Quantcast
Channel: WOORDE WAT WEEG
Viewing all 819 articles
Browse latest View live

Rubriek | Joan Hambidge - Is die Kanon in sy kanon?

$
0
0

Die meester-diskoers oor wat ’n “goeie” gedig is, word hier en elders te lande gedekonstrueer en herbesoek. Vier nuwe digbundels by Naledi.


I

In sy gesaghebbende studie oor kanonisering, The Western Canon: The Books and School of the Ages (1994), skryf Harold Bloom ons leef in die tyd van onsekerheid en kan nie nou al bepaal watter stemme binne die Engelse letterkunde oor ’n dekade die toon sal aangee nie.

Dieselfde geld die Afrikaanse digkuns, waar soveel uiteenlopende digters tans publiseer. Lina Spies het onlangs verminderend hierna verwys as “op die lopende band”, maar die paradigma van die Groot Kanoniseerder (soos D.J. Opperman of André P. Brink) word deur hierdie menigte aanslae ondermyn of ondergrawe – van Kaaps tot korrekte Afrikaans; van die gedig as fotostaat tot praatvers; van postmoderne verse tot estetiese verse; van die gedig-as-knapsekêrel tot loodsware erns . . .

Bo en behalwe NB-uitgewers het Protea Boekhuis en veral Naledi die afgelope tyd sterk bundels gelewer, soos Knapsekêrels van Pieter Fourie, Sulamiet van Spies en ’n nuwe Daniel Hugo-bundel, wat in 2018 verskyn.

Die “kleiner” uitgewer buite die tradisionele hoofstroom het inderdaad ’n plek en bestaansreg. Dink maar aan Wilma Stockenström wat indertyd by De Reijger-uitgewers (van Wilhelm Grütter) verskyn het totdat Opperman haar raakgesien het.

Wat volg, is ’n bespreking van tendense soos dit na vore kom in vier bundels wat die afgelope maande by Naledi verskyn het. (Lees in hierdie verband ook Hein Viljoen se insigryke bespreking in Stilet 22(2) van September 2010. Dit verskyn ook op Versindaba (www.versindaba.co.za) – tik “Groot avonture in die onlangse Afrikaanse poësie” by die soekbalkie in.)

Hier sowel as in die buiteland word die meester-diskoers van wat ’n “goeie” gedig is, gedekonstrueer en herbesoek. Vir elke sytak – postkoloniale diskoers, gay-diskoers, eko-gedigte, politieke verse, of wat ook al – is daar inderdaad ’n ander manier van lees.


II

Op die vingerpunte van die heelal deur René Bohnen. Prys: R175

René Bohnen debuteer in 2000 met Spoorsny en volg dit op met In die niks al om (2011). In haar jongste bundel, wat handel oor die natuur en wetmatighede, spreek die digter sowel die plasma om die son en sterre aan as die votum en meditasie. Ook opvallend is die verwysing na digterlike vorms en tegnieke (onder meer koeplette, rondeel, kwatryne, sonnet, metafore, groen gedig . . .) wat ’n tematiese lyn vorm én ’n bemoeienis met die digkuns illustreer.

Verder is die digter voyeur, sy skryf oor reiservarings en die dood, en lewer sterk ekokritiek. Daar is ook verse oor die kunsteorie en fotokuns, en vir die digter is kuns ’n manier van gedigte nader roep.

Dit is ’n bundel van terugkyk en terugflitsverse wat nie-chronologies, bykans in sirkelgang, gelees moet word. Amanda Lourens som dit klinkend op in haar resensie op Versindaba: Sy wys daarop dat ons in hierdie dae van soveel debatte oor wat “goed” of “sleg” is, eerder na die hartklop van elke bundel moet luister.

Hier gaan dit om die “eilandjies van stilte” en, meen hierdie leser, ook om ’n spirituele ervaring van die lewe wat die digter wil deel:

want in die vakmanskap se sirkelgang
teken gedigte net
die grade van vryheid aan (bl. 36)


III

Vuurvas deur Carel Anthonissen. Prys: R190

Carel Anthonissen se debuutbundel, Vuurvas, met ’n mooi voorblad van ’n vuurlelie wat groei te midde van (of as gevolg van) brande, bevat religieuse sowel as aardse verse. Op die agterflap beskou Marlene van Niekerk dit tereg as ’n meditasie en ’n belydenis. Ook loutering . . . inderdaad word niks gelouter of gesuiwer sonder pyn nie, wat Van Wyk Louw se “Vroegherfs” oproep.

Vir hierdie leser is die mooiste verse die eenvoudige oomblikke wanneer meditasie, belydenis en loutering saam plaasvind, soos in die gedig “Wete” (bl. 80):

vanoggend met die dag se
aankoms in die stad –
die stad met sy gedrang
wéét ek opeens hoe diep
Jy reeds in my sisteem
geskag is
ook deur my bloedstroom 
vloei

Daar is ’n hand vol verse in Vuurvas wat beslis nie verminderende resensies verdien nie: “Bergklimmer” (bl. 29) met die gespook van alleenwees, die gesprekke met die vader en die afskeid aan die moeder asook die aangrypende “Wintersaandgebed” (bl. 73) sal in die onthouboek van die digkuns – of sekerlik myne! – opgeteken bly.

An Appetite for Poetry (1989) deur die Britse literêre kritikus Frank Kermode, wat al deur Nina Auerbach die “psalmis van literatuurteorie” genoem is, sal belangrike sleutels vir hierdie bundel verskaf.


IV

Die Goddelike komedie deur Dante Alighieri, vertaal en verwerk deur Cas Vos. Prys: R175

Cas Vos se vertaling van Dante se Die Goddelike komedie is uiters ambisieus. In Afrikaans vind ons Dante terug in motto’s of intertekste, onder andere by Leipoldt, Van Wyk Louw, Opperman, Blum, Cloete en Pirow Bekker.

Verskillende vertalings van hierdie magistrale gedig word aangestip waarvan Robert Pinsky se Inferno (1994) vir my ’n hoogtepunt bly. Net soos in Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte raak die vertaler te geselserig in sy inleiding, soos op bl. 41: “Soms, net soms, kan daar dalk ’n vars briesie trek.”

Die digter situeer die gedig histories en wys op die geskiedenis van Florence en presies dít waarteen Dante gepolemiseer het. Insigryk word die leser herinner aan die struktuur van die canto’s en die canticas: “Inferno”, “Purgatoria” en “Paradiso”. Die ingewikkelde terza rima is by Vos aangepas. Sy tersines is in ’n aba-cdc-efe-rympatroon vertaal.

In die middel van ons lewensreis
het ek my in ’n donker woud bevind –
ek het die regte pad van die hand gewys.
Ag, hoe moeilik om woorde te vind;
alles so wild en woes, so donker en dig
as vrees my met elke gedagte verblind!

Die bundel bevat aantekeninge vir die speurende leser wat verdere navorsing wil doen. Soos die digter skryf: “soveel sinne, soveel gode”, en die leser kan dit vergelyk met ander vertalings binne die letterkunde. In Afrikaans was daar Delamaine du Toit, wat sy boeke self moes uitgee, maar later deur die Akademie bekroon is, en as jong student het ek die Italiaans vergelyk met Dorothy L. Sayers se vertalings.

Ten slotte is daar drie gedigte van Vos opgeneem: “Die stryd van Aleppo”, “As die gode afdwaal” en “Jesus en Dietrich Bonhoeffer” waar die noot hoog ingesit word.

Hier vind ons reëls soos:

Vlieë vroetel behaaglik met hul voetjies
aan sy wonde en slurp sy bloed (bl. 118)

Die vertaling is dus sterker as die oorspronklike gedigte.


V

Oop sirkel deur De Waal Venter. Prys: R175

De Waal Venter is ook bekend as vertaler en kortverhaal- en jeugboekskrywer, en sy nuutste digbundel, Oop sirkel, volg op Kiem (1963), Klawer (1966, saam met D.P.M. Botes en Menno Stenvert), Pols (1975) en die Engelse bundel Entangling States of Mind (2010). Volgens publisiteitsmateriaal moet die titel van die nuwe bundel só gelees word: “’n Sirkel het geen punt wat as ‘voor’ of ‘agter’ beskryf kan word nie. Enige punt op ’n sirkel het presies dieselfde status as enige ander punt.”

Afdeling I en III handel oor die persoonlike geskiedenis, terwyl die tweede afdeling oor die liefde handel. In die vierde afdeling kom filosofie en wetenskap aan bod, die vyfde en sesde afdelings betrek humor en ironie, en die sewende handel oor die digkuns. Die laaste afdeling bevat prosagedigte.

In J.C. Kannemeyer se beknopte Die Afrikaanse literatuur 1652-2004 word verwys na die ek-gesentreerde poësie van hierdie digter, wat nie ’n wesenlike beswaar mag wees nie. Hy verwys na die “weinig beelding” en swak liefdesverse.

Van die geslag waartoe Venter behoort het ten tyde van sy debuut, het Breyten Breytenbach die sterkste na vore getree, terwyl Wilma Stockenström op haar beurt ’n besonderse stempel afgedruk het. Venter se verse sluit aan by die losser gestruktureerde verse uit die 1960’s en ’70’s wat assosiatief werk en wentel om opsetlik disparate én teenstrydige beelde. En so moet dit ook benader word.

In Oop sirkel is opwindende idees, veral oor die wetenskap en die gedig wat op sigself inbuig, te bespeur, maar daar is selde vuurwerk. Dikwels is dit net verkapte prosa omdat die digter ’n slim idee wil oordra, soos “Droom muskiete van elektriese skape?” (bl. 73) en “Onbekende digter” (bl. 109), wat só klink:

Hendricus van Laatmijgen
is geheel en al onbekend
in die geskiedenis van die Nederlande
van die sewentiende eeu. . .

Op bl. 108 meen die digter “poësie is die ware taal van die ongetemde gemoed!” en probeer peil wát die ware gedig bepaal, maar selfs hier in die getob oor die kunsvorm bly dit dikwels net stelling. Dieselfde geld “Poësie as ’n organisme” (bl. 103) waar ons die lewenskrag mis van die gedig.

Ons vind ook talle selfbewuste of narcistiese verse wat handel oor die digterskap in ’n voortdurende soeke na die “ware gedig”. Hier is Kermode nogmaals tersaaklik: In die genoemde teks tree hy in gesprek met Culler dat literatuurkritiek voortdurend aannames moet ondersoek oor wat goed/sleg in die digkuns behels.


VI

Persoonlik verkies hierdie leser die gedig met min woorde. Die tyd van onsekerheid, van onrus in Bloom se terme, maar die kleiner uitgewer bring die wins van vergelyking.

© Joan Hambidge


(Hierdie rubriek word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Fiksie | Joan Hambidge - Konterfeitsel (2017)

$
0
0
I

Ek lees vandag in die koerant se In memoriam van jou dood. 'n Foto van 'n veel jonger jy, die effens lonkende blik, die familie se medelye. Sonder die oorsaak van jou dood. Maar tussen die reëls staan dit dáár.

Ek plaas die koerant neer en dink na oor ons verbintenis. Toenadering van jou kant wat deur die jare driftiger en gevaarliker geword het.

Voel ek 'n verlossing? Voel ek aandadigheid? Dit was immers ek wat ...

My sielkundige het versoek dat ek, vir die wis of onwis, 'n verslag moet skryf in geval daar 'n verdere ondersoek plaasvind. In 'n gedistansieerde, sober aanslag. Sonder enige leuens of verdigsels.

II

Goed dan. Ongeveer twintig jaar gelede begin jy (ongevraag) met my te korrespondeer in handgeskrewe briewe. Bykans elke dag is daar 'n brief van jou. Dit word persoonliker. Dit begin my bedreig. Ek versoek jou om nie verder kontak te maak nie.

Ek, die romanskrywer toe woonagtig op 'n afgeleë dorpie, genaamd P.

Jy hou egter aan. Later begin jy my handskrif naboots.

Ek ignoreer jou verdere briewe. Op 'n dag bel my uitgewer my. "Hier is 'n manuskrip van jou. Maar ek kan dit nie publiseer nie. Dis iets wat jy al vantevore beter gedoen het."

Ek verduidelik aan haar van die briewe. Van die man se aanslag op my lewe.

Dit is in die dae voor die hoogbloei van postmodernisme en sy is nie beïndruk met die spel nie.

Sy stuur 'n afskrif van die brief aan die jong man aan my, die ouer vrou.

Daarna publiseer hy wél 'n roman waarin ek sydelings 'n rol vertolk. Die roman word nie deur die kritiek goed ontvang nie. Dis nou tien jaar later. Pastiche, skryf een resensent. Nabootsing, meen 'n ander.

Konterfeitsel, dink ek. 'n Verhaal waarin hy onbewustelik soos ek wil wees en my identiteit probeer kaap.

Ek verlaat die platteland en trek stad toe. Hy woonagtig toe op 'n ander dorpie in die Vrystaat.

My roman Begeerte begin vorm aanneem. Ek skryf 'n roman-binne-in-'n-roman met verwysings na werklike insidente en mense.

Die jong man publiseer 'n tweede boek. Hy dra selfs sy pen dwars in sy hemp soos wat ek graag doen vir vinnige notas of idees. Hy dra 'n Gucci-bril, nes ek. Gerugte doen die rondte dat hy ook dieselfde fabrikaat motor as ek ry.

Dat hy alles van my wil weet ...

III

The 'imitations' of A Sentimental Journey are uniformly disastrous - turgid, farcical and insipid, skryf Iain McGilchrist in Against Criticism (Faber & Faber, 1982, 151) oor Sterne se nabootsings in Tristram Shandy.

In Tennessee Williams se A Streetcar named Desire meen die desperate Blanche Dubois die dood is die teenoorgestelde van begeerte.

Of dalk is dit eerder waansin?

IV

Die ontknoping?

