Quantcast
Channel: WOORDE WAT WEEG
Viewing all 819 articles
Browse latest View live

Burn after Reading (2008)

$
0
0


I
Die idee van skering en inslag kom sterk na vore wanneer ‘n mens die films van die Coen-broers beskou. Die opwaartse draad en die draad wat hierteen gaan.

Ek bekyk tans die films van hierdie uitsonderlike duo. Burn after reading met George Clooney, Tilda Swinton, John Malkovich, Frances McDormand, Richard Jenkins en Brad Pitt.

Dit analiseer twee obsessies van die Amerikaanse kultuur, te wete die fiksheids- en liggaamsbewustheidskultuur en die doen en late van die CIA. Die bo-laag van skoonheid; die onderlaag van paranoia, komplotte en samesweringsteorieë.

Malkovich (Osbourne Cox) word gedemoveer as agent weens ‘n drankprobleem en hy besluit om te bedank. Sy vrou, vertolk deur die onblusbare Tilda Swinton (Katie Cox), het ‘n verhouding met Clooney (Harry Pfarrer). Hy begin sy memoirs skryf en dit beland per ongeluk in die gym. Dan word Malkovich afgepers deur McDormand (Linda Litzke) en Pitt (Chad Feldheimer). Haar mediese fonds wil nie betaal vir plastiese sjirurgie en sy sien dit as ‘n manier waarop sy dit kan doen. (Ten slotte word dit wel betaal. In ‘n ironiese wending.)

Met elke optrede is daar ‘n teen-aksie. Clooney verneuk sy vrou, ‘n skrywer wat op ‘n bemarkingstoer gaan. Maar sy is ook ontrou aan hóm; soos ons sien in ‘n klein vinjet.

Swinton, die pediater, wil van haar man skei en sy moet finansiële inligting aan haar prokureur deurstuur. En so belang die memoirs dus op die verkeerde skyf … en sy vergeet dit in die gym (Hardbodies). McDormand en Pitt besoek selfs die Russiese Ambassade met die hierdie geklassifiseerde inligting!

Clooney trek by Swinton in (haar man is nou uit die prentjie) en Pitt word per ongeluk in die kas doodgeskiet. Boonop is Clooney – soos McDormand – ywerige internetsekssoekers en hulle paaie kruis ook. (Skering en inslag!)

Boonop is Sandy, die skrywer, besig om Clooney, haar man,  dop te hou want sy wil van hom skei. Hy op sy beurt raak heeltemal paranoïes en glo dat McDormand ‘n spioen is wanneer hulle in ‘n park ontmoet. Sy is gewoon net te skaam om te erken dat die man ‘n vorige internetfiksasie is. Clooney hardloop weg, in ‘n toestand, en hy word later gedeporteer na Venezuela.

Cox skiet die hoof van Hardbodies, Ted (Richard Jenkins) dood, omdat hy dink dit is sy vrou se minnaar. Hy, op sy beurt, word deur die CIA raakgeskiet en beland in ‘n koma.

 II
Die dialoog en spel is briljant. In ‘n onderhoud het Tilda Swinton op ‘n keer bely hoe sy en Clooney gelag het oor die karakters wat hulle vertolk het. In die prettige onderhoude met die akteurs kan ‘n mens hierdie knipoog-aksie sien.

Die dialoog is briljant: Iemand se boude is so groot dat jy ‘n bus daarmee kan trek.
“Wie sal tog nou geïnteresseerd wees in jou memoirs?” teef Cox se vrou hom.
En McDormand – in ‘n ironiese oomblik – bely as karakter dat sy met haar gesig en lyf uit Hollywood gelag sou word; terwyl sy ‘n groot sukses is.
Die film eindig met die volgende wysheid van die CIA: “I guess we learned not to do it again”.

Ook die naamgewing is skitterend. Harry is ‘n Deputy-US Marshall; dus nog nie gearriveer nie. Sy minnares, vertolk deur die ysterkoningin, Tilda Swinton, kom uit ‘n ryk familie. Die spottery met die Princeton boys club is spot on. Malkovich se spel wanneer hy ontdek sy vrou het sy rekening leeggetap, is eweneens skitterend.

Is die obsessie met seks meer briljant voorgestel as met die masjien wat Clooney bou met die dildo?

Bradd Pitt as die dom fiksheidsinstrukteur wys sy akteurspiere.

III
Skering en inslag. Met elke optrede van hierdie kwirkie-akteurs, word daar ‘n dubbelspel gemaak.

In ‘n onderhoud met Anne Carson haal sy Lacan aan wat geskryf het dat “The reason we go to poetry is not for wisdom, but for the dismantling of wisdom.”

Dieselfde geld hierdie film: waarhede of geykte sieninge word telkens op die kop gekeer (Paris Review - Anne Carson, The Art of Poetry No. 88. Besoek 2 Februarie 2017).

Volgens die Nederlandse woordeboek aanlyn, beteken skering en inslag dit gebeur gereeld en dit is ‘n slegte ding (Dat is schering en inslag | Dutch Word of the Day. Besoek 2 Februarie 2017).

Anton Prinsloo in sy wonderbaarlike boek, Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom, het my op hierdie soektog geplaas.

In Prinsloo se woorde:

Skering is die draad wat in die lengte van ‘n weefsel loop en inslag die dwarsdraad wat deur die skering loop.
Omdat dié proses by wewery nooit wissel nie, word dit aanvaar as die onveranderlike optrede van die wewer; die gewoonte dus (Pharos, 318).

Die Coen-broers (uitgespreek Cohen, nie Koen nie) het die gewoonte om op ‘n dwarse wyse die weefsel van hul samelewing uit mekaar te torring.

Net soos Lacan ook ons aannames oor die digkuns en lewe uitmekaar uittorring.


© Joan Hambidge

Deon Maas - Melk die heilige koeie: Van baarde en banting tot Zupta en zol (2017)

$
0
0

Deon Maas - Melk die heilige koeie: Van baarde en banting tot Zupta en zol. Tafelberg, 2017. ISBN 978 0 624 08116 6

Resensent: Joan Hambidge

Die boek word bemark met Deon Maas op die agterblad wat meen dat die Afrikaner-geen 'n dwarstrekker-geen is. Dis ook glo tyd om al die heilige koeie in heroorweging te neem.

Die idee van die Afrikaner as dwarstrekker is so oud soos die berge. Hoeveel (susters)kerke had nie? Hoeveel families is nie deur politieke verskilletjies (SAP versus NAT) tot vyande verklaar nie?

Deon Maas is soos Koos Kombuis. Hulle het hulle aanhang met kwirky, stroomop, aweregse, dwars, humoristiese rubrieke. Beide het my al laat dreunlag met hul satires; beide moet (volgens die uwe) hou by spotspraak, populêre musiek, en trends.

Francois van Coke loof die boek op die blakerteks as "donners snaaks, skerp ... mal daaroor". In die voorwoord word ons gevra om vir onsself te lag. Ons isolasie as nasie is verby en ons staan nou op ons eie voete. En op die graf van 'n politieke ideologie wat ander benadeel en ons groei gekortwiek het.

Nou moet ons vir onsself lag en dan word daar verkeerdelik beweer dat as jou tong in jou kies is, gaan jy baie skade opdoen in 'n vuisgeveg.

Tong in die kies beteken lig-ironies, jokey-wokey.

Oorspronklik het die uitdrukking minagting beteken; toe het dit later in die volksmond beteken dat 'n uitspraak nie ernstig opgeneem moet word nie.

Maar hierdie beswaar tersyde gelaat: wanneer jy hierdie boek begin lees met sy hoë lagkurwe, besef jy hoe eiesoortig ons gemeenskap is. Tim Noakes en banting, sitplekke op vliegtuie, studente wat skilderye verbrand, ouers wat spog met kinders se rapporte, is van die satiriese teikens wat opgestel en afgeskiet word.

Oordrywing, spotspraak, sarkasme, gekskeerdery, beledigings, aspris-wees, is van die bekendste elemente van hierdie sub-genre. En wanneer dit in 'n rubriek of bundel opgeneem word, dan moet jy eweneens die skrywer se persoonlikheid aanvaar.

Do you love to hate Deon Maas?

Is hy 'n blote opskepper, of kan ons hom ernstig opneem?

Boonop moet so 'n satirikus 'n stilis wees.

Maar hierdie intellektuele analise het al waarskynlik vir Maas aan die knor!

Daar is 'n paar juwele (wees gewaarsku, jy kan nie die boek in die openbaar lees nie, want jou verwoede lagbuie gaan die omstanders steur) soos:

die een oor Adriaan Vlok wat dalk 'n spesiale afskorting in sy kattebak moes laat bou het om te verhoed dat die plastiekskottel waarmee hy almal se voete was, te veel rondgly;
sy enumerasie van die name vir die manlike bultboor;
sy analise van hoe jy met 'n eks (via Emsie Schoeman) moet omgaan;
die impak van eenlaag-toiletpapier;
croc-skoene.

So tussen al die grappe deur is hy soms ernstig wanneer hy byvoorbeeld slut shaming analiseer en die dubbele standaarde van ons gemeenskap.

Sy analise van Afrikaans aan universiteite is uitstekend. Laat die tegniese wetenskappe in Engels voortgaan en die geesteswetenskappe in 'n plaaslike moedertaal. As musiekkenner maak hy tersaaklike analises van waarom Jack Parow suksesvoller as sy bruin eweknieë is. Oor Facebook is hy in die kol! Hy deel klappe uit na vele bekendes, soos Steve Hofmeyr, maar ek is seker Steve sal dit kan vat.

Daar is verwysings na Trump, Danny Jordaan, Louis de Villiers (die rugbyskrywer), die AWB, rugby, en wat nog.

Die dwarsgeit van die Afrikaner resoneer met Willem de Klerk se ernstige boek Afrikaners: Kroes, kras, kordaat.

En terloops: Maas draai ook die mes op homself in. Sy haarkleur, tande en aknee as kind. Hy vergeet egter van sy Ȏfrikônse aksent.

So hy slag (in plaas van melk!) ook 'n heilige koei van satire! Die boek word aan sy ouers opgedra en ja lees mooi: agter die ou hardegat-aanslag, is daar tog iemand wat hou van maniere, respek vir ander en waardes soos eerlikheid.

'n Aweregse kultuurdokument, dus.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Cas Vos – In ’n oomblik (2017)

$
0
0


Cas Vos – In ’n oomblik. Naledi, 2017. ISBN 9780928316445

Resensent: Joan Hambidge

Die belangrikste bydrae van hierdie bundel van Cas Vos wat heet In ’n oomblikis die herdigtings van Konstantinos Kavafis en Georgos Seferis se gedigte.

Verskeie Afrikaanse digters het al hierdie digters na Afrikaans getransporteer. Eersgenoemde deur Uys Krige, ekself, Johann de Lange; laasgenoemde deur Dian Joubert.

Vos het die voorsprong dat hy met die oorspronklike Grieks kan werk. Ons dink hier aan onder meer Fragmente uit die Ilias.

Steeds moet ’n gedig egter in die nuwe taal as gedig oortuig. Dit gebeur oortuigend in “Die siele van ou mans”.

Die bundel bevat belangrike endnote oor die digters wat vertaal is en Auden se bekende uitspraak oor die probleme rondom vertaling.

Volgens Auden kan interne alliterasie, vergelykings en metafore behou word; liriese komponente, homofoniese assosiasies, en ritme staan aan die verloorkant.

Vos se kennis van Grieks kom nuttig te pas en die vertalings van hierdie twee digters is ’n bydrae tot die vertaalkuns wat veral deur M.M. Walters geboekstaaf is as redakteur van puik bloemlesings. (Uys Krige se Spaanse dans bly die beste.)

Wanneer Vos egter uit die Engels vertaal, is dit minder imposant: onder meer Gregory Orr se “Na ’n dood”. ’n Mens wonder ook waarom Afrikaanse digters probeer om klassieke Engelse verse te vertaal. Ons verstaan almal tog Engels.

Dit is egter wanneer ’n mens oor Cas Vos se eie belewenisse nadink, dat die ou hebbelikhede weer hier aandoen: sentimentaliteit, lawwe beelde, gedigte wat tegnies en dus nie vormlik afgerond is nie, rymdwang, verkapte prosa, woordoordaad, die verhewe aanslag, ensomeer.
Siekte en ellende waarborg helaas nie ’n goeie gedig nie.

Daar word onder andere oor siekte (diabetes) geskryf: Nou het ons in Afrikaans E.W.S. Hammond se Doodsteek van ’n diabeet; ons het Ernst van Heerden se operasie-verse; ons het Opperman se inbeweeg in die onbewuste in die onoortroffe Komas uit ’n bamboesstok. Onlangs was daar Marlise Joubert se Splintervlerk.

Daar is T.T. Cloete en Sheila Cussons wat uit verwonding en pyn magistraal bly dig het.

Maar siekte en ellende waarborg helaas nie ’n goeie gedig nie. Opperman was onder meer gaande oor Hammond se spaarse, woordsuinige verse.

Die siekteverse hier by Vos lewer die volgende op:

Diabeet

Al is ek deurtrek van suiker,
bly ek die Here se stroopsoet seun. (38)

of

Gebed vir ’n ortopeed
Trap jy net versigtig op jou voet,
drink jou antibiotika en wees soet. (52)

Die lykdig vir Bertie du Plessis, “Aan Helderberg se voet”, is gewoon potsierlik. Is die digter ernstig wanneer hy skryf:

Ons het Sondagaande
by die Doll’s House
aan hamburgers gesmul.
Die lewe het ons op die hande gedra
en ons woorde land en sand gestrooi.
oor ons nagvrese en trillende verwagtings (17).

Daar is verse oor die liefde. Picasso en Muhammad Ali. Goethe en Vincent van Gogh. Lykdigte en beeldgedigte dus.

Diskoerse, dispute en dialoë. Paul Celan word helaas verminder (40). Daar is opdragte vir vriende, geliefdes en ’n ortopeed.

In die publisiteitsnota verneem ons: “Die intertekstuele gesprek met Homeros en Dante as reismotief om ’n langdurige ongeluk en operasie poëties te verwoord, is nuut in die Afrikaanse digkuns.”

Die klassieke toespelings dalk; digterlik faal dit.

“Ek is, daarom taal ek,” heet ’n afdeling. Die toespeling op “cogito ergo sum” is fasiel.

En die lofuiting vir hierdie bundel wat verwys na sonderlinge poëtiese vondste, oortuig nie.

Die kritiek het nou al by herhaling sekere mankemente uitgewys en ’n mens wil nie hamer op dieselfde besware nie.

Dit is net jammer dat iemand met soveel kennis van die klassieke, verval in ’n bundel wat nie deurgekomponeer is nie.

Die toespelings op groot digters soos Wislawa Szymborska, Anne Carson, Breytenbach en Mallarmé vra vir ’n sterker ars poëtiese aanslag.

Hierom in “Om ’n gedig te maak” (8) word “gereedslaap” wat inspeel op gereedskap ’n ironiese (en onbedoelde) ondermyning van die vers.

Motto’s is nie net aanhangsels of oorbelle nie. Dit moet ’n gedig voortstu.

Daar is net te veel verspeelde kanse en gedigte wat nie verby ’n eerste weergawe kom nie.

Hierdie gedigte is lekkende siwwe soos die digter iewers oor sy niere skryf.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Hennie Smith – Multivers (2016)

$
0
0

Hennie Smith – Multivers. Naledi, 2016. ISBN: 978-0-928316-64-3

Resensent: Joan Hambidge

Naledi bemark hierdie bundel soos volg: “’n Aantal verse reik uit na die grense van religie en filosofie. Hier is ’n bundel wat die grense van dig-denke roer en verbreed.”

In hierdie dae van sterk debute, met sowel konvensionele digkuns (Hendrik J Botha en Juanita Louw) as anti-digkuns (soos Bibi Slippers), is hierdie bundel nie n "verbreding" nie.

Die digter gebruik verder tekeninge om die gedigte te versterk. Hierdie tekeninge van Mimi van der Merwe gee iets naïefs weer.

Soms is daar n bekoorlike beeld of ingryp, maar as debuut - soos dit hier staan - is dit nie oorredend as digkuns nie. Die digter verken die "stof, ster en plante" van die "geskape Univers" en sy bundel se titel is ontleen aan die fisika.

