Quantcast
Channel: WOORDE WAT WEEG
Viewing all 819 articles
Browse latest View live

Resensie | Hilda Smits – mag die diep slaap jou dan | Protea, 2021

$
0
0

Hilda Smits – mag die diep slaap jou dan. Protea, 2021. ISBN 978-1-4853-1294-9

Resensent; Joan Hambidge

 

Om jou hart op jou leerbaadjie te dra

 

Smits debuteer in 2016 met die bome reusagtig soos ons was. Vir haar debuut is sy tereg bekroon met die Ingrid Jonker-prys.

 

Die beste manier om haar tweede verruklike bundel te beskryf wat heet mag die diep slaap jou dan is waarskynlik die konsep asindeton. Dit is ‘n tegniese begrip waar verbintenisse tussen reëls doelbewus uitgelaat of herhaal word. Die neweskikkende sin (versreël) ontbreek of bots met die hoofsin (versreël). In Afrikaans het die digter Gilbert Gibson al groot hoogtes met hierdie tegniek bereik. Soms vind ons dit ook by T.T. Cloete waar die eindrym terugkeer na die binnerym. e.e. cummings is die meester hiervan.

 

[i carry your heart with me(i carry it in]

i carry your heart with me(i carry it in

my heart)i am never without it(anywhere

i go you go,my dear;and whatever is done

by only me is your doing,my darling)

                                                      i fear

no fate(for you are my fate,my sweet)i want

no world(for beautiful you are my world,my true)

and it’s you are whatever a moon has always meant

and whatever a sun will always sing is you

 

here is the deepest secret nobody knows

(here is the root of the root and the bud of the bud

and the sky of the sky of a tree called life;which grows

higher than soul can hope or mind can hide)

and this is the wonder that's keeping the stars apart

 

i carry your heart(i carry it in my heart)

 

e.e. cummings

 

Die ritme van die vers word só opgeskerp en verhewig met hierdie tegniek. Ons lees:

 

die mense slaap soos gefrommelde banknote in sagte beddens 

die skoolgange is leeg soos dowwe pyn 

op die rugbyveld loop die eerste lig soos ’n vlak rivier 

van verlate datums lughawens op die lang toegesneeude pad van die telefoonlyn

 

Die digter gee ingebedde kodes waarmee die leser die verskillende tekste kan oopmaak. Byvoorbeeld: die verwysing na Willem de Kooning (1904 – 1997) se ingewikkelde konstellasies (26), die Nederlands-Amerikaanse skilder, maak die teks vir die leser oop. Hierdie skilder is gebore in Rotterdam, maar word later ‘n Amerikaanse burger. De Kooning se werk is abstrak, maar hy behoort tot “action painting” en die New York-skool saam met ikoniese kunstenaars, soos Jackson Pollock en Mark Rothko, om twee figure uit te sonder. Smits se gedigte herinner aan hierdie Abstrakte Ekspressionisme: verse vervreem, assosiasies loop onder jou finale interpretasie uit en die verskillende gedigte vorm uiteindelik een groot legkaart. Die retrospektief in die MoMa (2011 – 2012) wys op die meesterlike beheer en tegniek van De Kooning met die opsetlike verwringing van die herkenbare werklikheid. Die retrospektief het ek meegemaak in NY, ‘n uitsonderlike hoogtepunt in my lewe.

 

De Kooning beweeg, soos Hilda Smits, tussen twee kulture en hierdie gevoel van ontreddering en vervreemding vind die leser terug in haar gedigte. Mense lyk soos cardboard pop-ups en hierom is daar treinstasies en telefoonlyne dikwels aanwesig om kontak met die werklikheid te maak. Die leser beweeg tussen droom (fantasie) met ‘n surrealistiese werklikheid.

 

Die digter self verwys na die “gebroke legkaarte” met die inspeel op gebreek / gebroke.

 

Van Gogh is eweneens ‘n ander sleutel vir die leser in ‘n bundel wat werk met representasie. Die skilderye van Van Gogh is sleutels vir eensaamheid en pyn.

 

Haar ekfrastiese verse (gedigte wat skilderye interpreter) is uitsonderlik soos “Washington Square, winter, André Kertész”, “Georgia O’Keeffe – hande, Alfred Stieglitz”,”Twee vroue omring deur voëls, Joan Miró”, “Goeie plek vir vis(se), Paul Klee” , ”Pienk engele, De Kooning”, om ‘n paar uit te sonder.

 

Veral Paul Klee se visse gee iets weer van die bundel se fantasie... Vreemde landskappe ondersteun die gevoel van diskonneksie:

 

na ’n land waar vreemde tale in monde poel soos geheime water

 

jou hande wat blindelings soos vreemdelinge aan ander behoort.

(52)

 

Ook die gebruik van ‘n kleiner font binne-in ‘n groter font (bekend aan e.e. cummings se digkuns) dwing die leser terug na die gedig se ikonisiteit en die gebruik van die ____ in gedigte  wys op dit wat nie geuiter kan word nie (14). Hierde tegnieke neem die leser uiteraard na Derrida se dekonstruksie en die sogenaamde sous rature (under erasure)-tegniek. Om iets uit te wis, maar dit ook te behou.

 

Die finale betekenis(se) word uitgestel en daar is eweneens implisiete politieke gedigte in hierdie bundel. Die bundel is inderdaad magies met ‘n bewussynstroom en vreemde assosiasies. Bykans asof ons in haar droomlandskap toegelaat word.

 

Die verlies aan die vader (pynlik onthou die spreker die graf) en die verlede in Potchefstroom (kleiner geskryf) bly draal in die gemoed.

 

Daar is verruklike beelde in hierdie bundel soos “die maan is ’n koper tweesent”, “en agter jou die swart bome soos grafte van ink” en “’n eerste gedagte jy was toe al bloekombome // & al die lug daar om soos ’n valskerm”.

 

Die bundel gee nie sy geheime dadelik prys nie. 

 

Dit is poësie wat ontroer en kwel. Lank na die lees van ‘n gedig bly jy nadink oor die implikasies van ‘n vers. Mag die diep slaap jou (dan ) na herinneringe neem van ‘n verbygegane tyd geberg in die digterlike gemoed. Daar waar die swart bome soos grafte van ink … (met peanut butter & stroop en kasterolie).

 

En kyk watter Oosterse stad word in ‘n gedig verskuil! (21)

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

 


Resensie | Nachoem M. Wijnberg – Liedjes/Liedjies | Imprimatur, 2021

$
0
0

Nachoem M. Wijnberg – Liedjes / Liedjies (Uit Nederlands vertaal deur Daniel Hugo). Imprimatur, 2021. ISBN: 978-0-620-95640-6 

Resensent: Joan Hambidge

 

Uit die hoek van jou oog. Aweregs. Onverwags. So kan ‘n mens hierdie pakkende bundel van Nachoem M. Wijnberg beskryf. Liedjies heet dit en gepubliseer deur Imprimatur wat naam maak as ‘n belangrike uitgewershuis.

 

Die digter is bekroon met VSB Prys (2009) en die gesogte P.C. Hooft in 2018. Hy het al opgetree by Poetry International en sy werk is gewild in Nederland.

 

Die digkuns het immers begin by die lied of gesang en die leser besef dat die digter met hierdie aspek werk.

 

Liedjie 

 

Die laaste keer toe ek met jou praat,

was ek skaars aan die woord; 

die laaste keer dat ek gepraat het, 

maak nou maar ’n liedjie daarvan. 

 

Ek het gesê ek kan nie sing nie, 

maar kan jy dan sing, 

het ek daardie laaste keer gevra, 

ek het jou nooit hoor sing nie. 

 

Die gedigte werk met teenoorgesteldes en paradokse:

 

In die lig kry ek nie wat ek in die donker wou hê nie, 

 

in die donker nie wat ek in die lig wou hê nie. 

 

Hierdie bundel wat oënskynlik “oop” en toeganklik geskryf is, bevat egter sterk Jungiaanse argetipes. Donker teenoor lig; onthou teenoor nou – die ewige jin/jang van ons bestaan.

 

So lui ‘n strofe:

 

Asof diepte nie nodig is nie, 

donkergroen struike, 

’n goue voël wat verbyloop, 

die dae en nagte ’n deel van mekaar. (165)

 

Die hele bundel werk met hierdie opposisies om in Jungiaanse terme tot individuasie of heelheid te kom. Leegheid teenoor volheid. Links teenoor regs. Traag teenoor vinnig. 

 

Hierdie bundel maak ons bewus van Jung se uitspraak in On the nature of the psyche:

We must get at the Eastern values from within and not from without, seeking them in ourselves, in the unconscious.  We shall then discover how great is our fear of the unconscious and how formidable are our resistances.  Because of these resistances we doubt… the self-liberating power of the introverted mind.

Simbole word geaktiveer met verwysings na Leviatan, Egipte en Moses. Jacques Brel hier aktiveer ouderdom, verganklikheid en weerloosheid.

 

Die herinnering aan die jeug en wat die digters van sy ouers ontvang het, lewer bewys van hierdie proses. Alles wat hy sien is soos ‘n herinnerde gedig (167).

 

Die digkuns suiwer die digter, maak hom as’t ware van binne af skoon; trouens, dit stroop die digter tot essensie (169). Die gedigte word nie gemaak nie; hulle kom na hom, die digter (157). Gedigte word herskryf en die reëls van die prosodie is bekend aan hom: begin word einde; einde word begin (127).

 

Imprimatur gee vir ons die oorspronklike vers en die vertaling, behendig gedoen deur Daniel Hugo.


Die maklike vers is immers die moeilikste een om te skryf.

 

Bronne:

Cirlot, J.E. 1971.  A Dictionary of Symbols. (Londen: Penguin).

Jung. C.G. 1960 On the nature of the psyche. (Princeton: Princeton University Press). 

Stevens, Anthony. 1998.  Ariadne’s Clue:  A Guide to the Symbols of Humankind.  (Princeton: Princeton University Press).

 

Hier is van die bundels wat die digter al gepubliseer het:

 

De simulatie van de schepping, Holland, Haarlem, 1989
De voorstelling in de nachtclub, Holland, Haarlem, 1990
De expeditie naar Cathay, Holland, Haarlem, 1991
Langzaam en zacht, Holland, Haarlem, 1993
Is het dan goed, De Bezige Bij, Amsterdam, 1994
Geschenken, De Bezige Bij, Amsterdam, 1996
Alvast, De Bezige Bij, Amsterdam, 1998
Vogels, Contact, Amsterdam, 2001
Uit 7 (a selection from Wijnberg’s first seven collections), Contact, Amsterdam, 2003.
Eerst dit dan dat, Contact, Amsterdam, 2004
Liedjes, Contact, Amsterdam, 2006
Uit tien (a selection from ten collections), Contact, Amsterdam, 2008
Het leven van, Contact, Amsterdam, 2008
Divan van Ghalib, Atlas Contact, Amsterdam, 2009
Als ik als eerste aankom, Atlas Contact, Amsterdam, 2011
Nog een grap, Atlas contact, Amsterdam, 2013
Van groot belang, Atlas Contact, Amsterdam, 2015
Uit tien, Atlas Contact, Amsterdam, 2016
Voor jou, van jou, Atlas Contact, Amsterdam, 2017

So klink die digter in Engels:

 

Song

 

The last time I spoke to you, 
I hardly got a word in; 
the last time I spoke, 
make a song of that. 

I said I couldn’t sing, 
can you sing, 
I asked the last time I spoke to you, 
I’ve never heard you sing.
 

(Song (poem) - Nachoem M. Wijnberg - Netherlands, Poetry InternationalVertaal deur David Colmer, 2007. Besoek 4 Desember 2021)

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Resensies | Wilna Adriaanse – Vlug | Tafelberg, 2021

$
0
0

Wilna Adriaanse – Vlug. Tafelberg, 2021. ISBN: 9780624092605

Resensent: Joan Hambidge

 

Die speurverhaal het enorm belangrike vroueskrywers opgelewer soos Agatha Christie, P.D. James, Patricia Cornwall, Ruth Rendell, o.a. Ook hier te lande het vroue al hoe dringender begin stem dik maak in hierdie oorspronklike manlike ruimte. Christie het twee bekende speurders geskep: Hercules Poirot en Miss Marple as ‘n antwoord op Edgar Allan Poe dalk? Wanneer jy Christie stip lees, is dit opvallend hoe sy werk met die identiteit van dubbelspel. ‘n Voorgee wat ontmasker word.


Mense wat dikwels wegvlug van ‘n verlede …

 

Wilna Adriaanse het ‘n roman geskryf met die titel Dubbelspel. Tydens die lees van haar jongste roman Vlug kyk ek na die Deense reeks, The Killing met ‘n vrou as speurder. Sarah Lund (vertolk deur Sofie Gråbøl) ondersoek die dood van die jong vrou. Daar is vele red herrings en die kyker word op verskeie dwaalspore gelei. Hierdie uitsteltegniek maak van die reeks iets uitsonderliks en jy word voortdurend ge-dupe. Musiek word eweneens ingespan in hierdie series van  Søren Sveistrup wat in 2007 begin het, om die spanning te verhoog.

 

In Murder by death word die kyker deur ‘n slim regisseur aan die neus rondgelei. Dit gaan hier om al die vals leidrade en dan ten slotte ironiese kommentaar oor inligting wat nooit van die begin af aangebied is nie. Bekende figure tree hier op soos Colombo en Truman Capote is op sy stukke in hierdie Neil Simon - Robert Moore-produksie (1976).

 

Speurverhale in boekvorm het nie musiek wat help om sub-teks te skep nie. Dus: die skrywer moet ander tegnieke inspan.

 

Adriaanse skep spanning met Milla Roux, ‘n veearts wat werk by ‘n rehabilitasiesentrum vir sjimpansees in die DRK. Sy vlug letterlik van haar verlede waar haar man en kind doodgeskiet is in ‘n mislukte motorkaping. Die twee wêrelde (hede teenoor verlede) en die nuwe geweld wat sy ervaar met ‘n oorlog en opstand van rebelle, maak haar psigies weerloos. Die gewonde Milla vlug met dokter Graham Saunders en drie sjimpansee-wesies.

 

Inderdaad: diereregte, motorkapings, Kongo (DRC), Dokters sonder Grense, verledes waarvan gevlug moet word, skep hier intrige en intense spanning. Ons beweeg vorentoe, maar terselfdertyd, as lesende speurders, ook agtertoe om leidrade op te tel. In hierdie tyd kyk hierdie leser na die Crime & Mystery-kanaal met ‘n program oor ‘n vrou wie se sjimpansee haar beste vriendin takel en bykans doodmaak. Sy doen ‘n ooginfeksie op, word blind en na sjirurgiese konstruksie word sy ‘n aktivis teen die aanneem van sjimpansees. Haar vriendin, die “moeder”, van die dier sterf egter. Dit wys hoe relevant en eietyds Adriaanse se roman is.

