Quantcast
Channel: WOORDE WAT WEEG
Viewing all 819 articles
Browse latest View live

My drie poësie-hoogtepunte vir 2014

$
0
0

Op versoek van Rapport het ek my 3 digkuns-hoogtepunte vir 2014 gekies:

​Antjie Krog: Mede-wete (Human & Rousseau)

Ongetwyfeld is Krog ’n hoogtepunt. Sy dig oor sowel die persoonlike as die politieke dimensie, en die volgehoue spel met Paul Celan en die ontginning van taal is verbluffend.

Krog in al haar kompleksiteit is hier aanwesig: woedend en teer; in praatvers en met sterk vormbeheer. Sy skryf in teen stilgemaakte swart stemme en aanwesige, gekanoniseerde digters. Dit is ’n vreeslose bundel, ’n bestekopname van ons land en ouer word. Die gesprek met sowel die moeder as vader is hier aanwesig. Dit open met ’n lykdig oor die vader, en die besit – die plaas gemetaforiseer as die werf – word ook onder die loep geneem. Daar is hartgrypende verse oor kleinkinders opgeneem.



Hierdie digter het ’n groot register.
Johann Lodewyk Marais: Nomade (Cordis Trust)

Hierdie reisboek karteer hoofsaaklik Afrika-reise. Afrika in al sy kompleksiteite – armoede, oorlog, misterie, verskillende godsdienste – kom aan bod. Die “politieke onbewuste” rig vele verse. Die landskap word beskryf, maar telkens afgekaats teen die waarnemer en die gebruik van vreemde Afrika- en Arabiese woorde gee iets eksoties aan hierdie bundel. Daar is kragtige verse soos die een oor Mandela.

Hierdie bundel is ’n diorama en die leser kan telkens ’n gesprek sien tussen ander verse in die digter se oeuvre.




Marlise Joubert (samesteller): In a Burning Sea (Protea Boekhuis)

Hierdie vertaalprojek gee lesers, sowel plaaslik as in die buiteland, ’n blik op die veelvoud van die Afrikaanse digkuns.

Telkens word die vertaling langs die oorspronklike teks geplaas en die vertalings van onder andere Johann de Lange, Charl J.F. Cilliers en Tony & Gisela Ulyatt laat die verse reis na nuwe bestemmings. ’n Mens sien hoe verse nuwe betekenisse aanstig.

Deesdae is vertaalprojekte en gesprekke oor vertaling hoogmode, waarskynlik omdat die wêreld finaal ’n global village geword het. Soos met enige antologie sou ’n mens ander verse wou sien of meer van ’n bepaalde digter, maar ’n mens moet Marlise Joubert loof vir haar harde werk om al die Afrikaanse digters in een boot te kry “in a burning sea”.

Reisverslag: Buenos Aires - Deel I

$
0
0

DEEL I


I

Reis is om onsekerhede te trotseer. In Olga Kirsch se gevleuelde woorde:

Die koesterende skanse was weg. Weer is jy ontbloot
aan die yl, kil lug van ‘n onverskillige wêreld.

Vir my is om te reis gekoppel aan die "unheimliche", in die ínbeweeg van dit wat jy reeds weet en ook vergeet het. Soms is dit 'n onthutsende ervaring, want om aan te kom in 'n vreemde landskap beteken dat jy uitgelewer is aan swendelaars, diewe, 'n hotel wat dalk nie heeltemal aan jou verwagtinge voldoen nie. Gelukkig is dit net die reismoegheid wat jou oorkrities maak en die volgende oggend voel jy aansienlik beter.

'n Hittegolf in Buenos Aires. Om wakker te word in 'n vreemde bed met die dreunsang van die lugverkoeling ...

Jy ontdek dat geeneen van jou vele adapters in die muur pas nie. Ontvangs van die klein Rochester-hotel beloof moreoggend sal hulle kan help. Helaas nie. Maar 'n besoek die stad in neem jou na 'n klein nutswinkel waar jy blitsvinnig teen 'n skamele $2 kan konnekteer met die vreemde muurprop.


So lyk die hotel:
















II

Eers is daar 'n treinreis op die Premier De Luxe na Johannesburg. Op Beaufort-Wes gee die lugverkoeling in en die treinrit word enigsins onplesierig. Dalk 'n waarskuwing vir die hittegolf wat op my sou wag in Buenos Aires?

Die reis na Buenos Aires is lank, maar uiters plesierig. Ek vlieg via Dubai. Met Emirates en die diens is uitstekend. Ons land net voor middernag in Dubai. Nou sit ek maar en skryf in die besigheidsklas-lounge om  die wag te trotseer.

Met sonsopkoms stort ek en trek vars aan vir die lang vlug van Dubai via Rio tot Buenos Aires. Ongeveer 15 ure. Met wonderlike films wat ek herbesoek. Truffaut se Jules et Jim; Dead poets society van Peter Weir en Barbra Streisand in Hello, Dolly, 'n hoogtepunt in kamp. 


'n Onbekende Nederlandse film word 'n verbysterende analise van patologie. Die vrou vertrou die man wat haar en die kinders oorhaal vir sy saak ...

Dit heet Borgman (2013) van die filmmaker Alex van Warmerdam.

Hierna spook ek met 'n Deense outobiografiese rolprent. 'n Vrou vermoor haar  babadogtertjie van nege maande in 'n depressiewe uitbarsting. Die filmmaker, Nils Malmros,  lewer kommentaar op hoe hy hieroor 'n film sal maak met ons die kykers wat reeds aanduidings sien van hoé hy dit gaan verfilm ...

Sorrow and joy ...

So herbeleef ek klassieke rolprente en sien splinternuwes.

Emirates is waarskynlik nie om dowe neute gekies as die top-lugredery nie. Die diens is flink. My brekfis by die opklimslag is geskrambeerde eiers met tuinuie. Na my nag van slapeloosheid slaan ek onmiddellik die bed af en slaap vir drie ure.

Hierna is dit weer smul aan lieflike kos. Frans en Italiaanse wyn. En eye candy. Emirates se koffiemoffies en bedien(s)letties is van regoor die wêreld en beslis iets vir die oog. Hulle hou 'n goeie afstand tussen vriendelik en professioneel wees.

Ons land op Rio en moet vir 'n uur op die lughawe wag vir die laaste skof na Buenos Aires.

Vars hemp, vars bedienpersoneel en voilà, Buenos Aires, is gouer daar as wat ek gedink het.

Waarom Buenos Aires? In die laat-tagtigerjare het ek 'n sirkelreis deur Suid-Amerika onderneem: Brasilië - Uruguay - Chile -  Equador - Bolivië en uiteindelik tot stilstand gekom in die Amasonas. Hoogtepunte was 'n besoek aan Buenos Aires en Machu Picchu.


El Condor Pasa

“Dit was my bestemming en hierin lê die reis van my begeerte”. Pablo Neruda

In Macchu Picchu, die heilige Inka-stad,
hoor ek Pablo Neruda se stem fluister deur die rotse:
“die nagwind draai in die lug en sing”.
In iedere kliptafel lees ons sy boodskap van ‘n reis
ver weg van aardse vernietiging, eindigheid en verdriet.
Heilige Macchu Picchu bewaar sy gees
teen die onstuimige rivier en kil berglug
- sy sterk stem praat sag deur die mistige môrelug.
Al die aangebode raaisels hier aanwesig
in ongeskonde berg en rivier en ryk relieke.
Telkens lees ons dieselfde opdrag: in elke einde, dood
lê ‘n nuwe begin ópgesluit.
Met die aflegging van die self soos ons opbeur
na die hoogste punt van ‘n eens verlore beskawing,
pynlik bewus van ons argeloosheid
oor die krag van die lewegewende natuur.
Klim op, hoër na self-
loosheid – na stilte volledig.
Die kosmiese plan hier aanwesig,
argetipies in die roerlose rotse afgedruk – ontdaan
van nuttelose oordaad of menslike verdelging.
So ook die reis in die self: ‘n smagting
na antwoorde, stilte en kosmiese eenheid.
Dit alleen gebeur in die ongerepte natuur gewyd.

'n Paar jaar terug het ek weer Macchu Picchu besoek en in my bundel Vuurwiel (2009) weer oor die stad gedig.

III

Vir my is reis intiem verbonde aan die skryfproses. 'n Bekende digter het op 'n keer my daarop gewys dat ek my gedigte vér gaan haal.

Verdraaide raaisels was 'n reisverslag oor die einde van liefdesverhouding, 'n bestekopname van die ontsluiting van psigiese raaisels. Dit is dan uiteindelik ook 'n bundel waarin ek reeds sekere primordiale kwessies aanspreek.

Buenos Aires wou ek weer besoek, nie alleen omdat dit die stad van die tango is nie, maar dit is ook 'n stad waarin psigoanalise steeds met erns bestudeer word.


So het ek al oor hierdie dansvorm gedig:

Lyftaal

Hulle dans die tango,
Die dans van begeerte,
asem ophou – asem snak.
Speel met kopulasie
(bene in mekaar, uit,
inmekaar)
voorspel tot die regte ding.

Twee minnaars dans die tango,
hier in Buenos Aires,
seks met klere aan – snak.
‘n Wilde dans van wellus en frustrasie.
Nader, nader aan, naderhand,
nader aan die hand se paai,
amper-amper ‘n regte naai.

Buenos Aires

Uit: Verdraaide raaisels. Human & Rousseau, Kaapstad. 1990.


La Jalousie

Die hárt-
stogtelike ritmes van die tango

markeer hiernatoe, daar-
natoe, presies

(vrou teenoor vrou)
roos tussen haar tande

presies presies
so swóél soos ‘n

nag in die Amasone,
‘n hittegolf in Buenos Aires

inmekaargepas soos
‘n pit in ‘n tropiese vrug

volmaak tot hier –
beheerde hartstog, jalóésie.

Uit: Ewebeeld. Perskor, Johannesburg, 1997.

Andres Raskovsky is hoof van die Argentynse vereniging van psigoanalise en hy meen dat hierdie belangstelling te make het mense se soeke na identiteit (Psychoanalysis in Argentina: Something to Talk About? Besoek 30 Desember 2014)


Foto: Thomas Locke Hobbs

Hy skryf oor die belangrikheid van Freud in die Pampas:

He points out that psychoanalysis originally developed within the immigrant community. It allowed the many Argentines who felt disconnected to their roots and confused about their identity to concentrate on “the search for origin and family history”. He joked: “They say that the Mexicans are descended from the Aztecs, the Peruvians from the Incas and the Argentines from the boats!’”

Waarskynlik het ek in die laat-tagtigerjare Suid-Amerika besoek in herwinning van identiteit na 'n slopende en verdrietige einde. 'n Verhouding wat ek deur die jare besef het weinig te make had met die trouelose persoon wat al die verse aangestig het; die persoon was net die katalis vir die teenstrydige tekens in my gemoed.

Hierna sou ek die vreugde van alleenheid ontdek, die "baptism of solitude", soos Paul Bowles dit klinkend noem. (En my volgende bestemming sal dan op sy aansporing na die Sahara wees.)

IV

Descend lower, descend only
Into the world of perpetual solitude.

T.S. Eliot



Paseo Trocadero

Jdl

Oppas vir kansvatters en skelms
en grypdiewe, waarsku jy; ons leef
in moeilike tye. Hoi hoi, roep ek,
hoe vreemd
dat dít wat moet beskerm
jou uitlewer? Nog 'n jaar
het ons oorleef en as ons die jaar
sou personifieer, was sy 'n genoot,
wispelturig en bemoeisiek.
In 'n kafeetjie sit 'n man
met 'n Batman-t-shirt
diep in 'n selfgesprek gewikkel.
My stil binnepraat rig ek tot jou
op 'n ander kontinent, in 'n ander tydsone.
In 'n sloom namiddag, Buenos Aires
spoeg 'n man op straat, wyl 'n ambulans
straataf neuk. Papiere dwarrel
vrugteloos grond toe
nes hierdie praatsiek gedig.
In 'n digstring sou ek vlot reageer
op vrae soos wat-het-die-gedig-aangestig?
'n Reis na die Pampas om weer die tango
as simbool van die digkuns te beloer
daar doer in die Buenos Aires in
sodat ek my brose psige kan beskerm
teen te veel afwesigheid en die groot-groot Niks
in die land van spekskieters en verspeelde kanse.
Hoe het jy gevoel toe jy die vers geskryf het?
Warm en aan't spook om al die ritmes
raak te dans nes die twee dansers
op die uithangbord van die Trocadero Paseo
gestol in 'n volmaakte rymdwang pose:

So oppas vir digters
wat kierangslaai eet
en gedigte afruk
van advertensieborde
niksverrymend.


V  Tango

My gunstelingfilms waarin tango 'n rol speel:

Last Tango in Paris(1972) met  Marlon Brando en Maria Schneider. Bernardo Bertolucci.
Scent of a Woman (1992), Al Pacino as die blind Kolonel.
Strictly Ballroom(1992). Baz Luhrmann
Evita (1996), Madonna en Antonio Banderas dance.
Moulin Rouge! (2001) Baz Luhrman
Chicago (2002) met Renée Zellweger, Catherine Zeta-Jones en Richard Gere. Rob Marshall

Vir 'n uitgebreide lys sien Tango (Besoek 30 Desember 2014).

Joan Hambidge

Reisverslag: Buenos Aires - Deel II

$
0
0

DEEL II

Pie Activo

Op Oujaarsaand is daar 'n tango-vertoning in die stad. Hier word verskillende vorme van die tango gedemonstreer en die hele gehoor kyk verwonderd toe oor die flink danspassies.
Een van die sangers poseer as Evita en sing natuurlik "Don't cry for me Argentina".

Die kos is uitstekend en die wyn nog beter. 'n Voorgereg van parma-ham en 'n egte Argentynse bottersag-steak met 'n Malbec. 'n Brits-Indiese vrou sit oorkant my en ons gesels land en sand.

Toe kondig hulle aan dis twaalfuur. En wilde disko-musiek weerklink en ek dans my longe uit. 'n Vrou uit LA gee die pas aan. Ek en die jongvrou uit Londen dans dat die biesies bewe.
Elke gas kry 'n flikkerende geskenk. Een 'n bril, 'n ander 'n pen. Ek kry 'n rooi neus wat ek op my voorkop sit sodat dit soos 'n flikkerende derdeoog lyk. I will survive,  gil Gloria Gaynor.
Ons YMCA en Go West!

Toe is dit hotel toe vir die reis na die Iguasso-valle op Nuwejaarsdag.


As deurwinterde reisiger beleef ek op Nuwejaarsdag 'n skrikwekkende reiservaring.

Eerstens is die toue ellendig lank. 'n Agent help my om deur te beur tot by die toonbank waar die fronsende beampte kopskuddend na my kaartjie kyk. Hy wys my daarop die kaartjie vir 1 Januarie 2014 uitgemaak is en dus ongeldig is.

Hy bel hiernatoe en daarnatoe. Uiteindelik kom die verdoemende uitspraak: jy-sal-'n-nuwe-kaartjie-moet-koop.

Nou is dit kophou. Ek hou my lyf Diego Maradona en staan voor die kaartjiekantoor. Hulle kyk ook. Vra die vorige instapkaart.

