The word “gravity” appears 28 times in the novel, while “rainbow” appears 16 times. The most widely agreed-upon interpretation is that the title “Gravity’s Rainbow” refers to the shape of the V-2 rocket’s trajectory, a rainbow-shaped parabola caused by gravity (Gravity's Rainbow Title - Thomas Pynchon Wiki | Gravity's Rainbow. Besoek 14 Junie 2020).
Reisrubriek | In kamera | 2020
Reisrubriek | Windroos | 2020
Die eerste werk wat ek van Elsa Joubert meegemaak het, was Die Wahlerbrug in my eerstejaar aan die US in 1975. Hierna Ons wag op die kaptein (1963), Die swerfjare van Poppie Nongena (1978) en Die reise van Isobelle (1995) wat ek as hoogtepunte beskou. Ook haar reisvertellings – as solo-vroulike reisiger deur Afrika o.a. – het my beïnvloed. En Spertyd– haar laaste teks – wat verslag lewer van oudword en eensaamheid is ‘n uitsonderlike teks: iewers tussen fiksie en waarheid. Ingeperk in ‘n aftree-oord. Nou gaan ons in hierdie dae weer na die ryk, geskakeerde oeuvre kyk. Bonga (1971) verdien ‘n herlees.
Haar bydrae het ‘n impak gehad op die politiek (ek dink hier aan Poppie Nongena), maar sy het eweneens die rol van die bevryde vrou wat buite die patriargale orde dink en skryf, verteenwoordig.
En kommunikeer duideliker.
Reisrubriek | Prysloos | 2020
'n Ingewikkelde kwessie.
Maar in alle regverdigheid: NB uitgewers het die afgelope paar jaar geweldig baie gedoen om swart skrywers te bemagtig. Ronelda Kamfer, Nathan Trantraal, Jolyn Phillips, Lynthia Julius (wat sopas met Uit die kroes gedebuteer het) word deur NB-uitgewers gepubliseer.
Trantraal skryf selfs ‘n rubriek in Kaaps in Rapport.
Trouens, hierdie skrywers kry ongelooflik baie geleenthede om buitelandse geleenthede en feeste by te woon.
Antjie Krog doen baie agter die skerms om swart skrywers te bemagtig. So ook Kwela uitgewers. Annari van der Merwe het jare gelede baie gedoen om swart skrywers publikasiegeleenthede en ‘n stem te gee.
Hoe kan ‘n mens eis dat boekpryse demografies verteenwoordigend moet wees?
Dit stel ‘n eis asof die skryfproses beheer en voorspel kan word.
Ras- of gendereise wanneer dit by kreatiewe prosesse kom, is politieke eise.
Moet ons Philip Roth van ‘n kortlys afhaal omdat hy vroue uitbeeld wat vir ‘n vroulike kritikus aanstootlik is? Of nie meer Updike lees nie?
Groot boeke is dikwels politiek inkorrek – want onthou: jy kan die stem IN die teks nie gelykstel aan die werklike skrywer nie.
Nou ja: die wenners en beoordelaars is wit. Kan van hierdie swart kritici Afrikaans lees en reg laat geskied aan die proses?
Reisrubriek | Verbode stad | 2020
Simon Gray asked me to direct Butley in 1970. I found its savage, lacerating wit hard to beat and accepted the invitation. . . . The extraordinary thing about Butley, it still seems to me, is that the play gives us a character who hurls himself towards the destruction while living, in the fever of his intellectual hell, with a vitality and brilliance known to few of us. He courts death by remaining ruthlessly – even dementedly – alive. It's a remarkable creation and Alan Bates as Butley gave the performance of a lifetime.
