘n prosavers wat meer word as wat die geitjie is: die asosiasies met dinge buite-om wat die besondere aard van die diertjie opsom; ook ‘n primordiale simbool van die digkuns. Perfekte nabootsing. (111)

 

En aweregs is bepaald ‘n verdere kenmerk. Die vreemde dwars-blik kenmerkend aan die digterskap: om die klip klipperiger te maak.

 

Humor is daar in die beskrywing van die renoster (103). Of die verse oor pasteie (81). Kos teenoor klip, as u wil.

 

Die kleiner gedig wys dikwels mankemente uit en hier stel die digter nie teleur nie. Elke woord op sy plek:

 

ek lig die deksel

en kyk in die lyster se 

reusagtige oog (213)

 

Pragtig oor ‘n teesakkie:

 

teesakkie

 

I

net in saklinne 

gehul, tenger kluisenaar

in sy klam spelonk.

 

II

benewens ‘n tou-

tjie lei niks na bo. ons gee

hom vyf minute. (105)

 

Wonderlike implikasies hier.

 

 

Met die Anton Brant-vertalings (Brant is ‘n skuilnaam van die digter) wys die vertaler sy slag wanneer hy Afrikaanse streektaal (in voetnote geplaas) invoer. Geen sprake van ‘n gebroddel hier nie en die leser sien hoe hy die landskapwoorde van Duits na Afrikaans transporteer en dikwels moeilike gedigte naatloos vir jou neerplaas via die glossarium vir Afrikaanse streektaal.

 

Die vertaler verstaan die grein van die oorspronklike taal (Roland Barthes) en kry telkemale die regte aansluiting in Afrikaans.

 

Die digter dig assosiatief (vleiland, weiland, weikamp, kanet) op soek na die regte woord as hyself ‘n woordeboekmaker is. Die land, soos die gedig, staan soos ‘n groot harp vir die nag (157).

 

IV

Dit staan op die kliptafels geskryf dat hierdie bloemlesing met gedigte en vertalings ‘n mens lank sal bybly.

 

Wanneer ‘n goeie digter ‘n behendige vertaler ontmoet, is daar geen splinte nie:

‘n mens kan Korsika

 

reeds aan sy geur herken, sê hulle, lank

voor die eiland opduik uit die see. (89)

 

Verander korsika na digter en vertaler.

 

Die hele santekraam moet geluk gewens word met hierdie publikasie: die uitgewer, die digter, die vertaler, die mentors en die klasmaats.

 

Bronne:


Woorde Wat Weeg | Rubriek: Klippe (Besoek 27 Oktober 2021)


Prinsloo, Anton F. 2004. Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom. Pharos.


Rym | Wikipedia (Besoek 27 Oktober 2021)


Pinsky, Robert. 2000. Jersy rain. Farrar, Strauss & Giroux.


The Green Piano

Robert Pinsky

 

Aeolian. Gratis. Great thunderer, half-ton infant of miracles 

Torn free of charge from the universe by my mother's will. 

You must have amazed that half-respectable street 

 

Of triple-decker families and rooming-house housepainters 

The day that the bole-ankled oversized hams of your legs 

Bobbed in procession up the crazy-paved front walk 

 

Embraced by the arms of Mr. Poppik the seltzer man 

And Corydon his black-skinned helper, tendering your thighs 

Thick as a man up our steps. We are not reptiles: 

 

Even the male body bears nipples, as if to remind us 

We are designed for dependence and nutriment, past 

Into future. O Europe, they budged your case, its ponderous 

 

Guts of iron and brass, ten kinds of hardwood and felt 

Up those heel-pocked risers and treads splintering tinder. 

Angelic nurse of clamor, yearner, tinkler, dominator — 

 

O Elephant, you were for me! When the tuner Mr. Otto Van Brunt 

Pronounced you excellent despite the cracked sounding board, we 

Obeyed him and swabbed your ivories with hydrogen peroxide. 

 

You blocked a doorway and filled most of the living room. 

The sofa and chairs dwindled to a ram and ewes, cowering: now, 

The colored neighbors could be positive we were crazy and rich, 

 

As we thought the people were who gave you away for the moving 

Out of their carriage house — they had painted you the color of pea soup. 