Uiteindelik gee ek boedel oor en betaal $303 vir 'n nuwe kaart.

Ek haal die vliegtuig net betyds.

Ek voel soos 'n sokkerspeler wat 'n doel inskop op die laaste minuut. Miskien was dit 'n simboliese foto daardie een van my langs die standbeeld van Diego Maradona in die sokkermuseum.

Die vlug is 'n nagmerrie. Ons wip-wip deur 'n storm. Ek bid woordeloos. Ek lees 'n grammatika-handboek om my Spaans op datum te kry.

Ons land tuimelend. Die hele vliegtuig apploudiseer die vlugkaptein - ek inkluis. Ons was amper bokveld toe.

Nou staan ek in die klein lughawegebou. Ek wag op my pre-betaalde reisdiens.

Maar niemand kom nie.

Ek kyk na die koepon. Daar staan die vertrektyd in Buenos Aires aangeteken as die aankomstyd.

Ek wag.

Uiteindelik betaal ek 'n taxibestuurder $22 vir my reis na die hotel.

En hier is die sisteem af sodat hulle niemand kan kontak nie.

Inmiddels skryf ek 'n e-pos aan my reisagent.

1 Januarie is 'n vakansiedag en moreoggend moet ek die Valle besoek. Hoe laat? Wie gaan my afhaal?

Ubi? Quis? Quid?

Ek lees die gedig wat ek gister geskryf het oor die "anatomie van reis".

Die anatomie van reis

Footfalls echo in the memory
Down the passage which we did not take.

T. S. Eliot

Elke digter het 'n indeks
'n plattegrond of kaart.
In elke stad is daar 'n katedraal,
'n kerkhof, bushaltes, soms 'n hawe,
hotelle - en ander merkers
vir die besoeker voor 'n monument
van 'n vryheidsvegter, insurgent
of ter-dood-veroordeelde, bekend.
Elke bundel het 'n inhoudsopgawe
met verse oor die liefde of die dood.
Selfs ongeskryfde verse, 'n stilpunt,
word die subte of die ondergrond
wat die reisiger nog mag neem;
vereers wagtend by 'n bushalte
of 'n taxi-halte op pad na 'n baken,
immer op pad tussen hier én daar.
Partykeer is die reis vooruit beplan
met koepons oorhandig aan 'n gids;
telkemale is dit die onverwagse koers
van Frost se the road less travelled
of 'n indraai na 'n holte vir die voet,
'n klein boetiekhotel of 'n kroeg
wat iets oopmaak, openbaar:
Mi gruwelt dat ic leve? Of eerder
Dank God ek is ook hier?

Die nag breek daar 'n storm oor Iguasso uit. Ek skryf 'n kort-kort verhaal, 'n klein weerlig-verhaal om dit op te som.




Buenos Aires - Iguasso-valle 

In Buenos Aires laai die gids my af vir die vlug na die Iguasso-valle.
Daar is 'n lang slangtou. Ek vra 'n man om my na die toonbank te neem. Ek haat lang toue. 
Die kontroleur kyk fronsend na my kaartjie. 
Dit het verval. 1 Januarie 2014 in plaas van 1 Januarie 2015. Ongeldige reiskaart.
Hoe nou gemaak? 
'n Nuwe kaartjie is al uitweg. Teen $303 haal ek die vlug net betyds. Die vlug is 'n hellevaart. Ons gaan deur 'n lugstorm. Almal klou vas aan hul sitplekke. 
By die aankoms is daar niemand om my af te haal nie.
Ek sien die reisagent het die tyd verkeerd aangedui: die vertrektyd van die vlug in plaas van die uur van aankoms.
'n Taxibestuurder neem my na die Panoramiese hotel.
Die nag woed daar 'n storm. Die water slaan teen die vensters.
Die krag gaan af. Dit kletter woede teen die ruite.
Ek staan op en trek die rekenaar se batterylaaier uit die muur. Vrees dat die storm die rekenaar mag beskadig met die natuurkragte wat so woed. 
Aan en af. Die lugverkoeling gaan eerste dood. Net die lig op die horlosie langs die bed flikker die tyd: 23.49.
Die volgende oggend wag ek vir die rekenaar om te herlaai. Van 2% tot uiteindelik, die finale konfigurasie. 'n Uur later is die Dell laptop weer reg.
In kamer 402 sit ek vasgekeer. Dit reën. Ek skuif my besoek aan die Valle uit vir 'n dag. 
How to use your satellital tv, lees ek die aanwysings op die Panoramic Hotel Iquazo se pamflet. Ek hou die afstandbeheer in my hand. My selfoon is aan: Claro AR. PHI_Net maak 'n konneksie met my rekenaar. Ek kry 'n nuwejaarsboodskap van die digter Fanie Olivier. Om alleen te reis, is gevaarlik het hy immers gewaarsku.
Daar het gister met my aankoms 'n likkewaan oor die pad geloop. Iets uit die orde van Squamata Lacertilia verduidelik die internet.
Ek reis oor die internet. Probeer begryp wat hierdie tekens te vertelle het.
Vandag behoort ek tot die orde van weekdiere. Ek het geen skubbe wat my teen hierdie blootstelling kan beskerm nie.
*

 Ek besluit om die dorpie te gaan verken toe dit ophou reën. Ten spyte van die laasnagse storm is dit bedompig. Maar ek stap. Tot in die dorpie by die kafee Naé eet ek 'n klein pizza en drink 'n Quilmes-bier.

In die hoek staan 'n kersboompie. Agter hom 'n Johnnie Walker. Voor my 'n pienk orgidee (van plastiek). Die dorpie aktiveer die spanning tussen rykdom en armoede. Hier kos 'n bier presies die helfte van die swierige hotel waar ek tuisgaan. Nou het iemand die Kersboom op die 2e Januarie aangeskakel in hierdie verflenterde voertsek-gehuggie wat sterk herinner aan die verloopte areas van Maputo. Buite ruis die valle - wat ek more gaan besoek.

Joan Hambidge

Reisverslag: Buenos Aires - Deel III

$
0
0

DEEL III

Sistema crusado

Cataratas del Iguazú beteken letterlik groot rivier en lyk soos 'n omgekeerde letter J.

Dit begrens Argentinië en Brasilië.

Vroegoggend vertrek ons na hierdie natuurwonder en onmiddellik ontstaan daar 'n debat: van watter kant af is dit die mooiste, die grootste, die wonderlikste?

"Groot waters" het ek al op verskillende kontinente meegemaak. Die Niagara-valle vanuit die Kanadese grens; die Victoria-valle in Zimbabwe en die Iguasso, nou en tydens die tagtigerjare besoek aan die Brasiliaanse kant. Volgens keiharde feite is die Victoria-valle die hoogste, maar die Iguasso-valle die wydste.


Eleanor Roosevelt het glo by 'n besoek aan hierdie valle opgemerk: "Poor Niagara!"

Hiermee wil ek wel aanteken: niks, maar niks kan die Victoria-valle se grootsheid troef nie. In die nag wanneer 'n mens by die hotel tuisgaan, hoor jy die valle rommel. Magies, groots - lieflik en ook anders vanuit die Zambiese perspektief. Met 'n visum kan jy oor die brug wandel en die verskille sien ...

*

Ongeveer agtuur begin ons stap en die eerste lafenis is halftien. Dit is bedompig. Daar snuffel 'n klompie miervreters met hul kleintjies in die bosse. 'n Ent weg staan 'n advertensie-foto met Robert de Niro en Jeremy Irons uit die onvergeetlike film uit 1986, The mission.  Ons groep is hoofsaaklik middeljarig, behalwe vir twee Spaanse jongelinge. En so 'n paar fortysomethings. Die pas is styf, maar ek hou by. Steek selfs twee Duitse Tantes verby. Al voel ek dan en wan na 'n omgekeerde J!

Orals is daar waarskuwings om nie kinders te abba oor die bruggies nie. Ons stop telkens om die verskillende aanskoulike watervalle te sien. Hoe die water stort oor die afgrond is aanskoulik. Van ver is dit wit skuim, van nader bruin, grommende water. Tot 82 meter diep.

Eers in 1541 is hierdie valle ontdek en natuurlik is daar 'n legende oor waarom hierdie valle so verdeeld is. 'n God wou trou met 'n sterfling, ene Naipí wat met haar geliefde Tarobá in 'n kanoe weggevlug het en toe neem die jaloerse god wraak. In 'n woedebui het hy die rivier in twee gesny en die geliefdes verdoem tot 'n ewige val, aldus ons gids, Carlos.

Daar is ook 'n Duiwel se keel hier te besigtig.

Van die Brasiliaanse kant kan 'n mens die valle per helikopter meemaak. Ook iets wat toegelaat word in Zimbawe en die vrees in 'n mens inbliksem. In Zimbabwe is die paadjies beslis natter weens die mis wat oor alles hang. 'n Mens gly ook makliker. Hier is dit weliswaar veiliger met genoegsame rusposes.

'n Mens mag uiteraard nie die wilde diere kosgee nie en orals is daar waarskuwingsborde om te wys wat kan gebeur as 'n wilde apie jou byt. Liederlike bytmerke en siektes. Laatmiddag steel 'n apie kos uit 'n toeris se bord en 'n miervreter eet lustig saam.

Ook mag 'n mens nie blomme pluk of aan die vlinders raak nie. Miskien skuil daar iewers 'n jaguar?  

Orals is daar groen dromme, organies en nie-organies, in hierdie Unesco-bewaringsmonument wat selfs aandag gee aan hoeveel mense per dag mag besoek aflê. En die geraasvlakke mag nie te hoog wees nie ten einde die wilde diere in ag te neem.

Die laaste skof is 'n treinreis om die beroemde Duiwel se keel te besigtig. Die beroemde Graganta del Diablo. In hierdie bedompige arena staan daar meer as 500 mense wat die treintjie moet neem na hierdie besienswaardigheid. En dit begin knor in die hitte. Ek sit onder 'n sambreel en wag. Die vriendelike gids het beloof hy sal my kom haal wanneer die treintjie kom. Die mense in die groep raak knorrig. Kulturele stereotipes spring na vore. Die Duitsers bly beleefd. 'n Britse vrou verloor haar humeur. Waarom het ons nie vroegoggend met die treintjie gegaan nie? Dan het ons nie gewag nie?

Die gids besef hy moet intree. Hy lei ons na die koel restaurant waar 'n koue bier die gemoedere kalmeer. Uiteindelik keer hy terug. Jammer ons sal nog twee ure moet wag vir die treintjie ... En ja, jammer: hulle kry as gidse opdrag oor watter roetes hulle moet volg.

Miskien eerder terugkeer hotel toe? Almal dink dit is goed. Ons het immers die Iguasso uit verskillende perspektiewe beleef. 'n Paar mense het selfs 'n boottrip ervaar en sopnat teruggekeer. Goddank ek het dit misgeloop. Laas dit meegemaak by die Niagara waar jy so reg onder die valle indreun asof jy stort en jou heiland leer ken. Genoeg is genoeg! Ons het vir bykans vyf ure tone geklap. In my geestesoog roep die hotel se swembad.

*

Op die Wikipedia word die volgende films oor hierdie besienswaardigheid aangeteken:

Moonraker (1979)
The Mission (1986)
The Country Bears Down Under (1990)
Baraka (1992)
Extermineitors IV: Como hermanos gemelos (1992)
O Trem Caipira (1994)
Tummy (1995)
Happy Together (1997)
Mr. Magoo (1997)
Miami Vice (2006)
In the Hands of the Gods (2007)
Indiana Jones and the Kingdom of the Crystal Skull (2008)
OSS 117: Rio ne répond plus (2009)
Salve Geral (2009)
Operação X (2011)

Reisverslag: Buenos Aires - Deel IV

$
0
0
DEEL IV

Abrazo abierto

Vroegoggend begin my volgende skof. Eers is dit ontbyt met vars vrugte; dan uittjekkereer en die rekening betaal vir die ekstras in die hotel. Nou vlieg ons van Iguasso na Cordoba (waar ons twee ure moet wag) vir die vlug na Mendoza, die wynlandstreek in die Andes wat ek nog altyd wou besoek.

By my aankoms in Buenos Aires was daar vele mans op die lughawe op pad na die Dakar in BA. Dakar in Buenos Aires? Die internet verduidelik waarom dit geskuif het uit die gevaarlike Senegal na Suid-Amerika. Mense het glo weggeraak in die woestyn. En die politieke onrus was 'n bykomende gevaar, verduidelik 'n klong uit Springs vir my.


Op die lughawe in Cordoba kyk ek na die Dakar op televisie en hoop om Giniel te sien. Ek drink 'n Quilmes-bier, eet 'n hamburger om die tyd om te kry. Op die lang vlug bestudeer ek 'n Spaanse en Franse grammatikaboek. Om die verveling te stuit en omdat 'n mens wanneer jy 'n nuwe taal se dieptestruktuur bestudeer altyd afkom op iets wat in jou taal op 'n ander manier gesê word. Om te dig is soos om 'n grammatikaboek te bestudeer. Jy moet die reëls ken om dit te breek. Maar daar is altyd reëls ...

Lief,
om jou dieptestruktuur te begryp
leer ek die grammatika van opsê aan.
'n Liefdesgedig oor die reëls van liefhê
soos waak teen die versending van 'n sms
na 'n ander tydsone waar jy in 'n tangkonstruksie
wag op my boodskap, wyl jou minnaar
(onbewus van my en jou) naderstap
met 'n liefielief wil jy vanaand langue of parole?
Of wil jy dalk fiekiefok?
En ek,  die groot cambrioleur breek die wette
van hul saamwees; maak die le 'n la,
die lul 'n les. Ek verbeel my in dié ruimte in,
stel my voor hoe dit moet wees met hulle
soos wanneer jy 'n nuwe taal aanleer
en al die trieks onder die knie moet kry.
Hierom draai die gedig dan weg
en word meer afstandelik
soos ek die grammatika van afsê verwerk.
Il faut changer.

Ek gaan in Mendoza tuis in die Esplendor-hotel. Hier is 'n casino. Die Argentyne is lief vir dobbel. In Brasilië word dit glo verbied.



Die hotel is hipermodern, glo net driejaar oud, en alles is besonder modern.

'n Ligte somergriep weer ek af met medikasie. Dit is al die ervarings wat nou begin inwerk op die psige en op die lyf wys. En reis is gelyk aan spanning, omdat 'n mens die hele tyd op jou hoede moet wees. Ook die transportasie van een ruimte na 'n ander laat sy merk.

By die brekfistafel waag ek my hand aan 'n kort-kortverhaal:

Andes  
Op pad na die Andes ontvang ek onverwags 'n sms van jou. Diep in die nag. Ek lees jou boodskap in die donker en wonder hoe het ons gemaak voor tegnologie ons so onmiddellik bymekaar kon uitbring? 
Jou sms verklap nie veel nie. Miskien wis jy nie dat ek vyf ure agter jou lê nie. Miskien was jy al besig met oggendkoffie, 'n vinnige sessie met hom, die oggendkoerant gelees, beplan waar en hoe jy die Sondag sou deurbring? 
Jy sou nie weet dat ek op pad is na die Andes nie. Dat dit na gister se humiditeit nou koeler gaan wees nie. En dat ek om elke hoek en draai my vorige reis in hierdie landskap onthou. 
Wat sou jy tog weet van haar? Die een voor jou?  
Puerto Montt  
Ek dink vanoggend aan jou eens lieflike mond:
‘n diep grot met jou tong ‘n vuurspuwende berg.
‘n openbare saal wat té veel vreemde besoekers toelaat.
‘n Middeleeuse kasteel met jou tong die valhek.
‘n lughawe in ‘n onbekende stad waaruit ek moet vertrek.
‘n vol bespreekte hotel met geen slaapplek.
‘n eiland soos Chiloé waarheen ek weens die weer nie kon gaan.
‘n land soos Venezuela wat geen visas toestaan.
Waarom dink ek tog vanoggend aan jou mond
in ‘n ver afgeleë plek soos Puerto Montt?

