Quantcast
Channel: WOORDE WAT WEEG
Viewing all 819 articles
Browse latest View live

Bibi Slippers - Fotostaatmasjien (2016)

$
0
0


Bibi Slippers - Fotostaatmasjien. Tafelberg Uitgewers, 2016. ISBN-13 : 9780624080732

Resensent: Joan Hambidge


Bibi Slippers se gedigte werk met die idee dat daar niks nuuts onder die son is nie. Hierom die titel Fotostaatmasjien. Hoe sal ons hierdie gedigte beskryf? Popverse? Hip-verse?

Dalk anti-poësie? Found poetry? https://en.wikipedia.org/wiki/Found_poetry Besoek 9 November 2016

Found poetry dan in die sin dat 'n bekende teks nuut omraam en in 'n nuwe gedaante betekenis kry.

Dalk post-postmodernisme?

Die geel bundel – modern met ‘n getuigskrif van ‘n Juffrou uit standerd drie (wat weer sterk herinner aan ‘n Jan Wolkers-agterblad) wil debunk. Die vrome skrywer se CV word hier dus uitmekaargetrek. Slippers het ook haar eie TV-program waar sy met boekmense op en buite haar bed gesels. ( http://indiebedmetbibi.com/In die bed met Bibi. Besoek 9 November 2016)

Hierdie bundel herinner aan die tegnieke wat Dan Roodt gebruik het in Kommas uit ‘n boomzol (1980) toe hy die gek geskeer het met die verskyning van Opperman se Komas uit ‘n bamboesstok(1979). Veral waar die "meisies en moffies" in die letterkundige laboratorium aan DJO se lippe gehang het.

Maar om die spot te dryf met die ikoon, moet jy die stylfigure van daardie digter goed begryp. (Ons onthou immers die vraelys in Roodt se bundel). J.C. Kannemeyer het indertyd gemeen dat daar nie een goeie gedig in die bundel is nie. Missing the point completely.

Die bundel is heldergeel uitgegee. Over the top. Jou konvensionele digkuns-leser sal waarskynlik ontstig raak oor die aanslag.

Maar om hierdie soort gedig te skryf, moet jy die kanon ken. Die gedig “Antjie Krog wat wag om te gebeur” (31) is ‘n voorbeeld hiervan. Die ironies-siniese einde som dit alles op:

[...] 
die naaste wat ek nog aan die waarheid was
is Antjie Krog in ‘n swart swembroek
op ‘n duikplank wat gereedmaak om te spring
maar die oomblik voor die sprong stop
as sy besef sy’t nog
haar ronderaambril op.

Dit is 'n bundel wat handel oor die digkuns en die betekenis van die digkuns word ook as 'n vermorsing van tyd gesien. Tog word daar in gesprek getree met ander (ouer) digters: C.M. van den Heever, Barend J. Toerien, Adam Small, Breytenbach.

Dis hierdie ambivalensie wat die bundel laat voorstu.

Die gedig as artefak word belig in 'n polkakol-vers (44).

Alles staan in die teken van nabootsing, afkyk (die outentieke nabootsing van 'n Gucci-sak, 72). "Die resiesfiets en die reier" (na Paul Fattaruso, 55) speel met hierdie gegewe van die oorspronklike vers wat in die naskrywing 'n nuwe betekenis kry.

Instagram maak ook hier die buiging, neffens die fotostaatmasjien, selfone, YouTube, emoji's. Ja, ook Google, die grootste, oopwaaierende gedig.

1977

dubbele moordenaar Gary Gilmore se korneas
is na sy teregstelling op twee ontvangers oorgeplant.
sou hulle nog sien na byna veertig jaar? flits daar
ooit voor die oë 'n onbekende beeld verby, 'n bord
vol steak en aartappels, onaangeraak, ingebrand
op DNS, dié polaroid-skoot van 'n laaste maal

Polaroid en Warhol. Vinnige kuns. Maar agter die afdruk, skuil daar baie kennis en navorsing. Daar word geboogie-woogie met Ingrid Jonker en 'n skitterende satire gepleeg oor Thamsanqa Jantjie oor sy "handgebare" (104). In verskillende weergawes - met motto's selfs van Slavoj Žižek, word die bedrogspul van 10 Desember 2013 aan die kaak gestel. Die "tye en swye" verwys weer na 'n ander postmoderne bundel.

"Even if they call me a fake, I am the great fake because I expose what is going on in the goverment and the system". Dus waar die keisers en die kiesers ewe kaal is.

In die afdeling Dubbelfoute word Anne Carson aangehaal: "Metaphors teach the mind to enjoy error. There is an ancient Chinese proverb that says: brush cannot write two characters with the same stroke. And yet that is exactly what the good mistake does." Ons ken ook Roman Jakobson se uitsprake oor metafore en metonimia wat lyk soos die denkwyse van 'n persoon wat ly aan afasia!

Foute, opsetlike spot met plagiaat, pastiches, copy & paste word hier uitstekend aan die kaak gestel. Chester Carlson, en xerografie, kom aan bod in die openingsgedig. (Chester Carlson – Wikipedia. https://en.wikipedia.org/wiki/Chester_Carlson Besoek 9 November 2016)

Die liefdesverse tref in die maag. 'n Bloedhou soos die digter bely. Liefdesverse bly maar halfhartige pogings; dis al soveel keer gedoen!

Die digter, reklameer die publisiteitspamflet, neem die rol van monnik in die middeleeuse skriptorium aan. Uit die gevormde kuns is daar wél kuns te pleeg. Die gedig word letterlik ook artefak, soms skeefgedruk, soms gekleurd en die duidelikste interteks is Willem Boshoff se KykAfrikaans (1980) met sy visuele en konkrete gedigte.

Kyk byvoorbeeld na sy titels:

 1. Aan 'n Lyntjie
 2. Eenduisend en Een
 3. Gekrap
 4. Getikte Kwashale
 5. Hekelskrif
 6. Pro Patria
 7. Skrifskerwe
 8. Stadsplaas
 9. Verskanste Openbaring
10. Vierletter Woorde
11. Vlegskrif
12. Ydele Herhaling van Woord

Van hierdie gedigte is later uitgestal as silkscreens. Sy bundel was 'n homage en 'n vaarwel aan die tikmasjien. Waarskynlik is Slippers se bundel 'n homage aan die fotostaat (wat soms ook kopiereg-oortredings impliseer). Poetry as garbage (in navolging van Elizabeth Bachinsky), maar ook as artefak dus. Soms is die gedig as fotostaat helder; soms is die ink al op. Soms skeefgedruk.

Opperman was immers ons eerste postmodernis - veral met Kuns-mis, 1964 - en hierna het vele digters dit verder geneem.

Motto's word uit die pop-wêreld en ernstige letterkundige geneem: post-postmodernisme demokratiseer en ver-Trump immers alles. Die geel aanslag is pure Andy Warhol, 'n popkunstenaar bekend vir sy afdrukke, maar ook vir sy roemryke loopbaan met aktrises en die skep van 'n nuwe identiteit. Bibi Slippers se persona op Litnet en in onderhoude is speels, manies – jy kan die gedigte nie loslees van die digter as jongleur nie. Sy debunk dan ook die gedagte van die digter as stil, eensame, misverstane figuur. Diegene wat in die verlede geïrriteerd was met 'n haar openbare persona en uitstal van haar self (soms met haasoortjies, soms op 'n bed) sal moet toegee: hierdie skiewie in die skriptorium weet van dig!


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Ingrid Jonker - Versamelde gedigte (2016)

$
0
0

Ingrid Jonker - Versamelde gedigte. Human & Rousseau, 2016. ISBN 978 0 7981 7467 1

Resensent: Joan Hambidge

Ingrid Jonker is ‘n ikoniese digter. Soos Sylvia Plath en Anne Sexton. Nes die Russiese digter, Marina Tsjetajeva. Hulle lewens is verbind aan hul bloedige digterskappe wat in selfdood geëindig het. Lees jy die lewens raak in die gedigte, sien jy die lewe as ‘n litteken. Jy kan nie die verse los van die tragiese eindes lees nie.

Trouens, die teks is die grafskrif met sy geboorte- en sterftedatum soos die digter Johan van Wyk in sy studie aangetoon het. Al vier hierdie digters bly muses veral vir vrouedigters. Hulle bekoor jong lesers. Hulle is soos ‘n Lorelei. Hulle word mites. Oor die impak van Jonker op Johann  de Lange se digkuns het ek al uitgebreid geskryf op my blog. (Woorde wat weeg. Studie/ Die digter as Lorelei: Die fenomeen Ingrid Jonker en haar tweede lewe in enkele verse van Johann de Lange)

Jare terug het hierdie leser 'n kursus aangebied ("Die gedig as wond") waarin Jonker, Sexton en Plath psigoanalities beskou is.

Die Versamelde gedigte is sopas her-uitgegee deur Human & Rousseau met 'n leesverslag van Danie Marais wat argumenteer dat haar gedigte as selfstandige gedigte gelees kan word. Sy het dus beduidende gedigte geskep ten spyte van haar verliese; nie as gevolg daarvan nie. Hy sluit af met die oordeel dat haar gedigte as gedigte bly staan:"anders sou goeie poësie so volop soos trane gewees het". Op die agterblad staan "Ramkietjieliedjie" (89):

Net waar ek gaan
is 'n pad voor my oop
wat skerp uit my oë
soos 'n litteken loop

Hoe dag ook verblou
of rooikam om my
ek volg net my hartseer
en die naambord is jy

Die Amerikaanse digter James Dickey het jare gelede hom sterk uitgespreek teen die ophemeling van Sylvia Plath se verse en dit as "pateties" beskryf. Destyds het ek dit skokkend en gemeen gevind. Lees 'n mens Jonker net as poësie is daar uiteraard 'n handvol sterk, liriese, aangrypende, meesleurende verse. En vele lesers ken van haar gedigte uit hul kop uit. Daar is ook lesers in Afrikaans wat soos Dickey krities staan oor die aanprysings.

Sy is gebloemlees, vertaal deur Antjie Krog en haar voormalige minnaar, André P. Brink (Black butterflies) en vele palinodes, pastiches en teensange is oor haar gedigte geskryf. Sy is eweneens deur dramaturge (o.a. Saartjie Botha en Deborah Steinmair) ontleed en biografiese studies het verskyn deur Louise Viljoen en Petrovna Metelerkamp. Gerrit Komrij het die dokumente gekoop en Portugal toe daarmee gegaan en daar is songs oor Ingrid Jonker o.a. deur Laurika Rauch en Chris Chameleon. 'n Brieweboek, Vlam in die sneeu, het eweneens die komplekse verhouding tussen haar en Brink ontsluit. Daar is films oor haar lewe. "Die kind" is in die parlement voorgelees.

Daar is waarskynlik meer gedigte oor haar lewe en tragiese selfdood geskryf as oor enige ánder figuur in Afrikaans.

Gestel hierdie bloemlesing sou ek kon optel sonder om iets te weet van haar konflik met haar geliefdes en haar vader, en haar selfdood, watter gedigte sou uitstaan?

"Bitterbessie dagbreek", "Korreltjie sand", "Toemaar die donker man" , "Die kind wat doodgeskiet is deur soldate by Nyanga", "Moenie slaap nie", "Ek herhaal jou", "Windliedjie", "By die Goodwood-tentoonstelling", "Ontvlugting", "gistraand", "mamma" en "Waterval van mos en son", sou ek as uitsonderlik aanteken.

En hierdie verse is dan ook deur die tyd bewese, klassieke, gekanoniseerde verse. Op haar beste kan sy verdriet en ontgogeling raakvat met min woorde:

die liefde is niks anders
as die verlange

Hierdie bloemlesing is gebaseer op die derde en hersiene weergawe van die Versamelde werke. Daar is 'n handtekening voor in die bundel en 'n pragtige omslagfoto waar sy gelukkig lyk en in die veld lê. Dit praat weer met 'n voorblad waar Krog ook op 'n voorblad in die veld staan.

Danie Marais se flapteks stip vele aspekte van die kompleksiteite aan van hierdie b(r)oeiende digterskap.

Die lewe en digkuns by Jonker is wat my betref vinkel en koljander.

Koop dit. Amen.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld

Duane Aslett - Goudduiwel (2016)

$
0
0

Duane Aslett - Goudduiwel. Queillerie, 2016.

Resensent: Joan Hambidge

Die roman Goudduiwel vertel twee verhale oor en rondom die Krugermiljoene. Die een in die tyd van Paul Kruger; die ander verhaal is modern en betrek ’n forensiese ondersoek. Agent Rex Reynecke van die Valke is verlief op die beeldskone Alicia. Haar broer Niel Campher verdwyn.

Alles in hierdie roman werk met ’n dubbelvertelling en -moord. Verlede teenoor hede. Waarheid teenoor legende.

Enige leser wat tans moderne TV-reekse volg, sal weet hoe hierdie dubbelloop-sake tans aan die orde van die dag is.

Duane Aslett het gedebuteer met Skoppensboer, en was ’n polisiebeampte, staatsaanklaer en forensiese ondersoeker. Sy navorsing is dus behoorlik gedoen.

En die roman lees vlot. Die skrywer ken bepaald die kodes van die misdaad/speurverhaal. Daar word vele leidrade gegee en slimmighede ingebed (waarskynlik sal sommige lesers voel dis dalk te veel) wat die storie laat voortbeweeg.

Die vrouekarakter vind die manskarakter onpeilbaar weens sy werk. Hierdie soort verhaal werk altyd met ’n spanning tussen die man met ’n missie versus die vrou wat oënskynlik oningelig is, maar tog meer weet as wat hý besef. In hierdie verband is die seksistiese wyse waarop vroue uitgebeeld word binne die subgenre bekend. Vroue maak hier die mans se ritssluiters los as gewillige seksobjekte. Maar net vir ’n kort wyle, dan het hulle agentskap. Soos in James Bond-flieks soos From Russia with love.