Ek het met hom begin korrespondeer, sy handskrif begin naboots en 'n roman in sy naam ingehandig wat tot 'n uitgerekte lastereis gelei het en hom finansieel geruïneer het.

Maar niemand kon ooit bewys dat ek daarmee iets te make had.

Dis tog alles net 'n spel, nie waar nie?

Opperman se blik-op-blik.

© Joan Hambidge

Polemies | Susan Sontag 'n feminis? 'n Nota (2017)

$
0
0
I

In haar resensie van Sitting pretty: White Afrikaner Women in Post-apartheid South-Africa van Christi van der Westhuizen ("Hoe ry die boerinne sit-sit so", 12 deser) meen Hannelie Booyens dat wyle Susan Sontag 'n feminis was. Dit is helaas nie die geval nie. Sontag is gereeld gekritiseer dat sy nie standpunt ingeneem het vir vroueregte nie en in 'n beroemde debat tussen haar en Adrienne Rich, die befaamde Amerikaanse digter in die New York Review of Books in 1975 meen sy dat feministe is "all too eager to dump the life of reason (along with the idea of authority) into the dustbin of 'patriarchal history.'” Dit is Sontag se siening; nie myne nie. (Sontag v. Rich/ Or, Before Feminism Went Pastel | The New Yorker. Besoek 17 Desember 2017).

'n Ruk gelede het Francois Smith vir Camille Paglia as 'n feminis tipeer. Eerder 'n gender-teoretikus wat heel skerp is oor die "sobbing sisters of morality."

Daar is bepaald verskillende feminismes, maar 'n uitgesproke vrou is nie noodwendig eensgesind met 'n ban-the-man, #MeToo-aanslag nie.

Gender-kwessies is bepaald meer kompleks.

II

'n Kritikus wat Sontag as feminis lees, begryp nie hierdie skrywer se komplekse siening van gender en die rol van die intellektueel nie. (Vir 'n volledige bespreking sien Woorde wat weeg | Vyf essays oor Sontag. Besoek 18 Desember 2017).

Die intellektueel moet gedistansieerd waarneem en ten spyte van feministiese aanvalle op haar, het sy hierdie rol bewaar. Haar persoonlike verhouding met Annie Leibovitz is iets heel anders net soos die dokumentêre rolprent, Regarding Susan Sontag (Nancy Kates, 2014) veel verklap van haar lesbiese verhoudings.

Sy vertel van haar liefde vir boeke en hoe sy soms as jongeling wanneer sy die guts had 'n boek gesteel het uit 'n boekwinkel.

Onderhoude, voorlesings uit haar werk, haar eie stem, 'n verteller (voice over) gee 'n blik op hierdie briljante, enigmatiese vrou. 

Oxford, Parys (waar sy Barthes leer ken het) en later New York waar haar essays oor fotografie, lees, films, menseregte steeds bly staan.


Bibliografie:

Regarding the Pain of Others (2003)

Where the stress falls (2003)

In America: A Novel (2000)
Conversations with Susan Sontag (1995)
The Volcano Lover: A Romance (1993)

Alice in Bed: A Play in Eight Scenes (1993)
The Volcano Lover: A Romance (1992)

Under the Sign of Saturn (1991)

The Way We Live Now (1991)

On Photography (1990)

Against Interpretation, and Other Essays (1990)
Illness As Metaphor; And, Aids and Its Metaphors (1990)
Aids and Its Metaphors (1989)

Illness As Metaphor (1988)

Against Interpretation, and Other Essays (1986)

A Susan Sontag Reader (1982)

Under the Sign of Saturn (1980)

Against Interpretation, And Other Essays (1978)
I, Etcetera (1978)
Illness As Metaphor (1978)

On Photography (1977)

Brother Carl; A Filmscript (1974)

Duet for Cannibals; A Screenplay (1970)

Styles of Radical Will (1969)

Against Interpretation, and Other Essays (1966)

© Joan Hambidge 

Gedig | Joan Hambidge - Moeder: foto uit haar jeug

$
0
0

 Op 'n ou vergeelde foto sit my moeder,
onbekend tot nou vir my, die kyker,
op Kersdag 2017 stil gepresenteer
met ander foto's aan haar erfgename.
'n Foto het 'n punctum,weet ek danksy
Barthes en ander kenners van camera lucida.
Toé was foto's uniek, minder alomteenwoordig
met selfies en sosiale media. Eenmalig selfs,
vir die digter wat probeer bepaal, verstaan:
wie was die fotograaf, wat dié geleentheid?
Was sy reeds verloof, onbewus van dié afdrukke
en een wat haar lewe sou opskryf in gedigte,
'n ongevraagde quodlibet,in 'n blinde huis

waar foto's in 'n boks stof en versreëls opgaar?

© Joan Hambidge

Gedig | Joan Hambidge - Walter Meyer: Richtersveld (2017)

$
0
0

vir Amanda


Klippe wat stom is, word rotse wat praat,
my onderskrif vir jou sobere Richtersveld.
'n Vetplant verraai daar was lewe daar
in 'n landskap ongenaakbaar, ontroosbaar.
Mespunt-presisie, benoem 'n kritikus jou werk,
met isolasie as die lei-motief en tematiek.
Oop en bloot, in 'n vensterlose voertuig:
asof jy één word met jou Umwelt tot en met
jou einde, 'n dramatiese ironie soos vlyme.

© Joan Hambidge

Polemies | Joan Hambidge – Steinhoff ons Dallas? 'n Polemiese nota (2017)

$
0
0
I

In 1978 het ons Dallas begin gekyk, daardie televisiedrama met Larry Hagman as die grypsugtige, onderduimse olie-taikoen. Bekend om die cliff-hangers soos “Who shot J.R.?” het die reeks boeiend gebly tot in 1991.

In die volksmond was dit bekend as “die gejok en gefok van die kinders van oom Jock”.

Jock Ewing het weer uit die dode opgestaan in die vorm van 'n Steinhoff-sage. Southfork is nou Stellenbosch met 'n taikoen wat resiesperde besit, 'n wynplaas, 'n huis in Hermanus, 'n vermeende minnares met 'n Bentley en vele eiendomme, ryk kinders, 'n straler en wat nog. En 'n rags to riches-verlede. Bosmanstraat in Petoorsdorp. 'n Kind op ouderdom twaalf wat deel word van die pret van weddenskappe.

Boonop word eiendomme nou sommer platgeslaan om iets beters of groters te bou.
En as 'n naburige restaurant nie behaag nie, word dit ook uit die pad gevee. Die huis op die rotse (hoe simbolies) se bouery is inmiddels gestaak.

Nou is daar 'n cliff-hanger. Wat is volgende? 'n Sepie met die titel “Die geknersus en gekerfus van ou Merkus”? Sal Kevin Spacey dalk belangstel na House of cards?

Hoe lyk dit Charlize Theron?

Gaan die state alles verklap? Die Joostestreke openbaar word?

Is dit waar dat 'n miljoen in Stellenbosch 'n mouton heet en 'n biljoen 'n wiese?

Vriende en kennisse het baie verloor in hierdie debakel. Dan praat ons nie eens van werkers se pensioengelde nie. En soveel mense wat dalk hul werk gaan verloor nie.

Waar was die direkteure toe hulle die boeke moes afteken? Dalk elders aan diens?
Daar bestaan 'n urban legend dat aan die einde van elke episode van Dallas op 'n Dinsdagaand het New York se rioolsisteem gelol, omdat almal gelyk badkamer toe gegaan het. Ons watertekort kan egter nie so 'n rioolprobleem hanteer nie.

II

Die impak van van ons eie Southfork het verdere implikasies. 'n Kollega weet te vertel dat wanneer huise in Stellenbosch platgeslaan word, dit vinnig moet gebeur sodat geen wasbak, vensterraam of deur in die hande van 'n bouer beland wat dit dalk tweedehands kan verkoop of hergebruik nie. Dit moet alles vinnig gebeur sonder om te besef hoe dit ander mense se lewens raak. Die gaping tussen “haves” en “have nots” word dus al hoe groter.

Daar word glo gespog oor hoeveel vermoënde beleggers op hierdie dorp “verloor” het in hierdie fanfare – net om te spog oor hoe ryk hulle eintlik is. Dis nou wat gebeur wanneer krummeltjie brood word.

III

Die dirty business of Dallas word nou herhaal in hierdie eg-Afrikaanse drama. Dallas het 357 episodes beleef en die ingeligtes en kundiges voorspel dat ons nog vir baie lank van hierdie skouspel in dagblaaie gaan verneem.

Rykdom, mag, seks en die voortdurende stryd tussen die Ewings en die Barneses word nou verplaas na 'n spanning tussen die Joostes en die Wieses.

In Dallas is daar 'n stryd tussen goed en kwaad; al is dit net in die kyker gesetel. (Besoek 30 Desember 2017).

Nou is die cliff-hanger wanneer die Steinhoff-direksie al die vrae gaan beantwoord?

Die oorspronklike verhaal van Dallas handel oor bedrog (cheating) oor olie en 'n vrou wat afgevry word. Beesboedery word nou vervang met renperde in ons eie skouspel.

IV

Iemand het op Jooste se Hermanus-huis thief en con-artist geverf. Net soos 'n kuberkraker op sy wikipedia-profiel onvleiende eienskappe aan hom toegedig het.

In die oorspronklike Dallas-produksie was daar main cast departures.

Ons onthou almal Jock Ewing se “misterieuse” dood in 'n vliegongeluk in Suid-Amerika en Bobby se dood wat alles net maar 'n droom was van Pamela Barnes Ewing ...

Die vraag is op almal se lippe: waar bevind Markus Jooste hom tans?


Of repeteer hy vir sy rol in Markus does Ballas?

© Joan Hambidge

Gedig | Joan Hambidge - Fernando Botero (2017)

$
0
0
Groter-as-lewensgroot
oftewel, Boterismo,
staan die vettes op ‘n ry
langs Park Avenue,
op die Champs-Élysées,
in Sante Fé de Bogotá
as politieke kommentaar
grotesk en oorvloedig geëtaleer.
Barokke oordaad, meen kenners
van die verre Colombië tot NY.
Eating one’s heart out,
nes morsdood van die honger,
'n kenteken van dié Botterbul.
Skigtig, dié was onse Fernando
nooit met ontheiligings nie;
nee, hy wys vinger én boud
vir al die beserkte bombaste
en skenders in Abu Ghraib.
'n Selfportret wys hom op
as misprysend oor dié vergrype
in 'n kunstige metempsigose.

© Joan Hambidge

Gedig | Joan Hambidge - Oupa Frank: plaashuisie (2018)

$
0
0

Dit sal nooit die lys haal van die-beste-skilderye,
hierdie plaashuisie met sy skewe trapleer na bo.
Vir bykans niks hierdie erfporsie gewaardeer en ontken:
my familiegeskiedenis aan vaderskant se verbroue.
Sy beroemde skoonsuster Ta' Maggie word erken én herken,
wyl my Dowe-Oupa-Frank net uit die verf kom in mý onthoue.

© Joan Hambidge


Rubriek | Joan Hambidge - Literêr-teoretiese speurverhale (2018)

$
0
0
I

‘n Roman The Seventh Function of Language deur Laurent Binet is ‘n eiesoortige speurverhaal wat in 2017 verskyn het. Dit is die opvolg van sy roman HHhH (2010). Hierdie roman word in die Mail & Guardian as ‘n satire beskryf. En satire is dit bepaald. (The 7th Function of Language by Laurent Binet review – who killed RolandBarthes? | Books | The Guardian. Besoek 1 Januarie 2018).

‘n Kollega, Louise Viljoen, gee my vir die wenk van hierdie roman, terwyl ek besig is om ‘n artikel te skryf waarin Roland Barthes se beroemde outobiografiese biografie Roland Barthes deur Roland Barthes die objek van ‘n ondersoek is. Binet se roman is ‘n speurverhaal oor die dood van Barthes en maak van die wasgoedlorrie-insident ‘n moordverhaal.

Barthes se beroemde uitspraak in sy boek is: “All this must be considered as if spoken by a character in a novel” word by Binet verander na “Life is not a novel”. Wat weer resoneer met Woody Allen se bekende uitspraak dat die lewe eintlik slegte televisie naboots. In hierdie dae van vele speurverhale, is hierdie roman eietyds. Barthes se dood blyk ‘n komplot te wees met jaloerse kollegas wat op soek is na RB se notas oor die sewende funksie van taal. Dit is ‘n baie slim tegniek, omdat Barthes telkens in sy werk geskryf het oor vraisemblance en die verhouding wat tekste het met die werklikheid. Hierdie verlore dokument kan glo help om verkiesings te wen. (Binet is in sy werklike lewe ‘n politieke navorser.)

Die speurder, ene Bayard, met die hulp van Simon Herzog, ‘n doktorale student, probeer sin maak van die semioloog se dood. (Ons hoor ook Saul Bellow se Herzog hier en Eco se Die naam van die roos.)  So gesien, word die roman ‘n relevante ondersoek na tekensisteme en die werk waarin Barthes uitgemunt het, soos Mythologies. Die spanning tussen akademiese werk (wat metafories en metonimies is) en polisiewerk (wat op feite gebaseer is), word in die roman uitgewerk soos Lauren Elkin insigryk in haar reeds aangehaalde resensie uitwys. Sy betrek tereg Allen se Midnight in Paris waar bekende kunstenaars ook “optree”. Judith Butler, Eco, Cixous, Sollers, Kristeva, Derrida, Foucault, Lacan (se minnares) en vele ander gooi hier ‘n draai. Die leser wat hul teoretiese werk ken, gee dus telkens ‘n ander lesing, by wyse van skrywe. Van closed na open teks.

Elkin is die skrywer van Flâneuse gepubliseer deur Chatto. Sy is ‘n New Yorker woonagtig in Parys. (In 'Flaneuse,' Lauren Elkin follows womenmeandering through the world’s greatest cities - Chicago Tribune. Besoek 1 Januarie 2018).

