Quantcast
Channel: WOORDE WAT WEEG
Viewing all 819 articles
Browse latest View live

Reisrubriek | Die ietermagô | 2020

$
0
0

Dinsdag 14 April 2020 | Dag 19

Vandag verwyder ek en my buurman die geut wat gevaarlik oorhang. Ons lees dat Frankryk se inperking verleng is tot 15 Mei.

Luide musiek van die oorkantste blok irriteer.

In haar bundel Van vergetelheid en van glans wat in 1978 verskyn het, skryf Wilma Stockenström ‘n gedig wat Freud as Unheimlich of uncanny sou beskryf.

Die puik gedig wat nou ‘n nuwe betekenis kry in die lig van die pandemie wat die aarde getref het, lui so:

Die oorwinning van die ietermagô

Goud die oorwinning van die ietermagô,
geboen tot blits en verweer, en gebal,
so rondomtalie geskub, die wilskrag
teen kwes en die lomp, kantelende val.

Sodat hy blydskap dans teen die dood,
die ietermagô, met snoetjie vooruit
gesteek en stert ‘n roerlose sleep,
‘n swaaiende verset teen tem en buit.

Sodat hy glinsterend ‘n agterpootdans
wiegelend trap en die armpies rek
om die son te gryp in ‘nvreugde
wat deur tot anderkant die jare strek.

Op hierdie meesterlike vers skryf ek ‘n palinode of teensang:

Die oorwinning van die ietermagô

vir Wilma Stockenström

Goud glo die oorwinning van die ietermagô?
Hierdie manis pentadactyla wat jy lof toeswaai
met sy geboende, geskubde lyf, rondomtalie
diehereweet, oor ‘n voleindige, totale aardbol.

Hy dans die dans van die dood vooruit
en sleep ‘n virus saam met sy agterpootdans
wiebelend saam met ander ye wei,
hierdie pangolyn, ‘‘n machocho magogwe:

vir sangomas helaas nie meer ‘n gelukbringer nie;
almal staan nou op hul agterpote oor ‘n ietermagô.

Machocho magogwe is Tswana vir machocho(mier) en magogwe (ratel). Die dier word gekoppel aan swart bygelowe.

En al die bespiegelinge oor wát die beginpunt van die virus was, word herlei na ‘n 
mark in Sjina en die eet van vreemde diergeregte (Jury still out on what species caused coronavirus pandemic outbreak. Besoek 14 April 2020).

Laasnag word Habbakuk gelees. ‘n Spanning tussen ‘n geloofskrisis en uiteindelike aanvaarding van geloof. Die teoloog D.F. O’ Kennedy sien die struktuur soos volg:

1:1 (Opskrif); 1:2-4 (Eerste klag); 1:5-11 (Antwoord van Jahwe); 1:12-17 (Twee­de klag); 2:1-20 (Antwoord van Jahwe); 3:1-19 (Habakuk se gebed).

Hoekom, wil Habbakuk weet, word ongeregtighede nie gestraf nie en gaan Juda onverpoosd voort met hul oortredings? Babilonië sal hulle straf waarop die profeet wil weet: waarom moet mense mekaar straf? Waarop God antwoord dat ook húlle gestraf sal word.

Ten spyte van die beproewinge, sal Habbakuk nogtans jubel.

So klink dit in Die Bybel 3: 17, 18:
Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie - nogtans sal ek jubel in die Here, ek sal juig in die God van my heil.
*

Dit was natuurlik die titel van ‘n boek met essays in 1977 van Audrey Blignault, ‘n voorste begeleier van boeke. Elize Botha het haar as ‘n voorste essayis beskou.

Twee dinge onthou ek:

* ‘n essay waarin sy skryf oor ‘n vrou wat vra dat sy eendag onderstebo begrawe moet word sodat sy die wêreld só beter sal kan verstaan,

* en haar kundige besprekings van sowel Patrick White as Saul Bellow wat my ‘n lewenslange bewonderaar van beide gemaak het. Elke jaar herlees ek ‘n roman van Bellow. Hierdie jaar sal dit Herzog wees.

Martin Amis beskou hom as die grootste Amerikaanse romanskrywer, ofskoon Vladimir Nabokof verminderend oor hom was. (Bellow is gebore in Kanada, maar Chicago word sy vesting.)

Die briewe tussen hom en Philip Roth, die ander uitstaande Joodse romanskrywer, is ‘n lafenis vir die siel. Vol humor, bitsighede, kruisverwysings en hoe belangrik vriendskap uiteindelik is vir alle mense.

Herzog is die verhaal van Moses E. Herzog wat verbeelde briewe skryf aan bekendes en familie in sy krisistyd. Die roman speel in die sestigerjare af en ondersoek die impak van ‘n egskeiding, sosiale ongelykhede en ‘n middeljare krisis. Sy lewe as skrywer en akademikus is aan’t kwyne. Huwelike is op die rotse; kinders bly by die moeders.

Een vinjet sal hierdie leser altyd bybly: hoe hy as kind seksueel gemolesteer is. Dit word subtiel, uiters subtiel in ‘n terugflits weergegee en eers ‘n paar bladsye later tref dit jou tussen die oë.

Hy het ‘n wye register: die absurde en platvloerse tot slim verwysings. Met ‘n boeiende verhaal.

In een van die romans herinner die verteller hom aan ‘n man wat ‘n hoerhuis besoek. Wanneer hy sy broek aftrek, fluit die gesellin vir hom waarop hy antwoord:

“Madam, I come to bury Caesar, not to praise him.”

En Bellow as verteller onthou dit as ‘n kindergrap en dis juis hierdie mélange van style wat hom so groot maak.

Verskeie kritici lees Herzog as ‘n outobiografiese analise van sy lewe.

Iewers spruit ‘n roman uit eie ervarings en belewenisse, maar word verhef deur plot en struktuur in verhaalvorm. Anders was almal se lewens publiseerbaar.

Maar hierdie nuuskierigheid word juis verder aangewakker deur skrywersonderhoude.

FMR speel. En daar klap mense weer hande. Dis 8 nm.

Hierdie klein ritueel begin nou steurend raak.


Woensdag 15 April 2020 | Dag 20

In die nag ‘n troebel droom: ek verpas ‘n vlug en al my reisgenote het vertrek. Sonder my. Soos dit maar gebeur in hierdie soort onrustige droom word ‘n mens tog weer wakker.

Die dag begin moeilik. Ek wonder wanneer sal ‘n reis na die buiteland my weer beskore wees. Ek onthou hoe ons op ‘n oujaarsaand in 2008 afkyk op mense wat in Hong Kong in gelid beweeg oor die straat - met polisiemanne wat toue oop- en toemaak. ‘n Uiters gedissiplineerde samelewing. Met min ruimte na buite. Daarom is die geboue hoog: heuningkoekgeboue op elke stukkie grond om die maksimum te benut.

Hong Kong

Op ‘n hoogste gebou
in Hong Kong
laat val ek
‘n orgidee
in Hong Kong
op ‘n hoogste gebou
val ‘n orgidee
soos ‘n mens
se soektog na ‘n brandtrap
ná illusies verloor is
soos die blare van ‘n orgidee
een vir een afgepluk
soos op ‘n hoogste gebou
in Hong Kong
(met woonstelblokke
saamgepers nes die blare
van ‘n orgidee)
amper ‘n simbool.

(Uit: Visums by verstek, 2011).

Hoe roep mense nie nou na mekaar nie? Woordeloos en in drome is daar ‘n netwerk van uitreik en kontak.

Hoe moes dit wees om soos Salman Rushdie vir lank in ballingskap te leef tydens die fatwa? Word skryf dan belangriker as publiseer?

*

Die Klaagliedere van Jeremia (יִרְמְיָהוּ) is waar die Groot Boek oopval. Dalk omdat die tydperk van inperking verleng is?

Dit is die 25e boek. Jeremia is een van die groot profete saam met Jesaja, Daniël en Esegiël.

Dit is ‘n teks van klaagsange - in die vorm van liedere wat die lot van die mense betreur wat in ballingskap weggevoer is. Daar is sowel melancholie as hoop in hierdie teks. Jeremia is vervolg en uiteindelik verban na Egipte.

TT Cloete publiseer in Allotroop (1985) die gedig “woordeskat van jeremia en sefanja”.

In 1989 publiseer die einste Cloete ‘n belangrike artikel oor die Afrikaanse poësie en die Bybel: Die Boek wat laaste uitgepak word: Oor die Bybel in die Afrikaanse digkuns.

Hy skryf oor die impak van die Bybel op alle digters, religieus en nie-religieus.

Cloete skryf: “In Van Wyk Louw se “Die swart luiperd” staan daar hierdie pragtige beeld van die wind:

Die eerste nag het ek geween
toe die geel oë na my kyk:
dat al wat Goddelik is, alleen
en magteloos is en rugwaarts wyk,

en in ‘n ou landskap huis
van swart rots en vroeë see
waaroor die magtiger sterre kruis
en die vierstreekse winde vee

Hierdie vierstreekse winde kom uit Jeremia 49: 36, met sy vier winde uit die vier hoeke van die hemelruim:

Ek laat die vier winde
losbreek teen Elam
die winde uit die vier hoeke
van die hemelruim” (10).

Louw se taal is Bybels en sy beeldeskat Bybels, meen Cloete verder.

En dan is daar natuurlik die grootse Cussons waarna Cloete ook verwys:

Christ of the burnt men
(Thomas Merton)

Jy sal my ook al hoe meer wen, glimlaggende
skerts-oog blink-oog Christus wat my vervaarde jare
op jou afstand gadegeslaan het: jy het
jou hande nie tóé uitgesteek toe ek
jou sengende wonde aan my lyf ontvang het nie
maar fel jou kruis geteken oor my, in hand
en romp en hoof, en deur die beswyming
onder druppende bloedplasma- en soutwatersakke
kom skyn voor my met net die trekking van ‘n glimlag
van uiterste pyn om die mondhoeke, jou oë
blink van ‘n verskriklike akkoord.
En ek begryp, jy het my geteken vir die avontuur
van jóú, ek wat vuur bemin en altyd waaghalsig was –
– O wat is die brand in brein en hart wat brandender brand
as die vlam aan die lyf en wat gaan gloei in klip en sand
onder my eenvoetig-springende begrip agter jou
ságsinnigheid aan?: Nee, iets heerlikers: as jy eindelik
omdraai met oë wit en stip en ver en skouers gemantel
met ‘n verwoede en stormende son: o my kosmiese Christus:
drie-en-dertig jaar verdoesel in die klein en donker vlees
wat jy in een nag oopgevlek het om jóú vir my te bevry
opdat ek jou raaksien, raak weet, raak het, en nog wag jy
dat ek moet sê, heeluit moet sê: gryp my hande dan,
amper sonder vingers vir jou: kundige timmerman.

Cloete se artikel was oorspronklik ‘n openbare voorlesing van die CB Powell- Bybelsentrum, Universiteit van Suid-Afrika op 4 Julie 1988.

Hoeveel digters gebruik nie bewustelik of onbewustelik verwysings na hierdie boek nie? ‘n Mens lees byvoorbeeld in Breyten Breytenbach geweldig baie verwysings na die Bybel.

Gaan lees gerus Helize van Vuuren se skitterende artikel oor sy laatwerk (“’n Almanak van klippe”/ Laatwerk en Breyten Breytenbach se Die beginsel van stof (laat-verse, sprinkaanskaduwees, aandtekeninge). Besoek 16 April 2020).

Beginsel van stof aktiveer immers die bekende gedagte:

Uit stof is jy gemaak en tot stof sal jy terugkeer.

© Joan Hambidge


Reisrubriek | Donna en Seinfeld | 2020

$
0
0

Donderdag 16 April 2020 | Dag 21

Die dag begin vroliker as gister. Donna Summer se vertolking van “MacArthur Park” dreun deur die huis.

Natuurlik is MacArthur Park ‘n lied van Richard Harris van 1968.

En “Could it be magic” behoort natuurlik aan Barry Manilow wat dit heerlik saam met Donna op-kamp.

Donna is in dieselfde tyd oorlede as Fischer-Dieskau wat bepaald ‘n andersoortige duet impliseer:

Donna & Dietrich

Wat vir ‘n tragi-komedie
tog dat Donna Summer
en Dietrich Fischer-Dieskau
bykans gelyk die hemelpoorte bestyg?
Bid jou dit aan:
disko en Dieskau.
Die een sing Could it be magic
voor ‘n malende menigte
en die ander An Sylvia
in gewyde stilte.
Ja, die geeste word beweeg
en Donna wis nie: 
hy was die engel van ‘n leeftyd
en sy die bad girl.
Stel jou voor:
‘n duet met Donna,
terwyl die engele in die agtergrond
in uitbundige klanke
en draaiende, sketterende ligte
shu-bi-du-ba
shu-bi-du-ba…
‘n bariton en ‘n disko-queen,
Schubert en sashay…
Immer tog
wie en wat
is en was Sylvia
dat die Hemele haar bly
bewonder en vereer?
Donna en Dietrich
dans saam 
auf Himmelsgunst und Spur:
beide ‘n wonderwerk.

(Uit: Meditasies, 2014).

O vrolikheid op note.

Groot bewonderaar van haar. Sy is oorlede in 2012 in Florence aan longkanker.

En laat ons nie vergeet hoe Anne Sofie von Otter, die groot Sweedse mezzo-sopraan, ABBA se “The day before you came” vertolk nie!

En haar konserte in Brussel is gekanselleer weens die pandemie.

*

Oor die radio verduidelik ‘n traumaberader dat as jy angs ervaar in hierdie tyd, moet jy van 100 af terugtel. Dit sal jou brein fokus. En plaas al jou probleme in koevertjies: finansies, werk, verhouding ... sodat jy presies weet hoe om dit te hanteer.

Laatmiddag skakel ek FMR af en wens hierdie pseudo-analiste en voorspellers wil eerder stilbly. Speel liewers musiek as om so te kwetter!

*

Van 1989 tot 1998 was Seinfeld met ons. Hoe wonderlik om nou hierdie reeks weer te kyk! Larry David en Jerry Seinfeld bekyk die daaglikse doen en lates van vriende in ‘n apartment in Manhattan op die Upper West Side. Seinfeld is hier in gefiksionaliseerde weergawe van homself met sy vriende George Costanza, Elaine Benes (die eks) en Cosmo Kramer, die ongepoetste buurman wat tydig en ontydig inval.

‘n Laspos vriend wat opdringerig is en nie nee vir ‘n antwoord wil vat nie, analiseer skuldgevoelens wanneer ‘n mens ongeskik is met mense wat jou ruimte binnedring.
‘n Ontmoeting met ‘n nuwe vrou en Seinfeld wat nêrens kom nie, skep humor.

‘n Mens kan identifiseer met die situasies. Dis eerlik en dus waarheidsgetrou. Veral die een waar hy ‘n nuwe vriendin vir ‘n naweek wegneem. Die gesels droog op. In die benoude hotel (dit reën buite) kom hulle verskille duidelik na vore.

Hoe jy dink iets moet wees en hoe dit uitspeel in realiteit, is die as waarom elke episode draai.

Tereg word dit as een van die beste en mees invloedryke sitcoms nog beskou. En hoe resoneer dit nie nou met die tyd van inperking nie.

*

En in Jeremia 24 lees ek van die slegte vye en die goeie vye.

Dit voorspel die toekoms van die volk: want die slegte vye is so sleg dat dit nie geëet kan word nie; die goeie vye is dan ‘n beeld van die gelowiges. Relevant is dit dat konkrete beelde gebruik word om ‘n boodskap oor te dra, net soos in die Nuwe Testament se gelykenisse.

Jeremia se klaagliedere handel oor die val Jerusalem. Teoloë sien hom as ‘n voorloper vir Jesus, omdat hy namens sy volk leed moes verduur.

Hierdie boek verhaal die verwoesting van Jerusalem in 587 v.C. en Jeremia se smart hieroor.

Jerusalem is in 587 v.C. ingeneem en die inwoners is gedeporteer na Babilon.

Jeremia wou in sy land bly, maar hy is deur landgenote saamgeneem na Egipte.

Dit was ‘n vlugtog en hy het nooit kon terugkeer na sy geliefde land nie. Hy is oorlede 587 v.C.

Hoveel mens is tans nie afgesluit van familie en vriende in ‘n moderne ballingskap nie? Sal hulle ooit weer kan terugkeer na ‘n vaderland? Of sal hulle net Skype en zoom met familie?

*

Ons dink ook hier aan ballinskapdigters soos Olga Kirsch wat in Israel woonagtig was. En daar is weer belangstelling in haar werk deur studies en ‘n biografie sowel in Engels as in Afrikaans.

Olga Kirsch (1924-1997)

In Jiddisj blykbaar geen woord of begrip
vir teleurstelling, verydeling, verloëning.
Desondanks moes jy in ‘n vreemde taal
‘n tweede, ongenaakbare ballingskap binnegaan.
‘n Digter kan nooit haar erfenis verloën:
“By die riviere van Babel, daar het ons gesit,
ook geween en aan Sion gedink...”
Met jou verse oor die diaspora, vervolging
die verdriet van jou mense naam gegee.
Hoeveel woorde is daar vir pyn?
Eensaamheid, illusie, verdriet, angs, kommer...
Dié kon jy opvang, stulp en bowenal vertaal
in hunkerende, ylende melodieë.

(Uit: Lykdigte, 2000).


Vrydag 17 April 2020 | Dag 22

Vandag die garage reggepak, bank toe gegaan en ‘n lamsboud vir Sondag gekoop. By die Duitse slaghuis wat genadiglik oop is in hierdie dae.

Lam met roosmaryn en gebakte aartappels en patats.

Vergete is die dae van lang, uitgebreide lunches op ‘n Sondag by die Hussar Grill in Moueillepunt.

Vandag kom die kredietkaart elektronies aan: die laaste maal was op 25 Maart in Rondebosch by die Hussar Grill.

Op 23 Maart - voor die ingrendeling – die Auberge Burgundy in Hermanus vervaard verlaat net betyds om vir oulaas werk te doen by Fine Music Radio: ‘n resensie oor Jeanne Goosen.

Gewoonlik neem dit my lank om alles te tjekkereer op die kredietstaat. Hierdie keer binne 3 minute afgehandel. All dressed up and nowhere to go ...

*

Nou lees ek Rut en Samuel. Die wonderlike verhaal en die taal van die Bybel is opvallend. Wat is ‘n efa?

‘n Efa koring het omtrent 16,5 kilogram geweeg en ‘n efa gars omtrent 13,2 kilogram, verduidelik die internet.

Die verhaal van Rut bring pynlike herinneringe terug aan ons predikant wyle W.S. Prinsloo, later ‘n gesiene teoloog aan UP, wat my in die kerk aangeneem het en ‘n boek oor Rut geskryf het.

Pieter M. Venter skryf oor die grondbesit vanuit ‘n juridiese oogpunt: Die juridiese problematiek van grondbesit in die boek Rut (Besoek 18 April 2020)

Pas uit die kweekskool kom hy aan op Standerton, ‘n moeilike dorp vól snobisme en ryk boere. My vader, ‘n ouderling, word sy mentor en help hom om moeilike situasies te oorbrug.

Beide reeds oorlede, maar tog staan hulle in my geheue ingekerf.

Ek het ‘n bundel oor my vader geskryf: Dad.

Vier

Elke week versend jy ‘n bondel
koerantknipsels, netjies geliasseer:
oor die politiek en sake van die dag,
veral boekresensies
in twee Ou Mutual-koeverte.
Agterop jou naam: Geo. Hambidge.
Toe later selfs foto’s van jouself,
(ek word jou geheuebank)
uit plakboeke, lêers, bokse
uit jou studeerkamer óórvol, geprop
met inligting. (Jou klein heiligdom, slordig).
Op een bruin foto
sit jy (ek skat jou so nege) met ‘n rugbybal;
op ‘n ander foto tussen jou ma en pa
beskut soos ‘n billets-doux.
Vir veilige bewaring in my woordkabinet.
Vanoggend verneem ek jy’s weg.
Net dit. Uit ma se geskokte mond.
Hoe snoei die dood nie alles terug
tot essensie nie?
Ek orden al my onthoue,
ontdek ‘n koevert met jou naam,
jou stem op my antwoordmasjien,
‘n brief uit die verre vreemde.
Jy het elke week ‘n bondel
koerantknipsels aan my toeversend.
Dit was toe, jý my toeverlaat...

Ag Dad,
papier is geduldig. Koeverte 
versend omgee; was ‘n posstempel,
gereeld, tussen my en jou.
Nou net dit: hierdie brief,
in ‘n finale deursigtige koevert
uit my woordargief.

(Uit: Dad, 2006).

Rut, die agste boek van die Hebreeuse Bybel handel oor die losser. Boas was ‘n losser. Hy moes die vroue wie se mans gesterf het versorg het. Die bloedfamilie – aan broerskant – is na omgesien. Die kinders en vroue se grond is teruggekry indien dit in vreemde hande beland het. Omdat hy dit moes loskoop, is hy ‘n losser genoem.

Rut trou dan later met Boas.

So is die hele grondkwessie deel van ons geskiedenis van meet af aan.

*

Laataand is dit weer Seinfeld. Slim humor. 

Vreemd dat dit nie gedateer het nie, alhoewel ons weet dis vervaardig voor 9/11 en die ellende wat nou in NY afspeel.

Daar is ‘n paar klassieke oomblikke: soos Seinfeld wat wens ons dra almal dieselfde klere soos in scifi-rolprente. Dit sal alles makliker maak.

Die ontmoeting met Elaine se pa is ‘n juweel. George komplimenteer hom oor sy skryfwerk.

“Ag daardie boek is drivel.”

“Ja ek weet.”

Maar die oomblik toe George dit sê, vererg hy hom. Tipiese skrywersreaksie op kritiek. Slim humor, aweregs, skreeusnaaks. 

‘n Ete in ‘n Sjinese restaurant en die bestuurder wat hul naam verkeerd uitspreek en dus verloor hulle ‘n tafel!

Larry David (1990–1996), die vervaardiger is al oorlede en hy saam met Jerry Seinfeld situasies geskep wat my laat opkrúl van plesier.


*

Op my lessenaar lê Luistervink van Madré Marais. 13 Stories lui die sub-titel. ‘n Belangrike debuut wat bewys dat die kortverhaal nie dood is nie, ten spyte van uitgewers se traagheid om hierdie genre uit te gee, omdat dit glo nie verkoop nie.

Vol ironie, ‘n analise van die donkerkant van verhoudings, verspeelde kanse ...

Die skrywer dra dit op aan die landskap waarin sy mens geword het (jou vlaktehemel en jou sterreveld). Inderdaad is die landskap hier ‘n belangrike aanwesigheid, soos in die kortverhale van die ou meester Hennie Aucamp.

Thys Human, ‘n gerekende literator en Riana Scheepers, ‘n kortverhaalskrywer in eie reg, prys dit aan.

© Joan Hambidge

Reisrubriek | Volmaan bo Ararat | 2020

$
0
0

Saterdag 18 April 2020 | Dag 23

Die filosoof Slavoj Žižek is dan ook eerste op die toneel met ‘n boek oor die Covid-19.

Dit heet: Pandemic! COVID-19 Shakes the World.

Natuurlik is daar diegene wat voel dit is te gou geskryf, maar hierdie Marxistiese-Lacaniaanse filosoof laat dikwels nie op hom wag nie.

Daar is helaas nie “dieper” betekenis vir die begryp van hierdie virus nie. Dit het net gebeur met ‘n muterende virus en die nuwe liefdesverklaring is natuurlik om nié aan iemand te raak nie (Marxist Philosopher Slavoj Žižek’s Book Pandemic! Covid-19 Shakes the World. Besoek 18 April 2020).

Die kwessie van verminderde intimiteit is terloops iets wat hy al vantevore aangeraak het in sy tekste. Hy is byvoorbeeld in The pervert’s guide to the cinema dikwels gefassineer deur gebrek aan kommunikasie. Hierdie 3 DVD’s kan ‘n mens telkemale weer besoek vir sy skerp analises van films.

In die digkuns is daar alreeds reaksie op hierdie pandemie, van goed tot potsierlik.

Ook hier staan mense dalk nog te na aan die impak?

Covid-19

Daardie wyse man uit die verre, verre Ooste
se tydverdryf glo om horlosies oop te draai
om agter die kap van tyd te staan soos
die ander wyse manne wat ons tyd bepaal.
Nou met te veel tyd op ons oë: O:O
waar ruimte gekoppel word aan tyd dus: tydruimte.
Waar is al die horlosies heen in dié herinnering
se terugdraai: tot voor hierdie inperking
toe alle wysers loop stilstaan het op: O:O
Wat praat daardie wyse man uit die verre, verre Ooste?

(Uit: Onder nomadiese sterre).

Die man uit die verre Ooste is die Dalai Lama wie se tydverdryf dit is om horlosies reg te maak en die wyse manne uit die verre Ooste het ons tyd bepaal toe Jesus gebore is.

En nou het alle tyd tot stilstand gekom. En hoewel die dae inmekaar en oormekaar spoel, kan jy steeds voel wanneer dit Saterdagaand is. Of Sondag.

Tyd beweeg stadig tans.

Laatmiddag roep my bure se kind uit: “Mense maak geraas.” Sy weet presies elke dag wanneer dit is.

Dan wil sy die ritueel aanskou van handeklap en fluite en ‘n Vuvuzela om die einde van nog ‘n dag te vier.

Hoe weet die voëls die winter is op pad? 

*

Seinfeld. Dit beur my so op. Ek trek nou al by derde seisoen.

Leuens, pretensie en voorgee word telkens ontmasker en hoe ervarings ‘n mens uit jou verlede bybly, word deeglik ondersoek. E.A. Poe se The purloined letter is ‘n interteks wanneer Jerry ‘n beeldjie erf van sy oupa in The Statue. George wil dit graag hê want hy sy ouers s’n gebreek as kind en dit pla hom steeds.

Kramer en George stry dan oor die beeldjie en het dan die gewone toutrekkery tot gevolg.

George wen die loot.

Maar nou vir die intrige. Elaine begelei ‘n pretensieuse skrywer uit Finland (Rava) en haar boyfriend, Ray is ‘n skoonmaker. Hy maak Jerry se plek skoon. Hy is glo ook ‘n na-uurse student aan Columbië – en ons weet dis nie so nie.

Met ‘n besoek aan die skrywer se woonstel ontdek Jerry dat sy beeldjie daar staan.

Hy konfronteer Ray in ‘n koffiewinkel wat die diefstal ontken. Hy het dit by ‘n pandjieswinkel gekoop verdedig hy.

George spring op van die ander tafel en ontmasker hom dat hy nie ‘n student aan Colombië is nie. Ondertussen het die verhouding tussen Elaine en die skrywer versuur weens hierdie aantyging. (En die sub-plot in ‘n apteek handel oor ‘n polisieman wat George, die suinigaard, in hegtenis wil neem in ‘n apteek omdat hy iets steel. Hy helaas is knorrig omdat hy by ‘n vorige geleentheid nie die regte kleingeld gekry het nie ...)

En dan die wending: Kramer swaar vermom as ‘n polisieman gaan na die woonstel en intimideer die arme student en voilà: die beeldjie word veilig terugbesorg!

En dan?

Die beeldjie word per ongeluk in Jerry se woonstel gebreek wanneer Kramer vir George ‘n klap op die rug gee en dit laat val.

Telkens is dit hierdie onverwagse-verwagse dénouement: George laat aaklige boodskappe op ‘n vrou se antwoordmasjien wat hy graag weer wil sien in The tape. Hy voel onnosel omdat sy hom vir koffie ingenooi het na 12 en besef eers nadat hy dit van die hand wys, wat koffie eintlik behels het.

Sy antwoord nie. Blink plan. Hulle sal die tapes omruil.

Sy was egter uitstedig en wanneer George en Jerry saam na haar woonstel gaan gewapen met die nuwe tape, en dit omruil sodat sy die boodskappe nie kan hoor nie, kom die knalhou: haar buurvrou het dit vir haar gespeel en hulle het geskaterlag hieroor. Sy komplimenteer hom dan vir sy geweldige humorsin! Alles alles tevergeefs.

*

‘n Mens kan gewoon die Groot Boek lees vir die ongelooflike taal. En hoe van die wyshede deel geword het van ons denke.
Prediker 1: 2 -8. Alles tevergeefs, sê die Prediker, alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs! Watter voordeel het die mens van al sy moeite waarmee hy hom vermoei onder die son? Die een geslag gaan, en die ander geslag kom, en die aarde bly vir ewig staan. En die son gaan op, en die son gaan onder, en hy hyg na die plek waar hy opgaan. Die wind gaan na die suide en slaan om na die noorde, gaan altyddeur rond, en die wind keer na sy kringloop terug. Al die strome loop in die see, en tog word die see nie vol nie; na die plek waarheen die riviere loop, daarheen loop hulle altyd weer. Al die dinge is so vermoeiend, geen mens kan dit uitspreek nie; die oog kry nie genoeg van sien nie, en die oor word nie vol van hoor nie. 

Sondag 19 April 2020 | Dag 24

Ons vier fees. ‘n Sondagmaal: skaapboud in knoffel en roosmaryn. Patats en aartappels. En ‘n Neil Joubert Malbec.

Die stad is doodstil. Hoeveel van hierdie geboue sal weer begin lewe?

*

My dag word vérder opgekikker deur ‘n brief in Rapport wat Kleinboer se digbundel as banaal afmaak. Hy is geen digter meen die vrou oor Van my beste vriende is groen pyltjies en bruin bottels.

Dit is duidelik dat hierdie aspek van my resensie haar diep in die wiek geskiet het:
In “Sunlight” word sy mond met seep uitgewas deur die vaderfiguur: my kop het gejissismy mond Jesus
Sy dink dat Van Wyk Louw se gedigte (“Vannag in hierdie helder stilte / dink ek net aan jou / oor die waat're van my rou”) ware gedigte is en gee dan vir ons ‘n banale poging wat mág aanspraak maak op bekroning (Kleinboer ’n digter? Se voet! | Netwerk24Besoek 19 April 2020).

Hierdie uitspraak is belangrik. Sy is kennelik nie bewus van die feit dat daar ‘n tyd was toe Louw se gedigte ook as problematies beskou is nie!

Boonop besef sy nie as die boodskap jou nie behaag nie, maak dit nie van die digter ‘n swak digter nie. Dit is tegnieke soos poëtiese taal, metafore, beelde, ensomeer wat ‘n digter se werk onderskei van gewone uitinge.

*

Hierdie dae is dit die tyd van herbesoek van belangrike skrywers. D.M. Thomas se The white hotel is ‘n allergunsteling en sy Ararat vang my oog.

Noag se ark (תיב  נח‎‎) is volgens Genesis die groot skip wat Noag gebou het om die sondvloed te oorleef. Daar was 8 mense op die ark: Noag, sy vrou en hulle drie seuns en skoondogters. God het hom beveel om die ark te bou sewe dae voor die vloed en dit kom dan tot stilstand op die berg Ararat.

Noag was seshonderd jaar toe die vloedwaters oor die aarde gekom het en die moderne leser weet hierdie verhaal is ‘n mite wat ook opgeteken staan in die Koran.

Hier verskyn dit as Safina Nuh (Arabies: سفينة نوح‎‎ “Noag se boot”).

Dieselfde verhaal word vertel in die epos van Zisudra.

Talle ingrendelaars ervaar tans die inperking asof hul huis ‘n ark geword het wagtend op die duif met ‘n takkie in sy bek om aan te kondig dis alles verby.

*

Thomas se roman Ararat is ‘n self-refleksiewe teks oor ‘n skrywer wat speel met historiese en fiksionele gegewens. As Russiese vertaler ken Thomas sy tradisie met verwysings na Nabokof en Pushkin in die teks. Maar Ararat is hier nie net die plek waar Noag se ark tot stilstand gekom het nie; dit is ook ‘n politieke verwysing na die Turke se aanval op die Armeniërs in 1915.

En dit het uiteraard die Turkse Nobelpryswenner Orhan Pamuk, woonagtig in New York, ongewild gemaak by sy Turkse landgenote, toe hy hulle gekritiseer het vir hul optrede teen die Armeniërs gedurende die Ottomaanse tydperk. Hy is selfs gedagvaar deur ‘n ultra-nasionalistiese prokureur Kemal Kerinçsiz en moes skadevergoeding betaal.

Nou ja, waar staan dit nou weer dat ‘n profeet nie in sy eie land geëer word nie?

Victor Surkov se verhaal in Ararat is ‘n legkaart van slim verwysings met ‘n irony’s edge (Linda Hutcheon).

In my ark is daar genoeg tyd om klassieke en belangrike tekste weer te lees. Hopelik sal hierdie ingrendeling beter boeke bied.

© Joan Hambidge

Reisrubriek | Nou spreek ons weer geliefdes aan | 2020

$
0
0

Maandag 20 April 2020 | Dag 25

Deesdae trek ek my vlugkouse aan wanneer ek deur my vesting stap. Immers op vlug SAA 000.

Vir hierdie gesuspendeerde solo-reis waar die aankoms – en die vertrekpunt dieselfde sal wees.

My drome is helder en alle sielkundiges waarsku dat die trauma van inperking inwerk op die onbewuste.

In 'n droom – iewers in Bangkok? – sit ek saam met 'n groep op 'n oop trein. Die gids wys ek moet afklim. Hy is aaklig met my.

