Quantcast
Channel: WOORDE WAT WEEG
Viewing all 819 articles
Browse latest View live

Gedig | Joan Hambidge - Namibië: Pierneef (2017)

$
0
0

In hierdie landskap van sonlig en van sterre
hang die wolke dragtig, 'n reënvoorspelling.
Ek onthou haar hande wat troostend toevou:
my trane newel oor my moeder in dié tydsgewrig.

Verbeuselde ervarings, verdrietige afleggings
soos 'n naderende storm, fel en kortstondig;
tot die lug weer helder en skoon oopvou:
op 'n oggend is lug en berge weer in ewewig.

© Joan Hambidge

Nuus | Kazuo Ishiguro: Meester van subteks neem Nobelprys huis toe

$
0
0
Die wonderlike nuus van Ishiguro se bekroning het my teruggeneem na twee van sy boeke wat ek goed ken. Sy boeke skep leesversperrings en laat jou nadink oor die styl en sub-teks.

Kazuo Ishiguro (62) se voortreflike roman Remains of the daybly 'n leesplesier vir alle liefhebbers van sub-teks. Dit vertel die verhaal van 'n butler op die vooraand van die Tweede Wêreldoorlog.

Hierdie roman, so het die skrywer self bely, het hy in vier weke geskryf onder toesig van sy vrou. Hy het hierdie periode die “Crash” genoem, ‘n tyd van ysere dissipline waarin hy navorsing gedoen het oor die klassesisteem van daardie tydperk.

Elke dag van 9:00 – 22:30 (behalwe Sondae) het hy homself gedryf om hierdie teks te voltooi, weg van ander eise en uitnodigings.

In ‘n wonderbaarlike onderhoud vertel hy dat hy o.a. beïnvloed is deur Tom Waits se “Ruby’s arms” en hoe die ingehoue emosie hom geïnspireer het. Ishiguro self is ‘n ywerige kitaarspeler.

Die rolprent met Emma Thompson en Anthony Hopkins ontgin hierdie subtiliteite meesterlik. Die storie van Stevens (die butler), Lord Darlington en Miss Kenton handel oor lojaliteit en verspeelde kanse. Die Merchant/Ivory-produksie van 1993 bly ‘n kragtoer. Dit is indertyd genomineer vir 8 Academy Awards. Ons sal altyd die toneel onthou waar Thompson die boek vashou …

Never let me go (2005) - verfilm deur Mark Romanek in 2010 - is 'n aweregse liefdesverhaal wat handel oor kloning en word as wetenskapfiksie of spekulatiewe fiksie beskou. Kathy, Ruth en Tommy se lewe aan ‘n kosskool (Hailsham) word beskryf. Liefde en dood teen die agtergrond van ‘n benoude klasse-sisteem in hierdie distopiese roman wat my as leser ontstig en gekwel het. Dit vra vir ‘n saamlees met Margaret Atwood se Oryx and Crake(2003).

Tyd, herinnering, klasverhoudings en sosiale reëls, distopia, displacementis van die temas wat sy boeke aansny.

Die pittige Sara Danius van die Sweedse Akademie beweer met die bekendmaking van die prys aan Ishiguro: "As jy Jane Austen met Franz Kafka versny en jy gooi 'n skeutjie Marcel Proust by, dan het jy hierdie skrywer. Jy moet roer, maar nie te veel nie!" En ‘n mens sou wou byvoeg: iets van ‘n moderne Boccacio wat met sy tekste subtiele sosiale kommentaar lewer.

Ishiguro is gebore in Japan. Sy vader was 'n oseonograaf en hulle vestig hul in Engeland toe die skrywer 5 jaar oud is. In Brittanje het hy aan die Woking Grammar-skool studeer wat hom uiters bewus gemaak het van klasverskille. Hy het Engels aan die Universiteit van Kent en kreatiewe skryfwerk onder Malcolm Bradbury en Angela Carter aan East Anglia bestudeer. Veral Bradbury se siniese analises van die Britse sisteem moet bepaald as 'n invloed gelees word.

Dit is 'n skrywer wat met sy fantasieryke verhale bekoor. In 2008 is hy deur die Times as een van die beste romansiers bestempel, en in 1989 verower hy die Booker vir Remains of the day. 'n Mens is egter - vir die soveelste keer - bewus van die feit dat Philip Roth nogmaals oorgesien is en Salman Rushdie weer geweeg en te lig bevind is. Beide skrywers het 'n enorme tekskorpus gelewer en Rushdie se jongste, A goldenhouse, is 'n kragtoer. Hier word politieke kommentaar vermeng met mitologie op 'n skouspelagtige wyse. Margaret Atwood was eweneens gekortlys. Haar werk as digter en romanskrywer verdien eweneens akkolades.


Bronne:




Romans:
A Pale View of Hills (1982)
An Artist of the Floating World (1986)
The Remains of the Day (1989)
The Unconsoled (1995)
When We Were Orphans (2000)
Never Let Me Go (2005)
The Buried Giant (2015)


© Joan Hambidge


New | Beverly Rycroft - A private audience

Gedig | Joan Hambidge - Ryk Hattingh (2017)

$
0
0
Foto: Le Roux Schoeman

Ryk Hattingh

All of us have a place in history. Mine is clouds.
Richard Brautigan


"My aard, soos 'n vonk,
is ook onkenbaar," beskryf
jy jouself in
Huilboek
'n laaste testament
ongeteken.
Op Monitor
lewer ek 'n kort huldeblyk
oor jou vroegoggend
in hierdie verraderlike paradys
waar ons steeds sing van bomme.
"Skoenmaker hou jou by jou lees!",
sou jy kon uitroep.
"Wat weet jy van verlange
na 'n vaderland
wat klou soos nga
aan 'n kietiekombers?"
My vooraf geredigeerde
afskeidswoorde
verklap helaas nie
hoe ek nie trane kon keer
oor hoe jy
voor sonsopkoms
in 'n ander tydsone
deur 'n tonnel
beweeg
kaalvoet
tot binne-in my grafskrif.

11 Oktober 2017


© Joan Hambidge

Resensie | Anton A. van Niekerk - Die dood en die sin van die lewe (2017)

$
0
0
Anton A. van Niekerk - Die dood en die sin van die lewe. Tafelberg, 2017. ISBN: 9780624075332

Resensent: Joan Hambidge

Si vis vitam, para mortem - as jy die lewe wil bewaar, berei jouself voor vir die dood - Sigmund Freud

My bespreking van hierdie studie kom in 'n tydsgewrig van die dood. Die dood van bekende skrywers (Karel Schoeman en Ryk Hattingh) en sinnelose geweld wat uitloop op die dood. Ons dink aan Hannah Cornelius en ons dagblaaie steier onder stories oor hierdie finaliteit, soos onlangs met die Las Vegas-uitbarsting.

Die dood en die sin van die lewe van Anton A. van Niekerk is 'n belangrike boek oor hoe 'n mens die dood moet hanteer. Die outeur skryf uiters onderhoudend oor kwessies soos aborsie (o.a.) in dagblaaie, maar in die debat oor letterkundige kwessies en rassisme in 'n Toon van den Heever-verhaal, "Werkstaking by die kleigat" was hy minder oortuigend. Die reaksies van literatore bewys 'n ander leesstrategie word behoef met verhale in 'n ander konteks en tyd. (Van den Heever se “Werkstaking by die kleigat”/ Regtig nodig in Die Afrikaanse kortverhaalboek? | Litnet. Besoek 14 Oktober 2017).

Van Niekerk analiseer in hierdie boek die taboe-onderwerp van die dood op 'n uiters toeganklike en boeiende manier. Hy is 'n storie-verteller wat die verskillende sieninge oor die dood oopmaak vir die leser.

Van Niekerk illustreer sy siening van die dood deur dit te verbind aan die dood van vriende en kollegas, soos die filosoof Paul Cilliers. [1]

Dat die dood van 'n geliefde, vriend of media-persoon ons onverwags tref en sekerhede ondermyn, is 'n gegewe. Dat die dood egter die lewe begrens, is eweneens waar.  Hierdie boek is die resultaat van twintig jaar se navorsing en die oop en helder wyse waarop die filosoof via Heidegger, Sigmund Freud, Karl Barth, en vele ander, hierdie kwessie aanspreek, is lofwaardig.

In voetnote gee hy soms humoristiese verwysings - o.a. na 'n studie Die eerste vyf minute na die dood of belangrike verwysings na ander tekste oor die dood (W.J. de Klerk, byvoorbeeld). Hoe die begraafplaas 'n ghetto buite die dorp word waarheen nie alleen lyke verban word nie, maar ook die treurendes (Zygmunt Bauman se siening), laat 'n mens nadink.

Sy voortreflike analise van Tolstoi se "Die dood van Ivan Ilyich" kyk na doodsvrese en die onvermoë van die sterwende om effektief te kommunikeer. Die body in pain (Elaine Scarry, Oxford, 1985) word eweneens hier as klankbord gebruik met Ronald Blythe se inleiding tot die vertaling: "The mind becomes body bound" (84).

Die dood in die moderne en postmoderne wêreld word deeglik onder die loep geneem. Hier is die hermeneutiese Van Niekerk op sy beste, net soos in die gedeeltes oor die dood as misterie en die lewe as tragedie in die aangesig van die dood.

Sowel die gewone leser as die teoretiese of filosofiese een kry hier baie stof tot nadenke.

Ek verwys net na 'n paar kwessies wat in hierdie komplekse studie na vore kom. H.W. Rossouw se Die sin van die lewe(1981) kry nou 'n nuwe antwoord in hierdie boek.

Die Bybel, Aristoteles, Shakespeare, Freud, Achmatova, Van Wyk Louw, Derrida, Levinas, Bauman, films, idiome, raaisels, Geloof sonder sekerhede, en vele ander intertekste gee 'n diepgang aan die teks. Ons is inderdaad nie meer intellektuele pelgrims nie, maar eerder nomades (180).

"Wanneer die sterwe wins word" kyk na Dignity South Africa en bystanddood: Sean Davison se moeder (en die ellendes van huisarres met die intrede van Biskop Tutu) en die skrywer Karel Schoeman wat geweldige prominensie in die pers geniet het. Willem Landman se rol word bespreek en die komplekse reaksie van mense op Schoeman se dood bly steeds 'n gesprekspunt. [2] As filosoof en filosoof van die etiek, argumenteer hy oortuigend oor regte vir genadedood en selfdood, hoe pynlik dit ookal mag wees.

Hy beskou filosowe as wysheids- en waarheidsminnnaars (250).

Die dood is 'n horison op die lewensreis ...