Die ses funksies van taal is deur Roman Jakobson opgestel, maar die sewende een is okkulties; dit behels om beheer te neem oor die toehoorder. Jakobson se model behels die volgende aldus Louis Hébert:
According to Jakobson, any act of verbal communication is composed of six elements, or factors (the terms of the model): (1) a context (the co-text, that is, the other verbal signs in the same message, and the world in which the message takes place), (2) an addresser (a sender, or enunciator), (3) an addressee (a receiver, or enunciatee), (4) a contact between an addresser and addressee, (5) a common code and (6) a message. (Roman Jakobson / The Functions of Language /Signo - Applied Semiotics Theories).

II
Satires van die akademie is volop: David Lodge se Changing Places, o.a. en Malcolm Bradbury se tekste, soos Mensonge (Arena, 1987). Patricia Duncker se Hallucinating Foucault (Cox & Wyman, 1996) is eerder akademies-onthullend as satiries.

Bradbury se Mensonge (leuenaar, liegfabriek) word soos volg aangebied:
My Strange Quest for Mensonge, Structuralism’s Hidden HeroMalcolm Bradburywith a Foreward / Afterword by Michael Tardieu(Professor of Structuarlist Narratology University of Paris)translated by David Lodge 
Na links, ‘n foto van Mensonge (kaalkop, van agter geneem). Die fotograaf is onseker. Agterin word die leser voorsien van ‘n Bibliografie en Indeks.

Tipies postmodernisties, is die biblioteek van die ondersoeker anti-alfabeties en die Mensonge se boek se titel heet La Fornication comme acte culturel.

Die filosofiese “underpinnings” is vir die ingeligte leser wat die hele moderne teorie hier sien afspeel: van die estetika van stilte tot die geboorte / dood van die outeur. Van die episteem tot die meem. Being tot nothingness.

Daar is verwysings-binne-verwysings en waarskynlik is dit minder toeganklik as die Franse roman.

En waar is die roman van Mensonge?

In ‘n spel met Derrida se sous rature (under erasure) is hierdie teks se papier met suur vervaardig en hierom vergaan dit en is dit so moeilik om ‘n eksemplaar in die hande te kry.

Duncker se roman is op sy beurt ‘n spel met Foucault. ‘n Navorser wat werk op Paul Michel, ‘n romanskrywer, wat al sy idees op Foucault, die filosoof, baseer.

Om ‘n tesis te skryf, is ‘n eensame, obsessiewe bedryf en die persoon oor wié geskryf word, is die een met wie jy die meeste tyd spandeer (1996: 4,5). Die anonieme navorser ontmoet sy rokende geliefde in ‘n biblioteek in Cambridge.

Die navorser en sy vriendin probeer Michel opspoor, ‘n skrywer wat ‘n ambivalente verhouding het met Foucault. Hy is 30 Junie 1984 in die begraafplaas van Père Lachaise in hegtenis geneem weens grafskending. Foucault se studies oor gestigte en die gemeenskap se definisie van waansin word onder die loep geneem, net soos die oedipale verhoudings tussen student/mentor, navorser/studie van ondersoek betrek word. Die anonieme fokalisator raak betrokke by Paul Michel en sy geliefde, ‘n Germanis wat ‘n studie skryf oor Schiller het twee vaders. Sy laat telkens notas vir haar geliefde en maak hom attent daarop dat Paul Michel se lewe belangrik is vir sy studie. Michel kan ook nie van sy psigose herstel nie, want sy werklike leser, Foucault, is dood.

Die dood van die skrywer (in navolging van Barthes en Foucault) is die onderbou vir hierdie roman. Teen die einde van die roman is daar ‘n diagram: Paul MICHEL en Michel FOUCAULT waar die twee figure se lewens teen mekaar geplaas word. Die ooreenkomste en verskille; selfs die verwysing na Foucault se eerste selfdood-poging in 1948 word vermeld.

Dit is ‘n boeiende studie oor waansin en homoseksualiteit.

III
Die Fransman se boek imponeer, maar die Britte het dit lank voor hom al gedoen.
Veral die parodiese styl van Benit is verfrissend.

Al drie tekste vereis baie voorkennis van teorie, maar werk met sterk, boeiende verhale.

Malcolm Bowie se Freud, Proust and Lacan: theory as fiction (Cambridge University Press, 1987) sal op Binet betrek word.

Word vervolg.


 © Joan Hambidge

Reisjoernaal | Colombië: Deel I (2018)

$
0
0
Die groot inpak begin: klere, skoene, kamera en selfoon-ekstensies, boeke.

Op die spoor van Gabriel García Márquez, die skrywer en Fernando Botero, die beeldende kunstenaar.

Baie lees- en navorsingswerk word voor die tyd gedoen en my reisagent gee 'n volledige reisplan vir die reis deur hierdie land wat ek in 1987 nie kon besoek nie weens 'n weiering van visas vir Suid-Afrikaners. Deesdae word jy deur die konsul uitgevra na die redes vir jou besoek. Jy moet in lewende lywe verskyn vir 'n onderhoud. My liefde vir Suid-Amerikaanse letterkunde en kuns. Ek ontvang my elektroniese visum binne 24 uur na ons gesprek oor Neruda, Borges, Llosa en natuurlik: Márquez.

Reis word al hoe moeiliker. Die beplanning is sekuurder. Dis meer net goed in 'n tas gooi.

Ek is ure voor die tyd op die lughawe. Skryf 'n kortverhaal, ruil geld om en koop parfuum. Stuur die laaste sms'e vir vriende en geliefdes. Dan sit ek my selfoon op roam.

Tjekkereer in. My groot swart sak in plastiek omhul met 'n Priority-stieker buite op.
Die munt in die vis  
Dit het my nog altyd opgeval dat stories na jou toe kom. Optelgoed is vatgoed. 
So sit ek en gesels met my buurman oor die rol van toeval in jou lewe.  
Oor hoe boeke (en mense) op die regte tyd na jou toe aankom.  
Of soms op die verkeerde tyd. Ek eet gereeld in 'n restaurant op Sondae. Dan sien ek haar. Die vrou uit my verlede. Toe ek haar sowat drie jaar gelede in 'n ander restaurant herken en via die bestuurder vir haar groete stuur en vra of dit sy is, sien ek uit haar reaksie dat sy nie met my wil praat nie.  
In 'n ander dorp het ons mekaar geken na haar egskeiding. En daar was 'n kortstondige flirtasie. Miskien is sy skaamkwaad hieroor?  
Dit was in 'n ander tyd van my lewe toe ek heel anders oor verhoudings en mense gevoel het.  
Hulle nodig gehad het. Broodnodig.  
Hierdie Sondag bestel ek vis. Die vermeerdering van die visse en die brode. Nou sit sy, die voormalige fling, by 'n tafel agter my en my vriende, 'n Man en 'n vrou by haar. Haar rug gekeer op my, die fokalisator of waarnemer.  
Maar die vriendin by die aangrensende tafel hou ons tafel stip dop en vertel wat daar aangaan. Kennelik ingelig oor my. Kennelik ingelig oor my. Dalk deel van 'n #metoo-brigade: gay versus straight ... 
Sy eet 'n T-beenskyf en suig die beenmurg uit.  
Ek onthou die gru-verhaal van twee Pitbull-honde wat 'n vrou iewers in die mid-Amerikas aangeval het. 
Haar ribbes is letterlik opgevreet. Haar pa het uiteindelik na vele bespiegelings op Facebook met die storie na vore gekom. Nee, daar was nie vuilspel deur 'n eks nie; net twee honde wat haar aggressief aangeval het. Bevestig deur die polisie.  
My buurman dink die twee honde het dalk baklei en die vrou het met haar binnetrede net die een hond meer aggressief gemaak. 'n Klein beriggie in die dagblad wat ons beide se aandag getrek het. Sy vrou het net die opskrif gelees en gegru vir die wrede storie.   
Hy is baie belese en ek hou van hoe hy 'n storie wat hy gelees het, oorvertel. Stephen King se "what if"-beginsel begryp hy. En die absurde verhale van John Irving. Sy vertolkings is dikwels sterk op die sub-teks gerig.   
Sy kan nie meer presies onthou hoe hulle by die munt in die vis uitgekom het. Die storie van Petrus en Jesus. Opgeteken in Mattheus 17:27.  
Van Jesus wat vir Petrus sê hy moet die eerste vis wat hy vang se bek oopmaak en daar sal 'n muntstuk in wees en hiermee moet hy die belasting betaal.  
Haar buurman sit en teken op sy komputer. Hy is 'n grafiese kunstenaar en terwyl ons praat, teken hy aan 'n Golem.  
Emet (waarheid) staan op die Golem se voorkop en iewers in 'n verhaal wat hy gelees het, verander dit in moord.  
Hy ken verskillende weergawes van die Golem; ook die een wat teen sy maker draai.  
Die vis en die munt is een van Jesus se mirakels.  
In die vis se bek was daar 'n munt. 'n Dragma of shekel - net genoeg om die tempelbelasting te betaal - en hierdie vis heet die tilapia.  
Net soos hierdie verhaal erkenning gee aan almal wat help skryf het aan hierdie verhaal. Hopelik sal hierdie verhaal nie teen mý draai nie?
*

My vlug vertrek 12.40. Na middernag. Weens die adrenalien is slaap altyd uitgestel. So dis water drink (teen "jet lag") en die laptop en rooi sak (met boeke en vier skoon hemde) word in die kajuit geplaas. Die eerste been na Parys verloop glad.

Ek lees weer Binet se roman oor Barthes. 

Love Actually (2003)

En kyk The party, 'n gek dekonstruksie van vriendskap. Met Kristin Scott Thomas as die hoofkarakter en kinkel in die kabel. En kyk weer na die aangrypende Love Actually (2003) van Richard Curtis. My hele liefdesgeskiedenis word oopgeruk deur hierdie snaakse en soms pynlike vinjette oor die liefde.

AirFrance is heerlik. Ek reis Premier Ekonomiese klas wat godesydank wyn in 'n regte glas bedien en nie in plastiek nie. Ek eet sober en drink water. In Parys is dit ysig, maar as 'n nooi van die Hoëveld hou ek van die koue. Ek trek vars klere aan en rook 'n sigaret in 'n kabine vir rokers.

Daar is 'n vlugvertraging. Glo 'n kontakprobleem elektronies. (By nabaat 'n waarskuwing!) Uiteindelik vertrek ons 'n uur later en die elektronika moet weer gelaai word. Wag op films en musiek.

(My baadjie is in die tas; te swaar vir die saamdra.)

Dan is dit beweeg van die aankomssaal na die vertreksaal.

Presies twee ure.

Gelukkig in dieselfde gebou, maar roltrappe en 'n treintjie kry my fluks in die laaste saal na Bogotá. Geen kwellings oor die swaar reistas nie. Dit is mos as priority ingetjekkereer. Dan weer op die vliegtuig. Elf ure met tydverskille. Lees en rus. Weer skoon aantrek.

Water en nogmaals water.

Ons land betyds. En nou vir die punt van die vertelling. Betyds op die lughawe. Alles haarfyn beplan voor die tyd. Rekeninge betaal. Vriende gegroet.

Om dan net die curve ball van reis te ontdek. Met elke reis is daar immer 'n onverwagse element. 'n Koepon wat die vliegtuig se vertrektyd as aankomstyd aangee in Argentinië, waar 'n storm in die nag 'n kamera se binnegoed uitvee. Of 'n reisagent wat jou nie oppik vir 'n bootreis in Swakopmund nie.

Of gekurkte wyn in 'n vyfster-hotel in Swakopmund wat taai vis bedien en dink jy sal dit geniet. Of tyd wat jy verkeerd lees sodat jy 'n hele nag op 'n lughawe ronddool om die volgende vlug te vang, genadiglik sonder enige bybetaling.

Of 'n hotelkansellasie in Istanboel waar hulle meen jy moes die vorige dag al aangemeld het.

My reistas - ingeboek op Kaapstad Internasionaal - is nie hier nie. Elf ander mense staan ook botbek en wag. 'n Agent het reeds ons besonderhede.

Om tien voor elf word ek (dikbek) afgelaai by my hotel, die Sofitel.

Die gids is ongestoor oor die tas. Hy is van hier en het vir 'n Amerikaanse lugdiens gewerk. Gebeur glo gereeld.

Laatnag is dit e-posse aan my reisagent tuis. My laptop se ekstensie pas nie, maar 'n gawe hoteltegnikus bring dadelik 'n ander een. Ek verduidelik die regte prop is in my tas wat op pad is hiernatoe!

Die twee hemde (en onderklere) word uitgespoel in 'n heerlike sjampoe. Goddank het ek 'n skoon hemp vir more se toer deur die stad. En 'n tandeborsel van AirFrance.

Parfuum het ek altyd byderhand.

Ek val dadelik in 'n slaap met aaklige drome. Ek droom ek reis die volgende dag terug Suid-Afrika toe en daar is 'n ontploffing in ons woonstelgebou.

Sewe-uur is ek wakker. My reisagent probeer die tas opspoor. Die concierge is ook op hulle spoor in hierdie unieke speurverhaal: Op soek na die verlore tas.

Dag twee breek aan.

Ek stort en trek skoon aan. Die twee skoon hemde hang triestig in die badkamer.

Na ontbyt besoek ons die stad. Ek kies altyd 'n toer om die hele stad te sien. Die ou gedeeltes en nuwe areas probeer ek bymekaar uitbring.

My gids is baie ingelig en begryp waarom ek Botero se museum wil besoek.

Behalwe vir sy eie kuns, is daar 'n belangrike versameling van moderne kunstenaars soos Manet, Picasso, Dalí, en vele ander.

Adam en Eva, die Botero Museum

My gids weet verbasend baie van Botero se vet vroue en waarom daar 'n beauty spot op die boud pryk.

"Kyk na die kunswerk waar hy op die vrou staan. Hy het geglo vroue is aan die basis van alles." Of feministe hiermee sal saamstem, val te betwyfel (Botero Museum - Wikipedia. Besoek 11 Januarie 2018).