The drunk man my mother hired never finished antiquing you 

 

Ivory and umber, so you stood half done, a throbbing mistreated noble, 

Genuine — my mother's swollen livestock of love, lost one, unmastered: 

You were the beast she led to the shrine of my genius, mistaken. 

 

Endlessly I bonged according to my own chord system "Humoresque," 

"The Talk of the Town,""What'd I Say." Then one day they painted you pink. 

Pink is how my sister remembers you the Saturday afternoon 

 

When our mother fell on her head, dusty pink as I turn on the bench 

In my sister's memory to see our mother carried moaning up the last 

Steps and into the living room, inaugurating the reign of our confusion. 

 

They sued the builder of the house she fell in, with the settlement 

They bought a house at last and one day when I came home from college 

You were gone, mahogany breast, who nursed me through those 

 

Years of the Concussion, and there was a crappy little Baldwin Acrosonic 

In your place, gleaming, walnut shell. You sere gone, despoiled one 

Pink one, forever green one, white-and-gold one, comforter, living soul.



Kyk hoe netjies word “Klipwerk” vertaal. Besoek 28 Oktober 2021.


 

So vertaal David Keplinger die “reënbalievariasies” / “regentonnenvariationen” na Engels. ‘n Goeie vergelykingstudie vir die leser (Besoek 28 Oktober 2021):

 

beneath the plum tree

behind the house, unmoved, cool

like a zen master.

 

*

 

a sort of oven

in negative, without smoke,

gulping up the clouds.

 

*

 

gurgled just a bit,

if you bashed hard against it,

but disclosed nothing.

 

*

 

as if the dead climbed

through her from the netherworld,

to listen to us.

 

*

 

silvery organ-

pipe, squat gutterspout: through which  

pumped all the weather.

 

*

 

one summer long

fully sated. then, with storm,

it bubbled over.

 

*

 

stay, spoke that darkness,

and your face dissolves itself 

like a sugar lump.

 

*

 

old as the garden,

redolent as forest-lake.

there: barrel of styx.

 

*

 

i lifted the lid,

twitched back. the blackbird singing

suddenly darkened.

 

*

 

awash in autumn,

it leaked out by the hundreds

the heaps of black slugs.    

 

*

 

what got imprinted

in me, framed in the barrel,

like a locket: rat.

 

*

 

last drop from the tree.      

in the quiet, quietly,

the quivering gong.

 

*

 

a brooding, brooding;

in winter, enlightenment

as a disc of ice.

 


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Versindaba)

 

Onderhoud | met Amanda Gouws | 2021

$
0
0

1. As gerekende feminis het jy onlangs ‘n boek saam met Olivia Ezeobi uitgebring: Covid Diaries: Women's Experiences of the Pandemic (Imbali uitgewers). In hierdie studie gee jy en jou mede-redakteur verskillende vroue kans om te kyk na die impak van Covid-19 op jul lewens. Hoe het jy die vroue gekies?

 

Ons het besluit dat vroue hul eie stories oor hul ervaring van die pandemie, en spesifiek die staat van inperking, moes vertel.  Ons het ‘n aanlyn roep gedoen wat ons wyd op ons netwerke versprei het en 50 vroue het aangedui dat hulle wil skryf.  Op die ou end het 35 vroue hulle stories gelewer.

 

2. Die boek val in verskillende afdelings uiteen: “The Political is Personal", “The Personal is Political", “A Woman's Work is Never Done", “Of Motherhood and Care" en “The Body on the Front Line". In hierdie vyf afdelings word die hele politiek van die feminisme sedert die 60’s opgesom. Kommentaar.

 

Die sestiger en sewentiger jare was die hooggety van die tweede golf feminisme of radikale feminisme, wat bekendstaan vir hul slagspreuk – “the personal is political”.  Dit beteken dat wat ook al in die private sfeer van die huis of tuiste gebeur ook ‘n politieke dimensie het en dat oplossings vir diskriminasie en onderdrukking in hierdie ruimte wel polities van aard is, soos byvoorbeeld deur wetgewing om gesinsgeweld te stuit, te maak.  In die geval van die pandemie was die politieke ook persoonlik in die sin dat die politiek van die pandemie ons in ons huise toegesluit het.  Die tweede golf feministe het ook die onderdrukking van vroue aan die onbetaalde versorgingswerk wat vroue in die huis doen, toegeskryf. Versorgingswerk word vanselfsprekend as die vrou se werk aanvaar en die pandemie het ons gewys dat dit wel vandag nog die geval is, soos dit spreek uit die stories.  Feministe besin ook oor die liggaamlike, veral hoe die vroueliggaam uitgebuit word, geobjektifeer word of die slagveld van geweld en verminking word.  In die boek spreek die stories tot die ongelooflike liggaamlike uitputting wat die pandemie tot gevolg gehad het.