 

En een van Adriaanse se spanning-kurwes is dat sy die werklikheid en wetenskap aanwend om die verhaal en plot te dryf. Haar karakterisering is eweneens geloofbaar.

 

Milla is menslik. Sy is geen papiermens nie. Haar emosies is eg en die trauma word oortuigend vertel. Haar teenspeler of antagonis, het eweneens ‘n verlede en ofskoon hy haar “redder” blyk te wees, het hierdie vroulike hoofkarakter agentskap. Sy dikteer byvoorbeeld dat sy meer van hom verlang.

 

Graham Saunders wat behoort aan die organisasie Dokters sonder Grense, is meer as die dokter of dr Marius Hugo in ‘n populêre liefdesverhaal. Adriaanse skep ‘n balans tussen die kodes van die liefdesverhaal en die speurverhaal; sonder dat eersgenoemde steurend inwerk op die leser wat spanning ervaar en hoop hulle sal oorleef.

 

Die roman is besonder helder en konkreet geskryf: ‘n mens beleef die werklikheid en die landskap. Jy kan die impak van sowel die psigiese as fisiese pyn voel. Aftakeling word eerlik weergegee en verflenterde klere werp lig op ‘n psige wat uitmekaar val. Uitstekende besonderhede oor kos en motors en septisemie.

 

Adriaanse se roman beweeg buite die grense van die konvensionele speur- en spanningsverhaal, omdat dit kommentaar lewer op oorlog, diereregte en ons bestaan in Afrika, wat vanuit ‘n vliegtuig na ‘n groen smarag lyk.

 

Die impak van trauma word eweneens goed beskryf, met al die wisselende emosies so bekend aan diegene, wat al die impak van hierdie lyding moes ervaar.

 

Van trauma (en die nagevolge) kan jy helaas nooit weg-vlug nie. Dit bepaal wie jy is. Alice in Wonderland is ‘n ingebedde kode. En ‘n slim toespeling op die sogenaamde AIWS-sindroom (Alice in Wonderland-sindroom), ‘n neurologiese toestand met visuele verwringings, ‘n tyddistorsie en vreemde liggaamservaring, neem die roman na ‘n ander vlak.

 

Met hierdie kennis, weet jy dat Wilna Adriaanse begryp hoe om die letterkundige speurder op nog ‘n roete te neem. Net soos Agatha Christie, die meester, se verhale dit ook by uitstek kon doen. En steeds doen.

 

In “The purloined letter”, waaroor Lacan en Derrida uitgebreid geskryf het, staan die gesteelde brief reg voor jou en hierom kan jy dit nie sien nie. By vroue-speurverhaalskrywers word leidrade meestal weggesteek.

 

Die motto “Diaspora Blues” van Ijeoma Umebinyuo raam hierdie roman goed.

 

 

Diaspora Blues 

Ijeoma Umebinyuo

 

So,

here you are

too foreign for home

too foreign for here.

never enough for both.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Huldeblyk | Joan Didion 1934-2021

$
0
0

I 

Daar is twee aanhalings van Joan Didion wat my altyd sal bybly:

 

We tell ourselves stories in order to live. – The White Album (1979)

 

Grief turns out to be a place none of us know until we reach it. – The Year of Magical Thinking (2005)

 

‘n Skerpsinnige Analis van die Amerikaanse kultuur en ‘n skrywer van sg. New Journalism (soos Tom Wolfe en Truman Capote) waarin sy die impak van die werklikheid in haar tekste navigeer. Sy het sterk gereageer op Manson en Sharon Tate, ‘n ellende van haar beleweniswêreld.

 

Slouching Towards Bethlehem (1968) is my gunstelingteks van haar. Met hierdie boek is ek deur die VSA in 1980: van New York tot Kalifornië.

 

Didion is pas oorlede aan Parkinson se siekte op ouderdom 78 (1934 gebore).

 

Wonderlike skryfstyl, maar sy het ook kritiek ontlok.

 

In 1980 skryf Barbara Grizzuti Harrison in ”Joan Didion: Only Disconnect” sy is ‘n neurasteniese Cher met ‘n styl wat niks anders as ‘n “bag of tricks” is nie.

 

Sy het in onderhoude die invloed van Ernst Hemingway se spaars sinne erken.

 

Tog is daar min skrywers wat so die impak van ‘n ruimte op haar skrywerk kon registreer as Joan Didion: van New York tot die Kaliforniese landskap.

 

Ook ‘n styl-guru wat lief was vir mooi klere.

 

The year of magical thinking is ‘n memoir van smart wat handel oor die dood van haar man, John Gregory Dunne.  

 

 

II

 

Huldeblyke stroom in van skrywers soos Martin Amis oor wie Saul Bellow hoog opgegee het as vriend, tot die New York Times wat erkenning gee aan haar ontsaglike talent as skrywer wat haar loopbaan by Vogue begin het en onderskrifte by mode-foto’s moes skryf. Hier was sy werksaam as proefleser – dalk had dit ‘n invloed op haar styl waar sy altyd die regte woorde ingespan het.

 

Sy het saam met Dunne A star is born (daardie film met Streisand en Kris Kristoffersen) herskryf in 1976.

 

Haar vriendskappe met bekendes is legendaries: Vanessa Redgrave, Roman Polanski en sy was bevriend met Sylvia Plath. Hierdie drie uiteenlopende mense, wat ek vermeld,  verklap iets van haar ingesteldheid.

 

Haar tekste (romans en new jornalism) word dikwels as outobiografies beskryf.

 

Op Netflix kan ons ook die ‘n dokumentêr oor haar beskou The center can not hold (US author Joan Didion dead at 87. Besoek 24 Desember 2021)

 

Die mees ikoniese foto is natuurlik die bekende een waar sy met ‘n sigaret in die hand staan of in haar studeerkamer die ander een: die tikmasjien wat toekyk …

 

Obama het haar vereer vir haar lewenswerk toe sy al oud was.

 

 

III

 

So beskryf Martin Amis haar werk:

 

Joan Didion is the poet of the Great Californian Emptiness. She sings of a land where it is easier to Dial-A-Devotion than to buy a book, where the freeway sniper feels ‘real bad’ about picking off a family of five, where kids in High Kindergarten are given LSD and peyote by their parents, where young hustlers get lethally carried away while rolling elderly film-stars, where six-foot-two drag queens shop for fishnet bikinis, where a 26-year-old woman can consign her five-year-old daughter to the centre divider of Interstate 5: when her fingers were prised loose from the fence 12 hours later, the child pointed out that she had run after the car containing her family for ‘a long time’ (Martin Amis · Joan Didion’s Style · LRB 7 February 1980. Besoek 24 Desember 2021).


En inderdaad in Amis se gevleuelde woorde in dieselfde stuk:

 

Miss Didion’s style relishes emphasis, repetition, re-emphasis. Her style likes looking at the same things from different angles. Her style likes starting and finishing successive sentences with identical phrases …

 

Amis wys tereg uit dat die essays sterker is as die fiksie soos by Gore Vidal. Dieselfde geld Susan Sontag.

 

Dit moet beklemtoon word dat sy in die manlike arena van new Journalism háár stempel afgedruk het. 

 

John Leonard het haar prosa beskryf as “ice pick laser beams”. Vir my is Martin Amis die een wat haar reg opsom as “the poet of the Great Californian Emptiness”.

 

Essayiste, kortverhaalskrywers is, soos Hennie Aucamp ons herinner in Kort voor lank (Tafelberg, 1980), ook digters.

 

Meesterlike skrywer. Skerp oog.

 

© Joan Hambidge

Gedig | Joan Hambidge - Biskop Tutu (1931 – 2021) | 2021

$
0
0

Almal huldig jou tans om vrede,

vir die rol by die WVK as Dexter

in die oopmaak van ‘n wond.


Die insnyding word dehiscensie;

wondnate en suture oopgekrap

in ‘n land van skedelbene sinister.


Hoe jy telkemale versteld was,

selfs in trane uitbars oor dié stank,

dít onthou en registreer die optekenaars.


Dit is in jou verbintenis met die Dalai Lama

waar jou ware aard na vore kom:

die Weste versoen met die Ooste.


“Christus”, meen jy, “dié hoogtepunt

van God se openbaring aan ons” -

dalk nie die enigste weg en waarheid?


“Hoe kan ons namens God besluit?”,

sou jy later opmerk, want daar is ander

openbarings soos die epifanie, onverwags,


van onsigbare verbintenisse tussen ons,

die lewendes en die vertrekkendes

na daardie ruimte sónder letsel of wond.


© Joan Hambidge


Profiel | Roberto Bolaño (1953 – 2003) | 2022

$
0
0


I

 

Roberto Bolaño gebore in 1953 en oorlede in 2003 is veral bekend vir sy prosa. In hierdie dae lees ek weer die verbluffende 2666, 'n teks wat die grense van die romankuns uitdaag. 'n Paragraaf is 'n vloedgolf van één sin. Karakters verdwyn en kom weer later terug in die storie ...

 

Gebore in Chili, gevlug na Mexiko en Spanje was hy iets van 'n misterieuse figuur. Verslaaf aan dwelms en wagtend op 'n leweroorplanting sterf hy.

 

Daar word vertel dat hy die romans geskryf het om sy vrou en kinders aan die lewe te hou. In Spanje was hy 'n bokser, skottelgoedwasser, vullisverwyderaar, sekureiteitsbeampte en as kind glo disleksies. Geboelie op skool en dus ‘n outsider.

 

Sy pa was 'n bokser en trokdrywer; sy ma onderwyseres. Daar was boeke in die huis, maar nie eintlik hoë letterkunde nie.

 

In sy lewe het hy die Chileense letterkundige sisteem as snobisties en afwysend ervaar en veral die hooghartige Isabel Allende, geteiken met argwaan. Volgens Ariel Dorfman het hierdie outsiderskap aan hom 'n enorme vryheid gegee. Iets wat 'n mens dan in sy tekste opvang. Teen die grein en modes van sy tyd, skryf hy asof hy eintlik met homself praat. Hy meng genres en breek konvensies af. In ‘n roekelose, asemsnakkende styl wat absolute bewondering afdwing.

 

2666 verwys (waarskynlik) na die Bybelse Eksodus en die vlug uit Egipte 2 666 jaar nadat God die aarde geskape het. Ander kritici meen weer dis al die bladsye wat hy nagelaat het.

Hierdie roman beslaan vyf afdelings. Die eerste afdeling handel oor die kritici en vier Europese geleerdes, die Fransman, Jean-Claude Pelletier, die Italianer, Piero Morini, die Spanjaard, Manuel Espinoza en Liz Norton, ‘n jong Engelse akademikus op wie die mans verlief is.

 

Hoe elkeen van hulle na haar smag, word uistonderlik kragtig beskryf.

 

Hulle ondersoekveld is die misterieuse Duitse skrywer (met ‘n Italiaanse naam), Benno von Archimboldi. Mevrou Bubis, sy uitgewer vertolk ‘n belangrike rol, nes Rodolfo Alatorre, wat beweer hulle was bevriend. Die soektog na die skrywer lewer aanvanklik niks op nie

Uiteraard omdat identiteite nie “waar” is nie. Mevrou Bubis blyk Barones von Zumpe te wees, net soos wat die identiteit van die skrywer later onthul word. Maar ek wil nie nou ‘n spoiler pleeg nie! Wat ‘n verbeelding.

 

 

II

 

Ek wil egter op sy digkuns die aandag vestig. Dit is altyd 'n wonderlike ervaring om 'n nuwe digter te ontdek en ek is kortweg gaande oor sy poësie.

In 1975 begin hy 'n digkuns-beweging, die sogenaamde Infrarealismo in Mexiko saam met Mario Santiago Papasquiaro, José Vicente Anaya, Rubén Medina en José Rosas Ribeyro.

Hulle motto was: “Blaas die breins uit van die kulturele establishment.”

 

Hierdie beweging was o.a. krities oor die werk van die Mexikaan, Octavia Paz en daar word vertel dat hulle een keer selfs koffie oor hom uitgesmyt het in die openbaar. Paz het vir hom alles verteenwoordig wat hy in die letterkundige establishment verfoei het. 

 

Self portrait at twenty years

 

I set off, I took up the march and never knew

where it might take me. I went full of fear,

my stomach dropped, my head was buzzing:

I think it was the icy wind of the dead.

I don't know. I set off, I thought it was a shame

to leave so soon, but at the same time

I heard that mysterious and convincing call.

You either listen or you don't, and I listened

and almost burst out crying: a terrible sound,

born on the air and in the sea.

A sword and shield. And then,

despite the fear, I set off, I put my cheek

against death's cheek.

And it was impossible to close my eyes and miss seeing

that strange spectacle, slow and strange,

though fixed in such a swift reality:

thousands of guys like me, baby-faced

or bearded, but Latin American, all of us,

brushing cheeks with death.

 

Vertaler: Laura Healy

 

 

Dirty, poorly dressed

 

On the dogs’ path, my soul came upon

my heart. Shattered, but alive,

dirty, poorly dressed, and filled with love.

On the dogs’ path, there where no one wants to go.

A path that only poets travel

when they have nothing left to do.

But I still had so many things to do!

And nevertheless, there I was: sentencing myself to death

by red ants and also

by black ants, traveling through the empty villages:

fear that grew

until it touched the stars.

A Chilean educated in Mexico can withstand everything,

I thought, but it wasn’t true.

At night, my heart cried. The river of being, chanted

some feverish lips I later discovered to be my own,

the river of being, the river of being, the ecstasy

that folds itself into the bank of these abandoned villages.

Mathematicians and theologians, diviners

and bandits emerged

like aquatic realities in the midst of a metallic reality.

Only fever and poetry provoke visions.

Only love and memory.

Not these paths or these plains.

Not these labyrinths.

Until at last my soul came upon my heart.

It was sick, it’s true, but it was alive.

 

‘n Mens vind iets van die Beat-generasie in sy gedigte: die swerwer, die junkie, die bum, die visionêr …

 

Hy is Kerouac versnit met Ginsberg en Borges.

 

Net koors en poësie roep visioene op…

 

Die skrywer is oorlede in 2003 in Katalonië, maar hy het ‘n énorme letterkundige testament nagelaat. The Savage Detectives is eweneens ‘n belangrike teks.



Roberto Bolaño | Getty Images


© Joan Hambidge



 

Rubriek – TV | The Golden Girls | 2022

$
0
0

Rose, Blanche, Sophia & Dorothy

I

Met die dood van Betty White, ‘n uitstaande aktrise, besoek ek weer The Golden Girls waar die bestes op Youtube versamel word. Hierdie reeks het beslis nie dateer nie en die skerp humor laat ‘n mens steeds bulderlag (23 Fan Favorite Golden Girls Scenes (Part 1)Besoek 5 Januarie 2022).