Resensie | Lynthia Julius - Uit die kroes | Kwela, 2020
[I have bi-racial hair because I have bi-racial blood. I’m not talking about that cute they met and fell in love blood. I’m talking about that slave raped six times by the master birthing six mixed babies later hung blood. – Zora Howard]
(reguit maak; gladder, dunner, witter maak)
wie nog kroes is is aspris hoor ek
daar’s genoeg Dark and Lovely en Sunsilk
om die geskiedenis uit jou hare te vee
om jou te laat vergeet watter voorouers
by die wortels van jou hare deursingdans
’n bietjie blow-dry daar
net ’n bietjie laat sy ring tog net nie in jou hare vassit
as hy sy vingers deur hulle try liefkam nie
toe ek Engels wou praat en manne met spike hare
en wit Golfie-karre nag soen
te glad om opreg Khoi te wees
te gemeng om wit te wees
sukkel-sukkel die krulnukke in my hare uitgekam
en met die loskomsels op die kam besef:
fok glad wees
laat sy ring maar in my hare verstrik raak
ek vee nie my geskiedenis uit my hare uit nie
kroes is kroes
kroes word nooit tot die wortel glad nie
Reisrubriek | Die vierde muur | 2020
Die film betrek smokkelhandel en Karrer gee van sy werk aan haar man Sebestyén (György Cserhalmi). Die man is vir ‘n ruk uit die pad uit, maar dan is daar verraad. Te donker, te morbied. Karrer gee hom aan by die polisie en in pynlike slot stoei Karrer met ‘n swart hond. Tipies van Béla Tarr is daar danstonele wat in werklike tyd afspeel. Drank en dans. ‘n Akkordeon. Donker, depressief en deprimerend. En ‘n film wat jou altyd sal bybly. Boonop geskiet in wit-en-swart. Met desperate liefdestonele.
Alles werk met tyd en die kyker sien in terugflitse hoe sy in ‘n ambulans gelaai word. Die wakker speurder weet dat hy tyd verspil het, want hy weet dat Alex se karradio ná twaalf op ‘n program ingeskakel was. Melena vertel ook nie die waarheid oor haar eks-man nie. Stefan Vognic (Denholm Elliott) is uiteindelik ook in die slottoneel om ons mee te deel sy het die operasie oorleef. Wou sy werklik selfmoord pleeg met ‘n oordosis pille? Of wou sy Alex uitlok?
“Where were you when I laid the foundations of the Earth?... When the morning stars sang together, and all the sons of God shouted for joy?” (Job 38: 4, 7)
Resensie | Jerzy Koch Pleks van plaas | Naledi, 2020
Resensie | Wilhelm Jordaan - Sondesemoer! | Naledi, 2020
Resensie | Hans du Plessis – Die opstand van Poppie Nel | 2020
Reisrubriek | Die nuwe normaal | 2020
Interview | Fiona Zerbst - In Praise of Hotel Rooms | 2020
Resensie | Jakobus van der Riet - Die heimlike heiligdom | Protea, 2020
Die beoefenaar gee sy of haar interpretasie van die vorm.
Sonnet
Resensie | Eunice Basson - By die dag | Protea Boekehuis, 2020
Resensie | Karen de Wet (samest.) - Vers en Vrou | Human & Rousseau, 2020
Resensie | Francois Smith – Die kleinste ramp denkbaar | Tafelberg, 2020
Francois Smith – Die kleinste ramp denkbaar. Tafelberg, 2020.
Resensent: Joan Hambidge
Francois Smith het bekendheid verwerf met die ongekende sukses van Kamphoer (2014) wat oortuigend deur Sandra Prinsloo vertolk is in 'n solo-vertoning. Nou het sy tweede roman Die kleinste ramp denkbaar verskyn by Tafelberg.
Hierdie roman het 'n vreemde bekoring. 'n Dokter, ene Gustav van Aardt, bevind hom op 'n vervalle plattelandse dorpie. Hy moet 'n polisieman, Frans Schuin behandel met 'n bosluisbyt.
Daar is 'n eskar (oftewel die bytplek van die bosluis). Soos wat die dokter soek na merke op die lyf van die polisieman, sien ons die letsels in sý psige raak deur dit wat hy raaksien.
In én om die spreekkamer word ons voorgestel aan mense en ontvangsdames. Die wyse waarop hulle beskryf word – in ongelooflike détail – is opmerklik.Die ligroos-bogie van afkeur, die talkpoeier-grimas van minagting, is hoe 'n vrou se reaksie beskryf word (41).
By 'n besoek aan 'n township fokus die verteller op die seksorgaan van die baba. Skoene word bekyk. Tekkies en drafskoene en hoe iemand die hoofkarakter uitgelag het as kind. Die roman lewer eweneens kommentaar op onverwerkte jeugpyn en hoe dit oorgedra word op volwasse verhoudings. Die asblik van die onbewuste, verneem ons (39).