 

3. Vroue het agentskap. Tog voel dit vir my asof feminismes tans huiwer om dwase politiek-korrekte uitsprake aan te vat. Het dit dalk te make met die geweldige sterk posisionering van transgender-persone? Ek dink hier aan die onlangse debakel in Sussex. Daar is immers verskillende posisies: woman-identified-woman, straight, lesbies, bi …

 

Ons leef in die tyd van “cancel culture” wat beteken dat as feministe en veral radikale feministe (die radikaal verwys na die oplossings wat hierdie feministe voorstaan – wat die radikale idee van die beeïndiging van patriargie insluit) hulle uitspreek oor kontroversiële sake, soos die Sussex-debakel, waar ‘n filosofie professor in haar boek van die standpunt uitgaan dat sosiale gender belangriker is as biologiese gender.  Sy is as transfobies uitgekryt tot so ‘n mate so dat sy bedank het.  Sy het aangevoer dat sy genoeg van die boelietaktieke gehad het. Hierdie onverdraagsaamheid róndom seksualiteit en verskillende begrippe van wat seksuele begeerte en seksuele identifikasie is, lei tot selfsensorskap onder feministe wat vrees dat hulle op dieselfde manier behandel sal word. Dit sluit akademiese debat hieroor af en universiteite word plekke waar oop gesprekke met groot moeite gevoer kan word – iets wat teen die aard van die universiteit indruis. 

 

4. Die geboorte van feminisme was waarskynlik die wasmasjien eerder as die pil. Tog vergeet gay en transgender-persone van die geweldige werk van feministe wat ‘n bydrae gelewer het tydens Stonewall. Kommentaar.

 

Die Stonewall-opstand was die begin van ‘n sigbare gay-gemeenskap in die VSA.  Gay mans en vroue het polisieteistering teengestaan in sigbare protes wat later oor die hele land versprei het.  Talle feministe was bondgenote in hierdie protes en het hulle geskaar by die gaygemeenskap.  Meeste feministe verwerp die binêre identifikasie man/vrou en glo dat seksuele identiteit vloeibaar is en dat seksuele begeerte kompleks is. Maar wat meeste feministe voorstaan is keuse – dat elke persoon die reg sal hê om te kies met wie hy/sy/hulle (transgender) in ‘n verhouding wil wees.  Enige vorm van dwang is onaanvaarbaar.

 

Gender is ‘n konstruksie wat deur gemeenskapsopvattings en rolverwysings gevorm word en is dus weier as die bloot biologiese.  Vroue word van geboorte af in die simboliese orde van patriargie ingelei sodat wat ons as normaal aanvaar diep in ons psiges ingebed word oor ‘n lang tydperk.  Dit is slegs deur bewusmaking en bevraagtekening (wat feministe by uitstek doen) dat hierdie begrippe van wat “normaal” is ontwrig word.  Transgender-vrouw (wat eers mans was) het nie dieselfde ervaring van die simboliese orde of die sosialisering van vroue gehad, terwyl hulle mans was nie.  Dit is ‘n tipe manlike bevoorregting wat nie noodwendig met transisie verdwyn nie.

 

5. Virginia Woolf se A room of one’s own is ‘n belangrike document. Net soos die werk van Doris Lessing. Of die tekste van Cixous en Kristeva. Gaan vroue en vroue-teorie altyd ‘n supplement bly?

 

Ek dink dit is reeds besig om te verander en het reeds baie verander. Mense soos ek en jy dra daartoe by dat genderteorie baie meer “mainstream” word.  Ons werk is subversief,  omdat ons nie bloot ivoortoring-teoretici is nie.  Ons leef ons feminisme en ons is rolmodelle vir ons studente.  Daar word nou baie geskryf oor die distopiese wêreld waarin ons tans leef met die pandemie en so baie van die oplossings wat voorgestel word (veral deur mans) verwys na die belang van gemeenskap, versorgingsetiek en interafhanklikheid.  Dit is goed waaroor feministe al reeds vir jare skryf.  Die belang van ons werk word nou sentraal gestel.

