Quantcast
Channel: WOORDE WAT WEEG
Viewing all 819 articles
Browse latest View live

Nuus | AVBOB borg die poësie op groot skaal

$
0
0

Johann de Lange, eindredakteur vir die AVBOB Poësie Projek, Mnr Frik Rademan, CEO van AVBOB, Dr Mantoa Motinyane-Masoko, hoof van Afrika Tale en Letterkunde by UCT, Dr Stanley Madonsela, Direktoraat: Afrika Tale, UNISA, en Daniel Hugo, Afrikaanse redakteur van die AVBOB Poësie Projek



AVBOB is 'n akroniem vir "Afrikaanse Verbond van Begrafnisondernemers".

Die tradisie van die funeraire poësie behels die aanspreek van 'n beroemde of bekende persoon in 'n lykdig. Tradisioneel was die dekorum in hierdie soort gedig om nie die oorsaak van die dood te vermeld nie.

AVBOB se webruimte vir doodsdigte of lykdigte is tydig. Ons leef in 'n land waar moord op mense met 'n besondere hoë insidensie. Die onlangse wreedaardige kaping en moord op die Matie-student Hannah Cornelius het 'n hele gemeenskap in rou gedompel.

Besoekers sal dus nuwe verse kan aftrek rondom die dood van 'n geliefde, ouer, kind of familielid.

Twee dokumentêre oor die poësie is onlangs voltooi waarin digters gevra word of poësie nog ’n plek en betekenis in ons tyd het. Bekende digters soos Antjie Krog, Johann de Lange, Daniel Hugo, Vincent Oliphant, Joan Hambidge en jonger digters soos Hendrik J. Botha, Juanita Louw, Fourie Botha, Bibi Slippers, o.a. het hieraan deelgeneem.

Dié dokumentêre program oor die poësie, Ek wou nog sê, word vanaand om 7:30 op VIA (kanaal 147 op DStv) uitgesaai.

Die aankondiging van AVBOB se borgskap vir poësie word op Mandela-dag, 18 Julie, aan die pers bekend gemaak.

Die borgskap dek ’n poësieprojek wat twee dokumentêre programme (een oor Afrikaanse poësie, en een oor die Engelse poësie), 'n poësiekompetisie vir al elf amptelike tale met 'n spesiale  webtuiste (www.avbobpoetry.co.za) waar goedgekeurde gedigte van deelnemers geplaas sal word, en ook die publikasie van ’n bundel met 100 gedigte wat Augustus 2018 op die herdenking van AVBOB se 100ste bestaansjaar sal verskyn, insluit.

Die poësiekompetise begin op 1 Augustus en sluit einde November 2017. Wat dit veral opwindend maak, is dat al elf inheemse tale ook hieraan kan deelneem.

Dit is die eerste keer wat só ’n projek wat al die inheemse tale so representeer, onderneem word.

Daar sal 'n kontantprys vir die beste gedig in elk van die amptelike taalkategorieë aangewys word – die toekennings sal as die AVBOB-prys vir Poësie bekend staan.

Wanneer AVBOB volgende jaar 100 word, sal 100 gedigte in 'n bloemlesing gepubliseer word – elke landstaal sal sewe gedigte hê wat spesiaal in opdrag vir dié bundel geskryf is, 22 gedigte deur nuwe stemme wat ingeskryf het, en een gedig waaroor daar in hierdie stadium geen inligting gegee word nie. Elke gedig in dié bundel, met die uitsondering van Engelse verse, sal met 'n Engelse vertaling opgeneem word.

Hiermee sal jonger digters die geleentheid kry om naas bekende, gevestigde name gepubliseer te word. Die webblad sal ná afloop van die kompetisie oop bly en digters kan steeds gedigte instuur. Dié wat goedgekeur word, sal op die webblad gepubliseer word, en die digter sal ’n fooi van R300 ontvang. Net nuwe, ongepubliseerde gedigte word vir se webblad geplaas. Die gedagte is om ’n databasis te skep waar AVBOB se kliënte gedigte sal kan lees (en aflaai) wat hulle aanspreek.

Gesien teen die agtergrond van koerante se "In Memoriam"- en doodsberigte, vervul hierdie wedstryd en webwerf ’n belangrike funksie.

Poësie artikuleer pyn, onsekerheid en wanneer ons getref word deur die dood, bring dit vertroosting. Verskillende bekende digters tree in die dokumentêr op, ouer sowel as jonger, wat die digkuns as eiesoortige genre onder die loep neem.

Hannah Cornelius (1996 - 2017)

Op 'n foto wagtend
op die Halte na Ewigheid
kyk jy na links,
na die Stasies
genaamd Angs, Vernedering,
Onnoembare ...
agtertoe
daar waar die trein
nooit weer
vir jou sal stop
nie. Nimmer,
nee, nooit weer.
Nou op jou soloreis
met geen retoerkaart
ter hand
reis jy na
Aandblom-is-'n-witblom
digby dusketyd
Blommetjie-vergeet-jou-nie.

Louise Viljoen skryf In Literator, November 1995 oor die tradisie van hierdie soort gedig in navolging van S. F. Witstein se Funeraire poëzie in de Nederlandse Renassaince (1996)waar dit gaan om die lof (laus) van die ontslapene, die verdriet (luctus) en aanvaarding van die dood (consolatio). (’n Retoriese analise van die vyf lykdigte in T.T. Cloete se Allotroop | Literator. Besoek 3 Junie 2017).

Valencia Farmer, Sihle Sikoji, Anene Booysen is enkele name van vroue wat wreedaardig vermoor is. Dan was daar ook die opsienbare moordsaak met Oscar Pistorius en die dood van Reeva Steenkamp.

Reeva

Kon jy weet
daardie laaste keer
by die hekke van die Silwer Huis
en Rooi Badkamer
'n sekuriteitsbeampte
sou Heilige Petrus vir jou speel?
Was daar 'n geel gloed óm
jou gehul, soos Jung beweer,
wanneer ons wetend-onwetend dié oorgang
in volledige eensaamheid, dus solo, maak?
Sou jy kon raai dat die beroemdheid
waarna jy smag jou 'n ereplek sou gee
in die galery langs JFK en Marilyn Monroe?
Jou oë gesluit soos Marilyn s'n
in die Brentwood-lykshuis in Los Angeles;
jou kop oopgeklief nes Jack s'n.
Kon jy dink realiteitstv was net 'n voorspel
tot 'n hofsaak met jou as die aanwesige-Afwesige?
Foto's geneem, selfs uit 'n lykshuis geskaai,
verkoop, vervleg, verpand, versend
met opgeswelde oë asof jy jou verweer
teen die ongerymde, die vervorming;
ja, selfs teen hierdie gedig,
'n vérdere openbare skending.

(Matriks. Human & Rousseau, 2015).

In die slotstrofe van"Allofrasie" uit wyle TT Cloete se bundel Allotroop (Tafelberg, 1985) skryf die digter:

Nooit had so baie jou so lief soos in jou kis nie
al is daar iets onnoemliks wat ons afweer
en al stuit ons teen jou entropie. Jy ignoreer
ons maar jy weet nie wat jy jammerlik mis nie.
Die mistieke groot bruis, die beroerde gewemel
om jou sonder jou. Sien jou in die hemel.

Allofrasie beteken vreemde manier van praat en hierdie gedig aktiveer die impak van die dood as 'n groot gelykmaker. Kortstondig is almal bewus van hul eie dood en is daar selfs versoening tussen mense.

Die dood is die groot gelykmaker.

Die lykdig is ook 'n klaaglied of lament wat vertroosting bring.



* Ek wou nog sê . . . sal in die volgende tydgleuwe weer op Via uitgesaai word: 18 Julie om 19:30, 19 Julie om 07:30, 20 Julie om 13:30, 22 Julie om 15:30 en 23 Julie om 13:00.


© Joan Hambidge



Polemies | Dertien gebooie vir Afrikaans

$
0
0
AVBOB repliek Regter van der Westhuizen

Die voormalige regter van die konstitusionele hof, Regter Johan van der Westhuizen, se artikel (“Dertien gebooie wat Afrikaans kan red”, 17 deser Media24) behoef reaksie. Nie om die regter se siening van die grondwet nie; daar kan ‘n mens sy interpretasie eer.

Dit is egter wanneer hy met voorstelle kom vir die redding vir Afrikaans, dat hierdie skrywer genoop word tot wederwoord. Die hele kwessie rondom die beskerming van minderheidstale en tale in die spervuur, is kennelik iets waarvan die regter onbewus is. Ek was verlede jaar by die Internasionale Kongres vir Vergelykende Letterkundes (ICLA) in Wenen. Verskeie deelnemers het hul besorgdheid uitgespreek oor die problematiek, o.a. geleerdes uit Indië. In Afrika is daar klein stattewaar ‘n laaste geslag nog ‘n inheemse taal kan praat. Matthias Brenzinger aan die Universiteit van Kaapstad doen baie werk om sogenaamde inheemse tale op te teken en te bewaar.

Ek het oor sy boek (mede-redakteur Sheena Shah) gekryf, Ouma Geelmeid ke kx’u ǁxaǁxa Nǀuu. Uitgegee deur CALDi, Universiteit van Kaapstad.

Sheena Shah & Matthias Brenzinger met Katrina Esau, Claudia du Plessis en Mary­Ann Prins Vyf mense, waarvan drie susters, is die enigste mense wat nog die N|uu-taal kan praat en ’n groep akademici het hulle gehelp om ’n ortografie vir hulle taal te skep. So sal hulle taal en die geskiedenis bewaar bly. (WoordeWat Weeg/ S. Shah & M. Brenzinger - OumaGeelmeid ke kx’u ǁxaǁxa Nǀuu (2016). Besoek 21 Julie 2017).

Die Universiteit van Princeton is eweneens besig met so ‘n bewaringsprojek.

Van der Westhuizen beweer verder met groot stelligheid:
Filistyns, Moabities en Amelekieties het nie oorleef nie. Hebreeus het – vir eeue sonder ’n land, regering of beskermende regstelsel, deur onder meer harde werk en volgehoue studie.
En dis juis die punt. ‘n Taal hoef nie uit te sterf as die mense wat dit praat, omgee nie. Meer nog, ons praat hier van die hoër funksies (soos ‘n wetenskapstaal) en nie patois nie.

Maar waar ‘n mens werklik dink die skrywer weet nie waarvan hy praat nie, is wanneer hy hom ook verder uitlaat oor kanonisering. Koos du Plessis die Hertzogprys vir poësie? Hy was / is ‘n puik liriekskrywer, maar bepaald nie in die liga van ‘n Krog of ‘n Opperman nie. Ek verwys die regter na Harold Bloom se The Western Canon.

Wanneer ‘n persoon van statuur inbeweeg in komplekse kwessies soos taalpolitiek (-ideologie) en kanonisering kan hy bepaald nie anders as om net ‘n persoonlike opinie te gee nie.

Sonder skroom bely hy:
Ek is skuldig. Ek was betrokke by die Universiteit van Pretoria se besluit om Engels (met uitsonderings) as voertaal te gebruik.Tesame met ’n proses van raadpleging op die kampus wat vir almal oop was en waaruit die EFF en AfriForum geloop het, was ek voorsitter van ’n paneel wat aan die universiteitsraad verslag moes doen.
Ek doseer Afrikaans aan die UK waar meertaligheid erken word. Toe ‘n gesiene kollega, Henning Snyman, onlangs oorlede is, het die Monday Paper my eulogie in Afrikaans gepubliseer.

CALDi aan die UK is ‘n sentrum vir Afrikatale en die projek vir meertaligheid word deur my ondersteun – eerder as ‘n siening dat ons almal Engels wil wees en is.

AVBOB is tans besig met ‘n massiewe projek vir die digkuns.

Daar bestaan uit twee dokumentêre programme (een oor die Afrikaanse poësie, en een oor die Engelse poësie) waar daar gepraat word oor die relevansie van die digkuns. Op 1 Augustus word ook ‘n poësiekompetisie gelanseer waaraan sprekers van al elf landstale kan deelneem. Uiteindelik sal daar ‘n webruimte wees waar mense van alle taalgroepe ‘n lykdig of troosgedig sal kan aflaai om te help met die verlies van ‘n geliefde.

En in Augustus 2018, ter herdenking van AVBOB se 100ste bestaansjaar, word daar ‘n bundel met 100 nuwe gedigte deur gevestigde en nuwe stemme gepubliseer, 9 verse in elke landstaal plus een gedig waarvan die identiteit eers dán bekend gemaak sal word.

En hierdie representasie van inheemse tale is ‘n eerste in Afrikaans (Woorde Wat Weeg/Nuus | AVBOB borg die poësie op groot skaal. Besoek 21 Julie 2017).

Hierdie projek bewys hoe kompleks ons samelewing is en dat ons eerder moet fokus op die verskillende tale in ons land, as om terug te val op ‘n gelykmakende, swak Engels. Ons het genoeg ge-mea culpa. Dis nou die hoogste tyd om vooruit te beweeg.

* Ek wou nog sê sal in die volgende tydgleuwe weer op Via uitgesaai word: 22 Julie om 15:30 en 23 Julie om 13:00.

© Joan Hambidge

Resensie | Jolyn Phillips - radbraak (2017)

$
0
0
Jolyn Phillips - radbraak. Human & Rousseau, 2017. ISBN 9780798176163

Resensent: Joan Hambidge

Die ding met ‘n shout op ‘n buiteblad van ‘n boek is dat dit jou verwagting van die boek kan beduiwel. Of die advertensiebiljet met ‘n dalk oordrewe aanhaling van ‘n skrywer oor die bundel kan jou laat frons: “’n klein aardbewing van ‘n bundel”, aldus Petra Müller. En: “Hierdie skrywer het die engel in die klip beet.”

Maar hierdie woorde ís welverdiend. Van die buiteblad van Jolyn Phillips se bundel radbraak, ‘n debuut, tot die laaste gedig, eis die aandag-van-jou-oë.

En van al jou sintuie.

Radbraak, soos in geradbraakte taal, kom uit die Middelnederlands raetbraken (om te breek). En breekbaarheid is die kodewoord in hierdie bundel. Ons sien ‘n skets van ‘n slak se doppie. En hier dink ‘n mens aan die gedig “Netwerk” van wyle Prevot van der Merwe:

netwerk

n slakkie oënskynlik blind
seil silwerslymdrade
wat nêrens met nêrens verbind

By Phillips is daar ‘n duidelike taalspel. Met Antjie Krog en die ander digters wat stem gee aan die lot van bruinmense. Clinton V. du Plessis, Ronelda Kamfer en Nathan Trantraal maak die taal en ervarings  van hierdie leefruimte óóp. En daar is dus ‘n netwerk-tussen-gedigte. Molluske aktiveer baie betekenisse. Positief en negatief in al die assosiasies. (Mollusca - Wikipedia. Besoek 7 Julie 2017).

Daar word “skollietaal” gebruik (“die taal van nommes en pakamisa”) en oor bendes en geweld geskryf. In ‘n lang gedig, “’n geweeklaag” (29 – 33) lees ons van die politieke geweld:

die liggame gebars tot galg en rad
en met horte en stote ter tafel gelê.

Die emosionele uitstortings word word goed in beheer gehou deur die digter se vormbeheer en taalspel.

Daar is refreine, herhalings en ritmes wat die  verse laat voortstu en die leser emosioneel oorrompel.

Dis werkersklaspoësie soos wat gert vlok nel se gedigte dit is. Uit die ellende van werk by ‘n deli (met sy vleise wat assosiasies oproep) en ‘n aansoek aan die UWK, word ‘n hele droewige bestaan vir die leser onthul.

Verdrinking, see-dood, politieke ellendes (die nuwe bestel het geen verbetering gebring vir die armes nie), die potloodtoets, drugs; dit alles kom aan bod.

‘n Motto uit Anne Sexton verklap alles: “I am a collection of dismantled almosts”. Sexton, op haar beurt, het vreesloos die spanninge tussen man en vrou, kind en ouer uitgelig.

En die ongelooflike taal-eksperiment in “Diglossie” (64) is puik.

In die kort biografie lees ons dat die digter ook sangeres is en dit kom duidelik na vore in die gedigte waar die klankmatige ontgin word soos in die gedig “kruiebalsem-liedjie” (63). In “die hotnotsvy” (62) lewer sy navrante politieke kommentaar:

die hotnotsvy die stiefkindsvy
van die windverwaaide kusvlakte
tussengonnabossiestussenfynbos
tussenbietoubossies
sy is die aspoestershand
wat kruip na die violetkroon… (62)

Die emosies is verwerk. Woede en pyn word so half-skuinsweg weergee. Die liefdesverse gryp aan die keel:

jy sê jy soek my in laaie
in laundry in skuldbriewe
jy soek my behalwe
jy soek my: sonder my (48). 