Puerto Montt
En sy? 
As ons in daardie tyd kon kontak maak, sou sy dalk 'n ongevraagde sms wou ontvang het van my uit die verre landskap? Daardie geliefde verewig in Verdraaide raaisels. Of sou sy, soos jy, oggendkoffie skink, besig wees met haar, die oggendkoerant lees en beplan oor hoe en waar hulle die Sondag sou beleef? 
Tegnologie soos e-pos en sms het miskien kommunikasie vinniger gemaak, maar la condition humaine bly presies dieselfde. Hoe meen die Franse nou weer? Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde ...
*



Nou is dit lafenistyd in die swembad voor die wynproe vanmiddag in Mendoza.

Here's looking at you kid!

Joan Hambidge

Reisverslag: Buenos Aires - Deel V

$
0
0

DEEL V

Apilado

Nou is dit maar eenmaal so dat reis te make het met tyd. Betyds wees. Tyd van vertrek en aankoms. Uitgelewer wees aan tyd. Tydverskille. Hier en daar. Horlosies. Jy kan 'n vlug verpas as jy laat is.

Maar reis het ook veel te make met wágtyd. Wag op lughawens, wag om afgehaal te word vir die volgende ekskursie. Dit is wat reis so vermoeiend maak, hierdie lang stukke tyd waarin jy niks kan doen as om net te wag nie. Wag om te land, wag om te vertrek.

Wag op lughawens; wag in die hotel se voorportaal. Wag, wag.

In die voorportaal van die hotel in Mendoza kook my bloed. Ek wag nou al langer as 'n uur om twee beroemde wynlandgoedere te besoek. Nou probeer ek kalm bly en die koel verbeelde glas skink. Ek lees 'n grammatika-boek sodat ek nie moet dink aan die tyd wat verlore gegaan het. Ek kon in hierdie tyd die stad bewandel het, of geswem het, of aan iets gepeusel het.

Uiteindelik kom die gids. Skouerophalend. Ek was ongelukkig die laaste hotel en daarom moes ek wag en basta.

Wag soos Humphrey Bogart in Casablanca vir sy geliefde wat nie opdaag nie toe hulle saam op die trein moes vertrek.

Gelukkig is die wynbesoeke uit die boonste rakke. Malbec en by 'n klein boetiekhotel beleef ek 'n Reserva uit die boonste rakke. Dit heet:

2011 Bodegas Vistandes Cabernet Sauvignon Reserve


Ons stap by beide wynplekke deur die kelders, modern en gemeganiseer. Sewe dae by die Silbersteins kom sterk in die herinnering na vore.

Vistandes, 'n klein boetieklandgoed, het die wonderlikste wit en rooi wyne. Torrentos heet 'n vrugtige wit wyn.

Hierna gaan ons na 'n olyfplaas. Die hele proses van olyfolie maak word verduidelik. Stap-vir-stap.  Op die gras buidel 'n jong kolliehond ten spyte van die hitte. Die gids en ek sit onder die afdak en gesels oor die blou dollar in Argentinië.

Die aand eet ek 'n steak in die La Lucia restaurant langs die hotel. Argentynse steaks is oorgewig en sappig. En ingesmeer met sout sodat die vetlagie heerlik knetter in jou mond in die naproe se vuur.

Ek dink drink aan my reis tot hier. Die opwinding, die spanning, die nuwe ervarings, die vreemde oomblikke (soos 'n kroeg wat Jackie O. heet in Mendoza) en verspeelde kanse ...

Waarom het ek nie die vy opgetel langs die vyeboom by die Iguasso-valle nie?

                                                     *

Ek volg steeds die Dakar-tydren. Onse Giniel is in die tweede plek en Nasser Al-Attiyah het weer die voortou geneem ná die tweede skof in die Dakar-tydren van Villa Carlos Paz na San Juan, weliswaar in 'n MINI.

Vandag betree ek die Andes-gebergtes van naderby. Ek kon 'n reis om seweuur vanoggend meemaak en eers laatnag tuiskom. Ek besluit om eie ding te doen en self 'n trip te organiseer. Die behulpsame hotelbestuurder reël vir my 'n bestuurder. Ons besluit op 'n prys. Ek wissel 'n stelletjie dollars by die Casino vir die reis. Die bestuurder lyk nes my vriend Mervin en dadelik is ek gerus. Hy gaan goed na my omsien.

Sy Engels is skraps, maar ek volg sy Spaans wat meestal uit blote uitroepe bestaan oor die wonderskone Andes-gebergtes: beeldskoon, die beste, die grootste ...

En ek gaan akkoord. Die dorpie rus veilig teen hierdie magtige gebergte waaragter Chile lê, die land van Pablo Neruda.

My vele reiservarings het my geleer om geen geld te ontsien om iets te beleef nie. Agterna is 'n mens altyd spyt indien jy nie iets meegemaak het nie. Al is dit hoe uitputtend en opdraande vir die oomblik - agterna bly dit 'n wonderlike herinnering.

Vir my is hierdie besoek aan die Andes só 'n ervaring. So het ek indertyd oor hierdie berg gedig:

Jouissance

Suid-Amerika is ‘n wispelturige vrou:
vol teëspraak, hartstog én ontrou.
Sy nooi jou uit met haar Brasiliaanse borste
 - net om jou af te weer met haar Chileense arms.
Mens onthou veral haar Boliviaanse oë
en min mense raak uitgepraat oor haar Andes-neus.
As jy gelukkig is, laat sy jou selfs toe in haar vuurheuwel.
Vir my is sy uitsonderlik weens haar kop
vol drome: haar fantasmagoriese, ongetemde Amasone,
al het sy my nou heeltemal vergeet
en ons liefde lyk na die ruïnes by Macchu Picchu.

Manaus

Hoe sal ek nou hieroor dig?

Drie maniere om die Andes te beleef

In voorstellings en kaarte en gedigte
was hierdie gebergte bekend aan my;
in my verbeelding voor ek die Andes betree
die skeidslyn tussen Chile en Argentinië
grinterige, uitskotpapier papier nagetrek.
En nou uiteindelik, neem 'n gids, Enrique,
my die gebergte op: oop en bloot
toeristies uitgestal, 'n besienswaardigheid,
dog kil, afsydig teenoor vreemdelinge.
Die Andes-gebergte nou die skeidslyn
vir dit wat heers in my gemoed:
eens die najaag van liefde se belewing;
nou die sobere, soeke na heling.
En eendag ja eendag sal ons dit só sien:
dit was alles 'n kwessie van neerskryf.
Die lewe nou niks meer as boetedoening.

Na die uitputtende dag is dit eers swem om af te koel. En vanaand die kos in die Peruviaanse restaurant beproef.

Joan Hambidge

Reisverslag: Buenos Aires - Deel VI

$
0
0

DEEL VI

Rueda

Op pad na Buenos Aires

Nou is dit terugkeer na die stad van aankoms, Buenos Aires. Die nagte in die Andes-dorp is koelerig met 'n byt in die lug.

In elke hotel is daar klein kinders. Op 'n lughawe aanskou ek hoe 'n moeder sommer so in die loop haar bors uithaal en die baba sonder skroom voed. Op die lughawe in Cordoba is daar 'n driejarige seuntjie met 'n wieletjiesak in die vorm van 'n beertjie. Hy kan nie wag om te vertrek nie. Sy ma vertel vir my sy gaan vakansie hou in Mendoza en die pa, 'n Amerikaner, bel so dan en wan. Sy maak die kind alleen groot. Hy is - klein soos hy is - 'n mannetjie van durf en daad. Sit regoor my in die vliegtuig, steek vir my tong uit op 'n grappige manier. Tog nog weerloos, 'n baba, want toe die vliegtuig land, begin hy huil. Ek wonder wat gaan van hom word, die kleine Benjamin? Gaan hy eendag sy Amerikaanse pa haat oor die versaking? Dit is dan vriend De Lange wat vir my Gaston Bachelard aanstuur oor 'n mens se jeug wat soos 'n vuur in jou bly brand.

In die swembad in Mendoza is daar 'n alleenpa wat die hele middag met sy seuntjie speel. Geduldig. Ek wens ek had die moed om te vra waar die ma is.

Reis meld sulke stories, oomblikke, vinjette aan. Iemand wat iets doen, sê, wat 'n herinnering lostorring. Juis omdat alles so intens is en onder druk geplaas word, sien jy dit helderder, duideliker. En kaats jy jouself af teen hierdie mens se pyn of vreugde.

Jy onthou hoe die gawe hotelklerk vir jou 'n adaptor leen. Of die kelnerin wat lank nadat brekfis verby is, vir jou 'n vars koffie bring sonder om te steur. Of die taximan wat toe jy vir hom sê sy horlosie is mooi dit sommer vir jou as geskenk wil gee ...

Vroegoggend is ek reg vir die vlug na BA.

Die son begin skyn op die Andes en ek besef dat winters hier ondraaglik moet wees, omdat die dorpie reg onder die sneeubedekte berg skuilhou. Ek is reeds om drie wakker, want ek word vroegoggend afgehaal vir my vlug terug na Buenos Aires.

Hier beleef ek weer Argentynse diens. Almal kyk weg en jy moet fluit en waai vir 'n koppie koffie. Die mannetjie wat die tas moet verseel in plastiek, is soek. Uiteindelik kry ons hom in die hokkie besig met 'n oproep op sy sel. Nou vir die lang inboekerasie. 'n Stadige luislangtou. Net om uit te vind: die vlug is vertraag.

More is nog 'n dag. As jy 'n vlug verpas, boek hulle jou op 'n ander een in.

In enige ander stad of lughawe sou ek knorrig gewees het. Maar nie hier nie. Ek het 'n laaste paar ure om die aanskoulike, asemrowende, asemsnakkende, imposante Andes-gebergtes te aanskou. Die son skyn alreeds skerp (dis kwart voor nege) en daar is 'n balans tussen skadu en son.

En nou besluit ek om op te lees oor Borges en die wikipedia en vele ander internet-bronne is handig vir die reisiger.

In Buenos Aires wil ek die plekke besoek waar Borges orals was ...

*
Jorge Luis Borges by Sturt Krygsman

Buenos Aires is nie alleen die stad van die tango nie, maar ook die stad van Borges.

Jorge Francisco Isidoro Luis Borges (1899 - 1986) was een van de grootste eksponente van magiese realisme in Suid-Amerika. Hy was 'n Argentynse kortverhaalskrywer, essayis en digter. Weens sy blindheid het hy waarskynlik die ruimtes van sy fantasie ingrypend ondersoek.

Sy Ficciones (Fictions) demonstreer sy kuns ten beste waarin drome, labirinte en 'n teks wat telkens op sigself inbuig word 'n teks waarin die leser gedwing word om die teks se reëls - bykans soos skaak - nougeset te volg. In Afrikaans is vansy verhale behendig vertaal deur die digter Sheila Cussons onder die titel Die vorm van die swaard en ander verhale (1981).

Twee aspekte van sy skryfwerk kom telkens na vore, naamlik die Borgesiaanse conundrum, met ander woorde, skryf die skrywer die storie of word die skrywer deur die storie geskryf? Iets wat duidelik - as ek reg onthou - in Die boek van sand onder die loep geneem word.

En ook die konsep van pseudo-epigrapha word met hom geassosieer. Die oorname van relatief onbekende tekste wat binne 'n nuwe ruimte 'n ander betekenis kry en die resensering van fiksionele tekste.

Borges was ook 'n uitsonderlike digter. Waarskynlik een van sy bekendste verse heet "Limits" waarin hy homself tot gespreksgenoot verklaar: 

Limits
Jorge Luis Borges

Of all the streets that blur in to the sunset,
There must be one (which, I am not sure)
That I by now have walked for the last time
Without guessing it, the pawn of that Someone

Who fixes in advance omnipotent laws,
Sets up a secret and unwavering scale
for all the shadows, dreams, and forms
Woven into the texture of this life.

If there is a limit to all things and a measure
And a last time and nothing more and forgetfulness,
Who will tell us to whom in this house
We without knowing it have said farewell?

Through the dawning window night withdraws
And among the stacked books which throw
Irregular shadows on the dim table
There must be one which I will never read.

There is in the South more than one worn gate,
With its cement urns and planted cactus,
Which is already forbidden to my entry,
Inaccessible, as in a lithograph.

There is a door you have closed forever
And some mirror is expecting you in vain;
To you the crossroads seem wide open,
Yet watching you, four-faced, is a Janus.

There is among all your memories one
Which has now been lost beyond recall.
You will not be seen going down to that fountain
Neither by white sun nor by yellow moon.

You will never recapture what the Persian
Said in his language woven with birds and roses,
When, in the sunset, before the light disperses,
You wish to give words to unforgettable things.

And the steadily flowing Rhone and the lake,
All that vast yesterday over which today I bend?
They will be as lost as Carthage,
Scourged by the Romans with fire and salt.

At dawn I seem to hear the turbulent
Murmur of crowds milling and fading away
They are all I have been loved by, forgotten by;
Space, time, and Borges now are leaving me.


Hy het groot geword in Switserland, gewerk as bibliotekaris, word blind in sy laat vyftigerjare. Hy was ongewild by die Perón oor sy politieke uitsprake en het Evita by geleentheid beledig in die openbaar.


So begin "The art of poetry":

The Art of Poetry

To gaze at a river made of time and water 
and remember Time is another river. 
To know we stray like a river 
and our faces vanish like water. 

To feel that waking is another dream 
that dreams of not dreaming and that the death 
we fear in our bones is the death 
that every night we call a dream. 
 [...]

Uiteraard het sy blindheid sy tekste beïnvloed. Hy moes glo sy gedigte onthou en dit voordra aan sy moeder of sekretaresse wat dit neergeskryf het.

Joan Hambidge

Reisverslag: Buenos Aires - Deel VII

$
0
0
© WonderWorld


DEEL VII

Media luna

So kom ons aan in Buenos Aires. Die vlug is vol stampe en stote.

Langs my op die vlug sit 'n bejaarde vrou. Ek vertel haar van my plan om Borges se voetspore te volg in die stad.

Sy glimlag. Wonderlike idee. Sy het in die area waar sy gewoon het, hom dikwels sien stap. Sy glimlag skalks. In die Avenue Esmeralda. Later die middag sien ek op die internet dat 'n private toer beskikbaar is.