As liefhebber van die geskiedenis van die Anglo-Boereoorlog en Paul Kruger het die roman my geboei. En as leser van speurverhale (en regte speurverhale, nie die getjommel wat hier te lande as speurverhale paradeer nie), word die klassieke Edgar Allan Poe se The Purloined Letter vermeld, boeke oor die Krugerwildtuin en selfs die indertydse Prins van Pretoria, ’n hartseer grap. Daar is hofsake, verwysings na die Ponzi-skema, ’n studie oor Gerard Moerdijk wat ’n rol speel, and wait for it, R. I. Venter se M-verhandeling: “Die relevansie van forensies-linguistiese getuienis vir doeleindes van outeursidentifikasie by witboordjiemisdade” (NWU, 2014). Alexandre Dumas is ook hier ingebed.

The Purloined Letter is ’n belangrike kode: jy kan dikwels nie dít sien wat reg voor jou gebeur nie. Geen wonder Lacan en Derrida het sulke lange kontemplasies oor hierdie teks geskryf nie! Die roman was vir hierdie leser ’n leeservaring wat my buite die teks na ander belangrike kwessies geneem het.

Die roman werk met die kodes van oëverblindery, geblinddoekte seks, forensiese bedrog, vals bodems, voorgee, fasades – die sogenaamde mise en abyme.

Landskappe word uitstekend verbeeld: Kaap Vidal, Skukuza, ensomeer. Die impak van posttraumatiese stres en die speurder se ontkenning by die besoek aan ’n sielkundige oortuig bepaald.

Goeie fonds die dowe Diana en haar moeder met die troefkaart. En Diana is nie wie of wat sy blyk te wees nie.

Die legendes rondom die Krugerponde is van uiterse belang. So wees gewaarsku: Goudduiwel is ’n boek waar die duiwels onder aan die draai is!

Hierdie leser is werklik spyt dat sy indertyd nie Skoppensboer(2014) gelees het nie. Dit is bepaald ’n skrywer om dop te hou!


Die voorblad bemark die boek egter nie heeltemal reg nie.

Duane Aslett

Joan Hambidge - The Runaway Jury

$
0
0
El Camino de Santiago

Daar is geen kopiereg op idees nie.

Nou onlangs word daar op Facebook geskryf teen NB-uitgewers wat 'n skrywer se idee sou steel oor die Camino. Die verskillende reaksies op Facebook behoef 'n repliek.

Verskeie mense het al die Camino gestap en daaroor geskryf. ( Walking the Way - National Geographic Magazine. Besoek 20 November 2016)

Ek ken verskeie mense wat ook die spirituele pad geloop het en een het selfs grappend vertel hoe hy saans met 'n taxi vertrek het na 'n hotel! Die volgende oggend was hy weer op sy pos.

Nou as 'n skrywer se boek afgekeur word, is dit 'n pynlike saak. Veral as dit jou ten ore val dat iemand anders se boek aanvaar is en joune nie.

Dit beteken gewoon daardie persoon het beter geskryf, is meer bemarkbaar en val binne die uitgewershuis se idee van wat 'n nie-fiksionele verslag of fiksionele verslag moet behels. Uitgewershuise is finansiële instansies en nie terapie-sentra nie.

Soek eerder na 'n ander uitgewershuis wat jou boek wil publiseer.

Marita van der Vyver

Nou onlangs het Marita van der Vyver in 'n onderhoud bely dat sy graag 'n roman in Amsterdam sou wou situeer, maar Etienne van Heerden en Marlene van Niekerk het dit reeds so goed gedoen dat sy eerder 'n ander stad gekies het. (Oor middeljarigheid en ontgogeling | Netwerk24. Besoek 20 November 2016)

Die storielyn praat ook implisiet met André P. Brink se Die ambassadeur.

Misverstand vertel die verhaal van Willem Prins, ’n middeljarige Suid-Afrikaanse skrywer wat ná jare sonder veel sukses in Suid-Afrika in Parys is om ’n boekie erotika, wat hy tot sy skaamte onder ’n skuilnaam geskryf het, bekend te stel. Hier ontmoet hy vir Jackie, ’n jong Suid-Afrikaner wat as au pair werk. Dit is Jackie wat saam met hom is dié Vrydagaand die 13de toe terreur in Parys losbars.

Sy ken Parys goed, en Amsterdam is al "gedoen" deur ander skrywers. Maar niks sou enige skrywer verhoed om wel 'n roman in Amsterdam te laat afspeel nie. Trouens, gaan kyk hoeveel ander skrywers in Engels het al hierdie stad as back drop gebruik.

Soos Ian McEwan in 1998.

Daar is terloops ook nie kopiereg op titels van romans nie. Die Judaskus(1998) was my titel vir 'n roman wat Rudie van Rensburg heraktiveer het met 'n speurverhaal. Syne heet Judaskus in 2015. Dit het net lesers weer attent gemaak op die bestaan van die eerste roman.

So gestel daar verskyn drie boeke tegelykertyd oor die Camino.

Dan sal kritici vergelyk wie het die beste boek geskryf en kyk op watter lesersmark is dit gerig. Dis al.

Deon Meyer, Chris Karsten, Rudie van Rensburg en al die verskillende speurverhaalskrywers wat tans in Afrikaans skryf, skryf 'n eiesoortige speurverhaal - gerig op verskillende lesersbehoeftes.

Is dit so goed soos Agatha Christie? P.D. James? Edgar Allan Poe?

Besluit self.

Maar voor jy op Facebook klim en deel word van die "runaway jury", moet jy eers na die beginsels kyk van die saak waaroor jy baklei. (Runaway Jury Law & Legal DefinitionBesoek 20 November 2016). 

© Joan Hambidge


T.T. Cloete Die groot misterie van twee vroue

$
0
0

T. T. Cloete - Briewe aan Anna. Pooka uitgewers, 2016. ISBN 978 0 620 661 45 4

Resensent. Joan Hambidge

I

Op die voorblad van hierdie pragboek is daar ‘n haarlok van die digter T.T. Cloete se vrou, Anna. In ‘n brief, gedateer 17 Desember 2007, bely die digter dat hy hierdie gerfie hare afgesny het toe die geliefde in matriek was. Dit is al wat hy van haar liggaam oorhet na haar dood. Dit is vandag nog net so intakt as toe: mooi, goudkleurig en vars.


Oor die impak van die afsterwe van hierdie geliefde vrou (wat hy in sy bundels op verskeie maniere aanspreek, ook in ‘n pynlike lyksdig oor die verskillende rokke wat sy in haar lewe gedra het) kan afgelees word in die verskillende briewe – geskryf tydens haar siekte en na haar vertrek.

Jy is steeds die digter in my, na jou dood. Jy is nog.

Of, vra hy, is ek die digter in jou.

Hiermee aktiveer Cloete ‘n eeuoue-gesprek tussen digter en sy objek-van-inspirasie. Cloete het Dante deurgrondelik geken en die hele gesprek met vroue is van kardinale belang in sy digkuns. Hieroor het Heilna du Plooy uitstekend geskryf. En Cloete noem dit tereg briljant op bladsy 335. (Versindaba » Blog Archive » Heilna du Plooy. Die deurskynende kelk – Oor vorm en inhoud in die poësie van T.T. Cloete. Besoek 22 November 2016).

II

Die skryf van die brief of die hou van ‘n joernaal of dagboek hoort tot die tradisie van intieme literatuur. Daar is uiters boeiende voorbeelde in die wêreldletterkunde, soos onder andere Franz Kafka se Briewe aan Felize (uitgegee deur Penguin as The Letters to Felice); die ongelooflike briewe van Saul Bellow (uitgegee deur Penguin) waarin hy met bekende intellektuele en vriende in gesprek tree.

Die brief (dagboek/joernaal) maak van die leser ‘n voyeur. Jy lees iets wat in die eerste instansie bedoel was vir ‘n ander persoon, maar die oomblik wanneer sulke briewe of dagboeke gepubliseer word, word die intieme, aangesprokene se posisie as enigste leser ópgehef. Die leser wat die boek koop of uitneem in ‘n biblioteek identifiseer dan met die aangesprokene. Hieroor het Roland Barthes uitvoerig geskryf in Fragments d’un discours amoureux (1977) wat deur Richard Howard vertaal is as A Lover’s Discourse.

Ek verwys opsetlik na Kafka, Bellow en Barthes om iets te illustreer van die Cloete-briewe. Kafka en Bellow se briewe verklap iets van hul sieninge oor kuns, oor watter rol die kreatiewe in hul lewens gespeel het. Barthes, die bekende teoretikus, neem ‘n bekende tema in die letterkunde en musiek wat hy verteoretiseer.

Cloete se lewensmaat was sy muse. Sy het eweneens opofferings gemaak tydens sy Nederlandse studieverblyf en teruggekeer Suid-Afrika toe om geld te verdien sodat haar geliefde man verder kon studeer. Hulle was lewenslank verbonde.

Sy was die eerste leser van sy gedigte. Daar is ook vele gedigte oor haar. O.a. die prag-verse Uit die wit lig van my land gesny. Vir Anna (2010).

Ofskoon die digter hierdie briewe as lekebriewe beskou het, is dit egter meer as dit. Dit werp lig op sy kreatiewe denke, sy menswees en dit kan ook gelees word binne die kader van trauma-letterkunde. Persone wat dus ‘n geliefde aan die dood afgestaan het, sal baat vind by hierdie proses van verwerking.

Die “afwesige-aanwesigheid”. Die dood van nabye persoon het soms tot gevolg dat die agtergeblewene daardie verlies so internaliseer dat die persoon deel word sy of haar psigiese Umwelt. 

Die aktrise Jana Cilliers het dit só verwoord in ‘n onderhoud met Willemien Brümmer.

Ná Flynn se skielike dood in sy slaap in 2007 het sy ervaar dat die liefde voortgaan, ongeag. “Ek onthou ek was altyd so skrikkerig ná Bill se dood, want dan dink ek ek kan nie grappe vertel nie en ek kan nie mense gemaklik laat voel nie – inteendeel, ek laat hulle ongemaklik voel – en wat gaan ek doen as hy nie meer daar is nie? Dit was eers later dat ek besef het die omvang van ons verhouding was so dat hy eintlik net voortleef. Ek’s nie hy nie, maar hy’t homself nou so half ver-my.” (Ete met Jana Cilliers/ Die sinvolheid van diealledaagse | Netwerk24. Besoek 23 November 2016)

III

Wie is die twee vroue?  En wat behels hierdie misterie?

In die inleiding verduidelik Cloete hoe hy met Anna praat in ‘n bonatuurlike infra- of ultrakommunikasie (16).

Hierdie brieweboek is ‘n besinning oor die dood en hoe mense bly leef na hul dood in ander vorme, in die herinnering, in afbeeldings …

En ja, die dood word hier, soos in klassieke tekste, as ‘n vrou voorgestel.

Kort voor Cloete se dood, ervaar ek ‘n pynlike afskeid van hom, ‘n digtersvriend deur soveel jare. Dié vers is in Indeks(2016) opgeneem:

Ikarus

About suffering they were never wrong,
The old Masters: how well they understood
Its human position:
W. H. Auden

Vroegdag in ‘n gastehuis langs die see,
Auberge Burgundy te Hermanus,
luister ek na Vers & Klank
met verse vir die digter
van die jukstaposisie
en eiesoortige idiolek.
Teen die muur ‘n skildery
so reg uit Miró, na links ‘n skynsel
uit ‘n modieuse lamp. Jy vra my leser
of ek die see kan hoor?
Bo die oseaan, magtig en onmeetlik
bo die gedruis by die hawemuur
net buite sig klink die kreet op
van ‘n jong seun wat gly en
val. Het enigeen gehoor?
Sy naam word dalk verewig op ‘n plaket.
Die voordragstem verduidelik wat ‘n troop
behels in die donker nag. Gedigte stap
vir hierdie digter jambies deur die vertrek,
vir hom van die baie ryk ure en allotroop,
enkele weke voor sy dood.
‘n Ongeleefde lewe, onvervuld
laat onvermydelik ‘n merk.
Hierdie gedig ‘n letsel, yk
van diegene wat ongevraag,
te vroeg vertrek en net deur slapeloses
aan die vergetelheid ontruk kan word.
Ook vir hulle wat daardie dag
die “forsaken cry” moes aanhoor.
Onvertaalbaar hierdie ellende.
Ek beroep my in onmag op Auden.

Die briewe begin by die Universitas-hospitaal (2002) met die besef dat sy geliefde vrou gaan sterf. Daar word deurgaans verwys na die siekte en die impak van die lyding op die digter se gemoed. Op 8 Maart 2010 is daar ‘n inskrywing oor haar hartaanval (190). Besonderhede oor liggaamlikhede word vermeld (83). Die terloopse verwysing na Riëtte se dood (waaroor Lina Spies ‘n lieflike vers, “Op die dood van Riëtte”,  geskryf het, ) ruk aan die hart. Die moeder het gevra hy moes ‘n lokkie van haar hare afsny, wat sy nooit opgeëis het nie. Na Angeline se dood het hy dit begrawe in die agterplaas. Dit was ‘n motorongeluk en Cloete moes die kind se lyk gaan uitken.

IV

M.E.R.

Daar is baie belangrike kodes in hierdie teks. Soos Elizabeth Kübler-Ross se klassieke teks oor die verskillende stappe van doodsaanvaarding. J.C. Steyn se deeglike biografie oor MER word ook vermeld en die “nugtere aanvaarding van die weggaan” (149).

Viktor Frankl is ‘n ander kode; hy en sy vrou wat opgesluit was in verskillende Nazi-konsentrasiekampe, maar het met mekaar gekommunikeer en sodoende aan hul lydende liggaamlikheid ontsnap.

Pleroma versus soma word eweneens ‘n tersaaklike kode vir die begryp van hierdie teks. Die geestelike, spirituele dimensie help ons om die ligaamlike pyn of lyding te kan oorwin.

Erich Fromm se The Art of Lovingword vermeld – want hierdie brieweboek is ‘n liefdesboek.

