Quantcast
Channel: WOORDE WAT WEEG
Viewing all 819 articles
Browse latest View live

Joan Hambidge - ‘n Nota by Alexander Strachan se Brandwaterkom

$
0
0


I

Alexander Strachan se roman Brandwaterkomis ‘n roman wat by my spook. Nie alleenlik is dit goed geskryf nie, maar die skrywer laat verskillende dimensies naatloos oor mekaar skuif. Die historiese gegewe van die ABO en die komplekse verhouding met joiners en hensoppers teenoor die grensoorlog van die tagtigerjare. Oor alles heen beweeg daar ‘n navorser wat lewe gee aan Vilonel. Die fiksionaliseringsproses word teenoor die historiese dimensie geplaas en daar is selfs ‘n moment van magiesrealisme met ‘n besoek aan Dwaalpoort.

Die kuns van ‘n geslaagde historiese roman is om so ‘n karakter ‘n mens te maak. Hierin slaag die skrywer. Vilonel se optrede is kompleks. Word hy ‘n verraaier omdat hy besef het die oorlog gaan die Boere niks in die sak bring nie? Of is dit sy verskeurde liefdeslewe wat hom laat aarsel? Is dit werklik hoogverraad dat hy manskappe oortuig het van die uitsigloosheid van die oorlog?

Arthur Blake se Boereverraaieris onder andere ‘n belangrike voedingsbron vir Strachan. Hoe kyk ons vandag na verraaiers? Daar is vandag ‘n demitologisering van die ABO en die eenvoudige spanning tussen Boer (heilig) en Brit (onheilig) word deur vele historici anders bekyk. Albert Grundlingh se studie oor die “hensoppers en joiners” kom eweneens na vore.
Gaan lees die gedeelte oor Hertzog se hantering van die Vilonel-saak.

In ‘n rubriek skryf Max du Preez insigryk oor hoe twee broers ook teen mekaar te staan gekom het in die oorlog. (Max du Preez oor die miskende Piet de Wet. Besoek 2 Julie 2015)

II

Strachan gee ‘n komplekse beeld van die man wat deur Hertzog as ‘n “skandvlek” op die Afrikanergeskiedenis uitgekryt is.

Hy laat die roman ook eindig sonder “closure” – die hoofkarakter sou in die werklikheid nog bly lewe en diens doen in ‘n gemeenskap.

En dis goed dat die roman eindig waar dit eindig. Die leser (selfs diegene wat nie die geskiedenis van hierdie dubieuse figuur ken nie) is so onder die indruk van sy verskillende fasette. En vir die liefhebber van die geskiedenis is daar dan ook vele tekste wat ‘n mens kan gaan lees. Met die uiteindelike gevoel van genoegdoening wat ‘n groot roman by jou laat: die skrywer het van ‘n historiese figuur ‘n mens gemaak, een met verskillende kante.

'n Werklike goed geskryfde romankarakter kan 'n mens nooit vergeet nie. Vilonel spook by my, soos Humbert Humbert in Nabokov se Lolita. Stanley Kubrick se filmweergawe van 1962  - stadig, afgemete in wit en swart met James Mason as Humbert Humbert - oortuig meer as die weergawe in 1997 van Adrian Lyne met Jeremy Irons in die hoofrol. Mason gee verskillende fasette aan die hoofkarakter; Irons is te veel van 'n houtpop.

Mieke Ball se Mensen van papier (1988) oor personasies in die literatuur, maak belangrike stellings oor die funksie van die romankarakter. Greimas, die bekende semioloog en narratoloog, verwys na die aktant en die rolle wat hy of sy vertolk binne 'n roman. Hy onderskei twintig funksies wat te make het met 'n quest. Die hoofkarakter moet vanuit 'n buitestaanderposisie iets "oplos" of 'n teenstand oorkom. Jonathan Culler skryf hieroor in Structuralist Poetics(1975) en hoe Greimas se werk gebaseer is op Vladimir Propp se Morphology of the Folktale.

In Strachan se roman is die quest sowel die oorlog as die problematiese liefdeslewe. Die herintegrasie wat gewoonlik teen die einde plaasvind, is by Strachan afwesig. En juis dit maak die roman so sterk. Die leser "voltooi" alles in die gemoed en gaan lees verder op oor hierdie komplekse figuur.

En wie, wonder 'n mens, sou Vilonel in 'n film kon vertolk en reg kon laat geskied aan hierdie figuur?



© Joan Hambidge

‘n Nota by drie onlangse tekste: Judaskus (Rudie van Rensburg), Kamee (Roela Hattingh) en Wonderboom (Lien Botha)

$
0
0

I

Om ‘n dagbladresensent te wees, is ‘n ondankbare taak. Teen ‘n sperdatum in met sowat 800 woorde in jou bladsak, moet jy sowel die boek bemark as jou kritiese oordeel vel. Boonop het jy die gesaghebbende Crito blasend op jou nek, daardie drie-eenheid wat glo bestaan uit ‘n afgetrede uitgewer, ‘n ander uitgewer wat tans in die bedryf staan, en ‘n vrolike slampamper van ‘n redakteur. En hierdie Critikane lewer kritiek sonder dat hulle dikwels die boek gelees het, volgens eie erkenning!

Die Afrikaanse boek moet bemark word. En die polemiese is nie iets waarvoor die resensent hoef van weg te duisel nie. Elke rolspeler is belangrik. Van redakteur tot keurder; van resensent tot die arm man se Oprah Winfrey tot onderhoude in die pers en op Kwêla, Litnet, of waar ook al.

Daar is die afgelope paar jaar hopeloos te min oor styl geskryf in hierdie bedryf. En die uniekheid van styl. Etienne Leroux se onnabootsbare styl kan ‘n mens op ‘n myl ver herken. Selfs ‘n poging van ‘n joernalis en skrywer om dit na te boots nou onlangs op Facebook het myns insiens net bewys hoé enig Leroux in sy soort was. Daardie unieke vermenging van ‘n filosofiese insig met ‘n (on)bedoelde kamp opmerking, maak hom steeds groot. Van Jung tot die Kabbalisme, van argetipes tot popkultuur het hierdie maestro sy insigte ryklik tot roman “vertaal”. Geen wonder Graham Greene het so hoog opgegee oor hom nie. Boonop kon hy ‘n storie vertel en al het ‘n mens nie al die verwysings onder die knie nie, stu die storie voort.


II

 Nou onlangs resenseer Dewald Koen Lien Botha se debuutroman Wonderboom (Queillerie) vir Beeld. Die volledige resensie staan hier onder. Koen maak ‘n opmerking wat my toe laat nadink oor presies wat styl behels. Hy skryf: ”Die roman is stilisties en inhoudelik puik. Botha se skryfstyl kan beskryf word as ‘n samevoeging van Ingrid Winterbach, Karel Schoeman en Marlene van Niekerk.”

Onmoontlik, meen ek. Winterbach se kwirkie-styl? Haar verwysings na Boeddhistiese of eksotiese tekste? Schoeman se gedrae styl, daardie lang sinne wat dikwels sommer oor ‘n paragraaf voortstu? Van Niekerk se styl verskil van boek tot boek: maar vir my gevoel dikwels ‘n poëties ryke aanslag, behalwe in Triomf waar sy buikspreek vir verskoppelinge.

Crito verskil eweneens van Koen:

Die enigste fout wat daar wel in sy redenasie is, is sy konstatering dat Botha se skryfstyl beskryf kan word “as ‘n samevoeging van Ingrid Winterbach, Karel Schoeman en Marlene van Niekerk”. Só ‘n opmerking help net mooi niks. Met hierdie drie genoemde skrywers wissel die styl van roman tot roman – die Karel Schoeman van Op ‘n eiland kan kwalik in verband gebring word met dié van Afskeid en vertrek; die Marlene van Niekerk van Triomf  met dié van Die vrou wat haar verkyker vergeet het; of die Ingrid Winterbach van Niggie met dié van Die aanspraak van lewende wesens. Waar plaas hy dan vir Lien Botha? Sulke opmerkings lyk imponered, maar beteken uiteindelik net mooi niks. Pleks dat hy fokus op die uniekheid van Botha se styl, en dié probeer tipeer. (Crito | Just another blogs demo Sites site. Besoek 9 Julie 2015)
En Lien Botha se aanslag? Keurige, poëtiese Afrikaans: “soos ‘n bog gesien vanuit die lug” (217).

*

Op die skaterteks van Kamee (Human & Rousseau) deur Roela Hattingh skryf die gesiene literator Henning Snyman: “...‘n egtheid van woord en gegewe wat geen foefies of truuks nodig het nie. Dit is kortverhale in ‘n tradisie van skrywers soos Elise Muller en Henriette Grové”. Die “skoon”, foefielose styl is wat die literator probeer beklemtoon, verskil van die postmodernistiese teks-binne-’n-teks-aanslag of die paper chase en intertekste.

In ‘n onderhoud met Willem de Vries merk sy op:

Daai slim outjie [Paul] Ricoeur sê dat dinge met ‘n mens gebeur en ons vermoë om dit in mekaar te weef tot ‘n narratief, maak ons mens. (‘Stories maak ons mens’. Besoek 10 Julie 2015)

Die verwysing na Ricoeur as “‘n slim outjie” (dalk ‘n bietjie familiêr om na ‘n gesiene teoretikus as ‘n outjie te verwys?) in ‘n onderhoud beklemtoon ook iets van die stilistiese aanslag in hierdie teks: ‘n opsetlike afbreek van die diskursiewe opposisie tussen teorie en vertelling. Die verwysings is verhuld en op haar beste is haar vertellings onthoubaar en geskakeerd.

Sy vang iets op van die moderne mens se mengeltaal, omdat sy karakters se egtheid wil voorstel. Daar is slim toespelings na liedjies en gedigte, dikwels verhuld.

“Cassandra stoei met Ricoeur se gedagte dat die onsamehangende gebeure in mens se lewe saamgevoeg kan word deur vertelling” (137).

Die verwysing toeganklik ingebed, is haar handtekening.

*

Oor Judaskus (Queillerie), wat swaar leun op my romantitel Die Judaskus, en hopelik daardie roman aan die vergetelheid sal ontruk, meen Deborah Steinmair dat die vorige roman Kopskoot ‘n naelbyt-misdaadriller is. Ook asof die roman homself lees, sommer in die loop van ‘n enkele nag. Hier sou ‘n mens kon interpreteer dat daar min leesweerstand is; dit is immers ‘n speurverhaal wat bedoel om te vermaak. Ofskoon ‘n speurverhaalskrywer soos P.D. James meer vermag as blote ontsnapping.

‘n Mens gaan beslis nie Rudie van Rensburg se styl met Deon Meyer s’n vergelyk nie. Sy styl is onmiskenbaar. Hy skryf minder gestroop as Meyer en dikwels is daar beelde om idiome wat sy teks verryk: ”Mervin Louw voel koud tot in sy murg ten spyte van die sonnige dag. Vandag gaan hier nie ‘n stralende bruidspaar voor die kansel staan nie. Vandag gaan Satan hier in bevel wees” (192).

Hy ontgin taal: ”Haar goeie bui het nie soos die vorige kere koers gekry nie” (73).
Rudie van Rensburg se styl beslis diepsinniger as die meeste speurverhaalskrywers s’n. Hy skryf ‘n keurige, idiomatiese Afrikaans.


III

Style in literature is the literary element that describes the ways that the author uses words — the author’s word choice, sentence structure, figurative language, and sentence arrangement all work together to establish mood, images, and meaning in the text. (Defining Style - ReadWriteThink. Besoek 9 Julie 2015.)

Hierdie definisie kom handig te pas, terwyl ek reis. Dit wat atmosfeer en veral betekenis in ‘n teks stig, is vir my die belangrikste aspek van styl. En dan: dit wat jy hierna onthou. Hoe ‘n skrywer deur woorde, die spesifiek gekose woorde, ‘n hele wêreld opbou en hoe jy die skrywer daarna onthou. Nooit weer sal ‘n mens na die landskap kyk op ‘n bepaalde manier, omdat ‘n skrywer (of skilder) dit “oopgemaak” en “vertolk” het. Pierneef se skilderye staan byvoorbeeld werklik so kleurvol in die natuur wanneer jy deur landstreke van die Vrystaat ry.

Om die uniek-heid van ‘n skrywer se styl te probeer omskryf, is nie altyd maklik nie. Maar dit is ook die uitdaging. Die debutant word dikwels met ‘n reeds bekende vergelyk om hierdie assosiasies te aktiveer.

Met wie is Philip Roth op sy dag vergelyk? Of Saul Bellow?

‘n Vergelyking moet gepas wees.  ‘n Skrywer wil immers aan sy of haar stem herken word. En ook parodieë of pastiches bevestig die uniekheid van ‘n stem.

Endnote:


Deur Dewald Koen Maandag 06 Julie 2015 04:00  
Lien Botha – Wonderboom. Queillerie, 2015. ISBN 9780795800955  
Lien Botha is ‘n kunstenaar-fotograaf wat bekend is om haar talle nasionale en internasionale tentoonstellings. 
 Haar debuutroman, Wonderboom, was die produk van ‘n MA-graad in kreatiewe skryfwerk aan die UK onder leiding van Etienne van Heerden.
 Wonderboom speel af in ‘n postapokaliptiese Suid-Afrika. Daar is geen sentrale regering nie en die land word deur vigilantes beheer. In die Wes-Kaap voer Albino X ‘n diktatoriale skrikbewind op Vergelegen, eens die plaas van Simon van der Stel. Albino X herinner aan ‘n diktator soos Idi Amin en het ‘n voorliefde vir menslike taksidermie en dekadente partytjies. Die ekonomie is aan flarde, daar heers voedseltekorte aangesien boerderybedrywighede grootliks opgeskort is en ‘n algehele tekort aan basiese lewensmiddele is aan die orde van die dag. Elektrisiteit is skaars, kannibalisme kom voor en die land se natuurlike hulpbronne is uitgeput.  
Die roman sluit tematies aan by Karel Schoeman se Afskeid en vertrek (1990), Jaco Botha se Miskruier(2005), Koos Kombuis se Raka: Die roman (2005) asook Eben Venter se Horrelpoot(2006) om maar enkeles te noem.  
Die verhaal word vanuit die derdepersoonsperspektief aangebied wat afgewissel word met die protagonis se eerstepersoons­inskrywings in dagboekstyl. 
 Magriet Vos bevind haar midde in Albino X se wurggreep en beplan ‘n uitgerekte reis na die noorde om by haar familielede aan te sluit en sodoende van Albino X se tirannie te vlug. As deel van haar ontsnappingsplan moet sy allerlei uitdagings oorkom wat met tye tragiese gevolge het. Sy reis onder andere met ‘n musiekgroep wat musiek vir bome speel om hul groei sodoende te stimuleer.  
Tydens die tweede fase van haar tog na die noorde word sy as skaap vermom om van die vigilantegroepe wat hulle tydens die reis kan ­teëkom, te ontsnap (sekere gebeure neig telkens na die karnavaleske). Magriet word verder deur ‘n moordbende oorval en amper deur ‘n weldoener verkrag. 

Magriet se reis versinnebeeld menige Suid-Afrikaner se daaglikse vrese. Botha benut hierdie ­vrese deeglik as deel van haar ­literêre spel om spanning en afwagting te skep.  
Ironies maak Botha van talle onlangse aktuele gebeure gebruik om die morele en politieke verval van die gemeenskap uit te beeld. Verwysings na die MIV-pandemie, die herrie rondom koloniale beelde met spesifieke verwysing na Cecil John Rhodes, asook die elektrisiteitskrisis wat die land tans ondervind, kom aan die bod.  
Botha lewer indirek kommentaar op die kapitalisties georiënteerde verbruikersamelewing wat in hierdie postapokaliptiese Suid-Afrika tot ‘n nuwe vorm van ekonomiese segregasie gelei het. Verwysings na geskiedkundige gebeure soos kolonialisasie deur die VOC, die Anglo-Boereoorlog, apartheid en die Grensoorlog in die voormalige Suidwes-Afrika word op geslaagde wyse by die teks geïntegreer as deel van die verteller se herinneringe aan vervloë dae. Botha fokus dus nie slegs op die negatiewe gebeure van ‘n postapokaliptiese Suid-Afrika nie, maar kyk ook na die verlede om die toekoms beter te kan interpreteer.  
Met verloop van die narratief besef die leser egter dat Magriet aan geheueverlies ly en dat haar demensie stadig besig is om haar geheue en herinneringe van die verlede te verswelg. Magriet poog om haar herinneringe vas te lê deur dit in ongedateerde dagboekstyl in ‘n boek neer te skryf. Sy verwys ironies na hierdie boek as “Die vergeetboek”, waarin die ­leser gebeure wat voor die aanbreek van anargie in die land plaasgevind het, kan beleef.  
Talle verwysings na musiek, voël­spesies en veral bome kom in die roman voor, net soos in Schalk Schoombie se roman Boomkastele (2015). Hierdie amper terloopse verwysings vorm ‘n integrale deel van Magriet se lewensverhaal aangesien dit met spesifieke gebeure gepaardgaan en bydra tot die skep van ‘n spesifieke ­atmosfeer in die roman. Die beskry­wings prikkel die leser se sintuie en verbeelding.  
Die roman is stilisties en inhoudelik puik. Botha se skryfstyl kan beskryf word as ‘n samevoeging van Ingrid Winterbach, Karel Schoeman en Marlene van Niekerk.  
Soos by laasgenoemde skrywers fokus Botha veral op die sintuig­like waarnemingsvermoë van haar protagonis om die leser te boei. Haar spel met woorde is poëties van aard en paragrawe moet soms herlees word om die inhoud ten volle te kan verwerk.  
Wonderboom is nie eenvoudige leesstof nie, maar is ongetwyfeld een van die belowendste en opwindendste debute wat ek in ‘n lang tyd gelees het.  
Dewald Koen is departementshoof van Afrikaans aan Kingswood College in Grahamstad. 

© Joan Hambidge

Marlise Joubert - Bladspieël (2015)

$
0
0

Marlise Joubert - Bladspieël. Human & Rousseau, 2015. ISBN 978 0 7981 6954 7

Resensent: Joan Hambidge

 Dit is Marlise Joubert se agste bundel en haar mees uitstaande bundel bly vir hierdie leser Passies en passasies (2007), 'n teks waarin die liriese aard in 'n digterlike dansvorm uitgewerk word. In Bladspieël word daar oor verhoudinge besin: die verbintenis met die geliefde, die natuur, kinders en kleinkinders, die liggaam en veral die digkuns, soos die titel reeds aandui. Reisgedigte en politieke verse is eweneens hier te vinde. Die gedig dus as setspieël, as uitleg of voorstelling van die hewige emosies wat die gedigte uitdra. Toespelings op hierdie tema vind ons regdeur in die bundel, o.a. in "snags slaap ek onrustig op" (32). Die titel eis dus "close reading" op van die leser.

Daar is etlike selfkonfrontasies en selfgesprekke: in "(1970)" (65) praat sy met haar vorige bundels en die domus of huis kom telkemale in verskillende gedaantes na vore, te wete die erf, grond en ruimtes (binnelands en buitelands). Hierteenoor is "brief uit die boord" (53) vir die liewe Krismisvader, 'n iets sentimenteel. Bestekopnames is bekend aan die werk van die ouer wordende digter. Wanneer sy oor menslike verhoudinge skryf, steek dit alte dikwels vas in die anekdotiese of die gemeenplasige. Die "biografie van bloed" mis die sterk digterlike en grimmiger aanslag wat die ars poëtiese verse kenmerk.

Waar Joubert egter hier van haar sterkste verse lewer, is dit te siene in die verse wat oor die digkuns of digproses handel. In "Vlug", 'n reisgedig, word die elliptiese spel van die gedig op 'n metavlak uitgewerk. Die leser sien die besinning róndom die skryfproses (92). Hierom dan ook gesprekke met haar digtersman, Louis Esterhuizen, soos in "klein reistog" (91) en "'n dag in die lewe van 'n digter" (20), waar die Estlandse digter, Jaan Kaplinksi aangespreek word. "by die lees van" (16) aktiveer sy haar eggenoot se lang epiese vers. Sy vertaal en herdig Octavio Paz se "tussen gaan en bly" (110), 'n gedig wat al etlike herdigtings in Afrikaans beleef het en bepaald 'n interessante studie kan aanstig.

Daar is twee toonaarde te bespeur in hierdie bundel: melancholies (soms selfs sentimenteel) en 'n skerper, gedistansieerde blik op die self en die skryfproses. Hierdie leser verkies laasgenoemde aanslag; die tussenaard dus. Daar is dikwels 'n belewenis van 'n droom of 'n ervaring van wat die gedig of indruk voorafgaan, op soek na die verhale wat skuilhou in frummels papier (56). Die digterlike bestaan word bedreig deur werklike storms en politieke onrus. Die vrees vir doodgaan en die versugting om meer stents in die hart te hê, wys op die bedreiging van 'n bestaan. In die openingsgedig "herfs" (9) word die behoefte om langer te leef, uitgespreek in die dwingende, herhalende refrein wat sy telkens verander.

Daar is uitstekende beelde van die digter wat eens haar rugsak flenters kon droom teen ruite, maar nou in eko-insulasie haarself moet verweer teen die dood.

Moderne kommunikasie en hoe dit ook die digproses bedreig word knap verwoord in "om te dig" (25):


op 'n selfoon
is nie maklik nie.
dis boonop onromanties.

vingers poot 'n skilpad
letter vir letter voort (...)

Ons vind treursange en die pynlike besef dat 'n vroeër bestaan vir ewig verby is. Daarom het die bloed 'n "roesgeheue". Hierteenoor is die jong kinders 'n beeld van 'n nuwe lewe of toekoms.