Jorge Luis Borges © Eduardo Di Baia
THE BUENOS AIRES OF BORGES AND CORTAZAR 
Private tour in Buenos AiresTour Price : Ask me Duration : 3 hours Languages: Spanish, English The rich culture and thriving intellectual community of Buenos Aires had great influence on the works of two of Argentina’s most well-known writers, Jorge Luis Borges and Julio Cortazar. Excursion with private guide in Buenos Aires. This interesting guided tour in Buenos Aires becomes a path of discovery as we visit the scenes that shaped their writing.We will visit some of the real streets and buildings that were settings for some of Borges’ surrealist short stories of science fiction and magic realism. Our guided tour through Buenos Aires will take us to the different houses where he lived with his mother, and we’ll get to know the library where he worked. Tour in Buenos Aires. We’ll also go to the bookstores and cafes where he would spend his days, and tour the location for the setting of one of his most famous works, “The Aleph”.  Our walking tour in Buenos Aires takes us along the streets of Palermo Viejo, where Borges asserts the mythical foundation of the Buenos Aires occurred.During our guided tour of Buenos Aires we will discover some of the places where Jules Cortazar worked and expressed his political views. We’ll see the settings of some of his stories, and the beautiful building he used as a setting for his “Cave of Treasure”. 
Additional information 
Tour information:Tour Price: Ask meDuration: 3 hoursLanguages: Spanish, English 
Tour package includes:Airport Transfer: NOHotel pick-up: YESDrop-off : YESTour Transportation (car, van, limo, boat, etc…): YESFood and Drinks : NO
Other services (fees apply):Attraction tickets (concerts, theater, museum, circus...): YESTranslation services: NOReservations (hotels, restaurants, airline): NOVisa support: NO
Additional information:This tour must be booked at least 7 days in advance of your travel date: NOTour groups must include a minimum of 2 passengers: YESTour prices are flexible and based on your requirements: YES

Het ons lus hiervoor? Of eerder self die plekke uitsnuffel? 'n Mens kan dikwels 'n boel geld betaal en ontdek jy weet meer as die gids.

Skare in Trafalgar Plein, London, hou penne omhoog in protes 
teen die aanval in Parys. © Nicholas Keyworth


Dan ontvang ek die nuus van die dood van die satirici in Parys. 'n Daad van terrorisme. My soektog na Borges word skielik onderbreek. Televisie wys oor en oor hoe die terroriste toeslaan. Verskillende kenners lug hul mening. Daar word selfs 'n cartoon gewys van Michel Houellebecq en hoe hy in sy roman kritiek uitgespreek op Islam. Soumission heet dit.

© Damien Meyer/AFP/GETTY

Die aand op die dak van die hotel sien ek 'n spinnekop in 'n web ... En ja hoe simbolies was daardie likkewaan wat oor die pad geloop het in Iguasso nie!

Die hele wêreld neem standpunt in teen die slagting. Je suis Charlieword 'n slagspreuk vir die vryheid van spraak, vir standpunt inneem teen hierdie terroristiese daad.

Ek lees al die verslae, die weersin - en besluit nou moet ek voortgaan met my reis en fokus op my soektog na Borges se wandelpad.

Oppas vir skelms, oppas vir skelmstreke. Sit jou rugsak voor op jou maag en nie op jou rug nie. Hier sny hulle dit sommer met 'n mes af. En wees op die uitkyk vir vervalste geld. Die hotelbestuurder merk elke 100 peso-noot met 'n geel koki om te waarmerk dit is reg ...

Reg voor die 725 Continental hotel staan daar 'n oopdakbus. So sal ek die dag aanpak en eers probeer om my balans te herwin na die skokkende nuus.

Joan Hambidge


Reisverslag: Buenos Aires - Deel VIII: Borges en Buenos Aires en Gauchos

$
0
0
Gaucho © Andrew Gibson

DEEL VIII 

Passado

Vroegoggend (gister) is ek op die oopdakbus wat vir meer as vier ure deur die strate van Buenos Aires reis. Dit is snikwarm. Ek het 'n petjie op en drink water om nie te ontwater nie. Die bus staan regoorkant my hotel 725 Continental. Op die negende verdieping is daar 'n piepklein swembadjie waar ek laatmiddag van die dag se sweet en geswoeg ontslae raak.

Vir $40 kan jy opklim en afklim op die Buscar vir 'n hele dag ... die oomblik van opklim tot 24 uur later. En so 'n busreis is bepaald die moeite werd, omdat jy die stad uit 'n ongewone hoek bespied. Jy sien blomme op 'n balkon groei. Jy sien 'n kat wat agter ogiesdraad soos 'n leeu in hok op en af stap. Jy sien 'n halfkaal persoon op 'n dekstoel uitgestrek. Jy sien hoe iemand worsies braai op straat.

Buenos Aires se honde-eienaars maak agter die brakke skoon. 'n Man plaas selfs 'n koerant onder Vlekkie se holliepatrollie en woerts word dit in die vuilgoedblik gegooi. Nogal 'n skoon stad; behalwe vir die sigaretstompies wat orals rondlê, omdat jy nie binne mag rook nie.

Nou ja. Ek wil Borges se bakens in hierdie stad besoek. En gelukskoot op gelukskoot kry ek sommer op hierdie dag twee: Café Tortoni waar hy gereeld koffie gedrink het en La poesía waar sy volgelinge op die mure mooi woorde oor hom plaas. Op die hoek van Chile en Bolivar. Alles is hier in Spaans - geen Engels nie.

Boheems. Baie dieselfde gevoel - en mense - as The power and the glory daar in my kwartiere te Tamboerskloof; die naam verwys immers na Graham Greene se bekende roman met sy whiskey-priest uit 1940 met die toespeling op die gebed:

"For thine is the kingdom, the power, and the glory, forever and ever, amen." Op die voordeur is daar 'n teken (ietwat speels): Ons praat Afrikaans ...

Café Tortoni, Borges se tafel

Café Tortoni

Ek het vanoggend 'n afspraak om die blinde Borges te ontmoet in sy kafee. Sy sekretaresse het laat weet hy sal presies om elf vm daar wees en moet asseblief nie laat wees nie. 

Ek verseker haar ek is nooit laat nie.

Sy vra ook dat ek asseblief die vrae tersaaklik moet hou en op sy werk moet fokus.

Ek begin 'n paar vrae neerpen in my swart notaboekie. My boekie is soos 'n labirint. Maak nie saak waar ek dit oopmaak nie; daar is altyd 'n belangrike idee opgesluit in hierdie swart boekie.

1. U het by geleentheid opgemerk dat u vader se biblioteek die hele lewe verteenwoordig het. Dink u dat lees die lewe kan vervang of verbeter?

2. U vader het in sy vyftigerjare blind geraak. Het u gevrees dat dit ook u lot sal wees?

3. U werk dikwels met die idee van die labirint? Het u ooit 'n werklike labirint of doolhof besoek alvorens u dit as letterkundige simbool gebruik het?

4. Hoe sou u magiese realisme definieer?

5. U is dikwels in die Palermo Viejo opgemerk? Watter invloed het hierdie wandelinge - dit wat u gehoor en geruik het - gehad op u tekste?

*


Die verhaal word egter onderbreek. Dit is tyd om die gids te ontmoet vir die gauchos-toer net buite Buenos Aires. Ons kom na twee ure aan op die plaas, Santa Susana. Ons ontvang 'n glas wyn en 'n poffertjie by ons aankoms.

Ons gids beloof verskillende danse wat hierdie komplekse kultuur sal voorstel. Casper Schmidt se kortverhaalbundel Die kokende gô kom sterk in die herinnering op.

Borges het nooit braille bemeester nie. Hy het tog verhale en gedigte vertaal – met die hulp van 'n sekretaresse aan wie hy alles dikteer.

Ek sal my vertelling so konkreet beskryf dat Borges my verhaal sal sien. 

Op die tafel is daar beesvelle uitgestal (teen $303). Buite mag 'n mens perdry. Die jongklomp is op 'n perdekarretjie aan die rondrits.

Na die oggendreëns is die lug helder. Alles ruik skoon en vars. 'n Gaucho in uniform van stewels en 'n rybroek braai vleis onder 'n soort lapa. Hy het 'n beret op. 'n Boina. 

Ons eet braaivleis: gestopte varkwors, beeswors, steak ... die Malbec vloei soos bloed. Daarna word die verskillende vorme van die tango vir ons gedemonstreer. En 'n man op 'n kitaar speel hartseermusiek. 

Daarna gaan ons buite toe en sien hoe die gauchos resies jaag en met las chicas op die perde rondjaag. Die skare jil. Daar hang 'n reuk van seks en sweet in die lug. Applous vir die gaucho wat 'n lus kan uithak en die ringetjie aan 'n mooi chica oorhandig met 'n kus.

Vanaand is die gauchos weer sonder vroue.

Nou het ek die pseudo-epigrapha tot die uiterste vorm geneem en u tot lewe gewek, meneer Borges.

*

Thibault Camus/AP Photo

Vroegaand is ek terug by die hotel. Ek is dadelik op CNN. Ek sien die twee broers is doodgeskiet en die derde terroris wat mense in 'n kosjer-winkel aangehou het, is eweneens verwyder van hierdie planeet. Sy vrou is egter steeds soek. Die Franse is onrustig. En Michel Houllebecq se uitgewer vrees dat sy roman Soumission geweld mag uitlok (‘Charlie Hebdo’/ Nuwe Franse boek in die spervuur? Besoek 9 Januarie 2015)

Die afgelope drie dae was dae van hoogspanning.

Tot diep in die nag kyk ek televisie en luister na al die interpretasies.

Joan Hambidge

Reisverslag: Buenos Aires - Deel IX

$
0
0


DEEL IX


Op die spoor van Borges

Die afgelope drie dae is my reis versuur en ómvergewerp deur terrorisme in Parys. Dit gooi 'n skadu oor alles. Dis al waaraan 'n mens dink. Saans kan jy nie wag om CNN te kyk en die jongste verslae aan te hoor nie. Is dit dalk die begin van 'n slopende wêreldoorlog?

Die Groot Sinagoge van Parys. (Foto: Wikimedia 
Commons)

'n Kenner van terreur - met 'n pienk das - vergelyk dit met kanker. 'n Mens sal elke keer 'n nuwe groeisel of melanoom moet verwyder. Op Vrydagaand is die sinagoge in Parys gesluit; die eerste keer sedert WO II, uit vrees vir 'n Jodeslagting. Die supermark in Parys waar vier gyselaars doodgeskiet is, is kosjer. Die niggie van die vroulike psigoanalis wat by Charlie Hebdo doodgeskiet is, verduidelik dit is omdat sy Joods was.

                                                              
Dis ons 9/11/. Dis oorlog. Dis verskriklik. Dis 'n aanval op spraakvryheid. Houllebecq se uitgewer is vreesbevange ...

Maar dis nie Islam teen die Christendom nie. Vele Franse is nie meer Christene nie. Dis eerder die opstand van jong mense wat oewerloos ronddobber in Parys en deur fundamentaliste opgesweep word. Maar 'n mens kan nie vergeet hoe WO I begin het nie ... dit kos net een waansinnige.

Dis moeilik om die footage uit 'n mens se bewussyn te weer. Maar vanoggend besluit ek om te sê: Je suis Charlie en die stad binne te vaar. Op die spoor van Borges om die besoedeling in my gemoed af te weer.

Uiteraard het Buenos Aires ook al terroristiese aanvalle beleef: op 17 Maart 1992 is daar 'n bom gegooi op die Israeli Ambassade (29 mense dood; 242 beseer) en op 18 Julie 1994 is 85 mense gedood in 'n gebou wat verskillende Joodse organisasies gehuisves het.

Moderne media maak egter alles intenser. CNN is orals aan. Nuuskanale domineer gesprekke in restaurante en hotelle.

Buenos Aires se mense is porteñas, letterlik mense van die hawe. Die stad is toegegooi onder toeriste (selfs twee Afrikaanses raakgeloop!). Wanneer mens met die inwoners gesels, onthou hulle almal die tragedie toe die nagklub aan die brand geslaan het en ongeveer 200 mense doodgebrand het. Dit was in Desember 2004 by die Republica Cromagnon-nagklub.

Buite om die stad heers daar armoede. Op die platteland is daar selfs modderhuisies, genaamd villas miserias. Op elke toer word 'n mens daarop attent gemaak dat daar nie genoeg parke is in hierdie stad nie. Die swembad bo-op my hotel (9e verdieping) gee 'n panoramiese blik op die stad wat bewys hoe min parke daar is - selfs minder as in New York wat uiteraard nadelig is vir 'n mens se gesondheid.

Daar is 'n besondere groot Joodse gemeenskap in die stad en selfs 'n park geskenk deur die Japannese; wat aanvanklik hul geld gemaak het uit blomme en wasserye!

Dit is besonder warm en humied hier: die weer is presies dieselfde as Durban s'n. Die kwik kan tot 33 grade styg. Ek hou van sulke warm weer - dit gee die liggaam kans om van al die toksienes ontslae te raak wanneer jy wandel.

Ek vertoef in die ouer, gevestigde gedeelte van Buenos Aires met sy statige geboue. Moderne blouoog-geboue skiet na vore net buite die ouer gedeelte óm sodat 'n mens 'n duidelike skeidslyn kan sien tussen oud en nuut. Die Barolo-gebou is o.a. 'n voorbeeld van Art Nouveau.

Daar is geweldig baie teater te siene (te oordeel aan die plakkate) en die operahuis (Teatro Colón) is internasionaal gereken. Placido Domingo het al dikwels hier opgtree. Daar is baie boekwinkels en oor die 200 museums om te besoek. En 'n dieretuin.

Behalwe vir die sterk Spaanse invloed, is hierdie stad ook 'n plek wat huisvesting gebied het aan vele Italianers aan die begin van die twintigste eeu. Cocoliche is die pidgin wat gepraat is, 'n vermenging van Italiaans en Spaans. Helaas word dit nie meer gepraat nie ...

In 2009, so vertel die anonieme stem op die oopbustoer se mikrofoon, het UNESCO die tango tot internasionale bewaring verklaar.

En Pous Franciskus, die huidige Pous, is 'n boorling uit hierdie geweste. Diego Maradona is steeds 'n groot held: hy is bykans elke dag op televisie in 'n onderhoud te sien.





Foto: AFP/GETTY IMAGES

*

Die Gran Café Tortoni is letterlik drie blokke van my hotel geleë. Vroegoggend stap ek na die Avenida de Mayo 825. En bestel 'n koffie met melk. Borges se standbeeld is in die hoek en ek neem die tafel reg langsaan. Om neffens Borges te sit. ('n Japannees neem my af neffens hom.)

Die kafee is in 1858 oopgemaak en is een van die oudste bakens in sy soort. Ten spyte van wat 'n mens verwag, is die pryse billik (in vergelyking wat 'n mens al gewoond begin raak op so 'n reis).

Daar is beroemde avenues hier soos die Avenida Alvear, Avenida de Mayo en 9 Julio de Avenue, een van die wydste strate op aarde.

*

Stede het persoonlikhede. Die klimaat herinner aan Durban, maar die statige ou geboue weer aan Madrid ... en ja selfs die eens statige middestad van Pretoria uit my jeug. En die buite-streke van die stad met sy malls en moderne geboue het 'n klap weg van Toronto.

Dis 'n mooi stad, ja.