Uiteindelik gooi hy my af – teen my sin – op 'n klein dorpie. Hier is dit so mooi met 'n pragtige strand en rustigheid omgeef alles. Hoe dankbaar is ek nie dat hy my afgegooi het nie en wanneer ek hom later in die droom raakloop, vermy ek hom.

Emosies het gedurende hierdie tyd Elizabeth Kübler-Ross se patrone gevolg van ontkenning, woede, depressie, aanvaarding en dalk onderhandeling as 'n mens kyk na al die grappe oor drank. Selfs een met 6 Lions wat verruil kan word vir 'n jagplaas in Limpopo – met die waarskuwing: geen kansvatters (Five Stages Of Grief - Understanding the Kubler-Ross ModelBesoek 20 April 2020).

*

Seinfeld is absoluut wonderlik. Opbeurend. Slim. Hilaries. Die verwysings is briljant. In 'n laundromat word die eienaar beskuldig van diefstal. Daar word gevra of hy 'n James Bond is, of 'n laundry with a licence to steal?

George eet met 'n pretensieuse dame met Japannese stokkies in haar hare. Hulle verhouding is op 'n einde.

“Wat pla jou?”, vra sy.

“Dat jy pretensieus is en stokkies in jou hare draai. Ek sou 'n vurk verkies het.”

Die verskille tussen manlike en vroulike kultuur word deur Elaine mooi opgesom oor boeliegedrag:”We just tease girls and they develop an eating disorder!”

Intertekstualiteit maak ook van hierdie program iets waardevols. Jerry is verontrus wanneer hy besef die nuwe meisie - 'n swak skilder - steel uit 'n drama van Neil Simon. En in 'n ander voortreflike vinjet (in dieselfde een oor 'n skilder met Catherine Keener as die skilder) is daar twee “kunskenners” en postmodernisme word heerlik afgeskil. Dit speel af in The letter (Seisoen 3).

En Keener wat 'n sterk aktrise is – sy was o.a. in Being John Malkovich, Synecdoche, New York, en Capote as Harper Lee – laai hierdie episode met besondere gravitas. Die kyker herken haar en maak dus assosiasies met haar ander vertolkings.

Die ander aspek is die metakommentaar wat Seinfeld lewer op komediante as neuroties en selfbehep. En, nota bene, hier word heerlik die spot gedryf met Jode en Joodse kultuur. Hulle kom weg daarmee, want die vervaardigers is Joods.

In The Limo (Seisoen 3) speel Jerry en George op die lughawe asof hulle die O'Brien’s is vir wie daar 'n naambordjie flikker. Min wetende word hulle slagoffers van 'n neo-Nazi gedoente sou word. Die einste O'Brien moet die aand 'n lesing gee en die grappe rondom Joods en Aries is só over the top.

En die verskille tussen Skotte en Iere word ontmasker en ons leer weer eens hoe mense se kulturele vooroordele funksioneer.

Die Amerikaanse eetgewoontes word eweneens gedekonstrueer – en vaderland: George se maniere som dit alles op: 'n gepraat met 'n mond vol kos.

Swart humor is hier dikwels. Wanneer die ou tante op die boonste vloer sterf, word die aakligheid so opgesom: sy was sonder haar pruik.

*

Die letterkundige bedryf gaan aan. The Boys of Bird Island word tereg onttrek; die Book Lounge vra vir finansiële ondersteuning deur net 'n voucher aan te skaf; ons neem kennis van aanlyn-bemarkings van boeke; 'n resensent resenseer 'n boek twee keer: een keer vir Media24, die ander keer in Die Vrye Weekblad.

Niks verkeerd met twee resensies uit verskillende blikhoeke deur dieselfde resensent nie; net problematies as 'n mens gespreksgenote is op 'n internet-forum. Resensies is nooit objektief nie, maar só 'n oorbeligting laat die leser wat buite die letterkunde staan (en net lees vir die plesier) frons ...

Selfs Crito het gevra of dit wys is?

'n Resensie wat uitasem-van-bewondering is eerder as neutraal of gedistansieerd, berokken dikwels meer skade as daardie gevreesde negatiewe een. Wat die tyd wel uitsif.

*

Vanaand lees ons die Psalms en al die berusting wat dit oordra. Die poëtiese taal is vir my aangrypend en wanneer ek die nuwe vertaling optel, is al die poësie weg.

Soos biltong sonder vet, koffie sonder kafeïne.

Gee maar vir my soos 'n hert in dorre streke, dankie.

Ons lees van die kaf wat die wind verstrooi en die bome wat in waterstrome staan.

Ons dink aan die digter Hans du Plessis se hartgrypende Griekwa-Psalms. Hier praat hy met Psalm 23.

Dinsdag 21 April 2020 | Dag 26

Vandag is dit opruim-dag. Matte stofsuig. Oefeninge. Die verlange na die gym en swembad is oorweldigend.

Maar nou ja. Mat-oefeninge en stofsuig glo goed vir die rug. Vee glo soos 'n strekoefening.

Perec se LifeA user's manual staan op die rak, daardie imposante roman oor lewe in 'n woonstelblok wat wag vir 'n herbesoek.

*

Die Psalms is lieflik in hul gedronge, poëtiese taal. Suiwerheid. In die Grieks Psalmoi; in Hebreeus Tehelim תהילים. Letterlik: lied.

Hierdie liedere het oor 'n lang tyd ontstaan en is gebruik tydens in Israel tydens godsdiensbeoefening en later in kerke regoor die wêreld.

Daar is dankpsalms, klaagliedere, lofliedere én leerdigte.

Hierdie boek is in vyf liedversamelings ingedeel: Psalm: 1-41, 42-72, 73-89, 90-106, 107-150.

Daar is dus 150 psalms en dit is deur verskillende digters (met Dawid as een) geskryf en Psalms 119  is die langste een, 'n alfabetsgedig of akrostikon.

Hierdie boek heet die psalterium of psalter. (Hoe jammer my studies oor hierdie boek staan op kantoor.)

Ons dink aan een van die mooistes: “Selfs vind die mossie 'n huis en die swaweltjie 'n nes vir haar, waar sy haar kleintjies kan neerlê ... “ (Psalm: 84:4).

Uit dieptes gans verlore my aller-gunsteling. Ek onthou hoe ek en die digter I.L. de Villiers, 'n vriend en fantastiese digter, dit een aand vir mekaar oor die foon gesing het.

Hier is Totius dan:

Uit dieptes, gans verlore,
van redding ver vandaan,
waar hoop se laaste spore
in wanhoop my vergaan;
uit diep van donker nagte
roep ek, o Here, hoor,
en laat my jammerklagte
tog opklim in u oor.


En hierdie een vir is Pater Sakkie saam met Elisabeth Eybers, 'n voorste beoefenaar van die distigon:

Wederom

Vir I.L de Villiers

Die eerste keer leer ek jou ken
in ‘n geskifte blou verseboek:
die dominee op huisbesoek.

Toe, later, sien ek jou tersluiks
op ‘n loom namiddag in ‘n hotel
waar jy sonder eerbied die hof hou.

Die derde keer beleef ek jou
by die erediens van Sheila Cussons –
in ‘n ryk geëmbosseerde toga.

Gister sien ek jou, met ‘n pers hemp
en swierig bypassende das, waarop
jy, per abuis, ‘n druppeltjie mors.

Un coup de chapeau, roep die Franse dit.
En ek haal my groen verbeelde hoed af
vir ‘n manjifieke digter en vriend,

wat van hierdie gegewe ‘n volmaakte,
rymende tersine of distigon sou maak!

Vervreemdeling en Van Jerusalem tot Johannesburg was bundeltitels van hom.

*

Totius se gedigte staan steeds in ons kanon soos die werk van Eugène N. Marais en Leipoldt saam met ander ouer digters wat ons taal gevestig het.

Totius se lykdigte oor die dood van sy kinders is klassieke lykdigte, nes sy ars poeticas. “'n Koue gril deurhuiwer my”, dig hy. Onder die religieuse verse is daar opstand oor God wat sy kinders van hom weggeneem het. Jare terug 'n besinning oor hom geskryf:

Totius (1877 - 1953)

Iets soos opstand, soos woede
vlymskerp verwoord. Die breek-
baarheid van 'n kind se lyf
('n weerligstraal deurpriem)
in verse brandend heelgemaak.
Die skril sanik van 'n tarentaal
word die twyfel aan daardie God, aan daardie God
so ver, so ver en woes geleë.

Wat is verdriet? Hoe voel verlies?
Maak die donker grein die hout?
Is daar lewe na die dood?
Ontstaan 'n metafoor ooit sonder pyn?

Daar is geen land, so ver en woes geleë...
O goedheids God hier nooit volprese...

O Heer, U oneindigheid, U majesteit
bring nooit weer terug my lieflingkind.
Was daar geen dood, was daar geen vers.
Was daar geen vers, was daar geen dood.

O Heer, vergeef my wrewelige verse!
Weet net, U het nie só 'n kind verloor:
'n deurskynende vlinder
met net één deurboorde vlerk.

(Uit: Lykdigte, 2000)

Hy word waarskynlik aan min gedigte onthou; inderdaad 'n tintinkietaal, maar sy werk as Bybelvertaler was enorm.

*

Life: A User's Manual (La Vie mode d'emploi) speel af op 11 rue Simon-Crubellier, 'n fiktiewe straat in Parys in die XVIIe arondissement. 'n Roman soos 'n legkaart in gevriesde tyd op die 23e Junie 1975 na die dood van Bartlebooth. 'n Legkaart en skilderye en karakters wat op mekaar se lewens inspeel. Wag, wag, ek vertel later verder oor hierdie moderne Duisend-en-Een-Nagte.

*

Eers terugkeer na Seinfeld en die analises van humor. En nou speel Bizet.

© Joan Hambidge

Reisrubriek | Life: A survivor's manual | 2020

$
0
0

Woensdag 22 April 2020 | Dag 27

'n Pragtige dag na die president se toespraak oor ekonomiese verligting.

Luister eerder musiek as om vérder opgewerk te raak oor 'n as/indien-paradigma. Skaars is die toespraak verby of die selfoon begin oortyd werk met scenarios. Die emosionele weervoorspellers van ons tyd wat elke wolkie probeer raaklees.

Die inwaartse reis word 'n ervaring van sublimasie. Boeke lees, terugkyk en geweldig baie herinneringe van toeka se dae voor die inperking. Wilhelm Jordaan skryf tereg van die pre- en post-koronatyd.

En drome. Helder en aanskoulik.

My vesting is soos 'n hotelkamer ingerig - hier is geen room service nie, behalwe vir my bure wat soms iets voor die deur laat. Dus self kook, wasgoed was, koffie maak ...

Musiek en boeke en die internet maak die dae plesierig. 

Strange Hotel deur Eimear McBride is 'n boek wat ek graag sou wou lees. 'n Vrou wat verskillende hotelle besoek en in die woorde van die resensent Holly Williams:
Hotel rooms are strange – and McBride captures brilliantly the uncanny feeling of replication across cities and continents they give, how they seem to exist out of time, and how an abstract, untethered version of the self stacks up whenever you check in. But Strange Hotel’s view is also limited, always turning inwards rather than outwards. There’s a stuffy, airless claustrophobia to the character’s solipsism (Strange Hotel by Eimear McBride review – evasive and claustrophobic | Books | The Guardian. Besoek 22 April 2020).
'n Hotelkamer is aanvanklik 'n vreemde ruimte wat jy besoek en na 'n paar dae word dit jou ruimte. En die dag wanneer jy vertrek en alles is ingepak, is dit nie meer joune nie. So iets van jou persoonlikheid het jy (tydelik) laat intrek in die ruimte.

Salida

In die vele hotelkamers van die liefde
my bagasie in- en uitgepak.

In die vele hotelkamers van die liefde
die hotelkaart noukeurig ingevul

In hierdie hotelkamers
is alles eers klinies – later morsig.

In die hotelkamers van die wanhoop
soms ‘n soewenier geneem – niks agtergelaat.

In hierdie vele hotelkamers
nimmer lank vertoef.

Sommige hotelkamers was vyfster;
party minder goed.

Nou onthou ek net my geliefdes
soos die kamernommers in dié hotelle.

Santiago

(Uit: Verdraaide raaisels, 1990).

Salida soos in uitgang / exit.

*

En Seinfeld. Amper klaar met Seisoen 3.

Skitter oomblikke:

Elaine op pad na 'n lesbiese troue. Wie is die man? Wie is die vrou?

“Flip a coin!”

En ja, was buite myself van die lag toe Elaine neffens 'n ou oom sit wat vir haar 'n lesing gee oor kangaroos. Volgens hom ly die mannetjies aan “pouch envy”. Lekker Papa Freud.

George se manewales rondom werk soek word in 'n hoogtepunt uitgespeel voor Mevrou Sokol, 'n streng butch tante wat nie nonsies vat nie en regdeur sy leuens kyk. Die werkloosheidskantoor word perfek uitgebeeld.

Deurmekaar lessenaar. Wagtende mense agter George ...

Dan sien hy 'n foto van haar dogter op die lessenaar. Hy komplimenteer die skoonheid; die tante versag. En nou? George moet met haar uitgaan om sy werkloosheidsgeld te kry!

Nodeloos om te sê: die dogter is skreeulelik, die uitgaan 'n nagmerrie en so boemerang die plan. Net soos die vals nommer van Vandaloo ('n latex maatskappy) waar hy sou aansoek gedoen het met Jerry se huisnommer. Natuurlik met Kramer wat alles laat uitbom wanneer hý die foon antwoord.

Jerry apploudiseer George vir sy tegnieke om telkens nie werk te kry nie en tog aan te hou lewe.

Soos 'n Franse klug loop daar altyd iets verkeerd met die planne. En die slim tydsberekening laat dit werk. Soms sien jy hoe wel dat Jerry nie sy lag kanhou nie.

“I love the smell of boxes in the morning,” sê hy in 'n solo-vertoning. Apocalypse now luier in die agtergrond. Dit gaan oor trek (move) en hoe ons altyd op soek is na genoeg bokse vir die trekproses. Tot ons die finale boks kry wanneer ons sterf.

'n Komediereeks wat beweeg van slapstick tot swart humor.

*

Gunsteling-komediante: Buster Keaton, Charlie Chaplin, Peter Sellers, Mr. Bean...

Oor Peter Sellers het T.T. Cloete hierdie aangrypende gedig geskryf waar hy inspeel op Sellers se belangstelling in die okkulte (Woorde Wat Weeg/ Joan Hambidge - ‘n Nota by T. T. Cloete se “Alle grappies op ‘n stokkie” (uit Jukstaposisie, 1982)Besoek 22 April 2020).

Alle grappies op 'n stokkie

Die ektoplasma maak mislik.
Alle vlae hang stigtelik
by alle teaters halfmas.
Peter Sellers is vandag veras
by Golder's Green. Wat mens afkerig maak
is dat die dooie vertrek en ander moet ontslae raak
van sy lyk. Die diens vir die lastige rou
en konvensie is deur John Hester gehou,
Peter se vriend, 'n kannunik.
Maak dit vrolik
om van die walglike oorlas
verlos te word. Slegs vriende uit die vermaak, kollegas
uit The Goon Show
sy eerste, sy derde en vierde vrou
mog die diens bywoon: Britt Ekland die seksbom
het ongenooid daar aangekom,
sy't vermetel met Spike Milligan opgedaag.
Sy is kywende weggejaag
deur Michael. Vir die groot
mededinging met die lastige dood
was Lynn Frederick
heel paslik
geklee in 'n rok wat inderhaas
spesiaal ontwerp is deur die modebaas
Yves St. Laurent. Terwyl hulle die lyk veras
vrolike musiek pas
immers by die toneel
is Glenn Miller se In The Mood gespeel
op Peter se versoek. 'n Lyk is darem 'n verleë ding.
Laat die poppe speel, laat hulle hom wegsing.
Tog het iets vreemds gebeur:
'n donderstorm wat ineens losbars versteur
en oorstem In The Mood. Dis nes Peter dit wou he,
dit pas by sy humor, het die kanunnik vroom gesê.
Wat pla
bedink agterna
in terme van tooneelspel: is dit deus ex machina
of is die grap bygedra
deur die baaslykverbrander?
To steal one's thunder
Pas by die toneel. Behoort die oorskot
aan die duiwel, aan God?
behoort die donder

aan God, aan die duiwel? I wonder …

*

Nou verder lees aan Perec.


Donderdag 23 April 2020 | Dag 28

Vanoggend moeg; eintlik uitgeput. 'n Mens word emosioneel gedreineer deur hierdie ingryp met sy cabin fever. Elke dag se buite wees en op die balkon staan om na die see te tuur, helaas nie genoeg nie. Wens ek kon nou gaan stap langs die see ...

Tafelberg hou stil die wag na links, terwyl ek skryf kyk ek na die berg.

Vanoggend 'n bruisende rusie onder my. Gille van frustrasie. Laat dit begaan. Met kompassie.

Navorsers sal waarskynlik hierna studies die lig laat sien oor hoe mense oorreageer het: hoe jy spook om waar van wolhaar te skei. Nie meer tyd vir ambivalensies het nie. En hoe onsekerheid mense se gedrag aantas.

My buurman bring 'n bakkie sop. Ek gee biltong en sjokolade. En een sigaret omdat hy probeer ophou rook.

*

Die Psalms se konkrete beelde is opvallend. Die kinders sit soos olyfbome om die tafel. En ons ingang en uitgang wat bewaar word (Psalm 121) en hoe ons moet waak teen valse lippe en die die bedrieglike tong (120). Plaas 'n wag voor die mond (141).

Die lees van die Groot Boek is 'n nostalgiese reis. As jong kind het ek gedeeltes onderstreep en daardie kind het nie geloof bevraagteken nie. Dit was 'n gegewe. En wonderbaarlik hoe hierdie boek waarhede oordra wat ook in die Boeddhisme staan.

*

En my groot rasieleier Crito staan al weer voor my deur met 'n koekblik in die hand. 
Van my beste vriende is groen pyltjies en bruin bottels: Koffietafelboek vir ganjamense en ander fragmentlesers, deur Kleinboer. Resensie: Joan Hambidge. (Rapport Boeke) Litnet 23 April 2020
 Joan Hambidge sê nie veel oor Kleinboer se bundel nie, maar gee hom kans om ons self te oortuig deur die aanhaling van ses gedigte uit die bundel. 
Crito kan beslis nie lees nie. Dit staan daar: humor, grensoorskrydende ervarings, taalspel.

En:
Die ouers – en die tweelingbroer – loop deur sy werk. En Kleinboer se tekste problematiseer telkens die outobiografie. In Kontrei het hy dit so effektief geproblematiseer dat dit meer word as die teks = Fanie de Villiers (Kleinboer). Dis 'n lywige digbundel vol praatverse waarin die digter dikwels in 'n selfgesprek gewikkel is. Dit wat oënskynlik maklik lyk, sit vol woordspeletjies. Miskien kon die digter minder verse opgeneem het (daar is sekere herhalings soos die luister na musiek of gedrinkery), maar in die geheel is dit 'n pretensielose, eerlike, sjarmante digbundel van ons Boere-Bukowski. Lesers en liefhebbers van sy prosatekste sal dit geniet. Hopelik soveel as wat hierdie leser dit geniet het! 
Crito laat my dink aan die man wat met Monopoly-geld 'n hoer wou betaal en boonop kleingeld verwag het.

*

Seinfeld.

Og, dit dreun voort. Kramer wat op 'n vrou kots (per ongeluk) omdat hy van Jerry se melk gedrink het wat al rens was.

En dan die heerlike wonderwerk: Jerry wat meen daar is geen simpatie-kaart vir hierdie soort ding nie.

Die humor word al hoe swarter hoe langer 'n mens kyk. Reeksmoordenaars en selfmoord kom ook aan bod.

Met 'n sekerlik een van die beste send-ups wanneer Kramer en buurman Newman in die hof is. Lg. speel prokureur wat moet verdedig.

Dit speel so perfek in op die hele genre van L.A. Law en al die hofdramas dat 'n mens skreeu van die lag. Met Kramer wat - soos gewoonlik - die emmer laat val met sy onnoselheid.

En waarom is Julia met vakansie in Frankryk? Die internet verklap die geheim ...

*

Perec se Life: A user's manual kan jy lees as een groot roman of die verskillende verhale afsonderlik benader. Die een oor die kinderoppasser, Elizabeth de Beaumont, wat per ongeluk die kindjie wat sy oppas, laat verdrink. Die ma pleeg selfmoord en sy word agtervolg deur die pa.

Sy raak verlief op 'n man, het twee dogters en hulle storie word later vertel in die roman en rekonstrueer deur die prokureur en haar man.

Die vrou se ellende en paranoia is van die mees aangrypende skryfwerk wat hierdie leser ken.

In die agtergrond speel Mozart op FMR – vanuit die Concertgebouw.


Vrydag 24 April 2020 | Dag 29

Op reis deur Turkye so nege jaar terug – op 'n luukse bustoer vol grimmige persoonlikhede – reis ons in 'n sirkel deur hierdie land. Van Istanbul tot terug by Istanbul.

Istanbul, Izmir, Antalya, Ankara ... lieflike bakens.

Om net buite die hoofstad te stap, is 'n reis deur die Nuwe testament met Paulus se staptog 47 - 49 v.C.

Maar een aspek sal ek nooit vergeet nie. Die ongelooflike lang, uitmergelende afstande: tussen hoofstede is soos van Kaapstad tot Beaufort-Wes; of Johannesburg tot in Louis Trichardt.

Elke dag tussen 5 - 6 ure op die bus. 

En elke keer – laatmiddag – vra ons vir die gids: hoe lank nog? Hoe lank nog voor ons by die hotel sal wees?

“Ons is amper daar.” Sy amper daar was gewoonlik nog twee ure weg. En so voel ons almal oor die ingrendeling wat nou fase 4 binnegaan.

Is ons amper daar?

Definieer amper, definieer daar...

“Saggies ontwaak my hart ...” – hoor hoe goed vertolk Marilyn Horne hierdie lied (Marilyn Horne - "Mon coeur s'ouvre a ta voix" - Saint Saens - YouTube. Besoek 24 April 2020).

Marilyn Horne (1934 - )

Die laagste note
skep sy uit ‘n diep, donker put,
of laat dit rommel soos swaar onweer;
die hoogstes ruk sy terug, terug,
om weer rus te vind in ‘n skuiling. 
Sy is soos, nee, ís ‘n groot storm
waar voor ‘n mens vol bewondering
én met iets soos vrees staan.
Behalwe hier die volledige beheer,
asem, diksie, frasering.
Almal sweer hoog en laag,
niemand kan ‘n hart só laat ontwaak,
soos hierdie mezzo uit Bradford, Pennsylvania.

(Uit: Lot se vrou, 2012).

*

Vanmiddag oorspoel deur ennui, ry ek deur die strate van Kaapstad.

Kaapstad se geboue is leeg. Al die plekke waar ek gereeld gekom het, is toe. 'n Sekuriteitswag staan voor Haiku. Distopia-in-aksie. Dit lyk soos 'n Sondag.

Die kerk waar die verskoppelinge vir 'n tydlank gebly het, is toe. Die strate is skoon.

Elke dag is daar meer bedelaars op straat. Vanoggend word al die ou kos in sakkies gepak en by elke stoppunt gee ek 'n aalmoes.

Die ingrendeling het sosiale ongelykhede soos 'n pitsweer oopgesteek.

“Al kan jy nie iets gee nie; groet ten minste. Gee erkenning,” is my buurman, 'n diaken, se raad. Hy het altyd Maandagaande by 'n koffiekroeg vir haweloses gewerk. “Dis 'n mens. Erken net sy ménsheid.”

*

By die Duitse slaghuis koop ek vir my en die bure osstert vir Sondag. Stuur vir my buurvrou, 'n voortreflike kok, 'n Jamy Oliver-resep. Wanneer sal ons weer Saigon se osstert met 'n donker Thai-sous op geel rys eet?

Ondertussen is restaurante steeds toe. En kroeë ook. Ons mag darem sigarette koop, maar geen drank nie. Eers tydens fase 3 glo.


Die ergste is die roetine. Elke dag opstaan, skryf, lees, kosmaak, kos koop, terug om te skryf – musiek, films.

'n Dodelike sirkelgang. Soos op daardie bus deur Turkye ... met 'n klippie onder die tong teen die dors.

Vanoggend slaan ek die Groot Boek oop en sien my aantekeninge as jong kind en geparste blomme. En daardie louheid waaroor Paulus skryf, ontdek in die lou water van Laodicea en nou weer:

My Bybel

‘n Geparste blom
stingel langs die woorde
ek het jou by die naam geroep;
‘n Sondagskoolboekmerk
vou by louheid as ‘n sonde oop,
en ‘n hart van sywurm-sy
wys die weg ritselend na Eden aan.
Onderstrepings met ‘n balpuntpen
rig my jong geloofslewe
in hierdie geskenk van my ouers.
In my middeljare verloor ek my geloof,
verwerp hulle Bybel en veral hulle waardes,
ontdek die hel is beslis ander mense,
die lewe ‘n absurde, hier-en-nou.
Voetjie-vir-voetjie word jy on-gelowig,
agnosties, skepties…:
‘n andersoortige Bybel, die Bardo Thödol,
word ‘n meetsnoer toe die lewe
nie in lieflike plekke vir my val.
Vanoggend gaan die cadeau oop
by ‘n ander openbaring:
woorde, soos geloof,
nie meer ‘n Toring van Babel.

(Uit: Lot se vrou, 2012).

*

Gelukkig is daar darem ook heelwat humor soos Margaret Atwood se verslag – aangestuur deur die digter Juanita Louw uit die Midde-Ooste – van hoe sy hierdie tyd hanteer (Margaret Atwood’s lockdown diary/ life as an eccentric self-isolationist | Books | The GuardianBesoek 24 April 2020).

*

Nou vir die daaglikse ruilhandel. Sigaret en koerant van hier tot sop en melktert van daar.

Soos Jan van Riebeeck destyds moes onderhandel met die inwoners van hier.

Voorheen hierdie stad bykans toeristies beleef. Elke aand elders besig, aan die beweeg, mense ontmoet, uiteet asof ek 'n besoeker hier is.

Nou kyk ek anders na die stad: van binne na buite.

Uit my venster wat Tafelberg raam; op my balkon wat tot vér by die hawe staan.

Ag, hoe lekker om na Jim Reeves se Engelse aksent te luister in  ”Die blonde matroos” (Die Blonde Matroos - Jim Reeves - YouTube. Besoek 24 April 2020). Hier is die lirieke:

Sy staan op die hawe van Tafelbaai strand
Haar seemans-geliefde hou sy by die hand;
Sy kla oor haar noodlot, haar hartjie is te seer -
Sy het glad geen tuiste en Moederlief meer...

Neem my, O matroos, neem my saam as jy swerwe;
By jou wil ek ween, wil ek lag, wil ek sterwe
Ons hoort mos tesame soos die wind en die see -
Ek gee jou my liefde, ag, wat meer kan ek gee?
Ons hoort mos tesame soos die wind en die see -
Ek gee jou my liefde, ag, wat meer kan ek gee?

Neem my, O matroos, neem my saam as jy swerwe;
Met jou wil ek ween, wil ek lag, wil ek sterwe
Ons hoort mos tesame soos die wind en die see -
Ek gee jou my liefde, ag, wat meer kan ek gee?
Ons hoort mos tesame soos die wind en die see -
Ek gee jou my liefde, ag, wat meer kan ek gee?

Inderdaad ween, lag en sterwe ...


Saterdag 24 April 2020 | Dag 30

Met elke reis is daar opwinding met die beplanning, die lang reis met jet lag en hierna die ontdekking van die vreemde landskap, die mense, die gewoontes, die kos, die wyn.

En dan een oggend: het jy genoeg gehad. Jy wil huis toe.

Met hierdie reis ook so. Behalwe jy ís by die huis.

Met my drie laaste reise: 'n bom in Tunis; 'n tas wat laat aankom in Bogóta; 'n vlugvertraging in Wene weens stakings in Parys.

Dramatiese reise, maar wat lank na die ervaring bly inwerk het. Hoe gaan hierdie inperking ons menswees verander?

“Irony is the hardest addiction of all,” beweer Seinfeld daar filosoof van die niksheid en menslike belaglikhede.

“Laat alles val wat pronk en sieraad was ...” die versugting van die digter Van Wyk Louw. 

In tye van nood word daar georden. Vensters gewas. Gestofsuig.

*

Die 8 uur handeklap dui op oorlewing. Nog 'n dag is die virus afgeweer. Maar dis ook uit dankbaarheid vir dié wat versorgers is in hospitale in hierdie tyd. Of na haweloses omsien in plekke soos The Arc in Kaapstad. Want die meetsnoere het nie vir almal in lieflike plekke geval nie.

The Tao is silent van Raymond M. Smullyan, sy gids tot Oosterse filosofie het in 1987 verskyn. Christene en ateïste stry dikwels oor die bestaan van God en die een moet die ander oortuig. Eersgenoemde wil mense se siele red; laasgenoemde dink dit is primitief wat ewolusie en die wetenskap ontken. Hierteenoor meen Smullyan is die Taoïs besig om die langs die stroom te sit met 'n boek of iets te drinke en geniet die lewe sonder om te wonder of die Tao bestaan.

*

Soos Seinfeld aanbeweeg raak die reeks al hoe meer self-refleksief. In die vierde seisoen moet Jerry en George 'n komedie-program voorlê. Hoe weet ons die baas hou nie daar van nie? Wel, hy gooi op ... (oënskynlik van 'n maagaandoening, maar nietemin).

“Ek het nog nooit iemand ontmoet wat so baie weet oor niks nie,” meen 'n model in 'n vliegtuig langs Jerry. En dis waar. Klein nietighede word tot monsteragtige hilariteite opgedoek. Soos neuskrappery wat 'n verhouding kan verongeluk; al was dit nie regtig so nie.

“If your body was a car, you wouldn't buy it – too much upkeep,” meen onse Jerry tereg.

George wil as porno-ster die naam Buck Naked gebruik (ou grappie) en bekendes word ingespan om verdere myle aan die reeks te gee. Wyle John-John Kennedy en selfs Calvin Klein. En Salman Rushdie met 'n gespottery oor sy naam wat soos vis klink.

Elaine jim saam met hom (o verrukking), maar weens 'n misverstand tussen haar en Jerry wat met 'n maagd uitgaan, dink ons dat John-John met die maagd in 'n geel cab verdwyn.

Die slot onthul die waarheid: dis Kramer met 'n woeste swart pruik wat haar ont-maagd.

En Calvin Klein? 

Hier word die spot gedryf met gay-wees en lyflikheid. So: Elaine word geterg omdat haar tepel wys op 'n verjaarsdagfoto op 'n kaartjie wat sy aan almal versend het, maar 'n ietsie van Kramer se oempabaloelie wys.

Masturbasie, gay-wees, neuskrappery, outing van 'n pa, 'n voor-op-die-wa 15-jarige, word in hierdie seisoen beloer.

Meer nog: gestremdheid en Kramer wat verlief raak op 'n vrou in die rolstoel wat in 'n ongeluk beland het, omdat hulle wederregtelik geparkeer het op háár plek. En dan om 'n tweedehandse een vir haar in die hande te kry en uiteindelik los sy hom.

Plastiekborste. Seksisties bepaald, maar snaaks.

Grensoorskrydend? Perdalks.

Elke keer met vlugvoetigheid word 'n grap op sy kop gekeer. En vooroordele ontmasker (van sowel die karakters as ons die kykers) wat opnuut bewys: die beste humor is wrééd.


Laataand laat weet 'n kollega dat ons in Kaapstad nog nie uit fase 5 kan beweeg nie. Gevaarsone. En dat die aanlyn-klasgee hom bó sy kragte beproef.

“Miskien moet ek jou skype dat ek jou ten minste kan sien,” stel hy voor.

Die Tao is stil.

In Psalm 150 word daar geloof met basuingeklank, harp, siter, tamboeryn, koorddans, snarespel, fluit, klinkende simbale.

Tel jou seëninge, dink ek. In stilte met Saterdag wat Sondag word. Jy het ten minste kos, boeke, beskutting, vriende, internet ... en musiek.

Nomaad

νομάδες

Gedagtig aan hulle wat nooit 'n staanplek 
onder die sterre vind vir die voet se holte
soos die Mbuti van die Ituri Reënwoud,
die Negrito's in Suid-Oos-Asië, die Adivasi
in Indië, die Nukuka-Makú in die Amasone:

eens op 'n tyd was hierdie nomaad flink
aan die reis van kontinent na kontinent
wég van ankers en vastighede aan die rinkink
in onveilige plekke ver van haard en huis
net met onrus as die dwingende kompas.

Te lank uit en tuis sodat die self soos die gedigte
altyd op soek was na nuwe, onbegonne weivelde.

(uit: Nomadiese sterre - onder rekonstruksie).

© Joan Hambidge

Reisrubriek | Meetsnoere | 2020

$
0
0

Sondag 26 April 2020 | Dag 31

Vandag kyk ek oor die teeldakke van my stad uit en ek verbeel my ek is in Florence.

'n Paar jaar gelede in die Italiaanse departement 'n kursus oor Boccacio se Decameron gegee - in Engels - met die hulp van Umberto Eco se The role of the reader.