Die voortreflike ensemble-spel tussen Dorothy, Rose, Blanche en Sophia kan nie genoegsaam besing word nie. 

 

Rita Meade het reeds in September 2014 die belangrikste literêre verwysings uitgewys (Literary Moments of "The Golden Girls"/ A Complete List. Besoek 5 Januarie 2022).

 

Een van die sterkste aweregse huldeblyke is natuurlik na Tennessee Williams (waarop Meade ook wys): 



S5E3: “The Accurate Conception”


Picture it: Blanche’s daughter plans to get artificially inseminated and Blanche is not happy about it. 


Blanche: “You are a Devereaux. A Devereaux has never had to pay for it!”

Dorothy (to the doctor): “She’s always depended on the kindness of strangers.”


Dit is natuurlik die aangepaste woorde van Blanche Dubois wanneer sy na die gestig geneem word in A streetcar named desire.



S5E15: “Triple Play” 


Picture it: Rose and Miles get home from a date.


Miles: “We saw a marvelous production of The Glass Menagerie.”

Dorothy: “Oh, that is one of my favorite plays.”

Rose: “Frankly, I was a little disappointed.”

Miles: “Really?”

Rose: “Yeah, when you told me you were taking me to a revival of Tennessee Williams, I was expecting something more along the lines of a seance.”


Williams bekend om sy beskrywing van mense wat tússen waansin en normaliteit beweeg, is tersaaklik hier. Die feit dat daar ‘n grap van sy dramas gemaak word, wys op die belangrikheid van sy werk as dramaturg. Tydens ‘n TV-vasvra-wedstryd is Williams ook aanwesig.

 

In die loodsepisode word ons immers gewaarsku dat Blanche "more Southern than Blanche Dubois” is.

 

Mae West is ook hier: “Is that a pistol in your pocket or are you just glad to see me?”


Die grap word dan verletterlik: die man haal ‘n werklike pistool uit sy broek wat arme Blanche se sang-optrede verder belaglik maak. Burt Reynolds neem Sophia uit en vra, Wie van julle is die slet? Aldrie steek hulle hande op. Hulle is immers jaloers op Sophia se date.

 

Tydens ‘n hilariese beledigingstoneel tussen Blanche en Dorothy, versoek Sophia hulle om op te hou: Stop girls, before you say something you both regret.”

 

Wanneer Dorothy en Blanche mekaar beledig, beweer Blanche dat om mense name te noem uiters kinderagtig is. In “Count Bessie” is daar ‘n hoender wat klavier speel met sy snawel.

 

Daar is net te veel goue oomblikke om op te noem. Waarskynlik een van die bestes, is die kondoom-toneel waar Blanche, Dorothy en Rose op ‘n uitstappie gaan. Alles netjies klandestien totdat die verkoopsman oor die interkom uitblaker en vra wat die kondome se prys is aan die bestuurder. Of Dorothy wat mislei word deur ‘n man wat sy dink belangstel in haar; net om te ontdek sy gaan net sy kinders oppas. Sy staan dan op en blaker oor die interkom in die restaurant sy geheim uit. Hy is impotent.

 

Drie weduwees en ‘n geskeide vrou deel ‘n huis in Miami. Die eienaar is Blanche Devereaux. Dorothy se tagtig-jarige moeder, Sophia Petrillo, trek by hulle in nadat die aftree-oord waarin sy gebly het, afgebrand het. Die reeks is opgeneem voor ‘n lewende gehoor. (Skynbaar was daar spanning tussen Dorothy en Rose, omdat sy met die gehoor geflikflooi het.) Bykans elke denkbare sosiale probleem word aangespreek: Vigs, sosiale stande, prostitusie, lesbianisme en ander kwessies word by die kombuistafel bespreek. Rose se gebrek aan insig word dikwels geïllustreer met haar verhale wat niks met die situasie te make het nie, en Sophia maak dikwels bogstories op.

 

Dit is ‘n briljante reeks gepak met intertekste en toespelings op klassieke tekste.



II

Beatrice Arthur vertolk die rol van Dorothy Zbornak (née Petrillo), ‘n onderwyseres uit Brooklyn. Haar ouers is Sisiliaanse immigrante, Sophia and Salvadore (Sal) Petrillo. Sy raak op skool swanger en trou met Stanley Zbornak (Herb Edelman) wat dikwels kamee-vertonings maak. Stan los haar vir ‘n lugwaardin na 38 jaar se getroude lewe en in ‘n wonderlike episode ontmoet sy die nuwe vrou by die troue, wat nie besef dat Dorothy getroud was met Stan nie. Haar sarkasme, humeurigheid en “one liners” is besonders.


Betty White vertolk die rol van Rose Nylund (née Lindström), ‘n Noorweegse Amerikaner. Sy is uiters naïef en teenoor die bruuske, onaantreklike Dorothy, ‘n antagonis. Sy is van St. Olaf, Minnesota en getroud met Charlies. Sy het vyf kinders: Kirsten, Bridget, Gunilla, Adam and Charlie, Jr. Sy werk onder andere as ‘n trauma-begeleier. Later is sy ‘n assistente vir ‘n bestuurder in “consumer”-kwessies. 


Rue McClanahan as Blance Devereux (née Hollingsworth) werk in ‘n kunsmuseum. Sy is die ryk een in hierdie vriendskap. Sy het groot geword op ‘n landgoed in Atlanta, Geordia. Haar man was George, sy het ses kinders en is ‘n opperse mannejagter.


Estelle Getty vertolk die rol van Sophia Petrillo. Gebore in Sisilië, maar “vlug” na die VSA, omdat sy nie met Guido Spirelli wou trou nie. Sy trou met Sal en haar drie kinders is Dorothy, Gloria en Phil, ‘n “cross-dresser”. Haar humor is vinnig en op die punt af en sy blyk ‘n uitstekende kok te wees.



III

So agter al die grappies en opstuur, kom daar ernstige kwessies aan bod soos immigrant-wees teenoor burgerskap, ongehude moederskap, gereëlde huwelike, egskeidings, vrye seks, familie-spanninge, jaloesie, verraad, depressie, trauma.


Dorothy se broer as “cross-dresser” bring eweneens ‘n ander gender-kwessie na vore, ofskoon sy moeder dit kan hanteer.


Wat hierdie reeks voortreflik illustreer, is hoe wrééd humor kan wees. 


Ons lag is, soos Freud reeds uitgewys het, om ons opponente te kan beheer. Deur hulle te verklein(eer) of verminder. Dis die Freudian-punchline soos Jerry Aline Flieger immers argumenteer.


Die vraag natuurlik is: as hierdie reeks nou vir die eerste keer die lig moes sien, sou die politiek-korrektes en die woke-generasie dit kon duld? Dit het begin in 1985 en in 1992 klaar gemaak.


Maar humor is immers die lag met die traan, aldus wyle Fransie Malherbe.


Wys my waarvoor jy lag en ek sal presies weet wie jy is.

 

Bron:

Freud, Sigmund. 1916/ 1976. Jokes and their relation to the unconscious. The Pelican Freud Library volume 6. (Londen: Penguin). (vertaal deur James Strachey en hersien deur Angela Richards).


© Joan Hambidge

Filmrubriek | The Roman Spring of Mrs Stone (1961)

$
0
0

I 

Tennesee Williams is sinoniem met self-verloëning en -misleiding. Min dramaturge kon die spanning tussen waansin en normaliteit so uitstekend ontgin as hy. Blanche DuBois. Of ‘n ongeleefde lewe so briljant weergee. Amanda Wingfield. Of Brick Pollitt as gerepresseerde gay.

 

The Roman Spring of Mrs Stone is die uitstekende filmweergawe van 1961 wat op sy novelle gebaseer is. José Quintero is die regisseur van die film met Vivien Leigh, Warren Beatty, Jill St. John en Lotte Lenya as die belangrikste akteurs. Lotte Lenya sou net hierna in Bond (From Russia with love, 1963) die booswig speel. Gavin Lambert het die draaiboek geskryf wat die essensie van Williams raakvat.

 

II

 

In ‘n klein dokumentêr (as ‘n addendum tot my DVD) is daar ‘n interessante beskouing oor die film te siene. Hoe Vivien Leigh se huwelik met Lawrence Olivier tot ‘n einde gekom tydens die produksie van die film en hoe Warren Beatty, as ‘n jong onbekende akteur, gereis het na ‘n eiland in Puerto Rico waar Williams vakansie gehou het om hom te oortuig dat hy die rol van Paolo moes vertolk. Met ‘n sogenaamde man tan en ‘n Italiaanse grammatika- en fraseboek onder sy blad, het hy Williams oorrompel. Beatty het die rol bó Alain Delon gekry, omdat Williams ‘n inset kon lewer oor wie die akteur moes wees. Dit blyk ook dat hy ten spyte van sy aantreklikheid gesukkel het om kop bo water te hou en selfs dramaskool as ‘n jongeling moes verlaat om werk te vind in New York. Maar hierdie film het hom gevestig as ‘n ernstige akteur, omdat hy bereid was om téén die stereotipiese opvatting van die beefcake in te speel.

 

Sy loopbaan het hiermee ‘n hupstoot gekry, terwyl Leigh se loopbaan  – ten spyte van enorme sukses met A streetcar named desire en Gone with the wind – besig was om met rasse skrede agteruit te gaan.

 

Is dit kuns wat lewe naboots of andersom?, vra een van die kommentators.

 

III

 

Hierdie film som waarskynlik Williams se aard op as onvervulde mens, uitgelewer aan andere en fata. Met ‘n ingewikkelde verhouding met sy familie en die eise om telkens ‘n belangrike dramateks te lewer, het sy lewe toenemend ingewikkelder geraak met allerlei verslawings.

 

The Roman Spring of Mrs Stone vertel die verhaal van ‘n aktrise wat tydens haar vertolking van Rosalind in As you like it besef dat die vertoning ‘n mislukking was. Sy besluit – met die hulp van haar welgestelde eggenoot – om die produksie te kanselleer. Die kyker is bewus van die New Yorkse vriende wat haar beskinder en verminder. Ons is bewus van sy gesondheidsprobleme wat gebruik word om die produksie te eindig.

 

Sy vertrek op vakansie met haar eggenoot, Tom Stone, na Rome en hy sterf op die vliegtuig aan ‘n hartaanval. Hy is veel ouer as sy.

 

In Rome word Karen Stone, die ryk weduwee, die slagoffer van skindertonge en die Contessa Magda Terribili-Gonzales (uitstekend vertolk deur Lotte Lenya), wat haar manipuleer en indwing in ‘n verhouding met ‘n marchetto, ene Paolo di Leo (Beatty). Die Contessa leen ook geld van Karen Stone wat haar daarop attent maak dat Amerikaners nie so naïef is as wat hulle in films voorgestel word nie.

 

Karen raak egter verlief op Paolo, terwyl hy haar manipuleer vir geld. Haar vriendin, Meg lewer besoek af en waarsku haar oor die skindertonge en die paparazzi se uitlatings.

 

Meg, ‘n politieke joernalis probeer haar oorreed om terug te keer New York toe, maar Karen volg haar hart.

 

Want dit was Paolo wat haar waarsku dat ryk vrouens kan sterf aan die hand van ‘n besoeker. Rome, waarsku hy, is ouer as jy; meer as 300 jaar. Jy is net 50 jaar …

Sy is egter vreesloos wanneer hy haar bang praat. Sy antwoord:

"All I need is three or four years. After that, a cut throat would be a convenience".

 

Is Karen die dramaturg van haar eie lot? Sy lieg immers vir vriende uit die VSA wat op besoek is in Rome dat sy aan ‘n ongeneeslike siekte ly.

 

Meg is die een wat haar probeer beskerm. Meg is reeds weg is wanneer Karen en Paolo se verhouding breek.  Karen haal sy foto uit die raam en ons sien na die vertrek van die gaste wat na die film-footage moes kom kyk of Paolo in ‘n filmrol sou kon speel, net ‘n leë raam.

 

Tydens hierdie besoek aan haar weelderige palazzo is Paolo roekeloos-afsydig en hy flirteer openlik met Barbara Bingham om ‘n rol te kry. Sy oppervlakkigheid word weergegee in sy gesprekke oor ander tydens besoeke aan die barbier. Hy lê ook in sonbaai op haar palazzo se dak.

 

Hy is ‘n opperse emosieswendelaar wat duur klere van Karen ontvang en haar belieg oor ‘n vriend se geldnood. Ofskoon sy weet hy lieg, laat sy hom begaan. 

 

Die geliefde vertrek. Daar is niks meer oor nie. 

 

In die film kyk Karen voortdurend in spieëls. Oomblikke van self-konfrontasie? Of die ouer aktrise wat narsisties na haarself kyk en besef sy het oud geword?

 

Alles beweeg, die sterre, die swaels, waarsku die gigolo. 

 

Ons is bewus van ‘n jong man wat onder haar palazzo bly en haar dophou. Uiteindelik gooi sy ‘n sleutel af na hom. Hy kom na haar kamer en in die slot vermoor hy haar waarskynlik.

 

Jill St. John in die ektra-kommentaar, meen dis ‘n nuwe begin vir Karen Stone. Die kenner van Tennessee Williams weet dis nie so nie. Dis immers ook tersaaklik dat Vivien Leigh Jill St. John tydens die produksie van hierdie film op die filmstel geïgnoreer het. ‘n Deurwinterde Williams-vertolker weet immers hoe sub-teks werk. Jill St. John was immers ‘n Bond-meisie in Diamonds are forever (1971).

 

In ‘n wonderlike oomblik in The Roman Spring of Mrs Stone laat Vivien Leigh (as Karen Stone) vir Jill St. John weet sy het nog geen van haar films gesien nie.

 

En jy as kyker weet dis ‘n klap na die harde, harde werklikheid. Alles in hierdie film gaan oor betreding en om die vyand in jou private ruimte toe te laat. Sleeping with the enemy. Tydens een van die besoeke van  Contessa Magda Terribili-Gonzales maak sy beledigende opmerkings voor ander gaste oor Karen Stone, wat dit hoor, maar ignoreer. (Lotte Lenya het tereg ‘n Oscar ontvang as beste byspeler vir haar rol.)

 

En dis eweneens relevant dat Rosalind ter sprake kom in hierdie film. Rosalind is immers bekend vir haar skerp tong, skoonheid en vermoë om te oorleef.

Ironies bepaald. Want Karen Stone oorleef nié.