V


Anna (met die bynaam Bessie; ook Anna Parenna; liewe ou siel; Anna Patat) word intiem aangespreek. Die literator-skrywer Heilna du Plooy, ‘n vriendin, is ook hier en sy het deur die jare insette gelewer. Cloete se erkentlikheid jeens ander kom na vore (hy verwys na Nic de Jager se musiekprogram en sy fabelagtige kennis). Hy is bewus van kleinlikhede en naywer – en hoe mense “nagaande” is wanneer jy bekroon word (354). Hy gee erkenning aan jonger digters en bedank hulle vir hul belangstelling of toesendings van boeke.

Dit is ‘n boek wat iets verklap van die binnewerkinge van ‘n groot gees en hoe hy in hierdie tyd van wanorde, soos hy dit noem, afskeid neem; en bestendig. Sonder sy geliefde is hy ‘n halwe mens (190).

Die invloed van sy digterskap as ‘n “poet’s poet” is nog nie volledig bepaal nie.

VI

Steun van sowel die ATKV as die Hiemstra trust het die publikasie van hierdie teks moontlik gemaak.

Hierdie boek met briewe, is postuum uitgegee deur Annekie Botha Du Plessis en kan bestel word by Posbus 48445, Kommetjie, 7976 e-pos: unicorn@icon.co.za.

Jacomien van Niekerk - Baie worde: Identiteit en transformasie by Antjie Krog (2016)

$
0
0

Jacomien van Niekerk - Baie worde: Identiteit en transformasie by Antjie Krog. Van Schaik, 2016. ISBN: 9780627035302

Resensent: Joan Hambidge

Die digter Antjie Krog is enige dosent se droom in ‘n kursus oor die feminisme. ‘n Mens kan volledige vrouwees karteer aan die hand van haar gedigte.

Krog as openbare figuur en politieke kommentator lok dikwels reaksie uit. Sy is duidelik ‘n persoon met ‘n gewete en in haar transformasie-trilogie Country of My Skull (1998), A Change of Tongue (2003) en Begging to be Black (2009), neem Krog standpunt in teen kolonialisme, onderdrukking en hoe ons binne ‘n Westerse samelewing (in Afrika) reageer teen die Ander. Jacomien van Niekerk se boek kyk dan na kolonialisme/postkolonialisme, “ras”, “identiteit” in Afrika en sy lewer inderdaad ‘n bydrae tot die komplekse en aktuele diskoers.

Oor Krog het literatore soos Willie Burger, Anthea Garman, Helize van Vuuren, Louise Viljoen, Johan Jacobs, en vele ander geskryf. Sy bly ‘n fassinerende subjek en ook digters reageer op haar werk in die vorm van palinodes en teensange; nes sy op haar beurt weer reageer op Eybers, Sexton, Erica Jong, Plath, e.a.

Krog is omstrede. Haar onlangse uitsprake oor armoede en die verdeling van rykdom het ‘n debat ontlok. Met Krog is die eerlikheid en direktheid nie-onderhandelbaar.

Die titel “baie worde” verwys na ‘n gedig uit Kleur kom nooit alleen nie(2000):

“boot”
nie van wees nie
maar van word
baie worde
verby verlore en ontheemde ruimtes
       baie baie worde

En dit som die studie perfek op: die baie worde; die baie selwe en belewenisse. Die private versus die openbare; die digter as pryssanger, as vertaler – die ander tongval, die oopskryf van Afrika, die digter as gewete van die volk. Worde aktiveer ook baie woorde …

Jakes Gerwel het haar beskou as ‘n Afrika-intellektueel en die onverwiklike debakel rondom Met woorde soos kerse (2002) het veelal bewys dat sy dit is: die tekste wat sy vertaal en teruggee, aktiveer ‘n Afrika-kollektief. (Hieroor het Helize van Vuuren insigryk geskryf in haar studie A Necklace of Springbok Ears, by SunMedia uitgegee, waar sy wys hoe vér die Boesman-gesprek teruggaan in Afrikaans en Stephen Watson se aanklagte verkeerd bewys.)

Met Jacomien van Niekerk se boek word die gesprek voortgesit. Vir my is Krog se drieluik minder as haar digkuns. Sy is myns insiens dikwels te emosioneel, maar terselfdertyd is my standpunt: dit wat die digter laat gedigte skryf, moet ons eer. En haar belangrike posisie kan nie ontken word nie.

Van Niekerk meen dat dit inkorrek is om Deleuze en Guattari van Eurosentrisme te beskuldig (38). Nou as kenner van hul werk wonder ek hoe sy so ‘n stellige uitspraak kan maak as sy self in ‘n voetnoot op bladsy 26 erken dat sy op ‘n artikel van Willem Anker steun en “geen aanspraak maak op volledigheid nie”!

Die nomaad/risoom word binne ‘n ander konteks gebruik en hierom het Spivak juis hierdie kritiek geopper.

Krog se gebruik van terme soos mineurwording, die nomaad, en dies meer, moet myns insiens eerder as ‘n kreatiewe reaksie as ‘n filosofiese besinning gesien word. Dieselfde geld wanneer sy Adorno aanhaal in Country of my skulldat daar geen poësie moontlik is nie na Auschwitz. Digters as skrywers van nie-fiksionele tekste (faksie) reageer eerder kreatief en nie wetenskaplik nie.

Deleuze en Guattari se skisoanalise is direk gerig teen Lacaniaanse denke wat Eurosentries begrond is.

Wanneer sy egter oor prysliedere skryf, die invloed van Biskop Tutu op Krog se denke, Krog as imbongi, en die kompleksiteite van Afrika ondersoek, is sy op vaster voet. (‘n Mens sou tog dat sy Luc Renders oor Relaas van ‘n moord moes aanvat, p. 54. Die kwessie van faksionalisering val egter buite die opset van die studie en by ‘n eerste aanhoor van hierdie lesing indertyd by ‘n kongres, was hierdie leser bewus van ’n vooropgestelde interpretasie van dié Neerlandikus.)

Een setfout op bladsy 56: verantwoordelikmoet lees verantwoordelikheid. Van Niekerk wys op ‘n naamwoord-fout by Krog op bladsy 63, ‘n bewys van deeglike navorsing binne Afrika-tale.
Vir die hedendaagse gesprek oor ubuntu, witheid en dekolonisering, is hierdie boek wel tersaaklik en aan te beveel. Oruka, die Afrika-filosoof, se werk en die besoek aan Koning Moshoeshoe se graf, is openbarend. Die hele studie weergalm met die sub-teks hoe wit en swart verskillend na die wêreld kyk.

By Krog is daar 'n sterk gender- en ras-script.

Met ‘n pragtige voorblad na ‘n tekening van Anton Kannemeyer, is hierdie nommer 6 in die Talatala-reeks.




(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)


Joan Hambidge - Inside Deep Throat

$
0
0
I

In 2005 word 'n dokumentêr vrygestel oor die film Deep Throat, 'n bekende chic porno-film met Linda Lovelace, die meisie wat net 'n orgasme kan bereik met orale seks, omdat haar klitoris in haar keel sit.

Andy Warhol het oor hierdie kultusrolprent geskryf en in 1980, met my eerste besoek aan New York, gaan kyk ek dit op 42nd Street saam met die film The Devil in Miss Jones. Twee kortfilms wat die porn-genre verander: daar is 'n storie; 'n narratief dus.

Wat die dokumentêr fassinerend maak, is die uitsprake van Erica Jong, Camille Paglia, Norman Mailer, Gore Vidal, Hugh Hefner, e.a. oor die seksuele rewolusie. Paglia is heel uitgesproke: die verwoede verbanning en sensuur op die film bewys haar insiens dat die seksuele rewolusie nog nie plaasgevind het nie. En die feministiese reaksie dat porno verban moet word, bewys dat feministiese die grootste sensors in die gemeenskap geword het. Paglia se werk - soos Sexual Personae, Vamps & Tramps, en meer - bly inspirerende leesstof. Sy is dikwels krities oor feministe wat vrouens - volgens haar - van regte ontneem (Camille Paglia - Wikipedia. Besoek 3 Desember 2016).

Harry Reems

Maar hier moet ons anders kyk na die film en die impak wat dit op Linda Lovelace en Harry Reems, haar mede-ster se lewens gehad het. Lovelace, so beweer sy later, was gedwing om die film te speel deur haar man en die blou merke op haar lyf kan dui op aanranding. Reems is deur die FBI inhegtenis geneem omdat hy obseniteit sou versprei het. Hy spring wel tronkstraf vry danksy goeie regshulp. Wanneer hy ná die film aansoek doen vir 'n rol in Grease, word hy afgewys. Sy reputasie as porno-ster tel teen hom.

Hy vertel in die film hoe drank en dwelms sy lewe verwoes het. Hy verloor al sy vriende, sy huis, tree later in ander sleazy rolprente op, maar is te dronk om veel reg te kry.

Sowel hy as Lovelace is nooit vergoed vir die 1972-film nie. 'n Skamele $20 was die vergoeding. Ander mense het skatryk geword uit die film wat in 'n Florida hotel verfilm is. Lovelace raak later bekeer (soos Reems) en sterf in 'n motorongeluk - 'n ongelukkige persoon volgens die kommentaar van haar suster en jeugvriendin in die dokumentêr.

Nixon se anti-porno-kampanje het reg in die hande van die Republikeine gespeel. Hoe ironies dat die Watergate-debakel sý Deep Throat sou word toe Bob Woodward en Charl Bernstein sy ongerymdhede aan die kaak gestel het (Deep Throat (Watergate) - Wikipedia. Besoek 3 Desember 2016).

II

Wat hierdie dokumentêr skitterend illustreer, is hoe die politiek van die dag 'n impak gehad het op reaksie op die film. Ook die verandering in mores het Lovelace en Reems (Dr Young) se lewens verander. Indien die seksuele rewolusie werklik plaasgevind het, sou hulle nooit skaam gevoel het, of sou dit hul lewens nie só verander het nie. In 'n tyd van uitbundigheid was dit "reg" vir beide. Daarna kom harde realiteite - veral vir Reems wat sou kon tronk toe gaan.

Jack Nicholson en Warren Beattie is sy bondgenote van vryheid van spraak en optrede toe die bioskoop op 42nd Street afgebrand word en die verskillende rolspelers geviktimiseer is.

Dan is daar ook die film Lovelace (2013) waarin haar lewe met Chuck Traynor onthul word. (LovelaceBesoek 3 Desember 2016).

III

Marlon Brando en Maria Schneider

Sopas is daar 'n polemiek rondom oor Bernardo Bertolucci se Last Tango in Paris, 44 jaar later. Met die heruitreiking is daar 'n youtube-insetsel, tussen die regisseur en Brando, dat Maria Schneider onbewus was van wat presies met haar sou gebeur in die beroemde bottertoneel met Marlon Brando.

Die regisseur is in 1972 voor die hof gedaag met 'n opgeskorte vonnis van vier maande. Kopieë van die prent is vernietig en Schneider is in 2011 oorlede.

Ook sý, soos Linda Lovelace, het die deelname aan so 'n rolprent betreur.

Sy was 19. Haar lewe is deur hierdie film verander. Sy was 'n dwelmverslaafde; daar was selfdoodpogings en het later erken sy is biseksueel en sterf aan kanker.

Die roem van die film het haar glo geskend. In haar eie woorde:
I was rock 'n' roll. About drugs, we did not know at the time, it was so dangerous. There was an ideal, to change society and especially a thirst for novelty...I have lost seven years of my life and I regret it bitterly...I started using drugs when I became famous. I did not like the celebrity, and especially the image full of innuendo, naughty, that people had of me after Last Tango. In addition, I had no family behind me, who protect you ... I suffered abuse. People who come up to tell you unpleasant things on planes. I was tracked down, and I felt hounded ...(Maria Schneider (actress) - Wikipedia. Besoek 4 Desember 2016)
Met Brando het sy wel bevriend gebly. Sy was ook die meisie in The Passenger van Antonioni teenoor Jack Nicholson, uitgereik in 1975.

Nicholson weer was in 'n ander storm betrokke toe sy vriend Roman Polanski in sy huis 'n jong meisie verkrag het. Iets wat Polanski sy hele lewe lank sou agtervolg en waaroor hy berouvol praat in sy film-memoir (Roman Polanksi - A Film Memoir, reg. Laurent Bouzereau - 2013) met Andrew Braunsberg, 'n vriend en medewerker. Verfilm in Switserland tydens huisarres praat hy oor die holokaust, Sharon Tate, en sy films waarvan hy The Pianist as die beste uitsonder. Mense ken my nie, merk hy op. Ek is nie soos die pers my voorstel nie.


IV

Beide rolprente bewys hoe die klimaat verander het. Daar is 'n neo-konserwatisme, 'n afwysing van transgressiewe rolprente.

Ironies genoeg - ten spyte van simpatie met die twee vroue se ellende - bly beide films bakens in die geskiedenis van rolprentkuns. Dieselfde geld Polanksi se groot films soos Rosemary's Baby, Chinatown, The Pianist.

Helaas kan 'n mens nie meer een van hierdie filmtekste benader sonder die wete van die lewens wat verander is nie.


© Joan Hambidge


Joan Hambidge - Resensiekunde

$
0
0
"We live for books."
― Umberto Eco, The Name of the Rose

Jare gelede het HP van Coller voorgestel dat daar 'n kursus "resensiekunde" ingestel moet word. Hoe het daar nie stemme van verontwaardiging opgegaan oor hierdie voorstel nie. Punt is wanneer 'n mens tans resensies lees, wonder 'n mens of so 'n kursus tog nie iewers 'n impak sal hê nie.