Notas word altyd bewaar. In hierdie geval aantekeninge gemaak op 'n piepklein notaboekie van die Cafir Hotel in Kaïro. So elke keer wanneer iets wil herbesoek, is die koevert daar. Verder skryf ek in boeke. My eksemplaar van Op 'n eiland is driekeer intens besoek: eers met potlood (as jong student); dan as dosent in 1992 met blou pen en uiteindelik weer in swart pen in die kantlyn.

So registreer 'n mens verskillende reaksies van jou lees: 'n resepsie-geskiedenis-in-die-kleine.

En Eco wys daarop hoe 'n mens sekere aspekte van 'n boek lees: die “blow up” versus “narcotize” beginsel. Net so wanneer ons nou tydens grendeltyd weer na boeke terugkeer en ander aspekte raaksien wat vóór hierdie tyd nie op die voorgrond was nie.

Net in die agtergrond geluier het. Dis hoekom feministiese literatuurkritiek wys op hoe vrouekarakters (en bediendes) net in die agtergrond is soos The madwoman in the attic van Gilbert & Gubar.

In 1992 was die landskap van die letterkunde heel anders. Pre-kolonialisme, pre-Rhodes must fall, pre-alles wat nou gebeur. En hoe die grendeltyd uitgeskuif word: Derrida se différance kom so aan bod ... die uitstel van finaliteit.

Decameron handel oor 'n honderd stories vertel deur 7 vroue en 3 mans ingegrendel in Florence om die swart pes (swart dood) te probeer fnuik. Boccacio het dit ná die epidemie van 1348 begin skryf en dit is voltooi in 1353. Dit speel in op Chaucer se Canterbury tales en natuurlik die Duisend-en-Een-Nagte.

Decameron (10 dae) vertel die verhale oor 14 dae; behalwe vir die heilige dae en dae van opruim of wasgoed was. Elkeen kry dus 'n beurt om 'n storie te vertel.

Pampinea, Fiammetta, Filomena, Emilia, Lauretta, Neifile en Elissa heet die vroue. Die mans: Panfilo, Filostrato en Dioneo.

Geleerdes het al gewys op die slim simboliek van hierdie klassieke teks. Party meen dat van die karakters op werklike mense gebaseer was en dat dit in argiewe nagespeur kan word.

In my kursus het ek gewys op die patrone van die Morgan-Greer-tarot wat 'n mens in die teks kan raaklees. (Terloops, moderne speelkaarte is op die tarot / tarocchini gebaseer en jy moet 'n stel persent kry; of een steel.) Die eerste kaarte het waarskynlik in die Noorde van Italië ontstaan in die veertiende eeu.

Dit wat reeds ín jou is, word deur die kaarte uitgestal. Dis jou interpretasie en die major arcana gee letterlik van 0 tot 21 die ontwikkeling van die mens se reis weer. En eindig dan met Die wêreld / The World.

Of die kaart na bo of onder uitval, bepaal die interpretasie. In die Decameron is die Wheel of fortune 'n kardinale kaart. Iets van buite het die lot van die karakters verander.

Na bó bedui die kaart veranderinge/ na onder dui dit op ellende wat nie oorwin kan word nie.

Ek besit verskillende stelle. Selfs 'n Afrika een en in Peru een gekry met Machu Picchu verruklik afgedruk op elke kaart.

In 'n ander kursus het ek Marais se Dwaalstories ook so argetipies benader. Beide Jung en die cantadora (storieverteller), Clarissa Pinkola Estés in Women who run with the wolves (1992) is hier tersaaklik. In die individuasieproses beklemtoon sy, in navolging van Jung, drie alchemistiese fases: die nigredo (swart) fase; die rubedo (rooi) of opofferende fase en die albedo (wit) of herstellende fase.

“The psyche always shadows its own process”, beweer hierdie slim vrou (1992, 417).

En hoe waar is dit nie met wat ons nou ervaar nie? Ons weet ook dat ons letterkunde ingrypend gaan verander ná hierdie fisiese inperking.

Hierom is daar verskillende narratiewe wat wissel van 'n coup d'état tot samesweringsteorieë tot 'n gelate aanvaarding van die inperking. Vir sommiges is die Geregtigheid / Justice (Kaart XI) van belang – 'n gelykmaak van alle mense. Vir ander is dit van belang dat die natuur tot rus kom. Dalk ervaar jy al hierdie naratiewe en wissel jou gemoed van dag tot dag?

So wanneer ek nou die Groot Boek lees, val die aantal kere van ingrendeling, oorlog en inperking my op. Onheil en 'n verbond wat gesluit word.

In Esegiël 4: 9: “En neem jy vir jou koring en gars en boontjies en lensies en broodmanna en spelt, en gooi dit in een skottel, en maak vir jou daarvan brood; volgens die getal dae dat jy op jou sy lê, driehonderd-en-negentig dae, moet jy daarvan eet.”

Hoeveel dae nog?

Nou sing Plácido Domingo saam met John Denver lieflik “Perhaps love” oor FMR.


Maandag 27 April 2020 | Dag 32

Vryheidsdag.

Vandag draai ek die roetine op sy kop. Begin met Seinfeld. Net om hierdie treintrok-roetine van sy spore af te gooi.

Opvallend hoe dikwels daar met borste gespot word in hierdie reeks. Van Jane Mansfield se groot borste (en met 'n speelse opmerking dat sy só versmoor het) tot kelnerinne wat uit-staande is. Met Elaine wat beweer hulle diskrimineer deur net meisies met groot borste in haar restaurant aan te stel. Sy kry selfs prokureurs om dit te ondersoek en ja: dit blyk dis toe die eienaar se dogters.

Jerry is verlief op 'n vrou; Elaine meen sy het valsies en die intrige om uit te vind of dit so is, draai verby alle vlakke. Humor met 'n kurwe in die rooi.

En grappe oor orgasmes en faux-orgasmes. Herinner ons almal aan Meg Ryan se veinsing hiervan in When Harry met Sally.

George se pa kry vir hom werk as 'n bra-smous. Hier knetter dit van die waansin en natuurlik word hy gepos wanneer hy aan 'n vrou (blyk die baas te wees) se rugkant raak.

Julia Louis-Dreyfus (Elaine) kondig op 28 September 2017 aan dat sy borskanker het.

Sy het genees en het uitstekende mediese behandeling gekry. Hoe dan anders; sy behoort tot 'n gesiene en welvarende Amerikaanse familie. Sy het wel in onderhoude bygevoeg dat sy hoop daar sal iets soos 'n universele mediese sisteem wees vir almal.

In die loods-episode (Seisoen 4) het ons 'n storie-binne-in-'n-storie. Jerry en George se storie word aanvaar vir televisie met histeriese figure wat húlle vertolk. (En later weer afgekeur, omdat Elaine nie belangstel in die baas nie.)

Daar is die verhaal van Barbra Streisand wat in Madison Sq Garden moes optree in die laat 90's. Die hele stad was vol drag queens in Streisand haredosse en iemand het teenoor die regte Barbs opgemerk: “Not too bad, honey.”

Werklikheid en fiksie? Soms slaan die werklikheid térug op fiksie; soms loop fiksie die werklikheid vooruit ...

*

Life: A user's manual...

'n Legkaart. A puzzle.

In Hoofstuk ses word 'n nukleus van verhale gegee wat later in die roman verder uitgevoer word. Saaklik.

Die ontdekking van liggame op 'n moordtoneel word vervleg met 'n vrou wat in Wene Sprechgesang, ene Véra Orlova, wat kortsondig Schoenberg se student word.

En dan breek hierdie verhouding ook.


*

Die canards of riemtelegramme oor die opheffing (al dan nie) van die ingrendeling begin byt. Al die “truthers”...

Alles net hipoteses. Alles net hoorsê. Maar as jy tússen die reëls kan lees, dan weet jy dat die doelwit om 'n nuwe SA ekonomies te vestig, voor jou oë gebeur. Die einde van die stinkrykes?

My haarkapper whatsapp en vra vir donasies vir die haarwassers. Weens social distancing is hulle nie in staat om weer te begin werk nie. Hulle is bereid om kleursel af te lewer tuis en waarsku teen bokskleursel wat jy in supermarkte koop.

Laatmiddag kla 'n buurvrou die water in die blok lyk geel; 'n ander een dink dis ook nie reg nie. Iemand het 'n munisipale motortjie opwaarts sien ry. Dalk net iewers 'n gebarste pyp wat hulle moes regmaak?

Ek bied water aan wat ek voor my deur laat. Later is almal weer gelukkig.

Vir oefening vee ek die hersblare weg op die wandelgange. My buurman maak onder skoon. Twee buurvroue gee die plante water. In ons tuin is daar 'n pragtige kat.

Later die middag sien ek hy stap in die park oorkant my studeerkamer. Hierdie park is opgeteken in Etienne Leroux se Die eerste lewe van Colet.

Die kat is ongeveer 8 maande oud. Ek ken katte. Had as kind vele katte. Ons mog nie wyfiekatte hê, maar toe bring ons swart mannetjieskat eendag 'n wyfie aan. Wat 'n vreugde! Woelende, spelende kleintjies wat spring van die waskamer se trappe waar ons kinders speel. En my moeder wat sommer 'n vinnige seksvoorligtingles gee by die wonderskone geboorte van katjies.

En op 'n dag is twee of drie outjies weg. Met my ma wat laerskooltrane moet afdroog, want sy moes ander huise vir hulle soek.

En in my matriekjaar toe my pragtige wit kat, Napoleon, sterf aan longonsteking kon ek dit nooit weer oor my hart kry om 'n dier te hê nie. Eiehandig vir hom 'n kissie gemaak uit tamatieplankies en hom begrawe onder my ma se wit roosbome wat die volgende jaar so mooi was. Hieroor gedig in Bitterlemoene, my tweede bundel.

Johann de Lange het só aangrypend oor die dood van sy kat, Yoshi geskryf (Kaapse Paragrawe/ Die dood van diere. Besoek 27 April 2020):


Yoshi

† 25 Desember 2002 – 12 April 2011

Lenig, met voor- & agterpote,
die ribbekas, skouerblaaie,
& jou darteldraf ligvoets
stertorent – áls is van die fyn
rugstring
gesuspendeer,
terwyl jy vórentoe luister, ore gespits,
jou blou oë luisterstil
wat na die muisvoëls luister,
fyn neusvleuels wat tril-
lend die buurtnuus uitsnuffel.
In jou keel klop ’n slag-
aar ritmies, so delikaat gekalibreer
ek kan die bloed van hart-
kamer na hartkamer volg.

*

Nou lui die kerkklokke van die NG-Kerk in Tamboerskloof. My buurman is op die Vuvusela en ek luister na Mahler en Benjamin Britten, terwyl ek skryf.

Klap hande.

En die meetsnoere?

Dit staan opgeteken in Psalm 16: 6: Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.

Meetsnoer: Die meetsnoere het vir iemand op lieflike plekke geval (wat iemand gekry of bereik het, is goed of mooi).

Die uitdrukking is ontleen aan Ps. 16:6 in die vroeëre Afrikaanse Bybelvertaling. Die meetsnoer is ’n maatlyn wat deur landmeters gebruik is om die grootte (en ligging) van ’n stuk grond te bepaal wat aan iemand toekom. As hulle op lieflike plekke geval het, was jou stuk grond pragtig.

Aldus wyle Anton Prinsloo daardie uitsonderlike taalkenner in Mieliestronk/ Anton Prinsloo vertel van herkoms van spreekwoorde.

© Joan Hambidge

Reisrubriek | Katte & die uncanny | 2020

$
0
0

Dinsdag 28 April 2020 | Dag 33

Vroegoggend beleef ek die nag wat dag word. Hierdie bardo of oorgang was dikwels 'n tyd van stilte wat dan skielik deur oggendverkeer versteur word.

In my badkamer is daar 'n bril van The Reader en die een glas het uitgeval. Hoe simbolies.

Daar is baie dooie tyd in grendeltyd. My Italiaans en Frans word afgestof deur te luister na CD's. Op reis neem ek altyd 'n grammatikaboek saam; nou luister ek na CD's. Ek verkies eerder om 'n taal te lees as om dit te praat, omdat ek bang is vir foute. Enige taalonnie sal egter verduidelik 'n mens moet met selfvertroue praat sonder om te vrees vir 'n grammatikale of kongruensie-fout.

Malheuresement.

Italiaans is makliker vir my want die masjiengeweeraanslag van die taal kan ek beter verstaan, maar gesproke Frans met die nasale ineenvloeiing van klanke is heelwat moeiliker om vlot te praat.

*

Perec se Life: A user's manual is 'n besonderse roman en is o.a. aangeprys deur Paul Auster.

Clarissa Pinkola Estés in Women who run with the wolves (1992) wys daarop dat die onbewuste 'n sterk destruktiewe element in sig dra wat in verhale op verskillende maniere na vore kom. In Yslandiese verhale, byvoorbeeld, is die destruktiewe mag, Brak, die ysman. Sy stel dit so: “In Freudian terms, this destructive force would be said to emanate from the id, a dark, indefinite, but infinite psychic land where, scattered like wreckage and made blind from lack of light, live all forgotten, repressed, and repulsive ideas, urges, wishes, and actions. In this psychoanalytic milieu, bringing them to consciousness, describing, naming, and cataloging them, in order to leach their potency” (Estés, 438).

Sy verwys na 'n vertelling uit hierdie wêreld wat sterk gekoppel is aan Freud se siening van die uncanny: 'n ysman vermoor 'n vrou wat sy liefde verwerp met 'n ysblok in die vorm van 'n mens. Die ysman en sy wapen smelt die volgende dag in die son weg. Beide die moordwapen en die moordenaar het verdwyn. Die volkome moord dus.

Dieselfde argetipiese verhaal vind 'n mens by Roald Dahl. Die vrou vermoor haar man met die gevriesde skaapboud, maak dit gaar en niemand kan die moordwapen vind nie. Dit heet “Leg of lamb” waaroor Hitchcock ook 'n film gemaak het.

Perec het nie noodwendig dit geweet nie of hierdie boek eens gelees nie, maar Jung en sy akoliete sal beweer dit staan geberg in die kollektiewe onbewuste.

*

Seinfeld noem 'n manlike bimbo 'n mimbo!

En grappe rondom foonseks en iemand wat nie toiletpapier in die hokkie langsaan wil aangee nie, maak van hierdie bydrae 'n besonder een. Bietjie toilethumor. En Seinfeld se skrywers weet dit; hulle is altyd besig met self-bewuste analises van hul eie humor.

Weens Erica se stem wat klink soos die vrou wat Kramer benader het, word sy verdink van foonsnol wees. Soos in Franse klug word die misverstande die grap. Boonop is sy die een wat nie vir Elaine wou papier aangee in die toilet langsaan nie.

En 'n kollegemeisie verneem na George. Jerry lieg en vertel hy is 'n marine-bioloog. Die grappe rondom vet gedy.

“Whales have blubber”, meen George. “I think they should get their cholesterol levels down.”

Pretensie word opgestuur wanneer 'n Russiese skrywer besoek aflê en Elaine probeer afwys met (verkeerde) kennis oor Tolstoi wát weer eens wys hoe Jerry haar mislei.

Stereotipes oor mense uit verskillende kulture – wat vandag nie op TV toegelaat sal word nie – word onder die loep geneem en bespot.

*

Waarom spel ons dik nie duk nie? En dun nie as din nie? 'n Grappige navraag van my buurvrou. Haar dogtertjie speel met 'n taktiele kinderboekie waarop diertjies afgedruk is. Elke diertjie voel anders. Die honde het 'n nagemaakte pels en die olifantjie se vel is van grys plastiek.

Met sosiale distansie gaan aanraking nou spoedig verdwyn. Vir party mense is dit baie erg, maar genadiglik gaan jy nou daardie familiêre aanraking van onbekendes by boekbekendstellings of partytjies nie meer hóéf te pypkan nie. Daardie hand wat net te lank op jou arm weifel.

Wanneer gaan ons weer boekbekendstellings beleef? Wanneer gaan ons weer boekwinkels mag binnegaan? PEN-Internasionaal se petisie trek al verby 4000.

*

Die onsigbare ekonomie. Die tips en gifte en aalmoese wat mense elke dag gegee het vir taxibestuurders, kelners, haarwassers, bedieners, faktotums is in een swiepslag weg. Haarkappers, die Baxter, die Book Lounge vra tereg vir hulp.

*

In Psalm 119: 105 staan daar: U woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my pad.

As jong kind het ek dit onderstreep. Waar, wonder ek, staan dit opgeskryf dat 'n mens die olie in jou lampie moet bewaar?


Woensdag 29 April 2020 | Dag 34

In Mattheus 25: 1- 13 word die gelykenis van die wyse en dwase maagde opgeteken:
7 Toe staan al die maagde op en maak hulle lampe gereed. 8 En die wat dwaas was, sê aan die verstandiges: “Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan uit.” 9 Maar die verstandiges antwoord en sê: “Miskien sal daar nie genoeg wees vir ons en vir julle nie. Maar gaan liewer na die verkopers en koop vir julleself.” 
In die Nuwe Bybelvertaling is die miskien weggelaat. En maagde word meisies.

*

Vriend Natie meen ons leef nie meer op geleende tyd nie, maar op geleende bottels.

Laatmiddag verneem ons Checkers in Kloofstraat is gesluit. 'n Paar gesprekke met families en geliefdes dui op onsekerheid. Aanlyn-klasgee word bemark asof 'n mens op 'n vliegtuig klim; dis eerder asof jy in 'n duikboot is en nie kan sien waarheen jy op pad is nie.

*

Bartok speel nou oor FMR. Onrustige musiek. Ek luister eerder na my Franse CD's. Kwa-de-nuf; keskese and all the rest.

*

Amanda Botha, die bekende kunsjoernalis, vertel van die katte van Rome versorg deur die katvroue, oftewel die gattare. Haar suster was eweneens betrokke by hierdie projek.

Op die internet word geskryf dat selfs Anna Magnani die bekende filmster (oorlede in 1973) ook na hulle gekyk het. In die vroeë negentigerjare ontstaan daar 'n krisis met die katpopulasie in die Torre Argentina. Silvia Viviani en Lia Dequel maak toe kontak met diereregte-organisasies vir finansiële bystand om die katte te versorg, te laat aanneem en regmaak. 'n Mens kan selfs 'n kat aanneem wat met 'n paspoort reis na 'n vreemde bestemming.

En jaarliks word daar 'n fotoboek van hierdie katte gepubliseer wat toeriste kan aankoop.

En nou?

Geen toeriste en net katte wat vermeerder en wat deur die strate slenter op soek na kos. En skynbaar is daar by die Spaanse trappe ook geweldig baie duiwemis. Wat eweneens 'n gesondheisgevaar inhou.

Ottavia e i Gatti di Roma – Octavia and the Cats of Rome: A bilingual picture book in Italian and English deur Claudia Cerulli en Leo Lätti het in 2013 verskyn.
*
Hoe ironies dat 'n digbundel oor reis Visums by verstek (2011) heet:

Rome

Sms ITALY
na 36822 en wen ’n vakansie in Rome!
In my verbeelding
Bramante, Bernini, Raphael,
in die Caput Mundi
van die liefde. Roma /Amor.
Ek skryf ’n gedig,
terwyl my hart in Rome brand
van hartstog in ’n La dolce vita.
Jy, Anita Ekberg
dansend in die fontein van Trevi
en ek agterna met munte
vir die wensfontein.
So was dit helaas nie.
Snags alleen in ’n pension,
bedags dolend deur die marmerstad
se sewe heuwels
tot by die Baddens van Caracalla
waar ek jou gesig herken
in die mosaïek
verwonderend hoé snel
alles beweeg het van caldarium
tot frigidarium. Sonder tepidarium.
Marcello Mastroianni kyk
in die starende oë
van die dooie vis.

Daardie wedstryd is uitgeloof in Col'Cacchio 'n gewilde Italiaanse eetplek. Dié is nou toe. Uitgespreek: Kolkakkio wat letterlik beteken up yours!

Die gedig speel in op Federico Fellini se films – almal in my besit danksy Philip de Vos, die digter en fotograaf, wat hulle vir my netjies verpak het.

Binnekort word Fellini se klassieke films weer besoek. Otto e mezzoLa dolce vita (La Dolce Vita Trailer - Starring Anita Ekberg Dir. Federico Fellini – YouTube. Besoek 29 April 2020).

*

Seinfeld roep.

Die slim intertekste is opvallend. A, daar speel die temamusiek uit The Godfather wanneer Kramer die peetouer word. En George kyk Home Alone.

Vraisemblance ...

Beroemdes maak dikwels 'n buiging, maar jy moet Amerikaanse politiek en sterre ken en weet wie was die burgemeester van New York.

En Saddam Hussein is toe nie Saddam Hussein nie.


© Joan Hambidge

Reisrubriek | Totius tot Tao | 2020

$
0
0


Donderdag 30 April 2020 | Dag 35

Die bundel Kamerruite van Gerald Erasmus uitgegee deur Publishing World (ISBN 978 1 928 362 005) is genoeglik en binne hierdie tyd van inperking resoneer dit sterk met die idee van inperking. Die digter het ‘n handvol uitstekende kort verse en kwatryne geskryf:

Geloof
As ek ná nagte van in die donker tas
dan tog ook eendag stof word, of as,
sal ek dán weet of dié twyfelende
geloof tog geloofwaardig was?

Op die voorblad is daar ‘n venster, ‘n plant, ‘n rusbank, stoel en tafel - met oopgetrekte gordyne. Maar daar is nie ‘n mens nie.

*

Le dernier cri in literatuurteorie?

Die nuutse mode in die literatuurteorie sal natuurlik kongresse wees oor Covid-19.

Wanneer dit wel gaan plaasvind, bly onseker. Inmiddels word daar wel baie geskryf oor hoe klasgee verander het tydens inperking.
*
My Franse lesse duur voort. Boite de nuit is nog toe en hierom onmoontlik vir habillé à neuf.

*

In Die Burger word daar daagliks uit Die Bybel (Psalm 124: 8: “Ons hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het”) en die Koran aangehaal.

En vandag is die Dalai Lama ook aan die beurt: ons moet ander help, en as ons nie kan help nie is die minste wat ons kan doen om hulle nie te benadeel nie.

Bepaald waar. Maar met Covid-19 is die catch-22 van hulp ‘n yslike tameletjie.

Kospakkies word gesteel, klein besighede vou, gelde word nie uitbetaal nie, mense word “tydelik afgedank” – asof dit ‘n speler is wat jy op pause plaas – en vele mense is werkloos ná hierdie inperking.

Interessante artikels oor 5G wat glo die koronavirus eintlik veroorsaak het, word deur professor Basie von Solms verkeerd bewys. Nog ‘n samesweringsteorie. My apteker meen die virus is sedert die sestigerjare met ons en dit het  basies nou net gemuteer. Vanmiddag sien ek sy apteek is toe; hy is neffens die Checkers in Kloofstraat.

Ons moes siekes help; die virus uitstel, maar terselfdertyd is mense ook benadeel.

Sjina het die virus geskep; en die President bedank Media24 vir die groot skenking van 1 miljard met mediese maskers, ensomeer uit Sjina.

In die nag ‘n boodskap dat Cosmopolitan hul deure gaan sluit. Slegte nuus, omdat tydskrifte met mekaar verbind is.

Litnet gee uitgewers die kans om te praat oor lekkerste en slegste boekbekendstellings nog:

Kerneels Breytenbach aan Melt Myburgh:
Hy vertel van ‘n “ikoon van die Afrikaanse letterkunde” vir wie hy, in die dae toe hy uitgewer was, moes laat weet dat sy boekbekendstelling gekanselleer moes word omdat die enigste mense wat op die uitnodiging geantwoord het, personeellede by die uitgewery was. “Ons het vir hom ‘n soort meegevoel-geskenk gestuur; die ikoon het dit aanvaar en ‘n paar dae later begin met ‘n bitter e-poskampanje teen persone by die uitgewery. Die breuk is nooit herstel nie, tot my persoonlike groot verligting.” 
Waarom nie sommer man en perd noem nie? En wie was die bekende literator wat vrae uit die voorste gestoeltes uitgevra het oor Ester?

Bang vir ‘n kanne-herrie?

Noem man en perd.

6 van die een; ‘n halfdosyn van die ander.

*

Perec lees ek stadig. Hierdie roman behoort tot ensiklopediese literatuur met die verwysing na name, datums, plekke, herkenbaarhede. Sonja Loots se studie Ensiklopediese fiksie in die oeuvre van Marlene van Niekerk (2016) is van nut in my ondersoek.

Miguel de Cervantes, François Rabelais, Robert Burton en Laurence Sterne word as baanbrekers vermeld.

Sy verwys o.a. na een van my gunsteling teoretici Northrop Frye wat praat van die encylopaedic farrago (ensiklopediese mengelmoes) onder meer deur die gebruik van die katalogustegniek. Sy studie The Anatomy of criticism het in 1957 verskyn.

Die indeks van die roman is 58 bladsye lank sodat dit lyk na ‘n akademiese teks.

Op bladsy 501 is daar ‘n vloerplan met al die name van die inwoners sodat jy elkeen se woonstel kan visualiseer.

Die roman verskyn in Frankryk in 1978 en word vertaal in 1987 deur David Bellos.

Die skrywer sterf in 1982 en het skynbaar te veel gerook.

Op 23 June 1975 op die 11 Rue Simon-Crubellier verneem ons dat die blinde Engelse miljoenêr, ene Bartlebooth sterf. In sy hand hou hy ‘n stuk van ‘n legkaart vas.

En dan begin die leser saam met die implisiete verteller die stukkies van ‘n legkaart soek en bymekaar sit.

*

Laatmiddag is dit inkopietyd. Die minister van onderwys begin praat oor die nuwe strategie vir skole en hoe alles gaan verander. So meegevoer deur die toespraak ry ek sommer tot bó by die kabelkar en kyk na die pragtige stad wat voor my uitgestal lê. Neem ‘n foto. Met my selfoon.

Skielik is daar twee metro-polisiemotors langs my.

Die een polisieman klim uit. Ek verduidelik kalm en beredeneerd dat ek na die minister oor die radio luister en dat ek bekommerd is oor my studente. Oor aanlyn-onderrig en die onsekerhede wat dit inhou.

Hy kyk na my motor se lisensie en gelukkig glimmer die UCT-stieker teen die venster.

“Ja, maar jy mag nie hier wees nie. Die lockdown is nog nie verby nie.”
Nie nou tyd vir stry dat die lockdown more verby is nie.
“Waar bly jy?
“Net hier onder ...”
“Gaan dadelik huis toe.”

Verlig – en sonder ‘n boete ry ek huis toe.

Bepaald wat nou gebeur. Ons is so moeg vir ons huise en ry dieselfde paaie dat ‘n nuwe weg so aantreklik lyk. En dan vat jy ‘n kans.

Op Vrydag mag ons gaan stap tussen 6 en 9. My wekker is reeds gestel. ‘n Plaaslike Al Capone het sigarette verskaf.

Vroegaand kooi toe. Hoewel die inperking nou formeel verby is, sal daar steeds beperkings wees. Net een episode van Seinfeld toe is dit ligte af.


Vrydag 1 Mei 2020 | Dag 36

Van Wyk Louw se grootse gedig Mei-fees in Amsterdam klink so:

Mei-fees in Amsterdam

Die Eerste Mei is wit en blou
en elke bloeisel sing
en elke burger het sy hond
hier in die park gebring
om onder hierdie Boland-lug
te akkie waar hy wil,
maar ék loop in my hart en sing:
my fees is Een April.

Ek vier dit vir die somberes
dié wat op geilheid teer
soos sober en getroude pare
na dubbelbeddens keer;
die Waarheid is ‘n ént oud:
óns woord dein en word stil;
my woord was nooit die waarheid nie;
my fees is Een April.

Ek vier dit dronker as die fees
van ‘Tristan’, ‘Lanseloot’! –
dié wat met kielie van hormone
kon instap in die dood.
Ons beste is nie wat wonders nie.
God het ‘n kodisil:
die dwases kan die wysstes word:
my fees is Een April.

Dít vier ek in ‘n koel, grys oog
wat donker word van wyn
my tande die is wit van melk
en melk is nuut en rein:
ek prys dié wat die saad se krag
bloot in gebed verspil
en sing-sing loop ek terug uit Mei:
my fees is Een April.

(Uit: Tristia, 1962)

Van Wyk Louw word tans gehuldig op verskeie fronte ter herdenking van sy geboortejaar vyftig jaar gelede (Versindaba » Blog Archive » N.P. van Wyk Louw 50. Die wind in die baai (Voorlesing deur N.P. van Wyk. Besoek 1 Mei 2020).

Die digter kyk terug na 1 April vanuit Mei: die dag van die Aprilgek, maar die fool in die tarot bedui ook onskuld, ‘n suiwer hart. Die kaart 0 waarmee die tarot begin. Na bo: entoesiasties, suiwer van hart - na onder: swak oordeel en verkeerde keuses.

*

Jean Oosthuizen wys op die aandklokreël wat van Vrydag sal geld. En dat ouer mense dalk ellende in die gesig staar:

“Vir diegene ouer as 60 lyk die prentjie vorentoe nog donkerder as vir die jonger geslag. Die ouer geslag moet hulle gereedmaak vir ‘n hele paar maande agter slot en grendel as dinge nie drasties verbeter nie.” (Maak gereed vir nog ’n lang skof inperkings - Voertaal. Besoek 1 Mei 2020).

Wel, nou onlangs het ‘n sekuriteitsman my aan die arm begelei ‘n winkel binne. Toe besef ek: vir hom is ek bejaard!

Auk!

Vandag op 1 Mei het mense langs die see gaan wandel. Bondels mense. Maak dit nie dalk die hele inperking ongedaan nie?

Vanmiddag is die Italiaanse egpaar aan mekaar se kele. Hoë Mediterreense stemme met verwyte wat rondgeslinger word. En natuurlik gaan dit oor geld.

Jare gelede het ek ‘n studie oor geld en verhoudings gelees; as jy nie alles binne die eerste drie weke aanspreek nie, word $ ‘n issue.

Hoe dankbaar is ek nie vir my solovlug nie! Geen verwyte, geen aansprake, geen dit of dat nie. Kan haas nie eers meer onthou waarom ek eens op ‘n tyd betrokke wou raak by iemand nie ...

Aardbewing

‘n Aardbewing tref Tokio
op ‘n onverwagse uur. Geboue stort
ineen, mense sterf,
paniek en angs. Paniekangs.
‘n Bars breek die stad in twee.

In die kafee Roserijn in Amsterdam
Staan ‘n vers teen die muur:

“Gedacht
aan haar

Gekeken
na haar

Met haar
meegegaan

Van haar
weggegaan

Nog
aan haar
gedacht” 

Ná die aardbewing in die twintigerjare,
was daar ten slotte meer skade deur vuur.
Mensgemaakte strukture wat eens behoed,
word opeens dit wat ‘n ramp nie kon verhoed.

(Uit: Kriptonemie, 1989).

Got the T-shirt, thank you.

*

Vanoggend is die katjie weer in ons tuin aan die lanterfanter.

Toe ek Johann de Lange se Burmese kat Gunar die eerste keer ontmoet, was hy sowat ses weke oud en hy’t vir my geblaas, want hy het my as ‘n binnedringer beskou.

Johann trek Kaap toe, gaan vir ‘n naweek weg en vra ek moet vir Gunar en Vareck kosgee.

Toe ek die woonstel binnestap in Seepunt, blaas Gunar vir my. Hy spring op die yskas en maak sy rug krom. Hy háát met ‘n onverbloemde haat. Ek gee kos en slaan op vlug. Weier om weer au père te speel.

Twee maande later sit ek en Johann en gesels in sy sitkamer. Die klein Siamees skuur teen my bene en ruik aan my leertas.

Skielik voel ek ‘n pootjie teen my arm.

Dis Gunar. Hy sit in die vensterbank. Uiteindelik word die olyftak aangegee.

Hierdie pragtige vers handel oor die dood van Johann de Lange se geliefde katte (Kaapse Paragrawe/ Die dood van diere. Besoek 1 Mei 2020).

Die dood van diere
vir Gunar, Vareck, Toulouse & Yoshi

Hoe goed om nié te weet
dat daar ‘n einde kom
aan jou bestaan: nie te hoef vergeet

jy leef louter in die japtrap,
sonder aanstons
of weleer. Ons daarenteen

bevolk drie tye tegelyk
& ken berou
& weet ons dade yk.


Saterdag 2 Mei 2020 | Dag 37

As daar een teks is wat hierdie tydvak waarskynlik die beste opsom is dit Totius se Trekkerswee, daardie lang epiese gedig wat in 1915 verskyn het (Trekkerswee by Totius - Free Ebook. Besoek 2 Mei 2020).

Wee soos in weemoed; nie weg wat weë word nie.

“Hul leed blyk dan ‘n wolk so rein.
Op huweliksdag
‘n soete oorwinningsvrede skyn
in purperprag.
“Maar – die oorlogswoord roep haastig rond.
‘Ag, Hendrik, hoe’s ons droom so kort!’–
Liefs kort gedroom, as Britse grond
en slawe word.’

Hierdie digter word deur ander digters en skrywers se boeke lewend gehou. Ons dink hier aan Opperman en ook aan Harry Kalmer se pragtige boek oor Johannesburg.