Die aand neem ek 'n taxi na die Puerto Madero. Buenos Aires se Waterfront. Die restaurante lok met lekker kos en wyn. Buite wandel toeriste en inwoners. Dis besig om af te koel en die sonsondergang skyn pienk op die mooi nuwe geboue. Niks kom by Edinburgh se pragtige pienk sonsondergange nie, maar nietemin is dit aanskoulik hier.

Hierdie is meer 'n daguitstappie, besef ek. Die vullisblikke is oorvol gemors. Met waterbottels en ander uitskot. Hopelik word dit more verwyder ...

Orals is daar sigaretstompies.

Met my terugkeer beleef ek 'n oomblik wat so uniek is aan reis.

Die taxibestuurder, ene Marcos is van Peru en meer spesifiek van Machu Picchu. Hy jubel van blydskap dat ek al tweekeer daar was. Ons neuriesing “El condor pasa” (Blad besoek 10 Januarie 2015): 

I'd rather be a sparrow than a snail
Yes I would
If I could, I surely would
I'd rather be a hammer than a nail.
Yes I would
If I only could, I surely would.

Away, I'd rather sail away
Like a swan that's here and gone
A man gets tied up to the ground
He gives the world
Its saddest sound, its saddest sound

I'd rather be a forest than a street.
Yes I would
If I could, I surely would.
I'd rather feel the earth beneath my feet
Yes I would
If I only could, I surely would

Die lied is beroemd gemaak en aangepas deur Paul Simon en Art Garfunkel.

Foto: Mario Ruiz/EFE

En die voordeel van só 'n besoek is dat 'n mens nou met meer konkrete verwysings na tekste uit hierdie letterkunde sal kan terugkeer.  En Dakar duur voort. In die sesde skof van Antofagasta na Iquique in Chile sukkel onse Giniel om vir Nasser in te haal.

Bykans van hulle vergeet weens die terreur in Parys.

Ek begin skryf aan 'n gedig oor Borges.

Joan Hambidge


Cas Vos - Fragmente uit die Ilias (2014)

$
0
0


Cas Vos - Fragmente uit die Ilias. Protea Boekhuis, 2014. ISBN-13: 978-1-4853-0181-3

Resensent: Joan Hambidge

Die Ilias vertel die verhaal van Agamemnon, wat wraak sweer wanneer Helena (die vrou van Menelaus), deur Paris, ’n prins van Troje, ontvoer word.

Dit het ’n slopende Trojaanse oorlog tot gevolg wat tien jaar lank duur en verskeie vertalers het al hul hand aan hierdie klassieke teks gewaag, wat geweldige eise aan die digter se vormbeheer én taalgevoeligheid stel. Die Odusseiabegin tien jaar ná die val van Troje.

Dit is soos die verskillende vertalings van Dante se Heilige Komedie, wat vele herdigtings en toespelings beleef het en vertalings soos deur die voormalige poet laureate van die VSA, Robert Pinsky. In Afrikaans is daar gesprekke met Dante in die diguns van T.T. Cloete en selfs ’n vertaling van Delamaine du Toit.

Cas Vos se vertalings word gepubliseer met die herdenking van die Eerste Wêreldoorlog.

Op die Versindaba se webruimte het die literator Marlies Taljard – wat hierdie teks as ’n meesterstuk beskryf – gewys op die hantering van die epitet. Hierdie teks, soos elke vertaling uit ’n klassieke taal, vra egter of die teks genoegsaam getransporteer is van die Grieks na Afrikaans. Soos wat die Iliasdie stryd beskryf van Agamemnon om die skone Helena te bevry van Paris, is digters in ’n soortgelyke metaforiese stryd gewikkel in so ’n allemagtige vertaling of herdigting.

Dit is opvallend dat daar tans, meer as ooit tevore, geweldig baie vertalings binne die Afrikaanse letterkunde verskyn. Selfs in verseboeke word vertalings tans opgeneem as digterlike eiegoed. Uys Krige, H.P. van Coller, Johann de Lange, Daniel Hugo en H.J. Pieterse is digters wat Afrikaans verruim het met uitstekende vertalings.

In Boek XX lees ons:

“Hoor net hoe jaag die blitse rond,
die gode span saam vir die oorlog.
Uit woede gaan hulle mense wond,
en dit alles weens blinde hartstog” (126).

Hierdie bundel bevat ’n grondige inleiding ter agtergrond. Die naamverklaring is eweneens nuttig.

Die belang van só ’n vertaling is dat dit ’n mens na die ryk skat van die digkuns neem waarin die Ilias op briljante wyses vernuut is. Vir my is die mees uitstaande voorbeelde Omerus van Derek Walcott en die digkuns van Anne Carson, digter en klassikus.

Daar bestaan dubbelloop-vertalings (met voetnote) en vrye vertalings van klassieke tekste. In laasgenoemde geval kry die sterk digter se stem die oorhand. En al hierdie gesprekke tussen digters wat dieselfde oorlogsveld besoek het, bly ’n fassinerende een: Yeats, Lorca, Neruda, Ted Hughes . . .

Soos Vos tereg uitwys, is daar gevalle waar die persoonlike ervaring oor hierdie teks getransponeer word (Yeats wat sy Maud Gonne gelykstel aan die skone Helena van Troje).

“Elke tyd het sy Trojaanse oorlog” (28), word ’n ander digter tereg aangehaal . . .


Die digter gee erkenning aan die letterlike vertaling van die Stellenbosse klassikus J. P. J. van Rensburg wat in 1952 verskyn het. Hy verwys die leser ook na al die geraadpleegde brontekste wat vir die snuffelaar van onskatbare waarde is.


Op die flapteks staan daar dat Vos in 2012 met die SALA-prys bekroon is. Dit het egter in daardie jaar aan Johann Lodewyk Marais gegaan.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Rapport)

Johann Lodewyk Marais - In die bloute (2012)

$
0
0

Johann Lodewyk Marais - In die bloute: Gedigte. Cordis Trust, 2012. ISBN 978 0 9870397 1 2
Resensent: Joan Hambidge

I
Die gesiene digter Johann Lodewyk Marais het ‘n bundel gepubliseer deur die Cordis Trust. Dit heet In die bloute en beslaan 77 bladsye. Die bundel se voorbladontwerp is van Lynette ten Kroonden.

Waarom sou ‘n gesiene  digter soos Marais wou publiseer by Cordis Trust? Hy is immer bekroon en het belangrike bundels gelewer by hoofstroom-uitgewers soos Human & Rousseau en Protea. Hy is bekroon met die Orde van die Goue Pen in 2012 deur Cordis Trust. Hieroor geen kommentaar.

Die digter het hom die afgelope paar jaar toegespits op die ekologie en verskeie gedigte gelewer wat sou kon deurgaan as sogenaamde natuurgedigte. Hierdie bundel word tipeer as “’n Seeboek”. 

Reeds met die progamvers verneem die leser dat die digter ‘n vers wil skryf “met seesand tussen die blaaie” (9).

Tierkourie
Cypraea tigris

‘n Digter het eens oor ‘n skulp geskryf,
selfs die binnekant in detail verbeeld
en voor die leser se oë laat leef.
Ek het met verwondering geluister.
Tuis het ek die skulp in my hand geneem,
hom om en om gedraai en goed bekyk.
Hoe moet ek dan te werk gaan as ook ek
dié sieraad uit die see nou wil vereer?
Moet ek eers weer op my boekrak gaan soek
om meer oor die oseane, vorm
en gedrag van dié boorling van Pemba
te lees voor ek ‘n woord op papier sit?
Moet ek hom desnoods alkant bestudeer,
in sy binneste inkyk, notas maak
en sy samestelling deeglik vasstel?
Moet ek die man van Maputo loop pols
by wie ek hom vir ‘n hand vol munte
van die hoop voor sy voete gekoop het?
Of moet ek hom liewer teen my oor druk
en luister of hy self iets te sê het?
Miskien sal ek maar ‘n digter moet vra.

Vir T.T.Cloete

II
In hierdie "Seeboek" gebruik die digter telkens wetenskaplike name om ‘n bepaalde vis te beskryf. Dit getuig van besondere navorsing en die spel tussen wetenskap en digkuns word volgehou met die digter wat telkens sy eie siening, naamlik die posisie van die digter as waarnemer en optekenaar, na vore bring. Die invloed van N.P. van Wyk Louw en die gesprek met hierdie digter is vanaf Marais se debuut steeds aanwesig, soos in die gedig “Op ver strande” (74) waar die digter op die strand skryf:

Terug op die strand hurk ek neer
en met my vinger teken ek
in die wit sand ‘n halfmaan, kruis
en sirkel met pyle deurgetrek.

Ons vind verwysings na notaboeke en die digter wat telkens bewus is van die grootsheid van die natuur waarteen hy sy digterlike kleim moet afsteek. Selfs sy hand word ‘n notaboek soos in “Manatoka” (56).

Te midde van die digproses en die ars poetiese bestekopname is daar ook heerlike humor aanwesig:

Daar’s stede

Daar’s stede in die see!
In die Groot Barrière-rif
is die koraal deelhuise!

Die sponse is die 
suiweringstoestelle
en die skaaldiere
die straatveërs!

Ja, daar’s stede in die see!

Daar is genoeglike beelddigte – soos onder andere oor Jacques Cousteau (62) en Kenneth S. Norris (63) – en telkens word die unieke aard van so 'n natuurkundige se werk (en lewe) belig. Cousteau se Neus is so krom soos ‘n dolfyn se vin, wat uiters tersaaklik is om hierdie man binne sy leefwêreld vas te vang. Jan en Marjorie maak ook ‘n buiging in die bundel.

Uiteraard het so ‘n natuurbemoeienis ook frustrasie tot gevolg wanneer die digter besef dat hy die eerste een is om oor die gelitte rooiwier ‘n gedig te skryf.

Duthie se korallina
Duthiophycus setchellii

Ek soek in die bundels om my
‘n aanknopingspunt vir dié vers
oor die skaars, gelitte rooiwier
uit branderbespoelde sloepe
laag af in die getygebied
wat ek graag digterlik wil ken,
maar daaroor het nog geen digter
ooit ‘n dooie woord gerep nie. 
(51)

Daar word ook ‘n bietjie die spot gedryf met Derrida se siening van spore en ‘n leerugseeskilpad gee haar mening van sake (47) wat die leser dwing om hierdie gedigte as meer as blote natuurverse te benader. 

Die “blatante venyn” van die barrakuda wat losruk en in die see verdwyn, word ‘n beeld vir die digter se onmag om onbevange te kan dig oor ‘n onderwerp. Die spore – dit waaroor Derrida immers argumenteer in De la grammatologie (1967) – maak van skryf ‘n komplekse tekenspel.

Die skryfproses word op ‘n ironiese wyse beskryf in ‘n gedig oor die inkvis (32):

Die inkvis word in die treilnet
van die woord harteloos gevang.
Swyg sou nie onvanpas wees nie:
jou sien en weet bra sonder nut.
Maar met die diefstal van sy ink
bring jy hom meteens aan die lig.

Wanneer die digter te staan kom voor die natuur, bely hy sy onmag. Dit is nie Johann Lodewyk Marais se beste verse nie, maar as ‘n kladboek of optekenboek bevat dit mooi momente.

III
Sopas het daar ‘n nuwe bundel van Marais verskyn, nogeens by Cordis Trust, met die titel Nomade. Op Versindaba word as volg daaroor geskryf (Besoek 1 Desember 2014):

Benoeming is die oer poëtiese aktiwiteit, die “local habitation and a name” waarvan Shakespeare praat, en in Nomade is dié twee aspekte van spesiale belang: plek, en benoeming, toe-eiening, her-ken-ning. By Marais word dit ‘n sistematiese verkenning en her-ken-ning met bundels wat soms aan ‘n diergroep (Aves) of streek (Plaaslike kennis) gewei én gewy word.

Die digter as optekenaar, as ontdekkingsreisiger in ongekaarte streke, is reeds ‘n bekende strategie uit sy oeuvre. Wat gekarteer word, is nie net geografie nie, maar die bloedige geskiedenis van ’n kontinent, die stryde om besit daarvan. Die tydelikheid van tekens, sy dit kaart, of graffiti, of gedig. Die reis is nie net geografies nie, maar ook ‘n reis terug in die tyd, en deur die taal.

Naas die historiese word terugbeweeg in die persoonlike geskiedenis, en daar word op poëtiese wyse besit geneem van ‘n verlede, ‘n verbintenis met grond word bevestig. Marais reis deur die Afrikaanse poësie met digterlike reisgenote, en ook deur sy eie oeuvre.

Met Nomade trek Marais verder noord en verwerf nuwe wêrelde vir sy poësie, maar ook vir die Afrikaanse poësie in die breë.


Biografie besonderhede

Johann Lodewyk Marais is bekroon met die Ingrid Jonker-prys vir sy debuutbundel, Die somer is ’n dag oud (1983), en die SALA-toekenning vir Diorama (2012). Hy het reeds agt bundels gepubliseer en stel ook twee bundels omgewingspoësie en een ter herdenking van die verskyning van “Winternag” saam. Marais is bekend vir “groen” skryfwerk en vir sy navorsing oor Eugène N. Marais en die geskiedenis van Kenia waarooor hy gereeld artikels skryf.

Reisverslag: Buenos Aires - Deel X

$
0
0

DEEL X

Don't cry for me Argentina

Dis die voorlaaste dag van vertrek. In die diep nag kyk ek na Alain Resnais se wonderskone Hiroshima mon amour (1959). Die filmteks is versorg deur Marguerite Duras, skrywer van die gelyknamige roman.


Twee minnaars, uit die Weste en die Ooste, gee hul verskillende ervarings van oorlog weer: sy Frans, hy Japannees. Dit is 'n eksponent van nouvelle vague en dit sluit aan by die tradisie van trauma en herinnering. 'n Film wat sterk resoneer met die gebeure tans in Parys.

En dit is hierdie toevallighede wat reis so fassinerend maak. Hoe 'n mens iets sien, lees of hoor - wat jou hele reis kan ont-spoor of op 'n ander spoor plaas.

In Verdraaide raaisels het ek my besig gehou met afskeid:


Salida

In die vele hotelkamers van die liefde
my bagasie in- en uitgepak.

In die vele hotelkamers van die liefde
die hotelkaart noukeurig ingevul

In hierdie hotelkamers
is alles eers klinies – later morsig.

In die hotelkamers van die wanhoop
soms ‘n soewenier geneem – niks agtergelaat.

In hierdie vele hotelkamers
nimmer lank vertoef.

Sommige hotelkamers was vyfster;
party minder goed.

Nou onthou ek net my geliefdes
soos die kamernommers in dié hotelle.

Ek sal nie meer so kan dig nie. Hiroshima mon amour hou my aandag gevange rondom die oorlogsgeweld: hoe mense in Hirosjima geskend is deur die oorlog. In 'n stadium sien die kyker hoe 'n vrou se oog oopgesper word; sy het nie meer 'n oog nie ...

Hy vertel van die hareverlies in 1945 met die bomaanval; sy weer vertel hoe haar hare afgeskeer is tydens die oorlog toe sy met 'n Duitse soldaat 'n verhouding gehad het in die dorpie Nevers.