Ons sien hoe 'n man reageer op sy jeug en waarom hy besluit het om medikus te word. Die menslike liggaam word klinies en in mediese terme beskryf.
Alles is nie pluis met Schuin se doen en late nie. Is hy net hier omdat hy deur 'n bosluis gebyt is? Die dokter stel ondersoek in en die leser word op 'n reis geneem asof dit 'n speurverhaal is met 'n oplossing. Dit is helaas egter 'n soeke na presies waar hy homself bevind na die verlating deur sy vrou en 'n seun wat hy nie begryp nie. Die musiek van Mahler is 'n belangrike kode nes die begeleier, Thys Teise wat hom van raad bedien.
Waarom is sersant Portia se naam en nommer in Frans se Schuin se hand?
Wat maak die Kubaanse dokter, Ojeda presies hier? Hoekom word dit ingebed in die vertelling? Wil die skrywer hiermee die oorlog in die ou-Suid-Afrika aktiveer? Of dat Kubaanse dokters nou weer in ons midde is? Kyk hoe word 'n dominee op sy oefenfiets beskryf.
Smith speel met vele kodes: die konvensionele liefdesroman met die dokter op die dorp wat deur die vroue begeer word, word hier nek omgedraai; die speurverhaal wat afstuur op sluiting of closure: hier is 'n verdagte of 'n probleem wat van jou die leser 'n speurder maak. Hier implodeer die roman telkens en blyk elke leidraad of kode 'n vals een te wees.
Dis geskryf met sjirurgiese presisie en ou Afrikaanse woorde word lewend(ig) gemaak. Is dit 'n analise van hoé ons eens idilliese platteland daar uitgesien het en dat 'n besoek van 'n wit man aan die township onmiddellik gesien word as 'n soeke na die transgressiewe?
Dit is 'n boek van displacement. Van abandonment. 'n Reis ín die psige ín, geskryf in keurige en soms outydse Afrikaans. 'n Mens blaai telkens terug om Mahler-verwysings weer te ontleed. Visconti gebruik die musiek van Mahler in sy film Death in Venice (1971). Daardie pragfilm oor onbeantwoorde liefde, nee, eerder 'n fantasie in die ouer persoon, gebaseer op Thomas Mann se novelle Der Tod in Venedig (1912). Mahler se naam was immers Gustav; die hoofkarakter is Gustav van Aardt; van die aarde dus.
En Mahler het as komponis ook 'n brug geslaan tussen die 19e-eeuse Austro-Duitse musiek en die modernisme aan die begin 20e-eeu. Hierdie roman wil dalk eweneens 'n soort oorgang wees van hoe Afrikaanse prosaïste oor die platteland gaan skryf.
Francois Smith vang in hierdie ondergestemde roman die "irony's edge" (Linda Hutcheon) vas van wat ons weet vir ewig verby is.
Dit is 'n roman vir stadiglees, vir terugkyk en terugblaai. Soos wat Mahler se musiek tot gevolg het. Of soos 'n mediese handleiding waar jy die verskillende plastieklae geplak oor organe moet afhaal om by die essensie uit te kom.
Die belewenis van die indertydse bykans idilliese bestaan teenoor die tyd van onrus en onsekerheid word helder verbeeld.
Die voorblad suggereer iets van die essensiële. Geraamtes dalk van ...
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)
Gedig | Joan Hambidge - Cartesiaan | 2020
Cartesiaan
VWL
Ek is net lyf en gees, niks tussenin:
niks van die kerk se "siel", die leë droom.
Net boom en grond. Die dryfsand se sin
is iewers wel slinks en slu bedroom
deur Freud en Lacan - die gode van drieë.
Hulle dink aan skakels: aan oorgange
soos ego, id, superego, nes bedrieë:
verbeelde, simboliese, Reële vir dié drange.
Lyf: sy! die eerste wat ek ken!
vol van groot hobbels, eis haar weg
na die eis van volmaaktheid as volheid.
Gees: die knope van die onbewuste ren
aan my in drome vreemd, só verontreg
'n inbeweeg tot hierdie parodie: 'n kilheid.