Afrikaans het wetenskaplikes, dokters, ingenieurs, ensomeer opgelewer, maar teen hierdie geesgenote klink die bundel maar yl op.

Die mooiste verse is dié wat oor die natuur handel, soos "Winterwitstinkhout" (95):

Die witstinkhout staan stom
tas met dun vingers
die leë dae om

n swart-en-wit fiskaal
wag roerloos

weldra sal broos lewe
deur die takkie-are kom.

In die eerste afdeling word die bekende (en ontglippende) uitspraak van Archibald MacLeish aangehaal: A poem should not mean / But be”.  Dit is egter die konklusie van die verruklike vers van hierdie Amerikaanse digter wat alles sluit : “A poem should be wordless / As the flight of birds”. Overgesetsynde, die tegelykertydsaspek waar beeld en gedagte één word op papier.  Macleish, n Amerikaner (1892 – 1982), was n modernistiese digter waar die geslote, outonome eenheid van die vers beklemtoon word, eerder as die buite-wêreld. En dit ontgin Smith dan in die eerste afdeling in die soeke “in nuwe vorme van lewe” (5) en in die gedig “Woordskig” (7) lees ons:

Tref ‘n voël
in sy vlug
pen hom trillend vas
op wit papier
waar die rooi merke
stadig stol

bleik tot blou.

Die tweede afdeling (“Ewige Vroulikheid”) handel oor die liefde, daardie allermoeilikste onderwerp vir die jong digter, wat immer gepootjie word deur die Abstraksie en reeds-geskryfde, wat nuut beskryf moet word. Die digter gebruik beelde uit sy wêreld om dit te beskryf, soos in “Gravitasiekolk” (27) waar swaartekrag, galakties, inspiraal, ensomeer die liefdesdaad beskryf. Die meeste liefdesverse kom hier nie verby die geykte nie.

Die derde afdeling heet "Woelende Woorde" - met verwysings na Dante wat in gedigte ontgin word - maar nie sterk genoeg na vore kom nie.

Daar is gedigte vir die geliefde, vir die ouers, vir n kind, vir vriende; wat net by die persoonlike en intieme bly en nie oortuigend vers word nie. Dalk moes dit maar net vir hulle versend gewees het.

"Château Ligeon" is n Franse vers. Gesprekke met die mitologie, Helena, Héloise (wat n mens terugneem na Sheila Cussons se verruklike vers.)

In die woordverklarings word die konsep "multivers" verduidelik as die samehang van die univers wat deur wiskundige "wette" beskryf word. Daar is in elke formule n konstante wat toevallig die presiese waarde het wat Homo sapiens se bestaan moontlik maak.

Dieselfde geld die digkuns. Ook hier bestaan "oneindige aantal universe" - die anti-digter se afbreek van reëls bevestig die bestaan daarvan. Die goeie digter skep sy eie uni-vers-um.
En waarom tog praat van “singuliere denke”? Of “woorde wat koaguleer”?  Daar is immers lekker Afrikaanse woorde, nie waar nie?

Die digter is soms buite sy boekie om. Iets mag miskien in die wêreld van die fisika reg klink, maar in die gedig trek dit negatiewe aandag.

En die ars poetica van MacLeish illustreer al hierdie wetmatighede, soos Cleanth Brooks se "well wrought urn". Die goeie gedig steek sy bouwerke weg; bly in jou naklink soos daardie vertrekkende voëls. Macleish was n uitsonderlike talent binne die Modernisme.

Van "vers-ekstase" is hier helaas, jammer genoeg, min sprake. Te veel harttog, te min hartstog.

Die bundel word deur Naledi gelys as ‘n topverkoper, wat helaas nie n werklike prestasie is nie. ‘n Groot digter soos Wilma Stockenström is nie n topverkoper soos Deon Meyer nie, maar haar gedigte-as-gedigte bly bakens binne ons letterkunde.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)


Paul Theroux: The Tao of travel

$
0
0

“You cannot travel the path before you have become the path itself”

I

In 2011 verskyn Paul Theroux se boek met reis-essays. Theroux, die skrywer van die beroemde The great railway bazaar het in 1975 verskyn. Die ekstase van reis en meer spesifiek reis per trein, word in hierdie sonderlinge boek uiters aangrypend beskryf.

Theroux, ‘n Amerikaner, se The mosquito coast, is in 1986 verfilm. Verder is hy ook bekend vir sy komplekse relasie met die skrywer V.S. Naipaul oor wie hy ‘n boek geskryf het, Sir Vidia’s shadow (1998), wat minder vleiend is as sy eerste een in 1972: ‘n Fiktiewe verhaal oor ‘n besoek van Anthony Burgess aan sy huis (“A. Burgess, Slightly Foxed: Fact and Fiction") opgeneem in The New Yorker, wat tot omstredenheid gelei het. Jare terug was daar in The Guardian ‘n portret van die Koningin van Engeland wat eweneens ‘n spel met waarheid en fiksie was. Nie-letterkundige lesers beskou sulke portrette as onaanvaarbaar en verkeerd. Dikwels mis oningeligte lesers ‘n kodewoord wat die fiksionele aard aandui.

II

Jare gelede gee ‘n vriend vir my The tao of travel persent, ’n reisjoernaal-cum-meditasie oor reis. Vanweë ruimte probleme het dit in my garage geland, waar ek dit eers weer twee weke gelede ontdek het, toe onder die stof. Weer eens ‘n bewys: as die leerling reg is vir die les, sal sy die meester ontmoet. In hierdie geval hierdie belangrike versameling met essays. Alles omtrent reis word hier via bekende en minder bekende skrywers gekarteer.

Die reëls van reis; reis as ‘n ellende. ‘n Analise van skrywers wat nooit hul huise verlaat het nie, maar aangrypende en belangrike reisverslae geskryf het soos Emily Dickinson. Reis as gevaar; reis en siekte. Siekte as reis. Probleme wat opgelos word deur gewoon net te wandel en na te dink …

Reis epifanieë; Claude Lévi-Strauss, die antropoloog se ervaring van reis; kos en reis. Evelyn Waugh versus Jack Kerouac; Bruce Chatwin se vermoë om die leser te laat glo hy was werklik daar. Sir Richard Burton wat die Koran en Arabies bemeester het alvorens hy gereis het na hierdie streke.

Daar word eksotiese disse gelys soos olifant-neus, armadillo risotto, apie-ogies, ensomeer (192).

III

Namibië (Foto: EHrez Marom)

Met die lees van hierdie boek, beplan ek ‘n reis na Namibië. Ek bekyk weer Sheltering sky (1990) van Bertolucci, gebaseer op Paul Bowles se verhaal van 1949, met Debra Winger, John Malkovich en Scott Campbell in die hoofrolle. Die verskil tussen ‘n toeris en ‘n reisiger verneem ons aan die begin van die film is dat die toeris met aankoms so gou as moontlik wil terugkeer; vir die reisiger is dit ‘n onbepaalde tyd van weg wees …

Bowles vertolk ‘n rol in die film en hy is ook die “voice over”.

IV

“Here is his library, but his study is out of doors”, word daar geskryf oor Wordsworth. En Werner Herzog, daardie uitmuntende filmmaker, het dikwels ver ente gestap om van psigiese probleme verlos te word. In 1974, toe hy verneem het dat die Duitse filmmaker Lotte Eisner sterwend in Parys lê, het hy vanaf München na Parys gestap in die geloof dat dit haar lewe sou red. Hy was toe 32 jaar oud en beskryf hierdie solo-staptog in Of walking in ice (1980). Hy is dikwels op sy staptogte uit plekke gesmyt weens sy vuil voorkoms. En wanneer ‘n mens na sy films kyk, is dit hierdie obsessiewe aard wat ‘n mens opval, iemand wat bereid is om alles op te offer.

V

Matsuo Bashō

Henry James het van spa tot spa gereis om van sy hardlywigheid verlos te word, terwyl Philip Larkin op ‘n keer geskryf het dat hy graag die Groot Muur van Sjina sou wou sien op voorwaarde dat hy die volgende dag kan terugkeer. Theroux se versameling beweeg tussen lughartige en pynlike herinnerings. Soos Bashō, die beoefenaar van die haikoe, wat op een van sy reise ‘n kind teëkom wat deur sy ouers op hul reis agtergelaat is. Hy gee vir die tweejarige kos, maar laat die kind agter.

“He looked like a tiny bush-clover blossom that would fall any time tonight or tomorrow beneath the blow of an autumn gust” (134).

Hieroor dig hy:

Poets who sang of monkey’s wailing:
How would they feel about this child forsaken
In the autumn wind?

(vertaal deur Makoto Ueda)

VI

Bruce Chatwin

Hierteenoor vind ons die enigmatiese Chatwin. “Walking defined him”, merk Theroux op. Die ewige nomaad. En natuurlik is daar vrae oor presies hoe hy van die Rio Negro tot by Port Madryn gekom het? Wat is waar? Wat is wolhaar?

By Jean-Jacques Rousseau is reis self-ondersoek: Les Rêveries du Promeneur Solitaire.

Graham Greene en D.H. Lawrence se reise het gelei tot boeiende romans, ofskoon eersgenoemde dikwels intense Reiseangst ervaar het. Somerset Maugham het met ‘n manlike lover gereis, omdat hy ‘n ernstige hakelaar was. En aangrypend is die vertelling van die jong meisie van 17 se suksesvolle bootvaart!

Graham Greene

Wanneer Theroux in Engeland toekyk hoe ‘n Brit ‘n hamburger vermorsel in geel vet, sien hy die humor in die situasie raak wanneer die Brit hom uitskel as ‘n Amerikaner wat vol fiemies is. Die gedeelte van hoe jy ‘n aaphandjie eet, is grieselig.

Die resensent, Hugh Thomson vind die titel verkeerd, omdat hy meen daar is nie genoeg kalmte nie en te veel ego in hierdie teks is (The Tao Of Travel, ByPaul Theroux | The Independent. Besoek 14 Februarie 2017).

Hierdie versameling is ‘n antologie met boeiende en uiteenlopende tekste van Samuel Johnson, Sir Francis Galton tot moderne reisigers. En die wyshede van Freya Stark (gebore in 1893) bly ‘n mens by.

© Joan Hambidge


Attila József - Suburban night and other poems (A New translation by Iván Kovács) (2016)

$
0
0

Attila József - Suburban night and other poems (A New translation by Iván Kovács) CreateSpace Independent Publishing Platform, 2016. ISBN 9 781 540 367 013

Resensent: Joan Hambidge


And my entire ancestry stands written on my brow

I

Iván Kovács is gebore in Hongarye, skoolgegaan later in Switserland en is veral bekend vir sy spirituele teks The path to higher states of consciousness(2014). Suburban night and other poemsis 'n vertaling van die digter Attila József, gebore op 11 April 1905 in Boedapest se gedigte.

Aanvanklik 'n Kommunis, later ontnugter met alle vorme van -ismes, ondersteun hy steeds die leefwêreld van die “downtrodden”.

In sy lewe het hy sowat 700 gedigte geskryf wat volgens die vertaler goed, baie goed en selfs uitstaande is. Hy sterf op 3 Desember 1937 en dit is onseker of hy aan selfdood of in 'n ongeluk dood is. Hy behoort dan ook tot die kategorie van jong gestorwenes wat eers nadoods erkenning geniet.

II

Uit die wêreld van die Oos-blok en Slawiese lande ken ons bittermin. Ons weet van digters soos Czesław Miłosz, 'n Pool wat die Nobelprys in 1980 verower het; ons ken die tekste van Milan Kundera en Žižek se kulturele analises vanuit 'n Lacaniaanse/Marxistiese versnit.

Dan is daar Freud. Freud in Wenen - in die stad wat die Ooste en Weste byeenbring.

Hier is dan ook 'n huldigingsvers vir Freud met sy tagtigste verjaarsdag: “That which you hide in your heart” (82). Die Danube is ook hier, daardie simboliese rivier in soveel liedere, musiek en gedigte vereer. Dit is 'n sentrale vers waarin die digter 'n historiese en persoonlike bestekopname maak. Hy kyk terug na die invloed van sy ouers met die wete dat alles tydelik is (“the transience of my body”, 84). Maar juis omdat die digter die bloedige en pynlike geskiedenis (“bloodstained past”) kan neerskryf, word hy vermenigvuldig.

III

Vir die leser wat vergelyk, kan die internet besoek word. 'n Boek wat in 1966 uitgegee is in Londen kan hier gevind word. Hier vind 'n mens 'n pynlike selfanalise van die digter en verskillende vertalers wat sy werk weergegee het soos o.a. soos die bekende Michael Hamburger.

Ons lees o.a. van die oorlog wat uitgebreek het toe hy negejaar oud was en hoe hout en kool moes steel om aan die lewe te bly:
War broke out when I was nine and our lot became progressively worse. I did my share of queuing. There were occasions when I joined a queue at the foodstore at nine o'clock in the evening and just when my turn was coming at half past eight the next morning they announced that all the cooking fat had gone. I helped my mother as best I could. I sold fresh water in the Világ Cinema, I stole firewood and coal from the Ferencvéros goods station so that we should have something to burn. I made coloured paper windmills and sold them to children who were better off, I carried baskets and parcels in the Market Hall, and so on. In the summer of 1918 I had a holiday in Abbazia on the Dalmation coast under the auspices of the King Karl Holidays for Children Fund. My mother was now ill with a tumour of the uterus and I applied on my own for assistance from the National Council in Aid of Children. So I went to Monor, and spent a short time there. Returning to Budapest I sold newspapers and I trafficked like a little banker in postage stamps and, later, in the white and yellow inflation money. During the Rumanian occupation I worked as a boy waiter selling bread in the Café Emke. I was at the same time attending secondary school, having passed the five classes of elementary school. (Attila József / Poems. Besoek 21 Februarie 2017).
Kovács transporteer sy weergawes goed na Engels en hierdie leser ónbekend met die oorspronklike taal, vind die gedigte meelewend en helder.

Benewens die poltiek-gerigte verse, is daar ook gedigte oor die natuur soos “March” (77):

The trees, like shopkeepers,
Display their buds ...

Hierdie ontwaking - bekend aan die Europese digkuns - word uitstekend weergegee.

Vir hierdie leser is die donker, melancholiese verse aangrypend soos “We humans ...” (76) waar die spreker die volgende wil:

I am inclined to set the cemetery on fire.

In die aangrypende selfportret “Without hope” (67) beskryf hy homself soos volg:

My moustache spreads like a fat caterpillar
Above my mouth with its fleeting taste.
My heart aches, my words have cooled off.
Trying to share them appears a waste –

Selfs al sou die leser niks weet van die tragiese lewensgeskiedenis en lotgevalle nie, dra die gedigte 'n sterk boodskap van uitsigloosheid oor. Sowel die moeder as die vader kon hom as kind nie versorg nie en is, ironies genoeg, vernoem na Atilla die Hun.

As digter word hy aangekla van blasfemie toe 'n gedig in 1924 “oortree”. Dit lei tot 'n hofsaak met vonnis van 8 maande tronkstraf en 200 000 krone as verdere straf. Gelukkig word dit opgehef, weens mense wat vir hom opkom en ironies genoeg lei dit tot negatiewe publisiteit wat die digter bekend maak. Sy gedig “With a pure heart” lei tot 'n ander fracas: hy word uit die universiteit geskop weens die boodskap van die vers. Die politieke “aanklag” moes bepaald vir die lesers te na aan die been gesny het: hier het 'n mens 'n jong mens wat wys op die ellende van 'n sisteem wat hom versaak het. Hy studeer wel later aan die Sorbonne waar hy Cocteau en Apollinaire ontmoet.

Later in sy lewe ontmoet hy ook vir Thomas Mann.

In die inleiding wys die vertaler ook op sy fragiele psigiese toestand en sy besoeke aan 'n sanatorium. Sy bemoeienis met die lot van werkers het in alle waarskynlikheid ook sy psigiese toestand versleg. Hy het eweneens 'n geliefde verloor weens 'n klasverskil.

Oor sy einde kan 'n mens waarskynlik net wonder: was dit 'n ongeluk, of is alle ongelukke uiteindelik 'n onbewuste begeerte om te sterf? Ek is die mening toegedaan dat laasgenoemde die geval is.