Die belangrikste aspek van 'n resensie is dat jy 'n buikspreker moet wees vir die boek. Dit spreek vanself dat jou persoonlike byltjies en rusies nie hier uitgestal moet word nie. Of dwarsklappies soos "sogenaamde" intellektueles hoort ook nie tuis in 'n bespreking nie. Dis onnodig soos 'n uitspraak: "Intussen gaan ’n klomp mummies in die hall of fameregop sit." Goed, die resensent wil sy ekstase oor die bundel verwoord, maar maak dan 'n geniepsige opmerking. Wat die belangrike stellings wat hy oor 'n Bibi Slippers se debuut Fotostaatmasjien maak, ondermyn (Digterlike afdruk van 'n lewe verbeeld deur Charl-Pierre Naudé05 Desember 2016. Besoek 8 Desember 2016

In sy bespreking van Marié Heese se Maestro is Reinhardt Fourie minder gunstig as wat ek was in Beeld toe ek dit as 'n Bildungsroman tipeer het. Hy wys tereg hoe dit aansluit by 'n bepaalde tradisie:" In sommige opsigte sluit Heese se roman aan by Karel Schoeman se Titaan: ’n Roman oor die lewe van Michelangelo Buonarroti (2009) deurdat dit die gegewens oor die lewe van ’n bekende figuur neem en dit gebruik as ankerpunte vir historiese fiksie waarin die biografiese blinde kolle kreatief ingekleur word. Haar werk sluit ook aan by ’n baie groter literêre tradisie. Hier dink ek byvoorbeeld aan die uitstekende Cicero-trilogie deur die Britse skrywer Robert Harris (Imperium, 2007; Lustrum, 2009; en Dictator, 2015) asook Hilary Mantel se romans oor Thomas Cromwell (Wolf Hall, 2009 en Bring up the bodies, 2012). Maestro bewys weer, soos Heese se ander onlangse romans, dat sy grondige navorsing doen wanneer sy ’n historiese roman aanpak."

Hy is kennelik geïrriteer met die voorspellings oor Bernini se grootsheid en dat sy begripsvermoë onderskat word. Dit is egter die funksie van die Bildungsroman, die sogenaamde suspension of disbelief, dat jy moet saambeweeg met die ontwikkeling van die karakter in die roman wat voor jou lê.

Hy het voorts ook nie vrede met die uitbeelding van die homoseksuele priesters nie:"Aanvanklik het ek hierdie toneel nog gelees as ’n samevloeiing van enersyds die poging tot historiese akkuraatheid betreffende destydse houdings jeens seksualiteit, en andersyds die endemiese kindermolestering deur Katolieke gesagsfigure, maar die stereotiepe beeld van die vuil en perverse homoseksuele man wat ook in hierdie toneel ontplooi word – deurdat die ander priester se ontbloting van sy geslagsdele met die uitwalm van ’n “suur liggaamsreuk” gepaardgaan (97) – maak dit moeilik om so ’n lesing vol te hou."
Is dit 'n tema wat hom net as leser pla, of ignoreer hy die historiese feite? Op my beurt het ek dit nie as 'n stereotiepe beeld van die homoseksuele man gelees nie, net as 'n uitbeelding van 'n bepáálde figuur in die roman (Boekresensie/ Maestro deur Marié Heese | LitNet. Besoek 8 Desember 2016).

So die resensent as buikspreker, as iemand wat die reëls van die spel neergelê deur die teks aanvaar en die teks vir die voornemende leser of koper "oopmaak". Natuurlik mag daar kritiek wees; die kritikus behoort 'n onafhanklike posisie te beklee. Hierom behoort vriende/vyande mekaar nie te resenseer nie en moet belange verklaar word.

Die uitgewershuis, die skrywer, die voorskryfmark, die boekwinkel is almal rolspelers in hierdie komplekse proses. Die bemarking van die boek is iets waaraan die resensent nie blindelings moet deelneem nie, ofskoon 'n goeie resensie wel verkope kan beïnvloed. Ook 'n oordrewe, negatiewe en persoonlike aanval het dikwels die teenoorgestelde impak was wat die resensent in gedagte gehad het: dit sal juis leser laat nadink of dit geldig was om 'n skrywer eerder as 'n boek te resenseer!

Een van die belangrikste rolspelers is uiteraard die leser. L.I. Bertyn daardie skerpsinnige rubriekskrywer het destyds verwys na vernaamdoenery in die resensiekunde. Hy het ook 'n boek Lekkerkunde gepubliseer en het ten minste boeke gelees, anders as Crito wat onbeskaamd bely hy/sy het nie die boek gelees nie, maar dan lustig voortgaan om die resensie te kritiseer!

In 'n resensie-artikel kan geleerdheid via Lacan en Derrida uitgestal word. Die volgende stelling: "Dit is egter kritiek vir Lacan dat die psigoanalis in gedagte hou dat die geheelbeeld van haarself alleenlik in die vorm van ’n gestalt aan die subjek weergegee word, dit wil sê in ’n uiterlikheid (die spieël waarin die beeld verskyn is onteenseglik ’n objek buite die subjek)".

Dit is kritiek is 'n letterlike vertaling van "critical". Dit moet lees: belangrik. Die verwysing na die narsis word uiteraard deur Slippers se bundel verkeerd bewys: "En almal wat al in ’n verhouding met so ’n subjek probeer staan het, kan bevestig dat narsiste se verhoudings nóg gesond, nóg blywend is."

Narcisme is tans die modewoord van die tyd, soos wat psigopatie en bipolêr dit 'n tyd gelede was. En op 'n manier dryf Slippers die spot hiermee op Facebook.

Die volgende stelling met betrekking tot hierdie bundel vra nadenke: "Die gedig maak ook ’n subtiele argument daarvoor uit dat die afbeelding van die Ander in kuns ’n etiese daad par excellence kan wees."

'n Etiese daad?

Jouissance - by Lacan - dui op die onbewuste wat sowel aggressiewe, pynlike en plesierige ervarings as dieselfde ervaar. In Fotostaatmasjienis die aggressiewe liefdesverse en die belewenis van Small op dieselfde vlak dus. Die voortdurende spel met die self in hierdie bundel is 'n bevestiging van die Self; iets wat wegneem is deur die geliefde of die werklikheid. Die bemiddeling by Slippers vind deur taal, foto's en inskrywings op Facebook plaas.

In sy slot bevind hy:"In die geheel is Bibi Slippers se boodskap in Fotostaatmasjien dat ons ons reeds in daardie wonderland bevind – as ons maar bereid is om op te hou om ons blind te staar teen die beheptheid met die eie, die self, die identiese, die Ek en dieselfde; as ons maar bereid is om te waardeer dat ons in soveel opsigte fotostate van mekaar is – eenders, dog verskillend in ons veelheid. As ons maar bereid is om die raaisels in die spieël te bewonder en te vier ..."

As dit so was, sou daar geen oorspronklikheid in die kuns gewees het nie.

Jaco Barnard-Naudé

'n Interessante lesing wat Lacan oorkodeer op die bundel en wat net vir die ingeligte leser bedoel is. (LitNet Akademies-resensie-essay/ In die spieël met Bibi – Fotostaatmasjien (2016) deur Bibi Slippers. Besoek 8 Desember 2016).

Enige resensie wat tot nadenke stem, is belangrik en nie vermorste papier nie.

Daar is te min polemiek in Afrikaans, te min "oop gesprek" en te veel napratery oor resensies en nie boeke nie.

So gesien word die bedryf 'n fotostaatmasjien.

© Joan Hambidge


Susan Smith - Die aarde is 'n eierblou ark (2016)

$
0
0
Susan Smith - Die aarde is 'n eierblou ark. Protea Boekhuis, 2016. ISBN 978-1-4853-0716-7

Resensent: Joan Hambidge

Susan Smith se tweede bundel word bemark as eko-poësie, 'n terrein wat sy ook akademies afgebaken het. Die bundel bevat egter ook 'n besinning oor digterskap, en meer spesifiek, vroue-skryfwerk, via die natuur.

Eko-poësie kry tans geweldig aandag, hier te lande en wêreldwyd. Mary Oliver se aangrypende gedigte; in Afrikaans Martjie Bosman, Johann Lodewyk Marais, waar die gedigte eko-polities is. Dan is daar talle natuurdigters in Afrikaans, te veel om op te noem: van Leipoldt tot nou in die digkuns van Marlene van Niekerk en Johann de Lange.

Die eko-politiek met sy vrese van 'n aarde wat mag sterf, is al in bloemlesings opgeneem van Lategan tot Ons klein en silwerige planeet van Johann Lodewyk Marais en A.D. Zuiderent wat in 1997 verskyn het. Bome wat met installasie-kuns bedek word; ons dink aan die kunstenaar Christo Jeanne Claude se pienk seilbedekking rondom ‘n eiland (Christoand Jeanne-Claude | Projects | Surrounded Islands).


Omringde eiland, Biscayne Baai, Groter Miami, Florida, 1980-83 (Foto, Wolfgang Volz)

Dit is 'n soort gedig wat die leser kan benader as natuurgedig, of as 'n vers oor die binneskap van die digter. (Gaan kyk na die vers van Elizabeth M. du Toit in Lategan se ou, bruin bloemlesing en ons weet dit handel oor emosionele onrus.)

Belangrike name in die wetenskap en eko-politiek word betrek: Kepler, Galileo;  Darwin en Hawking.

Die gesprek rondom die Karoo word ook aangespreek.

Walt Whitman se “Leaves of grass” word in ‘n teensang gehuldig:

Jou wilde trope is filamente van herken
In die roekelose baaie
Jou intieme sien (40)

Die opvallende van hierdie bundel is dat die aarde as vroulik voorgestel word. Dit is dus ‘n sterk feministies-gelade teks wat in die taalgebruik na vore kom. Hélène Cixous beklemtoon die belangrikehid van hierdie vervrouliking van taal in Die lag van die Medusa.

Ook die bemoeienis met die digkuns is ‘n opvallende tema in hierdie bundel. Die bundel word dus ‘n dubbelreis vir die leser waarin sowel die aarde as eierblou ark (Noag) en die soeke na die volmaakte gedig onder die loep geneem word.

In “Vangs” (50) resoneer met Opperman se “Man met flits”. Hier word ‘n wip gestel vir die vangs:

in die takwerk sit verskrik
die rooi pels
van ‘n jong gedig

“Saad” (23) ondersoek die geboorte van ‘n digter via die planteryk en die verhouding met die ouers. Hier is daar ‘n aflegging van die moeder (die lykswa het verdwaal in Bloemfontein met die navolgers soos ‘n kronkelende duisendpoot agterna). Sy hoop dat die moeder haar blommetuin nadoods sal raaksien. Hierdie gedig is Smith se Edms. Bpk. Waarin sy poëties en polities haar standpuntname verduidelik. Teenoor die “melkhoutboom uit Dirk se erf” vind ons onder andere bloedrose en plante wat met die grond praat. Die digter as ‘n soort tuinier staan op vertrek, maar die gedig bly agter.

In aansluiting hierby is “Tuin van mondings” (33), opgedra aan Sylvia Plath, ‘n sentrale vers juis ómdat soveel vrouedigters al by hierdie ikoniese digter aansluiting gevind het:

toe die laaste lug aan jou tulpe vashaak
en jy bloedloos die wêreld uit jou oë loslaat

Die verskillende rame waardeur Plath na die wêreld gekyk het, is ook hier tersaaklik.

Jonathan Culler se “framing the sign”: jy kan die bundel eko-polities lees; of die taalgebruik ondersoek of kyk na die uitmondings in memento mori.

Hierdie leser sou meer vormbeheer wou sien, soos byvoorbeeld “Eierblou ark” (12) wat ‘n distigon kon wees?

“Xolobeni Mineral sands, Wildekus” geskryf na ‘n gedig van Derek Walcott, die Prins van Vormbeheer en Implikasie, praat o.a. met “Midsummer, Tobago”:

Broad sun-stoned beaches.

White heat.
A green river.

A bridge,
scorched yellow palms

from the summer-sleeping house
drowsing through August.

Days I have held,
days I have lost,

days that outgrow, like daughters,
my harbouring arms.

Hierdie vergelykingspel met ander digters maak die “plek van klanke” ryker. Soms word die verwysings in die verseboek-ark netjies weggesteek!

‘n Verdere dimensie is spiritualiteit: die vergiffenis en genade waarmee die digter worstel wanneer sy daagliks “silwer woordspane / deur sterstof stuur” (12).

Die digter se solodebuut in 2012 was In die afwesigheid van sin (Protea) en hierdie tweede bundel maak ‘n ryper, sterker indruk.

Eierblou ark
die aarde is ’n eierblou ark
wat deur die melkweg veer

die aarde is ‘n knikkerneut
waarin die groeibegin van woorde sit

‘n tydelike oord
‘n kreunende halfweghuis

waarin ons waterdeurdronge
deur soutreën en sleepmistonge

hiermaals vaar en as bede
om vergiffenis en genade

daagliks silwer woordspane
deur sterstof stuur


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

John Miles - Op 'n dag, 'n hond (2016)

$
0
0
John Miles - Op 'n dag, 'n hond. Human & Rousseau, 2016. ISBN 9780798174329

Resensent: Joan Hambidge

I

John Miles se romans lewer altyd sterk sosiale kommentaar. Dit is egter die verhulde intertekste wat my interesseer in sy pakkende romans.

Die slot van die roman "Nee, dis reg, dankie dat julle gekom het", sou 'n mens kon lees as - dankie leser dat jy my intertekste besoek het.

En daar is vele, bekend en minder bekend, oor hoé die moderrne mens moet reageer op geweld en die verloedering, wat ons tans in die gesig staar, op alle vlakke van menswees.

Die Hongaarse skrywer Sándor Márai wat meen dat van alle die religieuse illusies, die Boeddhisme vir hom die mees simpatieke is, omdat dit jou niks beloof na die dood nie. Nirwana beloof niks (252) (Sándor Márai – Wikipedia. Besoek 11 Desember 2016). 

Op 'n dag, 'n hond  (Churchill se swart hond?) beleef ek tesame met die ontwrigtende Hongaarse film, Son of Saul. 'n Man wat sy buite-egtelike kind wil begrawe tydens die grusaamhede van Auschwitz in 1944. Hierdie film van László Nemes spook in die gemoed - nes Miles se roman (Son of Saul – Wikipedia. Besoek 11 Desember 2016). 