 

6. Vrouedigters in Afrikaans skryf dikwels oor die vaderfiguur wat beslis broos en vol foute is. Waarom word die Vader dan nog steeds nagestreef as ‘n simbool van Sterkheid. Ek dink o.a. aan Fellini wat dit ondermyn in City of women. Kommentaar.


Afrikanerkultuur is diep partriargaal, soos jy weet, so die vaderfiguur is altyd aanwesig, al is hy ook afwesig.  Met die bevryding van vroue en die toekenning van regte word patriargie die hele tyd bedreig en op die oomblik voel dit vir my of patriargie vroue slegs deur geweld kan beheer.  Dit is een rede hoekom ons die skokkende statistiek vir geweld teen vroue het wêreldwyd.  Dit is dikwels moeilik om oor die moeder te skryf sonder om moederblaam te pleeg.  So, om oor die vader of die moeder te skryf  is om tussen die duiwel en die diep blou see te wees.  Maar dit is juis wanneer mans die patriargale orde ondermyn omdat hulle hul eie aandeel aan patriargie erken dat hulle die bondgenote van vroue word.

 

7. Jy skryf rubrieke waarin jy moeilike konsepte oopmaak vir gewone lesers. Tog kry hierdie leser dikwels die gevoel dat mense nie werklik lees wat jy skryf nie en jou aanval omdat jy feministies skryf. Kommentaar.

 

Ja, ek dink dat veral mans hulle blindstaar teen my naam.  Ek is soms verbysterd oor die onnoselheid van die haatspraak wat ek kry. Dit wys daarop dat hulle nie gelees het of nie verstaan het wat hulle gelees het nie.  Ek het baie respek vir deurdagte argumente, maar dit kry ek selde.  Die sterk reaksie op my werk laat my glo dat ek tog my vinger op sensitiewe plekke plaas en dat dit mense iets gee om oor te dink.  (Ek wonder of sommiges dink voordat hulle ‘n meltdown het!).

 

© Joan Hambidge

Resensie | Dolf van Niekerk – Splintertyd | Imprimatur, 2021

$
0
0

Dolf van Niekerk – Splintertyd. Imprimatur, 2021. ISBN: 978-0-620-94670-4

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Dolf van Niekerk se bundel Splintertyd (Imprimatur) is ‘n belangrike bundel in hierdie tydsgewrig gekenmerk deur Angs, Onsekerheid, ‘n volledige nuwe bestaan, wat in Maart verlede jaar aangebreek het. Grendeltyd het, soos ons almal weet, op alle vlakke sy tol geeïs. Mense is ingeperk in hierdie versplinterde tyd en veral digters het skerp gereageer op hierdie inperking. Splinter is immers ook ‘n werkwoord (afsplinter) en die vele assosiasies word deur hierdie titel oopgemaak.

 

Van Niekerk is ‘n gerekende prosateur en digter. Van sy bundels is Karoosange (1975), Dubbelster (1996), Nag op 'n kaal plein (2006), Lang reis na Ithaka (2009), Bleek planeet (2013), en Portrette in my gang (2015) is van die bundels uit Dolf van Niekerk se pen. En op sy 90ste verjaarsdag verskyn Berigte uit die skemerland ook by Imprimatur.

 

Die digter is ook ‘n filosoof en in sy gedigte vind ons dan sterk besinnings oor die mens se lot:

 

alles keer in siklusse terug,

alle syn herhaal sigself

deur die tyd, wat was word nou

en nou is môre soos dit was. 

 

(Portrette in my gang, 2015)

 

en in die lewe en die dood

is elkeen uiteindelik alleen

 

Hierdie reëls staan opgeteken in Dolf van Niekerk se bundel Nag op ‘n kaal plein (2006), ‘n gunstelingbundel vir hierdie leser:

 

“Skaduwoord” is ‘n sentrale vers:

 

Skaduwoord 

 

Ek wou liefde onder woorde bring

soos die HAT, nuanses 

van toegeneentheid tot plante, 

diere, mens en God, vibrasies

van die brein en hart. 