Gedig | Joan Hambidge - Gisela Ullyatt (1977 - 2020) | 2020
Gisela Ullyatt (1977 - 2020)
In jou eerste en laaste bundel myn
jy die vibrocrete dae van jou jeug.
Op 'n Saterdagmiddag ná jou vertrek
word die digkuns meer as die waarheid
van duiwe of sprokies se wonde en letsels:
"Ons harte is vol van gemors en verdriet".
Vir oulaas stuur ek 'n vers vir jou as redakteur
oor die laaste grenspos wat alle pyn óphef:
soos die afdruk van 'n bees in restaurant
om snitte konkreet voor te stel vir die besoeker
wat presies kan kies en weeg die rugstring
van die familieskap of die hart afwesig
vol verlore liefdes en verbintenisse
tot die dermkanaal elders opgestop
met 'n karmenaadjie vir die afwesige leser
wat wónder oor 'n lykdig as consolatio?
Resensie | Francois Smuts – Slagoffer | Queillerie, 2020
Francois Smuts – Slagoffer. Queillerie, 2020. ISBN: 9780795802201
Resensent: Joan Hambidge
Op die voorblad van hierdie pakkende speur-cum-misdaadroman word die leser gewaarsku: Die liefde is blind. Ėn die reg. Dit word 'n dekonstruksie van die krimi in die toepaslike aanhaling van Leonardo Sciascia. Die leidrade wat 'n misdaad oplewer is totaal ontoereikend, meen hy (79).
Hierdie roman plaas ál die moontlikhede van dié sub-genre voor die leser se oë. Dit word gelaai met verwysings na die kwessie van skuld en boetedoening, die soeke na oplossings (of closure so bekend aan die speurverhaal) én belangrike rituele soos stiergevegte en godsdiens. Boonop word die ritualistiese aard van 'n hofverskyning geanaliseer. Die posisie van die regter, die assessore, die skuldige se plek in die hof word bekyk. In 'n stadium word die aangeklaagde gewaarsku: ons is nie nou besig met 'n James Bond-verhaal nie.
Dawid Neethling is 'n psigiater op Stellenbosch. Hy beklee 'n deeltydse pos as dosent aan die universiteit en 'n beeldskone musiekstudent, ene Eva Rodriquez land in sy skoot. Hulle verhouding verander van 'n professionele een na 'n liefdesverhouding.
Sy word vermoor en alle vingers wys na Dawid wat boonop 'n onsimpatieke wederhelf het. En hy het 'n leuen vertel toe hy die eerste keer ondervra is. Sy vriend Barnabas, 'n priester in die Grieks-Ortodokse kerk, gee raad en ondersteuning.
Tot hier dan die verhaal wat 'n fyn netwerk van bedrog
ontmasker: van bendes wat vanuit die tronk dreig en afpers tot 'n swart verlede met 'n moordenaar in die ou-Suid-Afrika wat lid was van MI, tot 'n ambassadeur wie se hande vuil is. Verder word die polisie-ondersoek en swak forensika eweneens uitgelig. En die media se pogings om altyd 'n moordenaar (dikwels eensydig) onder die soeklig te plaas, onafhanklik van die regsprosesse, kom ook onder die soeklig.
Die media word in hierdie roman die jurie. En ons weet welke dwaashede is al verkondig tot die chagrin van regsgeleerdes. Tydens die lees van hierdie roman kyk hierdie leser weer na die BBC-reeks Trial and Retribution (1997) en soveel van die kwessies hier aangesny, kom in speurreekse na vore. In die Franse reeks Spiral (Engrenages) in 2005, waar die hoof duisel van al die sameswerings en leuens, word ongehoorde verhoudings ondersoek tussen die magistraat en 'n polisievrou; 'n skurk en sy regsverteenwoordiger.
Ons betree in die eerste gedeelte Sorteo wat afspeel in Kaïro en die "geheim" van moord word weggegee. Met Abba Johannes wat met wysheid reageer: 'n moordenaar kan 'n priester word. Daar is verwysings na die Bybel: die paradys, Job, die teodisee, o.a.