In 1977 is die digter Totius vereer met ‘n seël en in 1977 het die beeldhouer Jo Roos ‘n standbeeld van hom gemaak vir Potchefstroom.

Nou sal digters waarskynlik aan die werk moet spring en ‘n epiese vers skryf oor hierdie tydvak vol kognitiewe dissonansie en dubbelpraat.

Wanneer die President iets sê – byvoorbeeld oor die opheffing van die rookverbod – dan kom ‘n adjudant en besluit dit mag nie. Gelukkig is Jacques Pauw nou besig met ondersoekende joernalistiek en om te kyk watter ongerymdhede hier skuilhou. Facebook verpak reeds foto’s en insinuasies. En die speakeasies in Kaapstad dreun ondergronds.

Inmiddels is daar ouers wat weier om skoolfonds te betaal, omdat hulle die kinders tuisonderrig. Wat weer tot gevolg het dat sekere skole nie meer onderwysers sal kan betaal nie.

*

Vandag ‘n gemarineerde hoender (spatchcock / gevlinderde hoender) gaan koop by die Duitse slaghuis vir die Sondagmaal. Met heerlike Portugese sardyne (in groen rissie en uie) as voorgereg. Ons gaan heerlike groente eet en ‘n braai is van die baan. Die winter is hier.

My buurman sny my hare met sy knipper. Baie netjies en aanskoulik en ek spot hom: Chez Luan.

Is ons nog in grendeltyd?

Bepaald. Die verslapping is oppervlakkig. Stap mag jy vroegoggend, maar 5 nm is daar ‘n aandklokreël. Max du Preez het tereg in Vrye Weekblad gewys op hoé regte in onse demokrasie van die tafel gevee word.

En die onsigbare ekonomie – soos ek dit sien – is aangetas. Mense wat footjies gee vir kelners en helpers en taxibestuurders kan hierdie mense nie meer vind nie.

Vandag is pizzaplekke oop vir wegneemetes.

Bacini’s in Kloofstraat se deure is oop nes New York pizza onder in die straat.

*

Luister steeds Frans. Die aanleer van tale verryk inderdaad ‘n mens se lewe, al is dit net ‘n leeskennis wat jy opdoen. So sou ‘n leser of keurder van digbundels weet Le grain de la voix is nie vernaamdoenery nie, maar ‘n verwysing na Roland Barthes.

En lees Perec stadig. ‘n Klassiek en staangemaak op my boekrak langs belangrike werke soos Lolita van Vladimir Nabokof, A.S. Byatt se Possession, D.M. Thomas se The white hotel, Saul Bellow se Humboldt’s gift, Karel Schoeman se Hierdie lewe, Etienne Leroux se Die derde oog...

*

Seinfeld se grappe en gevathede asembenemend.

Soos dat Monet se skildery lyk soos dit lyk omdat hy bysiende was!

Die dekonstruksie van lag gebeur wanneer ‘n kollega van Elaine ‘n vertoning bywoon en Jerry koggel. Die kodes van die aand ontgaan haar en Jerry, op sy beurt, besoek haar op kantoor en wys haar op haar ontoepaslike gedrag by ‘n uitgewershuis: “Hoe durf jy sandale werk toe dra? Is jy nie bang jou voete stink nie?”

Alle grappies op ‘n stokkie. Agter die humor is daar fyn analises van konvensies en vooroordele en Seinfeld het my deur die eerste weke van grendeltyd gedra (Seinfeld (season 5) - Wikipedia. Besoek 2 Mei 2020).

*

Nou haal ek ernstige films van die rak. Dis tyd weer vir die Hongaar Béla Tarr, Bergman, Fellini, Tarkovski, en al die grotes.

Sátántango, het wyle Susan Sontag beweer, kon sy beslis een keer ‘n jaar kyk. En hierdie Hongaar kan films maak: lank, stadig, met ‘n realistiese uitbeelding van mense.

Nou ja, in ‘n land waar mense dink Fiela se kind en die jongste Afrikaanse rolprente by die Silwerskermfees is great, moet ek seker maar stilbly. En die joernalis op RSG meen dit was die laaste strooihalm wat die kameel se rug gebreek het; bedoelende seker dit was die laaste strooi.

‘n Mens gryp na strooihalms ...

En ontdek ‘n film wat ek nooit gekyk het nie: Jacques Rivette se kultusrolprent van 1974: Celine and Julie Go Boating(Céline et Julie vont en bateau).

Opvallend die verwysings na die tarot.

*

Nou weer ‘n handeklap op die stoepe. Nog ‘n dag is oorleef.

Die wysie van “O goedheid Gods hier nooit volprese ...”, draai al die hele dag in my kop.

Selfs ‘n mens met ‘n hart van klip sal geraak word deur die Mormoonse Tabernakelkoor (Hallelujah Chorus, from Messiah - Mormon Tabernacle Choir - YouTube. Besoek 2 Mei 2020).


Sondag 3 Mei 2020 | Dag 38

Grendeltyd word gromtyd op hierdie vroeë Sondag waar Saterdag ‘n paar ure agter my lê.

Celine and Julie Go Boating (Céline et Julie vont en bateau) nog nie klaar gekyk nie. Te steurend die eksistensialistiese krisisse. Béla Tarr moet ook eerder wag.

In die nag kyk ek liewer na Seinfeld se sesde seisoen. Opbeurend. Vermaaklik. Elaine kry ‘n job by Doubleday waar Jackie Kennedy gewerk het. In ‘n histeriese nabootsing word sy Mevrou Onassis met ‘n sonbril en Gucci-serp.

Dit blyk sy het nie Jackie O se poise nie, maar kry wel die werk as die baas se persoonlike assistente. Met grappe oor potlode en ink wat rondflenter.

Uiteindelik word die baas se afsku in ink ‘n heerlike vehicle vir politieke kommentaar. Elaine mors op sy gesig. Dit word ‘n Hitler-snor en met ‘n toespraak word steke uitgedeel.

Jerry en George in ‘n hotelkamer word Ollie en Stan.

Hallmark-kaarte word opgestuur. Is jy ‘n Hallmark-hooker wat sulke snert vir mense stuur?, word gevra. Jerry stel voor dat daar een kaart moet wees wat alle geleenthede / herdenkings in een kaart sit; geteken deur die kantoor.

Skreeusnaaks is George se hantering van Truman Capote se Breakfast at Tiffany’s wat hy moet lees vir sy boekklub. Hy kry raad: kyk eerder die film.

Wat hy dan doen!

Die videowinkel vertel dis uitgeleen en wederregtelik kry hy die persoon as adres wat dit het. Lui die voordeurklok en wurm hom in die mense se huis in.

Maak hulle stil. Drink hulle drank en mors op die rusbank. Boonop word dit ‘n stuk politieke kommentaar, want die inwoners is middelklas swart inwoners.

*

Sondagmiddagete is voortreflike gevlinderde hoender met pampoen en kaneel, gebakte aartappels, gestoomde groente.

Ons speel restaurant-restaurant. Die Sondagmiddag het ‘n winterbyt.

*

Jackie O

“When you look back on your life,
you hardly recognize the person you once were.
Like a snake shedding skins.”

Jacqueline Bouvier
Mevrou Kennedy
Jackie O

equestrienne
eerstevrou
mode-ikoon

glimlag skelm
soos die Mona Lisa
draai die Franse óm

haar pinkie
grabbel die flenters
van ‘n brein op

toe sy oor ‘n
sitplek spring geZapruder
met ‘n pienk Chanelrok bebloed

vir die aankondiging
langs LBJ
haar seun salueer

‘n stoet;
sý elegansie,
grasie, styl

kruip weg op Skorpios
met Ari O
waar die paparazzi

háár teregstel
tweekeer geweduwee
begrawe langs JFK,

hul seun, Patrick
en Arabella,
‘n stilgeborene.

Lap nooit uit,
blad voor die mond
oor daardie af-gryslike
durende wond.

(Uit: Matriks, 2015).

Jackie Kennedy Onassis was ‘n briljante vrou. ‘n Perderuiter en soos Camille Paglia aantoon, het sy waarskynlik kon oorspring oor die karsitplek om JFK te probeer red, omdat sy ‘n perderuiter was. Paglia noem haar Mona Lisa in motion.

Vir Oleg Cassini was sy Nefertiti.

Die paradoks van die openbare persoon oor ons nooit sal weet wie sy werklik was nie, word in Vanity Fair ondersoek. Die onderhoude met William Manchester is toegesluit in die JFK-biblioteek en onbeskikbaar tot 2067.

Truman Capote het haar negatief uitgebeeld in sy laaste roman Answered prayers waarin hy die jet set van New York uitgehaal het; hieroor was sy nie te spreke nie.

Die selfbeheer en afstandelikheid word toegeskryf aan die impak wat ‘n alkoholis-vader op haar psige as kind gehad het (The Private Jackie | Vanity Fair. Besoek 3 Mei 2020).

*

Nou weer Franse grammatika.

Nou wonder ‘n mens hoe jong studente vaar met die aanleer van vreemde tale in die aanlyn-ekskursie waar die dosent moeilike grammatika-beginsels via ‘n videogreep moet verduidelik.

Pour tout dire –

‘n Vriend stuur rubrieke aan oor plaasskooltjies van indertyd. Van kinders uit verskillende ouderdomsgroepe in een klas tot die kind wat nou alleen in sy huis voor ‘n rekenaar moet spook om sin te maak uit grammatika.

*

Raymond M. Smullyian se The Tao is silent (1977) beweer Tao is orals. En dis vroulik.

Out from the nostrils of the Great Buddha
Flew a pair of nesting swallows.

En RVR beweer in Die Burger dat die einde van die wêreld aangedui word deur die einde van voëls.

Wat het van die duiwe geword wat jaarliks op my balkon lawaai en kleintjies agterlaat?

Hulle is weg.

© Joan Hambidge


Reisrubriek | Die opheffing van verveling | 2020

$
0
0

Maandag,  4 Mei 2020 | Die volgende fase van inperking

So ontdek ek alkoholvrye wyn by ons superette: Leopard's Leap.

Net goed met kos wat sout is ... as wyn per se: nou ja ...

Vroegaand maak ek vir ons die Portugese sardyne gebraai in olyfolie en dan gestoom met 'n toe deksel in groen rissies, uie en knoffel.

Smulpaaplekker.

*

Deborah Steinmair skryf 'n genoeglike rubriek oor skrywers en haar verbintenis met hulle op Litnet.

Sy beweer:
Vir Marlize Hobbs loop ek hier weer raak. Ek hou vol sy is Goosen se opvolger. Haar novelles is dig, woordekonomies en digterlik. Daar is veel van Afrika wat aan haar kleef, ’n grootheid van gebaar, ’n ritme in die heup, ’n droë segswyse, ’n wye lag, donker oë wat takseer, beeldspraak ryk soos grond.
Jeanne Goosen se opvolger?

Waarom wil resensente of rubriekskrywers altyd 'n skrywer as 'n opvolger sien? Ek onthou 'n belaglike resensie jare terug in Die Burger waar Doc Immelman met Hemingway vergelyk is. Hierop was my reaksie: as Doc Immelman die Hemingway van Namibië is, dan is ek die Emily Dickinson van Kaapstad.

Dit is uiteindelik 'n vergelyking wat beslis nie vir 'n skrywer 'n kompliment behoort te wees nie. Meer nog: Jeanne Goosen is as novelle- en romanskrywer is enig in haar soort.

Waar hierdie leser skrywers vergelyk het met ander, is dit bloot om hulle binne 'n sub-genre te plaas.

Why be second in a look alike competition?


*

Seinfeld dreun aan. Die taboes word al hoe skerper ontbloot.

Daar is 'n vals diefstal (Kramer hou George vas) om die onwelkome Duitse toeriste te verjaag. George het crib notes op sy vinger geskryf om seksuele tegnieke in die bed te kan onthou. Tot die chagrin van die vrou. Seksisties? Inderdaad, maar grappe is grensoorskrydend en taboe-ontmaskerend.

Wanneer Elaine die Stanley Kowalski-mechanic uitvra oor hoeveel 'n piston kos as speurder vir Jerry, kry motoronderdele seksuele toespelings in die bed. En mans wat oor vroue se intimiteite praat, word ook hier ondersoek.

Elaine se interaksie met 'n gay-man as 'n beard wys op die vooroordele van uit die kas wees. Die proktoloog word besoek met die vrees vir anale seks wat onder die loep geneem word.

Nes bra's vir mans wat wys op gender-stereotipes.

Jon Voight word bespot. George koop sy motor tweedehands; dit blyk egter 'n ander Mr. Voight te wees. Midnight Cowboy se musiek speel aan die slot met Jerry wat wankel in cowboy-bootse. Dié akteur maak 'n kamee-buiging (Midnight Cowboy Official Trailer #1 - Dustin Hoffman Movie (1969) - YouTube. Besoek 5 Mei 2020).

Everybody's talkin'.

Selfs Fidel Castro en die kommunisme word opgestuur.

Bulimia word vergelyk met refunding met die suinige George wat kla oor die vermorsing van geld.

As jy re-gift kan jy ook de-gift meen die skerpsinnige Jerry.


Dinsdag, 5 Mei 2020

- Life is an old casino in a park .
Wallace Stevens

In die nag raas die bure onder my se geyser. Die volgende oggend ontdek ek dit is mý geyser en ek maak die warm kraan in die badkamer oop en daar stop die geknor.

'n Wind gesluk? Watertoevoer sleg?

Wie sal weet.

*

Die Franse lesse gaan voort. Op die internet verneem ons Rooi Rose en Vrouekeur gaan sluit.

*

Dryad Press vra hul digters vir 'n foto van jou studeerkamer met 'n onderskrif.

Quasimodo Salvatore se En skielik is dit aand is vir my gepas:

Ognuno sat solo cuor della terra,
traffito da un raggio de sole:
ed è sùbito sera

(Elkeen staan alleen op die hart van die aarde,
deur ‘n straal van die son deurboor:
en skielik is dit aand)

Salvatore Quasimodo (vertaal deur Wilhelm Knobel)

*

Na strekoefening en skoonmaak buite die blok, luister ek FMR.

Wagner se Tannhäuser. Verrulik die overture waar die spanning tussen Venus (liefde) en deug uitgewerk word (Wagner/ Tannhäuser Overture - Thielemann / Münchner Philharmoniker - YouTube. Besoek 5 Mei 2020).

Wat sou ons doen sonder hierdie meesters in hierdie tyd van in-perk-ing.

*

In The Understudy is die onoortroffe Bette Midler daar. Jerry het 'n huilende meisie, Gennice en weens 'n ongeluk met softball, word sý dame die understudy vir Ms. Midler.

Sy dink dat George en Jerry met opset dit gedoen het sodat sy Midler kan vervang in die musiekblyspel Rochelle Rochelle.

Sy huil wanneer hulle The Beaches kyk, maar huil nie wanneer haar ouma sterf nie.

Die pers en selfs taxibestuurders is gekant teen die laakbare gedrag van Jerry en George.

Gennice se optrede is 'n ramp. Haar skoenveter gaan los ... 'n Parodie dalk van die Olimpiese skandaal in 1994 met Tonya Harding en Nancy Kerrigan? Of sommer net robuuste humor?

Maar watwo: Kramer is die redder. Hy beskerm Bette Midler teen die pers en almal wat wil verskoning vra. Hy maneuver haar hospitaalbed uit en af in die gang ... en in die slot hoor ons sy is by hom tuis.

Tussendeur is George se pa ook aanwesig om Elaine te help by haar Koreaanse manikuur-lokaal om te hoor wat die Koreaanse vroue van haar sê. Hy verstaan glo Koreaans en sien weer 'n ou hartedief. In Korea het hul verhouding platgeval, want hy kon nooit sy skoene uittrek nie weens 'n stankprobleem (Seinfeld Top Sports Moments -George and Bette Midler - YouTube. Besoek 6 Mei 2020).

George is verloof en Elaine is groen van jaloesie. Sy bieg dit aan die rabbi in haar woonstelblok wat alles uitblaker op TV in 'n diens. George en die verloofde (wat hy eintlik wil los) kyk na hierdie uitsending en alles wat Elaine in vertroulikheid bely het, word hier uitgestal: soos dat George 'n loser is!

Die rabbi onthul ook op hierdie pryslose uitsending dat George meen om 'n prostituut besoek is nie verraad teenoor jou geliefde nie; jy sien mos nooit weer daardie persoon nie.

Baie slim word die impak van skinder en stories oordra, geanaliseer. Ons sê almal goed vir vriende in vertroue, maar die definisie van skinder is wanneer jy dit oorvertel met die doel om iets uit die transaksie te kry.

''n Fyn weefwerk met storielyne uit die verlede wat telkens opgetel word en verder geneem word.


Woensdag, 6 Mei 2020

Die oggend begin laat. 'n Redelik onstuimige nag vol drome en herinneringe. Vanoggend stuur iemand vir my Nessun Dorma via whatsapp met 'n sanger wat uitbulder dat hy genoeg gehad het van die korona-virus.

Heerlike satire.

*

Die gewone roetine: winkels, ry deur die strate wat 'n bietjie besiger raak en verskeie e-posse om te beantwoord.

Mense se uithouvermoë word beproef tot die uiterste.

*

Dis weer Seinfeld en ek.

Genderanalise. Wat weet mans van vroue se siklusse? En weet hulle wát vrouens gebruik as voorbehoedmiddels?

Róndom hierdie taboe word gekke situasie geskep. Elaine koop die laaste spons-middels en weier om vir George een te gee wat weer in 'n situasie moet vredemaak met make-up-sex.

Elaine is 'n man's woman (nie 'n man's man nie): sy haat ander vroue en ander vroue verag haar. Jerry op sy beurt verwys verminderend na vroue se tickle fights.

Wat veral opvallend is hier teen Seisoen 6 is die jaloesie tussen vriende. Jerry en Elaine is jaloers op mekaar en vele intriges ontstaan rondom 'n kat wat uit die sak gelaat word.

Tog is hulle lojaal teenoor mekaar. Hulle is 'n groep wat ander uitsluit (hierdie viermanskap) en wanneer iemand probeer binnedring, is dit tydelik.


Donderdag, 7 Mei 2020

Vanoggend is die stadsraad aan die werk hier by ons gebou. Die watermeter word reggemaak en 'n poel, vuil water stroom uit voor die gebou.

Kry nie geskryf nie – raasbekke onder my.

*

FineMusicRadio laat nie buite-mense toe nie. Dus moet my radiowerk wag tot na die inperking tot 'n volgende vlak skuif.

Inmiddels lees ons resensies van boeke op PDF's en skrywers wat in hierdie tyd publiseer, weet nie of iemand ooit die boek gaan koop nie. Dus is my resensie vir FMR virtueel:

Luistervink Madré Marais / FMR
Human & Rousseau, 2020
Resensent: Joan Hambidge

Hierdie debuut word tereg as verrassend bemark.

Twee lesers sien dit as volg, die een 'n gesiene akademikus, die ander 'n uitstaande kortverhaalskrywer.

Thys Human skryf: “Veral opvallend is [die skrywer se] vermoë om bykans moeiteloos onder die vel van uiteenlopende karakters in te kruip . . . die verhale getuig van uiters belowende vertelvermoë, vakmanskap en woordgevoeligheid.”

Riana Scheepers meen: “Die stories laat my dink aan ‘n groot boom: indrukwekkend om na te kyk, maar nog meer opwindend om onder die blaredak die fyn takelwerk van vertakkings te sien wat die boom bóóm maak.”

Afrikaans het 'n lang tradisie van kortverhaalskrywers. En die kortverhaal is nie 'n oefenplek vir die romanskrywer-in-wording nie, het Hennie Aucamp gereeld gemaan. Dis 'n afsonderlike, unieke genre met sy eie voorskrifte en eise. Alice Munro se bekoorlike lang kortverhale is bekroon met die Nobelprys vir letterkunde.

'n Luistervink is 'n afluisteraar. En hierdie belangrike debuut bring twee kwessies na vore: die oor (stories wat vertel en gehoor word) en die landskap (die ruimte). Die skrywer dra dit op aan die landskap waarin sy mens geword het (jou vlaktehemel en jou sterreveld). Inderdaad is die landskap of plek hier 'n belangrike aanwesigheid, soos in die kortverhale van die ou meesters : Eugéne N Marais, Hennie Aucamp, Abraham H. de Vries, en vele ander.

Ons het almal 'n storie om te vertel en kyk hoé het die filmmaker Pedro Almódovar 'n verhaal van Alice Munro oorvertel in sy film Julietta. Aucamp se “Vir vier stemme” het hy as 'n vertelling gehóór by iemand wat nie presies geweet het wat sy alles vertel het nie.

En hierdie aspek is tersaaklik by die lees van hierdie 13 kortverhale wat die donkerkant van die menslike bestaan ontgin soos onbeantwoorde liefde wat bly draal of 'n onderwyseres wat in twee kinders se rusies haar eie komplekse verhouding met 'n man in-lees en letterlik sien en hoor.

Ruimtes van hier word teen 'n buitelandse wêreld geplaas in die sentrale verhaal “Grond” waar die wêreld groter is as Doornrant waar die wind 'n rooisandduin teen die hoekpaal op die grens van die plaas gestoot het. Die fokalisator herinner haar aan die vlakte en die bloupers rantjies.

En dit word geplaas naas die keisteenstraat of die kaart van die moltrein in Engeland. Met net 'n pleknaam of onderskrif (100).

Al die verhale waaier oop rondom hierdie sentrale verhaal uit die wye wêreld: “geadresseer aan 'n krimpende bestaan”. Uiteraard kan 'n mens nie anders as om vele aspekte van landskap, grond en land te lees deur jou bril van ingrendeling nie.

Plaaslewe, reën, droogte – met die wete dat elke lugspieëling twee kante hét.

Die kort-kortverhaal soos in “Afguns”, “Jy loop na 'n drom en skep”, en “Sinker” word goed beheer. Less is more. En hierdie soort verhaal wérk soos 'n gedig met 'n slot wat alles goed moet opvang in 'n bliksemslag.

*

Daar is pragtige evokatiewe taalgebruik soos “ook die donssagte getortel en krapgeluide op die sinkdak het sy aandag ontwyk” (80).

“Hy laat sak sy stert en draai sy kop en knip sy ogies, en sy vlerke klap die ritme van 'n bang, bang hartklop teen sy lyf uit ...” (26).

*

Hoe lui die jazz-liedjie nou weer? “I double dare you to lend me your ear!”

Ironie, distansie, die donker kant van die psige staan hier opgeteken.

*

In 'n wonderlike episode dink George hy staan 'n kans met Marisa Tomei. Sy hou glo van vet, kaalkop-komediante. Natuurlik kry hy 'n smoelneuker wanneer sy hoor hy is verloof. Over the top, maar jubelmateriaal (George with Marisa Tomei - Seinfeld clip - YouTube. Besoek 7 Mei 2020).

Eweneens 'n analise van hoe fantasie en projeksie werk.

En dit help ook nie veel wanneer Susan, die verloofde met haar poppe slaap nie. Boonop lyk een soos sy ma en hier word weer die spot gedryf met psigoanalise.

En ja, die spottery met die Italiaanse kultuur en George se pa wat op soek is na sy neef - met temamusiek uit The Godfather – is slim. NY is immers die tweede woonplek van Taljaners.

E stanno tutti bene!

© Joan Hambidge

Reisrubriek | Skink vir die harlekyn nog wyn | 2020

$
0
0

Vrydag, 8 Mei 2020 | Die goeie avontuur vasgelê in die hand

My dag begin sommer onderstebo toe ek lees op die internet dat sigarette steeds verbied word. En wette. Reëls. Strawwe. En die paranoia wat ons so omsingel dat mense nie meer die lewe kan geniet nie. As jy nie 'n masker selfs in jou motor aanhet nie, kan jy beboet word. Dan het jy 'n kriminele rekord.

Die vrees- en frustrasievlakke styg. Aanrandings en gendergeweld is aan die orde van die dag, en soos Amanda Gouws nou onlangs in haar rubriek in Die Burger uitgewys het, is daar selfs hotelle in Frankryk waar vroue beskerming kan geniet.

Hoe maak 'n mens as 'n man en vrou in so 'n bose kringloop vasgevang word? Klop jy aan die deur met versoeke tot stilte? Skryf jy 'n brief aan die verhuringsagentskap? Bel jy die polisie? 

Want ás jy stilbly, kondoneer jy geweld. Uiteraard is dit 'n bose sirkel van rusie – geweld – ópmaak sodat die vernielde vasgevang word in hierdie doellose web wat om haar of hom gespin word. Want mans kan ook verniel word deur partners.

Is jy skepties? Inderdaad ken ek gevalle waar die man swaar gestraf word deur die vrou se emosionele geweld en beledigings. Is 'n vuishou erger as 'n gemene tersyde soos jy is klein van aansien (en aanhang) en jy ly aan premature tokkelossies? 

Of insinuasies oor vaderskap?

Hiermee praat die uwe nie fisieke geweld weg nie en moes al as voorsitter van die Body Corporate mense aanspreek oor sodanige onaanvaarbare gedrag.

*

In hierdie tyd beland In the dream house van Carmen Maria Machado wat verlede jaar verskyn het op my lessenaar. Dit het internasionaal opslae gemaak het. Hier het ons eweneens 'n skrywer wat agentskap binne 'n lesbiese verhouding fiksionaliseer en vanuit verskillende perspektiewe beskou: as American Gothic, as pathetic fallacy, as spy triller, ensomeer.

Die verteller analiseer agentskap en hoe geweld binne verhoudings funksioneer. Sy ontmasker stereotipes oor lesbiese verhoudings en dat geweld ook binne hierdie domein gedy.

*

Die dag is gevul met e-posse om probleme op te los. Tussendeur – in dooie tyd – luister ek Frans.


Saterdag, 9 Mei 2020

Lucky Strikes. Dis al wat nou te vinde is vir rokers. Goddank dis nie Gunston Toasted of daardie dun Vogue-sigarette nie.

*

Waarom kyk ek so verbete na Seinfeld? Juis omdat dit die menslike kondisie uitwys as vals, leeg en agterbaks. En selfs in vriendskappe is daar gemeenhede en jaloesie. Of juis dalk daar?

Die humor is skerp. Jerry droom van Marie Antoinette by die guillotine. Die kop wat rol is egter Neil Diamond s'n wat Solitary man sing.

Petula Clark se Downtown word 'n sleutel vir die arme George wat alweer nie 'n opdrag by die werk reg verstaan nie.

Grappe gedy: 'n mens gee 'n footjie om negatiwiteit te systap. 

Jerry vind 'n perfekte metgesel met dieselfde voorletters as hy en meen: “I am looking for myself.” Maar wanneer dit verby is, het hulle die perfekte opbreek. Geen woede, geen verwyte nie. Helaas niemand glo hulle nie.

Wanneer Susan sterf omdat sy die trou-uitnodigings se koeverte lek, is George verlos van die gedwonge huwelik. Grensoorskrydend? Bepaald. Maar karakters word dikwels só verwyder uit sepies. Dink maar aan Dallas.

Daar was weliswaar groot polemiek hieroor – en George moes verduidelik en bontstaan. Vir my is hierdie episode dalk net te erg. Die satire gitswart (Stern Show Clip - Howard Talks To Jason Alexander About Susan From Seinfeld by Howard Stern | Free LBesoek 10 Mei 2020).

Hier is die onderhoud:

Skynbaar wel van haar gehou, maar sy het George se scenes geïntimideer en beweer. Dit het net nie tussen hulle gewerk as akteurs nie (Finally revealed/ The brutally honest reason why Seinfeld killed George’s fiancé Susan – BGR. Besoek 10 Mei 2020).

Maar die edge is altyd daar. 'n Gesteelde motor word ondersoek deur 'n polisiebeampte en die eienaar asof dit 'n lykskouing is met 'n dwarsklap na al die misdaadverhale op televisie.

*

Aaptwakkies, papegaaislaai, insangu, Mbjane, marijuana, zol, skyf, peperskyf, joint, ghanja, lagtwak, rondkyk-rothmans, inspirasie-spinasie, o.a.

In die buurt ruik 'n mens die lagtwakkies. Heinz Mödler het 'n belangrike gids hieroor geskryf: ... en daar was Dagga.

Cannabis sativa.

Theunis Engelbrecht het 'n roman met die titel Papegaaislaai gepubliseer:

Daar is ’n gespot met new age-sieninge en op bladsy 158 word die mees absurde titels naas mekaar gestel. ’n Satiriese klap na moderne skrywers wat so ewe slim-slim vir hul lesers wenke in die teks gee na die sleutels om die boek “reg” te verstaan. Hier staan Potjiekos van Matie Brink nie om dowe neute nie. En dis presies wat hierdie roman doen. Die grappe is opgesluit in die vreemde mengsels (Woorde Wat Weeg/ Theunis Engelbrecht - Papegaaislaai (2014)Besoek 10 Mei 2020).

Nou veiliger om betrap te word met dagga as met 'n sigaret. Jy mag verdink word dat jy dit onwettig aangeskaf het.


Sondag, 10 Mei 2020

Nog nooit was mense só gekonnekteer as júis nou nie. Daar is 'n netwerk van omgee en uitreik. 'n Verdieping van 'n woonstelblok in Kloofstraat, twee blokke van my, brand af. Vyf woonstelle afgebrand – dus mense sonder 'n blyplek of klere.

Die petroljoggie by die Engen-garage meen die brandweer het te laat opgedaag.

*

Die onthullende onderhoud van Hanli Retief in Rapport met Rooi Rose se redakteur, Martie Pansegrouw laat 'n mens hoop dat hierdie tydskrifte tog weer 'n nuwe lewe sal kry. Herman Lategan gee 'n uitstekende oorsig, ook in Rapport, van glanstydskrifte hier te lande en hoe Jane Raphaely onder andere styl gevestig en joernaliste opgelei het. Jy sit nie agter jou lessenaar nie; jy gaan soek na die storie. Na die klein besonderheid wat iemand anders misgekyk het of dalk nie kon vermeld nie.

Die koerant kondig aan dat Wes-Kaap dalk gaan terugbons na Vlak 5.

Skink vir die harlekyn nog wyn ...

*

En ons begin al hoe meer verstaan hoe die Israeliete moes voel om veertig jaar doelloos rond te dwaal.

Ann Fierry se boek Palmistry (1998) het ek jare gelede tweedehands aangeskaf. Teen R86, 00.

Vertel jou hoe om die palm se lyne te lees en vertolk.

Sy begin met 'n aanhaling uit Job 37: 7: “God seals up the hand of every man that all men may know his work:

La bonne aventure dans la main. Sy gee verskillende chiromantiese kaarte weer en daar is selfs 'n handkaart van Napoleon.

En hoe om hierdie lyne te interpreteer. Op universiteit had ek 'n vriend wat palms kon lees. Vele was skepties, maar daar is wel sekere dinge ingeteken. 

“Bulging life line” dui op 'n lang lewe. Ek kyk na die lyne op my hand soos 'n wafferse waarsegster en kyk hoe die rasionele en liefdeslyne loop.

Henk Serfontein had iets beet toe hy digters in hul hande 'n gunsteling-versreël laat opskryf het (Henk Serfontein se nuwe solo-uitstalling, Handskrif/ 'n onderhoud | LitNetBesoek 11 Mei 2020).

In 'n laai ontdek ek 'n klomp tarotpakke – selfs 'n James Bond-een.

*

Nou eers verder lees aan die pakkende roman In the dream house.

Die keel trek toe wanneer die verteller die virus wat die aarde sal plattrek, voorspel.

Die einde nie as vuur of vloed nie, maar as 'n virus wat van kontinent tot kontinent spring. 

*

Sondagaand. Hoewel ek tuis is en more nie 'n werksdag vir my is nie danksy sabbatsverlof, knaag die Sondagaand ouder gewoonte aan my.


Maandag, 11 Mei 2020

Media24 plaas hierdie resensie:

Petrovna Metelerkamp – Jeanne Goosen: 'n Lewe vol sinne. Hemel & see boeke, 2020. ISBN 9781 928 2833 93
Resensent: Joan Hambidge

Kort op die hakke van Het jy geweet ek kan toor en 'n boek met aforismes Los gedagtes,verskyn daar 'n biografie oor die veelkantige Jeanne Goosen: digter, kabarettis, dramaturg, romansier, rubriek- en kortverhaalskrywer. Uitsonderlike pianis, raconteur sonder weerga en dwarstrekker. Bekroon én bemind.

Daar is 'n chronologiese verslag van die lewe met hiate (wat die biograaf erken en aanvul uit die fiksie); daar is briewe (deur Goosen en van ander) en dan 'n afdeling “Vriende vertel”. Van 1938 tot nou.

Die storie-van-die-vriende vertel almal dieselfde storie: briljant, selfs geniaal met 'n woeste, donker kant wat menige vriend teen die ken of in die maag getref het. Maar altyd weer vergifnis juis ómdat daar soveel pyn is. Miskien lê dit opgesluit in die ambivalente verhouding met die pa, daardie bibberende ou Piet oor wie die mooiste lykdig geskryf is in Afrikaans? Of dalk die ma wat nie haar uitsonderlike kinders kon beheer nie?

Hierdie biografie oor 'n lewende persoon skep die voorspelbare probleme, omdat intieme vriende en geliefdes nog leef. Meer nog: die beroemde uitspraak dat die weduwee eers moet dood wees alvorens jy 'n biografie oor die bekende skrywer kan publiseer, is hier waar. Ten minste, sover my kennis strek, is daar drie ekse wat 'n eiesoortige blik het op die geskryfde.