*

Eet brekfis in die hotel en beplan 'n dag van afskeid aan die stad Buenos Aires. Die dag van vertrek is 'n mens reeds al weg ... jy dink net aan jou vlugte en die tuiskoms.


Op kabeltelevisie speel Mr Beans' holiday, met Bean, die moderne Charlie Chaplin. Hierdie film uit 2007 gee 'n flinke opsomming van alles wat kan verkeerd gaan met reis. Dis ook 'n heerlike send-up van pretensieuse, postmodernistiese self-refleksiewe films. Met Willem Dafoe in 'n skittervertolking as 'n selfingenome, narcistiese filmmaker. Eat your heart out, Jean-Luc Godard.


In ons moderne tye is daar selfs video-opnames oor die Paryse terreur waar 'n man presies vertel wat met hulle gebeur het in die kosjer supermark: Hostage describes chilling ordeal - CNN VideoBesoek 10 Januarie 2015.

*

Op 'n lang muur is daar 'n groot staalskets van Mevrou Evita Perón teen 'n muur.
Madonna se vertolking van Evita was goed in die 1996 filmweergawe (Alan Parker). In 1982, gedurende die Falklandsoorlog - waarvoor daar 'n standbeeld opgerig in Buenos Aires - het die Britte hierdie lied gespeel tydens aanvalle. Uiteraard bedoel as bespotting.

In die stad is daar 'n tehuis vir straatvroue - vernoem na Evita.

Ek is minder entoesiasties oor die Llloyd Webber / Tim Rice musical. Ek deel Borges se sinisme oor haar.

*

Nou begin my daguitstappie. Ek besluit om weer die oopbustoer te doen. Dit kos $40 (VSA) en ek wil die ander lyn vandag doen, vra ek beleefd. Dit blyk egter nie beskikbaar te wees nie. Ek beduie dan doen ek weer die geelroete. Die vrou neem my kaartjie, skribbel haar naam agterop en voilà verander dit sodat geldig is vir die dag! Wat 'n meevaller.


Op die oorfone is daar Strauss-walse wat afgewissel word met die Beatles. "Eleanor Rigby" is 'n kragtige gedig.

Ah look at all the lonely people
Ah look at all the lonely people

Eleanor Rigby, picks up the rice
In the church where a wedding has been
Lives in a dream
Waits at the window, wearing the face 
That she keeps in a jar by the door
Who is it for

All the lonely people
Where do they all come from?
All the lonely people
Where do they all belong?

Father McKenzie, writing the words
Of a sermon that no one will hear
No one comes near
Look at him working, darning his socks
In the night when there's nobody there
What does he care

All the lonely people
Where do they all come from?
All the lonely people
Where do they all belong?

Ah look at all the lonely people
Ah look at all the lonely people

Eleanor Rigby, died in the church
And was buried along with her name
Nobody came
Father McKenzie, wiping the dirt
From his hands as he walks from the grave
No one was saved

All the lonely people
Where do they all come from?
All the lonely people
Where do they all belong?

Songwriters: John Lennon / Paul McCartney


*

Vandag kyk ek na die argitektuur en na die name wat ingekerf is op ou geboue.

Die vermenging van oud en nuut in Buenos Aires fassineer my. Hier is 'n ou stuk geskiedenis vasgevang in die geboue. Neoklassiek, art deco, gekleurde huisies in El Caminito.

Vir my is die volgende geboue uitsonderlik imposant:

Iglesia de San Ignacio
Bolívar 225, Monserrat. Dit is die oudste kerk in die stad en die Barok-styl is aanskoulik.
















Palacio Barolo
Avenida de Mayo 1370, Monserrat. Op sy dag die hoogste gebou in Suid-Amerika wat in gesprek tree met Dante se Heilige Komedie. dit is 22 verdiepings hoog en die drie verskillende canto's hel (kelder en grondvloer), purgatoria (verdiepings 1 tot 14) en hemel (15 tot 22) word gerepresenteer.

Luis Barolo (gebore in Italië) was die argitek en hierdie intertekstualiteit tussen geboue en letterkundige tekste interesseer my.








Palacio del Congreso
Hipólito Yrigoyen 1849, Congreso.

Hier is die styl weer Grieks-Romeins ...  

En afwisselend het jy dan hiper-moderne geboue - soos in Chicago - geplaas teenoor verwaarloosde geboue. In moderne stede word ou dokke/skure/pakkamers dikwels dan ruimtes vir restaurante wanneer dit geverf en herbou word soos wat 'n mens dan ook hier beleef by hulle Waterfront.
Saans wanneer ek swem in my hotel 725 Continental kyk ek na al die ou geboue rondom my. Verslons. Verinneweer. Want jy sien dakke en dit wat lanklaas opgeruim is ...

Daar is vele geboue te sien op die internet en kyk gerus na "Buenos Aires Architecture - Famous Buildings of Buenos Aires". Besoek 10 Januarie 2015.


*


Daar is vele kunsuitstallings en museums. Ek kies vandag die Malba. Frida Kahlo en haar eggenoot is die hoofaanbod. Ek het reeds hulle werk in Mexiko-stad gesien.

Met so 'n reis interesseer die stad my. Hoekom het ek gister byvoorbeeld gedink hierdie stad herinner my aan die Pretoria van my jeug? Totdat ek besef: hier is ook jakarandas ...

Langs ons in hierdie heerlike hitte is daar twee geliefdes op rolskaatse. Soms steek hulle die bus verby ...

Ek verkyk my aan hul passies. Dis bykans asof hulle wil tango!

Met reis is dit egter altyd so dat 'n mens by jou terugkoms ander aspekte "foreground", onthou, optower. In die oomblik mag iets belangrik wees en later verdwyn dit ... En andersom.

Maar as belangstellende in die psigoanalise weet ek dat niks wat 'n mens beleef (het) ooit verlore gaan nie. So ruk hierdie reis dan ook ervarings van reise van lank, lank gelede terug.
Maar nou wil ek eers terugkeer na my Borges-gedig. En begin pak.

Joan Hambidge

Reisverslag: Buenos Aires - Deel XI: Terugkeer

$
0
0

DEEL XI 

Terugkeer

Met 'n swaar hart staan ek op. Sommer dik befoeterd omdat ek moet terugkeer.

Die verhouding met 'n stad is soos 'n liefdesverhouding. Jy kan nie presies bepaal wanneer dit onder jou vel ingeklim het nie. Jy weet net skielik op 'n dag jy is 'n gevangene van jou gevoelens. Dat jy die stad of persoon onder lede het.

Vroegoggend brekfis ek en gaan swem vir oulaas op die boonste verdieping. Die reis gaan lank en swaar wees en hierom moet 'n mens jou liggaam soepel kry. Ek voel dadelik beter na my swemsessie en besluit om weer 'n oopdakbustoer te onderneem. Bykans dieselfde roete, maar 'n ander bestuurder wat ongeskik op sy remme ry. Gelukkig het die bodek van die bus 'n seildak wat die hitte afweer.

Jongelinge swem in fonteine. Die kraaie gaap.


Pablo Neruda en Federico Garcia Lorca - 1934

Hoor weer hoe Lorca hier besoek afgelê het om die produksie van Blood wedding mee te maak. Ons sien die hotel waar hy tuisgegaan het en dit is duidelik hoe belangrik sy besoek vir die Argentyne was.

Ook huldig hulle die standbeeld van Don Kiesjot - geskenk deur die Spanjaarde - en 'n afbeelding van Rodin se Die denker.

Die verhouding tussen die kolonie en die moederland word voortdurend uitgewys. En kulturele besoeke van Domingo en Carreras is belangrik vir hierdie mense.


Daar is 'n José Ortega Y Gasset-straat en selfs een vernoem na JFK. Gasset se "filosofie van lewe" sou bepaald hier aanklank vind. Tydens die Spaanse Burgeroorlog het hierdie filosoof 'n tuiste gevind in Buenos Aires en hierom word hy gehuldig deur die mense van hierdie stad. Hy keer wel na die oorlog terug na Madrid (in 1948) waar hy klasgee in die Geesteswetenskappe.

Die verskillende avenues is bepaald bakens. Hier is ook 'n straat wat nooit slaap nie en die Palermo-gedeelte herinner aan Manhatten se Greenwich Village. In elke stad is daar 'n plek vir die dwarses en aweregses en kunstenaars.

Aanskoulik is die oop museum in Caminitostraat in La Boca.

Die roete is nie identies aan gister se reis nie en ek soek vergeefs na 'n aanskoulike gebou ...

Daar is baie belangrike kunsmuseums in hierdie stad. Die operahuis se luike is vanoggend oop en die Kersboom word verwyder. Hier is dinge aan die kom!

Verdi se Aida is tydens die opening opgevoer. Ek onthou 'n opelugopvoering in Pretoria: Loftus Versfeld. Lieflik. Met laserstrale en olifante en sangers doer ver ...

*

Om te dans in Borges se stad

Meneer Borges,
in die stad van Goeie Winde
ja, in die stad van Goeie Winde
het ek vele danspassies uitgehaal
in 'n vergeefse soektog na u.
In die geliefde Café Tortoni
sit u nou verewig, 'n standbeeld,
langs twee vriende, rustend op 'n wandelstok
waarmee u as blinde moes koers kry
van Palermo tot die Avenida de Mayo,
deur die straat wat nooit slaap nie ...
'n Roete wat ek nougeset volg
met 'n oopbustoer waar 'n anonieme
stem tereg verwys na u:
"Hier het Jorge Luis Borges koffie gedrink,
met kunstenaars gepraat"; "Daar het Lorca
vertoef toe Blood wedding opgevoer is ...";
"Hierdie straat is vernoem na Ortega y Gasset,
daardie een na JFK ..."
Nou plaas ek 'n Café doble voor u neer:
in my soektog na u, meneer Borges
vind ek ook ánder figure en bakens:
bakens van bloed en politieke blindheid;
waarvan daardie alwetende stem bloedmin wis.
Perón en Menem en wie nog afgejaag;
monumente en geboue blindelings afgetel ...
Strate, so weet ons, net vir dié met die groot gebaar,
selde vir diegene wat in 'n blinde labirint verdwaal.

*

Nou's dit lughawe toe gaan. Dieselfde man wat my opgelaai het by my aankoms, laai my weer af. Ons is beide bly om mekaar weer te sien. Die vriendelikheid (en behulpsaamheid) van die Argentyne sal my altyd bybly.

Ek tel 'n blaar op - heel simbolies.

Op die lughawe skenk ek 'n hemp wat beter dae geken het aan 'n arm man. 'n Lacoste (ja dit Lacoste-so-baie), wag in die lounge met skrapse versnaperinge.

Dan begin die lang vlug - wat beteken dat jy letterlik 'n hele dag aan't reis is van Buenos Aires tot Dubai. EK 248.


Maar ek kla nie. Die kos is voortreflik: gerookte salm. Les Tourelles de Longueville 2008 Paullica, Frankryk. Port uit Portugal (Porto Dalva Colheita 1985, Douro, Portugal) en 'n Chardonnay uit die boonste rakke: Larry Cherubino Pedestal Chardonay 2013 uit Australië.

Ek rus, maar kyk 'n Portuguese en Franse film: helaas ook gedeeltelik na Vrou soek boer ...

Laat ons liewers die swygreg behou. Die Franse film (Die laaste diamant) is 'n speurverhaal en dié se geweld aktiveer die terreur in Frankryk. Die Brasiliaans-Portuguese film, Red neck, is nie veel van 'n film nie, maar gee tog uiting aan die landskap en kultuur.

Op Dubai-lughawe - waar ek sowat drie ure moet wag - lees ek vinnig e-posse. En dink oor my wonderbaarlike reis.

Ek wou nog vra: waarom is daar so baie plakkate van verlore mense in Buenos Aires?

Nou wag vlug EK 722 op my.

Joan Hambidge

Reisverslag: Buenos Aires - Deel XII: Nadenke

$
0
0
Michael Keaton in Birdman deur Alejandro González Iñárritu (Illus. Peter Strain)

DEEL XII

Nadenke

Die reis terug is lank en swaar. Ek kan gewoon nie slaap nie; waarskynlik omdat die binne-horlosie van liggaam deurmekaar geskommel is van die tydsverskille. Ek luister musiek op my vlug. Onder andere na die melancholiese Simfonie nommer 5 van Tsjaikofski (tweede beweging). (Hierdie musiek is op die klankbaan van die film Birdman (Besoek 18 Januarie 2015).

Die tuiskoms verloop glad. My tasse staan vir dae oop en onuitgepak.

Ek kyk na 'n paar foto's wat ek geneem het en probeer 'n storie saamstel.


 'n Foto by Borges se tafel.


'n Foto met oorfone.


'n Foto met sonbril langs die swembad in Iguasso.

Die Iguasso-valle.

Die obelisk in Buenos Aires.

'n Boom buite Buenos Aires.

In die Lonely planet staan daar: "Sexy, alive and supremely confident, this beautiful city gets under your skin. Like Europe with a melancholic twist ..." (Buenos Aires, Argentina - Lonely Planet. Besoek 18 Januarie 2015)

Wie het hierdie wyse woorde geskryf? Want dit is presies hoe ek dit stad sou opsom.

Die hoogtepunte was uiteraard die Iguasso-valle en die besondere Andes-gebergtes in Mendoza. En ek wat luister en opneem op 'n oopbustoer in Buenos Aires om elke belangrike gebou of mylpaal te probeer karteer, soos die obelisk.

En elke dag swem om die hitte te besweer of kyk na die enorme bome in hierdie stad.

En die besoek aan die kafee waar Borges, die groot skrywer van hierdie stad, dikwels vertoef het.

Reeds het ek hierdie ervaring gehad tydens my eerste besoek aan Suid-Amerika:

Afskeid

Daar is sekere stede (soos geliefdes) wat mens moeilik verlaat.
Deur hulle word mens geteister deur ‘n vlugvertraging
van herinnering of verlies aan jou enigste paspoort
tot nuwe ervarings liefde of ‘n belangrike afspraak.

Daar is sekere stede (soos geliefdes) wat mens swaar verlaat.
Oor hulle draai die vliegtuig vir oulaas te lank
vir ‘n panoramiese blik of keer selfs terug weens die weer
van hul veranderende emosies – net om mens wéér in die steek te laat.

Daar is sekere stede (soos geliefdes) wat mens nooit verlaat
weens willoosheid, herinneringe of ‘n onverwagse coup d’etat.

Montevideo

(Verdraaide raaisels, 1990).

En nou:

Buenos Aires

Stad met 'n obelisk en Rodin se denker
('n replika glo maar vol verdigris),
Cervantes se Don Kiesjot en vele rotunda:
in my gedagtes keer ek vannag terug na jou.
In 'n steeg val die skuinslig van skemer,
afskeid aan jou ónmoontlik en verdrietig.
Wat snoer jy saam? Wat vertel jý vir my?
Dat 'n stad 'n spieëlbeeld word van 'n mens:
driftig, hartstogtelik, dog melancholies.
Parys van Latyns-Amerika: onnabootsbaar
in jou avenues en buurtes saamgesnoer.
Vol subte, ondergrondse gerommel
nes 'n lang elegiese Spaanse gedig.