Hierdie studie behoef 'n saam-lees met Cas Wepener se Die reis gaan inwaarts wat handel oor Karel Schoeman se werk en die kuns van sterwe. [3]

Dit is 'n studie wat diep in my gemoed geresoneer het weens pynlike afskeide aan geliefdes en kollegas die afgelope tyd. [4]


Endnote:

1. In Lot se vrou (Human & Rousseau, 2012) skryf ek oor Paul Cilliers se dood.

Lykdig
vir Paul Cilliers (1956 – 2011)

Kenner van Derrida,
weet jy hoe jou absence
tans vir almal ‘n groter presence dra?
Vanaand onthou ek ‘n gesprek,
vergewe my hierdie eenmalige sentimentaliteit,
toe ons as jongelinge wonder wat maak ons hier?
Jy, ‘n ingenieur-student verwerp
vervaard die dwinglandy van wette en formules,
soek jou heenkome in ‘n andersoortige stelsel:
“Waarheen is ek op pad?” en “Wie is ek?”
Jy knip jou oë, trek
jou mond:”Alles pas ineen,
perfek, soos ‘n palindroom
of woord wat slegs dit bedui
en niks, maar niks anders op hierdie swart lei.
So ongeveer kwart voor twee, twee dae
na jou onverwagse vertrek,
sprokkel ek ons gesprekke
dikwels na fpc@us.ac.za
in die finale hoop vir iets so dwingend
soos een plus een is twee,
of droom én uitreik
mag langer duur as daardie woord,
onuitspreekbaar, onbekend:
sous rature. Uitgewis, dog dáár.

2. Karel Schoeman (1939 - 2017)

Afskeid en vertrek,
stilte en eensaamheid,
die dood, 'n onbestemde land,
het jy in vele romans verken.
Jou laaste brief, star versend
aan jou prokureur, oor selfbeskikking.
As verkenner van verlating
in al sy vorme, lees ek vannag
jou laaste brief, 'n ontslag
uit hierdie lewe. Hier is dan my
afskeidsgroet aan jou, 'n heliograaf,
flitsend na jou op 'n eiland,
op reis na 'n ruimte van genade. 

3. Die reis gaan inwaarts: Die kuns van sterwe in kreatiewe werke van Karel Schoeman
Cas Wepener. SUN Media, 2017. ISBN 9781928355144. (Resensie | Cas Wepener – Die reis gaan inwaarts/ Die kuns van sterwe in kreatiewe werke van Karel Schoeman, 2017. Besoek 14 Oktober 2017)

4. Pase HJS

And poetry
sluggish in the doldrums of what happens.
-Seamus Heaney

In jou laaste brief aan Die Herder
skryf jy oor die Heilige Gees
as katalisator kort voor jy vertrek.
"Is jy bang vir die dood?", vra ek
jou op 'n dag in jou windstil kantoor.
Die rooi dagboek punteneurig
met take vir die dag: 1, 2, 3.
"Nee," antwoord jy sonder omhaal
van woorde of beelde. "Parakleet
is aanklaer, pleitbesorger én Trooster."
Daar waar jy nou is, geliefde mentor,
is dit 'n perpetuum mobile
met musiek waarna jy luister?
Waardeer hulle jou polifoniese wysheid,
wyl ons monotoon treur en verlang?
An appetite for poetry, jou cadeau aan my.
Frank Kermode oor William Empson
resoneer en troos op hierdie Paassondag:
"... we shall not look upon his like again."




Interview | Joan Hambidge in conversation with Beverly Rycroft (2017)

$
0
0

  • Reflect on the import of the Ingrid Jonker prize on your career.
The Jonker prize was, first of all, affirming. I was new to the craft-work (though not the writing), of poetry, and felt shy about publishing. Four years later, I feel I have learned much more about the craft (there were things in missing I would change now, if I could). But, primarily, the IJ prize encouraged me to keep reading and learning. And gave me the confidence to continue writing. It’s easy to forget how terrifying it is to start submitting poems for public scrutiny.

  • Your title A Private Audience versus your working-title Spring Tide .
The theme of the sea, its moodiness and fluctuations, was picked up by Ben Grib, who illustrated the book. This despite us (Dryad Press and myself) having changed the title to A Private Audience by the time he received the manuscript. I was delighted Ben chose the imagery he did. The eponymous poem of the working-title Spring Tide looks at resistance and change through the extended metaphor of a tidal pool. From both personal and political aspects this felt like an apt title for the collection. But ultimately, A Private Audience, (taken from the last poem of the collection) signals more complexity and depth for me. It marks what Emily Dickinson refers to as the “hallowed” nature of what we enter when we approach poetry. Carol Anne Duffy says poetry is like a prayer. Beneath the “prayers” in this collection I hope readers will discover the sea in both its turmoil and serenity.

  • Your poems centre on a private relationship with your family. Do you see this as a “betrayal” ?
I’m glad you asked this. I’m often questioned as to how I can write about such “personal” subjects. And I suppose there is a sense in which speaking about private relationships could be seen as a betrayal. (Though in this era of Facebook, Instagram and Twitter, it’s pretty difficult to keep secrets.)

Ultimately, it’s irrelevant to me whether something (or everything) in a poem really happened or not. Readers wishing to follow this route must draw their own conclusions. My chief concern is with the common humanity emanating from the individual situation that propels a poem. “Out of the quarrels with ourselves, “ Yeats wrote, “we make poetry.” I hope the particular situations and “quarrels” I use as a starting-point, have been crafted into something more universal.

If I don’t tap the inner wall of the secret, the unspeakable, the scary and sublime, I may as well not write poetry. My father – around whom many of the poems in this collection are centred, and to whom it’s dedicated – was a deeply complex man. His saving grace was that he was broad-minded enough to own to his imperfections. This was a tone he set for his family. I hope readers will find a rounded, conflicting, puzzling and ultimately compassionate picture of humanity (not just one human being) in them.

  • List of your favourite poets
This fluctuates and expands, but here are some on the permanent list:
Emily Dickinson
Louise Glück
Philip Levine
Les Murray
Seamus Heaney
Sylvia Plath
Elizabeth Bishop

  • How do you see the SA literary scene ?
Exciting. Enlivening. The advantage of having so many languages in this country is the spectrum of rich and fresh ideas, themes and imagery it provides. From the more established English and Afrikaans poets, to Nathan Trantraal and Ronelda Kamfer’s Kaaps collections, to writers in Xhosa and Zulu etc., there are some fascinating voices.

Afrikaans poetry, I’ve recently discovered, is involved in some lively collections and debates. It’s refreshing to see people become so passionate about poetry. Until now, I’d read mostly English poems or translations. I’ve rediscovered the privilege of reading another language. I’m also (very slowly) honing up my Xhosa to get to the point where I can read that more easily. At this stage, even translations are revelatory.

There are some dynamic new voices emerging. I’m looking forward to reading Koleka Putuma’s Collective Amnesia,as I’ve watched her recite “Water” on YouTube. I think she’s someone to watch.

If I have qualms, it’s about the craft of poetry often taking second place to the speediness of publication. Sometimes I’ll read a debut poet with an exciting new voice, but feel that a little more editing and crafting could have turned what remains a good collection, into something sensational.

Presses like Modjadji, Uhlanga and Dryad evince the passion for poetry in this country, and for finding new voices. Poetry is a tough sell, but these publishers refuse to be doused by cynicism, and are injecting new life into the project.


As an aside: I remain saddened that someone like Gus Ferguson, who put so much of his life (and savings) into poetry, remains unacknowledged by the larger public. Gus has been such a generous mentor to many poets, and his own works are no less skilled for their being so humorous. In my eyes, he should be declared a National Treasure.


Foto | Johann de Lange & Joan Hambidge, 1990

$
0
0
Johann de Lange & Joan op die literêre sofa, DeKat 1990

Gedig | Joan Hambidge - Maria Callas (1923 - 1977)

$
0
0

A woman sings with her ovaries—you're only as good as your hormones.
Carol Neblett

La Divina,
temperamentis,
tessitura uniek;
die bybel van opera,
doop Leonard Bernstein
haar tereg.

Verewig
op 'n Griekse munt
uiteraard nadoods;
haar asse gestrooi
in die Egeïese see,
soos sy versoek.

Haar stem
onlosmaaklik
deel van haar lyf:
eers gewigtig,
dan afgeskaal;
uiteindelik, net-net tentatief.

Haar moeder, Evangelia,
te blameer glo
vir haar skuheid.
Sy sny haar los
van háár wat erkenning
en applous kleintyd terughou.

Die media en operahuise
word 'n temporêre vesting.
Nooit is dít genoeg;
telkens die terugtog
in herinnering
na die afwesige goedkeuring.

Giovanni Battista Meneghini
vergoed vir die vader onbestendig
en dan haar nemesis:
Onassis, betoweraar,
minnaar, woekeraar
tot Jacqueline Kennedy
op die toneel verskyn.

Haar lewe soos 'n opera:
liefde, verraad, skandaal
uitgespeel op die media-verhoog
waar almal kan hoon of klap
met haar terugkeer toe Ari,
'n glitz-bestaan, haar stem vunsig maak.

Die dénouement?
'n Gebreekte hart, 'n stem
wat skryn en skroei en stotter
tot 'n solo-bestaan
in die stad van lig en liefde,
ómhul met haar donkertes.

© Joan Hambidge

Resensie | Salman Rushdie - The Golden House (2017)

$
0
0

Salman Rushdie - The Golden House. Jonathan Cape, Vintage, 2017. ISBN 13: 9781787330153

Resensent: Joan Hambidge

Salman Rushdie is een van daardie begenadigde skrywers wat jou met elke roman verbaas. In elke roman herontdek hy die grense van waarheid en fiksie. Sy enorme verbeelding en spel met fundamentalisme het hom duur te staan gekom. The Satanic Verses in 1988 het gelei tot 'n fatwa en vir etlike jare het die Britte hom met polisiebewaking beskerm.

Die Moesliem-gemeenskap het nie goed op sy roman gereageer nie en ten spyte van kritici se geskrifte waarin die postmodernistiese aard en fiksionalisering uitgewys het, was hierdie gemeenskap ontstoke en het die boek as blasfemies ervaar.

Midnight’s Children (2008) word beskou as die “Best of the Booker”.

Met The Golden House wat sopas verskyn  het, is sy verteller deur ‘n aspirant-filmmaker, René Unterlinden, ‘n voyeur wat die storie van Nero Golden vertel.

Hy is jonk (iewers in sy twintigerjare) en die seun van gestorwe Belgiese akademici. Hy is erg suspisieus oor Golden se verlede en die dood van sy vrou. Was dit ‘n terrorisme-aanval in ‘n hotel? Hy hou sy siening vir homself, want hy beoog ‘n film, ‘n thriller, met sy bure daarin (115).

Golden is ‘n eiendom-taikoen in New York. Hier woon hy met sy drie kinders en neem as immigrant Manhattan aan as sy nuwe tuiste met sy drie kinders wat Romeinse name kry. Die verteller betree die ruimte op ‘n voorspelbare manier om meer te wete te kom. Daar is spermskenking en alles wat daarmee gepaardgaan. (Hier wil ek nie verhaal verder klap nie.)