Daar is "geslote" gesprekke met ander digters (Sappho, Sylvia Plath, om twee vroulike gespreksgenote uit te sonder) teenoor die "oper" gedigte vir kinders en kleinkinders, by die naam genoem. 'n Aangrypende vers oor die vader word róndom sy lessenaar gebou: "en ek vra dikwels nog of hierdie vlek / gekreukel soos 'n bloeisel op die eikehoutblad / die laaste ink was uit jou pen" ("agter die lessenaar", 81) wat weer al die gesprekke van vrouedigters oor hul vaders aktiveer.                                        

'n Kritiese vraag: waarom word Ocatavio Paz uit die Italiaans aangehaal, maar Salvatore Quasimodo in Engels? Wilhelm Knobel het dit immers puik vertaal in Afrikaans!

'n Handvol gedigte is besonders verwoord, nes die lykdig oor die vader ("agter die lessenaar").

Die bundel beslaan 110 bladsye en ons beleef tans in Afrikaans die opmars van die dikker bundel, veral opvallend die afgelope dekade.

agenda

die gestringde gedig
moet ʼn lang gedig wees
ʼn rankplant teen ʼn wit
ringmuur aan die een kant op
en aan die ander kant soos slingers, asb.
webbe om jou voete af
sodat jy nie kan beweeg nie, vasgevang
om die enkels van begeerde ontroering
so moet die gedig jou mettertyd tot
stilstand bring, tot absolute stilte laat basuin
sodat jy die woorde word, self die klank
en die ritme van ʼn verlore tyd, die afstand
van vrugwater na sloot
en later slegs ʼn hartklop
wat jou opraap ver verby

die stingelende dood

(Hierdie resensie word met vriendelike vergunnning van Rapport geplaas)

‘n Nota by Dogma van Christiaan Olwagen

$
0
0

Hierdie teaterstuk werk met die spanning tussen geloof en ongeloof. In 1999 was daar die film Dogma wat vir omstredenheid gesorg het weens kritiek op die Katolieke Kerk. Kevin Smith het doodsdreigemente ontvang en die gegewe hier handel oor twee Gevalle Engele wat poog om terug te keer na die Hemel ...

Indien hulle hierin slaag, word God uitgedaag en die hele basis van lewe ongedaan gemaak. (Dogma (film) - Wikipedia, the free encyclopediaBesoek 19 Julie 2015)

Die debat tussen ateïste en gelowiges word soms verder geproblematiseer wanneer 'n Marxistiese kritikus soos Terry Eagleton vir Richard Dawkins oor feitefoute in die geskiedenis van die kerk takel. En die verskille tussen fundamentalisme en geloof uitwys oor sy boek The God Delusion (2006). Eagleton, eweneens ongelowig, striem Dawkins oor feitefoute en onlogiese dwalinge:

Imagine someone holding forth on biology whose only knowledge of the subject is the Book of British Birds, and you have a rough idea of what it feels like to read Richard Dawkins on theology. Card-carrying rationalists like Dawkins, who is the nearest thing to a professional atheist we have had since Bertrand Russell, are in one sense the least well-equipped to understand what they castigate, since they don’t believe there is anything there to be understood, or at least anything worth understanding. This is why they invariably come up with vulgar caricatures of religious faith that would make a first-year theology student wince. The more they detest religion, the more ill-informed their criticisms of it tend to be.
 (Terry Eagleton reviews The God Delusion by Richard Dawkins · LRB 19 October 2006. Besoek 19 Julie 2015)
Om hierdie stuk filosofie aan bod te bring, maak die dramaturg, Christiaan Olwagen, gebruik van sekere konvensies wat hy daarstel en terselfdertyd afbreek. 'n Dramateks is immers iets anders as 'n filosofiese teks.

Die Middeleeuse mirakelspel is 'n onderliggende stramien vir hierdie briljante teks met die karakters wat telkemale groteske vertolkings lewer om reaksie te ontlok. (Rolanda Marais en Albert Pretorius is al beide geloof vir hul uitstaande werk.)

Dit vertel die verhaal van 'n jong man se sin maak van sy ouers se posisie binne én buite die kerk. Hulle het as getroudes op ander verlief geraak en die predikant se posisie word hierdeur gekompromitteer. "My vader was die dominee, my moeder vlees en bloed", praat Elisabeth Eybers in die slot-monoloog saam, 'n digter wat hierdie konflik regdeur haar digkuns verwoord het.

Siekte, te wete veelvuldige sklerose, word aan bod gebring. Die werklike outeur se vader ly aan die siekte en die gestremde Eric Holm vertolk die vader. So buig die teks in op werklikheid en wat ons dink die werklikheid behels. Dubbele ironie, dus. Sy vrou (Tinarie van Wyk-Loots) se swangerskap is eweneens 'n parodie van die heilige geboorte. Daar word geëet, winde opgebreek en 'n mens weet dat Nagmaal hier opgestuur word.

Foto: Erik Holm en Tinarie van Wyk-Loots in Dogma © Lerato Maduna

Elke simbool (eucharistie, doop, nagmaal) word bekyk. Die heilige waters van Bethesda word in die verbeelding besoek: maar daar kan nie genesing kom nie. Is dit omdat daar nie geloof is nie, omdat dit ontmoontlik is om so genees te word?

Daar is "voice overs" (die Noodtoestand word afgekondig, dis immers 1986), die huishulp se klere is 'n parodie van die ou Suid-Afrikaanse vlag. Politieke onrus en rassekonflik word eweneens voor die deur van die kerk gelê. Alles werk met 'n "doubling the point". Die dominee en sy vrou vind hul pendant in die charismatiese prediker en sy hoervrou wat dans op religieuse popmusiek. Seks en eucharistie. Verlossing deur die lyf word telkens aan bod gebring met sterk parodiërende musiek wat die boodskap verder dra en ondermyn.

Die karakters sit om 'n tafel. Uiteindelik word dit 'n parodie van Die Laaste Avondmaal wat volgens die kommentator alreeds aan die verrot is. (Het Laatste Avondmaal (Leonardo da Vinci) - Wikipedia. Besoek 18 Julie 2015)

Die verhaal word met storiekaarte vertel deur 'n verteller (triekster) wat seun, buurvrou, doodsengel, gestremde en ander gedaantes aanneem; puik vertolk deur Roelof Storm as "cross dresser". Die gehoor word soms uitgenooi om kommentaar te lewer soos by die outydse Middeleeuse spele wat van dorp na dorp getrek het.

Die teatrale spel en speelse props (soos 'n plastiekswembadjie waarin gedoop word) dra die vertelling verder. Tafels word rondgeskuif soos dekstoele op die Titanic. Die onderliggende geweld tussen mense word uiteindelik uitgespeel in 'n aanval van die huishulp op die charismatiese prediker. Daar word in tale gepraat, ja, maar die kakofonie dui op wedersydse onbegrip, verby mekaar praat, vooroordeel en stereotiep. En wanneer die geweld wel uitbreek, kry dit 'n verrassende ander wending. Dit is nie die huishulp (Barileng Thato Malibye, in 'n aangrypende rol) wat dit doen nie ...

Dit is teater wat aan die keel gryp. Mense stap uit. Indien jy verder en dieper kyk, sien jy striemende politieke en sosiale kommentaar oor hoé die kerk gays en swart mense buite gehou het. En elke oortreding (veral van die Herder) word gestraf.

Dis nie 'n maklike teks nie. Alles skuif ooreen soos in 'n kaleidoskoop, maar dit is juis hierdie tegelykertydsaspek wat die kenmerk van groot teater is. Dit resoneer sterk met huidige teologiese kwessies. In die jaar 2015 woed daar steeds debatte oor of gay-predikante aanvaar mag word in die NG Kerk en oor 'n selibate leefwyse.

Die kerse voor in die teater lewer eweneens kommentaar op die soeke na Lig en Helderheid. Of lig en helderheid.

Die teks word gedra deur puik spel en uitnemende regie.

Hierdie drama neem my na 'n ander vers van Eybers. In Noodluik(1989) verskyn die volgende vers:


Domineesdogter

My vader, as godsgetuie, het alles gesien
in die glans van die Ongesiene. ’n Droewige saak
op aarde sal in die hemel vergoed word. Sy taak
was die helder opdrag om in te lig en te dien. 
Vernaamlik op Sondag. Verder was hy ons vrind
en die vrind van elke ontmoeteling op sy pad.
Hy was, volgens nekrologieë, alom bemind.
Ek kon hom nie volg nie. Ek kan hom nie minder skat.

(Opgeneem in Versamelde gedigte, 2004:583)

En dit is die uiteindelike boodskap van Dogma: die seun kan nie die vader volg nie, maar hy kan ook nie van hom ontsnap nie.

Vir elke stelling wat die drama maak, word 'n teenstelling gemaak. Moenie uitstap nie. Kyk eerder na die vele subtekste en intertekste wat die teks oordra. 'n Teoloog behoort 'n diepgrondige analise van hierdie teks te maak.

Kyk na die kind se sketse, met wit kryt op die verhoog.

Geloof, ras, klas, gender, simboliek én liggaamlikheid word uit alle hoeke beskou.

Nes Die Laaste Avondmaal wat tydens die Tweede Wêreldoorlog op 15 Augustus 1943 deur 'n bom getref is, en die verf nog steeds verder aan die verkrummel is, staan niks vas nie.

Christiaan Olwagen

Teks en regie: Christiaan Olwagen
Choreografie: Ina Wichterich
Musiek: Charl-Johan Lingenvelder
Met: Erik Holm, Tinarie van Wyk Loots, Rolanda Marais, Albert Pretorius, Barileng Thato Malibye, Roelof Storm en Bontle Wichterich-Mohane

© Joan Hambidge

Petra word tagtig

$
0
0
Petra Müller (1935 - )

Ek het Petra meer as vyf-en-dertig jaar gelede ontmoet. Sy was toe ‘n uitgewer en omring deur ander kundiges. Mense wat lang en vér paaie gestap het met hulle skrywers. "Moenie jou novelle Sonderspel nou publiseer nie; laat dit ryp word.” En hoe bly is ek nie dat ek geluister het nie. Jare later kon ek dit verwerk in my roman Die Judaskus. Dit was ons eerste ontmoeting.

My tweede ontmoeting was toe ek haar kortverhale en gedigte leer ken het. Niemand kan skryf oor die omtes van die hart soos hierdie vrou nie. Daardie magiese lykdig oor haar broer Nico in haar debuut Obool (1977) kan ‘n mens nooit vergeet nie. So lui die slot:

Ek moet jou naam nog eenmaal noem, in liefde en verset.
Hoe anders sal ek jou van hierdie volgehoue stilte red?

So is daar vele gedigte en bundels wat ‘n mens ontroer oor die gebruik van kleur, die musikaliteit van die vers en die digterlike vermoë om die ding in sy dinglikheid te kan beskryf.

Hoe kan ‘n mens ‘n gedig uitsonder waarmee jy hierdie digter wil beskryf aan voornemende lesers?

Daar is twee bundels wat ek in lewe gelees het wat my liggaamlik ontstig het. Beide het ek vir die eerste keer op ‘n koue wintersaand gelees. Ted Hughes se Birthday letters (1998) en Petra se Die aandag van jou oë (2002).

So klink ‘n vers uit hierdie bundel:

Glas

Op reis
In Tarragona het ek toe gesien
Hoedat die vlam die kwarts bedien
Totdat die glas begin te vloei
En uit die asem van die maker swel
As weerloos liggevulde bel
Wat afskulp sonder grein
Of naat.

Jou liefde het my so verlaat.

In die gedig “Posbode” spreek sy die dood so aan:

Posbode

Die dood staan dikwels stil om ‘n adres
Te bekyk, of ‘n vroevy te pluk.
Hy het ‘n mankebeen, en dra sy leersak
Aan ‘n ysterarm. O, geduldige een!
En die brief kom altyd betyds aan,
Per besteller wie se mooi tenoor
Soggens deur ons huis trek as hy ligvoet
Met die trappies afdaal op ‘n melodie van Gluck.

En net vir een oomblik weet ons,
Verstar tussen narsing en tjienkerientjie,
Hóé dit sal wees sonder ons verlore
Klein Euridikie.

Om die gedagte van geel (2012) bevat ‘n opgawe van onder andere jeugherinneringe. Hier skryf sy:

selfs ’n gewone mens kan herinnering afskil:
die yslike nawellemoen
wat sy vorm ook
tot in sy afskil hou

En dit is ook van Petra waar. Sy is soos háár mentor Martin Versfeld, iemand sonder tierlantyntjies en fieterjasies.

Tereg is sy bekroon met die Hertzogprys vir haar deurgekomponeerde bundel Die aandag van jou oë. En almal wat Petra ken, weet hoé sy jou kan uitkyk met ‘n kompromislose, geen nonsens-blik.

Haar kennis van opera en Lieder is merkwaardig. En kuiers saam met haar en haar eggenoot wyle Wilhelm Grütter, het altyd gewissel tussen die grappige en die diepsinnige; die skunnige en die Verhewe Gedagtes.  Boere-adel, in die oorspronklike sin van die woord: mense van die land. Dis net so ‘n mens wat ‘n plek se naam Waterval sal roep, weg van pretensie en opgesmuktheid.

Petra se belesenheid en haar kennis van Osip Mandelstam en vele ander digters is indrukwekkend.

Geluk aan jou, vriendin. Jy wat vroedvrou is en was vir soveel skrywers deur soveel jare. En wat ons digkuns verryk het met jou aardse, aangrypende verse wat die aandag van ons oë opeis.

En ook dank vir jou lewenswysheid.

*

Van haar het onder meer die volgende digbundels verskyn: Obool (1977), Patria (1979), wat met die Eugène Marais-prys bekroon word, Liedere van land en see (1984), My plek se naam is Waterval (1987), Swerfgesange vir Susan (1997) en Die aandag van jou oë (2002), waarvoor sy in 2005 die Hertzogprys ontvang het. Daarna verskyn ’n bundel gedigte in Engels, Night Crossing (2006).

Van haar belangrikste Prosatekste:
1962 Verlore vallei, Dagbreek-Boekkring
1963 Die windskerm, Human & Rousseau
1980 Werf in die rûens, Tafelberg
1982 Voëls van die hemel, Tafelberg
1993 Die dwerg van Infanta en ander verhale, Tafelberg
1995 In die omtes van die hart, Tafelberg
2007 Desembers (saamgestel deur Rachelle Greeff), Tafelberg

(Hierdie resensie word met vriendelike vergunnning van Rapport geplaas)

© Joan Hambidge


T. T. Cloete sterf

$
0
0


T. T. Cloete (1924 – 2015)


I
Die poësie laat hom geld met delikate geweld – T. T. Cloete

In 2001 het ek, Heilna du Plooy en Charles Fryer die 100 beste gedigte van Cloete saamgebundel as Die baie ryk ure (Tafelberg). Cloete se debuut met Angelliera in 1980 het die Afrikaanse digkuns verander. Hy was 'n nuwe stem. Hy het die intellektuele dimensie met die emosionele versoen. Sy tegniese beheer en nuwe aanwending van rym het 'n durende impak gehad op die geslag van 80. Hy het uitstekende gedigte geskryf en 'n mens sou hom ten beste kan beskryf as 'n "poet's poet"; tog is gewone mense ook gaande oor sy gedigte. Hy het 'n hele diggesprek róndom Marilyn Monroe aan die gang gesit. Sy gedigte het my lewe verander en by die lees van sy eerste gedigte het dit my so meegevoer dat ek begin dig het. Ons het dikwels per e-pos gekommunikeer. Hy het 'n sintuig gehad om ander digters te verstaan en bewonder. Hy het immers Italiaans geleer om Dante te kon lees.

"Jy gaan haal jou gedigte ver" skryf hy onlangs in 'n e-pos vir my. En mag hy, wat nou vér is, steeds naby bly aan ons in sy verse.

Die naweek ry ek na Swellendam om die verjaarsdag van Petra Müller te vier. So al ryende deur die landskap kom die volgende reëls by my op:

Daar waar die aarde sy meniskus
by die hemel laat uitkom
'n sierlike boogpunt maak
daar is vrede in die lug.

Vanoggend toe ek verneem van Cloete se dood, lees ek skielik hierdie reëls anders. Dit is asof hierdie verse nou gelees kan word as ‘n soort afskeid aan Cloete.

Cloete was bepaald een van my digterlike mentors en vormgewers. Soos Neruda het hy geglo dat daar net ‘n digkuns is en nie digters nie. Hy het in ‘n e-pos hom ook sterk uitgespreek teen digterlike stryde, omdat hy gevoel het elke digter kan net sy of haar bepaalde aanslag of manier-van-dig wees.

Ofskoon hy Psamberymer was en oor die mens se verhouding tot God geskryf  het, had hy geen tyd vir kansvatters wat sy naam misbruik op flaptekste nie. Hy was eerlik en op die man af.

 II

Daar is ‘n handvol verse wat Cloete so uniek maak soos:

God die digter

Chili is deur 'n digter gemaak. Pablo Neruda

daar is meer poësie in die sneeuvlokkie
as in die letterkunde en baie meer poësie
in die miskruier in die toktokkie
in die meteorologie en entomologie
in die moremis en in die bergpiek
die horison wat in die hemel wegraak
in die rooswolk is daar baie meer liriek
die aarde is deur 'n digter gemaak

(Uit: Driepas, Tafelberg: 1989)

Hierdie gedig is is tekenend van sy besondere vermoë om disparate dinge saam te dig. Die jukstaposisie tussen die alledaagse en die wetenskap; natuurwondere – en die uiteindelike metafisiese bewuswees van alles – die aarde is inderdaad deur ‘n digter gemaak.

Sy vers oor Peter Sellers is weer uniek aan Cloete, sy eiesoortige lykdig. Hieroor het ek geskryf ‘n paar maande terug op my blog: ‘n Nota by T. T. Cloete se “Alle grappies op ‘n stokkie” (Uit: Jukstaposisie, 1982)

“Alle grappies op 'n stokkie”

Die ektoplasma maak mislik.
Alle vlae hang stigtelik
by alle teaters halfmas.
Peter Sellers is vandag veras
by Golder's Green. Wat mens afkerig maak
is dat die dooie vertrek en ander moet ontslae raak
van sy lyk. Die diens vir die lastige rou
en konvensie is deur John Hester gehou,
Peter se vriend, 'n kannunik.
Maak dit vrolik
om van die walglike oorlas
verlos te word. Slegs vriende uit die vermaak, kollegas
uit The Goon Show
sy eerste, sy derde en vierde vrou
mog die diens bywoon: Britt Ekland die seksbom
het ongenooid daar aangekom,
sy't vermetel met Spike Milligan opgedaag.
Sy is kywende weggejaag
deur Michael. Vir die groot
mededinging met die lastige dood
was Lynn Frederick
heel paslik
geklee in 'n rok wat inderhaas
spesiaal ontwerp is deur die modebaas
Yves St. Laurent. Terwyl hulle die lyk veras
vrolike musiek pas
immers by die toneel
is Glenn Miller se In The Mood gespeel
op Peter se versoek. 'n Lyk is darem 'n verleë ding.
Laat die poppe speel, laat hulle hom wegsing.
Tog het iets vreemds gebeur:
'n donderstorm wat ineens losbars versteur
en oorstem In The Mood. Dis nes Peter dit wou hê,
dit pas by sy humor, het die kanunnik vroom gesê.
Wat pla
bedink agterna
in terme van tooneelspel: is dit deus ex machina
of is die grap bygedra
deur die baaslykverbrander?
To steal one's thunder
Pas by die toneel. Behoort die oorskot
aan die duiwel, aan God?
behoort die donder

aan God, aan die duiwel? I wonder …


III

In my jongste bundel vereer ek hom so. Dis ‘n vers geskryf in die verre vreemde in Llubjana terwyl ek grotte besoek. Die ruimtes van natuurwonders wat Cloete so bekoor het en waarvan hy baie geweet het en dikwels met Johann de Lange per e-pos gesels het.

“ Epifanie”

Vir die digter
van die jukstaposisie
                                                                                                                 
Huise uit sandsteen geweef
nes tapyte uit sywurms gegis
soos wyn uit druif gekap,
vir weef, kap of gisting
tot ‘n unieke klein gedig:

immers meer poësie
in 'n sneeuvlok,
in die huis snags
as die strofe bedags;

meer te wroet
oor die dood
en Marilyn Monroe
as van lewensbrood;

rympatrone gevind
in die ontoelaatbare,
die ongesegde,
met stilte gerinkink.

In die huis van die digkuns
was daar vele wonings:
Huise uit sandsteen gegis
nes tapyte uit sywurms gekap
soos wyn uit druif geweef ...

dié digter, 'n allotroop
stap jambies
ligvoets
eenkant
onversadig
verby.​

(Uit: Matriks)


IV

In my T. T. Cloete gedenklesing aan NWU in 2005,  “Die hipnose van die digkuns”, het ek hom akademies as digter takseer.


Die hipnose van die digkuns: T.T. Cloete-gedenklesing 2005

I.

TT Cloete se versamelbundel Die baie ryk ure bevat ’n afdruk op die voorblad van die beroemde verlugte getyeboek-kalender van die hertog Jan van Berry, wat geleef het van 1340 tot 1416, Les très riches heures du duc de Berry, met miniature van die broers Limburg. Die twee afdrukke is van die maande Maart en Junie.

In hierdie titel en voorblad word die essensie van Cloete se digkuns opgesluit, naamlik die gedig as afdruk of herskrywing, interteks, palinode; en die obsessionele, allesoorrompelende bedryf, die digkuns, waarin die hele lewe, sowel die verhewe as die banale, gekarteer word. Dit wat as die “hipnose van die digkuns” beskryf sou kon word.

In só ’n ryk oeuvre sou die leser verskeie (allo)trope uit die digkuns kon beskryf. In hierdie gedenklesing, ook genoem ’n erelesing, word daar gefokus op die gesprekke, die afdrukke en hoe die digter telkens sy leefwyse met die digkuns versoen.

Die “dromende denke” van die digkuns gaan so ver terug as in sy doktorale proefskrif, waarin hy onder leiding van NP van Wyk Louw skryf oor Totius en DJ Opperman se digkuns, Trekkerswee en Joernaal van Jorikwat in 1953 verskyn het. In ’n brief aan Van Wyk Louw, 20 Februarie 1953, meen Opperman dat Cloete dikwels vir Totius oorskat en skryf ook: “Dan nog: verwikkeldheid en breedheid is nog nie skoonheid nie, is nog geen waarborg vir poësie nie” (JC Kannemeyer: D.J. Opperman. ’n biografie, p 189).