Dan is dit lunch in 'n netjiese restaurant, die Casa Viaja. Daar is toeriste, maar ook besigheidsmense wat whisky drink en smul aan lekker disse (Casa Vieja Restaurantes, Bogota. Besoek 11 Januarie 2018).

My gids bestel vir my Plato del Montanero: rys, varkvleis, 'n taai worsie, rooi bone, gemaalde vleis wat soos biltong proe en 'n eier bo-op die rys. En 'n stuk piesang! 'n Werker se dis. Smaaklik, maar hopeloos te veel vir my.

Ons ry verby 'n Bukowski bar na die Márquez sq. Hier is 'n boekwinkel met al die skrywer se groot bekendste boeke op uitstalling. Imposante versameling van boeke wat bewys dat die Colombiane lees. Ek en my gids gesels oor Márquez (House of Gabriel García Márquez in Cartagena, Colombia | Sygic Travel. Besoek 11 Januarie 2018).

AirFrance beantwoord nie hul fone nie. Die concierge sukkel ook. E-posse vlieg heen en weer.

Ek dreig om die Franse Ambassade te bel, en voilà, daar word die foon toe opgetel asof hulle my kon hoor!

Uiteindelik kry ek vir ene David Fuentes op die foon wat beloof die tas is op pad via Panama.

My tas reis sonder my via Panama.

Uiteindelik 'n e-pos: 
I hope this e-mail finds you well. Thank you for your message. After several calls to Air France we were able to talk with them this morning an as you said the luggage was located in Paris. We called them back a few minutes ago and they said the bag will arrive tomorrow on January 12th in the Air France 422 flight at 18:20.  We will be checking the delayed bag status and will keep you updated.
Nou is dit Survivor-speel in 'n hotelkamer. My broek skeur naby die knie, maar gelukkig is daar 'n naaldwerk-stelletjie en ek maak die skeur reg. Dis tienuur in die oggend. In die brekfiskamer hang 'n skildery van Octavio Paz en beter kan 'n beroemde gedig van hom nie my situasie opsom nie. Ek het dit destyds vertaal en gepubliseer in En skielik is dit aand.


Tussen gaan en bly
(vertaling van Octavio Paz se “Between Going and Staying”)

Tussen gaan en bly weifel die dag,
verlief op sy eie deursigtigheid.

Die sirkulerende namiddag is nou ‘n hawe
waar die wêreld in stilte beweeg.

Alles is kenbaar en ontwykend,
alles is naby en onaanraakbaar.

Papier, boek, potlood, glas,
rus in die skadu van hul name.

Tyd wat in my slape klop, herhaal
dieselfde onveranderbare sillabe van bloed.

Die lig verander die ongeërgde muur
in ‘n spookagtige teater van afskynsel.

Ek bevind myself in die middel van ‘n oog,
kykend na myself deur ‘n ondeursigtige staar.

Die oomblik breek. Bewegingloos,
bly ek en ek gaan: ek is ‘n ruspose.

Weer 'n oproep van die Colombiese agent:

"Die hotel het laat weet jou paspoort het die verkeerde stempel. Dis onseker of jy hier vir toerisme is?"
"Wat?!"
Ek kyk na die stempel en visa. Alles lyk reg. Twaalfuur word ek gehaal om die tas te gaan afhaal wat soos 'n arme weeskind alleen moes vlieg.

Dit is Wayne Koestenbaum wat geskryf het oor hotelle in Hotel Theory (Soft Skull Books).
Hotel Theory is allusive, revelatory, frighteningly smart. There is a generous democracy of influence – from Heidegger to a Julia Stiles movie, from Duchamp to Chopin. Koestenbaum repeatedly reminds us of the ways in which hotel rooms are blank slates, hotel rooms are prison cells, hotel rooms are populated by ghosts and omens and unclean sex and all matter of possibilities. Interestingly, he refers to hotel rooms as genres, and genres as holding pens that lend shape to the art that occurs within them. Meanwhile, on the other side of the page, the polymorphously perverse Lana and Liberace remove their bathing suits, rub suntan oil into each other’s bodies, discuss their identities, work, and lives. The unlikely pair parse the angst of fame and commiserate over the difficulties of assuming new role after new role, like stepping into a hotel room and making it one’s own. Their real-life troubles (Liberace always denied being a homosexual and eventually died of AIDS, Lana was embroiled in a famous murder scandal) are alluded to, swirled into the story of their fictional intersection (Bookslut | Hotel Theory by Wayne KoestenbaumBesoek 12 Januarie 2018).
Twaafuur word ek afgehaal om weer die stad te besoek. Want langer kan ek nie meer hierdie hotelkamer verduur nie.

Die gids gaan my weer deur die stad neem en vannag is my volgende bestemming die Villa de Leyva.

Nog 'n curve ball. Die hotel meen my visum is verkeerd gestempel en ons moet na die immigrasiekantoor wat dit binne 'n paar minute regstel. Nee, meen hulle, die elektroniese visum is reg: V = Visitor; T = Touristo en albei is reg.

Die tas land om ses dertig en ondertussen bekyk ons die ses sones van die stad: fabelagtige rykdom teenoor ellende. Rondloperhonde. Dit sal ek altyd onthou van hierdie land. Waarom soveel honde wat alleen ronddool?

Die lughawe is nuut aangebou vol Amerikaanse eetplekkies.

Ek trek moeiteloos geld by die ATM wat dadelik die waarde ook in R uitspoeg.

Ons eet 'n hotdog en uiteindelik: om nege kry ek my tas.

Op die bussie speel Colombiese musiek en die liedjie Libera.

Dis hoe ek nou voel. Bevry!

Tussendeur lees ek weer Binet. Die slimmerd weet Roland Barthes het met 'n vulpen geskryf (linkshandig) en hierom kan die dokument nie ontsyfer word wanneer dit in die water beland nie. Barthes se soektog na die simboliese kode wat alles ontsluit in mense se gedrag, word fyn beskryf.

Ek lag heerlik oor Barthes se reis na Japan en sy enigste woede was oor die kos wat bedien is op AirFrance. My tas is nou terug en AirFrance is tydelik uit my gedagtes verban.

Dan reis ons in die reën na Hotel La Posada de San Antonio in Villa de Leyva.

Vele beeldjies van die Madonna is langs die pad om die reisendes te beskerm.

Kom na twaalf aan in die ou dorpie. Ek rook buite 'n sigaret in die koue.

Op die boonste verdieping van die hotelletjie is twee jongelinge besig om Barthes se jouissance indringend te verken.

© Joan Hambidge

Reisjoernaal | Colombië: Deel II (2018)

$
0
0
Deel II

In Villa de Leya beleef ons 'n primordiale wêreld van ou kerke, 'n sentrum vir UFO's, fossiele, 'n groot serpent ... en 'n wynlandgoed Vineido Ain Karim.

Hier is die Reserva 2016 Marqués de Villa de Leya uit die boonste rakke. Vir ses maande verouder dit op Amerikaanse hout; vir 18 maande op Franse hout. Ons gaan deur die ritueel van die wyn: ruik en proe - en om die kleure te besigtig. Paulo Toro is die eienaar wat in Israel gebly het en die wyn as 'n huldeblyk aan sy verblyf aldaar maak. Die landgoed is dertig jaar oud.

Die druiwe is toegemaak in draad-omhulsels om dit teen pikkende voëls te beskerm. Twee mense langs ons met 'n mooi hond uit Switserland geniet wyn.

Hierna is dit die Centro de Investigaciones Paleontológicas 'n besondere museum wat Jurie van den Heever en Janet Deacon sou bekoor. Die gids is opgewonde toe sy hoor ek is van Suid-Afrika en ja, sy weet wie Philip Tobias is.

Sy neem ons deur die museum wat my geweldig interesseer. Die gids wil gouer klaarmaak as wat beplan is.

"Asseblief. Moenie my haas nie. Dit is my vakansie. Ek wil rustig kyk engeniet. Binnekort is ek weer tuis met die horlosie wat my lewe dikteer."

Daar is orals bokke langs die pad. In die eetkamer van my hotelletjie Hotel La Posada de San Antonio hang daar bokboude om ryp te word (Hotel La Posada de San Antonio, Villa de Leyva, Colombia - Booking.com. Besoek 14 Januarie 2018).

Ek dink aan Judith Mason se pragtige voorblad van Johann de Lange se Wordende naak en sy pragtige vers:

Kriptomnesie

I
Het ek jou meteens ont-
hou, of uitgedink?
Is jy die wakker vont
self, of net 'n krink
in my natuur
wat, hoe stipter ek staar,
hoe dieper ek tuur
in 'n oogwink
onkeerbaar weg
sal slink, 'n skyngeveg
met die muse
of skikgodin? Medusa
dalk? Nee: wat ek so vas
gehad het, so glas-
helder, polter blitsig weg.

II
: en dan blitssnel
die wit boom
teen die swart lug.

Sy wit skadu
ets die nagvlug
van 'n uil,

laat knal
die skielike swael
van 'n geel bokoog.


Die Ecce Homo-kerk oftewel die Convento del Santo Ecce Homo is 'n aangrypende ervaring met ammoniete en fossiele in die vloer.  Dit is 13 km buite die dorpie.

In 1620 het die Dominikaanse priesters dit hier begin. Daar is 'n lieflike tuin in die binneplaas.

'n Groot serpent (om die bose te vergestalt) teenoor 'n skildery van Christus.

Is sy oë oop of toe? Vir my is dit oop ...

Die simboliek is fassinerend. Daar is pynappels, arende, die son en maan om die boodskap van Christus vir die inheemse mense toeganklik te maak.

Ons gesels met 'n egpaar wat binnekort hier wil trou. Wat 'n voorreg is dit nie! (Convento del Santo Ecce Homo in Around Villa de Leyva - Lonely Planet. Besoek 14 Januarie 2018).

Na 'n uitsonderlike dag is dit terugkeer na die dorpie. Ons eet hoender in 'n plaaslike eetplekkie (local is altyd lekker). Ek, die gids en die bestuurder. Ons bestel saam met die hoender ook sterk rissies en aartappels. Boonop kry jy 'n plastiekhandskoen sodat jy die hoenderbene met jou hand kan eet!

Hulle is my gaste om dankie te sê vir die uitsonderlike dag.


More vertrek ons om sewe vir die beroemde Zipaquirá Salt Cathedral. My gids Gustavo, 'n wonderlike man, het my reeds na die Botero museum geneem in Bogotá en gesels insigryk oor Márquez. Hy is gereeld op die foon om te hoor hoe dit gaan met die planne vir die besoek aan sy geboortedorp.

Sesuur lui die selfoon se alarm. Ek is vroeg kooi toe, want dit gaan 'n lang dag wees.

Die soutkatedraal is 'n belewenis waar die geboorte, lewe en dood van Jesus uitgebeeld word. Die verskillende stasies van Christus se lydensweg word hier voorgestel en die myners kon so aanbid. In die agtergrond speel die Ave Maria.

Gewone mense aanbid hier ten spyte van die feit dat ongeveer 3000 toeriste hier op 'n Sondag aandoen en daar geen priester is nie (Salt Cathedral of Zipaquirá - Wikipedia. Besoek 14 Januarie 2018).

Dieselfde gevoel van toeristiese betreding het ek ervaar in Jerusalem toe ek die lydensweg gestap het. Hieroor het ek geskryf in Visums by verstek:



Via dolorosa

Die lydensweg
stap ek moeisaam
met my kamera op my rug;
verloor my groep
tussen stasie vyf en ses.
Ek dink my in
hoe U hierdie weg nou
sou sien:
“I got stoned in Jerusalem”
blaker ’n T-hemp en verderaan
staan twee Jode en korswel
oor ’n sokkertelling ’n dag terug.
Veronika sou waarskynlik vandag
’n wet-wipe aanbied en ek meen
iemand sou dink aan ’n Red Bull
of dalk iets sterkers vir dié pad.  
Iemand sou meen U doringkroon
is cool soos ’n tatoe.
’n Nonnetjie stap uiloog verby,
terwyl ’n Ortodokse Jood selfoon
in die linkerhand
en sigaret in sy skewebek,
bewend boekevat.
En ek?
Ek kyk uit oor Jerusalem
op ’n Sondag vér van huis en haard,
sluit my oë, tel ’n klip op
digby Golgotha
en wens
ek kon hierdie steurnisse
uitwis soos ’n raam
op my digitaal.

Op hierdie gedig antwoord vriend De Lange:

Google Golgota

Sondagmiddag in Kaapstad
& ek kry 'n sms van Joan
uit Jerusalem: Ek stap nou
die Via Dolorosa.
Was vandag u sterfdag
sou ons U volg

op Twitter, mekaar sms
of vir laas u profiel
op Facebook besoek, spyt
ons het nie eerder
gevra dat U ons byvoeg
as vriend. Elke blogger

agter sy rekenaar
besig met sy Golgota-scoop.
Die pers sal kameras
& mikrofone in u gesig druk
vir 'n sound bite, of advies
oor global warming, duisende

websites opgaan in u Naam, promosies,
boek- & filmregte. Advertensieflitse:
Hoe kry ons daardie kleed
weer witter as sneeu?
Regoor die aarde sal kort
oorsigte oor u lewe uitgesaai word,

onderbreek met terugflitse
na die smal stegies,
die keistene waaroor U moeisaam vorder, 
nuushelikopters oorhoofs.

Joan, stuur my asb 'n 7 megapixel foto,
'n poskaart of brief in sy handskrif,
of 'n repie van sy kleed, ek begeer
iets om op eBay te adverteer.

(Uit: Vaarwel, my effens bevlekte held, 2012)

Hieraan kan 'n mens weinig doen, jy is self as reisiger 'n betreder van mense se spirituele ervarings. En skielik 'n geskenk van my gids.