Ontsê hiervan sal die mens

iets soos liefde versin

in sy verlange na versoening,

onbewus van tye waar

liefde en haat verstrengel was; 

dors na ’n bries van liefde 

met die laaste onsekerheid 

voor ewigheid. (25)

 

Die dood is ‘n “inwonende aanwesigheid”, skryf die digter, ingeperk ook deur siekte waar reën die suising word van iets anders:

 

Middernagreën

 

Middernagreën, maar dis geen reën.

Dié suising is een bed ver, of is dit my suurstofmaker, ’n drupspoor op my huis se dak in tye van ’n ou normaal, se glo ’n Hoër Hand bepaal die reën.  (31)

 

In die volgende vers word Sartre se die-hel-is-ander-mense aangespreek:

 

Hel is nie nadoods, hel is ’n virus van die aarde

 

Hel is nie nadoods, hel is ’n virus van die aarde, ontspring uit kweekgrond vir hebsug en haat. Waar liefde en waarheid weerstand bied, muteer hy in variante van lewensagterdog, ondergrawing en verdagmaking – tas die siel aan en verban die wese na ewige kwarantyn binne die self. (40)

 

II

Linda Hutcheon & Mario J. Valdés voer ‘n gesprek oor nostalgie, ‘n begrip wat ‘n terugkeer én pyn in sig dra. Ons kan terugkeer na ‘n ruimte, maar tyd kan ons helaas nooit weer terugvind nie. Ons lees:

 

Nostalgia, in fact, may depend precisely on the irrecoverable nature of the past for its emotional impact and appeal. It is the very pastness of the past, its inaccessibility, that likely accounts for a large part of nostalgia's power—for both conservatives and radicals alike. This is rarely the past as actually experienced, of course; it is the past as imagined, as idealized through memory and desire. (Linda Hutcheon & Mario J. Valdés | Irony, Nostalgia, and the Postmodern: A Dialogue | University of TorontoBesoek 21 Oktober 2021)

 

Wanneer ons die verse deur die oë van Hutcheon lees, is die ingeboude ironieë opvallend. Die woord nostalgie beteken sowel ‘n terugkyk as pyn; ‘n geïdealiseerde, opgemaakte wêreld wat aanklop by Van Wyk Louw se Nuwe verse, ‘n bundel met gestroopte verse.

 

Dié nag het nie ure nie

 

Dié nag het nie ure nie, elke uur is nag; oorlewing wankel op die grens van lig en duisternis; uitweg neig na nag terwyl ’n kakofonie suising in die brein begelei van êrens na nêrens, nêrens na êrens waar nag en dag gebore word. (50)

 

In koorsdrome word daar verlang na die Karoo in vele pynlike nagkonserte. Ons onthou:

 

my windharp

sing

in ballingskap

wat sing

my windharp

aan die wilgertak

waar nooit

karoowind waai

 

(Bleek planeet, 2013)

 

Dit is ook ‘n bundel van liminaliteite en oorgange: dag na nag, lewe na dood, siekte en herstel met die poësie wat alles registreer. Die pragtige voorblad – met die handskrif van die digter – is tekenend hiervan. Hierom word alles ‘n “dubbeldag” in ‘n pynlike binnereis.

 

Plato se grot is ook hier aanwesig wat die dubbel-kyk aktiveer.

 

Die digter-as-filosoof dink geweldig na oor die mens se verbintenis met die kosmos en die ewige soeke na sin:

 

Ek vors bestaan en wese na

 

Ek vors bestaan en wese na, die wese van wees in die labirint van ewige dinge; of alles oplaas saamvloei in Is en Is deel is van syn, sinoniem vir die Romein se sistere, omvorm tot eksisteer; staan tussen nou en ewigheid, ’n pendulum in tyd van kosmiese wordingsdrif. (12-13)

 

Die bundel is laatwerk en die gesprek met Elisabeth Eybers is tersaaklik, want daardie digter het oor ouderdom, siekte en die sin-van-die-lewe uitsonderlik goed gedig. Wat véral vir die speurende leser opvallend sal wees, is die self-palinodes en vele gedigte wat terugkeer na bestaande verse in ‘n proses van self-kanonisering.

III

Imprimatur onder die leiding van Martjie Bosman het ‘n belangrike bundel gelewer in hierdie vreemde tyd. Die uitleg en ontwerp van Annemart Swanepoel verdien vermelding.