 

 

IV

 

Die belangrikste vertolkings:

 

Vivien Leigh as Karen Stone

Warren Beatty as Paolo di Leo

Lotte Lenya as Contessa Magda Terribili-Gonzales

Coral Browne as Meg

Jill St. John as Barbara Bingham

Jeremy Spenser as Young Man

 

Vir ‘n analise van die novelle: Theoharis Theoharis Constantine - The kindness of strangers : savage rescue in Tennessee Williams' The roman spring of mrs. Stone. Besoek 9 Januarie 2022.

 

© Joan Hambidge


Resensie | Cas Wepener – Ritmes en rites. Naledi | 2022

$
0
0

Cas Wepener – Ritmes en rites. Naledi, 2022. ISBN: 9781928530763

Resensent: Joan Hambidge

In die Skool vir Tale aan die UK se teekamer staan Van Gennep se groen ensiklopedieë oor liminaliteite. In 1909 verskyn die Rites de passage oor oorgange waarop verskeie psigoanaliste en kenners al gereageer het. Dit is ‘n studie waardeur ek telkens blaai.

Cas Wepener se Ritmes en rites lewer implisiet en eksplisiet kommentaar op Van Gennep. Hierdie teoloog en skrywer lewer hier verslag met ‘n oes van stukke wat in Vrye Weekblad, Beeld en By verskyn het. Toeganklik, met ‘n besonder skerpsinnige oog vir dit wat ons tans beleef in hierdie tyd van inperking. Ofskoon die grendeltyd verby is, word die emosionele letsels nog lank nie deurgrond nie. Op ekonomiese, mediese, emosionele en psigiese vlakke beleef ons die impak van die pandemie, ‘n virale oorlog.

Wepener sien rites, rituele en sakramente as belangrike dade tot heling. Van ‘n sigaretstompie versend aan die Suid-Amerikaanse Katolieke teoloog, Leonardo Boff in Duitsland uit Suid-Amerika tot die wete dat die reis in die pandemie ‘n inwaartse een geword het. ‘n Statiese pelgrimstog, soos hy dit klinkend opsom. Boff se siening van hoe ‘n gewone ding ‘n sakrament kan word. ‘n Brief met ‘n sigaretstompie van sy vader, pas oorlede, verlos hom uit die eensame hede in Duitsland waar hy student is; met die wete dat hy dit wat was, nooit verlore gaan nie.

Hy skryf oor liminale ruimtes, oor beweging van inperking na ‘n nuwe staat. Hy beskryf die ruimte van die “backstage” waar die werklike drama op die (lewensverhoog) weerspreek word. Oor stilte via Simon & Garfunkel en natuurlik die film in Into great silence (Philip Gröning, 2005) wys hy op die bestaan van die swygmonnike. Sy kennis van en bewondering vir Karel Schoeman se romans is opvallend. Hy het immers ‘n studie oor sy werk geskryf: Die reis gaan inwaarts (2017).

Daar is humor wanneer hy ou Kerkbodes lees en doods- en in memoriam-berigte bestudeer. Geweldige insig rondom die slag van ‘n skaap op Clifton-strand via Girard. Drempels en liminaliteite analiseer deur die lens van Victor Turner, ‘n navolger van Van Gennep. Later kom hierdie meester aan die woord, o.a op bladsy 219.

Hy wys op die klaagkultuur en die wysheid dat lof kan voortkom uit ‘n klag. Die Ugandees Katongole se Born from lament is hier ‘n rigtingwyser. Hy lewer kommentaar op Patric Tariq Mellet se The lie of 1652 uit ‘n ander hoek in “Met ‘n Jeep na 1652”. Hy besoek townships en haal aan uit vele digters, skrywers en sangers om sy hand te versterk. Van A.G. Visser tot Churchill Naudé.

Tereg merk Jo van Eeden op in die voorwoord: “Hy kry dit reg om die spieël vas te hou sodat jy vir ’n slag goed daarin kan kyk – selfs al is daardie beeld soms tot verwrongendheid gekraak. Hy gooi die venster wyd oop sodat jy in diep asemteue ook na buite kan kyk – selfs al woed die ergste storm denkbaar net daar op jou voorstoep. En soms plaas hy ’n onderwerp onder ’n vergrootglas – selfs al skroei die son later witwarm presies daar waar die ligstrale en senupunte ontmoet.”

Cas Wepener skryf insigryk oor die temenos (magiese sirkel), soos Jung dit beskryf het. Soos Wilhelm Jordaan en rvr (in Die Burger) maak hulle lesers bewus van die transformasie binne die teologiese en spirituele wêreld.

‘n Hoogtepunt is “Karelsfontein. ‘n Skilder se ode aan Karel Schoeman” (199) waarin Wepener se bewondering vir Schoeman goed saamval met skilder Philip Badenhorst se “innerlike landskappe”. Die fontein van die skilder vloei hier inderdaad saam met die fontein van die grootse skrywer. So ook “Foto’s van die ewige slaap” waarin hy vir ons die gebruik verduidelik aan die einde van die negentiende en vroeg-twintigste eeu om mense in hulle ewige slaap te fotografeer. Hy analiseer “die tekstuur van stilte”, die leesaksie as ritueel op ‘n toeganklike manier. “Om tyd te mors” het my aangespreek.

‘n Kreatiewe speurtog in Kerstyd” (saam met Tanya van Wyk as mede-skrywer) verduidelik die betekenis van relikwieë in verskeie godsdienste. Hy skryf oor die pandemie, oor verhoudings, oor identiteit, oor geregtigheid en versoening, oor moed en hoop, oor die slagvelde in ons samelewing, oor die ritme van tyd en die veelkantige Karel Schoeman.

Net terloops: ons praat nie meer van Ikeys nie, maar van UCT, ‘n multi-kulturele ruimte. Soms is die predikant te sterk aan woord, maar wanneer die skrywer-filosoof praat, spreek dit my aan soos in “’n Erfenis-gelykenis” (60). Geselserige uitdrukkings (biesies bewe, 70) verminder die teks volgens hierdie leser. Of om liturgie as ‘n blikskottel te beskryf (70) deug in koerantrubriek, maar nie in boekvorm nie. Of hoop is ‘n bogger (75).

Dit is ‘n boek wat jy langs jou bed hou vir weer-lees. 

Die voorblad met die kunswerk van Philip Willem Badenhorst is beeldskoon.

Rubriek | Feite en fiksies | 2022

$
0
0

I

Op soek na Generaal Mannetjies Mentz is inderdaad, soos die gesiene historikus, Fransjohan Pretorius uitwys (Die Burger, 26 Januarie 2022) ‘n aangrypende roman. Sommige optredes is waar; ander opgemaak. Daar was nooit iemand soos Mannetjies Mentz nie. Deneys Reitz, die vrybuiterkorpse, “verflenterde groepies” is die basis van die verhaal waar die romanskrywer dan sy verbeelding inspan om ‘n ander blik op die oorlog te gee. Waarskynlik wou Coetzee die oorlog demitologiseer of die leser dwing om aannames te herbesoek? 

 

Pretorius se historiese artikels is uiters tersaaklik. Hierdie roman dwing ‘n mens terug na belangrike tekste oor die ABO. Inderdaad, ‘n alternatiewe historiese roman.


Christoffel Coetzee doen presies dieselfde as DM Thomas in sy beroemde roman The white hotel (1981).

 

In hierdie pakkende roman word Freud se lewe gefiksionaliseer. Thomas versoek die leser volumes 3, 8 en 9 van die Pelican Freud Biblioteek te lees, wat hy ook as meesterlike letterkundige tekste sien.

 

Ene Frau Anna G, ‘n operasangeres, wat leuens vertel aan Freud in terapie, blyk eintlik Elisabeth (Lisa) Erdman te wees. Don Giovanni, die oorlog (die roman begin in 1919 en eindig in 1941) en die Duitse besetting van Kiev, strafkampe, Babi Yar en die ontsettende ellende, word in hierdie roman beskou. Tussen ‘n 100 000 tot 150 000 mense is vermoor onder die bevel van Generaalmajoor Kurt Eberhard.

 

Verdraaiings van feite, ‘n spel met die geskiedenis (wat aanspraak maak op jou kennis van historiese tekste), is opvallend in hierdie twee bekroonde tekste. Beide smokkel met jou kop. Beide beklemtoon die wreedheid van oorlog. Groot skrywers gebruik die werklikheid en maak daarvan iets meer.

 

Coetzee het die Sanlam/De Kat-prys gewen in 1998, plus die M-Net- en Eugène Maraispryse in 1999. Thomas het die Cheltenham-prys verower.

 

In 1999 is Coetzee oorlede. Hoe jammer, want hierdie man kon skryf.

 

Net soos Thomas, ‘n gesiene romanskrywer en vertaler van Russiese digkuns.

 

II

 

Filmmakers speel ook met die konvensies tussen werklike gebeure en fiksionaliteit. Quentin Tarantino doen dit in sy film Once Upon a Time in Hollywood (2019) waar die kyker weet hoe die filmmaker Roman Polanski se vrou Sharon Tate vermoor is. Maar dit gebeur anders in die film.

 

Die feit dat die musiek van die Mamas & the Papas gebruik word in die film, is tersake. Mama Cass Elliott en Michelle Phillips was lede van hierdie groep en hulle lied “Straight Shooter” is gevind op die klavier by die moordtoneel in Polanski se huis. Polanski het ‘n affair gehad met Phillips, terwyl hy getroud was met Sharon Tate.

 

So die kyker beweeg tussen die film as ‘n manjifieke fabel en die werklike geskiedenis: hoe Sharon Tate vermoor is, omdat Manson wou wraak neem. Manson het homself as ‘n rockstar gesien en Terry Melcher, die vorige inwoner van hierdie huis is deur Manson geteiken.

 

In Polanski se films is daar eweneens ‘n spel met historisiteit. Sy film The Pianist (2002), ‘n holokaust-memoir, is ten dele gebaseer op sy eie lewe van die oorlog en die impak daarvan. In ‘n dokumentêre onderhoud vertel hy alles van sy pynlike jeug.

Il postino van Michael Radford in 1994 laat Pablo Neruda, die Chileens digter, besoek aflê waar hy nooit was nie. Die beroemde digter is verban na ‘n eiland en die posman gebruik Neruda se gedigte om ‘n meisie se hart te wen. Die impak van die digkuns en die bewondering vir die digter se uitsprake oor die politiek, lei tot die dood van die eenvoudige posman. Met Mario wat opnames van die see maak vir die groot digter …

 

Dit speel af in 1950. Neruda was nooit daar nie. In hierdie tyd was hy in Isla Negra.

 

Die vraag is: het die arme posman alles te letterlik vertolk? Is dit hoekom hy sterf?

 

Ook hier ‘n fyn balans tussen werklikheid en fiksionalisering.

 

III

 

Hoe meer die leser of kyker weet, hoe meer wen die teks aan kompleksiteite. Borges, die groot Argentynse skrywer, het byvoorbeeld ‘n verhaal geskryf waarin ‘n beroemde teks herskryf word. "Pierre Menard, Author of the Quixote"  ("Pierre Menard, autor del Quijote", 1962). Aan wie behoort wat? Wat is werklik en wat het die beroemde kritikus, ene Menard geapproprieer?

 

Hierdie soort tekste wat op ander tekste teer, eis geweldige vaardighede en opleiding in ironie en fantasie. En ‘n kennis van intertekste.

 

Jy kan tekste nie net sommer goedskiks op die woord neem nie. ‘n Roman of film is nooit gelyk aan die werklikheid nie. Dit is die waarheid gelieg, soos TT Cloete opgemerk het.

 

The author as stage-manager soos Peter Conradi dit noem in sy studie oor John Fowles.

 

 

Bronne:

 

Pretorius se rubriek: Mannetjies Mentz – ’n alternatiewe waarheid. Besoek 30 Januarie 2022

 

Onderhoud met Manson: Why Did the Manson Family Kill Sharon Tate? Here’s the Story Charles Manson Told the Last Man Who Interviewed Him. Besoek 30 Januarie 2022  

 

Peter Conradi. 1982. John Fowles. (Londen: Methuen).

 

Filmrubriek | The power of the dog | 2021

$
0
0

The Power of the Dog, ‘n Jane Campion-film, word bemark as ‘n Western-psigologiese drama. En dis presies wat hierdie pakkende film behels. 

Die film oes lof in oorsee en na haar ongelooflike rolprent The Piano (1993) sit sy nie ‘n voet verkeerd nie. Gebrek aan kommunikasie, stilte – met hierdie teks, vertolk deur Harvey Keitel (as George Baines) en Holly Hunter (as Ada McGrath), het Campion ‘n standaard geskep vir talle filmmakers na haar. 

 

The Power of the Dog ontgin ook onvervuldheid en stiltes. Die hele kwessie van homoseksualiteit in ‘n gerepresseerde samelewing kom hier aan bod. In hierdie opsig behandel dit dieselfde kwessies as wat Hennie Aucamp in “Vir vier stemme” (Volmink, 1981) ontgin via die boeregrap. Roger Austen in sy studie Playing the Game wys daarop dat die gay-persoon in konvensionele tekste geoffer word en doodgemaak word deur die omstandighede wat nie gay-identiteit aanvaar nie. 

 

Die titel verwys na Psalm 22:20, NIV: “Deliver me from the sword, my precious life from the power of the dogs.”

 

Peter, die jong seun van Rose, word deur Phil gespot, omdat hy verwyfd is en lispel. Dit is ook Peter wat die beeld van die hond in die berg raaksien en hiermee sy eie krag ontgin. Hy neem later wraak op Phil wat hom afgeknou het en verneder het voor ander.

Phil se broer, George, trou met Rose, tot die saggryn van Phil. Dis egter die seun Peter wat later onthul dat sy vader selfmoord gepleeg het. Phil boelie die jong Peter, wat egter nie heeltemal onskuldig is nie. Hy loer Phil af wanneer hy kaal swem en ontdek ook sy weggesteekte porno. Ons sien hoe hy ‘n hasie in sy kamer dissekteer; tot sy moeder se ontsteltenis. Sy wend haar na alkohol.

 

Phil is hatig en verminderend oor haar, en woedend wanneer sy die beesvelle aan Indiane verkoop. 

Phil is intelligent & in die klassieke tale opgelei aan Yale, maar is vuil en slordig. Hy weier ook om te bad wanneer daar besoekers oorgenooi is vir ete. George nooi sy ouers en die goewerneur en sy vrou om Rose te ontmoet.

 

So intimiderend is Phil dat Rose nie kan klavierspeel nie. Haar tong is uitgesny, soos Holly Hunter s’n. Die klavier is hier ‘n simbool van kultuur, wat afgewissel word met Phil se naakswemtonele en sy masturbasie met ‘n sakdoek van Bronco, sy oorlede vriend en mentor, wie se saal ‘n totemplek inneem in die stal.