“my ma in C-majeur” (49) speel in op do-re-me; maar die ma herinner die spreker aan see-majeur waarmee die viswêreld van haar jeug in Gansbaai ópgeroep word. Jy ruik en voel en sien alles. ‘n Goeie gedig is immers ook olfaktories. En visueel. En jy kan dit hoor.

‘n Mens sien en hoor ‘n versuipte brommer in ‘n gedig. Van hoe jy waarskynlik nooit die herinneringe aan 'n troebel jeug kan ontkom nie ("oer jirlikheid! Janwap se kind", 54).

Sy myn hierdie ervarings vreesloos - dit is dus waarskynlik 'n outobiografiese ek hier aan die woord.

Hierdie gedigte is soos bokvet in die palm.

Die voorblad is uit Rusland van 1896 deur Igor Golovniov wat iets anders aktiveer: 'n foto van 'n illustrasie; 'n gedig oor herinneringe wat soos 'n illustrasie of skets werk.

Elke gedig in hierdie debuut,  is die moeite werd.  Lees dit!


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Reisjoernaal | Namibië Julie 2017 (Deel I & II)

$
0
0
Deel I

Jy moet jou oë diep ingooi

So reis ons van Windhoek na die Etosha. Die vrygewige gids deel baie mee. Ek sien groot miershope, swaelneste en dooie bome. Hy verduidelik hoe die voëltjies (wewers) nessies maak.

“Dis soos ‘n groot hotel. Maar die ontvangs is onder, sodat ‘n slang wat probeer inseil, sal afgly.”

Tarentale stap doodluiters oor die pad. Ek dink aan Totius se tarentaal wat soos ‘n kruiwawiel skreeu.


Die tarentaal

Die kruiwawiel se skreeugeluid
kerm hy droefgeestig uit
terwyl die skeemring vinnig daal,
die tarentaal.

Hy soek - en dit is ook al laat -
vir hom ‘n kameraad,
om in ‘n boom die eensaamheid
en nag te slyt.

Sáám sal hul in ‘n blinkblaarboom
half slaap, half waak, half droom,
en by die naadring van verderf,
alléén nie sterf.
*
Ek het gemik, en met die knal
het een dood neergeval;
die ander vlieg met wilde krag
wèg in die nag!

(Afrikaanse gedigte deur Totius. Besoek 25 Julie 2017)

Ek was aan die begin van die jaar in hierdie wonderbaarlike land en wou terugkeer om ‘n digbundel (Astrak) te voltooi oor die dood van geliefdes. Dit is immers Carl Jung wat beweer het ‘n mens keer terug na iets totdat jy dit volledig begryp.

En so is dit dan. Die Bosveld-landskap roep ‘n vervloë tyd in Pietersburg (Polokwane) op en ‘n troebel verhouding aldaar. Ook dit word finaal begrawe. Dis net die herinneringe wat bly. Van Windhoek tot Etosha is ongeveer vier-en-’n-half-uur se ry. Ons stop in Windhoek by die KFC en ons eet hier ons Sondag-lunch. Die Kolonel se hoenders is stunning. Na die peuselpakkie op SAL (so ‘n hoenderdingetjie) is hierdie kiep uit die boonste rakke.

My gids, Ger, gesels lekker oor sy naderende huwelik. Ek drink die landskap in.
Laatmiddag is ons by die Etali lodge. (Etosha Lodge NamibiaBesoek 25 Julie 2017). 

Daar word ingetjekkereer. Die kamer is lieflik-luuks. Die personeel ongelooflik vriendelik.

Die aand is dit wildsvleis wat na jou smaak gebraai word. Koedoe, eland, wildebees en wat nog.

‘n Jong Sjinese kind is luidkeels aan die praat. Môre is hy, sy moeder en tante saam met my op ‘n trip.

Ek vra vir stilte. “My kind is soet,” kap sy terug. Die bestuurder bevestig dat die wildgids geen ongehoorsame kind sal verduur nie. Dus ontspan ek maar.

Om ses-vyftien vertrek ons na die Etosha met die gawe gids, Charles. Hy probeer die kind by herhaling tot orde roep. Geen geluk. Deur die skop 4x4’s stofwolke op. By die eerste kampeerterrein is daar mense wat ontbyt maak vanuit hul luukse bus met kombuis.

Ek drink net water. Later dreig Charles vriendelik, maar ferm: “As jy nou stilbly nie, gaan ‘n olifant op ons afstorm en jou steel.” En daar bly ChingChong tjoepstil.

Ons sien ‘n cheetah (met drie jongelinge), impalas, springbokke, zebras en natuurlik ‘n olifant wat net-net lyf wys. Daar is soveel pragtige voëls en ek dink aan wyle professor Snyman wat ‘n ywerige voëlkyker was. Ek weet egter bittermin van hierdie spesies en Charles is ‘n lopende ensiklopedie. Hy vertel van die verskille tussen manlike en vroulike diere; van hoe lank hulle dragtig is; hoe jy hulle kan uitken: die hoekige olifantkoei se aanskyn teenoor die meer ronde olifantbul; die lot van die ronkedoor; hoe hulle horings lyk; die oryx se horings. (Oryx - WikipediaBesoek 25 Julie 2017). 

‘n Hoogtepunt van die dag is ‘n leeumannetjie wat sy wyfie dek. Wat ‘n gedoente en geraas.

Charles is baie humoristies. Hy noem mopaniewurms Damara-tjips en die M-teken op ‘n impala ‘n leeu se McDonalds.

By ‘n watergat wei daar koedoes, impalas en hartbeeste in volledige harmonie saam. Dis een van die mooiste wildsprentjies op aarde. Vredig.

Ons stop gereeld en Charles kyk met sy verkyker en sien ‘n leeu. ‘n Geoefende oog het hierdie man gewis. “Jy moet jou oë diep ingooi,” leer hy my.

En net voor ons die Etosha verlaat en die droë pan aanskou het, sien ons dertig olifante wat by ‘n watergat staan. Twee jongelinge stap kordaat saam en een drink aan sy logge ou moeder. By die watergat baai hulle in stof - glo om al die spreekwoordelike plae van Egipte te verwyder.

Die aand is dit weer wildsvleis en vir die eerste keer proe ek zebra: sag en sappig. Vroegaand is ek bed toe - die semester was lank en taai en ‘n mens besef dikwels eers wanneer jy ‘n vreemde omgewing betree, hoe uitgeput jy is.

Ek slaap ‘n bietjie in, soos die oumense sê, en begin skryf aan ‘n landskapsvers.

Teen sonsaktyd gaan ek saam met Charles en beleef ‘n sonsondergang. Die son sak in die Weste en ‘n pienk en oranje kleur hang oor die lug.

Ons ry na die uitkyktoring (saam met raasbekke) en ek onthou hoe my moeder altyd gesê het:”Ahoepie!” wanneer ons oor ‘n padversperring in die Krugerpark gery het toe ons kinders was.

‘n Leeftyd gelede - toe jy net ‘n paar rand betaal het en ‘n groen stieker op jou kar se ruit gesit het en in ‘n rondawel wat na gras geruik het, vertoef het.

Al daardie herinneringe waaier nou oop. Wors en tjops wat in die aand gebraai word en muskiete wat buite zoem. My ma wat die proviand in die kombuis uitpak. Kerse vir in geval die ligte ingee. Die kinders in een rondawel; die ouers in ‘n ander een.

By ons tuiskoms nou by die lodge, wag daar ‘n boek vir bestudering: Trees & Shrubs of Namibia (Piet le Roux & Mike Müller - opgedateer deur Coleen Manheimer en Barbara Curtis. Macmillan, 2009).

Maar hierdie taksonomiese plesier sal vir nou eers moet wag!

Dis nou etenstyd. Ek bestel Springbok en Zebra. S/Z - Roland Barthes, eat your heart out! Die Springbok na links op die bord, die Zebra na regs.


Deel II

Van die Etosha is dit na die middel-landskap en weer na Gocheganas, ‘n oord sowat 9 km buite Windhoek. Maar dis ‘n ver pad van Etosha tot in Windhoek. My gids is 26 jaar oud en van Rhehoboth. Hy praat die mooiste Afrikaans en is ‘n wonderlike kenner van die natuur.

“Daardie bome is kameeldorings. En hulle rus ‘n bietjie uit in die winter. Hulle lyk swart, maar hulle is nie dood nie.” Ons ry verby dorpers wat wei langs die pad en vele vlakvarkies. Mopaniebome. En ja, pragtige vinkneste.

Die rooi waaigras is pragtig. Hy verduidelik ook dat die gras gesny moet word sodat die bestuurders die wilde diere kan sien aankom.

So ‘n gids is vir ‘n mens goud werd. Deur sy geoefende oë sien jy baie goed raak. Vanoggend toe ons vertrek het, was daar ‘n klein bokkie voor my deur.

Daar is vele vlakvarkies langs die pad en hier en daar sien ons ‘n klein jakkalsie hardloop.

Wanneer ons stop vir petrol, is dit sharp-sharp.

Otjiwarongo kom nader. Ek koop vir ons koeldranke en sien ‘n ATM. En net hier word ‘n dag in die natuur met Sangiro se Oerwoed en vlakte opeens ‘n onaangename ervaring. Ek druk my kaart in die ATM. Trek geld. N$ 500. Die masjien skop ‘n boodskap uit: U transaksie was onsuksesvol. Kontak u naaste bank.

Ons gaan na die FNB, oorkant die pad, waar dit my ongeveer een uur neem om vorms in te vul, paspoort uit te haal en ‘n liewe man, ene Tyson, is uiters hulpvaardig.

Want ja, die geld is deur op my rekening!

Weer eens word ‘n mens deur hierdie mense beïndruk en hulle praat die mooiste Afrikaans. In die klein bank is sowel wit as swart in harmonie. Elke keer vra ek uit vanwaar die persoon kom en dit help my geweldig om iets te verstaan van uitspraak en idiome.

Nou is ons presies een uur agter skedule, maar ek glo Tyson sal help. Ons stop by die Spur want ek wil my gids, Boris vergoed vir sy geduld.

Ons eet elkeen ‘n burger en druk deur tot in Windhoek. Inmiddels word hy elke tien minute gebel deur ‘n kollega want hulle moet motors ruil. Sesuur die aand is ons by Gocheganas. Te lekker. Die kelners herken my en na ‘n vinnige stort, smul ek aan ‘n eland - voorafgegaan deur bord warm tamatiesop.

Dis ysig.

‘n Glas Saxenhof Cabernet verdring net-net die koue.

Die landskapvers gis in my. Die internet-konneksie is stadig. Ek probeer vir Johnny Panic e-pos, maar sonder sukses.

Die volgende oggend is ek grieperig weens die lang afstande, die stof en stres. Ek maak my klein huisapteek oop en vind ‘n bruistablet wat die naderende griep afweer.
Ek maak die gordyne dig. Bedrus. Dis al wat sal help.

Landskapvers

JdL

Landskap, so weet jy te vertel,
verraai immer iets van die binne-
landskap, die innerlike stoornisse.

Dan is ek die kameeldoring,
wat wag op die lente en jy,
die mopanie wat steeds oranje blom.

Die winters hier is ysig en sonder genade.
In elke vinknes hou daar ‘n weerlose skuil.
Die wewers bou ‘n vyfster-hotel in die natuur.

In elke droom hoor ek die wind fluister:
“skaars-beblaard, skaars beblaard ...”,
vergeefs soekend na al my vertrekkendes.

Landskap, só sal ek uiteindelik leer,
vergestalt, nee verbeeld ‘n oordeel.


© Joan Hambidge


Reisjoernaal | Namibië Julie 2017 (Deel III)

$
0
0
Deel III

Dis 'n dag van binnenshuis swem in die Wellness Centre.

Gisteraand heerlik gekuier met die Windhoekse digter Kobus Lombard hier by die lodge.
(Versindaba » Kobus Lombard. Besoek 29 Julie 2017).

Kantgordyn

jou roerlose hang
het my eens versiende oë
verlei met ragfyn drade
waarmee jy die wêreld sif

noudat my lense verdof
en takke buite sagter wuif
merk ek oplaas
die patrone van die wewer op

Vandat ek hier begin reis het, begryp ek hoe tyd werk en sy "skadu's oor die sonwysers". Hier is alles so wyd en oop. Oos teenoor wes; noord teenoor suid. jy is die hele tyd bewus van die son ...
Nou is dit 'n laatmiddag dierebespieding.

Ons is weer op die Landrover en gelukkig om die gids Rocky mee te maak oor waterbokke wat jy nie kan eet nie, omdat die vel te olierig is. Die vleis is glo ook oneetbaar.

Ons sien vele kameelperde met kleintjies.

"Ons is nou in die Kindergarten," konstateer hy. "En in die natuur is die mannetjies altyd mooier as die wyfies. Kyk nou maar na leeus. Helaas is dit anders in die menselewe maar dit presies andersom werk."

Hierdie diere eet ongeveer 20 kg kos per dag en hy verduidelik as hulle val, moet die kop omhoog bly anders kan hulle nie weer opkom nie. 'n Kwessie van balans, jy sien.

En hulle veg met die nekke.

In Gocheganas - die plek van kameeldoringbome en akasias - sien ons vele diere: renosters, tarentale (bleshoenders), duikers, springbokke, jakkalse, wolwe, meerkaaie, koedoes, duikers, wildbeeste (gnu's) en 'n eensame roofvoël. (Gocheganas Lodge & Spa - Windhoek – Namibia. Besoek 29 Julie 2017).

Toe ek laas hier was, het ons 'n witrenosterwyfie gesien wat dragtig was. Inmiddels is die kleinding gebore (agt weke oud), maar nêrens in sig nie. Daar staan wel twee dikke ooms en 'n tante en wei. Hulle laat ons toe om foto's van naderby te neem soos wafferse "celebrities".

En die renosters is wit, omdat hulle in die modder baai. Boonop is hulle halfblind, maar geseënd met 'n skerp reuksintuig.  Die swart renosters is glo meer aggressief en hierdie renosters - omdat hulle deur Gocheganas gevoer word – minder so.

Hy het veel te vertelle oor die volstruis wat met 'n voorskop jou so kan beseer dat hy in die hospitaal sal beland. Maar as jy bes gee en gaan lê, is jy veilig. Hy sal net op jou rug staan en tjommel. Boonop kan hy teen 90 km per uur beweeg!

In die oue dae het die Duitsers wat as koloniste hier aangedoen het in die mis van die volstruise gekrap. Die diamante wat hulle ingesluk het om die verteringstelsel te laat beweeg, is so gemyn. 

"Diere", beweer ons gids verder, "is banger vir ons, as ons vir hulle. Jy moet net stilstaan - dan gaan alles verby."

'n Jong man uit Brussel is 'n wafferse spoorsnyer - soos Louis Liebenberg - en hy kan spore eien. (Boesmansontleed nou ook antieke spore | Maroela Media. Besoek 28 Julie 2017).

"Hoe weet jy dit alles?"

"Ek het as kind elke dag TV gekyk oor die dierelewe. En omdat kameelperde water kan ruik sover as 15 km van hulle af het die Boesmans hulle nooit doodgemaak nie."

Ek besef hoe min ek weet. Maar ek is hier om my psigiese batterye te laai en dit doen hierdie ervaring van die natuur gewis. Hier tussen die witgatbome, akasias en kameeldoringbome.

Wanneer ek weer kameeldoringboom-vuurhout vir 'n braai koop tuis, sal ek weet hoe sterk hulle hier staan.

Nou begin ek dink aan 'n vers ...

(Tierra de sombra
come mi boca.)

Federico García Lorca

En ek begin lees aan Kleinboer. Wat lekker! (Kleinboer – Hierdie huis. Penguin, 2017)

So lui die publisiteitspamflet van Kleinboer se jongste roman:
Kleinboer woon steeds in rowwe Yeoville naby Johannesburg se middestad. Hy is verknog aan sy erf, maar is ’n speldjie wat telkens na ander magnete aangetrek word.  Sommige lesers het dalk gehoop hy het al ophou rondloop. Maar nee, hy is steeds verslaaf aan die versoekings wat bordele bied. Sy rondlopery strek nou wyer en hy gaan loer selfs wat bo in Afrika aangaan. Sy Zoeloe-vrou worstel teen ander magnete, hoofsaaklik die sjebiens binne stap- of strompelafstand van die huis. Deur dit als woel Kleinboer se obsessie met die Lotto, waaruit hy getalle én woorde maak. 
Beter kan 'n mens nie hierdie roman wat Hierdie huis heet, opsom nie. Met hierdie boek voltooi hy 'n drieluik wat begin het met Kontrei en Werfsonde.