IV

Die vertaler wys op die slaggate met die vertaling. Hy is Hongaars magtig, self 'n digter en dus volledig in staat om die gedigte reg te vertolk.

Veral die unieke idiome van 'n bepaalde taal is die uitdaging vir 'n vertaler (28). 'n Mens moet ook besef dat die moderne vertaler iets van die outydse skryfstyl probeer vasvang, 'n verdere probleem. 'n Gedig uit 1922 werk met 'n ander stylaanslag as 'n (post)modernistiese vers van nou.

We’re the Sons of Life,
The heroes ordained for the fight;
Once we get moving on this Old Order
They’re sure to be crushed by our right

(“March for young lives”, 39).

Behalwe vir die kulturele rekonstruksie, moet die leser ook die stilistiese of retoriese strategieë van die tyd probeer bepaal. Waarskynlik is die uitroepe ook deel van die tyd: die aanspreek van die werkers wat die gedigte lees waarin hul lot bekla word.

Vir my is dit 'n boeiende bundel wat my bekendstel aan 'n digterlike wêreld wat ek al stuk-stuk per reise verken het.

Die bundel is pragtig uitgegee, en kan bestel word van: kovacs69@telkomsa.net

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van FineMusicRadio)


Johann de Lange – Gulp (2017)

$
0
0

Johann de Lange – Gulp. Xlibris, 2017.ISBN: 978-0-9947013-2-9

Resensent: Joan Hambidge

Die luime van die lus

Die digter, kortverhaalskrywer, bloemleser, vertaler, Johann de Lange se dagboeke heet Gulp. Met 'n eerste lees, word die leser gekonfronteer met die seksuele ervarings en met cruising. Die manlike roede word op verskillende maniere beskou. Maar ágter die gedurfde beskrywings is daar veel meer wat gebeur. Dit is 'n boek van eensaamheid, ellende: die verwerking van 'n pynlike liefdesverhouding (en verraad) en die gay-mens wat moet vrede maak met sy posisie as uitgewekene. En dit is 'n soort kladboek vir die digter. Lesers wat bekend is met De Lange se digkuns, sal die impulse sien vir 'n gedig of kortverhaal.

Die geweldige eerlikheid is wat hierdie boek so aantreklik maak. Ons sien byvoorbeeld hoe die jong Johann (toe Daniël) deur sy oom die verwyt gemaak word dat hy die rede is vir sy neef se seksuele voorkeur. Daar is ook die verwysings na die sibbe en die understated beskrywing van hoe 'n suster deur die weerlig doodgeslaan word, tref diep. Die ellende van dood - o.a. ook die dood van die minnaar se moeder - word ingehoue beskryf.

Hy word Johann, want sy neef is Daniël. En hierdie neef speel 'n bealngrike rol in die jong digter se lewe.

'n Sentrale passasie in hierdie boek klink so:
Ek snoei die wilde malva effens terug wat ek van ’n takkie gekweek het, gepluk by Sandy Bay in die tyd toe ons probleme reeds ernstig begin word het, toe ons mekaar reeds begin verlaat het. Lente is in die lug. Verder weg bokant Bloubergstrand & Robbeneiland is die lug turkoois & pienk ... (125).
Ons vind dan in hierdie dagboeke presies dit wat nie gesnoei is nie. Ook word daar verwys na letterkundige kwessies soos Ingrid Jonker se suster Anna wat die digter verwyt vir sy interpretasie van haar dood. Die onplesierige geskiedenis rondom die samestelling van die bloemlesing met Antjie Krog, Die dye trek die dye (1998) word openbaar; ofskoon die volledige verhaal nog lank nie vertel is nie, aldus 'n voetnoot op bladsy 48.

Auden se siening van die liefde word 'n rigtingwyser: daar is altyd een persoon wat meer voel of omgee (102). Dit blyk 'n belangrike interteks te wees.

Aucamp, Nic de Jager, Lucas Malan, Koos Prinsloo, Stephan Bouwer, Danie Botha, o.a. se name duik op. Daar is 'n verwysing na John Rechy:
Was vanmiddag in my etensuur by toilet oorkant Bertie’s Landing & iemand het alreeds weer die gloriegate oopforseer. Om die waarheid te sê, die grootste van die gate was nog toe, maar ek het iets daaromtrent gedoen! Vir die eerste keer in my lewe. Ek het soos ’n outlaw gevoel! John Rechy sal trots wees op my.  (21)  
Die ontwikkeling van die gay-identiteit is belangrik. Ook hierdie skrywer moes aanvanklik vrede maak met sy andersheid. Hy is verleë wanneer hy by 'n gay-klub die eerste keer as gay beskryf word as 'n jong plaasseun.

Vir baie jong lesers sal hierdie aspek fassinerend wees; dit was 'n moeilike en opdraande pad vir die jong gay-mens en -skrywer.

Van uitbundige cruising tot die ervaring van die harde werklikheid van die virus word oopgeskryf.

Tussen al die eerlike gay-seks, is daar subtiele simbole opgesluit: vensters wat vervang word in Seepunt. Sleutels wat verander word sodat die lover nie meer toegang kan kry tot die woonplek nie.
Sodra hy uitgetrek het, gaan ek my foonnommer laat verander, & ook die voordeurslot sowel as die slot van die motorhuis. Hy het kopieë van my sleutels laat maak & sal dit nie vir my teruggee nie. (76)
Sleutels is ook slotte, en andersom hier. Die verwying na die sleutel wat moet oopsluit of die onmoontlikheid van die proses, is 'n tema.

En die digter se natuurgevoeligheid is opvallend. Hy beskryf die reuke van sy stad.

Die blog Kaapse paragrawe - waar daar o.a. baie gay-tekste opgeneem en vertaal word - is 'n super-teks.

Die dagboeke word in die volgende afdelings opgedeel: I. 1993 Sandy Bay: Abandon all clothes…; II. 1994 Stigmata 35; III. 1995 Die Wilde Fees 183 en IV. 1997–1999 Gekaap 225.

Dit word aan die volgende persone opgedra:

vir al die naamlose maar nooit gesiglose genote & genieters
wat oor my & my pad gekom het; om op te som:
vir alle sodomieters & ander vér-skieters
gegom deur die taai stamper van die vleisblom

Die boek dwing bewondering af vir die ongebreidelde beskrywing van seks en die eerlike aanbod van alles.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Lina Spies – Sulamiet (2016)

$
0
0

Lina Spies – Sulamiet. Naledi, 2016. ISBN: 978-0-928316-47-6

Resensent: Joan Hambidge

Bevry van die kalender se heerskappy

Onvervulling en die soeke na ‘n oplossing vir hierdie pynlike toestand, kan gesien word as die onderbou van hierdie bundel. Daar is min digters wat hierdie eksistensiële dilemma so raak verwoord as Lina Spies. Ons vind die bekende temas hier: liefde, verganklikheid, die dood (met aangrypende lykdigte, o.a. oor Heinrich Grebe), geloofsake, vriendskappe, die natuur, musiek, en ook: die immer durende gesprek met die digkuns en ander digters. “Die huis van moontlikhede”, soos Emily Dickinson dit dan verwoord. Eybers op haar beurt praat van “woorde - goedkoop grabbelsak / of diamantbedryf”.

In vertalings wys Lina Spies op die eensgesindheid tussen Eybers en Dickinson. Sy het hieroor ‘n studie geskryf: Die enkel taak - Die merkwaardige ooreenkoms tussen Elisabeth Eybers en Emily Dickinson. Queillerie, Kaapstad. 1995.

By Spies is daar ‘n losser versbou (as by bogenoemde twee digters) en ons vind hier ‘n meer narratiewe aanslag. Daar is egter in die gedigte (dikwels onverhuld) ook ‘n spanning tussen beeld en toepassing. In die verruklike “Himne aan die herfs” (28) bewys sy hoe sy hiermee werk.

Sy is ‘n besondere natuurdigter - soos Ina Rousseau en Johann de Lange - wat die unieke aard van elke seisoen kan opvang. Deur Spies se oë sien jy die Stellenbosse berge wat verkleur.

Haar kennis van die musiek is duidelik sigbaar in verse vir (en oor) sangers soos Cecilia Bartoli, gekritiseer oor haar vertolkings, wat op ‘n omweg ‘n soort ars poëtika word:

elke voël sing immers soos hy gebek is
tot eer van die Ewige Vader

(“Hemelpoort”, 72).

Politieke onreg word aangespreek in verskeie verse, o.a. oor Nelson Mandela, en in “Dekrete van deernis” (85) praat sy met Adam Small. Ook die sanger Randall Wicomb (“Die man met die kitaar”, 86) word vereer met ‘n lykdig oor die pyn wat hy moes deurmaak weens die raspolitiek van die land. Sy kyk na ‘n skildery, Inferno van Judith Mason oor verkragting van ‘n jong dogtertjie en lewer kommentaar hierop in “Die weerloses” (64).

Breytenbach vereer sy tereg as ‘n groot digter en taalstryder in “Uitnodiging tot die dans” (82). Die oerkrag van sy gedigte bly vloei vanuit die buiteland; ten spyte van hoe Afrikaans tans (veral aan universiteite) verminder en uitrangeer word. Die politieke uitsprake van die digter is hier duidelik ‘n interteks.

Oor geloofsake lewer sy belangrike kommentaar. Die digter se siening van die NG Kerk en geloofsake waarin Christus “vereng” word, is algemeen bekend. Hier is “Verlies” (61) ‘n kernvers met die besef dat ons Jesus by die kruispad kwyt geraak het. “God is in my woordeloosheid”, bely sy in “Transendent” (76).

“Herrysenis” (69) tree in gesprek met Olga Kirsch se besinning oor die land van verbond. Spies transporteer die Riviere van Babilon na moderne kunstenaars soos Isaac Stern, Yehudi Menuhin en Itzhak Perlman (die Israeli-Amerikaner). Die volk wat altyd op vertrek staan, het viole met hulle saamgedra. In die slot wanneer sy Zuckerman se vertolking hoor van Max Bruch se vioolkonsert in die Endlersaal, 23 Augustus 2014, bewys sy hierdie siening van die wandelende Jood.

Dit is dan Spies se handtekening: om uit die historiese gegewe iets persoonliks te maak.

Vir my is die korter, meer gedronge verse geslaagder. Die gespreksverse, intiem in hul aanspreek van ‘n onderwerp of persoon, loop dikwels hier die geval om te wydlopig of woordryk te raak - soos die vers oor Randall Wicomb. Dit is uiteindelik waarskynlik ‘n kwessie van smaak.

Harold Bloom, die bekende Jiddisj-Amerikaanse teoretikus verwys na “the anxiety of influence” en hoe skrywers met mekaar in gesprek tree.

Spies is ‘n polemiese persoon én digter: sy neem standpunt in teen rasdiskriminasie, die ontkenning van taalregte, religieuse engheid. Sy is in eie reg feministies ingestel oor die lot van die enkelvrou - “huidhonger” of body loneliness word eerlik beskryf.

Celan se “Todesfuge” word goed vertaal.

Bloom wys ook hoe die groot digter “swerve” en iets nuuts bybring tot die kanon.

Hier het ons verse wat die invloed van Eybers en Dickinson registreer, soos Bloom dit beskryf in The anxiety of influence (1975). Haar unieke aanbod is die praatvers, die intiem-persoonlike aanslag. En tematies verryk sy die Afrikaanse digkuns met haar verse oor Joodse vervolging en die holokaust (Shoah). Ook die “herwonne paradys” (in gesprek met Ina Rousseau) en die siening van Jesus as die Joodse rabbi is belangrike temas.

Die titel is uit Hooglied 6: 11 en 13 wat erotiese liefde aktiveer:
Ek het afgeloop na die neutetuin om te kyk na die uitspruitsels in die dal, om te kyk of die wingerdstok uitloop, die granate blom … Kom terug, kom terug, Sulammitiese, kom terug, kom terug, dat ons u kan aansien.
In “Belydenis van ‘n Sulamiet” (41) waar sy standunt inneem téén die Puriteinse siening oor die liefde, net soos sy die kerk kritiseer vir hul beperkinge wanneer hulle Christus toe-eien en sekere mense uitsluit.

Dit is ‘n bundel met ‘n ryke tematiek waarin ‘n magdom van onderwerpe aan bod kom. Daar is dus iets vir ‘n verskillende lesers opgesluit in hierdie bundel, uitgegee deur Naledi.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Namibië: land van sand en see en sterre (2017)

$
0
0
Die Namib ontmoet die Atlantiese oseaan

Douvoordag vertrek ek lughawe toe vir my Namibiese reis.

My belangrikste bestemming is die Namibwoestyn.

Op die lughawe is dit die gewone wag, brekfis eet by die Mug & Bean. Ek gesels met ‘n jongeling wat as sekuriteitsbeampte werk.

“Jy’s nes jou pa,” betig my moeder my speels op die lughawe, ‘n paar jaar gelede. “Julle praat met almal.”

Dis maar hoe ek gebek is. Uit die mond van gewone mense leer jy veel van die lewe. Soos die man op die lughawe op Windhoek wat uitroep toe ek hom groet: “Gaan goed met my. Ek skinder nie vandag oor myself nie.”

Of die gawe bestuurderes by die lodge wat meen: “Onder elke dak, is daar ‘n Ag!”.

Gocheganas chalet

Of Kris my gids tussen Windhoek en Gocheganas wat my vertel hoe Windhoek gemoderniseer is die afgelope paar jare. Die bruin FNB-gebou is trots Afrika!

Of die pragtige jong kinders van die Hoë Kommisaris uit Kenia wie se dogtertjie van twee-en-half, land en sand met my gesels, ‘n sonbril op die kop.

Of die swart gids Werner (sy Christen-naam) wat my vergesel deur die Namib-woestyn en saam stap oor die duine.

Hierdie reisjoernaal sal met ‘n begin-middel-einde werk. Maar soos met ‘n (post)modernistiese roman mag die leser enige plek begin.


Die Begin

Hosea Kutako Internasionale lughawe, Windhoek

Windhoek se lughawe is klein en beskeie.

‘n Mens beweeg flink deur die paspoort-kontrole en niemand is stug hier nie. Jy kry jou tjap en daar gaan jy.

GocheGanas (Damara woord: plek van die kameeldorings en akasias) is my eerste holte vir die voet. ‘n Luukse oord met ‘n swembad, Wellness Centre en dierepark. Die mense is vriendelik, behulpsaam en kan Afrikaans praat of verstaan. Dis ongeveer ‘n uur se ry van die lughawe met ‘n Kombi-bussie. Die vriendelike Kris is my bestuurder en elke keer wanneer hy net-net wil vetgee, gaan ‘n alarm af.

“Sodat ons nie te vinnig ry nie en ons gaste in gevaar stel nie!”

Die lug is helder. Die wolke vet en dragtig. ‘n Mens dink onmiddellik aan Karel Schoeman se ‘n Lug vol helder wolke.

GocheGanas oord

Daar is vele bobbejaantjies langs die pad. Die gras is groen, want dit het onlangs gereën. Die rivierlope is egter steeds leeg. (A warm Welcome to GocheGanas, Namibia, Windhoek. Besoek 26 Februarie 2017).

In my kamer is daar lys van voëls en groter diere wat ‘n mens op ‘n uitstappie kan besoek. Ek besluit om die tweede dag, om vyf nm, op so ‘n patrollie te gaan.

Elke chalet is na ‘n steen vernoem. Ek bly in Cat’s Eye. Hoe simbolies.

In die Hill Top-restaurant is die wynlys duur. Suid-Afrikaanse wyne se pryse word hier dubbel en dwars gelaai. Die kos is heerlik. Wildsvleis of vis. Op Sondag 26 Februarie eet ek ‘n egte Duitse kool en ertjie-sop as voorgereg. Dan die “game medallions” (glo eland) en ‘n “Lemon and lime syllabub met mixed berries”.

Skielik bars daar ‘n reënbui uit en ek is genoodsaak om in die warm binnenshuise swembad te gaan swem. Dit neem my terug na die hotel in Dubrovnik, ‘n paar jaar terug, waar ek vir oulaas swem voordat ek terugvlieg huistoe. (Woorde wat Weeg/ Reisjoernaal/ ‘n Sloweense en Kroasiese pelgrimstog (2014)Besoek 2 Maart 2017).