Christo Coetzee © Dotman Pretorius

Daar is belangrike kodes dat 'n mens die lae van hierdie roman moet afskil. Die onvoorspelbare werkinge van die onderbewussyn word gekarteer (236) en die skilderwerke van Christo Coetzee, in 'n fase bekend vir lae van representasie, versoek 'n dieper kyk (Christo Coetzee – Wikipedia. Besoek 11 Desember 2016).

Met my verjaarsdag gee my buurman vir my Marcus Aurelius se Meditasiesas geskenk. En hierdie is 'n teks wat in- en uitwaaier in hierdie aangrypende roman:

wees verdraagsaam, hoflik en nederig, onder alle omstandighede moedig, vermy beuselagtighede en verdra vryheid van spraak (224, 225).

II

"Ons leef dubbeld, die bewussyn en die liggaam, die een lewe is weggesteek in die ander een. Hulle is een, maar soms moet die een die knie voor die ander buig. Die innerlike lewe gee ons verbeelding en ideale en is moreel" (216).

Dieselfde geld intertekste wat ook weggesteek is agter die storie wat die skrywer beweer vir hom van kardinale belang is om 'n storie te vertel (Verteller wat ‘liksens het’ om te mag vertel | Netwerk24. Besoek 11 Desember 2016).

 “Hier is heelwat filosofie in die boek en spesifiek ’n bepaalde filosofie, maar ek wou ’n roman skryf; ’n verháál is my medium. Ek is nie besig met ’n essay nie; ek is nie besig met ’n preek of so iets nie; ek skryf ’n verhaal. Met ander woorde: Dit wat agtergrond is, moet geïntegreer wees in die verhaal.

Hierdie boek sit vol nihilistiese ironie, daardie relativistiese ironie waaroor D.C. Muecke skryf in Irony and the Ironic (Methuen, 1970). Die veelvuldige interpretasies, nie een is noodwendig reg (of verkeerd nie); die ko-eksistensie van ongerymdhede en onversoenbaarhede en teenstrydighede wat deel is van ons bestaan. En dit is wat hierdie roman uiters geslaagd doen. Geweld, liefde, moord, aanklagte, klasgee, drome - weergegee in die gemoed van 'n oud-onderwyser.

Daar is verwysings na Breytenbach, Paz, Mandelstam, Ondaatje, Majakofski, Rilke - en veral Rilke inspireer: ons is bye van die onsigbare wat heuning uit die onsigbare versamel om op te gaar in die goue korf van die onsienlike (49).


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van FineMusicRadio)

Joan Hambidge - Tilda Swinton & A Bigger Splash (2015)

$
0
0
I
Die uitmuntende aktrise Tilda Swinton vertolk in A Bigger Splash die rol van ‘n rocker.

Toevallig lyk Swinton ook soos David Bowie, die rocklegende, en skynbaar was hulle in die werklike lewe goed bevriend.

Die film A Bigger Splash is ‘n fassinerende analise van hoe bedrewe hierdie aktrise is as vertolker. In hierdie film is sy stemloos, vir die meeste van die tyd; die karakter het ‘n operasie ondergaan. Dit is wel so dat Swinton glo in daardie stadium nie wou praat in die film nie, weens persoonlike redes.

Die titel verwys natuurlik na David Hockney se beroemde skildery: A Bigger Splash. Dit is geskilder in 1967, in LA, toe Hockney kuns doseer het aan Berkley. Die skildery is glo ook ‘n representasie van die einde van ‘n verhouding. (A Bigger Splash - Wikipedia. Besoek 15 Desember 2016)

Die titel van die film is dus ‘n belangrike kode: ‘n opbreek, ‘n einde. Vier karakters: twee vroue, twee mans se interaksie met mekaar op ‘n eiland, word ondersoek. Die twee geliefdes se respyt op die eiland word onderbreek deur die aankoms van die eks en sy dogter. (Die eks was betrokke by die sangeres se loopbaan en is ‘n musiekvervaardiger. Ons sien ook terugflitse.)  Die verhouding tussen vader en dogter is broeiend – die kyker kan inderdaad ‘n insestueuse verhouding tussen vader en dogter aanvoel. Boonop is daar migrante – wat ‘n sterk politieke boodskap oordra.

Die twee ekse raak weer betrokke. Onderneem uitstappies, het seks. Die huidige lover en die jong dogter (dit blyk later sy is 17 jaar oud) onderneem ‘n gevaarlike ekspedisie en het waarskynlik seks met mekaar.

Ralph Fiennes en Matthias Schoenaerts

Met die terugkeer is daar ‘n konfrontasie. Die twee mans raak in ‘n geveg betrokke. Die eks word oorrompel deur die huidige lover in die swembad. Agterna lyk dit na verdrinking.
Hy word sitgemaak in die swembad met ‘n vinielplaat voor hom.

Die kyker verwag dat die migrante die wending in die verhaal sou bring, maar dit is uiteindelik die jaloesie tussen die twee mans wat die oorhand kry.

Daar is ‘n polisieondersoek. En die polisiekaptein jaag hulle in, vra vir die rockster se handtekening – en so weet die siniese kyker word die verdere ondersoek opgehef. ‘n Siniese kommentaar dat roem tog deure oopmaak?

Of is dit dalk die gebrek aan bewysstukke en Tilda Swinton (Marianne) se stomme medepligtigheid wat alles laat eindig? (A Bigger Splash (film) - Wikipedia. Besoek 15 Desember 2016)

II

Hierdie film van die Italiaanse regisseur Luca Guadagnino werk met subtekste.

Hy het al verskeie kere met Swinton gewerk in  The Protagonists (1999), I Am Love(2010), A Bigger Splash (2015) en in Suspiria (2017).

Hierna het ek ook I am love gekyk en ‘n mens word bewus van hoe hy telkens Swinton plaas in rolle waar sy getransformeer word fisies en psigies. Ook vertolk sy die rol van iemand wat in ‘n emosionele oorgang is. Sy raak verlief op haar seun se vriend, die sjef en die dood van haar seun bring 'n wending in die ryk familie se lewe. Hoe sy ten slotte fisies lyk, is emosioneel skokkend.

In A Bigger Splash is haar mede-spelers Ralph Fiennes (as die eks, Harry) – en hiermee bring hy ook ‘n veelheid van sý rolle na hierdie teks. ‘n Mens dink onwillekeurig aan die naaktonele in The English Patient met Kristin Scott Thomas. Hierdie film van Anthony Minghella (van 1996) is gebaseer op Ondaatje se roman. Nes A Bigger Splashgebaseer is op die film La Piscine.

Matthias Schoenaerts

Matthias Schoenaerts (in die film 'n dokumentêre filmmaker, Paul) en Dakota Johnson (Penelope) maak weer ander assosiasies wakker.

La Piscine is ‘n interteks. Hierdie film van Jacques Deray (1969) het Alain Delon, Romy Schneider, Maurice Ronet en Jane Birkin in die hoofrolle. (La Piscine (film) - Wikipedia. Besoek 15 Desember 2016)

Dat dit afspeel op ‘n eksotiese en afgeleë eiland (Pantelleria) is eweneens belangrik.

III

Luca Guadagnino is ‘n heerlike ontdekking vir my as filmkyker.

Hy is gebore in Palermo, sy vader was Siciliaans en sy moeder Algeryns. Hy het groot geword in Ethiopië en begryp dus die lot van tussen-mense soos migrante.

© Joan Hambidge

Joan Hambidge - Paul Thomas Anderson

$
0
0
I
‘n Goeie filmmaker is soos ‘n goeie romanskrywer. Wanneer een film jou bekoor of aangryp, wil jy meer van die kunstenaar se werk sien.

Of, sy of haar werk hérbesoek.

Wanneer ‘n mens letterlik elke dag ‘n film kyk en gesteld is op goeie en belangrike films, word jy gedwing om films weer te besoek. Met wonderlike, inspirerende gevolge. So het ek sopas weer gekyk na Anderson se Boogie Nights(1997) en The Master (2012).

Boogie Nights is ‘n kragtoer. Dit is bykans asof ‘n mens ‘n opera aanskou, meer spesifiek ‘n porno-opera. Die klankbaan is verruklik: down memory lane!

Mark Wahlberg, Julianne Moore, Burt Reynolds, Don Cheadle, John C. Reilly, William H. Macy en Heather Graham is hier te siene, saam met Philip Seymour Hoffman as die patetiese gay Scotty.

Eddie Adams (Wahlberg) is ‘n “high scool drop out”. Sy ma noem hom dom en jaag hom weg. Hy werk as ‘n wasser in die Reseda nagklub van Maurice Rodriguez. Hier ontmoet hy Jack Horner (Reynolds). Hy word “ontdek” deur Horner as ‘n porno-ster weens sy behaaglike hingsel en sy filmnaam is Dirk Diggler. Hy een Reed Rotschild (Reilly) maak aksie-porno. Alles speel af teen die agtergrond van die 70’s se disko-musiek.

‘n Plesierige aksiebelaaide film waarin seks en uitbundigheid oënskynlik besing word. Totdat Little Bill sy vrou en haar minnaar doodskiet, homself ook uithaal op ‘n nuwejaarsparty waar die 70’s oorgaan na die tagtigs.

Nou begin alles afdraande loop. Dirk Diggler weens sy kokaïne-oordaad kan nie meer ‘n ereksie bereik nie en sy sterrol word oorgeneem deur ‘n nuweling: Johnny Doe. Colonel word in hegtenis geneem weens sy kinderporno-films. En Amber Waves (Julianne Moore) verloor ‘n regstryd oor mede-toesig oor haar seun weens haar donker bestaan. In ‘n toneel buite die hof, is dit Moore op haar beste wanneer sy verdriet vertolk.

Boonop raak Jack besorg oor die vervelige tekste waarmee hy opgeskeep sit, neem Rollergirl en sy fillmakers in sy limousine op soek na idees. Hier loop hulle ‘n ou skoolmaat van Rollergirl op die lyf en wanneer hy haar beledig, word hy ernstig aangerand. Dirk Diggler en Reed se poging om musieksterre te word, misluk. Prostitusie word hul voorland en Dirk word eweneens wreed aangerand een aand deur “bunny chasers”. Buck Swope trou met Jessie St. Vincent en weens sy porno-verlede weier die bank ‘n lening sodat hy ‘n stereo-winkel kan oop maak. Hy beleef  ‘n dramatiese aand wanneer hy midde-in ‘n rooftog by ‘n doughnut-winkel gesteelde geld kan neem, omdat almal rondom hom doodgeskiet is, so reg uit ‘n Tarantino-scene. Of eerder, Tarantino het hier geleen. Dirk en Reed raak by verdere moleste betrokke wanneer hulle bakpoeier as kokaïene verkwansel aan Rahad Jackson. In 1984 word Buck en Jessie se kind gebore, Rollergirl gaan terug skool toe en Dirk en Amber (haar “baby boy”), beoog weer om saam films te maak.

II
Mark Wahlberg se Calvin Klein deurbraak

Die film is ‘n langer weergawe van Anderson se “mockumentary”, The Dirk Diggler Story (1988). Anderson speel ook in op Marky Mark se 13 duim, sy lewe as trashy figuur wat tronk toe gestuur is weens aanranding en rassitiese uitsprake en wat deur Calvin Klein en Annie Leibovitz ikoniese status verkry het. Nes sy filmkarakter had hy ook ‘n musiekloopbaan.

Hierna het hy in 2012 ook ‘n ongevraagde opmerking gemaak oor 9/11 en wat sou gebeur het as hy op daardie vlug was: “If I was on that plane with my kids, it wouldn’t have went down like it did”, en “There would have been a lot of blood in that first-class cabin and then me saying, ‘OK, we’re going to land somewhere safely, don’t worry’”. Wahlberg issued a public apology after family members of those killed on the flight expressed outrage about his statements”. Verder het hy in 1991 een van Madonna se meelopers beledig en selfs vir Guy Oseary op die neus gemoker. (Four Best Madonna Feuds – Ever! | OC Weekly. Besoek 18 Desember 2016)

III
Anderson se grootste talent – behalwe vir sy goeie draaiboeke en filmografie – is hoe hy speel met sy akteurs se personas. Dieselfde geld The Master, ‘n briljante analise van Scientology en hoe die impak van die Tweede Wêreld-oorlog op die Amerikaanse psige.

Joaquin Phoenix en Philip Seymour

Joaquin Phoenix en Philip Seymour Hoffman word teenoor mekaar geplaas.

Phoenix was toegelaat om te improviseer en hy het gewig verloor vir hierdie rol. Hierteenoor is Seymour Hoffman se spel meer beheersd. In onderhoude het Phoenix bely dat hy soos Daniel Day Lewis “in karakter” gebly het vir drie maande.

Verskeie filmkritici het daarop gewys dat ‘n mens uit die opposisie tussen hierdie twee fenomenale akteurs verskillende spelwyses kan raaksien.

Joaquin Phoenix, Philip Seymour Hoffman, & Paul Thomas Anderson

En Anderson ontgin sy akteurs se personas. Hy laat hul lewens “inbuig” op die karakters wat hulle vertolk. Hoe imposant bly Seymour Hoffman nie en sy voortydige dood bly die kyker deurgaans by.

Roland Barthes se effet de réel, oftewel, die effek van die werklikheid op ‘n teks is hier relevant. Opgeneem in The Rustle of Language van 1968 (Blackwell, Oxford).

Paul Thomas Anderson, skugter voor die kamera

Paul Thomas Anderson ontgin wat grensoorskryding of transgressie behels en hoe dit die kyker steur. Maar hy is nie ‘n immorele filmmaker nie. Hy lewer sterk sosiale kommentaar in sy films. (The Master (2012 film) – Wikipedia. Besoek 18 Desember 2016)

© Joan Hambidge

Boetiek-intellektuele en regstellende aksie in 2016

$
0
0
I

Die jaar 2016 is amper verby!