In die VSA kan ander identiteite aangeneem word: ons dink hier aan die Belg, Paul de Man, die dekonstruksie-kritikus se politieke verlede en sy nuwe lewe in die VSA. Blindness and Insight speel hier in op die teks, nes Hitchcock se Rear Window met René as afloerder.

Rushdie gebruik die politieke agtergrond van die VSA en as die weldoener-staat. ‘n Mens kan nie anders met al die filmverwysings om twee belangrike tekste in te lees nie, te wete Francis Ford Coppola se belangrike Godfather-films (Deel I het in 1972 verskyn) en die film-outobiografie van Francois Truffaut in gesprek met Alfred Hitchcock wat in 2015 verskyn het as Hitchcock/Truffaut (regisseur Kent Jones).

Die Corleones is hier sterk aanwesig met die impak van familieskap en verraad.

Die “greening of America” het verander in ‘n nagmerrie sedert 9/11 en nou met Trump bykans as ‘n grotekse karakter uit ‘n Don DeLillo-roman soos Underworld(1997).

Rushdie gebruik sowel Griekse mitologie as Indiese verhale en fabels uit die Shaivisme.

In hierdie roman word veral identiteit en die politiek daaromheen ondersoek. Indië, verneem ons op bladsy 103, het nog altyd androgeniteit begryp. Die moderne kwessie van naamgewing word beskryf: ze, ey, hir, xe, hen, ve, ne, per, thon, Mx.

Met thon as ‘n kombinasie van daardie en een (111).

New York self word ‘n stad vol verlore verhale (99) en die leser dink aan al die mitologiese vergestaltings in verse róndom die Brooklyn-brug. Waarskynlik is hierdie ambisieuse roman ‘n antwoord op Tom Wolfe se Bonfire of the Vanities (1987), daardie uitgesponne satire oor klas, ras en gierigheid. Rushdie vat dit verder en doen dit beter. Ons is nou in die era van gender-kwessies (performing gender, Judith Butler) en wêreldonrus.

Die verwysingsveld is ryk. New York as ‘n mikrokosmos waar ‘n Akhmatova-digbundel in Columbuspark vergeet word met Sjinese wat kaartspeel, rig die teks verder. Silence of the Lambs is hier, nes the Hunt for Red October.

Almal vind ‘n tuiste hier: tog bly ‘n mens ‘n ekspat wat murmureer:

The past is a broken cardboard suitcase full of photographs of things I no longer wish to see (89).

Die magistrale storieverteller Rushdie laat egter nooit dat sy slimmighede ‘n leesversperring raak nie. Hy kan argetipiese patrone raaksien in die wêreld waarin ons ons bevind. Hy verduidelik aanneemlik hoe die Baba Yaga funksioneer.

Terrorisme teenoor die gender-sone. Daar word verwys na die “melancholy void”, die ongeneesbare wond wat New York geword het. MTF en FTM, gender fluid, bigender, agender, trans, genderqueer (73) en ‘n sydelingse opmerking dat omdat ons so onseker is, word die spel met identiteit alles.

In ‘n briljante vinjet boots ‘n hijra (eunug) Michael Jackson na in Moembaai (102). Alles word nabootsing, net die oorspronklike pyn is outentiek. ‘n Beskrywing van genderverandering word raak beskryf.

In die slothoofstuk word David Cronenberg betrek. Die liefhebber van films kry ‘n roman met ‘n dubbele lading met sowel storieteks as filmteks, die sogenaamde double-entry in filmteorie. Hans Christian Andersen se kortverhaal “Die skadu”  word betrek van die man wie se skadu hom verlaat, ‘n lewe van sy eie kry, oorneem en dan die werklike man vermoor nadat hy met die prinses getrou het, word die donker ondergrond van die vertelling …

Sheppey (1933) van Somerset Maugham oor die afspraak met die dood wat die man besoek en dan wegvlug juis in sy dood in, word ook betrek. Bollywood, die mockumentary, Batman …

Met Vasilisa wat hierdie babushka van ‘n roman simboliseer: ‘n poppie binne-in ‘n poppie.

Wat vertelling, wat ‘n boek.  ‘n Verfilming van die roman met Al Pacino in die rol van Nero met Casey Affleck as die jong filmmaker-verteller …


Met Woody Allen as regisseur.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Resensie | Karel Schoeman – Skepelinge: Aanloop tot ‘n roman (2017)

$
0
0
Karel Schoeman – Skepelinge: Aanloop tot ‘n roman. Human & Rousseau, 2017. ISBN 0-7981-7610-5

Resensent: Joan Hambidge

I
Hierdie inskrywing is net ‘n paar kanttekeninge by Schoeman se jongste teks, nadoods gepubliseer as Skepelinge – aanloop tot ‘n roman.

Vir Schoeman-liefhebbers is daar die plesier van lees, navors, nadink, terugkeer. ‘n Boek met endnote. In die koda bely die outeur dat die gedagte vir hierdie boek by hom uitgekom het tydens twee afsonderlike besigtigings van Sokoerof se film Russiese ark (2002), ‘n film wat ek waarskynlik al ses keer besigtig het, met al die onderhoude en nabetragtings rondom hierdie verruklike film.

Oor hierdie magistrale film het ek op 5 Julie 2017 geskryf en die verbintenis tussen Dan Sleigh se roman 1795 en hierdie film uitgewys wat die geskiedenis problematiseer en her-interpreteer (Woorde wat Weeg/ Rubriek | Dan Sleigh se 1795Besoek 25 Oktober 2017). Dit is ‘n 87 minute eenskoot-film. In die post-produksie is die film wel ge-“reframe": en gedeeltes is vertraag of vinniger gestel. (‘n Belangrike stuk inligting vir die leser van ‘n historiese roman; elke navorser interpreteer en raam sy roman vanuit ‘n bepaalde hoek. Dan Sleigh benader sake anders as Schoeman).

Hierdie dikke roman dek (in beginsel) die tydperk 1652 – 1795 en konsentreer op die uitseilende skepe van die VOC tussen Nederland en die Kaap.

Die outeur self beskou hierdie boek as ‘n hibriede skepping, iewers tussen feit en nie-fiksie; selfs as ‘n “historiese improvisasie”.

Hy gebruik die /Xam-gedigte in die Engels, want hy voel nie “gemaklik” met Antjie Krog se Bleek & Lloyd-rendisies nie, ofskoon hy dit wel “verblydend” vind dat dit bestaan. (In sy laaste outobiografiese tekste is daar ook stekies na Afrikaanse kritici te vinde.)

In die koda skryf Schoeman: “Die boek is saamgestel uit histories en wetenskaplik verantwoorde tekste, wat egter op suiwer subjektiewe en onwetenskaplike wyse gebruik is om ’n bepaalde siening van die verlede oor te dra, verweef met insidentele persoonlike betragtings oor geskiedenis, navorsing en skrywerskap.” Vir Johan Rossouw, ‘n besondere leser van Schoeman, is hierdie enkele sin die laaste woord oor die temas waaraan hy sy hele lewe gewei het. (Schoeman se laaste sin oor sy lewenswerk | Netwerk24. Besoek 25 Oktober 2017).

Die leser word ook verras met verwysings na T.S. Eliot se "Little Gidding" - kyk na voetnoot 551.


II

Hierdie teks moet benader word as 'n werkboek of 'n aanloop tot 'n roman. Dit vergelyk met postume tekste van bekende skrywers. 'n Mens dink hier aan Vladimir Nabokov se roman wat nadoods deur sy seun Dmitri saamgeflans is. Dit heet The Original of Laura (2009) en is gepubliseer ten spyte van die skrywer se versoek dat sy tekste vernietig moes word.

Wat wel tersaaklik is van sulke romans-in-wording, is dat dit die leser 'n kykie gee in die skrywer se manier van doen en dink.  By die skryf van hierdie bespreking luister ek na Dan Sleigh op RSG (28 Oktober omstreeks 1 nm) wat uiters kundig gesels oor presies wat 'n chronometer is en oor die betekenis van skeepsvaart. (Woorde wat Weeg/ Rubriek | Dan Sleigh se 1795Besoek 25 Oktober 2017).

Wat sou van hierdie boek geword het as die skrywer Schoeman verder hieraan sou werk? Of is die sjarme juis geleë in die onvoltooidheid?


III

Aanloop soos in program: aankondiging. 'n Roman met endnote en bronne. Asof jy hier in die werkkamer van die groot romansier staan wat vertel hoe hy skryf en uit sy groot omvangryke historiese boekery nog 'n boek maak. (Daar is glo veertien ongepubliseerde Schoeman-boeke op pad.)

Van Jung se beroemde droom tot Eliot en Fellini.

Van skeepsdokumente terug tot Shakespeare se Hamleten The Tempest (hier is 'n woord aangepas, nota 453).

Van John Campbell se Journal of travels in South Africa terug tot by Bontekoe!

"Met vriend die God geleyde" (311) kyk na die betekenis van persoonlike briewe. Individue uit die Kompanjiestyd sou immers iets verklap van daardie tyd ...

Meeste werknemers van die VOC kon nie skryf nie; verder is dit geskryf in standaarde wat toe gegeld het en meeste van hierdie briewe het verlore geraak.

40 000 onafgelewerde briewe is wel gevind op Nederlandse skepe. Hierdie oorlogsbuit - deur Brittanje - het in die Public Record Office in Kew beland en is gedeeltelik getranskribeer as Corpus Brieven als Buit.

Tog bied hierdie briewe min insae vir die navorser, maar analiseer hy wel 'n tersaaklike woordewisseling.

"Woorde. Stemme. Mense wat eens geleef en in kroeë gedrink en baklei het, of mekaar doodgesteek het met messe of met bierkanne, stoele of banke geslaan het sodat die bloed vloei" (318).

En dit is wat Schoeman uitsonderlik maak. Om stemme van die gewone mens aan die vergetelheid te ontruk. Om namens hulle te buikspreek.

As reisiger het hierdie leser die afdeling "Passasiers" insigryk gevind.

'n Diensmeisie kon net een kis met klerasie saamneem (vier voet lank, 2 voet hoog en breed). En sommige van hulle het op die vloer geslaap of op 'n skeepskis naas die kooi van hul werkgewer in die konstabelskamer.

Indien hulle wel 'n huwelik aangegaan het, het hulle 'n identiteit gekry.

Indien nie, identiteitsloos, blote "passasiers"; blote passante of deurreisendes. Dus ook misbruiktes. En hier lewer Schoeman sterk sosiale kommentaar wat feministiese skrywers lank sal besig hou.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Resensie | Steve Hofmeyr - Die onaantasbares (2017)

$
0
0
Steve Hofmeyr - Die onaantasbaresZebra Press, 2017. ISBN 9781776092680

Resensent: Joan Hambidge

Steve Hofmeyr is 'n sanger, akteur, opstoker, geselsprogram-aanbieder, gesprekspunt - én skrywer. En vergeet vir die oomblik van die openbare persona. 'n Volksfiguur is hy nou maar eenmaal, al hou jy nie van hom nie. Jy kan hom roast of jou buiksprekende pop teen hom opstel, maar hy sal terug kom. Hy is soos Jan Wilson se kat ...