Alle spa’s by sulke hotelle is dieselfde: ruik dieselfde, klink dieselfde ... met sulke geblikte Oosterse musiek om ‘n mens te kalmeer. Maar ek voel Zen. Doen my borslag-oefeninge, trap my trappe en maak gereed vir die 5 nm ekspedisie om diere te besigtig om die lodge. Hier is glo ‘n renoster of twee te bespeur, maar geen olifante nie.

Oryx © Arno Meintjes

Ons word om vyf op ‘n Landrover gelaai vol bot Duitsers en twee laggende Hollanders. Ons gids, ene John gee lesings soos ons ry. Daar is die oryx (gemsbok), die nasionale bok van Namibië. (Gemsbok - Wikipedia. Besoek 27 Februarie 2017).

Ek sit tussen twee Duitsers uit München en hang soms oor om ‘n Springbokkie te kiek en ‘n waterbok of twee. Hierdie bok sal jy nie kan eet nie, vertel John, want as sy olierige vel aan die vleis raak, is dit kapoet! Hierom kry jy dit nooit te ete in restaurante nie.

Ons is gelukkig en sien twee renosters. ‘n Groot logge ou vader wandel met sy jongeling. Die ma is dragtig en daarom moet die tweejarige ouboet met sy vader wandel. Sy moet nou haar kragte spaar vir die nuweling en jaag hom nou weg.

Hulle bly vreet aan die gras, terwyl ons hulle afneem en na beraming is dit daagliks glo 50 kg gras wat verorber word.

In die droë tyd gee hulle die diere kos. Hulle kry dan gras uit Suid-Afrika.

Hierna is dit kameelperde, dansende volstruise, en vele klein jakkalsies. Ek sien ook ‘n grys vossie.

Nou bewonder ‘n mens die digter Johann Lodewyk Marais al hoe meer vir sy uitgebreide digterlike opnames van die natuur.

Vlakvark

“Ach so, ein Warzenschwein,” roep die Duitser langs my uit. “Oh, und ein Streifengu.” Die Hollanders mor oor die dierepark. Hulle het glo veel beter in die Etosha gesien.

Vir my is dit goed genoeg, ek is nie ‘n natuurkenner nie en maak klikgeluidjies wanneer iemand vir my ‘n verkyker aangee om ‘n eksotiese voël te sien.

Maar ek geniet tóg die uitstappie van meer as twee-en-half ure. Die Duitsers is verbaas dat ek Duits verstaan en kan terugpraat.

Die sonsondergang is rosig en onbeskryflik mooi.

Ons hou piekniek in die veld en elkeen kry ‘n gin & tonic.

Die aand is dit heerlike Duitse sop en ‘n keuse tussen eland of vark. Ek kies laasgenoemde: sag en onder ‘n bloukaassous wat smelt in die bek.

Ek e-pos die digter Kobus Lombard en nooi hom vir ete. Hy is ongelukkig op pad na ‘n werksverpligting.

Ek lees weer van sy gedigte en vind dié treffende vers wat tot my spreek, nou dat ek iets meer van die landskap begryp:

Uitsoeklê

in die skoot van hierdie dorsland
kan julle my neerlê en telkens
as die blare van ‘n geelhout ritsel
of ‘n jakkals roep na sy maat
agter die kam van die verste duin
sal ek knus my beendere omdraai

om verder te rus

(Uit: Tussen wysvinger en duim, Protea Boekhuis, 2005)

Daniel Hugo lees ook verse uit sy bloemlesing Land van sonlig en sterre (2004) voor op RSG. Ek laai dit af van potgooi

Hy wys tereg op die oorweldigende lanskap. Hier is die natuur nog in beheer.

Hugo, George Weideman (met sy staning onder sterre), Gustav Preller, Marié Blomerus (met die beskrywing van sterre wat haar oorweldig), die Namibwoestyn word aan die woord gestel (in die oudste gedig oor hierdie land wat gesels met “Die vlakte”, hier kan ek die naam hoor nie), Piet van Rooyen, Abraham Fouché, Johann Lodewyk Marais (‘n nugter vers oor die oorlog) en natuurlik: Wilma Stockenström se die briljante “Die eland”, is hier te hore.

Hugo moes vele van die lang historiese verse uitlaat, maar daar is darem een van Doc Immelman, pragtig voorgelees deur Hugo.

Welwitschia mirabilis

Oor die worsteling met hierdie natuur, skryf Blomerus aangrypend in “Welwitschia mirabilis”:
...
‘n duisend jaar en meer
se worsteling met son en wind
het jou diep gewortel in hierdie oer-aarde
in hierdie suisende stilte
het die groenspaan blare tot dun repe verflerts
nogtans blom die geslagskeeltjies
rooi op stewige steeltjies

welwitschia mirabilis
jy’s ‘n gedig
in die oer-aarde se onaardse lig

(opgeneem in - as ek reg onthou in Fosforblom in 1984. My biblioteek staan tuis en die internet is onbetroubaar hier.)


Middel: Namib-woestyn

Vroegoggend brekfis en dan swem in die swembad. Ek groet almal in die lodge. Gawe mense wat altyd hulpvaardig is. Wanneer jy iets anders behoef as dit wat op die menu staan, maak hulle dit vir jou.

Gisteraand was ek lus vir koedoe - en die swart vrouesjef berei vir my die sagste koedoe voor.

Hilton Hotel, Windhoek

Nou wag ek in Windhoek se Hilton-hotel vir my lang trip (ongeveer vyf ure na die Namib-woestyn). Kris het my afgelaai. En Werner, ‘n Ovamboman, kom laai my op. Sy regte naam is Amutenya.

Ons ry vir ure lank na die lodge in die Namibwoestyn. Die 4-by-4 skud op die pad.

“Dit is ‘n Afrika-massering,” spot hy.

Naukluft Lodge

Dit is ‘n cliché om na hierdie landskap as beeldskoon te verwys. Ek sit in my nuwe lodge, in die Namib uitgeput, maar oorrompel na die reis. (Namib Naukluft Lodge. Besoek 28 Februarie 2017)

Die aand het die panoramiese aanskyn van ‘n Adolf Jentsch-skildery (Adolph Jentsch by Olga Levinson. Besoek 28 Februarie 2017).

Vroegoggend lui die wekker (4.30 vm) vir die besoek aan Sossusvlei.

Ek is nie ‘n oggendmens nie, en probeer met koffie en twee sigarette die dag te laat inskop. Verder is die afwagting groot om die Namib te sien. Jung het glo met sy eerste besoek aan Indië flou geword, omdat hy besef hy dat hierdie landskap gaan sy hele psige radikaal verander. Party meen hy moes selfs terugkeer en eers later weer gaan.

Vir my is hierdie oomblik groot.

Ons ry vir ongeveer ‘n uur tot by Sossusvlei.

Niks wat iemand ooit van dié woestyn vertel (verklaar tot monument in 2013), kan die prag hiervan vasvang nie. Van Big Papa tot Big Mama.

Die ou grote lyk op ‘n haar na die ou voorblad van Perspektief & Profiel.

Ek klouter die eerste duin uit en tel klippe op. Soos wat ek doen in elke vreemde landskap.

Twee Landrovers sit in die sand vas. Daar in die verte kom ‘n bakkie aan om te help.

Ek kyk na die wewer-voëltjies wat pragtige neste maak; selfs Springbokkies en twee kraaie is hier te sien.

Werner neem vir my foto’s van die canyon toe ek te bang raak om verder af te klim.

Toe ons by Weltevrede lodge verby ry, raak ek melancholies. Die naam van my moeder se huis.

Dis onbeskryflik warm. Werner het vir ons ‘n piekniekmandjie ingepak, maar ek verkies om in die 4-by-4 ‘n toebroodjie te eet. Ons stop by die Engen-garage waar twee Duitsers uit Bonn gestrand is. Die voorwiel is voos en pap; kennelik deur ‘n klip getref (en hulle's toe alreeds op die spaarwiel).

Werner probeer verduidelik daar is niks met die motor verkeerd nie. Hulle het waarskynlik ‘n klip raakgery en omdat hulle nie gou genoeg gestop het nie, is dit kapoet.

Die Duitse vrou is egter van mening: “Nee, dis die motor. Hulle eis ‘n nuwe een. Sy hoor al die hele oggend doef-doef.”

Die Namib beteken letterlik groot plek. Dit is ‘n Nama-woord. Niemand kan anders as om oorweldig te wees deur hierdie woestyn nie. Dit is ‘n land van lang afstande. (Namib - Wikipedia. Besoek 1 Maart 2017)

Wanneer ons laatmiddag by ons holte-vir-die-voet aankom, gaan ek kamer toe. En begin timmer aan ‘n vers:

Ek is geborge in my skadu
soos ‘n viool
in sy swart kas.

Tomas Tranströmer (vertaal deur De Waal Venter)

Met twee swart kraaie,
‘n lodge wat Weltevrede heet
in die Naukluft,
waaier my hele lewe voor my uit.
In hierdie woestynsee
neem die landskap my terug
na die Rajasthan en Atacama
toe my moeder nog geleef
het en in daardie tyd
was stilte ‘n troop,
‘n duisend jaar of ewigheid,
onbepaald en onmeetlik bloot.
In hierdie land van sonlig en sterre
met wolke soos watte
is my moeder
steeds die souffleuse
van my lewensdrama
met ‘n uurglas wat uitloop.


Einde: Swakopmund en Walvisbaai

Swakopmund

Nou’s dit Swakopmund toe. Dis vroeg uit die vere met brekfis op die stoep. Klein voëltjies pik-pik aan die muesli, en ‘n meerkatjie wag om gevoer te word. Werner wag alreeds buite. Ons ry vandag nie alleen nie. Daar is ‘n gawe Hollandse vrou saam met ons. Ek het haar ontmoet op een van ons uitstappies om ‘n wonderskone sonsondergang te sien.

Sy wil dikwels foto’s neem; wat reg is met my. Ek drink die landskap in. Die woestyn se tekstuur het nou verander na wit sand. Daar is geen foonontvangs op hierdie lang pad nie en viertrekke jaag by ‘n mens verby teen ‘n donderende spoed. ‘n Mens wonder wat sal gebeur as jy hier in die nood raak.

‘n Laaste bord waarsku dit is die laaste restaurant, ‘n paar km van ons lodge.

Na vier ure is ons in Walvisbaai en nog dertig km staan Swakopmund, ‘n egte Duitse dorpie. Oor die etimologie van die naam is daar al baie gestry. Party meen dit van die Nama-woord Tsoakhaub (letterlik anus) om die vloed van die Swakoprivier se uitwerping van dooie diere en uitskot in die see te beskryf. Professor Peter Raper, die groot naamkenner, meen dit kom van die Santaal: xwaka (renoster) and ob (rivier). Die Duitse setlaars het dit verander na Swachaub en in 1896 word dit Swakopmund. (Swakopmund - Wikipedia. Besoek 2 Maart 2017).

Strandhotel, Swakopmund

Toe ek intjekkereer by die Strandhotel (na ‘n afskeid aan Werner), staan die twee Duitsers uit Bonn langs my. Hulle het ‘n nuwe motor gekry, maar moes ‘n nag langer oorbly in die lodge. Hulle mor oor die ongerief. Verloor nou boonop ‘n nag in Swakopmund. (Strand Hotel Swakopmund. Besoek 4 Maart 2017)

Dis nou maar eenmaal so dat Europeërs uiters omgekrap raak as sake in Afrika ‘n bietjie skeef loop. Ek dink aan die twee Duitsers in my eerste lodge wat oor alles gekla het: die kos, die feit dat hulle nie by die venster mag sit nie (daar was geen bespreking nie), die kamer wat al te oud en verweerd is, die wyn wat nie reg is nie... En so word die reis wat ‘n avontuur kon wees, ‘n onaangename ervaring.

Nou is dit Swakopmund bekyk. En daar trek ek my woorde terug toe ek in die Brewer & Butcher sit en met irritasie die gille in die kombuis moet aanhoor. Met ‘n bestuuder wat meen die gaste hou daarvan dat dit so “vibey” is!

Nou’s dit vroeg kooi toe in die Strand-hotel vir ‘n Marine & Dune-trip vroegoggend.

Swakopmund duine

Toe gebeur die onvoorsiene.

Geen wake-up call – gelukkig is die selfoon ‘n wakker wekker.

Toe ontbyt en wag. 8 - 8.15 - 8.30 - 8.45 ...

Ons bel die mense in Walvisbaai: “Haai, Mevrou die boot is al weg. U moes vroeër hier gewees het.” Ek verduidelik dat my reisbiljet verskil. Gebel heen en weer. Selfs die agent uit Pretoria bel.

“Jammer ons fout ... u kan darem nog die Duine-toer doen.”

Ek bel Estelle by ‘n ander agentskap. Al die bote gaan net in die oggend uit. Dis joppelsee.

Sy is bereid om my op ‘n ander toer te neem wanneer ek terug kom van die Duine-trip.

Adolph Jentsch landskap

Terug kamer toe. Miskien is dit Voorsienigheid wat wil toesien dat ek eerder moet fokus op die woestyn en duine vereers.

By die Duine-ontmoetingsplek, kom die bestuurderes uit.

Sy stel haar voor aan my. “Die fout met die bespreking is alles my skuld. Hier is jou geld terug en vandag is gratis!”.

‘n Koevert met ‘n rol dik note word aan my oorhandig.

Die grootmoedigheid van die vrou imponeer – ek is bekend met mense wat altyd ontken dat dit hulle fout was. Of aanval as verdediging.

Skedelkus, Namibië

En die Duine-trip tot by die Skedelkus is ‘n ervaring. Die woestyn, leer ons, word gevoed deur die mis. Daar is klein jakkalsies wat kort voor ons koms by ’n watergat gestaan het.

‘n Mens sien dooie robbe op die pad – selfs ‘n onthoofde dolfyn en flaminke, ja hulle wat op een been slaap. ‘n Lewendige rob sit met ‘n stuk vislyn om die nek, maar ons kan nie help nie, waarsku die gids. ‘n Vriend het in die hospitaal beland!

‘n Rob, vertel die gids, slaap in die water nooit regtig nie. Sy vinnetjie is na bo en hy draai in ‘n sirkel sodat hy altyd weet waar hy is. Vir regte slaap, is dit op die strand.

‘n Pragtige pelikaan is ook hier te siene en miljuisende kormorante.

Ons ry met ‘n Landrover die duine op en af. Onder ons roggel die sand. Net eenkeer sit ons vas, maar Nico, ‘n boerseun uit die Noorde, sit die Landrover in trurat en durf weer die duin aan. Deurentyd is hy en Rudi op walkietalkies.

Lunch is bier, vonkelwyn, oesters en broodjies met wildsvleis.

Ek kyk na die granaatrooi sand in die verte; die halfedelgesteentes wat wink.

Op pad terug vra ek of ons kan swem.

Ek staan in die koue water, terwyl twee vroue uit Harare alte heerlik swem.

Die lang afstande (vir mense hier is 300 km naby) en die vlae verweer deur die son en wind sal ek altyd onthou. ‘n Dorpie met die naam Solitaire waaroor ‘n Nederlander ‘n reisverslag geskryf het, en die humor. ‘n Boot wat heet “kotskoets”; ‘n plaas se naam is “Droë Willem”.

Ons staan by die Tropic of Capricorn net voor Walvisbaai - die sterreteken van my moeder en hierdie reisverslag is ‘n afskeid aan haar.

Buite Swakopmund het iemand met witgeverfde bande die naam Jesus in die sand geplant. Vir my gaan dit meer om die “psychic embodiment” van hierdie genadelose land.

Na hierdie land waar die welwitschia, die oryx, diamant en visarend simbole is, sal ek beslis weer terugkeer.

Aftelrympie

Hosea Kutako
GocheGanas
Kupferbergpas
Spreetshoogte
Solitaire
Sesriem
Sossusvlei
Tsauchab
Naukluft
Gaub & Kuiseb
Gobabeb
Vogelfederberg
Walvisbaai

© Joan Hambidge

Mag resensente geresenseer word?

$
0
0


Dit bly ‘n tersaaklike vraag: mag die resensent geresenseer word? Mag daar repliek wees?

Die volgende brief van dr. Johan Brink reageer op my bespreking van Multivers van Hennie Smith en lui as volg:

I.