Verder raam Ernst Hemingway se sieninge oor stiergevegte (wat hy as 'n tragedie beskou het) die vertelling met Dostojefski en Franz Kafka wat alles verder laai. Daar is toespelings op Dante, Lorca, Rilke, Leda en die swaan, Russiese roulet en die donker ondergrond van die menslike bestaan. Verder word die leser etlike verwysings gegee na duende, na sorteo (die Spaanse woord vir loting) én stiergevegte. Onbewustelik sien ons "By die dood van Roy Campbell" van D.J. Opperman en Almodóvar se pakkende rolprent Matador van 1986.
Die dood van die bul word gesien as 'n offer aan die gode en opspraakwekkende moordsake staan ook hier: Oscar Pistorius, Dewani, die De Zalze-bylmoord, e.d.m. Ons lees wat die vermoorde dink (in kursief) en daar is 'n dagboek en 'n getuie van die moord. Hoe dikwels is 'n dagboek nie in hierdie soort storie dít wat alles tot 'n punt bring nie.
Daar is spelers en teenspelers: Dawid en sy vroulike advokaat; Bella Croeser en Diedericks, Grootboom. 'n Kwaai regter. 'n Snuffelende joernalis. Ras, klas en gender-kwessies kom hier aan bod.
Die supsension of disbelief word soms beproef: sou 'n akademikus "vergeet" het wat hy in 'n artikel geskryf het? Is die kwessie van oorlewingskuld by Ingrid nie oordadig nie? Die beskrywing van die DG is dalk te swaar gelaai met onderduimshede? Verduidelikings werk in hierdie roman, omdat die sub-genre gedekonstrueer word.
Die roman sny geweldig baie kwessies aan - soos die Russiese kind wat gesteel word van ouers vlugtend uit 'n Bolsjevistise bestel en wat dan jare later 'n bedelkind op straat sien in Parys (134). Onder die vertelling is dit duidelik dat die skrywer 'n duidelike spirituele boodskap wou oordra oor menswees (en karma). Die spirituele impak van leuens (via Stephen Freeman) word 'n belangrike leidraad en motief: hoe leuens mense kan verwoes.
In die erkennings verneem ons dat die skrywer 'n regsagtergrond het, en hy sonder 'n terapeut in Kaapstad uit as die beste kliniese een. 'n Ander een is die beste psigiater in Kaapstad. (Dalk subjektief en oordrewe?) Dit is die soort advertisements for myself wat deur 'n redakteur geskrap moes word. Laat die boek vir homself praat.
Iewers tussen 'n analise van die krimi én spiritualiteit lewer dit 'n beduidende bydrae. Hierdie leser voorspel nog 'n roman met sterk maatskaplike analises.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)
Resensie | Die meeste sterre is lankal dood, Duimnaelsketse, en Oopkardoes (2020)
Johann de Lange - Die meeste sterre is lankal dood, H&R, 2020 | Johann de Lange - Duimnaelsketse, Naledi, 2020 | Hennie Aucamp - Oopkardoes, Naledi, 2020.
Resensent: Joan Hambidge
I
Die digter Johann de Lange het sopas drie bundels vir ons gelewer. Die meeste sterre is lankal dood (Human & Rosseau), Duimnaelsketse (Naledi) en 'n bundel boertige ryme van Hennie Aucamp wat heet Oopkardoes (Naledi). "Versôre" deur Johann de Lange.
'n Besondere prestasie wat De Lange se belangrike posisie bevestig as digter én bloemleser soos in Soort soek soort (1997) en Die dye trek die dye aan (1998), met Antjie Krog as mede-samesteller.
Die meeste sterre is lankal dood is vintage-De Lange in die volgehoue gesprek met Van Wyk Louw, o.a.:
Slot
Soggens & saans bid ek diskreet
bely die sondes waarvan ek weet.
Aanstons sal ook my gebed wegsink
& ek my koel gedagte skink
of straks, op 'n vraag vas-
steek, in medias
Louw se beroemde siening dat slotte ook sleutels is, word hier ópgehef: in medias res en dus onvoltooid. Die programgedig uit Tristia word eweneens geaktiveer.
Die gedig het nie 'n punt nie wat die leser noop om hierdie gedig te voltooi.