Reisverslag: Buenos Aires - Deel XIII: Afloop

$
0
0
Volmaan bo Kaapstad

DEEL XIII

Afloop

So begin 'n mens dan voetjie-vir-voetjie weer deel van jou nuwe ruimte. Slapeloosheid (want die liggaamsklok is deurmekaar geskommel) is jou voorland en die realiteit van werk en liassering. Die tasse word uiteindelik uitgepak ...


Reis as klad poetica

JdL

Vroeër sonder om te weifel die hotelkaart ingevul,
selfs my paspoort onder by ontvangs gelaat,
die deur snags soms gegrendel, soms oopgelaat.
Selfs digby 42nd Street vertoef in 'n hotel bedenklik.
Nou word alles haarfyn beplan met reisbrosjures,
selfs koepons, 'n tas wat met kodenommer sluit.
My onuitgepakte tasse weifelend, opgevul
met indrukke, biljette, 'n faux-Peso-noot vir dobbel.
En hieruit mag ek dalk, as jy fyn kyk, 'n gedig maak.
Wat behoef jy? 'n Distigon? 'n Gebreekte sonnet
of 'n vierreëlige "weerlig van die ongeloof"?
"Skei uit", hoor ek jou grom, "ek soek 'n akwarel
vir die dors, 'n gedig as kladpapier wat die hele Iguasso
met een diep intrek van asem omskep in 'n waterwoestyn!"

*

Old keys on letter © Garry Gay

By herhaling keer jy terug na jou bundel Verdraaide raaisels en alles val uit tussen 'n toe en 'n nou. 

Onbegrypbare raaisel

My liefste, ek dra jou met my
saam op my paspoort, my instapkaart
na nuwe stede en ervaringe.
By elke doeanepunt word my siel
geëndoseer met herinneringe aan jou.

My liefste, jy dra my met jou
saam in beelde in jou daaglikse roetine
van opnames maak, foto’s neem.
Met elke roetinetaak word jou siel
gefotografeer met gedagtes oor my.

Ons dra mekaar onbegryplik en raaiselagtig
saam van dag tot dag op verskillende kontinente
en ek sien jou mond – ‘n groot bloeinde wond –
en weet: na jou moet ek terugkeer – terstond.

Santiago

Die sloom hitte van Buenos Aires maak plek vir 'n droë, uitmergelende Kaapse hitte. Die dakwaaier is aan. Jy sien jou vriende en in jou herinneringe kom die hoogtepunte terug ...

Die volgende reis: dalk die Orient Express?

Santiago de Chile?

Antarktika?

Jy begin dink oor 'n nuwe bundel: Indeks.


Ars poetica

Thy words are like a cloud of winged snakes.
Shelley

Daar was 'n tyd
wat ek sonder slag of stoot
'n versreël of inval
netjies kon ómtower in 'n aanklag
of 'n neulerige neuriesang.
Dit was die tyd van palinodes
en verlore simbole
met matelose selfbedrog.
En digterlike vriendskappe:
laatnag gesprekke oor Neruda
en Sheila Cussons en Opperman
as leermeesters vir die drif
en óndaad van die digkuns.
Die anatomie van melancholie
met sjirurgiese presisie,
dié kon ek ontleed en ja,
vreesloos daardie donker labirint betree.
Vér en lank gereis in verdraaide raaisels
en telkens voor dooiemansdeur gestaan.
Die mossteppe of toendras
soos 'n skeeloog mulatto betree.
En kriptonemies op 'n hondegaloppie
gedraf in die skoene van die Groot Vyf.
One-two cha-cha-cha
kritikasters se parabole gesystap
op pad wég, haha Houdini.
Oor haar, 'n sy, nes Petrarca,
daardie obsessionele woordvraat,
veelversig gecanzonier.
Nou is dit helaas beurtkrag
met die digterlike proses.
'n Gedig word onderbreek:
bly broeiend ónafgerond,
nes reptieleiers in 'n rivierbedding
waar mummelende mulvisse
eens vertoef het néffens muisvalke.
Dié gedwonge beelde stip alreeds
die onmag en woordelose frustrasie aan.
Miskien, miskien sal my beelde
weer eendag helder skyn.
Soos 'n wolk van gevlerkte slange?

Wat 'n wonderbaarlike reis. My volgende reis sal na Chile wees en via Buenos Aires sal ek weer kyk, terugkyk, herbesoek vir 'n opname, 'n indeks ...

© Joan Hambidge

Johann Lodewyk Marais – Nomade (2014)

$
0
0

Johann Lodewyk Marais – Nomade. Cordis Trust publikasies, 2014. ISBN 978 0 9870397 8 1
Resensent: Joan Hambidge

Johann Lodewyk Marais verken in sy negende bundel Nomade die landskap van Afrika. Dit lees soos ‘n reisverslag of aantekeningboek van ‘n digter wat deur Afrika reis en plekke aandoen soos Nairobi, Lamu, Kaïro, Timboektoe, ensomeer. Die reisende digter het ‘n dubbelblik: elke ervaring word afgespeel of teruggekaats teen die bekende land van herkoms. Maar sonder hierdie bekende leefwêreld kan die nuwe nie ervaar of deurgrond word nie. ‘n Mens dink hier aan Bernardo Bertolucci se sublieme rolprent The sheltering sky– gebaseer op ‘n verhaal van Paul Bowles – en die verskil tussen reisiger en toeris; en, uiteraard, hoe die nuwe belewenisse die reisiger se lewe verander.

Marais sou ‘n mens kon beskryf as ‘n digter van temas en eenheidsbundels. Sy vorige bundel het gehandel oor die see (In die bloute, 2012) en die digter werk nou aan ‘n bundel oor insekte. Nomadebevat sketse van Lynette ten Krooden wat ‘n spel tussen lynskets en gedig tot gevolg het.

Die reisgedig veronderstel ‘n nomaad, ‘n waarnemer en die gedig word ‘n soort kartografie van die digter se belewenisse. Die digter verduidelik aan ons in “Oorlees” (90) dat hierdie geslote boek sy lewe is. Hoe vérder die digter reis en nuwe belewenisse opteken, des te meer word hy gekonfronteer met die self en beperkinge. In die ryk vers “‘n Lewe” (91) sien die leser dat die jong kind alreeds ‘n skerp waarnemer was. In hierdie gedig met sy Pablo Neruda-aanslag is daar ‘n terugkeer na sy jeug om hieruit te beweeg na nuwe trekroetes.

‘n Mens sou ook hierdie bundel kan lees teen die agtergrond van ander bundels en gesprekke tussen gedigte uitwys in sy digterlike diaroma.

Daar is ‘n handvol sterk verse in die bundel. Soms mindere lynskets-vers, optekeninge, kladboeknotas – soos te verwagte van die reisende digter. Op sy sterkste is daar verse soos “Sonnewende”, “n Lewe”, “Dhow-wedvaart”, “Timboektoe”, “Heilige skrif”, “Nelson Mandela”, “Ibn Battuta”, “Arabierperd”, verse waarin die spanning tussen vorm en inhoud volgehou word en die gedig met elke lees iets nuuts ontsluit.

Die astrolabe is ‘n belangrike kode in hierdie bundel. Die gebruik van minder bekende Arabiese of Afrika-woorde verleen iets eksoties aan die bundel. Daar is ‘n voortdurende spel tussen die ou koloniale wêreld en die nuwe wat steeds vol geheime en vreemde tradisies en gebruike bestaan. En hieruit word die gedig geskep: tussen wat was en wat nooit kan wees nie.

Daar is ook politieke kommentaar in die bundel soos onder andere in die kort vers oor Kaïro en in ‘n gedig oor FW de Klerk word die “wye en droewe land” betrek. Afrika in al sy kompleksiteite – misterieus, religieus, rewolusionêr, polities-onrustig, driftig – kom aan bod. Die “politieke onbewuste” rig vele verse; ons bly bewus van skeepskanonne, vlae, bloed en mense wat vir ‘n stryd gestry het.  Daar is gidse en die digter self is ‘n sterk waarnemer:

Heilige skrif
                      
Die vrou wat onder die tamarinde
die Koran sit en lees, keer my vierspoor
wanneer ek buk en met my wysvinger
aan die mooi karakters voor haar wil raak.
Sy gru en hou haar hande beskermend
oor die letters wat vir haar heilig is.
“Elke ayat is wonders en tekens
en het net so uit die hemel gekom,”
sê sy en prewel Mohammed se gebod.
Deur die boomtakke en -blare teken
die son die arabeskpatrone na.
(56)

Van die verse het al op die Versindaba se webruimte verskyn en dit is opvallend hoe verse verander en verbeter is: van reisindruk tot gedig wat met sy “vuurtonge na die hemel reik”.

Hierdie gedigte het die 'le bapteme de solitude'; veral in die verse oor die Sahara en die savannes. En soos Paul Bowles waarsku: nadat ‘n mens die Sahara ervaar het, is jy nooit weer dieselfde nie ...

Hierdie bundel is gepubliseer met die hulp van die Cordis Trust en word opgedra aan ons ander uitstaande digter, Johann de Lange.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Beeld)



Repliek: Psigiater reageer op Dominique Botha se roman Valsrivier

$
0
0

'n Anonieme psigiater reageer nou onlangs op Litnet op Dominique Botha se veelbekroonde en aangrypende roman ValsrivierValsrivier– 'n lesersindruk vanuit 'n sielkundige perspektief - Anonieme psigiater.

Ons verneem van hierdie kenner van die psigiatrie:

"Die skrywer sê dat sy die boek geskryf het om haar broer te onthou, waarin sy sekerlik suksesvol was, maar ook om iets uit die verlies van sy dood te maak, en dis hierin waar die teleurstelling van die roman vir my lê. Die beskrywings van die karakters se ervarings is uitgebreid en omvattend, maar daar word feitlik geen erkenning aan hulle emosionele belewenis gegee nie. Die karakter Dominique noem baie selde hoe sy voel, gee geen refleksie op wat sy dink ander voel, of wat sy dink haar broer se gevoelens mag wees nie."
Die probleem met die anonieme psigiater se uitspraak is dat hy hom verlaat op wat die skrywer sê in plaas van wat sy doen ... Dit is uiteraard altyd die probleem wat onderhoude in die pers en op televisie skep, is dat dit die resepsie of verwagting van die teks vertroebel en 'n skadu oor die ervaring van die teks kan gooi. (Ek gaan wel my resensie en onderhoud weer betrek.)

Vir my is die krag van die roman júis geleë in die distansie - met ander woorde, dat die enorme emosionele pyn afstandelik gehou word en dat sy ten slotte die teks afsluit met 'n kragtige lykdig. [1]

Wat Dokter Anoniem miskyk, is dat 'n mens twee stemme hier aantref, te wete die ouer, volwasse verteller wat die ervarings gedistansieerd weergee en sodoende juis die trefkrag van die emosionele pyn in understament weergee.

Lees is 'n subjektiewe en 'n uiters persoonlike reaksie, maar ek sou meer van 'n ingeligte sielkundige verslag van 'n psigiater wou sien as net 'n paar ek-voel-opmerkings.

Dalk iets oor die skryf van so 'n teks as heling, met ander woorde, die teks as terapie. Moderne psigoanaliste en -terapeute soos Adam Miller, gebruik letterkundige tekste om by sekere sielkundige "waarhede" uit te kom.

Miller resenseer dikwels vir die London Review of Books, maar dan insigryk en sinvol. En Miller se gesonde skepsis oor psigoanalise en sy skerp analises, maak sy werk uiters relevant. Hy sien dit ook nie as 'n wetenskap nie, maar gewoon net as 'n (lees: een) manier om by pynlike waarhede oor jouself uit te kom.

Promises, Promises (2000) is 'n lonende leeservaring.

Psigiaters en sielkundiges mag oor tekste skryf, maar dan moet daar werklik met die teks "gewals" word.

Byvoorbeeld: waarom het Valsrivier mense so ontroer? Dalk omdat die verteller / fokalisator iets onthul oor die ervaring van broederlike verlies en hoe die sogenaamde familie of gesin nie kinders kan beskerm teen die aanslae van buite nie, te wete, die ouers se politieke oortuigings wat tot gevolg gehad het dat die kinders uit die beskutte platteland moet weggaan en in 'n Engelse skool moet aanpas.

Daar is byvoorbeeld uiters subtiele passasies oor lyflikheid en die vader wat byvoorbeeld opmerk hoe maer die dogter geword het.

In 'n onderhoud met my in Die Burger merk die skrywer op:

"Vir 'n skrywer om te skryf, kan die persoonlike nie 'n leibeurt ontsê word uit die gemeenskaplike sluis van geskiedenis nie. 'n Skrywer dweil indrukke op en wring 'n narratief uit die oorloop." [2]

Sy bely ook dat sy die diep kreet van smart op 'n beheersde wyse wou weergee. Maar wat sy uiteindelik self bely, is nie werklik tersaaklik nie. Die roman doen dit. Sy besweer pyn en sy doen dit met 'n streng hand: afstandelik, soms met humor, met 'n vervlegting van waarheid en fiksie, prosa en poësie.

Die anonieme psigiater skryf ook:

"Die karakter Dominique beskryf haarself ook op 'n baie passiewe en amper afgestompte manier, asof sy nie 'n stem in die familie en lewe gehad het nie, byvoorbeeld die episode waar sy seks het met die doktersvriend van Paul. Dit laat die leser met dieselfde gevoel van hartseer en eensaamheid wat sy en haar broer moes ervaar het."

Kennelik het hy nie raakgesien dat die broer die hele familie oorheers het nie? Dat hy 'n soort wonderkind was en dat sy eers ná sy vertrek 'n eie stem gekry het.  So gelees, neem sy as't ware sy kreatiewe energie oor en verlos die hele familie van hul pyn.

Om te gil, kan jou leser doof maak. Die sagter, onderstellende manier van skryf, het 'n altyd groter impak.

Endnotas:

Hier is my resensie wat in Beeld en daarna op my blog verskyn het (Dominique Botha - Valsrivier, 2013):

[1.] Valsrivier deur Dominique Botha is ‘n prosateks wat beweeg tussen die grense van vertelling en poësie. Dit is ‘n hártgrypende verhaal wat die jeug van die verteller en haar sibbe in oënskou neem. Die leser begin die verhaal lees van die verteller / fokalisator (wat dieselfde naam dra as die outeur) en ‘n stuk Afrikaanse verlede ontplooi hier voor die leser se oë. Die lewe op ‘n plaas in die Vrystaat en hoe jong kinders reageer op ouers, skool, politieke verskille, diereslag, onreg – en wat nog word beskryf.

Dit behoort tot die genre waarin Carson McCullers en Truman Capote so uitgemunt het: die ouer verteller wat terugkyk asof hy/sy steeds die kind is wat alles beleef het. In hierdie soort vertelling skuif die ouer persoon en kind  se waarneming ooreen en die verlede word herbesoek. Die besonderhede van Valsrivier val die leser onmiddellik op  en die verhaal, wat as ‘n elegie beskryf word, is in die werklikheid gebed. Die sirkelgang en sluiting is opvallend. Hierom is tyd so belangrik in die roman (198):”ons reis deur die skyn van tyd” dui op die feit dat emosionele ervarings nooit weggaan nie…

Inderdaad laat die gees sy eie grafskrif, soos die motto van Paul Botha lui. En hy is die sentrale fokus van die verhaalopset: die dag nadat hy sy polse gesny het, word die droogte gebreek. Met die suster wat begrip het vir sy lot (146): sy sien hom nie as lafhartig nie.