 

Hy laat Peter ook daarop sit; ‘n prospeksie van dit wat kom. Die moeder is bewus van die verleiding van haar seun. Sy probeer selfs keer dat hy weggaan met Phil.

 

Phil maak ‘n lasso vir Peter, ‘n soort toenadering en seksuele simbool, uit repe vel van die dooie koei waarop Peter afgekom het tydens ‘n solo verkenningstog. Die koei is waarskynlik dood as gevolg van ‘n antraks-infeksie. Peter het handskoene aangetrek voor hy ‘n stuk van die koei se vel afgesny het. (Hierdie toneel moet in jukstaposisie geplaas word met die handskoene wat die moeder in ruil ontvang van die Indiaan se kind as geskenk en betaling en waarmee sy selfs slaap.)

Wanneer Peter en Phil ‘n hasie doodmaak, beseer Phil homself macho sonder handskoene. Hierdie oop wond op sy hand veroorsaak dat hy infeksie kry wanneer hy – omdat Rose die sy velle aan die rondreisende Indiane weggegee het – van die besmette vel gebruik om vir Peter die lasso te vleg. Hy bely ook sy gevoelens oor Bronco vir Peter. Peter op sy beurt, bely dat hy sy vader – wat homself gehang het – moes lossny.

 

Phil word egter siek weens die besmette vel en hy sterf. Voor sy dood probeer hy die lasso vir Peter gee, maar in sy deliriese, koorsige toestand kan hy hom nie opspoor nie.

 

Dit is beduidend dat die jong Peter nie na die begrafnis gaan nie en dan die Bybelteks lees wat die titel aktiveer: “Deliver me from the sword, my precious life from the power of the dogs.”

 

‘n Vorm van boetedoening?

 

Hy plaas die lasso (steeds met handskoene aan) onder sy bed waar dit uit die oog is – soos Phil se seksualiteit? Hy kyk deur die venster en sien sy moeder en stiefvader: glimlaggend en gelukkig. Sober & “gesond”.

 

Die “bose” homoseksualiteit is besweer. Die onderliggende boodskap van die film is ontstellend; homoseks word bestraf.

In die hande van ‘n mindere regisseur sou dit nie oortuig nie, maar Jane Campion vang die tydsgees (onthou dis Montana, 1925) goed vas. Nes Aucamp se “Vir vier stemme” eweneens die tragiek van ‘n gemeenskap se vooroordele ontgin en wat lei tot die selfdood van Freddy. 

 

By Aucamp word dieselfde verhaal vanuit vier perspektiewe vertel: 'n Grap is 'n grap; Aan alles moet 'n einde kom; En hadde de liefde I; En hadde de liefde II; by Campion is daar afdelings wat wys op ‘n gedistansieerde, amper romanagtige vertelling wat in hoofstukke afspeel.

 

Beide tekste gebruik die Bybel met skuld en boetedoening. Beide tekste is briljant. Campion het die draaiboek geskryf wat gebaseer is op Thomas Savage se gelyknamige roman wat in 1967 verskyn het.

 

Teenoor die klavierspel is daar die klank van ‘n banjo. Phil wat steeds musiek kan maak; Rose wat nie meer kan speel nie.

 

Die landskap is hier sterk aanwesig as ‘n krag. 

 

Bronne:

 

Austen, Roger. 1977. Playing the game. The homosexual novel in America. New York: The Bobbs Merrill Company, Inc.

 

Tersaaklike rolverdeling:

 

Benedict Cumberbatch as Phil Burbank

Kirsten Dunst as Rose Gordon

Jesse Plemons as George Burbank

Kodi Smit-McPhee as Peter Gordon

 


 © Joan Hambidge 


Resensie | Ruan Kemp – Wit leuen | Tafelberg, 2022

$
0
0

Ruan Kemp – Wit leuen. Tafelberg, 2022. ISBN: 9780624092322

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Ruan Kemp se tweede roman heet Wit leuen. Bemark soos volg:

Richter het 'n verlede, maar dis die hede wat hy ontglip. In die krake van dinge beweeg hy, systap hy die gesagte en die laspostenare, al die bakhand tentakels van die unitêre staat, Uiopa. Toe hy mis trap, moet hy vlug. Saam met Margaret reis hy deur 'n nagmerrielandskap 'n bisarre avontuur in

Die roman is, soos die modewoord lui, ‘n distópiese roman waarin ‘n mens nooit seker is wat die karakters werklik beleef en wat fantasie, droom, hallusinasie of skryfwerk is nie. Dit is onder andere uiters belangrik dat hierdie roman op dieselfde tyd verskyn as die pakkende roman van Jaco Alant  wat heet Is mos oos (Protea). Beide romans gee ‘n blik op ‘n versplinterde werklikheid. By Alant word daar na moderne filosowe soos Deleuze & Guattari verwys.
 

Kemp se Wit leuen ondersoek op ‘n onthutsende manier die hele kwessie van die leuen in ‘n samelewing wat by Kripke en Tarski die leuen-paradoks heet. Kort en klaar besluit die verteller op bladsy 26: “Die leuen versteek nie die waarheid nie – dit is die waarheid wat die feit verskuil dat daar nie een is nie. Die leuen is waar.” 

 

Verder terug in die Afrikaanse letterkunde is daar die skitter-werk van R.R. Ryger en onder andere Beertjies en sy boytjies(1991). Pretoria-Wes. Geweld. Opstand teen die (skool)sisteem. Humor wat wrang en uitsigloos raak. Dit handel oor Beertjie Booyse wat sy drie seuns grootmaak na sy vrou se dood. Andreas het uit die weermag gedros, Ketter wil biltong steel en Sugar, die bokser, is verlief op die skool se slet. Dit speel af in die noodtoestand van 1986. Die roman is destyds bemark as “rioolkultuur”.

 

Ryger se roman het ek destyds vir ‘n kollega oor die foon voorgelees: lam van die lag – tot die einde jou tref …

 

Kemp se roman werk met klassieke tekste. Van Rilke tot Camus. Van die Bybel tot visvang. Ons lees in ‘n hoofstuk “Tob sewe vanaf vers nege” en daar is bloed aan die kosyne, omdat dit eers ‘n slaghuis was. Simson wat gestoot of getrek het. Die verhaal van die Verlore Seun is ook ingebed.

 

En ‘n toespeling: What a friend we have in leashes.

 

Albert Camus is hier soos Robert Pirsig se Zen and the Art of Motorcycle Maintenance (1974) is ‘n belangrike skaduteks. “Zen and the art of caring for your Cortina”, lees ons op bladsy 55.

 

Douglas Adams se The Hitchhiker’s Guide to the Galaxy (1979) wat die moderne samelewing satiriseer, sal jy uitdiep soos die duiker in die roman. Nes Tarantino se 2003 film: Kill Bill. 

 

Gholf word gesien as ‘n vorm van meditasie en terapie. Suip en rook is ontspanning.

 

‘n Karakter meen: “Wat ek van heteroskedasitieit en kurtosis weet, kan jy by ’n hond leer blaf . . . Wat? Foucault jou Marcuse in jou Soros in op!” (168) ‘n Satiriese antwoord op heteronormatiwiteit en al die gonswoorde van ons tyd word op die kop gedraai.

 

Hierdie roman is nie vir weekhartiges nie. Die abjekte en geweld is hier. ‘n Wonder oor ‘n vrou se private dele na aanleiding van ‘n vishoek in haar lip, word banaal beskryf. Plat woorde soos Gezarra, boekkakdronk raak, vind ons hier: “’n Huis sonder ’n stoep is soos ’n pis sonder ’n poep” (36).

 

‘n Versameling van oorwas. Opera word toeparra. Eisj.

 

Distopia impliseer altyd dat ‘n mens die utopia of paradys verlaat het.

 

“Jy kan ’n boom aan sy vrugte ken, Irene. As jy tussen die lyne lees, merk jy die lyne is op. Niks meer oor om die leuens te keer nie.” (274)

 

Ons is hier in Uiopa, die nuwe unitêre staat, met Tempelbult as hoofstad.

 

Daar is tonele in hierdie roman wat hierdie leser nooit sal vergeet nie. Paddaman Neal wat ‘n handpik bewaar in sy vertoonkas. Daardie handpik wat nog vas is aan ‘n man se hand, wat gesterf het.

 

“Hy het amper die man ook uitgeduik, toe sien hy die man moes die pik se steel deur ’n gat in ’n rots gedruk het, en toe die pik se lus om sy pols styfgetrek het. Nagmerries gehad dat hy die man sou kon red, want hy was nog vars, niks seelewe op hom nie, al het sy bene soos seebamboes in die stroom gewaai. Homself getroos hy het die man sy wens gegun …” (71)

 

As daar agter distopia utopia skuil, geld dieselfde vir satire en parodie. Hier kan ‘n mens melancholie raaklees. Die suffering joker, soos Malcolm Bradbury hierdie soort karakter tipeer. Babyface se joernaal is iets anders. Die name van die karakters en plekke wys alreeds uit dat jy moet versigtig trap: Burokonome, Panty Fly,  Professor Paskwil, Oom-erik (die stommerik), Anomie …

 

Dis kognitiewe dissonansie soos ‘n karakter iewers opmerk. Vierkantige albasters en ‘n karakter in rolstoel.  Of ‘n Viking-snor.


Comnnonsense, ondermyn die teks se aanbod. Eat your heart out, Jacques Derrida.

Hierdie roman behoort al die skeptici wat indertyd gemeen het sy debuut, Gedeeltelik bewolk (2019), was nie sy eie werk nie, se monde finaal snoer. Hy bou voort op sy eiesoortige styl. 

 


Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die UK waar sy ‘n Fellow is.

 

Huldeblyk | Danie van Niekerk 1929 - 2022

$
0
0


‘n Uitgewer van formaat. As jong digter leer ek hom ken ná ‘n Skandinawiese reis. Dis laatmiddag en Tafelberg uitgewers was nog op die hoek van Waal- en Burgstraat. 

Jürgen Fomm, daardie uitsonderlike uitlegkunstenaar, en Meneer Van Niekerk sit om die ronde tafel. Hy bied vir my ‘n whisky aan. Hy hang my baadjie om my stoel wat hy galant uittrek.

 

Dis die laat-tagtigerjare. Ek is op besoek aan die Kaap en hier, in 1987, begin ‘n lang vriendskap. Ons liefde vir reis en lees vorm deel van ons gesprekke. Hy nooi my die volgende dag Rozenhof toe.

 

En toe ek in 1992 aftrek Kaap toe, besoek ek hom dikwels aan huis in Oranjezicht waar ons gesellige tye beleef saam met sy meelewende vrou, Anneke. Ons deel kennis oor rooi wyne. 

Boeke en skilderye. ‘n Huis met ‘n uitsig oor Kaapstad en ‘n pragtige tuin.

 

Ek stel die adellikes voor aan Nelson’s eye se visgeregte; uitstaande soos die vleisgeregte. Vele gesprekke had ons oor letterkundige krisisse en modes. Hy het Sheila Cussons uitgegee en haar eenmalige posisie verstaan; net soos wat hy Marita van der Vyver se Griet skryf ‘n sprokie se uitgewer was. Daar was ander grotes wat hy geken het: Elsa Joubert en haar man, Klaas Steytler, o.a.

 

En ook kuiers by Sue Robinson, wat enkele huise van hul gewoon het.

 

Danie van Niekerk kon altyd ‘n besondere perspektief gee. 

 

“Ek wou jou uitgee, omdat jy verre landskappe en reise beskryf het.”

 

Op ‘n dag vertel hy my dat hy graag ‘n jongeling aangestel het wat Latyn ken. En dit was Danie: ‘n taalkenner. Behalwe vir Latyn, het hy Grieks, Frans en Spaans geken. ‘n Vraagteken in die kantlyn kon jou weer op die regte spoor kry. Manuskripte het hy saam met sy uitsonderlike deelgenote gelees. Van hulle het later my van raad bedien: Frederik de Jager, Petra Müller en Charles Fryer …

 

Anneke en Danie van Niekerk


Toe hulle die pragtige huis in Oranjezicht verlaat en trek na die aftree-oord Oasis, skenk hy sy uitgebreide plateversameling aan my. Oor musiek was hy eweneens ingelig. Daniel Barenboim, Maria Callas, Beethoven.

 

‘n Ware heer. ‘n Einde van ‘n era ...

 

Met inperking en Covid kon ons die afgelope tyd net telefonies kommunikeer. My laaste geskenk aan die Van Niekerks was ‘n plant wat Anneke in haar tuin geplant het en wat steeds groei.

 

Maria Callas (1923–1977)

 

A woman sings with her ovaries – you’re only as good as your hormones.

–  Carol Neblett

 

Vir Danie van Niekerk

 

La Divina,

temperamentis,

tessitura uniek;

die bybel van opera,

doop Leonard Bernstein

haar speels,

 

verewig 

op ’n Griekse munt

haar asse gestrooi

in die Egeïese see

soos sy vra.

 

Haar stem

onlosmaaklik

deel van haar lyf:

eers gewigtig,

later afgeskaal.

 

Sy blameer glo

haar moeder, Evangelia,

vir haar skroom.

Sny haar los

van háár wat kleintyd

applous weerhou het

soos ’n ryke sy krummels

van ’n bedelaar.

 

Nimmer erkenning genoeg:

die media en operahuise

net ’n skynverblyf.

Telkens hunker sy 

in herinnering

honger na haar moeder

se goedvinde terug,

na die suinige porsies 

afgeweeg,

liefde op voorskrif.

 

Vaders vind sy elders:

Giovanni Battista Meneghini

vergoed vir haar vader se leuens

tot haar nemesis verskyn:

Onassis die goëlaar, 

minnaar, befonkfaaier,

brutale vetsak,

’n eend wat munte 

in die water afweeg – 

 

tot Jacqueline Kennedy,

elegant en afgerond,

’n mooier, jonger diva

haar in die derde bedryf

lammermoor:

 

liefde, verraad, skandaal

uitgespeel in die openbaar

Sy kruip weg, verlore

in ’n glansbestaan,

vereensaam

tot haar terugkeer

met ’n stem wat vulgêr

en vals weerklink.

 

Lucia se waansin

het verruk,

haar ondergang aanskoulik;

Callas s'n  speel af

in die stad van liefde en lig,

en in die staccato flitse

van paparazzi was alles

’n oop geheim.

 

(uit: Konfessies, kaarte en konterfeitsels. Imprimatur: 2021).


 

 

 

Essay | Vir vier stemme, Hennie Aucamp | 2000/2022

$
0
0

Die jong Hennie Aucamp (JdT versameling)

'n Komplekse verhaal wat die kodes van die transvestiet aktiveer is Hennie Aucamp se "Vir vier stemme", oorspronklik opgeneem in Volmink in 1981. Die verhaal verskyn ook in Wisselstroom, die eerste volwaardige literêre bloemlesing van die gay-verhaal in Afrikaans wat in 1990 verskyn.