Die “verwikkeldheid” en “breedheid” is dan juis dit waaroor Cloete se digkuns handel en die herhaaldelike bekronings deur die jare het alreeds die “waarborg” vir ons as lesers gegee.

Dit is dan juis hierdie verwikkeldheid van hierdie digkuns wat besonder boeiend is. Die jukstaposisie met ander digters, en die enorme tegniese beheer, val op. In die Afrikaanse digkuns is daar waterskeidende oomblikke aan te toon: “Winternag”, Totius, Leipoldt, die gebroeders Louw, Opperman, Peter Blum, Breytenbach, Wilma Stockenström, ea. Met sy debuut, presies in 1980, is dit dan Opperman wat “Angelliera” loof as koningskos. In sy verslag, wat eweneens gedeeltelik opgeneem word in die Opperman-biografie, skryf Opperman oor die klank en spel met idees, die onverwagte wendinge, parallelismes, enjambement “met ’n kort oorstoot en opdammende slotbewegings” (p 415).

Al die reeds genoemde digters is aanwesig in hierdie digkuns, waaroor mense soos Pablo Neruda en Sheila Cussons kan dink dat daar alleen ’n digkuns is, en nie enkel digters nie.

As Cloete verwys na die “dromende denke” (Leopold) van die digkuns, is daar dan “’n waarheid gelieg” ter sprake, omdat die digter en sy persoonlikheid nie in hierdie proses ontken kan word nie. Die intellektuele besinning van Cloete verskil van die religieuse ekstase van Sheila Cussons wat in haar “Christ of the burnt men” soos Thomas Merton die Katolisisme versoen met die Boeddhisme. By Cloete – soos by Totius – is die gesprek met God gevul met ryk ure, maar ook met metafisiese vrae en besinning. Die lykdig by Cloete is dikwels op die menslike leed, die banale ervaring van die dood, en die metafisiese aanvaarding gerig. ’n Digter van die en … en-konstruksie of jukstaposisie. Die afdruk wat staan in die plek van iets anders.


II.

Die digterlike geboorte van Cloete, soos hy bely in die openingsgedig “Die ryk ure” in sy versamelbundel, word soos volg beskryf:

my geheimsinnige begin was in donkerte.

Dit is dan die aankondiging van sy geboorte as digter, ’n onbewustelike en primordiale proses waaroor die digter verslag lewer; en wanneer die digterskap gelees word vanuit uit hierdie blikhoek, word ’n nuwe digter gebore, soos daar in die programgedig aangekondig word. By die keuse van ’n honderd van Cloete se gedigte was Charles Fryer, Heilna du Plooy en ekself onafhanklik betrokke. Die soeke na die beste of mees verteenwoordigende in hierdie digkuns, die 100 uitgesoekte gedigte, het desondanks sterk ooreenkomste vertoon. Fryer het, as Cloete se redakteur, uiteraard oor ’n periode van bykans vyf en twintig jaar die digter van raad bedien, terwyl die twee ander lesers ’n meer akademiese benadering tot sy gedigte gevolg het. Tog kan die enorme impak van Cloete se kreatiwiteit en sy digterlike procédé nie op ’n hele geslag jong digters in tagtig ontken word nie: Johann de Lange, Johann Lodewyk Marais, Johann Myburg, Heilna du Plooy, en die latere Krog, om enkele name uit te sonder.

Die sterk vormvastheid, die gebruik van wit spasies wat versreëls ’n funksie van gelyktydigheid gee, en die gesprekke met én herskrywings van ander digters, kan as Cloete se “handtekening” beskou word.

Wat my egter tans interesseer in hierdie ryk oeuvre, is die bewustelike gesprek óór en mét die digkuns. In hierdie verband is ’n gedig “die gedig as refleks” (uit Driepas, 1989) ’n sentrale gedig:

die gedig is ’n refleks
in ’n enkele woord
en in dié woord hoor
die oor ineen ineens die hele teks

van die versamelde gedig
snel soos die byt van die lip
hom laat insuig of die knip
van die oog teen ’n naald lig

só soos die spiere by flink spel
die hand elektrochemies vinniger prik
as wat lig trek       soos angs of skrik
hoendervleis maak op die vel

dit het selfs iets weg van die vier
van ’n vinnige grap wat banaal
die bomkrag van die taal
laat vuur in le gros rire

die gedig van vreugde of pyn ontplof
uit donsklein geringhede en word
tot ’n wye stelsel uitgestort
van gloeiende asteroïede stof.

(Uit: Die baie ryk ure, p 54)

Ook in “Leopold” word die belang van die digkuns besing (uit Idiolek, 1986, Die baie ryk ure, p 47):

Leopold

die ligte
en die vergesigte
van hemel en aarde       die swart
van die grond en stralende wolke   verward
bewegende mense       strome
water     ploeë   ou bome
voor ou huise       die verkeer
op die paaie       die weer en onweer
die ganse heelal
is daar ter wille van ’n taalkristal

En in “God die digter”, na aanleiding van Neruda se uitspraak: “God is deur ’n digter gemaak” (uit Driepas 1989, Die baie ryk ure, p 58) dig hy:

daar is meer poësie in die sneeuvlokkie
as in die letterkunde en baie meer poësie
in die miskruier in die toktokkie
in die meteorologie en entomologie
in die moremis en in die bergpiek
die horison wat in die hemel wegraak
in die rooswolk is daar baie meer liriek
die aarde is deur ’n digter gemaak.

Twee seminale gedigte uit Jukstaposisie is “Slaan toe” en “Die afspraak” (pp 70 en 71):

Slaan toe
Na Pierre Ronsard

Wil jy wanneer jy oud is by die kers
saans voor die vuur met spin en weef verheug
droomdink oor my gedig: my skone jeug
het hy     Ronsard verheerlik in sy vers

Die ouderdom is een saam en pervers
hy stel geen keuses meer    teen heug en meug
moet jy jou skik en wie die vrome deug
wou kies moet dan bedroë tandekners

Ek sal swart slaap diep in die donker land
 ’n grondklomp sonder   vlees my tong versand
jy stil geboë voor die vuur       jy bewe

en treur oor my     jou eer word ’n verwyt
bedink jou   daar is nog een uur nog tyd
slaan toe   wie weet ons of nog môre lewe


Die afspraak
na Paul Verlaine

’n vreemde vrou in sewe variante
kom gee haar oor aan my steeds in ’n droom
in sewe gedaantes   die steeds verwante
steeds sonder afspraak en steeds sonder skroom

hoe openhartig en vrymoedig gaan
ons tot mekaar volkome wederkerig
die tyd wat in ons pols sag saamslaan
onderbreek en herhaal ons willekeurig

hoe lyk haar hare   donker   rossig   blond
ek weet dit nie   die oë   neus en mond
haar naam   dat dit   onaards klink en sonoor

stel ek my voor   ek kan haar stem asof
sy dood is en ek my herinner dof
ver weg en ernstig en sereen hoor.

Hierdie “dromende denke” van die gedig speel in op Ronsard se vers.

Die tweede gedig, “Die afspraak”, is kennelik ’n afspraak met die muse via Verlaine. Daar word in die kuns groot gewag gemaak van “oorspronklikheid”, en invloed/beïnvloeding word as negatief of minder ervaar. Nou onlangs is Munch se “Die gil” gesteel en skynbaar verbrand; tog is dit paradoksaal nog met ons deur afdrukke … (’n straatlegende, natuurlik).

By Cloete gebeur iets volledig anders. Hy gee erkenning aan die digter via ’n naam en dan begin hy sjamanisties inbeweeg in hierdie digter se wêreld. Die “dromende denke” is dan as ’t ware ’n toestand van hipnose of beswyming [1]. Die digter is dus nie by sy positiewe nie en soos ’n pasiënt wat onder hipnose bepaalde feite erken aan die psigoanalis, word gerepresseerde en dus pynlike inligting herhaal.

Een digter gaan ook hier in die onbewuste van ’n ander in. Leon Rousseau, die biograaf van Die groot verlange, het al bely dat Eugène N Marais ’n geweldige impak op sy lewe gehad het. By geleentheid het hy sekere inligting oor Marais na ’n koerant versend. Hy was oortuig daarvan dat hy die gekorrigeerde stiffie gestuur het, maar dat die verkeerde teks in die koerant verskyn het. Die skrywer meen dat hy gepla word deur Marais (Martiens van Bart in “Spook Eugène Marais hier rond?” By, 16 April 2005)[2].

Hierdie ekstreme geval van psigiese energie wat as ’t ware oorgeneem kan word deur ’n ander party, word ook in CG Jung se studies behandel. Jung het onder meer geskryf oor die verskynsel van kriptomnesia, dit wil sê, wanneer ons oor inligting beskik waarvan ons nie bewustelik weet nie. By Cloete is hier egter ’n tendens om sowel van die hipnotiese of spook-element gebruik te maak as om met kriptomnesia te werk. Met ander woorde, die digter speel asof hy ’n soort medium is vir hierdie digters. Maar eintlik is hy nie. Dit is alles oëverblindery, omdat hy vir ons die naam onderaan gee wat ons na die digter moet lei.

Nou sal ’n mens jou kan afvra: Watter gedig of wat van die digter se lewe het Cloete aangespreek? ’n Mens sou goedskiks die digter kon kontak, maar so ’n oproep of e-pos sou die hele siening van die hipnose van die digkuns ondermyn. Boonop maak dit eintlik nie saak na watter spesifieke gedig die digter verwys nie. Dis eerder ter sake om te besef dat al sou hy dink hy verwys na ’n herkenbare gedig, hy meer doen as om dit te beskryf, herskryf of te vertaal. As Freud gemeen het dat waar ego is, sal id wees, is Lacan se siening van die onbewuste eerder van toepassing: “Ek dink waar ek nie is nie, daarom is ek waar ek nie dink nie.”

Waarom twee Franse digters, en meer spesifiek Ronsard en Verlaine? Beide hierdie digters, soos ons weet in die literatuurgeskiedenis, het, soos Cloete, ’n waterskeidende invloed op die digkuns gehad, Ronsard oa deur sy gebruik van die vaste vorme soos die villanelle en Verlaine deur sy beeldspraak. Verlaine is ’n simbolistiese digter, ’n spesifieke digterlike stylfiguur [3].


III.

In die Hertzogkamer, die nagraadse lesinglokaal van ons Departement aan die UK, is daar vele vergete studies oor die Afrikaanse letterkunde. Onder andere staan die boekery van ID du Plessis hier en ook is boeke van Boerneef hier gehuisves. Ons kollega Henning Snyman se boekery, wat tans hier ten dele staan, neem my op die spoor na ’n belangrike versamelstudie: Simbolisme in die Afrikaanse digterlike tradisie, uitgegee aan die PU vir CHO, ’n projek onder leiding van DH Steenberg wat in 1993 verskyn het. Kollegas Seyffert, Van der Elst en Viljoen is medewerkers aan hierdie belangwekkende studie wat die digkuns van Cloete ook sou kon ontsluit.

M van den Berg se bydrae “N.P. van Wyk Louw en die simbolistiese verse van Rainer Maria Rilke (1875–1926)” is ’n bydrae wat uiters verhelderend is in die beskouing oor die aard van die Simbolisme. In hierdie essay word die belangrikste stylverskynsels van die Simbolisme verduidelik, soos:

1. Die vers libre wat gesien kan word as die mees betekenisvolle bydrae.
2. Die skep van ’n poëtiese werklikheid waarin die simbole die wêreld suggereer.
3. Die “l’art pour l’art”-benadering, waarin politieke en sosiale onderwerpe vermy word.
4. Die vooropstelling van die subjektiewe of private emosie. Musikaliteit en suggestiwiteit speel ’n groter rol as die verstaanbaarheid daarvan. Die raaiselagtige “chiffres” is hier tersaaklik.
5. Die droom en die onbewuste word as belangrike bronne gesien vir die skep of komponeer van poësie.
6. Die natuur en refleksie word ook uitgesonder, omdat daar ’n soeke is na ’n ander transendente werklikheid. Die natuur word dikwels ook ’n refleksie van die innerlike belewenis van die digter. Baudelaire se “correspondances”, of die teorie van universele analogieë, is tersaaklik.
7. Die taal van die digter werk met simbole. Dit is nie konkrete objekte nie, maar dit verwys na ’n transendentale werklikheid.
8. Die ontginning van die magiese krag van die woord (Rimbaud se “l’alchimie du verb”) en die digter wil loskom van die vasgevriesde konnotasies van die woord; argaïsmes/sleng/bargoens/neologismes is opvallend van hierdie digterlike benadering waarin die eksterne werklikheid los staan van die gedig.
9. Dood en verganklikheid is belangrike temas, en die skryf van die onverganklike vers waarin die dood oorwin sal word. Die digter is nie onsterflik nie, maar word deur die kuns onsterflik.
10. Dekadensie en ennui is eweneens opvallende lewensbeskouings waar die natuurwetenskaplike denke verwerp word.
11. Ook is die skoonheidsideaal opvallend, met ’n soeke na die paradysideaal waarin die verlore kindertyd beskryf word (pp 145 – 158).

TT Cloete skryf in “Simboliek in Totius se werk”, wat eweneens in hierdie bundel verskyn, verhelderend oor hierdie proses in Totius se digkuns. Hy wys daarop dat die simbool “vanself en onmiddellikkommunikeer” (p 350) met die leser, en skryf in sy slotopmerking soos volg oor hierdie proses:

Hoe ons die simbool presies begryp, is nie baie duidelik nie. Dit is moontlik dat die sielkunde ons hier iets kan leer van die kollektiewe, on- of onderbewuste begryp, die argetipiese begryp, wat dalk dan tog ’n soort dieper begryp is, ’n omvangryker een, maar oergerig, atavisties. Die simboliese begryp is waarskynlik soos Totius in “Die digter as siener” sê “onmiddellik”. Deur die kollektiewe begryp van die simbool word die digkuns dalk tog die terrein waar ons as mense saamdink, en al praat ’n digter van homself, praat hy tog nie sy eie praat nie. Die digterlike ek is ’n simboliese ek (p 356).

Verder het hierdie leser eers op Totius se uitspraak afgekom na die formulering van die “hipnose van die digkuns” wat ons dan stuur na die Freudiaanse proses van die “unheimliche”. Die digkuns is ’n atavistiese, primordiale proses met die digter as ’n vertolker van die simbole waaraan die leser deelneem.

In ’n belangwekkende essay, “Simbolisme: ’n poging tot definiëring”, lei J van der Elst die lesers na belangrike aspekte van die Simbolisme, soos die sterk indiwidualistiese aard van hul digkuns en die opvallende antitradisionaliteit van hul digkuns – om (in Van der Elst se woorde) te beweer dat dit ’n dryfkrag sou wees om anders te wees as dít wat hulle voorafgegaan het (p 79). Profeetskap en afsondering is ook kenmerkend van hierdie stylfiguur met die droom as toevlug of uitkoms, die okkulte. Ook is die rol van kleure, klanke, blomme en diere opvallend en die vrou word ook misties vereer. Vanweë die “culte du moi” is spieëls ’n simbool van introspeksie, die selfgesprek (pp 80-81). ’n Mens sou ook kon byvoeg dat die hele gedig as ’t ware ’n spieël word van die innerlike proses. Van der Elst som die stylfiguur soos volg op:

Die spanningsveld waarin simbolistiese kunstenaars verkeer, is geleë in die verwoording van ’n transendente of ideële wêreld. Die verwoording hou in dat woorde en taal gebruik moet word om daardie ideële, essensiële wêreld anderkant ruimte en tyd (by A Roland Holst die Elisium) te suggereer en om uiteindelik die diepte van die eie sielelewe uit te beeld (p 82).

Vanaf sy debuut het kritici gewys op Cloete se fundamentele verandering van die kanon. Sy sterk indiwidualisme, sy herontginning van onder andere klank en rym, sy gesprekke met Franse digters, sy ervaring van die droom, laat hom ten nouste hierby aansluit. Wanneer hy as profeet optree, is dit dikwels sardonies-satiries.

Van der Elst wys skerpsinnig daarop dat die swane en poue soos akteurs figureer in simbolistiese poësie. By Roland Holst is die seemeeu so ’n duidelik aanwesige simbool.

FIJ van Rensburg ondersoek eweneens die Simbolisme (“Van Wyk Louw Simbolis?”) en wys op die individualiteit en selfs solipsistiese aard van die Simbolisme. Verder is die tipies Simbolistiese gedig “versluierd” (p 496). Ofskoon Louw nie as Simbolis tipeer kan word nie, is daar wel Simbolistiese trekke in sy digkuns aantoonbaar. Dit sou ook vir die leser van Cloete se poësie dan relevant wees om te verwys na simbolistiese trekke juis omdat ’n beweging wat binne ’n bepaalde kultuuropset plaasgevind het, boonop in die “fin-de-siècle” nie goedskiks getransponeer kan word op ’n ander kultuurtydperk of -beweging nie. Ook wys Van Rensburg tereg daarop dat ’n beweging dikwels helderder omlyn oorgedra word, omdat die kánon en nie die randeiers van sodanige beweging aan skrywers bekend word (p 497).

Dieselfde geld onder andere die modernisme en die hiermee gepaardgaande beweging, die postmodernisme. Bewegings kom dan nie tot abrupte eindes nie (Van Rensburg, p 498) en die Afrikaanse digkuns absorbeer myns insiens eras of modes veel later en ook op ’n unieke manier. Van Rensburg se siening is op S Dresden se uitsprake gebaseer en vir Van Rensburg is daar “’n bewussyn van ’n ander, verborge, versluierde werklikheid, hetsy ’n objektiewe (’n Syn agter die synde), hetsy ’n subjektiewe (’n dieper of ware ek, by name die siel)”. Hierdie twee staan in ’n magiese verbintenis met mekaar en die verborge werklikheid moet gewek word. Die simbool word aan die digter gegee sodat hierdie twee werklikhede as ’t ware onthul en verduidelik kan word (p 508).

Tot sover die belangrikste teoretiese bakens vir ’n benadering tot ’n uiters komplekse beweging in die letterkunde.


IV.

Veral Cloete se vertalings en gesprekke met ander digters wys op ’n unieke hantering van die Simbolisme in ’n postmoderne tydvak: die chiffre, of die soeke na die tekens of dit wat aan die digter openbaar moet word, spruit nie uit die werklikheid nie, maar uit ander tekste …

In hierdie opsig is die kritiese essay van Anna-Marie Bisschoff in hierdie versamelbundel, “T.T. Cloete – Transformasies van die Simbolisme in Driepas en Angelliera”, eweneens uiters tersaaklik. Bisschoff is krities oor die toe-eiening en transformasie van die Simbolisme in Cloete se werk. Tog het ek met die lees van haar skerpsinnige essay besef dat die titel Angelliera’n eiesoortige prosedure aankondig: van teks na teks, eerder as van teks wat soek na die “heilige” waarheid.

Bisschoff betrek die ars poetica; die kuns as ’n soort religie; die onttrekking van die wêreld (asketisme); die kunstenaar as onaantasbare wese; die correspondances; dubbelsinnighede; die sogenaamde ander wêreld; kernsimbole; drome; mitologiese verwysings; die vrou; blomme. ’n Mens kan aantoon dat al hierdie aspekte aanwesig is by Cloete, maar in ’n aangepaste vorm. Die mees opvallende afwyking is dat God die grootste digter is vir Cloete.

Die Baudelaireaanse “correspondances” word by Cloete die jukstaposisie, die soeke na die simbool, die teken word ook veelvuldig ontgin. Bisschoff meen die werkwyse vertoon Simbolistiese trekke eerder as dat dit volledig as Simbolisties gesien moet word.

Sy het gelyk hier, want Cloete dig binne ’n ander klimaat. Die Simbolisme is premodernisties, terwyl Cloete debuteer in 1980 in die tyd van politieke onrus, en hiermee saam, die postmodernisme soos dit bedryf is binne die Afrikaanse digkuns met palinodes, gesprekke, parodieë en intertekste. Ook het hierdie digter ’n besondere tegniese beheer vanaf die debuut vasgelê en hierdie invloed het, soos reeds uitgewys, in jonger digters se werk geresoneer.

“Impasse”
- ik weet het niet?

Ons staan in die kombuis, ’n vrou en ek.
“Waaroor, Kokkie, wil jy dat ek moet skryf,
Voorsitster van die Reg van Vrou en Wyf,
kom sê so ongeveer in die bestek

van veertien verse, slim Doktor Ciclopia,
kom sê wat wíl jy hê?” “’n Strak sonnet,
metries, vol leestekens, en ek belet
dat jy swaar woorde kies, skryf dom, ek vra

dat jy my nié moet irriteer nie – vir my
ook géén Latyn nie, net wat moeiteloos
kan lees terwyl ek afval voorberei.

Streel my, maak my plesierig, my ou bielie,
en geen erns, net teer emosies soos
’n veer wat prettig oppervlakkig kielie.”

Die gedig tree in gesprek met Nijhoff se “Impasse” en lewer ook felle kritiek op die resepsie van Afrikaanse poësie, en meer spesifiek op die bundel Angelliera (1980) deur Cecile Cilliers wat beswaar gemaak het teen Cloete se gebruik van neologismes en vreemde woorde. Trouens, ’n bekende Latynse frase is verkeerdelik as ’n neologisme aangesien. Cloete se gedig word ’n manjifieke manifestasie van sy dubbel-blik op alles. Enersyds gebruik hy die bekende Nederlandse gedig as uitgangspunt om andersyds ’n boodskap oor te dra, en meer nog, satiriese kritiek te lewer op die letterkundige sisteem van die tyd. Nuwe wyn in ou sakke dus. Bykans soos die metafoor wat bestaan uit die “tenor” en “vehicle” wat saam iets nuuts presteer. Die bundel-titel Jukstaposisiedui ook op dit wat as simbolisties gesien kan word, te wete die saam-beleef van opposisies, soos die banale en die verhewe, die foto en die werklikheid, historiese werklikheid en die digkuns, en so meer.