Hierdie volgende uiting staan op Litnet in 'n brief van Deon Knobel aan sy broer Wilhelm:

"En soortgelyk aan die vermiste oorskot van Gideon Scheepers (soos roerend verwoord in die gedig van N.P. van Wyk Louw, "Gebed om die gebeente") ontvang ek enkele jare gelede, ná een van die vorige artikels oor Wopko, die ewe roerende gedig van Thijs Nel, waaroor hy die volgende skryf: “Dink jy my 'Grafskrif vir Wopko' sal in diepte verstaan word? Ek het dit aanvanklik geskryf as ʼn trooswoord vir Leti Kleyn, wat op een of ander manier gehoor het dat ek Wopko geken het.” (’n Brief aan Wilhelm Knobel oor Wopko Jensma | LitNet. Besoek 22 Desember 2016)

"Gebed om die gebeente" is 'n primordiale Opperman-vers. 'n Mens wonder hoe het hierdie "fout" deurgeglip?

Nou onlangs word daar verwys op die internet na Elizabeth in plaas van Elisabeth Eybers - gelukkig is dit later reggestel.

In onderhoude op 'n poësie-webblog wemel van setfoute en 'n gedig van 'n digter word met 'n auto-correct net so gepubliseer. 'n Jongeling blog ook hier en plaas deeltekens op verkeerde plekke.

Op twee e's, kennelik ónbewus van wat die funksie van die deelteken behels.

II

Gewoonlik verskyn daar 'n lys van hoogtepunte in ons dagblaaie en die vakansieleesstof van bekendes.

Ons het die dood van die groot semiotikus en romanskrywer, Umberto Eco beleef.

Vanjaar was die meeste oorsigte, aldus die uwe, maar ylerig. Opvallend hoe die digkuns alweer op lyste afgeskeep word! Daniel Hugo het wel Johann de Lange vermeld en hier teen die einde van die jaar onthou die meeste mense net die (mees) onlangse boeke.

Die volgende boeke is op hierdie blog behandel:

Fanie Olivier (Samest) - Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Human & Rousseau, 'n bloemlesing wat ten alle tye 'n kers- en verjaarsdaggeskenk bly.

Hammie van Ronelda S. Kamfer uigegee deur Kwela.

Dark Hole of the Moon van Charl JF Cilliers, 'n belangrike Suid-Afrikaanse Engelse digter, is uitgegee deur Malgas Publishers. 'n Ander belangrike pragtige digbundel is Bearings  van Isobel Dixon, deur Modjaji Books.

Hilda Smits se die bome reusagtig soos ons was  het by Protea verskyn. Martjie Bosman se  Vloeibare middelpunt en Ilse van Staden se Waar die oog van stil word  is eweneens uitstekende Protea publikasies. Anna Enquist se Arsenaal van klank (vertaal deur Zandra Bezuidenhout) is eweneens 'n relevante publikasie van Protea. Nes Die aarde is 'n eierblou ark van Susan Smith met eko-verse en vrou-wees.

Breyten Breytenbach se indrukwekkende Die singende hand: Versamelde gedigte (1984 - 2014) het by Human & Rousseau verskyn, nes die Na-dood. Ingrid Jonker se Versamelde gedigte is deur Human & Rousseau heruitgegee. Bibi Slippers se eksperimentele Fotostaatmasjien is deur Tafelberg uitgegee.   

Daar was Johann de Lange se uitstekende 'n Hunkering se grein(Human & Rousseau) en Juanita Louw se debuut In die grot van die sibille (Quellerie). (Oor laasgenoemde het ek nie geskryf nie, omdat die bundel onder my leiding begin is.) Postuum het die digter TT Cloete se brieweboek verskyn by Pooka: Die groot misterie van twee vroue, 'n fassinerende blik op die digter se werkswyse en denke oor die lewe en literatuur.

Verskillende temas en verskillende stemme: gay, bruin, wit, vrou, manlik; eko-politiek, die dood, die liefde, ars poeticas word bestryk ...

Gevestig en nuut; outyds en eksperimenteel.

Romans wat my begeester het is: Huilboek van  Ryk Hattingh (Human & Rousseau), Die skaalmodel van Anneli Groenewald (Tafelberg), David Cornwell se Like it matters (Umuzi), Dan Sleigh se roman: 1795 (Tafelberg) en Maestro deur Marié Heese (Human & Rousseau). Tom Dreyer se Dorado (Penguin) is eweneens 'n belangrike teks. Beide Heese en Sleigh se romans is historiese werke wat implisiete kommentaar lewer op ons huidige bestel.

Diegene wat bewus is van die realiteite van plaasmoorde en die spel tussen fiksie en werklikheid, kan bepaald nie Een nag en 'n bietjievan Hester Kruger (Human & Rousseau) ignoreer nie. En meesleurend in sy dinkwerk is Op 'n dag, 'n hond  van John Miles (Human & Rousseau), 'n groot verrassing waarmee 2016 afgesluit word.

Helize van Vuuren: A Necklace of Springbok Ears – /Xam Orality and South African Literature het by SUN MeDIA Stellenbosch under the SUN PRESS imprint verskyn. Dis 'n belangrike stuk navorsing nes Ouma Geelmeid Ke kx’u||xa||xa N\uu (Oftewel Ouma Geelmeid gee N|uu) deur Sheena Shah en Matthias Brenzinger (met die hulp van Katrina Esau, Claudia du Plessis en Mary-Ann Prins) wat by Caldi Press verskyn het. Hierdie werke is van belang in ons debatte róndom taalpolitiek en -identiteit.

III

Die meeste resensies op hierdie blog is vir Beeld en Rapport geskryf en uitgesaai op FMR.  Daar was ook polemiek: oor die UJ-prys vir kreatiewe skryfwerk aan 'n nie-kreatiewe skrywer.  Daar was debatte rondom die funksie van die (self)bemarking van 'n roman, en 'n studente-opstande wat vrae laat ontstaan het oor hoe ons moet doseer om te oorleef. In hierdie opsig is Jacomien van Niekerk se 'Baie Worde' - Identiteit en transformasie by Antjie Krog relevant. (Van Schaik: Talatala-reeks).

En dan die Nobelprys vir Bob Dylan?



© Joan Hambidge

Paul Thomas Anderson, in drie sleutels

$
0
0
I

Hard Eight is hierdie briljante filmmaker se eerste film en is in 1996 vrygestel. Dit word beskryf as neo-noir met Philip Baker Hall, John C. Reilly, Gwyneth Paltrow en Samuel L. Jackson, en kamee-optredes van  Robert Ridgely, Philip Seymour Hoffman en Melora Walters. Dit is gebaseer op 'n kortfilm: Cigarettes & Coffee (1993).

Hall, Reilly, Ridgely, Hoffman en Walters verskyn ook in latere films van Paul Thomas Anderson.

Die filmstruktuur is 'n sirkelgang. Die begrafnismusiek waarmee die film begin, lui die sentrale tematiek van die dood in.

Dit begin en eindig by 'n diner (Jack's Coffee Shop). 'n Jong man, John (John C. Reilly) sit voor die diner. Hy vertel aan ’n ouer man Sydney dat hy nie geld het om sy moeder te begrawe nie. Sydney (Philip Baker Hall)  neem hom na Las Vegas en wys hom hoe om geld te maak. Die dobbelverhaal is aanvanklik suksesvol.

Dan spring die verhaal na twee jaar later. Die plek: Reno.

John raak bevriend met Jimmy ('n grensoorskrydende sekureiteitsman) en Clementine (Paltrow), 'n kelnerin en prostituut; aanvanklik is net Sydney bewus hiervan.

'n Tweede reddingspoging vind plaas wanneer Sydney haar en John in die slaapkamer langs syne plaas sodat hulle betrokke kan raak by mekaar.

Gwyneth Paltrow, as Clementine

Een nag ontvang Sydney 'n oproep van John en Clementine. 'n Sekstransaksie het skeefgeloop en hul hou 'n ernstig-beseerde man gevange wat nie $300 vir seks wil betaal nie. Hulle het ook die man se vrou gebel en is onseker of sy die polisie gebel het. Hulle vertel Sydney dat hulle ook intussen getroud geraak het. Sydney raai hulle aan om na die Niagara valle te gaan vir hul wittebrood.

Na hul vertrek, verwyder Sydney enige bewysstukke.  Dit was Jimmy se rewolwer en hy vertel dat die man die volgende dag by die casino opgedaag het en nie die polisie gebel het nie.

Jimmy (Samuel L. Jackson) en John (John C. Reilly)

Jimmy (Samuel L. Jackson) konfronteer Sydney en dreig hom in die onverwagse slotwending. Die kyker het eerder verwag dat die polisie sou opdaag oor die sekstransaksie in die motel.

Indien Sydney hom nie $10 000 gee nie, sal hy John vertel dat Sydney sy vader doodgemaak het. Sydney gee hom $6 000. Hy gaan later na Jimmy se huis en vermoor hom. Die film eindig weer in die diner en ons sien hoe Sydney die bloed op sy hempsmou bedek.

II
Daar is briljante dialoog. “You know, the first thing they should have taught you at hooker school is to get the money upfront”, sê Sydney aan Clementine, 'n ironiese naam.

Die titel van die film slaan op geluk. “When good luck is a good shot, you have to hedge your bets.” Dit is die film se blakerteks met twee dobbelsteentjies van vier elk, die moeilikste kombinasie om te kry. (Urban Dictionary/Hard Eight. Besoek 1 Januarie 2017)

Waarom help Sydney vir John? Waarom is hy die mentor? Uit 'n skuldgevoel? Die kyker moet self hierdie vrae beantwoord.

Ons is soos Sydney wat na die video kyk van hul troue, en gelaat word met baie vrae ...

III

In sy kultusfilm Inherent Vice (2014), gebaseer op 'n Thomas Pynchon-roman, maak Pynchon ook 'n buiging in die film.  Dit gee nogals 'n speurtog af tussen al die lelike mans om Pynchon te eien in hierdie aweregse send-up van polisiefilms wat beskryf word as 'n crime-comedy.

Daar is waansinnige ekspedisies en ondersoeke met “Doc” Sportello waarin waarneming deur dwelms vertroebel word. Joaquin Phoenix, Josh Brolin en Katherine Waterston lewer uitstekende spel, soos Owen Williams. Om die ingewikkelde roman van 384 bladsye te verfilm, is lofwaardig. Sortilège in die roman, word die voice over in die film.

Die LAPD en FBI word gesatiriseer in hierdie over the top-film. Hierteenoor is Hard Eight sober, gedistansieerd.

In sy epiese There Will be Blood, 2007 (met Daniel Day-Lewis en Paul Dano) is 'n mens deurgaans bewus van die stadige skote van die kamera. Die spanning tussen godsdiens en geldsug word briljant vertel.

Dit begin in Nieu-Mexiko in 1898 en die stadige filmskote wat die harde, ongerepte natuur vasvang is uitstekend. In dramatiese tonele - soos ontploffings - bly die kyker bewus dat hierdie filmmaker in beheer is van die epiese gang.

Teenoor Eli, die religieuse fanatikus wat glo die ongelukke gebeur, omdat die olie-soektog nie geseën is nie, staan Daniel, die harde, ongenaakbare avonturier.

Daniel Plainview (Daniel Day-Lewis) en Eli Sunday (Paul Dano)

Daniel se soeke na olie en die ontdekking daarvan, kleur sy waarneming. Hy neem selfs 'n kind aan om as 'n gesinsman bekend te staan. Tydens 'n ongeluk, word sy seun doof en in 'n ontstellende toneel, stuur hy die kind na 'n skool vir dowes. Hy lieg en bedrieg om iewers te kom en wanneer ene Henry opdaag en hom voordoen as broer, word die film se boodskap duidelik.

Eli Sunday (Paul Dano)

Die lekeprediker wat voorgee hy kan genees en die “broer” wat die werklike broer se dagboek gesteel het, is die dryfkrag van die film. Hy vermoor die “broer”. In 'n ander wrede toneel dryf hy die spot met sy dowe seun en vertel hom dat hy nie sy kind is nie - waarop W.H. bely dat hy bly is hy is nie sy pa nie. In die dramatiese slot is daar 'n konfrontasie tussen hom en Eli, die lekeprediker.  Hy vermoor hom - en die oop einde suggereer dat Daniel Plainview “finished” is, soos hy sê.

Paul Thomas Anderson

Drie uiteenlopende films in verskillende sleutels vertel. Dit wil gedoen wees.

© Joan Hambidge


T.T. Cloete - Die groot misterie van twee vroue: Briewe aan Anna (2016)

$
0
0


T.T. Cloete- Die groot misterie van twee vroue: Briewe aan Anna. Uitgewer: Pooka-uitgewers, 2016. ISBN 978 0 620 661 45 4

Resensent: Joan Hambidge

Op die voorblad van hierdie pragboek is ’n haarlok van die digter T.T. Cloete se vrou, Anna. In ’n brief, gedateer 17 Desember 2007, bely die digter dat hy hierdie gerfie hare afgesny het toe die geliefde in matriek was.

Dit is al wat hy ná haar dood van haar liggaam oor het. Dit is vandag nog net so intakt as toe: mooi, goudkleurig en vars.

Dit is ’n brieweboek aan twee vroue: sy werklike vrou en die Dood. Wie is die twee vroue? En wat behels hierdie misterie?

In die inleiding verduidelik Cloete hoe hy met Anna praat in ’n bonatuurlike ­infra- of ultrakommunikasie.

Hierdie brieweboek, op ’n eerste vlak, is ’n besinning oor die dood en hoe mense ná hul dood in ander vorme bly leef, in die herinnering, in afbeeldings.

En ja, die dood word hier, soos in klassieke tekste, as ’n vrou voorgestel. Oor die impak van die afsterwe van hierdie geliefde vrou (wat hy in sy bundels op verskeie maniere aanspreek en ’n pynlike lykdig oor die verskillende rokke wat sy in haar lewe gedra het) kan afgelees word in die verskillende briewe – geskryf tydens haar siekte en ná haar ­vertrek:

Jy is steeds die digter in my, na jou dood. Jy is nog.