"Vir vier stemme" is 'n elegiese verhaal wat vanuit vier perspektiewe aangebied word. Aucamp aktiveer die konvensionele siening van die transvestiet of "moffie", naamlik dat dit as 'n grap of meer spesifiek 'n boeregrap uitgespeel word. 

 

Die verteller, oom Toon Lourens, is waarskynlik 'n Herman Bosman-agtige Oom Schalk Lourens: 'n verteller wat die mores en kodes van die gemeenskap ken en interpreteer namens ander karakters. Die naam aktiveer ook Toon Prens, 'n grootlieg-volkskarakter in Minnie Postma-verhale. Hiermee posisioneer Aucamp homself alreeds binne die boeretradisie.

 

Die verhaal het vier onderskrifte:

 

'n Grap is 'n grap;

Aan alles moet 'n einde kom;

En hadde de liefde I;

En hadde de liefde II.

 

Volgens 'n persoonlike mededeling aan hierdie skrywer, het Aucamp vier weergawes geskryf omdat hy in gebreke gebly het om die komplekse verhaal in een storie te kon vertel. Hierom die sonate-struktuur. Of moontlik kan die verskillende verhale gelees word as 'n jazz-weergawe van die eerste vertelling.

 

Die verhaal handel oor Toon Lourens en sy vriende, Oom Frik, tant Das en hul dogter Let, wat vir Beimen Botes, 'n jongman in die distrik, 'n poets bak. Beimen word om die bos gelei wanneer daar gemaak word asof Freddy, 'n Skotsman wat in Die Hoek herstel van 'n longkwaal, 'n besoekende niggie, ene "Fifi" is.

 

Omrede Let 'n onooglike meisie met 'n vlek is, stel Beimen nie in haar belang nie en word Fifi ingespan om die rol van die vrou te vertolk. Freddy werk in die poskantoor en wanneer dit blyk dat die twee mans werklik op mekaar verlief raak, word briewe geskryf en foto's geneem ten einde die spel te laat voortduur. Freddy pleeg egter selfmoord - 'n onthutsende slot wat wrange kommentaar lewer op 'n konserwatiewe gemeenskap se onverdraagsaamheid jeens homoseksualiteit. Slegs wanneer Freddy speel asof hy 'n vrou is, word dit aanvaar deur die boeregemeenskap. En, meer nog: slegs wanneer Freddy "Fifi" word kan Beimen sy eie aard erken en uitleef.

 

'n Grap is 'n grap

 

Hier het ons Toon Lourens se perspektief. Die vernaamste redes wat hy aangee vir die gebeurde is die droogte en depressie. Weens 'n geldgebrek en kennelik ook verveling word daar saans na oom Frik se huis gegaan vir kaartspeel en boertige vertellinge.

 

Niemand het aan Let as 'n maat gedink nie, weens haar geskonde gesig: 'n pers vlek oor die een kant van haar gesig. Sy is dus 'n blote toeskouer weens haar outsider-posisie.

 

Beimen word deur Toon Lourens gesien as 'n onbelese, aksiegerigte persoon, terwyl Freddy as belese en ook diepsinnig beskryf word. Volgens die eerste perspektief (selfs getuienis) was oom Frik aandadig en die katalisator van die verhaal, want hy het die voorstel gemaak dat hulle Freddy moet vermom as 'n "meisiekind".

 

Wanneer Freddy vra oor sy snor, maak oom Frik 'n bepalende gender-opmerking: "Jy kweek 'n nuwe"(...) "en dié keer bemes jy hom van die begin af, om die brakkolle te wys wie is baas" (Wisselstroom, 1990, 133). Hiermee kodeer hy vir Freddy as wyfie-agtig. Ook dui die opmerking op 'n bepaalde gesofistikeerde kennis van seksuele voorkeure wat van oom Frik 'n bepalende en aktiewe agent maak in hierdie verhaal.

 

Ook die belydenis van die verteller dat hulle so "opgewonde soos skoolseuns" (134) was, kanselleer enige gevoel van onskuld uit.  Wanneer die fopdosser haar verskyning maak, snak hulle na hul asems: 'n stelling wat bewys dat hulle nie net gewoon toeskouers is van die gebeurde nie.

 

Ironies genoeg word almal medespelers en aandadig aan hierdie treurspel: Tant Das se hare word die bolla; Freddy dra 'n ou rok van Let; die vrouens gee raad oor hoe hy moet optree en dit was die twee ouer mans se idee. Die verteller se verontskuldiging aanvanklik bevestig hierdie interpretasie; vir hom is 'n grap 'n blote grap. Tog nadat die foto's geneem word, sien hy homself as 'n medepligtige en getuie.

 

Die gebeure verloop vir Toon Lourens as 'n groteske grap. Ook Beimen se verliefdheid is vir hom en oom Frik frappant. Wanneer Beimen die niggie, Genoveva weer wil sien, vertrek "sy" egter die volgende oggend reeds na Kimberley.

 

Dis weer eens oom Frik wat met die voorstel kom dat hy moet skryf aan haar. Maar sake ontwikkel egter verder wanneer Beimen aandring op 'n foto en Fifi na die plaas moet kom en moet poseer in die klere: so word die hele spel dus weer herhaal of re-enact in Freudiaanse terme. Net soos die vertelling van Toon Lourens die gegewe herhaal of dit weer voorstel.

 

Die poging van die twee ouer mans om die waarheid aan Beimen te openbaar, word deur Fifi geweier. Hiermee word sy emosionele betrokkenheid bevestig en dat hy nie vir Beimen wil beledig nie. Hy was ook bewus van Beimen se betrokkenheid en dat dit hom sou breek. 

 

Uiteindelik is dit weer oom Frik wat met 'n noodlottige voorstel kom, naamlik dat die niggie moet sterf. Hy sou selfs sorg vir die telegram; 'n vreemde inmenging gedagtig aan die feit dat Freddy/Fifi by die poskantoor gewerk het en dit self kon versend. Ironies genoeg sterf Freddy: hy pleeg selfmoord in die mondering asof hy hiermee die aandadigheid van die medespelers wil uitwys. 

 

Die verhaal eindig met 'n onoortuigende verontskuldiging wanneer die verteller die leser wil vra hoe hierdie tragedie sig kon afspeel aangesien hulle almal saam gejag en geswem het. Die leser egter is eerder oortuig van die verteller se gender-bewussyn en latente homoseksualiteit: net 'n ingeligte persoon kan so 'n wrede manipuleerder en medespeler wees.

 

Aan alles moet 'n einde kom 

 

Die tweede vertelling word gefokus op Freddy McTavish se waarneming van Die Hoek. Die leser wat alreeds die treurspel se einde meegemaak het, vind dan reeds die titel omineus. Ook skryf hy 'n brief - in Engels - wat sy outsiderskap stilisties beklemtoon. Waar die eerste weergawe in die eerstevertelling plaasvind, word hierdie verhaal vanuit die derdepersoon-perspektief aangebied.

 

Freddy se aard word goed deur die verteller uitgebeeld. Veral word Freddy as 'n briefskrywer geskets teenoor die aktiewe Beimen. Die ander karakters word ook waargeneem en Toon Lourens word verminderend as 'n "filosoof" beskryf. 

 

Die foto's wat Freddy van die landskap neem, is egter wit-en-swart en uit fokus wat 'n resultaat van sy melancholiese gemoedstoestand is. Ook die vriend wat aanvanklik beloof het om te kom kuier, daag nooit op nie. Hiermee word dan ook 'n implisiete verduideliking vir Freddy se betrokkenheid by Beimen gegee: omdat hy afgesluit is van kontak met eensgenote, raak hy betrokke by 'n onmoontlike situasie.

 

Sy aanvanklike kritiese distansie word opgehef wanneer hy nie meer skinder of skryf oor die boeremense nie. Hy word duidelik deel van die klein netwerk soos reeds beskryf deur Toon Lourens in die eerste afdeling. En, Freddy fokus ook op die bloedstollende en grensoorskrydende verhale wat die mense in die gemeenskap vertel, bykans as 'n onbewustelike premonisie van sy eie ondergang. 

 

Ofskoon hy die ballingskap vrugbaar bestee deur te teken en Dickens te lees, word die volgende uitspraak gemaak: "Maar daar was aande, veral oor die naweke, wat hulle nie laat inbreek het nie; aande waarop die emosie 'n ander fokus wou hê as boeke; aande waarop hy verlate was, en mense wou hê, of beter gesê: een bepaalde mens. Maar dít het hy te laat besef" (1990, 137). Die verteller of stem is dus bewus van die voortstuwende ramp wat die leser alreeds vanuit Toon Lourens se perspektief aantref.

 

Ook word die tersaaklike gender-aanwysing vir die leser gegee oor Freddy se seksualiteit: "Hy kom mooi uitgevul uit die kamer uit, met rooi lippe en wange, en sy strooigeel hare saamgevat in 'n bolla; 'n effens vulgêre vrou miskien, maar met 'n plus-kwaliteit wat nie te ontken is nie"(138). Die personale verteller is eweneens bewus van die ontluikende homoseksualiteit in Freddy se persoonlikheid en die feit dat die omstanders van hierdie insident 'n grap maak. Die werklike behoefte van Freddy aan Beimen en omgekeerd reduseer hulle tot 'n groteske grap omdat 'n gender-afwyking binne die boere-verwysingsraamwerk onaanvaarbaar en ondenkbaar is. Slegs as dit paradeer as grap of uitgespeel word as 'n sirkus kan dit "hanteer" word.

 

Beimen se behoefte om verdere kontak in die vorm van briewe met die niggie te hou, word ook hier beklemtoon. Dit is egter Freddy wat die briewe namens Beimen moet skryf aan die niggie - omdat Beimen nie die ware identiteit van Freddy besef nie. In verhale van transvestiete en fopdossers speel die rol van die ware identiteit en ander karakters se blindheid om waarheid van spel te kan onderskei, 'n belangrike rol: vide The crying game in hierdie verband. Die hele verhaal wentel om hierdie blindekol van Beimen.

 

Die verlange na kontak word aanvanklik deur middel van briewe besweer; later is daar ook 'n behoefte aan foto's: 'n ironie dat die geliefde net deur representasie gevind kan word. Wanneer Freddy dan poseer vir 'n foto is die medespelers onthuts dat die spel nog voortduur - waarskynlik omdat hulle nie verder kon afloer nie, maar ook omdat die grense van die grap sodoende oorskry word: dit mag nou 'n werklike emosionele verbintenis word.

 

Freddy vrees Beimen se vergeldingsdrif: daarom die voorstel dat die niggie moet verongeluk, trou of buiteland toe gaan. En ironies genoeg is dit presies wat met die niggie gebeur: met sorg asof vir 'n huwelik word Let se rok aangetrek en die selfmoorddaad is dan 'n huwelik en 'n binnetrede van die mees ekstreme buiteland, te wete die dood. So tref Beimen, die "huweliksmaat", sy geliefde aan. 

 

Die boodskap van die tweede perspektief is dat slegs binne die domein van die dood die liefdesafwyking geduld kan word waarmee klassieke tekste soos Tristan en Isolde geaktiveer word.

 

En hadde de liefde I 

 

In die derde afdeling word daar personaal gefokus op Beimen Botes se waarnemings van die insident. Dit blyk dat hy gemeenskap gehad het met Freddy en besef dat hy nie 'n vrou is nie. Hy wil terugkeer om te gaan kyk na wat gebeur het. Hiermee aktiveer Aucamp tekste soos Lot se vrou en Orpheus en Euridice: 'n psigologiese toestand van onmoontlikheid om die geliefde/droom/illusie ooit weer ongeskonde te kan besit.

 

Hy gaan slaap dan en droom nie van Genoveva nie, maar van die geskonde Let: die soektog na die Volmaakte Geliefde word gefnuik deur die binnetrede van Let wat die onvolmaakte simboliseer. Hierna gaan swem hy, wat as't ware 'n verdere afdaal in die onbewuste simboliseer.

 

Beimen Botes se skuldgevoelens en onvermoë om sy eie aard te aanvaar, is die fokus van hierdie vertelling. Hy ervaar konflikterende emosies en die grapmakers moet die blaam ervaar. Tog is dit duidelik dat hy voortgegaan het met die liefdesaksie selfs nadat hy Freddy se ware aard ontdek het. (Sy woede en teleurstelling het hy in die liggaam geledig, maar die leser sou kon byvoeg: teleurstelling met die ontdekking van sy ware aard.)

  

In sy rekonstruksie van die aand blyk dit dat sy soeke na liefde hom verblind het. In terugskoue besef hy dat hy mislei is deur die grapmakers, die lamplig en die mise-en scène. Ook besef hy dat Freddy sy onbeholpe gevoelens geleerd vertaal het aan die niggie.

 

Wanneer Freddy hierdie briewe aan die niggie geskryf het, het hy gelukkig gevoel. Hiermee word 'n subtiele aanduiding gegee van Beimen se homoseksualiteit en dat hy dit slegs kon aanvaar wanneer Freddy as vrou poseer het.

 

Hierom die teenstrydige emosies van homself seksueel wreek op Freddy en begeerte. In die slotparagraaf word hierdie interpretasie bevestig. Hy wil Freddy sien sonder sy vervalsing ("sonder smeersels en vals hare"), maar die onthulling van die werker dat Freddy vermink is, verhoed hom. 

 

En hadde de liefde II

 

Die slotvertelling fokus op die Van Onselens, en meer spesifiek, hul verminkte dogter, Let se perspektief, aangebied vanuit 'n derdepersoon of personale perspektief, 'n vertelwyse wat intiem-onthullend is oor 'n karakter se diepste emosies. 

 

Let se ironiese aanslag, wat soms tot sinisme versuur, word hier beklemtoon. In bitter oomblikke sal sy dan ook sê dat sy haar as 'n clown kan verkoop. Hierdie uitspraak posisioneer haar reglynig teenoor Freddy: hy kan homself opmaak, terwyl sy reeds deur 'n geboortevlek geskend is. 

 

Haar medepligtigheid is dan duidelik. Weens 'n gevoel van onvervuldheid wil sy wraak neem op Beimen wat nie in haar belangstel nie en Freddy wat wel kan transformeer in 'n liefdesobjek waarin Beimen sou belangstel. Let daarenteen kan nie transformeer nie. Hierom doen sy mee aan die grap.

 

Haar wrewel jeens Beimen kom duidelik in hierdie perspektief na vore. Sy is 'n  soort diensmaagd of dienende Martha vir hom (wat selfs aan sy klere ruik om iets heimliks van hom te kan besit). In 'n gedagtestroom dink sy: "Laat dit breek. Laat iets gebreek word, iemand of iets" (Wisselstroom, 1990).