Resensie wys Hambidge het g’n benul van wetenskap

Deur Dr. Johan Brink, Equestria 28 Februarie 2017 04:00

Kan resensente geresenseer word?

Ek hoop so, want dit kan die vlak van die letterkundige debat verhoog.

Ek is ‘n gereelde leser van Beeld. Ek geniet ook van tyd tot tyd poësie. Dus waardeer ek die resensies wat in Beeld en ander Media24-koerante verskyn.

Onlangs het ek op die digbundel Multivers deur Hennie Smith afgekom. Aangetrek deur die titel het ek geblaai, gekoop en gelees: meegevoer!

Was my verbasing groot toe ek 13 Februarie in Beeld sien dat Joan Hambidge hierdie bundel bespreek.

Die resensie maak groot gewag van die sewewoord-aanhaling uit Archibald MacLeish waarmee Smith die eerste afdeling van agt gedigte inlei. Die resensent wys aan die leser dat sy baie weet van MacLeish en dui vir die leser selfs sy geboorte- en sterfjaar aan. (Van watter belang is dié data?)

Johann Wolfgang von Goethe, olieverf deur Joseph Karl Stieler, 1828

Die tweede van drie afdelings, bestaande uit 30 gedigte, word ingelei met ‘n aanhaling uit Goethe se Faust: ‘Das Ewig-Weibliche / Zieht uns hinan’. Hierdie gedigte raak talle aspekte van die manlik-vroulike interaksie met skakerings van emosies aan. Van hierdie aanhaling meld Hambidge niks. Ken sy nie Goethe se geboorte- en sterfdatum nie? Verstaan dalk geen Duits nie? Of is sy totaal ongevoelig vir die manlik-vroulike interaksie?

En dan die skokkendste waarneming: sy het geen benul van die wetenskap nie.

‘n Gedig soos “Klippe roep” vang die totale ontstaan van die kosmos vas van die oerknal af, deur al die stadiums en onverklaarde prosesse tot by die moontlikheid van ‘n intelligente wese agter die kosmiese proses.

Die titelgedig, “Multivers”, begin vernuftig met: Uit ‘n gedagte-knal / ‘n singulariteit van denke...

Hierdie beelde eggo die ontstaan van die kosmos met die oerknal wat uit ‘n wiskundige singulariteit ontspring. In die tweede laaste reël suggereer die digter dat sy multivers vir singuliere denke bedoel is: dus vir sonderlinge intellek. Hambidge kelder haarself deur te wys dat sy nie oor hierdie begripsvermoë en kennis beskik nie en soek “lekker Afrikaanse woorde”! En dan kyk sy om na waar sy meen ondersteunende plebs wag: “Nie waar nie?”

My eie lees van Hambidge se bundel Meditasies toon vir my mooi eenvoudige skrywery oor trivialiteite. Ek begryp nou beter waarom dr. Tom Gouws onlangs in sy resensie van Hambidge se werk geoordeel het dat daar uit talle bundels weinig verse is wat vermelding verdien.

Hoe kan Media24 so ‘n onbevoegde persoon met beperkte woordeskat, begrip en poëtiese gevoeligheid gebruik om nuwe publikasies te resenseer? Kom ons maak ons denke oop en merk dat die gewaande keiser liederlik kaal is.

Ek sal nooit weer iets van hierdie persoon lees nie en sal in die toekoms erg krities na resensies van letterkundige werke in Beeld en sy susterkoerante kyk.

Joan Hambidge, foto deur Naomi Bruwer

II.

Ek het reeds kortliks hierop gereageer op die skrywer van Equestria (nie Pegasus nie), maar weens ‘n gebrek aan ruimte, gaan ek vollediger in op dr. Brink se besware. Hy is van mening dat ek “onbevoeg” is om te resenseer en beskou die gewaande keiser as liederlik kaal.

Van wetenskap sou ek niks weet nie en ek “soek lekker Afrikaanse woorde”.

As hy oplettend gelees het, sou hy ‘n vraagteken gesien het na my opmerking. Die gebruik van hierdie soort wetenskaplike woorde in ‘n teks, werk moontlik in ‘n wetenskaplike handleiding; bepaald nie in ‘n vers nie. “Singuliere denke”? Koaguleer se Engels is “clotting”. Stol? Klont?

Dalk ‘n beter Afrikaanse woord; ek vra maar net.

Groter digters - soos T.T. Cloete - moes al hiervoor kritiek ontvang. (Smith se endnote is wel handig vir die speurende leser).

Archibald MacLeish

‘n Motto in ‘n bundel is ‘n belangrike wegwyser, sowel tematies as tegnies: hiermee word ‘n bundel geplaas binne ‘n bepaalde denkwêreld. MacLeish se beroemde ars poetica ondermyn myns insiens dit wat Smith doen:

Ars Poetica
deur Archibald MacLeish

A poem should be palpable and mute   
As a globed fruit,

Dumb
As old medallions to the thumb,

Silent as the sleeve-worn stone
Of casement ledges where the moss has grown—

A poem should be wordless   
As the flight of birds.

                *               

A poem should be motionless in time   
As the moon climbs,

Leaving, as the moon releases
Twig by twig the night-entangled trees,

Leaving, as the moon behind the winter leaves,   
Memory by memory the mind—

A poem should be motionless in time   
As the moon climbs.

                *               

A poem should be equal to:
Not true.

For all the history of grief
An empty doorway and a maple leaf.

For love
The leaning grasses and two lights above the sea—

A poem should not mean
But be.


Die plasing van hierdie digter se geboorte- en sterftedatum verwys na die modernisme, ‘n gedig wat dus in die tradisie van Wallace Stevens, op sigself inbuig.

Groot navorsers het al by herhaling uitgewys hoe Stevens se verse werk met die idee van ‘n geskape universum en dat die vers volgens sy reëls getakseer moet word.

Inderdaad het ons hier in Multivers‘n fisikus aan die woord, maar veral die liefdesverse kom nie die mas op nie. Duits ken ek en binne die woordbeperking van ‘n resensie (800 woorde) kan ‘n mens nie by alles stilstaan nie. ‘n Resensie is ‘n eerste reaksie.

En al is ek gay, kan ek ‘n heteroseksuele vers beoordeel. ‘n Mens hoef nie lesbies te wees om te weet dat Carol Ann Duffy se Rapture (Picador, 2005) briljante verse is nie!

Tom Gouws

Vir die rekord: Tom Gouws het Indeks geresenseer in Beeld, nie Meditasies nie. En dr. Brink se  opmerking: “My eie lees van Hambidge se bundel Meditasies toon vir my mooi eenvoudige skrywery oor trivialiteite. Ek begryp nou beter waarom dr. Tom Gouws onlangs in sy resensie van Hambidge se werk geoordeel het dat daar uit talle bundels weinig verse is wat vermelding verdien”, verwys na die mening van ‘n kritikus, sélf digter, wat boonop skerp reaksie uit talle oorde ontlok het. Trouens, enige digter moet kritiek kan hanteer - dis deel van die groeiproses.

‘n Digter het op Versindaba verwys na die panteon van die Afrikaanse letterkunde wat hom ‘n volstruisskop toegedien het. Hy vergeet kennelik van sy resensie o.a. oor Leon de Kock en sy “geestesgoedere”!

Daar is min ingeligtes wat bereid is om te resenseer. Dit staan dr. Brink vry om kritiek te lewer, op voorwaarde hy kan vir ons vertel wat die verskille tussen modernisme (postmodernisme) is.


Onthou die uitspraak: nie die idee nie, maar die ding self.

Dit val op dat hy niks sê oor die sketse in die bundel nie.

III.

My oorspronklike resensie in Beeld:

Hennie Smith – Multivers (Beeld). Naledi, 2016. ISBN: 978-0-928316-64-3)

Harttog van ‘n lewensloop 

Naledi bemark hierdie bundel soos volg: “‘n Aantal verse reik uit na die grense van religie en filosofie. Hier is ‘n bundel wat die grense van dig-denke roer en ver¬breed.”

In hierdie dae van sterk debute, met sowel konvensionele digkuns (Hendrik J Botha en Juanita Louw) as anti-digkuns (soos Bibi Slippers), is hierdie bundel nie ‘n “verbreding” nie.

Die digter gebruik verder tekeninge om die gedigte te versterk. Hierdie tekeninge van Mimi van der Merwe gee iets naïefs weer.

Soms is daar ‘n bekoorlike beeld of ingryp, maar as debuut - soos dit hier staan - is dit nie oorredend as digkuns nie. Die digter verken die “stof, ster en plante” van die “geskape Univers” en sy bundel se titel is ontleen aan die fisika.

Afrikaans het wetenskaplikes, dokters, ingenieurs, ensomeer opgelewer, maar teen hierdie geesgenote klink die bundel maar yl op.

Die mooiste verse is dié wat oor die natuur handel, soos “Winterwitstinkhout” (95):

Die witstinkhout staan stom
tas met dun vingers
die leë dae om

‘n swart-en-wit fiskaal
wag roerloos

weldra sal broos lewe
deur die takkie-are kom.

In die eerste afdeling word die bekende (en ontglippende) uitspraak van Archibald MacLeish aangehaal: A poem should not mean / But be”.  Dit is egter die konklusie van die verruklike vers van hierdie Amerikaanse digter wat alles sluit : “A poem should be wordless / As the flight of birds”. Overgesetsynde, die tegelykertydsaspek waar beeld en gedagte één word op papier.  Macleish, ‘n Amerikaner (1892 – 1982), was ‘n modernistiese digter waar die geslote, outonome eenheid van die vers beklemtoon word, eerder as die buite-wêreld. En dit ontgin Smith dan in die eerste afdeling in die soeke “in nuwe vorme van lewe” (5) en in die gedig “Woordskig” (7) lees ons:

Tref ‘n voël
in sy vlug
pen hom trillend vas
op wit papier
waar die rooi merke
stadig stol

bleik tot blou.

Die tweede afdeling (“Ewige Vroulikheid”) handel oor die liefde, daardie allermoeilikste onderwerp vir die jong digter, wat immer gepootjie word deur die Abstraksie en reeds-geskryfde, wat nuut beskryf moet word. Die digter gebruik beelde uit sy wêreld om dit te beskryf, soos in “Gravitasiekolk” (27) waar swaartekrag, galakties, inspiraal, ensomeer die liefdesdaad beskryf. Die meeste liefdesverse kom hier nie verby die geykte nie.

Die derde afdeling heet “Woelende Woorde” - met verwysings na Dante wat in gedigte ontgin word - maar nie sterk genoeg na vore kom nie.

Daar is gedigte vir die geliefde, vir die ouers, vir ‘n kind, vir vriende; wat net by die persoonlike en intieme bly en nie oortuigend vers word nie. Dalk moes dit maar net vir hulle versend gewees het.

“Château Ligeon” is ‘n Franse vers. Gesprekke met die mitologie, Helena, Héloise (wat ‘n mens terugneem na Sheila Cussons se verruklike vers.)

In die woordverklarings word die konsep “multivers” verduidelik as die samehang van die univers wat deur wiskundige “wette” beskryf word. Daar is in elke formule ‘n konstante wat toevallig die presiese waarde het wat Homo sapiens se bestaan moontlik maak.

Dieselfde geld die digkuns. Ook hier bestaan “oneindige aantal universe” - die anti-digter se afbreek van reëls bevestig die bestaan daarvan. Die goeie digter skep sy eie uni-vers-um.

En waarom tog praat van “singuliere denke”? Of “woorde wat koaguleer”?  Daar is immers lekker Afrikaanse woorde, nie waar nie?

Die digter is soms buite sy boekie om. Iets mag miskien in die wêreld van die fisika reg klink, maar in die gedig trek dit negatiewe aandag.

En die ars poetica van MacLeish illustreer al hierdie wetmatighede, soos Cleanth Brooks se “well wrought urn”. Die goeie gedig steek sy bouwerke weg; bly in jou naklink soos daardie vertrekkende voëls. Macleish was ‘n uitsonderlike talent binne die Modernisme.

Van “vers-ekstase” is hier helaas, jammer genoeg, min sprake. Te veel harttog, te min hartstog.

Die bundel word deur Naledi gelys as ‘n topverkoper, wat helaas nie ‘n werklike prestasie is nie. ‘n Groot digter soos Wilma Stockenström is nie ‘n verkoper nie, maar haar gedigte-as-gedigte bly bakens binne ons letterkunde.

© Joan Hambidge is professor in Afrikaans en Kreatiewe Skryfwerk aan die UK. 

Deon Meyer – Jagveld en ander draaiboeke (2017)

$
0
0


Deon Meyer – Jagveld en ander draaiboeke. Human & Rousseau, 2017. ISBN 9780798175708

Resensent: Joan Hambidge

I
Jagveld en ander draaiboeke, deur Deon Meyer, word tereg bemark as ‘n teks van "die gewildste skrywer in Afrikaans". Meyer as spanningsverhaalskrywer het sy volgelinge by verskeie lesers, letterkundig en gewoon. Hy het onlangs ook sy hand aan films gewaag en dit is dan 'n versameling van sy draaiboeke. (Jagveld en Ander Draaiboeke. Besoek 8 Maart 2017).

Meyer se redakteur, Etienne Bloemhof, is 'n filmkenner. En dit is bepaald belangrike inligting -agter die skerms - om van kennis te neem. Meyer het dus 'n kundige leser en raadgewer gehad. Bloemhof het onder meer vir my die belangrike film oor Truffaut en Hitchcock geregisseer deur Kent Jones (2015) persent gegee. En so kan 'n mens hierdie draaiboeke benader: Bloemhof as 'n latter-day Truffaut en Meyer as 'n afstammeling van Hitchcock. Truffaut het Hitchcock aan Europa bekend gestel en hom buite die sfeer van die speurverhaal en rillerfilmmaker verhef. (Hitchcock/Truffaut (film) - Wikipedia. Besoek 8 Maart 2017).

Die bundel begin met 'n Voorwoord waarin die skrywer vrae beantwoord oor die aard van die draaiboek.

Hy verwys na William Goldman se Adventures in the Screen Trade (1983) en die beroemde stelling: “Screenplays are structure, and that's all they are” (9). (Adventures in the Screen Trade - Wikipedia. Besoek 8 Maart 2017).

Truffaut se Stolen kisses (Baisers volés), uit 1968, bevat 'n klein swart-en wit-rolprent (Antoine et Colette) as 'n ekstra. 'n Vorige weergawe van die meer uitgesponne film. (Stolen Kisses - WikipediaBesoek 10 Maart 2017).

Dieselfde geld Meyer wat dieselfde temas van sy romans in hierdie draaiboeke herbesoek en dus terugkeer na die toneel van misdaad.

II
Die boek bevat kort opsommings van elke verhaal.

Die draaiboeke is met 'n sterk hand geskryf. Jagveld as film het die volgende opsomming: “Elke man vir haarself” en Neels van Jaarsveld staan sy man teenoor Leandie du Randt.

'n Draaiboek aktiveer altyd die leser se fantasie van hoe jy dink die film sal lyk. Hitchcock skryf 'n brief aan Truffaut en sê-vra waarom het jy die karakters hier laat praat? Suggestie of stilte sou beter gewerk het!

'n Draaiboek is 'n genre in eie reg. Apart van die verfilming wat 'n vertolking bly van 'n regisseur. Soos 'n kortverhaal wat met sy eie stel reëls werk.

Michèle Meyer © Jaco Marais

“’n Kortverhaal is ’n baie goeie vingeroefening in die vakmanskap van skryf. Dit is ’n verteerbare, hanteerbare medium vir jong en gesoute skrywers in ’n lesersvriendelike formaat”, meen Saartjie Botha. (Michèle Meyer wen kortverhaal-kompetisie | Netwerk24. Besoek 10 Maart 2017).

Nee dit is meer as dit. Dit is 'n genre in eie reg. Van die grootste skrywers op aarde is kortverhaalskrywers: De Maupassant – hier te lande Hennie Aucamp en Abraham H. de Vries.  En hulle is nie besig met “vingeroefeninge” nie, en is beslis ook nie “mislukte romanskrywers” of op pad om ‘n roman te skryf nie. Net soos alle digters nie dramaturge is, maar daar is gevalle waar dit wél die geval is.