Kleinboer het met sy debuut opslae gemaak. Met daardie hiper-realistiese beskrywing van seks oor die kleurgrens en die inbeweeg in die skemerwêreld van sjebiens, het hy homself as 'n eerste gevestig.

Die jonsgte boek is nes die voriges in stylaanbod: sonder skroom, op die man af - daar is geen selfbejammering nie, ofskoon hierdie boek jou van die begin af aan die keel ruk. Ons beleef die dood van sy geliefde Lungi, met wie hy 'n komplekse verhouding het.

Daar is 'n moeilike, opstandige tiener. 

Daar is Kleinboer se spel met die Lotto wat dui op 'n soort eksistensiële bemoeienis met die wêreld óm hom. Hy gebruik ook die Lotto as matriks om die mees absurde en ontoepaslike idees te "verduidelik".

Dan is daar Kleinboer as taalpuris. Ou lesers van Litnet sal goed onthou hoe hy deur die jare sober briewe geplaas het oor taalfoute.

Hierdie man kan vertel. Iemand behoort 'n studie te onderneem oor die ooreenkomste en verskille tussen Kleinboer en Ryk Hattingh se Huilboek.

Beide wit mans. Beide die orde van die patriagrie en "aanvaarbare" gedrag. Kleinboer hier te lande; Hatting ekspat. En beide uitstekende romansiers.

Laataand sms my voormalige uitgewer my. "Ek hoor jy is in Windhoek?"

Ek sms terug. Ons ontmoet more, voor ek woestyn toe vertrek vir koffie.

© Joan Hambidge


Reisjoernaal | Namibië Julie 2017 (Deel IV)

$
0
0
 Dis so stil in die woestyn ek kan my Mondaine hoor tik.

Die dag begin met goeie nuus: die geld uit die ATM is terugbetaal en na 'n paar lengtes in die binnenshuise swembad is ek reg vir die pad: Naukluft Lodge.

Eers die kliniese Hilton-hotel en Windhoek is besonder skoon en wen glo elke jaar die prys vir die skoonste stad in Afrika.

Die voormalige uitgewer kry nie haar draai nie en ons ry verby al die landmerke in Windhoek omring deur die Khomas-Hocland en die Auas-berge. Soos die Katutara-township, die Reiter von Südwest, die Alte Feste oftewel die museum, die botaniese tuin, unsw. Ons sien drinkers op die stoep sit, maar hierdie reis is om die natuurskoon te besigtig.

Ses ure lank se reis na Solitaire met twee Hong Kong-mense agter en ek voor langs die gids. Ons ry verby bergkwaggas en springbokke.

Ek verkyk my aan die wewer-neste wat soms 'n boom laat omtiep, so groot is hulle. Hierdie neste kan tot 'n 100 kg swaar raak. Die wewer op egte Afrikaans heet die versamelvoël. 

Die Spreetshoogtepas durf ons rustig aan. Soms stop ons vir foto's en dan is ons weer
veilig.

Hierdie onpretensieuse landskap praat met my. Dit sit in my DNS - waarskynlik omdat ek gebore is op Aliwal-Noord hunker ek na ooptes. Na grond. Daar is lieflike plaashuise gebaai in stilte.

Tot by Solitaire.

By die Naukluft-lodge is daar geen internet nie en al die jongelinge op hul Samsungs is vies. Die aand is daar 'n egte Namibiese braai met wildsvleis, hoender, knoffelbrood en natuurlik: Apfelstrudel.

Ek gaan vroeg rus. Dis immers moreoggend ons reis na die Sossusvlei-duine en ons moet vier-dertig op wees.

Kleinboer is my bedtydstorie en ek is ontroer deur die ervaring van sy vrou se dood en die begrafnis daarna. Hy beskryf die ritueel van 'n Zoeloe-begrafnis met die drie emmers vloeistof ...

Hy verwys ook na Johan van Wyk, daardie uitsonderlike digter wat na homself verwys as 'n giraffe in 'n bordeel ...

Heldedade kom nie dikwels voor nie is ook in my reistas vir lees. 'n Knap bundel met waarskynlik die beste ekfrastiese verse in Afrikaans.

Ek sit my lig af en droom van my vriend Gerrit. Hy maak 'n hek oop in die droom vir my. Hy is sowat ses jaar gelede onverwags oorlede en ja, in hierdie ruimte is 'n mens voortdurend bewus van die oorgang tussen lewe en dood. Maar dit bedreig nie. Ek is immers die afgelope tyd deur soveel geliefdes verlaat. 

By die Naukluft vertel 'n vrou van 'n jong Russiese kind wat op die boottrip in die water geval het. Gelukkig het die gids haar betyds kon red.

Die wekker lui. Brekfis en dan 'n uur lank se ry deur warrelende stof tot by die duine. Imposant. Beeldskoon. Onwrikbaar. Onbeweeglik.

Die jongeling uit Hong Kong stap die duin flink uit. Ek helaas doen dit minder adret.

Terug Landrover toe. Ons skaats oor die woestynsand. Tyd vir stilte. Ek lees Kleinboer, wyl ons wag op 'n foto-sessie. Sy vertelling hoe hy lepels vis met 'n magneet in sy huis wat die vorige bewoner se kinders in die muuropening laat val het. Oor sy tweelingbroer. Sy ouers: die streng, wiskunde-onnie en die ongasvrye, agterdogtige en neurotiese moeder. 'n Resep vir rebellie. Maar Kleinboer vertel alles soos dit is. Sonder skroom, skaamte of skuld.

Met die lotto-nommers tussenin waarin hy arbitrêre saak saamsnoer. Wat 'n fantasie het hierdie man nie. Dis eerlike Yeoville-neo-realisme waarin die verteller vir sy leser wys dat ons Afrika kan waardeer en geniet.

Verby Big Daddy en Big Mama se duine. Tot by Sossusvlei. Tot by die canyon. Goedskiks ses Landrovers is in die sand gesnoeker. Geen mens in sig nie en die gids weet te vertel hulle is "gered" deur 'n Namib-viertrek.

Ons hou piekniek onder die bome by 'n outydse tafeltjie. Smul aan hard gekookte eier, toebroodjies, jogurt en koffie. Die Hong Kongelinge gesels opgewonde oor die natuurskoon in hul taal. Ek en die gids praat Afrikaans. 'n Wonderbaarlike ervaring van hierdie land is hoe suiwer en amper outyds die Afrikaans is. Geen Engelse sleng of stoplappe nie.

Ek neem foto's. Ek verkyk my aan die bome. Ek vind nou berusting toe ons by Weltevrede-lodge verby ry, die naam van my moeder se meenthuis.

Middagete sit daar vier vinkies en bedel by my tafel. Ek voer vir hulle krummels. Hulle is boodskappers uit die ander oord.

My sak val oop. Daar is 'n pakkie note in van vorige bestemmings: Turkye, Sjina, Argentinië en Chili.

Matriks, Indeks en Astrak is my trits waarin ek 'n fase van my lewe afhandel.

Woestynlandskap
(Tierra de sombra
come mi boca.)
Federico García Lorca

In hierdie landskap sonder genade
waaier my hele lewe voor my uit:

ek sien my ma wat padkos pak
vir 'n reis na haar familie in die suide.

Soggens hou my vader woordeloos toesig
wanneer ek my tas vol klere pak

en my mentor hoor ek goedskiks lag
oor ek tans boom- en voëlname bemeester.

In vele fotobeelde sit hulle roerloos, wagtend
in die volledige geheimenis van die dood ómhul.


© Joan Hambidge


Reisjoernaal | Namibië Julie 2017 (Deel V)

$
0
0
Swakopmund en Walvisbaai

Vanoggend vroeg is dit propperse ontbyt by Naukluft. 

Ek is op pad Swakopmund toe met Oom Aggis, die gids deur die Namib, se vader.

'n Engelse ontbyt saam met die twee Hong Kongelinge. O gedoente. Toe hulle wil uitjekkereer, blyk dit hulle het wederregtelik in die hotelletjie oorgebly en nie in die kampeerterrein nie.

En die bestuurderes eis 'n ekstra bedrag. Dit blyk egter gou dat op hul reisvorm eersgenoemde aangeteken staan en nie laasgenoemde nie.

Dit blyk die jongeling het self al die reëlings getref en dus was hy nie bewus van die subtiele verskille nie.

Ewentwel, ek slaan my oë op na die duine. Dis hoekom ek altyd belê in my reisagent, mevrou Cathy Petersen. Loop iets skeef of skuins, e-pos ek haar. Sy is my back-up op meer as een vlak.

Want reis gooi bepaald sy curve balls. Vanoggend ontdek ek 'n goggabie het in die nag gebyt. Seker 'n sandvlooi. Ek vind nêrens in my huisapteek antibiotiese salf nie. En die rooi bytmerke staan. Ek drink 'n anti-allergie-pilletjie en ontdek sunlightseep in my sak!

Ek maak dit effens nat en smeer dit oor die rooi merke.

Daar werk die boereraat soos 'n bom. Die rooi swelsel sak en ek en Oom Aggis, 'n Damara, is in die viertrek (sowat vier ure) na Swakopmund.

Die pad is woes. Bestudeer my Franse grammatikaboekie om die kop stil te hou. Bekyk die landskap en neem die gebruiklike foto's. Oom Aggis vertel van al sy wedervaringe as draaiwer. Sy oudste kind is 30 en die jongste twee. Hy het net agt seuns, brag hy.

Ek gee vir hom 'n footjie en besef hy moet na een terugry Naukluft toe - sonder lunch.
Dis mos nie reg nie?

Nee beduie hy; as hulle oorslaap op 'n plek dan kry hulle kosgeld - andersins nie.

Dis ongeveer twee minute na twaalf en ons stop by die Spur wat 'n lieflike speshúl aanbied: 'n burger teen N$ 50.

Strand hotel

Hy eet alte lekker en oom Aggis laai my af by die Strand-hotel. Hier raak ek liggies bedonnerd toe die concierge my twee tasse neem en verdwyn. Die dame by die inboektafel lyk nie bekommerd nie. Hy het dit glo net agtertoe geneem en sal dit nou-nou kamer toe bring ...

My kamera, my grimeersakkie (haha), selfoonlaaier, et al. is in 'n die klein blou sak. Ek verduidelik vir haar WAAROM ek onrustig is: sowat tien jaar gelede word 'n tas in 'n hotel in Plymouth gesteel toe ek deur Engeland reis. Die hotel trek die skouers op (dit was nie in die kamer nie) en die bustoer is nonchalant (dit was nie op die bus nie).

In transit = geen visum = en route.

Daardie tas is fakala stryt.

Gone.

Die kamer in Swakop is wel lieflik. 

Ek pak my klere uit, hang dit in die kas op. Twee serpe was ek uit: die rooigrond van die Namib spoel uit en 'n jean stof ek af.

'n Kamer moet nou eers my mana oorneem alvorens ek rustig raak.

Daar is 'n helikopter wat oor die Namib vlieg ($N 6 000) en 'n lugballon wat jou eweneens oor die landskap kan neem (ook teen 'n ongelooflike bedrag). Indertyd wel 'n helli geneem oor die asembenemende Victoria-valle ...

Nou beantwoord ek al die e-posse na dae se stilte in die woestyn. Knip my naels en maak my reg vir 'n wandeling deur die stad.

Dit is koud hier. Die see is onrustig. Dis winter hier. Na die hitte van Sossusvlei en die stof, is dit 'n verademing om by die kus te wees.

Ek eet vroeg in die hotel se steak house. Heel skaflik, behalwe vir 'n warm glas vir die rooi wyn ...

En dan is dit bed toe vir die combo: seevaart- & duine-trip.

Lady Gaga 

Die seevaarttrip is wonderlik. Ons word 'n walvis en dolfyne beloof, maar helaas moet ons tevrede wees met 'n pelikaan, ene Lady Gaga wat haar aanmeld op die dek en al bedelend vissies kry. Dan is daar 'n Rakkertjie Rob wat swiep-swiep oor die dek. In die koue oseaan (12 grade) swem 'n hele paar. Die gids neem ons na die eiland waar daar glo 30 000 woon. Hy vertel hoe die moeders 'n suigeling moet agterlaat om kos te soek - dikwels vir twee dae - en dan by haar terugkeer is die kleinding opgevreet. Die natuurwet. Soos die wet van Transvaal ...

Ons sien blou emmers in die water. Dit blyk egter die plek te wees vir die kweek van oesters. Ingewikkeld hoe diep dit onder die water lê en net op die regte oomblik na bo gebring word en uitgevoer word na Hong Kong. En as daar een vrot oester in is, word die hele besending teruggestuur. Ons word oesters aangebied, maar ek dink dit is te vroeg vir so 'n delikatessen.

In die baai staan daar oliebore. En omdat die olieprys gedaal het, is daar geen soektog na olie nie. Die wispelturigheid van die politiek wat vraag en aanbod kan manipuleer, is welbekend.

Die rondvaart is drie ure lank en goed vir die gemoed.  

Hierna is dit duine toe op 'n viertrek met 'n nuwe gids. Hy is 'n behendige bestuurder wat ook veel weet van die natuur en die ekologiese veranderinge van die kusgebied. Hy wys kaarte om te verduidelik hoe die kuslyn verander het. Hier het 'n huis gestaan eens op 'n tyd; nou is daar net 'n paar stukke hout ....

Die huis is begrawe onder sand.

Ons ry terwyl dit hoogwater is en moet koes-koes om 'n brander te mis teen 'n duin. Dan is dit opwaarts. Die Duitsers kreun van plesier en vrees.

Jouissance in sy oorspronklike sin van die woord. Dan beweeg ons na bo en weer - na 'n klein asemophou - skielik na onder.

Onder grom die duine.

"Dit is 'n Landrover-begraafplaas hierdie," spot die gids. Want as jy nie reg mik en trap en ratte bemeester nie, is dit sokke tyd.

Ons stop vir 'n versnapering. Onder 'n duinplant sien ek streepmuise rondharloop. Die gids voer hulle kaas. Dit is opvallend hoe die gidse op die seevaart en by die duine die wilde diere voer.

'n Kleingecko, vertel ons gids, kom ook uit en eet 'n chippie uit sy hand soos 'n hondjie.

Dus op een dag op 'n katamaran en in 'n viertrek.

Ons ry by die klein monument verby in Walvisbaai: die Rynse kerk wat ingevoer is uit Duitsland.

'n Belangrike troop om hierdie land te verstaan wat steeds die Duitse kultuur erken.

© Joan Hambidge



Reisjoernaal | Namibië Julie 2017 (Deel VI)

$
0
0
Met reis word die inpak makliker. Jy begin in jou gedagtes al die klere sien waar dit moet lê in die tas. Die verskillende sakkies met zippies word toegemaak: medisyne, pilletjies, parfuum, tandeborsels, waspoeiers ...

Boeke in 'n aparte handtas met skootrekenaar.

My gids neem my lughawe toe en by die geldwisselaar probeer ek geld omruil om die wisselkoers te probeer bepaal. Helaas geen geluk. Hy het nie geld om te ruil nie. Stadig, rustig met geen sorge nie bepaal hy die koers. Niks jaag hom nie. Nou begin my ou self ontwaak. Ek raak haastig.

Kanselleer die transaksie na 'n halfuur se soektog van die jongeling op sy sel. Vlieg terug en bly sowat drie ure op die lughawe waar ek transaksies afhandel, klere en kos koop en dan huiswaarts keer per skommelbus.

"Are you back, Priscilla Queen of the Desert?", vra 'n kollega telefonies. Nee ek is in die vlees terug; in die gees nog nie.

Elke nag droom ek van die Namib. In een droom is daar 'n gids wat beloof ons sal wildsvleis kry môre. 'n Herhalende droom. Ons ry lang ente oor duine.

Dan ontvang ons wel die beloofde vleis.

Ek lees Kleinboer klaar en dink oor Koos Kombuis se resensie waar hy dit vergelyk met Brink se Die ambassadeur in die ondersoek na ras. Sekerlik tog Kennis van die aand? (Boekresensie/ Hierdie huis deur Kleinboer | LitNet. Besoek 6 Augustus 2017).

Vir dae staan die tas in die slaapkamer, onuitgepak. Klippe van die Etosha en Namib lê op die bedkassie. In die kombuis is daar klippe uit Peru. Op die vensterbank uit Japan.

Die Japannese ruimte: volledig anders as die Namib. Vinnig, modern, elektronies ...

In tempels ervaar jy wel stilte ...

Die bullettrein (sinkansen) wat jou vervoer in 'n oogknip.

Sopas ontvang ek Ernst F. Kotzé se Afrikaans-Japannese woordeboek (Research Institure for Languages and Cultures of Asia and Africa. Tokyo University of Foreign Studies, 2016).

Wat 'n boek is dit nie!