Ook deur sy intertekste skep hy dus ’n nuwe verbintenis met die ou teks. Sy aansluiting by bekende Franse digters – soos die reeds genoemde Franse Simboliste en Baudelaire veral – sou ten beste beskou kan word as ’n hipnotiese staat. Die digter word deur ’n ander digter gehipnotiseer sodat sy ware aard paradoksaal juis in hierdie gehipnotiseerde staat na vore kom. Soos die gehipnotiseerde dikwels toertjies sal uithaal wat hy andersins nie sou kon of wou doen nie, is die digter wat gehipnotiseer word deur ’n groter digter, totaal betower en verlam, of doen hy iets onmoontliks of anders. By Cloete is dit altyd laasgenoemde. Hy word nooit deur sy voorgangers verlam of verlei nie. Hy skep ’n nuwe ruimte waarin die oorspronklike teks as ’t ware begoël word.

Nou onlangs is die Afrikaanse letterkunde geskud met ’n plagiaat-aanklag teen ’n bekroonde digter. Vir die gewone leser was dit gewoon onvergeeflike letterdiefstal; vir die psigoanalitiese leser beslis iets méér: sy is verlei deur haar interteks in so mate dat sy in ’n verlamde en selfs verblinde stasis ingegaan het en die teks, in vertaling, as haar eie aangebied het.

Ek weerhou my van ’n morele uitspraak oor die insident. Vir die letterkundige speurder was dit ’n oortreding, ’n onvergeeflike fout. Skrywers het in die algemeen hul weerhou van verdoemende uitsprake hieroor, juis omdat alle skrywers klassieke modelle ken, palinodeer, verander, verbuig, vervoeg, parodieer. Trouens, daar is geen digters nie, net ’n digkuns, aldus Neruda en Sheila Cussons.

En boonop is God vir Cloete die grootste digter wat in al die paradoksale en konflikterende groot(s)hede van die natuur, die lewe, uitsonderlike poësie skryf.

’n Hele digtergenerasie is deur Cloete beïnvloed en sy invloed op die tegniese aspekte van die digkuns is alreeds uitgewys, oa sy heraktivering van rym in Afrikaans, die semantiese uitbuiting van die ellips en wit-eindes in die gedig en sy gebruik van die simbool.

’n Simbolistiese digter kan hy nie wees nie. Hy vertoon egter wel Simbolistiese trekke, met ’n hoofletter, en binne ’n postmoderne beweging is sy soeke na die teken of waarheid opgesluit in ’n ander teks. Sy voortreflike psalmberymings praat met Totius se tekste.


V.

Om Cloete se invloed op ander digters te wys, bespreek ek vervolgens sy Marilyn Monroe-gedigte.

Ek plaas die verse soos wat dit in Brink se verseboek verskyn, met die wete dat Cloete eerste was, dan Hambidge, Peter Louw, Gouws en Spies. Cloete se pakkende gedig praat telkens die sterkste in elke digterlike antwoord. Elke antwoord word as ’t ware deur ’n soort poltergees van die oorspronklike vers beïnvloed.

Die “hipnose van die digkuns” sou goedskiks iets te make hê met A Roland Holst se studie Over den dichter Leopold, eweneens aangetref in die Hertzogkamer van ons gebou. Leopold se gedig “De Molen” wat Cloete só inspireer dat dit sy denke vorm, is aan die basis van hierdie gesprek. Cloete het ook in die sewentigerjare aan die Vrije Universiteit ’n kursus oor hierdie digter se werk aangebied.

Hierdie outydse studie van Holst neem my opnuut terug na Freud se ingewikkelde verhouding met hipnose, wat volgens die meeste kommentare die voorstudies was vir vrye assosiasie, een van sy tegnieke waarmee die terapeut as ’t ware die onbewuste kan bereik. In die versamelde Pelican-reeks van Freud (volume 3), Studies on Hysteria (Joseph Breuer and Sigmund Freud), word hipnose skerp omlyn. In sy analise van Frau Emmy von N, ’n persoon wat aan kompulsiewe paramnesia ly, skryf Freud op ’n sluwe wyse oor die invloed en effek van hipnose. Trouens, dit is duidelik dat Frau Emmy twee stories te vertelle het. In ’n tweede hipnotiese staat vertel sy die storie duideliker en helderder.

Dieselfde geld die digkuns van Cloete: die eerste staat van hipnose is Cloete en Leopold se verhouding; die tweede staat van hipnose is Cloete en ander digters. Opnuut dan ook die invloed terug van hierdie digters in gesprek met Cloete. Beïnvloeding, intertekstualiteit, gesprekke tussen tekste, Freud versus Frau Emmy von N is nie ’n enkellynige proses nie. Dit is ’n proses van simultaneïteit: die oomblik wanneer die tweede gedig of antwoord geskryf word, het dit ’n invloed op die wyse waarop die eerste of oerteks gelees word. Ons begryp Leopold beter en duideliker deur Cloete se poëtika. Die vele Marilyn Monroe-tekste aktiveer die ironiese, en passant-opmerking van die gedig dat ’n bysaak soms ’n hoofsaak word.

Wat is die bysaak waarop hierdie gedig draai? Simone de Beauvoir en die feministiese en nonfeministiese kommentare wat hierdie gedig al ontlok het. Van beide genders. Lina Spies verset haar teen die “geswymel”, maar skryf onder Cloete se hipnotiese invloed ’n vers wat die seksuele dimensie aktiveer. Vir die duur van die gedig (’n onbewuste glip-van-die-tong) swymel sy wel oor Monroe, maar fynlees laat die leser besef dat die “duur van die gedig” eintlik verwys na die magistrale, oorspronklike vers van Cloete wat haar moveer om hierdie huldeblyk aan sowel Marilyn Monroe as Cloete te skryf. Hoe ironies dat die gedig van Hambidge eindig met “die dood is net ’n droom” waarin die “dromende denke” hom netjies inpas! Op “haar naakte beste onverleë” praat Tom Gouws weer saam met Cloete wat by herhaling die dood as ’n verleentheid beskryf en dat ’n lyk in wese verleë ding is.

“Die poësie laat hom geld met delikate geweld,” skryf Cloete in “Zeus vandag” (Driepas, p 14).

Net soos ’n groot digter soos Cloete hom laat geld met delikate geweld, en ’n mens sou fyner speurtogte kon onderneem na invloede op Johann Myburgh, Johann Lodewyk Marais, en selfs by Krog invloede kon uitwys. En ’n klein belydenis: hierdie gedig van Cloete het my so geraak dat ek met erns begin verse skryf het.

Lina Spies (geb 1939)

Marilyn Monroe: foto in goud

Die kleur van heuning en van hars,
van seesand by ’n somersee:
kartels ougoudse rooi streel
à la Botticelli se Venus
die slank nek.

Die badjas gee niks bloot
wat dit bedek:
daar is tinte branderblou
waar die skuimwit handdoekstof
oor hals en skouers vou
en waar dit wegskuif is onopsigtelik
die regterbors toevallig effens oop,
’n paar los hare vee tot teen
die lagplooitjies om die linkeroog
met sy helder, onbevange blik
onder die breë wenkbrouboog.

Die hande palms op mekaar
is soos van ’n kind wat inslaap
die kenmerkende gebaar
of soos vir handeklap gelig,
die glimlag is skaars kyker- en kameragerig:
“Dit is maar skyn dat ek poseer:
mooi is ek – lewensbly en eg.”

Oor jou, Marilyn, het ek nooit geswymel;
as tiener jou nie in my sterboeke geplak,
maar nou meteens deur dié een foto geraak,
wil ek vir die duur van die gedig
jou ook as ikoon vereer:
laat digters vir wie jy muse en kultus is
– wat met die dood flankeer,
   met slaappille speel en met die see –
besef: voor die blond gebleikte prikkelpop
– groot geverfde mond, beauty spot, pendun wenkbroue –
was jy ’n goue meisie rossig in die son.

(Uit: Die skaduwee van die son. Human & Rousseau, Kaapstad. 1998.)


T.T. Cloete (geb 1924)

Marilyn Monroe foto in blou
een jonge dame draagt haar lippen op haar mond – Pierre Kemp

dikskaamtelik skrylings sit Marilyn Monroe
in ’n volstrek
leë blou
ruim vertrek

die spanbroek van plooilose blou materiaal
is ’n vliesdun vel
wat alles wat binne is kaal
na buite egalig sag gestrek nerfeus vertel

asof dit by alles pas
– die kop hang geluidloos effens laggend agteroor –
hou sy ’n leë glas in die linkerhand vas
wie luister kan goed in die volstrekte stilte hoor

hoe skaamtegroot die lippige mond
oop lag pront
pruilend nat rooi rond
gewelf soos ’n gekoesterde soet kriewelige wond

vir die nakende detail in die bygesprek
– met ’n omweg kan bysake die aandag trek
op hoofsake – is slegs die een skoen uitgetrek
elke besonderheid is op sy plek

deur die volstrekte stilte heen hoor groot
praat die deurgefluisterde skoot
oop en bloot
nakont vlesig groot

wat gloei onder die valsegte dubbele huid
juig deur alle lippe en wange uit
dat dit tuit dat dit tuit
uitjubelend gierig uitnodigend uit

vrouwees Simone de Beauvoir
is deur huid en deur haar
oop en openbaar
gekleed sigbaar

oog en oor laat hulle nie bedrieg nie
huid en haar weet nie van lieg nie


(Uit: Angelliera. Tafelberg, Kaapstad. 1980.)


I. Silhoeët van Beatrice
… e ciascuna con instinto a lei dato …
Par. 1 113-114

Frontaal gaan vanaf die voorkop
die ronding oor in die verfynde wip
van die neuspunt, buig dan trug en weer op
sag in die welwende bolip.

Soos ’n klein watergolf puil
die onderlip wat diep duik
trug na die ken met die klein kuil
en oorgaan in ’n volronde kaaklyn. ’n Kruik

is die hals. Daarvandaan langsaam
gaan die bors fyn uittas na die tuit
en golf na die buikstootjie trug geskaam.
Die lyn loop in die lang bobeen uit

in ’n effe boog wat stadig gestrek plooi
tot die sagte knieronding, terug
buig en oorgaan in die effense skeenboog, afglooi
af aarde toe tot in die ronde voetbrug.

Dít is soos die frontlyn golwend afstrek.
Agter van bo na onder
loop die ronde skedel af na die dun nek
en is daar ’n soepel wonder

van konvekse skouers, die rug se konkawe krul
af deur die vlesige boude, die dye en kuite se swel.
… Tussen die baie dwalinge só vervul
bewaar sy die getroetelde model

van die kurwe, die diep ingebore instinto
wat neig in die ronding van die appel
of die haai en die leeu of die koedoe
se grasie en in haar entelegiese sublieme lynwil.


II. Mooi Marilyn Monroe foto in rooi
nè pur le creature che son fore
d’ intelligenza, quest’arco saetta,
ma quelle c’hanno intelletto ed amore
Par. 1. 118-120

Ne le sue braccia mi parea vedere una
persona dormire nuda, salvo che
involta mi parea in uno drappo san-
guigno leggeramente
Vita nuova

sy lê diagonaal
op ’n plooi
op plooi fluweelrooi
kleed somaties geniaal

haar huid kyk
het van rosig tot sag
blosend tot teer gesproet soos die vag
van ’n abessynse kat diep tyk

sy is gemoduleerde lug
wynrooi sag golwend asof
van diep binne uitgepof
holrug asof sy elasties dans of ekstaties vlug

die lewende omtrek
tref dié nofret
met haar silhoeët
fundamenteel perfek

’n fenomeen
liefderyk
deur ’n lenige Volmaakte Vinger gestryk
skrander van skedel tot skeen

(Uit: Idiolek. Tafelberg, Kaapstad. 1986.)


Joan Hambidge (geb 1956)

Marilyn Monroe: foto in rou

Beskeie waag ek
vanaand ’n gedig
oor jou Nee eintlik vir jou

ek wou begin:
die argetipiese seksgodin
wat ander voor en na
leepoog weg laat kyks

besluit: té dramaties
gewigtig lomp
ensovoort

my onvermoë word nou
net ’n oomblik lank
opgehef

wanneer ek met ’n skok
Bert Stern se L.A.-foto
sien

dat toeval hier net toevallig
was, glo ek nie
Marilyn Monroe in rou!

net die skouers wys effe
lyf (verder niks)
soos ons gewoond was

jou kop skalks weg áfgedraai
jou hand voor jou mond
asof jy stil waarsku: ek word nie meer gebruik

jou linkeroog bot toe
selfs die wimpers glimmend swart
dan: die immer wit gebleikte hare

O altyd witter ja witter as sneeu
begin swart uitskif
in jou sagte swanenek
hiervolgens moes jy wel weet
(kyk selfs die moesie wit)
of was jy reeds tot-die-einde-toe

moeg?
die dood is net ’n droom.

(Uit: Hartskrif. Human & Rousseau, Kaapstad. 1985.)


Peter Louw (geb 1950)

Mej. Monroe in die oggend

Marilyn eet ’n melkontbyt
en druk die laken stywer vas,
maar skuins-af styg vanuit ’n plooi
’n breë dybeen, sak ’n kuit.

Marilyn kom uit die kussings
wat rondom opgestapel was;
sy gly verby die leë skinkbord:
sy sit ’n voet op die tapyt.

(Uit: Tantalus. Tafelberg, Kaapstad. 1989.)


Tom Gouws (geb 1961)

marilyn monroe foto in grou

op ’n smal tafel lê sy oop en ongetooi
en wag op die patoloog se flitsende lem. wie
sou kon raai dat dit marilyn m. dié is? nie
eens die ademlose minnaars wat haar mooi

en warm liggaam gestreel het, sal haar só
herken nie. uit hierdie somber grou
foto sal selfs jfk met moeite probeer onthou
dat hy haar eens geken het. so is dit glo

met dood die geval: dit is die sagte bang asem
wat jy bemin, nie die naakte feite van die lyf
nie. die gespitste toon, die soepel been verdryf
die hartstog hier. die oop wond sluit sy himen

dig. gestol in wit en swart is die kop sonder effek
agteroor gegooi, die hare ongekartel teruggevee.
sonder die masker van maskara het sy ongeklee
met net ’n ligte jassie van parfuum haarself onbedek

aan almal wat so begerig wou sien, volkome oorgegee.
uit die toe mond klink geen kloklaggies of gedempte gille,
die oë bly gesluit. geen bykomstigheid of frille
hier en nou, just marilyn, op haar naakte beste onverleë.

vir dié huiwerende oomblikke so binne bereik
en tog so los van kyk en ruik en van gebruik.

(Uit: Troglodiet. Human & Rousseau, Kaapstad. 1995.)


VI.

Wat presies is die Idiolek van Cloete? Waarskynlik veral die inskryf teen ander tekste.

In ’n gedig soos “Amalgaam van ’n gedig” (p 99) verwys die digter soos volg na die werklikheid:

   die prewel
van ’n skemerende herfsgedig
van wes-transvaal.

In sy reeks verse oor Job, Hooft, Leopold, Nijhoff en Leipoldt word die tekstuele proses, die oneindige spel met ander tekste, bevestig:

Leopold

die ligte
en die vergesigte
van hemel en aarde   die swart
van die grond en stralende wolke   verward
bewegende mense   strome
water   ploeë   ou bome
voor ou huise   die verkeer
op die paaie   die weer en onweer
die ganse heelal
is daar ter wille van ’n taalkristal (p 63).

Die “idiolek” is dan ook gelyk te stel aan Paul Ricoeur se “ipse” beskryf in Time and Narrative (1992) wat by Cloete manifesteer as die self gedefinieer in en deur ander tekste. In die postpostmoderne leesbenadering is die versplintering van die self in al sy konsekwensies ’n tekstuele proses, “’n skemerende herfsgedig”. Die palimpses is dan ook hier ter sprake en die terugbeweeg in Leopold se “dromende denke”, oftewel dan die hipnose van die digkuns waar alles sig aanbied vir die taalkristal. Talle verse by Cloete huiwer of weifel tussen die droom en die uiteindelike direkte belewenis van die lewe.

Identiteit in Latyn is “being the same” (idem) – oftewel, “oneself as self-same” (p 165).

Dit wat die digterlike persoon dus vir ons presenteer, die storie wat hy weergee, is sy ipse.

Vanselfsprekend kan dit verander. Of dit kan ook ’n konstante bly binne die karakter wat geskep word. Daar is dan idem/ipse-identiteite in ’n karakter wat herken of geïdentifiseer kan word.

Tereg wys Rensia Robinson in “Die ‘wellus van die vorm’ as ’n poëtologiese oriëntering” op die “dromende denke” nie alleen as ’n gesprek met Leopold nie, maar ook na die Freudiaanse stramien by Cloete, te wete die “Traumgedanken”. Vir Robinson is die “dromende denke” se uitkoms die metavers en sy bewys hierdie stelling deur sowel Leopold as Cloete te betrek in haar argument.

Cloete bly dus getrou aan sy aard met sy voortdurende inbeweeg op ander digters, gedigte en oertekste, ook tekste wat hy self geskep het. “O goedheid gods hier nooit volprese” kan ’n mens skryf oor ’n digterskap wat soveel tekste uit ander letterkundes op ’n nuwe wyse vir ons aanbied. Die nuwe wyn in ou kruike.

En hier dink ’n mens ook aan die Amerikaanse teoretrikus Harold Bloom se The breaking of the vessels en die Hebreeuse siening van die kruik wat moet breek sodat iets nuut geskep kan word.


VII.

Freudiaanse hipnose was ’n tegniek om die pasiënt tot heling te bring, net soos gesprekke met ander digters – heen en terug – die digterlike proses verryk en verruim. Moderne psigoanalise ontken dat die analis ’n bevoorregte posisie bó die analisant beklee, net soos wat die digterlike “antwoord” die oorspronklike teks se betekenis kan verander en verruim.

Die epogmakende studie or Anton Rupert, Anton Rupert – ’n lewensverhaal deur Ebbe Dommisse in samewerking met Willie Esterhuyse, bring my vanaand by die slotopmerkings, ’n post scriptum tot hierdie erelesing: Hoe sou ’n biografie oor die digter TT Cloete daar uitsien? By ’n voorste sakeman kan ’n mens die lewe aanstip: hoogtepunte, oorwinnings binne die politiek, ontmoetings met bekendes en beroemdes, raadgewer, beskermheer van die kunste.

Die afgelope paar jaar het belangwekkende biografieë, onder andere oor Leipoldt, Uys Krige en Jan S Rabie (deur JC Kannemeyer) verskyn. Verder terug is daar Leon Rousseau se Die groot verlange oor Marais, en JC Steyn se twee bande oor Van Wyk Louw.

Die gedig is alreeds ’n biografie van die digter: dikwels andersoortig as die lewe wat die digter lei as voormalige hoogleraar, psalmberymer, literatuurwetenskaplike, skerpsinnige resensent, kenner van Italiaans, Frans, Hebreeus, Nederlands.

Die digkuns van Cloete, en die hipnotiese invloed daarvan, bevat dikwels teenstrydighede met die lewe van die hoogleraar. Juis omdat die digterlike proses iets karteer wat buite woorde lê: die onsegbare, die stilte, die chora (Lacan/Kristeva). Om ’n biografie van die digter Cloete te skryf, sou dus ’n ander lewensloop neem as die lewe van die akademikus. Dit sou iets veraai van die “baie ryk ure”, die onstuimige gemoed van die “dromende” denker, van die digter wat in gelyktydigheid by ’n vakansiehotel die gil van ’n jong vrou koorsagtig verwoord en beaam. Juis hierom is die hele digterlike oeuvre alreeds ’n komplekse, teenstrydige, briljante (outo)biografie gevul met baie ryk ure, vol hipnotiese verse. Inderdaad is die hele lewe daar vir sy taalkristalle.

In haar jongste studie oor die digkuns, Break, Blow, Burn, bring Camille Paglia hulde aan Harold Bloom, haar mentor. Hy was die enigste een wat haar studieveld begryp het en hy was dan ook die promotor vir haar Sexual personae. Hierdie erelesing is dan my huldeblyk aan die digter en kritikus TT Cloete, wetend-onwetend my digterlike mentor.


Bibliografie

Bloom, Harold: The breaking of the vessels. University of Chicago Press, Chicago. 1982.

Breuer, Joseph en Freud, Sigmund: Studies on Hysteria. Pelican, Londen. 1974.

Brink, A.P. Groot Verseboek 2000. Tafelberg, Kaapstad. 2000.

Cloete, T.T. Allotroop. Tafelberg, Kaapstad. 1985.
Cloete, T.T. Angelliera. Tafelberg, Kaapstad. 1980.
Cloete, T.T. Die baie ryk ure. Tafelberg, Kaapstad. 2001.
Cloete, T.T. Driepas. Tafelberg, Kaapstad. 1989.
Cloete, T.T. Idiolek. Tafelberg, Kaapstad. 1986.
Cloete, T.T. Jukstaposisie. Tafelberg, Kaapstad. 1982.
Cloete, T.T. Met die aarde praat. Tafelberg, Kaapstad. 1992.
Cloete, T.T. Uit die hoek van my oog. Tafelberg, Kaapstad. 1998.
Cloete, T.T. “Simboliek in Totius se werk” in Steenberg, D.H. (red): Simbolisme in die Afrikaanse digterlike tradisie. Wetenskaplike bydraes van die PU vir CHO. Reeks A: Geesteswetenskappe, nr. 81. Potchefstroom, 1993.

Dommisse, Ebbe. Anton Rupert – ’n lewensverhaal. Tafelberg, Kaapstad. 2005.

Dresden, S. Symbolisme. Wetenschappelijek Uitgeverij, Amsterdam. 1980.

Kannemeyer, J.C. D.J. Opperman. ’n Biografie. Human & Rousseau, Kaapstad. 1986.

Paglia, Camille. Break, Blow, Burn. Pantheon Books, New York. 2005.
Paglia, Camille. Sexual personae. Art and decadence from Nefertiti to Emily Dickinson. Penguin, Londen. 1990.