Daar is vertellinge, anekdotes, herinneringe wat “veilig” vertel word weens hierdie buite-blik. Hier is Lizz Meiring en Sandra Prinsloo saam met Tessa Louw, vol in die kol. Dieselfde geld Marianne de Jong se weergawe van Jeanne wat haar paradoksale aard beklemtoon. Erika Lemmer gee waardevolle inligting oor Goosen se rubrieke wat later 'n kortverhaalboek word: Plante kan praat (2010). Ook hier is sy haar tyd ver vooruit.

'n Lewe vol sinne is 'n goed gekose titel wat inspeel op Elize Botha se Lewe met woorde, die Festschrift van 1990 (saamgestel deur Henriette Roos).

Om sin te maak uit 'n lewe, kom dikwels in die Goosen-biografie aan bod.

Dar word 'n komplekse beeld van hierdie skrywer gegee wat bykans met elke vriend 'n stel afgetrap het. Hettie Scholtz en Marietjie Coetzee, die twee uitgewers, begeleiers en herontdekkers van haar werk, kom die naaste aan hierdie rusie - opmaak-siklus. Elke bydraer verklap meer van sigself as van die skrywer Goosen. Maar hoe word die danser ooit van die dans geskei?

Is tekste van Goosen representasies of “weerkaatsings” van haar lewe as sy dikwels die waarheid “verdig” en bylieg?

Sy is immers altyd elders aan diens. Ek onthou 'n heerlike anekdote van Jeanne. Sy is in Weskoppies. Voor haar sit 'n ou vrou wat neul dat sy 'n peer wil hê. 

“Suster ek wil 'n peer hê!” Uiteindelik, uit radeloosheid, gaan koop die suster een en dan kou die ou vrou die peer voor Jeanne en met die laaste byt, slaan sy agteroor neer: dood.

Of die een waar sy valstande van ou mense in die gestig uit die glase haal en omruil.

Dan is daar Jeanne wat klavierspeel en verskillende weergawes maak van “Oh Mammy Blue”.

Die CV wat Metelerkamp aanhaal som haar ten beste op: sy is deur gypsies gesteel.

Skryf is nogal soos toor, waarsku sy (107).

En haar gedigte is uitsonderlik! Liefdesgedigte (van die mooistes), sinisme, buitestanderskap (soos gay-wees), die donker kant van die psige: vrolikheid en depressie, musiekverwysings, weerloosheid, surrealistiese beelde, die gedig as nooduitgang, praatverse.

Die liefde vir honde en Maria Callas word uitgewys. Daar was polemieke oor gedigte wat as “godslasterlik” ervaar is en 'n skermutseling met die hof omdat sy gevoel het 'n vrou word geviktimiseer. Goddank het Christina Landman alles in perspekief geplaas oor dominees se onkunde.

Goosen het gevra dat die woord skaamlippe uit die WAT verwyder moet word. Min digters skryf so insigryk oor die dood en taal as sý. Haar kennis van ewolusie is eweneens uitsonderlik.

“Ons is gebore vir dood se omhelsing”, skryf sy.

Dis 'n hoogs leesbare biografie. Edmund White se 1993 monumentale biografie van meer as 703 bladsye oor die Franse skrywer Jean Genet bly dié baken in hierdie sub-genre. Daar is eweneens ooreenkomste tussen hierdie twee uitsonderlike skrywers wat telkens die grense van die gemeenskap uitdaag in hul werk en lewens.

Jean en Jeanne: beide buite die grense van aanvaarbaarheid. Hy in die tronk vir diefstal; sy opgeneem vir depressie. Beide ongelooflike skrywers en grensdeurbrekend. Beide platjies en skepties oor die gemaksug van die bourgeoisie.

Beide onvaspenbaar en geniaal.

Klein foutjies het deurgeglip, maar kan reggestel word met 'n herdruk:

'n Foto vroeg in die boek word as 1997 aangegee (46); hierdie foto is kennelik uit die tagtigerjare. Daar word geskryf dat Doris Lessing genomineer is vir die Nobelprys; sy het dit ontvang in 2007. Grütter nie Grüter nie (261); die Podlashuks moet wees die Podlashucs (261). Immers Alexander Podlashuc.

Bibberende Piet

Here
U wat die aarde met die holtes van U hande uitgemeet het
U wat die gewig van elke woord meet – omdat die massa U traak
U wat die skepping in ses dae deurgepyn het
Ek vra vir 'n oomblik U aandag:
Het U nie dalk my pa gesien nie?
En ken U hom?
Hy stap mank en lyk nog goed vir sy jare
Die begrafniskunstenaar het hom mooi gemaak vir U poorte
Sy mond en wange bloei soos jong rose
En hy dra 'n wit jurk
Here, en miskien ruik hy nog effens na gas
Maar U sal hom ken aan sy oë
Dié het hul blou vrae behou
Luister U, Here? En mag ek klaar praat?
Daar is nog 'n paar vrae ook wat ek wil vra:
U sê geen haar sal van die mens se hoof val nie
Of U weet daarvan; Dat U oral is en ewig
Dan het U mos gesien hy drink die soet gas van verlossing;
Dan was U mos dáár toe die diewe sy lyk besteel het;
En U het nie 'n vinger gelig nie Here Vader van die diewe
Die blare, die vuur en die slagvelde
Is dit U opdrag dat U herder hom nie moet begrawe nie
Omdat hy nooit tuis in U huis gevoel het nie?
Is dit U wat hom 11 dae in die vrieskas laat lê het?
Wou U dat die vrees naak en sidderend en gestol moes bly
Of wou U hom witter was as wol?

Here,
U wat oordeel uitspreek en verdoem
U wat trooswoorde gee en hulle ook weer wegneem
Beloof my
As Bibberende Piet by U aandoen
Maak U genade aan hom duidelik – en ook U soort apartheid

Uit: Elders aan diens, 2007.

© Joan Hambidge

Reisrubriek | Mits dese | 2020

$
0
0

Dinsdag, 12 Mei 2020  | Mits dese wil ek vir jou sê

Die gewone roetine: opstaan, skryf, lees, Frans luister, foonoproepe ...

Met 'n al-hoe-minder-geduld vir die kognitiewe dissonansie van ons owerhede. Van dubbelpraat met die ekonomie wat in 'n wurggreep is.

Die masjien het 'n mat nie droog gemaak nie. Later help die rinse-siklus om al die water uit te wring.

My buurman hang om die deur en hoor of ek 'n hamburger behoef. Wys dit van die hand. Pas gebrekfis. 'n Uur later blyk dit dat kitskos net afgelewer mag word.

Nog 'n wet wat nie sin maak nie. 'n Ruk later met die masker aan om inkope te doen.

Onthou 'n droom van laasnag: ek moet 'n vlug haal Engeland toe, draai om vir 'n jas en verpas die vlug.

*

“You’re not allowed to write about this… Don’t you ever write about this. Do you fucking understand me?” So meen die eks waaroor Carmen Maria Machado skryf in The dream house, 'n memoir-roman waaroor die kritiek nie uitgepraat kan raak nie.

Maar hierdie storie word meer as die skeiding tussen twee geliefdes, omdat die skrywer dit laai met mitologiese verwysings en teorie: Stith Thompson se The Motif-Index of Folk-Literature en verskeie queer-teoretici wat wys op die “battered woman syndrome” wat die vernielde terug in die closet plaas (Motif-Index of Folk-Literature - Wikipedia. Besoek 12 Mei 2020).

Op 'n eerlike manier word die ontstellende onvermoë om die destruktiewe verhouding te verlaat, ondersoek. “Fear makes liars of us all,” word daar opgemerk. En hoe waar is dit nie.

Hierdie boek het ek van die oomblik wat ek dit begin lees het, met verbystering, herkenning én skok gelees. Dit is 'n kreatiewe kragtoer.

Die skrywer is van Kubaanse afkoms, groot van postuur en hierom kon mense nie glo sý is die vernielde nie; die objek van liefde is immers tog blond en petite.

Wat mense van buite waarneem, is dikwels nie die waarheid nie. Binne die verhouding speel daar 'n ander dinamiek af. Ook in hetero-verhoudings.

Trauma verander die liggaam se DNA soos 'n virus, skryf sy.

Stanley Fish se beroemde teks Is there a text in this class? (1980) vorm deel van die sogenaamde resepsie-estetika. Die rol van die leser word die hooffokus in die triadiese verhouding skrywer/leser/ teks. Daar is nie finale interpretasie nie, maar dit beteken nie dat die leser se subjektiewe reaksies die laaste sê is nie. Dit word steeds getoets aan die teks. Dit beteken net dat verskillende lesers op verskillende tye anders na 'n teks sal kyk. Hierdie leser skryf in boeke en so registreer 'n mens dan hoe jy op 'n bepaalde tyd na 'n boek gekyk het.

*

Seinfeld in seisoen 8 takel die trauma-narratief. En die spel tussen die vier hoofkarakters konsentreer op verskillende soorte humor: Kramer het lyflike humor; Jerry s'n behels vinnige woordspel met veral Elaine wat blitsig hierop kan reageer; George s'n lê opgesluit in misverstande (“bumblings”).

Frank (Jerry Stiller), George se pa, kan nie meer kook nie, weens 'n traumatiese ervaring tydens die Koreaanse oorlog. Die tafel word gedek vir leed: dan kom die dénouement. Hy moes kook vir soldate en het vleis wat oorryp (dus vrot was) verhul met soute en speserye. En toe almal begin oorkook, het dit hom so getraumatiseer.

Een soldaat moes op 'n prop sit toe hy teruggevlieg is huis toe.

Hy word oorreed om vir Kramer tydens 'n funksie te kook en dan die voorspelbare: iemand eet iets en dan ...

'n Episode wat handel oor die abjekte.

Terug in trauma.

Wanneer Elaine haar baas in Burma besoek – hy is ondertussen van sy klippers af – om toestemming te kry vir haar uitspattige aankope, word die woorde van kolonel Kurtz in die slottoneel van Apocalypse now in sy mond gelê.
“The horror ...”

Dus twee verskillende hanterings van trauma: pynlik-ernstig by Carmen Maria Machado. Satiries in Seinfeld.

Beide tekste weet egter dat alle mense al trauma / pyn / verwerping ervaar het en dat jou wonde jou nooit verlaat nie.

Terwyl ek hierdie blog skryf, verneem ek Jerry Stiller, die vader van Ben Stiller, is sopas oorlede (Jerry Stiller Dead/ ‘Seinfeld’ Actor, Ben Stiller’s Father Dies at 92 – Variety. Besoek 11 Mei 2020).

Dus sal hierdie reeks nou anders benader word. Met die wete dat hierdie ou knorpot nie meer met ons nie.

*
Kinders dra hul wonde soos medaljes

(Aldus Leonard Cohen)

Tussen kleinpouse
en grootpouse
leer ons die alfabet
van verwerping, die logaritmes
van verdriet
en die grammatika van afsê.

Ná skool vervoeg
ons verder aan standverskille,
die vader se inkomste,
én aksentverskille
tussen die bo- en onderdorp.

Sonder ‘n omhaal
van woorde
is ons so teen twaalf
goed afgerig
om subtiele klassifikasies
neer te pen.

Tabelle van inkomste, stand
en ras
word behendig
teen die stil kind
gegooi. ‘n Klasmaat skuif
skielik weg. Skunnige opmerkings

verwond en yk.
Hier dan die bloudruk 
vir die latere onvermoë om dubbelspraak
of konjunktiewe te aanvaar.

So, as Hy weer kom
as Hy weer kom, kom haal Hy
sy pêrels.

(En skielik is dit aand, 2005). 

*
What do you get when you mix alcohol with literature? Tequila Mockingbird,is een van die grappe wat die rondte doen.

Nou weer Seinfeld.

Hoe meer films jy ken, hoe meer resoneer hierdie reeks. En hoe episodes flink inmekaar skuif, is lofwaardig. Soos in 'n speurverhaal is elke clue relevant. Jerry lewer Newman se pos af sodat hy die pos na Hawai kan kry. Newman kry nie die pos nie, want nog nooit was die posdiens so flink nie en hulle besef dit was nie Newman nie.

'n Vriendin (tussen aanhalingstekens) van Elaine uit 'n vorige reeks maak weer haar opwagting.

Trouens, die Thompson-indeks kan ook op Seinfeld van toepassing gemaak word.

Die reeks is soos 'n moderne folktale en analiseer die rolle van mense wat spesifieke rolle vertolk in die Amerikaanse gemeenskap – en dekonstrueer dit dan.

Kramer wat dikwels werk met desepsie en sy opponent verneder. Sy besoeke aan die prokureur om raad is, bewys hiervan. Rook benadeel sy voorkoms en die prokureur tree die tabakraad aan. Helaas, helaas. Kramer se vergoeding van die raad is om as poster op Times Sq te land – 'n heerlike parodie van die Marlboro-man.


Woensdag, 13 Mei 2020

Soekend na 'n bank wat oop is – net ATM's is tans in my buurt werkend.

Nuus word oorweldig deur die korona-pes. Die lewe, soos ons dit geken het, is vir ewig verby. Geboue in die stad verloor hulle energie. Water en ligte moet steeds betaal word vir hierdie geboue wat in nou die ICU is.

Toenemend word dit moeiliker om met vriende of kennisse te praat oor die toekoms. Dieselfde narratief: negatiewe ervaring, spekulasie, onsekerheid.

Vind dit moeilik om te kommunikeer met mense wat deur trauma gaan. 'n Sielkundige waarsku dat inperking mense vreemd laat optree. In Italië bly mense eerder tuis na die grendeltyd verby is.

Navraag oor die haikoe in Afrikaans neem my terug na die pogings wat ek gepleeg het. Onmoontlik om hierdie versvorm in Afrikaans korrek te pleeg. Die tegelykertydsaspek gaan helaas verlore:

Haiku

‘n Padda se plons
nietig in die vywer vol 
reeds gedoende slyk.

(Uit: Gesteelde appels, 1989).

Kan ongelukkig nie die persoon deeglike raad gee nie; my boeke is op kantoor toegesluit.
*
Seinfeld gaan steeds voort om nog taboes te takel soos mense in komas, die living will, e.d.m. Higiëne-freaks en obessiewe kompulsiewe gedrag word opgestuur.

Wanneer iets lyk of dit werk, word die mat onder die karakter se gat uitgeruk.

'n Sleutelhouer van George som dit op: sy baas se plastiekkop op 'n sleutelhouer word gedruk en dan sê dit: heilige koei!

Hier is geen heilige koei wat nie geslag word nie. As jy 'n ghost writer is, verwag 'n ghost reader, meen Jerry, die filosoof van die minutiae.

Wrede, wrede humor. Met Freud se waarskuwing dat jy lag oor iets omdat jy dit in wese vrees.

*

Korona

Onder my twee vasgekluister
in rusies en make-up-seks
hadedas raas orgasmies
regs van my 'n koerant
met afleggings en slegte nuus
links van my rumoer
haweloses en bedelaars vir kos
die palm van hand
wys die hartlyn bó
die koplyn
ek wys vuis 
vir onsekerheid spekulasie
in 'n vers wat oopval
rigtingloos weerstandloos
op reis onder nomadiese sterre
in gefnuikte papierblomme
*
Die hotelletjie onder my venster se Cloud 9 plakkaat word toenemend Covid-19.

Ons is in 'n luukse tronk, 'n strafjaart, meen my buurman.

'n Klankkas waarin opponerende boodskappe terugbons. Wat is waar? Wat is wolhaar?

*

Rembrandt se skildery Bileam en sy eselin verwys na Numeri 22: 22 – 35 in die Ou Testament. Dit is die vierde boek in die Hebreeuse Bybel wat bemidbar מדבר, in die woestyn beteken. Numeri (getalle) verwys na die sensusopname in hierdie boek met aanwysings van hoe om korrek te lewe. Die trek van die berg Sinai tot by Paran word beskryf.

Die volk is egter opstandig en word dan gestraf en moet veertig jaar lank in die woestyn rondswerf. Uiteindelik word die reis voltooi met 'n trek om Edom en Moab tot by die Jordaanrivier.

So begin hierdie boek:
Die Here het met Moses gepraat in die tent van ontmoeting in die Sinaiwoestyn. Dit was op die eerste dag van die tweede maand, in die tweede jaar nadat Israel uit Egipte weggetrek het. 
Die doellose trek is waarskynlik iets wat tans met verskeie van ons resoneer.

*

Hier is Rembrandt se beroemde skildery.

Dit is 'n vroeë werk van die meester in 1626 geskilder. Bileam, die heidense profeet is deur die Moabitiese koning Balak ontbied om Israel te vervloek. Die eselin weier egter driemaal om verder te loop, omdat 'n onsigbare engel die weg versper. Die profeet sien nie die engel nie en wanneer hy die eselin slaan, vra sy: “Wat het ek aan jou gedoen?” Dit is egter God wat deur die eselin praat en Bileam kom tot inkeer.
*
Ons hoor die president praat. 'n Puntlose toespraak vol retoriese strategie. Die sub-teks: die grendeltyd gaan nog lank met ons wees.

Hopelik sal niemand piemp oor waar mense sigarette kry of hoe hulle oorleef in hierdie tyd nie. Selfs branderplankryers mag nie op die see wees nie.


Donderdag, 14 Mei 2020

'n Koue oggend. Die Franse grammatikateks fokus op vreemde lande. Dit aktiveer herinneringe aan reise na die buiteland.

Elsa Joubert skryf 'n pragtige brief gerig vir haar huisdokter (in haar handskrif afgedruk in Die Burger) en versoek dat ouer mense hulle kinders en kleinkinders mag sien. Die bedoeling is dat hierdie brief ook by die president moet uitkom.

Sy skryf: “Daardie kloppende verbintenis tussen ouer en kind, vir elke kind eenmatig, vir elke ouer iets individueel, is uitgeskakel.”

Werklike verbintenis gaan veel dieper as skype en ander elektroniese kommunikasie. Ek gaan akkoord hiermee. Net voor die grendeltyd wou ek vir 'n skrywervriendin in 'n aftree-oord boeke neem, maar toegang is volstrek geweier (Legendariese skrywer (97) pleit namens bejaardes | Netwerk24. Besoek 14 Mei 2020).

Die rektor van US Wim de Villiers en 'n vise-rektor en internasionaal-gerekende mikrobioloog, Eugene Cloete wys op die statistiese “patchwork” rondom hierdie pandemie:
The average mortality in South Africa due to Covid-19 is currently three per day, a total of 206 since 5 March [at the time of writing this on 12 May]. If we compared that to some other causes of death, we see that 194 of the 7.7 million people living with HIV-AIDS in our country die daily, 80 daily as a result of TB, 69 as a result of diabetes, and 26 as a result of influenza.
While we are grappling with insufficient epidemiological information about the real risk that the novel coronavirus poses, one of the only certainties at the moment is that the pandemic is destroying the livelihoods of millions of people (President Ramaphosa’s latest announcement on the lockdown is too little, too late | Daily Maverick | Besoek 14 Mei 2020).
Twee reaksies wat soveel vertolk wat vele mense tans voel.

*

Oor RSG is daar 'n onderhoud met Hanna Kotze wat praat oor ekosmart. Dit wys op die mens se verbondenheid aan die natuur en enige groot ramp het 'n kollektiewe impak op mense se psiges. Sy verwys na Antoinette Pienaar en haar belangrike werk as plaaslike guru. Uiteraard het die pandemie 'n impak op mense tans.

Ons lei almal nou aan kwarantynkoors, meen die uwe.

*

Crito, daardie kuberboelie is stil vanoggend. Iemand wat oor resensies skryf wat nie die boeke gelees het nie, is ver van die merk.

Die resensie-wese, daardie ondanbare bedryf waarsonder skrywers, uitgewers en boekwinkels nie kan bestaan nie, het George Orwell soos volg in 1946 opgesom.
The best practice, it has always seemed to me, would be simply to ignore the great majority of books and to give very long reviews — 1,000 words is a bare minimum — to the few that seem to matter. Short notes of a line or two on forthcoming books can be useful, but the usual middle-length review of about 600 words is bound to be worthless even if the reviewer genuinely wants to write it. Normally he doesn’t want to write it, and the week-in, week-out production of snippets soon reduces him to the crushed figure in a dressing-grown whom I described at the beginning of this article. However, everyone in this world has someone else whom he can look down on, and I must say, from experience of both trades, that the book reviewer is better off than the film critic, who cannot even do his work at home, but has to attend trade shows at eleven in the morning and, with one or two notable exceptions, is expected to sell his honour for a glass of inferior sherry (George Orwell/ Confessions of a Book Reviewer. Besoek 14 Mei 2020).
Hierdie bydrae, versend deur 'n bekende resensent som die problematiek op. 

*

In Seinfeld dreun dit aan. Met nog taboes. Nou is dit tandartse se beurt. Boonop een wat pas die Joodse geloof aangeneem het en grappe oor Jode vertel. Dit erger Jerry wat die Katolieke priester gaan sien om hom te verklik en in die bieghokkie vertel hy 'n grap waaroor die priester lag.

Die een oor die pous en Racquel Welsch op 'n boot. En sy wat dan opmerk daai is nie jou reddingsboeie nie.

Die tandarts neem egter aanstoot wanneer hy as 'n sadis uitgekryt word. 

En verhoudings wat op speed dial funksioneer en Jerry wat 'n meisie se nommer 1 op haar foon wil wees. Met die stiefmoeder wat inmeng. Hy word háár nommer 1 en wanneer haar dogter dan die nommer bel (denkend dat dit 'n noodnommer is want sy is per ongeluk vergiftig), kom sy by Jerry uit.

'n Vertelling, twee sub-vertellings wat ineengevleg word en dan uiteindelik in die slot bymekaar uitkom. Hang net af wátter een die knalslot gaan verskaf.

© Joan Hambidge

Reisrubriek | Ontologie van Onkunde & Onsekerheid | 2020

$
0
0

Vrydag, 15 Mei 2020 | Spitstyd

Rook my eerste Lucky Strike. Nie te sleg nie.

Max du Preez gee in die Vrye Weekblad (15 deser) 'n priemende analise van ons President se optrede op nasionale TV op 13 Mei. Die titel van sy artikel:
Suid-Afrika soek ’n president, nie ’n voorsitter van ’n kollektief nie. Cyril Ramaphosa is die naaste wat ons kom aan 'n Moses om ons uit die coronawoestyn te lei, maar hy het nie 'n Aäron om hom te help nie, net 'n kabinet van stommerikke. 
En Max du Preez vra tereg:
Hoe lank dink Cyril Ramaphosa gaan hy daarmee wegkom om as die redelike, empatiese staatsman te paradeer terwyl sy kabinet, sy medeleiers van die ANC, die burokrasie en gewapende magte die teenoorgestelde uitleef?'n Mens sou hierby kon byvoeg dat alle pogings om besluite van die ANC as 'n “kollektief” te verdedig, lagwekkend is. Meer nog, om te meen – soos 'n voormalige ANC-imbongi skryf – dat ons uit ons middelklas-”bubbles” kritiek lewer sonder om kennis te neem van die enorme sosiologiese probleme waarmee die ANC te kampe het, ignoreer die beginsels van demokrasie. Dit behels: Vryheid van spraak, vryheid van beweging. En my regte as indiwidu, vir die rekord, ís aangetas in hierdie tyd.Voorskrifte oor wat ons mag koop en doen, herinner aan 'n Oosblok-land. Gaan lees gerus maar Milan Kundera weer in hierdie tyd.Die ontologie van Onkunde en Onsekerheid is reg bo-op ons.
*

Seisoen 9 van Seinfeld is die laaste in die reeks. Die grappe word skerper. Die teikens van spot grensoorskrydend: soos spot met die lot van gestremdes wanneer George 'n pos kry van 'n maatskappy en spesiale regte geniet as gestremde.

Jode word opgestuur. Bloedoortappings (en wie se bloed jy toelaat in jou lyf). Woede versus sereniteit gee 'n dwarsklap na New Age-mumbo jumbo. En as jy wraak neem, boemerang dit altyd. Jerry-wyshede is volop: 'n opbreek is nooit eenvoudig of dadelik nie. Dis soos 'n Coke-masjien wat jy 'n hele paar keer moet stamp voordat jy die Coke kry!

Elaine word gejag deur 'n Joodse man. George meen as shiksa het sy shiks-appeal.

Selfparodie? Stellig in hierdie laaste seisoen waar daar getap word uit die skatkis van ou grappe.


Saterdag, 16 Mei 2020

In 'n dokumentêr oor waarom Seinfeld net nege seisoene beleef het, sien ons al die karakters (en die vervaardigers met die skrywers) in 'n hofsaal. Die karakters word aangekla en land ten slotte in 'n tronk. Wrang humor.

Die belangrikste opmerking kom van George vir die kyker: ons sal nooit weer na die vier hoofkarakters Jerry, Elaine, George en Kramer kan kyk sonder om die ander een raak te sien nie.

Inderdaad so. Ensemble-spel uit die boonste rakke.

Die grappe dreun voort. 'n Dermatoloog, volgens Kramer, had sy opleiding aan die Julliard-skool. Orgaanskenking, velprobleme, fobies oor kieme word opgestuur. En vroulike krag. 'n Vriendin van Jerry maak 'n bottel met geherkins oop in 'n gehurkende posisie.

Vrees vir die vagina dendata?

Vroue se vrees vir seksueel-oordraagbare siektes word uitgebeeld met toiletdoilies.

Woordspelings is daar volop: supplemental restraint, rage-aholics ...

Wraak backfire altyd. Hy wat 'n gat vir ander grawe land self daarin.

'n Storie oor 'n troue word behendig terugvertel in The Betrayal. Dit speel af in Indië en natuurlik word verskillende eks-verhoudings ontbloot. Elaine was in die bruidegom se bed en die bruid is moerig.

En nes jy dink alle taboes is gedekonstrueer, kom daar nog by: godsdiens word opgestuur wanneer Elaine probleme het met Puddy se vis op sy kar. Maar waar hierdie kyker gebulder het, is wanneer Kramer en Mickey, die dwerg, by die Mediese Skool (natuurlik om geld te maak) siektetoestande moet vertolk. Kramer se uitbeelding van 'n pasiënt met gonorrea is aanskoulik-snaaks. So goed is dit dat hy dit 'n tweede keer vir ander studente moet doen.

Elaine eet wederregtelik van Wallace Simpson se duur troukoek wat haar baas vir 'n astronomiese bedrag van $29 000 bekom het. Weer 'n spottery met hoe mense nuttelose objekte tot 'n objek van aanbidding verklaar. Sy vervang die koek met 'n gewone een en die “kunskenner” ontdek dis 'n vervalsing.

En ja: die baas steek weer eens vir Elaine die loef af. Hy het haar op 'n versteekte kamera vasgevang en boonop is sy vergelding: daardie duur troukoek gaan lank en pynlik verteer.

George wil graag in The Frog sy videospeletjie se hoë punte bewaar... Hy was immers in hierdie PacMan-agtige-speletjie die ongetroefde kampioen.

Ons sien in die slot hoe hy – omdat die helpers hom in die steek laat – met die swaar kas oor die pad stap en die strepe fnuik soos in hierdie speletjie.

En Kramer wat dans in die ouetehuis, is 'n wenner in hierdie reeks wat 'n mens terugneem na die Franse klug en die Teater van die Absurde.

Die spitsvondighede gedy. Telkens nes jy dink alles is nou normaal, is daar weer 'n kinkel in die kabel. Die verwysing na Jerry Lewis is eweneens relevant.

The King of Comedy (1982), Martin Scorcese se analise van swart humor kom so aan bod met die beroemde woorde van die uitgebrande komediant:
“Tomorrow you'll know I wasn't kidding and you'll all think I'm crazy. But I figure it this way: better to be king for a night, than a schmuck for a lifetime.”
Robert de Niro as Rupert Pupkin, die blitsbek-komediant wil graag op Langford (Jerry Lewis) se show wees. Die film ondersoek eweneens sielkundige broosheid en die grense van normaliteit.

Langford is suksesvol as komediant en Pupkin psigoties en dus onstabiel. 'n Kragtige film met twee uitstaande akteurs. Seinfeld se skrywers was bewus van hierdie komedie – veral as 'n mens die slottoneel in ag neem.

Seinfeld laat my verder dink aan daardie beroemde grap: Waarom mag studente by Potch nie staan en seks hê nie? Want hulle mag dalk beginne dans.

Wat mense dink, word hier uitgespreek en uitgeleef. Die ontoepaslikheid van die ongesêde. Hardop dink ...

'n Toe bek is 'n heel bek.

*

Perdu.

Op soek na verlore tye newwermaand tyd. Die Franse grammatika speel in die agtergrond ...


Sondag, 17 Mei 2020

Vir afwisseling kyk ek na David Attenborough se dokumentêr oor die Galápagos-eilande en ewolusie. 'n Uitmuntende reeks wat opnuut die mens se bestaan as 'n klein rolspeler uitwys in die groot patroon van alles (David Attenborough - Galapagos -BBC- Episode 1 of 3 - video dailymotion. Besoek 17 Mei 2020).

*

Daniel Hugo kritiseer die biografie oor Jeanne Goosen deur Petrovna Metelerkamp (Rapport 17 deser) en vra waarom resensente (Herman Lategan en die uwe) nie na Ons is nie almal so nie verwys het? Wel, 'n resensie kan nie alles onder die loep neem nie.

Ek het die volgende uitgewys in my bespreking Maandag, 11 Mei Media24:
Hierdie biografie oor 'n lewende persoon skep die voorspelbare probleme, omdat intieme vriende en geliefdes nog leef. Meer nog: die beroemde uitspraak dat die weduwee eers moet dood wees alvorens jy 'n biografie oor die bekende skrywer kan publiseer, is hier waar. Ten minste, sover my kennis strek, is daar drie ekse wat 'n eiesoortige blik het op die geskryfde.
En:
Dis 'n hoogs leesbare biografie. Edmund White se 1993 monumentale biografie van meer as 703 bladsye oor die Franse skrywer Jean Genet bly dié baken in hierdie sub-genre (Woorde Wat Weeg/ Reisrubriek | Skink vir die harlekyn nog wyn | 2020Besoek 17 Mei 2020).
Hugo het gelyk dat die boek nie 'n bibliografie het nie. My verwysing na White se kluif intimeer dat daar gebreke is in Metelerkamp se biografie wat nietemin vir wat dít wil wees, leesbaar is.

As resensent behoort Hugo te weet dat ruimte 'n beperking is.

*

Laatmiddag inkopietyd en 'n bietjie tuur na die see by Kampsbaai.

'n Klein bietjie window shopping om so na die see te kyk.

Die slot-disket van Seinfeld is weer onderhoude met almal. Nie lus hiervoor nie, omdat dit suspension of disbelief ophef. In my versameling van films kom ek af op 'n film wat ek nie ken nie: The Man Without a Past, 'n Finse film van ene Aki Kaurismäki. In Fins: Mies vailla menneisyyttä.

'n Man word aangerand, verloor sy geheue en land tussen weldoeners by 'n soort Salvation Army.

Hy raak betrokke by 'n vrou en 'n vreemde bankroof, die polisie glo hom nie dat hy nie sy naam kan onthou nie en 'n foto in die pers neem hom terug in sy verlede; hy is 'n geskeide man. Sy vrou is betrokke by 'n nuwe man. Hy keer terug na die dorp waar die vrou is en die Salvation Army-orkes Christelike liedere laat rock.

Hy was immers die een wat hulle hiermee gehelp het.

Kafkaesk? Dit word bemark as 'n komedie-drama. Vreemde humor weliswaar.

In 2002 het dit by Cannes opslae gemaak en dit is genomineer vir 'n Academy Award.
*
Sondag is besig om in Maandag oor te gaan. Sewe weke is ons al tuis en tuis (in plaas van uit en tuis). Die kinders kan nog nie teruggaan skool toe nie. Aanlyn-klasse by die universiteit vra hare op die tande.

Die eenselwigheid van die dae kry my onder. Ek moet iewers in my onbewuste 'n GPS hê wat 'n Sondagaand laat aanmeld of ek nou by die Bon Accord-dam of in Berlyn is.

© Joan Hambidge

Reisrubriek | Die banaliteit van boosheid | 2020

$
0
0

Maandag, 18 Mei 2020 | Stopseltjie van my twak

Frustrasievlakke styg. Ek gesels vroegoggend met 'n ou vriendin en ons stem saam: al het jou hoeveel ondersteuning van vriende in hierdie tye, die prate raak op.

Al is 'n mens hoe lief vir vriende of kennisse of familie: die storieput raak droog.

*

Numéri met sy rites en rituele is fassinerend. En die diskriminasie. Indien 'n vrou skuldig is aan owerspel, bly sy altyd onrein.

En die man?

Die simbool vir ambulanse en paramedici staan opgteken in Die Bybel.

Numeri 21:9 en Johannes 3:14.: ’n Ster kom te voorskyn uit Jakob, en ’n septer kom uit Israel op.

Soveel van ons denke word hierdeur bepaal. Soos om 'n gat vir iemand anders te grawe.