"Ek gaan vir jou wys waar Gabriel skoolgegaan het!" En inderdaad gaan ons na die skool wat trots sy foto op die muur het.

My gids neem vir my foto's en ons ry stadig deur die klein dorpie vol honde met leibande van trotste eienaars.

Vanoggend was daar 'n dooie hond langs die pad ...

Ons ry verby 'n leë stadion. "Hier het ons eers perderesies gehou, maar dit is verbied, omdat die perde-eienaars kroeks was."

Ek vertel hom van die Steinhoff-debakel. En die enorme hoeveeld geld wat op perde gespandeer is.

En die Bantry Bay-luukse apartment met skilderye wat die nouveau riche-aanslag beklemtoon.

Orals dieselfde, meen Gustavo.

Ons moet lughawe toe draai vir my volgende bestemming: Medellin.

Maar eers stop ons vir 'n Sondag-lunch. Gustavo en DeStefano, die bestuurder is my gaste. Weer bestel ons 'n hoender met aartappels en rissies.

Ons is twee ure voor my vlug reeds op die lughawe. Ons groet en ek gee 'n stywe footjie vir my twee reisgenote wat my van soveel inligting, raad en bystand bedien het.

Gelukkig sien ek hulle weer aan die einde van die reis op die vooraand van my vertrek.

Ek lees verder aan Binet oor Roland Barthes. Met die tweede lees is die roman minder indrukwekkend as Mensonge.

Bietjie uitasem van die af-show oor Umberto Eco se siening van Barthes se posisie as semioloog.


© Joan Hambidge

Reisjoernaal | Colombië: Deel III (2018)

$
0
0
Deel III.  Medellín

Nou is ek in Medillín in Botero se stad vir 'n paar dae. Waar Bogotá se klimaat aan Johannesburg herinner, is Medillín (uitgespreek: Medijzien) meer sub-tropies. Ek is vroeg op en kry alles in orde vir die dag.

My gids is betyds. 'n Jong Duitser, Lewis, wat hier woon,  en ek vra weer vir 'n besigtiging van die stad. Ons neem die beroemde MetroCable. Die beste manier om die stad te sien vanuit hierdie 'n bespiedende hoogte. 

Armoede is armoede. Dit lyk orals op aarde dieselfde. Wasgoed. 'n Skroppende hoender. Kinders wat buite speel. Rook wat draal. Iemand wat krap in 'n vullisblik.

Amper iets soos om 'n gedig-te-skryf-oor-armoede. Asof dit dieselfde tematiek en tegnieke gaan opeis.

Na die druglord Pablo Escobar se dood is dit glo nie meer die gevaarlikste stad op aarde nie.

In die kabelkar is twee jong kinders op pad skool toe. Weens beperkte skoolgeriewe gaan hulle in die middag eers skool toe, terwyl ander kinders in die oggende gaan. Op die een kind se skoot - ek skat haar tien - is 'n plastiek-masjiengeweertjie. Sy het dit glo in die straat opgetel. 

"Mense is steeds verslaaf aan geweld hier. Die kinders is gaande oor allerlei komputerspeletjies waarin mense gejag word." Ek is uiteindelik meer besorg oor iets anders.
Nog 'n curve ball het my getref en ek voel soos 'n krieketspeler wat nou 'n draad-harnas moet dra teen al die balle wat kom.

My komputer se screen het vanoggend in allerlei kleure begin baljaar. Asof in 'n mini-beroerte. Dus kan ek net die helfte van 'n boodskap lees ...

Nou net ten dele, maar eendag van aangesig tot aangesig, dink ek.

My gids is onverstoord. Kyk na die komputer en druk hier en daar, skuif die toolbar

Tydelike oplossing.

Hy stel voor ons moet na 'n komputerwinkel gaan en binne dertig minute (en vele $'s later) het ek 'n nuwe skerm. Nou is dit die ATM, want die man wil net kontant hê. By nommer drie spoeg die masjien die geld uit en ek jubel.

Die tegnikus neem die geld. Tel dit af en gee vir my selfs kleingeld. En voeg grappenderwys by: jy het 'n waarborg vir 'n jaar. 

Nou is dit weer Botero. Ek is so verlig dat ek bykans dans van blydskap. Ek gee vir die geduldige bestuurder van ons bussie 'n footjie en neem die Duitse gids na die Herbario, 'n lieflike vegetariese eetplek. (Ek hou maar my ou grappie vir myself: "Is jy vegetaries? Nee, lesbitaries.") Ons eet Risotto met delikate groente. Aspersies veral.  En Tofu. Daarna Uber ons terug hotel toe. (Herbario, Medellin - Restaurant Reviews, Phone Number & Photos - TripAdvisor. Besoek 15 Januarie 2018).

In die hotelkamer sien ek 'n nota op die lessenaar.

Dit waarsku: moenie met vreemdelinge praat nie; moenie jou hotel of hotelkamernommer verklap nie; moenie alleen buite stap nie; gebruik die hotel se vervoer; moenie juwele dra nie; moenie jou ID vir iemand gee wat hom voordoen as 'n polisiebeampte nie.

Moenie, moenie, moenie ...

Waarskynlik die na-skokke van hierdie gemeenskap se blootstelling aan geweld. 

Motorbomme, druglords wat veg met die polisie ...

Tussendeur lees ek oor Catherine Deneuve se ondertekening van 'n brief waarin sy glo dat die #metoo-groep vryheid van spraak en die agentskap van vroue ondermyn. Ek stem! Hierdie beweging maak van alle seksuele interaksies (en flirtasies) iets boos en dit vergeet dat vroue wel kan nee sê. Inderdaad kap Deneuve terug toe sy gekritiseer word. Niemand praat verkragting goed nie, maar wil jou nou in 'n situasie beland waar jy eers 'n kontrak sal moet teken voor jy 'n bietjie verder gaan?

Oor hierdie ikoon het ek al gedig:



Catherine Deneuve (1943 - )

Catherine Deneuve
hou van mans: haar bio verklap
‘n nag met Francois Truffaut, 
‘n avontuur met Roger Vadim,
en ‘n hitsige tydjie met Marcello Mastroianni.
Vir haar is en was daar immer ‘n après lui
of sy nou dans in die donker
of wals met waansin
of die honger begeerte van ‘n lesbiese vampier vertolk:

Je vous aime!

Haar been onnet 
opgetrek,
uitgestrek
as alkoholis of slet

dog Absolument fabuleuse.

Agter die skerms onversetlik:
“Susan Sarandon was eenmaal net
as aktrise in my bed.”
Dagvaar ‘n gay-klub in Parys
vernoem na hierdie Mademoiselle Dorléac.

Catherine Deneuve 
se naam rym
met soixante-neuf!

En garde

Liewe leser,
vergeef die rime pauvre,
ons is immers almal verlief
op Catherine Deneuve.

(Uit: Lot se vrou)

'n Bietjie speels, 'n bietjie tergerig, hartlam - maar liefde en begeerte (via al die psigoanaliste) gaan dikwels verby die politiek-korrekte optrede. En die ware digkuns boor ook ver vérby die stereotiep.

Gaan kyk maar na die Hartlam-versameling! (Woorde Wat Weeg/ Gerda Taljaard en Deborah Steinmair – Hartlam. Kortverhale oor die liefde, 2017. Besoek 15 Januarie 2018)

Nou gaan ek eers swem in die pragtige swembad van die InterContinental. 'n Mooi hotel met uiters beleefde personeel en 'n uitgebreide brekfis (InterContinental Medellin - Medellin. Besoek 15 Januarie 2018).

Dan weer 'n boodskap van die agent alhier: 'n besoek aan Márquez se geboortehuis kan. Is jy in ja of nee?
Absoluut.

© Joan Hambidge

Reisjoernaal | Colombië: Deel IV (2018)

$
0
0
Deel IV

Vandag is die gids om tien by my hotel. 'n Brug het inmekaar getuimel en tien mense is dood buite Bogotá en die nuus dek ook Kaapstad se waterkrisis hier.

Hulle noem dit die eerste wêreldstad sonder water, maar ek meen Barcelona het 'n paar jaar terug ook hierdie ellende beleef.

Ek vertel hom van al die waarskuwings in die hotel (al die moenies!). Ja, 'n mens moenie papajas gee nie, is die uitdrukking hier. Moenie jouself blootstel nie. 'n Papaja word mos maklik gepluk.

Ons ry verby 'n braaivleis-plekkie (ai te lekker) en dit stuifreën op die bergpas wat dieselfde gevoel het as Magoebaskloof. In die pad is daar hobbels om die vinnige verkeer te stuit. Dit word slapende polisiemanne genoem.

Nou gaan ons blomme besigtig en iets probeer begryp van die Feria de las Flores (blommeparade). Deelnemers heet silleteros.

Ons kom by 'n beskeie huisie waar 'n vrou vir ons tee bedien. Later koffie. Toe ek vra vir melk, gaan koop sy dit by die winkeltjie oorkant die pad. Nou vertel haar man, Luis, ons van hierdie fees (wat selfs geborg word deur 'n biermaatskappy).

Oorspronklik het die boere stoele op die rug gedra om blomme en vrugte te vervoer. (Ja, my gidse hier is emosionele stoele vir my, dink ek.) Nou word hierdie stoel gepak met helder blomme op hierdie feesdag. Vir ongeveer 3 km moet jy stap, terwyl die toeskouers jil: "Jy kan, jy kan ...".

Hy wys vir ons op TV 'n insetsel wat so 'n vrolike feesdag behels - met dansende mense. Hy neem ons na 'n vertrek en wys al die diplomas en rosette wat hulle al verower het. Volgende jaar hoop hulle om te wen (Flower Parade Flower Festival Medellin Desfile de las Flores silleteros Trans-Americas Journey. Besoek 16 Januarie 2018).

En die beoordelaars? Is hulle objektief?

Hy lag net.

Wat is dit met die mensdom se soeke na applous en erkenning? Veral met sake wat onvergelykbaar is?

My gids verduidelik ek is 'n escritora.

En hier verander die gesprek van 'n toeristiese gebabbel na 'n volgende vlak. Dit blyk ons blommekenner het in die filosofie en teologie studeer. Ons gesels oor die ekologie (30 000 hippo's beset 'n rivier in Colombië en hoe nou gemaak?). Ons gesels oor die tilapia-vis.

"Dis mos die vis waarvan Jesus praat wanneer hy vir Petrus sê om die muntstuk te neem en belasting te gaan betaal?"

"Ja, dit is daardie vis. Maar ons gebruik dit ook hier in akwakultuur. Die mis word bemesting vir ons blomme."

Jungiaanse sinchronisiteit. Aan die begin van my reis het ek oor hierdie vis gedink en geskryf.

Die geweld van sy land steur hom. Hy dink opvoeding is al wat sal help. Maar ook hier is daar 'n onderwyskrisis. (Ek wil liefs nie dink aan 2018 nie.)

Toe kom 'n e-pos deur. Op die 19e om 8uur vertrek ek na die geboortehuis van Gabriel García Márquez.

In Aracataca.

Die inpsirerende skrywer van eensaamheid. Ook die uitwys van ongeregtighede was sy métier.

En magiese realisme.

'n Term wat dikwels misbruik word in die kritiek. Dit is tekste wat gekoppel is aan die Rooms-Katolisisme en die geloof dat daar lewe na dood is. En kontak met die bo-natuurlike.

En 'n mens moet Suid-Amerika belééf om te weet hoe mense glo in die bo-natuurlike as realiteit. Madonnas bekerm bestuurders langs die pad; kruise weer die bose af.

Unheimliche / uncanniness.

Die saam-wees van die moontlike en onmoontlike.

Die wetenskaplike wat die mirakel of toevallige insident ontken, verminder sy ervaringswêreld.

Vanoggend gee Luis vir 'n blaar van 'n medisinale plant. Ek vryf dit oor 'n skaafplek. 'n Paar uur later is dit gesond.

© Joan Hambidge

Reisjoernaal | Colombië: Deel V (2018)

$
0
0
Deel V

Die stad van ewige lente verlaat ek vir Cartagena. Die gids is betyds, maar ons moet wag op die bestuurder. Die gids is onrustig, maar teen my bekende aard in, is ek geduldig.

En daar kom hy, sommer die baas self. Dit reën hard.

Op die lughawe het ek meer as twee ure tyd om na te dink oor my reis. Om vorentoe te reis, moet jy kan terugkyk. Ek het twee ou paspoorte by my en kyk na al die plekke wat ek besoek het. Lees verder aan Binet (tweede keer) en lag heerlik vir die konferensie te Cornell Universiteit, Ithaca. Barthes was bekend vir lysies maak.

En dis presies wat ek op hierdie reis doen. Ek is besig met 'n bestekopname. Lysies maak. Met 'n emosionele to-do-list.

Dan Cartagena. Minder as 'n uur later is ons daar. Mooi, vervalle dorpie met mense wat in die see swem.

Na die koel weer, is dit warm hier. 

Die gids, Sergio, 'n egte Karibbiese man, wys vir my waar Gabo tydelik gewoon het voor sy vertrek het na Mexiko, en die eks-mevrou Botero se huis is dig gesluit met blou luike.

"Oor twee dae neem ons jou na Gabo se geboortedorp. En ons sal langs die pad stop om al sy plekkies uit te snuffel."

Die hotel Anandá in Cartagena (uigespreek: Kartadjeena) is 'n boetiekhotel. Dis asof jy in 'n Márquez-roman instap. Geil blomme, plante, bome - rooi mure. Die badkamer is ouderwets - 'n  pragtige geroeste wasbak. Alles chic. Nes die pragtige eko-hotel by Machu Picchu.

'n Waaier in die badkamer met houtpanele in die stort.

Anandá (Sanskrit) beteken letterlik eindelose plesier. Wat aansluit by Barthes se jouissance. Binet se The Seventh Function of Language is skerp-satiries en 'n mens wonder wat Kristeva sou maak van die onvleiende beeld wat hy van haar gee? As psigoanalis wat selfterapie toepas? Haar drank en ander gewoontes? Hoe hy haar ogies beskryf?