Roland Holst, A. Over den dichter Leopold. A.A.M. Stols, Maastricht & Brussel. G.J.

Ricoeur, Paul. Time and Narrative – Volume 3. University of Chicago Press, Chicago. 1988.

Steenberg, D.H. (red.). Simbolisme in die Afrikaanse digterlike tradisie. Wetenskaplike bydraes van die PU vir CHO. Reeks A: Geesteswetenskappe, nr. 81. Potchefstroom, 1993.


Artikels

Bisschoff Anna-Marie. “T.T. Cloete – Transformasies van die Simbolisme in Driepas en Angelliera” in Simbolisme in die Afrikaanse digterlike tradisie. Wetenskaplike bydraes van die PU vir CHO. Reeks A: Geesteswetenskappe, nr. 81. Potchefstroom, 1993.

Robinson, Rensia: “Die ‘wellus van die vorm’ as poëtologiese oriëntering”. Internet:

Van den Berg, M. “N.P. van Wyk Louw en die simbolistiese verse van Rainer Maria Rilke (1875–1926)” in Simbolisme in die Afrikaanse digterlike tradisie. Wetenskaplike bydraes van die PU vir CHO. Reeks A: Geesteswetenskappe, nr. 81. Potchefstroom, 1993.

Van der Elst, J. “Simbolisme: ’n poging tot definiëring” in Simbolisme in die Afrikaanse digterlike tradisie. Wetenskaplike bydraes van die PU vir CHO. Reeks A: Geesteswetenskappe, nr. 81. Potchefstroom, 1993.

Van Rensburg, F.I.J. “Van Wyk Louw Simbolis?” in Simbolisme in die Afrikaanse digterlike tradisie. Wetenskaplike bydraes van die PU vir CHO. Reeks A: Geesteswetenskappe, nr. 81. Potchefstroom, 1993.



Endnote

1. My dank ook aan Wilhelm Jordaan vir sy skerpsinnige opmerkings by die lees van die lesing. Hy gebruik eerder die term “hipnogogiese toestand van beswyming”.
Die sogenaamde transtoestand soos opgeteken in Victor Nell se Lost in a book.

Die hipnogogiese toestand bedui “being lost under the spell of the text”. Dieselfde simptome eie aan die toestand van hipnose word vertoon.

2. Reza de Wet, 16 April 2005, By (Die Burger). “Spook Eugène Marais hier rond?” 

3. Evan Goodwin, "little blue light - Paul Verlaine", Littlebluelight (May 30, 2003 Edition), Evan Goodwin (ed.) 

© Joan Hambidge



Christine Barkhuizen le Roux – skynskadu (2015)

$
0
0

Christine Barkhuizen le Roux – skynskadu. Naledi, 2015. ISBN 978 0 928316 11 7

Resensent: Joan Hambidge

skynskaduis die derde bundel van die digter Christine Barkhuizen le Roux wat die romans Padmaker(2010) en Getuie (2012) gepubliseer het. Twee kortverhaalbundels het ook uit haar pen verskyn: Waar koek en wyn ontbreek (2006) en Wat die ooggesien het (2006). Sy debuteer as digter in die jaar 2000 met die bundel dimensie en hierna volg roset in 2006.

skynskaduword uitgegee met 'n CD waarop die digter haar gedigte voorlees en sangers van die gedigte sing. Hiermee word die klank-aspek van die gedigte dus beklemtoon. Die buiteflap word deur 'n gesiene digter geskryf, Fanie Olivier, wat die bundel tipeer as 'n herroeping van talle verledes ...

Herinnering en haar skynmaat, nostalgie, is inderdaad belangrike dimensies in hierdie bundel. Hierom die terugkeer na die jeug (selfs grensoorskrydende herinneringe). Daar is verse oor die ouers en grootouers, die oënskynlike idilliese bestaan wat vol ellendes was soos meisies in "die ander tyd" of droogte wat 'n bestaan bedreig. Onthoubaar dan is "plaas":

plaas

huis wat agter spinnewebbe beef
tussen die veld en dynserig lug
teen die rantjie sug die somer
bid die boer om wat dan ook

'n oes is af die dam is leeg
die nuwe droogte is in sig (25)

Daar is lykdigte oor bekende digters en die literator-biograaf, J. C. Kannemeyer. Lucas Malan, Chris Lombard, George Weideman word onder andere gehuldig. In die gedig "refrein" (74) tree sy onder andere in gesprek met Malan se digkuns wat uitloop op 'n slot wat die bundeltitel aktiveer:

en ek gewaar jou by die bottende prieel
jou pen skrywend aan die refrein
dat groen die lig en donker deel

Die agste en laaste afdeling bevat reisgedigte. Besinnings oor 'n stad, 'n besoek aan 'n museum of katedraal aktiveer sodanige gedigte die spanning tussen land van herkoms en land van besoek. Die spanning tussen hier en daar word uitgewerk, en hoe uiteindelik die bekende ook kan help om die onbekende vertroud te maak, soos die moeder se malvas in Granada.

Die bundel bevat reis- en lykdigte, verse met sosiale kommentaar, jeugherinneringe, beeldverse ('n mooi een oor Abraham H. de Vries), liefdesverse en plekgedigte. Oudword en weerloosheid word aangespreek en hoé herinneringe aan die ongehoorde (en ongerymde) 'n hele lewe bly verander:

: na al die jare sweer die naald
se afbreekpunte nog in my (41)

Daar is etlike besinnings oor die digkuns via (o.a.) Rilke, Boutens en Judith Herzberg. (Waarom Rilke tog in Nederlands aanhaal as ons Duits begryp, die goeie vertaling van Piet Thomas ten spyt?)

Tegnies vernuftig is die gedig "onthouwerk" (38) wat oorloop in die volgende vers wat "Ma" (39) heet. "Laaste wil" (66) kan gelees word as 'n epitaaf vir die self waarin die wens uitgespreek word oor hoe die digter begrawe wil word. In "operasie" (21) word die digter se weerloosheid en uitlewering aan die kritikus, beskryf in terme van 'n operasie:

koue kamer skaars narkosegas
my jurk hang los my rug is oop (21)

Klein, maar so netjies is die volgende gedig:

verjaardagkalender

die oopslaan van ‘n nuwe jaar
name om by te voeg name te wis

my pen weier die dik swart streep
deur wie vertrek het maar steeds is

ek stip alleen 'n potloodmerk
‘n serk vir Lucas John en George (73)

Op haar beste is die onthou- en nostalgiese verse die skerpste in die bundel. Die reisgedigte – waarin herinneringe o.a. aan die ouers ook sy beslag vind – is minder gefokus.

Daar word gebruik gemaak van sogenaamde outydse woorde (waarvan ek baie hou). Die digkuns word vergelyk met die skilderkuns soos in die programvers oor Caravaggio. Tog is dit die gestroopte, eerlike vers wat 'n mens tref.

Die verse in hierdie bundel is toeganklik en oop. 'n Handvol verse sal hierdie leser bybly. En die begeleidende CD bevat mooi vertolkings van die gedigte.

Dit is 'n bundel vir lesers wat hou van afgewerkte, dog toeganklike gedigte. Gedigte hoef nie vol intertekste en swaar verwysings te sit om te werk nie, soos 'n literator nou onlangs opgemerk het oor 'n bundel van Kobus Lombard op Litnet.

 Daar is 'n plek vir al die verskillende style in die huis van onse digkuns.


(Hierdie resensie word met vriendelike vergunnning van Rapport geplaas)

Antjie Krog and The Post-Apartheid Public Sphere: Speaking Poetry to Power - Anthea Garman (2015)

$
0
0

Antjie Krog and The Post-Apartheid Public Sphere: Speaking Poetry to Power - 
Anthea Garman. UKZN Press, 2015. ISBN

Resensent: Joan Hambidge

Oor die rol wat Antjie Krog speel as openbare figuur skryf Anthea Garman uiters insigryk.

Sy wys op die buitelandse posisie, die bekronings, die pryse, die lof van J.M. Coetzee en haar komplekse rol.

Sy neem ook Edward Said se bekende uitspraak van “speaking truth to power” as ’n belangrike uitgangspunt om Krog se rol te definieer.

Later word dit gekwalifiseer as “speaking poetry to power”, soos Alette Schoon dit klinkend opsom.

Die studie val in sewe hoofstukke uiteen. Die hele kwessie van “self” en “Othering” en om in ’n era van pyn en onmenslikheid te leef, word deeglik bespreek.

Krog problematiseer die openbare en die persoonlike dimensies van haar lewe. Die een word toenemend vervleg met die ander en kan lankal nie meer onderskei word nie.

Garman se titel van haar studie Antjie Krog and The Post-Apartheid Public Sphere:
Speaking Poetry to Power wys 
op haar ontwikkeling as jong digter en die herrie wat dit veroorsaak het, tot haar rol as aktivis en openbare intellektueel.

Daar was eweneens ’n onverkwiklike insident oor wapens wat op haar voorstoep gevind is, wat sy verwerk het tot teks in Relaas van ’n moord.

Met Krog in ’n drama in Kroonstad, skuif sy Kaap toe en doen belangrike werk by Die Suid-Afrikaan.

Krog is ’n belangrike digter. Die volledige feministiese ontwaking kan in haar tekste raakgelees word en daar is ook falliese simbole (soos Marius Crous aandui) in haar poësie.

Sy skryf immers omdat sy woedend is. Sy is Lady Anne, maar ook Dogter van Jefta. Dot Serfontein se dogter, maar ook mens, digter, politieke aktivis in eie reg. Sy skryf faksiewaarin feit en fiksie vermeng word: om ons anders te laat kyk na ons werklikheid.

Garman neem verskillende soorte intellektuele wat post-1994 na vore gekom het onder die loep: die revolusionêre intellektueel, organiese intellektueel, swart intellektuele, Afrika-intellektuele, en nog meer.

Watter soort intellektueel is Krog uiteindelik?

Vir my gevoel, ’n emosionele en revolusionêre een wat visseraal omgaan met die problematiek róndom haar. Dis hoekom haar gedigte jou aan die keel gryp.

Krog is sowel digter as politieke kommentator en aktivis. Haar werke soos Country of My Skull en Begging to Be Black is hibriede tekste. Tekste waarin die digter-aktivis háár sieninge wil sien gebeur. En sy is waarskynlik gefrustreerd dat die reënboog-fantasie nie gebeur het nie  . . .

Haar onlangse lesing by die Sunday Times-prystoekenning het Krog finaal as revolusionêre intellektueel gevestig.

In hierdie lesing het sy geëis dat mense hulself moet oopstel vir armoede. Armes moet in parke kan bly; ná universiteitsvoltooiing moet jy ’n jaar gratis in jou gemeenskap diens lewer; afgetredenes moet ook hulself diensbaar stel . . .

’n Gemeenskap sal huisvesting en kos verskaf. Die verdeling van rykdom is ’n utopiese droom, ’n onuitvoerbare sosialistiese droom, omdat armoede geromantiseer word.

Waarskynlik vind ons reeds dieselfde sentimente in haar onlangse bundel Mede-wete, onder meer in die gedig “Bediendepraatjies” waar die lewensverskille tussen wit en swart só groot geword het dat ons hele lewenstyl herdink moet word.

Die ekonoom Dawie Roodt het haar reeds gewys op die onmoontlikheid van so ’n droom. Vir my gevoel behels dit ’n romantisering van armoede sónder om die praktiese implikasies van misdaad en higiëniese standaarde te verreken.


Oorkant my is ’n park. Oorkant my moes die stadsraad juis stappe doen weens geweld en misdaad.

Dit is ’n studie waarin die etiese agentskap van die skrywer en aktivis Antjie Krog onder die loep geneem word. Die implikasies van wat sy wil met haar land en hoe dit ons almal raak, sorg vir debat. Almal knetter en kook.

Onthou net: Anna is bekend daarvoor dat sy enige openbare platform sal gebruik om haar segge te seg. Onthou tog wat sy alles gesê het toe sy die Hertzogprys gewen het vir Lady Anne.

Die boek van Garman sluit af met die omstrede Rhodes Must Fall-veldtog.

Die outeur erken sy werk reeds 11 jaar lank aan haar boek oor Krog. Sy wys tereg daarop dat ’n mens standpunt moet inneem en sy wys op haar studente in Grahamstad se reaksie op studente aan die UK se optrede. Het die Waarheids-en-Versoeningskommissie niks vermag nie? Hoekom is daar nog soveel woede?

Dit is ’n studie waar ek etlike opmerkings in die kantlyn geskryf het. Maar dit is wel ’n boek wat jou laat nadink oor waar ons nou is. Kan ’n mens nog ’n spreker namens ander wees? Of moet jy ook pyn en empatie verteenwoordig wanneer jy sulke stellings maak?

Daar is nie maklike oplossings nie. Wat wel waar is, is dat ons ongekende opstand by veral swart jong mense sien en dat ons almal (links en regs) nie werklik in staat is om die nuwe diskoers te begryp nie.

Terselfdertyd sien jy ook jonges wat net na hul selfone kyk en nie eens weet wat óm hulle gebeur nie.

En vir die redakteur: Op bladsy tien word Ernst van Heerden verkeerdelik as Etienne van Heerden gesien. En Celine moet sekerlik lees Cecile Cilliers?



Virginia: Wie is bang? Who's afraid?

$
0
0
 
I

Wie’s bang vir Virginia Woolf?

Sandra Prinsloo, Marius Weyers, Greta Pietersen & Wessel Pretorius.
Regisseur: Christiaan Olwagen. Vertaling: Saartjie Botha

Edward Albee se swart komedie Who’s afraid of Virginia Woolf? is bitterswart komedie. In Christiaan Olwagen se produksie – gebaseer op ‘n puik vertaling van Saartjie Botha –is die spieëlteks van kardinale belang. Albee / Mike Nichols se 1966 film staan teenoor Olwagen / Botha. Liz Taylor staan teenoor Sandra Prinsloo in ‘n kragtige vertolking van die grensoorskrydende Martha. Weyers teenoor Richard Burton; George Segal versus Wessel Pretorius; Sandy Dennis en Greta Pietersen.


Greta Pietersen & Wessel Pretorius, KKNK 2015

En Afrikaans teenoor Engels; New England teenoor (dalk) Kaapstad.

Die middeljarige egpaar se huweliksprobleme wat rondom ‘n leuen gekonstrueer is, word afgespeel teen die jong egpaar wie se huwelik eweneens op ‘n fantoom gebaseer is. Hierom is die jonger vrou naar. Sy kots die hele tyd waarskynlik om te bevestig dat sy wél regtig swanger was. (En weens die baie doppe wat sy drink.) In die pynlike onthulling is haar waarheid eweneens ‘n verloëning van dit wat vertroulik moes bly.

Omdat Martha oortree het deur die geheim met die gaste te deel, neem George wraak en verskillende speletjies word deel van hierdie proses. Woord en wederwoord. Wraak en weerwraak. In ‘n speletjie wat heet “Jag die gaste”. Die ander: ”Verneder die gaste”.

Die veen of moeras van ‘n huwelik word in drie bedrywe afgeskil met die onskuldige teenspelers wat meedoen aan die dronkmansgesprekke.

Alles speel af teen ‘n “goed-beter-beste-besete”-tempo. Die valse sekuriteit van die akademiese bestaan word ontmasker. Die ivy word van die muur afgeruk, by wyse van spreke.

Uiteindelik word die kind, daardie verbeelde kind van George en Martha doodgemaak.

En Sandra Prinsloo as die vervalle, histeriese, dronk Martha laat jou glo dat die ysblokkies in hul drankies hul eie trane is.

Alle waarhede is relatief, weet ons. Soms word daar geslaan en ‘n mens sou die teks ook as ‘n boksgeveg kon beskryf. Almal veg met mekaar. Albee en Olwagen.

Prinsloo en Weyers. Soms loop ‘n akteur buite die verhoog om of van agter in om te bevestig dat die reëls van die geveg oortree gaan word.

Alles word om twee asse gebou. George (Weyers) is historikus;  Nick (Pretorius) is bioloog. Die een is oud; die ander jonk. Geskiedenis teenoor wetenskap.

En die liedjie is ‘n mantra. Want daar moet leuens vertel word om die vrees te besweer.

Waarvoor is hierdie mense bang?

En waarom bly hierdie drama na soveel jare steeds relevant?  Is die drama – soos vele kritici al geskryf het – ‘n allegorie?

Wat is waar? Wat is wolhaar? Dit is uitstekende ensemble-spel en ‘n mens sal eenvoudig nooit weer Albee kan lees of die filmweergawe kan kyk sónder om Sandra Prinsloo se diepgrondige vertolking van ‘n alkoholiese, seksueel-gefrustreerde middeljarige vrou te onthou nie. Dieselfde geld Weyers as ‘n fyn sadis en ‘n doktrinêre afgeremde akademikus wat die rektor moet beledig. Uit weerwraak.

En die twee jong spelers hou die pas vol teen die twee gedugte figure wat al soveel keer mekaar se teenspelers was. Prinsloo is energiek, histeries – en vervalle. Nogal ‘n uitdaging om teen haar natuurlike skoonheid in ‘n ou vervalle “tramp” te speel.

Die agtergrond is vol subteks. Die bokkoppe. Trofees sonder enige simboliese waarde sou ‘n mens kon opmerk.

Christiaan Olwagen © Nasief Manie

Olwagen het die uitmuntende talent om ‘n ou afgeleefde stuk vol nuwe betekenis en implikasie te laai. Dikwels met ‘n enkele vinjet of toespeling (soos in sy Die seemeeu van Tsjekof). Ons wag nou op sy interpretasie van Tennessee Williams se A streetcar named desire.

Hy begryp die taal van neurose. Die bitter grein van verspeelde kanse. En met die vertaling van Saartjie Botha kan ‘n mens ‘n ver pad loop.

(Hierdie resensie het in Die Burger verskyn. 30.8.2015)

II

By ‘n tweede besoek aan hierdie produksie het ander aspekte van die produksie onder my aandag gekom. Die verwysing na Bette Davis, ‘n ikoniese filmkarakter en die sterk genderrolle wat in die dramateks deur Albee belig word.

Die jong vrou word gesien as iemand sónder heupe en Martha se drinkgewoontes kom eweneens onder die loep. Sy drink aanvanklik “vroulike” drankies, maar later word dit skoon alkohol. Vroue in hierdie stuk word as negatiewe figure uitgebeeld. Martha bely ook aan die twee jongelinge hoe sy “per ongeluk” vir George geslaan het in ‘n boksgeveg en hom verneder het voor sy kollegas. Boks is eweneens ‘n manlike sportsoort en ook hier betree Martha die terrein van die manlike orde en verneder sy haar eggenoot met wie sy getrou het. Sy het hom dus gekies; nie hy vir haar nie. Sy is eweneens die dogter van die rektor wat haar posisie verder versterk in ‘n verhouding wat rondom magsbasisse wentel.

George se mislukte roman  wat tydens die Walpurgisnacht-toneel onthul word, word vertel asof dit ‘n verhaal is wat met iemand anders gebeur het … Martha weer bring dit terug na hom: die sogenaamde ongeluk en dood van die moeder blyk op George se lewe gebaseer te wees. In weerwraak teiken hy Honey en konstrueer ‘n verhaal oor haar lewe, sy tweede roman wat hy skryf. Dit berus op die transgressiewe belydenis van Nick wat vertel dat haar vader ‘n prediker was en deur mense uit te buit, ryk geword het. Sy is dus die metaforiese goue gans wat eiers lê …

Honey is die muis wat opgeblaas het en die munte wat uit haar vader se buik val, is ‘n metaforiese voorstelling van wat George gehoor het.

Die spieëlteks is dus hier van belang. Belydenis word telkens ‘n verhaal of storie wat as wapen gebruik word om mekaar by te kom.

Van jag die gasvrou, jag die gaste tot verneder die gasheer word daar  volgehou met ‘n sadistiese spel. Hierom is daar bloed (nie water) onder die brug en die trofees van diere teen die mure is ‘n ikoniese voorstelling van hierdie psigiese jagproses wat regdeur die teks beweeg.

In die derde bedryf lewer Prinsloo ‘n kragtige solo-vertoning en ‘n pynlike monoloog. Sy dans met George se baadjie om haar en ‘n bottel in die hand. Ofskoon George haar voortdurend veminder en reduseer tot ‘n misoes, is sy verbind aan hom. Hier lewer die dramaturg genderkommentaar op vroue se afhanklikheid van mans wat hul domineer en verminder. Die sogenaamde “abusive relationship” en vroue se afhanklikheid van eggenotes ten spyte van onreg aan hul gedoen, word ontmasker. Teenoor Martha (Prinsloo) se monoloog word die liturgie deur George (Weyers) geparodieer om die “riool van ‘n huwelik” finaal as uitsigloos voor te stel.

Die kyrie eleison (God wees ons genadig) betekenis niks. Daar bestaan geen genade meer nie.

Daar is geen metafisiese hoop nie. Daar is geen redding of bestaan buite hierdie verhouding nie en die simboliese doodmaak van die kind, bring geen redding of verlossing nie. Hierom Martha se slotwoorde dat sy bang is …

Dit is ook relevant dat die dramateks beweeg van ‘n Saterdag na ‘n Sondag, tradisioneel ‘n religieuse dag binne die Christelike orde.

Vir George, die mede-professor en sy verwoeste vrou, Martha is ook hierdie simboliese dag leeg.


Niks is soos wat dit moet of behoort te wees nie: George is net ‘n mede-professor; sy vrou is kinderloos; die histeriese Honey het ‘n aborsie gehad; Nick is impotent wanneer hy met Martha verkeer …

Die laaste speletjie, “Om die kind groot te maak”, word eweneens vernietig deur George se brutale moord op hom.

‘n Mens word eweneens bewus van Freud se Totem en taboe (1918) wanneer jy na hierdie teks kyk. Indien die reëls van die samelewing oortree word, is daar bestraffing en die bokkoppe teen die mure dui op die drie figure wat deur George geteiken is.