Al die bekende De Lange-temas is hier aanwesig: eensaamheid, die gesprek met ander digters, die dood, die natuur, portretverse, lykdigte, gay-verse, improvisasies en die ontginning van verskillende digsoorte. Ook verse wat getuig van 'n spirituele bewussyn vind ons hier met besinnings oor die wetenskap.
Telkemale is hierdie leser bewus van die vormtegniese beheer van die digter. Opvallend is die terugkeer na die sober woord, die skérp afgeëtste beeld wat die debuut Akwarelle van die dors uit 1982 kenmerk.
Hierdie selfkonfrontasie is aangrypend in die gesprek met Louw en Eybers in die soeke na die essensie van die ek-heid:
Ek is my
Ek is my jare
my grys hare my jig
ek is my oorgewig
ek is my boeke my films
my liefdes my verliese
ek is my vriende my familie
ek is my lesse my berou
ek is my vergeet & my onthou
ek is my bloeddruk my pille
my hart my longe my lewer
ek is my voël & my knaters
my suksesse & my flaters
my lewervlekkies & my niere
my vergrote hart & my kliere
dit was ’n lang pad tot hier
van oordaad & tekort
om ék te word
Sterre brand uit en lank daarna neem ons nog die lig op aarde waar. Op dieselfde wyse sterf digters, maar lank daarna is ons nog bewus van hul digterlike impak. Kyk hoe het Olga Kirsch na soveel jare "teruggekeer" en die volgehoue gesprek met Van Wyk Louw in bundels en op die Versindaba bewys hierdie proses.
II
Duimnaelsketse heet sy bundel kwatryne wat 'n "opvolg" is van Weerlig van die ongeloof wat in 2011 verskyn het.
Hierdie is mini-verse - 'n duimnaelskets is immers 'n vinnige skets sonder korreksie. En 'n mankement wys uiteraard sterker op in so 'n kort gedig. Die titel is egter misleidend, want die digter is wel besig met afgeronde verse, daardie "dinamiek van die gees", soos wat Opperman, self 'n voortreflike beoefenaar van die kwatryn opgemerk het in Standpunte 9.
Die kriptiese waarneming; sentensieuse en epigrammatiese aard van hierdie gedig, soos Opperman beklemtoon, is alom bekend. Ook die gebruik van die "spaarse woord". Waarneming én kommentaar geregistreer in vier reëls met verskillende rymskemas. I.D. du Plessis, Uys Krige, Opperman, S.J. Pretorius en Daniel Hugo is bekende beoefenaars van hierdie vorm in Afrikaans.
In die pragtige kwatryn vir Eybers en Kirsch word hulle buitestaanderskap beskryf in 'n gedeelde taal: Afrikaans. Die een woonagtig in Amsterdam, die ander een in Israel en tuisgebring in hierdie gedig:
Elisabeth Eybers & Olga Kirsch
Kaapstad 1979, ’n laaste besoek
Vriende, én eensame ballings van ’n taal,
het hul ’n laaste keer in die vlees ontmoet
in die Kaap van Storms; oor ’n laaste maal
'n gedeelde taal gewissel, & gegroet.
Opperman se speelse en spulse parodie "Die weduwee Viljee" kry 'n grimmige voetnoot:
Die weduwee Viljee
by 'n foto van 'n windverwaaide kraanvoël
Die weduwee Viljee gepluim & in wit geklee
trotseer op stokkiesbene die Sedoos tree vir tree.
In geel kapstewels stap sy, wankel & windverwaai,
ontwyk sy op die loopplank die see se neem-en-gee.
Opperman se woordspel met Emily D. en kry eweneens 'n nuwe aanslag in nog 'n digter wat verder borduur in die tuin van die eensame:
Die stilte van die bye
met apologie Dirk & Emily
Skaarste van vye- & vygiekonfyt
& die bye se soet, geel tuinery:
want bye is skaars, maar nie digters nie,
met tyd & ink genoeg vir mymery.
III
Oopkardoes, die boertige ryme van Aucamp, is versorg deur Johann de Lange en is 'n uistekende bloemlesing met geil gedigte. Kwatryne, rympies, limericke, boeregrappe en wat nog, word hier saamgesnoer vir die leser wat met eindelose plesier saamlag.