Cruella de Vil

Sollers as dom en selftroetelend? Camille Paglia wat vergelyk word met Cruella de Vil en Glenn Close?

Die kongres word wel vermaaklik beskryf, maar 'n mens wonder of die geskryfdes dit as positief sal ervaar? Jonathan Culler, een van my gunsteling-teoretici paradeer ook hier!

'n Kollega aan die Sorbonne het eenkeer vir my verduidelik hoe erg die rugstekery aldaar is, wat die Afrikaanse letterkunde met die byltjies te slype maar mak laat lyk.

Skryf behoort 'n persoonlike selfverryking te wees, nie 'n belaglike vergelyking soos met skoonheidskompetisies nie.

Skaars verskyn 'n roman van 'n bekende romansier en ander wil weet: is sy/haar boek beter as myne? 

Met Air France (Air Chance?) se debakel het dit langer geneem om in die reis in te kom. Inmiddels 'n e-pos met 'n apologie en 'n beloofde vergoeding.

En reis skep altyd assosiasies met ander plekke. Kuba. Havana. (Woorde wat Weeg/ Reisjoernaal/ Kuba & Mexiko (2004).  Besoek 17 Januarie 2018).


Vroegoggend brekfis met vars vrugte. Koffie. En dan 'n heerlike swemsessie onder die palms in die hotelswembad. Die son piets, maar sonskerm deur die hotel verskaf, help bepaald.

Dan is daar 'n klein alterkasie - weens taalprobleme. My Spaans is minder as my etiket en goeie maniere. Die skoonmakertjie neuk tussen my boeke deur en hoe meer ek in gebrekkige Spaans vra sy moet ophou poets, hoe meer poets sy.

Moedeloos wys ek na die bed. Help haar regtrek. Dan gaan sy uit. En kom weer terug. Met 'n mop.

Maar sy begryp tog iets. Sy plaas 'n Moenie-steur-bordjie teen die deur wanneer sy vertrek.

Ek swem weer. Antwoord e-posse en drink 'n alkoholvrye bier: Aquila Zero. Aaklig.
Nooit weer nie!

Vanmiddag is dit Cartagena op die program.

Die stad is gevestig in 1533 en is die vyfde grootste stad in hierdie land. Met ongeveer 971,592 inwoners volgens 'n sensus-opname twee jaar gelede.

Areas soos die Noordelike area (die lughawe) Centro, San Diego, Getsemani (waar die druglords skuil) en Bocagrande (Letterlik: Groot mond).

Die weer is sub-tropies en die gevoel vir hierdie reisiger is dieselfde as Kuba.  

Met dieselfde vestings en mure. In die sestiende eeu is Peruviaanse silwer van hierdie hawe na Spanje uitgevoer.

Die muur om die stad is 'n UNESCO-monument (Cartagena, Colombia - Wikipedia. Besoek 18 Januarie 2018). Gabo se Macondo besoek ek more.  

One Hundred Years of Solitude (Cien años de soledadis een van die grootste romans binne die Spaanse tradisie. Macondo (die verbeelde stad gebaseer op Aracataca) vertel die verhaal van die Buendía-familie van geslag na geslag.

Straf vir bloedskande is daar: die kind wat gebore word met 'n varkstertjie en die uiteindelik uitwissing van die dorpie.

Geheime kodes is daar. En 'n mens moet bepaald die geskiedenis van hierdie land ken om al die politieke toespelings te begryp. Aureliano lees 'n manuskrip met die volledige geskiedenis van hierdie familie. 'n Orkaan verwoes egter die dorpie ...

Die skrywer self is 'n randfiguur in sy roman. Hy is een van die min karakters wat betyds die dorpie kan verlaat voor die ramp dit tref wat waarskynlik wys op die mag van die skrywer wat deur fiksie iets kan "herstel".

Kollega Jay Corwin se fassinerende studie Gabriel García Márques (MacMillan Education/Palgrave, 2016) bly 'n absolute baken om alles te begryp (Woorde wat Weeg/ 'n Nota by Dan Sleigh se roman/ 1795. Besoek 18 Januarie 2018).


© Joan Hambidge

Reisjoernaal | Colombië: Deel VI (2018)

$
0
0
Deel VI

In die middag ry ons deur die verskillende sones van Cartagena. Ongelooflike welvaart teenoor uiterse armoede. Die mense sit op stoele en gesels in die armoedige buurt. By die uitkykpunt op die heuwel stop ons vir koeldrank.

Hier kan jy die hele stad goed besigtig. Die eienares van die winkeltjie - sy is 22 - bedien die koeldranke. 
Ek betaal.
Ons sit op plastiekstoele: ek, die drywer en die gids.
"Hoekom is sy nie swart nie?", vra sy vir die gids.
Klein geskiedenisles. Dis televisie se skuld, meen Sergio die gids. Almal in Afrika moet swart wees ...

Dan kom drie pragtige jong kinders na die tafel. Die dogtertjie is hare, beduie sy.

"Mag ek 'n foto neem?"
Die kinders poseer; die jong dogtertjie stoot haar lyfie na vore asof sy 'n model is. Almal lag en klap hande.
Toe ons opstaan om verder te ry, vra sy: "Dollar, please!"

Ek weier egter om saam te speel. So leer jy 'n bedelkultuur aan. Solank jy twee hande en twee bene het, kan jy werk, is my lewensfilosofie. Sergio stem saam. Ons moenie geld gee nie; dit word dan net 'n bose kringloop. 

'n Mooi oomblik is ongelukkig bederf deur hierdie versoek - kennelik deur die ouers georkestreer.

Ons ry deur die arm gedeeltes. Netjiese huise, ten spyte van die ellendes. Kuba - ook 'n gevoel soos Maputo. Sergio vertel hoe goedkoop petrol in Venezuela is en mense ry oor die grens en smokkel dit in.

Orals teen die mure graffiti. 'n Duidelike kunsvorm hier. 

Op die strand sit die baaiers onder sambrele.

Nou is dit terug hotel toe. Daar is kinders wat baljaar in die swembad. 'n Jong kind gil en sy pa ruk hom uit die swembad. Kennelik bewus dat hy die ambience van die Anandá steur.

Nou sit ek met die spyskaart voor my. Gisteraand 'n heerlike lasagne genuttig. Dalk Fileto de pargo platero? Vis in kokosneut-olie met 'n kreoolse olie.

Is dit dalk Tilapia, rooiborskurper? Nee, verduidelik iemand: Red snapper.

Hier is weer Risotto en hoender. (Reeds beproef.)

Dalk Guiso de Róbalo (acompañado de papas). Hierdie visgereg word met aartappels in roomsous en geroosterde aspersies bedien.

Daar is ook pasta met basil pesto en seekos daarby. 

En New York Angus. 300 gram nogal. Gerooster. Maar dit sal ek eerder tuis by Nelson's eye of die Hussar beproef. 

Nou maar 'n muntstuk opgooi vir die visdis.

Ek kies die Guiso de Róbalo.

Met wyn uit Chili.

In die kamer is daar 'n groot grenadella. Ek proe liggies. Dit is tussen soet en suur. Tog smaaklik.

Hier geroep Granada.

Wat my laat dink aan die ou raaiselgrappie. 

Wat noem ons Mandela se ouma? Grenadella. En sy broer? Frikkadella.

In die notaboekie in my kamer is daar 'n aanhaling van Márquez:

La memoria del corazón elimina los malos recuerdos y magnifica los buenos, y gracias a ese artificio, logramos sobrellevar el pasado. / Die geheue van die hart wis die slegte herinneringe uit en beklemtoon die goeies word en danksy hierdie meganisme, kan ons die verlede hanteer.

© Joan Hambidge

Reisjoernaal | Colombië: Deel VII (2018)

$
0
0
Deel VII

Dit is Žižek wat in The pervert's guide to the cinema daarop wys hoe 'n mens se koördinate van die realiteit verskuif word deur grensoorskrydende ervarings. En reis is so 'n een.  Jy is die hele tyd tussen hier/daar; uitgelewer.

5 vm lui my wekker. Elke dag word e-posse beantwoord, studente se tesisse begelei, koerante via die internet gelees - anders word dit 'n onbegaanbare taak om deur die berge van e-posse en koerante te wroet by die tuiskoms.

Maar eers 'n brief vir Die Burger:
Brief Die Burger 17/1/2018
Ek reis tans deur Colombië in Suid-Amerika en Kaapstad se waterkrisis is selfs hiér nuus. Op vliegtuie is dit mense se eerste reaksie wanneer hulle hoor jy kom van Kaapstad. Die media meen hier dat Kaapstad die eerste wêreldstad sal wees sonder water. In 2008 was Barcelona in dieselfde bootjie (verskoon die beeld). 'n Mens hoop dat Patricia de Lille en haar raadgewers die erns van die saak sal insien. Hopelik kan al die rusies tydelik na die agtergrond geskuif word om aan hierdie dringende kwessie aandag te gee. Indien nie, sal daar groot ellende wees vir almal woonagtig in Kaapstad en omstreke. Behalwe dat die infrastruktuur in duie sal stort, voorspel kenners siektes. En geweld. Want net die rykes sal kan water koop.
In die verlede is Mevrou de Lille al aangepraat oor die verslonsing van Kaapstad en die hoë insidensie van haweloses. Hieraan het sy niks gedoen, ten spyte van vele oproepe en briewe. Voorstelle is gewoon van die tafel gevee of dalk lees sy nie dagblaaie nie.
Kan iemand asseblief die klokkie lui? Hierdie aangeleentheid is belangriker as enige persoonlike stryd of verskil. 
Joan Hambidge, Cartagena 
Dan die besoek aan Gabo se huis in Aracataca.

Op die bussie lees ek verder aan Binet se literatuurteoretiese speurverhaal. En wonder wat Judith Butler sou maak van die dildo-scene?

En Derrida? Die begraafplaastoneel is 'n soort Walpurgisnacht. 'n Mens wonder hoe die Franse teoretici voel oor hierdie satire? Is daar laster-eise? Of net 'n skouerophaling?

Verder verwonder ek my aan die landskap wat soos Mosambiek lyk: plantegroei, huise, piesangs aan bome toegemaak in blou omhulsels sodat dit nie verswart nie (kennelik vir die uitvoermark).

Die reis is vier ure van Cartagena tot in Aracataca.  Bly die beste manier om 'n land te sien: deur die ruite van 'n kronkelende bussie.

Iemand anders bestuur - en jy is 'n kamera (dankie, Christopher Isherwood!)

Y era hora.

'n Derde curve ball tref my toe my sms 'n verkeerde balans vir my kredietkaart aankondig. Onmiddellik vrees ek bedrog - toe ek destyds in Mexiko was (op pad na Kuba) het iemand my kaart in 'n hotel gekloon en by my terugkoms was 'n rekening ellendig hoog. Gelukkig het FNB binne 24 uur alles reggestel nadat my bloeddruk deur die dak gegaan het. Meixiko en Havana was ruimtes waar Márquez vertoef het na sy kritiek op sy land.

Ons stop dadelik by 'n bank in Aracataca. Die bankier is vlot op Engels. Jammer, nee hy kan nie help nie. Hierdie bank het geen betrekking met FNB nie. Die ATM gee wel die korrekte bedrag soos ek dit onthou uit 'n vorige transaksie; dus kalmeer ek (tydelik). Die voordeel van so 'n curve ball is dat dit jou laat instap in die lewe van die alledaagse bestaan van dorpenaars. Almal is vriendelik en hulpvaardig - en die gids, Sergio help ook.

Gabo se huis is pragtig, eenvoudig. Egter 'n rekonstruksie van die oorspronklike huis.

Groot skrywers kom dikwels uit klein dorpies waar hulle van kleinsaf hul fantasie moes ontwikkel.

Die huis is 'n huldeblyk aan sy oupa, Papelo wat hy dopgehou het as jong kind terwyl hy gewerk het in die huis. Oupa was ook 'n oorlogsveteraan wat sterf toe Gabo nege jaar oud was.

Sy ouers moes om werk te kry hierdie dorpie verlaat en hy het grootgeword by sy vertroetelende ouma Mina en oupa Papelo.

Dis ook bekend dat hy al die stories gehoor het by sy ouers en grootouers - wat later in sy boeke beslag kry. Hy het self op 'n keer beweer hy het al die stories gehoor voor sy agste jaar!  Verder lees hy as regstudent natuurlik Faulkner wat 'n bepalende invloed op sy werk gehad het, nes Kafka (Writer Gabriel Garcia Marquez, Who Gave Voice To Latin America, Dies / NPR. Besoek 20 Januarie 2018).

Die hele dorpie is vol skilderye en monumente vir hom. Uit die gegewe van hierdie kleindorpse bestaan het hy 'n fantasieryke wêreld geskep.

So begin sy beroemde roman:
Many years later, as he faced the firing squad, Colonel Aureliano Buendia was to remember that distant afternoon when his father took him to discover ice. At that time, Macondo was a village of twenty adobe houses, built on the bank of a river of clear water that ran along a bed of polished stones, which were white and enormous, like prehistoric eggs. The world was so recent that many things lacked names, and in order to indicate them it was necessary to point.
Die gids is 'n skoolkind en duidelik baie ingelig oor die skryfwerk van Gabriel. In verskeie plekke kleim mense hierdie groot skrywer vir hul dorp af. Hier het hy skoolgegaan; hier het hy gebly; hier was hy.

Daar was verskeie pogings deur die jare om hierdie dorpie se naam te verander na Macondo. Helaas sonder sukses.

Carlose Fuentes, Mario Vargas Llosa (met wie Gabo 'n vuisgeveg gehad het oor 'n mooi vrou) en Julio Cortázar se fantasieryke romans is uitstekend. Nes Borges se kortverhale.

Sy loopbaan as joernalis het tot gevolg gehad dat hy die land moes verlaat weens politieke uitsprake. Fidel Castro was glo 'n vriend en raadgewer van sy romans!