En ‘n mens sou ook die teks kon lees as ‘n volgehoue spanning tussen Id, ego en superego. Dit word in die dramateks ook so voorgestel: daar is ‘n sitkamer, daar word opbeweeg na die slaapkamer en teen die muur is daar bokkoppe.

Die riool van die huwelik is die onbewuste van ‘n grimmige dramaturg wat skerp en fel kommentaar lewer op die huwelik, kinders, erflatings – en veral die wetenskap se onvermoë om ons uiteindelik uit ons ellende te verlos. Ons is uitgelewer aan ons herinneringe, falinge, drome …


Freud se lessenaar © Elena Colman

III

Agter hierdie produksie is daar Edward Albee se teks en die beroemde filmteks met Elizabeth Taylor en Richard Burton, 'n egpaar wat self 'n stormagtige huweliksverhouding beleef het.

Die filmproduksie van Mike Nicols is 'n sterk bekroonde teks wat in 2013 as argivale bewaringsteks vereer is deur die National Film Registry in die VSA.

Dit is indertyd vir 13 Academy Awards genomineer, ook in die kategorie vir beste film en vir beste regisseur.

Liz Taylor en Sandy Dennis het onderskeidelik as beste aktrise en beste ondersteundende aktrise met die louere weggeloop en ironies genoeg verloor dit teen A man for all seasons, wat vandag na 'n verkeerde keuse lyk.

Bette Davis en James Mason was aanvanklik die eerste keuse vir die rolle van Martha en George vir Jack Warner. Taylor het ongeveer 13 kg opgetel vir die rol as die histeriese, dronk Martha.

Gehore was met die Broadway-produksie geskok deur die vloekende taal en in die film is "God damm you" verander na "screw you".

Die dramateks het net vier karakters, terwyl die film 'n man en vrou van die roadhouse ook gebruik wanneer die karakters die huis verlaat en na buite beweeg.
Die film het meer as $10 miljoen in 1966 verdien en bly steeds 'n klassieke film. En dit word in die filmgeskiedenis beskou as die een van die min films waarin die volledige rolverdeling genomineer is vir Oscars.

Die film is eweneens geparodieer deur Mad en die Benny Hill-show, 'n teken van die enorme impak van die teks.

III


En wie is Edward Albee?

Awards
   1960: Drama Desk Award Vernon Rice Award: The Zoo Story
   1963: Tony Award for Best Play: Who's Afraid of Virginia Woolf?
   1967: Pulitzer Prize for Drama: A Delicate Balance
   1975: Pulitzer Prize for Drama: Seascape
   1994: Pulitzer Prize for Drama: Three Tall Women
   1996: National Medal of Arts
   2002: Drama Desk Award Outstanding New Play: The Goat, or Who Is Sylvia?
   2002: Tony Award for Best Play: The Goat, or Who Is Sylvia?
   2005: Special Tony Award for Lifetime Achievement
   2005: Academy of Achievement's Golden Plate Award
   2008: Drama Desk Award Special Award
   2011: Edward MacDowell Medal for Lifetime Achievement
   2011: Pioneer Award for Lifetime Achievement, Lambda Literary Foundation
   2015: America Award in Literature

Nominations
   1964: Tony Award for Best Play: The Ballad of the Sad Cafe
   1965: Tony Award for Best Author of a Play: Tiny Alice
   1965: Tony Award for Best Play: Tiny Alice
   1967: Tony Award for Best Play: A Delicate Balance
   1975: Drama Desk Award Outstanding New Play: Seascape
   1975: Tony Award for Best Play: Seascape
   1976: Drama Desk Award Outstanding Director of a Play: Who's Afraid of Virginia Woolf?
   1994: Drama Desk Award Outstanding Play: Three Tall Women
   2001: Pulitzer Prize for Drama: The Play About the Baby
   2003: Pulitzer Prize for Drama: The Goat, or Who Is Sylvia?
   2005: Tony Award for Best Revival of a Play: Who's Afraid of Virginia Woolf?

The Pulitzer Prize committee for the Best Play in 1963 recommended Who's Afraid of Virginia Woolf?, but the Pulitzer board, which has sole discretion in awarding the prize, rejected the recommendation, due to the play's perceived vulgarity, and no award was given that year.

Plays
   The Zoo Story (1958)
   The Death of Bessie Smith (1959)
   The Sandbox (1959)
   Fam and Yam (1959)
   The American Dream (1960)
   Who's Afraid of Virginia Woolf?(1961–1962)
   The Ballad of the Sad Cafe(1963) (adapted from the novella by Carson McCullers)
   Tiny Alice (1964)
   Malcolm (1965) (adapted from the novel by James Purdy)
   A Delicate Balance (1966)
   Breakfast at Tiffany's (adapted from the novel by Truman Capote) (1966)
   Everything in the Garden (1967)
   Box and Quotations from Chairman Mao Tse-Tung (1968)
   All Over (1971)
   Seascape (1974)
   Listening (1975)
   Counting the Ways (1976)
   The Lady From Dubuque (1977–1979)
   Lolita (adapted from the novel by Vladimir Nabokov) (1981)
   The Man Who Had Three Arms(1981)
   Finding the Sun (1983)
   Marriage Play (1986–1987)
   Three Tall Women (1990–1991)
   The Lorca Play (1992)
   Fragments (1993)
   The Play About the Baby (1996)
   Occupant (2001)
   The Goat or Who is Sylvia?(2002)
   Knock! Knock! Who's There!?(2003)
   Peter & Jerry retitled in 2009 as At Home at the Zoo (Act One: Homelife. Act Two: The Zoo Story) (2004)
   Me Myself and I (2007)
   At Home At The Zoo (2009)

Essays
   Stretching My Mind: Essays 1960–2005 (Avalon Publishing, 2005)

Bronne:
Who's Afraid of Virginia Woolf? (film) - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 4 Augustus 2015

Sigmund Freud. Totem and Taboo. Penguin, 1963.


© Joan Hambidge

Harper Lee – Go set a Watchman (2015)

$
0
0


Harper Lee – Go set a Watchman. Penguin Random House, 2015. ISBN 978 1 78 515028 9

Resensent: Joan Hambidge

Nog selde was daar soveel publisiteit rondom ‘n boek as met Harper Lee se Go set a Watchman. Die boek se verspreiding was onder embargo geplaas tot een minuut na vyf op die 14e Julie 2015. Daar is ook ‘n Audio-boek wat Reese Witherspoon voorlees.

Dit skep uiteraard ‘n hele verwagtingshorison rondom die roman. Gaan dit so goed wees as To Kill a Mockingbirdwat ‘n Pulitzer en die Presidential Medal of Freedom verower het? En die siniese kritikus weet (by voorbaat): die roman sal goed verkoop ónafhanklik van die kritiese resepsie.

To Kill a Mockingbird is Amerika se Die swerfjare van Poppie Nongena.  Dit het meer as 40 miljoen eksemplare verkoop en is in meer as 40 tale vertaal.

Go set a Watchman is 'n roman uit die Diep Suide, meer spesifiek uit die vyftigerjare. Daar is vrouens wat korsette dra. Daar is rassespanninge. Tragedies is "a mighty sad thing". Ons lees van die Ku Klux Klan. Was Atticus hierby betrokke?

Hoe lees ‘n mens Go set a Watchman? Op die voorblad is daar op die agtergrond ‘n afbeelding van To Kill a Mockingsbird, ‘n uiters komplekse en hartgrypende roman wat in 1960 verskyn het. Dit is die verhaal van Scout en Jem en hul blik op rassediskriminasie wanneer hul vader, Atticus Finch ‘n swart man, Tom Robinson, moet verdedig teen ‘n klag van verkragting. Die vrou se klag, so argumenteer Atticus, het gespruit uit haar skuldgevoelens, omdat sy ‘n swart man wou soen. Hy word egter deur die jurie skuldig bevind, hardloop weg en word per ongeluk doodgeskiet.  Die kinders is aanvanklik vreesbevange vir die buurman Boo wat hulle uiteindelik red wanneer Bob Ewell wraak neem en die kinders probeer beseer tydens Halloween. Die sheriff besluit dat Ewell deur sy eie mes gedood is, maar die leser besef dat dit waarskynlik Boo was. Alles speel af in die verbeelde Maycomb, Alabama in die dertigerjare.

Die filmweergawe  (1962) met Gregory Peck is deur Robert Mulligan geregisseer en bly ‘n juweel van film. Dit begin met ‘n simboliese boksie met figuurtjies daarin geberg. En onder andere is daar ‘n horlosie in.

En dit is hoe ‘n mens hierdie twee tekste moet benader: as ‘n boksie wat jy oopmaak. En hoe tyd aanbeweeg het. (Of dalk nie? Ons weet dat daar steeds rassespanninge hier woed.)  Go set a Watchman verskyn in 2015 en is glo eerste geskryf. ‘n Bekwame uitgewer het vir Harper Lee aangeraai om die gegewe vanuit ‘n outentieke kindersperspektief aan te bied. Go set a Watchman word hoofsaaklik vanuit die derpersoonverstelling aangebied en ten spyte van die negatiewe reaksie op hierdie roman, het ek dit baie geniet.

Dit het my teruggeneem na baie kwessies róndom die verhouding tussen eerste teks en tweede teks. En die impak van publisiteit. (En die filmweergawe en die impak van outobiografie op die skryf van ‘n roman.)

Verder was daar ook ‘n skinderstorie in die VSA in omloop dat die eintlike skrywer van To Kill a Mockingbirdeintlik Truman Capote was. Dit is egter ‘n omstrede siening veral gedagtig aan die outobiografiese merkers in die teks.

In die film Capote (Bennett Miller, 2005)  vertolk Harper Lee (met Catherine Keener) 'n klein rolletjie as die vriendin van Truman Capote wat sy roman oor die Kansas moordenaars skryf. Philip Seymour Hoffman wórd Capote.

“If they win this appeal,” he tells his friend Harper Lee, “I may have a complete nervous breakdown.” After they are hanged on April 14, 1965, he tells Harper, "There wasn't anything I could have done to save them.” She says: “Maybe, but the fact is you didn't want to.” (Capote Movie Review & Film Summary (2005) | Roger Ebert)

Die verskil is: Capote het bedenklike morele kanse geneem; Lee nie.  Hy het immers bevriend geraak met die moordenaars om hul storie te kry.

Vir sommige lesers verpletter Go set a Watchman die morele posisie van die eerste roman.

Dalk moet ‘n mens eerder die twee tekste as aparte romans lees. Scout is nou immers Jean Louise Finch wat teen die einde van die roman weer Scout word.

Die titels van die twee romans is eweneens relevant: die “mockingbird” mag nie doodgemaak word nie en word ‘n simbool van onskuld wat deur die gewelddadige ervarings wat die kinders meemaak, tog vernietig word.

Go set a Watchman verwys na Jesaja en waarskynlik Ou-Testamentiese vergelding, aldus 'n teoloog.

Jesaja 21:6 (“Gaan heen, sit 'n wag uit en laat hom sien”).

‘n Ouer persoon wat terugkeer na die “scene of the crime” vanuit die gesofistikeerde New York lê aan die basis van hierdie roman.

Behalwe vir die geweldige publisiteit en verkope is hierdie tweede roman waarskynlik, vir die meeste lesers altans, ‘n bewys dat ‘n mens nie moet peuter aan ‘n klassieke teks wat diep in mense se harte ingekruip het nie. Maar dit is ook ‘n mylpaal vir die redigeringswerk van ‘n ingeligte redakteur wat ‘n skrywer kon vra om iets anders te lewer.

Vele skrywers het al gesukkel om ‘n groot roman te troef met ‘n volgende. Maar as ‘n roman jou inspireer om weer To Kill a Mockingbird te lees en die film te kyk en na te dink oor presies wat is ‘n “taffeta dress”, dan het dit meriete. En in beide tekste word daar subtiele genderkommentaar gelewer. Onthou Lee en Capote was groot vriende. Nie net word konvensies rondom ras bevraagteken, maar ook rondom manlik en vroulik. Die jong dogtertjie wil nie rok dra nie.

Is Dill gebaseer op Capote? En die verwysings na hom in die pas gepubliseerde roman dui ook op 'n spanning tussen die outeur en Capote.

Die twee romans het 'n komplekse verhouding met die werklikheid, rassisme en die skryfproses. En hoe outobiografie verander word tot verbeelding.


Joan Hambidge - Buikspreek [Gedig]

$
0
0

Met elke leuenspreek of metafoor,
metonimia, horisontaal verdroom,

keer ek telkens terug na die oerakkoord
van dié klankbord, spitsig verwoord.

Eerder 'n ouijia-bord, 'n séance?
'n Oproep van dooie, geykte idees?

Of dalk: ek het gelewe vir dié leuen?
'n Stil aanwesige in 'n blou Versembleem?

Kleinterts, triestig en uvulagtig
klepper my verse kloekmoedig.

Verwerend teen voormalige vriende se venyn,
hou ek my digterlike hart van gode rein.

Leonard Nolens - ‘n Digter in Antwerpen (2015)

$
0
0

Leonard Nolens - ‘n Digter in AntwerpenProtea Boekehuis, 2015. ISBN 978 1 4853 0176 9

Resensent: Joan Hambidge
  
Om ‘n nuwe digter te ontdek, is soos om ‘n nuwe vriendskap te sluit. Jy hou van iemand onmiddellik en vind aanklank by sekere uitsprake, optredes, ‘n lewenshouding of wat nog.

Dis presies hoe ek gevoel het by die lees Nolens se ‘n Digter in Antwerpen, in Afrikaans vertaal deur Daniel Hugo, ‘n voorste vertaler van Hollandse en Vlaamse tekste. Die boek is pragtig uitgegee en Hugo stel ons voor aan een van die beduidenste digters van ons tyd, eweneens bekroon met gesogte erkennings soos die Constantijn Huygens-prys en die Prijs der Nederlandse letteren.

Met opset het hierdie leser niks oor hom verder gaan lees nie en net na die gedigte gekyk. Dit handel oor Antwerpen, inderdaad ‘n soort “back drop” waarteen die gedigte geplaas word. ‘n Stilswyende gespreksgenoot, maar ook ‘n beamende een, want die ruimte waarin ‘n gedig geplaas of gesitueer word, het bepaald ‘n invloed op die uiteindelike vers. Op die agterblad (wel dit kan ‘n mens nie mislees nie), word die digter gesien as ‘n liefdesdigter sonder gelyke in die moderne Nederlandse letterkunde. Hier sou ‘n mens dalk nie sommer alte gou moet vergeet van Herman De Coninck nie.

Maar die aweregse blik op die liefde is boeiend. ‘n Mens vind hier ‘n rustelose figuur, ‘n man wat sy eiesinnige kyk op sake het.

“Sy enkelvoud verklap die oorlog en musiek van die grammatika,
Ontmasker die labiele meganiek van die standvastige tyd"

lees ons in “Grammatika in die kleine” (27).

Hy is inderdaad ‘n belangrike liefdesdigter, ‘n soort moderne Petrarca wat weet die geliefde is wars van sy aanbidding soos ons aflei uit “Sint-Vitusdans in Oktober” (19) met sy slim personifikasies en ‘n huis vol “sielskloppings, weggooi-ewigheid, stekelbriewe”.

Die gedig is dikwels ook bewus van die onmag om die geliefde te bereik, ‘n tematiek bekend aan hierdie soort vers.

Ons vind ‘n self-bewuste digter hier wat gedigte optel op die mees onwaarskynlike plekke en in ‘n bouval. Op ‘n behendige wyse gebruik die digter personifikasie om sý prosesse aan die leser te verklap:

Die huis is oud en afgeleef en werklik nie pluis nie. 

Dit luister fyn, dit fluister en souffleer vir my 

Kelders en solders, kamers en gesprekke 

Van dooie bewoners. Ek is hier hulle enigste adres. (103)

Die soeke na stilte en die huis as ‘n verplaasde simbool van die self, kom duidelik na vore in hierdie gedigte.

Dit is toeganklike verse, ja, maar beslis nie oppervlakkig nie. Die geliefde as teenspreker word aan die woord gestel in die aangrypende “Bruilofslied” (99) waar die digproses as ‘n “binnegesprek die verhouding bedreig. Die digkuns is vir hierdie digter ‘n obsessie en hierom kan dit nie van die self geskei word nie; hierom word ‘n visie oor die skryfwerk in wese ‘n belediging vir sowel die digter as die poësie (“Onderhoude 1 “, 97).

‘n Mens duisel voor wonderlike beelde (“aan die verkeerd geplaasde komma van ‘n haikoe”, 93), verhulde intertekste (soos na Rimbaud, John Berryman en liriekskrywers, soos Leonard Cohen) en ‘n soms gesellige, soms knorrige praataanslag.

Die digter noem homself ‘n nar, narsis, Sisifus en ‘n feniks tegelyk (11) en daar is ‘n vermoë om te vereenselwig met ander om hom (soos ‘n dokwerker). Die ervaring van eensaamheid of isolasie loop soos ‘n swart draad deur hierdie digkuns.

Die belangrikste kenmerk van hierdie digterskap (behalwe vir die verbluffende vormbeheer), is die gevoel dat die digkuns die belangrikste geliefde is.

Hierdie "ek" ken sy storie (51) en al spot hy soms dat sy gedigte nie betekenis het nie, dink 'n mens lank na oor sy beelde.

Die stad Antwerpen het 'n skatkis van verse vir hierdie digter. En wanneer hy Adam Zagajewski aanspreek, is dit 'n uitstekende kopknip.

Dit is inderdaad ‘n nuwe vriendskap!

Die boek is knap vertaal, omdat die digter heerlik dans in ‘n ander taal. So meegevoer is ek dat die bundel Liefdes verklaringen nou op my wag.

Ook Protea se bereidwilligheid om Leonard Nolens te publiseer, moet erken word. Dit is vir alle liefhebbers van die digkuns.

Leonard Nolens


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Die Burger)

Joan Hambidge - ‘n Nota by T. T. Cloete se “Alle grappies op ‘n stokkie” (uit Jukstaposisie, 1982)

$
0
0

I
‘n Besonder boeiende gedig waarin die digter T. T. Cloete sy verbluffende teoretiese kennis demonstreer, is die vers oor Peter Sellers, die bekende komediant. Nie alleen word Sellers se lewe as komediant onder die loep geneem nie, maar die digter gebruik etlike tegnieke om die verhaal te konstrueer asof hy besig is met ‘n séance. “Die ektoplasma maak mislik”: hier speel die digter dus asof hy ‘n medium is. Sellers se belangstelling in die parapsigologie is alombekend. Hy was uiters bygelowig en het gereeld met mediums gekonsulteer om beheer oor sy lewe te kry. Sy humeur is alombekend, so ook sy gefnuikte flirtasie met Sophia Loren, sy eindelose depressies. Hy het by geleentheid ook gesê dat hy net deur die rol van iemand anders te vertolk, kan weet wie hy is …  (Peter Sellers - Biography - IMDbBesoek 13 Mei 2015).

Cloete “verpak” in hierdie vers vele aspekte van Sellers se lewe in ‘n lykdig wat die konvensies van rou en stigtelikheid oortree. Die spreker is hier besig met ‘n séance waarin hy as medium die figuur Sellers terugbring en ‘n oordeel oor sy lewe fel.

In die eerste reël verneem ons “Die ektoplasma maak mislik” en hier is Cloete dus besig om die rol van ‘n medium te vertolk – en die ektoplasma mag dalk net ‘n blote doek wees wat uit sy mond kom gedagtig aan al die vervalsings in die wêreld van mediums en spiritiste.

Cloete se stem dring deur as die medium in die ironiese obiterdicta soos “Vir die groot mededinging // met die lastige dood // was Lynn Frederick // heel paslik // in ‘n rok wat inderhaas // spesiaal ontwerp is …”

Maar ten spyte van die “designer” begrafnis met Glenn Miller se In the mood, bly daar steeds ‘n lyk; ‘n verleë een, dus afhanklik van ander se omgee en bereidwilligheid om die lyk te laat veras by Golder’s Green.

Die begrafnis waar ‘n donderstorm die diens versteur, oorstem In The Mood en dus die stemming van die geleentheid. Hoewel die kanunnik ewe vroom meen dit pas by Seller’s se humor, is die digter Cloete as medium nou besig om in die Onsienlike die begrafnis te beoordeel as toneelspel of ‘n produksie.

Is dit deus ex machina? Die God uit die masjien wat in die Griekse dramas ‘n oplossing bied en in modern dramas ‘n soort “suspension of disbelief” impliseer? Of is daar sprake van “to steal one’s thunder”, met ander woorde, dat die begrafnis-as-toneelstuk gekaap is deur ‘n mag groter as Peter Sellers en die digter.

En aan wie behoort die oorskot? Die Duiwel? Aan God?

En die donder (wat rym met “I wonder …”) wat eindig op ‘n ellips neem ons terug na die begin van die gedig. So gelees is die digter spiritis en die terugbeweeg op die Onsienlike waarmee hy (en Sellers ook in sy lewe) probeer kontak maak het, dui daarop dat ons nie finale antwoorde kan vind nie. Ons idee van ‘n Hemel of Hel (soos beskryf in die Goddelike Komedie) bestaan nie meer nie. Daar is nie Finale Antwoorde nie.

Die gedig jukstaponeer komedie en erns; toneelspeel en werklike emosie; en veral: Kerklike Sekerheid (gerepresenteer deur die kanunnik) teenoor Spiritisme.

II
 ‘n Ander aspek van hierdie gedig is dat dit nuwe lig werp op die problematiek róndom intertekste. Welke aspekte van Sellers se lewe word betrek? Sy enorme tydsberekening soos in Blake Edwards se The party van 1968. (The Party (film) - Wikipedia, the free encyclopediaBesoek 13 Mei 2015).

Ook die biografie oor sy verhouding met sy vader het in 1981 verskyn onder die titel: P.S. Ilove you met die subtitel “an intimate portrait”. Hier vertel verontregte seun, Michael hoe hy grensoorskrydend moes wees – selfs moes steel – sodat hy sy vader kon sien, al was dit net in die hoof se kantoor! Dikwels het hy deur die pers verneem van sy vader se jongste liefdesverhoudings wat hom erg depressief gemaak het.