Hierdie boek werk met enumerasie en getalle. Die retoriese strategie is dan ook om getalle te herhaal om 'n punt te maak. 'n Fassinerende boek wat begin by die berg Sinai waar die Israeliete die wette en verbond ontvang. Die opdrag is om die Beloofde Land in te neem en almal – ook die diere – word getel. Dit is 'n onaangename tog met die Israeliete wat kla oor al die ontberings. Hulle kom uiteindelik aan by Kanaän, maar negatiewe verslae laat hulle weier om die land in te neem. Hulle bly in die wildernis sodat 'n nuwe geslag God se verbond kan uitvoer.

Numeri is die hoogtepunt van die Israeliete se eksodus uit verdrukking in Egipteland na die beloofde land. Die Land van Kanaän was elf dae se reis van Egipte af, maar weens die twaalf spioene se slegte berigte rebelleer die Israeliete en weier om na die land te gaan. Die rebellie is teen God. Die reis het hulle 13 780 dae geneem.

Hulle het helaas nie ag geslaan op Josua en Kaleb se gunstige verslae nie.

Moses het hierdie dwarstrekkers gelei en toe God hom beveel om die Rots aan te spreek, het hy die Rots tweekeer geslaan. Hierdie ongehoorsaamheid was dan die rede hoekom hy nooit die Beloofde Land kon binnegaan nie.

Hierdie boek resoneer dan sterk met die gevoel van 'n tussen-toestand wat menige persoon tydens grendeltyd ervaar.

*
Come and see verwys na die apokalips van Johannes: ідзі і глядзі.

Requiem for a Massacre.

Hierdie Russiese-Belarus film van Elem Klimof is in 1985 uitgereik en sopas het ek dit vir die tweede keer meegemaak. Nie gekyk nie: beleef.

Dit is 'n anti-oorlog film en handel oor die Nazi's se besetting van Belarus met 'n jong seun, Flyora wat alles waarneem. Teen sy moeder se wil word hy deel van die Belarus-weerstandsbeweging.

Dat hierdie film beskou word as 'n klassieke film, is eenvoudig so. Dit maak 'n sterk politieke stelling, maar ook die kamerawerk en simboliek is uitstekend. Die slot o.a. waar die Nazi's paradeer in films, word teruggedraai. Hierdie bekende footage word dus nou vanuit 'n ander hoek bekyk. Om sy wrewel uit te leef, mik Flyora met sy geweer na 'n portret van Hitler in 'n poel water en dit word surrealisties, droomagtig weergegee. Hitler wat steier. Hitler wat stop. Hitler as kind. En dan: Hitler as jong kind op sy ma se skoot.

Flyora kan egter nie op die kind skiet nie, omdat dit die trauma van sy ervaring in die brandende skuur herroep. Die Nazi's het beveel dat alle kinders moes agterbly in die skuur.

Vroeg in die film strompel hy oor 'n voëlnessie. Ons sien die voëltjies in die vertrapte doppe - 'n prospeksie van die oorlog se vernietiging.

Wanneer hy terugkeer na sy moeder se huis (die bevelvoerder stuur hom terug, omdat hy sy stewels vir 'n ouer man moet gee), fokus die kamera op sy sussies se speelgoed. Hierna soek hy en Glasha na hulle en waad deur 'n moeras.

Wanneer die Nazi's 'n dorp verlaat, word 'n seniele ouma op haar bed in die middel van 'n straat gelos met 'n weersinwekkende boodskap dat sy baie kinders mag baar.

'n Nazi speel met 'n lemur wat op sy skouer lê; 'n ander Nazi sodomiseer 'n apie met sy vinger. 'n Man wat verkrag word, werk met blote suggestie. Hy hardloop weg van die soldate met sy broek op sy knieë.

Die waarnemer vind sy geweer terug; weggesteek in die hooi. Sterk simboliek. Sy oorlog sal nooit verby wees nie. 'n Verminkte voet is 'n verdere simbool vir hierdie wrede oorlog.

Luister hoe word Mozart se Lacrimosa gebruik en Wagner se Rit van die Walkures en die Overture tot Tannhäuser – die liggaamlose taal van musiek soos Elisabeth Eybers dit noem - sub-teks skep.

Die toneelspel is sidderend goed, veral wanneer 'n Duitser ontken dat hy 'n booswig is. Sy maat meen egter dat die Russe geen toekoms het nie; hierom is die kinders verbrand. 'n Duitse offisier neem 'n eettafel oor met volledige disrespek, terwyl die Russe probeer gasvry wees.

In die wraaktoneel waar die Russe die booswigte brand en skiet, sien ons Flyora se oë en hoe hy getransformeer het van jong seun tot 'n man. Wanneer sy vriendin Glasha – verkrag en vermink – bely dat sy net wou liefhê en kinders kry, is haar oë doods, terwyl hy met ontsteltenis na haar kyk. Woordeloos.

Hy is ten slotte nie meer 'n kind nie: grys en oud.

So eindig die rolprent: 628 Belorussian villages were destroyed, along with all their inhabitants.

*

Liefde in die tyd van korona

Vanselfsprekend 'n masker
vir beide liefhebbendes,
geen aanraking of soen nie; selfs
in verskillende tydsones, vreemde
vastelande nes 'n kinderlegkaart
verkeerdom of onderstebo afgedruk.
Jou plek én myne (terselfdertyd);
net 'n gedeelde skerm: min of meer.


Dinsdag, 19 Mei 2020

Die ennui, soos die Franse dit roep, beginne byt.

*

Lars von Trier se film oor 'n film met Jørgen Leth heet The five obstructions (2003). Hy gee sy mentor, Leth, die geleentheid om sy gunsteling-film A perfect man vyf keer oor te maak. 

Dit is 'n dokumentêr wat baie verklap van die Deense filmmaker se werkswyse. Tydens grendeltyd (grendel on my mind) is die sosiale aspek van die film belangrik.

Hoe word 'n film gemaak? En hoe reageer twee kreatiewe mense op mekaar? Leth erken hy het 'n dop nodig; Von Trier vertel dat 'n mens beslis nie kaviaar met 'n metaallepel eet nie. Dit moet 'n houtspaan wees. Hulle welvaart word in opposisie geplaas met die akteurs wat hulle inspan. (Kommentaar op die filmmaker wat sy akteurs "gebruik"?)

Dus rykdom wat later in die film gedekonstrueer word met besoeke aan Indië waar 'n bedelende vrou met 'n kind geld kry deur 'n taxi-venster. Of die ryk hotel in Havana. (Die hotel herkenbaar vir hierdie reisiger.)

Hier is dan die vyf obstruksies:

1. Hy moet die film in Kuba maak met geen agtergrond en geen skoot mag langer as 12 raampies wees nie; hy moet ook die vrae beantwoord wat in die oorspronklike film gevra word;
2. Hy moet die film op die mees troostelose plek op aarde maak. Hy kies Moembaai se rooilig-distrik. Leth moet die rol van die man vertolk sonder die vrou (wat in die eerste een wel aanwesig is). Daar moet 'n maaltyd wees, wat hy alleen nuttig;
3. Die tweede opdrag is onsuksesvol en hierom mag hy die film oordoen op sy eie manier. Of: die obstruksie in Moembaai herhaal. Leth kies om die film in Brussel te maak met 'n split-screen. 'n Kopknik na Annie Hall;
4. Die vierde opsie (en vir my die interessantste) is dat hy die film moet maak as ''n cartoon. Hy gebruik Bob Sabiston, 'n kenner van rotoscoping. Die film is dus nie 'n propperse cartoon nie, maar 'n animasierolprent. Von Trier is wel tevrede met die produk;
5. Die vyfde een is dat Von Trier alreeds die film vervaardig het, maar Leth moet dis as sy eie film beskou met 'n voice-over vanuit sy eie perspektief. Die voice-over is ook deur Von Trier geskryf. 'n Kommentaar dus op kollaborasie in die kuns. Die regisseur se insette word vertolk deur die akteur/aktrise.

*

Die swaar, stadige films neem my terug na Seisoen 1 van Seinfeld vir 'n bietjie afwisseling.

Die grappe in die eerste een is flinker; die laaste paar reekse raak al hoe meer risqué met die ondersoek na taboe-onderwerpe.

In die eerste epsiode meen George die moeilikste vier woorde is:

We have to talk ...

of:

Whose bra is this?

Die analise van manlike vriendskappe is puik. Mans is net bevriend, omdat hulle mans is. Dis al, meen Jerry. Hy sukkel om van 'n lastige skoolmaat, Horneck, ontslae te raak wat hom met trane manipuleer.

Seinfeld so tussen al die grappe deur, maak 'n mens attent op sosiale kodes en mores. Dit hou 'n spieël voor jou. Soms herken jy jouself met ontsteltenis of met deernis. So was ek ook ...


Woensdag, 20 Mei 2020

Die gewone roetine van opstaan, skryf, winkel toegaan.

By die apteek is daar 'n jong bedelaar. Ek gee brood. Hy eis nog melk en ander kos. Ek kan helaas nie vir almal gee nie en dit word 'n onaangename uitskelsessie.

Die sekuriteitsbeampte doen niks nie. Dit neem buitensporige tegnieke om te begryp waar sy woede vandaan kom.

Dan ry ek Col'Cacchio toe en belowe dat ek moreaand pizzas sal bestel.

Die bestuurder is bly om my te sien.

Meer as 50 dae gelede het ons mekaar gesien. Die vensters is toegeplak met bruin papier. Buite staan daar motorfietsies en wag op bestellings om dit na die bestemmings te neem.

*

Johan Myburg word bekroon met die Hertzogprys vir poësie. So het ek oor Uittogboek besluit:
Dit is ’n ryke, komplekse bundel wat getuig van baie nadink en lees. Dit word egter nooit afgeleide kuns nie, omdat die digter sy eie outentieke ervaring daarvan weergee in ’n pragbundel van oor die honderd bladsye waarin vele tale en kulture beslag kry.
De Waal Venter wen die vertaalprys vir sy vertalings van Pablo Neruda.

In die bekende “Oda al libro (I) / Ode aan die Boek (I)” bely Neruda:

Ek sal nie geklee gaan
in volumes nie,
ek kom nie uit versamelde werke nie,
my gedigte
het nie gedigte geëet nie,
hulle verslind
opwindende gebeurtenisse,
hulle verorber
swaar weer,
grawe hulle voedsel
uit die aarde en mense. (66, 67).

Op albei drink ek 'n alkoholvrye dop! Cheers.

*

Laataand soek ek in my DVD-kas na 'n film wat ek nog nie gesien het nie.

Ek vind The Element of Crime (Forbrydelsens Element), Lars von Trier se film uit 1984 in Engels en Arabies. Film noir met dialoog wat 'n mens moeilik volg weens die voice over. Dit vorm deel van sy trilogie Epidemic (1987) en Europa (1991).

Speurder Fisher, ekspatriaat woonagtig in Kaïro, ondergaan hipnose om sy laaste saak te probeer onthou. Hy beleef Europa, donker en newelig. Dan onthou hy die moordenaar se naam: die Lotto Murderer. Hierdie reeksmoordenaar het jong meisies wat lotto-kaartjies verkoop het, verwurg. Hy gebruik die metodes uit die boek The Element of Crime geskryf deur sy afgedankte kollega, Osborne. In sy soektog word hy vergesel deur Kim, 'n prostituut, wat 'n kind gehad het en vermoor is deur hierdie reeksmoordenaar.

'n Vreemde soektog, omdat Fisher sy ondersoek baseer op Osborne se sogenaamde tailing verslag, wat handel oor 'n man wat moor op dieselfde manier as die Lotto Murderer. Die voorskrifte van die boek vereis dat jy moet dink soos die moordenaar. Uiteraard lyk Fisher dan na die verdagte.

Hotel Elite se naam is uiters ironies. 

Die kyker is nie seker wat waar of wat fantasie is nie. Soos 'n sekwens van verkragting op 'n motor. Gebeur dit werklik of is dit gewoon 'n droom of hallusinasie van Fisher?

Daar is vreemde dialoog:

Fisher: Is it always as dark as this at this time of year?
Housekeeper: There are no seasons any more. The last three summers haven't been summers. The weather changes all the time. It never alters.

En objekte uit een toneel word gesien in 'n ander. Papier, ligte, skêre, speelgoed, Coca-Cola-blikkies, seëls en 'n hotelregister.

Dis nag. Donker dus en die film het 'n geel gloed. 'n Representasie van die droom? Verder is dit geskiet in sogenaamdesodium light afgewissel met rooi en blou.

Egte film noir.

Hierdie film is bekroon met die Bodil- en Robert-pryse. In 1984 genomineer vir die gesogte Palme D'Or.

'n Speurder wat na die moordenaar soek en homself vind, is 'n gewilde tema in boeke en veral in die filmkuns.

Angel Heart (1987) van Allan Parker aktiveer dieselfde kwessie. Harry Angel (Mickey Rourke), 'n New Yorkse speurder, soek na Johnny Favorite in New Orleans. Hier word hy blootgestel aan moorde. Hy ontmoet Louis Cyphre ('n homofoon vir Lucifer), vertolk deur Robert de Niro toe hy nog kon toneelspel in pakkende films en nie in derderangse home movies lanterfanter nie.

'n Karakter se naam is Epiphany.

En Harry Angel is geen engel nie, maar vertrek na die hel (per hysbak). Is Harry en Johnny een mens?

De Niro neem as duiwel besit van sowel Harry as Johnny se siele.

In my lewe het die uwe 'n paar keer films gesien waar die flirtasie met boosheid in die fliekhuis oor jou spoel. Ander voorbeelde: Rosemary's BabyThe Silence of the Lambs, The Exorcist ...

Maar dit bly steeds goeie films.

*

Die afgelope paar jaar was moeilik: #Rhodes must fall, #Fees must fall, Eskom, die Waterkrisis, die dood van my moeder ...

En nou die kroon van ellende, onsekerheid ...

Numeri leer ons tel. Al 55 dae?

*

Masjrabijas

In Tunisië
op 'n mes-
punt is daar
geboue met 
maskers:
haremvensters.

In die buite-
plein van Tunis
staan hulle ver-
sluierd in turkoois
of ligblou gebaai:
uitsig vir die ongesienes.

Op my balkon
oop en bloot
waarnemer van
onklaar bouwerk
ligte brandend
in 'n gebou

asof iemand 
die ligte aan 
vergeet het.

© Joan Hambidge

Reisrubriek | Rame | 2020

$
0
0

Donderdag, 21 Mei 2020 | Berigte te velde

Tel jou seëninge, tel hul een vir een.

'n Miswolk hang oor Tafelberg. Versluierd. Gisteraand het die wind gewaai; vanoggend sak die miswolke oor hierdie buierige stad.

“Vee ellende af aan jou?”, word daar gevra in Lars von Trier se The five obstructions (2003).

Die soeke is na 'n Pinter-kwaliteit. Met ander woorde: met min woorde en suggestie moet daar geweldig baie oorgedra word. In hierdie eksperimentele film is daar voortdurend 'n spel met die werklikheid en 'n framing of reality.

Die niks-heid van die akteur word geplaas teen die agtergrond van 'n bruisende, kokende Moembaai.

*

Vreemde uitsprake gedy in die letterkunde. So meen 'n kritikus en keurder van boeke op die Versindaba dat Uittogboek deur sy geslag gelees gaan word soos Tristia indertyd.

Myburg se boek is goed, maar om dit te loop staan en vergelyk met die ontvangs en impak van Tristia is voortydig.

Dit bewys weer eens: vergelykings is gevaarlik, lomp, ligtartend.

'n Mens kan hoogstens die gesprek tussen Tristia en Wilma Stockenström se Monsterverse aanstip, so van monumente gepraat. Of tussen Tristia en Sheila Cussons se Die swart kombuis.

Die tyd bly maar altyd die béste toets. Om in die oomblik te voorspel, is gewoon onsinnig. Daar gaan nog vele bundels verskyn in Afrikaans wat al sedert 1980 dood verklaar is.

*

Vroegaand is dit pizzas kry by my gunstelingplek.

Die Calzone met die gesmelte kaas en die Pizza met olywe en ansjovis is so lekker. 'n Ander een met avokadopeer en fetakaas met 'n tikseltjie porca.

Ons eet amper ons vingers af aan die dis. Met vars gekapte knoffel in olyfolie en vars rissies.

'n Wiel van geluk.

Die geskiedenis van hierdie dis is fassinerend. Dit gaan so ver terug as 7 000 jaar in Sardinië. Daar is glo verwysings na die pizza in die Aeneid (Boek II en Boek VII).

Celaeno voorspel in die derde boek dat die Trojane nie tot rus sal kom nie totdat honger hulle dwing om hulle tafels te eet. Dit word waar in die sewende boek wanneer hulle ronde brode eet en besef dit is die tafels waarna verwys is.

En die aakligste pizza nóg het die uwe in Chicago geëet. So 'n baksel in 'n pan. Urgh.

Soos 'n dik tert.


Vrydag, 22 Mei 2020

Die koerant gee 'n kaart van sterfgevalle per area in Kaapstad.

7 in my vallei, Tamboerskloof.

Hoé skole sal oopgaan, dit weet ons nog nie.

My bure se twee jaar oue kind mis haar maatjies in die dagsorg. Soggens net na 7 gaan stap die mammas en die kleintjies kry mekaar te siene. Met maskers op.

Ek lees vir haar van Tjoppie se avonture met Flapsie en Flopsie, die twee worshonde. Met verskillende stemme.

Die storie se boodskap: mededeelsaamheid, want Tjoppie is 'n enkelhondjie en hy moet leer om te deel. Liz de Villiers se Tjoppie-reeks is skitterend met illustrasies deur Vian Oelofsen. Human & Rousseau is die uitgewer.

En dis wat ons almal doen in hierdie tyd. Ons is mede-deelsaam. Ons ruil 'n bottel wyn vir 'n bottel beet.

'n Pakkie rookgoed vir 'n DVD.

'n Croissant vir 'n sigaret.


Laatmiddag raas een van die bure oor die blare in die tuin. Dit irriteer wanneer sy die plante moet natgooi. Neem 'n swart sak, en ek en buurman hark die blare op. Geduldig, gedienstig, gedwee ...

Buite help 'n Malawiese man met 'n hark. Hy tel die opgegaarde vullis op. Vir 'n geldjie. Hy het vandag sy smouskarretjie verloor en moes 'n stywe boete betaal.

Die stadsraad het laat weet ons vuilgoed word eers volgende Woensdag verwyder. Covid-19 het toegeslaan. 'n Boek van 'n uitgewershuis word eweneens vertraag weens die virus.

*

Fellini: Lies are fascinating for what they reveal about the liar.

Damian Pettigrew se dokumentêr oor Fellini uit 2002 red die aand. Fellini: I'm a Born Liar Fellini, je suis un grand menteur is in Frans, Italiaans en Engels met onderskrifte.

Manna uit die hemel! Met die uitpak van films uit my filmoteek ontdek ek hierdie film en die gesprek tussen Truffaut en Hitchcock.

Vir Fellini is kreatiwiteit 'n magiese proses waaroor hy geen of weinig beheer het. Iets / iemand neem oor. Hy herskep sy lewe en verlede. Die Rimini uit sy jeug het hy her-dink. Dis 'n konterfeitsel. In 'n besondere vinjet vertel hy van twee drome met Picasso as die hoofkarakter wat 'n omelet van twaalf eiers maak. In die tweede droom is hulle in die see met Picasso wat waarsku dat hy nie moet terugdraai nie. Tyd is vervleg tussen hede, toekoms en verlede. Met leuens wat nie van waarheid onderskei kan word nie.

Sy films sien hy soos volg: hy is 'n trein wat by verskillende stasies 'n idee pluk en saamneem. En films? Lig is belangrik. Dit dra die boodskap oor. Kyk na Kurosawa se Rashōmon en die lig wat op die swaard skyn, meen Federico.

Trouens, 'n film is eers 'n skildery; hierna letterkunde en drama. Met enorme presisie skep hy nabootsings van die see en bely sy kontak met die onbewuste.

En neuroses is belangrik: dis 'n skuur vol kreatiewe idees waaruit hy put. Soos die onsigbare psigiese wonde wat die psige voortdryf.

Italo Calvino, die skrywer, self 'n opskepper van formaat, meen leuens is belangriker as die waarheid. Trouens, hy wantrou die waarheid. (Calvino het eenkeer bely dat hy as jong kind eers moes huiswerk doen voor hy mog gaan fliek. Dan het hy die volgende keer die eerste helfte gesien nadat hy reeds die tweede gedeelte gesien het. En dis hoekom sy romans so terugspring in tyd.)

Pinelli, 'n vervaardiger, meen Fellini wil mense wat met hom saamwerk vernietig, omdat hy net kan werk as daar teenstand is.

Ofskoon Fellini teatraal bely dat hy gaande is oor akteurs, vertel húlle 'n ander storie. Donald Sutherland is uiters negatief oor die hantering van hom as akteur in Casanova met bykans geen aanwysings nie. 'n Diktator, 'n demoon wat skree as jy nie sy fantasie reg vertolk nie. Hy het net 5 minute gekry om nuwe dialoog te leer; en dit baasgeraak. Fellini is die poppemeester, die akteur is in sy hande.

Federico is soos Orson Welles wat 'n leuen geskep het en dit moeilik vind om vol te hou:
“Fellini is constantly threatened by his own superficiality, and is constantly running away from it, in the same sense as Orson Welles. Orson Welles created a lie about himself that was in fact the truth, but he knew that it was a lie he'd created – and once everybody believed it, he found it insupportable.” 
Terence Stamp boots hom perfek na. Met oë wat rek vol vraagtekens. En Marcello Mastroianni is glo die een wat sy non-aanwysings perfek kon uitvoer. En sy liggaamshouding ook kon naboots (Fellini/ I'm a Born Liar - WikipediaBesoek 23 Mei 2020).

*

Laatnag lees ek Media24 se nuus en die drogredenasies oor sigarette. Pasoppa! As hulle nou 'n skyf in jou kar kry, is jy in die moeilikheid.

En Jean Oosthuizen is steeds besig om goeie berigte weer te gee oor die stryd tussen waar en wolhaar oor die virus (Minister en dokter haaks oor COVID-19 - VoertaalBesoek 23 Mei 2020).

Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, en ’n lid van die ministeriële advieskomitee oor COVID-19 en lid van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, Glenda Gray, is in 'n polemiek gewikkel. Gray meen die inperking behoort opgehef te word.

Ander maatreëls, soos gereelde hande was, die dra van maskers, veilige afstande en ’n verbod op byeenkomste is belangriker. Boonop is die uitfasering van inperkings onwetenskaplik. 

Luister ons regering na hierdie MIV-entstof-navorser? Sy is bekroon met die Orde van Mapungubwe. Oosthuizen wys daarop dat sy in 2017 deur Time as een van 100 mees invloedryke mense benoem.

Wanneer 'n mens hierdie berig volledig lees, word dit al hoe duideliker dat die regering nie ag slaan op kundige raad nie. Sowel mediese as ekonomiese raad word van die tafel gevee. Kundiges op laasgenoemde gebied waarsku al vir etlike weke.

Geen wonder mense is so negatief nie en vermoed 'n ekonomiese agenda om ons te kry by 'n nuwe sisteem wat alles en almal wil gelykmaak.

Inmiddels is daar elke dag meer bedelaars op straat. Meer ellende.

*

Die Franse woord vir die dag: menteur.



Saterdag 23 Mei 2020

Die gesprek tussen twee filmmakers te wete Francois Truffaut en Alfred Hitchcock word beskou as 'n baken in die filmkuns. Die een Frans, behorend tot die nouvelle vague-beweging; die ander een Brits, woonagtig in die VSA en die meester van angs en onsekerheid in die filmkuns.

Hitchcock / Truffaut (Kent Jones regisseur) is gebaseer op die gesprek in 1962.

Daar word vertel dat Alfred Hitchcock as jong kind deur sy pa met ‘n briefie na die polisiekantoor gestuur is. In die briefie het daar gestaan dat hy opgesluit moet word vir ‘n paar uur weens ‘n oortreding. Dit is o.a. ‘n rede vir die paranoia rondom die gereg in Hitchcock se films. Truffaut se werklike vader het hom na 'n diefstalklag laat opsluit in 'n verbeteringskool. Hierom sy obsessie met vryheid.

Hulle ontmoet in LA en gesels vir 'n week lank oor die filmkuns. Daar is 'n boek gepubliseer oor hierdie gesprek: 'n werkboek vir filmmakers en vir alle kreatiewe mense. In die onderhoud beklemtoon hy – soos Fellini – dat lig soveel verklap in 'n film.

Die film het onderskrifte. 'n Mens hoor die sekretaresse wat die Frans vertaal; Hitchcock praat Engels. Soms moet 'n mens terugkeer met die afstandbeheer om iets weer te beluister. Jy hoor die Frans en die Engels daaroor / daaragter.

Truffaut is op die jonge ouderdom van 52 oorlede aan breinkanker en hierdie film (en die gepubliseerde boek) het Hitchcock bevry van die algemene siening dat hy 'n populêre filmmaker was. Veral Scorcese beaam dit in 'n kommentaar. “Cinema is poetry,” meen hy. Kurosawa is eweneens vol lof vir die inspirasie wat uit Hitch se presisie gekry het.

Maar die twyfel bly knaag aan Hitch: het hy genoeg geëksperimenteer met die karakters en die narratief? Was hy nie 'n gevangene van sy eie vorm nie?

In die briefwisseling (gedeeltes opgevang in die film) word die wedersydse waardering gesien van twee groot filmmakers. Beide energiek, beide ongelooflik passievol oor hul kunsvorm. Later het hulle mekaar se draaiboeke gelees en raad gegee.

Hitchcock is uitgesproke oor akteurs: “Actors are cattle.”

Vir hom is die kyker (die ontvanger) allerbelangrik. En uit sy stilfilms het hy verder geput. Die fokus op oë, op hande. Trouens, meen 'n kommentator, jy kan sy films verstaan sonder enige dialoog. Hy is die teoretikus van ruimte en in Vertigo word San Francisco 'n karakter met die geboue wat die storie help vertel.

In hierdie dae gaan ek weer Vertigo bestudeer. Hitch was 'n opgeleide ingenieur wat kortstondig vir 'n advertensiemaatskappy gewerk het. Wat hy dáár geleer het, het hy ingespan. Die storttoneel in Psycho is gebaseer op sketse en dit is meer as 17 keer in slow motion verfilm om die regte effek te kry.

*

Hoogtepunte vir my by Hitchcock:

The 39 Steps (1935), The lady vanishes (1938), Rebecca (1940), Spellbound (1945), Notoriou(1946), Dial ‘M’ for murder (1954), Rear window (1954), The man who knew too much (1956), Vertigo (1958), North to Northwest (1959), Psycho (1960) en The birds (1963).

Hoogtepunte vir my by Truffaut:

Jules and Jim (1962 ), Stolen kisses (Baisers volés) uit 1968 ... The last metro (Le dernier métro) uit 1980 ... eintlik sy hele oeuvre!

In The woman next door (La femme d’à côté, 1981) – met die twee ikone uit die Franse filmtradisie, Gérard Depardieu en Fanny Ardant – ondersoek Truffaut obsessionele liefde. ‘n Egpaar woon in Grenoble, hulle kry nuwe bure en die man ontdek dis sy minnares van agt jaar terug.

Ons het hier ‘n raamvertelling: ‘n vrou geskend deur die liefde (sy wou selfmoord pleeg, maar het te lande gekom op ‘n glaspaneel) is die waarnemer van die verbintenis wat op ‘n ramp afstuur. Klein kodes – soos die vrou wat ‘n tekenprent maak van ‘n vrou in ‘n bloedplas – berei die kyker voor op die einde met sy loeiende sirenes.

In Bed and board (Domicile conjugal, 1970) ondersoek hy die verhouding tussen ‘n jong getroude paartjie: hy is ‘n floris wat blomme artifisieel bespuit om die regte kleur te kry; sy gee vioollesse. Hulle woon in ‘n afgeleefde woonstelblok waar die bure kommentaar lewer op die geboorte van hul kind en die verbrokkeling van hul huwelik wanneer hy verlief raak op ‘n Japannese vrou by sy nuwe werk. 

Die film is net na die studente-opstande in Parys gemaak en kenners meen dit is Truffaut se opstand teen die eis dat films net politieke kommentaar behoort te lewer. 

‘n Oomblik om te onthou: die Japannese vrou versend boodskappies in ‘n ruiker blomme vir hom. Hy gooi egter die blomme weg. ‘n Buurkind tel dit op en sy vrou sit dit op die tafel. En, voilà, wanneer die blomme oopgaan, weet sy hoe sake staan want die stukkies papier met haar liefdesverklarings val op die tafel.

The story of Adèle H. (L'Histoire d'Adèle H.) 1975. Die pragfilm had drama agter die skerms. Isabelle Adjani was nie aangetrokke tot die regisseur nie.

The films in my life (1975 / 1980) is 'n boek waarin hy verklap watter films hom beïnvloed het. Die rusie met Jean-Luc Godard is bekend. In 1973 was eersgenoemde krities oor Day for night waarop Truffaut se respons was: “The Ursula Andress of militancy – like Brando – a piece of shit on a pedestal.”

Ten spyte van Godard se pogings tot versoening, wou Truffaut niks weet nie.

Regdeur Truffaut se films is daar 'n soeke na vryheid – waarskynlik omdat hy as buite-egtelike kind soveel ellende moes verduur en rondgestuur is na pleegversorgers.

Hitchcock was bekend vir sy kamee verskynings in sy films. Truffaut weer was dikwels 'n akteur in ander se films soos in Spielberg se Close encounters of the third kind. In The story of Adèle H. is hy 'n offisier.


© Joan Hambidge

Reisrubriek | ‘n Trem genaamd Begeerte | 2020

$
0
0

Sondag, 24 Mei 2020

Sondag bekyk ek die landskap en ry om die Corniche. My roete: Tamboerskloof – Groenpunt – Seepunt – Clifton – Kampsbaai – Tamboerskloof.

Ek dink aan ‘n reël wat deur my kop draai:

Orals waar ek my voete sit, is water; woorde uit Veelhoek (1962) die digdebuut van die digter Barnard Gilliland (1938 – 1962).

*

Benedict Andrews se produksie van Tennessee Williams se A streetcar named desire kan lewendig gestroom word. Gillian Anderson. Ben Foster. Die produksie van Elia Kazan met die Marlon Brando en Vivien Leigh is in my besit en bly ‘n kragtoer. Ek het ‘n broertjie dood aan her-produksies, maar hierdie nuwe een word gedra deur twee manjifieke akteurs: die gevaarlike Gillian Anderson teenoor die kragtige Ben Foster (A Streetcar Named Desire - National Theatre Live).

So sien die Britse pers dit:

Anderson, best known in the US for the X-Files, is a haunting Blanche, imperious and frail, vicious and injured. She knows the words that will hurt Stanley most, largely because he senses the truth of them, and her flirtation is another way to taunt him. If Foster, who has taken Blanche’s comments about Stanley’s bestiality to heart, lacks the grace and the more obvious sensuality of some interpretations of the character, he inhabits Stanley’s erotic fascination and violent temper without apology or ostentation (A Streetcar Named Desire review – Gillian Anderson haunts in vital staging | Stage | The Guardian. Besoek 24 Mei 2020).

En in New York meen hulle:
Blanche DuBois in A Streetcar Named Desire remains among the most complex female characters in theater – tragically vulnerable and self-deluded on the one hand, coolly manipulative and even wily on the other. But Benedict Andrews’s ferocious new production of Tennessee Williams’ immortal play is the first I’ve seen to make plain that this honey-voiced aggressor can give as good as she gets. So much so, that the defining tussle between Blanche and her nemesis, Stanley Kowalski, elicits conflicting sympathies as seldom before (Gillian Anderson Stars in ‘Streetcar Named Desire’ at Young Vic - The New York Times. Besoek 24 Mei 2020).
*

7nm is ons President aan die woord. Ons mag wel tuis drink, maar steeds nie rook nie. Ons gaan begin werk toe gaan, maar moet eerder van die huis werk, as dit kan.

*

Verander my Whatsapp-profiel: ‘n vliegtuigie, papiermotor uit Kuba, ‘n New Yorkse cab met Russiese poppies van presidente aldaar. 

Besluit self oor die simboliek. En waarom daar geen artefak uit Sjina staan nie.

*
Truffaut se Stolen kisses (uit 1968 / Baisers volés) is ‘n voelgoed-film. Truffaut maak selfs ‘n buiging hier: hy is een van die begrafnisgangers (‘n kopknik na Hitchcock). Hierdie film is semi-outobiografies. ‘n Jong dromer, ontslaan uit die weermag, soek na Ware Liefde. Hy vind die meisie uiteindelik, maar tussendeur is daar wonderlike oomblikke. Hy word ‘n speurder en moet ‘n skoenwinkeleienaar help om uit te vind waarom hy nie liefde kan vind nie en waarom sy personeel hom haat. Dan is die Mevrou op sy spoor en ‘n pragtige, onskuldige verleidingstoneel tussen ‘n ouer vrou en jong man.

Wonderlik hoe hy ‘n brief aan die Mevrou pos. Stempel en ons sien hoe die brief deur die poskantoor ondergronds versend word in buise. En hy leer Engels met die hulp van plate. Ons sien op die TV die studente opstande van 1968. Alles kodes wat die film in die tyd situeer.

Uiteindelik vind hy weer sy meisie. Aan die slot is daar ‘n man wat haar agtervolg en bely dat hy haar liefhet.