 

Toeganklik, aangrypend en ‘n belangrike baken in die digter se oeuvre.

 

All nostalgia, then, would be what Davis (25) calls "interpreted nostalgia" wherein an analysis of an experience, however brief or mistaken, comes to be fused with that primary experience and thus alters it, aldus Hutcheon in voetnoot 17. 

 

Dit het my ook teruggeneem na Legkaart van 'n jong lewe (2019), sy herinneringsboek, en my opnuut bewus gemaak hoe digters terugkeer na dieselfde temas en dieper kyk. Die ewige spel tussen onthou en nou …

 

Die digter het nie geswyg nie en hy struikel beslis nie oor sy woorde nie …

 

‘n Klein, kompakte bundel wat uitwaaier na die filosofie, die kosmiese vraagstukke en die dood wat iets alledaags geword het.

 

Bestel by:

Snymanweg 46, Brummeria, Pretoria, 0184 www.imprimatur.co.za

 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Versindaba)

Resensie | Jaco Alant – Is mos oos | Protea, 2021

$
0
0

Jaco Alant - Is mos oos. Protea. 2021. ISBN: 978-1-4853-1279-6 (gedrukte boek) ISBN: 978-1-4853-1280-2 (e-boek)

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Hierdie roman word trefseker as volg bemark:

 

’n Afgelegde professor in Durban, KwaZulu-Natal, dink terug en probeer sin maak van sy verlede. Hy leef met ’n vrou in sy herinnering – Mied. Deur die oënskynlike diefstal van sy geel Volkswagen Kewer met sy hond Os-Moses agterin, ontmoet hy ’n Afrikaanssprekende Zoeloe-meisie, Mandie. Hy word Mandie, haar ma, Nxasana, en ’n gestremde kind na wie Ma Nxasana omsien, Gumanam, se vertroueling. Intussen word hy lastig geval met oproepe van ene John wat ’n MA wil doen oor ekoliteratuur en mineurskrywers. Is mos oos is ’n surrealistiese, byna absurde roman; ’n verhaal van verandering wat ontvou in die spel van name en die vervloeiing van uiterstes: hede/verlede, man/vrou, leuen/waarheid, lewe/dood.

 

‘n Roman wat grense verskuif in Gilles Deleuze en Felix Guattari se terme van sogenaamde mineurletterkunde: “Dis waar die mineurskrywer so belangrik is,” sê John ongestoord. Onsigbare skrywer. Sigbaarste geskrif. Sonderlingste taal.  (229)

 

In hierdie pakkende roman word die moderne Universiteit via ‘n onbetroubare vertellende akademikus vir ons onthul. Is die motor met die hond werklik gesteel of beweeg ons in hierdie roman dalk in ‘n teks wat geskryf word deur ‘n skrywende instansie? Wat is waar? Wat is wolhaar?

 

Ons word immers gewaarsku:

“Nee,” sê die kolonel, “niks se ge-miskien nie.” Daar’s ’n wonderlike Afrikaanse woord, sê hy, net so goed soos kammakastig. En dis die woord “onbenullig”. Dis nie net nul nie, dis nullig. Maar nee, dis nie net nullig nie, dis benullig. Maar nee, dis meer as – minder as – benullig, dis verdomp fokken – jammer – onbenullig! On-be-nul-lig! Dis soos nul kwadraat, nul tot die mag wat ook al! Hy sê: “Ek het nog nooit só daaraan gedink nie.”

En later:

Wat is ’n geskrif, dan – soos jy sê – maar ’n geskrif sonder ’n leser, sonder selfs ’n bedoelde leser? Dis ’n non-teks, my liewe John,” beantwoord hy sy eie vraag, “’n ongeskrewe geskrif. Soos Breyten Breytenbach sou sê: ’n ongedanste dans. Niks! Nee, minder as niks, dis soos niks uitgehol, uitgehol van binne! Des te minder kan dit literêr wees.” Sê hy sou dit sterker kon stel, dié “niks”, maar hy weet John verafsku vulgariteit en sou dit allermins van hom verwag. (192)

Ook die abjekte vind hier ‘n plek. Ontoepaslike beskrywings van ‘n hond se anatomie, besoeke aan ‘n lykshuis en ‘n meedoënlose oopskryf van die seksdaad, maak die teks een wat uitwaaier na Loslyf en belangrike tekste oor die seksuele. Toilette en “splatter reduction” word slim beskryf (106). Lykshuise en reuke waaier oop voor die leser (soos op bladsy 117). Reuke, geure, die abjekte en stank doem voor die leser op.