Hy weet hoe om met die media te speel. Sy outobiografie in 2008 Mense van my asem was 'n topverkoper.

Oor sy romans het hierdie leser al positiewe resensies geskryf. Die man kan romans skryf. Dit is al in vorige resensies ook geuiter oor romans soos Vier briewe vir Jan Ellis (2010) en Kapabel (2012). Oor Valkuns (1997), sy digbundel, was ek minder entoesiasties.

Sy jongste roman heet Die onaantasbares. Dit word bemark as aksiebelaai, volwasse en brutaal. Dit betree dan inderdaad die skaduwêreld van huurmoorde en misdaad. James Bond ontmoet John le Carré met Deon Meyer in die agtergrond. Met 'n knipoog na Robert Ludlum. En 'n skeutjie Ruth Rendell. 'n Bietjie Wilna Adriaanse.

Al die bestanddele van die genre is hier. Die spioen of huurmoordenaar mag nie verlief raak nie. In James Bond is die wond die vermoorde vrou wat hom daarna harteloos en onwrikbaar maak.

En hy het ‘n “licence to kill”. In Ian Fleming se From Russia, with love (Jonathan Cape, 1957) lees ons:
At 7.30 on the morning of Thursday, August 12th, Bond awoke in his comfortable flat in the plane-tree'd square off the King's Road and was disgusted to find that he was thoroughly bored with the prospect of the day ahead. Just as, in at least one religion, accidie is the first of the cardinal sins, so boredom, and particularly the incredible circumstance of waking up bored, was the only vice Bond utterly condemned.
Emosies is dus taboe in die genre van die thriller.

Dieselfde geld Hofmeyr se hoofkarakter. Jy lees die roman met beklemming en met die enorme fantasie van geweld wat hier uitgespeel word. Inderdaad ‘n pornografie-van-geweld.

Politiek korrektes moet verbyhou. Dit is geskryf in ‘n hardepas-aanslag. Die verteller of fokalisator se gedagtestroom en dialoog word waarheidsgetrou weergegee.

“Niks heel jou siel soos ‘n strelende oordosis wraaksug nie” (101). Wraak en paranoia is twee woorde wat nogal opduik in die leser se gemoed wanneer jy hierdie teks benader.

Wanneer die ek herstel van ‘n aanval op hom, word dit as volg beskryf: Dit was ‘n narkotiese disko in Dante se hellevuur” (97).

Die roman word in verskillende hoofstukke verdeel met titels soos “Sleeping with the enemy”, “Psigoanaliseer dít, bitch”, “Fanta is vir fellatio”, ensomeer. Die pas is snel. Die navorsing uitstekend (kyk na hoofstuk 9:  “Dronetech WASP Mk4” en hoofstuk 22: “Cessna Skyhawk 172’) en die misogonisme (dikwels aanwesig in hierdie genre) ontstellend. Maar dit is hoe hierdie man is. Hy is verniel deur oorloë en huurmoorde; hierom sy laakbare optrede teen sy geliefde vrou. Hierdie passasie is erg ontstellend, maar karakter-getrou beskryf.

In Jerry Palmer se Thrillers - Genesis and structure of a popular genre (1978) word die aard van dié genre ondersoek. Palmer verwys na paranoia as 'n belangrike element in die afdeling "Competition and conspiracy: Paranoia as ideology".

Palmer verskaf hierdie handige tabel van opposisies wat so 'n verhaal stuur: 

Professionalism                Amateurism
                         Bureaucracy


Reciprocity                                    Ectopia
              One-way information flow

  
Experience                       Arrogance
                    Incompetence


Participation                    Isolation


Umberto Eco se The role of the reader (1978) analiseer eweneens die aard van hierdie soort vertelling.  Daar is sekere kombinasies of skuiwe en die leser moet dit probeer bemeester. Die naam van die roos (1980) werk immers met die thriller as matriks.

Eco beweer dat boeke altyd praat met ander boeke en Steve Hofmeyr se jongste teks praat met manlike beoefenaars van die genre waar daar dalk te "veilig" geskryf word?

En geweld is deel van ons samelewing met video-speletjies soos The Abbey of the Crime.

En die slot?

Hieroor moet die leser self besluit na die outentieke leeservaring van ‘n erg psigies-beseerde man wat die hoofbestanddeel van hierdie storie moet sluk, te wete: dubbel-spel.

Gaan kyk maar wat Bond oorkom in From Russia, with love.

In hierdie roman is die taal gekrui, die vuiste klap en daar is baie “geniepsige kinkels" in die storie. En in-grappies (‘n verwysing na Karlien van Jaarsveld), kommentaar oor die verspreiding van pornografiese materiaal en misdaad wat ons almal verlam in hierdie land.

Die een wat vir die blakerteks op die agterblad verantwoordelik was, moet weer dink:

"Almal is lief vir hom en lood penetreer hom nie. Hy dink mespunte breek teen sy groot hart."

Dis juis wat die roman nie doen nie.

Binne die sub-genre van vergeldingsliteratuur steek Steve Hofmeyr ‘n kleim af. 'n Liefdesdriehoek met ek, sy en die duiwel ...


Joan Hambidge is professor in Afrikaans en Kreatiewe Skryfwerk aan die UK.

Fiksie | Joan Hambidge - Die brief

$
0
0
Het jy 'n storie om te vertel? Ja, ek het. 'n Storie wat niemand sal glo nie. So reg uit 'n Borges-verhaal. Maar glo my, asseblief. Dit het regtig gebeur.

Op 'n Saterdag-aand neem ek 'n taxi in Kloofstraat net na 7. Na Burgstraat. Haiku, beduie ek.

Ek is pas terug uit Hong Kong waar ek en 'n vriendin 'n skouspelagtige nuwejaarsaand in die stad beleef het. Met vuurwerke.

In 'n restaurant eet ons pekingeend. Kyk uit oor die stad. Agter ons sit 'n man wat ons dophou. Hy lyk nes 'n man wat ek ook in Bangkok opgemerk het in die straat.

Die ou jaar lê in die asblik. Die nuwejaar is nog toegedraai in geskenkpapier.

Ons betaal die rekening en stap tot by 'n meter-taxi. Terug tot by die hotel in die middestad.

Later in die nag sien ek die man in die hotel. Hy sit in die kroeg wat niks meer bedien nie. Ek neem die roltrap verby die ontvangstoonbank van die hotel na buite om 'n sigaret te rook. Die boete om in die hotelkamer te rook is aansienlik. En my reisgenoot is boonop 'n nie-roker.

Die partytjie is verby. Die stad gaan more 'n enorme hang-over tegemoet.

Ek draai om.

"Het jy 'n lighter vir my?", vra die man. Op Afrikaans. Ons flits die gewone waar-kom-jy-vandaan- tot wanneer-keer-jy-terug-dialoog.

Hy woon in Johannesburg. Is hier vir sake.

"Ons reis net. Was in Bangkok vir twee weke." My vriendin aan die skei van haar man en ek besig om afskeid te neem van my maat. So 'n troos-reis met die gebruiklike uitruil van redes oor waarom dit nie meer werk nie. Sy tobbend oor Pieter; ek oor Hermien. Geen sms'e of boodskappe nie. Net stilte.

En die besef dat alles verby is. Die redes vir albei partye verskillend. Vir my die ontdekking dat sy eerder by 'n man wil wees.

Die man gee nie die gebruiklike besigheidskaartjie nie en ek ook nie. Wat sou sy sakereis tog behels? Speurder? Smokkelaar?

Oorkant ons hotel is die nagklub nog oop. Twee vroue steier die nag in. 'n Man agterna.

"Sal jy asseblief hierdie brief vir my pos in Suid-Afrika?"

Ek neem die brief en wonder waarom hy dit nie hier wil pos nie. Wie skryf nog briewe?

Ek druk my sigaret dood, groet en neem die roltrap. Dan die hysbak. My vriendin lê opgekrul in haar driekwart-bed. Die brief is vir 'n persoon in Kaapstad. Ek steek dit weg in my sak. Watter dringende boodskap is hierin opgesluit?

H. de Villiers. Toevallig dieselfde naam as my eks-geliefde?

Ek gaan badkamer toe, skakel die televisie af en slaap onmiddellik.

Dan wakker word. Brekfis. Lughawe.

Die reis is soomloos. Sy klim in Johannesburg af en keer huis toe. En ek reis terug Kaap toe. Met die brief in my sak.

Tot in my woning. Om dan die volgende dag die taxi te neem om 7 na Haiku.

Die tradisionele haiku is 'n gedig wat uit drie reëls bestaan met 17 sillabes. Met 5/7/5 sillabes.

Die vergete brief steeds in my sak. Langs my laptop.

In die donker Haiku onthou ek weer van die brief. Een van daardie briewe toegeplak met 'n gom wat jy kan ooptrek en weer oopmaak. Sonder om die brief te beskadig. So asof die versender sou weet jy gaan dit oopmaak ...

Ek besluit om dit te lees. Oorval deur nuuskierigheid maak ek dit oop.
Beste Hermien Teen die tyd wat jy hierdie brief sal ontvang, sal alles tussen ons verby wees. Eerder 'n brief as 'n sms of e-pos. Net vir jou oë bedoel. Ek gaan nie terugkeer nie. Ek is jammer om dit so oor te dra, maar ek sien nie meer kans vir 'n verhouding met jou nie. Ja, daar is iemand anders. Ek het nie die moed gehad om jou te vertel van haar nie. Sy woon in Johannesburg en reis nou saam met 'n vriendin na Bangkok via Hong Kong. Ek sien haar soms wanneer die vriendin op haar eie reis deur die stad. Sy is besig om te skei van haar man so ons kon nie saamreis nie. Maar ek gaan telkens tuis in dieselfde hotel.
 Ek is so verlief op haar dat ek enigiets sal doen net om by haar te wees. Ten spyte van ons verbintenis, was ek bewus van die vrou in jou lewe. Jy het nooit oop kaarte met my gespeel nie en hierom wil ek dit nou beeïndig. Jy sal altyd terug verlang na haar of na so 'n verbintenis. Die Johannesburgse vrou is waarin ek wil belê ..."
Toe ek opkyk, staan hy daar in die ingang van Haiku. Met my reisgenoot by hom.

In die donker restaurant kan hulle my nie sien nie. Ek maak die brief toe. Plaas dit in my sak.

'n Haiku is te minimalisties om my emosies te verwoord. Ek oorweeg 'n tanka. Die 31 sillabe-vorm geskryf in een reël. Die sogenaamde kort lied op Japannees.