Charles Trent se liedjie Que reste-t-il de nos amours? draal deur die film. Le Lys dans la vallée (The Lily in the Valley) van Balzac is ‘n interteks met vele toespelings na ander films van Truffaut soos The 400 Blows.

Die verhouding tussen Antoine Doinel en die violis Christine Darbon is die primêre verhaal. Hy het vir haar vele briewe geskryf – waarskynlik te veel – toe hy in die weermag was. Sy help hom werk soek: eers in ‘n hotel waar hy in onkunde dink hy help mense om betyds ‘n vlug te haal en ontdek te laat dit is die vrou se man (met ‘n speurder) wat haar aan die kaak wil stel. Hierna werk hy in die filmwêreld; ten slotte word hy ‘n speurder. 

Ook die laaste job word verloor en ten slotte word hy ‘n TV-herstelman. Christine haal haar TV opsetlik uitmekaar, en voilà, Antoine is daar. Die uiteinde? ‘n Gesukkel om die TV te herstel, maar hulle liefde gedy weer ná die klein indiskresie met die skoenbaas se vrou. 

Die aanslag is lig. Die toespelings slim. Twee jongelinge stap by ‘n winkel uit met Laurel- en Hardy-maskers.

Is alles net ‘n grap? Die ligte aanslag van die film oor ernstige sake, maak dit sjarmant en onthoubaar.


Maandag, 25 Mei 2020

Na ‘n stormnag is die hele werf vol blare wat ek laatmiddag ophark en in ‘n swart sak gooi. Die DVD-winkel is toe. Die stad is donker. Ek tel twee pizzas op. Neem een vir ‘n vriendin wat nie haar aftree-oord mag verlaat nie weens besmetting aldaar.

Pomp my kar se bande. Maak geselsies met die pompjoggies en die Moeslemman by die hoekkafee.

Op RSG se Moneyweb verduidelik finansiële kenners dat om van die huis af te werk waarskynlik meer produktief is en boonop die maatskappy baie geld bespaar.

Helaas, helaas word daar uitgewys dat die informele geselsies om die koffieketel of waar ookal (badkamers?) dikwels probleme oplos.

En ‘n verdere komplikasie: hoe moeilik is dit om die week van die naweek te skei.

Bepaald iets waarmee die uwe spook. Die dae vloei inmekaar. Die roetine is die ergste virus.

*

Koos Kombuis is nog ‘n romanskrywer wat die tydsgees perfek opvang.

Joe Kitchen – Sushi with Hitler, speculative burlesque fantasy. Naledi, 2020.

Resensent: Joan Hambidge

Hierdie roman Sushi with Hitler van Koos Kombuis – nou Joe Kitchen – word as ‘n spekulatiewe, burleske fantasie beskryf. Joe Soap, Jan en alleman is die naam nou.

Dit is net as e-boek beskikbaar by Amazon.com en hiermee is Koos Kombuis goed op dreef om die uitdagings van ingrendeling die hoof te bied.

‘n Skrywer moet skryf, maar ten minste ook gehoor of gelees word. En talle skrywers pleit dat hul e-boeke nie nou gratis op die internet versprei moet word nie. ‘n Moeilike een om te beheer, wel. Hoe gemaak met boeke wat mense uitleen?

Hierdie leser was nog altyd ‘n bewonderaar van Koos Kombuis se romans. Somer II in 1985, en Suidpunt-Jazz in 1989 as André Letoit. Sy speelse her-skrywing van ‘n ou klassieke roman van C.M. van den Heever verplaas hy na ‘n moderne ruimte met herkenbare karakters.

Raka die Roman (2005) had my buitelend van plesier. Koos is musiekmaker, digter, rubriekskrywer, komiekstripper, verkleurmannetjie (kyk net hoeveel skuilname was al daar). Sy memoirs verskyn reeds in 2014: Seks & drugs & boeremusiek – die memoires van ‘n volksverraaier. Liza se klavier word heel dikwels oor die radio gespeel tydens ingrendeling.

Kortom, Koos Kombuis is volksbesit. Soms in sy rubrieke is hy ‘n bietjie uit sy diepte wanneer dit oor intellektuele sake gaan, maar hy vergoed ruimskoots hiervoor met humor en erkenning van mistastings. Soos in ‘n resensie oor ‘n daggaboek.

André le Roux du Toit / André Letoit / Koos Kombuis / Joe Kitchen en sy boek is in Engels – en daar was al Engelse tekste soos Paradise Redecorated (1990), Hotel Atlantis (2003), The Secret Diary of God (2003) en The Complete Secret Diaries of God.

In hierdie boek met sy parallelle universum het die skrywer gaan kers opsteek by Zen (Zen and the art of motorcycle maintenance (1974) van Robert M. Pirsig), Douglas Adams, die Beatles (Sushi in die sky with diamonds) en te veel ander op te noem.

Met die openingsin is ons binne-in Dickens: It was the worst of times, it was the most chaotic of times, it was a very bizarre time, it was the most interesting of times, it was the kind of time you wouldn’t wish on your worst enemy, it was a horrible, heart-breaking, extremely intense time, and, to make things even more unpleasant, everything stank of fish.

Hierdie roman kan in een woord opgesom word: Supercalifragilisticexpialidocious!

Hitler, Picasso en Braque? Hieronimus Bosch en Einstein? Mary Poppins?

Op die planeet Aha is daar net drie seisoene: summer, spring and bummer.

Boonop blyk die aarde maar onbenullig te wees. Daar is taboes rondom die eet van vleis ( met die voorspelbare oortreder). Soms word die leser aangespreek; en selfs die redakteur gryp in.

Aha? Soos in die Aha-Erlebnis van Freud? Die oomblik van insig?

Daar is letterlik ‘n grap per bladsy. Verwysings na ‘n hologram, optiese illusies, komiekstrip-karakters, TV-karakters (Ally McBeal), filmsterre (Angelina Jolie), sangers (David Bowie, Tom Waits, die Stones, ensomeer) word langs historiese figure geplaas (Einstein, Hitler, Hawkings). Met kunstenaars (Picasso, El Greco, e.a.) wat ’n mengelmoes-parade oplewer. Die kode is natuurlik Quentin Tarantino wat historiese gegewens slim fiksionaliseer in van sy films. Hierdie roman is ‘n multivers met voetnote.

Dit is vanselfsprekend satire. Ons verneem ook: karakters in die roman moet swart wees en dalk gaan hierdie kwota-sisteem eendag op ons skrywers afgedwing word. Die hemel help ons. Dalk mag iemand aanstoot neem oor die wyn wat verander word?

Die skrywer is bekend met die kodes van scifi-verhale én hoe hierdie romans op ‘n aweregse manier sterk kommentaar lewer op aardse vergrype.

In hierdie dae waarin almal kopkrap wat ná postmodernisme kom, het Joe Kitchen die antwoord: meta-modernisme. En tydens inperking of grendeltyd lewer dit kommentaar op skrywers se fantasie-wêreld wat nie ingeperk kán word nie.

Is die roman geskryf vir ‘n internasionale of plaaslike mark? Volgens die skrywer eerder vir ‘n buitelandse gehoor.

Dis plesierig met ‘n Wok on the wild side (haha) ...

‘n Heerlike spekulatiewe, burleske fantasie met slim verwysings. Die roman kerf "truthers" op en hierom ‘n motto dan uit George Orwell.

Lees dit want dit resoneer met geweldig baie wat ons tans beleef.


Dinsdag, 25 Mei 2020

Hitchcock se Vertigo (1958) word telkens uitgesonder as een die van die beste rolprente nog en word in dieselfde asem as Citizen Kane genoem. Voeg hierby gerus The Third Man.

Vertigo begin met die fokus op die oog van Scottie Ferguson, die speurder wat lei aan hoogtevrees. Dis egter tekeninge van sirkels en die oog is – soos in Psycho – ‘n belangrike aspek van die film. Wie kyk?

Hy is nie meer ‘n speurder nie na die dood van ‘n polisieman wat hom probeer help in jaagtog op ‘n hoë gebou.

Die fokalisasie is van belang in hierdie film. Die speurder agtervolg die vrou wat kyk na ‘n portretstudie van haar grootmoeder: Carlotta Valdes. Madeleine boots haar klere en haarstyl na, net soos Judy later ‘n nabootsing word van Madeleine.

Scottie word deur haar eks man gevra om uit te vind wat haar bewegings behels.

Dit blyk dat Madeleine onbewus is van hierdie geskiedenis, maar haar man vrees dat sy deur die gees van hierdie vrou in besit geneem is.

Scottie (die speurder wat aan hoogtevrees ly) raak betrokke by Madeleine. Maar wie is sy werklik? Dubbelspel, so bekend aan Hitchcock, dryf die plot. Boonop is sy eks-verloofde jaloers, Midge en maak ‘n portret van Carlotta Valdes tot Scottie se ontsteltenis.

Waansin en selfmoord. Die oorneem van ‘n ander se identiteit. Drome en die parapsigologie is die belangrikste temas behendig hanteer deur Hitch.

Soos Scottie hoogtes vrees, so word die trappe bestyg ten slotte. Met die einde waar dit blyk dat Gavin sy vrou vermoor het en dat dit nie selfmoord was nie. In die ondersoek na Madeleine se selfmoord tel Scottie se hoogtevrees teen hom, hoewel hy onskuldig bevind word deur die jurie. Die aanklaer verwys na die dood van die polisieman.

Alles in hierdie film het ‘n dubbel-bodem. Madeleine is dood; Judy het haar plek ingeneem. Judy, blyk dit, was deel van die set om Scottie saam met Madeleine se eksman te gebruik as ‘n sogenaamde made-to-order-witness.

Na Madeleine se tragiese dood beland Scottie in ‘n inrigting en loop later vir Judy raak. Sy volstaan sy werklik Judy en sy gee selfs vir Scottie haar ID-kaart. In pynlike tonele probeer hy haar verander na Madeleine: die haarkleur en kleredrag word sorgvuldig nageboots.

Sy is – ten spyte van die bedrogspul – werklik lief vir Scottie.

Hy ontdek dan sy hét Madeleine vertolk – sy dra die halssnoer wat die hele spel weggee. Judy was Elster se minnares en Scottie neem haar na die ruimte waar Madeleine dood is. In ‘n dramatiese toneel oorwin Scottie sy hoogtevrees en Judy bely dat sy die mal Madeleine vertolk het.

Gavin het sy vrou se liggaam van die toring afgegooi. Judy val egter na benede wanneer sy per ongeluk haar balans verloor.

Ten slotte word daar kerkklokke deur ‘n non gelui.

*

Om hierdie film so op te som, verminder die impak. Die ongelooflike groot bome (sequioa sempervirens) wat die geskiedenis van die wêreld vaslê in hulle jaarringe, is ‘n belangrike kode.

Die speurder wat onbetroubaar of geskend is deur sy siektetoestand word betrek by ‘n vreemde situasie. Niks is betroubaar nie. En San Francisco word ‘n karakter in hierdie film met bakens wat die plot laat voortsnel.

‘n Vrou (Carlotta Valdes) wat ‘n buite-egtelike kind had by haar minnaar word deur hom verwerp. Dit lei tot waansin en selfmoord. Dit was Madeleine se oumagrootjie.

En Madeleine – volgens haar man – is ingeneem daar haar gees en hierom het sy selfmoord gepleeg. Wat egter nie so is nie. Moord paradeer net as selfmoord.

Die kyker weet ‘n ongelukkige einde is onafwendbaar. Scottie oorwin wel sy hoogtevrees, maar hy verloor sy fantasie. 

*

Swart swaan

Van griffel met lei
tot kryt op papier
inkpot en potlood
later vulpen
tot Mont Blanc:
‘n geskenk van jou.

Altyd ingehak 
teen my bors om
die hartklop van 
‘n gedig op te vang
– die idee loop immer
die ervaring vooruit –
in ‘n swart notaboekie.

Jy bevind jou elders
– die adres onbekend –
maar die Mont Blanc
krabbel steeds voort:
‘n tyd van aflegging,
Van cutting down to size.


© Joan Hambidge


Reisrubriek | 'n Serp om my nek | 2020

$
0
0

Woensdag, 27 Mei 2020 | ‘n Stopsel twak van my

Francoise Hardy sing vanoggend op FMR. ‘n Stuk heerlike nostalgie. Orals duik Frank Sinatra ook op. Selfs in winkelsentrums.

*

Volgens ‘n psigiater en kundige Jungiaan, is die virus se ongelooflike vernuf om te transformeer én spore dood te vee, ‘n bewys dat dit nie in ‘n laboratorium gemaak is nie. Altyd op pad met ‘n nuwe inkarnasie. Altyd almal een voor.

‘n Laboratorium-produk sou nie so vernuftig kon wees nie.

*

Rook nou regte twak. Die heerlike reuk van die tabak neem my terug na my jeug. My buurman draai vir my zolletjies. Zumatjies? 

So op die maat van Saai die waatlemoen.

Die aande is besonder koud en twee duvets en ‘n pelsagtige kombers nie genoeg nie. Laatnag haal ek ‘n ou piekniekkombers uit die kas. Slaap met ‘n serp om my nek. Pragtige foto’s van sneeu op die berge in Ceres is bekoorlik mooi.

Ek haat binnehuise verhitting: maak ‘n mens net siek. Jou liggaam, meen die uwe, moet self die temperatuur reguleer. In die koudste winter in menseheugenis in New Haven het die binnehuise temperatuur die vensters toegewasem. Die verskil tussen hittig binne en koud buite het siek gemaak.

Koue praat met my. In daardie koue winter van 1984 in New Haven het Hartskrif gebeur. En nou met die virus is ‘n winterreis na Rusland gefnuik.

*

Federico Fellini se Il Vetollini / The Bullocks (1953) is my aandvermaak.

Dit vertel die verhaal van vyf jong mans in ‘n dorpie en hoe hulle die sosiale mores van die tyd ervaar. Die patriarg regeer, die moeder pers af met kos en oordrewe emosies en die kinders bly op amper-dertig nog by die ouers.

Die film begin met die kroning van Mejuffrou Meermin. ‘n Heerlike feestelikheid - behalwe dat sy flou val en swanger is. ‘n Storm voorspel die afloop.

Fausto wil die pad vat, maar hy word deur sy vader ingeboelie in ‘n moet-troue. Die probleem is egter dat hy ‘n blinkoog is wat aanlê by sy baas se vrou. Daar is ‘n karnaval waar die norme uitgedaag word en hy flirteer selfs met die baas se vrou. (Bakhtin se idee van die karnavaleske signifieer die grense wat uitgedaag sal word.)

Alberto (in drag) daag stormdronk by die huis op en is onsteld oor sy suster, Olga se verhouding met ‘n getroude man. Die film analiseer die mores van die tyd en die invloed van die kerk in die klein dorpie.

Fausto speel ook later voetjie-voetjie in ‘n filmhuis, terwyl sy vrou neffens hom blinkoog sit.

Die baas nooi hom vir ‘n drankie een aand na werk en konfronteer hom met sy grensoorskrydende gedrag in die winkel wat kuns- en religieuse objekte verkoop. Hy word summier ontslaan, maar sy vriend, Moraldo voel dit was onregverdig.

Hulle steel ‘n engel uit die winkel en maak hulleself wys dit is geregverdig. Dis immers wat die baas hom skuld. Hulle probeer dit verkoop aan ‘n klooster, maar die monnik sien regdeur hulle. Hulle gee die engel vir ‘n malman (wat hulle gehelp het om die kunsobjek op ‘n waentjie te vervoer) en hy aanbid voor die engel.

Die patriarg is woedend oor nog ‘n oortreding, maar met ‘n geliegery word die vrede herstel. By ‘n teateraand – waar Leopaldi, die skrywer – goedkeuring vir sy teks wil hê by die ou akteur, wat dit goed vind, dans die poppe weer wanneer Fausto met ‘n aktrise bed toe gaan. Die ou akteur probeer Leopaldi verlei en na sy ondeugsame optrede is Fausto in die moeilikheid.

Sandra verdwyn met die kind uit ontsteltenis oor Fausto se verraad en wanneer sy gevind word by haar skoonpa se huis, word Fausto gebliksem met ‘n belt deur sy pa.

Een van die kalfies verlaat die dorp per trein. Sy vriende bly agter – slapend in hul beddens.

Hy is aan die woord as die voice over. Dalk Fellini self?

In hierdie film sien ‘n mens reeds die temas wat Fellini later sou aansny: die karnaval, die soeke na sin, liefdesontrouheid, die impak van die kerk en mores, die gesin wat die kind beheer.

En hoe ‘n mens nooit die plek van jou jeug verlaat nie.


Donderdag, 28 Mei 2020

Bibberkoud. Sneeu in Ceres. Tweeuur in die oggend begin ek met ‘n nuwe roman: Keerweer. ’n Projek om die gedagtes te orden en melancholie af te weer.

Die strate is omineus stil. Die ligte is aan en net my koffiemasjien is wakker met klein smakgeluidjies.

Ek maak roosterbrood. Die masjien is laas in my vorige lewe laas gebruik, maar is flink op sy pos. Is daar iets lekkerder as roosterbrood met Marmite, botter en vars tamatie?

Vyfuur is dit bedtoegaantyd. Ek rook een van my zumatjies. Die reuk is so vars; anders as sigarette met chemiese stowwe.

As ‘n hele wêreld vir Marcel Proust kon oopgaan in À la recherche du temps perdu met ‘n Madeleine-koekie, is dit vir my so met tabak. Aliwal-Noord, Standerton – boere wat pyp rook op die stoep.

*

Ons Franse woord vir die dag is dan: perdu.

*

Vandag bly ek binne. Ysig. Snerpend. My buurvrou los pannekoek voor die deur.

Casanova van Federico Fellini is aan die beurt.

‘n Aanskoulike film. Bykans soos ‘n opera waar elke vinjet iets be-teken. Vroue wat sit en skinder en hulle koppe draai na mekaar. Casanova (Donald Sutherland) is kamp en over the top. Fellini het die film gebaseer op die dagboek van die 18e-eeuse avonturier en skrywer. Hierdie 1976 film is bekroon vir die beste kostuums deur Danilo Donati. In die dokumentêr oor Fellini het Sutherland openlik bely hoe moeilik Fellini was. Daar was geen regie nie; die teks is al om die hawerklap verander en hy moes dialoog binne enkele minute leer.

Die film skop af in Venesië in die 18e eeu. Daar is ‘n karnaval en ‘n poging om ‘n reuse boegbeeld uit die water te red, misluk. Dit word as ‘n slegte voorteken te sien. (Fellini begin telkens sy films met so ‘n voorteken of prospeksie: in Il Vetollini is daar ‘n storm wat ellende voorspel; hierdie bad omen is belangrik, omdat Casanova later beskuldig word van ‘n belangstelling in swart magie.)

Hy het op ‘n eiland seks met ‘n vrou wat haar voordoen as ‘n non, terwyl haar geliefde, ‘n ryk man, ‘n voyeur is. Casanova is bewus hiervan. Die man loer deur die oog van ‘n vis wat hang teen die muur.

Hy word tronk toe gestuur weens dié oortreding, maar ook weens sy belangstelling in die onbekende kennis – alchemie o.a. – van die tyd. In die tronk dink hy na oor al sy verskillende verhoudings. Hy ontsnap uit die tronk, reis na Parys en hier probeer hy Madame d’Urfé se siel transformeer na dié van ‘n man; uiteraard in die teenwoordigheid van ‘n jong vrou vir sy eie plesier. Sy versoek hierdie transformasie omdat vroue in die tyd volgens die kerk nie ‘n siel had nie en dus nie die ewige lewe sou kon binnegaan nie.

In Londen word hy deur twee vroue beroof en Casanova probeer selfmoord pleeg deur in die Teems te spring. Hier word hy gered deur ‘n visioen (tipies Fellini) met dwerge en ‘n reuse vrou. Hierna vertrek hy na Rome waar hy ‘n dekadente party van Lord Talou bywoon. Hy wen dan die uitdaging vir hoeveel orgasmes hy in een uur kan bereik. Tot groot bewondering van almal. In Switserland raak hy verlief op ‘n alchemis se dogter, ene Isabella. Daar is ‘n orgie en hierna vertrek hy na Dresden waar hy kortstondig sy vervreemde moeder sien.

In Württemberg ontmoet hy die meganiese pop Rosalba. Hy gaan uiteindelik met haar bed toe – waarskynlik ‘n beeld van sy uitbranding en die dood van sy libido.

Die ou Casanova word verneder en in die kasteel in Dux word sy portret vernietig en besmeer met uitskot. In die slottoneel droom hy dat hy terug is in Venesië en die spoke van sy verlore geliefdes teister hom. In die slottoneel dans hy met die pop.
*
Die film het duidelik ‘n Fellini-aanslag: droom en werklikheid; gefnuikte seksuele begeerte; die gemeenskap as ‘n demper; die karnaval.

Donald Sutherland word Casanova. Sy wenkbroue is afgeskeer en swart wenkbroue word geteken na bo. Sy hare is teruggeskeer sodat sy hoë voorkop hom omineus laat lyk.

Hierdie Kanadese akteur (opgelei in Brittanje) wat veral in Don’t look now (1973) met Julie Christie my oortuig het van sy erns as akteur – veral met die naaktonele. Maar moenie vergeet van Klute – met Jane Fonda –, A dry white season, JFK. Hy is bekend vir sy uitgesproke anti-oorlog-standpunte en ‘n verhouding met Jane Fonda (kortstondig).

‘n Mens kan selde hoor wat hy sê. Maar sy liggaamstaal en spel met sy oë vertel altyd meer as genoeg.

*

Aardklop is ook gekanselleer. ‘n Mens het oneindige deernis met die akteurs se ellende. Hulle behoef ‘n gehoor; skrywers kan alleen voortdreun. Net met ‘n potlood en papier. 


© Joan Hambidge

Reisrubriek | Die Covid-19 Catch-22 | 2020

$
0
0

Vrydag, 29 Mei 2020

Die inperkingregulasies word verander. Vandag so. More sus. Gelukkig mag ons faktotum terugkeer werk toe en kom skoon maak.

Die dak mag reggemaak word en die geute word na 1 Junie vervang, Deo Volente.

Die inperkingsreëls verander voortdurend op die merry-go-round van onsekerheid. As roker vind ek haar edele dr. Zuma se optrede met betrekking tot sigarette onaanvaarbaar. Ek het wel rookgoed in die vorm van tabak, maar dit is ‘n bewese feit dat mense wat aan stres ly en nie kan rook nie, angsaanvalle kry. Boonop word jy siek as jy skielik ophou rook – aldus my Moeslem-mondhigiënis.

Drank-aankope gaan ook glo na 1 Junie beperk word. Weer streng regulasies van hoeveel jy mag aankoop. Ons weet almal hoé ingewikkeld en prekêr die balanseertoerjie tussen die ekonomie en gesondheid is, maar die belaglike regulasies maak nie sin nie. Alkoholverbod. Kerke mag oop, maar restaurante nie?

Ons gee toe dis ‘n moeilike tyd vir almal, maar die drakoniese wette het in hierdie tyd verdere (en onnodige) spanning geskep. Die beste een is egter die klere-regulasies van minister Patel.

Maar dit skep darem humor. Dr. Zuma met sigarette in haar weave. Grappe rondom maskers (soos die masker beskerm jou teen ‘n drankasem) en frustrasies. Humor is immers altyd die finale uitweg tot oorlewing.

Nou ja: Twak en Patel is die wet van Transvaal.

*

So ervaar Philip French Fellini se Casanova met die DVD-heruitreiking in 2010:
The semi-coherent, death-obsessed narrative reeks of self-disgust and has the clammy atmosphere of an undertaker’s embalming room. Made entirely on fabulous Cinecittà sets, it’s superbly photographed and magnificently staged and Sutherland (who hated the experience) is a compelling presence (Philip French's Classic DVD | Film | The Guardian. Besoek 30 Mei 2020).
Hiermee word daar verskil, omdat ek die film nou weer bekyk – vir die tweede keer binne twee dae. Die kritiek was indertyd snedig toe die film verskyn het. Fellini self het bely dat hy geen simpatie met Casanova as figuur gehad het nie en eers tydens die verfilming versag het teenoor sy subjek.

Om te dink dat Robert Redford en Jack Nicholson oorweeg is vir hierdie rol.

Die mores van die tyd word uiters subtiel ondersoek. Die digter en letterkundige figuur Casanova se peregrinasieverhaal word in high camp vertel. Sutherland se neus is die ene prostese en die film se fokus op getekende vaginas vind ons later terug met ‘n intertekstuele knipoog in Pedro Almodóvar se Talk to her (2002).

In hierdie film red ‘n verkragting ‘n jong meisie uit ‘n komatose staat en Almodóvar laat jou nadink oor reg en verkeerd. As sy nie verkrag was nie, sou sy nie herstel het nie. Vir die kyker ‘n skokkende opsie. In hierdie aangrypende rolprent – wat handel oor ‘n jong, effens-vertraagde man se obsessie met ‘n pragtige meisie – gebruik hy ‘n wit-en-swart-film om die vrees vir penetrasie te openbaar. Die jong man gaan ‘n donker grot binne.

Die vrees vir vroulike seksuele krag word so verbeeld. Federico en Pedro kyk dikwels na die vertraagde mens se lot.


Saterdag, 30 Mei 2020

Ondertussen vergelyk ons Elia Kazan se produksie van A street car named desire met die nuwe een met Gillian Anderson (Gillian Anderson - A Streetcar Named Desire (Not About Angels) - YouTube. Besoek 30 Mei 2020).

Wanneer ‘n mens dit as geheel beskou, is dit ‘n kragtige produksie met moderne musiek en Anderson wat waansinnig én provokatief is. Tuimelend. Oop met deure wat toemaak. Die Australies-gebore Benedict Andrews teenoor Elia Kazan, die Grieks-Amerikaanse regisseur oor wie Susan Sontag so insigryk skryf in Against Interpretation.

Kwessie van smaak. Persoonlik verkies ek die sober, treurige interpretasie van Vivien Leigh as Blanche. ‘n Persoon vasgestrik in haar leuens en waansin. Miskien speel Anderson se gevaarlike persona te veel in op háár interpretasie? Ons weet immers hoe sy o.a in The Fall en in haar lewe grense altyd uitdaag.

Blanche DuBois

Ek moes altyd genadebrood
eet, in die Flamingo-hotel
minnaars teenskunnig onthaal,
toe ek Belle Rève verloor.
Op soek na ‘n holte vir my voet
met vele vereboas,
vertrek ek na Stella,
my swangersus
in New Orleans.
Genagmerrie ek
oor ‘n lewe tus-
sen grense,
tussen tye:
ek onthou daardie skoot
in die donker nag
toe…
Ek is Blanche, Blanche DuBois,
‘n lenteboord,
ek is die Dame van die Kamelias,
ek is, ek is…

Altyd voor
altyd voor
spieëls
staan Blanche DuBois,
altyd weg van lig
van lig
‘n vlermuis
gevang
nes die soekligte
van waarheid
op haar skyn…

Die brutale Kowalski
ek walg van sy
lyf en reuk
in die Elisiese
velde
tussen illusie
en ‘n gekraakte spieël:

in ‘n donkernag ver-
geet sy die pinnommer
van Vodamail,
skakel in die nag
‘n vergete nommer,
ontdek ‘n vreemde selfoon
in haar sak ná ’n nag
soekend soekend na ‘n Blanche duBois
op ‘n Streetcar named desire…

Vivien Leigh en Cate Blanchett
word één met Blanche:
“…I’ve always depended
on the kindness of strangers…”.
Droewe, melancholiese Blanche,
alkoholis en self-bedrieër,
met hierdie vers
verlos ek jou
van eensaamheid
en waansin:
nou speel ek vrolike
Weense walse
net vir jou net vir jou
word één met jou
soos ‘n gerekende aktrise
dansend dansend
wég van verguising
en verkragting.

(Matriks: 2015). 

*

Nights of Cabiria is in 1957 uitgereik en Truffaut beskou dit in daardie tyd as Fellini se beste film. ‘n Wonderlike film – beslis nie sy beste nie – wat die storie vertel van ‘n prostituut op soek na ware liefde. Dit begin waar sy deur ‘n swendelaar besteel word en in die rivier gestamp word. Sy word van verdrinking gered deur jongelinge wat keer dat sy deur die damsuiweraar ingetrek word. Sy is egter ondankbaar vir hierdie reddingspoging en keer woedend terug na haar huisie waar sy veg met die ander dames van die nag. Giulietta Masina, Fellini se vrou, is oortuigend in die rol. Eers word sy deur ‘n filmster opgetel, ene Alberto Lazzari, en ‘n danstoneel in ‘n nagklub is verruklik – omdat dit so verkeerd is in die neus-in-die-lug-plek. Sy vriendin keer terug in die nag en so word haar drome verydel om met hom te slaap.

Sy word by ‘n vertoning deur ‘n towenaar gehiptoniseer en deur die gehoor uitgelag.

Haar droom is om ‘n man te vind met wie sy haar lewe kan deel. Ene Oscar wag haar buite in, belieg en beduisel haar. Sy verkoop haar huis, haal al haar geld uit die bank en word deur hom verneuk. Net soos aan die begin waar die minnaar haar in die water gestamp het, probeer Oscar haar oor ‘n afgrond stamp. Sy verloor hom en haar geld. Tog eindig die film positief met jongelinge wat om haar dans.

*

Pasolini het gehelp om die dialoog te skryf en in ‘n wonderlike onderhoud met die vervaardiger Dino de Laurentiis vertel hy hoe hy ‘n lang stuk uit die film gesny het, omdat dit die storiegang vertraag het. Dit word vertel deur Dino in Italjaanse Engels. Ja, hy het dit gesteel (maar Fellini het geweet hoekom) en later het Fellini die stuk teruggebedel en weer in films gesit vir ‘n geleerde gehoor.

Daar word na die film as ugly realism verwys, maar dit is bekoorlik en aangrypend. Dit is ook herhaaldelik bekroon. Een van Federico Fellini se egte, menslike en pynlike films.


Sondag, 31 Mei 2020

Amptelik is ons nou amper klaar met grendeltyd. Onse President bely hy moes eerder gesê het dat hy ook teen die boikot van sigarette op Vlak 4 was.

Too little too late. Ondertussen heers daar verwarring oor skooltoegaan, al dan nie.

Die middag ry ek Kampsbaai toe en kyk na die see. Mense stap buite met maskers. Maar ten minste is ek al nader aan die see ... binnekort sal ek gaan swem.

Saigon, ‘n puik Oosterse restaurant maak vir my osstert. Ek gaan haal dit af. Ontsettend duur en restaurante sal bepaald pryse moet verlaag oorlewing ontwille.

By ‘n ander kontakpunt kry ek rooi wyn. Genugtig. Osstert sonder regte rooi wyn?

More word daar wyn afgelewer. Spierlandgoed.

*

Sondagaand kyk ek na die onderhoude gevoer met verskeie rolspelers met Nights of Cabiria. Assistente en mense wat agter die skerms gewerk het en altyd onsigbaar is. Dit het weke geneem om die religieuse prosessie te verfilm. Dit het gebots met ‘n werklike besoek van mense op so ‘n bedetog wat chaos veroorsaak het.

Dominique Delouche, ‘n persoonlike assistent van Fellini, was werksaam aan hierdie projek. Die uitknip van die man met ‘n sak wat kos aan die armes uitdeel, was gewoon omdat die film té lank sou wees. Dit het niks te make gehad met sensuur van die kerk nie. Hoekom sou die Katolieke kerk negatief reageer op so ‘n suiwer daad?

Hy wys op die kil ontvangs van La strada en hoe hy by Cannes vir Fellini meegedeel het hoe aangrypend-goed die rolprent is. Hy word toe sy assistent. Hy vertel van die dispuut tussen Visconti en Fellini – wat agterna beskou onnodig was. Beide is immers in eie reg fantastiese filmmakers.


Otto e mezzo
La dolce vita
City of women
Roma
Amarcord
Casanova
I Vitelloni
I am a born liar

Almal in my besit wat ek nou stadig weer kan besoek. Die vreugde van tyd wat stadig beweeg.

*

Kyk weer na die Ou-Testament – die versugting om by die beloofde land uit te kom word telkemale opgeteken. Vanuit verskillende hoeke. Toe genoem Kanaän.

© Joan Hambidge

Reisrubriek | Hallo, koebaai, Jeanne! | 2020

$
0
0
Foto: Lerato Maduna

Maandag, 1 Mei 2020

Op Netwerk24 verskyn hierdie resensie:

Jaco Fouche – Aanspreeklikheid. Human & Rousseau, 2020. ISBN: 978-0-7981-7833-4

Jaco Fouché is ‘n eiesoortige en produktiewe romanskrywer wat gedebuteer het met Ryk van die rawe (1996) bekroon met die Eugène Marais-prys. Met Aanspreeklikheid het hy die tweede plek verower het in Groot Afrikaanse Romanwedstryd vir 2018. Die troebel tyd deur Ingrid Winterbach was eerste en die derde prys is verower deur Debbie Loots met Die boek van gelukkige eindes. Fouché se Verstevlei wen die derde prys in NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd in 2012.

Aanspreeklikheid is ‘n besonder boeiende roman oor ‘n man, ene Jaco Diehl, wat betrek word by moorde.

Hy woon eers in Hermanus, dan Sandbaai en beland dan in Kaapstad. Hy het ‘n vriendin in ‘n inrigting, daar is verwysings na dwelms, alkoholmisbruik (die AA) en die verkragting van ‘n man deur ‘n man. En dan moord ...