Vingeroefening beteken jy gaan iets anders doen. Wat dit nie hoef te wees nie.

Ook Meyer het al kortverhale gepubliseer. Romans en nou draaiboeke wat elkeen sy eie leserseise en -verwagtinge stel.

Hoe lyk 'n goeie draaiboek?

Uiteraard 'n storie, skootaanwysings, mise-en-scène, kort dialoog, dag/nag-aanwysings ...

Lees die woorde van 'n raadgewer (10 traits of a great script. Besoek 10 Maart 2017):

Nommer 6. Eskalerende konflik, 7. “snappy” dialoog, 8. “fat free” en dus tot die punt kom, is waarin Meyer se draaiboeke uitmunt.

Boonop het dit die X-faktor!

Dit is ‘n boek vir Deon Meyer-aanhangers en vir dosente in Media-studies wat studente wil leer om draaiboeke te skryf.

Die bespreking kan gelees word as my voice over.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Nathan Trantraal - Alles het niet kom wôd (2017)

$
0
0

Nathan Trantraal: Alles het niet kom wôd. Kwela Boeke, 2017. ISBN 978-0-7957-0791-9

Resensent: Joan Hambidge

Met sy debuut Chokers en Survivors het die digter Nathan Trantraal die Ingrid Jonker-prys in 2015 verower. Dit was ‘n besonderse debuut geskryf in Kaaps met ‘n ongebreidelde aanslag en woede. Nou is die tweede bundel sopas gepubliseer deur Kwela, met ons. Dit heet: Alles het niet kom wôd.

Die tweede bundel, so weet ons al uit die kritiek, is die moeilike hekkie. Intussen het die digter, getroud met Ronelda S. Kamfer, wat eweneens ‘n rubriek in Rapport het.

Trantraal herinner my sterk aan die reaksie wat indertyd op Gert Vlok Nel se debuut uitgespreek is deur J.C. Kannemeyer: die digter speel dom; hy maak asof hy nie van die kodes weet of dit begryp nie. By Trantraal is daar dieselfde spel aanwesig, maar op ‘n ander manier. Hy is ook poseur wat kwansuis minagtend staan teenoor die Afrikaanse letterkundige sisteem, dit kritiseer en aanval, maar tog die pryse aanvaar. Hy is eweneens bekroon met die ATKV-prys vir sy debuut.

Sy kritieke, en hiermee het ek geen probleem nie, op Adam Small se hantering van Kaaps en sy belesenheid, soos bely in onderhoude, vra dus vir ‘n ander lees as van kritici wat ‘n reaksie het op die armoede en ellende van die digter. (En hét Kamfer dit nie goed getref met die groot Rabie-Wallace-prys nie?)

Cash for Gold

Ek kry respect en awards
wat vi genoeg mense baie beteken
en dan oppe Woensdag
wat niks beteken ie
staan ek innie voorhys en wieg
ie award in my hand
en vra my ma: “Wat dink Mammie,
is dié bronze of copper?”
Assit copper is issit ’n paar dae se kos
assit bronze is beteken it niks vi my nie.

(42)

Oor die eerste bundel het ek soos volg geskryf (Woorde wat weeg. Nathan Trantraal - Chokers en Survivors (2013). Besoek 15 Maart 2017):

Die belangrikste aspek van hierdie bundel is die praattaal en in fonetiese Kaaps. 
- Daar is humor.
- Daar is ‘n besliste afwysing van enige nostalgie of sentimentaliteit. Die inhoudsopgawe met tydsaanduidings lees soos grafskrifte. Hier is dus ‘n duidelike afskeid van ‘n pynlike, verwonde jeug.
- Die gebruik van plat woorde is opvallend. Cunt, poes, kak, befok, fokkol, piel, nai, fokof.
- Engelse woorde word ook aangetref. Die digter gee ‘n weergawe van sy mense se spreektaal.
- Daar is ‘n ontmaskering van die familie, en meer spesifiek die gesinsopset. Hy het immers by die moeder, tradisioneel die versorger, om onsentimenteel te wees.

Hammie

My ma het my gelee
ommie sentimental te wiesie.
Die eeste ding wat sy gepawn et
was haa trouringe. (31) 

- Hier is simboliese vadermoord. Die vader word letterlik aangeval soos in ”Fifa 06” (52).
- Dit is gedigte wat ‘n storie vertel.
- Dit wil duidelik on-poëties wees. Teenoor al die veld is vrolik, vind ons ‘n “dywel het alwee al sy pielhare afgeskeer” op die maat van “Die padda wou gaan opsit met sy nooi in die vlei” (69).
- Daar is ‘n verwysing na drugs (soos buttons byvoorbeeld), casette, porn, DVD’s, CD’s en karaoke. Dus ondigterlike of tegniese woorde wat die gedig binnedring.
- Die private word ontmasker en betree (masturbasie): “die Here wiet allien 1” (67).
- Die tronkbestaan / gangsters versus ‘n godsdiens (geloof) word ontgin.
- Terselfdertyd is daar genoegsame verwysings na ander digters wat ‘n bekendheid met die digkuns aandui. Hier vind ons ‘n duidelike ambivalensie by die spreker, wat enersyds ingelig is, maar andersyds soos gert vlok nel maak asof hy nie weet wat eintlik aangaan nie.
- Die gedigte wil soos strips toeganklik wees en soos in hierdie sub-genre die medium gebruik om sosiale kommentaar te lewer. ‘n Mens dink hier o.a. aan Bitterkomix en die digter se eie werk as kommentator in die Cape Times. Soos by Bitterkomix is die skokkende aspek die dinamo van die teks.
- Die spel met die outobiografie – o.a. deur verwysings na Ronelda, sy vrou en sy broer – neem ons terug na die Beats se hantering van vriende wat as werklike mense in die gedigte beland het.
- ‘n Sterk satiriese aanslag soos “Hard to kill trilogy (DVD Boxset)”, 23.

Dieselfde tegnieke is hier: satire, ironie, platwoorde, die uitskryf van die armoedige bestaan, Kaaps, gevaar, “living on a edge”, dus. ‘n Nuwe wending is die ontginning van die religieuse dimensie en in die openingsgedig “Alles het niet kom wôd” (11), bely die digter dat hy “minner dywels” in die water gegaan het as waarmee hy uitgekom het.

Die ontmaskering en bespotting van hierdie leefruimte is dus iets wat die leser moet aanvaar.

“S.o.b.” (38) striem die politieke en klasverskille wat hierdie spreker intens beleef. Son of a bitch word hier Silly old boer.

Daar is dus “gif” in “vegifnis” (39)

Die bundel het nie die werklike vuur en vreemdheid van die eerste een nie. Maar die toehoorders by Woordfeeste waar die digter optree, is kennelik onder die indruk van die praataanslag en fok-jou-houding. Hier lees hy "Cash for gold". Hy het bepaald ‘n groot aanhang onder jong lesers.

Hulle sal die ironie vang “soes butterflies wattie / na my toe wil kommie” (59).

(Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.)


Marita van der Vyver - Misverstand (2017)

$
0
0

Marita van der Vyver - Misverstand. Penguin Random House, 2017. ISBN: 9781485903505

Resensent: Joan Hambidge

Misverstand is die jongste toevoeging tot Marita van der Vyver se oeuvre. Dit word terselfdertyd uitgegee in Engels as You lost me.

Die verhaal ondersoek etlike kwessies wat die middeljarige en werklike outeur Van der Vyver besig hou. Die rol van ‘n suksesverhaal (Griet skryf ‘n sprokie) waarna kritici altyd terugkeer, terwyl sy ook ander werke gelewer het soos uitstekende kinderboeke en kosboeke.

Hierdie leser het die teks as ‘n tong-in-die-kies-antwoord gesien van die werklike Van der Vyver se “antwoord” op hoe Afrikaanse lesers haar sien as ‘n buitelandse skrywer wat in die “eksotiese” Franse landskap leef.

Frankryk is helaas nie meer ‘n veilige hawe nie. Dis ook nie meer die eksotiese ruimte van toe ons sestigers soos André P. Brink daar vertoef het nie en tekste soos Die ambassadeur en reisverhale geskryf het nie. Ja, daar was studente-opstande – nou is dit terreur post-Charlie Hebdo, bomme op lughawens, aanhoudings in teaters, en migrante wat die hele struktuur van die Stad van Lig en Liefde verander het. ‘n Mens sien hierdie verandering duidelik in die rolprent met sy verskillende filmmakers agter die kamera in die film Paris, je t’aime, 2006. (Besoek 16 Maart 2017). (Haar roman Dis koue kos, skat is verfilm).

Die werklike outeur dekonstrueer in hierdie roman die rol van die skrywer. Haar hoofkarakter is – yes, wait for it – Willem Prins met sy uitgewer Martine Hulot wat sterk voorskrifte het oor ‘poesboekies’ wat goed verkoop. Is dit beter om ‘n vroueskrywer se naam op die buiteblad te plaas eerder as ‘n man s’n? Hier speel Story of O ook in en die nom de plume Lolita Meyer word ‘n ander kode.

Behalwe vir die spottery met hygromans en sukses, word daar ook verwys na die Groot Roman-wedstryd (dit heet die Johanna de Groot-prys!), wat die Afrikaanse letterkunde voortdryf. Groot geld word uitgeloof en die mededinging tussen ons “groot skrywers” pleit al lankal vir ‘n satire. Veral as pryswenners se romans nie verskyn nie of gewoon ‘n flauwe kul blyk te wees. Hoe het sake nie verander nie.

Die hoofkarakter is vrouloos, webwerfloos, agentloos, drankloos (18). Hy het drie eksvroue en die voorblad van Misverstand resoneer met Brink se ‘n Vurk in die pad!

So beskou, word die erotiese skryfwerk van Brink ook opgestuur.

En die skryfproses word verder gesatiriseer:  Szymborska word aangehaal:

Die helfte het ingekom omdat dit reën, die res is familie. O Muse.

Die boek het vele kodes oor skryf en lees. Daar is wonderlike verwysings (vir die liefhebber van Parys). Selfs Sartre en De Beauvoir se kafee gooi ‘n draai hier.

Die fokalisasie wissel snel: van Willem, na ‘n eksvrou tot sy kind. Lana kom ook aan die woord. En Zoë het ook ‘n spreekbeurt soos Sophia.

Daar is ‘n joernalis (ene Jackie van der Merwe van Pniel),  daar is ‘n Proust-vraelys, daar is al die clichés oor skryf (en Parys), spottery met genderkwessies, distopie, die Bad Sex Award (waarvoor Brink al benoem was), Georges Simenon, die “metafisika van seks” (119), die duidelikste knipoog na Die ambassadeur (via Lawrence Durrell).

Presies halfpad in die roman word die grap onderbreek met die “ironie van die noodlot” (137).

Terreur dus,  en hier buig die roman sterk op die werklikheid in. (Om oor ander werklike kodes te skryf, word aan die leser oorgelaat, soos o.a. oor die impak van die dood van ‘n kind op 'n huwelik, oudword, die soeke na erkenning en die brose self.)

Franse woorde word toeganklik en vlot in Afrikaans oorgedra.

Die analise van die temas van kandidate vir die Groot roman-wedstryd is vol in die kol.
Wanneer ons lees van “haar stem breek, soos ‘n tak wat knak” (259) val die roman in die slaggat van die hygroman of populistiese roman en dekonstrueer dit nie genoegsaam die ellende wat beleef word nie. Die eerste helfte werk bepaald. Dis uitstekend!

Dis ‘n goed geskrewe roman wat vlot lees. Vir my gevoel moes die tweede helfte dalk net somberder en sterker gewees het?

Om middelmatigheid en die vrees daarvoor te beskryf, moet jy die “bloody horse” weergee.
Steeds ‘n roman vir Van der Vyfer-aanhangers. Dis nommer 13.

(Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.)


Erns Grundling – Elders (2017)

$
0
0


Erns Grundling – Elders. Queillerie, 2017. ISBN 9780795801341

Resensent: Joan Hambidge

Die subtitel van hierdie reisverslag heet: My 1 025 km te voet langs die Camino. Die bekende joernalis vir Weg, Erns Grundling, vertel van sy staptog langs die beroemde Camino.

Verskillende skrywers het al oor hierdie staptog geskryf en Pienkes du Plessis se boek hieroor is ook pas uit. Verskillende mense sal dit dus anders ervaar. So het 'n vriend van my ook gestap, maar saans in 'n duur hotel oornag, omdat hy nie kans gesien het vir die oorvol, raserige herberge nie.

Dit is ‘n genoeglike boek. Die skrywer – oorgewig en met ‘n gebroke hart – vertel hoe hy vir oulaas ‘n bydrae vir Wegmoet skryf. Hy sukkel om dead-lines te haal en hierom moet die laptop vir oulaas saam. Inderhaas skryf hy die dodelike laaste bydrae en versend die laptop (en selfoon) na ‘n vriendin in Parys sodat hy kan detoks van die internet-verslawing.

Om sake verder te kompliseer, het hy ‘n beseerde knie en is ook op die koop toe met slaapapnee gediagnoseer. Sy gesnork binne so 'n gedeelde slaaparea, kan die poppe laat dans.

Die leser word met elke moontlike besonderheid gekonfronteer van wat jy eet, hoe jy slaap en klere was. (Dus 'n oënskynlik handige gids).

As deurwinterde joernalis vermaan hy homself om weg te bly van clichés, maar as hy dit gebruik, parodieer hy dit.

Die vertelling het vele ander tekste wat saamstap: Brink, Hemingway, Leonard Cohen, Paulo Coelho (The Pilgrimage, veral), o.a. en omdat dit sy pelgrimstog is, word sy siening van godsdiens / spiritualiteit weergegee. Hoe hy as kind byvoorbeeld sy hele Nirvana-versameling verwoes het omdat dit "duiwels" is. (Terloops, kan ons eerder praat van selfdood, as selfmoord!)

Die boek behoort tot die sub-genre van peregrinasie-literatuur. Dit is meer as ‘n reisbeskrywing: dit is ook ‘n verslag van individuasie (daar is verwysings na Jung), selfinsig en aanvaarding. In die woorde van James Hollis word daar verwys na die krake in die “room beneath the floor" (die onbewuste), 28. En die Britse psigoanalis Adam Philips: "Our lives might become a protracted mourning for, or an endless tantrum about, the lives we were unable to live. But the exemptions we suffer, whether forced or chosen, make us who we are” (180). Jopseph Campbell se siening van "bliss" is ook hier (192).

'n Kernpassasie, so eerlik weergegee, staan op bladsy 195: en dit is hier waar die leser besef hoe die skrywer sy eie stem en identiteit vind. Inderdaad psigiese suiwering.

En dis die boodskap van hierdie boek: die lewe is dít waarmee jy jou op hierdie presiese oomblik besig hou …

Dit is verslag  (en soms hardop-dink) van 'n jong mens wat nuut kyk na alles om hom. Maar juis hierdie aspek (soos die erkenning dat hy nie veel geweet het van die Katolieke pelgrims en heiliges nie) maak die boek aangrypend in sy eerlikheid.

Die Moleskine-boekie het handig te pas gekom om inligting neer te pen.

Elders verwys ook na Jeanne Goosen se Elders aan diens. En daar is 'n motto uit Goosen se 'n Uil vlieg weg.

In die oomblik. Die skrywer bly binne in die ervaring; hy is nooit in xibipio (168) nie. Daar word vorentoe gestap (letterlik), maar tegelykertyd terug-in-die-onthou en herinneringe oor die jeug, wat helder weergegee word.

Om in die oomblik te leef, dis die groot triek. En kyk hoe sien hy die katedraal-onder-konstruksie en watter sertifikaat behaag hom!

Hierom verwys hy na Amanda Strydom se “Pelgrimsgebed”:

Alle pelgrims keer weer huis toe
elke swerwer kom weer tuis
ek verdwaal steeds op die grootpad
soekend na U boardinghuis  (294)

Hierdie kladboek-cum-reisboek is vol “mindfulness”. 40 dae en 40 nagte …

En jy hoef nie die werklike pad te gestap het om hierdie boek te waardeer nie.

En kry hy die laptop en selfoon weer? Lees self.

(Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.)


Dr. Gisela Ullyatt - Repliek op Agnes van Schoor se brief

$
0
0
Dr. Gisela Ullyatt

Enkele opmerkings oor Agnes van Schoor se brief  "Wou Hambidge die digter boelie?"(Saterdag, 11 Maart 2017).