 

Haar teenstrydige emosies (enersyds liefde; andersyds verwyt en verbittering) maak van haar 'n ambivalente karakter binne hierdie drama. (Reeds haar naam Let dui ook op 'n lesbiese aard). Sy is negatief oor oom Frik en Toon Lourens en haar positiewe gevoelens jeens Freddy kom duidelik na vore. Hy is 'n  vertroueling en gespreksgenoot. Maar slegs ten dele, omdat hy haar objek van begeerte se aandag trek. In Toon Lourens vind sy ook 'n bondgenoot, omdat hy voor Freddy se koms weer op Beimen se vriendskap kon aanspraak maak.

 

Let word ook as 'n vrou met manlike eienskappe getipeer in hierdie vertelling wanneer sy Freddy skeer. Hieruit kan ons dan aflei dat sy eweneens bewus is van ander gender-moontlikhede en sodoende die mans teenoor mekaar kan opstel. 

 

Wanneer Freddy uiteindelik selfmoord pleeg, is Let die praktiese persoon wat help om die lyk uit te lê, maar haar ambivalensie word benadruk deur die versugting dat dit liewers Beimen se lyf moes wees. Nie net die lyf wat sy seksueel begeer nie, maar die persoon wat sy dood wens.

 

Hierdie vernuftige vertelling werk met etlike sleutels ten einde die gender-spel vir die leser uit te werk:

 

In die eerste afdeling, 'n Grap is 'n grap word die vertelling rondom die raaisel gekonstrueer. In die tweede afdeling, Aan alles moet 'n einde kom, word daar verwys na foto's wat uit fokus is. Die derde afdeling, En hadde de liefde I word veral die onbewuste (die water en drome van Beimen) op die voorgrond geplaas, terwyl in die slotafdeling En hadde de liefde II, daar na die sirkus verwys word as 'n sentrale metafoor. 

 

Die vier verhale gee dan vier perspektiewe op 'n gebeurtenis wat rondom 'n gender-konstruksie gebou is, naamlik die van die transvestiet of cross-dresser. Die verhaal werk telkemale met die beginsel van uitstel of différance: 'n grap waarin die toehoorder die teiken is; 'n brief waarin emosies nie dadelik die ontvanger bereik nie; 'n foto wat 'n representasie van die werklike persoon is; 'n droom wat 'n begeerte of drang simbolies en dikwels verwronge na vore bring; 'n sirkus waarin mense soos dwerge of ander geskondenes 'n rol vertolk.

 

Hierdie uitstelproses word gerepresenteer in die vorm van 'n verhaal wat net 'n perspektief op of interpretasie van die gebeurde is.

 

In Derrideaanse terme, funksioneer hierdie vertelling rondom uitstel of différance: elke verhaal word verklaar in terme van 'n ander verhaal of signifikasie. In Lacaniaanse terme speel hierdie tragedie sig af omdat die wet van die vader oortree word. As die twee hoofrolspelers net voor die toeskouers die spel gespeel het, was die tragedie verhoed. Maar omdat die Wet van die Vader oortree word, loop alles skeef. Beimen is veronderstel om by 'n vrou betrokke te raak. Oom Frik en Tant Das staan vir hierdie orde, maar hulle geskonde dogter is vir hom onaanvaarbaar.

 

Toon Lourens, met suggesties van 'n implisiete belangstelling in Beimen, is op die reële vlak vir Beimen onaanvaarbaar. Beimen kan egter wel sy homoseksuele natuur erken wanneer 'n man vermom as 'n vrou tot hom toenadering soek. Wanneer die spel-verbintenis as onmoontlik uitgewys word, word die orde versteur. Die verhaal aktiveer ook die idee van die pharmakos en die sondebok.

 

Iemand wat buite die orde bestaan maar wat bekend genoeg met die orde is sodat die offer genesing vir die gemeenskap kan bring. Derrida se herlesing ("Plato's Pharmacy" in Dissemination) van filosofie aktiveer hierdie onsekerhede wat betekenisse meebring. Freddy se selfmoord verlos almal van hul gender-ambivalensies en latente homoseksualiteit. 

 

Uit my studie: Gender-konstruksies in die Afrikaanse letterkunde. PhD. UK. 2000.

 


 BIBLIOGRAFIE

 

Austen, Roger.1977. Playing the game. The homosexual novel in America. New York: The Bobbs Merrill Company, Inc.

 

Aucamp, Hennie.1981. Volmink. Kaapstad: Tafelberg.

 

                                  1990.Wisselstroom. Homoërotiek in die Afrikaanse verhaalkuns -'n Bloemlesing. Kaapstad: Human & Rousseau.

 

Derrida, Jacques. 1972/1981. "Plato's Pharmacy" in Dissemination. Londen: Athlone Press. 

 

Garber, Marjorie. 1992. Vested interests -  crossdressing & cultural anxiety. Londen: Routledge.

 

Lacan, Jacques. 1966/1977. Écrits - a selection. Vertaal deur Alan Sheridan. Londen: Tavistock.

 

 © Joan Hambidge 

Resensie | Elsa Joubert – Die verste grens verby (Thys Human red.) | 2022

$
0
0

Elsa Joubert - Die verse grens verby (Thys Human red.). Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap vir Kuns, 2022. ISBN 978-0949977-05-2

Resensent: Joan Hambidge

 

Elsa Joubert beklee ‘n unieke posisie binne die Afrikaanse letterkunde. Die swerfjare van Poppie Nongena word op die lys van 100 invloedrykste werke uit Afrika gereken. Haar uitgewer, wyle Danie van Niekerk, het dit as een van die hoogtepunte in sy uitgewersloopbaan beskou. Die redakteur Thys Human gee ‘n sober blik wat uitstekend aansluit by Willie Burger se profiel in Perspektief & Profiel.

 

Bladsye 185 – 210 gee ‘n bibliografiese verwysing en om hierdie boek te probeer opsom, sou beteken jy moet die oseaan in ‘n visbak probeer opvang. Daar is eweneens pragtige foto’s opgeneem. Ek volstaan dus met enkele kanttekeninge oor hierdie belangrike huldigingsbundel.

 

Joubert is romanskrywer, kortverhaalskrywer, reisverhaalskrywer en outobiograaf. Die verste grens verby is ‘n gepaste opsomming vir haar uitsonderlike werk waar sy as jong vrou alleen reis in Afrika en na Madagaskar. Louise Viljoen wys op drie fases in haar skryfwerk: in die 1950’s begin sy met reisverhale; in die 1960’s begin sy fiksie en latere jare, toe sy al tagtig was, outobiografiese besinnings geskryf waarvan Spertyd ‘n hoogtepunt is. Hieroor skryf Hennie van Coller insigryk. Hy lewer kritiek op veralgemende gevolgtrekkings oor die taal van bejaardes; gebaseer op een teks. Wat hier relevant is – en wat later weer in ander bydraes na vore kom – is dat Joubert styl- en struktuurgrepe strategies aanwend en manipuleer. Soos in Die swerfjare van Poppie Nongena.

 

Om hierdie teks indertyd as wanordelik, slordig en gefragmenteerd af te maak, word deur lesers verkeerd bewys (42).

 

Willie Burger tipeer haar tereg as ‘n reisgids, want sowel haar reisverhale as die genoemde Poppie het mense anders laat kyk na hulle eng-Afrikaanse wêreld. Anne McClintock gee ‘n besondere ondersoek weer van die sogenaamde “onbetaamlikheid van hibriditeit” en swart vroue se weerstands- en narratiewe dubbelsinnigheid. Die “tweemondige samewerking” tussen Joubert en Poppie word in hierdie briljante stuk verduidelik.

 

Hierdie professor aan Princeton gee ‘n sober buiteblik op die resepsie van die roman en ‘n vertelling vol teenstrydighede. Hierdie bydrae wys op die outeur (Joubert) se outoriteit (via Edward Said) en die politiek van samewerking oor die grense van ras- en klasverskille heen. Die geheue as wapen word betrek en die herbelyning van mag. Die verskillende (en verkeerde) interpretasies word ondersoek in hierdie uitsonderlike artikel wat ook die hele kwessie van hoe manlike kritici die teks anders as vroue kritici gelees het. Sy wys op die Prokustiese sfeer van die manlike tradisie (toe) en hoe vroueskrywers ‘n ander leesaksie opeis (42). Ook hoe Afrikaanse lesers verskil het van Engelse, liberale lesers en hoe daar in sekere kringe ‘n dawerende stilte was.

 

Lucie Valerie Graham wys tereg daarop dat die transkripsies van die onderhoude met “Poppie” nie ‘n woordelikse verslaggewing is nie. Etlike prosesse het plaasgevind wat op ‘n paradoksale manier bewys dat geen teks gelyk aan die werklikheid is nie; dit is “geproduseer” (via David Schalkwyk, 75).

 

Thys Human behandel Die reise van Isobelle as ‘n kroniek. Hy betrek o.a. die struktuur van die Latyns-Amerikaanse kroniek met Isabel Allende se The house of the spirits (1982) wat as ‘n kritiese herskrywing van Gabriel García Márquez se manlik gerigte One Hundred Years of Soltude beskou kan word. Albei tekste is familiekronieke en politieke allegorieëwat uitwaaier na die groter politieke kontekste waarbinne hulle afspeel (108). Met ‘n vroulike perspektief as basis.

 

Die kulturele introspeksie en outo-etnografie word deur Erika Lemmer, Linde Beer en Jan-Ben Rothman onder die loep geneem waarin die Afrika-leefwêreld vir die leser oopgemaak word. Die persoonlike geskiedenis aktiveer die kollektiewe geskiedenis in ‘n Wonderlike geweld.

 

Daar is ‘n skrywersbiografie deur Erika Terblance, ‘n analise van “Bloed” uit Melk  deur Susan Meyer as ‘n soort tuiskoms in Afrika en Réney Warrington kyk na die verfilming van Poppie en wys op die betekenis van kleur in die film deur Christiaan Olwagen.

 

Ena Jansen lewer ‘n pragtige, meelewende huldiging vir die skrywer op versoek van die familie op 4 Julie 2020, Welgemeend.

 

Oor die limietberge en die troos van Leeukop. Sy sou die hiernamaals wou binnegaan, skryf Jansen, met ‘n notaboekie en BIC-pen (180). En soos Willie Burger haar aanhaal:”My lewe beweeg op die periferie van ‘n bestaansvlak wat ek nie ken nie”. En dit is wat sy dan ondersoek en verken in haar oeuvre.

 

Ek onthou hoe Ons wag op die kaptein (1963) my as jong leser aangegryp het as voorgraadse student.

 

Waarskynlik een van die beste huldigingsbundels tot op datum. Met ‘n pragvers van Johann de Lange:

 

Elsa Joubert 1922-2020

 

Van vele reis & deur vele huise

het jy oplaas tuisgekom op jou pad.

In die laaste, laatste foto’s val

die skadu’s jou binne soos ‘n stad.

Die lig buite straal deur jou vensters in

& jy hoor die einde sê: Kom ons begin.

 


Gedig | Pensioenaris | 2022

$
0
0

Amptelik vandag ‘n pensioenaris gemaak

in ‘n bankstaat só aan my uitgemaak.

Nou mag ek om afslag aansoek doen:

korting, vermindering; se passer de …

Voetjie-vir-voetjie word jy pensioenaris

(gedagtig aan Elisabeth Eybers): my hare gris.

Maar oor een ding val daar nie te redeneer:

die woord vadsig in al haar geledinge sal jy leer.

Die bestudeerder van ‘n vreemde taal verken

lui, argeloos, traag, lusteloos volledig in die ken.

Maar so is dit nou: vandag offisieel ‘n pensioenaris:

retraitée soekend na woorde vir die nuwe IS.

 

© Joan Hambidge

Resensie | De Waal Venter – Vrugbeginsel | Naledi, 2021

$
0
0

De Waal Venter – VrugbeginselNaledi, 2021. ISBN: 9781928530855 

De Waal Venter se werk as vertaler van Pablo Neruda, Octavio Paz en Tomas Tranströmer het die Afrikaanse letterkunde verryk. Hy is tereg bekroon met ‘n Akademie-prys vir sy vertalings van Neruda in 2020 wat heet Vandag is boordensvol (2017).

 

Vrugbeginsel is die titel van sy jongste bundel. Ovarium is die geleerde, wetenskaplike naam. Die leser hoor ook die beginsel van vrug. Die soeke na essensie. In die hart van die blom wat ryp word en saad voortbring. 

 

Iets wat dus groei en uitwaaier in meervoudigheid. Die leser, soos die agterplat beduie, se leesproses is só ‘n komplekse een.

 

Die vorige bundel se titel Oop sirkel (2017) vra vir ‘n voltooiing deur die leser.

 

In Vrugbeginsel kan veral die invloed van Paz gesien word. Die stilte, die sagte prosesse wat ongestoord voortgaan, word hier ondersoek. Hierdie dialektiese proses tussen Venter se vertalings van Paz en Neruda én die jongste bundel is vir hierdie leser besonder relevant.

 

So open die bundel se programvers:

 

Verwagting

 

Vroeër vanoggend
het die lewe oopgeplooi,
kroonblare wat wegvou
van die vrugbeginsel,
oop vir die son.

 

*

 

Ongesien in die donker

het selle meioties van mekaar geskei;

een van hulle gaan ’n mens help maak.

 

*

 

Vroeër vanoggend 

het dit alles gebeur,

en dit is nog aan die gang.

Gebeure drom saam

voor die toe deure

van die komende sekondes. (9)

 

“Haikoe” (11) som dan ook die skryfproses op van hierdie digter:

 

Oop hand kelkblare

hou die vrug se beginsel –

vrug met blom in hom.

 

“Die druiwekorrel wat regtig bestaan” (17) aktiveer die gesprek met Zeno. Hierdie bundel sit vol paradokse, soos ons lees in die gedig oor Galileo Galilei en die “eppur si muove” (19) wat eindig met die akkedis wat haar pensie skuif oor die warm klip:

 

Dalk praat sy gesellig

met die swanger aarde

en eet die planeet se wiskunde

soos muggies.

 

Wiskunde en filosofie; dialektiek en paradokse. “’n Onbevredigende romanse” bekyk die rekenkunde van verwerping én die ingeboude pyn van verhoudings (20).

 

In “Haarfyn uitgelê” (25) besin die digter oor fyn onsigbare drade tussen mense sedert die Grieke in die agora en die hede waar die heelal erge vergifting en ekologiese probleme moet trotseer.


Dit word dan uiteindelik alles rommel deur die eeue (27).