Die liefde met haar
‘n Mount Fuji hoog met sneeu
koud, bitter ysig
maar binne waar niemand sien
‘n sluimerende vulkaan

Ek bestel pekingeend. Besluit om vir Hermien te sms:

Geskenk vir jou uit Hong Kong.Vuurwerke. Sien more gewone plek.

Laatnag sketter sy terug:

Hoor niks van hom... verlang na jou. Sien more. Wil alles hoor van die Ooste xxx

Ek is die laaste persoon in die restaurant. Neem 'n taxi terug huis toe. Sal ek vir Hermien die brief gee? Of wag dat sy hierdie storie lees en nadink oor die beginsel van Mark Twain:

“Truth is stranger than fiction, but it is because Fiction is obliged to stick to possibilities; truth isn't.”


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Die Burger)

Gedig | Joan Hambidge - Picasso: Guernica

$
0
0

Vir sommige kenners 'n innerlike konflik
van kleuterkind, vlugtend met sy ouers
in Malága tydens 'n aardbewing, aanskou
later die nag die geboorte van sy suster in 'n grot.
Dáárdie vlugtende perde met hoewe klappend
bly hom agtervolg, aldus Alice Miller, psigoanalis.

In die Museo Reina Sofia, Madrid vertel die gids
hoe die Baskiese stad om 16:30 26 April 1937,
só helder soos gister, vir twee ure lank gebombardeer
word deur Wolfram von Richthofen, glo Hitler
se regterhand en Francisco Franco se oorlogskontraktant,
om die anargiste en sosialiste in die bek te ruk.

Vir Pablo self, dui die perde op die mense van Guernica;
vir ander die bul of minotaur sý oerkrag, opgeteken
in my dagboek kort na ons stiergeveg, 'n ewebeeld

van so 'n iteratief-duratief: opstande van buite
resoneer met die geweld van binne, aldus
hierdie gedig, wat sonder hoewe onomatopeïes, ontspoor



© Joan Hambidge

Resensie. De Waal Venter - Oop sirkel (2017)

$
0
0
De Waal Venter - Oop sirkel. Naledi, 2017. ISBN: 978-0-928316-73-5

Resensent: Joan Hambidge

De Waal Venter se bundel Oop sirkel het sopas by Naledi verskyn.

Vorige tekste is Kiem,Pols en Klawer (saam met D.P.M. Botes en Menno Stenvert).

Daar is ook ʼn Engelse digbundel Entangling States of Mind(2010) beskikbaar. Hierdie skrywer is kortverhaal- en jeugboekskrywer. Hy is bekend in die wêreld van verhoog- en radiodramas.

Lesers van Versindaba sal bekend wees met sy goeie artikels oor minder bekende Spaanse digters en vertalings, onder andere van Tomas Tranströmer uit Sweeds en van Pablo Neruda uit Spaans.

Dit sou handig wees as hierdie vertalings in boekvorm kan verskyn – gedagtig aan Uys Krige se Spaanse dans (1991) en Ballades van Villon(1987).

In ʼn stuk op Versindaba (Versindaba » De Waal Venter. Die vertaler as lewerikBesoek 26 September 2017) wys Venter tereg daarop dat vertalings dikwels verouder; hierom sou ʼn mens inderdaad ʼn klomp digters wou sien wat Neruda of ander groot digters her-vertaal.

Sekere woorde het outyds geraak en hy skryf:
Dit is merkwaardig hoe vreemd die Afrikaans uit die dertigerjare vir ʼn hedendaagse leser kan voorkom. Woorde soos sterfling, ieder digters, swyend-stom, toebeskoor, klaarte ens. verwag mens nouliks in ʼn moderne gedig, om nie eers te praat van gesprekstaal nie.
Die titel van die pas verskene digbundel moet so gelees word: “ʼn Sirkel het geen punt wat as “voor” of “agter” beskryf kan word nie. Enige punt op ʼn sirkel het presies dieselfde status as enige ander punt", aldus die publisiteitspamflet.

Afdeling I & III handel oor die persoonlike geskiedenis, terwyl die tweede afdeling oor die liefde handel. In die vierde afdeling kom die filosofie en wetenskap aan bod. Die vyfde en sesde afdelings betrek humor en ironie en die sewende een handel oor die digkuns. Die laaste afdeling bevat prosagedigte.

In J.C. Kannemeyer se beknopte Die Afrikaanse literatuur 1652 – 2004word verwys na die ek-gesentreerde poësie van hierdie digter, wat nie ʼn wesentlike beswaar mag wees nie. Hy verwys na die ‘weinig beelding’ en swak liefdesverse (460).

Van die generasie waartoe Venter behoort het met sy beginjare as digter, het Breytenbach die sterkste na vore gekom en ʼn ander tydskrif-genoot, Wilma Stockenström het weer op haar beurt ʼn besondere stempel afgedruk. Die digter het in 1963 gedebuteer.

Venter se verse sluit dan aan by die losser gestruktureerde verse uit die sestiger- en sewentigerjare. Hierdie soort vers werk assosiatief en wentel rondom opsetlik disparate én teenstrydige beelde. Hierom haal hierdie leser dan die kwessie van ʼn ouer idioom aan wat hy aanraak oor vertalings. Vir my gevoel is sy verse in ʼn ander toonaard geskryf as die sterker gestruktureerde verse van Johann de Lange of byvoorbeeld Johann Lodewyk Marais of Martjie Bosman.

Hier is opwindende idees - veral oor die wetenskap en die gedig wat op sigself inbuig - in die bundel te bespeur, maar selde is daar vuurwerke in ʼn gedig. Dikwels is dit net verkapte prosa, omdat die digter slim idee wil oordra, soos “Droom muskiete van elektriese skape?” (73) “Onbekende digter’ (109) klink so:

Hendricus van Laatmijgen
is geheel en al onbekend
in die geskiedenis van die Nederlande
van die sewentiende eeu …”

“Poësie is die ware taal van die ongetemde gemoed!”, meen die digter op bladsy 108.

Hierin probeer hy bepaal wát die ware gedig is, al dan nie. Maar selfs hier in die getob oor die kunsvorm, bly dit net stelling. Dieselfde geld “Poësie as ʼn organisme” (103) waar ons die lewenskrag mis van die gedig.

Ons vind talle self-bewuste of narcistiese verse wat handel oor die digterskap in ʼn voortdurende soeke na die “ware gedig”. Selfs met ʼn gewapende skeut ironie en Linda Hutcheon se Irony’s Edge in jou leessak, sukkel dit.

ʼn Sentrale vers handel oor Einstein en Dr. Seuss wat nie hou van lyn-teorie nie (70).

Einstein en Seuss hou nie van die lyn-teorie nie

Doktor Seuss en professor Einstein
drink bier
in ʼn ersatz Switserse kroeg
in ʼn Los Angeles
wat voortdurend opgedateer word.
Einstein skommel ingedagte ʼn paar dobbelsteentjies in sy hand:
“God speel nie hiermee nie,”
sê hy koppig.
“Tyd is ʼn pretzel,”
antwoord doktor Seuss,
tel een op en hap daaraan.
“Eienaardig dat ek sit en gesels
met ʼn fiksionele karakter,” mymer Einstein.
“Nie so vreemd as die werklikheid nie,” glimlag Seuss
en vat ʼn teug van sy bier.
“Nou watse hoed is dit daardie van jou?”
vra Einstein.
“Ons hou daarvan om verskillendes te dra,
ek en my neef.”
“Neef?”
“Ja, hy’s ʼn bietjie van sy kop af, ʼn hoedemaker.”
Einstein dink ʼn bietjie. En dan: “Watter hoed
dra jy nou?”
“Die een waarin die heelal ʼn ballon is,”
verduidelik Seus en vee sy bolip af.
“Die een sonder vaste lyne.”
Einstein se snor glimlag.

Die leser word uitgenooi om die bundel op enige plek oop te maak en onderlinge verwantskappe raak te sien. Die voorblad (parateks) aktiveer ʼn diskoers van on-eindigheid. Vir my lyk dit na ʼn komputer wat uitmekaar gehaal is - die bord wat jy sien. So maak hierdie bundel prosesse in die digkuns en wetenskap oop.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Gerda Taljaard en Deborah Steinmair – Hartlam. Kortverhale oor die liefde (2017)

$
0
0
Gerda Taljaard en Deborah Steinmair– Hartlam. Kortverhale oor die liefde. Tafelberg, 2017. ISBN 9780624082736

Resensent: Joan Hambidge

I
Die lees van die bundel kortverhale word gelees teen die agtergrond van die #MeToo-beweging wat nou in volle swang is. Vroue van regoor die wêreld kom na vore. Mans ook. Kevin Spacy is nou uit ‘n film verwyder; House of cards se opvolg is gekanselleer.

Hierdie nuwe beweging is so oud soos die berge. Dit staan opgeteken in Euripides se Die vroue van Troje (Troades) 415 vC waar vroue na die Trojaanse oorlog in opstand kom teen verkragting en die geweld van die oorlog.

Die gesiene akademikus, Franco Moretti van Stanford word eweneens van verkragting aangekla.  Hy ontken dit ten sterkste en reageer op die aanklag dat dit konsensuele seks was.

Hoe moet ‘n mens hierdie aanslag of problematiek benader? As gender-teoretikus moet die analis gedistansieerd hierna kyk.

Is dit vroueregte wat na vore kom? Die mag van die vrou, die stemlose wat stemhebbend geraak het? Is dit die slagoffer wat besef dat sy / hy nie langer stilgemaak sal word nie?

Is dit ‘n aanslag teen celeb-status en rykdom en dat mense sonder ‘n gewete ander mense se lewens oorneem sonder om hulle regte in ag te neem? Is dit die “sobbing sisterhood of morality” wat skuldig voel oor hul Dionisiese verlede en nou hulself probeer reinig soos Camille Paglia dit klinkend opsom? (Camille Paglia – Wikipedia. Besoek 12 November 2017). 

Seks is en was nog altyd ‘n gevaarlike terrein. Die Rooikappie-verhaal is immers die belangrikste matriks vir hierdie spel.  As jy nie na die moeder (tradisie) luister nie, betree jy ‘n gevaarlike sone.

Twee romans wat dit voortreflik beskryf het: Erica Jong se Fear of flying en Philip Roth se Portnoy’s complaint.Eersgenoemde verskyn in 1973; laasgenoemde in 1969.