As ywerige woordeboekleser vergaap ek my aan die kundigheid (inleiding in sowel Afrikaans as Engels) oor uitsprake, oornames, tyd, woordordes en wat nog.

Woordeboek is soos horlosies: die slegste is beter as niks, en van die beste kan nie verwag word om presies reg te wees nie - aldus Samuel Johnson (xxx).

Ek dink aan die Tankas ('n vorm wat 1200 jaar oud is!) wat ek probeer skryf het:

Die liefde met haar
‘n Mount Fuji hoog met sneeu
koud, bitter ysig
maar binne waar niemand sien
‘n sluimerende vulkaan

*

haal die sinkansen
oor die ver Japan vreemd  
ek wis bepaald nie
hoe alles sou duur en duur
in ‘n reis andersoortig

*

die maan skyn nou hier
‘n laggende vet Boeddha
oor my wit futon
jou son skyn buite hoopvol
oor ons leë dubbelbed

*

‘n valentynsdag
bring vele kubersoene
te kus en te keur  -
kies vir jou ‘n soen perfek
onbreekbare internet

*

van Nagasaki
tot Kyoto, Osaka
Hiroshima, Tokio -
klink poësie alreeds op
in hierdie vreemde name

*

eens was ons liefde
koestersag soos ‘n duifveer –
nou net ‘n onthou
van ‘n skoolseun se kettie
laat bloedbevlekte merke

*

Saterdagaand één
op ‘n plattelandse dorp
dra ek saam met my
na plekke waar vervulling
‘n fata morgana bly                    

*

Sondagoggend sing
Callas haar liefdesberou
soos daardie Carmen,
die liefde ‘n stiergeveg
met hartstog, haat, dood en rou

(Uit: Ruggespraak. Protea, Pretoria. 2002)

Ek begin lees aan Eben Venter se Groen soos die hemel daarbo (Tafelberg) en lees 'n asemsnakkende mooi passasie oor Japan raak.

Daar is 'n DVD by die Japannese woordeboek wat beteken jy kan in Japan luister na korrekte uitsprake van woorde. Hierdie boek beklee 'n ereplek in my shosai (studeerkamer).

Ek skryf verder in die komende dae oor hierdie rooi woordeboek.

© Joan Hambidge









Resensie | AWS (2017)

$
0
0
AWS– Taalkommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. Pharos, 2017. ISBN 9781868902071.

Resensent: Joan Hambidge

Waar begin 'n mens om so 'n belangrike teks te resenseer? Dit is die 11de omvattend herbewerkte uitgawe - met 'n stieker wat 100 jaar aandui op die titelblad.

By die bekendstelling was Magdaleen Krüger van RSG in gesprek met twee taalkenners. RSG doen geweldig baie om Afrikaans in 'n taalprogram op 'n Sondagoggend by luisteraars uit te bring.

Taalliefhebbers bely dikwels dat hulle woordeboeke of grammatikaboeke lees vir die plesier. Hoe dan anders! Ons kan nie bestaan sonder woordeboeke of aanwysings nie. Die monnikewerk van Ernst F. Kotzé se Afrikaans/Japannese woordeboek (2016) verdien al die erkenning en lofredes denkbaar.

Met die skryf van hierdie bespreking lees ek 'n onderhoud op die Versindaba webwerf waar die onderhoudvoerder praat van "Watter kragtoer!" in plaas van "Wat 'n kragtoer!". Nou sal Gerhard van Huyssteen, 'n goeie rubriekskrywer, waarskynlik meen dis die spreektaal se impak op die meer formele segswyse. Met die bekendstellingsfunksie het hy ook gewys op aanpassings en hoe woorde opgeneem word. (Huidiglik, daardie liederlike Naas Botha-isme, is nog nie aanvaar nie. En dit sal gelukkig ook nie gou gebeur nie, vertel Gerhard van Huyssteen. Taalkenners staan dit teen.)

"Vanself dus wil ons sôre dat ons taal in ieder opsig tot sij reg kom," staan dit opgeteken in die 1917 AWS.

Nou het ons 'n woordelys met meer as 34 000 woorde, 'n bylae (nuwe afdelings oor geldeenhede, Plekname in die Ooste, elemente in die periodieke tabel, die SI-stelsel, o.a.) met nuwe reëls oor leestekens en trappe van vergelyking.

Die handleiding is lesersvriendelik uitgegee.

Die voorwerk (met historiese oorsigte) is goud werd.

Daar word gekyk na 'n paar belangrike (wel ten minste, vir hierdie leser) kwessies. Soos die gravisteken ('n nagmerrie vir die nie-moedertaalskrywer) en leestekens.

En elke dosent se nagmerrie: skryfwyse (los of vas) en jong studente se hebbelikheid om eerder los as vas te skryf. En die komputer word altyd die skuld gegee.

Ons sal hierdie probleem gou kafloop (197). En nie kaf loop nie. (Daar is 'n volledige lys op bladsye 201 - 202).

Dus die hele kwessie van betekenisverdigting.

Wyle Johan Combrink was een van my besielende dosente in die taalkunde aan die US wat belangrike taalreëls so eenvoudig, dog helder kon tuisbring.

Hy het nie taal doodgemaak nie. Inteendeel. Jy kon as letterkunde-student 'n opstel skryf oor 'n letterkundige kwessie wat jy taalkundig moes begrond.

Oor gemoedelik lokale realisme, byvoorbeeld. Of is ek nou gemoedelik-lokaal-realisties?

Modale werkwoorde kry nie 'n ge- nie: Jy het 'n tekening kon maak (226).

'n Mens glimlag lekker vir die begrip McLachlanisme (Tom-die-taalkenner!) op bladsy 175 en ja, die ellipsteken (beletselteken) word met drie stippels aangetoon: ...

Die tameletjie van leenwoorde is ook hier. Ons praat van soesji, geisja of kibboets wat Afrikaans word. Ander woorde behou sowel die "vreemde" as Afrikaanse spelwyse: colloquim of kollokwium; crux of kruks; chronologies of kronologies (237).

Waar ek wel verskil: schadenfreude (leedvermaak of ellende-applous - my woord) of zeitgeist moet eerder met 'n hoofletter geskryf word in navolging van die Duits (236). Bildungsroman (nie bildungsroman) anders lyk dit of jy nie Duits ken nie.

Inkortings gebeur onder die invloed van spreektaal: mezzosopraan word mezzo; palmboom word palm; faksimilee word faks; asseblief word seblief of 'seblief (233).

Goed om te sien daar staan selfdood opgeteken eerder as die aaklige selfmoord (485). Mag ons koerante en boeke dit ook hul eie maak.

'n Ongelede woord is 'n simplekse woord – aldus die handige terminologielys.

Dit is 'n handleiding wat teen grootdoenerigheid gekant is.

Dit is 'n boek wat elke taalpraktisyn, resensent, skrywer, dosent of onderwyser behoort aan te skaf.

Die leser word vinnig van raad bedien.

Iets om oor na te dink: 'n woord uit 'n ander taal wat anders gespel word as in die oorspronklike, kry soms in die informele tekste 'n geurtjie van humor, spot, vermindering, platheid. Soos baisiekel. Of fakala stryt.

Sommige begrippe word net gedeeltelik ver-Afrikaans:

boots en all
fair en square
finish en klaar
gecollar en getie
gepoeier en gepaint (708)

Dit is 'n seksie boek met baie seksies vir die aanhanger van die sekstet of sekstant, wat sektaries is oor skryf.

Verpligte leesstof. En die handleiding werk. Anders as met daardie aanwysingspamflette vir 'n kamera wat jy besef: dis letterlik uit die Japannees vertaal na Engels en hierom maak dit nie sin nie. Dan gaan lees jy maar Ernst se woordeboek.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Resensie | Karina M. Szczurek – The Fifth Mrs Brink (2017)

$
0
0
Resensie | Karina M. Szczurek – The Fifth Mrs Brink. Jonathan Ball, 2017. ISBN 9781868428038

Resensent: Joan Hambidge

Daar was mos eers die Weduwee Viljee en nou die Weduwee Brink, korswel 'n vriend. Hierdie memoir is 'n aangrypende verslag van liefde én verlies. En die impak wat lees en skryf op 'n skrywer se gemoed het.

Die manuskrip het 'n draai gegooi, eers by Penguin en nou by Jonathan Ball. Diegene wat tussen die reëls kan lees, sou in die vele onderhoude en voorafpublisiteit 'n versuurde verhouding opgetel het by 'n uitgewershuis. Maar kom ons laat dit daar. (Soos die interpretasie van die Rabie/Wallace-beurs en die vark en hoenderhen in Philida. Mevrou Brink skets 'n liefdevolle prentjie van haar eggenoot, wat soms nie onwennig kon wees vir 'n katterige obiter dictum nie. Jong skrywers is afgeransel in een paragraaf; die grote Karel Schoeman verniel. Maar sy is kennelik nie ingelig oor 'n lang letterkundige voorgeskiedenis nie. Gaan lees maar Vlam in die sneeu en kyk wat hy oor vriende geskryf het; sidderend erg oor Chris Barnard.)

Die memoir bevat twee foto's van die uitsonderlike fotograaf, Antonia Steyn, wat nou onlangs by die Woordfees skrywers en kunstenaars op tentoonstelling gehad het. Die foto van Karina Brink is weerloos met oë wat afkyk; teenoor die agterbladfoto langs haar minnaar, eggenoot en mentor, André P. Brink. Dit was indertyd op die voorblad van Insig en sy bely haar liefde en bewondering vir hierdie man en maak kwetsende aannames af oor hoe sy hom as 'n "meal ticket" sou sien. Uiteraard is die klein poeletjie van die letterkunde genadeloos en venynig oor 'n verhouding tussen 'n ouer, beroemde man en jong meisie.

Wanneer 'n mens dit as 'n memoir oor verlies benader, is dit 'n besondere teks. En dit is jammer dat dit op die internet as 'n skinderteks bemark word. Dit vertel hoe die sensitiewe jong Poolse meisie verlief raak, haar siening van taal, hoe 'n skrywer wat jy bewonder jou lewe kan verander, die impak van Nadine Gordimer op háár lewe as navorser, ensomeer.

Sy erken haar weerloosheid in die teks en sy bely sonder skroom: "And this is even in the world that is open and free, and the only censorship you are in danger of is your own" (60). Sy wys op die taal van smart ("unknown language", 95) wat jou eie taal onbevoeg maak. Die afdeling Grief is waarskynlik die sterkste afdeling in die boek. "In writing, I'm exorcising the demons of my past" (21) en sy verwys na die nomadiese bestaan: Pole, Oostenryk, VSA, Wallis ... op vlug - om politieke redes aanvanklik; later om verder te studeer. Sy skryf oor haar ouers, hul foute én bates, haar broer, haar lewe in 'n nuwe land sonder haar eggenoot en in 'n huis nou met 'n welige tuin ...

Vriende wat sy gemaak het en die ondersteuningsnetwerk na Brink se dood, kom boeiend aan bod, soos die gesprekke met voormalige Mevrou Brinks en Brink se kinders.

Daar word geskryf oor liefdesverraad na Brink se dood en oor 'n inbraak en motorongeluk. Daar is 'n intense besef dat sy nalatig is weens die trauma.

Niemand is meer bedrewe om agter woorde te skuil as juis 'n skrywer nie (15); tog skil sy die verskillende lae van haar bestaan af vir die leser wat sien hoe sy pyn en verlies navigeer. Met hierdie boek lewer sy bewys dat sy wel kan skryf. Hierdie kritikus was minder entoesiasties oor haar debuutroman, Invisible Others (2004) as hierdie memoir wat in 'n sirkelgang beweeg. Jy weet reeds die man is oorlede en alles stuur af op daardie onafwendbare slot, die dood van Brink op 'n KLM-vlug.

Dit is 'n teks wat saampraat met Clarissa Pinkola Estés se 1992 publikasie Women who Run the the Wolves (kyk hier spesifiek na die ongesnoeide tuin en die gesprek met die dooies.) Wat hierdie boek ook duidelik bewys, is dat herinneringe en 'n sterk verbintenis ná die dood van 'n geliefde bly voortbestaan (The Faithful Gardener: A Wise Tale About that Which Can Never Die, 1996).  Sy skryf immers: "Love and gratitude to those who know the Karina who runs wild with snow leopards."

'n Boek van oorgang en liminaliteite. Letterlik oorgange van ruimtes om bymekaar te wees en later dan die opposisie tussen lewe en dood.

Dit is 'n teks wat 'n mens lees om die eerlikheid en dit behoort vir almal wat in 'n traumatiese aflegging beleef het, van raad te bedien. Daar word gekyk na Brink se siekte en sy gebrek aan selfvertroue teen die einde. En vir die Brink-aanhangers is die teks eweneens van verdere belang. Sy liefde vir lees, sy gewoontes, sjokoholisme, aanhanger van Anna Netrebko word weergegee.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)


Resensie | Douglas Reid Skinner – Liminal (2017)

$
0
0
Resensie | Douglas Reid Skinner – Liminal. uHlanga, 2017. ISBN 978-0-620 -76256-4

Resensent: Joan Hambidge

I

Blue Rivers (2012), Heaven - New Selected Poems (2014) en die vertaling van Valerio Magrelli se verse (saam met Marzo Fazzini) is van hierdie digter se werk die afgelope paar jaar.

Liminal, sy sewende versameling, het pas by uHlanga verskyn.

Dit word bemark as metatekstueel, metikuleus, gevoelvol. Inderdaad. (Announcing/ Liminal, by Douglas Reid Skinner — uHlanga. Besoek 13 Augustus 2017).

Dit is waarskynlik tersaaklik om die hele kwessie van liminaliteit (Van Gennep se term) en die kwessie van die tussentoestand te betrek. Daar is nadenke oor die lewe, oor die digterskap, oor verspeelde kanse - en gedigte oor Venesië. Die reisvers is per definisie 'n gedig oor liminaliteite, omdat dit iets vasvang tussen die bekende en die onbekende; hier versus daar; belewenis én optekening.

In hierdie verband is die lieflike gedigte oor Venesië gewoon skitterend.

Die besinnings oor die skryfproses is onthoubaar:

A poet
... there is an old quarrel between
philosophy and poetry ...

offers no solutions
wrote Tony Hoagland,
just a “lucid diagnosis”.
But what can you do
when you're up to the neck
in a host of words
with only the shadow
of a spade to hand? (51)

Hierdie slim ars poetica aktiveer nie alleen Hoagland se sieninge oor kanonisering en hoe gedigte by jong mense uitgebring behoort te word nie, maar betrek ook die harde werk wat die digkuns opeis. Dis soos spitwerk, met die keuses wat die digter moet uitoefen voor al die moontlikhede wat tegniek en woorde inhou. Die digkuns mag 'n filosofiese boodskap oordra, maar die werk van die digter is “spitwerk”, met ander woorde, die soeke na konkrete beelde of metafore - “of a spade to hand”. (Conversation/ Tony Hoagland on 'Poems That Could Save America' | PBS NewsHour. Besoek 13 Augustus 2017).

Die gedigte is inderdaad ruminasies of meditasies or die lewe - binne die grensruimte (die vreemde of tydens die skryfproses) neem die digter afstand van die lewe. 'n Drumpeltoestand, dus.

In “Twenty years on” (39) word 'n besoek aan Venesië weergegee:

to pause, raise a glass, and remember poetry's cause.

II

Die boek val in vier dele uiteen. Daar is 'n besoek aan 'n biblioteek, 'n brief aan Dante en Robert Frost - opgedra aan Patrick Cullinan, self 'n gedurfde digter. Reid Skinner gebruik van die beeld van die “path”, 'n belangrike beeld by sowel Dante as Frost, word hier 'n soeke na helderheid vir die spreker. “Surrounded by mountains” word opgedra aan Gus Ferguson, geskryf tydens die Franschhoek-fees, 'n soort villanelle (18 reëls, nie 19 nie) met die “haunting” reël:

a plume of smoke is rising into cloud (17)

Wat is meer dralerig en verganklik as rook? En wat dui ook op die aanduiding van gevaar of vuur? Dit word 'n pynlike analise van 'n vriendskap, en lesers bekend met die werklike geskiedenis weet met welke sensitiwiteit (en deernis) hierdie situasie beskryf word.

“Winding tunnels” handel oor die jeug en daar is al verstommende verse oor hierdie digter se gereglementeerde jeug geskryf: 'n hele huis met weermag-aanwysings en kinders wat punte toegeken is vir hulle optredes. Hier gaan dit oor die “uncertain shades of home”, die troebelhede van 'n bestaan wat die jong kind oorrompel het en waarheen dit digter nou terugkeer in verse.

Die verse gee nie maklik hul geheime prys nie. Dit is vernuftig gekonstrueer, vanuit verskillende perspektiewe. Daar is dikwels 'n “irony's edge” - soos Linda Hutcheon [1] se term lui - aanwesig in hierdie verse.