Of, vra hy, is ek die digter in jou?

Sy vrou was sy muse. Sy het eweneens opofferings gemaak tydens sy Nederlandse studieverblyf en teruggekeer Suid-Afrika toe om geld te verdien sodat haar geliefde man verder kon studeer. Hulle was lewenslank verbonde.

Sy was die eerste leser van sy gedigte. Daar is ook vele gedigte oor haar. Onder meer die aangrypende verse in Uit die wit lig van my land gesny: Vir Anna(2010).

Ofskoon die digter hierdie briewe as lekebriewe beskou het, is dit egter meer as dit. Persone wat dus ’n geliefde aan die dood afgestaan het, sal baat vind by hierdie proses van verwerking.

Die “afwesige-aanwesigheid”. Die dood van ’n nabye persoon het soms tot gevolg dat die agtergeblewene daardie verlies so internaliseer dat die persoon deel van sy of haar psigiese Umwelt word.

Die briewe begin by die Universitas-hospitaal (2002) met die besef dat sy geliefde vrou gaan sterf. Daar word deurgaans verwys na die siekte en die impak van die lyding op die digter se gemoed. Op 8 Maart 2010 is daar ’n inskrywing oor haar hartaanval. Besonder­hede oor liggaamlikhede word vermeld.

Daar is baie belangrike kodes in hierdie teks. Soos Elisabeth Kübler-Ross se klassieke teks oor die verskillende stappe van doodsaanvaarding. J.C. Steyn se deeglike biografie van M.E.R. word ook vermeld en die “nugtere aanvaarding van die weggaan”.

Viktor Frankl is ’n ander kode; hy en sy vrou wat opgesluit was in verskillende Nazi-konsentrasiekampe, maar het met mekaar gekommunikeer en so­doende aan hul lydende liggaamlikheid ontsnap.

Pleroma versus soma word eweneens ’n tersaaklike kode vir die begryp van hierdie teks. Die geestelike, spirituele ­dimensie help ons om die liggaamlike pyn of lyding te kan oorwin.

Erich Fromm se The Art of Loving word vermeld – want hierdie brieweboek is ’n liefdesboek. Hy praat van ­outoritmiek, van emosioneer en die impak van liggaamlike pyn op sy lewe. Hy skryf insigryk oor die wetenskap – soos oor bonobo’s en prosopagnosia.

Op ’n tweede vlak is dit ’n kreatiewe verslag van ’n digter en letterkundige. Daar is ’n heerlike satire oor Afrikaanse “sangers”.

Cloete se erkentlikheid jeens ander kom na vore (hy verwys na Nic de Jager se musiekprogram en sy fabelagtige kennis). Hy skroom nie om ’n digter te kritiseer wat hom as fascisties beskou het nie en hy lewer belangrike kommentaar op die skryfproses en die resepsie van sy gedigte.

Hy is bewus van kleinlikhede en naywer – en hoe mense “nagaande” is wanneer jy bekroon word.

Hy praat oor literêre boelies en die eis vir vernuwing. Hy gee erkenning aan jonger digters en bedank hulle vir hul belangstelling of toesendings van boeke.

Dit is ’n boek wat iets verklap van die binnewerkinge van ’n groot gees en hoe hy in hierdie tyd van wanorde, soos hy dit noem, afskeid neem; en bestendig. Sonder sy geliefde is hy ’n halwe mens.

Daar is ’n besinning oor huil (teenoor lag), die impak van emosioneer (en outoritmiek), die vriendskappe met Elize Botha, Eveleen Castelyn en Heilna du Plooy – belangrike vroue in sy lewe.

Dit is eweneens, op ’n derde vlak, ’n historiese verslag. Die invloed van die Anglo-Boereoorlog en hoe die digter se ouers op ’n klein plasie moes oorleef, word aangrypend vermeld. Die jong Theunis is skaam om in sy armoedige klere skool toe te gaan.

Die invloed van sy digterskap as ’n “poet’s poet” is nog nie volledig bepaal nie. Daar is vele mense wat sy digkuns lees teen sy persoon, teen sy voormalige verbintenisse met die sensuurraad – lees die gedigte, dan praat ons weer.

Sowel die ATKV as die Hiemstra-trust het hierdie teks moontlik gemaak.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Die stilte van die skrywers

$
0
0
Stephanus Muller

In 'n onderhoud op Litnet met Naomi Meyer (Onderhoud met Stephanus Muller/ Dekolonisasie van musiek) beweer Stephanus Muller op 12/1:
Hierdie versuim het rampsalige gevolge op verskillende gebiede, waarvan één die voorkeur is vir traangas eerder as colloquia, vir arrestasies eerder as seminare, vir hofstukke eerder as gedigte. Dit wat ons tans in die gesig staar, sal nie deur die polisie opgelos word nie. Die humaniora is kern tot die probleme (en hul oplossings) wat deur die gebeure van 2015 – 2016 aan die orde gestel word, maar dit is deur die slopende effek van die polisiestaat en daarna deur gebrekkige befondsing en korporatisering so verarm dat ons kommerwekkende gebrek aan diepte toon in ons reaksies op die sosiale onrus. Die maatstaf vir die omvang van ons probleme is nie die omvang van die gewelddadige onrus nie, hoe ontstellend dit ook al is. Dit is eerder die beperkte woordeskat van universiteitsbesture, die afwesigheid van die filosowe, die stilte van die skrywers, die onttrekking van die historici, die isolasie van die kunstenaars en oor die algemeen die gebrek aan prominensie van denkers en kunstenaars in hierdie tyd.
Ek wil veral reageer op sy aanklag teen filosowe en die stilte van skrywers. Waarskynlik het hy Johann Rossouw se uiters belangrike analises gemis? Of die replieke van Breyten Breytenbach, skrywers se reaksies via Pen-Afrikaans, en my bydraes op my blog Woorde wat weeg. Hans Pienaar het ook verskeie debatte aangevuur op Litneten Sonja Loots het in Rapport male sonder tal standpunt ingeneem. Die Gelyke Kans-inisiatief is immers ’n belangrike reaksie wat nie geïgnoreer kan word nie.

Hy kan begin by Protes en anargie (Woorde Wat Weeg/ Joan Hambidge - Protes en anargie (2015). Besoek 13 Januarie 2017).

En: Woorde Wat Weeg/ Joan Hambidge/ reaksieop M. C. Botha brief aan Die Burger. Besoek 13 Januarie 2017.

En hoe universiteite en die werkinge anders bekyk word: Woorde Wat Weeg / Universiteite 2016/ Nie voor dooiemansdeur nie. Besoek 13 Januarie 2017.

Verskeie denkers, skrywers, historici, e.a. lewer kommentaar. Waar ek doseer aan die Universiteit van Kaapstad is daar voortdurend gesprekke, senaatsvergaderings (wat robuust verloop) en kommentaar van universiteitshoofde, dekane, et al.

Ek is nie bewus van 'n stilte nie. Eerder 'n soeke na oplossing. In ’n universiteitsomsendsbrief sopas ontvang word daar tereg gewys op die emosionele impak van die onrus van die afgelope tyd.

Dit is moeilik om in 'n tyd van onrus 'n omvangryke woordeskat te hê.

Wat eerder verontrus, is die polarisering wat tans opmerklik is. Kollegas wat altyd goed oor die weg gekom het, staan nou skepties jeens mekaar.


© Joan Hambidge

Etienne Terblanche - By die nag se wit kant (2016)

$
0
0
Etienne Terblanche - By die nag se wit kant. Protea Boekhuis, 2017. ISBN 9781485306016

Resensent: Joan Hambidge

Hierdie bundel maak die indruk van ’n digter wat buite die kodes van Afrikaans dig. ’n Sterk nuwe stem kan uiteraard die bestaande orde ­omverwerp met #KonvensiesMoetVal. En ’n handvol het dit in Afrikaans reggekry: ­Opper­man, Blum, Breytenbach, om ’n paar te noem.

Hoewel dié digter anders dig as sy tydgenote, maak hierdie bundel die indruk van ’n digterlike Rip van Winkel.

Hierdie leser was verlei deur die digter se onderhoud op Versindaba. Die gedigte (oor die 102 bladsye, wat ver te veel vir ’n debuut is), raak kant nog wal. Die beelde is geyk en die toon van die gedigte is outyds. Die verwysings na Blake, Yeats, Eliot, Cummings en andere is nie verwerk nie.

Die gedigte word begelei met die volgende motto, onder meer:

“Een word twee, twee word drie, en uit die derde kom die een as die vierde.” – Die aksioma van Maria die leraar van Demokritus.

So klink ’n gedig:

Die eilande

Waarom voel ’n mens so beweeg?
Die kajuit druis botstil. Ons vlieg
oor Mikonos en Iraklion
– die See van Kreta –
die oop oseaan.
Doer onder plak ’n sirruswolkie styf
teen een. Die landskappie is beenderig
soos ’n foto van die maan.
Tripoli skuif nader,
die Sahara skuif nader,
die huis kom nader.
In jou gemoed, iewers vandaan,
swel iets. Is dit geskiedkundig,
onvervals – of nog ’n kitsch moderne traan?
(Of dalk die sout herinnering
aan jou eerste oseaan?)

En so klink ’n reël elders:

En dat die staccato skote uit die snikhete bosse
vir my geen sin maak nie en nooit sal kan nie.

Die bundel klink soos iemand wat te veel ­Wilma Stockenström se Monsterverse probeer ­naboots.

Die herhaling van die “O!” is eweneens ’n kenteken van ’n outydse aanslag.

’n Mooi gegewe soos “Chrissie” ontaard in ’n óórskrywery, amper asof die digter vrees dat die leser nie die simboliek sal raaksien nie.

Die prosaverse (asseblief, gaan lees Bukowski) is gewoon net vertellings en dikwels word ’n mens blootgestel aan ’n studentikose gedig soos die een oor “Gielie Barnard en die matrone”.

Die gedigte word telkens deur idees oor die digkuns ondermyn (“’n Bladsy uit die boek van die New Age Blues”).

Daar is groot gewag gemaak van hierdie ­debuutbundel op die Versindaba in ’n onderhoud met René Bohnen. Dit is duidelik dat die digter geweldig baie gelees het oor die digkuns en geweldig kundig is. Maar helaas, in sy eie bundel moet ek met spyt bely, kon ek nie een gedig vind wat werklik as gedig oortuig nie.

Van die wyshede is onder meer die ­volgende:

Die wurm is my suster. Die termiet is my broer. Die hoëveldbloutjie en die akkedis is my medelandsburgers. My siel spieël in die metaalblou en grys van die hoëveldbloutjie, daardie dartelende klein psige, want ons is (gemaak van) dieselfde sterrestof en ek verstom my oor hoe perfek pragtig hy daarin vorm gekry het of daaraan vorm gee! Ek dink aan Emily Dickinson en wil saam met haar sê: Amen! En ook: ek ­salueer u, pragtige versvrou van Amherst.

Trouens, bitter min van wat oor die bundel gesê word, staan in die gedigte.

Die digter het skynbaar die volgende titels oorweeg: kronkelmandala, dartelmandala, fladdermandala, die swewende mandala, die drywende mandala . . .

Dit al reeds spreek boekdele.

Van die sjamanisme en Jungiaanse aspekte vind ’n mens nie veel in die bundel nie. Daar is in die woorde van die digter te veel agter fantasmiese beelde in die geestesoog aan geskryf. En dis jammer, want hier sou iets kon gebeur.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Andrei Tarkofski – Ivan’s Childhood (1962)

$
0
0

I
Oor die films van Andrei Tarkofski het ek al uitgebreid geskryf. Sy films resoneer met my siening van die lewe en kuns. Sy eerste rolprent Ivan’s Childhood het analises ontlok van Ingmar Bergman en Jean-Paul Sartre, o.a.  

Bergman het by herhaling sy bewondering vir Tarkofski uitgespreek (Sculpting in Time_on life and Art with Andrei TarkovskyBesoek 16 Januarie 2017).

Hierdie rolprent - gemaak in 1962 - is gebaseer op ’n kortverhaal van Vladimir Bogomolof (1957). Dit is 130 minute lank, maar vereis vele herkyke, omdat dit gelaai is met sub-teks en droomsekewense, iets waarin Tarkofski uitmunt. Daar is min filmmakers wat drome so behendig kan aanwend as hierdie Russiese filmmaker, en volgens sy vrou gebruik hy dikwels sy eie drome as verhaalelemente in ’n film. (Hieroor sal daar later geskryf word na die soveelste herbesoek van die filmdokumentêr oor sy lewe en sy werk. In hierdie memoir maak hy die uitspraak: ek is my films; my films is ek.)

 Die gegewe van die film handel oor ’n jong weeskind, Ivan wat betrokke raak by die oorlog in WOII en waarskynlik wil wraak neem, omdat die Duitsers sy ouers doodgemaak het.

Die rekonstruksie van hierdie kort verhaalopsomming gaan gepaard met komplekse vertelstrategieë, soos non-liniêre vertelling; terugflitse; ’n sirkelgang (die begin en einde is waarskynlik ’n soort droomsekwens); die gebruik van historiese dokumentasie, o.a. oor Goebbels; ’n sub-plot (die verhouding tussen die soldaat en Masha).
II

’n Twaalfjarige kind, Ivan Bondaref, beleef  ’n droom. Sy moeder en hy sit langs ’n put. Hy beweeg af in die put en wanneer hy binne-in die put is, kom ’n emmer af. Ons hoor ’n skoot en wanneer hy na bo beweeg, is sy dood. Die kyker besef nie dadelik dat dit ’n droom is nie. Die moeder is egter reeds dood. En dit sluit by die slot aan wanneer hy in ’n ander droomsekwens saam met ’n jong dogter oor die strand hardloop. Voor dit sien ons perde wat appels vreet.

Die film sluit met ’n beeld van ’n dooie boom. Aan die begin word daar geroep na die moeder; aan die slot is daar volledige stilte, omdat Ivan dood is.