Die roman begin met ‘n waarskuwing dat die suster te na aan die water (die onbewuste) staan en op die keerwal vrot die oog van ‘n dooie karp weg (7). Ook haar ellendes word weergegee (soos die ervaring van menstruasie en lyflike aftakeling), maar uiters subtiel vertel. Haar kat, Lietjiebet Lotriet, speel in op ‘n kinderverhaal van ‘n brandmaer weeskind (52). Hoe kinders op skool geïndoktrineer is (soos die Voortrekkerbabas wie se koppies teen wawiele stukkend geslaan is en die kommunisme), word goed weergegee (63). Die vreemde skool in Natal het wel wonderlike humoristiese oomblikke soos die Juffrou wat vir haar sê sy moet haar trane spaar vir werklike ellendes!

Daar is ‘n besoek aan Middenspruit by ‘n digter, Antjie Krog, wat raadgee vir die jong belowende Paul. Ons sien sy talent raak in die ingebedde tekste wat die suster vir ons gee.

Die verhaal word hortend, rukkerig vertel, want die fokalisator skryf oor haar broer en algaande besef die leser hoe hy “anders” was. Van jongsaf opstandig, slim, ‘n skrywer – en veral ‘n teëprater, met die suster as sy fiksionele biograaf of optekenaar. Dit is uiteindelik háár kreatiwiteit wat oorwin sodat die elegie verander in ‘n laus. Soos daar ‘n glasbottel met ‘n boodskap ontdek word in ‘n muur, so maak die leser die geheime boodskappe mee van hierdie roman (120).

Die impak van die politiek van die tyd en die broer se opstand daarteen, bring die Weermag en die ou-Suid-Afrika sterk na vore. Die ouers se linkse politiek word eweneens ‘n silwer draad wat regdeur die roman loop. En die emosionele verwoesting wat die ou Afrikaner politiek tot gevolg gehad het.

Dis beeldskoon, hierdie debuut. En op die agterblad reken Breyten Breytenbach dat moed nie normaalweg gereken word as ‘n literêre kenmerk nie. Hier is dit wel die geval. Dis ‘n boek oor die “vals” geheime van die geheue en hoe elke leser verwond is deur jeugervaringe.

Paul waarsku:”Jou herkoms brandmerk jou vir ewig. Skryf is ‘n oorblyfsel van waar jy jouself bevind. Van hoe die seisoene verloop.” (150).

Lees dit. Dis ook as e-boek beskikbaar.

Die boek eindig met ‘n beeldskone vers:


tyd rol en sloersoos ‘n muntstukkie gegooiop die kim van die naderende dag
jy het my altyd vooruit geloop


[2.] Onderhoud: Om te skryf is om afgesonder in 'n eggokamer voor 'n spieël te sit 

Joan Hambidge gesels met Dominique Botha, skryfster van Valsrivier

1. Baie geluk met jou aangrypende roman. Een van die belangrikste aspekte van die boek is dat jou broer se lewensloop en uiteindelike dood die tema is vir hierdie boek. Jy “voltooi” as’t ware sy kreatiewe impuls wat gekortwiek is deur sy dood. Kommentaar.

My boek is 'n protes teen vergetelheid. Die behoefte om die dood op sy plek te hou lê diep in die menslike natuur. Deur iets tasbaar agter te laat is 'n weerspreking van die "Paul-shaped hole in the universe", om die treffende doodsmetafoor uit Arundhati Roy se God of Small Things te leen. Nou bestaan die buitelyne van die verdwene mens en van sy gedigte op papier. 

Met nabetragting sou mens kon sê dat die kortwieking van my broer se kreatiewe impuls uiteindelik vleuels gegee het aan my eie stem. Ek neem die vertelling oor. Baie versigtig in die begin, maar soos die verhaal ontplooi, so beweeg die susterstem geleidelik weg uit die skadu van die ouer broer se talent asook uit die skadu van verlies.


2. Daar is herkenbare mense in die roman – soos onder andere Antjie Krog en jou familie. Hoe voel jy hieroor of dink jy die roman fiksionaliseer die gegewe genoegsaam?

Ek het in 'n innerlike tweestryd vasgeval oor my reg om sulke private geskiedenis op so 'n publieke manier te gebruik. Hoe verdiskonteer mens die wrywing tussen feit en fiksie? Is dit nie maar net 'n manier om 'n kombers te gooi oor die intieme vervlegting van verbeelding en geheue nie? Of die teks as verhaal of verhandeling ingedeel word is eintlik 'n ronddansery wat nie die kompleksiteit van 'n skrywer se etiese uitdagings verskraal nie. 

My oorgang van memoir tot roman was ook deels as  gevolg van 'n groeiende besef dat die volkome waarheid nie haalbaar is nie. Om 'n herinnering op te roep is ook om 'n eerste daad van fiksie te pleeg.  Skryf is ook 'n dissipline waardeur mens geleidelik van die sin van uniekheid van die self verlig word; 'n bevrydende gestrompel in die rigting van nederigheid. Nogtans mag lesers die mededeling kyklustig op sigwaarde interpreteer, want hulle lewe nog met die gewig en las van 'self'. Vir 'n skrywer om te skryf, kan die persoonlike nie 'n leibeurt ontsê word uit die gemeenskaplike sluis van geskiedenis nie.'n Skrywer dweil indrukke op en wring 'n narratief uit die oorloop. 

Ek het probeer om die gebruik van intieme familie geskiedenis met integriteit te benader, asook die herkenbare mense met eerlikheid en grasie te beskryf, en hoop dat die leser dit sal oordeel as 'n metafoor met 'n breë weerklank, verby die persoonlike gegewens van die verhaal.


3. Die boek lewer kommentaar op tyd en die boek is in ‘n siklus geskryf. Die begin en einde sluit bymekaar aan. Dink jy die onbewuste is ‘n soort tydlose ruimte waarin alles vir ewig geberg word?

Ek dink die onbewuste is 'n onveilige stoorplek met sy eie skeppende drange. Ons onthou op maniere wat ons wil onthou, merendeels in diens van die ego as noodwendig in diens van die waarheid. 

In jou resensie oor my boek trek jy 'n vergelyking tussen water en die onbewuste,  'n raakvatting wat ook in die titel Valsrivier weerspieëling vind. Die titel is 'n toespeling op die naam van die rivier wat deur die familieplaas vloei, met 'n verdere dieperleggende betekenis. Paul se groot literêre held Eugène Marais het geskryf oor die diep rivier, die donker stroom, wat  gesien kan word as 'n verwysing na sy eie stryd met morfienverslawing, asook die donker keersy van die skeppingsdrang, wat beide lewensgewend en doodsgevaarlik kan wees. Soos die siklusse van water wat kom en gaan, so maak die geheue binne die kontoere van die onbewuste. Niks is standhoudend nie.  Digters en skrywers is die watersoekers wat verborge strome moet opdiep.


4. Ek dink die begrafnistoneel is so goed beskryf. Hoe lank het jy aan hierdie teks gewerk en was dit deel van jou Kreatiewe Skryfskool-portefeulje aan Wits? Wie was jou mentor en hoe voel jy oor skryfskole?

Ek het ongeveer 3 jaar lank gewerk aan die teks. Leon de Kock, as hoof van die skryfskool by Wits het my baie aangemoedig, en toe onder verdere leiding van Gerrit Olivier en die res van die MA-groep het my boek  geleidelik gestalte gekry. Om te skryf is om afgesonder in 'n eggokamer voor 'n spieël te sit.  Skryfskole bied belangstellende lesers, kritici en sperdatums aan. Dié is van onskatbare waarde.

Die slot van die boek het eers na die afloop van die kursus opgewel. Ek dink dit het ontstaan uit 'n behoefte om 'n diep kreet van smart op 'n beheersde wyse vorm te gee en te besweer. 


[Hierdie onderhoud word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Louise Viljoen - Die mond vol vuur: Beskouings oor die werk van Breyten Breytenbach (2015)

$
0
0


Louise Viljoen - Die mond vol vuur: Beskouings oor die werk van Breyten Breytenbach. Sun Press, 2015. ISBN 978 1 920338 83 1.

Resensent: Joan Hambidge

Louise Viljoen het ‘n belangrike studie oor die werk van Antjie Krog geskryf en sopas het daar by Sun Press ‘n uitgebreide studie verskyn oor die werk van Breyten Breytenbach, ‘n voorste digter. Breytenbach is ‘n verwikkelde figuur om aan te pak: hy is sowel openbare figuur as uiters private digter wat oor die dood en liefde dig; hy is skilder en woordkunstenaar; hy is dramaturg, romanskrywer, optekenaar, ‘n verkleurmannetjie …
Ook skryf hy onder verskillende name of konstruksies, onder andere Buiteblaf (die hond en voël is bekende  gestaltes in sy werk). Die titel van Viljoen se studie is ontleen aan die versamelbundel Die handvol vere (1995) en “die mond vol vuur” soos die vertalings van Afrikaanse digters na Engels wat verskyn onder die titel In a burning sea (Protea) aktiveer die enorme kreatiwiteit van hierdie digter. En dit verwys na die paradoks immer wat aanwesig is in sy digkuns.

As Zen-digter en beoefenaar van die Surrealisme tot die digter van die semiotiese ontginning van taaltekens soos (‘yk’) tot digter wat telkens beeldend terugkeer na ou nostalgiese temas. Dit is tereg ‘n monumentale oeuvre – soos Viljoen uitwys.

Viljoen bundel artikels wat oor ‘n lang tydperk verskyn het en so word hierdie teks dan ook ‘n argief van die ontwikkeling van die toepassing van letterkundige teorie hier te lande. Daar is tans byvoorbeeld ‘n groter klem op ‘n Afrika-bewussyn en in die hoofstuk “Die naam van die digter”, behandel sy die gebruik van eiename in sy poësie. Hier verwys sy dan na die tronkwerk en die verskillende personas waaragter die digter skuilgehou het. Dit gee haar dan die geleentheid om Derrida (en Culler) in te span oor die kwessie van vermenigvuldigende betekenisprosesse (5) en hoe die leser met elke lesing  ‘n ánder betekenis kan raaklees. 

In die afdeling “Die digter en sy vaders” behandel sy die kwessie van vaderfigure in sy digkuns. God-die-vader en digterlike vaders kom hier aan bod. As leser betrek sy ook die outobiografiese dimensie, weliswaar met omsigtigheid en dekorum, wanneer sy byvoorbeeld kyk na wie “oubaas “ kon wees in die gedig “’n brief vir hulle vakansie”(33). Henning Snyman se analise van hierdie gedig in Mirakel en musebly voortreflik.

Vir my is die afdeling oor “Die digter in Afrika” opwindend, omdat ‘n mens hier ‘n nuwe blik op die digterskap vind. Een van BB se digtersname is immers Jan Afrika en sy werk by die Gorée-instituut in Senegal dui op ‘n Afrika-betrokkenheid. Die aansluiting met Afrika-opvattings oor voorvaders, die gebruik van die masker én die problematisering van grense tussen kunswerk en leser (‘n mens dink hier aan kuns as allemansbesit), bied ‘n nuwe leesstrategie vir die leser. Trouens, Breytenbach het nog altyd sy leser uitgedaag oor presies wát poësie is. Vanaf sy debuut tot sy laatwerk – ‘n mens dink hier aan Katalekte– is hy voortdurend besig om die betekenis en funksie van die digkuns op sy kop te keer. En al hierdie paradigmaverskuiwings vang Viljoen op.

In die afdeling “Intieme vreemdeling” betrek sy die tronkpoësie, waarskynlik van sy mees ingewikkelde gedigte en verse waarin die postmodernistiese problematisering van grense aangespreek word. In ‘n voetnoot op bladsy 86 – wat oorloop in 87 – maak sy vir die jong navorser ‘n nuwe terrein oop met betrekking tot die betekenis van sy oefenboeke vir hierdie bundels! In hierdie afdeling wys sy dan ook op die “gelyktydigheid” wat hy met die leser wil bereik: skrywer en leser moet in dieselfde ruimte byeen gebring word sodat kommunikasie kan plaasvind. En die tegelykertydsaspek is immers die raamwerk van die geslaagde gedig wanneer “innige oortuiging” in die leser se gemoed begin werk (93).

Ook die invloed van die parodie in sy werk word in ‘n afsonderlike hoofstuk onder die loep geneem en Viljoen het al by etlike geleenthede ‘n besondere oorsig gegee van gesprek, parodie en pastiche tussen jonger digters en ouer digters, eweneens goed geboekstaaf in Poskaarte.

Binne versus buite, hier en globaliteit, liminaliteite (grensruimtes), die digter as openbare figuur, digters in gesprek met BB, uitwissing en bestendigheid word eweneens bespreek.
Dit is baie belangrike studie vir veral dosente en vir alle liefhebbers van die digter se werk.
Dit is toeganklik geskryf met tersaaklike teorie as onderbou.  Die Lacan-verwysings, my spesialiteitsgebied, is wel te oppervlakkig vir my gevoel. Die konstruksie van die subjek sou hier met meer vrug ondersoek kon word.

Die boek bevat ‘n handige register vir die navorser en Sun Press is besig om hulsef te vestig as ‘n belangrike navorsingsuitgewery gedagtig ook aan Chris van der Merwe se Die houtbeen van St Sergius.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Rapport)

Nuwe publikasie: Matriks (Joan Hambidge)

$
0
0

Die digter se poging tot lewe-deur-poësie, tot skrywende sinmaak uit wat tans gebeur en gebeur het en die ewige wordingsproses van ’n skrywerslewe kom in hierdie ryk bundel aan bod, met al die elemente wat aanhangers van ’n Hambidge-bundel verwag: Die verhouding met die ouers en familie, gesprekvoering met ander skrywers, liefdesverhoudings en hul eindes, reise na verre plekke en gedigte met beelde en bekende sterftes as vertrekpunt. En altyd ’n flink digterlike reaksie op gebeure wat die tydvak ontwrig of ontstem, veral waar dit afskeid en aflegging behels.

Joan Hambidge is een van die bekendste literêre figure in Suid-Afrika. As kritikus en resensent skroom sy nie om in die letterkundige bokskryt te klim om haar oortuiginge te verdedig nie. Sy het al ’n twintigstuks digbundels op haar kerfstok en verskeie romans. Sy is professor in Afrikaanse letterkunde en kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. In 2012 is haar bundel Visums by verstek met die ATKV-Woordveertjie vir Poësie bekroon.  (Human & Rousseau, R175)

Analepsis

Verslaaf aan die parentese, dit is ek,
wagtend op die finale punt, ook dit is ek.
Niks word ooit ópgehef, niks word vergeet,
aan herinneringe vasgebind soos jy weet.
Ons skeiding (’n soeke na rus) word ’n kommapunt.
Eer ek opnuut begin, tel ek sillabes, dalk ’n amfibrag?
Anadiplosis? Herhaling, liewe leser, my knelpunt.
Geen Pindarus, geen anti-strofe, net ek wag.
Ek is net dit: aan die parentese verslaaf.

(Uit: Matriks. Joan Hambidge)

Viewing all 819 articles
Browse latest View live