Vir haar is ironie nie om die teenoorgestelde te uiter van wat jy bedoel nie, maar eerder 'n komplekse spel tussen die ongesêde en die gesêde; afstandneem en in-beweeg - iets wat op Reid Skinner se bundel van toepassing gemaak kan word.

My kopie wat voete gekry het en as ek reg onthou, het hierdie studie 'n pragtige omslag van 'n meisietjie se voete wat oor 'n afgrond hang. “Ludwig's last letter” (28) vang hiervan iets op:

a village of thought on a summer's day,
with ordinary ideas sitting quietly
in the square, or leisurely walking
along its paved diagonals, going
steadily about their business.

Dikwels handel verse oor soeke na oplossings, na 'n roete (“straight road”) wat die spreker moet help om te ontsnap. Daar is vele besinnings oor die digproses en die sterkste verse is dan gedigte oor digters, vir digters en oor die rol wat die digkuns speel in sy eie lewe.

In die derde afdeling is daar “Instructions for writing a poem” (47), 'n slim meta-vers, wat die digter droom. Die droom verskil van die finale produk. Daar op die “edge of the bed” dink hy dat hy in beheer van die skryfproses is, maar uiteindelik is die vers se “unheimliche” aard só dat dit nie “beheer” of “gedikteer” kan word nie. Hierom sluit dit aan by die gedig: “If you think you know how to write a poem, think again: the poem has other ideas” (49).

Die gegewe van obsessionele liefde (selfs “stalking”) word hier gelyk gestel aan die skryfproses ...

Dikwels is die skryfproses oorweldigend (die skrywer sit voor leë bladsye); ander kere word dit “found poetry” of 'n “urban legend” wat die luisterende digter optel in 'n kroeg.

In die vierde en laaste afdeling word sosiale kwessies aangespreek en politieke en historiese figure, soos Lady Anne Barnard. “History is a slaughterhouse” (63), weet ons.

Die “being inside” teenoor die oorrompelende geskiedenis, word voortreflik beskryf in “Smoke signals” (66).

Die digter kyk dikwels terug na sy jeug, sy land sy verlede - maar die gedigte is opwindende raaisels: iewers tussen nou en toe; droom en realiteit; begeerte en ontnugtering ...

III 

Reid Skinner is woonagtig in Engeland, maar diep betrokke by die Suid-Afrikaanse Engelse digkuns. Hy was betrokke by die Carrefour Press (1988 - 1992), redakteur van New Contrast en tans mede-redakteur van Stanzas. Hy vertaal ook Afrikaanse digters na Engels en as redakteur is hy voortdurend bewus van “nuwe stemme” en “nuwe strominge”. (Woorde wat Weeg/ Joan Hambidge - Lady Gaga (Translated by Douglas Reid Skinner) [Poem].  Besoek 13 Augustus 2017).

Ook hierdie dubbelposisie (digter/redakteur; Engeland/Suid-Afrika) is 'n liminale posisie.

Die bundel is mooi uitgegee met 'n voorbladontwerp van die digter se suster, Cleone Cull.

[1] Hutcheon, Linda. 1994. Irony’s Edge: The Theory and Politics of Irony. London and New York: Routledge.


Resensie | Cas Wepener – Die reis gaan inwaarts: Die kuns van sterwe in kreatiewe werke van Karel Schoeman (2017)

$
0
0
Cas Wepener– Die reis gaan inwaarts: Die kuns van sterwe in kreatiewe werke van Karel Schoeman. SUN Media, 2017. ISBN 9781928355144

Resensent: Joan Hambidge

I
Karel Schoeman is een van Afrikaans se bakens.

Sy selfdood vroeër het wye reaksie in die media ontlok en opnuut bevestig hoe belangrik hy geag word deur sowel gewone lesers as letterkundiges. Selfs diegene wat hom nooit ontmoet het nie, was deur sy dood geraak. En die outeur van hierdie studie het die skrywer vroegtydig in kennis gestel van die studie en haal uit sy e-pos aan van 29 April. Op 1 Mei 2017 is hy oorlede.

As historiese navorser en romanskrywer het hy geen gelyke wat produktiteit, diepte en stilistiese beheer betref nie. Min skrywers het so ‘n groot oeuvre nagelaat en die navorser Cas Wepener se studie is van waarde vir alle Schoeman-lesers. H.P. van Coller wys tereg op die rol van die noodlot, historiese kragte en verganklikheid in die mens se lewe wat Schoeman ondersoek.

Wepener se studie – as teoloog en gedragswetenskaplike – gee ‘n teoretiese perspektief op die betekenis van dood in Schoeman se romans. Die studie beslaan 233 bladsye, is teoreties gefundeer en soos Willie Burger opmerk in die Voorwoord, vermy Wepener ‘n instrumentalistiese benadering tot Schoeman se komplekse tekste, juis omdat hy die onbekende en onvaspenbare erken. Burger beklemtoon tereg hoe Schoeman jou in sy tekste intrek; dit maak ‘n inwaartse reis moontlik. Inderdaad dwing dit jou tot selfkonfrontasie met ‘n ritme wat ‘n mandala word (vii).

Met instrumentalisties verwys Burger na Derek Attridge se studie The Singularity of Literature van 2004 waar hierdie term beteken dat ‘n mens ‘n teks benader met ‘n voorafbepaalde doel.

Daar is passasies in ‘n Schoeman-roman wat hierdie leser van buite ken. ‘n Mens lees hierdie romans – wat nie plot-gedrewe is nie – agter die tekstuur aan. Jy kan dikwels nie ‘n finale, vaspenbare betekenis gee nie; maar passasies bly altyd in jou draal en nawerk.

II
Die boek beslaan 7 hoofstukke. In die eerste hoofstuk word die kuns van sterwe in die oeuvre ondersoek. In die tweede hoofstuk word daar gekyk na oorgangsrituele, “dominees” en die dood, terwyl die derde hoofstuk kyk na die twee dominees en Meester in ‘n Lug vol helder wolke. In die vierde hoofstuk word Pastoor August Scheffler in ‘n Ander land ondersoek. In die voortreflike Die uur van die engel(my gunsteling Schoeman-roman naas Op ‘n eiland), word Dominee Theophilus Heyns en Danie Steenkamp beskou. In die sesde hoofstuk is daar nog vier stemme en die sewende hoofstuk bespreek  die kern van die kriterium.

III
Van ons grootste literatore het oor hierdie romanskrywer boeiende en uitgebreide studies geskryf en daar word in gesprek getree met die reeds genoemde Willie Burger, Van Coller, Gert Jooste, J.C. Kannemeyer, Henriette Roos, Gerrit Olivier, Helize van Vuuren, Chris van der Merwe en Louise Viljoen. Vir hierdie leser was die outeur se analise van die viatikum boeiend. Die Romeine het ‘n muntstuk geplaas in die persoon se mond wanneer hy sterf sodat hy die bootsman Charon kon betaal. Christene, egter, het geglo dat gestorwe gelowiges na God gaan en hierom is die muntstuk vervang met die toediening van die Nagmaal net voordat die persoon sterf. Hierdie vermenging van kultus en kultuur word in die Liturgiewetenskap “liturgiese inkulturasies” genoem (voetnoot bladsy 3).

Baie belangrike inligting word vir verdere navorsing weergegee, soos die voetnoot op bladsy 160 wat handel oor die opgehefde hand wat telkens op verskeie wyses terugkeer in Die uur van die engel.

Hierdie studie kan breedweg beskou word as ‘n teks wat sowel tot die teologie as die letterkundige studie behoort. Enersyds die ars moriendi dan met verwysings na die rituele kritiek (o.a. van Ronald Grimes, Catherine Bell, Elizabeth Kübler-Ross, o.a.); andersyds tree dit in gesprek met bekende letterkundige tekste oor die werk van Schoeman. Daar is ook teologiese insette en die sosiale wetenskappe (Kulturele Antropologie en Rituele Studies). So beskou is dit ‘n multi-dissiplinêre studie.

Grimes se inventarisasie van dodesrites (42 – 43) is van groot waarde vir die ontsluiting van enige teks wat oor die dood handel:

antisipering van die dood
segregasie, onderhouding van taboes
rou
markering van die einde van die routyd
beskerming van oorlewendes van die dood
publisering of aankondiging van die dood
saamkom, troos
wys van dankbaarheid, respek, of simpatie
demonstrering van ‘kinship’ of status en die versekering van opvolging
dramatisering van die dood se finaliteit
handhawing van of herstel van die sosiale orde na die dood
ontkenning van die dood se finaliteit
loslating van, integrering, omhelsing van die dood se finaliteit
herdenking

“In die Afrikaanse prosa was daar baie strominge. Ons het die Sestigers gehad, en die tagtigers; daar was die moderniste en die post-moderniste; en dan was daar Karel Schoeman’, aldus Chris van der Merwe.

Hierdie opmerking is relevant – want die enorme posisie van Karel Schoeman val nie te betwyfel nie. Die verskillende reaksies in die pers en op die internet het dit deeglik bewys Wepener is ‘n fyn leser. Hy bekyk die novisiaat (die probasie of internskap) en Schoeman se lewe in kloosters. Sy bemoeienis met die landskap van die dood is dan ook ingegee deur sy blootstelling aan die lot van mense (14 – 15).

Soos wat die Die laaste Afrikaanse boek‘n vermenging van genres is, kan ‘n mens Wepener se studie ook lees as ‘n versmelting van nadenke oor die dood, ritualiteit, die skrywer se outobiografie, kreatiewe tekste, historiese tekste, en die Boeddhisme. Schoeman het Rob Nairn vertaal as ‘n Stil gemoed.

Hy betrek eweneens dominee-portrette as bron (52) en hierdie visuele data en kerklike kodes demonstreer hoe fyn Wepener lees via Susan Sontag se On photography en Roland Barthes se Camera lucida.

By sy lees van tekste, soos ‘n Lug vol helder wolke, betrek hy vele kritiese response op die teks en wys hy tereg op J.M. Coetzee se siening van die roman as ‘n moderne plaasroman. Religieuse konsepte word bespreek in ‘n voetnoot (81), eweneens tersaaklik vir die leser van ‘n Schoeman-roman. Wanneer ‘n mens hierdie studie lees, raak jy opnuut knorrig oor Marius Crous se fatale en banale interpretasie van ‘n Ander land:
Hierdie sterwenstoneel is ’n voorspooksel van Versluis se eie komende einde. Die toneel is in die eerste instansie ’n vermensliking van Versluis en dan ’n seksualisering. In aansluiting by Denisoff (1994:70) kan die liggaam van die sterwende man ook gelees word as ’n falliese objek wat sy finale orgasme belewe voor die dood en die “bloederige skuim op die lippe” kan die semen suggereer. (Tussen mans: ’n Perspektief op homososiale begeerte in Karel Schoeman se ’n Ander land | Marius CrousBesoek 25 Augustus 2017). 
In ‘n voetnoot verskil Wepener tereg (100) en wys op die feit dat ons hier ‘n teringlyer het wat sterf in die arms van ‘n landgenoot. Hier het ‘n mens dus ‘n bewys van wat Attridge bedoel met ‘n instrumentalistiese lesing, omdat Crous ‘n templaat op die komplekse teks afdruk wat die teks verminder.

Een van die grootste pluspunte van hierdie studie is dat dit leser veral met voetnote teologies oplei. O.a. oor die epikletiese struktuur (136). Die epiklesegebed in die Protestantse liturgie is die gebed net voor die Skriflesing en staan bekend as die gebed om die verligting deur die Heilige Gees.

In die reeds bekende onderhoud met Gerrit Olivier (opgeneem in Sluiswagter by die dam van stemme, 2002) bely Schoeman dat hy nie die dood vrees nie. Hy haal ook Van Wyk Louw aan:

Mooi is die lewe en die dood is mooi
(“Nog in my laaste woorde”)

In die agtergrond is daar ‘n plaashek … ‘n beeld van oorgang, liminaliteit. Sterwe is iets waarmee jy lewenslank besig is … (113)

Dis ‘n boek vir alle Schoeman-lesers. Dis baie goed nagevors en uiters leersaam.


Resensie | Corné Coetzee – nou hier (2017)

$
0
0
Resensie | Corné Coetzee – nou hier. Human & Rousseau, 2017. ISBN-13 780798176200

Resensent. Joan Hambidge

Om in die oomblik te wees. Die hier-en-nou. Waarskynlik vir die Westerling die moeilikste eis denkbaar. Of ons verlang nostalgies terug na wat was; of ons hoop dat môre ’n beter dag sal wees, en so glip die oomblik tussen ons vingers deur. En dit is hierdie spanning wat die Tibettaanse boek van die dood behandel (van die 8ste eeu alreeds met ons), wat Corné Coetzee in haar eenvoudige, dog ryk verse ontgin. Eenvoudig, oop, maar nie simplisties nie!

Ons weet immers (via William Blake) dat die eenvoudigste verse die grootste diepte kan verraai.

Die motto is uit Karel Schoeman se vertaling van ’n Ierse vers, te wete die “Die oggendgesang van St. Ceallach”:

Wees gegroet, skone oggend, wat soos ’n vlam oor die aarde val

Die eerste afdeling, “Nymphae gloriosa”, is nie toevallig nie. ’n Mens sien veral hierdie waterlelies in die Ooste en die bundel sluit met ’n reeks oor Siddharta.

Boonop moet dooie blomme gereeld verwyder word van dié lelies wat in die winter dormant bly.

Die digter bedien haar van ironie, en in die openingsvers (“Bruide kyk”) is daar alreeds ’n ontnugtering aantoonbaar: Hoekom huil die vrouens? ’n Mens dink hier onwillekeurig aan Rachelle Greeff se Die rugkant van die bruid wat eweneens die pynlike verkilling registreer: die huwelik of die jong meisie droom wat nie “waar” is nie. Hierdie bundel registreer dan die droom wat langsamerhand uitloop op ontnugtering, roerend beskryf in “Oktobermaand se bruide”:

By die hek begin November se giftige maanblomme
soos engele met swaarde knop maak.

En hierdie “vernugteringe” en “on-waarhede” word in gedig ná gedig aan die kaak gestel – sonder ’n omhaal van woorde. Soms praat sy via Antjie Krog (soos in “aljanderbos”); ander kere, soos in “Kombuis”, is daar ’n Eybers-aanslag. (Die vers vra ’n saamlees met “Huisvrou”, ’n vers deur vele vrouedigters al geparodieer.)

Die lot van vroue: verkragting, desillusie in huwelike en ontkenning, word sober en sterk aangespreek.

Die oos-wes-tuis-bes-gegewe word op sy kop gekeer.

Coetzee is die meester van die wrang slot en in “Moenie mors nie” (69) word die netjiese moeder teenstellend in die herinnering geroep:

het ma nou rus vir ma se siel
alles ordelik, spiksplinterskoon
die baldadige wurms eindelik weg
elke been bedees op sy plek

In die slotreeks, “Die leemte in die kern”, gee sy ’n beeld van die lewensloop van Siddharta Boeddha en uit die oogpunt van sy moeder en vader. Daar is ook ’n vers van Jasju, sy vrou wat ’n volgeling word. Die moeder se kontrak is een van “been en bloed” en ons vind onthoubare reëls soos: Die pyn klou soos ’n kind om my nek (93).

Die vers oor Tenzin Palmo is lieflik. ’n Mens kan waarskynlik nie na ’n vers oor die Boeddha kyk sonder om Keanu Reeves in herinnering te roep uit die rolprent Little Buddha van Bernardo Bertolucci (1993) nie.

Hierdie uitstekende reeks maak die leser bewus van hoe fyn die bundel werk met tyd. Nou-hier, toe/dan. In “Besoek” word die ouer op ’n Sondagmiddag in ’n ouetehuis besoek:

Op die bedkas die verslete
Bybel en die Westclox.
Dié steek vas op halfses,
winterskemeruur.

’n Gedig dra ook die titel-tyd, en onderafdelings (soos “Hierdie tyd”, “Saadskiet”) aktiveer die gang van sake; soos die beeldverse oor Siddharta reïnkarnasie impliseer.

Die kritikus M.L. Rosenthal het op ’n dag beweer dat belydenis­poësie met lyding (“suffering”) te make het. Hierom is dit vreemd dat Coetzee in ’n nawoord ontken dat die gedigte outobiografies is en in die geval van die Siddharta-verse nie biografies nie. Ironies genoeg bevestig sy dalk juis hiermee die teenoorgestelde?

Dit is ’n besonderse debuut – met gedigte wat jou soms ontstig en aan die keel gryp oor die eerlikheid daarvan, soos in die brutaal eerlike “Ons ken mekaar se holtes”. Woorde wat wapens word; huweliksmaats wat mekaar ongesiens (ongehoords!) kan beseer tussen ander.