Eersgenoemde analiseer die “zipless fuck”; laasgenoemde parodieer masturbasie.
The zipless fuck is absolutely pure. It is free of ulterior motives. There is no power game. The man is not “taking” and the woman is not “giving”. No one is attempting to cuckold a husband or humiliate a wife. No one is trying to prove anything or get anything out of anyone. The zipless fuck is the purest thing there is. And it is rarer than the unicorn. And I have never had one.
Isadora Zelda White Stollerman Wing, 29 jaar oud, met twee digbundels agter die blad, besoek Wenen saam met haar man, en raak verlief op ‘n ander man. Dit speel alles af in die stad van Freud tydens ‘n psigoanalise kongres. Humor en kwinkslae maak van hierdie roman 'n groot klassiek. En 'n topverkoper. Agter die skerms was daar glo konflik met haar suster wat gevoel het dat 'n gedeelte van haar lewe gekaap is deur Jong. 

By Roth, soos Hermione Lee uitwys in haar studie Philip Roth (Methuen, 1982), is daar psigoanalise, vervreemding, erotiese obsessies, pornografie, stedelike geweld, Joodse geskiedenis, politieke skuld (en aandadigheid).

II
Om hierdie kollektiewe opstand in Hollywood te probeer begryp, moet 'n mens so ver teruggaan as die sestigerjare toe seks uit die kas gekom het. Die dokumentêr rondom die porno chic-film van 1972, Inside Deep Throat (2005), werp ten beste lig op hierdie kwessie. Bekendes het dit gaan kyk, Jack Nicholson, Warren Beattie; selfs Jackie Kennedy. Dit verduidelik die verandering in mores. Dit is asof daar nou, in 2017, teenreaksie is op hierdie uitbundige seksuele rewolusie waarop onder meer Camille Paglia, Norman Mailer, Erica Jong, en Dr Ruth kommentaar lewer. (Inside Deep Throat – Wikipedia. Besoek 13 November 2017).

Die verhaal van Linda Lovelace is oorbekend. Die ster van die rolprent het later vertel dat sy gedwing was om in die film op te tree en die kyker kan inderdaad die merke van geweld op haar arms sien.

Lovelace se verhaal is van belang wanneer 'n mens die ontboesemings lees van vele vrou teen rolprent mogul Harvey Weinstein. 

Die oorweldigende reaksie van simpatisante is dat die sisteem hierdie vroue só gemanipuleer het dat hulle nie anders kon as om saam te speel nie. Nou, by nabaat, is dit 'n opstand teen 'n manlik-gedomineerde sisteem waar Hollywood-base vroue sonder agentskap kon misbruik.

Dit is relevant om daarop te let dat Lovelace, wat in 'n motorongeluk sterf nadat sy in verset gekom het teen haar status as porno ikoon, nie die enigste een was wat 'n prys betaal het nie. In die dokumentêr is dit die akteur Harry Reems wat teenoor Lovelace speel wie se loopbaan en lewe verwoes is deur die morele beswaarmakers.

In Julie 1974 word hy deur die FBI gearresteer, omdat hy obseniteit versprei het. Hy word later op appèl wel vrygeskeld, maar sy lewe, dit bely hy in die dokumentêr, is  verwoes. Hy word 'n verslaafde, verloor sy huis, sy vriende ...

En boonop word hy die rol ontneem van Coach Calhoun in die rolprent Grease, omdat gevrees is dat sy reputasie die verkope sou benadeel. Net soos die ontslag van Spacy waarskynlik 'n finansiële eerder as 'n morele besluit was.

In 2013 sterf Reems aan pankreas-kanker nadat hy tot bekering gekom het en 'n “church gypsy” geword het.

Met die kyk van hierdie film (en die onderhoude wat as ekstras aangebied word), kry die kyker 'n besondere blik op die Nixon-era, Watergate (die geheime informant was immers Deap Throat gedoop), die peter-meter, en die algehele opstand teen 'n gerepresseerde samelewing. Daar is selfs 'n Harry Reems-klub gestig met “stoute” mans wat die porno-ster bewonder het.

Die dokkie wys op vele ironieë. Die morele verontwaardiging is deur Nixon aangevuur. Deep Throat was die naam wat vir die geheime informant gegee is wat dokumente laat uitlek het wat tot Nixon se ondergang gelei het. Die film het ook vele grappe uitgelok, soos 'n skerpskertser (stand-up comedian) wat onder meer spot dat hy die teater besoek het en onder die indruk was dat die gehoor asmaties was! Die rol van die mafia word ook uitgewys – hulle was deel van die verspreiding.

Vir Linda Lovelace was dit alles pynlik. In onderhoude bieg sy, na die publikasie van haar memoir, dat elke keer wanneer iemand na die film kyk, word sy van voor af verkrag.

Ná haar seksuele bekering word sy deur Gloria Steinem ondersteun.

'n Kommentator meen dat die grootste vyande teen vryheid in hierdie tydperk die feministe was wat hul volledig agter Lovelace as slagoffer geskaar het.

'n Verdere ironie: wanneer Lovelace wel teen die film draai, poseer sy om den brode as glansmodel vir 'n tydskrif.

III
Hartlam is 'n outydse en familiêre troetelnaam wat dui op liefde. Die handvol verhale vertel en verklap baie van hierdie toestand. Gevestigde en minder bekende skrywers is uitgenooi om verhale voor te lê wat die hele spektrum van die liefdesdiskoers analiseer.

Die subtitel heet “kortverhale oor die liefde”. Hier is liefde, erotiek, wellus, ensomeer aanwesig.

Hierdie verhale aktiveer die “narrative as mouth”, soos Hermione Lee dit noem in haar studie oor Philip Roth (10). 

In die aangrypende openingsverhaal van Christine Barkhuizen-Le Roux verhaal “Bouwerk” word die moeder se pynlike reaksie op 'n dogter se “woman-identified”-kondisie geanaliseer. Sy word uitgesluit van die dogter se troue wat skerp in haar gemoed afspeel, en rondom stilte tussen haar en die eggenoot (“Die stilte is ’n dooie, stinkende hond in die huis”) probeer sy berusting vind oor die dogter se keuse om met 'n vrou te trou in 'n vreemde land. Sy en haar man word nie genooi nie en dit is vir die tobbende Malie pynlik dat sy uitgesluit is van haar dogter se troue. Saam met Tielman bou sy, in haar eie woorde: “Ek ook, antwoord sy binnetoe. Ek het vir my kind ’n kerk gebou. Een sonder klippe.”

'n Verhaal wat sterk resoneer met die aanklagte van #MeToo is “Liefdesoffer” van Antoinette Venter.

Hongernood tydens die oorlog lei tot ellendes. (“Wat het 'n onskuldige vyfjarige seuntjie tog met die Duitsers, die Engelse, Smuts, die Ossewabrandwag of die Stormjaers uit te waai?”, 133).  Meneer verlei Leen vir kos. Boeta en sy word “gered” - met funeste gevolge. Helena se vroumenslappies word nie meer opgehang nie en sy raak swanger tot haar moeder se woede.

Op 15 Augustus 1945 basuin Die Diamantvelder die nuus uit dat die oorlog verby is en Helena neem die kind na man se vrou wat elf jaar lank sukkel om swanger te raak. Haar liefdesoffer plaas sy dan in die vrou se arms.

Die slot is treffend: “’n Honger wat nooit gestil sal word nie.”

Hierdie verhaal kon net sowel herskryf word met 'n Hollywood-aanslag. Aktrises moet seksuele gunste lewer vir 'n rol ... (met hierdie kennis, wonder ons nie meer oor hoekom Gwyneth Paltrow gehuil het toe sy die Oscar ontvang het vir Shakespeare in love nie ...)

Hierdie verhaal wys dan 'n oeroue patroon uit: vroue wat deur mans gemanipuleer word.

Henning Pieterse se “Twee wette” wys op die wedersydse kontrak en wat kan gebeur as die kontrak deur een party verander word. Vir die man, 'n one night-stand. Vir die vrou, jonger as hy, iets meer.
Hy, middeljarige dosent en aspirantdigter, neem deel aan ’n reeks poësievoorlesings tydens ’n jaarlikse kunstefees. Hy is gelukkig getroud, en uit ervaring weet hy daar is gewoonlik groepstertjies by hierdie funksies – jong meisies wat hul onskuld by ’n “woordkunstenaar” wil verloor, huisvroue wat hul fantasieë wil bewaarheid oor ’n skrywer wat by hul leeskring opgetree het, ouer vroue wat ongemerk na die jonger digter probeer loer. (233)
Die jong maagd word obsessioneel, teister die digter en sy vrou en die slot is grillig. Daar is bloed wat vloei. Inderdaad twee wette: een vir die vrou, een vir die man.

“Ek is omdat ons is” van Pieter van Zyl maak slim van intertekste gebruik. Onder andere Gabriel García Márquez en Eben Venter. Love in the Time of Cholera. Ek stamel ek sterwe.

Die gevaar van verbintenisse. Vir die een verby; vir die ander tobbend, verlangend.

“Dit ruik na liefde” van Marié Heese aktiveer op 'n besondere wyse die bedreiging wat intimiteit impliseer.

Die lot van 'n ouer vrou in 'n ouetehuis met 'n besoeker resoneer met die gevare wat seksualiteit inhou. Sy ken hom nie - in haar toestand van demensie, ervaar sy gevaar. Al verloor sy woorde, is hierdie oerpatroon in haar onbewuste ingraveer.

Heese, 'n ou hand,  impliseer meer as wat sy skryf.

Hierdie verhaal ondersoek dus die “in here” versus “out there” van seksuele interaksies (Lee, 80).

Op die voorblad van Hartlam is daar 'n kykende oog. Tans beleef ons 'n morele inkeer, 'n mea culpa, mea maxima culpa-aanslag van ek-het-oortree-en-my-seksualiteit-gebruik-of-ek-is-misbruik versus die uitbundige viering van seks. 

As jongeling het ek iets hiervan meegemaak in New York in 1980 toe ek Oh! Calcutta! en HairOff-Broadway in New York op die verhoog gesien het, en The Devil in Ms Jones en Deep Throat op 42nd Avenue gaan kyk het in 'n sleazy porn-teater.

Toe het ek Henry Miller ingesmokkel terug Suid-Afrika toe, aan die doeanebeampte oorhandig wat dit later gepos het na my tuisadres om studie-doeleindes.

O quel cul t'as! (What arse you have) het die titel Oh! Calcutta! geïnspireer.

Nou het alles so dramaties verander dat Isadora Wing en Portnoy kritiek sal uitlok.



Resensie | Gilbert Gibson - Die sin van die hut (2017)

$
0
0
Gilbert Gibson - Die sin van die hut. Human & Rousseau, 2017. ISBN-13: 9780798176934
Resensent: Joan Hambidge

Die sin van die hut is die vyfde digbundel van Gilbert Gibson wat in 2005 gedebuteer het met Boomplaats. Hierna volg Kaplyn in 2007, oogensiklopedie in 2009, [vii]in 2013 en vry- in 2015. Hy is bekroon met die Proteaprys vir poësie en die Elisabeth Eybers-prys. ‘n ATKV-Woordveertjie en SALA is aan hom toegeken.