 

Osmose word opgevang in die hond se naam en die titel. ‘n Osmose tussen fantasie en werklikheid; droom en skryf. 

 

Die roman is soos ‘n heksagonale postmoderne rooibaksteengebou (om die verteller aan te haal) met analises van politiek-korrekthede (Mied / Meid) en ‘n teks op ‘n rekenaar wat dit alles verklap.

 

Gumanam is Hindi vir naamloos.

 

Hierdie skrywer speel ‘n spel met name, konvensies, ‘n stad (Durban) se liminaliteite en die leser word ingeboender in ‘n teks wat dalk (?) ‘n kreatiewe reaksie is van ‘n man wat sukkel met ‘n moeilike student wat wil skryf oor ekoliteratuur en mineurskrywers, die polisie, ‘n kolonel en ‘n hond in ‘n Volkswagen. En met Mandie en Nxasana, swart mense saam met die brak is dit ‘n bonte spul.

 

Is die Volla werklik gesteel? Wil die teks ‘n parodiese reaksie wees op tydgenootlike Franse skrywers? Houellebecq se flirtasie met die abjekte en die politiek?

 

Onderlangs is die verwysings na Jean Genet, Deleuze & Guattari, ekotone, liminaliteite opvallend. Veral Luis Buňuel se Belle de Jour, daardie film uit 1967 met Catherine Deneuve, word in die herinnering geroep. Fantasie en werklikheid word só slim verweef dat jy as kyker nie altyd seker is wat het werklik gebeur nie. Nes by die meester Luis Buňuel.

 

‘n Resensent het die slot in die roman as vreemd ervaar; tog nie, as jy moderne Franse tekste ken of Dan Roodt se Sonneskyn en Chevrolet (Taurus, 1980) gelees het nie ('n Lyflike roman met vreemde droomlogika. Besoek 27 November 2021).


Hierdie roman wil ont-masker, onrustig maak, politieke kommentaar lewer (kenmerkend van mineurletterkunde). Die ingebedde kodes en verwysings na Franse tekste, wil ‘n antwoord wees (dalk?) op die Afrikaanse letterkunde waar alles alte dikwels te helder vorentoe beweeg.

 

Alant is immers ‘n professor in Franse letterkunde, nie waar nie, wat ‘n roman in Afrikaans publiseer? Sy Afrikaans is soepel en vlot.

 

Inderdaad: onsigbare skrywer (verteller); sigbaarste geskrif.

 

So begin hy:

Hy het baie aande wakker geword en dan kon hy nie weer slaap nie. Dan het hy aan idees gelê en dink, briljante idees, maar hy het hulle nie neergeskryf nie. Daar was nooit ’n notaboekie op sy bedkassie nie en sy selfoon was af. Hy het gedink wat die moeite werd is om te skryf, sal mens tog onthou. Geen aantekeninge nodig nie. Of miskien was hy net te lui. Toe ontdek hy, eendag, dat hy niks het om te skryf nie, behalwe dit wat iemand anders gedink het. Die man wat hy was maar nie wou wees nie, en ’n vrou, van wie hy hom net-net kon onthou, maar nie genoeg nie. En ’n hond. Is mos so. Hy het nooit geskryf nie …

Lees hierdie roman. Ek het dit in twee dae met vreugde gelees. Hier gaan jy Oos, nie Wes nie, soos in die bekende popliedjie.

 

Is-mos-so? Is-mos-Oos? Osmose?

 

Bibliografie

 

Deleuze, Gilles & Guattari, Féllix. 1986. (1975 Fr.) Kafka: Toward a Minor Literature. Vertaal deur Dana Polan. Minneapolis: University of Minnesota Press. 

Deleuze, Gilles & Guattari, Féllix. 2003. (1987 Fr.) A Thousand Plateaus. Capitalism and Schizophrenia. Vertaal deur Brian Massumi. Minneapolis: University of Minnesota Press. 

 

Viewing all 819 articles
Browse latest View live