Die humeurige, depressiewe vaderfiguur was Afwesig. Sy hele lewe is opgeneem deur toneelspel waarin hy ‘n rol moes vertolk om Iemand te wees omdat hy onseker was oor wie hy werklik was.

So, alle grappies op ‘n stokkie: hierdie gedig is in wese ‘n analise van ‘n ikoon en belangrike aspekte van die figuur se lewe word aan ons voorgestel – met T. T. Cloete wat oor die gegewe as ‘n medium beweeg en belangrike metafisiese en intertekstuele probleme aan bod bring.
Soos die digter al gewaarsku het: “met ‘n omweg kan bysake die aandag trek op hoofsake”.

Hierdie gedig is ook opgeneem in die bloemlesing Die baie ryk ure wat in 2001 by Tafelberg verskyn het. Ek was saam met die digter, Heilna du Plooy en wyle Charles Fryer deel van ‘n leserskorps wat ons 100 gunsteling-verse moes saamstel. Agterna gesien het ons keuse bykans ooreengestem. Opperman het in 1980 die digter se debuut as “koningskos” tipeer en Die baie ryk ure is ‘n representasie van die kwintessensiële Cloete waaroor verskeie literatore en navorsers belangrike studies geskryf het. Rena Pretorius, Heilna du Plooy, Bernard Odendaal, hierdie leser.

En die digter se enorme invloed op ‘n die digterlike generasie van 80 kan nooit ontken word nie. Hiervan is alleen die gesprekke met die Marilyn Monroe-figuur ‘n bewys en die jongste ekodebatte in die Afrikaans digkuns het alreeds Met die aarde praat(1992) begin.

“Alle grappies op 'n stokkie”
T. T. Cloete

Die ektoplasma maak mislik.
Alle vlae hang stigtelik
by alle teaters halfmas.
Peter Sellers is vandag veras
by Golder's Green. Wat mens afkerig maak
is dat die dooie vertrek en ander moet ontslae raak
van sy lyk. Die diens vir die lastige rou
en konvensie is deur John Hester gehou,
Peter se vriend, 'n kannunik.
Maak dit vrolik
om van die walglike oorlas
verlos te word. Slegs vriende uit die vermaak, kollegas
uit The Goon Show
sy eerste, sy derde en vierde vrou
mog die diens bywoon: Britt Ekland die seksbom
het ongenooid daar aangekom,
sy't vermetel met Spike Milligan opgedaag.
Sy is kywende weggejaag
deur Michael. Vir die groot
mededinging met die lastige dood
was Lynn Frederick
heel paslik
geklee in 'n rok wat inderhaas
spesiaal ontwerp is deur die modebaas
Yves St. Laurent. Terwyl hulle die lyk veras
vrolike musiek pas
immers by die toneel
is Glenn Miller se In The Moodgespeel
op Peter se versoek. 'n Lyk is darem 'n verleë ding.
Laat die poppe speel, laat hulle hom wegsing.
Tog het iets vreemds gebeur:
'n donderstorm wat ineens losbars versteur
en oorstem In The Mood. Dis nes Peter dit wou he,
dit pas by sy humor, het die kanunnik vroom gesê.
Wat pla
bedink agterna
in terme van tooneelspel: is dit deus ex machina
of is die grap bygedra
deur die baaslykverbrander?
To steal one's thunder
Pas by die toneel. Behoort die oorskot
aan die duiwel, aan God?
behoort die donder

aan God, aan die duiwel? I wonder …

*

The Paranormal Peter Sellers | Dangerous MindsBesoek 13 Mei 2015:
  
Many actors are superstitious. Some like Peter Bull kept a collection of Teddy bears to bring him good luck; others like Jack Lemmon said the words, “It’s magic time,” before filming each scene. But none were quite as obsessed with superstitions and the Occult as comedy genius, Peter Sellers.

Sellers’ introduction to the Occult came via fellow Goon, Michael Bentine, the Watford-born Peruvian, who had grown-up in a household where seances and table-turning were regularly practiced. Not long after they first met, Bentine told Sellers of his psychic abilities - how during the Second World War, when Bentine served in the Royal Air Force, he had been able to tell which of his comrades would die before a bombing mission. Bentine claimed if he saw a skull instead of his colleague’s features, then he knew this person would be killed. How often Bentine was correct in his predictions is not known. No matter, Sellers was impressed by the shock-haired comic and was soon obsessed with all things paranormal.

From then on he collected superstitions, as easily as others collect stamps. He refused to wear green or act with anyone dressed in the color. If anyone gave him something sharp, he gave them a penny. He read his horoscopes every day, to divine what he should do.

Sellers often said he had no idea who he was: “If you ask me to play myself, I will not know what to do. I do not know who or what I am.”  This was his way of renouncing any responsibility for his actions.  He claimed he found comfort and stability in consulting clairvoyants and fortune tellers, which again only underlines the fact he did know who he was - a control freak, who wanted power over his future. It was inevitable, therefore, that once under the spell of sooth-sayers and psychics, Sellers was open to fraudsters, tricksters and con-men.

The clairvoyant who had most influence over his life was Maurice Woodruff, the famed TV and newspaper astrologer, whose syndicated column reached over fifty million people at the height of his career. Woodruff received over 5,000 letters a week, asking for advice and had a Who’s Who of of celebrity clients, including Lionel Bart and Diana Dors. He also famously predicted the death of President John F. Kennedy and the end of the Vietnam War. Sellers was devoted to Woodruff, consulting him before he accepted any roles, and regularly had Tarot readings performed over the telephone. But Woodruff was heavily in debt and open to the persuasion of a little cash earner when film studios asked him to suggest film scripts for the actor.

One famous tale, recounts how Woodruff was asked to suggest the initials of director Blake Edwards as being very important to him. Unfortunately, Sellers failed to connect ‘B.E.’ with the famous director. On return to the Dorchetser Hotel, his usual residence when in London, Sellers was smitten by the sight of a beautiful, young blonde-haired woman at reception. When he enquired as to who this vision of loveliness was, he was told Britt Ekland. Sellers recalled Woodruff’s prediction and married Ekland within weeks.

Not long after the marriage, Sellers suffered a multiple-heart attack in California, in part caused by his heavy use of Amyl Nitrite. As he later told his close friend and first biographer, Peter Evans: “When a 38-year-old bloke marries a 21-year-old bird, he needs all the help he can get. We used poppers (amyl nitrite), you know, to tweak the thrill a bit. Bubbly, poppers and Britt. It was all too much. Before I knew it, I was dead as a bloody kipper.”

Sellers ‘died’ on the the operating table, and had an out-of-body experience that influenced the rest of his life.

“Well, I felt myself leave my body. I just floated out of my physical form and I saw them cart my body away to the hospital. I went with it ... I wasn’t frightened or anything like that because I was fine; and it was my body that was in trouble. I looked around myself and I saw an incredibly beautiful bright loving white light above me. I wanted to go to that white light more than anything. I’ve never wanted anything more. I know there was love, real love, on the other side of the light which was attracting me so much. It was kind and loving and I remember thinking That’s God.

“Then I saw a hand reach through the light. I tried to touch it, to grab onto it, to clasp it so it could sweep me up and pull me through it.” But just then his heart began beating again, and at that instant the hand’s voice said, “It’s not time. Go back and finish. It’s not time.”

What Sellers probably saw was the doctor who massaged his heart back to life.

Following his death experience, Sellers immersed himself in the Occult. He began to practice Ouija and increased his use of marijuana to open up his untapped psychic powers. Through Ouija, Sellers had conversations with a variety famous people from history, leading friend and fellow Goon, Spike Milligan, to jest that Sellers seemed to only make contact with the likes of Napoleon, Julius Ceaser and Leonardo Da Vinci, rather than an ordinary Joe.

Sellers believed the Occult shaped his performances. For The Optimists (aka The Optimist of Nine Elms) he believed he was possessed by Music Hall comic, Dan Leno, who created the central character of Sam. Sellers used Ouija to talk with Leno, who seemed oblivious to anything had gone wrong in his life, which was odd, considering the great Music Hall comic died at the age of 43, from “General Paralysis Of The Insane,” or syphilis, in a lunatic asylum. For his last great performance, as Chance, in Being There, he channelled Stan Laurel to create the role.


When his mother, Peg, died, Sellers again kept in touch through Ouija. Though Peg was more interested in her pet dog, who was also on the other side, rather than what her son was up to. Convinced he would live to be in his seventies, Sellers refused to have the open-heart surgery that could have saved his life. He died of a heart-attack at the age of 54, in 1980.


Piet du Toit & Wanda Smith – Stylboek (2015)

$
0
0

Piet du Toit & Wanda Smith – Stylboek: Riglyne vir paslik skryf. Protea Boekehuis, 2015. ISBN 978 1 4853 0 114 1

Resensent: Joan Hambidge

I
Die jongste Stylboek van Piet du Toit & Wanda Smith is ‘n gevaarlike boek om te resenseer. Jy mag dalk in ‘n volgende uitgawe van hierdie omvattende en herbewerkte uitgawe verskyn as ‘n voorbeeld van hoe ‘n resensie nie behoort te lyk nie!

Dit is ‘n boek wat hierdie resensent sonder skroom of omhaal van woorde wil aanbeveel vir elke rubriekskrywer wat nie besef hoe ‘n skril, aanmatigende of betigtende toon juis jou leser vervreem nie of ‘n resensent wat met geykte stellings en kitsklaar waardeoordele ‘n boek kis, moet nadink oor die implikasies van skryf.

Hoe jy moet waak teen die argumentum ad hominem wanneer jy polemiseer en welke retoriese strategieë ingespan word om ‘n jou opponent belaglik te maak en hoe jy uiteindelik presies die teenoorgestelde effek bewerkstellig.

Die boek is besonder mooi uitgegee met potloodflertse op die buiteblad wat waarskynlik subliminaal wil oortuig dat skryf met die hand (en potlood) beteken dat jy terugkeer na die oorspronklike teks, uitvee, nadink …

Begrippe soos styl, duidelik skryf, teksbou, bondige formulering, die gepaste toon, aantreklike aanbod en die aanbod van navorsingstekste (vir  elke dosent wat worstel met nagraadse studente se onvermoë om te kan skryf), word netjies uitgepak. Elke kwessie word teoreties begrond met kundige en teoretiese verwysings wat die handleiding ‘n sterk basis gee.

Om binne ‘n koerantbespreking elke tersaaklike bron of opmerking te bespreek, sal ‘n saak van onmoontlikheid wees. Die samestellers moet geloof word vir die wye aanbod van skrywers. Sowel bekende kreatiewe skrywers se tekste as joernaliste en rubriekskrywers se werk word as voorbeeldmateriaal gebruik.

Vir hierdie leser was die hoofstuk oor “Die styl van literêre analises en resensies” uiters leersaam. Die samestellers wys ook op literêr-onaanvaarbare uitsprake. Dit spreek ook uit die analises dat die samestellers die letterkundige tekste goed ken en juis hierom kan wys op die verskil tussen waar en wolhaar. Nie iets waarvan ons die metakritikus Crito wat oor koerantsresensies ‘n oordeel fel, altyd kan beskuldig nie. Net wanneer die boek goed gelees is, kan ‘n uitspraak of polemiek sinvol ontleed word. Soos die polemiek róndom die N. P. van Wyk Louw-biografie deur J. C. Steyn (160). 

Wie mag resenseer? En mag ‘n resensie wat in die dagblad verskyn wél deur ‘n minder “kundige” behartig word? Veral gedagtig aan die feit dat daar minder ruimte aan boeke afgestaan word in die gedrukte media.

Die taalkundige beleefdheidsteorie word knap behandel: die ‘negative face’ wat beteken jy wil ‘n sekere afstand beswaar word, teenoor die ‘positive face’ wat smag na erkenning. Hierdie twee aspekte word myns insiens tans ontken deur mense wat te vinnig op Twitter of Facebook wyshede loslaat wat hulle later duur te staan kom. Ons dink hier aan gevalle soos Steve Hofmeyr en Zelda la Grange, byvoorbeeld (en hier spreek ek nie ‘n waardeoordeel uit nie; ek wys net hoe sosiale media se snelle aanslag die nadink, herbesin waarop hierdie boek die klem plaas, nie meer nakom nie.)

Daar word ‘n heel gepaste model vir korrekte polemiekvoering gegee (160).

‘n Kliniese analise van hoe verontregtes dikwels die uitgewershuis blameer (in plaas van die skrywer) vir ‘n kritiese aanvaal (163) en natuurlik die brandpunt van elke twisgesprek: wie het die laaste woord? En ja, stilte is ook ‘n antwoord …

En ‘n belangrike mantra in hierdie dae van storms op verskeie fronte: “As die diskoers verwerp word weens die toon, wat die houding van die skrywer weerspieël, ly die opweeg van die standpunte in die polemiek skipbreuk” (163).

Kyk byvoorbeeld hoe kon Van Wyk Louw ‘n opponent troef met sy “prikke”; en hoekom word polemiek al die negatiewe betekenis van  ‘uitbytery’  gekry.

Jare gelede het ek vir Die Vaderland boekresensies beginne skryf en Harald Pakendorf, toe redakteur, loop my eendag raak en sê: ”Kom werk vir my, dan leer ek jou skryf.” En so is dit. Om vir ‘n dagblad te skryf, leer jou om helder te kommunikeer, jou bedoelde leser in ag te neem en altyd deel te bly van ‘n gesprek wat  nooit verdwyn nie. Dit beland nie net in ‘n stylboek nie; dit word in argiewe bewaar vir navorsers wat jare later nadink oor waarom was die twis so hewig? En sou resensent A nog steeds dieselfde dink oor skrywer B?

Of sal hy grootmoedig bely: my oordeel was meer op die persoon gerig as die boek? Soos ‘n gesiene kritikus later moes toegee dat hy onkundig was oor Faverey.

Sela. Amen.

Gaan  koop hierdie boek. Dit neem nou plek in langs my bed waar Louis Eksteen se nooit volprese Sinoniemwoordeboek ook staan. Ek lees sulke boeke vir louter plesier.

II
Vir die dosent van die Afrikaanse letterkunde is daar ‘n belangrike afdeling oor ontleding (analise) en interpretasie (die soek na of toeken van betekenis) (396).  Sekere terme is allemansgoed; ander behoef ‘n naslaan in ‘n glossarium soos ons besit in Afrikaans met T. T. Cloete as die redakteur.

‘n Mens vind – veral as jy self resenseer – hoe maklik jy in geykte stellings kan verval.  Onvaste terme word onder die loep geneem, soos elemente, aspekte of fasette …

En belangrike “golden oldies soos Nowottny en Wayne C. Booth word paslik gebruik om terme te omskryf.

Die polisindeton – ‘n term wat ‘n mens nie maklik vind nie – sou hierdie boek kon  beskryf van Du Toit & Smith: Én naslaanbron, én handleiding, én kompendium, én normboek …


(Hierdie resensie word met vriendelike vergunnning van Rapport geplaas)

David Attwell - J.M. Coetzee and the Life of Writing (2015)

$
0
0

David Attwell - J.M. Coetzee and the Life of Writing. Jacana, 2015. ISBN 978 1 4314 2153 4.

Resensent: Joan Hambidge

David Attwell is ‘n gesiene literator, verbonde aan York Universiteit en ‘n voorste Coetzee-kenner. Ons dink hier aan Doubling the point (1992) met essays en onderhoude wat die weg gebaan het vir talle navorsers.

My gevoel oor Coetzee was nog altyd ‘n komplekse een: enersyds gebruik hy die werklikheid of lewe as ‘n vertrekpunt wat hy daarna inkleur en verander met komplekse fiksionaliseringsprosesse. ‘n Mens dink hier onvermydelik aan die magistrale roman The Master of Petersburg waarin Dostojefski die basis vorm waarteen Coetzee homself posisioneer. Andersyds negeer hy hierdie verband tussen lewe en fiksie.

En die kodewoord is hier kompleks, want ‘n letterkundige teks is nooit op ‘n een-tot-een vlak gelyk aan die werklikheid of die representasies daarvan nie. Imraan Coovadia se polemiese reaksie ‘n tyd gelede op die lewe van Coetzee het dit immers bewys toe Ian Glenn met klinkklare feite gekom het en hom verkeerd bewys het op Litnet. Die punt is egter: wanneer ‘n skrywer self ‘n persoonlike mitologie skep van “privaatheid”, dan skep dit paradoksaal juis meer gissinge. Veral romansiers begryp dit: kyk maar net wat maak Julian Barnes nie alles met Flaubert in Flaubert’s parrot (1982) nie.

In 2003 verower Coetzee die Nobelprys vir letterkunde en aan die UK is daar die Coetzee Collective. Min moderne skrywers het soveel aandag van kritici geniet as Coetzee self en die meeste van hierdie ingeligte of ideale lesers is deurgaans besig met ‘n (besitlike) gesprek met mekaar.

Attwell is duidelik daaroor dat ‘n mens hierdie studie, ‘n kritiese biografie, moet saamlees met die kreatiewe tekste van JMC.  Die outeur is uitgesproke daaroor dat nie alles van Coetzee se lewe tot uiting kom in sy werk nie en die bestudering van manuskripte in die Harry Ransom Sentrum aan die Universiteit van Texas, te Austin was die ondersoekterrein – net soos US se dokumentasiesentrum vir die Opperman-navorser die sentrale navorsingsentrum is.

Wat is “off stage” en wat is “centre stage”? Attwell het begin as ‘n MA-student onder Coetzee se begeleiding: hierna volg Doubling the Point (1992) en J.M. Coetzee: South Africa and the Politics of Writing (1993).

Die bonuspunt van hierdie boek is dat dit uiters vlot en toeganklik geskryf is. Attwell verwag dat die leser Kannemeyer se biografie (J.M. Coetzee: ‘n Geskryfde lewe, 2012) ken en hy fokus op die ragfyne drade tussen (die) lewe, intriges (soos sensuur) en die skryfproses. Die skrywer se taalidentiteit, wisselend tussen Afrikaans en Engels, word aangespreek. Coetzee se beroemde (berugte?) uitspraak teen Gordimer dat ‘n mens alleenlik krities mag wees oor Afrikaans en die Afrikaner as jy self een is, word ondersoek (43). Coetzee is ‘n histories gesien ‘n “Afrikaner”, ‘n persoon wat altyd met my vlot in Afrikaans gekommunikeer het as toenmalige kollega aan die UK. Sy taalidentiteit, nes al die ander “wisselinge van lywe”, is die voortdurende spel wat JMC met sy publiek speel as die enigmatiese, nie vaspenbare verkleurmannetjie. Dalk die beste voorbeeld van hoe ‘n skrywer homself kan “herskep”, ‘n nuwe identiteit kan skep? Van rekenaar-fundi, linguis tot gerekende postmodernis; ook dalk faux-biograaf.

En Attwell hou al die balle in die lug soos ‘n bedrewe jongleur. Hy skep moontlikhede, posisies, hy haal aan, hy wys op feite en latere implikasies in die skryfwerk.

Vir my is ‘n aangrypende afdeling oor die rol van sy moeder en hoe dit beslag gekry het in Age of Iron. Die pynlike verlies aan die moeder en die kartering van haar onregverdige posisie binne die gemeenskap met ‘n man wat haar nie genoegsaam kon ondersteun nie, word uitstekend ontleed. Juis hierom dan die erkenning aan die moeder by die ontvangs van die Nobelprys.

‘n Groot skrywer is altyd veel te danke aan sy lyfkritikus wat sy lewe, dokumente en uiteindelike werk verstaan en goed kan verpak vir ‘n leserskorps. So ‘n kritikus is uiteraard altyd die Ideale Leser, daardie een waarvan Wolfgang Iser praat.

Daar word afdrukke van notaboeke gegee en die migrasie tussen teks en lewe, ander tekste en eie tekste, vind dan beslag op “geleende” eksamenboeke van die Universiteit van Kaapstad. Waarskynlik omdat skryf uiteindelik ‘n proses van self-eksaminering is …

Miskien sou ‘n mens meer wou sien oor die verhouding met Paul Auster en hul uitruiling van idees? Die sentrale idee van hierdie studie is weliswaar die “face to face” met JMC. ‘n Skrywer wat telkemale ten spyte van persoonlike ellendes, soos die tragiese dood van ‘n kind of ‘n non-funsksionerende vaderfiguur, ‘n indringende en komplekse roman skryf. Mites rondom die outeur se vertrek na Australië word die nek ingeslaan. Die beplanning rondom sy vertrek het lank voor die ANC se kritiek op Disgrace gekom. Vir hierdie leser is Coetzee op sy beste in die reeds genoemde Master of Petersburg en In The Heart of the Country.

Dit is ‘n manjifieke boek. Met J.M. Coetzee as die formidabele akteur en David Attwell as die regisseur én souffleur. Hierdie boek analiseer die “inner workings” van ‘n belangrike skrywer.

(Hierdie resensie word met vriendelike vergunnning van Beeld geplaas)

Marlise Joubert - Bladspieël (2015)

$
0
0

Marlise Joubert - Bladspieël. Human & Rousseau, 2015. ISBN 978 0 7981 6954 7

Resensent: Joan Hambidge

 Dit is Marlise Joubert se agste bundel en haar mees uitstaande bundel bly vir hierdie leser Passies en passasies (2007), 'n teks waarin die liriese aard in 'n digterlike dansvorm uitgewerk word. In Bladspieël word daar oor verhoudinge besin: die verbintenis met die geliefde, die natuur, kinders en kleinkinders, die liggaam en veral die digkuns, soos die titel reeds aandui. Reisgedigte en politieke verse is eweneens hier te vinde. Die gedig dus as setspieël, as uitleg of voorstelling van die hewige emosies wat die gedigte uitdra. Toespelings op hierdie tema vind ons regdeur in die bundel, o.a. in "snags slaap ek onrustig op" (32). Die titel eis dus "close reading" op van die leser.