Sy beweer dat Hambidge se persoonlikheid as kritikus gelykstaande is aan winde opbreek,  "nogal in die gesig van die gekritiseerde". Ironies genoeg breek Van Schoor winde van middelmatigheid op. Hierdie winde is goor, omdat hulle verbysterende oningeligtheid losbraak.

Eerstens is dit die literêre kritikus se taak om enige teks krities te lees. Dit is immers een van die basiese vaardighede wat letterkundedosente van studente verwag. Die kritiese leser verskil van die amateur omdat eersgenoemde die taak opgelê is om ’n explication de texte van die bundel/roman/dramateks/kortverhaal te doen.  Aldus ’n close reading wat as basis dien om na verdere paradigmas of intertekstuele verwysings uit te kring.

Ongelukkig verraai Van Schoor haarself as onkritiese leser omdat sy Hambidge se resensie verkeerdelik aanhaal. Sy doen dus wat dosente studente afraai om in ’n essay te pleeg: sy skryf wat sy "dink" Hambidge gesê het.

Van Schoor maak die stelling dat "die wetenskaplike digter [sterk] staan met sy bundel omhoog; want juis hy weet dat poësie nie volgens ’n formule geskryf word nie". Hambidge se resensie sê  juis dat die digter nié voorskriftelik te werk moet gaan nie: "Die goeie digter skep sy eie uni-vers-um". Verder kla Van Schoor dat Hambidge se resensie voorstel dat wetenskaplike terme deur "mooi" Afrikaanse woorde vervang moet word. Hier het Van Schoor se geheue, helaas, haar ook in die steek gelaat.

Van Schoor jeremieer oor Hambidge se sogenaamde poging om Smith, die digter, soos "’n Klein Duimpie" tussen "reuse te laat voel". Siestog. Van Schoor moet haar vergewis van Freud se term "projeksie" (projection). 

Dit is wonderlik dat Van Schoor drie van Smith se digbundels vir haar boekklub aangekoop het: boekklubs vervul immers ’n beduidende rol in die verkoop en die lees van Afrikaanse skrywers en digters. Wanneer dit egter by formele resensies kom, los eerder die kritiese lees van die teks vir die resensent of gaan leer hoe om die teks (dit geld vir die resensie daarvan ook) krities en nié emosioneel te analiseer nie ten einde 'n ingeligte en deurdagte repliek aan 'n koerant te rig.

Dr. Gisela Ullyatt

Oos-Londen

Henning Snyman: In memoriam

$
0
0
 Henning Snyman as jong onderwyser


Daar is min letterkundiges wat so insigryk oor die digkuns kon skryf as HJ Snyman, oftewel Henning Snyman. Ek had die voorreg om deur die jare etlike leesverslae oor my digkuns van hom te kon ontvang.

'n Hebbelikheid in 'n digterlike arsenaal kon hy raaksien. Hy het my beheptheid met die ellips en aandagstreep uitgewys.

Snyman sou 'n mens ten beste as die Frank Kermode van die Afrikaanse letterkunde kon sien. Semantikus en kenner van klassieke tekste (veral die Bybel), soos Kermode. An appetite for poetry (Fontana, 1989) het hy vir my persent gegee.

Sy grootste geskenk aan my was sy stiplees van my manuskripte, waar hy met 'n potlood 'n vraag sou vra en jou terugneem na die binnewerking van die gedig.

Astrak, my jongste manuskrip, lees hy met nougesette aandag, 'n bundel wat ek o.a. aan hom opdra.

Op Woensdag-oggend, 29 Maart, praat ons vir oulaas telefonies. Op Vrydagmiddag ontvang ek 'n sms van sy foon - "Professor Snyman is vanoggend oorlede" - waarskynlik versend deur 'n naasbestaande wat die hele lys kollektief laat weet het.

As kenner van primordialiteit sou hy die ironie hierin raakgesien het. Dat hy nou bloot vertrek en vir oulaas groet. Op pad na die groot kollektiewe ruimte.

Sy bydraes oor die digkuns is enorm. Hy het vele studente onder sy promotorskap gehad - ekself het 'n studie oor gender onder hom voltooi.

Sy grootste werk is bepaald Mirakel en muse - 'n Studie oor die funksie van die implikasie-verskynsels by die interpretasie van 'n gedig (Perskor, 1983), 'n verwerking van sy doktorale studie onder Roy Pheiffer.

Hierdie boek het altyd saamgereis met my. Hieroor het hy net gelag.

Sy analise van Opperman se "Dennebol" waarin hy die tydsverskille in die komplekse gedig aanstip het elke derdejaar-student onder my leiding bestudeer. Die tabelle oor die verskille tussen die geografiese en metafisiese ruimte het menige student gehelp om die komplekse gedig "oop te maak".

In my gedigte praat ek dikwels ook met hom, soos met Johann de Lange. Sy eerste vrou, die digter Annette Theron, het soos hy, my liefde vir Boerneef aangestig. As jong mens hoor ek op dieselfde dag van haar dood toe ek 'n brief lees van haar.

Ek berg in my gemoed HJS se lesse oor die koggelbos van die digkuns.

Van al die teoretici is daar maar net jy, in navolging van Boerneef se "Van al my land se Tafelberge" ...

En hierdie gedig het ek geskryf, goedskiks 'n jaar gelede, wetend-onwetend van sy vertrek.


By Jeroen Bosch se triptieke

HJS

Die sagte argipel van droombedrog
Elisabeth Eybers

i

Teen my bitterwete in
roep ek hulle op in die diep nag,
hulle wat my psige bevlek
in die Tuin van AardseLuste.
Maar hulle kan my nie hoor nie;
hul ore is deurboor
en ‘n slagtersmes dryf
hulle voort, wég van my hart,
ja daardie hart met ‘n fluit
gebalanseer op ‘n ont-
hoofde kop en oop-
gekloofde lyf
waarin vreemdelinge
makietie hou met my pyn.
Dat dit die hel is, skree vanself;
Dat dit die hel is, skree vanself.

ii

Die herberg met sy nooduitgang,
vloerverhitting, Miró-afdruk,
'n spyskaart en Tea and Coffee Caddy
vir die reisiger in die Auberge Burgundy,
slaaploos, besig om herinneringe
uit die reistas op te hang in die kas
sonder deure, langs 'n parapluie,
waarskynlik hier gelaat vir geval
'n storm van buite woed
ooreenstemmend
met die storm van binne.

iii

Hiperbolies, sou jy uitroep.
Nee, sou ek verdedig. Dié gedig
stig vuur aan soos die verwoestende vuur
in 's-Hertogenbosch toe die jonge
Jeroen Anthoniszoon van Aken
aanskou hoe vuur sy geboortedorp ontsier.
'n Vlieënde vis waarop die jonge Jeroen
in sy verbeelding ry in 'n latere skildery
wys hoe die verwoesting in sy gemoed uitbloei.
In Die Laaste Oordeel
is die grylloshorende doof
en 'n vrou trotseer
'n slang
se overtures seksueel.

iv

Jare terug staan ek in die Prado
voor die Triptiek van Epifanie.
Wis toe niks van liturgie
of hoé die dooies na ons bly roep
lank na hul vertrek. In my bladsak
'n brief van Annette Theron
en haar vlammende woorde
vir ewig in my gemoed geberg.
In San Diego bekyk ek Die kus van Judas
gesuspendeer in tyd en ruimte:
onbewus-bewus van wat sou kom ...
Haar laaste brief aan my versend
op daardie dag van haar uitvaart.

v

In São Paulo staan Christus voor Pilatus:
die via dolorosa beweeg buite woorde
in hierdie gedig deur Jeroen helder opgeteken.
Ook ek sing 'n mooi lied, 'n treurige lied
alleen in mý fluitjiesriet,
in hierdie grammatika van afskeid
én bewaring vir jou,
kenner van eenvoud en dubbelsinnigheid;
jy wat die mirakels en óntoevalligheid
van hierdie disjunkte proses begryp:
non tarda, id est, strenuissima.



© Joan Hambidge

Wie presies mag dan resensies skryf?

$
0
0


03 April 2017

In 1982 verskyn daar ’n versameling resensies oor die teater, saamgestel deur die befaamde aktrise Diana Rigg: No Turn Unstoned. Hierin plaas sy vermaaklike en katterige resensies. Sy het hierdie bundel saamgestel nadat sy aan die ontvangkant van ’n persoonlike resensie was. En toe later die humor daarin raakgesien het.

Kritiek is nodig in die letterkundige bedryf. Dis soos die wind wat ’n skip voortdryf. Soms kan dit stormwind wees en vir die skrywer onaangenaam wees, maar stel jou ’n windlose oseaan voor? Stel jou ’n bedryf voor waar daar net aanmoediging en kritieklose ophemeling is . . . Alle skrywers moes al negatiewe kritiek hanteer. Selfs die grote D.J. Opperman het oningeligte kritiek in sy tyd trotseer. Nes Breytenbach.

Wie mag resenseer? Wie mag praat? Inderdaad mag die resensent se kommentaar op ’n boek gekritiseer word. Die resensie is immers net ’n eerste mening.

Indien die kritikus opgelei is in die literatuurteorie en belese is, sal daardie resensie meer beteken as ’n impressionistiese ek-hou-van-reaksie.

Ek resenseer al sedert 1980. My resensies probeer die boek inskat in die bepaalde genre en tydsgees. Die boek word ook in ’n buitelandse konteks geplaas. As ’n skrywer byvoorbeeld ’n motto aanhaal van ’n bepaalde (modernistiese) skrywer, sal ek dit verduidelik.

As ’n respondent meen ek weet niks van wetenskap nie, sal ek hom/haar daarop attent maak dat die digkuns op ’n unieke wyse reageer op die wetenskap. Net soos ’n gedig nie ’n telefoongids of motorhandleiding is nie. Maar as ’n gedig speel met enumerasie of handleidings moet daar iets anders gebeur.

Uiteraard is daar altyd ’n geval van persoonlike smaak.

En verbintenisse. Ek resenseer nie die studente wat onder my gewerk het in kreatiewe klasse nie en verwag ook dat hulle mekaar nie resenseer nie.

Verder is daar vyandskappe. Sekere skrywers het geskiedenisse met mekaar.

Mag hulle mekaar se tekste bespreek?

Ek meen van ja, omdat die persoonlike aanval bepaald sal boemerang as dit nie op die teks van toepassing is nie. (En as geen resensie weens vyandskap ’n wet word, sal daar geen resensies wees nie!) Om met vae oordele te kom dat daar net vyf of een goeie gedig in die bundel is, kan ’n mens gerus onthou dat Opperman gedink het vyf goeie verse in ’n bundel is genoeg!

’n Negatiewe of kritiese resensie kan meer leersaam wees as ’n nuttelose getjommel wat net die ego voed.

Dieselfde geld pryskomitees wat eweneens beman (bevrou) word met smake en (voor)oordele. Take the money and run!

’n Negatiewe of kritiese resensie gaan vinniger verby as jy nie jou vriende vra om per SMS of brief namens jou te reageer nie. Kyk eerder wát die resensent geskryf het. En onthou gerus die spertyd en woordbeperking (750 woorde).

En veral: Moenie kleinserig wees nie.

Dit geld sowel resensent as skrywer. Omdat ek in die wonderlike posisie is om albei rolle te kan vertolk, glo ek aan die beginsels wat Diana Rigg so voortreflik uitwys.

Gewonder hoekom die meeste literatore nie wil resenseer nie? Is dit dalk die vrees dat iemand iewers jou gaan verdag maak of ’n SMS-veldtog begin? Of persoonlike redes uitwan uit jou jeug of afkoms oor waarom jy doen wat jy dink? Of dalk jou motor se bande mag afblaas? Of op Facebook begin baljaar?

Vir die rekord (en verskoon die anglisisme): As mense die Afrikaanse bedryf as krities ervaar, gaan lees ’n Martin Amis-resensie of maak die boekeblad van The New York Times oop. Of kyk wat Camille Paglia doen as sý dink jy het die plot verloor.

In my studeerkamer het ek ’n legger met negatiewe kritiek geskryf oor mededigters. Sou Marlene van Niekerk dit berou dat sy na Johann de Lange se gedigte in Vleiswondas poësie van die popcorn-stand verwys het? Of hoe voel sy nou oor die artikel destyds in Die Suid-Afrikaan oor Krog en Stockenström?

Dink ek dalk ek was te negatief oor daardie digter wat my resensie in die openbaar verbrand het?

Ek was wel indertyd te krities op ’n Fanie Olivier-bundel – maar ek kon regstellende aksie toepas in ’n latere resensie.

“There are no texts. There are only ourselves . . .” meen Harold Bloom, wat skryf: “Poets influence us because we fall in love with their poems. All love unfortunately changes . . . we also get hurt when we abandon, or are abandoned by, poems. Criticism is as much a series of metaphors for the acts of loving what we have read as for the acts of reading themselves” (in Imre Salusinszky se Criticism in Society).


En ek dink steeds Tom Gouws het meer as tien goeie gedigte geskryf! Om die waarheid te sê, daar is 11.


© Joan Hambidge

Nicole Jaekel Strauss – As in die mond (2017)

$
0
0


Nicole Jaekel Strauss – As in die mond. Queillerie, 2017. ISBN: 9780795801358

Resensent: Joan Hambidge

Met haar debuut Maal in 2010 het Nicole Jaekel Strauss die aandag getrek. Sy is bekroon met die UJ-prys en die Eugène Marais vir ‘n eersteling. Die jongste is uitgegee deur Queillerie en word bemark as ‘n eenheidsbundel.

In Afrikaans het Henriette Grové (Jaarringe), Chris Barnard (Duiwel-in-die-bos) en Hennie Aucamp (Volmink) – om drie voorbeelde uit te sonder - eenheidsbundels geskryf.

Hierdie soort bundel gee dus kodes in ‘n verhaal wat in ‘n volgende opgevolg word – soos in die Duisend-en-een-Nagte. Daar is sprake van weefwerk of ‘n tapisserie.

As liefhebber van hierdie stiefkind van die Afrikaanse letterkunde, is 'n mens dankbaar dat NB hierdie bundel gepubliseer het. Alice Munro het die Nobelprys verower en min skrywers kan Borges se Ficciones troef.

“Veral indrukwekkend is Jaekel Strauss se fyn waarnemingsvermoë en aandag aan détail. ’n Mens sou inderdaad, soos De Vries, daarna kon verwys as ’n pointillistiese verteltegniek op grond waarvan groter patrone weldra uit die ‘magdom klein besonderhede’ groei”, was die waarneming van Thys Human oor die debuut. (LitNet| ’n Bundel waarin jy jou tande kan slaan/ Jaekel Strauss se kortverhaaldebuutbied véél om te geniet. Besoek 29 Maart 2017).

Hiermee word akkoord gegaan. Die leser onthou sekere vinjette, soos 'n pienk baadjie wat aangetrek word na 'n brand. Oë wat vloekwoorde verklap …

Die bundel word in ‘n sirkelgang vertel. Die verhaal “Kleinood” (met sy ironiese titel) maak eers volledig sin wanneer jy ‘n verhaal soos “Marika se reis” saamlees. Wat is werklik? Wat is fantasie? Hierdie verhaal is so sterk gevestig in die psige van ‘n getraumatiseerde figuur dat die leser saam met haar die pad van fantasie loop.

‘n Verhaal wat gekanoniseer sal word, is die grieselige “Kleinood”, vanuit die perspektief van die jong kind, en meer spesifiek, ‘n getraumatiseerde kind wat by die ouma tuisgaan. (Later in die bundel verneem ons die verdere besonderhede.) Die redes waarom sy pienk haat, word later verder geamplifiseer en die streng religieuse orde word subtiel geteken. Op ‘n Sondag eet hulle Weet-bix met warm melk, omdat die ouma haat om potte te skuur. 

Die wreedheid van kinders word uitstekend beskryf wanneer hierdie kind, wat hare in ‘n boksie versamel, op ‘n oorslaap-aand ‘n maatjie se hare afsny. Omdat die skêr stomp is, sny sy dan per ongeluk meer af as wat sy bedoel het. Die histeriese reaksie van die maatjies (en Leanie) op haar daad, word gelykgestel aan die kerkklokke op ‘n Sondag – iets wat haar steur. Die subtiele beskrywing van die vriendskap tussen Leanie en Adelia word met implikasie gelaai.