En soms saamhuil:
Ná ’n bottel likeur
raak jou uitsig versteur:
Jy swalk tussen glase
in verdwaasde ekstase
en sing kabaret in mineur.
Of vir (vet)pret:
’n Vrystaatse boer, ene Thijsie,
is kliphard op soek na ’n meisie:
Moet kan skaap slag en bees
en blymoediglik wees
’n stampblokkie snags vir oom Thijsie.
En vir vormbeheer met die stanza wat uit 5-reëls bestaan waar die eerste, tweede en vyfde rym met mekaar. Die twee korter reëls ( 3 en 4) rym ook dan met streng sillabiese beheer. Ook is die sogenaamde "bouncy rhyme" relevant.
’n Jags jong boertjie van Grabouw
het agteraf van mans gehouw.
Hy lok stukwerkers na sy skuur
wat diens teen appels uitverhuur,
en mince, ontlaai, terug na sy vrouw.
Aucamp se bewaring van ou boerewoorde maak van hierdie bloemlesing 'n leesplesier duisend:
Teiresia Tert het ’n tuisbakkery,
die trots van haar dorpie, Lekkerverby.
Wie lus voel vir meesmul
kry vetkoek en reusel –
en ’n vinger in elke pastei.
Lees die hele versameling vir veelvuldige teks-tase ...
Ja-nee. Hoe ry die boere-sit-sit-so!
*
'n Prestasie om drie bundels vir ons te gee in hierdie grendeltyd:
Selfportret op 60
Die hande in my skoot is nié meer van ’n knaap.
Ek skryf my jare in my taal, my kaartehuis,
& vind my weer terug waar als begin het, die Kaap
van Goeie Hoop. Hientoe verplant, geprys & grys.
Resensie | Hugo Claus – Die verdriet van België (Vertaal deur Daniel Hugo) | Protea, 2020
Hugo Claus – Die verdriet van België (Vertaal deur Daniel Hugo). Protea, 2020. ISBN 978-1-4853-0766-2 (gedrukte boek) | ISBN 978-1-4853-1194-2 (e-boek)
Resensent: Joan Hambidge
Vertalings is glo verraaiers. Die vertaler moet afwesig of onsigbaar wees. Moet die vertaling die teks huis toe bring of eerder tuis bly en getrou bly aan die oorspronklike weergawe?
Dit is drie van die bekendste mantras oor die vertaalproses. En vertalings – soos Uys Krige ons geleer het via sy Spaanse dans – is om 'n ander man se bruid deur 'n sluier te soen. Dit het hy by 'n Italiaanse vertaler "geleen".
Lawrence Venuti, die gedugte vertaalteoretikus, onderskryf laasgenoemde twee uitsprake. Ons sou nie kon bestaan sonder vertalings nie, en groot vertalers is bekend om hul monnikewerk: 'n onbaatsugtige diens aan die letterkunde. Agterna sal cognoscenti altyd meen hierdie vertaling is beter as daardie een. D.M. Thomas is bv. telkemale gelooi oor sy Russiese vertalings. Hier te lande vertaal Daniel Hugo sowel poësie as prosa.
En ons weet wel dat die geslaagde vertaling dans in die nuwe taal. Die Vlaamse skrywer Hugo Claus se klassieke Die verdriet van België beslaan oor die 700 bladsye en is deur Daniel Hugo vir ons gedomestikeer. Hierdie teks is áldaar allemansgoed soos J van Melle se Bart Nel of Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins by ons is.
In die Lae Lande ken almal daardie roman van Claus, 'n veelsydige, prolifieke én briljante skrywer, gebore in 1929 oorlede in 2008. Digter, skrywer, filmmaker en in sy dae ook getroud met Sylvia Kristel van Emmanuelle-faam. In 1922 benoem vir die Nobelprys en in die Lae Lande talle kere bekroon, o.a. met die Belgiese Staatsprys.
Sommige lesers kan nog Nederlands en Vlaams lees, maar 'n hele geslag jong lesers het ongelukkig nie meer daardie voorreg gehad om die taal en haar grammatika baas te raak nie. Nog minder die konsep van "valse vrienden" te begryp, met ander woorde, begrippe wat dieselfde klink, maar verskillende betekenisse het in die twee tale. Ons dink nou maar aan die woord neuk. Of eventueel. Op Litnet is daar 'n rubriek wat dit onderhoudend verduidelik.