Deur die jare het ek telkens waarderend op Gibson se bundels gereageer. (Woorde Wat Weeg/ Gilbert Gibson - Vry-, 2015. Besoek 21 November 2017).

Die algemene  indruk wat sy bundels op hierdie leser maak, is een van ‘n toegewyde bemoeienis met die digkuns. Dit is gedigte wat heel dikwels handel oor die skryfproses, oor die soeke na betekenis, oor die hermeneutiek-van-skryf (en lees). Dit is daardie soort gedig, in Jonathan Culler se woorde in Structuralist Poetics, wat die verhouding tussen die paradigmatiese en sintagmatiese relasies uitdaag. Die leser weifel voortdurend tussen die korrekte lesing van ‘n gedig en al die moontlike implikasies wat ‘n gedig impliseer.

Die bundel se motto is van Gaston Blanchot: "The house, from cellar to garret. The significance of the hut.” Die huis kom telkens in verskillende vorme na vore in die bundel. Die huis as simbool van die self, soos Jung en vele psigoanaliste meen. Blanchot, ‘n rasionalis en wetenskapsfilosoof,  is bekend vir die epistemologiese breuk of hindernis en sy invloed, o.a. op Jacques Derrida se siening van uitgestelde betekenis of différance, is oorbekend. Die teks wat altyd aanspraak maak op die buite-teks.

Vir Derrida werk woorde met uitgestelde betekenisse en die arbitrêrheid van betekenis word vooropgestel.

Titels word tussen parenteses geplaas en twee verse, (luister) en (kyk) (64 – 65) praat met mekaar. Intertekste is daar vele, soos Wallace Stevens (10), en Emily Dickinson (77) o.a. Stevens se beroemde “Anecdote of the jar”:
I placed a jar in Tennessee,
And round it was, upon a hill.
It made the slovenly wilderness
Surround that hill.
 The wilderness rose up to it,
And sprawled around, no longer wild.
The jar was round upon the ground
And tall and of a port in air.
 It took dominion every where.
The jar was gray and bare.
It did not give of bird or bush,
Like nothing else in Tennessee.
Oor Stevens se modernistiese gedigte, het vele kritici al geskryf: die gedig wat inbuig, eintlik terugbuig op sigself en die wegbeweeg van die gedig wat op 'n een-tot-een-vlak iets oor die werklikheid moet sê.  Gibson vat dit verder in 'n postmodernistiese aanslag waar die gedig aanspraak maak op 'n veelheid van betekenisse. Sy gedigte is dan "groundless" en oneindig. Die gedigte is opsetlik gefragmenteerd en wil ook nie noodwendig iets sê oor die realiteit nie. "Dis al" word "Dis alles" ... (Postmodernism in poetry. Besoek 26 November 2017).

In die slotvers "(bouval)" (78), word daar nommers langs elke reël geplaas en ja, daar is 14. Dit speel dus met die struktuur van die sonnet. Die leser moet voltooi en vrye assosiasie is hier aan die orde van die dag.

John Ashbery se "The burden of the park" word opgeroep:
Each is truly a unique piece, 
you said, or, perhaps, each 
is a truly unique piece. 
I sniff the difference. 
It’s like dust in an old house, 
or the water thereof. Then you come 
to an exciting part. 
The bandit affianced 
to the blind man’s daughter. The mangel-wurzels 
that come out of every door, salute the traveller 
and are gone. Or the more melting pace of strolling players, 
each with a collapsed sweetie on his arm, each 
tidy as one’s idea of everything under the sun is tidy.  (...)
 (Jacket 2 - John Ashbery poem/ The Burden of the Park. Besoek 26 November 2017).

So lui nog 'n vers van Gibson:
(drumpel) 

Soos ’n wang oor ’n mond.
Neem jy stelling in teen die loopgrawe
van meubels wat oor die drumpel
bal en klou om later die res
van die huis met onrus te vul.
Buite blaf die honde jou
hande talm oor my hande.
Jou koel vingers die natuur van ’n leunstoel
wat uit die oorsprong
van kussings jou naels dof laat flikker.
In jou oë blink die vloer
en kalm dink ek dan kalm
geen onnodige roering roer
Terwyl ek hierdie bespreking skryf, haal ek die battery van my selfoon uit om dit in 'n ander meganisme te laai. Ek sien die buik van my selfoon en die simkaart.

Hierdie gedigte wys hulle binnegoed vir jou en jy as leser moet self alles weer inmekaar pas en die selfoon aanskakel.

"I sniff the difference", in Ashbery se woorde.

Dis vir Gibson-aanhangers en ook vir dosente wat hierdie soort intellektuele vers moet behandel. Die leser wat die teks as scriptibleeerder as lisible (in Roland Barthes se terme) benader.

In sy studie oor Seamus Heaney (Methuen, 1982) skryf Blake Morrison oor die digter se werkswyse: "Heaney is aware of the charge that there is perhaps something unhealthy about this constant brooding on dead languages and cultures. He answers it through self-caricature, dramatizing himself as the most famous dramatic character of them all:
I am Hamlet the Dane, 
skull-handler, parablist, 
smeller of rot

in the state, infused 
with its poisons, 
pinioned by ghosts

and affections, 
murders and pieties, 
coming to consciousness 
by jumping in graves, 
dithering, blathering.
(Viking Dublin/ Trial Pieces - Seamus Heaney Poetry Analysis. Besoek 26 November 2017).

Iets van die kritiese besware neem ons ook van kennis in hierdie bundel. Maar dit is vir my 'n ryk, geskakeerde bundel.

Huldeblyk | Eybers 10 jaar herdenking

$
0
0

Elisabeth Eybers © Lia Laimböck

So klink 'n puntdig vir Eybers:

Elisabeth Eybers

Altyd in balans, in ewewig:
afgeweeg simmetries 'n gedig.

 (uit Matriks, 2015)

Nou onlangs dig ek weer oor haar:

Arachnida

'n Spinnekopnes
ágter my badkamerdeur
neem my na ons behendige digteres
se besinning oor só 'n gebalde buik.
'n Bottel Bulgari stuur 'n kalant,
segsman vir dié geslepe spul,
óndroewig na sy verdoemenis.
Wis dié swernoot die eienares
allergies, in extenso, vir gif
van harige, poterige gediertes?
Indemniseer? Begrafnishou?
Vir sodanige migrante se okkupasie
(helaas nou in absentia) wig
sy eerder 'n liederlike lykdig.

Hierdie gedig, uit my bundel Astrak waarmee ek steeds woeker, som my bemoeienis met Elisabeth Eybers op: meer spesifiek Eybers in haar bundel Balans (1962).

Eybers is vir my, soos Opperman en Van Wyk Louw, digters wat my tegnies boei. Natuurlik is daar Wilma Stockenström, Sheila Cussons, TT Cloete en Peter Blum onder andere, maar die triade, Opperman, Louw en Eybers het waarskynlik te make met my ontdekking van hul verse in die Standertonse hoërskool se biblioteek in die laat sewentigerjare. Van hierdie verse het ek van buite geken.

Daar is baie belangrike temas in Eybers se digkuns. Moederskap, ontheemding, afskeid (en vertrek), van lewe tússen twee kontinente, liefdesverbintenisse, die afsterwe van geliefdes, liefdesverse, die vriendskap met Olga Kirsch, 'n ander "bannelingdigter",  die "vroulike aanvulling tot dertig", ensomeer. Die eiesoortige taal (oftewel tussentaal soos Ena Jansen dit benoem het) is kenmerkend net soos die ironiese wendings (ons dink hier aan "Wespark") en nou onlangs in 'n genderkursus kon ek ryklik put uit haar oeuvre om genderkonstruksies uit te wys en die ambivalensies wat in haar gedigte huiwer. Niks is ooit finaal nie; alles is 'n en-en-posisie. Of dalk of-en? Kruis of munt (1973) heet 'n uitstaande bundel.

Vir my as digter is sy die meester, of moet ek eerder skryf, meesteres, van die distigon en sonnet. Haar bemoeienis met die "edel spel" van die digterskap, is opvallend.

'n Digter se grootheid word nie alleen bepaal deur haar plek in die kanon nie, maar ook op die aantal reaksies op haar werk. 'n Mens dink hier aan die merkwaardige ooreenkoms tussen Eybers en Emily Dickinson soos uitgewys deur Lina Spies in die studie Die enkel taak: Die merkwaardige verwantskap tussen Elisabeth Eybers en Emily Dickinson wat in 1995 verskyn het. Verskeie literatore het al haar lof besing: die reeds genoemde Jansen in haar doktorale studie van 1992: Afstand en verbintenis. Daniel Hugo sonder haar uit as 'n belangrike digter.

Ek het Eybers tweekeer in my lewe ontmoet in Amsterdam. 'n Briljante vrou met 'n belangrike kennis van presies wát sy goed of sleg vind in ons letterkunde.

By meer as een geleentheid is daar palinodes op haar verse. My bundel Vuurwiel (2009) begin met 'n boodskap aan Eybers.

In 'n parodiese antwoord "Digteres as huisvrou" besing hierdie digter haar lof.

Digteres as huisvrou

Vir Elisabeth Eybers

Altyd ‘n Mr Delivery-boks teen die muur,
nooit ‘n besoeker op die onvanpaste uur.

Agendavolle dae waardeer sy gatvol,
moerig van vergadering na vergadering tol.

Wasgoed wat deur haar Bosch-masjien swaai,
sewe stelle klere plus gymbroeke aan die draai.

Eksamenskrifte, e-posse, verslae op haar lessenaar
(‘n Toring van Babel), neffens kritieke wat stof vergaar.

Tussendeur skryf sy stiekem gedigte wyl sy werk,
haastig beweeg van dead-line tot dit wat haar binneste versterk.

O muses, wees haar genadig:
laat haar maar parodies dig!

In my bundel Matriks (2015) word daar opnuut met haar gepraat via die aangrypende skildery van Marlene Dumas:

Elisabeth Eybers

Marlene Dumas 

Ek staan nie voor jou portret nie,
nee, dit afgetrek van ‘n webwerf
http://www.arttoday.be/dumas3-2.html
waar elke uiting, gedagte, kliek
opgevang en bewaar word:
selfs gedigte, moet jy weet,
word tans blitsig elektronies versend.
Anders as ‘n brief van jou aan my,
met ongebruikte posseëls
- vir hergebruik, maan jy ironies - 
in die koevert toegevou
teen ‘n slakkepas 
uit ‘n verre Amsterdam.
Nes die skilder wat langsaam
jou portretteer, beskilder en uitstal.
Hierdie is nie ‘n brief nie,
dis ‘n opname van ‘n kyker
wat ‘n gesprek tussen
 ‘n skilder en digter
opteken en verdraai. 
“Stil en helder en apart”
kon jy, predikantsdogter
uit die dorre Wes-Transvaal, 
jouself in woordportrette plaas.
Hoe raam ‘n mens tog ‘n vers?
Was die digkuns werklik
‘n onderdak of ‘n blote tussensang?
Hoe voel jy neffens Naomi Campbell
of Amy Winehouse? 
In my troebel halfjaar
is dit jou oë
stip, agtervolgend
wat iets verraai:
voetjie-vir-voetjie
word mens woordimmigrant,
bekyk jy die lewe
vanuit ‘n sobere afstand,
is dit kruis of munt,
immer immer ter wille
van die ander dors 
se hartritmiek.