 

Dante, Fernando Pessoa en Tranströmer is in die tweede afdeling beduidende gespreksgenote. “Bure in die antroposeen” (48) speel in op Toon van den Heever, Marais en Van Wyk Louw en hoe hierdie digters verwonderd sou wees oor hoe die wêreld verander het. Die Internet, is nou ‘n elektroniese koningin.

 

“Toepaslike soekwoord” (50) wys op die spreker se soeke na vervulling. Maar die soekwoord bly helaas uit. Die digter sal ‘n woord vir sy melancholie moet vind.

 

Geur is dan in ‘n volgende gedig die verganklikste van alles, maar word die langste onthou. In die derde afdeling vind ons aweregse humor soos “Ons weet nie”:

 

Niemand weet

presies wat die sintaksis is

wat bome gebruik wanneer hulle gesels

net voor ‘n storm … (59).

 

Die digter met al die slim verwysings verwys na sy welverdiende graad in onkunde (60).

 

Jammer dat Krige se naam ‘n kleinletter het op bladsy 70.

 

In die slotafdeling spreek die digter sy muse aan en dit word dan ‘n toespeling op Pessoa wat verskillende personas geskep het. Hier is daar ene Yanni Euterpe. “Weemoed is delikaat soos die begin van ‘n droom”, lees ons op bladsy 91. Die verwysings na die tamatie en ui speel in op Neruda se bekende verse oor groentes.

 

Dit is veral die invloed van Octavio Paz, die Meksikaanse digter, wat sterk inspeel op hierdie digter se besinnings. Die oënskynlike, die onbenullige, die toevallige word saamgesnoer in gedigte. Paz word beskryf as surrealisties en eksistensialisties. “Die labirint van eensaamheid” is immers een van Paz se bekendste verse.

 

So vertaal hy Paz:

 

Twee lywe (Dos cuerpos)

Octavio Paz 

 

Twee lywe teenoor mekaar

is partykeer twee golwe

en die nag is ’n oseaan.

 

Twee lywe teenoor mekaar

is partykeer twee klippe

en die nag is ’n woestyn.

 

Twee lywe teenoor mekaar

is partykeer wortels

vervleg in die nag.

 

Twee lywe teenoor mekaar

is partykeer messe

en die nag is weerlig.

 

Twee lywe teenoor mekaar

is twee sterre wat val

in ’n leë hemelruim.

 

Uit: Libertad bajo palabra, 1949

(Octavio Paz | Drie gedigte in-Afrikaans vertaal deur De Waal Venter. Besoek 22 Februarie 2022)

 

Die stylgrepe vind die leser terug by Venter: die hier-en-nou en ‘n aweregse blik op die werklikheid met ‘n besinning oor die wiskunde, wetenskap, biologie.

 

Die verwysing na Uys Krige, daardie manjifieke vertaler, gee baie sleutels vir die leser. Soos Lorca se oënskynlik eenvoudige verse …

 

Daar is baie dinkwerk in hierdie gedigte en die leser wat al die verwysings opvolg, word ryklik beloon. Net soos met die lees van sy Neruda-vertalings.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Huldeblyk | Thomas Deacon (1943 - 2022) | 2022

$
0
0

Die skrywer Thomas Deacon is onlangs oorlede. 

Hy is op 4 Februarie 1942 gebore en is oorlede op  21 Januarie 2022.

 

Sopas publiseer Naledi minjonet en bitterbos. Die blou blommetjie teenoor die bitterbos, die ewige opposisie so bekend aan die digkuns. Die digter is bekend vir sy kontreiverse en ons lees hier van die ou Nama-moeder, Siena Joseph van Pella (1893 – 1988). En die wêreld van die Noord-Kaap is die gebied van George Weideman en Donald Riekert. En wat Griekwa-Afrikaans betref, het die digter Hans du Plessis waarskynlik geen gelyke in Afrikaans nie.

 

Die kontreikuns is aardse kuns en uiteraard sterk verbind aan primordialiteit.

 

In sy vorige bundel Duifiedorings (2019) word verskillende name verbind aan die duifiedoring: duwweltjie, volstruisdubbeltjie, driedoringdubbeltjie… alles name wat hierdie woord oproep.

 

Die landskap van die klipwerk-vers (via Van Wyk Louw) en die verse van Boerneef, vind ons in hierdie bundel. Verskillende stemme is hier aanwesig: die digtende spreker wat praat in sowel Standaard-Afrikaans as die taal van die Boesmanlandse streek, verby die Bantamberge.

 

Soos Marlies Taljard tereg uitwys in haar bespreking te lese op die Versindaba:

 

ʼn Spesifieke lokaliteitsaanwysing is die verwysing na die Bantamberg – ʼn heuwel wat binne die Namakwa-distriksmunisipaliteit in die Noord-Kaap geleë is.

 

Die kontreiwoord is ook hier aanwesig en veral die afdeling “troosbossies” het met my gepraat. 

 

Daar is vele juwele te lese:

 

my bekertjie loop oor

 

my bekertjie loop oor

my broodjie is ʼn dubbeldoor

die wind speel op sy rietjiesfluit

en voordag stort sy rooiwyn uit

(27)

 

tussen kleinsee en koingnaas

 

tussen kleinsee en koingnaas

waar die son wydsbeen

oor yl narrabossies staan

grawe ʼn kapaterbok t!kamaroe

wat so lekker na namakwaland

se wegblywater proe

(63)

 

In Duifiedorings vind ons hierdie aangrypende lykdig:

 

george henry weideman

(2 julie 1947 – 28 augustus 2008)

 

waar die son kliplangs oor oulandswêreld spring

het george henry weideman

van katstert en kanniedood

van kinkelbos en klipkersie gesing

tussen springbok en pofadder

tot by aggeneys, by onseepkans

en kenhardt verby

hoor ek sy woorde rietjiesfluit

van botterblom en bossiesgras

van bokbaaivyg en bloumelkbos

tot bitterbos

maar looplê se tyd

toe klapperbos en kankerbos

hul nagkarossies nadertrek

het george henry weideman

’n staning onder duisend sterre 

oopgetrap 

(27)

 

Die volgende gedig som sy digkuns ten beste op:

 

die lewe is ’n kaalvoetspoor

 

die lewe is ’n kaalvoetspoor

een duin áf die anner duin óór

hoor jy’ie wind op sy doedelsak speel

weg issie spoor, net’ie sand bly oor

(60)

 

 

En dan van hierdie leser:

 

Lykdig

vir Thomas Deacon

 

Jy het ons geleer

om stadig te kyk

weer te kyk

in te kyk

na klippe en sand 

volstruisduwweltjies

tweemondig

nes die streektaal 

wat jou geskep het

die heutjiehee

se geroep

klink nog voort

in jou woordreise

oor ‘n woestyn

nou is die pê-pê fluit

‘n afskeidsroep

maar jy het jou lêgat 

in ons taal gevind

soos growwe-twa 

fyn-twa en ‘ga-gras

met ons voetsaam 

oor die rante

van jou digkuns

 

Soos hy skryf in Duifiedorings:

 

lente lig sy hoed

groet namakwaland se werf

gousblom in die hand

(88)

 

Ons groet hierdie digter wat ‘n handvol pragverse gelewer het.

 

Deacon het die volgende tekste gepubliseer:

 

Sand uit die Son (poësie), Tafelberg, 1989.

Die predikasies van Jacob Oerson (poësie), Tafelberg, 1993.

Rooigrond (roman), Tafelberg, 1995.

Anderkant die Troe-troe (kortverhale), Human & Rousseau, 1999.

Deuskant die Groot Gariep (kortverhale), Lapa Uitgewers, 2009.

Maagmeisie (poësie), Protea Boekhuis, 2003.

Duifiedorings (poësie). Minimal Press, 2019.

 

© Joan Hambidge

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

SLL Reseach Seminar | The novel as mythobiography versus autobiography | 2022

Resensie | Hans Pienaar – Kaap | Protea Boekehuis, 2022

$
0
0


Hans Pienaar – Kaap. Protea Boekehuis, 2022. ISBN 9781485313311 

Resensent: Joan Hambidge

 

Hans Pienaar se roman word vir die leser soos volg verpak: ‘n fiksie in 33 perspektiewe en een waarskuwing. Op die voorblad is daar ‘n kunswerk van Gregg Price: Tafelberg en mannetjies wat op hul kop staan. ‘n Hart, die dood, ‘n aasvoël, o.a. 

 

En alles in hierdie roman word op sy kop gekeer. Die periteks waarsku jou …

 

So word die roman bemark:

Die hoofkarakter, Marnus, is ’n ondersoekende joernalis, ’n libtard met struggle credentials, hoewel een van die karakters tereg opmerk dat geen wit mens struggle credentials het nie. In sy jeug het hy ’n beweging op die been gebring om teen diensplig te agiteer en toe gesê as die toekomstige ANC-bewind nie uitwerk nie, sal hy en sy vriende maar die Kaap afstig en daar gaan woon. Daardie uiting kom byt hom aan die hakskeen en plaas hom jare later in die visier van ’n paar groepe, soos die Intelligensiediens, die Suidlanders en groepe met verwante maar meer gematigde oogmerke. Op ’n meer persoonlike vlak betrek dit die dinamika en verhoudings tussen die karakters; jare lange vriendskappe, verraad, ontrouheid en ware liefde, met humor en hart.

Hierdie pakkende roman gee ‘n beeld van die struggle-jare (met die bekende verraad) en is ‘n metaroman. In die laaste afdeling “Kaap” word die leser opdrag gegee om eie eindes te prakseer. Die werklike skrywer Hans Pienaar en die vertellende instansie lewer kommentaar op die Kaap (en ‘n soort afstigting) en hoe die Corona-virus (en inperking) alles verander het.

 

Ook word daar vrae gevra (implisiet en eksplisiet) oor wat met boeke gebeur na publikasie: word dit verpulp of land dit dalk onder die gebreekte poot van lessenaar? (317) 

 

Die leser – altans hierdie leser – herken sekere bakens in Johannesburg en in Kaapstad. En mense, maar alles slim gefiksionaliseer in ‘n eiesoortige paper chase van ‘n Irma Stern-skildery (Two Arabs, wat vele kodes gee oor kultuur), Kurt Weill se Dreigroschenoper, kunsmatige intelligensie, die Hubble-teleskoop, en wat nog.

 

Telkemale word die roman-fabrikasie na die werklikheid gedwing: o.a. die insident rondom die Pierneef-skildery en ‘n diefstal van Stern se skildery wat weer ander intriges skep.

 

Alles wentel rondom verraad. Persoonlik en polities. Geliefdes wat mekaar in die rug steek. ‘n Vriend wat ‘n spioen is.

 

Kaap en kaping. Motorkapings. Verkragtings. Afdreigings. Skuilname (Antjie Somers).

 

“Between the violence of interpretation and the suicidal temptation of mimetism, the critical act follows an arduous course. It can’t go on, it will go on …”

 

Maurice Couturier en Régis Durand in hul studie oor Donald Barthelme sluit af met hierdie woorde.

 

Die leser vind ook die tegnieke van die postmoderne roman hier: trompe l’oeil, palimpses, die verdwene teks, sogenaamde linguistiese vandalisme (hier is verskeie eksperimente met taal en daar word selfs in Kaaps gepraat), parodie en satire, ‘n “irony’s edge” soos Linda Hutcheon dit noem, en uiteraard, ‘n uitstel van finale, sluitende interpretasies.

 

En dalk ‘n soort satiriese antwoord op die krimi wat tans binne die prosa soveel aandag trek? Daar is duidelike kodes na James Bond-verhale. 

 

Daar word besin oor skrywerskap en hoe joernalistiek verskil van kreatiewe skryf. Vraisemblance teenoor suspension of disbelief.

 

Soos ‘n Ingrid Winterbach-roman word jy gedwing om weer te lees en jy word nooit verveel nie. 


Met ‘n tweede lees, het ek die roman van agter na voor gelees. Die vertelperspektief is besonder boeiend: ‘n lamppaal en matras selfs word aan die woord gestel. En ‘n skildery. 

 

En die verhaal (in die afdeling Die verhaal, 157) lewer ook kommentaar. Met die skrywer wat die verhaal aan ‘n leiband hou.

 

Plaasmoorde teenoor liefdesdriehoeke; daggakoekies teenoor ‘n besoek aan ‘n hospies wat jou laat sidder; Odusseus en die Trojaanse oorlog, met ‘n oogknip na die werklike skrywer se politieke verslag uit die 80er jare saam met Hein Willemse: Die Trojaanse perd (1985).

 

Daar word ook vrae gevra oor Afrikaans en hoe lyk dit met Kaaps as ‘n onderrigtaal aan die Universiteit van Kaapstad?, wonder ‘n verteller. Bergies praat, soos diewe aan die woord gestel word.

 

Marnus en Wynand; Jelena en Amy en Evike. Wian, Rentia, en ander soos Matilda en Olivia se verhale word inmekaar geweef. Die skrywer klim onder die vel van sy vrouekarakters in en gee hul kwessies waarheidsgetrou weer.

 

Suid-Afrika met Hongarye van indertyd. Depressie afgewissel met humor: ‘n rubriek heet Tuisgeld. Ja, jy hoor ook in die roman vir Sonja Herholdt sing.

 

Dostojewski se Ivan Krilof; Bertrand Russell en Wittgenstein se beroemde debat oor die renoster met die opmerking dat ons lankal nie meer oksimorone is nie (126). En waarom word ons nou op hok gesit met clichés – dalk weens te veel inligting en “white noise”?

 

Kan die Kaap onafhanklik raak? Kan dit ‘n nuwe spioenasieverhaal word? Wel as ons Giorgio Agamben glo, is enigiets moontlik. (Is narsisme en spioenasie verbind?, 232) Smokkelhandel met kuns neem die leser op ‘n ander roete.

 

Het Marnus se uitdaging via Rentia (‘n “geheime agent vir ‘n uitgewer”, haha) om ‘n regte boek oor regte goed wat regtig gebeur toe waar geword? Bepaald. Kyk wie en wat jy herken. Of perdalks dink jy herken.

 

Die roman is ‘n ontmoeting tussen As I lay dying en Tristram Shandy.

 

Die waarskuwing? Jy kan die roman nie neersit nie … jy word gekaap.

 

Bronne:

 

Conradi, Peter. 1982. John Fowles. (Londen: Methuen).

Couturier, Maurice & Durand, Régis. 1982. Donald Barthelme. (Londen, Methuen).

Hutcheon, Linda. 1985. A Theory of Parody. The Teaching of Twentieth- Century Art Forms. (Londen: Methuen).

 Hutcheon, Linda. 1994. Irony's Edge. The Theory and Politics of Irony. (Londen: Routledge).

 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Viewing all 819 articles
Browse latest View live