Die peregrinasieverhaal gemeng met ‘n speurverhaal en ‘n onbetroubare verteller op die koop toe, maak van hierdie roman iets besonders. Die boek is sowat 250 bladsye lank en ‘n mens wil die hele tyd weet wát gaan volgende gebeur. Gaan die moordenaar – eintlik dalk in die meervoud – aan die pen ry? Boonop maak die Bybelse verwysings en voorspellings van swaarkry iets unheimlichs van hierdie roman in hierdie tyd van inperking: 
Ons keer terug na ‘n tyd van swaarkry. Dis Bybels om so in siklusse te leef. Kyk hoe lank het die Israeliete in ballingskap verkeer. (181)
Ons is nou in grendeltyd eweneens bewus van ellende.
Maar my geestelike geesdrif is daarmee heen en deesdae is ek die louwarm kos in God se mond wat Hy binnekort sal uitspoeg.(156)
Ons het egter ‘n skrywende verteller: dus onbetroubaar wat die belewenis en vertelling deurmekaar laat vloei. En boonop is daar ‘n verwysing na Georges Simenon se Maigret-speurder wat waarsku dat menslike emosies belangriker sal wees as plot.

‘n Skrywer wat ‘n roman skryf oor Fouché, die historiese figuur, die Duke of Otranto? ‘n Man wat bekend was vir sy agterbakse en rewolusionêre optredes. Gaan kyk maar na die geskiedenis met Robespierre en wat hy van die koning gedink het. Dit is ‘n belangrike kode vir ongerymdhede wat in hierdie roman gaan gebeur. Napoleon se minister van polisie, die slagter van Lyon is die onderwerp van die verteller se boek, ‘n man wat ‘n situasie kon lees en bewimpel.

Dus ‘n konfrontasie met werklike moorde in die hede teenoor koppe wat rol in die verlede. Silence of the lambs staan ook opgeteken as inspirasie in die nawoord. 

‘n Rekenaar wat oppak en hardeskryf wat uitgewis word, is verdere waarskuwings dat jy nie die verteller op sy woord moet neem nie. ‘n Doolhof inderdaad.

En die uitgewer in sy roman beskryf sy werk as die filosofie van die nihilisme. Inderdaad. Want wat het ‘n skoonmaker met karate te make met Yokio Mishima? “‘n Mens moet jou ekskursies, soos jou woorde, tel,” waarsku die verteller. En dalk bedoel hy ook jou intellektuele ekskursies?

Die fiksionele uitgewer meen verder die lewe bestaan uit vlakke en lae. En met hierdie roman is dit bepaald die geval. Die skrywer in die roman spot ook met sy posisie as skrywer dalk as synde “high maintenance vir low returns”? Hiermee word daar kommentaar gelewer op die eise om suksesvol te wees wat die skryfproses mag beduiwel.

In die erkenningslys word daar o.a. na Colin Wilson verwys. The Outsider en sy studies oor reeksmoordenaars en buitesintuiglike ervarings is van sy werke wat hier na vore kom. Jack Kerouac se On the Road slaan deur. Wilson het as jong man bedags in biblioteke navorsing gedoen en snags in parke geslaap totdat sy eerste boek ‘n blitsverkoper was. Die Beats – soos Kerouac – het die kapitalisme verfoei en in hul skryfwerk ondermyn.

Die werklike skrywer vind kennelik aanklank by skrywers wat die donker kant van die psige karteer soos Donna Tart in The Secret History en Bret Easton Ellis in American Psycho.

Nog ‘n skrywer wat skryf oor ‘n storie omdat daar nie ‘n storie is nie. Absoluut nie. Hy dupe jou. Hy lei jou om die bos en trek al skrywend sy voetspore dood. Te laat besef jy dat jy jou in ‘n metaroman bevind.

In hierdie tyd beland In the Dream House van Carmen Maria Machado op my lessenaar, ‘n roman wat verlede jaar verskyn en internasionaal opslae gemaak het. Hier het ons eweneens ‘n skrywer wat agentskap binne ‘n lesbiese verhouding fiksionaliseer en vanuit verskillende perspektiewe beskou: as American Gothic, as pathetic fallacy, as spy triller, ensomeer.

Vreemd hoe boeke met mekaar in gesprek tree. Twee skrywers op verskillende kontinente wat die verskillende aspekte van lees en skryf ondersoek. Beide voorspel die virus wat ‘n hele wêreld tot stilstand gaan ruk.

En ‘n verder heerlike stuk ironie: die Amerikaanse karakter besoek Suid-Afrika as jong kind en lewer kommentaar op die landskap. 

Aanspreeklikheid bevat apokaliptiese en distopiese elemente. Die nawoord gee belangrike sleutels vir verdere speurwerk in hierdie roman. ‘n Mens behoort Skrywersblok (2009) weer te lees wat weens die grendeltyd onmoontlik was vir hierdie leser.

‘n Spannende roman wat iewers die draak steek met die letterkunde se beheptheid met speur- en moordverhale tans en wys dat jy helder en toeganklik kan skryf sónder om oppervlakkig te wees. 

*

Ek tel 12 bottels Spier Cab op. Vir my en vriende. Die inperking is verby. Alkoholvrye bier kan nog, maar die wyn helaas nie.

In die aand is dit Fellini se herinneringstog: Amarcord.


Dinsdag 2 Junie 2002

Something’s got to give. Die dak word reggemaak en my kombuisdrein is verstop. Skielik is daar water oor die kombuisvloer. Ek en die faktotum spook om te sien waar die lekkasie is. Ontdek die prop onder die U-boog het verroes. 

Ek neem ‘n foto van die prop en plaas dit ter wille van die regte agtergrond op Tristia en stuur dit vir die loodgieter.

Binne ‘n halfuur is daar ‘n hulpvaardige jong swart man wat met my kwinkeleer.
“Waar is jou masker?”, vra hy.
Ek sit onmiddellik ‘n wit masker op.
Gelukkig het hierdie oorstroming tydens Fase 3 gebeur waar mense mag uitgaan om te help. Flink en hulpvaardig.

*

Die bedelaars word aggressiewer wanneer ‘n mens nie iets wil koop in die winkel nie. Geld is nie genoeg nie. Hulle het voorskrifte én voorkeure. Soek Peanut Butter en brood en melk.

Die ellende van mense gryp aan die keel. veral na 6nm.

*

Jo Stafford sing No other love – hartverskeurend mooi.

Die 8nm applous in Kaapstad word al hoe minder uitbundig.

Miskien omdat ons weet die virus gaan nog lank met ons wees?

*

My oor word fyner ingestel met die Franse CD’s. Dominique de Louche se Frans volg ek beter wanneer hy praat oor Fellini. 

*

Nou wag die herinneringsfilm, Amarcord.

‘n Uitsonderlike film waarin die jong man Titta se rite of passage tydens die Mussolini-tydvak ondersoek word. ‘n Lieflike rolprent wat al die argetipes van ‘n kleindorp weergee: die familie, die onderwyser, die priester, die hoer, die stoute kinders wat masturbeer in ‘n springende motor (wat deur vele Hollywood-regisseurs al geskaai is), die fokus op die verskil tussen waansin en normaliteit teen die agtergrond van die oorlog. Met skerp kommentaar op Fascisme.

En uiteindelik die dood van die moeder.

Dit werk met sterk en bekende simbole – soos die pou se vere wat later in slaapkamertonele herhaal word. Mooi tonele soos Titta wat vry met die winkelvrou en sy kop tussen haar massiewe borste plaas en die tepels op haar aandrang moet suig. Altyd die oermoeder in Fellini se films wat die jong seun inisieer. Terselfdertyd word hy versmoor deur háár passie. En hy bly onvervuld.

Die film begin met die lente en die pofblommetjies wat deur die lug wapper. Dan word dit winter en uiteindelik is dit weer lente. Die ritualistiese verbranding van die Ou heks van die winter aktiveer die paganistiese aspek van die film wat met etlike primordiale simbole werk.

Moreaand sal ek weer na hierdie komplekse film.


Woensdag, 3 Junie 2020 

Jeanne Goosen het vertrek. ‘n Vreemde hartseer neem van my besit.

Die afgelope tyd is daar geskryf oor haar biografie, haar gedigte (onaf in manuskripvorm) en haar onvergeetlike aforismes.

Goosen is veelkantig, ‘n kreatiewe wonderwerk wat in vele genres haar merk gemaak het. Ons is nie almal so nie. Lou-oond. Paw-paw vir my darling, Elders aan diens ...

Om ‘n mens na te boots.

In hierdie vreemde teks vind ‘n mens die essensie van Goosen: die mengsel van fantasie en realiteit. Die storie van Bres, Brim en Dana. Dalk dieselfde persoon?

Jeanne het in Parow groot geword en selfs hierdie ruimte het sy gefiksionaliseer. Hoe is die pa dood? Hieroor bestaan daar verskillende weergawes. Maar fiksie was háár ruimte en soos Fellini het sy telkens teruggekeer na die plek van grootword en kreatief daaruit geput. In die bekende kortverhaal “Aan die einde van die reënboog” (1987) speel sy met herinnering aan Bellville / Parow met ‘n vrou wat mans bliksem in ‘n kroeg – met Anneli van Rooyen se bekende liedjie wat speel in die agtergrond.

Die Commercial Hotel se Ladies Bar: ‘n Klipdrift Double, ‘n Goodyear-asbak en ‘n Texan is hoe die verteller haarself beskryf wat haar binne die orde van die manlike domein bevind.
Die spanning ontstaan wanneer ‘n man vra:”Ou pel,” sê hy.”Wat is DIT wat nou net hier ingestap het? Issit ‘n man of issit nou ‘n vrou?”

Dan ontstaan daar ‘n weddenskap tussen die mans of dit ‘n man of vrou is. Die verteller staan op en dink: “Ek is lank, lenig en dertig. Ek is so fit soos Rodger Bannister voor hy die vierminuut-myl gekraak het. Ek is ‘n vrou, en ek vat g’n kak van niemand nie.”

Die man wat gebliksem word herinner haar aan die Laerskool Parow se hoof – sonder sy lat.
Sy sit die man in ‘n hewige, fisiese stryd op sy plek.

Carmensita in die kroeg bewonder haar en die spreker sê: “Hulle noem my Jean,” antwoord ek.”Net Jean.”

Aan die ein-de vôn die reë-enbôô-ôôg...! sing Anneli van Rooyen ten slotte wanneer die oorwinning beklink is.

Jean = Jeanne en in die fantasie (met die strikdas) kan alle gender- en jeugkonflik ópgehef word.
Jean (manlik) versus Jeanne (vroulik); Jean (jeug) versus Jeanne (die volwasse skrywer).

*

Almal van ons het ‘n komplekse verhouding met Jeanne gehad. Terwyl jy nog lekker nadink oor ‘n samesyn van lag en heerlikhede, gee sy jou ‘n dwarsklap. Jy gee vir haar ‘n digbundel persent wat sy met potloodstrepe bekrap en jou vertel hoe vrot Die verlore simbool is.

Iets wat ‘n mens leer navigeer. Haar kreatiwiteit het altyd vergoed vir beskuldigings en rugstekery.

Dan onhou jy weer ‘n uitbundige aand – waar die uwe paradeer as Pavarotti met ‘n handdoek om die kop en saam-mime – en Jeanne wat ballet doen. En op The Sound of Music dans met ‘n vrou.

Of hoe sý saamsing in Melville se Question Mark met twee akkordeon-spelers.

Of klavierspeel by Phil du Plessis se huis. Of jou opbel met ‘n lang, verdrietige gesprekke.

Jeanne sou jou ook bystaan wanneer jy deur slegte tye gaan en teenstanders van jou wegklap.

Nou is Jeanne Goosen elders aan diens. Mag die impak van haar besondere werk na waarde geskat word. Veelkantig en eiesoortig.

© Joan Hambidge

Reisrubriek | Onthou om te onthou | 2020

$
0
0

Donderdag,  4 Junie 2020 tot Sondag, 7 Junie 2020

Vanoggend luister ek na die kommentaar van twee filmkritici (Peter Brunette en Frank Burke) oor Amarcord.

Tussendeur gaan ek deur stapels manuskripte. Reisverslae, universiteitsdokumente, briewe, keurverslae van boeke – pak dit weg in kombuiskaste. 'n Groot klomp papiere land uiteraard in 'n swart sak. 'n Hele lewe word in ''n fast forward na vore gebring. 'n Handgeskrewe "Daar is 'n koggelmander in my kakhuis", 'n brief van Johann de Lange aan my in 2013, 'n in memoriam in Die Burger waar 'n liefdesgedig by die herdenking van 'n kind se dood ander betekenisse ontsluit.

Die gedig is sonder my toestemming gebruik. Dit is goed so. Gedigte moet reis om mense te help. Dit kry immers onmiddellik na publikasie 'n nuwe betekenis.

Amarcord is wonderbaarlik reg vir hierdie tyd.

Fellini het opgemerk op 'n keer dat hy musiek te oorweldigend vind om daarna te luister. Tog is Nina Rota se musiek as refrein belangrik vir sy films.

Karakters praat direk met die kamera asof hulle óns, die kyker, wil betrek. Die vrou Gradisca voer 'n ontkleedans uit – nie vir die minnaar nie, maar vir die kyker. 'n Soort Brechtiaanse Vervremdung.

Fellini is inderdaad 'n visuele storieverteller. En jy kan die storie volg sonder onderskrifte of dialoog. 

In Roma (1972) bring hy hulde aan sy geliefde stad. Die stad van illusies, soos Gore Vidal, die Amerikaanse skrywer dit tipeer, wat lank woonagtig was in Rome.

Peter Gonzales vertolk die rol van die jong Fellini in hierdie film met verskillende episodes: besoeke aan 'n hoerhuis; ondergrondse frescoes verdwyn, omdat daar lig op hulle skyn; gesprekke oor die sub-way wat nie voltooi is nie, weens die brose struktuur van die stad; 'n modevertoning waar priesters op rolskaatse rondbeweeg en verskillende kledingstukke vertoon en dus kommentaar lewer op die kerk se materialisme; 'n boksgeveg; die diefstal van 'n kamera.

Die film begin met die geskiedenis van Rome en Fellini en sy assistente beweeg deur die stad. 'n Mens bly deurgaans bewus van hulle. Anna Magnani weier om Fellini te woord te staan. Sy klap as groot aktrise die deur in sy gesig toe. (Sy is kort na die voltooiing van die film oorlede.)

Oorlogtyd word teenoor die sewentigerjare geplaas. 'n Bomskuiling teenoor hippies wat sing met die kokende restaurantlewe in Rome. Fellini speel 'n jong man in die dertigerjare wat bordele besoek en in die sewentigerjare is hy die filmmaker. Twee verhale word teenoor mekaar geplaas in 'n selfrefleksiewe, metatekstuele film wat hy later in Otto e mezzo verder ontgin.

*

Jeanne Goosen se dood wek tereg wye reaksie in die pers. Daar is vele huldeblyke vir die uitstaande, enigmatiese en briljante skrywer wat op soveel fronte werksaam was. Ek probeer haar karteer in 'n gedig:

Jeanne Goosen

Op 'n herfsdag word jy ontslaan
met boegoe en jenewer en Maria Callas
om finaal te vertrek na daardie aftreeoord
waar ander digters nou met jou hof

sal hou in 'n gewalste woord of koue oorlog
in 'n ruimte met vele sirkels oneindig glo
hoe klink dit daar met musiek op die engeleharp?
sal jy jou steeds onverbiddelik verweer verset

teen vooroordeel leuens of voorstellings 
van dié firmament nooit omsingel of omskryf?

Nou is jy elders aan diens met Bibberende Piet
en jou bossies Mamma se agterstevooromkind

sing Ia sona molto felice vol geluk en saligheid
soos klank en woord en beeld se drie-enigheid

omstedelik sal jy aankom in hierdie omstreke 
vol stories fabrikasies en dié plek ook omkeer

*

In City of women (La città delle donne) van 1980 vertolk Marcello Mastroianni die rol van Snàporaz. Hy ontmoet 'n vrou op 'n trein en het kortstondige seks met haar in die toilet. Die trein stop onverwags en hy agtervolg haar dan deur 'n woud na die Grand Hotel waar daar 'n kongres vir vroue plaasvind. Hy is onwelkom hier as man en word gekonfronteer – saam met die kyker – met uitspattige en uitbundige gesprekke oor vroulike seksualiteit.

Daar word beswaar gemaak oor terme waarmee die vagina beskryf word: box, snatch, bunny, beaver... 'n Vrou bely dat sy as jong kind so meegevoer was deur Sneeuwitjie en die sewe dwergies dat sy nou sommer sewe mans het.

'n Liedjie op die maat van "A woman without a man is like a fish withou a bicycle" wys op vroue se rol as tweedeseks. Met guitige woorde en vreemde assosiasies.

Heerlik parodies is 'n toneel met 'n vrou wat in 'n toneel kinders versorg, stryk, kook en dan kom die man boonop met 'n Frankenstein-masker en eis seks van haar. Die masker word afgehaal en dit is 'n vrou wat die rol vertolk van die betredende man.

Die kongres handel oor poliandrie en Snàporaz word deur ene Donatello begelei na 'n gimnasium waar vroue op rolskaatse hom konfronteer. 

Is dit dood wat sy sens ophou? Of is dit gewoon 'n vrou wat alweer op hom afstorm?

Hy word deur 'n vet, aaklige vrou oorrompel en sy verkrag hom bykans in 'n kweekhuis. Haar moeder kom dan tot sy redding.

Hierna beland hy in 'n motor met harde musiek waar die vroue hoog in die takke is.

Uiteindelik word hy "gered" deur ene Dr. Xavier Katzone waar hy omring word deur belaglike seksobjekte en selfs 'n tong uit 'n masker word in sy oor gedruk. Die performance van sy vrou wat deur telekenesis pêrels en geld opsuig, is 'n kommentaar op vroue wat met mans trou ter wille van geld. Zen-seks, word dit genoem.

In hierdie film word Snàporaz ook met sy eksvrou gekonfronteer. Met al die voorspelbare verwyte en aantygings.

Vroue – vermom as Nazi's – betree die huis en Snàporaz word ter take geneem in 'n hof vir sy manlikheid. Daar is 'n bokskryt en hy verlaat dit in lugballon in die gedaante van Donatello. Sy skiet die ballon aan stukke.

Skielik word hy wakker op dieselfde trein as aan die begin van die film.

Dit was alles dan net 'n droom en die vroue wat hy in die nagmerrie beleef het, staan om hom in die trein.

*

Die Van Wyk Louw-insette gaan voort op Versindaba.

*

City of Women is 'n uiters komplekse en selfs waansinnige film. By die Cannes-filmfees was een van die kritici se opmerking: Zero for Fellini. 'n Ander een het gemeen: A Mountain of Tedious Pretension.

In sy dagboek het Tarkofski – toe besig met Nostalghia – soos volg geskryf oor hierdie film:
At the Cannes Festival the papers said that Fellini's last film was a total disaster, and that he himself had ceased to exist. It's terrible, but it's true, his film is worthless.
Met 'n herbesoek nou (en ek gaan hierdie week weer die film kyk) is die uwe van mening dat dit uiteraard die tyd vér vooruit was. Dit analiseer genderpolitiek vanuit verskillende hoeke.

Ons sou graag wou weet wat Almodóvar of Tarantino hiervan sou maak. 'n Kopknik uiteraard na die komplekse genderpolitiek en die spel met verskillende style: 'n Fred Astaire-dans, vroue as Nazi's, grappe oor seksualiteit, vrees vir vroulike oorheersing, ensomeer.

Soms is 'n film – nes 'n boek – sy tyd ver vooruit.


© Joan Hambidge

Reisrubriek | O, my papa | 2020

$
0
0

Maandag, 8 Junie 2020

Grendeltyd is nog nie verby nie. ‘n Lys van restaurante wat gesluit het in Kaapstad en omstreke, land op my selfoon. ‘n Skokkende lang lys.

Boonop is daar fopnuus (blyk dit): daar gaan weer ‘n inperking op drankverkope wees. Ek bel my superette en tel wyn op. Die bestuurder belowe hy sal ‘n J&B vir my kry die volgende dag, omdat die drankwinkeltjie langsaan ‘n lang tou mense (met maskers) moet bedien voor 5nm. Dit lyk soos by Loftus Versfeld soos almal toustaan vir ‘n drinkding.

Die refrein: Ons gaan nie meer droëbek sit nie. En hoe weet ons dit is fopnuus in ‘n land waar regulasies verander word sonder waarskuwing?

Verder bruis die internet pro-en contra-argumente oor Nicoli Nattrass se omstrede “commentary” in ‘n wetenskapsjoernaal. UCT word gekritiseer vir hul sanksie; sy word aangevat oor haar metodologiese mankemente in dié stuk. Dit word soos ‘n sokkerwedstryd met die skare wat opgesweep meedoen. ‘n Hewige reaksie inderdaad wat na alle kante geel kaarte uitdeel.

Rassisme versus onsensitiewe navorsing. Ons versus julle. My kommentaar hou ek terug totdat die stof gaan lê.

En een van die bekendste tabakwinkel in Kaapstad sluit: Sturk’s. Breytenbach het hier sy twak gekoop soos vele ander bekendes. Ons ken die beroemde foto van Breyten met sy pyp en ‘n slapende Yolande teen sy skouer in ‘n trein.

In hierdie dae rook ek heerlik aan pyptabak gerol in papier. Waarskynlik is sigarette vir my iets van die verlede.

Daar word vertel dat Etienne Leroux verskillende pakkies sigarette gekoop het en dan dit in ‘n nuwe pakkie gemeng het. In ’n kroeg was hy dan altyd verras deur watter een hy kry om te rook!

*

In die grendeltyd my versameling Fellini’s weer bekyk – behalwe vir La strada wat ek gisteraand ontdek het in ‘n ronde skyfversameling.

Die inperking met al sy frustrasies het ons almal die tyd gegun om weer bekende en beminde boeke en films te besoek. Soos ‘n ou vriend wat jy na jare toevallig raakloop en in ‘n restaurant gesels oor toeka se dae. 

Vreugdevol is die ontdekking van Ingmar Bergman se Autumn Sonate met Ingrid Bergman (die moeder) en Liv Ullman die dogter.

Herbstsonate is gemaak in Noorweë in 1978. Bergman het in daardie tyd probleme gehad met die taksman en moes Swede verlaat. Hierom is die film geskiet buite Oslo. Dit was dan ook Ingrid Bergman se swanesang as aktrise.

Die filmkritici was verminderend oor die film. Een het dit kamermusiek genoem.

Dit is egter ‘n uiters gevoelige film oor ‘n oordonderende, suksesvolle pianiste se besoek aan haar dogter. Wanneer die dogter vir haar klavierspeel, sien jy in die moeder se oë haar afkeur oor die lomp vertolking.

Die moeder word letterlik gekonfronteer met haar verlede; ‘n dogter wat in haar skadu leef, ‘n skoonseun (predikant) wat alles met “begrip” gadeslaan, ‘n gestremde dogter wat weggestoot is en die dogter (Ullmann) se verwyte oor haar moeder se hantering van hul vader. Sukses en hoe jy moet keuses maak tussen jou beroep en familielewe, word so briljant geanaliseer in hierdie uiters subtiele film. Die spanning tussen Eva en Charlotte 3 wat mekaar na sewe jaar weer sien – is ‘n applous werd. Ons word eweneens gekonfronteer met Eva se verwerking van die dood van haar vierjarige kind en haar liefde vir haar gestremde suster, Helena, wat sy kan verstaan.

Die film is vol simbole: die moeder gee aan die dogter ‘n horlosie persent wat sy van ‘n bewonderaar gekry het. En die film lewer voortdurend kommentaar op die spanning tussen hede en verlede. Wanneer Eva Chopin se Prelude No. 2 in A mineur vertolk, is die kyker bewus van haar beperkinge. Wanneer die moeder dit vertolk – met haar slank, gevoelige vingers – hoor ons dit is beter. Maar dis wreed in haar hantering van haar dogter.

Die moeder se nagmerrie en vrees dat die dogter haar versmoor, is in die werklikheid simbolies waar. Sy was nooit werklik ‘n moeder vir haar kinders nie. En Helena wat haar roep as “Mama, kom!” is hartverskeurend.

Sal hierdie moeder en dogter ooit weer kan versoen? Sal die moeder die dogter se brief van boetedoening reg vertolk?

*

Liv Ullmann was ‘n minnares van Bergman tussen 1965 en 1970. Sy word beskou as sy muse en hier is sy in ‘n film as ‘n eks-geliefde wat die ingeligte filmkyker nog ‘n verdere dimensie na vore bring.

Haar vertolking van Nora in Ibsen se A doll’s house is ‘n hoogtepunt. Ook bekend as regisseur, filmmaker, juris by filmfeeste en uitstaande in Persona (1966) en Scenes from a marriage (1973). Cate Blanchett het haar as regisseur beleef in A streetcar named desire (2009) in Sydney. Wat ‘n voorreg.

In Persona is sy op haar beste. Die stilgemaakte vrou in die inrigting. Speel toneel met oë en gesigsuitdrukkings. Ons weet hoe gaande Žižek oor hierdie film was weens die suggestie wat alles dra. Ons hoor net van die seksuele avonture; as dit gewys was, sou ons dit as pornografies ervaar het.


Dinsdag, 9 Junie 2020

My buurman is gaande oor La dolce vita wat ek vir hom geleen het. Hy sien dadelik die die verskillende temas wat losweg saamgesnoer word en die verhaal vorentoe dryf: die religie, naglewe, partytjies, vroue ...

*

Autumn Sonate bekyk ek weer. Die konfrontasie tussen moeder en dogter is pynlik. Vol verwyte. Liv Ullmann as die dogter takel die moeder omdat sy haar verwerp het oor haar voorkoms en haar hare as kind afgesny het. En wanneer sy na die moeder gegaan het – wat besig was met ‘n repetisie – het die moeder haar weggejaag.

Sy het gevoel dat die moeder haar bloot as ‘n pop sien waarmee sy kon speel wanneer sy tyd gehad het. ‘n Uitsonderlike toneel oorabandonment of verlating wanneer die moeder haar en die vader agterlaat vir haar klavierloopbaan.

In die konfrontasietoneel is die dogter se jaloesie opvallend. En sy takel die moeder oor haar oomblikke waar sy onsuksesvol was as pianiste.

Die analise van verwerping en vermindering word uitstekend gedoen. Die dogter verwyt die moeder oor hoe sy haar aangetrek het. Sy het haar hare gesny en drade in haar mond gesit sodat sy grotesk gelyk het. Sy was vir die moeder ‘n mislukking, boonop aaklig en sonder talent.

“We negotiated the loneliness,” slinger sy die moeder toe. Die haat het in haar lewe oorgeslaan na angs.

“Is my pain your secret triumph?”, wonder sy.

Die spel tussen Ingrid Bergman en Liv Ullmann is puik. Die kamera fokus op hul gesigte met die moeder s’n vertrek van ontsteltenis. Haar oë bloedrooi gehuil.

En dan kom die voorhamerhou: die moeder het haar gedwing om ‘n aborsie te hê met Stefan, die jeugliefde en Helena se siekte het vererger, omdat die moeder nie aandag gegee het toe sy moes nie.

“Having a sense of reality is a talent,” hoor ons.

In hierdie verwyttog onthou Eva die verskillende horlosies wat altyd getik het in die huis. En dit word verbind met die horlosie wat haar moeder vir haar as geskenk gegee.

Alles gaan hier om tyd. Dat onthou en herinneringe tydloos is.

*

Die verhaal word geraam deur die man wat alles vertel. Hy is die waarnemer. Sy vrou weet nie wie sy is nie. Hy begryp haar psige en verwonding oor haar moeder en die dood van ‘n kind en dat sy ‘n moeder word vir haar gestremde kind.

Hy plaas die brief wat Eva aan haar moeder skryf in ‘n koevert. Gaan sy dit lees? Gaan sy dit begryp?

Die kyker weet dat dit niks sal verander nie. Op die trein weg van die huis waar die konfrontasie plaasgevind het, verontskuldig sy haarself. Oor die lot van haar gestremde dogter en wens dat sy eerder moes sterf.

Dan – tipies Bergman – het ons skielik deernis met haar. Sy bely dat sy altyd huis toe verlang en wanneer sy daar is, wil sy elders wees.

*

Ingrid Bergman se “bullet proof”– angles is bekend. Sy kon vanuit enige hoek verfilm word. In hierdie film word haar natuurlike skoonheid opsetlik afgebreek. Sy rook, haar oë is bloedrooi en die kamera fokus op haar groot neus. 

Vir die regisseur, Ingmar Bergman, is haar spel belangriker as haar persona, boonop ‘n komplekse een. In 1949 raak sy swanger met ‘n kind by Roberto Rossellini, die filmmaker en skei van haar man. 

Veral in die VSA is sy gekritiseer oor hierdie buite-egtelike verhouding. Sy trou met Rosselini, het drie kinders by hom, maar helaas hou die huwelik nie. Isabella, haar dogter, word later ‘n befaamde aktrise o.a. in David Lynch-films. Sy was getroud met Martin Scorsese. Sy was ook die gesig van Lancôme in haar jeug.

Ingrid Bergman verower drie Oscars. En word veral onthou vir haar spel in Casablanca (Ingrid Bergman, winner of 3 Oscars, is dead -- The New York TimesBesoek 10 Junie 2020).


Woensdag, 10 Junie 2020

Die koue slaan toe. Vannag – 8 in Sutherland. Sidderland. Van Wyk Louw se ruimte.

Die reën slaan teen my balkonvenster om drie vm waar ek kyk na die onderhoud met Roman Polanski oor sy lewe. Dit heet Roman Polanksi: A film memoir (2011: Laurent Bouzerau). Sy lewe, sy films, die moord op Sharon Tate, die verkragting van ‘n minderjarige, die regter se uitspraak wat hom laat wegvlug het – ‘n verstommende film waarin hy met sy vriend, Andrew Braunsberg oor alles praat. Twee gesprekke: die huisarres in Switserland, September 2009. En dan oor sy lewe na die vrylating.

Hy het verskoninge gevra vir sy optrede (en geld betaal), maar telkens word dit weer opgediep en die vrou vertel sý bly die slagoffer. Samantha Geimer het Polanksi vergewe, maar die ander rolspelers hou hierdie saak lewend(ig).

‘n Mens sien sy jeug wat hy jare later opvang in The pianist. Soos die grusame dood van kinders by ‘n skool het werklik gebeur. Soos die honger en eet van gherkins.

Die impak van die oorlog en alleen vir die effek van die oorlog en die verwoesting van Warskou maak hierdie dokumentêr die moeite werd. En die pers se snedige hantering van hom met die moord op Sharon Tate. Geen simpatie (Roman Polanski on The Murder of His Wife Sharon Tate | The Dick Cavett Show - YouTubeBesoek 11 Junie 2020).

*

Knife in the water (1962), Repulsion (1965), Rosemary’s baby (1968), Macbeth (1971), Chinatown (1974), The tenant (1977), Tess (1979), Bittermoon (1992), The pianist (2002) is my allergunstelinge. Sterk films wat die menslike kondisie analiseer.

Bloedskande, moord, verraad, die bose (soos in Rosemary’s baby met die voormalige vrou van Woody Allen, Mia Farrow) en die wonderskone Tess met Nastassja Kinski, het die filmkuns verryk.

Sy jeug was een van ‘n voortvlugtige. Sy ma is dood in die konsentrasiekamp en sy pa trou weer. Hy word groot op die platteland waar daar weinig skool is en sy hele laerskoolloopbaan het hy weens die oorlog verloor. Hy leer homself lees met die Rolandslied. En sy pa, as ‘n volwasse man huil wanneer hy na die liedjie “O mein Papa” luister, want dit was die lied wat die Duitsers gespeel het aan die einde van die oorlog.
Oh, my pa-pa, to me he was so wonderful
Oh, my pa-pa, to me he was so good
No one could be, so gentle and so lovable
Oh, my pa-pa, he always understood.

Gone are the days when he could take me on his knee
And with a smile he'd change my tears to laughter

Oh, my pa-pa, so funny, so adorable
Always the clown so funny in his way
Oh, my pa-pa, to me he was so wonderful
Deep in my heart I miss him so today

(Eddie Fisher - Oh My Papa (O Mein Papa ), 1954)
Miskien was alles sy fata, meen Polanski. 

Laat ons die mens skei van die films. Die mens agter die boek (film) met rus laat, soos Van Wyk Louw al gevra het.

Boonop het die meeste negatiewe mense nog nooit eens ‘n Polanski-film gesien nie.

*

At grand central station I sat down and wept


Vanoggend val ‘n reiskoepon Hanoi
VN 0090731 op die vloer en ‘n treinrit
tussen Saigon en hierdie stad stop
by geen stasie vir ander passasiers
of reisigers in Viëtnam ‘n ruimte
van oorlog en bunkers en vegvliegtuie. 
Só ‘n besoek herinner vanoggend
aan jou stiltes vlymender as ‘n messteek
of spore doodgevee sodat geen spoorsnyer
by my treinstasie jou sal vind o liefde 
van my opgemaakte opgedroomde armoris.


© Joan Hambidge

Viewing all 819 articles
Browse latest View live