Die digter is behendig. Sy het die vermoë om ’n slot te skryf wat jou soos ’n vuishou tref. Die bundel lewer skerp gender-kommentaar en sosiale kommentaar (“Gaia” en “Platipuspaddas”, waar die menslike kondisie via paddas beskryf word).

Die refrein van eensaamheid, van verdriet, van buite die orde leef, kom in vers ná vers aan bod:

Hoe sal ons ons gang gaan
so troosteloos en sonder siddering?

Ek het begin met ’n verwysing na die spanning tussen Oosterse en Westerse denke. In “Jogaklas” word hierdie binariteite goed vasgevat in die slot:

’n Ongegronde, aardwye droefheid.
Ek het nie eens ’n kleinkind nie.
Ná die laaste ohm
voel ek beter,
ry huis toe
en weerstandloos
klik ek skakelaars
vir ligte, TV, maal,
voor warm bad en bed.

Hierdie bundel het dieselfde eerlikheid, oopheid en weggesteekte verwysings as Jeanne Goosen se onbesonge, beeldskone Elders aan diens (Genugtig!, 2007).

Die voorblad van Nou, hier is baie slim: die suburbia-huisies en bo in die wolke die Boeddha wat bo alles sweef. Dié Coetzee-digter máák magic, soos sy iewers skryf:

Hoogsomer

Wat sou ons gemaak het
as ons geweet het,
daardie volmaakte Februariemiddag,
dat die laaste vy ryp geword het
en die eerste blaar
sel vir sel sy skeidingslaag begin bou het?
’n Mens is tog geen vyeboom nie
’n Mens kon tog plan gemaak het

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)


Polemies | Van den Vos der Caskenades

$
0
0
I
 
Op Saterdagaand lees ek op Versindaba dat Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte (Lux Verbi) deur Cas Vos saamgestel is. Boonop word my van as Hambridge aangegee en die webpamflet weet te vertelle dat daar ook nuwe verse spesiaal vir die bloemlesing geskryf is.

Maar behalwe nou vir die rare naamvergissing (wat die uitgewer Lux Verbi wel regstel op die advertensiebiljet na 'n foonoproep), is die eintlike kwessie dat ek vir die eerste keer van die bloemlesing te hore kom op die Versindaba webruimte. In al die dertig jaar plus wat ek by NB publiseer, was daar nog altyd die hoflikheidsgebaar om toestemming van skrywers te vra. (Skrywerskontrakte bepaal dat die uitgewer tekste in ander publikasies mag oordruk sonder toestemming van die skrywers, en Lux Verbi is deel van NB.)

Vir Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte met Fanie Olivier as samesteller, het digters ‘n brief ontvang. Vir skoolboeke altyd ‘n e-pos. Wanneer kleiner uitgewers my nader, veral vir skoolboeke, gee ek graag toestemming. Sonder betaling.

Soos my vriend Werner altoos Robert Graves aanhaal: “There's no money in poetry, but there's no poetry in money, either.”

Lux Verbi se terugkrabbeling dat digters betaal sal word, is nie my hoofbeswaar nie.

'n Digter bestuur sy of haar werk. Jy het - volgens my - die reg om te weet dat jou gedigte "gebruik" gaan word. 'n Gedig binne bundelverband het 'n ander betekenis as wanneer dit opgeneem word in 'n Lux Verbi-bloemlesing.

Die titel was glo eers Die mooiste Afrikaanse geestelike gedigte wat waarskynlik minder problematies is as die huidige titel, Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte. En daar is, soos ons weet, 'n groot verskil tussen Christelik en geestelik.

Die nuwe titel maak opnames van M.M. Walters, Wilma Stockenström en Daniel Hugo problematies. Laasgenoemde bely op Versindaba dat hy ja gesê het vir opname onder die vroeër titel met ‘n geestelike inslag, maar nie Christelik nie. Hy skryf:
Ek het gedigte tot hierdie bloemlesing bygedra toe die werkstitel nog was: “Die mooiste Geestelike gedigte in Afrikaans”. By publikasie blyk dit nou dat die “Geestelik” in “Christelik” verander is. Ek voel mislei deur die samesteller en uitgewer, aangesien ek myself beslis nie as ‘n Christelike digter beskou nie. (Nuwe publikasie/ Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte Bloemlesing. Besoek 24 Augustus 2017). 
II
Wat sake verder kompliseer, is wanneer 'n mens Cas Vos se Voorwoord lees. (En nota bene, N.P. van Wyk Louw word in die register onder Van Wyk Louw geplaas en nie onder Louw nie. Maar dit net tersyde.) Vos verwys na Orhan Pamuk se bekende “My father’s suitcase” (2007), sy Nobellesing, om sy keuse te regverdig as "Landskap van die reis". Pamuk se uiters komplekse voordrag verloor hier resonansie. (Orhan Pamuk - Nobel Lecture/ My Father´s Suitcase. Besoek 24 Augustus 2017).

Vos se uitasem-voorwoord is so aanvegbaar dat 'n mens nie weet waar om te begin nie. Hoe enige kundige leser Wilma Stockenström se “Die ballade van die bitterarm dood” en “So ook maar maaksel” as Christelik kan lees, is verbysterend. M.M. Walters, I kid you not, staan ook hier!

D.J. Opperman se “Paddas” is eweneens opgeneem:  Ek haal Vos daaroor aan:
D.J. Opperman se voortreflike gedig 'Paddas' handel oor die plae in Egipte: meer spesifiek, oor die stortvloed reën wat die 'tortels van die modder' oral laat toeslaan, van sloot tot kombuis. Hulle staan in God se diens om sy volk te bevry. Daarom roep hulle 'op Hom die groot hosannas'.
Olga Kirsch se opname word verdedig, o.a., omdat die Ou Testament ook ‘n boek vir en van die Christen is (17). Hoe klop dit egter met die titel van die bloemlesing?

En skryf hy verder: al is al die gedigte nie streng gesproke Christelik nie, is dit weldeeglik versoenbaar met Christelike oortuigings.

Die feit dat Pasolini ‘n film oor Jesus gemaak het, maak nog lank nie van hom ’n Christen nie,

Ons Boeddhis Breytenbach staan ook in die inleiding (al is daar nie 'n gedig opgeneem nie), soos ook Ernst van Heerden se siektevers “Aan die verhuisingsmanne”.

Die finale gevoel wat hierdie bundel laat, is dat die samesteller enigiets in hierdie groot soetkys sal insmyt. Van 'n tandeborsel tot sunlight-seep. Ou klere tot nuwes. Lina Spies en Loftus Marais.

“Op ons reis is ons nie alleen nie. God is met ons op pad na die nuwe Jerusalem”, skryf hy.

Gaan plaas hierdie bloemlesing neffens C.J.M. Nienaber en M. Nienaber-Luitingh se Die braambos brand(1987) en F.I. J. van Rensburg se Jubilate! Loofgedigte inAfrikaans(1995) en dan wonder ‘n mens oor die doelstelling van hierdie antologie.

Is daar werklik kundig gelees en nagedink?

Bernard Odendaal en Marlies Taljard het van raad bedien. Het hulle die finale manuskrip gesien? En die nota van die uitgewer dat hulle probeer het om almal op te spoor, maar dit was nie moontlik nie? In die dae van e-pos, Facebook en telefone?

Ek is tans besig met 'n bloemlesing Vreemde liefde oor lesbiese verse en ek dink ek gaan een van Cas Vos se verse opneem. Uiteraard sonder toestemming. So laat ons nie jakkalsdraaie gooi of vosserig raak nie, 'n Christelike gedig is nie net sommer 'n gedig wat geloof aanspreek of dit kritiseer nie.

En om te kumbaya met komplimente soos "voortreflik" help gewis nie om 'n slordige, oorhaastige keuse te regverdig nie.


Marga Stoffer, NB se uitgewersbestuurder, reageer namens Lux Verbi:

N.a.v. die kwessie oor toestemming: Sommige digters is genader om toestemming te verleen, maar ons het nie vir almal toestemming gevra nie. Soos Joan noem, is dit nie ’n vereiste nie maar ’n hoflikheidsgebaar om dit te doen in die gevalle waar NB (waarvan Lux Verbi deel is) die regte bestuur.

Ek vra dus om verskoning dat ons nie vir almal toestemming gevra het nie. En ja, ten spyte van e-pos, Facebook en selfone was daar inderdaad enkele digters en/of digters se erfgename wat ons nie kon bereik nie of van wie ons geen reaksie ontvang het nie.

Ek is reeds in Rapport aangehaal oor die titelverandering en herhaal: Die werkstitel was aanvanklik Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte, ons het ’n ruk lank met die werkstitel Die mooiste geestelike gedigte in Afrikaans gewerk, en toe het ons teruggegaan na die oorspronklike titel.

Lux Verbi (met sy lang en trotse tradisie as Christelike uitgewer) het beslis nooit beplan om enigiemand met ’n slapriem te vang om teen hulle sin in ’n Christelike werk opgeneem te word nie.

Dit is, dink ek, relevant om op rekord te stel dat twee letterkundiges die finale samestelling noukeurig beoordeel het. Hulle het ook verdere gedigte voorgestel en dié gedigte is toe inderdaad ook in die bloemlesing opgeneem. 

© Joan Hambidge


 (Hierdie rubriek word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)


Resensie | Bibi Slippers & Charl-Pierre Naudé (samest.) - Nuwe stemme 6 (2017)

$
0
0
Bibi Slippers en Charl-Pierre Naudé (samest.) - Nuwe stemme 6.Tafelberg, 2017. ISBN-13: 9780624082644

Resensent: Joan Hambidge

I

Nuwe stemme is alreeds ’n tradisie binne ons letterkunde en nommer 6 het sopas verskyn onder die redakteurskap van Bibi Slippers en Charl-Pierre Naudé. ’n Mens dink hier aan digters uit hierdie reeks wat tot dusver hul debuut gemaak het: Gilbert Gibson, Kirby van der Merwe, Tom Dreyer, Loftus Marais en Ronelda Kamfer - om enkele name te noem. Tom Dreyer is deesdae eerder prosaskrywer as digter.

Dan is daar digters wat hier gedebuteer het - soos Thérèse Bartman of Renée Marais - wat jammer genoeg nooit weer van hulle laat hoor het nie.

Die rooi voorblad verwys na die voriges: deurgetrek (sous rature/ under erasure) in navolging van die filosoof Jacques Derrida, waar die teken of woord behou word, maar ook uitgewis word.

Ek is gaande oor debuutbundels. Daardie wonderbaarlike “eerste” geluid wat later verder ontwikkel, of dalk nie. Gert Vlok Nel het nooit verder beweeg nie en ’n mens kan in Afrikaans al ’n lang lys maak van o-wat-het-geword-van-daardie-digter.

Nuwe stemme skep ’n geleentheid vir die jong digter wat nog nie genoeg verse het vir ’n solo-bundel nie. Dit mag ook so wees dat die digter se aanslag of styl afwyk of nuut/anders is. Lesers raak dan met Nuwe stemme gewoond aan die styl. Dink maar net hoe vreemd of “anders” was Hilda Smits se eerste gedigte in Nuwe stemme 5.

Maar nuut moet ook nie te maklik verwar word met vernuwend nie. Baie min digters kan werklik die kanon op sy kop keer. Ons dink hier aan die skerp resensie van H.J. Snyman oor hierdie reeks, ’n paar jaar gelede, toe hy krities was oor die ooraanbod van die term “nuutheid”. Jong digters dink dikwels hul truuks is nuut - dan is dit reeds gedoen.


II

As dosent in kreatiewe skryfwerk is dit altyd verblydend om nóg nuwe stemme te ontdek. Nuut dan as nog nooit voorheen gehoor of gelees nie. Van hierdie bundel herken ek byvoorbeeld Marthé McLoud, Anton Döckel en Franco Colin se name.

Watter tendense en temas tref ’n mens in hierdie bundel aan?

Verlange en stilte:

Tematies is daar verlange na die heimat, aangrypend vertolk deur Donnay Torr (“Verlange het nie ’n GPS nie ...”, 46) waar sy vanuit Sydney as vryskut werk. Haar gedigte is vars, omdat sy in die bevryde Australiese wêreld kan terugkyk op Afrikaans. Haar gedig oor die klitoris “’n Halfduim ekstra”, 44) is heerlik speels en lekker. Die klitoris is nie meer 'n klein penis nie, maar eerder ’n omgekeerde V-formasie met twee “arms”. ’n Digter met ’n melancholiese aanslag en skerp beelde.

Marthé McLoud

Die liggaam as teks: betreding

Lyflikheid, liggaamlikheid, betreding kom aan bod in Marthé Mc Loud se pynlik herinneringsverse wat ’n mens juis tref in die onderstelling eerder as te veel uitsegging. In “Biologieklas” (130) word seksuele ontwaking subtiel beskryf met die breek van ’n fles met flitsende tong van ’n slang ...

“Terugblik” (134) waar die moeder haarself as “geknoeide breiwerk sonder ’n patroon” sien bly lank in die gemoed draal.  

Elodi Troskie

Elodi Troskie is net negentien jaar oud, maar sy skryf met ’n vaste hand:

dis 2017 en almal dra chokers 

daar is meisies in my klas wat nog
nooit iemand gesoen het nie en daar is
meisies wat al kinders het en ek ken ouens
met sleeve tattoos en ander ouens wat te bang is
om gaatjies in hul ore te skiet en voor my sit
’n kringleier van die kerk en agter my
sit iemand wat haarself naweke ’n paaldanser
noem (omdat sy wil of omdat
sy moet – dit betaal darem haar huur)
en sy lyk altyd so gelukkig want dis 2017 en
almal dra chokers
alles is okay solank jy dit kan regkry om kuns te maak
uit ’n droë maandagoggend dis 2017
en as iemand oor ’n honderd jaar ’n foto
van ons moet sien sal hulle geen
idee hê waarmee ons besig is nie
en ek wonder of hulle my instagram-foto
van ’n filterkoffie so romanties sal vind soos ek
oor ’n verbleikte foto uit die 1950’s voel
en of hulle net sal weet dat als okay is
want dis maandag en ek dra
my nuwe choker en sit langs
die ou met die spul tattoos en my oor brand want
ek het nog ’n gaatjie laat inskiet

Sy registreer in haar gedigte pyn, verlange en onvervuldheid. Sy is die waarnemer van haar ouers se verhouding met die wete dat die pa wat geld tel, die een is wie se voorletters sy vind in Groot Verseboek, eerder as die kunssinnige moeder.

Wanneer ’n mens hierdie bloemlesing lees, raak ’n mens bewus van ontnugtering op soveel vlakke, van die gesin wat gebroke is, van drome wat aan skerwe lê. Onvervulling/teleurstelling is immers die digkuns se sterkste dryfvere.

Intertekste:
Vele van hierdie digters tree met die kanon in gesprek. Digters soos George Weideman en Riël Franzsen (Narokkong) word by die naam genoem.

Groot Verseboek staan opgeskryf in hierdie antologie.

Trudie Coetzee

Trudie Coetzee se “Ek is” (161)  wals met Antjie Krog en Loftus Marais se woede-verse.

Franco Colin se vers handel oor Jean-Michel Basquiat se Untitled (Skull)van 1981. Amerikaanse punk of anti-kultuur, is deur hierdie graffiti kunstenaar verhef tot ’n erkende kunsvorm. Die hype rondom sy werk het waarskynlik gelei tot sy dwelmoordosis in 1988. In “Kopkring” word die gesprek met Picasso uitgewys en word hy inderdaad gesien as ’n “gekreoliseerde verbeelding”. Die gedig eindig met ’n sterk slot:

Kykleser: hier moet jy kophou
in die oogpoëtiek se kopkring (82).

’n Skildery van hierdie kunstenaar het vir meer as $110 miljoen verkoop.

Die besondere gedig analiseer die harlaboerla of rumoer rondom kuns (van die Venus van Villendorf tot by Picasso en Warhol) wat dikwels niks met die werklikheid te make het nie.

Gedigte en skilderye ontspruit uit ’n “skepkring” van ander kunstenaars en tradisies en die leser moet al hierdie gesprekke raaklees.

Erentia Bedeker

Erentia Bedeker woeker slim met intertekste in die gedig “Hart van Orkenise” (75) waar sy in gesprek tree met Apollinaire. Landskap word oopgemaak om die “fantoompyne van begeerte” aan die leser oor te dra.

Sy skryf:

Vanaand sal ek die aandster
teen my mond smoor
en die tuin alleen natlei (78)

Anton Döckel speel in op Van Wyk Louw se “Ars poetica” in ’n pragvers oor sy ma se vingers (“Ma se vingers”, 30). Inderdaad, van watter Louws was hy, artikuleer die ma se onbegrip oor wat die digter impliseer.