Louis Paul Boon, Hugo Claus, Jan Wolkers en Reve is my gunstelinge uit die Lae Lande. Claus se roman is 'n grootse stuk komposisie soos 'n Bolano-roman. Hier word die impak van die oorlog op die gesin Seynaeve ondersoek. Meelopers of kollaboriste wat met die Nazi's meegewerk het in die hoop dat Vlaandere onafhanklik sou word van Wallonië. Die Duitsers verloor egter die oorlog en die geskiedenis draai teen die verraaiers. Die noorde teen die suide; Vlaams teenoor Frans, met Brussel die middelpunt as 'n tweetalige stad. België se taalverdelings is eweneens relevant vir ons land waar daar ook divisies en spanninge róndom taal heers.
Die roman lewer eweneens kommentaar op taal en die baasskap van die heerser:
"Mamma sê ook af en toe in die middel van ’n Vlaamse sin woorde soos zweifellos, wunderbar of die vreemde ähnlich." Is dit dalk waarom Afrikaans ook Engelse woorde oorneem?
Die roman is soos die Engelse skryf gewoon"unputdownable". Dit is eweneens tersaaklik om Roman Polanski se film The pianist, 'n meesterstuk van 2002, saam met hierdie roman te lees.
'n Roman wat duidelike outobiografiese elemente in sig dra (Claus se vader, 'n drukker en uitgewer, moes boet vir sy gekonkel), maar uiteraard verwerk én verhef tot roman.
Daar is kinders se reaksies op verbode boeke wat dan die hele kwessie van waarheid en leuen inlei. Daar is beskrywings van karakters wat inzoem op hebbelikhede. Daar is vinjette wat my altyd sal bybly. Die Reglementeboek van die Kerk word bespot en die straf wat uitgedeel word vir belaglike oortredings. 'n Jong kind se fantasie oor hoe 'n baba ontstaan, is wonderlik.
En grappe wat vertel word, bewys opnuut dat humor regstellende aksie is.
Die komma word beskryf as 'n asemhaling. 'n Baardskeersessie is dawerend snaaks en die vertellende instansie weet dus ook dat hy per implikasie hiperbolies skryf: "Veels te kwistig. En te vergesog" (721).
So word daar die spot gedryf met 'n digter-van-die-tyd:
Hy skrik nie, bloos nie, skyt nie in sy broek soos iemand wat ek ken nie. Hy draai na alle kante en buig. Hy haal ’n folioblad uit wat baie onlangs opgevou is en lees met ’n onverbloemde Kortrijkse aksent, ek skryf dit hier neer:
Geseënd is die wurger van die nagtegaal, geseënd is alle vroulike soogdiere, die holtediere en die syriviere,
die nete en Zwevegem.
Geseënd is die onmisbare behoeftes en die getye
en die gasgevulde vliese en die ambervlieë.
Geseënd is dié wat van die slyk gespeen is
en hulle wat nie die dinge ken soos wat hulle is nie
maar soos wat hulle voorkom.
Geseënd is die plant en Tarzan wat hang aan die plant.
Geseënd is ek.
Hy knik vir die yl applous. (723)
Satire, humor, ironie meesterlik saamgebind soos daardie 'n groot epiese filmmaker, David Lean 'n stuk geskiedenis weergee en vertolk soos in Doctor Zhivago (1965).
Die vertaling lees vlot en lekker. 'n Mooie vonds is konkeldoor. In die geheel gesien is hierdie roman soos 'n simfonie of epiese film met baie karakters en ekstras met die verteller wat 'n grimmige blik op godsdiens werp met die "besmetting van sonde" (91).
Dit is 'n roman-in-vertaling wat hierdie leser met bewondering én plesier gelees het. Wanneer resensente hier te lande die woorde meesterlik, uitstaande en 'n hoogtepunt kwistig rondslinger, kan 'n mens dit wel hier opplak.
Hierdie publikasie is moontlik gemaak deur die finansiële steun van die Vlaams Fonds voor de Letteren en gepubliseer deur Protea. En dat 'n vertaler die stamina gehad het om so 'n dikke boek te vertaal, dwing bewondering af.