Die kind word uitgeskel vir ‘n dief en freak, wat sy is. Sy het immers haar broer se hare gevat uit die ouma se Bybel en sy is ‘n grens-kind. Sy is eweneens op die grens van seksuele ontwaking (“die molletjies stoot”, 54) en in Alice Miller se terme, ‘n verwonde kind.

Dit is ‘n verhaal wat vra om saamgelees te word met Henriette Grové se klassieke “Liesbet slaap uit”.

Dit is ‘n pynlik-onthutsende boek. Dit gaan op die plekke van die psige wat mense – in Freudiaanse terme – represseer. In ‘n motto op bladsy 218 staan daar uit Freud: “Unexpressed emotions will never die. They are buried alive and will come forth later in uglier ways”.

Die titel aktiveer die kwessie van as (as is verbrande hout), van uitgebrand wees, van die as (indien) waarop verhale inspeel (wat ás ek nie hierdie verhaal reg begryp het nie?) en die asse of koōrdinate van lees …

Die bundel neem ‘n mens ook na Clarissa Pinkola Estés se sieninge van vuur as argetipe, en haar werk: The creative fire. En die soektog na die la chispa. Vir Jung is vuur gelyk aan transformasie en verandering. Die alchemiste moes immers vuur gebruik om metale te probeer verander.

“Fluctuat nec mergitur / getref maar nie gekelder nie” oor Jeanne d’Arc / Johanna van Arkel / La Pucelle d'Orléans (1455) is ‘n pynlike analise van ‘n moeder wie se kind op 19 verdoem is tot die brandstapel, en haar poging om haar kind kwyt te skeld van die verbanning tot heksery.

Is die vinkie ‘n gereïnkarneerde Jeanne?

Die skrywer skep besondere sub-teks in die katedraal waar die genadelose ondersoekspan die moeder se ellende nie wil begryp nie. Eers later word sy vrygespreek (en in 1456 verklaar tot martelaar en in 1920 gekanoniseer). Haar rol in die 100 jarige oorlog is oorbekend en hoé sy uitgelewer is weens ‘n politieke spel en die rol van Pierre Cauchon.

Napoleon het haar in 1803 tot nasionale simbool verklaar.

Jeanne het ook visioene gesien, o.a. van engele en wat in verdere verhale gesinkopeer word met mense wat in trauma ‘n greep op die werklikheid verloor. Hierdie verhaal wil dan ook die wispelturigheid van die geskiedenis uitwys …

Vuur en suiwering. Om skoon gebrand te word. Dit staan opgeteken in die digkuns van Sheila Cussons.

Die bundel ondersoek die aard van liminaliteit (of grense) soos Van Gennep dit formuleer: ongelukke, brand, seksuele ontwaking, leuens, fantasie, trauma …

“Delivery” (107) oor ‘n transseksuele persoon ondersoek die outcast se lot, eweneens ‘n toestand van oorgang; nes die verhaal “Souk” (131) waar twee kulture teen mekaar te stane kom.

Dit is ‘n bundel wat al die applous verdien wat dit mag ontvang.



(Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.)

Hennie Aucamp – Die laaste wals (Johann de Lange, samest.) (2017)

$
0
0


Resensie. Hennie Aucamp – Die laaste wals (Johann de Lange, samest.). Tafelberg, 2017. ISBN 978-0-6240-8240-8

Resensent: Joan Hambidge

Die versameling is ‘n keuse uit Hennie Aucamp se verhaalkuns saamgestel deur Johann de Lange. ‘n Jaar voor die bekende kortverhaalskrywer se dood, gee hy ‘n notaboekie persent aan sy vriend, die skilder Jan du Toit. Hierin is daar ‘n lysie opgeteken van sy persoonlike keuse uit ‘n imposante oeuvre. De Lange as literêre eksekuteur het toegesien dat sy wens uitgevoer word. En omdat die meeste van hierdie bundels alreeds uit druk was, kon hy hierdie taak dus verwesenlik.

En wat ‘n wonderbaarlike bundel is dit nie! Wanneer verhale in bloemlesings saamgesnoer word, kry hulle ander en nuwe betekenisse. Verder word die leser ook gedwing om verhale, klassiek of “ouderwets”, opnuut te besoek.  Elize Botha het dit immers al in Een kraal saamgeplaas in 1983. Nou is dit ‘n laaste wals en die dansbeeld (vanaf die eerste verhaal en “Die Caledonner” tot by “Vir vier stemme”) aktiveer immers passies, beheer, drif …

Aucamp se taalgebruik en styl is al by herhaling geloof. Met hierdie lees word die lees voortdurend blootgestel aan ouderwetse woorde (“verbolgenheid” vir woede; mals, bogte, onbesuisde …).

En sy mensekennis is opvallend. Hy kan gewoon ‘n verhaal vertel, omdat hy die la condition humaine ken. Verhale wat ‘n mens bybly om die lewenswaarhede wat weergegee word.

“In die hartseerwals” (uit die gelyknamige bundel van 1965) is dit die potsierlike, vet, dom Hetta (destyds magistraal verfilm) wie se ellende nie verwoord kan word nie wanneer die wewenaar haar oorsien:
Sy wens sy het net treurige plate gehad, maar nou het sy net één treurige plaat en hy is nie treurig genoeg nie. (15)
In “Die baadjie sonder einde” uit Dalk gaan niks verlore nie, 1992 – ‘n verhaal wat so Tsjekofiaans is as wat kan kom – word die geskiedenis en lewensloop van ‘n baadjie beskryf. 

Of die wraak van ‘n jongeling in “’n Piazetta in privaatbesit” opgeneem in Gewis is alles net ‘n grap, 1994. Hier ondersoek Aucamp die mentor-student-verhouding op ‘n pynlik-eerlike wyse en hoe die jongman eintlik wil wraak neem oor die lewe wat hy nie kon uitleef nie. Hy het wel ‘n vrou en twee kindertjies; maar dít wat hy begeer het, is hom nie beskore nie. Hierom is die slot ironies: Karel is nie die werklike wenner nie, ofskoon hy oënskynlik die ouer, gay-man troef met sy gelukkige gesinnetjie.

Dit is waarskynlik alreeds ‘n cliché om  Aucamp se “Vir vier stemme” (Volmink, 1986) as magistraal te beskryf. Hierdie komplekse “boeregrap” waarin ‘n straight man, Beimen Botes, om die bos gelei raak deur ‘n “vrou”, is vintage Pedro Almódovar-materiaal soos sy jongste rolprent Julieta (gebaseer op ‘n Alice Munro-verhaal, maar verplaas na ‘n Spaanse landskap) bewys.

En om Munro te vermeld, is tersaaklik. Aucamp se verhale dra ‘n kwaliteit van háár bestes: mense vasgevang in ‘n lewenslot of uitgelewer aan fata met die landskap as ‘n broeiende mede-verteller. ‘n Mens dink hier aan die Stormberge, ‘n ruimte van uiterstes: die “backdrop” waarteen menslike drama gekaats word.

Daar word dikwels geskryf dat kortverhaalskrywers soos digters dink en struktureer. Dit sien ‘n mens ten beste in die verhaal “Portret van ‘n ouma” (Spitsuur, 1967)  met sy herhalende beelde en skerp metaforiek en simboliek:
Die nag voor die einde het sy in desperate pyn of ’n bedwelming teen die bedtafeltjie geval en haar oog gestamp. Die volgende dag was dit pers en blou en groen, en ek onthou dat ek die gevoel gekry het: die Alsiende Oog lyk só.
God het sedertdien uit baie oë na my gekyk, maar nooit weer so streng soos toe nie. (34)
Die verhale wat Aucamp sélf geskies het, word vir die leser met 'n ikoon aangedui. HA met ‘n veertjie asof dit ‘n inkpotjie is. Aucamp, terloops het met die hand geskryf. Al sy tekste is deur ‘n ander persoon oorgetik en hierom vind ‘n mens nooit ‘n oorhaastige woord of ‘n beduimelde sin nie.

Aucamp het die Afrikaanse letterkunde op verskeie maniere verryk en verruim. Ook sy teoretiese werke verdien vermelding (soos Kort voor lank) of sy essays oor die kabaret (Koffer in Berlyn)

Maar dit is verhaal sy verhale oor gay-sensibiliteit en die oorspryf van die “annerster soort” wat jonger skrywers geïnspireer het. Die triadiese verhouding tussen Prinsloo, Aucamp en De Lange word in die kortverhaalbundel Vreemder as fiksie (1996) deur De Lange onder die loep geneem.

Die kortverhaalbundel van Johan en Ria Smuts wat Die helder oomblik (2016) heet, tree duidelik ook met Aucamp in gesprek. 

Ek is ‘n liefhebber van die kortverhaal as genre. En hoe jammer dat dit as ‘n “vingeroefening” gesien word deur sekere kommentators hier te lande. 

Borges is in die tagtigerjare vertaal deur Sheila Cussons in die verruklike Die vorm van die swaard en ander verhale. 

Ek verwys opsetlik Na Borges, omdat Aucamp se verhale, soos Borges se stories, boere-stories oorvertel en met klassieke modelle in gesprek tree. Aucamp se kortverhale bewys die hibriede aard van hierdie genre.

En Aucamp laat ons ook kyk na die werk van Dave Eggers of die kortste kortverhaal geskryf deur Ernst Hemingway:
For sale: Baby shoes. Never worn.
Tans word daar 'n debat op Litnet oor Toon van den Heever se "Werkstaking by die kleigat". 'n Mens wonder hoe Aucamp op hierdie bydraes sou reageer met die wete dat 'n teks binne sy tyd en konteks gelees moet word.

Alex Emsley se omslagontwerp vang Aucamp goed vas:  die kenner van die opposisie tussen die volmaakte en die verminkte: die Volmink.



Pirow Bekker — Voor ek my kom kry (2017)

$
0
0


Pirow Bekker — Voor ek my kom kry. Protea Boekhuis, 2017. ISBN: 978-1-4853- 0648-1 (gedrukte boek), 978-1-4853-0743-3 (e-boek)

Resensent: Joan Hambidge

Jy

Jy is die vol leegte voor my,
niks is vol sonder jou
en niks is leeg met jou nie
jy is die laagte vol voor my.

Moenie weggaan nie, nooit nie,
anders sal die leegte leeg wees
en die volheid laer as leeg. (76).

Hierdie mooie vers is uit Stillerlewe(2002).

Sopas verskyn Voor ek my kom krywat al die bekende handgrepe en temas van Bekker bevestig: die spel met ouer tekste, gedigte oor die siekte en naderende dood, die verganklikheid van alles, sosiale kommentaar.

In Rasuur (1993) parodieer hy Leipoldt se “Boggom en Voertsek” en maak daarvan die spel met kanker en genesing.

En hierdie bundel is ‘n belangrike publikasie, omdat dit die eis van vernuwing die nek inslaan. ‘n Digter hoef nie nuwe temas te ondersoek nie; of dramaties te vernuut nie. Solank daar bestendigheid is, behoort die digkuns-leser tevrede te wees. ‘n Mens dink hier aan Eybers wat dieselfde temas bly ondersoek het: met groter en selfs met minder drif – maar altyd goed. Veral die kritikus Neil Cochrane hou die eis van vernuwing voor asof dit ‘n geel kaart is vir die digter as dit nie presteer word nie!

So klink ‘n vers uit die bundel:

3. Weerlig slaan die twee keer op dieselfde plek nie
(N.a.v. ‘n uitspraak van Randall Jarrell)

Om as geniaal in die literêre annale op te gaan
sal ‘n hoopvolle digter hom in ‘n storm maak staan,
maar om seker te wees, sal daar onder sy boom,
die weerlig hom vyf of ses keer raak moet slaan. (47)

Vir my was die grootste leesplesier die verse oor die digterskap: die gesprekke met Leipoldt, Totius, Marais: “Vergete is die aarde nie” (16) wat vra vir ‘n saamlees met Totius se klassieke “Die wêreld is ons woning nie”; “Erd-af mens” (28) wat Leipoldt onder die loep neem; en die “suinige digter” Marais wat deur vele verse trek.

Om dat die bundel is van ‘n ouerwordende digter, moet dit gelees word as ‘n bestekopname.

“Mededingerding” (33) wys op hierdie “anxiety of influence” (in Bloom se terme uit die gelyknamige bundel van 1973) waar die digter soek na ‘n plek in die kanon. In sy oorsig in die jongste Perspektief& Profiel (2015) wys Phil van Schalkwyk hoe moeilik dit is om ‘n oorsig te skryf oor so ‘n veelkantige skrywer, en dat die relatief min kritiese reaksies op sy werk hom genoop het tot ‘n nuwe inskatting. Moontlik, meen Van Schalkwyk, is die gevarieerdheid en ingewikkeldheid van sy werk iets wat ‘n rol speel om navorsers te ontmoedig? Of dalk ook sy rol as iemand wat buite modes of klieks staan? In sy besinning gee Van Schalkwyk ‘n komplekse en geïntegreerde lesing van die oeuvre en tree hy so in gesprek met ander kanoniseringspraktyke wat eerder chronologies of genre-gebaseer is.

En dit is bepaald so. Daar is die ouerwordende digter wat terugkyk na sy “precursors” of voorlopers in Afrikaans – en hulle steeds as belangrik ag.

As digter is Pirow Bekker se satiries-ironiese gedigte uitstekend. ‘n Mens dink hier aan die gedig “Nuutskepping” (39) waar die woord “selfmoord” nou “selfdood” geword het, maar die ellende is helaas steeds met ons. Die lagie suiker kan die galpil nie versoet nie, meen die digter.

Die digter besin oor die funksie van taal in “Diachronie van ‘n rymelaar” (63):

sinnigheid vir woorde
sterf in hul diaspora
met betekenisse smokkel
swerf hul na oorde
waar net die eggo’s koggel
wyd en wyer lê die spore
tot ook dié in kieselbrak verbrokkel

wat inskuif op die vers “Sinsbou” (68) met sy pynlike slot:

en hier te beaam hoe tiek ‘n sin, hoe
lewe ‘n gedig nog lank ná die “ame” sê.

In “Boedel” (61) is daar ‘n belydenis oor wat kritiese of gewone lesers met die digter se tekste maak. Dit beland in “onbekende kontekste, in ontnugterende verbande, Babeltale” en die digter besef:

….
ek raak by die dag kaler,
uitgewis uit die geheue van manuskripte,
tussen die velle met donkie-ore,
my geboorte net die dun skreeu
van ‘n luginhalige.

Benewens my leesreaksie wat die gedigte oor die digterskap uitstekend vind, is daar liefdesgedigte soos “Teen die weerloosheid” (76) wat hopelik in Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigteopgeneem sal word:

….
My lank vertroude jas,
As verliefde dubbelgroot gekoop,
nou jare ouer en verslete,
vind ek het makliker geword
vir my om jou, beminde,
in hom, by my
teen wind en weer
nog vas te knoop.

En dit word weer opgetel deur die klein “As jy” (82), ‘n erkenning van die liefde se rol in ons lewe.

Dit is ‘n ryk-geskakeerde bundel: soveel temas, soveel besinnings. Oor die natuur, oor die politiek, oor die dood, oor siekte, oorlog  – en ‘n briljante een “Wie is Bart Nel?” (55)

Inderdaad ‘n skrywer en digter wat sy eie padkaart volg en oor die aarde en ekologie skryf; terugkyk tot sover as die Voortrekkers en in sogenaamde “stormvorme” kyk na ‘n biopsie of ‘n blokhuis. Die slot vers is die titel – amper ‘n soort (gemaakte?) verbasing oor wat hy meegemaak het. In “Gentlemen’s wars” (93) palinodeer hy Toon van den Heever met ‘n wrang-ironiese slot.
Veral die digter se punt-digte of sy korter verse is uitstekend.

Hierdie digter het in 1965 gedebuteer met Die klip sing. Daarna volg Toekomstige betrekkinge, Definisies deur die bloed, Eskarp, Rasuur, Stillerlewe,  Van roes en amarant in 2008. Atlas teen die vergeetrivier verskyn in 2013.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Viewing all 819 articles
Browse latest View live