Annami Mailovich

“skaamparadys” (25) van Annami Mailovich aktiveer en ironiseer Jan Rabie se kaalkoppe in ’n aweregse liefdesgedig.

Ekfrastiese verse:
Jaco van der Merwe skryf verse wat inspeel op foto’s (geneem deur Wikus de Wet). Onthutsende gedigte waar die foto ’n disjunksie vorm tussen die praatvers met sy assosiasies van brannas tot ref. En ’n analise van die “sterflikheidsvibe” (107). Van Facebook tot die werklikheid tot die foto en terug. Verse wat vrae vra oor politiek en representasie. Ironies. Snaaks. Vervreemdend. Van oog vir oog tot noot vir noot; ink vir jok, lees ons.

Remona Voges

Remona Voges tree in gesprek met Frida Kahlo wat nuwe wendings gee aan hierdie kunstenaar se werk.

Standaard-Afrikaans en talle ander vorme van Afrikaans soos Kaaps of die insmokkel van Engelse woorde:
Churchill Naudé se “onse vaders” (38) ondermyn standaard-Afrikaans:

onse vaders wat soe syp
oppie hoekkie wat soe syp
oppie boekkie wat wil man raak ...

Churchill Naudé

Die digter is ’n kletsrymer van die Kaapse vlakte en sy debuutalbum heet Kroeskop vol geraas. Hy het ook saam met Anton Goosen ’n nuwe weergawe gemaak van “Boy van die suburbs”.

Die gedigte lewer sosiale kommentaar.

Vrye verse en praatverse:
Ons vind hier ’n aansluiting by die loslitvers, die praatvers, die assosiatiewe vers eerder as die vormvaste gedig. Elmarie Viljoen-Massyn skryf wel haikoes, ofskoon dit nie rasegte Japannese haikoes is nie.

Ryan Pedro se “as kanye ’n digter was” (159) is ’n vers vir die verhoog. Die digter wonder:

die kanon
en waarom die swart afrikaanse digter dit steeds met ’n valhelm moet betree;

Die gedig vra inderdaad vrae oor Kaaps wat “mainstream” geraak het. Ronelda Kamfer, Nathan Trantraal, Jolyn Phillips, e.a. het die kanon betree en vir ewig verander.

Ryan Pedro spot egter met die idee dat die “bad boy” deel word van die “VIP-section” en so ware impak verloor.

Sosiale media:
Facebook, Instagram en wat nog het deel geword van die digterlike onbewuste. Die “prisonhouse of language” (Fredric Jameson) word oopgeskarnier deur sosiale media.

“Inbraak” (123) van Marcel Spaumer word op ’n ironiese manier ook ’n kommentaar op die taalinbraak. Ingrid Penzhorn bekyk dit in “Antropomorfiseer” (101).

Annie Gallagher se “vlerksleep 2.0” (15) wys hoe emoji’s ons digkuns binnegedring het. Dus begeer ons al hoe meer grafies!

Marcel Spaumer

Politieke kommentaar:
Plaasmoorde en terrorisme aanvalle word gebruik as beelde van die Unheimlichkeit wat die jong mens beleef soos in Marcel Spaumer se “’n nag ontwrig” (121).

’n nag ontwrig

gisteraand sewe gelyktydige
aanvalle noord van my oos van my jy
het my eerste gesoen

vyftien minute se doodskote

omdat ek jou die minste verwag het
die knal: jou hand in myne
jou oë jaag my lyf se inwoners na skuilplek-soek.

’n noodtoestand deur die kop gewek hier teen my
bors ’n handgranaat hartklop
in die donker my ribbes tralie
oop toe oop.

la ville de l’amour is jy nie.
lyfskoot kopskoot doodskoot
oral bloeiselreën skrapnel

die Eiffel staan.

Binne / buite:
Die tradisoneel stemlose het stemhebbend geraak. Yabadaka Shamah skryf vanuit Mamelodi as digter en musikant in ’n amper outydse Afrikaans!

Naudé Kritzinger is ’n predikant, in Pretoria, en hy skryf met ’n “hakkeltong” oor ongeregtighede.

So gelees, is beide hierdie digters outsiders, wat kommentaar lewer op ’n sisteem van onreg.

Johan Jack Smith

Nostalgie en verloopte drome:
Daar is al dikwels opgemerk dat die letterkunde iets van ’n tydsgees verraai, omdat gedigte meer vertolk as wat ons as lesers besef.

Johan Jack Smith kyk helder terug in “Intermission” (114) na die karwrakke vol geeste.

Ingrid Penzhorn se onthutsende “Kougom gekou” (99) vang iets van hierdie displacement op.
Hannes Visser © Marlene Malan

Hannes Visser se gedigte ruk aan die keel. Jeugherinneringe - in ’n soort dagboekvorm aangebied - neem die leser deur die onthou-tog van ’n pynlike jeug; helder vertel in digvorm met die emosies in beheer. Die sirkelgang illustreer die beheer wat die spreker het oor sy jeug: eers kap pa ’n bordjie in; dan ma. Min woorde - trefkrag.

Elna van Niekerk se verse artikuleer eweneens verwonding. Stilte. Ellende.

Die pragtige Sisiphus-vers dra die splinters in die handpalm ... (“klip, 64).

“Melk” (54) van Elmarie Viljoen-Massyn is gelaai met sub-teks. Daar is ’n slim toespeling op die ontvoerde kinders wat Joey Haarhoff en Gert van Rooyen in 1988 ontvoer en vermoor het. Daardie oom wat soos ’n ouderling lyk ...

III

Foute:
Riel (Franzen) word egter sonder die umlaut geskryf in hierdie bundel. En die lettertipe verander skielik op bladsy 156 - 159. Was die gedig te lank? Op bladsy 174 staan Bloemfoentein in plaas van Bloemfontein.

IV

’n Mens sou nou al ’n studie kon onderneem oor die verskillende edisies van Nuwe stemme. Kyk byvoorbeeld na nommer 2 met Petra Müller en Nèlleke de Jager - dan sien ons hoe die tyd verander het.

Hier staan ’n hele paar digters opgeneem met belofte. Maar net die tyd sal leer wie ’n solo-bundel sal publiseer.

Nuwe stemme 6 ontgin tendense en temas verder wat reeds bekend is in Afrikaans.

Daar staan ’n hele paar gedigte wat werklik besonders is.



Essay | Eben Venter - Groen soos die hemel daarbo: 'n paar kanttekeninge (2017)

$
0
0
Eben Venter - Groen soos die hemel daarbo. Tafelberg, 2017. ISBN: 9780624082613

I

Hierdie roman word bemark as ‘n vreeslose verkenning van moderne seksualiteit, intimiteit, en identiteit. En sopas bied ek dit aan in genderkursus vir my voorgraadse studente teenoor die vroulike identiteit wat Gerda Taljaard ontgin in haar roman Die laksman se dogter (Penguin).

Op die agterflap word die titel van die Venter roman verduidelik: Luhlaza okwesibhakabhaka b.nw. blou; (lett.) groen soos die hemel daarbo.

In die openingstoneel staan daar: “Bokant ons sprei die Oos-Kaapse hemel geskroeide ylblou” (5). Op bladsy 208 word die groen van die hemel verduidelik: Xhosa het nie ‘n woord vir blou nie.
“Dis iets wat jy nie kan sê hoe dit is. Dis altyd daarbo bokant ons. Miskien dink jy jy kan daaraan vat, maar jy kan nie.”“Soos seks, bedoel jy? Sê vir my wat dit is, hoe dit is – ek kan en ek kan nie. Ek kan nooit heeltemal my vinger daarop lê nie. So?”Hy kyk na my, vat ‘n sluk uit die blikbeker.”Ek verstaan nie nou.”
En die leser bly regdeur die roman nadink oor die verskil tussen groen / blou en wat die titel impliseer.

Roland Barthes se jouissance, die onvermoë om die seksuele plesier te besê, kom aan bod, soos opgeskryf in The pleasure of the text, gepubliseer deur Hill and Wang, New York in 1973/ 1975.

Barthes se siening van die verskil tussen plesier en jouissance, tussen dit wat jy kan verwoord en die on-verwoordbare, loop regdeur die roman. Die jouissance/plesier word teen die Orde van die Patriargie geplaas, daardie onsigbare Orde wat vir Lacan op die Reële vlak alles beheer.

II

Simon se ondersoek na seks word verbind met sy herinneringe aan die patriargale verlede. Sy pa is ‘n beesboer en sy eerste seksuele voorligting word via twee parende beeste verduidelik.

Hierna beleef die leser Simon se seksuele ervarings waarvan die passasies in Tokio en Turkye hierdie leser vir ewig sal bybly.

Venter skryf konkreet en helder oor seks en die Orde van die Patriargie word ondersoek:
En dít het ook by my vasgesteek: daai geswolle bul. Sy riempiel, was al hoe ek die dik ding kon beskrywe. Dis wat ons het en die koei nie. Dit word snaaks. Na hy gesê het wat hy gesê het, kon die bul my pa ook nie meer skeel nie. Dis ek wat bly kyk het hoe die bul homself uittrek, sy kop laag hang en so in slow motion swaai, klaar, hy was klaar met sy besigheid, en wegstap van die trop sonder om eers om te kyk. Toe stop hy, lek sy flank met daai breë dik tong van hom en piets-piets met sy stert, en sy dinges trek stadigaan binne die skede weg. Hy sak weer sy kop en draai ’n karoobossie af, die klein ronde bossie net ’n raps hoër as sy hoewe, en lekker gekerrie na die somerreën.My pa het nie weer oor die ding van paar gepraat nie, niks daarop uitgebrei, nie eens ’n bietjie advies nie. Nooit, ooit weer nie. Daardie middag terwyl ons aangestap het op die vasgestampte grondwal en later begin afsak en suid gehou het, met die koppies nou aan die eenkant, en deur ’n klofie van waar die huis en werf en die buitegeboue begin uitsteek het, al daardie pad kon ek nie die ding wat hy oor die bul en die koei gesê het, uit my kop kry nie. En hoe dit maar net dieselfde by ons is nie.Jare later, so lank as dit my gevat het om lekker in my vel rond te loop en in te val by ’n kamer vol kaal mans, sê so ’n stuk of tien, en eenhonderd persent gemaklik daarmee te wees, wel, byna, het ek weer daardie middag saam met my pa op die vasgestampte grondwal onthou. (Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie/ Groen soos die hemel daarbo deur Eben Venter | LitNet. Besoek 13 September 2017).
III

Simon besoek ‘n sielkundige, dr. Jo Spiteri, ten einde sy identiteit en sy ambivalensie oor sy verlede te probeer begryp. Hier word dan etlike sleutels vir die leser gegee om Simon se stryd te probeer begryp. Diogenes Laertius wat sy seksuele aptyt op die agora gestil het, is 'n sleutel. Hierdie tersyde is dan van toepassing op die roman waar die vertellende karakter of fokalisator sy seksuele ervarings in ‘n boek (op die markplein) uitstal.

Sy terapeut ervaar hom as ‘n uitdaging; nes die leser wat al die verwysings – ook na Michel Foucault – moet interpreteer. Die leser kry ook ‘n glimps in die seksuele ontmoetings en fantasieë van die terapeut. Sy onthou onder andere ‘n onvleiende lig op haar liggaam (nie lyf nie) in die affêre met Bennie (73). Hierdie terapeut word soms emosioneel verbrysel deur haar kliënte. Sy bely ook dat sy met beslistheid kan sê dat die smaak van die kop van die penis vir gay mans anders is as vir háár.

Dit val binne ‘n ander orde as haar vroulike ervaring … (74) Die verhouding met die moeder behoef eweneens ondersoek. Moeders en gay-seuns. Hier is eweneens ambivalensie opvallend.

Die verhouding tussen Jo Spiteri en Simon is kompleks. Daar is ‘n telefoniese afsegging wat vir die terapeut pynlik is. Deur Simon het sy haar eie identiteit ontgin.

In die slottoneel sit sy lipstiffie aan voor ‘n vollengte spieël. En dit is uiteraard ‘n belangrike kode vir die lees van die roman hoe twee karakters spieëls word van mekaar. Met die leser wat moet besluit wát in Simon losgekom het. Dit het te make met die Lacaniaanse nosie van die analis en analisant wat voortdurend rolle ruil.

Jacques Lacan skryf hieroor in Écrits - a selection. Vertaal deur Alan Sheridan. Tavistock, Londen. 1966/1977.

Beide analis en analisant is parlêtres (pratende objekte) en die onbewuste moet gelees word as 'n sluiting tussen die twee. Lacan verwys ook na die manqué à être wat aan die basis van betekenisgewing lê, die gevoel dat iets ontbreek en hierom moet die ego altyd uitbeweeg en na sin soek buite sigself. Die ego is egter vasgevang in 'n doolhof van spieëls oftewel méconnaissance. Die ego voel sig vasgekeer in 'n konstruksie wat as bevreemdend ervaar word. Lacan se beskouing van ego-formasie sien gender as 'n konstruksie.

Die onbewuste is die begeerte tot die Ander, en, die onbewuste is gestruktureer soos 'n taal. Dieselfde geld die romanteks wat begrip eis van die leser waar die skrywende subjek buite 'n landsgrens skryf oor sy jeug, oor sy herinneringe en seksuele identiteit.

IV

Die buiteblad en aanwysings is 'n parateks.

Venter gee vir sy speurende leser wenke in die nawoord (“Erkennings”):
Ek het aangehaal, geparafraseer en vrylik van idees gebruik gemaak uit dievolgende:Chekhov, Anton. The Party and other stories. New York: Harper Collins, 2006.Coetzee, J.M. and Kurtz, Arabella. The Good Story. Exchanges on truth, fiction and psychotherapy. Londen: Harvill Secker, 2015.
Dostoyevsky, Fyodor. The Idiot. Harmondsworth: Penguin Books, 1973, p. 258.Foucault, M. The Will to Knowledge. The History of Sexuality Vol I. Londen:Penguin Books, 1998.Foucault, M. The Use of Pleasure. The History of Sexuality Vol II. Londen: Penguin Books, 1987.Miller, James. The Passion of Michel Foucault. Londen: Harper Collins, 1993.Poe, Edgar Allan. The Tell-Tale Heart in The World’s Thousand Best Stories. Londen: The Educational Book Co Ltd, vol xiii. Geen datum, p. 660.Sacks, Oliver. Hallucinations. Londen: Picador, 2013.
Ikone soos Elizabeth Taylor en tekste Who's afraid of Virginia Woolf, The Bold and the Beautiful, o.a. word verdere merkers vir die wisselwerking tussen interteks en sub-teks.

Foucault se omstrede cruising in saunas in Los Angeles aktiveer weer ‘n hele komplekse debat rondom gay-saunas (Gay bathhouse - Wikipedia. Besoek 30 Augustus 2017).

Ook die verskil tussen die sibaritiese Foucault en die ordende filosoof van die geskiedenis van seksualiteit en die betekenis van tronke in 'n gemeenskap, is al baie geskryf.

In 1980 by Pantheon-boeke verskyn Herculine Barbin - waarvoor Foucault 'n voorwoord skryf vir die Engelse uitgawe. Ek het indertyd my hardeband-uitgawe gekoop by Marcus de Jong in sy argief van 'n boekwinkel.

Foucault het op hierdie memoirs afgekom ten tyde van sy navorsing oor die geskiedenis van seksualiteit.

Herculine Barbin, gebore in 1838 as 'n vrou. Sy raak verlief op 'n vrou en in 1860 word sy gedwing om van geslag te verander weens 'n hofbevel. Camille/ Abel is egter ontuis in die nuwe identiteit en pleeg in 1868 selfdood (Herculine Barbin/ Being the Recently Discovered Memoirs of a Nineteenth-century French Hermaphrodite. Besoek 12 September 2017).

Gender Trouble: Feminism and the Subversion of Identity (1990) van Judith Butler sien gender as 'n "improvised performance". As gender "scripted, rehearsed and performed" is, word die leser van Venter se roman deurgaans bewus van die verskille tussen mans en vroue.

Die besoek aan die shrink - vol intellektuele besinnings via ou Griese filosowe en Foucault - beklemtoon dat ons genderkonstruksie inderdaad 'n teks vol aanwysings is. Wie is die regisseur van hierdie teks?

Die vader inderdaad. Die patriargie. Hierom dan dat die teks begin met die vader se seksuele leiding. 'n Uitstekende inleiding (tot die drama wat volg) om Simon se ervarings te verduidelik of omlyn.

Hoekom besoek hy 'n vrou as terapeut?

Is sy eintlik die vrou wat hy sou wou wees?