Na die droomsekwens aan die begin, beleef ons die jonge Ivan se swemtog oor ’n rivier. Hy dring daarop aan om deel te wees van die oorlog. Luitenant Galtsef is die ondervraer. Die jong kind word wel ernstig opgeneem deur Luitenant-Generaal Gryaznof, en Ivan verduidelik in sy verslag hoe sy ouers en suster deur die Nazi’s vermoor is. Die terugflitse gebeur eweneens non-liniêr. Ivan weier om na ’n militêre skool of weeshuis te gaan. Hy wil aktief deel wees van die oorlog.

Hy word deur die soldate toegelaat om aan te bly. Teen die mure is die name van die gedoemde soldate uitgekrap.

Kholin and Galtsef neem Ivan laatnag oor die rivier.

In die laaste tonele sien ons in Berlyn die impak van die oorlog. Goebbels se gebrande lyk, sy vergiftigde kinders - hiermee wil Tarkofski die geweldige impak van die oorlog op kinders beklemtoon en word dit duidelik waarom ’n kind gebruik word om die storie te vertel.

Kholin is dood in die oorlog en Galtsef bekyk dokumente waarin hy ontdek dat Ivan deur die Duitsers gevang en opgehang is.

Die film sluit af met die jong, gelukkige kind wat saam met ’n jong meisie oor die strand hardloop - met die finale skoot: ’n dooie, uitgeholde boom. (Simbolies beskou is dit ’n beeld vir die impak van die oorlog.)

Nikolai Burlyaev is Ivan Bondarev (Nikolai Burlyayev– Wikipedia. Besoek 16 Januarie 2017).

III
In romanterme sou ons kon verwys na ’n ouktoriale verteller wat buite die gegewe staan en die verhaal gedistansieerd vertel, maar ook manipuleer. Dus, Tarkofski as ouktoriale verteller met die direkte belewenisse van die karakters en droom-sekwense.

En die sterk simboliek van hierdie pakkende rolprent. Oorlog beteken die dood van drome; die dood van onskuld.

In sy memoir Sculpting in Time Reflections on the Cinema skryf hy:
Masterpieces are born of the artist’s struggle to express his ethical ideals. Indeed his concepts and sensibilities are informed by those ideals. If he loves life, has an overwhelming need to know it, change it, try to make it better, – in short, if he aims to cooperate in enhancing the value of life, then there is no danger in the fact that the picture of reality will have passed through a filter of his subjective concepts, through his states of mind. For his work will always be a spiritual endeavor which aspires to make man more perfect: an image of the world that captivates us by its harmony of feeling and thought, its nobility and restraint.
Tarkofski (1932 - 1986) is op 54-jarige ouderdom oorlede in Parys. Sy films het veral in die buiteland baie lof ontvang. In die film-memoir - met Erland Josephson as die kommentator - laat hy hom uit oor hoe hy films maak en die impak en betekenis van tyd. Filmkuns, beweer hy, is die een kunssoort wat direk met en in tyd werk.

Tarkofski had uiteraard respek vir Coppola se The Godfather, ’n film wat ek beskou as ’n hoogtepunt in sy waarneming van die familie, die Katolieke kerk, bedrog, verraad, die verhouding tussen Italië en die VSA, die rol van die immigrant.

Met die wonderbaarlike Al Pacino (My Life as a Blog | What Andrei Tarkovsky Said AboutFrancis Coppola. Besoek 16 Januarie 2017).

Terug na wyle Josephson, ’n akteur deur sowel Bergman as Tarkofski gebruik. ’n Besielde vertolker van hul komplekse werk.

© Joan Hambidge


Woord wek woord en wederwoord

$
0
0
So elke sewe jaar tref daar ‘n plaag onse letterkunde soos ‘n pes. In die jongste een handel dit oor Tom Gouws se resensie van Indeksen H.P. van Coller se reaksie hierop. Hy meen dat Gouws dit nie mog resenseer het nie, aangesien daar ‘n satiriese gedig oor hom opgeneem is. Die gedig is geskryf nadat hy Matriks op die Versindaba “bespreek” het (Versindaba» Blog Archive » Resensie/ Matriks (Joan Hambidge). Besoek 24 Januarie 2017)

Sopas het Marius Crous gereageer op Media24 met ‘n meewarige repliek op hierdie debakel ('nSkalpel vir die vernislaag | Netwerk24. Besoek 24 Januarie 2017).

‘n Skalpel vir die vernislaag heet dit. Dis nou dieselfde Crous wat gemeen het Ena Jansen se boek moes die UJ-prys vir Kreatiewe Skryfwerk gekry het en dat Kaar die bundel is waaraan alle bundels voortaan gemeet sal word.

Nou is die rol van die resensent (wat ook skrywer is) ‘n ingewikkelde een. Mag vyande mekaar resenseer of nie? Mag vriende resenseer of nie?

Johann de Lange reageer op die man af op Crous onderaan sy skrywe soos volg:
Oor een ding stem ons saam: dat die Afrikaanse letterkunde 'n klein, bedompige ou wêreldjie is, & literêre geheime oksimorons. Maar juis dáárom moet ek die bona fides van 'n boekeredakteur wat nié weet op watter vasteland ons boer nie bevraagteken. Hoe kan hulle nie van alles weet nie, hulle is dikwels die spilpunte van waar skindernuus versprei word. Hulle is, after all, joernaliste in die eerste plek. En dis ook nie asof dit net by ons die toedrag van sake is nie, dit is wêreldwyd dieselfde. Trouens, hoe groter die letterkundes, hoe venyniger is die skaduwêreld ágter die blad: alliansies, vetes etc. En 'n boekeredakteur wat sy of haar sout werd is, behoort daarvan kennis te neem, & binne daardie beperkings te probeer toesien dat 'n boek 'n regverdige kans kry. Hoe kleiner 'n letterkunde, helaas, hoe moeiliker raak dit om soiets te vermag, want die poel van resensente krimp by die dag in een van die grootste literêre droogtes wat ons in 'n lang tyd beleef het. Ek is seker as Marius Crous se boek by een van sy aartsvyande sou beland het & baie onregverdig resenseer is, of afgeskeep is & sommer vir 'n in-house joernalis gegee is om te resenseer, sy begrip nie so wyd soos die Heer se genade sou gewees het nie.
As aktiewe resensent vir dagblaaie en die bekende Sondagkoerant Rapport met werk vir FineMusicradio, is dit onvermydelik om nié iewers op ‘n toon te trap nie. Ek probeer om my werk met integriteit te doen, al moes ek al uiterse beledigings verduur van ‘n digter (en resensent) wat by Die Volksblad ‘n ander resensie eis; my slegsê dat ek niks weet nie en boonop kreatiewe skryfwerk doseer; my onherhaalbaar beledig en vergelyk met ‘n onvermeldbare iemand …

Johann de Lange is korrek. Ons bedryf beleef ‘n erge droogte en die meeste kundiges weier om deel te neem.

Ons bedryf is klein. En as jy elke keer wanneer jy ‘n resensie skryf, jouself moet sensureer oor die of daai se reaksie en Facebook-groeperinge, kan jy maar eerder laat staan om te skryf. Jy gaan op iemand se toon trap. Die skrywer of uitgewer of koerantleser of wieookal.

Die volgende is vir my belangrik:

  Ek resenseer nie studente wat in my program is nie en versoek studente ook om mekaar eerder nié te resenseer nie, omdat dit kan lyk na rugkrappery.

  Ek probeer om elke skrywer in sy genre in te skat. Ek lees nie Deon Meyer asof hy Kafka is nie.

  Ek lewer altyd my kopie betyds met die woordbeperking vereis.

  Wanneer ek dink ‘n skrywer se bundel is nie goed nie, probeer ek dit motiveer soos met Multivers van Hennie Smith wat ek via Archibald Macleish probeer lees.

  Ek skei die skrywer van die boek. Ek is nie persoonlik gaande oor Deon Maas nie, maar sy satires in Melk die heilige koeie werk as satires.

Daar mag nooit geëis word dat vyande mekaar nie mag resenseer nie. ‘n persoonlike aanval is in elk geval ‘n boemerang en gee vir die digter aan die ontvangkant ‘n idee vir ‘n antiblast soos Marjorie Boulton dit noem.

‘n Resensent met ‘n resep (mooi broodjies word gebak en dan die venynige aanval of ideologiese lading wat op die bundel afgdruk word van buite af, soos die digter se religieuse houding of liefde vir katte) verswak net die resensie.

Dit is beter om op die temas van ‘n bundel te let en die struktuur van die roman as ‘n blote romanopsomming.

As daar geen kritiese en eerlike reaksie was nie, hoe sou ons dan ‘n literatuurgeskiedenis of ‘n Perspektief en Profiel kon skryf?

Tyd wys altyd dwalinge uit. 

Ek plaas altyd onder my resensies dat ek kreatiewe skryfwerk doseer. Ek is self digter en romanskrywer. My smaak en voorkeure is in die resensie gemotiveer.

As ek verskil van ‘n resensent of kollega soos byvoorbeeld met ‘n oorskatting van ‘n debuut (Boekresensie/ Multivers deurHennie Smith | LitNet. Besoek 24 Januarie 2017) lees ek weer die bundel. As my oordeel verkeerd was, sal ek dit toegee.

Ek resenseer al sedert 1980. Dit hou my op my tone en dwing my om te weet wat in my letterkunde gepubliseer word en hoe ons vergelyk met die buitelandse bedryf.

Ek probeer ook om ‘n boek te plaas teen internasionale strominge.

Fokus op boeke, tendense – te veel mense in ons bedryf lees net resensies. 

Hopelik wil meer akademici resenseer?

‘n Skrywer reageer nie op ‘n resensie nie. Maar hoe nou gemaak as jy midde-in ‘n gesprek is?

© Joan Hambidge 

La la land

$
0
0
Damien Chazelle regisseur, met Ryan Gosling en Emma Stone

I
Aan die begin van The Pervert's Guide to the Cinema praat Slavoj Žižek, die psigoanalis, oor hoe films ons leer om liefde / begeerte te skep. Die rolprent La la land is enige psigoanalis se droom. Ofskoon dit handel oor Hollywood en al die kodes van die musical as genre gebruik (dancing in to song), behels die film veel meer. Dit is 'n rolprent wat die konstruksie van die self (die een hoofkarakter wil akteur word, die ander een musikant) ontleed.

Ook die konstruksie van die liefde, en in die besonderheid, ónvervulde liefde. Hierom dan die plakkaat van Ingrid Bergman (Casablanca) teen die einde van die film om te waarsku dat die droom dalk nie vervul gaan word nie?

Die titel aktiveer sowel Los Angeles as droomland of om nie met die realiteit in kontak te wees nie.

Die film werk met die kodes van die liefdesverhaal (boy meets girl) en daar is ‘n speelse verwysing na Parys, die stad van drome en die liefde waarheen die aktrise tydelik ontvlug. Sy keer terug, trou met ‘n ander man, raak ‘n moeder – en een aand loop sy weer (toevallig?) in die ou liefde se jazz-plek in waar sy hom sien optree. In sy fantasie beleef hy versoening.

Gaan hulle weer bymekaar uitkom, ja of nee?

Beide Gosling en Stone is bedrewe dansers. Hulle sing goed. Hy speel puik klavier. In die werklike lewe is hy ook musikant. Die sub-genre van die musical word eweneens geaktiveer. Die begin herinner aan West Side Story– en hier is die stemme gebruik van nie minder as Kiri Te Kanawa en José Carreras.

En Mamma Mia! met Meryl Streep kom eweneens ter sprake as ons dink aan goeie musicals.

II

La la land oes tans die een bekroning na die ander in. Wat hierdie kyker eerder interesseer (en boei) is die aktivering van die droomwerklikheid of fantasie. Die belangrike dokumentêr oor die Russiese filmmaker Tarkofski (regie deur Tarkofsky met Erland Josephson as die verteller) lewer belangrike kommentaar op hierdie aspek.

Filmmakers, volgens Tarkofski, wat eerder konsentreer op die droomaspek en ‘n unieke wêreld skep, is minder suksesvol as filmmakers wat ‘n storie vertel. Hy bly altyd deel van sy film, bely hy. Elke skoot, elke objek, elke aspek (selfs ‘n boom), oorweeg hy self. Anders gaan jou film verlore, soos dikwels in Hollywood-films gebeur waar die oorspronklike idee verlore gaan.

Daar word ryklik verwys na Sacrifice– waarin Josephson speel.

Hierdie film handel oor ‘n middeljarige intellektueel wat ‘n nuklêere ramp probeer verhoed deur met God te onderhandel. (Tarkofski, terloops was uiters spiritueel en dit was sy laaste film wat hy gemaak het voor sy ontydige dood en sy derde as Sowjet-ekspatriaat.)

Sy seun in die film is stom na ‘n operasie. (Hierteenoor is daar baie woorde en sang in La la land.)

Josephson was ook te sien in Nostalghiaen het veral bekendheid verwerf as ‘n Bergman-akteur. Nou onlangs het ek weer na Scenes from a marriage, 1973 gekyk – met Liv Ullmann, Bergman se vrou – daardie verstommende analise van ‘n huwelik wat desintegreer oor ‘n periode van tien jaar, maar ook nie eindig nie. Tarkofski vermeld in die dokumentêr dat Josephson geen direksie nodig het nie; hy is ‘n uiters natuurlike, instinktiewe akteur. (En hoe meer ek na Tarkofski kyk, hoe meer is ek onder die indruk van sy werk. In hierdie stadium vind ek hom ‘n groter regisseur as Bergman weens die komplekse simboliek van sy films).

III

Bergman het in sy outobiografie na die filmkuns as ‘n magiese lantern verwys (Writings - Productions – Drupal. Besoek 26 Januarie 2017).

Wanneer ‘n film soos La la land‘n mens inspireer om soveel ander tekste te betrek, dan gebeur daar meer as wat ‘n belewenis mag impliseer.


© Joan Hambidge
Viewing all 819 articles
Browse latest View live