Bill Clinton beskou Die 100 jaar van eensaamheid as een van sy gunsteling boeke (50 Truths About Gabriel García Márquez | HuffPost. Besoek 20 Janaurie 2018).

'n Ander gids dring hom op aan ons. Hy wil vir ons wys waar die rivier is. 

Ek laat weet dadelik vir my gids dat ek nie belangstel nie. So 'n betreding is juis waarom ek nie meer alleen reis nie of in groepe. En dit is dikwels hoe diefstalle georkestreer word.

My gids is my oë en ore. Bykans soos wat Michael Corleone (voortreflik vertolk deur Al Pacino) van sy broer eis in die Godfather II.

Na die eerste besoek aan die huis ry ons na 'n ander bank. Hier raak ek ook nie geholpe nie, behalwe dat hulle internet kan  verskaf en my rekening lyk reg. Iewers het 'n fout ingesluip.

Ek neem die gids en bestuurder vir middagete na 'n plaaslike eetplekkie. Ons eet die allerheerlikste hoender en aartappels. Weer met plastiekhandskoene.

Iguana-sop en -eiers

Met die terugreis bied die gids iguana-eiers aan. Ek het al krokodil en pirannha beproef, maar weier hierdie delikatessen.

Dis warm.

Ons eet vrugte wat nie goed met my akkordeer nie, omdat dit kennelik die hele dag in die son gestoom het. Hulde, hulde aan Immodium. Amper word dit Arakakaka.  

En van hier na 'n kostoer.

Suto tando pa kolasó ri palenge!

Vandag is dit kook en geniet in Palenque.

Om tien kom haal Diane my vir 'n kooksessie in die plaaslike village. Sy het 'n netjiese sjefbaadjie aan en na een-en-half uur is ons daar. Hier sit mense wat tromme speel en sing. Ek het 'n groot versameling kookboeke wat ek net letterkundig benader soos C. Louis Leipoldt se magistrale kookboek en vele ander oor vreemde lande. En disse. 

Waar kom 'n bepaalde dis vandaan? 

Ek verslind (!) kookrubrieke soos Errieda du Toit se skitter-werk. En natuurlik Anel met die ponytail s'n in Rapport.

Ja-nee. Life is inderdaad 'n zoo biscuit! 'n Goeie kosskrywer se (t)ekstase, kostase en vreetpak (sic!) blyk uit oor hoé hulle skryf oor 'n bepaalde dis. Gourmands is unieke spesies. Nes wynkenners. Jy moenie met hulle stry nie. 

Ek het vriende wat uitmuntende sjefs is en wat Michelin-disse kan opklop uit niks.

Ons gaan vandag kokosneuthoender eet met bone en rys.

Ek bied aan om te help met die voorbereiding. Sy gee vir my  'n rooi voorskoot (Foodies) en dit kom dan later uit: hier werk hulle ook aan 'n TV-program om inheemse kos te "bewaar". Haar produksiebestuurder bly egter op die agtergrond.

Ek is hier as toeris vandag.

My oë traan toe ek die uie kap. Ek onthou 'n ou boereraat by ou moeder geleer: sit water in jou mond. Dan kap ek die knoffel en haal klein rooi pitjies uit hul hulsels wat oor die piesangs geverf word wat oor die kole stadig braai. Sy verduidelik vir my dit is hulle saffraan waarmee hulle kook.  Hulle roep dit achiote.

Van kook weet ek so min as 'n kat van saffraan, maar ek probeer! 

Terwyl ons kap en gesels, steur 'n Whatasup gekletter die ambiance. Ek vra dat die foon asseblief op silent moet wees. En almal het selfone hier: van die maestro wat tydens ete sit en sms tot die oudste tante. Twee jongelinge ry met motorfietse. 'n Paartjie met kinders (vier van hulle) kom kuier vir die Ouma.

Dis 'n baie primitiewe omgewing. Kos word buite berei op die oop kole. Daar is varke (wat lawaai), 'n perd onder 'n boom, skroppende hoenders en kuikentjies.

'n Jong hond se pensie is opgeswel. Hy het glo 'n giftige padda gevreet.

Die kos is prima. Maar te veel. Die nagereg is 'n soet tert met kokosneut.

Ek probeer beleefd bly, maar die kos is werklik te veel.

Gelukkig neem Diane nie aanstoot nie; ek het immers gehelp met die voorbereiding.

Dan word daar musiek gemaak. Die maestro van die dorp (in sy tagtigs) speel op 'n groot instrument musiek. Dit is letterlik soos 'n trompie op 'n groot houtkas.

In Gabo se huis

Hy bewaar hierdie gemeenskap se taal en kultuur, verduidelik sy. Hy het 'n groot medalje om sy nek. 'n Bekroning wat hy ontvang het vir sy harde bewaringswerk.

'n Groot ou oom is soos 'n sangoma. Hy gesels met my sonder taal.

Ek wys na die skaafplek wat gesond word. Hy glimlag.

Die mense praat met mekaar in 'n dialek wat Diane begryp. Sy vertaal vir my wat hulle sê. Dan dans hulle op die musiek. Die een ou Tante nooi my om te dans, maar ek wil eerder kyk.

Na die ete moet ek 'n vorm invul oor my ervaring wat hulle op hul webtuiste gaan plaas.

"Uitstekend. Lekker kos en my tweede kosles in 'n vreemde land. Die eerste was in Thailand waar ek geleer het om 'n mannetjie in 'n waatlemoen uit te kerf."

Diane lag uitbundig.

Nou moet ons die maestro en sy vrou terugneem na hulle huis.  Op die mure van die huise is daar politieke slagspreuke. Die verkiesing is in Maart en die politici is hier jonk, manlik en vroulik. Glo om die ou régime se rug te knak.

My die terugry Cartagena toe sing ons almal saam met die CD wat ou treffers speel soos "Forever Young", "Yesterday", "Hotel California" ...

Selfs Cat Stevens.

Nou eers vir 'n swemsessie in die hotel, want more vertrek ek vir drie dae na 'n klein eiland.

© Joan Hambidge

Gedig | Joan Hambidge - Die geboortehuis van Gabriel García Márquez (2018)

$
0
0


Mina en Papelo sit in hul afwesigheid steeds aan
by dié tafel gedek vir twee in 'n huis gerekonstrueer.
Hierdie grootouers versorg 'n jong kind, vertel stories:
later vanuit sý optiek gelaai met mucho entusiasmo.
Maar dit is veral die stilte, die eensaamheid volledig,
waaruit Gabo ryklik kon put: vrugte ryp vir die pluk.
Iets glo soos 'n spertyd van die siel, hierdie óór-dig
of natrek van verhale nes dié besoeker in haar destinor.

© Joan Hambidge

Reisjoernaal | Colombië: Deel VIII (2018)

$
0
0
Deel VIII

Nou is dit Punto Faro, Isla Mucura.

My gids is oorbetyds en ons moet wag by die Regatta hotel (bietjie afgeleef, die hotel) vir die ander passasiers. 30 mense vertrek op dieselfde boot.

Paspoort word gevra. Ons moet elkeen $5 betaal by die hawe - nie ingesluit nie en my gids het my nie ingelig nie. Goddank het ek altyd geld by my. (Die reis is egter alles inklusief - so Metropolitan Tours het opgeslip.)  My gids wag totdat ek vertrek. Hoekom, weet ek nie, want hy is die hele tyd besig om met iemand op sy selfoon te praat.

Die boottrip duur twee ure lank, met dolfyne wat om ons in die water speel. Ek sit heel voor en kry dus die wind letterlik van voor, maar gelukkig is daar sonbrandolie.

Op die boot is net water beskikbaar - deesdae word drank verbied. Veral as daar probleme is, kan passasiers moeilik raak en dalk verdrink.

Skielik stop ons. Ek ruik petrol.

'n Italianer voor my verduidelik daar het plastiek in een van die enjins beland. Tien minute later skuur ons voort. Lieflik. Die angs skuim weg na agter ... 

Ons aankoms is plesierig. Met iets van 'n skoolkamp-allure word ons ingelig oor die moets / moenies op die eiland. Geen deure word gesluit nie. Almal vertrou mekaar. Geen tips nie, asseblief. Net teen die einde van die verblyf in die tipboks sodat almal kan deel. Geen rook in kamers toegelaat. Skakel lugverkoeling af wanneer jy die kamer verlaat. Bruin handdoeke vir swem; wit vir stort. Wees versigtig vir die iguanas op die eiland ...

Dit herinner my aan 'n verblyf op 'n flotel in Manaus in 1987. Jy is afgesonder van die buite-wêreld en die reëls van die plek is wet. Bykans soos in die weermag!

Dit was my eerste besoek aan Suid-Amerika waar ek gedig het oor 'n besoek aan die hele kontinent waarna ek die afgelope paar jaar by herhaling teruggekeer het, omdat dit kreatief goed is vir my: Brasilië, Peru, Argentinië, Chili ...

Die Amasone

Net soms, net soms laat Hy van hom hoor:
skryf met ‘n penstreep teen die lug oral oor,
stuur ‘n teleks per aardbewing (woedend en koud)
of praat woordeloos in ‘n magiese oerwoud.

Manaus


Jouissance

Suid-Amerika is ‘n wispelturige vrou:
vol teëspraak, hartstog én ontrou.
Sy nooi jou uit met haar Brasiliaanse borste
 - net om jou af te weer met haar Chileense arms.
Mens onthou veral haar Boliviaanse oë
en min mense raak uitgepraat oor haar Andes-neus.
As jy gelukkig is, laat sy jou selfs toe in haar vuurheuwel.
Vir my is sy uitsonderlik weens haar kop
vol drome: haar fantasmagoriese, ongetemde Amasone,
al het sy my nou heeltemal vergeet:
ons liefde lyk nes die ruïnes by Macchu Picchu. 

(Uit: Verdraaide raaisels, 1990).

Night of the Iguana van Tennessee Williams vra vir 'n herlees. 'n Verstommende teks oor 'n klag van seksuele misdryf, oor geloof en ongeloof.

Nou is dit lunch. Die corbina vis is puik gaar gemaak en die slaai en groente smaaklik.

Hierna tiep ek om. Die vorige twee dae was lang reise met baie ervarings en indrukke.

Laatmiddag skrik ek wakker. Sukkel om die internet-verbinding te vind en uiteindelik sluit ek aan by die bestaan buite die eiland. Besef opnuut: ek het drie verslawings, te wete, skryf, die internet, en beslis rook.  Alkohol kan ek net so laat staan. Maar skryf en rook en kontak via die internet / e-posse bepaald nie.

Selfs op hierdie afgeleë plek is ek besig met notas maak, skryf, lees.

En ek slaan altyd 'n ou dampie iewers buite onder 'n boom.

Die dinner is op die grasperk. Twee jong Amerikaners sit by my tafel. Hulle woon in Washington DC en Trump se manewales met die sloerstaking van uitbetaling aan regeringsdienste is 'n ellende. Mense sit met die hande in die hare. Polisielede gaan dalk nie 'n salaris kry nie.

Die ekologie en global warming is ook deel van ons gespek. Martin, die bestuurder van die oord, vertel hoe die reënpatrone jaar na jaar skuif.

Ons eet vis en heerlike garnale. 

Vroegaand is dit bed toe. Op die grasperk rook 'n man 'n sigaar. Heerlik.

Die volgende oggend neuk dit met die internet-verbinding, maar die reis hier begin inskop.

Ek swem in die warm Karibbiese see en kyk hoe 'n pelikaan klein vissies verorber met sy lang bek.

Dit is warm.

Twee Deense meisies gesels met my oor hoe die reis hulle ook betower. 

Ingmar Bergman, die Sweedse filmmaker, is my een van gunstelinge. Die een meisie weet te vertel sy was 'n ekstra jare terug in een van sy films as 'n jong kind.

'n Italiaanse bankier - in die kabine langs my - gesels met my oor Fellini en Pasolini en Umberto Eco.

Hoe heerlik is hierdie konneksies nie.

Laatmiddag is dit hoogwater. Die stil water van die oggend is nou gevaarlik. 'n Brander trek my in en ek gaan lê op my rug. Bly kalm. Dan skielik word ek uitgewerp op die sand. Ek dink aan 'n ervaring uit my jeug toe ek amper verdrink het by Ballito-baai en my oorlede moeder probeer inswem het om my te red.

Gelukkig het 'n dwars-stroom my gered.

*

Jou begrafnis sober soos jy was.
Schubert se Forelle in die agtergrond.
'n Ruiker bloei in die Saffas-kapelletjie.

Die predikant lees voor uit 2 Timoteus 3 & 4.
Ons vier susters sit woordeloos langs mekaar,
met kleinkinders, 'n neef en sy vrou.

Die testament van jou lewe, sê die prediker,
behels dat jy altyd geluister het en sinvol
kon reageer op sake van die dag.

Ma het ons stewig geanker toe ons
klein was. Toe die golwe oor ons gebreek het,
het ma ons weer geanker op ons lewensreis.
My suster se bydrae vir die gedenkdiens.

Ek onthou hoe 'n seestroom by Ballito
my intrek as kind en dit was jy
wat wou inswem toe ek roep om hulp;

om my te red totdat die branders
my genadiglik weer uitgegooi het.

Maar jy is reeds as dankoffer uitgegiet,
en die tyd van jou heengaan
laat my akatalepsies, oorspoel met verdriet. 

En skielik is dit aand.


Daar is iets dreigends in die weer. Ek het nog nie 'n iguana gewaar nie.

© Joan Hambidge

Reisjoernaal | Colombië: Deel IX (2018)

$
0
0
Deel IX

In kamer 9 ontwaak ek vroegdag. Nou begin die terugkeer more om 9.15. Vanaand nog op die eiland, dan Bogotá, dan Air France - ...

Dit is vandag onbeskryflik warm. Ek swem vinnig om elf en hardloop terug vir koelte. En daar onder 'n palmboom: 'n manjifieke iguana!