Daar is etlike selfkonfrontasies en selfgesprekke: in "(1970)" (65) praat sy met haar vorige bundels en die domus of huis kom telkemale in verskillende gedaantes na vore, te wete die erf, grond en ruimtes (binnelands en buitelands). Hierteenoor is "brief uit die boord" (53) vir die liewe Krismisvader, 'n iets sentimenteel. Bestekopnames is bekend aan die werk van die ouer wordende digter. Wanneer sy oor menslike verhoudinge skryf, steek dit alte dikwels vas in die anekdotiese of die gemeenplasige. Die "biografie van bloed" mis die sterk digterlike en grimmiger aanslag wat die ars poëtiese verse kenmerk.

Waar Joubert egter hier van haar sterkste verse lewer, is dit te siene in die verse wat oor die digkuns of digproses handel. In "Vlug", 'n reisgedig, word die elliptiese spel van die gedig op 'n metavlak uitgewerk. Die leser sien die besinning róndom die skryfproses (92). Hierom dan ook gesprekke met haar digtersman, Louis Esterhuizen, soos in "klein reistog" (91) en "'n dag in die lewe van 'n digter" (20), waar die Estlandse digter, Jaan Kaplinksi aangespreek word. "by die lees van" (16) aktiveer sy haar eggenoot se lang epiese vers. Sy vertaal en herdig Octavio Paz se "tussen gaan en bly" (110), 'n gedig wat al etlike herdigtings in Afrikaans beleef het en bepaald 'n interessante studie kan aanstig.

Daar is twee toonaarde te bespeur in hierdie bundel: melancholies (soms selfs sentimenteel) en 'n skerper, gedistansieerde blik op die self en die skryfproses. Hierdie leser verkies laasgenoemde aanslag; die tussenaard dus. Daar is dikwels 'n belewenis van 'n droom of 'n ervaring van wat die gedig of indruk voorafgaan, op soek na die verhale wat skuilhou in frummels papier (56). Die digterlike bestaan word bedreig deur werklike storms en politieke onrus. Die vrees vir doodgaan en die versugting om meer stents in die hart te hê, wys op die bedreiging van 'n bestaan. In die openingsgedig "herfs" (9) word die behoefte om langer te leef, uitgespreek in die dwingende, herhalende refrein wat sy telkens verander.

Daar is uitstekende beelde van die digter wat eens haar rugsak flenters kon droom teen ruite, maar nou in eko-insulasie haarself moet verweer teen die dood.

Moderne kommunikasie en hoe dit ook die digproses bedreig word knap verwoord in "om te dig" (25):


op 'n selfoon
is nie maklik nie.
dis boonop onromanties.

vingers poot 'n skilpad
letter vir letter voort (...)

Ons vind treursange en die pynlike besef dat 'n vroeër bestaan vir ewig verby is. Daarom het die bloed 'n "roesgeheue". Hierteenoor is die jong kinders 'n beeld van 'n nuwe lewe of toekoms.

Daar is "geslote" gesprekke met ander digters (Sappho, Sylvia Plath, om twee vroulike gespreksgenote uit te sonder) teenoor die "oper" gedigte vir kinders en kleinkinders, by die naam genoem. 'n Aangrypende vers oor die vader word róndom sy lessenaar gebou: "en ek vra dikwels nog of hierdie vlek / gekreukel soos 'n bloeisel op die eikehoutblad / die laaste ink was uit jou pen" ("agter die lessenaar", 81) wat weer al die gesprekke van vrouedigters oor hul vaders aktiveer.                                        

'n Kritiese vraag: waarom word Ocatavio Paz uit die Italiaans aangehaal, maar Salvatore Quasimodo in Engels? Wilhelm Knobel het dit immers puik vertaal in Afrikaans!

'n Handvol gedigte is besonders verwoord, nes die lykdig oor die vader ("agter die lessenaar").

Die bundel beslaan 110 bladsye en ons beleef tans in Afrikaans die opmars van die dikker bundel, veral opvallend die afgelope dekade.

agenda

die gestringde gedig
moet ʼn lang gedig wees
ʼn rankplant teen ʼn wit
ringmuur aan die een kant op
en aan die ander kant soos slingers, asb.
webbe om jou voete af
sodat jy nie kan beweeg nie, vasgevang
om die enkels van begeerde ontroering
so moet die gedig jou mettertyd tot
stilstand bring, tot absolute stilte laat basuin
sodat jy die woorde word, self die klank
en die ritme van ʼn verlore tyd, die afstand
van vrugwater na sloot
en later slegs ʼn hartklop
wat jou opraap ver verby

die stingelende dood

(Hierdie resensie word met vriendelike vergunnning van Rapport geplaas)

Joan Hambidge - Metafisiese indeks [Gedig]

$
0
0

O goedheid Gods hier nooit volprese,
my eerste mantra roepend 'n hert in dorre streke;
versies soos braille in 'n blou onderstreepte Bybel:
ek het jou by die naam geroep, jy's myne ...

In Jerusalem hoor ek: aanbid die Seun van God.

Verloor my geloof tog later.
Sartre en Camus, die Eksistensialisme,
"God is dood", "die hel is ander mense",
geleer as jong filosofie-student.

In Pamukkale weet ek wees eerder koud as lou.

Net soms, net soms laat Hy van hom hoor:
skryf met ‘n penstreep teen die lug oral oor,
stuur ‘n teleks per aardbewing (woedend en koud)
of praat woordeloos in ‘n magiese oerwoud.

In Manaus verkies ek God bo niks.

Van Wes na Oos alleen vertrek:
Die Bybel, Ateïsme, Boeddhisme verken.
Die krag van meditasie of stil gebed
nie meer langer deur my ontken.

In Nepal word ek eindelik één met God.

In Nepal, Manuas, Pamukkale, Jerusalem
verbind ek die Onsigbare,
daardie Iets, daardie Onverwoordbare krag,
genaamd die Metafisika.

Jan van Staden – Boer kry ‘n vrou (2015)

$
0
0

Jan van Staden – Boer kry ‘n vrou. Tafelberg, 2015. ISBN 978 0 624 07369 7

Resensent: Joan Hambidge

Ons almal het al Boer soek vrougevolg en verwonderd toegekyk hoe hubare vroue hulle skaamteloos aanbied vir die boer. Hierdie program smeek om ‘n genderanalise en ons wag op Amanda Gouws se feministiese perspektief oor agentskap en vrye keuses.

Daar flits reeds heerlike parodieë op die internet rond: Boer soek boer vanuit ‘n gayperspektief en natuurlik het Casper de Vries, daardie moedswillige ikonoklas, saam met Elsabe Zietsman ‘n skaterlag-teenaanbod gemaak: Boer soek ‘n vou. Gaan kyk gerus: https://www.youtube.com/watch?v=Tl99Jbov_FU

En daar is ook ‘n film wat heet Vrou soek boer.

Inderdaad word daar gevra: Wat is die liefde?  En selfs die Hemelse Vader word op ‘n keer bedank, omdat die meisie hom weer in die liefde laat glo ...

In Jan van Staden se Boer kry ‘n vrou(en ‘n mens kan al die ander titels hoor: Boer kry ‘n hoer) is uitgegee deur Tafelberg op die voorblad word gespog: “Nog nooit is daar so wild op papier gevry nie”.

Inderdaad. Vanuit ‘n manlike perspektief, en meer spesifiek, uit die posisie van die stud, word wilde seksuele fantasieë aan die leser opgedis. ‘n Soort manlike 50 Shades of Grey.

‘n Mens hoef maar net terug te keer na die porno-film en jy het al die merkers van hierdie soort jagse (sic!) verhaal waar ons hoofkarakter, ene Juan van Wyk (Lees Don Juan), die Bosveld groet. Sy plaas heet Fort le Clos (Sartre? Huis clos? Huis Klos?) en hy hou ‘n rooibokram dop. Dié is ‘n gelukkige wetter. Raai waarom?

Die res is voorspelbaar. En die Latynse bloed klop deur die vertelling in ‘n sub-genre Tril-letterkunde.

Die stud is enigsins diep verontreg wanneer daar stories oor sy sekskapades begin rondloop (hier is die interteks: Die hele dorp weet). Ofskoon hy ‘n vrou op elke dorp het (nie hawe nie!), soek hierdie Bosveldseun rigting. Hierom moet hy deelneem aan die tv-program.

Die storie loop flink en die verhaal het ‘n heerlike skoot onbedoelde humor en soos in die jags-genre is die suspension of disbelief die ware Jakop.  En op die internet is daar geweldig baie artikels oor die fantasie van sowel vroue as mans te vinde. http://www.healthyplace.com/sex/psychology-of-sex/womens-top-ten-sexual-fantasies/

Die outeur span al die verskillende name in vir die manlike en vroulike geslagsorgaan en telkemale is die man verstom oor die vrou se kapasiteit om by te hou. Die “pornografiese verbeelding” dus in navolging van Susan Sontag, waar die storie net die verskoning word vir die sekskapades. Elke hoofstuk het ‘n trofee-ikoon net soos in die werklike lewe waar dié soort man sy vrou as ‘n skild sien.

Hoekom het hierdie leser die boek enduit gelees? Om as genderteoretikus net weer daaraan herinner te word wáárom daar vroue is wat reageer teen hierdie brutale oorheersing. Uiteindelik maak hierdie manlike beheer in die werklikheid nooit hond haaraf nie. So ‘n welbedeelde seksuele atleet, wat elke vrou oorrompel, bestaan nét in die fantasie-wêreld van die porno-verhaal. Wag wag. Daar is immers ‘n program waar vroue hulself aanbied as slagoffers en bepaald enigiets sal doen om ‘n boer te kry. Dat daar in die jaar 2015 nog so iets moontlik is, post-post-feminismes en maskulineitsteorie, is wel wonderbaarlik.

In James Bond-films is daar ondermynende humor. En dis mos die vroulike M, vertolk deur Judi Dench, wat vir James Bond in Goldeneye toesnou dat hy ‘n misogonistiese dinosourus is, nie waar nie?

Gaan kyk of daar ‘n inskrywing uit Marble Hall is.

Love story, West Side Story se Maria en Mamma, ek wil ‘n man hê,  word gebruik om die teks verder te “verdiep” met kodes uit die liefdesverhaal en Western. “Die vuur se vlammerdans gooi sy skaduwees oor hulle en ver weg brul ‘n leeu” (173) verneem ons. En tog bly die liefde ons held ontwyk. En hy voel selfs misbruik, omdat ‘n meisie hom gekies het om haar van haar maagdelikheid te ontneem? (254)
Op ‘n keer huil ons held; waarskynlik weens uitputting. Ek gaan nie die geheim (van Nantes) weggee nie, maar Juan sien sy spreekwoordelike alie.
As liefhebber van satires, is hier ‘n goeie geleentheid (verleentheid?) verspeel om ‘n kritiese parodie te skryf.

O waar o waar is Koekie Ziervogel?

Maar verkoop gaan hierdie roman. Dis nou maar boerewors.


Filmverse (Fopspeen Moving Pictures & ATKV)

$
0
0



Fopspeen Moving Pictures - Filmverse (DVD). ATKV, 2014

Resensent: Joan Hambidge.

Om ’n gedig te lees (en te verstaan) werk met besonder intieme assosiasies.

Nie twee persone sal ’n gedig dieselfde vertolk nie en die dieper assosiasies wat ’n gedig by ’n mens oproep, is uiteindelik uiters privaat en intiem.

Hierom is die “vertaling” van ’n gedig in beeldvorm waarskynlik nogal “gevaarlik”. Jy betree die heilige arena van iemand se private vertolking en begrip.

Tog is dit wonderlik om te luister hoe ’n digter sy of haar eie werk voordra. In dié produksie is daar stemme van digters – onder andere ­Ingrid Jonker, Adam Small en Breyten Breytenbach.

Hoe anders klink ’n gedig nie wanneer die digter dit self lees nie. Sylvia Plath se kil, emosielose stem laat jou haar verse opnuut ervaar as die werk van ’n diep gekwelde mens. Hoe mooi lees Antjie Krog tog nie. Daar is ook digters wat nie kan voordra nie en eerder van die po­dium moet afbly.

Wilma Stockenström is hier in haar bekende “Die skedel lag al huil die gesig” aanwesig. Hier was Crowther Lindeque die regisseur. (In my gemoed hoor ek Wilma self voordra.)

Ons vind ’n huwelik tussen kunstenaar (soos Michele Nigrini) wat Lina Spies se pragtige gedig “Finis” vertolk in beelde en Anna-Mart van der Merwe wat dit voordra in haar ryk, gemoduleerde dog nie-aansitterige stem. (Onthou tog hoe het ons almal gelag vir dramatiese vertolkings van Anna Neethling-Pohl. O die DANS van ons SUSTER . . .)

Dat die digkuns helaas ’n persoonlike weergawe is en bly, word goed gedemonstreer deur Diek Grobler wat agter ’n lessenaar inskuif (in ’n tronk) en Breytenbach “speel”. Sy beelde word dan verder vertolk deur Breytenbach se praat-singstem.

“Vroegherfs” (Louw), “Bitterbessie dagbreek” (Jonker), ­“Finis” (Spies), “What abou de lô” (Small) is van die bekendste en mees gekanoniseerde gedigte wat hier vertolk word. Jonger digters soos Danie Marais en ­Loftus Marais word ook opgeneem, met eersgenoemde se ­ontroerende “Jy vra my hoe my eerste soen was” en van laasgenoemde die snaakse, aweregse ars poetica “Belydenis van ’n ­studentedigter”.

Ronelda Kamfer se “ ’n Gewone blou Maandagoggend” word nog grimmiger met die tekeninge daaromheen: moord en doodslag, ’n skoolkind se miskraam, ellende en die dood wat om die draai loer, bewys watter sterk digter sy is. Die verwysing na ­Dylan Thomas se amper geykte gedig oor die dood word hier met nuwe krag gelaai. So iewers tussen haar gedig, die assosiasies met geweld op die Kaapse Vlakte en “do not go gentle into that good night”, sien ons ’n kunstenaar se vertolking, uitstekend gedoen deur Naomi van Niekerk en Arnaud van Vliet.

Omdat ek tans Gert Vlok Nel doseer, het ek geweldig aanklank gevind by ­“Timotei Shampoo” “gespeel” deur Janhendrik Burger en Berdene du Toit, gelees deur Erik Holm.

Jammer dat daar verwysings na Groot Verseboek gegee word eerder as na die oorspronklike bundels, soos by Louw.

Persoonlik het ek nie van hierdie weergawe van “Vroegherfs” gehou nie. Die gebedsaspek word hier nie na behore begryp nie en dit word eerder gelees as ’n vers oor transformasie.

Tog is daar weer iets soos ­“Visioen van ’n lessenaar” waar die kunstenaars verduidelik hoe hulle Bic-penne moes neem en buig vir hierdie produksie! Veertig penne is gesmelt en gevorm om ’n dansende pen te animeer. Ons wonder hoeveel keer het Krog op daai tikmasjien haar woede uitbasuin?

Sunieda Kelber en Fabian Wargau vang iets van hierdie tegelykertydsaspek van lyf en skryf op, terwyl die vertolking van “Bitterbessie dagbreek” deur Dewald en Roger van der Merwe deur die piekselisasie die stotterende aspek opvang en hiermee, volgens hul eie belydenis, die gevangeskap van die digter voorstel.

Hoe maak ’n mens met ’n animasiefliek waar jy net die gedig sien? Hoe verskil dit van die een waar jy die digter self hoor voorlees? Sou dit ’n verskil gemaak het as ons Krog gehoor het?

Animasie is inderdaad bewegende kuns oftewel visuele digkuns. Grobler, die ATKV (by name Nita Grové), en al die ander deelnemers en kunstenaars het iets wonderbaarliks en onthoubaars geskep.

Mense lees gedigte, en liefhebbers sal hierdie produksie geniet. En kyk mooi na daardie gedig wat stemloos oorgedra word . . .

Bestel die DVD by Hannelie van Schalkwyk, 011 919 9012, e-pos: hanneliev@atkv.org.za.


(Hierdie resensie word met vriendelike vergunnning van Rapport geplaas)

Alexander Strachan - Brandwaterkom (2015)

$
0
0


Alexander Strachan - Brandwaterkom. Tafelberg, 2015. ISBN 

Resensent: Joan Hambidge

Alexander Strachan is ’n fyn stilis en vernuftige skrywer. Hy kan tekste konstrueer en oortuigend opbou. Sy tekste soos ’n Wêreld sonder grense is sowel ’n reeks kortverhale as ’n roman wat sleutels gee vir latere werk soos Die jakkalsjagter. Hy kan ’n los draad uit ’n vorige roman optel en verder voer.

Min skrywers het al oorlogsgeweld so pakkend soos hy beskryf en sy jongste roman, Brandwaterkom, snoer twee moderne neigings saam: die Anglo-Boereoorlog (ABO) en die optekening van geskiedenis in ’n tyd waar “slow violence” ’n nuwe modewoord geword het. Die roman roep ook Christoffel Coetzee se Wat het geword van Generaal Mannetjies Mentz? op.

Die ABO en die Grensoorlog is die twee asse van die roman met ’n skrywende, fiksionaliserende vrou wat ’n storie skryf oor kommandant Vilonel se dubieuse rol tydens die oorlog. Haar navorsing word ’n stuk historiografie, fantasie en daar is selfs momente van magiese realisme tydens ’n besoek aan Dwaalpoort.

Die skrywer as historiograaf is tans ’n opvallende neiging: ’n mens dink aan die werk van Karel Schoeman en Dan Sleigh. En Marié Heese. Willem Anker se grensverskuiwende Buys .

Wie se storie is ons besig om te lees? Esther van Emmenes se optekening? Of die verhaal van Vilonel? Of die boodskapper? Die verskillende stories skuif ineen: soos twee snellers wat afgetrek word, aldus die buiteblad – dalk eerder ’n dubbelloopgeweer. Wie vertel? Of word die verteller uiteindelik die vertelling self? Daar is ook die verhaal van Bullet – ’n korrektief dalk? Elke vertelling of belydenis word deur ’n ander weergawe “bevestig”. Net soos die geskiedenis oor die ABO ook deur orale vertellinge verander word en die werk van Bill Nasson lewer op sy beurt ’n ander blik op die swart mense se deelname . . . En daar is swart mense, weliswaar randfigure, in Strachan se roman.

Die skrywende verteller moet onder andere ’n jeug en kinderdae skep om dit vir die leser geloofwaardig te maak. En geloofwaardigheid is die grootste eis vir die historiese roman. Wanneer ons byvoorbeeld ’n danstoneel beleef, is die leser binne daardie tyd – en hierom is hy nie ’n “onthoofde mens” nie. Strachan maak van sy karakters “mense”, “vol karakters” om E.M. Forster se term te gebruik.

Die skrywende verteller se werkswyse verraai ook iets van die implisiete outeur se retoriese strategieë, om met Wayne C. Booth saam te praat in sy belangrike The Rhetoric of Fiction(1961). En hoe ’n karakter byna ’n obsessionele teenwoordigheid is vir ’n skrywer word insigryk beskryf. Esther van Emmenes se donker verlede gee haar begrip vir die ingewikkelde lewe van Vilonel. Alexander Strachan se kennis van sowel die ABO as die grensoorlog bring ’n verrassende (binne-)perspektief.

Die Anglo-Boereoorlog-wêreld en die terrein van die verraaier/joiner word onder die loep geneem. Die spanning tussen Boer en Brit, grappe, volkslegendes, die uitstal en opnoem van ou Afrikaanse idiome en die Jood op die dorp, word alles netjies verweef in ’n ryk tapisserie. Louis Botha, pres. Steyn, Hertzog en vele ander, is karakters. Soms net in die verbygaan, ander kere sterk soos Buller en Cronjé.

Die impak van runderpes en die oorlog het gesiene boere van aansien en plase gestroop en bywoners van hulle gemaak. Ons weet hoe die plase geplunder is deur die Engelse en hiermee is die lewensaar van kos vir die vegtende Boere afgesny.

Die reuk van die oorlog word konkreet beskryf. Ons sien hoe ’n koeël uit ’n been verwyder word. Redvers Buller word raak geteken met sy drang tot oorwinning en ’n vorige lewe van kaartspel, biljart en perde. Die roman neem ons terug na Ingrid Winterbach se Buller se plan en Strachan se beskrywing van dié figuur maak van hom ’n immer onthoubare karakter.

Die oorlogspanning word nou verweef met ’n liefdesintrige (en ’n vloek wat uitgespreek word): Dit dryf die roman vorentoe met sy sterk en onheilspellende sub-teks. En die skrywer skryf op die man af sonder om banaal te raak. Dit maak Vilonel ook mensliker, omdat hy nie net prokureur of man van die wet is nie, maar ’n begeerte het tot liefde.

Daar is momente wat ’n mens net nie kan vergeet nie: Tibbie Steyn wat haar man se beswete hemp vashou wanneer hy vertrek; Hans Dons de Lange se teregstelling; ’n swanger vrou wat vermoed haar man is ontrou. Die beskrywing van Cronjé as ’n knorrige ou bliksem is in die kol.

Die roman bevat ’n uitgebreide bibliografie en erkennings. Dit getuig van enorme navorsing oor perde, die veld, klere, gewoontes, taalgebruik, drank. Die oorlog self. Oom Paul versus Milner. Die rol van ’n doomnis en prokureur in ’n dorp. Hoe mense se rolle hul lewenslot bepaal. En Catharina Venter wat die geskiedenis van ’n familie oordra, die ongeskryfde geskiedenis van skande wat oor ’n familie kom en die tragiese nadraai daarvan.

Die troebel gemoed van Vilonel wat die hewige geweerskote uit Senekal hoor, bly in hierdie leser se herinnering draal. Net soos die slot waar die verraaier toekyk . . .

Dit is in ’n gestroopte, toeganklike styl geskryf met ’n roman wat swaar dra aan toespelings en verwysings oor sowel die geskiedenis as die skryfproses. Rudyard Kipling is natuurlik ook hier met ’n verwysing na “The Jacket”.

Lees hierdie uitstekende roman.


Viewing all 819 articles
Browse latest View live