Is daar gunsteling gedigte van Eybers? Uiteraard te veel om op te noem, maar beslis: "Wes-Transvaal", "Herinnering", "Emily Dickinson", "Amasone", "Huiskat", "Röntgenfoto", "Oorsig", "Taalles", "Twee kleuters in die Vondelpark", "Ode aan kontroleur de Laar", "Mammektomie", "Woordeloos".

So lui 'n paar:

Navrae

Die aard van angs is dat dit tydelik kwel.
Verdriet, volgens 'n ou ballade, duur
twaalf maande en 'n dag, tot op die uur.
Die ritueel van rou is vasgestel.

Vreemd, van berou word nie so veel vertel.
Waar vind 'n mens 'n betroubare gedig
om jou oor die vervaldatum in te lig
van daardie individueler hel?

(Balans, 1962)

 Vir Bert

Noudat jy swyg is daar niks meer
vir my om ooit nog te begeer
buiten die tydstip waarop ek
dieselfde stilte mag bereik.

In die Engelse weergawe klink dit so:

Now that you’re mute there’s nothing more
that I could still be hankering for
except the freedom to abstain,
like you, from uttering words again.

(Valreep / Stirrup-cup, 2005)

Die gebruik van twee tale illustreer hoe behendig sy dig. Die twee gedigte, wat naas mekaar geplaas word, kry so gelees nuwe betekenisse, word herlaai met implikasies. Dus ‘n soort intratekstualiteit waarin die leser bewus bly van die feit dat ‘n geslaagde gedig uiteindelik te make het die digterlike vermoë om deur woorde iets raak te vat. Nie in enige woorde nie, maar in woorde wat daardie onderwerp skerp en finaal kan beskryf. Eybers het ‘n reeks gedigte geskryf waarin sy bewys gelewer het van hierdie uitsonderlike talent om ‘n netjies afgewerkte gedig te skryf waarin geen woord of beeld uit plek is nie. Ook haar Engelse gedigte is knap vertalings soos ons sien in die volgende gedig:

Pyn

Pyn, met grimasse, met dierlike klanke,
Kan sterker dan wat ook jou wese versteur
En tog is jou egtheid juis daaraan te danke
En word pyn byna nooit uitermate betreur.

Pain

Although pain with wry faces, with animal sounds,
Is irrefutable apt to reveal
Some derangement, regret for it stays within bounds:
There is nothing like pain to confirm that you’re real.

Oor haar bundel Valreep het ek soos volg geskryf in 'n blog (Woorde Wat Weeg/ Eybers 100. Besoek 30 November 2017):
Hier het ons vintage Eybers: ironie, keurige woordgebruik, vormbeheer en lewenswysheid. Sy bly ‘n grande dame van ons digkuns en om op negentig wat nog so te kan dig, is met een woord verstommend. Sy skryf ‘n vers wat gepuur, dus suiwer is. Dit is gedigte wat met bykanse distansie aangebied word, maar juis hierom tref die pyn of ‘n gevoel die leser met groter skerpheid.
In 'n brief aan my na die verskyning van Ewebeeld (1997) skryf sy: "Dit beloof baie vermaak en genot ondanks die versengende emosie."

En dit is wat 'n mens veral by haar leer: die digkuns as noodluik, maar waar emosie teruggehou moet word ...

Daar is maar een Eybers, en na Eybers keer mens telkens terug. Die neerslag van haar buitengewone talent sal altyd imponeer en inspireer.

© Joan Hambidge

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Media24)


Gedig | Joan Hambidge - Jackson Pollock: Reflection of the Big Dipper

$
0
0

When I am in my painting, I'm not aware of what I'm doing.
- Jackson Pollock

Skilder van messe, stokke en rollers
werp sy woede senutergend uit
oor die Great American Dream,
'n hopelose vergissing.

In November 1939
by die Guernica in die MoMa,
snap hy meteen die waansin van Kuns:

The only people for me are the mad ones,
the ones who are mad to live, mad to talk,
mad to be saved, desirous of everything at the same time,
the ones who never yawn or say a commonplace thing,
but burn, burn, burn like fabulous roman candles
exploding like spiders across the stars
and in the middle you see the blue centerlight pop
and everybody goes 'Awww!

In November 2017
my bed action painting
vol senu-merke van nagmerries:
'n Argwaan
oor spinnekoppe
wat nooit sterre
of kerse
word
nie.

Beeld verplaas toepassing
in hierdie gedig skilderend
sonder

begin of einde.

© Joan Hambidge

Resensie. Elsa Joubert - Spertyd (2017)

$
0
0
Elsa Joubert - Spertyd. Tafelberg, 2017. ISBN 9780624084327

Resensent: Joan Hambidge

‘n Wonderlike geweld (2005), Reisiger (2009) en nou Spertyd. Dit is die memoires van Elsa Joubert. Die jongste boek is 207 bladsye en dit lees vlot. Dit ‘n merkwaardige boek van ‘n skrywer wat op 95 haar lewe sonder enige sentimentele aanslag vir die leser aanbied.

Sy vermeld die rol van haar kinders en meer spesifiek, haar seun Nico se aanmoediging met die woorde dat sy altyd vreemde plekke besoek het en nou betree sy, in sy woorde, die “kontinent van die ouderdom”. Sy bedank die Berghof-personeel vir hul ondersteuning in die tyd wat sy al hoe “krankliker” geword het.

Enige leser wat ‘n met ‘n bejaarde persoon in aanraking is (of was), sal kan identifiseer met die pynlike ervaring van broosheid (vir sowel die buitestaander as die ouer mens), die afwagting van die dood (‘n taboe-onderwerp in Berghof), die terugkyk op ‘n lewe wat verby is. Indien dit ‘n skrywer is, word ander ervarings bygebring: ‘n letterkundige sisteem wat verander het (hier het Etienne Bloemhof kon oorneem by Riana Barnard) en ‘n politieke sisteem wat daagliks transformeer.

Kyk hoe mooi praat Etienne Bloemhof oor haar boek (Spertyd deur Elsa Joubert/ bekendstellingstoespraak | LitNet. Besoek 5 Desember 2017).

Joubert, ‘n sterk bekroonde skrywer, het immers haar hele lewe lank oor die politiek geskryf: daar was Die swerfjare van poppie Nongena (1978), die reisvertellings, Die reise van Isobelle (1995), te veel om op te noem. ‘n Gunsteling vir hierdie leser bly Die Wahlerbrug (1969).

Hierdie vertelling heet spertyd – soos in dead-line – en hier volg ‘n paar indrukke.

Die boek is absoluut meesleurende leesstof. Ek het dit letterlik in twee sittings deurgelees. ‘n Mens beweeg saam met die skrywer van ervaring na herinnering. Sy skryf: Herinnering wat diep in my hart verbore was, kom nou so sterk na my terug, ander beelde dring tot my deur …” (76). ‘n Paar paragrawe later vra sy: Kan ek my geheue en verbeelding uitmekaar hou? Die landskappe van die gees vloei in mekaar in.” (77)

En dit is wat die leser tref in hierdie bewussynstroom-tegniek: herinneringe, ‘n nadink oor die lewe en spiritualiteit. Sy bely dat min van hulle Sondae kerk toe gaan en sy wonder saam met ‘n vriendin oor die rol van die kerk.

Die vertelling-in-herinnering gaan terug na sleuteloomblikke in haar lewe, waarskynlik momente wat haar as skrywer gevorm het. So ‘n vertelling is die ervaring op ouderdom tien toe hulle op reis is. Padkos met toebroodjies en hoender. Die moeder onthou dat sy vergeet het om die hoender die vorige aand in die yskas te sit en nou is dit op reis nie meer vars nie. Die vader gee opdrag aan die dogter (nie die seuntjie nie) om die hoender aan die karretjiemense te gee. Tog vandag nog wil sy vergifnis vra om die bedorwe hoender wat sy vir hierdie mense gegee het.

Jung het by geleentheid daarop gewys dat ‘n mens in jou ouderdom by jou essensie uitkom. In ‘n film oor sy lewe verwys hy na die agtermiddag van jou lewe en die reis na binne (Senior Circles/ Carl Jung's theories on aging - Baltimore Sun. Besoek 5 Desember 2017). 

Spertyd sit vol vinjette wat vir die leser en Joubert-liefhebber sleutels gee tot haar sosiale gewete.

Dit is ‘n boek waarin die skrywer hardop dink, o.a. oor taal. Sy nuanseer telkens haar gevoelens. Enersyds is sy krities oor die Afrikaner se groepdenke (met Afrikaans wat nou ook in die spervuur is); andersyds weet sy Engels is die wêreld- en kompertaal. Sy is wel ‘n taalpatriot, bely sy, en maan ons om eerder die klein erfie wat jou toebedeel is, te bewerk (128).

Daar is herhalings wat te make het met die sirkelgang, met herbesoeke, met hardop-dink.

Vriendskappe word beskryf (Audrey Blignault, Rita Scholtz, Annari van der Merwe, die taxi-bestuurder …) en die belangrikheid van haar kinders en kleinkinders – en natuurlik: haar man, wyle Klaas Steytler, ‘n onderskatte skrywer.

Wat Elsa Joubert skryf oor die behoud van boeke, moet ons almal ter harte neem. Hoe boeke (regte boeke) vertroos. Sy verwys na ‘n boek uit 1926, Sahara, en hoe onmoontlik dit sou wees om hierdie boek op elektronies te lees. Hoe boeke om haar staan, wegraak, asemhaal, ja dit kan ‘n mens nie vergeet nie.

Eweneens boeiend, is die verhouding met haar liggaam en siekte; die agterbaksheid van die liggaam. Dan is daar ‘n sterk besinning oor stilte wat in ons almal skuil.

Boeiend, prikkelend, sensitief …

Gedig | Joan Hambidge - Elisabeth Eybers: Pegasus (2017)

$
0
0


Gespierde hings, my teuelgreep tem jou trots,
boetseer die ritme van jou vaart ...
Elisabeth Eybers: 'Amasone'

Die aard van dig is dat dit immer bly dikteer;
dit wis jy met afstand en ironie as selfbevestiging.
In die verte tot woordimmigrant gepromoveer,
ry jy perd in die vleuels van jou verbeelding.
Uitermate, uitgedien is elke digterlike verweer,

'n antwoord op jou, niks meer as selfverloëning?


© Joan Hambidge
Viewing all 819 articles
Browse latest View live