Is sy 'n man in drag? 'n Mens dink hier aan Marjorie Garber se Vested interests: Cross-Dressing and Cultural Anxiety wat in 1992 by Routledge verskyn het.

Dink sy soos 'n vrou?

Is sy 'n fantasie van 'n gay-man wat die vrou in homself so projekteer?

Hoekom is haar naam Jo, immers 'n gender-neutrale term, nie waar nie?

V

‘n Ander belangrike gesprek wat geaktiveer word is die gesprek tussen letterkundige tekste en psigoterapie (vide Coetzee en Kurtz) en natuurlik ‘n teks wat in my genderkursus ter sprake kom:

Byatt, A.S. & Sodré, Ignês: Imagining characters. Six conversations about women writers(red. Rebecca Swift). Vintage, Random House, Londen. 1995.  

VI

‘n Boek wat soveel kwessies ontgin en oopmaak, is ‘n belangrike teks.


© Joan Hambidge

Resensie | Elize Botha - Gespreksgenoot: ’n brieweboek (samest. Heilna du Plooy, 2017)

$
0
0
Elize Botha - Gespreksgenoot: ’n brieweboek (Samesteller: Heilna du Plooy). Litera Publikasies, 2017. ISBN: 9781-920188535

D E E L  I

I

Hierdie is dan my eerste en persoonlike reaksie.

Só word die brieweboek van Elize Botha bemark:

Hierdie lywige bundel van sowat 700 bladsye is deur Heilna du Plooy saamgestel uit briewe van Elize Botha en verskeie skrywers en ander bekendes. Skrywers en digters soos Audrey Blignault, Hennie Aucamp, NP van Wyk Louw, Elisabeth Eybers, Lina Spies en baie ander het met Botha gekorrespondeer. Party briewe is diep ontroerend, ander laat jou hardop lag en ‘n klompie lees jy herhaaldelik om die besonderse insig daarin. Die briefskrywers skets die klein en groot gebeure in hulle lewens, deel hul menings oor boeke en mense en vertel van die dinge wat hul lewens moeilik of vreugdevol maak. Dit is ’n intieme teks wat by baie lesers byval sal vind.

Op die voorblad is daar ‘n foto van ‘n jong en mooi Elize Botha, met daardie bekende handtekening. Agterop ‘n foto van die ouer, meer beleë kanselier.

Hoe beskryf ‘n mens Elize Botha, een van ons grootste prosa-lesers en fynste stiliste?
Op ‘n keer is daar na haar – ietwat sardonies – verwys as die boegbeeld van die Afrikaanse letterkunde. Haar lewe van 1930 – 2007 is gekenmerk deur groot vriendskappe en lojaliteite. Van Van Wyk Louw, die Oppermans, Audrey Blignault, Alba Bouwer, Etienne Leroux, T.T. Cloete, J.C. Steyn …

As jong student begin ek ‘n MA by haar. En daarmee saam het ‘n kosbare lees-vriendskap begin.

Die uitgebreide feesmale aan’t huise in Colbynstraat was soos gister; later in restaurante toe sy dikwels moes reis om haar verpligtinge as voorsitter of komiteelid na te kom.

Op ‘n keer bring Elize (ek het haar altyd formeel (en met respek) as doktor aangespreek totdat sy op ‘n keer my versoek het om haar Elize te noem) vir my die jongste Saul Bellow van ‘n oorsese reis: The dean’s December.

Op ‘n keer koop ek vir haar, op versoek, George Steiner se roman The Portage to San Cristobal of A.H. (1981) op ‘n reis in die buiteland.

En sowel Bellow as Steiner is vir hierdie bespreking ter sake. Bellow se onvergeetlike brieweboek is meer as briewe. Dit is ‘n kroniek van ‘n briljante skrywer, intellektueel, gesaghebbende – en ook mens. ‘n Mens sien sy humoristiese kant in briewe aan Philip Roth en wat hy maak van Hannah Arendt. Jy sien sy verhoudings met sy kinders, sy geliefdes, sy donker kant. Dit heet Saul Bellow – letters (Penguin, 2010).

In ‘n laaste brief aan my (daarna was daar vele telefoongesprekke en boodskappe op my antwoordmasjien, veral die laaste een het ek bewaar) verwys sy na Steiner se lesing aan die UP: "Around a table we will take a text, no critics, no secondary journals, no critics of criticism … we’d learn to read it together again …” (14 Januarie 2001).

Hierdie brief was lank soek en daar ontdek ek dit een middag in ‘n laai saam met ‘n brief van Eybers aan my. Ek skandeer dit dadelik en stuur dit vir Heilna vir opname.

Dit inspireer my ook om ‘n gedig vir haar te skryf na haar kommentaar op my Louw-vers in Lykdigte:

Elize Botha (1930 - 2007)

    Shatter your leaves before the mellowing year.
    Bitter constraint and sad occasion dear
    Compels me to disturb your season due ...
   
    Milton

Gyselaar van sentimentaliteit,
tipeer jy jouself speels in 'n brief
aan my op 14 Januarie 2001 gestuur.
Jou stem bewaar ek steeds digitaal
op 'n moderne antwoordapparaat.
Oor die lotgevalle van 'n gedig
- wat weggeneem word, wat bykom -
skryf jy insigryk in jou mooi handskrif.
Jy dink na oor George Steiner:
"Around a table we will take a text, no critics ..."
Vannag kyk ek na jou dubbellees, 'n keerweer,
van 'n lykdig oor jou mentor in Amsterdam.
Agter die sigwaarde van 'n gedig
kon jy inkyk en hierdie variant
van afskeid én erkenning, 'n eulogie ja,
laat my wonder oor toeval en toeverlaat:
'n brief uit Amosstraat 34, Colbyn 0083,
herversend deur die Posman van AllesWeet.

III

My M.A. onder haar begeleiding het ironies genoeg gehandel oor Die ek-verteller indie belydenisroman. En dit is hoe ‘n mens hierdie brieweboek moet benader: as belydenis, konfessie – maar uiteraard die ingeboude aspek van die belydenis is ter sprake. Daar is ‘n toehoorder (aanhoorder) aan wie die brief gerig word met tegnieke wat beheer, selfs afstand, impliseer. Hierdie “naked I” verdoesel dikwels meer as wat sy bely deur tegnieke van ironie en die bybring van tekste. En ‘n brief moet binne ‘n bepaalde tydsgewrig gelees word. Só beskou, is dit dan ook ‘n dokumentasie van ons taal en letterkunde.

Daar is geweldig baie te waardeer uit hierdie boek. Ek onthou hoe sy vir my as jong student gedigte wys van ‘n onbekende digter, opgeneem in Tydskrif vir letterkunde.

“Dis fantasties!”, roep ek uit.
“Dink jy ook so?”, vra sy. Later sou ek uitvind dat die skuilnaam T.T. Cloete was.

Deur die jare was daar ontmoetings – dikwels by glansgeleenthede – waar sy ‘n boekprys moes oorhandig. Op panele was sy ‘n sterk teenwoordigheid – wat dikwels teen die mode van die tyd sou argumenteer vir die sterker letterkundige teks.

Vandag gee ek haar gelyk vir tweekeer wat ek saamgesleep is deur die tsoenami van ‘n “gewilde” keuse wat by nabaat iets verraai van die tyd. Maar hierdie toekennings is altyd ‘n stuk werklikheid wat skrywers daaraan herinner dat pryse subjektief is en deur die tyd bepaal word.

IV

Watter briewe sal ‘n mens bybly?

Sy noem haarself ‘n beroepsleser, selfs verminderend ‘n amateurleser. Dit was sy nie. Elize Botha kon Etienne Leroux lees; ook Opperman. In haar brief aan wyle Paul Cilliers, die filosoof,  artikuleer sy hoe onderdele / sitate in ‘n teks “geartikuleer” moet word na aanleiding van sy intreerede. [1] Haar sieninge in navolging van die werk onder Louw en die impak van Hellinga en Scholtz se Kreatiewe analise van taalgebruik (620).

Hier verduidelik sy haar sensibilities en die impak van T.S. Eliot op haar denke.

Hierdie gesprek tussen twee intellektuele karteer Elize ten beste. Afgerond, stilisties in beheer, immer bereid om in gesprek te tree. Hierom is ‘n Festscfriftaan haar tereg benaam as ‘n Lewe in woorde. In die inleiding beklemtoon Heilna du Plooy dat briewe wel ‘n vorm van literatuur is, maar dat dit eerder nader aan die lewe lê in die onafgerondheid daarvan. “Die brief is uiteraard meer soos die lewe self, vol onnodige detail en ‘n bietjie rommelrig omdat dinge herhaaldelik gebeur en herhaaldelik vertel word, omdat belangrike dinge soms verswyg word en ander per ongeluk weggelaat word “ ( xviii).

Die gesprekke tussen haar en Hennie Aucamp wys hoe twee meester-stiliste op gebeurtenisse reageer.

Elize Botha se belangrikse bydrae, afgesien as haar posisie as ‘n eerste vrou op soveel vlakke, is nie alleen tot die prosa nie, maar veral tot die essay. [2] Daardie kort prosa-stuk rondom ‘n lewenswaarheid. Vele van hierdie briewe is essayisties in aanbod.

Haar eensame jeug het waarskynlik haar gesprekke op papier voortgedryf, maar diegene wat haar geken het, weet ook: Elize Botha was ‘n gewer, ‘n óm-gewer.

‘n Paar maande voor haar dood, bel ek haar op. Die pers begin stories skryf (en aas) oor haar naderende dood.

Ek prys haar oor haar pragtige essay wat sy geskryf het oor Doris Lessing wat die Nobelprys gewen het.

“Hoor hier, Joanie. I am still hanging in here.”

Dit was Elize. Sober. Eerlik. Wat ‘n mens. Wat ‘n literator.

(Word vervolg)

Endnote:
1.     Cilliers vereer ek in ‘n gedig in Lot se vrou.
2.     Elize Botha was op soveel vlakke ‘n eerste vrou: Voorsitter van die Akademie, Kanselier, eerste vroulike van die Direksie van Nasionale Pers.

© Joan Hambidge

Resensie | Elize Botha - Gespreksgenoot. ’n Brieweboek (samest. Heilna du Plooy, 2017) | Deel II

$
0
0
Deel II

In hierdie ryke versameling van briewe, staan ons vervolgens stil by ‘n paar briewe wat vir hierdie leser tot nadenke gestem het. Elize Botha was ‘n gespreksgenoot vir vele uiteenlopende mense binne die literatuur. ‘n Jong M.C. Botha vra haar om raad en sy gee dit. Sonder omhaal van woorde – met respek vir sy werk wat sy toe reeds eien as besonders. In hierdie briefwisseling beleef die leser persoonlike krisisse wat nie by die naam genoem word nie, maar wat die jong M.C. optel. Elize wens hom voorspoed toe met sy voorgenome huwelik en drink vele glasies op hom.

Waarskynlik is die briewe van Jeanne Goosen stukke waarna ‘n mens by herhaling gaan terugkeer. Dis vintage-Goosen, huiwerend tussen surrealistiese waarnemings en suiwer poësie.

‘n Mens huil van die lag oor die verhaal van ‘n man wat by gebrek aan aas met ‘n liddoring vis vang!

Hierdie is ‘n inloer in Goosen se kreatiewe denke. ‘n Mens sien byvoorbeeld hoe sy Om ‘n mens na te bootsgekonstrueer het. Waarnemings wat deur die fantasie omgetower word.

“‘n Mens is darem vreeslik absurd – dis nou as jy nie die slag ‘n mens naboots nie.”

Sy vertel van haar vleuelklavier (en Goosen kon vertolk) wat haar verwyt, omdat sy nie meer op hom speel nie (570). Sy voel sy is nie opgewasse vir hom nie.

Hierdie briewe is tydsdokumente. Koos Prinsloo skryf oor Jonkmanskasen van die grens af. Hierby is daar ‘n brief ingesluit van Victor Munnik. Ons verneem van die tragiese dood van Helena Stark – ‘n karakter in ‘n Prinsloo-verhaal – en van Renske Koen se ongeluk, ‘n hartsvriendin van Elize Botha. Vir my ‘n stuk ellende wat hier onverwags terugkeer, omdat ek die vooraand van hul dood by hulle gekuier het en die volgende dag in die koerant dit op straat gelees het …

Hieroor skryf ek ‘n gedig in Bitterlemoene.

Stephan Bouwer se rou brief aan haar – die rou dinge waaroor ‘n mens net kan stotter (601).

Nog ‘n skrywer wat “tannie Elize” skryf, is Fanie Naudé wat vanuit Londen as buitestaander kommentaar lewer op Bram Fischer en die taalbeleid. Hy staan krities teenoor Chris Brink se taalbeleid (598).  En hoe ironies klink sy woorde op in dié brief: Alhoewel, wie weet, as ek eendag vir ‘n ruk die geleentheid kry om behoorlik te konsentreer op skrywe, kan ‘n mens dalk tog iets daarvan maak” (600). Ek sou wat wou gee om Elize Botha se hantering van die Walter Benjamin-gegewe in die manjifieke Die derde spoel te lees!

Ons sien o.a. hoe komplimenterend is Leroux oor haar raaktasting van Onse Hymie en die aard van die entertainment en satire (via Graham Greene).

In latere jare was dit dan ook een van my verskilpunte met Elize Botha, oor die komplekse voertaalkwessie aan die Universiteit van Stellenbosch. Maar vriendskappe moet verskille en anti-teses kan akkommodeer. Ek onthou ‘n besoek aan haar in die hospitaal, sowat ‘n tweejaar voor haar dood. Ons het toe sterk verskil.

Sy bedank vriende deurgaans vir ondersteuning – soos die uitgewer Marietjie Coetzee – en in ‘n brief aan Heilna du Plooy (608) word ‘n brief ‘n meta-refleksie oor presies dit wat hierdie boek doen: die insameling van perspektiewe en verskillende benaderingswyses …

Tussendeur is daar skrywers wat na vore kom: Margaret Drabble, Anita Brookner, Seamus Heaney …

Op ‘n keer het Elize Botha ou uitgawes van Times Literary Supplement en New Yorkers vir my persent gegee – wat ek steeds bewaar …

Hennie Aucamp word telkens erken as ‘n rigtinggewer: “Terwyk ek lees het ek weer só sterk ervaar hoe begunstig ek deur baie jare was, om in voeling te kon bly met jou werk en denke, hoe rigtend en inspirerend dit in my voortgewerk het”(633).

Dis dan ook Aucamp wat raaksien dat die essay by uitnemendheid Elize Botha se uitdrukkingsvorm is!

Onvoltooide gesprekke, maar genadiglik gesprekke wat deur ‘n kundige en fyn leser soos Heilna du Plooy versamel is.

Die boek sluit dan af met ‘n kort nota van Hennie Aucamp op 7 November 2007:
Liewe Elize
Ek stuur gedagtes en gebede na jou toe uit. Jy was dikwels die sentrum van die groot gebeurtenisse in my lewe, en hiervoor sal ek jou altyd dankbaar bly. Hennie
© Joan Hambidge

Gedig | Joan Hambidge - Jerry Lewis (1926 - 2017)

$
0
0
Jerry Lewis kry ’n soen van Criss Angel © Ethan Miller/Getty Images

Rol-oog Jerome Levitch
oftewel, Joseph Levitch
of dan eerder, Jerry Lewis,
bekend dat hy 'n paar sokkies
net één keer dra,
maar altyd gemombakkies.
Bekkig, dog kleinsielig
vir kritiek.
Vereer met die Légion d'Honneur,
hierdie Nutty Professor,
kenner van slapstick
waaroor die Franse roekoek-roekoek.
Dean Martin en Jerry Lewis,
baljaar saam,
ego en id,
lig en skadu.
Verslaaf aan Percodan
betree hy donker tye,
stry met Dean Martin,
sy pendant. Breek
kensketsend weg.
In solo-optredes
pendel
hy
gevaarlik
na
aan
self-
parodie,
wyl
die
applous
van sy vader
en dogter haweloos
uitbly.
Humor, 'n pleganker,
verlaat
die Koning van Komedie
amper nes 'n film maudit.

© Joan Hambidge

Gedig | Joan Hambidge - Salvador Dalí: La persistència de la memòria (2017)

$
0
0

In 'n droom horlosies gesmelt
om tyd gesuspendeer, nutteloos
voor te stel op 'n lessenaar,
'n swart boom langs 'n dooie voël -
op al dié voorwerpe horlosies:
smedig en dus waardeloos.
Ontglippend bly betekenis
soos in 'n droom: 'n chronometer
agter glas waarna ek staar,
om ons tyd op aarde op te som:
my geboorte deur jou dood
in hierdie gedig soos die inham
op die skildery met water en 'n berg.
Onverganklike herinnering versmelt.


© Joan Hambidge
Viewing all 819 articles
Browse latest View live