Ek neem drie foto's - soos 'n wafferse celeb laat hy my begaan. 

Met die terugkeer (amper) dink ek na oor:

Drie lughawens

Eldorado International Bogotá / Groot en uitgebreid
José María Córdoba Medillin / kleiner
Rafael Núñez Inernational Cartagena / intiem

Dan die bootreis van Cartagena na die eiland.

*

Drie gidse

Gustavo
Luis / Lewis
Sergio

Op die eiland Martin, as helper...

Almal uitstaande gidse en begeleiers wat my ook op afdraaipaadjies neem.

*

Stempels in die paspoort (oud en nuut): 

1999 Swaziland  
2001 Sjina
2002 Japan
2004 Roissy
2004 Engeland / Kuba / USA
2005 Kanada
2006 Nepal / Indië
2006 Zimbabwe / Botswana / Zambië
2006 Thailand
2007 Egipte / Brasilië
2008 Istanbul
2009 Egipte / Zanzibar
2009 Kenia
2010 Korea
2011 Turkye / Roissy (kongres Sorbonne)
2011 Hong Kong / Sjina 
2011 reis-om-aarde
2013 Venesië
2014 Viëtnam
2014 Dubrovnik / Slowenië
2014 / 2015 Argentinië
2015 / 2016 Chili
2016 Wenen
2017 Namibië
2018 Colombië  

Vele gedigte het uit hierdie reise gespruit.

En vele afleggings ...

*

Sosioloë skryf mos oor hoe mense bymekaar uitkom. Soort soek soort. Ek konnekteer aanvanklik met die paartjie uit die VSA; daarna is daar 'n afstand. My ervaring nog altyd van die Yanks: spontaan, gesels lekker - dan afstand. "Let's do lunch" wat beteken: humba!

Maar ek en die Taljaners skiet lekker op. Ruil adresse uit, vertel vir mekaar van ervarings wat saak maak.

Die ses Turkse vroue bly eenkant. Sit en rook op die grasperk en drink laatnag wyn.
Ek hou almal dop - behalwe vir die lekker geselse met die bankier en sy vrou.

Die Duitsers konnekteer met die ander Duitsers.

Zygmunt Bauman, die Poolse sosioloog, praat mos van top-pocket relationships en hoe mense in moderne tye mekaar "gebruik" en aanbeweeg. Liquid love.

Op 'n lughawe of in so 'n resort is jy uitgelewer aan mekaar. Daarna is alles vergete ...

Tog is dit so: die Colombiane is baie vriendelik en al verstaan hulle nie jou taal nie, uiters hulpvaardig. Op die lughawe in Cartagena eet 'n jong kind roomys oorkant my. En die vader bied so ewe vir my van die roomys aan.

*

Middagete is weer vis met slaai en seekat!  Te lekker. (Vir die wis en onwis, neem ek 'n Immodium).  Ek sit weer by die Italiaanse bankier en sy vrou. Belese en berese. Ons het dieselfde film-smaak. Hy is gaande oor Vicky Christina Barcelona, Woody Allen se meesterstuk uit 2008.

Márquez was ook gaande oor Allen se films.

Die aand kuier ons weer. Hy rook 'n sigaar, vertel my van sy lewe in Milaan.

Hy en sy vrou is slank, elegant en baie innemend. Hy doen die meeste praatwerk. Ek vertel vir hom van die Namibwoestyn en hoe dit my geraak het.

Dan gesels ons oor Japan. En hoe verskillende lande konnekteer met mekaar. (Die eiland herinner sterk aan Mosambiek - maar ook aan Saigon!) As daar iets soos intertekstualiteit is, dan beslis ook inter-reistualiteit.

Barthes se Empire of signs en hoe alles tekens word wat jy, as reisiger, met betekenis kan laai.

Die bankier is nie 'n drinker nie, maar drink wel eenkeer 'n Pina Colado op die strand en by die ete 'n bier. Ek beproef die Santa Rita 120 Cabernet Sauvignon tinto uit Chili.

Dit is nou maar so: die Chilene kan poësie skryf en wyn maak.

Vroegaand bed toe ...

More is 'n lang dag. Die reis terug begin: Cartagena, Bogotá, Parys, Johannesburg, Kaapstad.

Om nege moet ons op die boot wees. Genade, ek het per ongeluk my huisapteek in die groot sak gesit. Geen probleem. Die tas word teruggebring en voilà: ek pop 'n Immodium vir die tweeuur lange terugreis.

Die boottrip terug is aaklig. "O magtige oseaan, jy wydgestrekte ..." kom hier aan bod. Die boot val telkens terug op die ater: hard, en dan beweeg ons weer voort ... 

Ek groet die Italianers. Die Amerikaanse vrou groet, die man nie.

Goeie nuus: Air France vergoed my 'n 100 euro's vir die ongerief met die tas. Of 150 euro's se vlugkoepons.

My gids wag geduldig op my. Ek koop T-hempies vir my vriende se kinders en deodorant. In hierdie hitte moet jy altyd vars aantrek en stort.  Op die vlug na Bogotá kom ek my Moses tee met 'n Micky Mouse-speletjie. 'n Mens moet help krane regmaak vir Micky, maar my vingers is helaas te stadig vir die speletjie. Hoe ironies dat hierdie speletjie oor water nou opdoem.

Ons is weer in die Sofitel. Te lekker. Dis nou na 7. Nie te koud nie en beslis 'n aand vir rondslenter in die omgewing.

Ek hoef ook eers more na twee uit te tjekkereer. 

Notas, skribbels elke dag vir my roman Begeerte.

Ongelooflik hoe vinnig 'n mens vergeet. 

Maar reis waaier herinneringe oop na ander lughawens of hawes. Etikette op my koffer was die titel van Ernst van Heerden se reisboek. Ek het reeds 'n digbundel geskryf Visums by verstek. 

My reisverslae sal heet: Reisiger na orals.

Reisverslag

Jdl

In 'n reis-om-die aarde is dit blare
wat ek in 'n dagboek vir jou plak.
Hierna bring ek klippe, daardie stomme
dinge wat soos fossiele alles verklap
van die Ubicación waarin dit geberg word.
In die Museo El Fósil, Villa de Leyva
sien ek die afdruk van 'n reuseslang
grillerig, groter-as-lewensgroot ...
En nou na hierdie reis? Ek presenteer
jou met iets kleins, wat in die herinnering
se argief sal bly voortleef, lank na ons vertrek:
uit die sentrum van my hart, 'n klein astrak. 

Bogotá

© Joan Hambidge


Resensie | Jacques van der Elst (Red.) - Adam Small:Denker Digter Dramaturg (2018)

$
0
0
Jacques van der Elst (Red.) - Adam Small:Denker Digter Dramaturg. Protea Boekehuis, 2018. ISBN 978-1-4853-0863-8

Resensent: Joan Hambidge

Digter, dramaturg, openbare intellektueel. Dit is hoe 'n mens Adam Small (1936- 2016) kan opsom enersyds as baanbrekende digter; andersyds as uitmuntende dramaturg. Daar is eweneens die geprek met en vertalings van Van Wyk Louw wat hierdie studie, onder redaksie van Jacques van der Elst, uiters tydig en belangwekkend maak.

Die uniekheid van Small word beklemtoon in hierdie huldigingsbundel van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Verskillende kenners skryf oor hierdie veelfasettige skrywer wat onder meer deurgeloop het in twee onverkwiklike polemieke. (Dan praat ons nie oor die vermindering en uitrangering wat hy sy lewe lank moes verduur nie.) Toe die Hertzogprys aan hom toegeken is, was daar figure wat gevoel het die reglement (naamlik dat sy werk nie binne die driejaartermyn verskyn het nie) tersyde gestel is. Van der Elst skryf boeiend oor al die reaksies. Marisa Keuris wys hoe tersaaklik dit was om wel binne die kader van vergifis en versoening die prys toe te ken.

Veral Nicol Stassen was ongelukkig hieroor, omdat hy uiteraard die uitgewer is wat in daardie tydperk wél dramas gepubliseer het. Daar was verskeie media-reaksies, maar hierdie toekenning is wat hierdie leser betref, vol in die kol. Veral gedagtig aan mindere ligte wat die afgelope jaar hierdie prys ontvang het in die drama-kategorie. Daar is alreeds 'n gerug dat as jy die prys wil ontvang, skryf sommer gou 'n drama.

'n Ander pynlike polemiek was Small se gebruik van Kaaps. Nathan Trantraal (en ook Ronelda Kamfer) meen dat Small nie meer die lot van die gemarginaliseerdes korrek vertolk nie. So mag dit dalk wees, maar ondertussen is beide jong digters eweneens "opgeneem" in die literêre sisteem met bekronings en geldpryse. Michael le Cordeur argumenteer tereg dat Small Kaaps tot volwaardige taal uitgelig het.

Bernard Odendaal lewer insigryke kommentaar op die posisie van Small as spilfiguur binne die kanon. Die agting wat hy geniet, spreek duidelik uit hierdie artikel.

Eweneens knap, is die sober reaksie van Steward van Wyk oor Small en die kwessie van identiteitskonstrukte. Small as spreekbuis vir "kleurlinge" word uitstekend uitgelig en die geskiedenis van politieke opportunisme kom aan bod belig teen die agtergrond, onder andere van Richard van der Ross se studies hieroor in 1979 en dan in 1986. Wanneer 'n mens dit lees, begryp jy opnuut die redes vir Small se stilte. Hein Willemse analiseer o.a. "Vryheid", 'n lang dramatiese gedig. Via Fredric Jameson se ideologeem ondersoek hy die spanninge tussen die gedig as 'n talige konstruk en die historiese omgewing.

Jacomien van Niekerk analiseer die impak van radiodramas en hoe dit verskil van teateropvoerings (Kanna hy kô hystoe kom hier aan bod) via Brechtiaanse vervreemding. Abraham de Vries - soos net hy kan - lewer 'n menslike reaksie in sy persoonlike geskiedenis. Dit is van kardinale belang dat hierdie inligting bewaar word, omdat soveel tekste en skrywers beter gekontekstualiseer word.

Willy Martin se vertalings wys op die komplekse prosesse wanneer Kaaps vertaal word en die registerprobleme wat dit skep. Kaaps se verhouding tot Afrikaans is dalk soos Vlaams tot Nederlands? Geweldig baie om aan te peusel in hierdie vertaal-igloo.

Antoinette Lombard & Rinie Schenk lewer kommentaar op die méns en sy werk as maatskaplike werker. In hierdie puik artikel word die analogie en verband tussen maatskaplike geregtigheid en maatskaplike werk bestudeer. Erika Terblanche gee 'n biografiese skets.

Daar is na elke artikel belangrike bronnelyste vir verdere leeswerk. Marisa Keuris se kantekenige rondom Marvin Carlson se The haunted stage: The theatre as memory machine is verpligte leeswerk!

Vanaf 2013 het ons gekorrespondeer in e-posse gedikteer aan Rosalie. Op 'n keer stuur hy vrae aan homself wat hy beantwoord. Op 25.10.2013 skryf hy so oor taal:

Wat is my denke oor taal of 'n taal, oor die aard van taal of 'n taal?

Ek glo dis nodig dat ons heeltemal nuut oor taal moet begin dink, wég van die konvensionele, valerig-steriotipe verwysing na taal as 'kommunikasiemiddel'. Dis nie sodanig dat ek 'n 'paradigmaskuif', of 'kopskuif' soos sommige mense sê, in ons denke bepleit nie - hierdie soort segge is alreeds 'n soort bargoens. 

Taal of 'n taal behoort gesien te wees as 'n omvattende, insluitende soort werklikheid waarbinne mense hulself bevind, stilte sélf synde 'n inherente aspek hiervan - die gebruik van taal is dus nie net 'n geklets, 'n gebabbel nie, maar 'n innige werk, soos wat bye aan die maak van heuning wy, wat mense saambring en -bind. Dit het alles met liefde te doen. Misdaad is 'n klinkklare verkragting van taal. 

Die boek bevat pragfoto's van Adam Small.

Vir alle navorsers oor hierdie belangrike figuur.

Huldeblyk vir Adam Small

In Groot Verseboek staan jy,
daardie blou monument vir Apartheid,
beheer deur Wit Manne
met vrouedigters toé uitgeskuif
tot ‘n blote vroulike aanvulling,
doenig met potte en panne
in die kombuis of tot ‘n manlike digter
se minnares met wie hy smiddae
op die rusbank die jambiese pan slaan.
O treurig dié wysie op die digter se naat.
Hier is lesbiese vroue eens afwesig 
of op vlug na Kanada en ander uithoeke 
van die aardbol. Tweederangs, stil,
terwyl ‘n gedig net-net ‘n natuurbloemlesing haal
én die dieper onheil troebel soos ‘n haai
onderwaters draal.                                                          
Jou kon hulle nie uitrangeer na die slawekwartier
of buitekamer nie. 
Jou stem te helder, bytend.
Jy staan vir ‘n Distrik ses in hierdie digterlike Bybel,
herinner hulle aan “forced removals”
en die Groepsgebiedewet.
Boonop dryf jy die spot en hekel
met die Heilige Orde van die Woord.
“Dis die lô, dis die lô”,
klink dit op in elke vers
en jy vertaal selfs die VaderGod van die Digkuns.
Vandag onder ‘n mat
ontdek ek ‘n klein geraamte
van ‘n vlugtende gekko gemosaïek.
Naby Ingrid Jonker en Breytenbach
nes die rollende duisendpoot van Louis Eksteen
én die ander stilgemaaktes, is jy immer die een
wat rats, sonder omhaal van woorde, steeds
in Kaaps bly skel teen mensgemaakte wette.
En ek wonder: hoe voel jy nóú?
Of is jy soos daardie gekko
deur al die teenstand
tog stilgemaak?

(Uit: Lot se vrou)


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Viewing all 819 articles
Browse latest View live